Christus – die Middelpunt van die Skrif

C.S.V.-Reek: A. No. 41

Prys 2d. elkposvry, of 1/6 per dosyn, posvry.

CHRISTUS – die Middelpunt van die Skrif

deur

Dr. A. J. van der Merwe

Uitgegee deur

Die Christen-Studentevereniging van Suid-Afrika Stellenbosch

1943

Verkrygbaar by

DIE C.S.V.-BOEKHANDEL

Posbus 25, Stellenbosch
Hoogstraat, Oudtshoorn
Posbus 8489, Johannesburg

********

Christus die Middelpunt

Onse Here Jesus het by geleentheid van ’n woordewisseling wat daar tussen Hom en die Jode ontstaan het na aanleiding van die feit dat Hy ’n man op die sabbatdag by die Bad van Betesda genees het, aan Sy teenstanders gesê: “Julle ondersoek die Skrifte omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat yan My getuig.” Hiermee openbaar Hy die ongerymdheid van Sy opponente se houding wat hierin bestaan het, dat, hoewel hulle ywerige navorsers van die Ou Testament was, veral met die oog op die koms van die langverwagte Messias, dit hulle nie geluk het om Hom te ontdek na wie hierdie geskrifte heengewys het nie, toe Hy onder hulle gestaan het. Instede van in Sy Persoon en optrede die vervulling te sien van die verwagting wat hulle heilige Skrifte by hulle gewek het, het hulle deur vooroordeel verblind en eiegeregtigheid verhard Sy verset teen hulle seremoniële nou gesetheid waardeur ware gemoedsvroomheid verduister geraak het, vertolk as ’n ontbinding van die Wet en die Profete.

Wat Jesus dus in selfverdediging hier wou laat uitkom, is dat Hy die vervulling is van die verwagting wat die Ou Testament met betrekking tot die toekoms gewek het. Die hele Ou Testament in sy geskiedkundige en profetiese gedeeltes sowel as in sy seremoniële voorskrifte was vir Hom – soos Hy op meer as een plek duidelik laat blyk het – in die laaste instansie, watter onmiddellike betekenis dit ook al mag gehad het, ’n vingerwysing na Sy Persoon. Niemand kon dus met ’n helder begrip en in absolute gehoorsaamheid die weg van die Ou Verbond bewandel nie, sonder om van verskillende kante af as vanself uit te kom by Hom, die vleesgeworde Woord van God, met die oog op wie God begin het om Homself in Sy reddende liefde aan die gevalle mens te openbaar.

Ook Paulus bevestig hierdie waarheid op meer as een plek, maar nergens so duidelik nie as daar waar ook hy homself moet verdedig teen dieselfde beskuldiging van liberalisme. Telkens laat hy dit weer uitkom dat die dinge wat sy teenstanders as vrysinnighede beskou in werklikheid niks anders is nie as die konsekwente uitvloeisels van dieselfde skriftuurlike waarhede waarvoor hulle so sterk voorgee om te ywer. As hulle dus sy Christelike opvattings van die hand wys, dan kan dit alleen wees omdat hulle nie die eerlikheid van gemoed of helderheid van begrip het om die volle konsekwensies van hulle eie geloof te aanvaar nie. Wie inderdaad ’n goeie Jood is, moet volgens Paulus, as vanself ’n goeie Christen word. En daarom as hy daarvan beskuldig word dat hy sterk Christelike oortuigings het, dan bewys dit maar net iets waaroor elke opregte Jood hom vuriglik moes verbly het, en dit is, dat hy, Paulus, ’n gelowige Jood is, wat die Heilige Skrifte van sy volk na hul diepere strekking verstaan en aanvaar.

Volgens die getuienis van Christus sowel as Paulus is dit dus die heerlike van die Goddelike openbaring dat God in Sy soekende liefde langs die weg van die Ou Verbond al nader gekom het aan die mens, wat deur die sonde van sy Skepper en daardeur ook van sy ware wese vervreemd geraak het, totdat God in die gestalte van ’n mens onder ons gestaan het in die Persoon van Hom wat van Homself kon sê wat geen Openbaringsorgaan van God tot nog toe van homself kon getuig het nie: “Ek en die Vader is één. Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” Diep oortuig van die opdrag wat hulle van God ontvang het, kon die profete van ouds as die mondstukke van God met onverskrokke moed die weg aantoon aan ’n krom en verdraaide geslag; aan die Christus egter was dit gegee, nie alleen om die weg aan te wys nie, maar om te sê: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

Die Persoon van Christus is dit dus wat die grondtema uitmaak van die Ou Testament as geheel gesien, en wat tegelykertyd ook die band is waardeur die twee groot onderdele van Gods Woord tot ’n organiese geheel saamgesnoer word. Sonder Christus sou ons nie alleen berowe gewees het van die Nuwe Testament met sy hele leerstellige en geskiedkundige inhoud nie, maar dit sou die hele Ou Testament vir ons waardeloos gemaak het as ’n boodskap wat ’n onvervulde verwagting by ons in die lewe geroep het. Alleen in die Persoon van die Christus vind die Ou Testament sy vervulling en dus ook die ware doel van sy bestaan. Hy is die middelpunt van die Skrif in die sin dat Hy in die Ou Testament oral gevind kan word as die Messias wat belowe is, terwyl Hy in die Nuwe Testament oral op die voorgrond tree as die Messias wat gekom het.

As sodanig is Hy en Hy alleen dan ook die maatstaf van wat as die Woord van God moet beskou word. Dit is wat Luther bedoel het, toe hy gesê het: “Wat Christus nie tot inhoud het nie, dit is nie apostolies nie, al het Petrus en Paulus dit ook geleer. Omgekeer, is om Christus te verkondig apostolies, al het Judas, Annas, Pilatus of Herodes dit ook gedoen.”

Dit is natuurlik waar dat Jesus Christus nie in alle dele van die Ou Testament ewe duidelik aan die lig kom nie. Hoe getrou aan die werklikheid word Hy aan ons voorgestel deur die grootste van alle Messiaanse Profete, Jesaja! Luister na die aankondiging wat deur die Profeet geskied aan die volk wat in duisternis sit: “’n. Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee, en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.” Is dit nie woorde wat net so goed sou gepas het in die mond van die Engel wat die geboorte van die Christus aan die herders van Betlehem bekend gemaak het nie? Ons sien Hom deur dieselfde Profeet geteken as die “Kneg van die Here,” wat “die geknakte riet nie sal verbreek en die dowwe lamppit nie sal uitblus nie,” en ons erken Hom al dadelik in die Persoon wat van Homself deur woord en lewenshouding getuig het, dat Hy gekom het om te soek en te red wat verlore is. Ons lees Jes. 53, en ons vind daarin so ’n aangrypende tekening van die Man van Smarte soos ons in die Evangelies met Hom kennis maak dat dit moeilik is om te glo dat ons hier met profesie en nie met geskiedenis te doen het nie. Dink aan Jes. 55 met sy vriendelike uitnodiging: “O almai wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!” Gaan hierdie woorde nie so swanger aan die gees wat die prediking van Jesus geadem het, dat dit bes moontlik ’n hoofstuk uit sy eie onderrig kon gewees het nie? Deur Jeremia word Hy aangekondig as die regverdige Spruit van Dawid, wat genoem sal word: “Die Here ons Geregtigheid.” Ons vind by die Profeet Miga die heerlike toesegging van Sy geboorte aan Betlehem Efrata. Ons hoor die oproep van Sagaría aan die dogter van Jerusalem: “Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ’n jong esel, die vul van ’n eselin”; en ons sien Hom waar Hy Sy intog in Jerusalem maak.

Hoe duidelik word Hy op hierdie en ander plekke in die Ou Testament aan ons voorgestel! En tog is Hy oral die grondtema, wat soos ’n goue draad deur die hele Ou Testament heen loop, ook daar waar niks te vind is wat as ’n regstreekse en bewuste sinspeling op Sy Persoon kan beskou word nie. Ons moet dan ook versigtig wees om die Persoon van die Christus nie met alle geweld te wil vind in allerlei klein tipiese besonderhede van die Ou Testament erediens of geskiedenis nie. Ons loop gevaar om op hierdie wyse in allerlei spitsvondighede te verval en ons Bybelverklaring word geforseerd. Ons moenie uitgaan van die veronderstelling dat Christus noodwendig in elke afsonderlike Skrifgedeelte gesien moet word nie. Dit is eers wanneer ons elke Skrifgedeelte in verband sien met die groot geheel en Christus as die uiteindelike doel van daardie groot geheel, dit is eers dan dat ons Christus op die juiste wyse en langs die regte weg in die Ou Testament ontdek het.

Hy is die kernboodskap, die natuurlike einddoel van die Ou Testament as geheel meer as van elke afsonderlike onderdeel daarvan. Ons ontdek Hom duideliker by ’n terugblik as wat diegene Hom gesien het oor wie die lig van die Nuwe Testament nog nie opgegaan het nie. Pas in hierdie lig leer ons Hom goed ken met wie meer as een onder die Ou Verbond soos die Emmausgangers met brandende harte op die weg van Gods Openbaring gewandel het, sonder om ten volle te besef wie Hy is. Dit is die verligte gloeilampie wat die aanwesigheid van die elektriese stroom in die draad verraai. Net so leer ons pas in die Persoon van die Christus self om die Messiaanse strekking vaa die Ou Testament as geheel te ontdek. Sonder om enigsins ’n meganiese inspirasieleer te wil voorstaan, meen ons tog grond te hê vir die bewering dat selfs die Ou Testamentiese skrywers, by wie ons sulke duidelike sinspelings op die Christus as die reeds aangehaalde vind, die volle strekking van hulle gesegdes en voorspellinge nie altyd met volkome helderheid ingesien het nie. Ons sien tog immers dat selfs Petrus, wat met Jesus persoonlik omgegaan en onderrig uit Sy mond ontvang het, die eerste Christelike belydenis in Cesarea Filippi afgelê het sonder dat hy ’n grondige insig in die volle betekenis daarvan gehad het. Op die vraag van Jesus: wie of Sy dissipels dink dat Hy is, antwoord Petrus sonder die minste huiwering: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Hoe min hy egter van die ware strekking van hierdie belydenis verstaan het, blyk hieruit dat hy homself die reg aangematig het om sy Meester ’n bestraffing toe te dien toe Jesus hierdie belydenis opgevolg het met ’n aankondiging van die lydensweg wat Hy as “die Christus die Seun van die lewende God” in vervulling van Sy Goddelike opdrag moes bewandel.

Sonder om dus in sekere gedeeltes van die Ou Testament meer te wil lees as wat die gewyde skrywers bewus of selfs onbewus daarin gelê het, so kan ons tog sê dat die Ou Testament in Sy geskiedkundige, seremoniële en profetiese onderdele in die laaste instansie net op één bestemming gerig is, en dit is die hoogste openbaring van God in die Persoon van die Woord wat vlees geword het.

Watter betekenis sou die geskiedenis van Israel vir ons gehad het, wanneer ons dit nie sien as ’n middel waarvan God Homself bedien het om die koms voor te berei van Hom wat bestemd was om die Heiland van die wêreld te word nie? Is dit nie die enigste rede waarom God Homself as die “God van Abraham, Isak en Jakob” geopenbaar het nie? Was God nie bereid om tydelik Jehova, die Verbonds-God van Israel te wees, sodat Hy vir ewig in Christus Jesus die Heiland van die hele wêreld kon word nie? Was dit nie die enigste grond waarop Israel met enige reg van homself as die volk van God kon spreek nie? Moet die geestelike hoog- moed en Farisese eie-geregtigheid wat Jesus aan die Kruis gebring het en tegelykertyd die ondergang van die Jodendom ag ’n nasionale en kulturele eenheid geword het, nie hieraan toegeskrywe word nie, dat die Jood die instrumentele betekenis van Sy uitverkiesing uit die oog verloor het, en toe in sy eie nasionale bestaan ’n einddoel gesien het instede van ’n middel, waarvan God Homself wou bedien om in Sy soekende liefde Sy grootste weldaad aan die wêreld te bewys. Sien die geskiedenis van Israel, soos verhaal in die Ou Testament, sonder Christus, en ons sou nie weet hoedat ons Gods houding teenoor hierdie volk teen die beskuldiging van willekeur kan verdedig nie. Laat ons met die geslagsregister wat by “Abrabam, die vader van Isak” begin, ophou voordat ons gekom het by “Jesus wat genoem word Christus,” en ons sou ’n antwoord moet skuldig bly op die vraag waarom hierdie geslagsregister nou juis as gewyde geskiedenis moet beskou word? Sien aan die anderkant hierdie geslagslyn uitloop op die krip van Betlehem en ons kan met Bengel in sy kommentaar op die eerste vers van Matt. sê: “Hoe salig sou vir die ou vaders die lees gewees het van hierdie geslagslys, wat deur ons so min gereken word, want hierdie woorde: ‘Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham,’ bevat ’n samevatting van die hele Ou Testament.”

In sy profetiese karakter, en hierin alleen vind die geskiedenis van Israel dus reg om aanspraak te maak op die naam van “gewyde geskiedenis.” En was dit nie met die oog juis op hierdie profetiese strekking nie dat die Hebreër die historiese boeke van die Ou Testament van Josua tot Konings toe onder die rubriek “Profete” geklassifiseer het nie? Ook onse Here Jesus self het uitgegaan van die veronderstelling dat die Ou Testament die weg berei vir wat Hy gekom het om te doen en te leer, daarom het Hy aan Nikodemus met betrekking tot Sy eis van wedergeboorte gesê: “Jy is ’n leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?” In hierdie geloof kon Hy ook die wapen van Sy teenstanders op hulself rig met die woorde: “As julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe.” Met hierdie sekerheid dat die groot heilsfeite wat aan die Naam van Jesus verbonde is, voortgekom het uit die bodem van die Ou Testament, hoor ons Paulus homself voor Agrippa verdedig met die verklaring: “Ek spreek niks buiten wat die profete en ook Moses gesê het, gaan gebeur nie: dat die Christus moes ly en die eerste wees uit die opstanding van die dode…”

Geen sterker bewys kan egter aangevoer word dat Jesus die geskiedenis van Israel as ’n skaduweebeeld van Sy Persoon en werk gesien het nie, as die feit dat Hy die fees tot gedagtenis aan Sy Persoon en werk verbind het aan die Paasfees. Hiermee wou Hy te kenne gee dat die verlossing van die Egiptiese juk waaraan hierdie fees die Jode herinner het, maar net die vingerwysing was na die verlossing van die sondeskuld en heerskappy wat Hy self vir die hele wêreld sou bewerk.

Die hele wese van die Jodendom dus, wat betref sy geskiedenis, profesie, sedewette en ritueel, moet gesien word as iets wat opgeneem is in Gods plan om die gevalle mens in Sy gemeenskap te herstel. Ons verstaan die Ou Testament derhalwe alleen na sy volle ryke betekenis wanneer ons Jesus Christus daarin sien. En ons sien Jesus Christus alleen in Sy ware betekenis, wanneer ons Hom in Ou-Testamentiese sin verstaan, as die offer waarop alle offers gesien het.

Dit egter – doos reeds gesê – sal alleen gebeur, wanneer ook in ons geval soos in dié van die Emmausgangers die opgewekte Heiland self deur die verligting van Sy Gees “van Moses af tot by die profete toe vir ons uitlê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.”

Met die oog op wat ons tot hiertoe bereik het, volg dit as vanself dat Jesus Christus dan ook die middelpunt van die Nuwe Testament sal wees. Immers – soos reeds gesê – verbind juis dit die twee groot onderdele van die Skrif tot ’n organiese geheel, dat wat in die eerste skaduweebeeld gewees het in die tweede konkrete werklikheid geword het, waarvan Johannes in sy eerste Sendbrief kon getuig het: “Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe.”

Van Matthéüs tot Openbaring toe is Jesus Christus die sentrale figuur. Met die oog op Sy bediening is dit dat Johannes die Doper afgesonder word om as wegbereider die volk wat verhard is in sy eiegeregtigheid tot inkeer te roep. Sy geboorte, Sy lewe, Sy werk en Sy lotgevalle maak die kerninhoud van die hele Nuwe Testament uit. Vóór alle andere dinge is dit die Evangelies te doen om aan ons die feite van Sy lewe te verhaal. Die Evangelie is nie in die eerste instansie ’n etiese of selfs teologiese stelsel nie, maar ’n geskiedenis wat hom afspeel rondom die Persoon van die Christus.

Dit is nie sonder rede dat ons hierop nadruk wil lê nie, omdat daar diegene is wat ’n soort etiese Christendom wil voorstaan wat van die historiese Persoon van Christus losgemaak is en met Christus net as ideaal rekening hou. Wat hierdie persone ook al tot hul verdediging mag aanvoer, hulle kan seer seker nie die Evangelie tot regverdiging van hul standpunt inroep nie. Die eerste doel van die Evangelie is immers om ons Jesus, met al die groot gebeurtenisse wat aan Sy Naam verbonde is, te laat sien soos Johannes Hom inderdaad gesien het: as historiese werklikheid.

Natuurlik sal daar uit hierdie werklikheid sekere algemene beginsels en waarhede voortvloei. Was Jesus as die vleesgeworde Woord dan nie ook die Boodskap en die Onderrig van God aan die wêreld nie? Dit lê dus voor die hand dat wat nou ons van Jesus vertel word, sou aanleiding gegee het tot teologiese en etiese sowel as maatskaplike en ekonomiese stelsels, maar alleen nadat ons eers die feit van die vleeswording aangeneem het. Eers wanneer ons die blye aankondiging gehoor het: “Kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Verlosser wat Christus, die Here, is”; eers wanneer ons van Sy sterwende lippe die woorde verneem het: “Vader, in U hande beveel Ek my Gees”; wanneer ons Hom as die oorwinnaar oor graf en dood hoor uitroep het: “Ek lewe en julle sal lewe”; eers wanneer ons getuie gewees het van die wolk wat Hom weggeneem het van die aarde, eers dan het ons grond vir die stelsels wat ons formuleer. Dit is die feit van Sy lewe wat op die voorgrond gestel moet word. En onder hierdie feite is dit weer Sy kruisdood waaraan ’n sentrale plek toegeken word.

Dit is reeds meer dan eens van die kant van die ongeloof beweer dat die betekenis van ’n soenoffer wat aan die kruisdood van Christus geheg word, niks meer is nie as ’n poging van die latere Christendom om op voetspoor veral van Paulus ’n positiewe betekenis te gee aan wat inderdaad ’n hopelose mislukking gewees het. Om aansprake van Jesus op Goddelike afkoms te red, is toe aan Sy dood die betekenis van ’n doelbewuste offer in belang van ’n verlore wêreld gegee, terwyl Jesus self nooit aan Homself in hierdie sin gedink het nie.

Hierdie mening word voorgestaan deur diegene wat die Evangelie wil suiwer van wat gewoonlik genoem word ’n “bloedteologie,” om Jesus dan alleen as ’n groot mens en ’n groot sedeprediker te erken.

Hierdie mening bewys egter niks so duidelik as die blindheid van vooroordeel nie, al is dit dan ook ’n vooroordeel wat hom in sy wetenskaplikheid beroem. Met ’n beroep op die gegewens wat die Evangelie ons aanbied, is hierdie mening onverdedigbaar vir die eenvoudige rede dat dit onwaar is.

Om mee te begin moet dit ons opval dat die kruisdood van Christus die enigste is onder die gebeurtenisse wat in verband met Sy Persoon staan, wat tot in die kleinste besonderhede toe verhaal word deur al die Evangelies. Dit kan nouliks blote toeval genoem word, wanneer ons daarop ag gee dat nóg Sy geboorte nóg Sy Hemelvaart deur al die Evangelies vermeld word. Van Sy hele jeug weet ons niks behalwe één insident wat aan ons deur die Evangelie van Lukas meegedeel word nie. Die een Evangelie vertel ons van dade wat Hy verrig of woorde wat Hy uitgespreek het, terwyl die ander dit verswyg. Net één gebeurtenis word deur al die Evangelies noukeurig verhaal, en dit is Sy kruisdood.

Die rede hiervoor is nie moeilik om te vind nie. Dit moet eenvoudig hieraan toegeskrywe word dat – in weerwil van wat die ongelowige kritiek ons wil wysmaak – Jesus self van die begin van Sy bediening op Sy kruisdood gesien het nie as ’n ongeluk wat Hom sou tref nie, maar as die doel waarvoor Hy in die wêreld gekom het. Aan Sy nagtelike besoeker Nikodemus sê Hy: “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die Mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie maar die ewige lewe kan hê.” Hy volg die eerste belydenis van Hom as die Christus onmiddellik op met ’n aankondiging van Sy lyde, dood en opstanding. Aan die menigte wat Hom opsoek in die verwagting dat Hy weer die brode sal vermenigvuldig, sê Hy: “As julle nie die vlees van die Seun van die Mens eet en Sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.” En om te voorkom dat ons Sy kruisdood sou vergeet, stel Hy eindelik ’n fees in tot Sy gedagtenis met tekens wat nie die minste twyfel laat nie oor die feit dat Hy aan Homself gedink het soos Johannes die Doper Hom aan die menigte voorgestel het; as die Lam van God wat, gekom het om die sonde van die wêreld weg te neem.”

Is dit ’n wonder dat die Christus die hooftema, die middelpunt uitmaak van alle Apostoliese geskrifte in die Nuwe Testament, en dat die siener op Patmos die Lam wat geslag is, sien as die middelpunt van aanbidding selfs in die hemel!

Wanneer Paulus die Kruis van Christus, wat vir hom as Fariseër aanvanklik so ’n ergenis gewees het, verklaar tot die enigste onderwerp van sy prediking, dan is dit eenvoudig omdat hy sowel deur verstandelike insig as deur geestelike ervaring gelei is om sy vooroordele te oorwin en aan die Kruis die sentrale plek in sy boodskap te gee. “Ek het my voorgeneem om niks onder julle te weet nie, behalwe Jesus Christus en Hom as die Gekruisigde.” So skrywe hy aan die Grieke in Korinthe. En hy skrywe dit nie omdat hy onbevoeg was om oor ander dinge te spreek wat sy Griekse toehoorders interessant sou gevind het nie. Hy sou met hulle onderhoudend kon gespreek het oor Rabbynse literatuur, Griekse poësie, die wysgerige stelsels van hul eie filosowe. Hy sou ook die persoon van Jesus van verskillende ander kante aan hulle kon voorgestel het: as ’n man van diep geestelike insig, as ’n buitengewone mensekenner, as ’n ruimhartige filantroop, as ’n boeiende redenaar, as ’n groot wonderwerker, as n moedige getuie vir die waarheid as ’n man van weergalose opregtheid en vroomheid, as iemand van wye perspektief, selfs sonder die Kruis sou hy in die persoon van Jesus genoeg kon gevind het waarna die Grieke met waardering en belangstelling sou geluister het. Maar Paulus verkies om al die ander dinge weg te laat en hom net tot één ding te beperk en dit juis die één ding wat vir die Grieke ’n dwaasheid gewees het: die Kruis van Christus. Waarom? Omdat Paulus die krag van die Kruis as ’n middel tot saligheid deur eie lewenservaring leer ken het. En toe het hy in sy geestelike ontwikkeling ’n punt bereik waar die gekruisigde Christus so in die middelpunt van sy eie lewe te staan gekom het, dat hy van homself gesê het: “Ek lewe nie meer nie maar Christus lewe in my.” Hierdie woorde in sy mond was geen vae, onwesenlike mistiek nie maar nugtere deurleefde werklikheid, wat hy nie as sy besondere voorreg gesien het nie, maar as iets wat normale Christelike lewe behoort te wees: Christus, die gekruisigde, opgewekte Heiland, die lewenssentrum, die hartaar van elke belyer van Sy Naam.

En alweer het Paulus met hierdie voorstelling van die saak nie die grense oorskry wat Jesus in Sy eie prediking gestel het nie. Hy bevestig hier maar net die waarheid van wat Jesus van Homself getuig het aan die deputasie van Grieke wat Filippus ’n paar dae vor Sy kruisiging aan Hom voorgestel het. By hierdie geleentheid was dit immers dat Jesus gesê het: “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” Die gekruisigde Christus, die Universele Magneet.

Die geskiedenis het die waarheid van hierdie woorde nog altyd bevestig: die Evangelie sonder die Kruis, het sy naam verbeur, vir die eenvoudige rede dat dit ’n Evangelie is sonder troos. ’n Kerk sonder die Kruisevangelie, het geen rede meer vir bestaan nie, vir die eenvoudige rede dat dit ’n kerk is sonder ’n boodskap. Net één ding is daar wat die Kerk onderskei van ander organisasies op maatskaplike gebied, en dit is die Kruisevangelie wat aan hom toevertrou is. Laat die vaar en ons sou nie kan sien waarom die Kerk as ’n oorbodigheid deur ander bestaande organisasies vervang kan word nie.

Suiwer die Evangelie van die Kruis van Christus en verkondig alleen die etiese voorskrifte van die Bergrede, en ons bereik met die verkondiging daarvan—waar dit ten minste in alle erns geskied—hoogstens dit, dat duisende mense by die aanhoor van sedelike voorskrifte wat vér bo hulle eie vermoë uitgaan in wanhoop of koue onverskilligheid die vraag van die dissipels herhaal: “Wie kan dan salig word?” Die antwoord van Jesus is nog steeds die enigste wat op hierdie vraag gegee kan word: “By mense is dit onmoontlik maar by God, is alle dinge moontlik.” En Gods manier van dit te doen is ook nog maar altyd dieselfde: “Jesus Christus en Hom die gekruisigde.”

Hy wat die middelpunt van die Skrif is, moet die middelpunt word van elke indiwiduele Christen se lewe; so alleen kan Hy word, wat Hy gekom het om te wees: die Heiland van die wêreld. Hy kan universeel erken word alleen in sover as Hy persoonlik aangeneem word. Hoe dikwels vergeet ons dit! Hoe dikwels bely ons Hom as die Saligmaker van die wêreld sonder dat ons Hom ken as ons persoonlike Verlosser. Hoe dikwels bid ons dat Sy koninkryk mag kom, terwyl daar meer as een gebied in ons eie lewe is, waarop Hy geen seggenskap het nie. Wat nodig is, is dat ons die waarheid van die Kruis sal toespits op ons eie persoon, sodat ons van die algemene tot die persoonlike sal kom en met Luther die welbekende teksvers in Joh. 3:16 so kan lees: “Want so lief het God Maarten Luther gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat Maarten Luther wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe kan hê.”

Dit is nie genoeg dat ons dogmatiek Christo-sentries sal wees nie, ons lewe moet dit ook word. Christus moet in ons gestalte verkry, totdat ook ons met Paulus kan sê: “Ek is met Christus gekruisig en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”

Hier van die middelpunt van ons eie lewe af uit sal Sy verrykende krag Hom in al ons lewensuitinge openbaar. Net soos dit dieselfde gesonde lewe in ons is wat tot openbaring kom in die blos op die wang, die helder en lewendige blik van die oog, die snelle en juiste reaksie van die sintuie, die opgewektheid van die gemoed, en die frisse krag van die spiere, so sal die Christus wat by ons inwoon ons in al ons lewensuitinge met Sy verlossende krag verryk. Hy sal ons wilskrag versterk, ons gemoedslewe vervul met blydskap, ons verbeelding veredel ons begrip verhelder. Hy wat bestemd is om die Son van Geregtigheid in die Groot Heelal te word, moet eers die son word van ons eie lewe. So sal elkeen van ons deur die inwen- dige verligting van Gods Gees ’n skynende lig vir Christus word in ’n wêreld, wat, ondanks die verligting waarin hy homself in die verlede beroem het, nog nooit in dieper duisternis verkeer het as wat tans die geval is nie.

CITADEL PERS * KAAPSTAD

Dr. A. Murray noem nederigheid die sieraad van heiligheid. Is dit ’n kenmerk van u lewe?

“Daar is drie groot beweegredes,” sê die skrywer, “wat ons tot nederigheid moet aanspoor. Dit betaam my as skepsel, as sondaar, as gelowige.”

In NEDERIGHEID kan mens lees van hierdie deug in die lewe van die Here Jesus, by Sy dissipels en hoe dit vir elke Christen deur die genade van God in die daaglikse lewe moontlik is om beskeie sy plek te beklee tot eer van die Here.

Dis ’n C.S.V.-uitgawe verkrygbaar by

DIE C.S.V.-BOEKHANDEL

Posbus 25, Stellenbosch
Hoogstraat, Oudtshoorn
Posbus 8459, Johannesburg

Dr AJ van der Merwe was vir 40 jaar predikant van die Groote Kerk in Kaapstad, die oudste NG gemeente in Suid-Afrika. Hy was ook sedert 1945 vir vyf termyne die moderator van die NG kerk Wes-Kaap en hy was die eerste moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode.

1 thought on “Christus – die Middelpunt van die Skrif”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui