Agtergrond
- 8 Nov: Prof Pieter Verster skryf dat gelowiges hulle hoop op God moet vestig aangaande Suid-Afrika se situasie. Die toekoms is in God hande en Hy kan selfs ook nou al ingryp.
- 9 Nov: Swak van Piketberg skryf dat Pieter Verster vals hoop versprei deur sy fopnuus en dat Media24 aandadig daarin is omdat hulle dit plaas.
- 10 Nov: Gert Coetzee, redakteur van Volksblad, skryf dat die koerant vir alle mense is.
- 11 Nov: Daniel Louw, skryf dat Swak as ateïs in die minderheid is en dat hy sulke briewe moet verdra. Hy sê ook dat ons hoop nie daarin moet lê dat Suid-Afrika sal verbeter nie, maar dat God ons bystaan in alle omstandighede.
*******
Christenskap as taboe-onderwerp verklaar? | Netwerk24
Daniel Louw, Secunda
Volksblad, 11 November 2022
Swak van Piketberg sê in sy brief “Dié soort mening gee lesers vals hoop” (09.11) prof. Pieter Verster verkondig fopnuus in sy Woord en perspektief “Toekoms steeds in God se hande” (08.11) as hy sê Christene moet hul hoop op God vestig. Swak beweer selfs Volksblad en Media24 se geloofwaardigheid is aangetas omdat hulle dit durf plaas.
Volgens statistieke geld die volgende in Suid-Afrika: Christene 80%, ander gelowe 5%, geen geloof 15%.
Swak moet dus aanvaar dat hy as ateïs(?) ver in die minderheid is en dat hy dié soort menings in Suid-Afrika moet verdra. Hy stel sekerlik nie voor dat Volksblad en Media24 dit as ’n taboe-onderwerp verklaar nie, of hoe?
Prof. Verster daarenteen skep die persepsie dat Christene moet glo dat God wel sal ingryp en Suid-Afrika ’n beter plek maak.
Daarmee verskil ek.
As dit gebeur, is dit ’n bonus, maar Christene se geluk hang nie daarvan af nie. Christene glo God is in beheer en staan ons by, ondanks die storms waarin ons onsself begewe. Ons lewe op aarde is baie tydelik. As pelgrims hier maak ons dikwels hopeloos te veel van ons fisieke welvaart.
Gert Coetzee: Koerant dra stof vir ál sy lesers | Netwerk24
Gert Coetzee
Volksblad, 10 November 2022
Om dít in die koerant te plaas wat mense wil uithou en om dít uit te hou wat hulle geplaas wil hê. En om die verskil tussen die twee te ken.
Dít sou ek – ná bykans nege jaar in dié pos – sê is die werk van die redakteur.
My mening is dus dat ek nie ’n mening het nie. Selfs al het ek ’n mening.
G’n wonder Paul Marais, oudredakteur, het my in sy gelukwensing destyds ook sterkte “vir die warm en eensame stoel” toegesê nie. My sitvlak is wel lankal gaar, maar ek bly heel.
Ter sprake is ook die aandrang wat in ons briewekolom opduik dat verwysings na God, Christenskap en geloof taboe is en nie gedra moet word nie omdat dit die beswaardes te na kom.
Die koerant moet alle verwysings hierna met ’n fynkam uithaal, soos wat alle verwysings na rassisme en seksisme geskrap word, reken een skrywer.
Al is in ons blaaie – as ’n spieël van die werklikheid – rassisme, seksisme en verwante uitsprake ’n deurlopende tema. Ons leef in Suid-Afrika. Ook sou dié eis beteken dat Bakkies Botha se opmerking ná sy bakkie-ongeluk geskrap moes gewees het. “Dis ’n wonderwerk . . . Dis ’n ongelooflike groot gawe van Bo dat ek dit gemaak het,” het hy gesê.
Die aandrang sou vereis het dat ons daagliks streng sensuur moes begin toepas om te voldoen aan die eise van enkeles (wat aanspraak op steun van talle maak). Terwyl as ’n sekulêre nuusblad ons inhoud vir alle lesers dra. En nie in die gewoonte is om spontane uitsprake van mense op nuustonele te smoor nie.
Jy kan nie almal in ’n breë nie-homogene lesersgroep tevrede stel nie en jy kan ook nie een leser tevrede stel ten koste van ander nie. Ons meningsblaaie dra bydraes van en vir Christen-lesers en seker ook van nie-Christen-lesers en niks is verpligte leesstof nie.
Terwyl die aanspraak, ook ingevolge die Grondwet, op geloofsvryheid en verdraagsaamheid alkante toe behoort te sny. Die doel van die briewekolom is om te wys hoe mense dink, of nie.
Herhalende menings verloor fut.
Van die kantlyn lyk dit tog of die beswaardes nie dit beoefen waarop hulle aandring nie. Hulle eis verdraagsaamheid op ’n onverdraagsame wyse. Al is dit net een mens se mening, is dit dáárdie mens se mening – daarom is dit reg.
Soos die Fish Hoek High-uitspraak dat “slegs wit mense rassiste kan wees”.
Bygesê, na alkante toe – dit wat mense wil inhê en dit wat hulle wil uithou – is die beskuldiging dat die koerant (ek) ’n agenda teen hulle het. So het Ace Magashule my tydens sy premierskap toegevoeg dat ek ’n DA-agenda het – omdat ons sy gloriedade sou verswyg. Met sinspeling daarop dat ons (ek) rassisties is omdat ons hom wil laat sleg lyk.
Ook is ek al toegesnou dat ek ’n Christen is en ook dat ek nié een is nie.
As dit hulle nie pas nie, het jy ’n agenda. Dis waar, ek het ’n agenda – nuus. Dít is nuwe, vars, relevante, verskilmakende inligting wat gevolge vir ons gemeenskap en samelewing inhou. Die kortste en waarste definisie vir nuus is: Konflik is nuus.
En geloofsake is sensitief en ontketen telkens konflik. Sagkens gesproke was daar ook ontsteltenis toe ons gedurf waag het om ter wille van blad-logistiek die Bybelvers op ons hoofartikelblad na ’n sigbaarder plek boaan te skuif.
Die beginsels wat organiese nuusbesluitneming dryf, sluit in: Spieël; waghond; ander kant van die saak; maksimum inligting en minimum skade; bly uit die storie (ha!); klankbord jou oordeel en vermy kampvegterskap. Eie of ander se vooroordele geld nie.
Daar is ook die niemandsland waar mediareg en -etiek nie help nie. Waar besluite ondanks risiko geneem moet word. Dit heet redakteurskap.
Wat ’n soort onbetrokke betrokkenheid of betrokke onbetrokkenheid verg.
En soms moet ’n streep getrek word – sonder dat lesers dit weet.
* Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Dié soort mening gee aan lesers vals hoop | Netwerk24
Swak, Piketberg
Volksblad, 09 November 2022
Menings op ’n koerant se hoofartikelblad is meer as net persoonlike opinie. Dit dui op ’n redaksie se ingesteldheid (mindset). Dit dui op die soort inligting wat ’n koerant geneig is om te publiseer en op die aanbieding en verpakking daarvan.
Prof. Pieter Verster se Woord en Perspektief “Toekoms steeds in God se hande” (08.11) is ’n onafwendbare gevolg van Media24-koerante se gereelde godsdiens-aktualiteitsmenings en -rubrieke. Sy mening op Volksblad se hoofartikelblad is fopnuus. En die ergste is dat nóg die redakteur (klaarblyklik), nóg die lesers van die gevaar bewus is.
Dat Volksblad een van Media24 se stalperde is, beteken noodwendig dat Media24 se geloofwaardigheid aangetas is.
Verster kom met ’n “Moenie-wharrienie, daar is hoop op ’n beter toekoms omdat ‘God’ bepaal”-aanslag. Werklik, “God”?!
In Verster en sy lesers se raamwerk is daar ’n soort “Opperwese’” wat in beheer is en alles sal regmaak: “As Hy die toekoms in sy hande het, kan Hy ook nou al ingryp.”
Nou wil jy meer! God kán ingryp . . . maar daar is geen teken dat hy ingryp nie, dat hy ingegryp hét nie, dat hy sál ingryp nie. Amper asof daar nie ’n god is wat kan ingryp nie.
Verster skep vals hoop – baie erger as hoegenaamd geen hoop. Daar kan geen regverdiging wees vir ’n hoofstroomkoerant om sy lesers só om die bos te lei nie. ’n Enkele voorbeeld: Verster sê die Bybelboek Openbaring (circa 96AE) het hoop geskep vir die vervolgde kerk en vernietigde samelewing . . . Dit klink soos ’n Trump-kandidaat oor gister se Amerikaanse middeltermynverkiesing.
Verster beroep hom op ten minstens 1 930 jaar se vals hoop om lesers (vals) hoop te gee.
Pieter Verster: Toekoms steeds in God se hande | Netwerk24
Pieter Verster
Volksblad, 08 November 2022
Is daar wel nog enige hoop oor?
’n Mens wil jou aan die wanhoop oorgee. Radikale wanhoop. Is ons onafwendbaar op pad na ’n totale ineenstorting? Durf ons nog hoop? Saam met die Prediker wil ons uitroep: Alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs.
Daar is politieke leiers wat openlik moord verkondig met geen gevolge en geen repudiëring nie. Maak dood, sê hulle, dit is ’n revolusionêre daad.
’n Mens hoor hoe Mao Zedong gesê het: Die revolusie loop oor die grafte van die teenstanders daarvan.
’n Eenvoudige klip met ’n sitaat daarop uit ’n gedig van een van die grootste Afrikaanse digters is volgens ’n universiteit se bestuur nie inklusief genoeg nie. ’n Regsfakulteit aan nog ’n gerespekteerde universiteit laat toe dat ál gom wat nog in die samelewing oor is, naamlik die Grondwet, openlik misken word. Al hoe meer mense vra wat regtig van die Zondo-verslag gaan word. Korrupsie neem toe, nie net in staats- en staatsverwante instellings nie, maar ook in openbare en private instellings. Sommiges demoniseer die verlede en ontken dat daar enige goed daarin was.
Oorlog woed en baie mense steun ’n misdadige leier wat ’n buurland inval en burgerlikes vermoor. Die polisie het gans te min lede. Moord neem ontstellende afmetings aan.
Sommige meen dat ons maar alles moet prysgee en net vir onsself moet lewe. Waar vlug ons heen, waar berg ons ons? Sal dit ooit ophou?
Tog gryp God in. Lig skyn deur. Hoop is moontlik.
Totale ineenstorting van die samelewing met groot vervolging van die kerk het in die eerste eeu in die Romeinse Ryk voorgekom. Gedurende hierdie tyd kom die apokaliptiese literatuur voor.
Só skep die Bybelboek Openbaring hoop vir die vervolgde kerk en vernietigde samelewing. Daar is hoop op die toekoms, want God hou die toekoms in sy hande.
Let op Openbaring 21:1-8: “Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. 2 En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ’n bruid wat vir haar man versier is. 3 Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hul God. 4 Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.’ 5 Toe sê Hy wat op die troon sit: ‘Kyk, Ek maak alles nuut.’
En daarna sê Hy: ‘Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.’ 6 Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. 7 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees. 8 Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.”
God het destyds die toekoms in sy hande gehou. Daar is ook onder die huidige omstandighede hoop, want God is die lewende God. As Hy die toekoms in sy hande het, kan hy ook nou al ingryp. Daarom moet ons radikaal ons vertroue, hoop en verwagting in God stel, die drie-enige God met die Seun, Jesus Christus, wat sy kosbare lewe aan die kruis gegee het sodat ons kan leef.
- Prof. Verster is emeritus hoogleraar in sendingwetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat se fakulteit teologie en religie.
Daniel, ek stem saam met veral jou laaste paragraaf (11 Nov artikel).
Nietemin, rakende die “Suid-Afrika: Christene 80%” statestiek – jy weet so goed soos ek dis nie ’n akkurate syfer vir die persentasie Christene in SA nie en behoort nie in ’n argument gebruik te word nie.
Andreas, jy is reg: 80% van Suid-Afrikaners is nie werklik Christene nie, maar toe aan hulle gevra is, was hulle antwoord dat hulle met Christenskap assossieer. Dus glo hulle aan die God van die Bybel. My punt is dat indien die koerant iets oor Christenskap plaas, dan is dit nie ’n minderheidsopinie nie en daarom kan koerante die vrymoedigheid hê om Christelike standpunte te plaas.
Daniel, mens moet natuurlik kyk na die spesifieke studie waarvandaan die statestiek kom en kyk watter vrae gevra is, As ek dink aan studies met soortgelyke syfers, dan kan ek juis nie saamstem dat diegene wat met “Christenskap assossieer” noodwendig glo “aan die God van die Bybel” nie. Inteendeel, as mens deur sulke studies se vrae en antwworde lees dan kom dit duidelik uit dat baie mense wat assossieer met Christenskap glad nie glo in die God van die Bybel nie.
Maar ek stem saam dat koerante die vrymoedogheid kan hê om oor Christenskap te skryf.