Die Bybel as ’n slaanstok

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Beeld verskyn (skakel).

****************

Die Bybel as ’n slaanstok

12 Mar 2007 10:28:31:54 PM

Prof. Julian Müller

Met die Bybel kan jy straf of bemagtig, skryf Julian Müller oor die getuienis van gay Christene…

’n Teoloog sê die ander dag aan ’n gay persoon: “Ek slaap sleg as ek daaraan dink dat ek jou seermaak met my standpunt oor homoseksualiteit, maar die Bybel laat my nie toe om ’n ander standpunt te hê nie.”

Hy sê dit vir iemand wat ’n gelowige is en in ’n verhouding van liefde en trou met iemand van dieselfde geslag leef.

By ’n ander geleentheid is ’n gay teologiestudent genooi om sy getuienis met ’n werkgroep van ’n sinode te deel. Hy het getuig dat hy kernhomoseksueel is, maar ook ’n gelowige en geroepe voel vir die evangelie­bediening. Hy leef sy seksualiteit in ’n stabiele, vaste verhouding uit, sonder losbandigheid.

Ná sy getuienis het een van die teoloë vir hom gesê: “Vir wie moet ek nou glo? Vir jou of vir Paulus?”

Dit is inderdaad ’n ernstige dilemma as jou siening van wat die Bybel leer, in regstreekse kontras met die opregte getuienis van ’n mede-Christen staan.

Wat maak jy as die getuienis van toegewyde Christene één ding sê en die Bybel iets anders? Is die keuse inderdaad: óf die gay gelowige óf Paulus? Kan dit wees dat die Bybel ’n harde boek is wat geen deernis met mense het nie? Kan dit wees dat mense met ’n sekere seksuele oriëntasie net eenvoudig nie, soos ander gelowiges, deur die Heilige Gees gelei word nie?

Wat maak ons met talle gelowiges wat gay is en verklaar dat hulle nie hul seksuele oriëntasie as strydig met God se wil ervaar nie? Hoe reageer ons as hulle getuig dat hulle vrede het met hul identiteit en dat hulle ’n behoefte het om hul seksualiteit in die geborgenheid van ’n vaste verhouding uit te leef?

Ook dat hulle seksuele losbandigheid verwerp en glo dat hulle in ooreenstemming met die Groot Gebod kan saamleef?

Hierdie soort dilemma moes hom ook afgespeel het in die tyd toe daar gedink en besluit moes word oor wat die Bybelse standpunt oor slawerny is. Ek kan my indink dat ’n teoloog in daardie tyd vir ’n slaaf wat geargumenteer het dat hy/sy op grond van die evangelie vrygemaak behoort te word, sou kon sê: “Vir wie moet ek nou glo? Vir jou of vir Paulus?” Die lering van Paulus lê duidelik nie in die rigting van die afskaffing van slawerny nie. Paulus probeer eerder raad gee oor wat Christelike optrede binne die stelsel van slawerny sou wees.

Ek kan my ook indink dat dieselfde teoloog vir ’n vrou, wat argumenteer dat sy ’n gelyke vennoot in ’n huwelik wil wees en boonop ’n leidende rol in die gemeente wil speel, kan sê: “Vir wie moet ek nou glo? Vir Paulus of vir jou?”

Paulus is duidelik ’n kind van sy tyd wat net een soort verwysingsraamwerk het en dít is ’n manlik-oorheersde diskoers.

Hy verkondig wel ’n vriendelike manlike oorheersing, ’n genaakbare soort patriargale bestel, maar steeds ’n hiërargiese orde wat op geslag gegrond is.

Só sou ’n mens die dilemma kon sien afspeel in die loop van die geskiedenis oor vele aspekte van die Christelike etiek.

Jesus se benadering behels ’n radikale wegbreek van die wettiese benadering van die godsdienstige leiers van sy tyd.

Hulle het met reël op reël gewerk. Elke menslike handeling is gereglementeer. Toe hulle Jesus ook in hierdie stelsel wou vasvang met hul vraag na die belangrikste van die gebooie, het Hy radikaal daarvan weggebreek en met één kriterium gewerk: die verhoudingskriterium.

Nie die Sabbatswet of enige wet van Moses is die belangrikste nie, maar die verhouding tussen mense en die vraag of die liefde van God daarin uitgeleef word. Die hele stelsel van rituele reiniging wat gebruik is om skeiding tussen mense te bewerkstellig en wat gelei het tot die marginalisering van sekere groepe, is deur Jesus verwerp en op sy kop gekeer.

Daarom is aspekte soos die marginalisering van gays in die samelewing en die kerk waarskynlik nader aan die hart van die evangelie as die blote vraag of aangetrokkenheid na en liefde vir iemand van dieselde geslag reg of verkeerd is.

Ons sal meer in lyn wees met Jesus se benadering as ons ophou om hare te kloof oor gay en straight en eerder begin nadink oor die sonde van homofobie en die aanhoudende verwerping en vernedering van gays binne ’n geloofsgemeenskap.

Die dilemma moenie en kan nie opgelos word deur ’n óf-óf-benadering nie. Dit is nie óf die Bybel óf die getuienis van gay Christene nie, maar albei.

Dit is juis die stemme van mense wat met integriteit getuig van ’n situasie waarin hulle hulself bevind, wat ons help om met nuwe oë na die Bybel te kyk.

Die eerste vraag is dan of die huidige ervaring van mense weerklank vind in die Bybel. Is daar ooreenstemmende ervaringe en situasies? Het vaste gay verhoudinge in die Bybelse tyd bestaan of nie? Waarvan praat die Bybel as die begrip “homoseksualiteit” in die Afrikaanse vertaling gebruik word?

Dui dit in die Bybel op kernhomoseksualiteit (’n gegewe homoseksuele oriëntasie) of word daar verwys na losbandige seksuele gedrag? Kan die afwysing van homoseksuele gedrag sonder meer aanvaar word as ’n afwysing van ’n homoseksuele oriëntasie? Indien nie, sou die natuurlike dade wat uit kernhomoseksualiteit voortspruit en wat nie losbandig van aard is nie, dan onder dieselfde kam geskeer kan word as die afwysing van promiskue homoseksuele gedrag? Kan die afwysing van barbaarse homoseksuele verkragtings deur heteroseksuele persone (soos in die Lot-verhaal in Genesis 19) gebruik word om iets te sê oor liefdevolle seksuele gedrag tussen twee persone van dieselfde geslag wat in ’n vaste verhouding van liefde en trou staan?

Wanneer ’n mens hierdie en talle ander vrae oorweeg, kom ’n mens tot die gevolgtrekking dat die Bybel nie op ’n oorvereenvoudigde en letterlike basis gelees kan word as jy tot ’n verantwoordelike standpunt oor gay verhoudings wil kom nie.

Daar kan nie maar net op die voetspoor van ’n paar tekste wat oënskynlik homoseksualiteit veroordeel, maklike en veralgemeende uitsprake gemaak word nie. Die konteks van vandag en die Bybelse konteks verskil te ver van mekaar. Die verantwoordelike hermeneutiek (manier van verklaring) wat gevolg moet word, is om te probeer verstaan wat die wesenlike waardes is wat die Bybel oor verhoudinge en seksualiteit oordra en dit dan verantwoordelik te interpreteer in vandag se situasie. Dan is die vraag nie of seksuele gedrag hetero- of homo- is nie, maar of dit voorkom binne die raamwerk van ’n vaste verhouding wat gedra word deur wedersydse respek en liefde.

Die Bybel is al te veel en te maklik in die geskiedenis gebruik om eie standpunte te regverdig en om ander daarmee te veroordeel. Dan word die Bybel ’n slaanstok in plaas van ’n boek wat getuig van die liefde van God vir alle mense. As daar ’n botsing is tussen die getuienis van die Skrif, soos tot nou toe verstaan, en die getuienis van gelowige mense, moet ons maar liewer oorversigtig wees en weer ’n keer deeglik na albei getuienisse gaan luister. My indruk is dat die mense wat so hard en oortuigend met die Bybel in die hand veroordeel, nog nie goed genoeg en met werklike empatie geluister het na die getuienisse van gay Christene nie. En daarom is hulle ook nie oop vir ’n eerlike herinterpretasie van die Bybel nie.

Só ’n herinterpretasie word eenvoudig afgemaak as onbybels en selfs onchristelik. Die waarheid is egter dat die ruimer standpunt oor homoseksualiteit op ’n verantwoordelike en diepgaande verstaan van die wesenlike waardes van die Skrif gegrond is. Hierdie standpunt word nie oor, namens en vir ander mense ingeneem nie.

Dit ontwikkel op grond van ’n respekvolle proses waar gelowiges en teoloë van alle seksuele oriëntasies eerlik na mekaar luister en saam kom tot verantwoordelike uitleg van die Bybelse boodskap.

• Prof. Julian Müller is hoof van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui