Debat: ‘Wetenskaplikes hoef nie áltyd ateïste te wees nie’

Kyk ook:

*******

Debat: ‘Wetenskaplikes hoef nie áltyd ateïste te wees nie’ | Rapport

Kobus van der Walt, Johan Dreyer, Nico en Miriam Lemmer.

Rapport, 28 Januarie 2024

1. Die oerknal het nie sommer ‘toevallig’ gebeur nie, skryf Kobus van der Walt en Johan Dreyer.

Ons reageer graag op dr. George­ Claassen se artikel verlede week, “Vas in skaduwee van ‘allerhoogste’ ” waarin hy onder meer sterk kritiek uitspreek teen ’n akademiese artikel wat ons geskryf het oor intelligente ontwerp.

Claassen verwys hierna as “pseudo­wetenskap” en skryf: “As intellektuele en hoogs geskoolde Afrikaner-akademici sulke onwetenskaplike onsin in ’n geakkrediteerde, subsidie-draende vaktydskrif gepubliseer kan kry, wat sê dit van die Akademie (vir Wetenskap en Kuns) se oordeel?”

Die meeste mense is redelik keelvol vir die evolusie/skepping-debat omdat dit gewoonlik gevoer word op die vlak van ’n onkundige, emosiebelaaide, beledigende gestryery oor wat jy behoort te glo of nie. Ons het daarom besluit om enkele van die jongste wetenskaplike teorieë wat betrekking het op hierdie kwessie kortliks weer te gee en elkeen dan uit te nooi om hul eie gevolgtrekkings te maak.

Eerstens sê die huidige kennis dat die heelal ’n beginmoment moes gehad het, in teenstelling met die antieke filosofiese denke dat die heelal van altyd af bestaan het as staties, vas en onveranderlik. Waarnemings met teleskope wat al hoe verder die verlede in kan sien, dui daarop dat alles wat bestaan nagenoeg 14 miljard jaar gelede uit ’n enkele punt te voorskyn gekom het en dat die heelal sedertdien al hoe groter word.

Hierdie oerknal-teorie is bevestig deur die ontdekking van lae-energie agtergrond- kosmiese straling in 1965, sowel as die Hawking-Penrose-Ellis- kosmologiese singulariteit wat die toestande beskryf waaronder gravitasiekolke sou vorm, wat in ooreenstemming is met Albert Einstein se algemene relatiwiteitsteorie. Die mees onlangse bevestiging van ’n beginmoment was die waarneming van gravitasiegolwe in 2015.

Verder is daar sedert die 1950’s talle ontdekkings gemaak wat wys dat die bestaan van die heelal afhanklik is van ’n hoogs onwaarskynlike, presiese kombinasie van kragte, kenmerke en balanse – met fundamentele kragte wat presies die regte groottes het, kontingente eienskappe wat presies die regte balans het en die aanvanklike konfigurasie van materie en energie wat perfek ingestel was om lewe toe te laat.

Ons verwys hier na aspekte soos hoe sterk gravitasiekrag is, hoe swaar ’n proton en ’n elektron is, hoe sterk elektromagnetisme is, hoe sterk die krag is wat protone en neutrone in atoomkerne bymekaar hou en nog tientalle ander soortgelyke konstantes en voorwaardes.

Wat belangrik is, is dat al hierdie fyn ingestelde eienskappe voor die begin­moment reeds daargestel moes gewees het met ’n presisie waarvan ’n mens net kan droom. Byvoorbeeld moes die aanvanklike entropietoestand van die heelal verfyn gewees het met ’n akkuraatheid van 100 miljard tot die mag 123.

Die twee debatvrae wat uit bogenoemde waarnemings voortspruit, is eerstens wat die oorsaak van die beginmoment was, en tweedens hoe dit gebeur het dat die vele konstantes en voorwaardes nog voor die groot knal so presies ingestel was? Was dit alles die resultaat van ’n gelukkige, toevallige “fisika-ongeluk”, of was daar ’n intelligente iets/iemand wat hiervoor verantwoordelik was?

Verskeie teorieë wat toevalligheid as grondslag het, is deur die jare voorgestel, maar nie een van daardie teorieë kon tot dusver die fyn ingestelde eienskappe van die pre-heelal op ’n onaanvegbare wyse verklaar nie.

’n Volgende belangwekkende vraag in hierdie debat het sy oorsprong in die biochemie. Francis Crick, James Watson en Rosalind Franklin het DNS in 1953 beskryf. In elkeen van die miljarde selle in ’n mens se liggaam is daar ’n 2 m-lange string DNS met die bekende dubbel-heliks struktuur. Dit bestaan uit twee suikerfosfaat-stringe wat om mekaar kronkel, wat met basispare aan mekaar verbind is.

Crick, wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog die geheime kodes van die Nazi’s moes ontsyfer, het ontdek dat die volgorde waarin die basispare in DNS voorkom niks anders is as ’n kode nie – ’n “taal”, soortgelyk aan die binêre taal waarmee rekenaars geprogrammeer word. Hierdie kode bevat noukeurige instruksies oor die konstruksie en funksionering van elke spesifieke organisme. Elke plant, insek, voël, vis, dier of mens het ’n unieke “bouplan” wat beskryf word in sy/haar DNS.

Die vraag wat hieruit na vore kom, is waar die inligting in DNS vandaan kom. Elke voorbeeld van inligting wat aan die mens bekend is, hetsy dit hiërogliewe, radioseine, koerante, boeke, musiek of taal is, het ’n intelligente skepper. Het die inligting in DNS ook ’n intelligente skepper gehad, of het dit oor tyd ontwikkel as gevolg van gelukkige toevallighede?

Ateïste stel voor dat toevallige prosesse onvermydelik tot nuwe funksionele inligting in DNS sal lei. Vir sulke ewekansige prosesse om egter te slaag, is genoeg tyd nodig. Die natuurwetenskap het hierdie aanname getoets en dit is waar die argument vir willekeurigheid misluk.

Daar is bereken dat die kans vir toevallige mutasies om nuwe inligting te skep wat nodig is om ’n nuwe funksionele geen te verkry wat in staat is om ’n baie beskeie proteïen te produseer wat slegs uit 150 aminosure bestaan, vergelyk kan word met die suksesvolle soeke na een spesifieke atoom in 1 triljoen sterrestelsels, elk die grootte van ons Melkweg.

Lewe op aarde bestaan reeds vir ongeveer 4 miljard jaar. Dit beteken dat daar eenvoudig nie genoeg tyd vir toevalligheid was om alle lewensvorme wat sedert die begin van lewe op aarde bestaan het, tot stand te kon bring nie.

Die voorbeeld wat hier bo genoem is, het slegs betrekking op ’n baie eenvoudige funksionele proteïen, wat die totale onwaarskynlikheid beklemtoon om die groot volume data te bekom wat nodig is om rekening te hou met die menigte lewe wat waargeneem word.

Die aanpassing van organismes by hul omgewing (ook bekend as mikro-evolusie) gebeur wel, trouens, die mens gebruik hierdie verskynsel al eeue lank om nuwe honderasse of graanvariëteite te teel.

’n Stroom nuwe akademiese artikels en boeke werp egter al meer twyfel op die vermoë van evolusie om nuwe spesies deur mutasie en seleksie tot stand te bring, want om ’n nuwe spesie te verkry moet daar nuwe inligting in die DNS bygevoeg word. Prominente evolusionêre teoretici probeer deesdae gereeld die publiek “verseker” dat evolusie deur neo-Darwinistiese meganismes werklik gebeur, al kan hulle dit nie demonstreer of selfs ’n lewensvatbare teorie oor die wyse waarop dit gebeur, formuleer nie.

’n Verdere relevante gesprekspunt is die vraag oor die ontstaan van lewe uit dooie materie. Daar is ’n groot verskil betreffende kompleksiteit tussen anorganiese en organiese chemiese reaksies en biochemie in lewende organismes, soos biologiese molekulêre masjiene en die hoogs komplekse bergingstelsels in die kern van elke lewende sel wat die vier-syfer digitaal gekodeerde bloudruk vir lewe bevat. Ook in hierdie geval is daar etlike ateïstiese teorieë voorgestel waarvan die meeste op ’n toevallige sameloop van gunstige omstandighede berus.

Niemand was egter nog in staat om enige van die teorieë in ’n laboratorium te bevestig nie en dieselfde argumente wat die onwaarskynlikheid van toevallige makro-evolusie beskryf, geld ook in hierdie verband.

Een van die sleutelvereistes vir enige wetenskaplike teorie is die vermoë om akkurate voorspellings te maak. Voorspellings stel ons in staat om eksperimente te ontwerp en data te versamel om ons teorieë te toets en te verfyn, wat help om ons begrip van die wêreld te verhoog.

Navorsers wat ’n ateïstiese benadering tot natuurwetenskap aanhang, gaan van die vaste oortuiging uit dat enige teorie wat die betrokkenheid van ’n bonatuurlike wese selfs net oorweeg (sg. metafisiese teorieë), geen voorspellingswaarde het nie en by voorbaat afgewys moet word. Daarom word sulke teorieë dikwels neerhalend as “pseudowetenskap” getipeer.

’n Groeiende aantal gesaghebbende wetenskaplikes verskil egter fundamenteel van die standpunt dat metafisiese teorieë nie gebruik kan word in wetenskaplike navorsing nie. (Gaan kyk gerus na die lys van Christen-wetenskaplikes op Wikipedia). Hierdie wetenskaplikes het op grond van hul navorsingsresultate tot die gevolgtrekking gekom dat metafisiese teorieë wél empiries toetsbaar kan wees en daarom gebruik kan word om voorspellings oor die kosmos te maak.

’n Voorbeeld hiervan is dat alle ateïstiese kosmologiese teorieë ’n heelal veronderstel wat geen ruimte laat vir ’n transendente entiteit (“God”) wat verhewe is bo die natuurwette van energie, materie, tyd en ruimte nie. ’n Christelike kosmologie verwag egter dat die heelal ’n beginmoment gehad het (soos in Genesis beskryf), wat veronderstel dat ’n transendente Skepper die fisieke voorwaardes wat noodsaaklik is vir enige iets om te bestaan, reeds voor die skeppingsoomblik akkuraat moes ingestel het.

Eksperimentele waarnemings van die heelal bevestig hierdie teorie, in teenstelling met die talle alternatiewe ateïstiese teorieë wat tot dusver geen eksperimentele bevestiging opgelewer het nie.

Dieselfde argument geld ten opsigte van die oorsprong van inligting in DNS, waar eksperimentele, toetsbare navorsing oorweldigend dui op die betrokkenheid van ’n transendente entiteit.

Die verwysing na metafisiese teorieë as pseudowetenskap word daarom fundamenteel gerepudieer deur die jongste eksperimentele getuienis en ’n groeiende aantal gesaghebbende navorsers wat die feit erken dat ’n metafisiese kosmologiese hipotese, soos beskryf deur Stephen Meyer in sy boek Return of the God hypothesis (2021), wetenskaplik verantwoordbaar is.

Die moderne samelewing word gekonfronteer met ’n komplekse landskap van snelle wetenskaplike vordering, filosofiese oorwegings en godsdienskwessies wat ongelukkig soms radikalisties en fundamentalisties van aard is.

Nuwe eksperimentele wetenskaplike waarnemings wat nie deur huidige teorieë verklaar kan word nie, herinner ons daaraan dat ons begrip van die oorsprong van lewe en die heelal voortdurend in ontwikkeling is. In hierdie samelewing van diverse perspektiewe is dit noodsaaklik om ’n uitgebreide en respekvolle debat te voer wat beide wetenskaplike waarhede en individuele oortuigings eerbiedig.

Wat onaanvaarbaar is, is om eksperimentele waarnemings en die teorieë wat daaruit afgelei word by voorbaat te verwerp slegs op grond van persoonlike geloofsoortuigings. So ’n benadering dui op ’n gebrek aan kennis en/of intellektuele integriteit.

Wetenskaplike navorsing vereis ’n oop, onbevange en onbekrompe benadering wat die moed het om data eerlik te interpreteer tot by die mees waarskynlike gevolgtrekking. Of jy van die antwoorde hou of nie, is irrelevant.

• Prof. Kobus van der Walt is dosent in die filosofie van natuurwetenskap en tegnologie aan die Noordwes-Universiteit. 

• Dr. Johan Dreyer is ’n teoloog wat ’n meestersgraad in landbouwetenskap het.

 Wetenskap en geloof ís te versoen

2. In sy aanval op Christene speel George Claassen die man en nie die bal nie, skryf Nico en Miriam Lemmer.

Dit is teleurstellend dat ’n joernalis van die statuur van dr. George Claassen so ’n onsamehangende stuk propaganda opdis soos sy aanval op dr. Johan Dreyer, prof. Kobus van der Walt en Rudy Denton.

Claassen glo dat enige vorm van geloof onsin is en dat ateïsme wetenskaplik is. Vir iemand wat so ’n hoë premie op wetenskaplikheid stel, is sy stuk ’n toonbeeld van growwe onwetenskaplike beredenering deur veralgemening, wanvoorstellings en ontoepaslike of eensydige “feite”. Wie is, na sy mening, gesaghebbend? Blykbaar net skrywers wat dieselfde standpunt as hy huldig. Wie daarvan verskil word neerhalend afgemaak as dat hulle “hul eie waarheid uitgedink het”. Wie daarvan verskil – soos Dreyer, Van der Walt en Denton – is steeds vasgevang “in ’n klewerige godsdiensweb” wat hul kritiese denke “verlam”.

Claassen skryf weinig oor enige aspek wat in die vier artikels bespreek is en fokus daarop om hulle aan te val dat hulle durf waag om so iets te skryf.

As bewys van hoe onsinnig en onwetenskaplik artikels in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe kwansuis sou wees gee Claassen ’n paar opgewarmde argumente uit die geykte ateïstiese literatuur. Eerstens verwys hy buite konteks na Karl Popper se weerlegbaarheidskriterium (dis nie ’n teorie nie) as maatstaf vir wetenskap, naamlik “as iets nie getoets kan word om dit vals te bewys nie, is dit nie wetenskap nie”. Hy verswyg of is onbewus daarvan dat ander ewe vooraanstaande denkers oor wetenskap soos Thomas Kuhn en Paul Feyerabend geldige kritiek teen Popper se beskouing gehad het as synde te eng en onprakties. Dit sou byvoorbeeld die werk van die fisikus Stephen Hawking diskwalifiseer.

LEES: Vas in skaduwee van ‘allerhoogste’ 

Vervolgens haal hy Jerry Coyne aan; ’n genetikus wat leer dat “die werklike oorlog is tussen rasionele denke en bygeloof” en “godsdiens is die algemeenste vorm van bygeloof”. Daarby ook Michael Schermer, wat ’n psigoloog is, nie ’n natuurwetenskaplike nie. Trouens, dit is opvallend dat hy in ’n stuk oor wetenskap en geloof weinig wetenskaplikes noem, maar heelwat verloopte teoloë.

Verder smous hy met name deur valslik die indruk te wek dat David Gross, die Nobelpryswenner vir fisika in 2004, na godsdiens verwys oor “die wyse waarop die wetenskap te maklik wegbeweeg van bewysgedrewe ontledings”, terwyl Gross dit in werklikheid gehad het oor die sogenaamde snaarteorieë in die fisika. Ons sou Gross se stelling dat “die belangrikste produk van kennis is onkunde” op soortgelyk moedswillige wyse buite konteks kon aanhaal om Claassen te weerlê.

Hy probeer die wanindruk wek dat sy eie ateïstiese vooroordeel universeel is deur geen name te noem van hoog aangeskrewe natuurwetenskaplikes wat terselfdertyd belydende Christene was nie.

Is Claassen onbewus van die primêre vereiste van wetenskaplike publikasies dat ’n mens nie net data kan uitsoek wat jou hipotese steun nie? Hy hamer heeltyd op geloof as ’n uitvloeisel van onkunde. Die werklike feite weerspreek egter sy wanvoorstelling dat wetenskap en geloof onversoenbaar is en dat ateïsme ’n noodwendige resultaat van wetenskaplike kennis en denke is. As dit so is, sal alle natuurwetenskaplikes tog noodwendig ateïste moet wees – wat beslis nie die geval is nie. In werklikheid is ateïsme tegelykertyd sy uitgangspunt en gevolgtrekking en dus ’n sirkelredenasie wat hy met pseudowetenskaplike redenasies probeer bevestig.

En wat op aarde het die onsinnigheid van sportlui wat bid vir oorwinnings te doen met die gewraakte publikasies? Bedenklike godsdienstige praktyke en beskouings bewys niks oor geloof as sodanig nie, net so min as wat Einstein se pyprokery moderne fisika in sy geheel verdag maak.

Die enigste verwysing in sy hele stuk wat wel betrekking het op die inhoud en gevolgtrekkings van die vier artikels is na die Amerikaanse Kitzmiller vs. Dover-saak in 2005 waar die hof moes beslis oor die onderrig van intelligente ontwerp (IO) in skole en die regter bevind het dat IO nie wetenskap is nie. Hy wek egter weer ’n wanindruk oor die werklike omvang en belang van die spesifieke saak deur selektief daaroor te skryf. Dit het byvoorbeeld daaroor gegaan dat ’n spesifieke fundamentalistiese handboek as alternatief vir evolusie in die klaskamer gebruik móés word. Claassen en sy mede-ateïste oorstrek ietwat die waarde van die betrokke hofsaak as sogenaamde laaste woord daaroor. Hofsake handel normaalweg oor regsaangeleenthede en is nie deel van die proses om wetenskaplik-filosofiese vraagstukke te beantwoord nie. Daar is dus sekerlik meer oor die spesifieke kwessie te sê. Dis wat die betrokke TGW-artikels inderdaad ook doen – soos die redakteur in die inleiding skryf.

Claassen spring dan terug op sy onkunde-hobbelperd en verwys na pastore, dominees, imams, profete en ’n voormalige hoofregter wat verkondig het dat gebed die enigste oplossing vir Covid-19 is en dat inentings van die duiwel is. Nogmaals, wat het dit met die vier artikels te doen? Daar was tog baie gelowiges wat hulself wel laat inent het.

Wil Claassen beweer en kan hy bewys dat geen enkele ateïs die Covid-samesweringsteorieë aangehang en gepropageer het nie? Sy argument is dus valse induksie.

Claassen beëindig sy artikel met ’n snedige opmerking dat TGW voortaan ook artikels oor sterrewiggelary moet publiseer. Ons volstaan deur hom daarop te wys dat Johannes Kepler (wat saam met Copernicus en Galileo as die vaders van moderne sterrekunde beskou word) sy bestaan gemaak het met sterrewiggelary aan die hof van keiser Rudolf van die Heilige Romeinse Ryk.

In die halwe millennium sedertdien het wetenskap sodanig ontwikkel dat astrologie algemeen beskou word as ’n pseudowetenskap. In teenstelling met Claassen se ateïstiese vooroordeel word teologie en filosofie aan die ander kant steeds algemeen beskou as geesteswetenskappe.

Dit is hoekom TGW steeds artikels daaroor publiseer.

• Nico Lemmer is ’n spesialis in waterwetenskap en -tegnologie en Miriam Lemmer ’n fisikus.

 

Kommentaar

xxx

4 thoughts on “Debat: ‘Wetenskaplikes hoef nie áltyd ateïste te wees nie’”

  1. Wow. Pot calling the kettle black. It’s like watching little children argue about who’s daddy is the biggest. Strawman arguments false equivocation false dichotomy. You say it’s calculated that there is not enough time for evolution to take place. And then you accuse the other guy of misrepresenting and giving false impressions. The. What do you call it when you state that there are calculations done that shows there is not enough time for evolution to have taken place. Neglecting to point out 1 that there are models that do show there is enough time 2. That the variables of the models for not unanimously agreed upon. I left the scientific community. Do not know what the answer is to what the values should be so we cannot conclude with what the answer would or should be. But sure as anything you sell it like the example you gave is what the data/science says. How dishonest and then pointing out the other person for doing the same. What are you 5? Grow up.

  2. Hoekom sal iemand publish wat ek gesê het in my vorige comment? Hoekom sal eerlikheid dit in a Christian website maak? En wanneer die person uitwys hoe mense Kan sien Dat n Kar en en en n voorbeeld is van intelligent design en Dan moet tot die conclusion kom dat n mens moet duer n mind gemaak word. False equivocation fallacy. Jy gebruik lewelose voorwerpe wat nie seks het nie wat die DNA Kan inherent van die ours af nie. En gebruik dit as n voorbeeld. Mar Soos ek sê moenie last eerlikheid dit maak binned julle website nie. Dit sal anti Christian wees. Né? En btw ek neem screenshots van Al my uploads sodat wanner julle dit nie doen nie gan ek beitjie social media wys wat julle sê en hoe julle mense wat nie SAAM stem silence. So go ahead. Make my day.

  3. Oh dis eintlik nog erger. Jy kan nie ‘n konsekwente ateis wees en ‘n wetenskaplike.
    Doodeenvoudig om rede jy die voorvereistes vir die wetenskaplike metode nie kan regverdig nie.

    Die voorvereistes vir die wetenskaplike metode is:
    * Ordelike geskape universum wat onderhewig is aan wetmatighede.
    * Kenbaarheid van daardie wetmatighede dmv. sintuiglike waarneming en logiese redenering.
    * Vaalbarheid van die waarnemer, dus noodsaklikheid van verifikasie.

    Die christelike wereldbeeld gee jou die voorvereistes vir die ontwikkeling van die metode.
    * Skepping en dis duidelik uit die skeppingsnarratief wat geskets word dat dit ‘n ordelike universum ist. God se karakter as ‘n wetgewer en ook forseerder van wet impliseer ook dat die universum en natuur ordelike geskape is om volgens wetmatighede te werk
    * Ewebeeldigheid van die mens aan goed impliseer vermoe dit te verstaan, te beredeneer, observeer en te ook om afleidings te maak. Dit wil se die mens kan die wetmatighede erken en beskryf, nes om hulle ook te gebruik.
    * Sondeval impliseer vaalbaarheid van sintuie, geheue maar ook logiese dwalings. Dit dui ook die vereiste aan om te verifieer en te toets vir korrektheid van aannames en afleidings wat gemaak word.

    Die ateis kan dit nie uit sy wereldbeeld kry nie. Hy sal by ander wereldbeeld moet ontleen en in die Westerse wereld het hulle dit by die christendom gedoen. Anvaar hy die afgeleides van die christelike wereldbeeld kan hy wetenskap bedruif deur gebruik van die methode. Dus is dit ‘n teenstrydigheid mits Ateiste dmv. wetenskap teen die christelike leer probeer argumenteer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui