Brief: Al Tuks se teologie-dosente staan in Christelike tradisie

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Brief: Al Tuks se teologie-dosente staan in Christelike tradisie | Rapport

Rapport, 6 April 2025

Prof. Rantoa Letsosa, dekaan: fakulteit teologie en religie, Universiteit van Pretoria, skryf:

Die Universiteit van Pretoria (UP) neem met kommer kennis van die misleidende bewerings in ’n berig wat op 30 Maart 2025 deur Rapport gepubliseer is oor ’n student wat onlangs sy doktorale studie voltooi het: “Satanis by Tuks kap Ernst Roets oor ‘giftige rasteorie.’ ”

Die student is ’n navorsingsgenoot in die departement religiestudies.

Anders as personeel verbonde aan ’n fakulteit beklee navorsingsgenote nie formele onderrigposte of administratiewe rolle aan die UP nie.

Hulle kan aan akademiese besprekings, konferensies en navorsingsamewerkings deelneem, maar enige suggestie dat ’n navorsingsgenoot ’n amptelike onderrig- of leiersrol in die fakulteit teologie en religie beklee, is verkeerd en misleidend.

Verder bevat die artikel verskeie feitefoute wat maklik vermy kon gewees het indien die joernalis die inligting by die UP nagegaan het. Byvoorbeeld: Dr. Willem Gravett, wat in die berig genoem word, is nie ’n werknemer van die UP nie.

Basiese foute soos dít dui op ’n voorkeur vir sensasie eerder as feitelike verslaggewing.

Die student se doktorale navorsing fokus op esoterisme binne die studieveld van godsdiens.

As ’n openbare fakulteit aan ’n openbare universiteit onderskryf die fakulteit teologie en religie die UP se waardes.

Die departement religie het reeds navorsing oor verskeie godsdienstige tradisies gedoen, soos Islam, Boeddhisme, Bahá’i, Judaïsme en Hindoeïsme.

Elke dosent in die fakulteit is ’n geordende of gelisensieerde predikant of pastoor wat die fakulteit se sterk fokus op geloof weerspieël.

Alle dosente is gesetel binne ’n ekumeniese Christelike godsdienstige tradisie.

Die UP bly verbind tot akademiese vryheid, godsdienstige diversiteit en deeglike akademiese betrokkenheid. Ons moedig respekvolle en ingeligte gesprekke aan oor sake van openbare belang, maar dit moet gegrond wees op feite eerder as sensasie, bespiegeling of wanvoorstelling.

Ons doen ’n beroep op Rapport om joernalistieke integriteit te handhaaf en inligting na te gaan voor publisering om akkuraatheid en billikheid in verslaggewing te verseker.

briewe@rapport.co.za

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui