Kyk ook: |
As ek hierdie artikel van Christina Landman reg verstaan, vra sy ook hoekom kerkeenheid van Belhar moet afhang.
***********
Christina Landman: In watter rigting lê ons vryheid?
Christina Landman, Woensdag 27 Mei 2015 03:00
“MAAR OM SO DAARAAN VAS TE KLOU OM ’N WIT (OF ’N SWART) KERKIE TE BLY . . . WATSE VRYHEID IS DIT?”
Hulle vertel die storie van die tannie wat in die oorlogstyd so baie nuus geluister het. Toe vra die mense haar vir wat luister sy so nuus, want die nuus is tog net altyd sleg.
Toe sê sy, nee, sy wil net weet in watter rigting sy moet weghardloop.
So het ek toe gesprekke met twee jong swart mans die afgelope week of wat.
Ons praat oor die Vryheidsmanifes. Dis nou die een wat in 1955 in Kliptown buite Soweto deur die Congress of the People – dis nou nie Cope nie – aanvaar is.
Dis hierdie jaar 60 jaar oud, maar dit lyk nie of Afrikaanse mense te erg daaroor is om dit te vier nie. Veral nie onse Steve nie. Nou praat ek maar met die swart manne daaroor.
Die een se naam is Vusi. Vusi wil hê dat hulle myne daar rondom Dullstroom moet oopmaak. Hy beroep hom op die Vryheidsmanifes, wat sê dat die minerale onder die grond aan al die mense van Suid-Afrika behoort.
Vusi sê hy gee nie om vir die bome en die voorvaders se heilige grond nie. Hy gee om vir werk. Vusi sê hy gee ook nie om wie die myne kom oopmaak nie. Of dit nou Amerikaners of wit mense of wie ook al is, solank hulle vir hom en sy makkers werk gee.
Vusi kan mynvoertuie bestuur. Hy is ’n werker en hy soek werk.
Dumisani is ’n teoloog. Hy is ’n akademikus en hy hou nie van die Vryheidsmanifes nie.
Die eerste sin van die Vryheidsmanifes sê dat die land aan wit en swart mense behoort. Dumisani hou niks daarvan nie. Hy meen die wit mense moet daar uit. Die land behoort aan die swart mense.
Dumisani meen die Vryheidsmanifes is sommer deur ’n klomp kommuniste opgestel. Nee, die rykdom van die land moet aan die swart mense behoort en hulle moet ryk word daarvan.
Dumisani en sy groep laat die Swart Teologie van die 1970’s herleef.
Die meeste van hierdie groep behoort nie tot die VGK (die ou NG Sendingkerk en NG Kerk in Afrika) nie. Maar die idee dat die swart VGK met die wit NG Kerk sal saamsmelt, vervul hulle met afgryse.
Eintlik voel hulle die VGK self is nie eens Afrika genoeg nie. En die NG Kerk moenie dink hulle het die hef in die hand en kan besluit of Belhar in is of nie. Hulle is lankal nie meer relevant nie.
Dis wat Dumisani en vele ander jong swart teoloë dink.
En nou wonder ’n mens. In watter rigting moet ons weghardloop? Sal dit ooit gebeur dat die kerk weer heel sal word? Sal die VGK en die NG Kerk kan saamsmelt sonder om dood te gaan daarvan? Want lidmate sit reg om die NG Kerk te verlaat en na kerke te gaan waar daar nie politiek gepraat word nie, o, die wonderlike verligting.
En lidmate van die VGK sit reg om die kerk te verlaat om na inheemse kerke te gaan waar hulle nie saam met die stywe-orrel-staan-stil-stywe-onderklere hoef te aanbid nie. En wie gaan nou die vername omies daar bo wees as die helfte van die posisies in die kerk geskrap word? En waar gaan die geld vandaan kom om wit en swart dominees dieselfde te betaal?
Ek dink ons vryheid lê daarin om mekaar se menswaardigheid te erken. Om ruimte te maak vir mekaar se name op ’n Vryheidsmanifes. En om mekaar se identiteite te vier.
Maar om so daaraan vas te klou om ’n wit (of ’n swart) kerkie te bly . . . watse vryheid is dit?
Die kerk behoort aan al die mense van Suid-Afrika. Ag oeps, amper klink dit xenofobies. Die kerk behoort aan almal.
Maar iets wat aan almal behoort, dis nie ’n maklike saak nie. Vra maar vir Vusi en Dumisani.