Brief: Teologiese fakulteite hoor nie meer hoe duiwel brul

Kyk ook:

  • xxx

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Brief: Teologiese fakulteite hoor nie meer hoe duiwel brul | Rapport

Sondag, 20 April 2025

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes, skryf:

Ek is geleer dat die duiwel in die varke ingevaar het, maar as ek Rapport lees, lyk dit asof die duiwel die teologiese fakulteite ingevaar het.

Behalwe dat die liberale postmoderne teoloë leer dat die duiwel metaforiese wensdenkery is en slegs die fundamentaliste nog in hom glo!

Of is Tristán Kapp die enigste een wat oorgebly het in ’n teologiese fakulteit wat nog in ’n werklike satan glo?

Daniel Louw is heeltemal korrek as hy wonder hoekom almal nou so ewe skielik oor die satan gepla is. Die besluite van die NG Kerk (NGK) se algemene sinode in 2011 en 2013 het immers bevestig dat dit oukei is om die niepersoonlike aard van die duiwel en demone te aanvaar.

Van toe af worrie baie lidmate glad nie meer oor die ou dekselse duiwel wat deur God uit die hemel gegooi is nie en glo die ou satan bestaan nie meer nie, behalwe in metaforiese denke.

Dis nou almal behalwe die NGK-dolerendes van die Koinonia-sinode en die Namibiese sinode wat nog glo die duiwel is ’n daadwerklikheid waarmee rekening gehou moet word.

Die teologiese fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat het blykbaar ook al die satan afgeskryf en met hom weggedoen. In sy plek word daar nou aandag geskenk aan die voorvadergeeste.

Hierdie fakulteit het ’n uitnodiging gerig vir referate vir “Ancestor Day” op 8 Mei 2025. Gelukkig het hulle nie Paasnaweek gekies vir hul verering van voorvadergeeste nie.

Nou wonder ek, behels hierdie voorvadergeeste-verering en -aanbidding dieselfde as voedoe-godsdiens? En is daar ’n verskil tussen die ou duiwel en voorvadergeeste? Of is hulle geesgenote?

Dan lees ek by die Noordwes-Universiteit word nou ook voorvadergeeste opgeroep en aanbid.

By die teologiese fakulteit van die Universiteit Stellenbosch is hul fokus op “queering”, soos hul konferensie oor “Queering the Prophet”, waarna Daniel verwys. Nou wonder ’n mens of die duiwel ook as ’n profeet beskou kan word wat her-queer moet word?

In my Bybel lees ek: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” (1 Petrus 5:8) Maar deesdae hoor weinig nog die brul van die duiwel en word almal aan die slaap gesus, want sonde is nou ontsondig en jy hoef nie die satan as die vader van sonde te sien nie; jy kan hom net as metafories beskou.

Dis natuurlik die satan se grootste troefkaart: Om mense te laat glo hy bestaan nie.

briewe@rapport.co.za

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui