- Nadia Marais: Die geskenk van ’n stem (2 Okt 2023)
- Aborsie
- Dubois du Toit
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Brief: Die geskenk van ’n liggaam – Kerkbode
03 Oktober 2023
Ds. Dubois du Toit (Windhoek) skryf: Dr Nadia Marais se skrywe van 2 Oktober, “Die geskenk van ’n stem”, verwys.
Verkragting, vrouemoord en gendergebaseerde geweld skets die toneel vir Marais se aborsie-retoriek. In haar skrywe kom sy op anekdotiese wyse by haar kernpunt: Mans, veral kerk-mans, se vrouehaat-onderrokke begin baie gou uithang wanneer die punt van aborsie aangeraak word. Twee punte moet dadelik uitgewys word by hierdie ongegronde en eerlikwaar aanvegbare aanname:
1) ‘Vroue’ is nie ’n homogene groep nie (net soos wat ‘mans/kerk-mans’ nie ’n homogene groep is nie) en ‘vroue’ het nie ’n homogene siening oor aborsie, etiek en moraliteit nie – inteendeel, PEW-statistiek toon dat sy 35% van vroue se stem vervreem met haar beskouing (soos wat sy voel die 24,5% vroulike algemene sinodegangers se stem ook vervreem word); homogeniteit op grond van sosiale identiteit is sosiale geregtigheidsideologie en het geen basis in Bybelse teologie, of die sistematiese teologie wat sy doseer nie.
2) Daar is ’n groot verskil tussen die etiese oorwegings en die pastorale oorwegings wanneer dit kom by aborsie. Volgens persoonlike gesprekke en gewaarwording is die weerstandigheid wat Marais se ‘mans/kerk-mans’ in die aborsiegesprek toon, geskoei op die etiese oorwegings – wanneer daar luid apologie gemaak word vir ‘aborsie-op-aanvraag’ – en nie die pastorale oorwegings (hoe help en ondersteun ons ’n vrou/meisie in die geval van ’n ongewenste swangerskap?) nie. Sou ons wel steeds graag ’n tipe haat (of die gons-agtervoegsel wat in kontemporêre gesprek as ‘haat’ verstaan word: -fobie) hieraan wou koppel, noem dit eerder ‘sondehaat’ of dan ‘sondefobie’ (Spreuke 8:13).
LEES OOK: Nadia Marais: Die geskenk van ’n stem
’n Stuk uit Efesiërs 5 om die punt/polemiek van hierdie skrywe tuis te bring: Vers 28-30: “Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is.” Liggaamlikheid (ons sou kon sê: Die geskenk van ’n liggaam, vanaf die Skepper) is ’n geweldig belangrike deel van die aborsiegesprek, nie net ten opsigte van die etiese komponent nie, ook die pastorale komponent, maar dan moet ons al die betrokke liggame verreken – veral die liggaam wat die meeste het om te verloor: dié van die baba. Mans/kerk-mans wat aborsie haat, het vroue lief, omdat aborsie (of soos wat Marais dit merk: “fetusmarteling en babamoord”) deur die Bybel en die kerk waaraan dit geboorte gegee het, as ’n gruwelsonde teen minstens een liggaam beskou is.
Die geskenk van ’n stem is geskoei op die geskenk van ’n liggaam, ’n geskenk aan die geweldig bevoorregte klas van ‘ongeaborteerdes’, ’n geskenk wat baie liggaampies nooit sal ontvang as daar aan aborsieapologete gehoor gegee sal word nie.
Wat ’n enorme verskil maak ’n liggaam nie, né?
Kommentaar
xxx