Kyk ook: |
Aan die moderatuur van die Algemene Sinode van die NG Kerk
Na aanleiding van die besluit van die Algemene Sinode oor bogenoemde sake net die volgende:
Ek het die sinode as waarnemer bygewoon, dus is ek nie aangewese op die pers of aangedikte stories soos baie kere in sulke situasies die geval is nie. Die sogenaamde profetiese besluite van die Sinode in terme van die verskillende gay kwessies het my benoud gelaat om die NG kerk se ontwil. Ek voel oor hierdie “kairos” moment soos Dawid oor Jonatan: “Ek is benoud om jou ontwil NG kerk”. Voordat ek verder gaan is dit net nodig om te vermeld dat ek bewus is van die verskillende standpunte rondom die hele debat. Daaroor wil ek my nie in hierdie skrywe uitlaat nie, behalwe om te noem dat die gebruik van nuwe en reeds bestaande hermeneutiese sleutels soos die historiese, literêre en sakrementele nuwe geleenthede bied, om ook onder andere op bedenklike maniere met die Skrif om te gaan. Die manier waarop mense se emosies byvoorbeeld opgewek word met aanhalings oor die steniging van homoseksuele in die Ou Testament, sonder om die kruis van Jesus in die modern konteks te verreken is niks anders as emosionele manipulasie nie. Hierdie sleutels is nie ’n towerstaf waarmee ons na die Skrif kan gaan en God kan “dwing” om ons sogenaamde “nuwe konteks” in Sy raadsplan te verreken nie. In alle geval is die aanduiding daar, dat deur die gebruik van die terme malakoi en arsenokoitai in 1 Kor 6, Paulus bewus was van die bestaan van sogenaamde monogame verhoudings tussen homoseksuele en plaas hy dit onder dieselfde sondekatogorie as ander seksuele sondes. Ons konteks is dus nie so uniek as wat ons wil voorgee nie. Miskien sou dit beter wees om in plaas van om in nederigheid na die gemeentes te gaan, eerder in nederigheid voor die Here te staan en in die woorde van ’n Ikey student te erken: “We have institutionalised sin.”
Bogenoemde was sommer net so ’n paar kant aantekeninge. Die punt wat ek egter wil maak is die volgende: Ek dink dat ons kan saamstem dat die kerk van die Here Jesus Christus nie ’n klub is nie, maar ’n geestelike entiteit. Besluite van ’n meerdere vergadering het dus nie net praktiese implikasies nie, maar veral geestelike implikasies. Die feit dat kerkrade hulle eie besluite kan neem in verband met sekere sake, nadat ’n meerdere liggaam ’n beginsel besluit geneem het, stel daardie kerkraad nie vry van die geestelike implikasies van die meerdere vergadering se besluit nie, mits hy hom totaal distansieer van die besluit van die meerdere vergadering. Die beter opsie sou wees, om indien moontlik die gemeente se bande met daardie kerkverband te verbreek. Die Woord is baie duidelik dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in die lug. Persoonlik glo ek dat daar ’n duiwel met bose geeste bestaan. My eie ondervinding in die verband en die Skrif is vir my genoeg bewys daarvan.
Laasgenoemde in ag geneem het die besluite van die Algemene Sinode in terme van gays die volgende geestelike implikasies:
- Rom. 1:18 ev het duidelik te doen met die God-onteerende optrede van mense wat die orde en die heerlikheid van God vervlak tot die van diere. (Jud. 1:7-10) Die gebruik van die term para phusin (teen die natuur) is ’n duidelike aanduiding hiervan. Dit is duidelik dat al drie die hermeneutiese sleutels aandui dat ons nie hier te doen het met ’n histories, literêre of sakramentele kulturele konteks nie, maar met die vraag hoedat die ewige onsigbare God binne alle tydsgewrigte Homself aan die mens openbaar. Die inhoud van Rom 1:18 ev. is dus nie ’n kultureel tydsgebonde openbaring nie, maar ’n ewigheids perspektief op die God wat alles geskape het. Rom. 1 sowel as Judas 1:7-10 maak duidelik melding daarvan dat mense wat hoereer en agter vreemde (teen die natuur) aan loop, verag die heerskappy van God wat alles gemaak het. Natuurlik is daar baie meer oor hierdie gedeelte te sê, maar ek gaan volstaan met ’n “kru’”opmerking wat in die sogenaamde hoë vlak debat gedurende die sinode nooit aangeraak is nie. Hoe “natuurlik” is dit wanneer die seksdaad plaasvind binne die konteks van onhigiëniese omstandighede waar die betrokke orgaan se funksie is om die afval van die liggaam uit te skei. Ek glo dat die God wat ons geskape het, elke ledemaat en orgaan vir ’n spesifieke doel geskep het. Voortvloeiend uit die Algemene Sinode se goedkeuring van hierdie onnatuurlike en God-onteerende optrede is daar ‘n onrein gees van rebellie, sowel as ’n leuengees oor die NG Kerk losgemaak.
- In Paulus se betoog in Rom 1 het hy dit baie duidelik gestel dat homoseksualiteit in beginsel ’n sondige God-onterende praktyk is. Daar is natuurlik nooit, sover ek weet sodanige besluit deur die sinode geneem nie. Die onmiddellike vraagstelling was die reg of verkeerd van selfdegeslag huwelike wat ons natuurlik by die onderskeid bring tussen ’n huwelik en ’n burgerlike verbintenis. Wanneer ’n sinode van ’n kerk wat deel van die liggaam van Christus (ons Hoof) is, sy sanksie aan so ’n verbintenis gee, plaas hy daarmee God se seën op daardie verbintenis. Dit beteken dat hy dit as ’n huwelik sanksioneer aangesien daar in God se oë geen ander verbintenis kan wees as die van die huwelik nie. Die standpunt van die sinode in verband met die huwelik, synde te wees tussen ’n man en ’n vrou word hierdeur genivelleer. Daarmee sanksioneer die sinode ook verbreking van God se skeppingsorde (man en vrou) wat duidelik in Mat 19:1 ev. deur ons Here bevestig word. Verder sanksioneer die sinode hoerery aangesien dieselfde teks dit duidelik stel dat dit net man en vrou binne die huwelik een vlees kan word (sien ook 1 Kor 6:16). Paulus bevestig dit in 1 Kor 6 ev. wanneer hy homoseksuele optrede as ’n sonde kwalifiseer, waarvan diegene wat sodanig optree die koninkryk van God nie sal beërwe nie. Die hele kwessie van tempelprostitusie raak irrelevant, omdat Paulus van die standpunt (Rom. 1) uitgaan dat homoseksualisme in beginsel ’n God-onterende, skeppingsverbrekende sondige praktyk is. Paulus se bekende woorde aangaande ons liggame wat ’n tempel van die Heilige Gees is, plaas binne hierdie konteks ’n heel ander perspektief op die besluit van die sinode. Hy stel dit dat wanneer hoerery (buite huwelikse seks) bedryf word, word die persone een. Vers 15 “sal ek dan die lede van Christus neem en dit lede van ’n hoer maak?” Die sinode se besluit plaas die NG Kerk in die onhoudbare posisie dat hy hoerery sanksioneer. Die “edel” besluit van die sinode om met monogame verbintenisse promiskuïteit te wil beperk, raak irrelevant in die lig van die Skrif uitspraak dat homoseks selfs binne ’n sogenaamde monogame verbintenis sonde is. Met die goedkeuring van hierdie verbintenisse het die sinode ’n gees van hoerery oor die kerk losgemaak.
- Betreffende menswaardigheid glo ek dat ons almal erken dat ons voor God gelyk is en dat ons menswaardigheid juis daarin bestaan dat God ons gelyk geskape het. Die totale ontsluiting van ons menswees bestaan egter daarin dat ons vanuit ons vleeslike swakheid en sondigheid, geloofserkenning moet gee aan die feit dat die tweede Adam ons buiten die feit dat ons menswaardig is, in ’n nuwe verhouding van geregtigheid met God kom stel het. Dit gebeur as gevolg van die feit dat byvoorbeeld die sonde (lees homoseksualiteit) erken en bely moet word. Die feit dat ons belydenis van ons sondes moet doen, hef nie ons menswaardigheid op nie. Dit is juis deur die belydenis en die vashou aan en geloofsgehoorsaamheid in die opstanding van die Seun van die mens, dat daar nuwe hoop, oorwinning en die ontsluiting van ons skeppingsdoel tot stand kom. Wanneer die skepsel egter bo die Skepper vereer en gedien word soos by die huidige en vorige algemene sinode vergaderings gebeur het, word die ou Adam bo die nuwe Adam verhef. Hiermee word ‘n gees van humanisme oor die kerk losgemaak.
- Die Skrif is baie duidelik oor die feit dat daar definitiewe geestelike vrug is op die dade van mense wat deel het aan die praktyke wat deur die sinode goedgekeur is. In Rom 9 meld Paulus dat die vrug van God se genade is ‘n geestelike nageslag van die volk van Israel sowel as die heidene. Hy meld dan dat as dit nie vir God se genade was nie daar geen nageslag sou wees nie en hulle sou wees soos Sodom en Gomorra, sonder nageslag. In sy betoog ego Paulus die woorde van die profeet Jesaja, wanneer hy in Jes 13:19 ev. die punt maak dat as gevolg van Sodom en Gomorra se sonde, die Here onvrugbaarheid oor die twee stede gebring het. Die hele Skrif is vol van verwysings van die onvrugbaarheid wat gevolg het op Sodom en Gomorra se sonde: Deut 29:22 ev.; 32:32; Jes 3:8-11; Gen 13:10; Jer 23:14-15; 2 Pet 2:6-7. Dit is maar ’n paar van die verwysings. Ek herhaal net reeds genoemde standpunt dat homoseks in beginsel promisku is en dat dit geen doel dien om te wil beweer dat Sodom en Gomorra se mense nie van liefdevolle monogame verhoudings tussen dieselfde geslag geweet het nie. ’n Interessantheid is natuurlik dat alle selfdegeslagverhoudinge in beginsel onvrugbaar is. My vraag is of die NG Kerk God se seën kan verwag wanneer ons die sondes van Sodom en Gomorra goedkeur. Ek glo dat die teendeel waar is naamlik; dat die sinode se goedkeuring (sien Rom 1:32) van genoemde praktyke, ‘n gees van onvrugbaarheid oor die NG Kerk losgemaak het. Die vraag kan gevra word of dit nie een van die redes, of dalk die hoof rede is waarom die NG Kerk se geestelike nalatenskap (lees lidmate) besig is om te kwyn nie.
Hiermee distansieer ek en my eggenote ons van die besluite in verband met selfdegeslag verbintenisse en gay predikante wat in 2015 deur die Algemene Sinode van die NG Kerk geneem is. Ons wil, terwyl ons ten volle bewus is van ons eie swakhede en alleen vanuit die genade van die Here kan leef, bid dat die moderatuur van die Algemene Sinode van die NG Kerk dié kerk op die pad van sondebelydenis sal neem ten opsigte van die besluite wat deur die sinode gemaak is. 2 Kronieke 7:14 : As my volk oor wie My Naam uitgeroep is, hulle veroodmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Die Here se gedagtes oor ons is om ons te seën. Kom ons soek Sy aangesig in hierdie saak sodat die vrug van sy beloftes ons lewens kan vul en ons ’n nageslag vir Sy koninkryk in hierdie land agter kan laat.
Groete in Christus Jesus
Etienne & Ronel Nolte