Daar is ’n rede hoekom lidmate doleer

Die volgende artikel is geskryf in reaksie op André Bartlett se artikel Liefde in die tyd van korona op 17 November 2020.

**********

Daar is ’n rede hoekom lidmate doleer

Deur Arnold Griesel, NG Gemeente Bethulie

24 November 2020

Dr André Bartlett skryf in Die Kerkbode:

“Die probleem is nie dát ons van mekaar verskil nie, maar hóé ons ons verskille hanteer: of ons nou doleer of nie doleer nie, ons behoort almal aan die Here. En as ons aan die Here behoort, is ons ook aan mekaar verbind, en dink en praat ons op ’n ander manier oor mekaar en tree ons ook anders teenoor mekaar op.”

Dit is duidelik dat die skrywer nie verstaan waaroor doleer word en waaroor dit gaan nie:

Die kort antwoord is dat daar radikaal van Skrifgesag en die nakoming van ons Gereformeerde geloofsbeginsels verskil en afgewyk word. Soos Artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis sê (nog altyd die NG Kerk se amptelike belydenisskrif), “ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin [in die kanonieke boeke van die Skrif] vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is.”

Die doleerders is hartseer dat die Algemene Sinode nie net afwyk van die NG Kerk leer nie maar ander aanmoedig om deel van die afbreek van Bybelse leer te word. Die doleerders beskou die nuwe rigting waarin die NG Kerk vaar as ’n resultaat van meer gewig gee aan die wêreldse tydsgees as aan die ewigdurende woord van God. Argumente in die kerk ten gunste van selfdegeslagverhoudings word nie gegrond op die Skrif nie (wat verstaanbaar is, gegewe hoe duidelik die Skrif hieroor spreek), maar word eerder gegrond op ander oorwegings wat teenstrydig is met die Skrif asook teenstrydig met die beskouing van die algemene Christelike kerk deur die eeue.

Dit is verder duidelik dat ’n wesenlike verskil in Skrifbeskouing direk lei tot wesenlike verskille in teologie, soos ons dit vandag duidelik bevind in die NG Kerk. Die NG Kerk sit vandag met totaal verskillende beelde van wie God is (sy aard), van hoe Hy die mens geskape het (antropologie), van die aard en definisie van sonde (hamartiologie), en dus van die aard van verlossing en heiligmaking (soteriologie). Dit kom neer om ’n verskillende Godsbeeld en verstaan van die evangelie.

Hier aanskou mens die hart van die probleem: daar is geen eenheid in die NG Kerk oor wat ons glo nie. Maar kerklike eenheid is juis veronderstel om gegrond te wees op eenheid van geloof. As die geloof wat die kerk nog al die eeue bely deur kerkleiers verwerp word, dan verbrokkel haar eenheid, soos ons dit vandag sien in die NG Kerk. Uit die oogpunt van die doleerders is die leiers in die Algemene Sinode (wie se amp dit juis is om die geloof te verdedig en te onderhou) besig om aktief dwaalleer te bevorder in die kerk en af te wyk van die “geloof wat vir eens en altyd aan die heiliges toevertrou is” (Judas 3). Dit is die kern van die saak, en waarom daar doleer word.

NG Kerk lidmate sou dit dan ook kon verwag van die leierskorps van die kerk om die kuratorskap van ons Gereformeerde leer met die erns wat dit verdien te bejeën – die belydenisse en leerstellings te eerbiedig, te laat eerbiedig, beskerm en te gepropageer -sodat die evangelie suiwer verkondig word. Dit gebeur eenvoudig lank glad nie meer nie.

Wanneer skrywers soos Dr Ben du Toit die bestaan van die drie-enige God uitdaag en daar prys toekennings vir sy publikasies gemaak word en geen Skriftug toegepas word nie, dan is dit duidelik dat die Christelike geloofpilare afgebreek en/of nie meer bestaan in die NG Kerk nie – by versuim in elk geval op sinodale vlak geminag word. Selfs die goddelikheid van Christus word bevraagteken. God word onteer.

Wanneer hierdie tipe liberale leerstellings in die universiteite hoogty vier en die kurators in die klasse waar die Bybelse leerstellings aangebied word dit as noodsaaklik en wenslik beskou dat die Skrif bevraagteken word, en pogings aangewend word om dit af te dwing, dan word dwaalleer teenstrydig met die NG kerk en Gereformeerde teologie aangebied en bevorder. So neem ons sonder protes deel daaraan om die Here af te takel en te vervreem in ons en ander se lewens.

Ten slotte, dit kan miskien lyk na ’n aanloklike uitkoms om die radikale en wesenlike verskille in die NG Kerk onder die mat van relativisme te vee en sodoende te verklaar dat “almal van ons aan die Here behoort”. Maar die waarheid is te kosbaar om dit op die altaar van valse vrede en valse eenheid te offer. Getrouheid aan God en sy Woord is op die spel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui