Bybelverhale van vaderlose Jesus ‘nie letterlik waar’

*******

Bybelverhale van vaderlose Jesus ‘nie letterlik waar’ | Beeld

Beeld, 17 Oktober 2000

Neels Jackson

Oor presies wie Jesus van Nasaret was, is daar al baie gepraat en geskryf. In ’n nuwe boek wat vroeg volgende jaar in Amerika verskyn, bied prof. Andries van Aarde ’n nuwe perspektief op dié Man wat die geskiedenis van die wéreld verander het. Neels Jackson het met hom gesels.

Jesus het vaderloos grootgeword in Galilea. En dit is iets wat in die wéreld van destyds ‘n geweldige effek op hom gehad het. lemand sonder ’n pa was vergelykbaar met iemand wat vandag nie ‘n identiteitsdokument het nie.

Só gesels prof. Andries van Aarde, Nuwe Testamentikus van Tukkies, teoloog van die Hervormde Kerk en lid van die Jesus Seminaar wat die afgelope dekade of wat navorsing doen oor die “historiese Jesus”,

Sy boek Fatherless in Galilee: Jesus, Child of God, verskyn volgende jaar in Amerika.

Van Aarde het homself diep ingegrawe in die wêreld van die eerste eeu van ons jaartelling, Nie net het hy as Nuwe Testamentikus ‘n deeglike kennis van die ontstaansgeskiedenis van die geskrifte van die Nuwe ‘Testament nie, maar hy is ook deeglik op hoogte van ander verhale, legendes en geskrifte van destyds.

Sy studie van die kultuurgeskiedenis van destyds het hom onlangs nog ‘n doktorsgraad besorg.

Met dié arsenaal van kennis het hy na jare van studie van wat in die Bybel en elders oor Jesus geskryf is, tot die gevolgtrekking gekom dat Jesus waarskynlik vaderloos grootgeword het.

Vir Christene wat grootgeword het met die tradisionele beeld van Josef, Maria en die baba Jesus in die stal, of op vlug na Egipte, mag dit vreemd klink, maar Van Aarde het ’n deeglike motivering vir sy standpunt.

Hy wys byvoorbeeld daarop dat Markus, die oudste van die. vier evangelies, glad nie na Jesus se pa verwys nie. Dit sou toe ondenkbaar gewees het om iemand se identiteit anders te meld as deur na sy pa te verwys, al was die pa reeds dood.

In Mark. 6:3 word daar egter na Jesus verwys as “die seun van Maria” — iets wat destyds slegs gedoen sou word as mense nie geweet het wie sy regte pa was nie.

Ook ander vroeë bronne soos die briewe van Paulus of die evangelie van Thomas wat sowat ‘n halfeeu gelede onder die Egiptiese sand uitgegrawe is, ken nie ’n figuur soos Josef, vader van Jesus, nie.

Die geboorteverhale van die latere evangelies van Matteus en Lukas, sê Van Aarde, moet nie gelees word as letterlike geskiedenisse nie. In die wêreld van destyds het mense in elk geval nie geskiedenis geskryf soos ons dit vandag doen nie. Hulle het verhale vertel om boodskappe oor te dra,

Die verhale in Matteus en Lukas is volgens Van Aarde in verskillende kontekste oorvertel. Lukas, ’n Griek wat geleef het in ’n wéreld met baie stories van maagdelike verwekkings, wil byvoorbeeld sê vir hom is die verlosser nie die keiser of die een of ander godeseun van die Griekse verhale nie. Dit is Jesus.

“So is God vir my,” sê Van Aarde.

Matteus, ’n Jood wat skryf in die tyd wanneer daar verwydering begin plaasvind tussen die volgelinge van Jesus en die Joodse sinagoges, vertel ‘n verhaal om wal te gooi teen die beskuldiging dat Jesus ’n buite-egtelike kind was, Dit sou onder meer impliseer dat Jesus geen geloofwaardigheid het nie. Die figuur van Josef in hierdie verhaal word volgens Van Aarde waarskynlik ontleen aan die Ou Testamentiese verhaal van Josef, die man wat verneder is maar deur God verhoog is en wat sy broers vergewe het.

Van Aarde wys daarop dat die Ou Testamentiese Josef kinders gehad het by sy Egiptiese vrou Aseneth en dat hul nageslag (bekend as die Makariete) later die Israeliete geword het wat hulle in die noordelike deel van Israel gevestig het, Dié groep is deur die Judeérs gettiketteer as “buite-egtelike Samaritane”, ’n beskuldiging wat ons terugkry in Joh.8:48.

Teen dié agtergrond is die figuur van Josef deur die latere evangelieskrywers in hul verhale ingewerk.

Op vrae oor die letterlike aanvaarding van die maagdelike geboorte wil Van Aarde nie direk antwoord nie. “As ons vandag die waarheid in ‘n saak wil bepaal, hanteer ons dit soos ’n hofsaak. Getuienis word teenoor mekaar opgeweeg en gesif totdat ‘n mens by die waarheid uitkom.”

Destyds het dit nie so gewerk nie, Mense het verhale vertel en die waarheid daarvan is bepaal deur die instemming met wat die verhaal vertel oor hoe mense God ervaar. Hy wil nie dat ons vandag die verhale soos hofsake toets nie. Hy wil hê mense moet leer om ander vrae aan die verhale te stel.

Van Aarde sê Jesus se vaderloosheid het ’n ingrypende invloed gehad op die manier waarop ander mense hom gesien het, op sy ervaring van God se teenwoordigheid en op die manier waarop Jesus met sowel sosiaal uitgeworpenes as met mense van status gekommunikeer het.

Terwyl die vaderlose Jesus se samelewing op hom sou neergesien het, het hy sy vertroue geplaas op God as ’n vaderfiguur.

Al sou die samelewing nie vir Jesus ruimte bied nie, sou daar vir hom en vir al die ander randfigure van die destydse samelewing – straatkinders, vroue, weduwees, prostitute, onreine siekes en heidene — plek wees in God se uitgebreide familie, Dit bepaal ook hoe Jesus teenoor hierdie geringstes in die samelewing opgetree het.

Jesus het van onder in die samelewing gekom, sê Van Aarde. Hy was nie soos Robin Hood wat as edelman gebore is en uit die adel uitgereik het na die geringstes nie.

Die vaderlose Jesus sluit dic wêreld oop na ander randfigure. Hy leer vir ons dat God nie grense het nie, maar dat elkeen wat met Jesus die pad wil loop by God kan uitkom.

Oor die gedagte dat Jesus gekom het om ’n mens van sonde te verlos sodat jy in die hiernamaals by God kan wees, sê Van Aarde dat dié soort skeiding van wêrelde ‘n produk is van Europese rasionalistiese godsdiens, In die Bybelse leefwêreld was dit ineengevleg. Die kruisiging is die kondensasie, soos in ‘n brandglas, van Jesus se hele lewe.

Menslik gesproke was dit die logiese gevolg van Jesus se radikale afwyking van die konvensionele wysheid van’ sy tyd. “Natuurlik gaan jy probleme kry as jy die konvensie so radikaal teenstaan.”

Wat die opstanding betref, sê Van Aarde dat dit nie op dieselfde manier gebeur het as Lasarus se opwekking uit die dood nie.

Ander navorsers meen dat Jesus se liggaam warskynlik aan die kruis gelos is vir die kraaie of iewers in ’n vlak graf begrawe is, maar Van Aarde se standpunt is dat ‘n mens nie vandag kan sê wat van die liggaam geword het nie.

Soos met die geboorte was daar destyds verskeie verhale van figure wat uit die dood opgestaan het. Wat die vroeë Christene met die opstandingsverhaal wou sê, is dat dit nie Augustus, die Keiser, is’ wat vir hulle die manifestasie van God is nie. Dit is Jesus.

Oor sy eie geloof sê Van Aarde: “Ek leef in volle vertroue op God, Jesus is vir my die gesig van God. Ek ken God nie anders as deur die verhaal van Jesus van Nasaret nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui