Dekade lange hoftwis oor kerkeiendom ken geen einde

*******

Dekade lange hoftwis oor kerkeiendom ken geen einde | Netwerk24

Kaydene Davids

01 Oktober 2024

’n Appèlaansoek deur die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) oor die besit van kerkeiendom het vandeesweek in die appèlhof in Bloemfontein geslaag.

Die hofsaak, wat al langer as tien jaar draal, het begin ná ’n skeuring in die NHKA. ’n Groep kerke, die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes (GHG), het afgestig omdat hulle nie saamgestem het met die NHKA wat gesê het dit was verkeerd om apartheid teologies te regverdig nie.

Met die afstigting, het die GHG hul kerkeiendom saamgeneem.

Die NHKA glo daardie eiendom behoort aan hom.

Die hooggeregshof het bevind die saak is net akademies en het daarom die NHKA se aansoek van die hand gewys.

Die NHKA het hom tot die appèlhof gewend wat beslis het dat die hooggeregshof gedwaal het in sy beslissing.

Appèlregter Raylene Keightley het Maandag die hofbevel van die hooggeregshof in Pretoria tersyde gestel.

Sy het die saak na die hooggeregshof terugverwys en gelas dat die verhoor deur ’n ander regter as regter N. Janse van Nieuwenhuizen aangehoor word.

Die appèlhof het ook beslis dat die oorspronklike gemeentes by wie die twis ontstaan het – die NHKA-gemeentes van Meyerspark, Pretoria Tuine, Die Wilge Potchefstroom en Koster – toegelaat moet word om as partye tot die hofstryd toe te tree.

Die NHKA het hom op 10 September tot die appèlhof gewend nadat die hooggeregshof in Pretoria beslis het dat die 13 gemeentes van die GHG, wat tussen 2010 en 2014 wegbeweeg het van die NHKA, wetlik opgetree het toe hulle hul kerk­eiendom oorgedra het aan verenigings wat hulle gestig het.

Luidens Keightley se uitspraak, waarmee die appèlregters saamgestem het, het die hooggeregshof gedwaal omdat die meriete van die aansoek verkeerd geïnterpreteer is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui