*******
Boekresensie: Opstanding
BOEKRESENSIES / BOOK REVIEWS
Müller, J. Opstanding. Wellington: Lux Verbi 2006.
ISBN: 0 7963 0409 2
128 bladsye
Julian Müller is voltydse dosent in Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Hy is bekend veral binne Nederduits Gereformeerde geledere. Die situasie waarbinne hierdie boek sy onstaan gehad het is belangrik vir die verstaan en begrip van die skrywe hiervan. Dit is die gevolg van Müller se deelname aan ‘n Oop-gesprek-program wat gedurende 2005 op RSG uitgesaai is waar hy gekonfronteer is met die vraag: Glo jy in die histories-fisiese opstanding van Christus? Sy reaksie hierop het mense vrae laat vra oor Müller se beskouing oor die opstanding (bll 7-11). In hierdie boek verantwoord hy hom pragmaties oor hierdie onderwerp.
Reeds op die eerste bladsy van die inleidende gedeelte (bl 7) van hierdie boek maak Müller sy bedoelinge bekend, naamlik, nie om ‘bors skoon te maak en van my woede ontslae te raak nie.’ Nog minder is die bedoeling van skrywe die van ‘n ‘polemiese of strydgeskrif’ te wees. Eintlik wil Müller graag ‘verantwoord en verwoord’ dat hy en wat hy persoonlik in die opstanding van Christus glo (sien ook bl. 115). Ook wil hy hierdie boek ‘gebruik om protes aan te teken, nie teen mense nie, maar teen ‘n teologiese stroming’ wat hom erg bekommer, naamlik, ‘dat geloof in die opstanding as ‘n eksamen hanteer word.’ Müller se verwysing na ‘Die metaforiese interpretasie staan nie teenoor die historiese verstaan nie’ is die hermeneutiese kontoere wat hy voorhou waarbinne hy die opstanding van Christus verstaan en beskryf.
Müller het ‘n gemaklike skryfstyl. Die boek lees lekker en trek die onbevooroordeelde leser in om betrokke te raak in dit wat hy skryf. In 16 kort hoofstukke, wat tussen 5-16 bladsye per hoofstuk wissel, het Müller sy belydenis gedefinieer. Vanuit verskillende perspektiewe en met nuwe vars en innoverende denke skryf hy oor sy verstaan van die opstanding van Christus. Hy interpreter o.a. die opstanding metafories (hfs 3) sonder om die historisiteit van die opstanding te negeer, gebruik metafore (bv. die dans op die wrak [hfs 5], ‘n bal in platland [hfs 7], ens.), betrek die OT (Job) om te verduidelik hoe Job hom gehelp het om te soek na ‘n ontmoeting met die opgestane Here (hfs 1). Omdat die opstanding vir hom so ‘n groot misterie is (hfs 9) distansieer hy hom aan die een kant van wetenskaplike oorwegings wat die opstanding afmaak as iets wat nie werklik gebeur het nie (die Jesus Seminaar en die Nuwe Hervormers) en aan die ander kant van pogings om met (wetenskaplike) begrippe soos ‘histories-fisiek,’ ‘histories-letterlik’ of ‘histories-liggaamlik’ ook ‘n greep op die presiese aard van die opstanding te kry. Deurgaans, meer as 20 keer, bely Müller dat hy in die opstanding van Christus glo.
Daar is heelwat positiewe dinge wat in hierdie boek na vore tree. Al sou baie gelowige lesers in hierdie boek graag ‘n verwysing na die ‘fisieke-opstanding’ van Jesus verlang het (wat ontbreek), sal hulle nie arm agter gelaat word by die lees van hierdie boek nie. Die verskeie innoverende perspektiewe oor die opstanding, die praktiese kant van die opstanding en die dinamies realiserende aspek van die opstanding laat gelowige lesers weer nadink oor die ‘ongelooflike gebeurtenis,’ die ‘onsêbare,’ ‘misterie karakter’ (75) van die opstanding van Christus.
As ‘n persoon wat self in die fisieke opstanding van Christus glo, het ek hierdie boek aandagtig deurgelees. Soos in enige boek wat oor geloofswaarhede geskryf word, is en daar altyd punte van kritiek, soos dit ook die geval hier is. Byvoorbeeld:
(1) Ten spyte van bogenoemde bedoelinge rakende die skrywe van hierdie boek, kritiseer Müller tog sy opponente deur verwysings soos ‘Evangeliese fundamentaliste’ (75, 115), ‘letterknegtery’, ‘n oogklap benadering wat aan die letterlike verstaan van die Bybel vasklou,’ ‘slimstreke,’ ‘hedendaagse populêre teologie,’ ‘ortodoksie’ (115), ‘fundamentalistiese oorvereenvoudiging’ (89). Sulke verwy- sings kan maklik ‘n antagonisme by vele lesers ontketen.
(2) Sekere aspekte wat op ‘n fisieke opstanding van Jesus dui, word hier nie aangespreek nie. Hoe, byvoorbeeld, moet die verwysings na die lee graf in Mt 28:6-8; Mk 16:4-6; Lk 24:2-12; Jn 20:1-10 dan verstaan en geinterpreteer word?
(3) In hoofstuk 12 (Opstanding: God se dekonstruksie) verwys Müller dat elke tyd sy eie filosofiese strominge het en dat die Christendom vandag verby gestruktu-reerdheid beweeg het. Dis waar dat die strukture van die samelewing en die kerk sommige (post) moderne mense nie meer interesseer nie en hulle minder daaraan gebonde voel. Die kerk kan ook nie aan die postmoderne lewensgevoel ontsnap nie. In die teologie en hermeneutiek is dit te alle tye ook waar en belangrik dat daar onderskei moet en sal word tussen skopiese en periferiese waarhede (aldus Johan Heyns). Vir baie christen gelowiges wat glo in die fisieke opstanding van Christus is die ‘fisieke’ opstanding van Christus ononderhandelbaar vir ‘n postmoderne aanpassing. Dit sou m.i. as ‘n skopiese waarheid getipeer kon word. Deur so ‘n belydenis word die misterie rondom die opstanding nie opgeoffer of verskraal nie maar eerder verskerp.
(4) Dit blyk asof Müller die ontmoeting met die opgestane Christus wil verabsoluteer ten koste van formulering. Die opstanding kan nie verskraal word tot net ‘’n ontmoeting met die opgestane Here self’ nie (bv. p. 18, 41, vgl. ook 117). ‘Definisie’ en ‘belewenis’ is tog twee komponente wat onafskeidbaar is. Is die negatiewe versplintering van die kerk soos dit vandag daaruit sien (dink maar net aan die duisende verskillende onafhanklike kerke vandag net in Suid-Afrika), nie die gevolg van ‘n gebrek aan behoorlike dogmatiese formuleringe van ‘n belydenis wat die karakter en identiteit van ‘n kerk bepaal nie?
Ten spyte van die verskille wat ek met sekere standpunte van Muller het, moet ek erken dat ek dit geniet het om hierdie boek te lees. Ja, kom ons dans op die wrakke van die lewe!!
D G van der Merwe