Brief: Namibiese dominee moet besef: Eenheid in NG Kerk is ’n klug

*******

Brief: Namibiese dominee moet besef: Eenheid in NG Kerk is ’n klug | Rapport

Rapport, 6 April 2025

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes, skryf:

Die meningstukke wat verlede week in Rapport gepubliseer is oor die wegbreek van die NG Kerk in Namibië se sinode was interessant en weerspieël die wyd uiteenlopende sieninge daaromtrent.

Ds. Zack Pienaar van die Namibiese NG Kerk sê reguit: “Dit is kerkskeuring!” maar die gesoute joernalis Neels Jackson wys daarop dat daar “beduidende verskille is tussen hoe hierdie onttrekking gebeur het en hoe ander kerkskeurings hulle al uitgespeel het”.

Ds. Pienaar meld dat hy ’n ondertekenaar is van die Belydenis van Belhar en “daai belydenis keer hom” om by die toepassing van art. 37 betrokke te wees aangesien dit oor kerkeenheid gaan.

Ek is egter dronkgeslaan oor wat die Belydenis van Belhar nou met gebeurtenisse in die NG Kerk in Namibië te doen het, of mis ek iets hier?

Hoe dink ds. Pienaar daar moet nou kerkeenheid wees terwyl die algemene sinode erken dat daar nou ’n beleid van “vasgelooptheid” aanvaar is en dat elke plaaslike gemeente nou self moet besluit oor ’n hele reeks teologiese kwessies?

Laasgenoemde het enige moontlikheid van kerkeenheid in die NG Kerk vernietig en ’n nimmereindigende stroom van plaaslike twis op gemeentevlak losgelaat.

Om enigsins te praat van kerkeenheid in die NG Kerk is ’n groot klug, of besef ds. Pienaar dit nog nie?

Of kan daar kerkeenheid wees te midde van teologiese vasgelooptheid en onbybelse dwaalleer waar elke gemeente self moet besluit wat hulle nou eintlik glo en dus nog meer verwarring en onenigheid onder lidmate versprei?

Een van die veelseggendste aanhalings is waar Johan Eybers in die berig “Namibiese sinode breek weg van die NG Kerk: ‘Dis ’n hartseer dag’ ” skryf: “Dr. Nioma Venter, hoofsekretaris van die algemene sinodale moderamen (ASM) van die NG Kerk, sê die moderamen hoop om spoedig met die NG Kerk in Namibië te vergader ‘ten einde duidelikheid te verkry oor hoe ons hul besluit teologies moet verstaan’.”

Ek is verstom dat so ’n stelling gemaak kan word en verstaan glad nie hoe daar nou nog gesê kan word dat die ASM nog duidelikheid moet verkry oor hoe die Namibiese NG Kerk se besluit teologies verstaan moet word nie.

Ekself is geen teoloog nie, maar ek weet presies hoe dit teologies verstaan moet word. Dis immers die laaste paar jaar tot vervelens toe in kerkpublikasies en die openbare media volledig bespreek en uitgeklaar.

Is dr. Venter die enigste een van die ASM wat die Namibiërs se besluit nog nie teologies verstaan nie, of tel dit vir al die ander lede van die ASM ook wat nog nie mooi verstaan wat aangaan nie? Hoe is so ’n onduidelikheid of misverstand in hierdie stadium dan nou nog énigsins moontlik?

1 thought on “Brief: Namibiese dominee moet besef: Eenheid in NG Kerk is ’n klug”

  1. Elke huisgesin leef in die gebroke werklikheid dat al die kinders verskillende sieninge het oor alles. Maar wanneer did oor “Abba Vader/Pappa, Jehovah/Yahweh gaan wat ons mee ‘n verhouding het in die Naam van Jesus is daar geen verskil nie. Dit is ons eenheid. Nie ons gebroke werkliheid van menslike bestaan in die brein van die sondaar nie. Maar daardie verhouding tussen Pappa en Sy Kinders wat op grond daarvan Broers is en nie gebreek het nie. Die saak staan al van ons Broer Paulus al so. Die Broederskap is nooit verbreek nie. Net die verskillende opinies het hulself uitgewys. Dit is nou wat ‘n mens “verskil in Liefde noem.

    1 Kor. 3: 1 En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.
    2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,
    3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?
    4 Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos — is julle nie vleeslik nie?
    5 Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het.
    6 Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.
    7 So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui