Kyk ook:
- Satanis by Tuks kap Ernst Roets oor ‘giftige rasteorie’ (30 Mrt 2025)
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Brief: Hou op teem oor NG Kerk – só red hulle ’n alkoholis | Rapport
13 April 2025
Koos Marais, Silver Lakes, skryf:
Terwyl mense met hul eie agendas groot geraas maak en skerp opskrifte in die media skep, het ek die afgelope maand eerstehandse ervaring van die NG Kerk se goeie werk gesien en beleef.
’n Persoon wat baie goed aan my bekend is, het in die donker dal van alkoholverslawing beland. Soos wat altyd die geval is, het dit sy lewe, werk en die welstand van sy gesin bedreig.
Die krisis het een Saterdag ’n hoogtepunt bereik en sy gesin was rasend van bekommernis. Deur die bemiddeling van my eie dominee het ek te hore gekom van die Stabilis-kliniek, wat deur die NG Kerk bestuur word.
Daardie selfde dag is die persoon daar opgeneem en het hy net die heel beste behandeling ontvang. ’n Span kundiges wat psigiaters, terapeute en verpleegkundiges ingesluit het, was vir die volle duur van sy rehabilitasie beskikbaar en besig met sy behandeling. Ek is self deurentyd op die hoogte van die vordering gehou.
Drie weke later, verlede Vrydag, het ek die voorreg gehad om ’n nuwe, gesonde mens by Stabilis te gaan haal. ’n Hele gesin se toekoms het nuwe hoop gekry.
Stabilis is in 1968 gestig en het voorheen as Staanvas bekend gestaan. Die diens is uniek en uitstekend.
Die uitvoerende hoof, emeritusleraar ds. Attie Nel, voorheen van die NG Kerk Waverley, staan aan die hoof van die kliniek. Hyself het deurentyd met my gekommunikeer.
In plaas daarvan om die NG Kerk oor onbenullighede te kritiseer kan die media gerus meer aandag gee aan die wonderlike werk wat die kerk doen.
Kommentaar
Daniel Louw
Die kerk se primêre doel is nie om ‘n welsynsorganisasie te wees nie, maar is om die suiwer Evangelie uit te dra. Jy moet jouself afvra of die NG Kerk in sy primêre doel slaag…
Sonder die welsyn is die verkondiging van die Evangelie sonder waarde. Dis hoekom dit nie goed gaan met baie van ons NG gemeentes nie, ons het vergeet om prakties iets vir ander te doen in plaas van dieselfde ou storie Sondag na Sondag te herhaal en niks te doen nie. Wat het jy vandag gedoen om iemand se lewe beter te maak as net om te bid?
Ek verskil glad nie, maar soos ek sê is dit nie die primêre doel nie. Dit help nie jy doen allerhande ander dinge maar faal in jou primêre doel nie.
Nou vertel my asb wat is die primêre doel van jou kerk? Ek kry die indruk dat jy een van daardie mense is wat vir iemand sal bid en preek en dan tevrede terug sit goed voel om dat jy jou primêre doel bereik het. Jy gaan jou verbeel dat die mens vir wie jy gebid het se maag gaan nou vol word van die wind wat hy inasem en hy gaan nou ‘n gelukkige mens wees as jy hom vertel het dat Jesus aan die kruis gesterf het vir sy sondes. Maar hy is nog steeds ‘n alkoholis. Ek dink jou stelling op die artikel was baie dom gegewe jy die administrateur is van hierdie blad.
Ek het vir jou vertel wat die primêre doel van die kerk is. Jou idee van my is verkeerd.
Daniel kan vir homself antwoord, maar intussen wil ek ook reageer op die artikel en jou kommentaar.
Die artikel sê ons moenie die NGK kritiseer nie, want hulle help mense. Ons kritiseer nie die NGK vir wat hulle vir mense se liggame en aardse lewens doen nie, maar vir wat hulle níe vir mense se siele en ewige lewens doen nie.
Daniel het gesê dat hy nie van jou verskil rakende die verganklike dinge nie. Ek stem ook saam. Jakobus 2: ‘15 As ‘n broer of ‘n suster sonder klere en daaglikse kos is, 16 en een van julle sê vir hulle, “Gaan in vrede, word warm en word versadig,” maar julle gee nie vir hulle wat die liggaam nodig het nie, wat help dit?’
Maar die primêre doel van die kerk is om versoening met God te verkondig, om mense beide te bemoedig en te vermaan om te volhard in die geloof en hulle te bekeer van hul sondes. Ons kritiseer die NGK (ook nie elke gemeente nie, maar die AS en die valse leraars), nie in terme van fisiese hulp en bemoediging nie, maar omdat hulle nie vermaan nie en selfs sonde goedpraat.