Briewe oor Belhar 2015-04

Kyk ook:

Die volgende briewe hieronder is geskryf na aanleiding van die Belharkwessie:

************

Daniel Louw

In die artikel Dis NGK se eie beleid wat nou terugkaats gee Jean Oosthuizen uiting oor ’n paar frustrasies wat hy met die NGK het:

  1. Die NGK wil nie ruimte maak vir Belhar nie.
  2. Die NGK wil nie ruimte maak vir homoseksualiteit nie.
  3. Daar is te veel lidmate wat aan ’n letterlike interpretasie van Genesis 1-11 glo eerder as in evolusie.
  4. Dit lyk of hy die leiers (huidige en vorige) van die NGK die skuld gee daarvoor.

Met die titel van sy artikel wil hy voorgee dat die NGK se konserwatiewe beleid die afgelope jare nou besig is om sy eie ondergang te veroorsaak.

Voordat ’n mens verder gaan, moet ’n mens net eers ’n paar dinge oor Jean noem:

  • Hy glo nie dat homoseksualiteit en saamwoon verkeerd is nie.
  • Hy glo aan evolusie en verwerp Genesis 1 tot 11 en die sondeval (ek dink dit is eintlik vir hom ’n verleentheid dat sommige Christene dit glo).
  • Sy definisie van God is wollerig (sy eie erkenning).
  • Hy is nie seker of die hemel en hel bestaan nie.
  • Hy kan nie met sekerheid sê dat die Christene in die enigste ware God glo en die ander godsdienste verkeerd is nie.
  • Hy het baie meer geduld met ateïste as skeppingsleerders (kreasioniste). Op sy webblad, www.kletskerk.co.za het hy baie godslasterlike dinge toegelaat en nie standpunt daaroor ingeneem nie.
  • Hy is deur die NG Kerk afgedank (of dit geldige redes was is debatteerbaar). Dit gee hom waarskynlik rede om negatief te wees teenoor die NG Kerk.

Vir meer inligting oor hom, kyk Wie is Jean Oosthuizen?

Een ding waarmee ek met Jean kan saamstem is dat die NGK leierskap die hele Belharkwessie verkeerd hanteer het. In ‘NGK moet leer om te kommunikeer’ skryf Jean:

“Daar is te veel teenstrydighede en daar word te veel met woorde gespeel. Vir die kerk om te slaag om sy boodskap oor te dra, is beter kommunikasie nodig.”

Later in ’n kommentaar onderaan die artikel skryf Jean:

“Ja wel Riaan ek verskil nie van jou nie. Dit gaan oor eerlike kommunikasie en eerlike kommunikasie beteken tog ook beter kommunikasie maar jy is heeltemal reg. Eerlike kommunikasie sou ’n beter woord gewees het.”

Dit was van die begin van die hele Belharproses baie duidelik dat die NGK leierskap alles in hulle vermoë sou doen (selfs oneerlike kommunikasie?) om Belhar deur te kry (kyk bv Vrystaat stem nee vir Belhar). ’n Mens kry die idee dat Nelus Niemandt, moderator van die NGK, bluf as hy sê:

“Die een verrassende ding wat na vore staan, is hoe baie NG-lidmate passievol hieroor is … Dit het my verwagtinge oortref … die intensiteit van die debat en die passie daaroor … daar is in die NG Kerk ’n soort energie oor hierdie saak wat baie intenser en meer is as wat ek verwag het.”

Tensy hy bedoel het dat hy nie verwag het dat daar soveel mense sterk téén Belhar gekant is nie. Die woorde wat gebruik word is maar altyd vaag (soos gewoonlik).

Volgens Jean is die verdeeldheid in die NGK oor Belhar slegs die ore van die seekoei. Daarmee kan ’n mens ook nie heeltemal verskil nie. MAAR dan sê hy:

“Laat ons maar eerlik wees: Die teenkanting wat die NG Kerk nou van sy eie lidmate kry, is grootliks die gevolg van die politieke en teologiese hongerdieet wat die kerk sy lidmate self oor dekades heen gevoer het.” (my onderstreping)

Met “politieke hongerdieet” bedoel Jean waarskynlik die feit dat die NGK in die verlede apartheid met die Bybel probeer versoen het. Hy haal Ferdinand Deist aan wat in die laat 1980’s gesê het dat wanneer apartheid gaan, sal dit ook die einde van die NG Kerk wees.

Dit is so dat daar mense is wat die NGK verlaat het omdat die NGK apartheid in die verlede met die Bybel versoen het (kyk Izak du Plessis se blog en Henk/Hennie), maar ek glo dat dit die minderheid is. Ek ervaar dat die deursnee lidmaat die feit dat die NGK verkeerd was oor apartheid, reeds lankal verwerk het. Toe die NGK haarself al in ongeveer 1984 uitgespreek het teen apartheid het sommiges afgestig en die APK gevorm. Dit was toe nie naastenby die einde van die NG Kerk nie. Ek dink dit is dus baie veilig om te sê dat Deist verkeerd was.

Met “teologiese hongerdieet” bedoel Jean die feit dat die kerk so sukkel om lidmate te laat afsien van hulle konserwatiewe idees. Die kerk sukkel om lidmate te oortuig dat evolusie waar is, dat daar nie ’n sondeval was nie, dat homoseksualiteit en saamwoon nie sonde is nie, dat ons nie met sekerheid kan sê dat die Christene die enigstes is wat reg is nie, ens. Jean glo dat lidmate oor jare nonsens gevoer is en nou sit die leiers van die kerk vandag met lidmate wat verkeerd “gebreinspoel” is.

Met Jean se “politieke en teologiese hongerdieet” kan ek hoegenaamd nie saamstem nie:

Dit was ’n fout dat die NGK apartheid teologies wou regverdig, maar soos reeds gesê glo ek dat lidmate hierdie ding verwerk het. Daar was natuurlik versagtende omstandighede dat die kerk dit gedoen het, maar hierdie is nie die plek om ’n debat oor apartheid te begin nie. Dit is ook waarskynlik die rede hoekom lidmate hierdie so maklik verwerk het.

Met Jean se sogenaamde teologiese hongerdieet het ek ’n baie groot probleem. Daar was nooit sprake van ’n teologiese hongerdieet nie. Die NGK was oor baie jare baie skriftuurlik korrek en het ’n trotse geskiedenis. Die probleme het egter ontstaan toe die NG Kerk die gesag van die Skrif begin bevraagteken het en van die waarheid begin afwyk het. Lees meer hiervan in Op watter tak? Iets oor die standpunte rondom Skrifbeskouing by die NG Kerk gedurende die afgelope 50 jaar en Die Trojaanse Perd in die NG Kerk, hoofstuk 1 tot 3. Kyk ook Kommentaar op NGK skrifbeskouing 2011.

Hiérdie is die rede hoekom daar soveel verdeeldheid in die NG Kerk is. Vir jare probeer verskillende kerkleiers dwaalleringe in die kerk in te sleep. Daar is baie voorbeelde[1].

Lidmate volg egter nie meer ons kerkleiers slaafs na nie. Hulle lees ook wat in die Bybel staan en kan vir hulleself dink. As daar verdeeldheid in die NG Kerk is, is dit omdat Skrifgesag nog vir lidmate belangrik is.

Jean (en ander kerkleiers) pleit dat die NGK meer relevant moet word, ’n koersaanpassing moet maak om te verhoed dat die NGK. sy profetiese stem verloor. As ’n mens na Jean (en andere) se teologie gaan kyk, beteken dit niks anders om meer wêrelds te word nie. Dit is direk teenstrydig met wat Romeine 12:2 sê: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Daar is net een rede hoekom die NGK irrelevant sal word en dit is wanneer die kerk aan “hierdie sondige wêreld gelyk word”. Baie leiers in die NGK poog daarna, maar daar is egter baie lidmate wat dit raaksien. Dit is die rede vir die diepe verdeeldheid in die NGK.

Om af te sluit:

Deist was verkeerd met sy voorspelling dat dit die einde van die NGK sal wees, wanneer apartheid gaan. Die afname in lidmaatgetalle het niks met apartheid te doen nie.

Die aanvaarding van Belhar al dan nie, gaan nie die NGK maak of breek nie. Lidmate het nee gestem vir Belhar; nie omdat hulle rassisties is nie, maar baie ander redes (kyk Behar – hoekom nee?).

Jean is verkeerd as hy dink dat die NGK se jarelange konserwatiewe beleid nou sy eie ondergang gaan veroorsaak. Die een enkele ding wat die NGK irrelevant sal maak, is kerkleiers wat dwaalleringe in die kerk indra. Tans bly dit ’n wesenlike gevaar vir die NGK. Vir hierdie rede lyk die toekoms van die NGK nie baie rooskleurig nie …

Voetnotas

[1] Kyk Opsomming van skokkende NG Kerk-besluite, NG Kerk-lidmate beplan plakkaat-veldtog en Sinode Hoëveld luister na besware maar gaan dit iewers kom?. Hier volg ’n lys van voorbeelde van kerkleiers wat nie meer getrou is aan hulle legitimasie-eed nie: Albert Cruywagen, André Bartlett, Ben du Toit, Braam Hanekom, Chris Jones, Cobus van Wyngaard, Cornel du Toit, Fanie Cronjé, Frits Gaum, Gerda de Villiers, Gerhard Bothma, Gerrit Brand, James Kirkpatrick, Johann Ernst, Julian Müller, Jurie le Roux, Kobus Gerber, Laurie Gaum, Nelus Niemandt, Wentzel van Huyssteen en Willie Cilliers.

Henrietta Klaasing

Na aanleiding van Jean Oosthuizen se Dis NGK se eie beleid wat nou terugkaats:

Jean Oosthuizen se woorde verskil so effens, maar dit is dieselfde deuntjie aswat hy ’n paar jaar gelede vir Charles Leonard gesing het. Dit het aanleiding gegee tot ’n lang artikel in die Mail and Guardian “The slow and steady death of the Dutch Reformed Church” met die woorde “The DR Church’s last gasps” op die voorblad (5 April 2012).

“Dit kan selfs nuwe lewe tot gevolg hê as hy openlik erken hy was verkeerd oor bepaalde sake en ʼn nuwe koers inslaan,” skryf Oosthuizen. Dit klink asof “aanpassing/ koersverandering” een van die sleutelkwessies is vir hom. ’n Mens wonder watter koers aanneemlik vir hom gaan wees want Oosthuizen maak geen geheim daarvan nie dat hy Adam en Eva en die sondeval verwerp en spottend verwys na die “pratende slang”. Hy praat graag minagtend van kreasioniste. By een geleentheid het hy geskryf “… ’n soektog na die oorblyfsels van Noag se ark is so goed soos om na Hansie en Grietjie se hok te gaan soek.”

In die sosiale media, in briewe aan die pers en op die een vergadering na die ander het gewone lidmate duidelik laat weet hoe hulle voel, maar die leiers wat die Belhar-kwessie wou deurdruk, het hulle doof gehou. Die kerkleiers wat die hele Belhar-proses aan die gang gesit het, het hul hande oorspeel en was duidelik uit voeling met gewone lidmate.’n Mens hoop dat hulle tot besinning gebring is deur die uitslae tot dusver, maar tussen die lyne gelees lyk dit asof die huidige leierskap vasbeslote is om Belhar deurgevoer te kry al bars die bottel en al buig die fles.

Ds Gideon Aggenbag

Na aanleiding van Jean Oosthuizen se Dis NGK se eie beleid wat nou terugkaats:

1. Dit het ’n geykte term geword in sekere mense se monde: “Die NG Kerk moet aanpas of sterf” ens., ens. Dit is juis omdat die kerk by die wêreld se sieninge en strominge wil “aanpas”, dat hy besig is om te sterf. Daar is net een sinvolle aanpassing vir die kerk: “Terug na God en Sy Woord!” Verkondig die Evangelie vreesloos. Pas die Bybelse tug toe op dwaalleraars. Hou op om weer en weer te “ondersoek” hoe die Bybel geplooi kan word om by die wêreld se sieninge aan te pas. Eers dan kan die kerk hoop om nuwe lewe te kry en geloofwaardigheid te herwin. Wie sou belangstel in ’n kerk wat koorsagtig agter sekulêre strominge aanjaag en daarby probeer aanpas? ’n Kerk wat probeer om soveel as moontlik soos die wêreld te lyk?

2. Die gejaag na strukturele eenheid (wat nêrens in die Bybel bepleit word nie) beduiwel geloofseenheid. Vat mekaar se hande oor watter “grense” ookal heen, sonder om mekaar se vasgelegde verskille in aanbiddingsbehoeftes, kultuur, taal en/of volkseie te probeer ophef. Ondersteun mekaar se leringe, projekte en pogings om die evangelie suiwer te verkondig en uit te leef. Strukturele eenheid impliseer dat enigiemand wat ’n lidmaat wil word van sodanige “verenigde” kerkverband, sy gemelde “eie goedere” moet prysgee.

Ja, die NG Kerk sal inderdaad moet aanpas, maar dan in ’n totaal ander rigting as wat Jean Oosthuizen, Nelus Niemandt e.a. bedoel. Ek verstaan hulle bedoelings dat die NG Kerk eintlik sy pogings om soos die wêreld te lyk, moet versnel. En dan sal die kerk rêrig sterwe.

Johan Kriel

NGK juis te wêrelds dáárom leë banke

Saterdag 25 April 2015 12:34

Jean Oosthuizen (“Dis NGK se eie beleid wat nou terugkaats” – Rapport 19 April) is heeltemal korrek as hy sê die NGK het yslike probleme, maar hy slaan die bal ongelukkig heeltemal mis as hy meen dat verdere liberalisering van die teologie die antwoord is.

Die volgende sin plaas alles wat hy sê onder verdenking: “Natuurlik is dit nie verkeerd wanneer ’n kerk met nuwe insigte progressief vorentoe beweeg en nie op absolute sekerhede staatmaak nie.”

In eenvoudige taal beteken dit dat nóg die Woord, nóg God self, enige absolute sekerheid bied – en die Evangelie natuurlik ook nie.

Dié valse opvatting het sy wortels in die sogenaamde kontekstualisering van die Skrif. Daarmee is daar in beginsel nie fout nie. Ons weet eenvoudig beter wat ’n Skrifgedeelte beteken as ons die konteks waarin dit ontstaan het, beter verstaan. Maar toe gaan sommige teoloë verder en maak sommige van ons se verstaan van dinge (ons huidige konteks) normatief vir ons Skrifverstaan. Met ander woorde, as iets in óns dag as reg beskou word, beteken dit dat dit reeds in die verlede ook reg was – en omgekeerd. Ons kan dan van God maak net wat ons wil. En ons kan van Sy wil en wet maak wat ons wil.

Ons het eenvoudig nie die reg om die Skrif te interpreteer soos dit ons pas nie. God is nie na ons beeld geskep nie; ons is na sy Beeld geskep.

As Jean die moeite wil doen om uit te vind waarom die meeste lidmate die NGK verlaat, sal hy ontdek dat dit juis gaan oor ’n teologie wat iewers langs die pad ontspoor het. Hulle loop nie omdat die kerk “wêreldvreemd” geword het nie, maar juis omdat die kerk te wêrelds geword het.

Johan Kriel

Onrusrivier

Anton van Niekerk

(Het in Rapport verskyn.)

NG Kerk eindelik op pad na herstel

Saterdag 25 April 2015 12:34

Die Nederduits Gereformeerde Kerk was nog nooit so op ’n pad van herstel soos tans nie. Die kerk is besig om ontslae te raak van die allesoorheersende Belhar-saak.

As al die tyd en bykans onbeperkte begroting wat kerkleiers die afgelope 29 jaar aangewend het om lidmate te oortuig om Belhar te aanvaar in ag geneem word, spreek dit boekdele dat lidmate beduidend op ’n spontane en ongeorganiseerde wyse nee gesê het vir Belhar.

Terwyl kerkleiers besig was met Belhar is dit dalk net moontlik dat lidmate elke dag besig was om die ontsettende nood van medemense te verlig, werk te skep, kos te verbou, aan te pas by die nuwe bedeling en die kerk te wees op die mees basiese en praktiese maniere op die voetspoor van Jesus Christus.

Anton van Niekerk

Griekwastad

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui