Die Bybel ís problematies

Kyk ook:

Die volgende artikel het in kerkbode.christians.co.za verskyn.

*********

‘Die Bybel ís problematies’

11 October 2016, Neels Jackson

“Ons problematiseer nie die Bybel nie. Die Bybel ís op ’n sekere vlak problematies.”

So het dr Fanie Cronjé van die gemeente Riviera-Jakaranda by die NG Kerk se Noordelike Sinode gesê tydens ’n gesprek oor Skrifgesag en Skrifgebruik.

Die gesprek het plaasgevind teen die agtergrond van die kerk se goedkeuring van verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag wat ’n hernude gesprek in die kerk ontlok het oor hoe die Bybel gelees en verstaan behoort te word.

Dr Chris Harris van Hulp en Hoop Gemeenskapskerk op Mokopane (vroeër Potgietersrus) het gesê leraars het ’n verantwoordelikheid. Baie lidmate het nooit geleer om die teks anders as letterlik te lees nie. Hy het gepleit vir sensitiwiteit vir lidmate en gesê die kerk het nog ’n lang pad om te loop. “Kom ons wees geduldig met mekaar, het hy gevra.

Dr André van Niekerk van die gemeente Waterkloof in Pretoria het gesê daar is ’n neiging om te oorvereenvoudig omdat mense so graag met sekerheid wil leef. [Dit het niks te doen daarmee om met sekerheid te wil leef nie. Dit gaan bloot daaroor of die Bybel geglo word of nie. Wat vir ons in die Bybel gegee word as feit, moet ons seker glo. Daar is genoeg dinge waaroor ’n mens nie seker kan wees nie (kyk byvoorbeeld Om God en die Bybel te verstaan).] Dan verskraal mense byvoorbeeld die waarheid tot historiese feite. Hy het gevra dat daar sterker beklemtoon moet word dat Christus eintlik die Woord van God is. [Hierdie verwys waarskynlik na Johannes 1, maar ek faal om te sien wat dit met die prys van eiers te doen het.]

Dr Sias Meyer, Ou Testamentikus van Tukkies, het gevra dat daar meer erkenning gegee word daaraan dat die Bybel nie eenstemmig is nie. Daar is byvoorbeeld nie konsensus in die eerste vyf boeke van die Bybel nie. Hy het gesê daar moet dalk liewers gepraat word van ’n diskoers van stemme. [Dit is nie die Bybel wat nie eenstemmig is nie. Dit is mense wat nie eenstemmig is oor wat die Bybel baie duidelik sê nie.]

Ds Koos Nel van die gemeente Haakdoorn het gesê ’n mens hoef maar net die Afrikaanse vertaling van die Bybel te lees om te sien die Bybel is kompleks. In Genesis 1 en Genesis 2 is daar byvoorbeeld twee skeppingsverhale wat teenstrydig is met mekaar [Nie waar nie! Kyk Is Genesis 1 en Genesis 2 verskillende, teenstrydige skeppingsverhale?.]. Sy pleidooi was dat die Bybel nie verskraal moet word tot ’n wetboek nie. [Dus, indien mens glo wat die Bybel duidelik en eenvoudig oor homoseksualiteit sê, dan verskraal jy die Bybel tot ’n wetboek. Dit gaan my verstand te bowe.]

Nie almal het egter sulke sienings gedeel nie.

Ouderling Carel Olivier van Thabazimbi het gesê vir hom is die Bybel eenvoudig. Sy beskouings “is nie besoedel met teologiese kennis nie”. Die manier waarop die Bybel egter soms in die kerk gelees word, is vir hom ’n probleem. Hy het beswaar gemaak teen wat hy sien as ’n eensydige klem op die liefdesgebod [Inderdaad. Kyk Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade en Die Bybel oor redding.]. As daar net die liefde is, is daar geen standaarde meer nie, het hy gesê.

Ds Petrus Kriel van Levubu het beswaar gehad teen wat hy sien as die eensydigheid van ’n verslag oor geloof en wetenskap [Kyk Om geloof en wetenskap te skei, wat ek glo op toepassing is van hierdie opmerking]. Hy het gemeen as die benadering daarin konsekwent toegepas word, bly daar niks van Jesus oor nie.

Nog ’n ouderl ing het gesê hy is so verward soos ’n verkleurmannetjie in ’n smartieboks. Hy lees die Bybel kinderlik afhanklik, maar in die sinode se gesprek oor die Bybel het hy woorde gehoor soos “hermeneutiek” wat vir hom nuut was en waarvan sy gemeente nie ’n snars sal verstaan nie.

Cronjé het beklemtoon dat dit die Bybel self is wat op ’n sekere vlak problematies is. “Die Bybel is eenvoudig en gelyk ingewikkeld,” het hy gesê.

“Moenie my kwalik neem oor my teologiese opleiding nie,” het hy bygevoeg.

Hy het ook gesê mense moet onthou dat God groter is as die Bybel. Aan dominees het hy gesê hulle is die mense wat die gesprek in hulle gemeentes moet vertaal.

Die sinode het nie besluite geneem nie, maar gevra dat daar verder in ringe en gemeentes en aan die hand van die studiestukke oor Skrifgesag in die sinode se agenda, oor die saak gepraat moet word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui