Kyk ook:
Dit is baie onseker wat Cas Wepener se punt is in hierdie skrywe, behalwe dat hulle bloot net twyfel wil saai.
*******
Cas Wepener: Elke eeu iets nuuts gevind vir 505 jaar oue tradisie | Netwerk24
Cas Wepener
Saterdag, 29 Oktober 2022
In die tradisie van Martin Luther wat sy 95 stellinge teen die kapeldeur vasspyker, is dát en hoekom hy dit gedoen het, belangriker as hoe dit gebeur het, skryf Cas Wepener.
Op 31 Oktober elke jaar word die Reformasie herdenk. Vyf jaar gelede was daar met die vyfhonderdste herdenking groot vieringe wêreldwyd. Die episentrum daarvan was Wittenberg in die ooste van Duitsland. Dit is waar die kerkhervormer Martin Luther ’n groot deel van sy lewe gewerk het.
Knap voor die vieringe om 500 jaar te herdenk word die nuus ontvang dat ’n besondere manuskrip van Luther ontdek is – ’n kopie van “Aangaande die vryheid van ’n Christen” uit 1520. Die dokument het nie minder nie as 50 notas in rooi wat Luther self daarin aangebring het. Dit het veranderinge aangedui wat in ’n heruitgawe in ag geneem moes word. James Hirsten het die dokument in die Humanistiese biblioteek in Selestat in die noordooste van Frankryk ontdek.
Dit was ’n besondere vonds. Die tydsberekening was ook iets besonders en het my laat dink aan ’n besoek aan die Grieks-Ortodokse St. Katharina-klooster in Sinaï. Daar het ek gehoor hoe ’n monnik vir besoekers “the original burning bush” wys. Agter my het ’n Rooms-Katolieke priester gemompel: “You have to be Greek to believe that.” Ek vermoed jy moet ook ten minste ’n Lutheraan wees om nie te dink dis darem baie toevallig dat Luther se geannoteerde manuskrip knap vóór die vyfhonderdste herdenking gevind is nie. Hierdie soort ontdekkings of ontwikkelinge wat met belangrike vieringe van die Reformasie saamhang, is nie nuut nie.
Hamer, spykers en ’n lang pen
Die aanvang van die Reformasie word algemeen gedateer op 31 Oktober 1517 – die dag waarop Luther volgens oorlewering sy 95 stellings teen die deur van die Slotkapel in Wittenberg vasgespyker het. Daar is egter mense wat oortuig is dat Luther daardie dag niks aan enige deur vasgespyker het nie. Die oorvertel van die verhaal – van dát hy dit gedoen het tot en met hóékom hy dit gedoen het – was en is wel waardevol en het gehelp om ’n neutvars nuwe tradisie te laat grondvat en groei en die mense wat hulle daartoe verbind saam te bind as groep.
In sy boek Performing the Reformation wys Barry Stephenson daarop dat Luther by uitstek die kunste en visuele kultuur gebruik het as propaganda vir sy nuwe leer. Die deur van die Slotkapel was inderdaad ’n tipe kennisgewingbord, maar dit is vreemd dat nie ’n enkele skildery of afbeelding in die tyd kort ná 1517 gemaak is wat wys hoe die 95 stellings vasgespyker is nie. Ook geen munt of medalje wat in Luther se leeftyd vervaardig is, het dit as tema nie. Vir ’n eeu ná sy dood was hierdie gebeurtenis ook nie deel van die populêre kultuur van die Reformasie nie. Sy vriend Melanchton het dit wel vertel, maar hy was nie daardie dag in Wittenberg nie en het dit eers ná Luther se dood in 1546 vertel. Luther self het dit nooit sover ons weet oorvertel nie. Die mooi verhaal van die vasspyker van die 95 stellings het saamgehang met die eeufeesvierings van die Reformasie ’n honderd jaar later in 1617.
Die eerste uitbeelding van Luther by die deur van die Slotkapel kry ons ook eers met die eeufeesviering. Luther word dan in ’n kunswerk uitgebeeld waar hy die 95 stellings op die deur skryf. Daar is dus geen hamer en spykers betrokke nie. En hy skryf met ’n besonder lang pen, so lank dat die een punt van die pen tot in Rome en in die oor van Pous Leo X, wat as ’n leeu uitgebeeld is, strek. Hierdie uitbeelding is gebaseer op ’n droom van Frederick die Wyse wat aan Luther beskerming gebied het. Frederick het glo sy droom aan sy pastor, Georg Spalatin, vertel wat dit op sy beurt aan Anton Musa vertel het, en hý het die droom neergeskryf.
En dan nog ’n honderd jaar later in 1717 kry ons die eerste munte wat die gebeurtenis by die Slotkapel uitbeeld, natuurlik spesiaal vir die tweehonderdste herdenking gemunt. Maar let wel, van die 180 munte en medaljes wat geproduseer is, beeld slegs drie die vasspykertoneel by die Slotkapel uit. Tussen 1817 en 1917 kry die uitbeelding van die gebeurtenis egter momentum. En die meeste munte en medaljes wat dit uitbeeld, is gemunt vir die Reformasie se vierhonderdste herdenking in 1917. In die vroeë 19de eeu kom Hervormingsdag (31 Oktober) dan ook na vore as die dag waarop die Reformasie as gebeurtenis herdenk word. En in die 20ste eeu het die vasspyker van die 95 stellings se belang verder toegeneem en is dit as feitelike gebeure oorvertel en in geskiedenisboeke opgeteken.
Tradisie bind Protestante saam
Terugskouend wys die gebeure hoe ’n nuwe tradisie (Protestants) in die oorvertel en uitbeelding van die gebeure by die Slotkapel se deur in die loop van die tyd uit die verf kom. En elke honderd jaar is daar nuwe energie wanneer nog iets geskep of ontdek word.
Die simboliek van die geleentheid is ook betekenisvol, aangesien Luther se hamerslae op ’n simboliese vlak resoneer met die hamers en spykers wat met die kruisiging gebruik is. Die ontdekking van die manuskrip van Luther knap voor die vieringe van 2017 is ook in pas met die Protestantse skrifkultuur. Dat spesifiek ’n manuskrip ontdek is, is betekenisvol. Was dit ’n Rooms-Katolieke viering, was dit dalk eerder ’n kelk of ’n relikwie wat ontdek is.
Wat oor die eeue telkens rondom die herdenking van die Reformasie gebeur, is natuurlik geensins uniek nie. Alle groepe – van skole tot kerke tot nasies – is voortdurend besig om hul eie tradisies te ontdek en te bevorder deur die verhale wat hulle vertel en die simboliese handelinge wat hulle uitvoer. Dit is eintlik ’n belangrike proses wat deel is van ons oorlewing en dien die bevordering van groepskohesie.
Daardie verhaal van die hamer en spykers in Wittenberg bind Protestante as ’n groep saam, net soos ander verhale of gebeurtenisse ander groepe saambind.
Tradisies nie almal oud nie
Dat en hoe hierdie uitvinding van tradisies voortdurend gebeur, het die historici Eric Hobsbawm en Terence Ranger al in die 1980’s aangetoon. In The Invention of Tradition wys hulle hoe tradisies wat oënskynlik stokoud is, dikwels taamlik jonk is. Die Skotse Hoogland-tradisie is byvoorbeeld ’n neutvars uitvinding – van die kilts en tartans tot by ’n koninklike Stewart-bloedlyn wat ’n korrupte dominee en sy broer laat herleef het deur die Skotse geskiedenisboeke te kook. Hobsbawm wys tradisie word veral uitgevind wanneer groot maatskaplike veranderinge en omwentelinge voorkom. Die Reformasie van 1517 en daarna is dan ’n goeie voorbeeld in hierdie verband en so ook Suid-Afrika in die 1990’s.
In die gees van Hervormingsdag 2022 is dit dalk hoog tyd dat iemand iets teen ’n deur van die Uniegebou gaan skryf met ’n lang pen waarvan die een punt oom Cyril se oor kielie. Of dat mense in ons land begin droom dat iemand ons Grondwet daar vasgespyker het en hul drome dan oorvertel. Suid-Afrikaners sal dit graag en gereeld vier met munte en feeste en uitbou tot ’n nuwe tradisie.
- Wepener is ’n professor in teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings in dié artikel weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.