Kyk ook:
********
Die Algemene Sinode van 2013 gaan geloof in die maagdelike geboorte van Jesus opsioneel verklaar | hier staan ek
Deur Wynand Louw
27 September 2013
Die Apostoliese Geloofsbelydenis kom onder die mikroskoop op die komende Algemene Sinode van 2013.
Uit die agenda:
10. APOSTOLICUM
10.1 Die resultaat van die opdrag van die Sinodes van 2007 en 2011 word in ’n afsonderlike aanvullende publikasie aan die vergadering beskikbaar gestel.
10.2 AANBEVELINGS: APOSTOLICUM
10.2.1 Die Algemene Sinode aanvaar Die Apostolicum as eietydse geloofsverantwoording as raamwerkdokument* vir die kerkverband.
10.2.2 Die Algemene Sinode versoek die Kerk se mediamaatskappye om te help om die dokument te publiseer, wyd bekend te stel en in hulle materiaal en publikasies te gebruik.
10.2 3 Die Algemene Sinode gee die dokument deur aan die kerkverband mdo op aanwending in die Kerk se teologiese opleiding en VBO, kategesemateriaal, gemeentegebruik in toerustingsgeleenthede en studiemateriaal vir lidmate.
10.2.4 Die Algemene Sinode gee opdrag aan die ATLAS om leiding te neem in die uitvoering van punte 2 en 3 hierbo. ATLAS moet ook verantwoordelikheid aanvaar om die dokument in Engels te vertaal en aan die ekumeniese familie, en in besonder die deelnemende kerke aan die Conventus, beskikbaar te stel.
10.2.5 Die Algemene Sinode bedank die span teoloë uit die NG Kerkfamilie wat oor’n tydperk van sewe jaar hard gewerk het om hierdie stuk teologie aan die NG Kerkfamilie en hulle onderskeie kerkverbande beskikbaar te stel.
*’n Raamwerkdokument is ’n teologiese standpuntinname wat breë lyne gee oor ’n saak wat vir die kerkverband van wesenlike belang is en leiding gee met betrekking tot geloofsonderskeidende gesprek en besinning oor asook gestaltegewing van die betrokke saak in hulle geloof in en lewe voor
die aangesig van die Vader, Seun en Heilige Gees.
Die dokument waar dit hier oor gaan is natuurlik “DIE APOSTOLIESE GELOOFSBELYDENIS ’N EIETYDSE UITLEG”
Uit die voorwoord van die dokument:
Op 30 September 2009 het ’n aantal persone op Stellenbosch vir die eerste maal bymekaargekom om te werk aan ’n eietydse interpretasie van die Apostoliese Geloofsbelydenis. Hulle was Danie Malan (sameroeper), Ben du Toit (skriba), Robert Vosloo en Coenie Burger.
Dr Ben du Toit was dus een van die opstellers van die dokument. Hy is op openbare rekord dat hy die maagdelike geboorte van Jesus as mediese en historiese wonderwerk verwerp.
Die vraag is nou: Hoe sal die dokument te werk gaan met die sin “Gebore uit die maagd Maria” in die lig van die feit dat een van die opstellers die maagdelike geboorte eksplisiet verwerp?
Eesrtens ‘n reeks aanhalings uit die dokument. (Vetdruk en onderstreepde beklemtoning is myne en kursiewe beklemtoning is in die oorspronklike.)
Par 167: In ’n definitiewe sin is dit gevolglik niks anders nie as die oortuiging wat rééds deur die Apostoliese Geloofsbelydenis verwoord is in die belydenis dat die mens Jesus tegelyk ook op een of ander wyse die enige Seun van God is, maar hier word dit in meer verhalende vorm verwoord. Die geboorte uit Maria was ég menslik en werklik en tegelyk geskied dit volkome op inisiatief van Gód Self, as deel van sý inisiatief en sý werk, bely die kerk.
Par 168: Alhoewel die ander Nuwe Testamentiese skrywers, geskrifte en tradisies dus nie enige verwysing na die term maagd ken of benut nie, omdat die geloofsoortuiging wat bely word by wyse van spreke nie ’n mediese wonder is nie, beteken dit nie dat hulle nie dieselfde geheimenisvolle oortuiging deel nie, inteendeel. Ook hulle bely – soos die Apostoliese Geloofsbelydenis dit dan later saambundel – dat die Woord self waarlik vlees geword het.
Par 170: Die gebeurtenis self word nooit beskryf nie. Daar word geen ginekologiese spekulasies aangevoer, of trouens gesuggereer nie. Niemand vra enige mediese vrae nie, omdat die geheimenis klaarblyklik nie van mediese en ginekologiese aard is nie, maar van geloofsaard. Die wonderbare is die ondenkbare dat die Woord vlees word en onder ons kom woon, sodat ons sy heerlikheid in ons vlees aanskou en bely.
Par 176 (Uitlegtradisies): Daar is vele wat primêr in die historiese vrae en die werklikheidsvrae geïnteresseerd is, by wyse van spreke eerder in die ginekologie as in die betekenis vir die geloof. Hulle identifiseer die waarheidsvraag en die historiese vraag en stel uitsluitlik daarin belang. Indien hulle nié die belydenis (vanuit hierdie perspektief beskou) kan of wil aanvaar (as moontlik en as waar) nie, verklaar hulle dit as ongeloofwaardig, maak hulle dit soms selfs bespotlik en sien hulle dit dikwels as ’n rede om die hele evangelie te betwyfel. Vanuit die aannames van die positivisme en die historisme is dit uiteraard moeilik vir vele om anders hieroor te dink as vanuit dié perspektief. Gevolglik is hierdie soort vrae aan die belydenis dikwels diep persoonlike en pynlike vrae.
Omgekeerd egter, indien sulke mense wél die belydenis (vanuit hierdie perspektief beskou) aanvaar as “waar” (in hierdie letterlike en historiese sin) verklaar hulle dit as ’n (goddelike, mediese) wonder en probeer dit gebruik as bewys vir die “waarheid” (in hierdie sin) van die hele evangelie.
Vanuit hierdie uitlegtradisie – en ongeag of hulle dit verwerp of aanvaar – is geloof in hierdie belydenis dus nie soseer die vertroue in enige belofte wat deur dié belydenis geïmpliseer en verkondig word nie, maar wel die letterlike en historiese vir-waar-hou, die as-waar-beskou van die feit dat dit wel so gebeur het, óf dan die verwerping van die waarheid-in-hierdie-sin van die belydenis. Diegene wat dit wel só en so alleen sien, ly gevolglik daaraan as die kerk duidelik maak dat die evangeliese waarheid van ’n ander aard is, dat geloof nie die blinde aanvaarding van sogenaamde historiese feite (met behulp van ’n wilsbesluit en dikwels ’n sacrificium intellectus, ’n opoffer van die eie rasionele denke) is nie, maar eerder die vertroue in troosryke beloftes. Na hulle oordeel verloën die kerk daarmee die waarheid van die evangelie. Die uitdaging vir die kerk is dus om te vra na die strekking van hierdie belydenis tussen dié twee teenoorgestelde (en tog ten nouste aan mekaar verwante) pole van historisme aan die een kant en literalisme aan die ander kant.
177. (Slotsom) Kortom, alhoewel al hierdie betekenisse, implikasies en gevolgtrekkings nie in die bondige uitdrukking van die Apostoliese Geloofsbelydenis self verwoord word nie, is dit volgens hierdie uitlegtradisies die dieper motiewe wat daarin geïmpliseer word en die rede waarom dit daar bely word – dit getuig van God se genadige en vrymagtige inisiatief; die wonder dien as bewys van Gods mag en werking; die rol van Maria demonstreer aan ons die aard van ware navolging en die barmhartige geregtigheid van God; die vleeswording demonstreer aan ons die oneindige waarde en waardigheid van Gods mense en die ele skepping; die geboorte is reeds die begin van sy weg van lyding en oorgawe; dié geboorte toon hoe God waarlik teenwoordig en aan die werk is in die ganse lewe en bediening van Jesus; sy geboorte getuig reeds dat Hy die Middelaar is tussen God en mens. Nie alle gemeenskappe binne die Christelike kerk van die eeue vind al hierdie uitlegtradisies ewe oortuigend en betekenisvol nie, maar almal beroep hulle wel op dieselfde bondige uitdrukking in die Apostoliese Geloofsbelydenis om hierdie veelvoud van betekenisse deur die geskiedenis daaraan te ontleen.
Dit is duidelik uit die aanhalings dat dit moeilik is om uit die teks agter te kom wat die skrywers eintlik probeer sê. Regdeur die dokument word daar min gevolgtrekkings gemaak en word die leser dikwels op tipies postmoderne, dekonstruktiewe wyse, daaraan oorgelaat dat hy self moet besluit wat hy glo.
Ek sien egter die volgende punte duidelik in die teks raak:
1) Dit gaan volgens die skrywers nie oor die medies-historiese wonder van maagdelike konsepsie nie maar oor die geloof dat God werklik mens geword het. Hier word ‘n vals digotomie impliseer tussen die medies-historiese wonderwerk en die vleeswording asof die een nie van die ander afhanklik is nie.
2) Daar word ‘n kunsmatige kloof geskep tussen die historisiteit van die geloofsgebeure en die teologiese en persoonlike geloofsimplikasies daarvan. Dit is ‘n skreiende verwerping van die Gereformeerde belydenisskrifte se waarheidsleer. Ons hoef volgens hulle nie in die historisiteit van die maagdelike geboorte te glo om te glo dat God mens geword het nie.
En dit is die kern van wat du Toit en sy medewerkers hier doen: Om geloof in die geskiedkundige waarheid van die heilsgebeure op subtiele wyse te skei van geloof in die “geloofswaarhede”.
So word geloof in die historiese wonderwerk van die maagdelike geboorte opsioneel.
Sodat hulle nie hoef te glo dat God almagtig is, wonderwerke kan doen en ‘n maagd op medies-historiese wonderbaarlike manier kan laat swanger word nie, en nog steeds kan aanbly in die NG Kerk om hulle dwaalleer onverstoord te verkondig.