Die begin van ’n nuwe lewe; in die regte lyf

In die artikel hieronder word behandeling vir geslagsverandering baie positief geskets. Die feite is egter heeltemal anders. Walt Heyer het in April 1983 ’n geslagsveranderingsoperasie ondergaan (man na vrou), maar ná agt jaar as ’n vrou het hy ’n omkeringsoperasie ondergaan. Volgens hom is die selfmoordsyfer vir mense wat ’n geslagsverandering ondergaan het, 40%. Hy sê:

100 persent van die tyd kan die persoon binne vier tot sewe vrae die presiese oomblik vind toe hy hierdie gevoelens begin ervaar het. Dit is gewoonlik traumatiese, stresvolle, ongewone gebeure wat diep emosionele en sielkundige wonde veroorsaak.

Dit is niks anders as ’n tragedie dat hierdie inligting bitter selde genoem word wanneer oor hierdie onderwerp gepraat word nie.

********

Die begin van ’n nuwe lewe; in die regte lyf | Netwerk24

Inge Kühne

11 April 2021

Bitter min statistieke is bekend oor die voorkoms van genderdisforie in Suid-Afrika, maar ’n Gallup-peiling wat verlede jaar gedoen is, toon 0,6% van Amerikaanse volwassenes identifiseer as transgender.

Dit is baie meer algemeen onder jonger mense in Amerika. Sowat 1,8 % van die respondente onder 24 het gesê hulle identifiseer as transgender.

Onder sogenaamde millenniërs (mense wat tussen 1981 en 1996 gebore is) is dié syfer 1,2% teenoor net 0,2% van mense ouer as 40.

Ronald Addinall, ’n maatskaplike werker, seksuoloog en raadslid van die Beroepsvereniging vir Transgender-gesondheid in Suid-Afrika (Pathsa), sê die aantal tieners wat as transgender identifiseer het plaaslik ook skerp toegeneem.

Daar is ’n kombinasie van redes vir die toename, sê hy. Een daarvan is dat meer inligting oor genderdiversiteit bekend is en dat transgender mense veiliger voel om “uit te kom” omdat daar groter aanvaarding is.

“Daar is godsdiens- en konserwatiewe groepe wat aanvoer dis omdat dit nou ‘in die mode is om trans te wees’.

“Dit is bog. As tieners gewild of omstrede wil wees, is daar makliker maniere om dit te doen as om van geslag te verander,” sê Addinall.

Skole moet aanpas by die toename in die getal transgender leerlinge.

In 2017 het die gelykheidshof bevind ’n skool in Limpopo het versuim om ’n veilige omgewing te skep vir ’n transgender meisie (wat as seun gebore is) deur toe te laat dat sy verneder en geteister word. Sy het uiteindelik nie haar skoolloopbaan voltooi nie.

Dis die beste ding wat nog met hom gebeur het as hy voel hier gaan nou dalk ‘boobs’ kom. En as daai ‘boobs’ kom, dan maak dit hulle so gelukkig, want dit is wat hulle is: Hulle is vroue, hulle wil borste hê.

Sedertdien het die Wes-Kaapse departement van onderwys begin om riglyne te ontwikkel om diskriminasie teen transgender leerlinge in staatskole te voorkom.

Dr. Elna Rudolph, stigter en kliniese hoof van My Sexual Health, ’n seksuele-gesondheidspraktyk met takke in Gauteng en Kaapstad, sê die meeste kinders wat in haar spreekkamer beland, het van kleins af geweet dat hulle ongemaklik voel met hul geboortegeslag.

“Hulle weet. Hul ouers weet. Hulle was nog altyd só en hulle kom na my toe want hul puberteit het begin en hulle het hormone nodig. Daardie kinders was lankal by terapeute en sielkundiges en is lankal gediagnoseer,” sê Rudolph.

Maar daar is ook mense wat “super-verskrik” in haar spreekkamer beland pas nadat hulle die nuus gekry het dat hul tiener voel hy of sy hoort in ’n ander lyf.

“Daardie soort familie gaan eers die sielkundige sien en daar lê ’n lang proses voor omdat ons 100% seker wil maak dat die diagnose reg is,” sê Rudolph.

Wanneer almal tevrede is dat die pasiënt fisiek en emosioneel geskik is vir behandeling, begin dit met die toediening van ’n “ongelooflike” klein hoeveelheid hormone.

Daarna monitor sy hul vordering maand vir maand met bloedtoetse en gesprekke om te bepaal of die pasiënt tevrede is met die uitwerking daarvan.

Nog net een keer het sy ’n pasiënt teëgekom wat ná ’n maand besluit het om die behandeling te staak, sê sy.

“Dan sê ek great. Ek is so bly. Ons stop dit en daar is geen skade nie.”

As die behandeling ’n fout is, sal jy dit vinnig weet, sê Rudolph.

“As daardie kind nie trans is nie en jy gee vir hulle hormone wat byvoorbeeld hul ereksie wegvat of jy gee vir ’n vrouelyf iets wat haar laat baard kry, sal sy dit haat.

“Ons blokkeer die een hormoon, die een wat hulle nie wil hê nie, en ons gee ’n bietjie meer van die ander wat hulle wil hê. Ons doen dit stelselmatig en oor jare vat ons hulle deur puberteit.”

Sy sê om ’n kind wat transgender is te dwing om eers puberteit volgens sy of haar geboortegeslag deur te maak, maak die latere oorgang baie meer traumaties en ingrypend.

“Nou sit jy met ’n baard, ’n adamsappel, ’n diep stem en manlike gelaatstrekke wat daardie vrou dalk vir altyd vreemd sal laat lyk.”

Volgens Rudolph besluit sommige jong pasiënte om almal van hul behandeling te vertel, terwyl ander die oorgang stilweg maak om nie aandag op hulself te vestig nie. Vir sommige is dit makliker om die oorgang aan die einde van die skooljaar te doen, en in sommige gevalle besluit hulle om van skool te verander en hul skoolloopbaan elders in hul nuwe geslag voort te sit.

Sy het begrip daarvoor dat die hele kwessie vir mense baie vreemd is.

“Ek is ’n Christen en ek moes ’n baie intensiewe pad stap. Ek het oor baie jare en deur ’n klomp grade geleer om te verstaan.”

Sy vind vreugde daarin om te sien hoe ’n trans-tiener blom as sy vir hulle hormone gee, sê Rudolph.

“As jou kind transgender was en hy kom na my toe en ’n maand later sê hy vir my: ‘Oeee, ek kan voel agter my tepel is daar ’n sensitiwiteit.’ Hy is so opgewonde. Dis die beste ding wat nog met hom gebeur het as hy voel hier gaan nou dalk boobs kom. En as daai boobs kom, dan maak dit hulle so gelukkig, want dit is wat hulle is: Hulle is vroue, hulle wil borste hê.”

Rudolph sê haar pasiënte is die gelukkiges vir wie behandeling binne bereik is. Hoewel kinders ouer as 12 in Suid-Afrika tegnies die reg het om self oor mediese behandeling te besluit, is die beskikbaarheid daarvan in staatshospitale beperk tot die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad se kliniek vir gender-identiteitsontwikkeling.

Vir private pasiënte is die hormoonbehandeling nie duur nie, maar die koste van die evaluasie, monitering en ander steundienste plaas dit buite bereik van baie Suid-Afrikaners. Daar is dus baie tieners wat geen keuse het as om puberteit in die “verkeerde” lyf te verduur nie, al is dit vir hulle ondraaglik, sê Rudolph.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui