Bybel kon beter beeld geskep het

Kyk ook:

Adrio sê nie wie hy hier bedoel as hy praat van “Bybelwetenskaplikes” wat skynbaar behae daarin vind om gewone gelowiges so erg moontlik te skok met allerlei hiperkritiese opmerkings oor die Bybel. ’n Mens kan egter nie help om te dink aan Wie is Julian Müller? en Jurie le Roux nie.

**********

Bybel kon beter beeld geskep het

2011-04-13 23:00

Deur die Bybel krities te lees kan ’n mens die historiese betroubaarheid daarvan maklik bepaal, meen prof. Adrio König.

Daar is mense wat nie die Bybel krities lees nie.

Hulle vra nie regtig vrae nie. Hulle aanvaar sonder meer die goddelike gesag en die onfeilbaarheid van die Bybel. Indien hulle daarop ingevra word, sal hulle eenvoudig verwys na ’n teks soos: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer” (2 Tim. 3:17). Hulle sal nie eintlik daaraan dink nie dat dit net na die Ou Testament verwys en dan nog na die Griekse vertaling van die Ou Testament waarin daar baie vreemde vertalings van die Hebreeus was.

Daar is waarskynlik ’n baie groot persentasie gewone Bybellesers wat so lees. Hulle word maklik geskok deur enige vrae oor die betroubaarheid en gesag van die Bybel.

Aan die ander kant is daar mense, in die meeste gevalle “Bybelwetenskaplikes,” wat skynbaar behae daarin vind om gewone gelowiges so erg moontlik te skok met allerlei hiperkritiese opmerkings oor die Bybel.

’n Bekende siening is dat Jesus net ’n verhaalkarakter is, dat elke evangelis oor Jesus geskryf het wat hy graag wou, sy eie Jesus-prentjie geteken het en hom min gesteur het aan wat werklik met Jesus gebeur het.

’n Paar jaar gelede het een van die bekende kritici verklaar dat Psalm 23 glad nie deur Dawid geskryf is nie. Op sigself sou dit min betekenis gehad het vir enige teoloog, maar vir “naïewe gelowiges” was dit ’n skok omdat juis hierdie Psalm so gelief onder gewone Bybellesers is.

Sy argument was dat die Psalm oor die tempel skryf en dat die tempel nog nie in Dawid se tyd bestaan het nie. Eers Salomo het dit gebou. Intussen was daar natuurlik lank voor die tempel in Jerusalem reeds een in Silo.

Maar daar is teoloë wat die Bybel krities lees, juis om Christene se insig te suiwer, te versterk en te verryk. Hulle is bereid om kritiese vrae te vra, juis ter wille van hul geloof.

As die Bybel nie in die groot geheel histories betroubaar is nie, is ons geloof ook op losse skroewe. Ons aanvaar byvoorbeeld die totaal ongehoorde ding dat Jesus uit die dood opgestaan het en ons weet dit beteken nie net dat Hy weer lewend geword het nie, maar dat Hy totaal nuut, verheerlik uit die graf is. Hoe betroubaar is so ’n geweldige aanspraak?

Natuurlik kan die aard van Jesus se opstandingsliggaam nie wetenskaplik nagevors word nie. Maar is hy regtig weer lewend gesien? Hoe betroubaar is die evangeliste se getuienis? Of het elkeen ook in hierdie geval sommer geskryf wat hom gepas het?

Die vraag is of die Evangelies in die wesenlike sake histories betroubaar is. Ons neem twee sake wat herhaaldelik na vore kom: die dissipels en die vroue.

In die tyd toe die Evangelies geskryf is, waarskynlik so tussen die 60’s en die 70’s, was sommige dissipels juis die leiers in die kerk.

’n Mens sou dus kon verwag dat die evangeliste hulle sou ophemel as hulle geskryf het wat hulle wou. Ek kan my indink dat Markus, wat moontlik ’n vriend van Petrus was, van Petrus sou vertel het dat hy deur dik en dun by Jesus gestaan het, tot voor die hoëpriester en selfs voor Pilatus.

Petrus was tog die leier onder die dissipels. En hoe die ander dissipels hulle om die kruis geskaar het en Jesus moed ingepraat het en probeer help het, en hoe hulle Hom ’n ere­begrafnis gegee het.

Maar geen spoor daarvan nie. Trouens, die Evangelies is deurspek van die dissipels se mislukkings. Vroeg reeds is Jesus gefrustreerd oor hul onbegrip (Mark. 8:16-21).

Die drie lydensaankondigings dryf dit op die spits as Hy Petrus “Satan” noem, as die groep niks verstaan van sy komende lyding nie, maar onder mekaar stry oor wie van hulle die belangrikste is, en as Jakobus en Johannes Hom selfs die uitsoekplekke vra in sy komende regering in Jerusalem.

En ná Petrus se selfvertroue dat hy selfs saam met Jesus sal sterf, kan hy en die ander nie eens ’n rukkie wakker bly om Hom in Getsemane te ondersteun nie, vlug almal as Hy gevang word, verloën Petrus Hom selfs met ’n eed, en verdwyn hulle by die kruis en die begrafnis.

’n Skandgeskiedenis! Waarom skryf al die evangeliste dieselfde seer geskiedenis? Omdat hulle daarop uit was om die waarheid te skryf, al het dit verleentheid veroorsaak in die situasie waarin hulle geskryf het.

Presies dieselfde geld die vroue as die eerste getuies van Jesus se opstanding. Dis die laaste keuse wat ’n evangelis sou uitoefen as hy geskryf het wat hom gepas het. Vroue se getuienis is destyds glad nie aanvaar nie. En dat al vier Evangelies dieselfde kerngetuie aanwys, Maria Magdalena, die vrou met die gure geskiedenis, kan weer net een ding beteken: Hulle het geskryf wat werklik gebeur het.

Dis sulke trekke in die Evangelies wat my vertroue gee in hul verhaal.

Trouens, daar is veel meer. Dink net aan die feit dat Lukas Handelinge geskryf het in ’n tyd waarin die wonderlike betekenis van Jesus se kruisdood al algemeen bekend was, maar nog altyd sy kruisdood negatief voorstel soos die dissipels dit inderdaad kort ná sy opstanding beleef het.

En dink aan die wyse waarop die evangeliste oor Jesus se opstanding skryf. Ook hulle skryf in ’n tyd toe die ryk betekenis van sy opstanding al gemeengoed onder Christene was, maar hulle rep geen enkele woord oor hierdie ryk betekenis nie. Hulle vertel die verskyningsverhale steeds net as vreemde verhale van Jesus wat skielik daar is en weer skielik verdwyn. Hulle het dus selfs sover gegaan om hul eie oortuigings van die betekenis van sy opstanding tydelik “op te skort”, om hulle eers weer in te leef in die tyd toe Hy verskyn het, toe die dissipels dit nog glad nie verstaan het nie en dit nog net beleef het.

Wat die geloofwaardigheid van die uittogverhaal betref: As dit regtig net ’n klompie Bedoeïene was wat stadig­aan bymekaar gekom het om hulle beter teen rowers te verdedig, sou die geskiedenis van die uittog heeltemal anders gelyk het. Dan sou daar pleks van die aanhoudende gemor, opstand en vrees ’n paar rolmodelle na vore gekom het wat die Egiptenare uitoorlê en die volk met moed en mening die uittog laat aanpak en voltooi het.

Daar is oorgenoeg inherente getuienis in die Bybel dat dit histories betroubaar is in die groot sake waaroor dit gaan.

Deur kritiese, vraende denke kan ’n mens dit agterkom.

Prof. König is afgetrede professor in sistematiese teologie aan Unisa.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui