Kyk ook:
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Cas Wepener: Soos skape wat ons in die diep bruin oë van die wolf verloor | Netwerk24
Cas Wepener
11 Februarie 2025
Dit gebeur selde dat ’n dominee wie se aftrede nog onveilig is die geloof prysgee. In ander beroepe werk mense hulleself ook eers katswink voordat hulle later in hul lewe ontwikkelingswerk doen, skryf Cas Wepener.
Knap nadat ek 15 jaar gelede voltyds by ’n universiteit aangetree het, het Wilhelm Jordaan vir my gesê (of hy gesê het “enigste” of “belangrikste” kan ek nie onthou nie), maar dit het daarop neergekom dat my primêre taak nou is om te dink. Vir my het dit destyds voor die hand liggend geklink.
Ek is steeds in die akademie en besig met allerhande dinge, waarvan lees darem nog een is. En in die inleiding tot sy boek wat gedien het as basis vir sy afskeidsrede toe hy in Nederland as professor aftree, skryf Marcel Barnard: “Ik heb mij door en om de bureaucratische systemen heen moeten bewegen die alles in het werk stellen om de intellectueel van de universiteit te verdrijven.” [Ek moes deur en om die burokratiese stelsels navigeer wat alles in hul vermoë doen om die intellektueel uit die universiteit te dryf.]
Wanneer jy in ’n akademiese stoel sit en moontlik nog meer as ’n dekade daar gaan sit, resoneer hierdie woorde sterk met jou. Oor alles wat jy doen, soos navorsing, onderrig en gemeenskapsbetrokkenheid, moet jy dink. Maar is dit nog jou eie vrye denke? Of is dit denke wat heimlik ander gode as die godin van wysheid dien? Is dit die denke wat ware akademici of intellektuele mee besig wil en moet wees?
Barnard erken dat hy pragmatiese keuses moes uitoefen binne die akademiese rat race. Om in ’n universiteit te oorleef moet jy in die sisteem funksioneer. In aansluiting by Edward Said skryf hy soos volg oor die intellektueel: “De intellectueel is in de eerste plaats een amateur, een liefhebber, niet de succesvolle professional en zeker nie de geslaagde academicus wiens succes wordt gemeten aan prestatie-indicatoren, citatie-indexen, impact factors van de journals waarin hij publiceert, rankings en geslaagde fondswerwing.” [“Die intellektueel is in die eerste plek ‘n amateur, ‘n entoesias, nie die suksesvolle professionele persoon nie en beslis nie die suksesvolle akademikus wie se sukses gemeet word aan prestasie-aanwysers, aanhalingsindekse, impakfaktore van die joernale waarin hy publiseer, ranglyste en suksesvolle fondsinsameling nie.”]
‘Soos ’n rot aan ’n wedren’
Wanneer jy binne die werkinge van ’n moderne universiteit soos ’n rot aan ’n wedren sonder einde deelneem, waar dit wat jy navors en skryf deur die finansiers van die navorsing vasgestel word – wat amper deurgaans temas is wat soms onkrities belyn word met nasionale politieke ideale wat jou denke gevolglik stuur – en jou lot (soos bevordering en pensioen) beseël word deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS), wat jou soos skaapvleis in ’n slagpale gradeer as ’n klas A, B of C (wat weer bepaal word deur hoeveel mense jou artikels en boeke gelees en aangehaal het) en jy dus noodwendig in diens van hierdie mark dink, word dit haas tyd om weer kwalitatief te dink oor jou primêre taak, of selfs roeping: wat volgens Wilhelm gewoon net is om te dink.
Ja, ons moet gereeld weer dink oor ons taak om te dínk, en vra hoe vry ons regtig is om te dink en selfs om te dink oor dink. Een beperking op denke kom uiteraard van die kommersialisering van ’n domein soos die akademie, wat eintlik redelik vry moet bly van ekonomiese maatstawwe, anders word jy voorgesê wat jy moet dink, en hoeveelheid word vinnig gelykgestel aan gehalte.
Die akademie is in daardie sin nogal vergelykbaar met die kerk en die teologie, want as jy in die kerk gehalte konsekwent kwantitatief meet, is jy besig om die verkeerde maatstok te gebruik. Meer is in die kerk nie altyd beter nie. Beslis nie. Verkeerde denke in die kerk kan skares lok. En die “meer is beter”-mentaliteit van sekere kerke word ook eerder van buite af as van binne uit aan hulle opgelê.
Dit kán wees dat meer soms beter is, maar die verhaal van die kruis en die navolging van ’n Gekruisigde – wat behels dat jy basies wat jy het en is, moet weggee eerder as wat jy gaan kry – is nou nie juis in ons kapitalistiese samelewing ’n crowd pleaser-boodskap nie. Self het Jesus, toe dinge moeilik geraak het, sy volgelinge een minder, eerder as meer gemaak.
‘Iets vir die skatkis van Minerva’
Alle akademici werk, soos alle werkendes, binne ’n sisteem wat sy eie pond (gegradeerde) vleis opeis. Soos Barnard tereg daarop wys, die sisteem moet in ag geneem word en jy moet leer om binne daardie sisteem te beweeg. En dan gee jy aan die keiser wat hom toekom en bly daar hopelik iets oor om ook in die skatkis van Minerva te gooi.
Só leer almal maar hoe om binne die sisteem te funksioneer. Sommige dien die keiser totdat hul aftrede en pensioen veilig is, soos sommige dominees wat juis dán ateïste word. Dit gebeur selde dat ’n dominee wie se aftrede nog onveilig is die geloof prysgee. In ander beroepe werk mense hulleself ook eers katswink alvorens hulle later in hulle lewe hul energie en geld in ontwikkelingswerk investeer. Elke beroep het sy eie weergawe van so ’n sisteem. Daar is egter ’n paar terreine, soos die akademie en die geloof, waar dit gewoon nie pas nie.
Daar is soveel kragte wat verhinder dat mense in hulle beroepe uitkom by die kerntake waarmee hulle hul behoort besig te hou en op ’n wyse wat dit veronderstel is om te gebeur, of waarom hulle in die eerste plek in daardie baan beland het. Dit het ernstige gevolge vir ’n beroep of veld of maatskappy, want diegene wat by uitstek die talente het wat nodig is om daardie beroep te beoefen, word weggedryf.
Mense met die gawe om te dink, wil werk in ’n sisteem waar (vrye) denke as ’n kerntaak bevorder word, eerder as ’n rits ander dinge, en waar hulle omring word deur ander soos hulle wat hulle eie denke uitdaag en verfyn. Ware akademici hou van mense wat nog beter kan dink as wat hulleself kan.
Sommige sou seker kon argumenteer dat indien ons as akademici die nodige finansiering kry, sal ons vry wees om te dink en gevolglik na te vors en te skryf wat ons wil sonder om uit te verkoop aan die sisteem. Ek glo nie dis noodwendig waar nie. Al verander jy die sisteem waarbinne ons funksioneer by universiteite, sal ons waarskynlik steeds soos skape kom aanmeld vir ’n pers stempel op die boud en onsself in die diep bruin oë van die wolf verloor. Die groter uitdaging is die sisteem binne in my.
Cicero het glo gesê dat ’n slaaf nie van vryheid droom nie, maar van sy eie slawe. Miskien is ek my eie grootste vyand deurdat ek as slaaf van die bestaande sisteem alleenlik binne die sisteem kan droom en gevolglik ook dink. Lê heelwat van die oplossings wat ons benodig nie dalk dormant en wag in drome en denke wat alleenlik buite hierdie sisteem gedroom en gedink kan word nie?
• Wepener is ’n professor in teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings in dié rubriek is sy eie en verteenwoordig nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Kommentaar
Daniel Louw
Hierdie skrywe van Cas Wepener klink na ‘n selfbelydenis.
Met verwysing na, “…Lê heelwat van die oplossings wat ons benodig nie dalk dormant en wag in drome en denke wat alleenlik buite hierdie sisteem gedroom en gedink kan word nie?…”
Inderdaad. Indien Cas Wepener sou belangstel, kan ek hom inlig juis oor só belewenis, want waar mens BINNE-IN ‘n sisteem vasgevang is, is dit juis die sisteem se neurale-funksies in die onderbewussyn, wat ‘oplossings’ voorlê aan die bewussyn wat as ‘lig-of-beeld weerkaatsings’ binne die ‘spieël-muur-grense’ van daardie sisteem resoneer, en veel eerder ‘n doodsvonnis eggo, as wáárlik ‘lewe’.
Verskeie voorbeelde in die Bybel vind mens ook, soos bv. Jesaja, Esegiël, Johannes (ens), wat deur die ‘Bonatuurlike’ BUITE die sisteme van daardie tye ingeneem is, om met oë na die Outeur van alle dinge te kyk, wat onbevange is deur enige aard van ‘n menslike sisteem.
Hoe belowend, opwindend of hoopvol ‘n moderne sisteem ook mag ‘klink’, waar ter voorbeeld, selfs enorme korrupsie deur Elon Musk se ‘DOGE TEAM” in die VSA ontbloot word (en teregso; mag hul nog 1000 meer dinge ontbloot van die absolute korrupte politiese en besigheidsisteme in die VSA en hopelik, SA en Europa ook), en baie gryp na ‘n nuwe ‘TRUMP-GOLDEN ERA’, is selfs hierdie sisteem vasgevang in homself. Sodanige sisteem se lewensduur is beperk, tensy MURE begin afgebreek word van ‘self-resonansie’.
Daar is ‘n goue draad wat deur die belewenisse van die eertydse Bybelfigure loop, en dit is DIEPTE (die groot gebrek daaraan en foutiewe aard van selfs die huidige oppervlakkige argumente) van INSIG oor wat REEDS GEPRAAT is, en die ‘bekragtiging’ tydens sodanige belewenisse in ‘n ‘uitruk’ (Esegiel 1, Jesaja 6, Openbaring 1) vanuit diė korrupte ‘self-sisteme’, om te praat tot sisteme se mure van rebelsheid, arrogansie, hoogmoedig, eie-geregtigheid, selfvoldaanheid, eie-wil en totale weiering om gewigtigheid te erken, van wat ‘REEDS GEPRAAT’ is.
Diė ‘goue draad’ se ‘oplossings’, het nooit die sisteme verander vanuit binne-in nie, maar eerder die aard van die mure om daardie ‘hart’ of ‘kollektiewe hart’, soos SELF deur ‘sisteem-denke’ gebou is, ontbloot. Geen eksterne ‘krag’ kan sodanige mure afbreek, behalwe ‘n belydenis van só ‘n hart, soos dit waarlik in spieël lyk, alvorens ‘n oplossing na vore kan treë nie.
Volgens die ‘International Wolf Center’ se webblad op X (https://x.com/IntlWolfCenter/status/1371848177868025858?mx=2) en GOOGLE se ‘AI-agent’, beskik wolwe eerder oor geel, oranje, hasel, ligbruin of groen oë, en by ‘baba’ wolwe, vind mens dikwels grys oë. Donkerbruin en blou oë is meer huishoudelik tot die honde-verwantskap. Blou oë by wolwe, is gewoonlik tekenend van ‘n genetiese defek (soos katarakte, wat regtig skaars is).
In ‘n geestelike sin, het die NG Kerk-milieu dus eerder hierdie blou kleur oë, maar meesterlik vermom op vleeslike vlak in ‘menslike vorm’, en ‘n wolf ‘homself’, of in ‘n geestelike sin, ‘haarself’. Waarlik niks anders as ‘n resonansie van ‘n Esegiël 23-beeld nie, maar wat ten alle koste, ontken word. Ek wil dit waag om te sê, mens vind dit maar ook by die AGS, VEK, EG-Kerk (hoe ‘onmoontlik dit selfs mag klink hiėr), ‘behoudende kerksfere’, Baptiste, ens. in SA, VSA, Europa…
Ek kan CAS WEPENER oor ‘n koppie koffie van so ‘droom-belewenis’ vertel vanuit ‘n moderne konteks, sonder om hom met’ n sambok te sou slaan. Want dit is NIE sý ‘geestelike’ blou oë waarvan ek hier praat, of sy ‘letterlike diep bruin oë nie’. As hy sou belangstel. Die ander stel nie belang nie.
Van: ‘n Eks-wolf.