*********
Lees die Bybel met ’n trinitariese kompas | Kerkbode
Deur André van Niekerk
18 Mei 2016
’n Mens se Godsbegrip speel ’n belangrike, waarskynlik ’n bepalende, rol in hoe ons dink oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag. Hierby is daar twee perspektiewe as deel van Kerkbode se voortgaande gay-debat.
Ek gesels onlangs met twee lidmate oor selfdegeslagverhoudinge. Soos dikwels gebeur, leer ek meer by hulle as hulle by my. Hulle help my om in te sien hoe ’n deurslaggewende rol ons Godsbeskouing in ons Bybelverstaan het.
My eerste gespreksgenoot se vertrekpunt is dat God die skepper van net manlike en vroulike mense is. Om selfdegeslagverhoudinge goed te wil praat, gaan lynreg teen God se natuurorde in. Wanneer ons sou wys na gay-mense wat so gebore is en geen keuse het nie, pak ons die skuld op God wat nie “sulke foute” as volmaakte Skepper maak nie.
My tweede gespreksgenoot was die ene vrae: “Sê nou maar ons is oor iets verkeerd – of dit nou oor vroue in leiersrolle of oor selfdegeslagverhoudinge is, hoe help God ons reg?”, wil sy weet. “Indien God – met Christus aan sy regterhand – die gebede van mense se swaarkry hoor, hoe reageer Hy? Hoe kry God ons om sy wil te onderskei?”
Ek leer by my gespreksgenote dat ons versigtig moet wees oor die verband tussen God, die Bybel en die natuur. Ons moenie die Bybel met God identifiseer en aanbid nie. Ons aanbid egter die lewende, handelende en sprekende God waarvan die Bybel getuig. Daarom mag ons ook nie God van die Bybel losmaak nie. Op die onderskeidingspad help dit as ons die Bybel met ’n trinitariese kompas benader.
Die Bybel behoort uit ’n Skepper-perspektief gelees te word.
God (en sy skepping) is meer as sy openbaring in die Bybel maar nie anders nie. Indien ons God met ’n sirkel voorstel, is die Bybelboodskap oor God nie ’n willekeurige stuk uit die sirkel nie maar ’n segment wat tot in die middelpunt, die hart van God, reik (H Berkhof). Die doel van God se openbaringswoord aan die Bybelgetuies is dat ons in ’n verhouding met God kan leef.
Daarom durf ons nie die Bybel lees asof alle kennis – oor die natuur, die huwelik en seksualiteit – vroeg in die “paradys” alreeds geopenbaar is nie. Trouens, ons lees dat God se wil algaande in die Bybel duideliker word. In Job en Rut – om maar twee boeke te noem – hoor ons van die groeiende openbaring dat lyding nie met God se straf vereenselwig mag word nie en dat God se heil selfs ’n Moabitiese vrou kan insluit.
In ons tyd sien ons die wonder van God in sy skepping weer goed raak. Dit beteken egter nie ons moet die natuur romantiseer deur nie die wreedhede en eien-aardighede raak te sien nie. Trouens, ’n natuurlike godskennis waarin God se wil vereenselwig met die natuurorde of ons beperkte verstaan daarvan, moet ons teenstaan. Elke keer wanneer ons die Bybel so lees, onteer ons God want dan lei ons af dat rasmeerderwaardigheid, geslagsongelykwaardigheid of ons eie verstaan van manlik en vroulik God se wil sou wees.
God is nie ’n onveranderlike beweger of identies aan die natuur nie. God is die Skepper wat teenwoordig in sy skepping bly, die lewende God wat op mense en gebeure reageer en aan sy beelddraers verantwoordelikheid gee om die skepping te ondersoek, te versorg en lyding te bestry.
Die Bybel behoort uit ’n Christus-perspektief gelees te word.
George Bernard Shaw het opgemerk dat God mense na sy beeld gemaak het en toe herhaal mense sy guns deur God na hulle beeld te maak. Hiervoor is Christene lugtig. Daarom bely ons dat Jesus Christus vir God die duidelikste kom toon het (bv Joh 1:18; 14:9; Kol 1:15; 2:9). Christus deurbreek elke menslik-ontwerpte Godsidee hoe teologies suiwer dit mag klink (JJF Durand). Christus herstel die beeld van God en sluit aan by die profete en genoemde boeke soos Job en Rut om dit wat die geloofsgemeenskap verkeerdelik geglo het, reg te stel.
Omdat Christus die duidelikste prentjie oor God openbaar behoort Christene die hele Bybel “vanuit die eindpunt van die besondere openbaring van God in Christus Jesus” (WD Jonker) te interpreteer. Alles in die Bybel geld nie op dieselfde vlak van normatiwiteit nie. Die “onduideliker” teksgedeeltes moet in die lig van hulle historiese konteks en die duideliker dele oor Christus verstaan word. Uit ’n boek soos Galasiërs en uit die kerkhervorming sien ons die diepe geneigdheid na wettisisme. Ook die wegverklaring van die verrassende ondeurgrondelike genade van God deur byvoorbeeld God se liefde teenoor sy heiligheid te stel. Dit maak dat ons Christus, wat die wet vervul, weer na ons eie beeld vervorm.
Die Bybel behoort uit ’n Heilige Gees-perspektief gelees te word.
Die Heilige Gees skenk ons geloof, herinner aan Christus, maak lewend, bevry van wettiesheid, laat ons God se wil onderskei en oortuig ons van sonde. Die sonde van promiskuïteit, liefdeloosheid, eiegeregtigheid, selfsug, ongeloof en apatie.
Ons behoort die Bybel saam met ander gelowiges wat die gawe van die Gees ontvang het, te lees. Ook gelowiges wat as minderwaardig beskou word en vir wie God daarom ’n besondere sagte plek het. In ons luister na ander moet ons die Gees nie ‘bedroef’, ‘weerstaan’ en ‘uitblus’ deur stemme gering te skat, nie behoorlik na mekaar te luister en profete soos vroeër te misken nie. God se eer is immers weer in die gedrang!
**********
God is liefde én heilig | Kerkbode
Deur Hancke van Blerk
18 Mei 2016
’n Mens se Godsbegrip speel ’n belangrike, waarskynlik ’n bepalende, rol in hoe ons dink oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag. Hierby is daar twee perspektiewe as deel van Kerkbode se voortgaande gay-debat.
Wat my aandag die meeste getrek het op een van hul foto’s van die Boere-krygsgevangenes wat tydens die Anglo-Boereoorlog daarheen verban is, was die opsomming wat die kurator gegee het rondom die Boere se godsdiens: “Many Boer POW’s belonged to the Dutch Reformist Church, which has its base in Calvinism, a protestant Christian system of doctrine named after John Calvin. At the centre of Calvinism is a total dependence on God. Calvinists believe people are saved by an omnipotent God, not through their own merits. Their belief produces an attitude of absolute faith in divine control over all aspects of life.”
Dit is veral die laaste sin wat my opnuut laat besef het watter bepalende rol iemand se Godsbegrip in sy of haar, óf in ’n kerklike denominasie se geloofslewe speel … ook wanneer dit by etiese kwessies kom. So is dit nie anders gestel rondom die huidige selfdegeslag-verhoudinge-debat nie.
Hoewel geen gelowige of kerklike denominasie voor die wederkoms aanspraak sal kan maak op ’n volledige Godsbegrip nie, is daar twee aspekte van God wat myns insiens in die Bybel baie sterk beklemtoon word: God is liefde én God is heilig.
Balans
Voorts is dit uiters belangrik dat hierdie twee aspekte ook in balans sal wees as deel van jou Godsbegrip … so nie kry mens allerhande skeeftrekkinge. Die kerkgeskiedenis is vol voorbeelde waar óf die heiligheid van God oorbeklemtoon is ten koste van die liefde óf waar God se liefde oorbeklemtoon is ten koste van sy heiligheid.
Na my beskeie mening is die Algemene Sinode 2015-besluit oor selfdegeslagverhoudinge ’n voorbeeld van laasgenoemde. Ek het geen twyfel nie dat diegene wat daarvoor gestem het, dit gedoen het vanuit ’n houding van liefde en deernis vir gay-persone wat nie gevra het om gay te wees nie en wat swaar kry op verskeie terreine. Ek self het in my bediening saam met verskeie gay-lidmate en hulle ouers hierdie pynlike pad geloop.
Ons as gemeente behandel gays met baie begrip en liefde. Tydens dieselfde kerkraadsvergadering waar ons ons ontevredenheid met die 2015-besluit emfaties uitgespreek het, het ons ook ’n lidmaatsaansoek van iemand wat in ’n selfdegeslagverhouding staan, gehanteer.
Sy wou juis ’n lidmaat van die NG Kerk word omdat ons gemeente dié gemeente in die dorp is wat haar en haar lewensmaat die welkomste laat voel het. Die kerkraad het haar aansoek eenparig, en met groot liefde, goedgekeur.
Maar God se liefde hang ook saam met sy heiligheid … en dít mag ons as kerk nie vergeet nie. God se heiligheid is ook nie bedoel om sy liefde te demp nie; juis om sy liefde te bestendig.
Daarom begin Eksodus 20 nie met die tien gebooie nie, maar met ’n herinnering dat hierdie God wat sy reëls nou gaan uitstippel, dieselfde God is wat sy volk verlos het … en hulle dus wil help om nooit weer slawe te wees nie … ook nie slawe van die sonde nie.
Humanisme
Miskien het ons liefdesbegrip ook langs die pad skeefgetrek geraak … die humanisme en die post-modernisme het hierin ’n beduidende rol gespeel. Wanneer liefde nie in balans is met God se heilige wil nie, kan dit baie dramatiese uitwasse hê … en slaan dit baie maklik om in liefdeloosheid.
Kom ons noem ’n praktiese en realistiese voorbeeld van hoedat die liefde, wat agter die 2015-besluit lê, baie maklik erge liefdeloosheid tot gevolg kan hê omdat die heilige wil van God nie ernstig genoeg in ag geneem is nie. ’n Jong moeder van oulike kleutertjies besef toenemend dat sy homoseksueel is. Ná jare van erge worsteling, en selfs ’n poging om met behulp van ’n heteroseksuele huwelik van oriëntasie te verander, besluit sy uiteindelik om haar gesin te los en om by haar selfdegeslag-maat in te trek.
Die gesin se predikant begelei alle partye met begrip en deernis deur die egskeidingsproses. Uiteindelik word hy deur die selfdegeslag-paartjie genader met ’n versoek om hulle in dieselfde gemeente in ’n amptelike verbintenis te bevestig! Die kanse dat haar voormalige eggenoot en haar kinders dít as liefde sal beleef, is feitlik nul!
Die geweldige negatiewe reaksie wat die 2015-besluit dwarsdeur die NG Kerk ontketen het, mag nie geïgnoreer word nie … veral nie deur die voorstanders van genoemde besluit nie. ’n sinodebesluit wat ’n klein groepie voornemende gay-predikante en hul geliefdes laat jubel, maar wat honderdduisende lidmate onthuts laat, slaag nie die lakmoestoets van die liefde nie!
Ai, kon ons nie maar by die ruim 2007-besluit gebly het nie! Hoewel nie volmaak nie; daaragter was ’n gebalanseerde Godsbegrip, waarin liefde en heiligheid mekaar vasgehou het … soos Jesus Christus se optrede toe Hy gekonfronteer is met die ingewikkelde situasie rondom die owerspelige vrou (Joh 8:11)!
**********
Drie-enige God – en selfdegeslag-verhoudings? | Kerkbode
Deur Nadia Marais
28 Junie 2016
Dr Nadia Marais van Stellenbosch skryf:
Hancke van Blerk se bydrae tot die Kerkbode-debatreeks (20 Mei 2016) oor selfdegeslagverhoudings verwys. Ek is verbaas om te lees dat daar nog op so ’n beperkende en dualistiese wyse oor Godsbeeld gedink word binne die NG Kerk.
Die skrywer is uiteraard korrek, rakende die klem wat hy plaas op Godsbeeld as uitgangspunt – ook binne die huidige gesprekke oor selfdegeslagverhoudings. Dit is natúúrlik so dat die beeld(e) van God waarop daar beroep word ’n beduidende rol speel in hoe ’n mens oor persone in selfdegeslagverhoudings sal dink. Trouens, juis dít is waarop die Seisoen van Menswaardigheid ons bedag maak (en moet maak), wat betref hoe ons mense behandel binne sowel as buite die kerk.
Juis daarom was ek verbaas dat die skrywer hom op die sogenaamde attribute of kenmerke van God beroep – ’n benadering wat sedert Karl Barth onder ernstige kritiek deurgeloop het weens die gebrek aan enige verwysing na die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus. ’n Benadering wat ditself só sterk op Godsbegrip beroep, en tog ook nie Christologies funksioneer nie, is verdag.
Daniel Migliore skryf in sy Faith seeking understanding dat die Christelike tradisie se hantering van die kenmerke van God dikwels verwarrend en niksseggend was. Juis daarom wys hy daarop dat verreweg die meeste moderne teoloë kies om vanuit die belydenis dat God drie persone, een in wese is te werk. Gereformeerde teoloë soos Barth en Migliore – insluitend NG Kerk-teoloë soos Willie Jonker – sou daarom aandring daarop dat die Drie-eenheid en die Godsopenbaring in Christus die konteks is waaruit Christene enigiets oor God sê.
Die teenstelling of “(wan)balans” waarvan die skrywer praat is dus ’n valse teenstelling. Dit is vanuit die geborgenheid in God, of tuiskoms in die gemeenskap van trinitariese liefde, wat Christene nadink oor mense. Insluitend mense in selfdegeslagverhoudings.
**********
God se kenmerke | Kerkbode
Deur Chris van Wyk
21 Julie 2016
Chris van Wyk van Port Elizabeth skryf:
Die opmerkings van Nadia Marais oor die kenmerke van God wat volgens haar nie meer gebruik word nie, verwys. Ek dink nie ons kan die kenmerke van God enigsins losmaak van ons Godsbeeld nie. Dis juis in die kenmerke van God wat ons Hom leer ken, in sy Vaderlike, Christelike en Pneumatologiese gestaltes.
Nêrens word dit beter as in die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) geformuleer nie. Die NGB praat in artikel 1 eers oor God in terme van sy enkelvoudigheid voor sy trinitariese karakter in artikel 8 aan die orde kom. God se enkelvoudigheid word beskryf met kenmerke wat onderling gedeel word: “ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is”.
God se meervoudige trinitariese gestalte word in artikel 8 eweneens beskryf met kenmerke, maar dié keer met kenmerke wat nie gedeel word nie. God die Vader is: “die oorsaak, oorsprong, en begin van alle sigbare en onsigbare dinge”. God die Seun is: “die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader”. God die Heilige Gees is: “die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan”.
Die NGB vervolg dat dit juis op grond van dié kenmerke is wat God se triniteit en enkelvoudigheid beskryf kan word. Daarmee vermy die NGB die gevaar van ’n enkelvoudige beskrywing van God, wat per definisie ’n skeefgetrekte beeld sal wees. Die NGB vermy ook die gevaar dat ’n mens net by die misterieuse kant van God vasval en nie sy helder Selfopenbaring raaksien nie. Beide gevare word vermy met ’n helder beskrywing van juis die kenmerke van God.
Is dit nie tyd dat alle teologiese besinning in ons kerk aan ons belydenisskrifte se helder en genoegsame verwoording getoets word nie? Die NG Kerk is immers ’n belydeniskerk.