Chris Jones en Sheg Najjar praat oor intergodsdiens op RSG

Kyk ook:

Kommentaar op ’n intergodsdiens gesprek op RSG se “Kruis en Dwars” op 2011-09-25

Deur Jan Louw

Op 25 September 2011 het RSG in die program Kruis en Dwars ’n gesprek gehad tussen dr. Chris Jones en Sheg Najjar. Johan van Lill was die gespreksleier. Dit het gegaan oor maniere waarop Christene en Moslems met mekaar kan saamwerk om waardes in SA te bevorder. (Laai die potgooi hier af of direk hier [28.4 MB])

Dit was vir my ’n geleentheid om te ervaar hoe so ’n intergeloofsgesprek verloop of kan verloop en om ’n opinie daaroor te vorm. Jones was predikant in Ceres-Vallei en is verbonde aan Ekklesia, ’n afdeling van die Universiteit Stellenbosch seTeologiese Fakulteit. Ekklesia wil gemeentes bedien en deur gemeentes ook die groter gemeenskap. Najjar het oor die Islam in Saudi-Arabië gestudeer en het sy meestersgraad in Egipte behaal. Hy is die Imam van ’n groot moskee in Kaapstad, hy is visie-president van die Islamitiese Raad en president van die World Hallal. Die twee is hegte vriende en het groot bewondering vir mekaar. Najjar en Jones het twee jaar gelede saam gaan uiteet en Jones het vir hulle ’n tafelgebed gedoen.

Ek het die volgende sake neergestip wat in die gesprek te berde gekom het:

Hulle sien mekaar as “geloofsbure”. Hulle wil graag die vooroordele wat daar bestaan oor mekaar se godsdienste afbreek. Daar is baie wat ons in die godsdiens in gemeen het – ook t.o.v. waardes. Dit is belangrik dat ons sal fokus op dit wat ons in gemeen het en nie op dit waaroor ons met mekaar verskil nie. Jones het gepraat van “vonkies van God” en “vonkies van Sy lig”, wat daar in alle godsdienste is.

Daar is twee waardes wat die godsdienste in gemeen het waaroor die gesprek gegaan het. Die een was Eerlikheid. Najjar het uitgebrei oor die belangrikheid van eerlikheid by Islam. ’n Moslem moet eerstens eerlik wees met God en daarna eerlik wees teenoor sy medemens. Mohammed het glo gesê mens kan steel (!), maar jy mag nie lieg nie. Eerlikheid begin by jouself en in jou ouerhuis.

Die ander waarde wat bespreek is was respek. Ons moet respek hê vir mekaar se godsdienste. Moslems moet bv 5 maal per dag bid. Ons moet dit respekteer. Ons is een gemeenskaplike mensheid. Najjar het daarop gewys dat ons almal afstam van die profeet Adam. God het die engele beveel om te buig voor die profeet Adam. Ons is broers en susters van mekaar. Dit is ons gemeenskaplike waardes wat ons daar bring.

Johan van Lill het gevra wat van die sendingopdrag? Jones het daarop ’n Engelse uitdrukking genoem wat sê: “Shift from conversion to conversation”. Ons moet ons verheug in die mooi van die ander. So leer ons om die Allerhoogste beter te ken. Dit is nie ’n gesprek tussen godsdienste nie, maar tussen medemense. Najjar het gesê: Dit is soos die verhouding tussen getroudes: “Just to be happy”. Hy het ook gepraat van ’n “chemistry” wat daar moet wees.

Ons moet leer om saam te werk teen armoede in die wêreld. Jones het die voorbeeld genoem van 800 studente in Amerika wat in Ramadan hulle middagete afgestaan het en vir armes gegee het. So moet ons ook saam werk om malaria in Afrika te beveg en om hongersnood in Somalië te verlig.

Chris Jones het afgesluit met die gedagte dat daar nooit wêreldvrede kan wees sonder godsdiensvrede nie en solank daar ’n gevoel van superioriteit van een groep oor ’n ander is kan daar nie godsdiensvrede wees nie.

Hoe beoordeel mens die gesprek?

Dit is met ’n gevoel van huiwering dat ek koue water moet gooi op die mooiklinkende gedagtes van Jones en Najjar. Hulle is so opgewonde oor hulle vriendskap en die broederskap wat daar kan bestaan tussen Christene en Moslems. In die beoordeling van die onderwerp kan ons, ons egter nie deur humanistiese oorwegings laat lei nie. Ons moet gehoorsaam wees aan God, soos Hy Homself in die Skrif geopenbaar het.

1. Waardes

Die gesprek het veral daaroor gegaan om saam te werk daaraan om goeie waardes te vestig in ons korrupte samelewing. Daar het nie vir my veel van praktiese waarde uit die gesprek na vore gekom nie, behalwe dat waardes in die ouerhuise gevestig moet word en dat die vaders in die huis daarin ’n voorbeeld moet stel.

In die Bybel het die profete, die Here Jesus en die apostels ook die wêreld as korrup beleef en beoordeel. Jesus praat in Mark 8:38 van die wêreld as ’n ontroue en sondige geslag. Petrus en Paulus praat van ontaarde en korrupte mense (Hand 2:40 en Fil 2:15). God het egter ’n unieke plan met die korrupte mensheid. God wil mense nuwe harte gee. Dit kom al van ver af, uit die OT, as Esegiël sê: Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee (Eseg 36:26). In die NT het dit duidelik geword dat hierdie vernuwende werk van God gepaard gaan met bekering, met die doop en met dissipelskap. God roep mense om ingelyf te word in sy koninkryk. Jesus het die Koninkryk van God op aarde kom oprig. Die wyse waarop God ons wil gebruik, is om sout en lig te wees. Paulus roep ons op om God se ligdraers in die wêreld te wees (Fil 2:15).

As mens so aan die omvang van die probleem dink en hierdie grootse plan van God in oënskou neem, dan lyk hierdie geloofsgesprek oor waardes vir my maar bra beteuterd. Die korruptheid sit diep in die menslike hart. Dit kan alleen met gebed en met verootmoediging voor God oorkom word. God vra sy kerk se volledige verbintenis om sy plan vir die wêreld tot uitvoer te bring.

2. Eerlikheid

Najjar het hier tereg gepraat van eerlikheid teenoor God en tweedens eerlikheid teenoor jou medemens. My vraag aan Jones sou wees of hy met sy uitsprake werklik eerlik teenoor God en mens is? Kan hy eerlik voor God staan met sy gedagte dat daar “vonkies van Sy lig” in alle godsdienste is. Is dit eerlik teenoor die Evangelie, as hy voorgee dat ons almal maar dieselfde God dien en dat ons net “geloofsbure” is. Wil God regtig hê dat ons met mense wat ander gode dien, in gesprek moet gaan om Hom beter te leer ken?

Die hele Bybel is vol van God se teleurstelling met die Israeliete wat afgode gedien het. In baie gevalle het Israel voorgegee dat hulle God nog dien, maar hulle wou ook ander gode daarmee saam dien. God sê baie duidelik: Ek is die Here jou God. Ander gode is karikature van God wat deur die duiwel ontwerp is. God haat dit. Dit is nie dinge wat ons op die dakke verkondig nie, maar as kinders van God weet ons dit en moet ons dit vir mekaar sê. Moses praat in Deut 31:27 van mense wat doodgewoon opstandig en hardkoppig teen die Here is, omdat hulle, hulle nie wil omnderwerp aan die Woord van die Here nie. Jones sal ook moet antwoord op die vraag of hy eerlik is teenoor sy Moslemvriende as hy die werklike Evangelie van hulle weerhou en voorgee of ons almal broers is. Dit is nie soos die apostels met die Evangelie omgegaan het onder die mense nie. Dit weet hy tog seker ook.

Mens sal ook vir Najjar kan vra of hy werklik eerlik is teenoor sy Christenvriende. Volgens die Koran is daar buiten Allah geen god nie (bv hfst 9:22). Daar is dus diepgewortelde verskille in ons geloofsoortuigings. Dit word nie uitgevee as ons saam rugbyspanne ondersteun of ’n vleisie braai, soos dit in die gesprek oor die radio genoem is nie. Daar is ’n saak wat nog dieper en meer hartseer is: Dit die verskriklike vervolging van Christen minderhede in baie Moslem lande op hierdie oomblik. Dit is gebaseer op die Moslems se internasionale haat teen die sg. “infedels”. Daar kom nooit ’n woord van protes hieroor op vanuit Moslemgeledere in Suid-Afrika of wêreldwyd nie. Die probleem is dat hierdie vyandige houding teenoor “ongelowiges” gepredik word in die Koran en Moslem gebede. Is dit nie in die lig hiervan ’n bietjie te maklik om in veilige (christelike) Suid-Afrika te praat van broederskap oor geloofsgrense nie.

Respek vir mekaar

Daaroor behoort ons nie met mekaar te verskil nie. Wat wel ’n probleem is, is die feit dat dit Jones se siening van sending sodanig beïnvloed dat hy vra dat ons kontak met Moslems nie verder as ’n “conversation” gaan nie. So kry jy ’n “herwaardering van jou eie geloofsgoedere”. Die apostels het vir ons ’n voorbeeld gestel van hoe om met bedagsaamheid en respek teenoor mense op te tree en tog teenoor alle mense te getuig van die Evangelie van God.

Slotopmerkings

  1. Ons deel ’n land saam met mense van verskillende gelowe. Ons moet met mekaar saamwerk. Die lewe bestaan nie net uit godsdiens nie. Daar is dinge soos opvoeding en onderwys, mediese dienste, prokureursordes, ingeniersmaatskappye, kuns, besighede en politiek. Ons moet met mekaar skouer skuur, by mekaar koop, mekaar help en mekaar se raad vra. Teen die agtergrond is dit ook begryplik dat RSG nie ’n Christelike radiostasie kan wees nie, maar al die mense van SA moet bedien. Ek dink ons is uiteindelik baie bevoorreg met die plek en gehalte wat Christelike programme op RSG kry.
  2. Ons moet ook vriende maak en vriendelik wees met mense van ander godsdienste. Hoe sal hulle Christus leer ken as ons, ons afsydig hou van mense van ander godsdienste?
  3. Kruis en Dwars is ’n godsdiensprogram. Dit was altyd ’n Christelike godsdiensprogram. Nou het dit blykbaar van karakter verander om mense van ander godsdienste te betrek. So ’n gesprek hoef nie van huis uit verkeerd te wees nie. Die vlak waarop Jones, as verteenwoordiger van die NG Kerk die gesprek hanteer het, was egter teleurstellend. Die fokus was nie wat elkeen kan doen om die morele verval teen te werk nie. Die fokus was vir my eerder op die broederskap wat daar tussen Moslem en Christen bestaan.
  4. Wat daar gebeur het bevestig die werklikheid van die Trojaanse Perd in die NG Kerk en die noodsaaklikheid vir die verskyning van die boek oor die onderwerp. RSG het oor die jare, hoëvlak verteenwoordigers van die NG Kerk betrek by Kruis en Dwars. Na Flip Loots het Johan Symington oorgeneem en die naam is verander van Oop Gesprek na Kruis en Dwars. Symington was ’n moderator van die Sinode Hoëveld en redakteur van die Kerkbode. Johan van Lill (nie ’n teoloog nie) het nou weer by Johan Symington oorgeneem. Chris Jones is ’n verteenwoordiger van die Teologiese Fakulteit Stellenbosch en gee klas vir finalejaars. Dit gee ’n prentjie van hoe die NG Kerk se teoloë betrek is by hierdie godsdiensprogram. Chris Jones het die geleentheid gebruik, om dieselfde soort intergeloofs gedagtes wat by die NG Kerk se Diversiteits Forum bepleit is, ook oor die radio te verkondig.

Jan Louw

Kommentaar deur ander

Manie Loubser

Ek sou myself vir seker nie as ’n kenner op hierdie terrein kon uitlaat nie, maar die kwessie van gemeenskaplikhede en verskille tussen gelowe, en spesifiek in watter lig ’n mens dit moet interpreteer, is juis ’n terrein wat my ook baie interesseer.

Ek het die boek “Mosques and Miracles” gelees, en daarin kan ’n mens sien dat Mohammed baie na aan die waarheid gekom het voordat hy in opstand teen Christene en Jode gekom het. Op sy handelsreise het hy baie met die genoemde groepe in aanraking gekom, en hy het meer van hul godsdienste geleer ken. Hy was egter ongeletterd, en kon nie alles aanteken nie, en daarom het hy uiteindelik net genoeg kennis gehad om gevaarlik te wees. So kon Islam ook deel in “vonkies” van die waarheid. Toe Jode en Christene hom nie aanvaar as profeet nie, het hy skielik sy siening dat hulle die waarheid het, verander na die siening dat hy self die volle waarheid het, want dit is wat die engel Gabriël aan hom oorgedra het. Dit is nadat die “engel” hom fisies op die grond neergewerp en sy nek vasgetrap het, vandaar die woord “Islam”, wat beteken om jouself te onderwerp. Vir my klink dit na ’n tipiese aksie van Satan en sy demone, in skrille kontras met die wyse waarop God Homself aan mense geopenbaar.

Ek gee hierdie agtergrond om daarop te wys dat baie dwalings en vreemde sektes en godsdienste begin het by die waarheid, maar dat Satan, die vader van die leuen, die ware bedoeling van God verdraai. So het baie skadelike praktyke juis vanuit die kerk self ontstaan, en ons beleef dit juis nou baie na-aan die lyf met nuwe denkwyses binne die NG Kerk.

In ons omgewing is ’n Etiopiër wat Moslems evangeliseer. Hy het grootgeword as ’n Moslem, maar het kragdadig tot bekering gekom. Volgens hom is die eerste kenmerk van die gemiddelde Moslem, dat hulle nie werklik die boodskappe in die Koran verstaan nie. Daar is genoeg verwysings in die Koran wat hom daartoe in staat stel om mense sonder die Bybel, en slegs met die hulp van die Koran, na Jesus te lei as hul Redder. Daar is selfs dele waaruit dit duidelik is dat Jesus die HERE is. Die dilemma is dat die Moslems baie dinge van die Christendom misverstaan, en dit moet net in perspektief geplaas word. Hoewel die meeste Moslems baie gasvry en vredeliewend is, is daar militante fundamentaliste wat hulle in opstand bring teen alles wat nie Islam is nie. Dit is ironies dat dieselfde Koran wat aanvanklik sê dat die Christene en Jode deel in die waarheid, daardie selfde mense later veroordeel as ketters.

Ek probeer sê dat enigiets wat nie vir Jesus erken as God en Redder nie, van Satan af kom. Maar hy is mos die engel van die lig wat met die regte woordgebruik mense verwar, en hulle stuur op ’n pad wat weg lei van God af. Ek sou graag ’n debat oor RSG wil hoor wat eerder die Christelike geloof in perspektief stel om wanpersepsies te voorkom. Dit help nie daar word gepraat oor gedeelde waardes as die doel nie uiteindelik is om mense na Jesus te lei nie. Dit moet dan nie gedoen word onder die naam van ’n godsdiens-program nie, en veral nie met geld wat geborg is deur ’n Christelike instansie nie. As die doel nie is om mense na Jesus te bring nie, moet die gesprek oor waardes liewers op ’n ander platform plaasvind.

Paul Stoltz

Vir my kan daar geen ooreenkomste, op watter vlak ookal, tussen die Christendom en Islam gevind word nie. Ons Bybelse Godsbegrip verskil in die eerste plek totaal en radikaal met dié van Islam. Ons hele identiteit as gelowiges is gebou rondom God die Vader, Seun en Heilige Gees soos Hy homself openbaar het in die Skrif. Ook ons moraliteit en alle ander waardes.

Daar is dus ’n totale ander fondasie waarop ware Christene hul lewens inrig as die van moslems.

Dat daar wel aanknopingspunte is wat ons kan gebruik om die ware Christendom aan ’n moslem te verduidelik is waar. Maar onthou dit dien bloot as “preparatio evangelica”, oftewel dit skep ’n basis waaruit ons kan beweeg om die Waarheid oor te dra.

Om sensitief te wees vir intergodsdienstige gesprekke is wel so, maar dan moet ons steeds radikaal wees in die wyse waarop die evangelie as ons standpunt voorgehou word. Hier mag en kan ons nooit kompromeer ter wille van die vrede of “samesyn” nie. Respek vir ’n ander se gosdienstige standpunt beteken nie om klaarblyklike ooreenkomste te probeer vind nie.

Natuurlik is daar ’n “skadubeeld” van God in elke godsdiens op aarde, maar ons moet onthou dat alle ander godsdienste wat ook deel uitmaak van gemeenskappe en kulture se identieite, deur die sondeval versluier is. Daarom het “eerlikheid en opregtheid” vir ’n moslem ’n totaal ander basis en vertrekpunt as die van ’n Bybels-gefundeerde een.

Ek kan myself nie versoen met die gedagte “shift from conversion to conversation” nie. Dit lei tot ’n vervlakking van die evangelie. Dit is tipies van die postmodernisme waarin elkeen reg kan wees in sy/haar standpunt en dat die mens in vrede daarop moet reageer.

Ons mag NOOIT die evangelie gelykstel of aanbied as bloot maar net nog ’n alternatief as godsdiens nie. So word Jesus se kruisdood en wederkoms maar net soos nog ’n artikel op die winkelrak geplaas. Die Woord is radikaal: As jy glo dat Jesus die Christus is dan sal jy gered word.

1 Joh 4:2,3 : “This is how you can recognize the Spirit of God: Every spirit that acknowledges that Jesus has come in the flesh is from God, but every spirit that does not acknowledge Jesus is not from God. This is the spirit of the antichrist…” Vir die moslem is Jesus maar net nog ’n profeet maar Mohammed is die groot profeet. Daar is geen versoening of ooreenkoms of “vonkies van God” hierin begrepe nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui