Die buitengewone Algemene Sinode van 2016 se besluit oor selfdegeslag seks moet verwerp word

Die volgende artikel is geskryf deur Wynand Louw van Hierstaanek.

*******

Die buitengewone Algemene Sinode van 2016 se besluit oor selfdegeslag seks moet verwerp word | Hierstaanek

Deur Wynand Louw

12 November 2016

Neels Jackson skryf in die e-Kerkbode ná die buitengewone Algemene Sinode van 2016 dat “die omstrede besluite [oor selfdegeslagverhoudings] van 2015 volledig omgekeer is”

Hierdie is ‘n uiters misleidende opsomming van die Algemene Sinode se besluit. Die besluit gaan veel verder as enige ander besluit oor selfdegeslagverhoudings wat voor 2015 geneem is. Ek haal aan:

Besluit, Paragraaf 1. Die Algemene Sinode besluit om die saak van selfdegeslagverhoudings met groot omsigtigheid te benader en om nie standpunte op gelowiges en gemeentes af te dwing waarvan die Gees die gemeentes nie oortuig het nie.

Die Algemene Sinode verklaar hiermee dat hulle besluit nie bindend op gemeentes die NG Kerk is nie. Die sinode verklaar hiermee dat hy oorbodig is, dat sy besluite geen gewig dra nie en dat elke gemeente maar kan maak soos hulle goed dink. Indien dit is hoe die Algemene Sinode sy gesag in die kerk sien is dit beter om heeltemal te ontbind.

Besluit, paragraaf 4. Die Algemene Sinode
[…]
4.4. herbevestig dat die huwelik deur God ingestel is as ‘n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap (dade) buite so ‘n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie, maar erken die realiteit dat daar lidmate van dieselfde geslag in burgerlike verbintenisse is wat getuig van liefde en trou.

Die Algemene Sinode bevestig die Bybel se leer oor die heiligheid van die huwelik, maar sê dan dat dit slegs riglyne is. Daar is ‘n wêreld se verskil tussen ‘n riglyn en ‘n wet. ‘n Riglyn is nie afdwingbaar nie. ‘n Wet is wel afdwingbaar.

Kyk wat sê God oor sy wet:

Jakobus 2:10 As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. 11God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,”het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog ‘n oortreder van die hele wet. 12Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak.

Romeine 6:23 Die loon wat die sonde gee, is die dood

God gee ons nie riglyne wat ons kan volg soos ons goed dink of soos wat dit vir ons gerieflik is nie. God gee wette wat ons moet onderhou, en die oortreding van die geringste van hierdie wette verdien die ewige dood. Deur God se wet te verskraal tot riglyne word God van sy heiligheid beroof, en word sonde se absolute, objektiewe boosheid ontken. Die evangelie word verskraal, omdat Christus gesterf het om ons van die vloek van die wet te red, nie om vir ons opsionele riglyne te gee oor hoe om te leef nie.

Die Algemene Sinode aanvaar verder dat daar selfdegeslag seksuele verhoudings is wat getuig van liefde en trou. Hierdie stelling legitimeer selfdegeslag seksuele verhoudings, omdat die Bybel dit duidelik stel dat ware liefde van God af kom.

Kyk hoe interpreteer die moderatuur van die die sinode van Weskaap reeds die besluit:

Die sinode het herbevestig dat ’n huwelik die veilige ruimte is waarbinne seksualiteit ten volle uitgeleef moet word, maar ook erkenning gegee aan die feit dat daar gay gelowiges is wat leef in burgerlike verbintenisse en wie se verhoudings getuig van die liefde en trou wat hoort by gelowiges.

Charl Stander, Skriba van die Sinode (Namens die moderatuur)

Let op dat Stander die woorde “…wat hoort by gelowiges” invoeg in sy rapportering oor die besluit. Die narratief word dus reeds aangepas.

Dit is natuurlik ‘n verwerping van wat die Bybel sê oor sonde en liefde: Ware liefde kom van God (1 Johannes 4). Indien homoseks sonde is soos die Bybel duidelik leer, kan ware, Goddelike liefde dus onmoonlik in ‘n homoseksuele verhouding manifesteer.

En navorsing bevestig dit: In ‘n studie deur McWhirter en Mattison van 156 homoseksuele paartjies kon hulle nie een eksklusief monogame verhouding vind wat langer as 5 jaar geduur het nie. (McWhirter, D., and Mattison, A. (1984). The Male Couple: How Relationships Develop. Englewood Cliffs, NJ: Prentice-Hall.) In teenstelling hiermee het ‘n nie-Christelike heteroseksuele huwelik ten minste ‘n 30% kans om lewenslank eksklusief monogaam te wees.

Opsommend van paragraaf 4.4: Buite egtelike (en spesifiek selfdegeslag) seksuele verhoudings is nie sonde nie, dit is net teen die riglyne. Dit is selfs aanvaarbaar in dié sin dat dit kan getuig van liefde en trou.

[…]4.6. (Die Algemene Sinode) is oortuig dat enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, ongeag seksuele oriëntasie, ‘n volwaardige lidmaat van die kerk is en as sodanig as ongesensuurde lidmaat volle toegang het tot al die ampte in die kerk.
4.7 bevestig dat Kerkrade die reg behou om self te besluit wie in leiersposisies in die gemeentes mag dien, en kan nie verplig word om enige persoon wat in ‘n selfdegeslag burgerlike verbintenis is, in diens te neem nie.
4.8 besluit dat dieselfde Christelik-etiese standaarde met betrekking tot leer en lewe geld vir die legitimasie en ordening van alle persone, ongeag seksuele oriëntasie.

Paragraaf 4.6: Dit is onduidelik of mense wat in homoseksuele verhoudings is onder sensuur geplaas moet word of nie. Is ‘n homoseksuele verhouding grond vir die kerklike tug? Daar is geen aanduiding dat die die geval is nie.

Let op 4.7: Gemeentes kan nie gedwing word om mense in selfdegeslag verhoudings aan te stel in die ampte nie. Die betekenis van hierdie sin is duidelik en ondubbelsinnig, maar doelbewus verdoesel in ‘n negatiewe stelling: Gemeentes mag dus mense in selfdegeslag seksuele verhoudings in die ampte aanstel!

Paragraaf 4.8 probeer ons gerus stel deur te stel dat dieselfde standaarde geld vir alle persone, ongeag seksuele orientasie. Die probleem is, paragraaf 4.4 verlaag God se standaard vir die huwelik van wet na riglyn, en legitimeer buite egtelike verhoudings. Om dit moontlik te maak om mense wat in selfdegeslag seksuele verhoudings staan toe te laat tot die amp word die standaard vir alle mense dus verlaag! Let op dat paragraaf 4.8 inhoudelik identies is aan Paragraaf 2.5 van die 2015 besluit – in die konteks van die besluit om homoseks verhoudings te heilig!!

Wat die besluit nié sê nie is egter baie belanriker as wat dit wél sê!

  • Die besluit verklaar nie, saam met God, dat homoseks (en alle ander vorms van buite egtelike seks) sonde is nie.
  • Die besluit roep nie sondaars op tot bekering, sondebelydnis en ‘n heilige lewe deur die genade van God in Christus nie.
  • Die besluit stel nie sondebelydenis en heiligmaking as voorwaarde vir toelating tot ampte in die kerk nie. Daar is dus in hierdie besluit geen rede waarom mense in sondige homoseks-verhoudings nie in die ampte kan dien nie.

Omdat die héél belangrikste nie gesê word nie verloën die Algemene Sinore se besluit die Evangelie.

In teenstelling met wat Jackson in die e-Kerkbode verklaar is hierdie nie ‘n volledige ommekeer van die 2015 besluit nie. Dit is ‘n herbevestiging van die besluit, met die uitsondering dat homoseksuele verbintenisse nie volgens die 2016 besluit in die kerk deur predikante bevestig kan word nie. (Dit word egter duidelik nie verbied nie)

Die hart en siel van die 2015 besluit leef net so voort in die 2016 besluit, met dié een uitsondering.

Ek glo dit is ‘n doelbewuste poging om ons, die gewone lidmate, te mislei.

Wynand Louw

(Nota: Die teks van hierdie artikel is effe aangepas nadat dit onder my aandag gekom het daar onduidelikhede in was. W.L.)

Hier is die 2015 besluit

2.1 Die Algemene Sinode herbevestig die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die menswaardigheid van alle mense.
2.2 Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ‘n verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.
2.3 Die Algemene Sinode herbevestig die besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ‘n huwelik beskou word.
2.4 Die Algemene Sinode besluit om in die lig van 2.1 hierbo erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou – en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.
2.5 Dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) geld vir die legitimasie en ordening van alle persone. Punt 7 van die besluit van 2007 verval.
2.6 Die Algemene Sinode erken die diversiteit van beskouing oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël.
2.7 Die Algemene Sinode bevestig die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ‘n gees van Christelike liefde te doen.
2.8 Die Algemene Sinode bied hierdie besluite oor selfdegeslagverhoudings aan met nederigheid na ‘n ernstige soektog en as die beste toepassing van die boodskap van die Bybel soos ons dit tans verstaan. Die Algemene versoek lidmate, gemeentes en kerkvergaderings om weereens op ‘n selfstandige soekproses na die toepassing van die boodskap van die Bybel hieroor te gaan. In die soektog kan die studiestukke van die Algemene Sinode van 2007, 2011, 2013 en veral 2015 ernstig gelees word. In lyn met NGB art 2 behoort besondere en algemene openbaring gebruik te word, d.w.s. die beste huidige menswetenskaplike bevindings.
2.9 Die Algemene Sinode besluit om ‘n Chirstelik-Bybels-etiese model oor die seksualiteit vir alle mense te ontwikkel om gemeentes te begelei in die lig van die voorafgaande besluite. Hierdie saak word ook verwys na die Projekspan vir Leer en Aktuele Sake, wat reeds ‘n soortgelyke opdrag op A p172 punt 7.4 ontvang het.
2.10 Die Algemene Sinode besluit om ‘n bevatlike oorsig van die NG Kerk se reis met homoseksualiteit saam te stel en te versprei om gemeenteleiers te bemagtig in die begeleiding van gemeentes oor hierdie saak.

Die 2016 besluit

1.Die Algemene Sinode besluit om die saak van selfdegeslagverhoudings met groot omsigtigheid te benader en om nie standpunte op gelowiges en gemeentes af te dwing waarvan die Gees die gemeentes nie oortuig het nie.

Die Algemene Sinode
2.1. herbevestig haar verbintenis aan die besluite van die Algemene Sinode van 2011 oor Skrifbeskouing, Skrifgesag, Hermeneutiek en Skrifuitleg.

“1. Die Algemene Sinode herbevestig die verklaring Skrifgebruik en Skrifgesag, soos aanvaar by die Sinode van 2004, as ’n eenvoudige en prinsipiële samevatting van die NG Kerk se Skrifbeskouing.

Die Algemene Sinode wys daarop dat vir ’n meer volledige uiteensetting van die saak, die verslae soos goedgekeur in 1986 (getiteld Skrifgebruik en Skrifgesag), 1990 (Skrifberoep in Etiese Sake) en 2002 (Gesag van die Skrif) hiermee saam gelees behoort te word.”
(Vgl.: Notule Algemene Sinode 2011, bladsy 91)

2.2. wys daarop dat die amptelike besluite van die Algemene Sinode oor Skrifgebruik en Skrifgesag nie gewysig is nie en steeds die geldende standpunt is.

Die Algemene Sinode bely
3.1. dat ons altyd soekend moet bly na die waarheid van die evangelie tussen veelvuldige stemme en in ’n stukkende wêreld.

3.2. dat gelowiges met diep oortuigings oor selfdegeslagverhoudings dikwels van mekaar verskil, en daarom moet hierdie soeke in ’n gees van luister, sensitiwiteit, smeking, dringendheid en verantwoordelikheid benader word, wagtend op die leiding van die Heilige Gees.

3.3. dat almal betrokke by die verskillende vertolkings erns maak met die Skrif en dat daar by almal ’n opregte begeerte is om God se wil te soek.

3.4. dat die kerk die plek is waar almal omarm en die genade van Christus ontdek moet word.

4. Die Algemene Sinode
4.1. beklemtoon dat geen mens minderwaardig behandel mag word nie, maar inteendeel dat met respek en liefde teenoor alle mense opgetree moet word. Ons erken die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind onsself opnuut tot die bevordering van die Godgegewe waardigheid van alle mense.
4.2. roep alle lidmate en ampsdraers op om, ongeag seksuele oriëntasie, mekaar met die liefde van Christus te aanvaar.
4.3. vra onvoorwaardelik vergiffenis waar persone met ’n homoseksuele oriëntasie nie soos hierbo behandel is nie
4.4. herbevestig dat die huwelik deur God ingestel is as ‘n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap (dade) buite so ‘n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie, maar erken die realiteit dat daar lidmate van dieselfde geslag in burgerlike verbintenisse is wat getuig van liefde en trou.
4.5. bevestig dat die gesin as hoeksteen in ’n Christelike gemeenskap beskou word.
4.6. is oortuig dat enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, ongeag seksuele oriëntasie, ‘n volwaardige lidmaat van die kerk is en as sodanig as ongesensuurde lidmaat volle toegang het tot al die ampte in die kerk.
4.7 bevestig dat Kerkrade die reg behou om self te besluit wie in leiersposisies in die gemeentes mag dien, en kan nie verplig word om enige persoon wat in ‘n selfdegeslag burgerlike verbintenis is, in diens te neem nie.
4.8 besluit dat dieselfde Christelik-etiese standaarde met betrekking tot leer en lewe geld vir die legitimasie en ordening van alle persone, ongeag seksuele oriëntasie.

Ons maak hierdie besluit beskikbaar omdat dit vir baie lidmate belangrik is. Die notule waarin hierdie besluit bevat word moet egter nog goedgekeur word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui