Adrio König het die volgende in Beeld geskryf oor sy siening oor evolusie. Kyk egter:
- Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed? (Daniel Louw)
- Om geloof en wetenskap te skei (Daniel Louw)
- Is Genesis 1 en Genesis 2 verskillende, teenstrydige skeppingsverhale?
Dit was na aanleiding van wat Piet Strauss oor evolusie gesê het.
***********
Beeld, 2 Augustus 2010
Geskryf deur Adrio König
Waarom sukkel Bybelgelowiges met evolusie? Miskien omdat hulle die Bybel nie goed genoeg gelees het nie, skryf Adrio König.
Hulle aanvaar dat die Bybel ’n duidelike leer het van hoe God alles geskape het.
Die meeste hou vas aan die oortuiging dat God in ses dae net deur die woord alles so omtrent 6 000 jaar gelede geskep het.
En dan kan hulle dit nie laat rym met die teorie dat alles oor lang tydperke stadig ontwikkel het nie.
As ons alles in die Bybel oor die skepping oorweeg, en daar is baie, kry ons ’n interessante prentjie. Ons kry verskillende voorstellings van hoe alles geskape is. Daar word selfs van presies dieselfde ding gesê dat God dit op twee verskillende maniere geskep het. Op een plek lees ons dat Hy deur sy woord die hemel gemaak het en op ’n ander plek dat Hy dit deur sy hande gemaak het (Ps. 33:6; 102:26).
Trouens, in dieselfde vers skryf Jesaja dat die Here die aarde se fondamente en die hemelkoepel met sy hande gemaak het en direk daarna dat Hy hulle deur sy woord geskep het (Jes. 48:13).
Dit kan tog net een ding beteken: Dat Jesaja nie bedoel het om te skryf presies hoe Hy geskep het nie, maar eenvoudig verskillende voorstellings gehad het, sonder dat enige spesifieke een die “regte” een is.
Verder moet ons onthou daar is ’n hele aantal voorstellings in die Bybel oor hoe God geskep het: God het iets geskep deur dit te maak, of deur net ’n bevel te gee en dan was dit daar, of dat iets op sy bevel iets anders voortbring – soos die aarde die plante voortgebring het (Gen. 1).
God het nie net gesê daar moet plante wees, soos in die geval van lig nie, maar Hy het die aarde die opdrag gegee om die plante voort te bring. Dis interessant dat God ook die aarde beveel om diere voort te bring, maar dat Hy hulle dan self maak.
Ook die volgordes verskil.
Volgens die een verhaal maak God eers die diere en dan die mense, maar volgens die ander een maak hy eers die man, dan die diere en dan die vrou.
Dis verder belangrik dat al hierdie skeppingsvoorstellings ook by die godsdienste rondom Israel voorgekom het.
Babilon en Egipte het ook geweet van ’n god wat net beveel en dan kom iets tot stand.
Israel het trouens geen voorstelling wat nie ook by ander volke voorkom nie.
Die eintlike punt van die skeppingsboodskap van die Bybel was dus glad nie presies hoe alles geskep is nie.
Interessant is wel die feit dat Israel een voorstelling van sy omgewing nie gebruik het nie: geboorte. Volgens ander godsdienste is veral belangrike persone soos konings gebore uit die omgang van ’n manlike god en ’n vroulike god. Daarom was die koning goddelik en kon sy gesag nie betwis word nie.
Maar in die Bybel ontbreek hierdie voorstelling heeltemal. Waarom? Waarskynlik omdat Israel oortuig was dat daar nie so ’n noue verwantskap tussen God en mens is nie. Die mens is ’n skepsel, nie ’n afstammeling van God wat dus self goddelik is nie. Die Bybel ken ’n baie skerper onderskeid tussen God en mens as die ander godsdienste.
Dit beteken dat Israel se skeppingsvoorstellings wel grense gehad het. Hulle het alles gedeel met hul bure behalwe wanneer bepaalde voorstellings nie gestrook het met dit wat hulle van God en die skepping geglo het nie.
Waar bring dit alles ons?
Dat die Bybel nie een vaste, voorskriftelike voorstelling het van hoe alles geskape is nie, maar ’n verskeidenheid voorstellings wat hulle met hulle omgewing gedeel het. Die Bybel probeer dus nie vir ons sê presies hoe alles geskep is nie.
Maar die Bybel is wel duidelik oor wie geskep het. Die woord wat verreweg die meeste in Genesis 1 voorkom, is “God”, en dit verwys na Israel se God, die Vader van Jesus. Dit is Israel se God wat alles gemaak het.
Israel deel wel die omgewing se skeppingsvoorstellings met hulle, maar nie hul gode nie.
Daar is dus grense aan wat ek as gelowige sal aanvaar. Ek sal nie aanvaar dat alles vanself ontstaan het nie, want die een ding waaroor die Bybel se boodskap oor die skepping anders is as dié van omringende volke is die nadruk dat God alles geskep het.
Maar ek het die vryheid om die sinvolste voorstellings van ons tyd te aanvaar en dié kry ons seker by die natuurwetenskappe. Maar presies watter die sinvolste is, sal hulle onder mekaar moet uitmaak.
Maar ook die natuurwetenskappe het hul grense. ’n Mens kan nie op natuurwetenskaplike gronde beweer dat God nie geskep het nie. Jy kan dit immers nie in ’n laboratorium met ek-sperimente of deur navorsing of waarneming bepaal nie.
Verder is daar natuurlik verskillende evolusieteorieë. En daar is probleme met elke teorie.
Die gedagte van klein toevallige veranderings oor baie lang tydperke het sy eie probleme omdat die beskikbare getuienis van veranderings eerder in die rigting dui van dinge wat oor baie lang tydperke omtrent dieselfde bly en dan skielik sterk veranderings vertoon. ’n Afsonderlike teorie hieroor, die saltasieteorie, is selfs ontwikkel.
Maar dit is ingewikkelde bevindings en argumente wat by natuurwetenskaplikes tuishoort en wat ons met vertroue aan hulle kan oorlaat.
Hulle is moreel en intellektueel seker minstens net so sterk soos teoloë. Die paar wat ek ken en vertrou, is ook toegewyde Christene.
En daar is in elk geval ook net sulke ingrypende verskille onder hulle soos onder ons.
Maar wat ek by hulle hoor, is dat die ontstaan en voortbestaan van alles so ingewikkeld is dat dit op sigself ’n paar wonderwerke vereis.
As dit alles toevallig en vanself oor oneindig lang tydperke ontwikkel het tot waar ons vandag is, is dit ’n groter wonderwerk as om te glo God het die proses in sy hand. Daar is blykbaar net te veel aspekte van die heelal wat lyk of daar intelligensie en beplanning agter sit.
Dink maar net aan die oog. Ingevolge Darwin se teorie oor natuurlike seleksie moes die eerste oog dadelik kon sien en kon dit nie oor ’n lang tydperk ontwikkel het nie omdat ontwikkelings wat nie beter by die omgewing aangepas het nie – dus ’n begin-oog wat nog net gevoelig was vir lig – sou verdwyn het.
Maar die oog is so ’n ingewikkelde samestelling met soveel elemente wat presies in posisie moet wees dat dit nie regtig sinvol is om jou voor te stel dat dit sommer net skielik toevallig eendag daar was en begin kyk het nie.
Kom ons as teoloë maak dit ons erns om die rykdom van die Bybel ten volle te ontgin en los die vrae oor evolusie aan die bekwame natuurwetenskaplikes.
Ons sal ons nie daarom minder verwonder aan die wonders van God se skepping nie.
– Prof. König is ’n afgetrede teoloog.