Christina Landman sou ‘niks’ word, toe gaan studeer sy teologie

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Christina Landman sou ‘niks’ word, toe gaan studeer sy teologie | Netwerk24

Outeur onbekend

14 Februarie 2023

Sy was veronderstel om niks te word, toe word sy Die Seder. Christina Landman skryf nou al 40 jaar rubrieke en artikels vir Beeld. Sy het met Erika de Beer gepraat.

“Wie het gesê dat dit net die manne is wat vir predikante kan studeer?” was die vraag in ’n berig in Die Perdeby van 25 Junie 1976.

Dit was oor Christina Landman, ’n finalejaarstudent vir die graad BA Admissie, en Yolanda Dreyer, wat ’n jaar later in haar voetspore gevolg het.

Dit lui: “Of sy eendag die preekstoel sal kan bestyg of nie, maak nie vir Christina saak nie – ‘as die een deur toegaan, is daar altyd ’n ander een wat oopgaan’.”

Om niks te word

Toe Christina 67 jaar gelede in die NG kerk Lyttelton Moedergemeente gedoop is, was sy die enigste meisie tussen 13 seuns.

“Al my broers het apostels se name gekry, en toe word die dogter nou die dominee.”

Op vier is sy skool toe en het sy al die Bybel gelees.

“Wat tot ongelooflike depressie by my gelei het as ’n kind en veral as ’n jong meisie, was as jy talent het, moet jy dit wegsteek.”

In gr. 2 wou haar juffrou in die klas weet: “Wie van julle wil niks word?”

“Toe steek ek my hand op.”

Juffrou Lappies vra hoekom en sy antwoord: “My ma het gesê ek moet ’n huisvrou word.”

En daar steek al die meisies hul hande op.

“Ons is ongelooflik deur hierdie volksmoeder-ideaal ge-captivate. My geluk is ek het nou nie ’n man gekry direk ná matriek nie.”

In haar voorlaaste skooljaar het haar pa eendag by haar kamer ingekom en gevra: “Hoekom word jy nie ’n dominee nie?”

“En toe weet ek dit is wat ek wil word.”

Dit was 1972. Eers 18 jaar later kon vroue NG predikante word.

“Dis goed dat ek niks kon word nie, want toe kon ek nou maar vir teologie gaan studeer.”

Landman was op 16 die eerste meisie tussen 200 mans in die Hebreeus- en Grieks-klas aan die Universiteit van Pretoria.

“Sê nou maar ek het met een van hulle getrou en ek het nou daar op Sannieshof of iewers predikantsvrou geword? Sou ek gelukkig gewees het? Ek is happy met my lewe.

“Ek sien nou maar dinge wat met my gebeur het en wat nie met my gebeur het nie uit ’n baie sterk godsdienstige oogpunt. Daar was ingryping om my sekere goeters te laat doen.”

Toe deur, oop deur

Destyds het die manstudente gedink daar is “rêrig iets fout” met haar en Dreyer, sê Landman. “Ons was weird en daar was ’n soort toeristeaantreklikheid, maar jy sou almal se laughing stock wees as jy nou met ’n tokkelina uitgaan.”

Einde 1976 behaal sy haar graad met Grieks, Hebreeus en Latyn as hoofvakke. “Ek het hulle almal met onderskeiding gekry, maar die dag toe ek inloop in die kweekskool, toe sê hulle: ‘Vroue studeer nie hier nie.’

“Toe’s ek Unisa toe.”

Daar het sy onder liberale sowel as bevrydingsteoloë gestudeer. Een van die bevrydingsteoloë was Unisa se eerste swart professor buite die departement Afrikatale, Simon Maimela.

“Ek het in ’n vreeslik konserwatiewe huis grootgeword. En skielik hierdie bevryding! Hierdie ongelooflike teologie wat jy lees, hierdie nuwe idees, nie net oor ras nie, maar oor die Bybel self, en oor teologie, en hoe jy anders oor teologie kan dink.

“Vir die eerste keer het ek swart stemme gehoor.”

Nog voordat sy haar BD-graad behaal het, is sy as dosent in kerkgeskiedenis aangestel.

Sy was toe reeds besig met ’n meestersgraad in Grieks.

Ná ’n doktorsgraad in kerkreg met ’n klem op die Middeleeue het sy ook ’n sesde graad, ’n honneurs in Latyn, behaal.

“Ek het dit net geniet om ’n dosent te wees.”

Om leeu se stert te trek

Tussen die meestersgraad en die doktorsgraad het sy vir Beeld begin rubrieke skryf.

“Dit was ’n tyd toe ons begin oorgaan het na die kerk beheer nie meer alles nie.

“Ek was vreeslik krities op die NG Kerk, wat toe die staatskerk was.”

Sy was ’n dissipel van sowel die liberale en bevrydingsteologie en is verstom dat sy toegelaat is om rubrieke daaroor en ander omstrede onderwerpe te skryf.

“Ek weet nie hoe Beeld my eintlik aangehou het in die 1980’s en ’90’s nie.”

Sy het ook die stemme van swart vroue en mans in haar rubrieke laat hoor.

“En Beeld het dit só gevat. Hulle het selde iets verander.”

Veral twee onderwerpe het geweldige reaksie uitgelok.

In 1998 het sy tong-in-die-kies geskryf oor wat sal gebeur as Afrikaanse mans toegelaat word om poligaam te wees. Dit was na aanleiding van ’n bohaai in die Wêreldraad van Kerke oor die toelating van Afrika-kerke met poligame leiers.

“Goeie Griet se genade, my foon lui nóú nog daaroor. Later het binnelandse sake my nommer vir mense gegee, want so baie van hulle het navraag gedoen.

“Dis nou 25 jaar gelede en party mense onthou my nou nog daarvoor, en dis nou nie vir my nice nie. Dit het my beeld as ’n genderaktivis nogal ’n bietjie skade laat ly.”

Die ander artikel het gegaan oor die trauma wat veroorsaak word wanneer die kerk sy liturgie verander. “Daar was honderde en honderde briewe van mense wat sê dis nie meer vir hulle kerk nie, dis nie meer die plek waar hulle God ontmoet nie, hulle is getraumatiseer.”

In 1994 was sy in die moeilikheid oor haar boek The Piety of Afrikaans Women. “Net omdat ek die Vrouemonument ’n ereksie genoem het, nè, niemand het die res van die boek gelees nie. Ek het net gesê dis nie wat die vroue wou gehad het nie. Dit was 1994, dis nou al 30 jaar gelede, en daai boek word net vir daai een stukkie gelees.”

Keerpunt

“Daar het ’n baie sterk verandering in my teologie gekom in 2000.”

Landman het ’n paar jaar tevore na Unisa se navorsingsinstituut vir teologie en religie oorgeskuif en ook betrokke geraak by die Oral History Association of Southern Africa.

Hulle het onderhoude met mense in townships begin voer om ook hul kerkgeskiedenis op te teken.

Eendag was haar onderhoud met ’n lidmaat van die Presbiteriaanse Kerk in Atteridgeville.

Die vrou het vertel sy en haar medeverpleegsters is in die apartheidstyd nie toegelaat om gewonde swart mans te behandel voordat die wit bevelvoerder van die soldate wat ingestuur is om die opstand te kom onderdruk, toestemming gee nie.

Maar eendag het sy besluit sy gaan nié wag nie en die gewondes dadelik behandel.

“Toe gaan sit sy maar op ’n emmer met haar Bybel voor haar huis en sy wag vir die Casspirs om haar te kom haal. En dis hoekom sy nou in ’n rolstoel sit en nie kinders kan hê nie.

“En terwyl sy dit sê, toe raak sy so geretraumatiseer. Toe weet ek nie wat om nou te doen nie. Ek het nie die vaardighede om dit te hanteer nie. Daai dag het ek besluit ek het beradingsvaardighede nodig.”

Landman het vir ’n tweede doktorsgraad ingeskryf, dié keer in pastorale berading. “En toe het my hele teologie verander. Ek het gesien hierdie liberale teologie help nie vir hierdie verskopte en verstote mense nie.”

Sy het sewe jaar lank een dag per week in die Kalafong-hospitaal in Atteridgeville deurgebring. Al die pasiënte met wie geen liggaamlike fout gevind kon word nie, is na haar gestuur. Sy het meer as ’n duisend pasiënte gesien.

Later het sy ook geloofsgenesingspraktyke in 102 kerke waargeneem.

“Daai hele encounter het my hele teologie verander na een van healing toe. Dit het net gelei tot respek vir mense se bygelowe, vir wat hulle glo, watter soort geloof maak mense siek en watter soort maak hulle gesond.

“Ek het baie daaroor in Beeld geskrywe, en ook dít het hulle gepubliseer.”

Dominee Siphokazi

“In 2006 het ek gedog ek is nóú eers gereed om ’n dominee te wees.”

Dit sou nie in die NG Kerk wees nie. “Ek en die NG Kerk het toe nou glad nie met mekaar klaargekom nie oor hierdie rassekwessie en ek sou myself in elk geval nie aanmeld om ooit daar gelegitimeer te word nie.”

Eendag het ’n professor van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Suider-Afrika by haar kantoor ingestap en gevra: “Maar hoekom stel jy jouself nie beroepbaar in die VGK nie?”

Dieselfde aand het sy voor die kuratorium verskyn, sy is aanvaar en op 18 November 2006 gelegitimeer. Sy was 50 jaar oud.

Begin 2008 is sy beroep as tentmakerpredikant van ’n arm Zoeloegemeente in ’n township buite Dullstroom in Mpumalanga.

“Die Zoeloes het gesê dis oukei, hulle like ’n vrouedominee, maar as jy Nagmaal bedien, moet jy ’n hoed dra. Dan het ek nou saam met die vroue gestap en hulle het my geklee, daai wit klap met die hoed en die speld, hulle het my geklee as ’n moeder, en dan moet ek dit nou bo-oor die toga dra, want ons moet ’n toga dra wanneer ons preek.”

Terwyl sy steeds in die week by Unisa in Pretoria gewerk het, het sy tien jaar lank naweke Dullstroom toe gery.

Die gemeente se naam vir haar was Siphokazi (geskenk).

 

 

Juffrou Prof

Sedert 2018 ry sy naweke Rustenburg toe. Haar Karlienpark-gemeente bestaan uit bruin mense wat meestal uit die Noord-Kaap kom.

“En dis nou my hart se punt. Ek is ontsettend lief vir hulle.”

Die gemeente het die kerk en die pastorie met hul eie hande gebou.

“Die eerste keer in my lewe bly ek nou in ’n pastorie, reg oorkant ’n sjebien. Langsaan is ’n Ethiopies-Ortodokse kerk wat so op die tromme slaan en agter is ’n moskee met die luidsprekers. So dis ’n interessante plek om te bly.”

Sy “lyk wit”, sê Landman, maar sy is ’n afstammeling van Catharina van die Kaap, tweede vrou van die eerste Willem Landman wat in die land aangekom het.

Vir een van haar Karlienpark-lidmate het sy vertel: “Antie, ek is eintlik ook ’n coloured, jy weet. Jy kom nie dalk ook van Catharina van die Kaap af nie?”

Die antie het geantwoord: “Nee, ek kom van Johannesburg af.”

“Almal noem my Prof, gewoon omdat niemand weet wat om ’n vrouedominee te noem nie!” Sy lag. “Ons kerk was die Sendingkerk, waar die dominee se vrou die juffrou is.

“Ek is nou nie die juffrou nie, nou noem hulle my Prof. Die kinders dink my naam is Prof. So hulle noem my tannie Prof, juffrou Prof.”

Met die eerste kerkbasaar ná haar aankoms wou die vroue weet wat haar bydrae gaan wees. “Ek sê ek is nou nie die dominee se vrou nie, maar ek sal miskien koeldranke koop.

“Nee, nee, nee, ek moet dit, ’n hoender en ’n dat. Ek sê: ‘Weet julle, ek kan nie kook nie.’ Maar die skok op daai vroue se gesigte! As ’n vrou nie kan kook nie, dis te erg! En kyk, dáái vroue kan kook.”

Die Seder

Dis vir haar wonderlik om ’n dominee te wees, sê Landman. “Ek weet nie of ek ’n goeie een is nie. Ek is mos nie ’n vergaderingagtige, notulehouende persoon nie.”

Sy het ook nooit probeer om in die “hoë gestoeltes” te sit nie.

Tog is sy as aktuarius van die noordelike sinode verkies en herkies en was sy tot verlede jaar aktuarius van die algemene sinode. In dié hoedanigheid moes sy gemeentes besoek om hul kerkordelike probleme op te los.

“Verlede jaar het die kerk nege sake in die hooggeregshof gewen.” As aktuarius moes sy dit hanteer.

Een keer het ’n klomp mans probeer om haar fisiek van die preekstoel in Mogwase te verwyder. “Ek het net bly staan.”

Swart mense in die kerk het haar as aktuarius die bynaam Die Seder gegee, “want ’n seder bly mos staan, al waai die wind hóé”.

Om te bly staan het ’n lewenswyse geword. “Hoewel ek moet sê, ek raak al hoe minder lus vir rusies.”

Haar outobiografie verskyn in Junie. “Ek het ’n heilsgeskiedenis geskryf en nie ’n onheilsgeskiedenis nie. Almal wat my lewe verpes het, gaan nie ’n stem daarin hê nie.”

De Beer is ’n redaksielid van Netwerk24.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui