Dan is ek graag in fundamentalis

Die volgende artikel is geskryf in reaksie op

*******

Dan is ek graag in fundamentalis | Beeld

Beeld, 11 Oktober 2004

Isak Burger

Geen wonder party kerke groei en ander stagneer

Ek was op my dag ’n geesdriftige student in die kerkgeskiedenis aan die kweekskool van die NG Kerk.

Ek het daar in die kerkgeskiedenis gepromoveer. As kerkleier reken ek in alle beskeidenheid dat ek vandag redelik goed vertroud is met kerklike tendense hier ter lande en internasionaal.

Daarom het ek prof. Julian Müller se artikel verlede Maandag in Beeld met groot belangstelling gelees. Hy verwys daarin na twee duidelik onderskeipare strome wat die afgelope tyd in die kerkewêreld ontstaan het.

Volgens sy beskrywing is die belangrikste kenmerke van die eerste stroom die volgende: Mense wat worstel met die vraagstuk van God en die geloof – God, kerk en geloof het vir hulle omstrede geword; die rasionele is sterk op die voorgrond; dit is kerke met “stylvolle” liturgie en met “estetiese gehalte en diepte” in hul eredienste; waar eerlik met omstrede kwessies omgegaan word; hul teologie is nie so “oppervlakkig” nie; dit is kerke met ’n sterk “sosiaal-etiese bewussyn”.

Die ander stroom waarna hy verwys, voldoen blykbaar nie aan bogenoemde vereistes nie en verteenwoordig waarskynlik die teenoorgestelde daarvan. Hulie word verder gekenmerk deur “triomfantelike groei” en daar is nie veel ruimte en geduld met die rasionele nie; toewyding en die charismatiese werking van die Hellige Gees word tot “emosioneie hoogtes gevoer”; die prediking is fundamentalisties en hul teologie is opperviakkig. Laasgenoemde is die “populêre keuse” en die “groot gros gelowiges” bevind hulle daar.

Ek sou graag in ’n persoonlike of openbare gesprek met die skrywer wou tree. Van sy bewerings val ietwat verwaand op die oor en herinner aan die soort taal wat mens in ’n vroeëre kerklike era in ons land gekry het toe voortdurend en afwysend na dié groep “geesdriftige kerke en gemeentes” as “sektes” verwys is en daar op verskillende maniere teen hulle gediskrimineer is.

Terwyl hy herhaaldelik praat van “persepsies” en die tweede groep beskuldig van “veralgemenende persepsies”, is dit baie duidelik dat hy sy eie gevolgtrekkings maak op grond van persepsies wat hy het — persepsies wat meestal slegs gedeeltelik waar of andersins heeltemal verkeerd is. Ongelukkig perpetueer hy sekere van dié vals persepsies.

EK wil hom gelyk gee: daar is inderdaad twee al duideliker wordende strome – daaroor het ek enkele maande gelede in hierdie rubriek geskryf. Ek sou egter die verdeling tussen die twee strome anders beskryf. Hierdie verdeling is nie meer tussen die tradisionele kerke met “stylvolle liturgie”, “denkende” mense, “diep” teologie en ’n “sosiaal-etiese” gewete aan die een kant, en aan die ander kant die minder verligte, minder denkende en minder rasionele mense met “groeiende geesdrif” wat “charismatiese werkinge van die Heilige Gees tot emosionele hoogtes voer nie”.

Die bewering dat hul teologie oppervlakkig is, is ‘n verwaande en ongesubstansieerde veralgemening.

Hierdie verdeling word myns insiens teweeggebring deur veral die volgende twee faktore: Eerstens dit wat mense glo oor Jesus Christus: Is Hy die Seun van God, verwek deur die Heilige Gees, gebore uit ’n maagd; het Hy plaasvervangend gely en gesterwe aan ‘n kruis in die plek van ’n mensdom wat almal deur die vloek van die sondeval geraak is en is Hy opgewek uit die dood?

Die tweede faktor wat hierdie verdeling bring, is die geloof in die waarheid en integriteit van die Bybel as die Woord van God – dat die totstandkoming en bewaring daarvan bonatuurlik deur die Heilige Gees verseker is.

As so’n standpunt my as ’n “fundamentalis” etiketteer, dra ek daardie etiket met blydskap — eerder as om “akademies-wetenskaplik” gesien te word.

Ek sal die Here altyd dankbaar bly dat ek my teologiese opleiding destyds in die Pretoriase fakulteit van die NG Kerk kon hê onder professore wat die gesag van die Bybel hoog aangeslaan het en ten spyte van sekere leerstellige verskille, my ‘n oneindige liefde en waardering vir die Skrif gegee het.

Ek hoor egter deesdae van studente van sommige teologiese instellings wat, nadat hulle aan sekere dosente blootgestel is, in trane by hul predikante gaan sit en sê: Ons weet nie meer wat om te glo nie, die gesag van die Bybel word bevraagteken en selfs uitdruklik ondermyn en Jesus word nie meer as “die enigste Weg, die Waarheid en die Lewe” beskou nie.

Geen wonder daar is kerke wat groei — en ander wat stagneer nie!

Dr. Isak Burger is president van die Apostoliese Geloofsending

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui