Kyk ook:
Brand Pretorius deel nuttige sakebestuur leierskaplesse waaruit die kerk kan baat vind – sal die Algemene Sinode egter daaruit kan leer?
Die gerespekteerde sakeman Brand Pretorius—veral bekend as hoof van Toyota en McCarthy Holdings—het onlangs aan ʼn Ná-Covid Konferensie deelgeneem wat deur Kairos Netwerk (KN) aangebied is.
In sy aanbieding het Pretorius ʼn analogie getref tussen sakebestuur en kerkbestuur. Bekende bedryfsbegrippe soos visie, missie, slagspreuke, produkdifferensiasie, spesifikasie en degradasie, is ook in kerkbestuur bruikbaar.
By Toyota is betroubaarheid as die unieke verkoopvoorstel geïdentifiseer. Produkdifferensiasie word daarop geskoei en reklame en bedryfsfokus daarom sentreer.
Slegs Toyota-opgeleide tegnici word magtiging verleen om ʼn Toyota motor te diens; ʼn afwyking van die voorskrif mag daartoe lei dat die eienaar sy waarborg verbeur. Handleidings en diensspesifikasie protokolle word aan verbruikers verskaf. Dit belyn produkspesifikasies en gebruiksaanwysings met verwagte en voorgeskrewe verbruikersgedrag. Slegs oorspronklike Toyota onderdele is toelaatbaar (voorkoming van produkmodifikasies of diversifikasies lei tot produkintegriteit) en voorkom produkdegradasie.
Uit bostaande word die inhoud van die beginsels van belyning (‘n term wat gereeld in die aanbieding gebruik word) betekenis gegee. Met die slagspreuk “Alles loop reg, altyd reg, Toyota” het Toyota markleiers geword.
Analogies sou mens soortgelyke afleidings kon maak betreffende geloofsdifferensiasie in die NG Kerk.
Die NG Kerk bely amptelik die algemene Christelike geloof soos vervat in die drie ekumeniese belydenisskrifte (Apostoliese Geloofsbelydenis sowel as die belydenisse van Nicéa en Athanasius) sowel as die Gereformeerde geloofsbelydenisse, algemeen bekend as die Drie Formuliere van Eenheid (Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, en Dordtse Leerreëls). Hiermee word die NG Kerk se leer gedifferensieer.
Verder is dit duidelik uit NGB artikel 5 dat die heilige Skrif deurslaggewende gesag dra in die kerk, en, soos artikel 7 aandui, mag “niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die heilige Skrif geleer word nie”. Met ander woorde, die Skrif is die kerk se gesaghebbende handleiding van geloof en praktyk.
Bedienaars van die Woord is onderhewig aan die suiwer handeling en verkondiging van die Skrif soos vervat in hierdie “handleiding”. Die kerk implementeer kontrolemeganismes in hierdie verband: eerstens ʼn kuratorium met oorsig en remediërende funksies, en tweedens persoonlike integriteitsvereistes, naamlik die aflê van ʼn legitimasie-eed, waarin predikante belowe om die Woord suiwer ten alle tye te verkondig, en die bogenoemde belydenisse te handhaaf.
Daar is dus duidelike analogië tussen produk- en geloofsdifferensiasie, soos Pretorius visualiseer het.
Maar net soos Toyota motors degradeer wanneer die handleiding verontagsaam word, so kom die NG Kerk se produksintegriteit (suiwer geloof) in gedrang deur onskriftuurlike modifikasies.
Baie lidmate ervaar ʼn wyerwordende belyningskloof tussen die Algemene Sinode (AS) se sieninge en handelinge met die kerk se amptelike leer, maar wekroepe tot regstellende maatreëls word geïgnoreer.
Hierdie wekroepe word feller by die dag. In skrywes soos, Ontmoet Kairos Netwerk, Die Strand se brief, en Sola Scriptura van Namibië word besonderhede van die dwaalleer uitgewys.
Die kort van die saak is dat die AS se belyningsbestuur fokus nie op “eenheid in waarheid”, soos die belydenisskrifte beoog nie, maar op wanbelyning van glo-soos-wat-jy-wil “geloofsdiversiteit”.