Kyk ook:
*******
Christina Landman: Wat sê die kerke nou oor poligamie? | Netwerk24
Christina Landman
30 Augustus 2023
Nou die dag keer die verkeersman my voor. “Jy het oor die stopstraat gery,” sê hy vir my. “Askies,” sê ek met groot verskoning, “maar ek het nie die stopteken gesien nie.” “Die stoptekens word gesteel vir staal,” sê die verkeersman, “maar jy moet nogtans stop.”
’n Paar uur later moet ek weer daar ry. Die verkeersman is al weg, maar ek stop nietemin dood by die stopstraat. Met skreeuende remme jaag ’n kar agter in myne vas. ’n Woedende man spring uit en skree vir my in ’n mengsel van plaaslike Afrikaans en Engels: “Is jy mal, jou dit-en-datse dinges, dat jy in die middel van die pad gaan stop!” “Dit is ’n stopstraat,” sê ek fyntjies. “Het jy miskien ’n dit-en-datse stopteken hier rond gesien?” spoeg die man.
So sit ek en wonder hoe ’n mens stopstrate deesdae kan herken terwyl ek deur die nuwe wetsontwerp op huwelike lees. Jy kan dit lees in die Staatskoerant van 7 Julie 2023 (no, 48914). Kommentaar daarop kan tot môre, 31 Augustus 2023, skriftelik ingedien word.
Tans kan jy monogaam, poligaam of gay trou. Maar in die wetsontwerp is almal een en vir almal toelaatbaar. Ek bel ’n paar van my regsvriende om te hoor of ek reg lees. Ja, sê hulle, daar is nou nie meer stopstrate nie. As jy ’n man is – van watter kleur of kultuur ook al – kan jy met ’n vrou, ’n ander man of ’n aantal vroue trou. As jy ’n vrou is, kan jy met ’n man of ’n vrou trou, maar nie met baie van hulle nie. Maar dis nou nie die punt hier nie.
Die punt is, poligamie, so lyk dit vir my, is nou vir alle kulture toelaatbaar. As hierdie nou wet word. Daar is ernstige voorwaardes by, soos dat die man se vrou(ens) toestemming sal moet gee. En ’n hof sal moet help bepaal wie wat kry.
So dink ek nou terug aan 14 Januarie 1999, amper 25 jaar gelede. Toe skryf ek mos in hierdie selfde rubriek oor poligamie. Die opskrif was nogal “Poligamie, ditsem!” Ek wonder toe daarin hoe poligamie vir Afrikaanse mense sou werk. Daar was hewige reaksie daarop, so asof almal daaroor wou dink. Ek dink ek het aan meer as 30 radio- en televisieprogramme daaroor deelgeneem. En dit hang vandag nog om my nek.
Baie mense, veral rubriekskrywers, het grappies gemaak oor die idee van die wit man met die baie vroue. Juis omdat dit so ondenkbaar was. Maar hier staan dit nou. Dit kan wet word. Die stopstrate val.
En wat sal ek nou daarvan sê, so verbaas soos ek is? Ek het intussen ’n dominee geword, en my kerk, die Verenigende Gereformeerde Kerk, se posisie is teen poligamie. Daar is wel ’n streeksinode of twee wat ’n stipulasie uit die Kerkorde wil haal. Dis die een wat sê dat monogamie vir alle lede verpligtend is. Maar op die oomblik bly monogamie die kerk se standpunt.
[Kommentaar: Hierdie stelling lyk teenstrydig te wees met hierdie artikel: Poligamie en gay huwelike welkom: Kerk maak U-draai (30 Okt 2018)]
Ek het nou nog nie gelees wat ander kerke se standpunte oor dié deel van die wetsontwerp op huwelike is nie. Ek weet nie eens of hulle daarop gereageer het nie. Ek weet die NG Kerk sal die staat versoek om meer helderheid te gee hierop – want anders kom hier ’n groot ongeluk.
Ek sluit dus hierdie rubriek af sonder ’n standpunt. Dit was maklik om grappies oor poligamie te maak toe dit ondenkbaar vir wit en bruin en kerkgangers was. Maar nou kan dit gebeur.
Is die kerke reg daarvoor?
• Landman is ’n professor in teologie verbonde aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.