Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Dana Snyman: Van ’n kwaai God tot ’n kerk wat weer dien | Netwerk24
Dana Snyman
Rapport, Sondag 22 Oktober 2023
Bekering sal nie vir hom ’n terugkeer kan wees na ’n ou manier van glo nie, skryf Dana Snyman.
Die reis moet op Naboomspruit begin, het ek geweet. Daar waar ek 12 jaar oud en onskuldig was. In 1974.
God is ’n kwaai, ou man iewers bokant ons in die hemel, almagtig. Die Nasionale Party regeer die land na Sy wil. Is jy ’n soet, gehoorsame seun en doen wat vir jou gesê word, gaan jy hemel toe wanneer jy doodgaan. Is jy ’n stout seun wat te veel dinge bevraagteken, gaan jy hel toe. Smiddae het ons sorgeloos op ons fietse in die dorp rondgerits. Die lewe was vol sekerhede.
Nou is dit anders. Naboomspruit het nie eens meer sy eie naam nie. Dit het Mookgophong geword. In oom Brian Muir se hotel doen ’n Pakistani sake en waar oom Koos Prinsloo ons hare borselkop geskeer het, word plantwortels en ander Afrika-kruie verkoop.
Die Sondagoggend toe ek by die kerkgebou in Nelson Mandela-straat – was dit eers Louis Trichardt-straat? – op die dorp instap, betyds vir die oggenddiens, voel dit asof oorlede Ma by my is, kerkhoed op die kop. Af in die gangetjie, in by die bank waar ’n bordjie eens verklaar het: Pastoriebank.
Toe kom die trane, opgedamde verdriet, ’n hopeloos te laat afskeid van my verlore onskuld. Ek is nie meer daardie borselkopseuntjie op sy Raleigh-fiets nie. Ek het opgehou om kerk toe gaan. Lankal.
Ná die diens stap ek by die konsistorie in, en daar hang oorlede Pa se foto by dié van die gemeente se vorige leraars: Coenraad Frederik Wilhelmus Snyman (1974-1980).
Kyk, Pa, sê ek vir hom. Die verlore seun het kom kuier.
Ek het kerklos geword, maar ’n gelowige gebly. My agting vir die feite wat deur die wetenskaplike metode bepaal word en die boeke van Dawkins, Harris en Hitchens is nie ’n helder genoeg lamp vir my voet en ’n lig vir my pad nie. Die toevallighede van my lewe is omgewe met misterie, ’n teenwoordigheid anderkant woorde, ’n onpeilbare grootheid, wat nie in ’n wetenskaplike formule of ’n logaritme vasgelê kan word nie.
Durf ek dit gelóóf noem? Of kan twyfel ook ’n manier van glo wees?
Om kerklos te raak, was maklik. Pa en die ander predikante se preke vol moeë frases en melodramatiese uitbarstings het my verveel. Hoe kon hulle in elk geval dink apartheid is God se wil?
Ek het die boeke, gedigte en ander kuns ontdek van mense wat met meer helderheid en waagmoed besin oor God en die sin van die lewe as enige predikant wat ek geken het.
Maar nou, in my 61ste jaar, hunker ek soms na die nabyheid aan mense in ’n kerkgebou, iets waardigs in ’n wêreld wat te vinnig individualisties, verslaaf aan vermaak en op ander maniere onwaardig geword het. Die klank van ’n pyporrel. ’n Oom wat by die bank voor joune inskuif en opeens ruik jy Old Spice terwyl hy sy kop laat sak vir ’n stil gebed. ’n Predikant wat die seën met bleek hande uitspreek.
Van Mookgophong af ry ek Pretoria toe deur die dorpe van my Christelik-Nasionale verlede. Modimolle. Bela Bela. Dorpe wat op allerhande maniere verval en verander.
Om te reis is al vir hoe lank ook ’n manier vir my om myself dieper te probeer verken.
In Pretoria word jy nie toegelaat om te vergeet wie jy is nie: ’n Afrikaner. Daar staan hy op Monumentkoppie, te sien uit alle rigtings: die Voortrekkermonument.
Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die Monument, stap saam met my deur die katedraalagtige gebou, verby die marmerfriese wat die verhaal vertel wat ek van kleintyd af ken: Hoe Retief en sy manskappe met Dingaan onderhandel het vir grond en toe vermoor is. Later die aflegging van die Gelofte voor die Slag van Bloedrivier.
“Ek dink wat by Bloedrivier en daarná gebeur het, is dat ons nie gevra het of die Here aan ons kant is nie, maar is ons aan die Here se kant,” sê Langner. “Dit is dan ook uit daardie perspektief wat die Kerk later krities oor apartheid begin dink het en heeltemal ’n ander koers ingeslaan het.”
Verlede jaar was hier meer as 20 000 mense by die Geloftediens op 16 Desember. Ek is ’n onrehabiliteerbare Afrikaner, my oer-oupagrootjie was in die laer by die Slag van Bloedrivier. Wil ek só ’n diens bywoon? Ek is bang my geloof word ’n nostalgiese verlange en ’n teruggryp na ’n vroeër tyd, ’n manier om vir God te sê: Dit gaan sleg in die land, God. Die toekoms is donker. Help! En laat ons tog wéér wen, asseblief. Die probleem is net: Wie is dié keer die vyand?
Iets in my wil dit nie glo toe ek dit hoor nie: ’n swart vrou wat ’n NG predikant is. Hier in Pretoria. Ds. Charlotte Sibanyoni.
Ek bel haar en ons ontmoet mekaar by die Universiteitsoord-kerk waar sy een van die leraars is. ’n Mens wil nie klem daarop lê nie, maar jy kan nie anders nie, asof dit ’n wonderwerk is. Swart. Vrou. Predikant. NG Kerk.
Haar ma was ’n huiswerker en sy het lank saam met haar in ’n kamer agterin ’n erf hier in Pretoria gewoon. Later het oorlede ds. Johan van Niekerk haar genooi om by hulle in die huis te gaan woon. Sy het ’n kind in die Van Niekerks se huis geword.
“Ek is baie optimisties oor die kerk se toekoms,” sê Charlotte. “My vriende vra vir my: ‘Why bother with the church?’ Ek is deur NG mense gehelp. Die kerk wil verander. Dalk kort ons net nog meer mense wat sê: Ek wil ander help. Waar begin ek?”
Wie is God vir háár? wil ek weet.
“Wat ek besef het.” Sy huiwer ’n oomblik. “God is iemand wat ek sien in mense. Ek dink as ons God in mense kan sien, mense oor alle grense, sal ons sien hoe die Here besig is om in die kerk en die land te werk.”
Haar antwoord oor wie God vir haar is, was te wêrelds, te humanisties, sal party mense seker sê, dink ek terwyl ek oor die ou Wes-Transvaalse vlaktes Ventersdorp toe ry waar Pa en Ma begrawe is.
Pa was hoofkapelaan van die AWB, een van die predikante wat in 1987 van die NG Kerk weggebreek het toe die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) gestig is. Die droefheid van ’n kerkskeuring het ek van naby beleef. Pa wat tot ná middernag met die Kerkorde by die kombuistafel sit terwyl Ma ’n Mills & Boon-boekie in die kamer lê en lees.
Baie van die woorde en begrippe wat Pa en die ander wegbrekers destyds gebruik het, hoor jy deesdae weer wanneer sommige predikante en lidmate hul ontevredenheid oor die kerk se standpunt oor selfdegeslagverhoudings uitspreek: Skrifgesag. Die onfeilbare woord van God. Humanisme. Liberalisme.
Toe Ma in 1998, ná nog ’n beroerte-aanval oorlede is, moes Pa die roudiens in die plaaslike Hervormde Kerk laat hou, want die APK wou nie vir Johannes Bogosi, wat by Pa gewerk het, en sy mense – skriftuurlik getrou, vir hulle – in die kerkgebou toelaat nie.
Pa se ou Mercedes 230 staan langs Johannes-hulle se huis in Tshing, Ventersdorp se township, geparkeer. Pa het hom die Benz laat erf. Johannes is die man wat Pa as’t ware tussen die bladsye van die Kerkorde uitgelei het, medemenslikheid in. Met sy dood was Pa lankal nie meer ’n lid van die AWB nie en het hy baie min in die kerk gekom.
Ons sit by Johannes-hulle se kombuistafel en praat oor sokker en die korrupte munisipaliteit. Later vra ek vir hulle: Wie is God, die Modimo, vir julle?
“Dis ’n mens wat ons alles gee.” Johannes vryf met sy plat hand oor die tafel se blad.
“Die Modimo gee jou liefde in jou hart,” voeg Lettie, sy vrou, by. “Jou hart word oop. Hy maak jou hart oop.” Wéér die beskrywing van God in alte menslike terme.
Met ’n oop hart ry ek van Ventersdorp af Bloemfontein toe en gaan gesels met Johann Rossouw, skrywer, filosofieprofessor en priester in die Ortodokse Kerk. Johann praat oor die byna intieme band wat eens tussen die Nasionale Party-staat en die kerk bestaan het en hoe baie mense daardeur ontnugter is. Party het ateïste geword. Iemand soos ek het kerklos geraak.
Die meeste van sy lidmate is mense “wat deur die kerk en geloof beseer is”, sê Johann, en voeg by: “Die heftigheid waarmee sommige Afrikaners vandag nog op geloofsverlies en teen die kerk reageer, noop ’n mens byna om te praat van ’n Godwond – ’n letsel van ’n ontsettende verlies.” Dan haal hy ’n kerkvader aan wat gesê het: “Die kerk is die hospitaal vir siele.”
Die volgende oggend woon ek een van Johann se dienste in ’n klein kapel in die stad by. In die NG Kerk waarin ek grootgeword het, is nie eens ’n kers opgesteek nie. Te Rooms. Gevaarlik.
En hier sit ek nou, met ’n oop hart. Oral is ikone en brand kerse. Saam met die Katolieke Kerk is die Ortodokse Kerk die oudste Christelike kerk. Ek weet nie mooi wat om te doen nie, maar voel nie ontuis nie. Hier is ek verbind met ’n kerklike tradisie wat meer as 2 000 jaar oud is. Almal inkanteer die woorde: “In die wete dat U my liefhet, roep ek tot U: Here, ontferm U, Here ontferm U, Here ontferm U . . .” In Afrikaans. Dit doen iets aan my, iets skuif in my twyfelende gemoed, iets word ligter: “Here, ontferm U. Here, ontferm U . . .”
Met daardie woord in my gedagtes is ek uit Bloemfontein weg. Ontferm. Ontferming. Op Trompsburg koop ek ’n koerant. “Die Bybelse liefde het soms ’n hamer nodig om onbekeerde harte van die ewige dood te red,” skryf ’n predikant in ’n artikel.
Dit klink na die soort bekering wat ek in st. 5 op ’n avontuurkamp gehad het. Ek onthou hoe ek by die bed in een van die kamp-ooms se bungalows kniel en met die Here begin praat. Ek vloek soms, Here. Ek speel saans met myself in die bed, Here. Maak my hart weer wit, asseblief, Here.
Ek het so lig hier binne gevoel toe ek uit die oom se kamer stap, maar ’n week of twee later het ek weer alles gedoen waaroor ek daardie aand spyt was en bely het. Daarna was daar nóg sulke bekerings.
’n Bekering, só voel dit, het nog altyd vir my weinig met die hede te doene gehad. Jy kom tot bekering, want jy is bang vir die hel, jy wil hemel toe gaan. Eendag. Jy kom nie tot bekering om die aarde nou ’n beter, meer genadige plek te maak nie, hiér, nóú. Jy kom tot bekering om ’n God iewers daar bo te paai. ’n God met ’n hamer wat jou wil straf.
Baie mense soos daardie predikant in die koerant wil jou in een of ander rigting in bekeer. Party praat van ’n nuwe Hervorming in die kerk, dat die Bybel weer soos in ’n vroeëre tyd geïnterpreteer moet word.
“Conversion experiences all too easily become the desire for a change that will finally put a stop to the need for change; change in the direction of what is, to all intents and purposes, a satisfying and reassuring paralysis,” waarsku Adam Phillips, ’n Britse sielkundige in sy boek oor bekeringservarings.
Dit is woorde waaraan ek dikwels dink. ’n Bekering sal nooit weer vir my ’n soort terugkeer kan wees na ’n ou manier van dink en glo nie. Miskien sal ek ’n boek oor my reis moet skryf. Hoe mense en kerke oor alle grense heen oral begin saamwerk, op die platteland en in die stad om die agteruitgang in die land te stuit. Hoe hoop dikwels iets klein is, iets wat miljoene kere bedags tussen mense gebeur.
Hoe twyfel ook ’n manier van glo kan wees. Hoe mense wat glo aan ’n kwaai God wat jou wil straf, dikwels self graag mense straf.
Hoe die kerk oral werklik besig is om kerk te word noudat daardie verbintenis met die staat hoegenaamd nie meer bestaan nie. Nie een gemeente in hierdie land het nie een of ander liefdesaksie aan die gang nie, waarby mense met name betrokke is: Arina Doyle in Centurion, Frans Cronjé op Senekal . . .
Is om tot bekering te kom nie om met meer verwondering na die aarde en met meer genade na mense te kyk nie? En dit is nie ’n maklike opdrag nie. Dikwels moet jy jou eie vooroordele en vrese konfronteer. “ . . . to let go of that anxious and destructive self in the face of a promise of radiant beauty; to be made alive in this way,” soos Rowan Williams dit beskryf.
Ná meer as drie weke op die langpad kom ek in die Kaap aan. Dalk is elke man sy eie verlore seun. Die oggend toe ek die NG kerk in Drieankerbaai instap, voel vir my ’n soort tuiskoms. Om met ’n oop hart verbind te wees aan iets groter as jyself. In my gedagtes kom sit Ma langs my en gee vir my ’n peperment. Vroue hoef lankal nie meer skrifgetrou ’n hoed in die kerk te dra nie. Een of ander tyd kan ’n vrou moderator van die NG Kerk word.
Kan die Skrif nie ook getrou wees aan hoe die werklikheid voortdurend verander nie, met nuwe kennis, wetenskaplike ontdekkings en insigte?
Ds. Louis van der Riet lei die diens. Ná die diens gesels ons.
Wat hy opnuut in die kerk sien, is hoe die kerk opnuut soek na dit wat spiritualiteit is, sê Louis. Oral word ook verhoudings herstel, oor rasse- en ander grense heen.
Louis is die eerste gay dominee in die NG Kerk, maar lankal nie meer die enigste een nie.
Wie is God vir hom?
Hy dink lank voor hy sê: “God is vir my die Groot Realiteit, dit wat my uitnooi na iets groter en mooi en meer liefdevol.”
Ek stap af see toe. Die wind waai weer in die Kaap asof dit alles wil skoonwaai. By die Tweetoringkerk in Bloemfontein skep ds. De La Harpe Le Roux-hulle seker nou kos vir die hawelose mense in. Op Philippolis dreun die halleluja’s uit apostel Brian Jones se sinkkerkie. Op Hanover laai Tony Jardiem kospakkies op sy bakkie . . .
Ek is tranerig en effens oorweldig oor dit wat ek op die langpad beleef het, hoeveel Psalm-waar stories daar gebeur, wat verdwyn in die dag tot dag se slegsê en oordeel en veroordeel op Facebook en ander plekke.
“What we call the beginning is often the end,” praat T.S. Eliot in my gedagtes. “And to make an end is to make a beginning. The end is where we start from.”
Dit voel of hierdie reis nou eers begin het.
• Dana Snyman se reeks Grondpad geloof word Sondagaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Kommentaar
xxx