BOEKBESPREKING: Gayverbintenisse – uitweg uit die vasgelooptheid

*******

BOEKBESPREKING: Gayverbintenisse – uitweg uit die vasgelooptheid | Kerkbode

Frits Gaum

25 Mei 2022

Ek en dr Talbot Sadler het ’n stuk of twee dekades gelede in ’n stormagtige tyd in die NG Kerk (soos dit nou weer is) saam in die moderatuur van die Algemene Sinode gedien – hy as aktuarius, ek as skriba. Ek het baie waardering vir dié regsgeleerde (hy was eers ’n prokureur) en predikant. Daarom het ek sy boek, Gayverbintenisse – uitweg uit die vasgelooptheid (Barnabas-uitgewers, 2022) met groot belangstelling gelees. Ek stem met baie wat hy in die boek skryf, saam. En verskil ook heelwat.

Talbot wil ’n uitweg vind uit die “vasgelooptheid” waarin die Algemene Sinode oor die gay-“kwessie” beland het. Met die uitweg wat hy aan die einde van sy boek aandui, sal min gelowiges verskil: Jesus is die antwoord! Net deur Jesus volkome as Middelaar te aanvaar sodat Hy ook in hierdie saak kan “bemiddel”, is daar ’n uitweg. Dit beteken ook dat beide “kante” in die gesprek oor gay-verbintenisse – die sogenaamde “pro-gays” en die “anti-gays” – volgens Sadler hulle standpunte sal moet versag. Die “pro-gays” sal moet aanvaar dat, volgens die Bybel, die huwelik as instelling van God slegs bedoel is vir mense van teenoorgestelde geslagte, en nie vir mense van dieselfde geslag nie. En die “anti-gays” sal moet aanvaar dat gay-mense so gebore is, dat dit nie ’n keuse is nie, en dat gay-wees as sodanig nie sonde is nie.

[Kommentaar: Ek moet erken dat hierdie vals argument (dat gay-mense so gebore word) uiters frustrerend is: As jy gay gebore word, moet dit in jou DNS wys. Daar is nog geen bewyse daarvoor gevind nie en kanse word al hoe kleiner dat sulke bewyse gevind sal word. Kyk ook Word jy gay gebore?]

Sowel die pro- as die anti-gays sal probleme hê om te aanvaar dat die “sagter” standpunt sonder meer “die Bybel” se verwagting is. Enersyds omdat die huwelik, soos ons dit ken, ’n eeuelange ontwikkeling in die Bybel gehad het (Abraham, vader van die gelowiges, was ’n poligamis …) en dat die Bybel vroeër anders daaroor praat as later, en andersyds omdat die anti-gays waarskynlik daarop sal aandring dat gay-wees neerkom op ’n keuse – en dat die Bybel se sewe tekste oor selfdegeslagseks dit duidelik sonde noem.

[Kommentaar: Is hierdie nie genoeg rede om te glo dat homoseksualiteit sonde is nie?]

Sadler self meen ook dat die Bybel selfdegeslagseks as sonde veroordeel (sonder dat hy die “sewe tekste” enigsins onder die loep neem), maar skryf dan dat Jesus se barmhartigheid en liefde teenoor alle mense uiteindelik deurslaggewend is. Hy skryf ook: “In die Bybel gaan dit nie regtig om die Bybel nie, maar om Jesus Christus van wie die Bybel getuienis lewer.”

[Kommentaar: Wat ’n sinnelose stelling! So, die Bybel sê homoseksualiteit is sonde, maar jy hoef jouself nie daaraan te steur nie, want Jesus se liefde sal jou op die ou einde red? Is daar dan enige sonde waarvan mense hulle moet weerhou? Kyk Die Bybel oor sonde.

En verder is daar nie ’n manier hoe jy die Bybel los kan maak van God nie. Natuurlik aanbid ons nie ’n Boek nie, maar hierdie Boek vertel ons wie God is. Om die Bybel selektief te lees, is niks anders as afgodediens nie. Jy skep jou eie god.]

Terwyl dit steeds die standpunt van die Algemene Sinode is dat die huwelik net vir mense van teenoorgestelde geslagte bedoel is, is dit nie op die lange duur ’n volhoubare standpunt nie. [Kommentaar: Ek is nie oortuig dat die AS steeds glo dat die huwelik net vir mense van teenoorgestelde geslagte bedoel is nie. Hoekom het die ASM dan inisiatief geneem om predikante in die NGK bevoegtheid te laat verkry om burgerlike verbintenisse te sluit? Kyk SGV: Bevestigings mag nou voortgaan (7 Aug 2020).] Deur ’n trouverbintenis tussen mense van dieselfde geslag te erken (wat die Algemene Sinode gedoen het, al was dit ’n bietjie binnensmonds), kan jy kwalik daaraan ’n minderwaardige status gee deur dit nie as ’n huwelik – met al die voorregte en eise wat daaraan verbonde is – te erken nie. Die vraag is of ’n lewenslange verbintenis “in liefde en trou” van twee hetero- of homoseksuele mense, in die oë van Jesus Christus in beide gevalle iets anders as ’n ware huwelik is?

Sadler het heelwat kritiek op die uitspraak in die Hooggeregshofsaak tussen 12 lidmate en die NG Kerk. Sommige van sy opmerkings in dié verband is geldiger as ander. Ongelukkig hanteer hy net die uitspraak en gee nie aandag aan die stukke wat die twee partye aan die hof voorgelê het nie – woord en weerwoord – en ook nie aan die erge voeteslepery van die Taakspan Regte wat die lidmate uiteindelik gedwing het om die hof te nader nie. Die siening van die NG Kerk in hulle voorlegging dat die “pro-gay”-besluit van die 2015-Algemene Sinode nie ooreenstem met die Bybel (en God se wil) nie, maar dat die “anti-gay”-besluit van 2016 dit wel doen, word ook nie deur Sadler bespreek nie. Albei sinodes het tog baie ernstig na die Here se leiding gesoek! Hy gee ook nie aandag aan die stelling van die huidige aktuarius in die stukke dat, indien die beswaarde lidmate nie die 2016-besluit van die Algemene Sinode kan aanvaar nie, hulle welkom is om elders ’n kerk te gaan soek wat met hulle siening saamstem! – Dit terwyl die beswaarmakers steeds die pro-gaystandpunt wat die Algemene Sinode pas ’n paar maande vroeër gehuldig het, ondersteun.

Lees ook: ’n Versameling van skrywes oor die gay-debat

Op die ou end meen Sadler dat die “Gaum-saak”, soos hy dit noem, nooit moes gewees het nie. Maar op ’n vorige bladsy vertel hy van die lesse wat die kerk uit die hofsaak geleer het. Die grootste les, skryf hy, is: “Moenie teen mense diskrimineer nie, wie hulle ook al mag wees. Dit is terselfdertyd ook ’n goeie Christelike beginsel”. Einste, sê ek.

Die tweede les uit die hofsaak is, volgens Sadler, “dat die kerk met baie groter erns daaraan moet werk om die posisie van homoseksuele mense in die kerk te normaliseer”. Weer eens: Einste!

As dít die lesse is wat die NG Kerk uit die hofsaak geleer het, was dit oor en oor die moeite werd. Die hofsaak het dus gehelp dat die NG Kerk die evangelie van Jesus Christus ’n bietjie beter kon leer verstaan. Nie dat die 12 lidmate wat hulle tot die hof gewend het, dit graag wou doen nie. Inteendeel, hulle het daarmee geworstel en daaroor gebid. Maar die wyse waarop die Taakspan Regte hulle deurentyd doof gehou het en nagenoeg sewe waarskuwings in die wind geslaan het, het vir die “12” op die ou end geen keuse gelaat nie. Sadler skryf dat “hofsake haglike goed is om kerksake mee te besleg”, en dat “kerksake op kerklike wyse hanteer moet word”. Reg so … maar as die kerk dekades lank nie daarin slaag om sake kerklik tot ’n punt te bring nie, en mense in die proses aanhoudend verontreg word, kan die hof (soos dit nou gebeur het) die kerk selfs help om die evangelie beter te verstaan.

[Kommentaar: Hofsake is glad nie goeie voertuie om die evangelie beter te verstaan nie. Ek kan vinnig aan twee baie prominente hofsake dink waar die hofbevindinge direk teenstrydig met die Evangelie was:

1. Roe vs Wade (1973): Hierdie hofsaak het beslis dat die Grondwet van die VSA ’n swanger vrou se vryheid beskerm om te kies om ’n aborsie te ondergaan sonder buitensporige regeringsbeperking.

2. Kitzmiller v. Dover (2005): Hierdie hofsaak het beslis dat intelligente ontwerp ’n vorm van skeppingsleer is, en dus ongrondwetlik om in Amerikaanse openbare skole te onderrig. Slegs evolusie is toelaatbaar.]

Sadler skryf ook oor die koste van die hofsaak. “As al die advokate se rekeninge ten volle (deur die kerk) betaal moes word, moes dit ’n aardige bedrag beloop het”, meen hy, want die hofsaak is met koste vir die kerk deur die 12 lidmate gewen. Ek het goeie nuus vir Talbot. Jeremy Gauntlett, SC QC, die “12” se senior advokaat, het persoonlik niks van die NG Kerk gevra nie (ek weet nie wat die kerk vir hulle eie advokate moes betaal nie). Dit is van Gauntlett dat Sadler skryf: “Toe hy die bal kry, het hy soos ’n wafferse Danie Gerber deur die gaping gegly en sy ‘drie’ aangeteken … Wat die (skeids)regters nie gesien het nie, was dat daar ’n vorentoe-aangee was.” Nee, Talbot, die bal was toe nie vorentoe aangegee nie. Gauntlett se drie was vyf punte werd. En toe ook nog die doelskop, want die NG Kerk het nie teen die ondubbelsinnige uitspraak geappelleer nie …

  • Dr Frits Gaum is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui