Opsomming
Woorde in die Bybel wat “uitverkies” of “uitverkore” bevat kom 55 keer in die Bybel voor. Die woord “uitverkiesing” behels dat God slegs sekere mense die voorreg gee om kinders van Hom te wees. Volgens die definisie van uitverkies is niemand daarop geregtig nie. Johannes 1:12 sê egter “…dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”
Dit is daarom dat daar verskillende sieninge oor hierdie kwessie is. Daar is twee hoof standpunte oor die uitverkiesing:
- ’n Mens se redding hang suiwer en alleen van God af.
- God gee aan mense die geleentheid om gered te word, maar die mens het die verantwoordelikheid om dit aan te gryp en ’n keuse te maak.
As ’n mens egter na die verskillende dele in die Bybel kyk wat oor die uitverkiesing gaan, is dit glad nie duidelik nie. Daar is teenstrydighede.
Mense wat hemel toe gaan, verdien dit nie.
Eersgenoemde is geregtigheid,
die tweede, genade.”
~ Steven Lawson
Wat wel seker is, is die volgende:
- Geen persoon wat sy sonde opreg bely en Jesus as sy saligmaker aanneem hoef te twyfel of hy/sy uitverkies is nie.
- Geen gelowige kan roem dat hy/sy die wysheid gehad het om vir God te kies nie. Ons keuse vir God is bloot genade.
- Geen ongelowige kan eendag homself probeer verweer en sê dat hy nie hel toe kan gaan nie, omdat God hom nie uitverkies het nie. Ons almal verdien die hel.
- Omdat almal die hel verdien is dit daarom nie onregverdig dat sekere mense hel toe gaan nie. Dit is net genade dat sommige mense wel hemel toe gaan.
Ons sal in nederigheid moet aanvaar dat ons nie alles van God of die Bybel sal verstaan nie (kyk Romeine 9:20-23, Job 38-41, Job 42:1-6 en 1 Korintiërs 13:9-12). Al wat ons kan doen is om baie dankbaar te wees as ons Sy kind is.
Ek het nog nooit ’n Christen ontmoet wat glo dat ons almal pionne of marionette is wat totaal deur God beheer word nie. Ek weet ook nie van Christene wat die eer vir hulleself neem omdat hulle die regte keuse gemaak het om vir God te kies nie. Daarom is die uitverkiesing nie een van die belangrikste Christelike kwessies nie.
John MacArthur: Calvinism vs. Arminianism
Inhoudsopgawe
2.1 Bybelverse: Redding hang suiwer van God af (standpunt 1)
2.2 Bybelverse: Mens het ’n aandeel in sy redding (standpunt 2)
2.3 Bybelverse wat neutraal staan
1. Inleiding
As jy vir woorde in die Bybel soek wat “uitverkies” of “uitverkore” bevat, kom dit 31+24=55 keer in die Bybel voor. In die Nuwe Testament alleen kom hierdie woorde altesaam 14+18=32 voor.
“Uitverkies” kom van die grondwoord “kies”. Volgens die HAT is die definisie van “kies” die volgende:
’n Keuse doen, aanwys in of uitneem uit ’n groep; die voorkeur gee aan een of meer uit so ’n groep; uitsoek.
Wanneer gebruik ons die woord “kies” of “verkies” vandag? Hier is ’n paar voorbeelde:
- Uit ’n klomp rugbyspelers word die 15 beste spelers gekies vir ’n wedstryd.
- Van ’n paar kandidate wat aansoek doen vir werk, word slegs een gekies.
- Uit baie vroue kies ’n man vir hom een vrou uit (en anders om).
Wanneer ons praat van uitkies, hang dit oor die algemeen af van meriete, maar álmal is nie geregtig daarop nie. Indien almal geregtig op iets is, word die woord “verdien” gebruik, nie “uitkies” nie. Bv, almal wat die Comrades klaargemaak het, verdien ’n medalje. Die Bybel gebruik egter nie die woord “verdien” wanneer dit by redding kom nie, maar die woord “uitverkies”. Aan die ander kant kan mens nie redeneer dat baie mense die Comrades klaarmaak, maar slegs ’n paar mense kry medaljes nie. Volgens Johannes 1:12 het almal wat klaarmaak die reg tot ’n medalje:
Johannes 1:12 : (12)Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
Om die algemene definisie van “uitkies” en Joh 1:12 te versoen kan ’n mens argumenteer dat God slegs sekere mense kies om die Comrades te hardloop. Dié wat klaarmaak het die reg tot ’n medalje. Dus is daar sekere mense wat God nie eers ’n geleentheid tot redding gee nie: Die uitverkorenes is dus die gelukkiges en dié wat nie uitverkies word nie, is verdoem.
Maar kan dit egter wees? Wil God nie vir elke mens op aarde die geleentheid gee om vír Hom te kies nie? (2 Korintiërs 5:14-21 en 2 Petrus 3:9) Dit is daarom dat daar soveel verskillende standpunte oor hierdie kwessie is.
Die verskillende standpunte oor die uitverkiesing kan vergelyk word met alle mense wat op hul eie besig is om te verdrink en God wat op ’n boot staan en mense uit die water red. Hier volg die twee hoof verskillende standpunte (standpunt 2 het ook onderafdelings):
- God staan op die boot en trek sekere mense aan die kraag uit die water uit. Niemand kan (of wil) iets uit hulleself doen nie. Die implikasie van hierdie standpunt is dus dat alles van God afhang en dat geredde mense nie hulle redding kan verloor nie.
- Standpunt 2 behels dat die mens van sy kant af ook iets moet doen, naamlik om te kies om die Evangelie te aanvaar (God steek Sy hand uit en die mens het die verantwoordelikheid om God se hand te vat). Dit behels dat geredde mense hulle redding kan verloor. Dit kan in die volgende substandpunte verdeel word:
- God steek sy hand na almal uit en trek dié uit wat Sy hand vat. Daar is dus geen sprake van uitverkorenes nie.
- God steek sy hand slegs na sekere uitverkore mense uit.
- God steek sy hand slegs uit na dié mense wat Hy weet Sy hand sal vat (die uitverkorenes).
Kom ons aanvaar dat al die standpunte glo dat God voor die tyd weet wat in die toekoms gaan gebeur. Dit het niks met uitverkiesing te doen nie.
Ons aanvaar ook dat alle mense wat hulle sondes bely en Jesus as hulle saligmaker aanvaar, gered sal word (volgens Johannes 1:12).
2. Wat sê die Bybel?
Kom ons kyk hoe verskillende dele in die Bybel die twee verskillende standpunte ondersteun.
2.1 Bybelverse: Redding hang suiwer van God af (standpunt 1)
Die volgende verse in die Bybel ondersteun die standpunt dat alles van God afhang – dat Hy jou aan die kraag uit die water trek.
(3)Maar sy ouers vra vir hom: “Is daar nie onder jou familie of onder al jou volksgenote ’n vrou nie dat jy na die heidene, die Filistyne, toe moet gaan om te trou?” Simson het vir sy pa gesê: “Kry haar vir my, want ek hou van haar.” Sy ouers het nie besef dat dit alles van die Here kom nie, want Hy wou ’n geleentheid skep om die Filistyne te straf: in dié tyd het die Filistyne oor Israel geheers.
Hierdie gedeelte het moontlik niks met redding te make nie, maar dit wys dat God Simson gelei het, selfs om met ’n heidense vrou te trou, wat teen God se normale riglyne indruis.
(5)Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.
’n Mens lei hier af dat God vooruit bepaal wie Hy uitverkies het.
(12)Daarna het die dissipels na Hom toe gekom en gesê: “Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?” (13)Maar Jesus antwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word.
Dit wil voorkom of God nie die Fariseërs “geplant” het nie. Hy het dus besluit dat hulle nie gered sal word nie.
(22)En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort.
(24)Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei.
(31)Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.
Die woorde “uitverkorenes” in plaas van byvoorbeeld “gelowiges” steun eerder standpunt 1, soos bespreek in die inleiding.
(7)Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag?
Die woord “uitverkorenes” in plaas van byvoorbeeld “gelowiges” steun eerder standpunt 1, soos bespreek in die inleiding.
(65)Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”
(48)Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword;
Hierdie gedeelte sal eerder standpunt 1 as standpunt 2 ondersteun, anders sou ’n mens verwag het dat die skrywer dit eerder soos volg sou verwoord: “Almal wat die boodskap aangeneem het, het gelowig geword.”
(33)Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.
Die woord “uitverkorenes” in plaas van byvoorbeeld “gelowiges” steun eerder standpunt 1, soos bespreek in die inleiding.
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Hierdie kan geïnterpreteer word dat jy nie jou redding kan verloor nie, wat ook standpunt 1 ondersteun.
(11-13)Toe haar [Rebekka] kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ’n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep. (14)Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! (15)Vir Moses het Hy gesê: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” (16)Dit hang dus nie af van ’n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is. (17)In die Skrif sê God immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.” (18)Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.
Hierdie gedeelte (veral vers 16) ondersteun baie duidelik standpunt 1. ’n Mens lei hier af dat die mens nie die regte keuse maak nie.
(5)Net so is dit ook vandag: daar is ’n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is.
(7)Waarop kom dit dan neer? Hierop: wat Israel soek, het hy nie gekry nie; die uitverkorenes het dit gekry. Die ander is verhard,
(28)Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande van God, en dit kom julle ten goede, maar kragtens die uitverkiesing is hulle geliefdes om die aartsvaders se ontwil.
Vers 7 ondersteun standpunt 1 baie sterk. Dit behels dat God sekere mense verhard het en verhoed het dat hulle gelowig word terwyl ander uitverkies is wat dit gekry het.
(3)Daarom wil ek hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus” nie deur die Gees van God praat nie; en niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees.
Die afleiding hier is dat ’n mens eers die Heilige Gees in jou moet hê voor jy Jesus opreg as Here kan erken. Dit is nie ’n besluit wat ’n mens self maak nie.
(4)So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.
(11)Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. (12)Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.
Die woorde “uitverkies” en “vooruit bestem” is ’n probleem vir standpunt 2. As standpunt 2 geldig was, sou mens verwag dat vers 4 eerder soos volg bewoord sou wees: “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, gehoop dat ons heilig en onberispelik voor Hom sou wees.”
(8)Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.
Selfs ons geloof kom nie uit onsself nie, maar kom van God af.
(12)My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, (13)want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
Uit vers 13 lei mens af dat ons tot niks goeds in staat is as God ons nie gewillig en bekwaam maak nie (net soos in Romeine 3:9-20).
(11)Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal. (12)Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.
Die woord “uitverkore volk” in plaas van byvoorbeeld “gelowiges” steun eerder standpunt 1, soos bespreek in die inleiding.
(4)Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het,
Die woord “uitverkies” in plaas van byvoorbeeld “gelowiges” steun eerder standpunt 1, soos bespreek in die inleiding.
(13)Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo.
Dit lyk of hierdie standpunt 1 ondersteun – jy word uitverkies voor jy gered word. Dit kan moontlik standpunt 2b (God steek sy hand slegs na sekere uitverkore mense uit) ook ondersteun.
(9)Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het (10)Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring.
(10)Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang.
Die woord “uitverkorenes” in plaas van byvoorbeeld “gelowiges” steun eerder standpunt 1, soos bespreek in die inleiding.
(1)Van Paulus, ’n dienaar van God en ’n apostel van Jesus Christus. Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God
Dit lyk hier of Paulus slegs die uitverkorenes na God lei. Die woord “uitverkorenes” in plaas van byvoorbeeld “gelowiges” steun eerder standpunt 1, soos bespreek in die inleiding.
(1)Van Petrus, ’n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië. (2)Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.
Hier word weer van “uitverkorenes” en “vooraf bestem” gepraat. Dit ondersteun dus eerder standpunt 1, maar kan moontlik ook standpunt 2b ondersteun.
2.2 Bybelverse: Mens het ’n aandeel in sy redding (standpunt 2)
Die volgende gedeeltes ondersteun eerder standpunt 2 as standpunt 1. Dus ondersteun dit die gedagte dat die mens die verantwoordelikheid het om ’n keuse te maak en dat gereddes hulle redding kan verloor.
(5)Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, (6)was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.
Hierdie gedeelte laat dit lyk asof God nie alles vooraf beplan nie, alhoewel Hy alles vooraf kon weet. As mense nie uit hulleself vir God kan kies nie, hoe kan God bedroef wees as hierdie mense nie die regte ding doen nie? Dit is dus teenstrydig met standpunt 1 en ondersteun eerder standpunt 2.
(33)Maar die Here het hom geantwoord: “Nee, Ek sal hulle wat teen My gesondig het, se name uit my boek uitvee.
(1)In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek (2)en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
Hier roep Johannes mense op tot bekering. ’n Mens kan aflei dat bekering ’n menslike poging verg, anders sou Johannes eerder vir God gevra het om self die mense tot bekering te bring.
(21)“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. (22)Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ (23)Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”
Indien suiwer uitverkiesing gegeld het, sou mens verwag dat Jesus eerder iets sou sê soos: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie. Vir sommige is dit nie beskore nie.”
Hier is dit egter duidelik dat dit oor mense se eie keuses gaan. Daar is mense wat self gekies het om die wet van God te oortree en nie die regte ding te doen nie.
(22)Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.
Jesus sê jy moet tot die einde volhard dan sal jy gered word. Dus gaan dit nie hier om te volhard bloot in jou roeping nie, maar volhard in geloof ter wille van redding. Dus lyk dit of mens wel jou geloof kan verloor, wat dus standpunt 2 ondersteun.
(14)So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.
Jesus praat waarskynlik hier van kinders wat reeds groot genoeg is om ’n keuse te maak vir God. ’n Mens moet ook aanvaar dat die wil van God nie altyd geskied nie (daarom dat ’n mens spesifiek daarvoor moet bid – Mat 6:10).
Daarom moet ’n mens aflei dat God sy hand na alle kinders uitsteek, maar dat dit so gebeur dat alle kinders nie Sy hand vat nie. Dit ondersteun dus standpunt 2, en meer spesifiek standpunt 2a.
(14)Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.
Hierdie vers ondersteun standpunt 2a en 2b – God steek Sy hand na baie mense uit, maar hulle moet besluit om Sy hand te vat. Hierdie is ’n probleem vir standpunt 1 en 2c (God steek sy hand slegs uit na dié mense wat Hy weet Sy hand sal vat).
Matteus 23:37-39 (Lukas 13:34-35)
(37)“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!
Die indruk wat ‘n mens hier kry is dat God hulle wel opgeroep het tot bekering, maar dat hulle hulle daarteen verset het.
(13)Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.
Soos Matteus 10:22 word hier met die woord “volhard” baie sterk gesuggereer dat daar van die mens ’n poging verwag word.
(12)Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’ (13)“Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.”
Hier lyk dit weereens of Jesus ’n poging van die mens verwag.
(19)Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en
Jesus se sendingopdrag aan die dissipels is om aan almal die Evangelie te bring selfs met die wete dat nie almal dit gaan aanneem nie. Nêrens in die Nuwe Testament is daar sprake daarvan dat die Evangelie aan sekere mense weerhou moet word nie. Dus ondersteun hierdie gedagte standpunt 2a (God steek sy hand na almal uit).
(10)Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.
’n Mens lei af dat die Seun almal kom soek het wat verlore is. Daarom ondersteun dit eerder standpunt 2 as standpunt 1.
(9)Deur julle volharding moet julle julleself red.”
Soos Matteus 10:22 word hier baie sterk gesuggereer dat daar van die mens ’n poging verwag word. Hier gaan Jesus so ver as om te sê dat die mens homself moet red.
(16)Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (17)Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
Vers 16: Soos Joh 1:12 sê hierdie nie iets oor die uitverkiesingskwessie nie.
Vers 17: Indien standpunt 1 reg was, sou ’n mens verwag het dat vers 17 eerder soos volg sou lui: “…, maar dat die uitverkorenes deur Hom gered kan word”. Dus ondersteun hierdie vers eerder standpunt 2 as standpunt 1.
(5)“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. (6)As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. (7)As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. (8)My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”
Hierdie dien as ’n waarskuwing vir mense. Dit is dus duidelik dat die mens ’n verantwoordelikheid het tot sy eie redding.
(44)Die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van die Here te hoor. (45)Toe die Jode die groot opkoms sien, is hulle met afguns vervul en het hulle telkens Paulus se woorde teëgespreek en hom beledig. (46)Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie,
Indien uitverkiesing suiwer van God afgehang het, sou mens dink dat die meerderheid Jode, wat sy uitverkore volk was, tot bekering sou gekom het. Die woord “verwerp” word gebruik wat baie sterk daarop aandui dat dit ‘n eie keuse was.
(17)“Ek het na Jerusalem toe teruggegaan, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek in geesvervoering geraak (18)en die Here gesien wat vir my gesê het: ‘Maak gou en gaan dadelik uit Jerusalem weg. Die mense hier sal nie aanvaar wat jy oor My getuig nie.’
Hierdie gedeelte ondersteun standpunt 2c. Hier lei mens af dat God sou wou hê dat die mense in Jerusalem tot bekering moes kom, maar omdat Hy geweet het dat hulle, uit eie oortuiging, nie sou nie, stuur Hy vir Paulus weg. Dus lei mens af dat die mens wel ’n aandeel het in sy redding. Indien standpunt 1 sou geld, sou God eerder vir Paulus gesê het om van Jerusalem weg te gaan omdat hulle nie uitverkies is nie en dat die Koninkryk nie vir hulle bedoel is nie.
(4)God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie? (5)Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek. (6)Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade: (7)aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe; (8)maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn. (9)Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood. (10)Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood. (11)God trek immers niemand voor nie.
Paulus praat hier ferm met mense en verwag ’n poging van hulle kant af. Dit lyk of God sy hand na mense uitsteek, maar daar is mense wat nie Sy hand vat hand nie (v5). In vers 5 lei mens duidelik af dat die mens ’n keuse het om teen God te kies. Dit is teenstrydig met standpunt 1 en 2c en ondersteun dus standpunt 2a en 2b.
Standpunt 1 impliseer dat God mense voortrek. Vers 11 sê egter dat God niemand voortrek nie.
(13)Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot ’n val kan bring nie.
As een persoon so maklik ’n ander tot ’n val kan bring is die vraag of uitverkiesing werklik slegs by God lê en of dit nie ook grootliks by die persoon self lê nie.
(14)Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. (15)En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. (16)Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. (17)Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. (18)Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. (19)Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou. (20)Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! (21)Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.
Hier word gesê dat Jesus vir almal gesterf het, waaruit ’n mens aflei dat dit standpunt 2a (God steek Sy hand na almal uit) ondersteun.
Vers 20 ondersteun die idee baie sterk dat ’n mens die verantwoordelikheid het om ’n keuse uit te oefen. As Paulus geweet het dat geen mens uit sy eie Jesus se versoening aanvaar nie (standpunt 1), wonder ’n mens of hy mense sou smeek. Dan sou hy eerder God gesmeek het.
(3)So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, (4)wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
(12)Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie.
Die woord “afvallig” kom in 35 verse in die Bybel voor. Dus kan ’n mens afvallig word en jou geloof verloor. Dit is ’n groot probleem vir standpunt 1 wat beweer dat jy nie jou geloof kan verloor nie.
(2)Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. (3)Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie,
(6)Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie, maar vir sommige bly die moontlikheid bestaan om weer in sy rus in te gaan.
’n Mens kry die idee dat mense ’n keuse moet maak. Dus hang dit van die mens self af.
(4)Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, (5)die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het (6)en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ’n bespotting.
Weereens die woord “afvallig”.
(26)Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. (27)Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. (28)As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. (29)Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?
(35)Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. (36)Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. (37)Nog net “’n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. (38)En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie.” (39)Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.
Hierdie dui baie sterk daarop dat die mens die verantwoordelikheid het om ’n keuse uit te oefen. Mense kan dus opsetlik sondig en hulle redding verloor.
(20)Mense wat van die besmettinge van die wêreld vrygekom het deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en wat weer daarin vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin. (21)Dit sou vir hulle beter gewees het as hulle die wil van God nie leer ken het nie as dat hulle dit wel leer ken het en daarna afgewyk het van die heilige gebod wat aan hulle oorgedra is. (22)Van hulle is die spreekwoorde waar: “’n Hond gaan terug na sy braaksel toe” en: “’n Vark wat gewas is, gaan rol weer in die modder.”
Dit is duidelik dat daar mense is wat die Evangelie gaan hoor, maar omdat hulle nie gehoor gee nie, sal hulle nie die ewige lewe beërwe nie. Dit is duidelik dat die mens hier opgeroep word om gehoor te gee en ’n keuse te maak. Vers 22 impliseer ook dat ’n mens sy geloof kan verloor.
(9)Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.
Hierdie ondersteun duidelik standpunt 2. As God wil hê almal moet tot bekering kom en dit is alles in Sy beheer, hoekom doen Hy dit dan nie (met respek gesê).
(17)Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle hoede dat julle nie meegesleep word deur die dwaling van beginsellose mense en so van julle eie standvastigheid beroof word nie.
Hierdie is ’n waarskuwing om op jou hoede te bly sodat jy nie jou geloof verloor deur die dwaling van ander nie.
(19)My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, (20)weet dan dat hy wat ’n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ’n menigte sondes vergewe word.
Hierdie impliseer sterk dat mens jou geloof kan verloor met die (ewige) dood as gevolg.
(10)Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. (11)Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.
Hier is dit duidelik dat volharding van die mens se kant kom en dat God hom dan daarvoor sal beloon. UIt vers 11 lei ‘n mens af dat jy wel jou redding (“kroon”) kan verloor.
(15)Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! (16)Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.
In Matteus 10:22, Matteus 24:13, Lukas 21:19 en Romeine 2:7 word gesê dat Christene moet volhard in die geloof. As ’n Christen egter nie volhard nie, dan is dit logies om te dink dat hy ’n lou Christen word. Van ’n lou Christen sê God dat Hy hulle sal uitspoeg uit Sy mond.
Hierdie gedeelte ondersteun standpunt 2 baie sterk.
(20)Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. (21)Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. (22)Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.
Hierdie is duidelik ’n probleem vir standpunt 1 en 2c (God steek Sy hand uit slegs na alma wat hy weet vir Hom sal kies). Dit is baie duidelik ’n oproep tot mense om die Evangelie aan te neem en vereis baie duidelik ’n poging van die mens self.
2.3 Bybelverse wat neutraal staan
Die volgende dele in die Bybel gee nie uitklaring oor die twee hoofsieninge oor die uitverkiesing nie. Dit word egter hier genoem omdat daar waarskynlik sommiges is wat wel dink dat dit ’n sekere standpunt verdedig.
(15)geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaar geweef is diep in die moederskoot. (16)U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.
Hierdie gedeelte wys bloot dat God alles vooruit weet, maar nie noodwendig bepaal nie.
(21)Stel julle saak en bring julle bewyse, beraadslaag gerus met mekaar daaroor. Wie het wat nou gebeur, lankal aangekondig? Wie het al vantevore gesê dit sal gebeur? Is dit nie Ek, die Here, nie?
Hierdie gedeelte wys bloot dat God alles vooruit weet, maar nie noodwendig bepaal nie.
(31)“Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. (32)Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei. (33)Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan. (34)“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei.
’n Mens hierdie gedeelte op twee maniere interpreteer:
1. God het mense uitverkies voor die skepping
2. Die koninkryk is voor die skepping voorberei vir dié wat besluit om Jesus te aanvaar.
(12)Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
Hierdie vers sê nie regtig iets oor die uitverkiesing nie. Dit sê nie of mense God aanneem deur hulle eie krag of deur die werking van die Heilige Gees nie. Dit sê dat almal wat op die boot is, gered is, maar dit sê nie hoe die persoon op die boot gekom het nie – het God die persoon uit die water getrek aan die kraag of het die persoon God se hand gevat? Aan die begin is gesê dat “uitverkies” en “die reg op iets” eintlik teenoor mekaar staan. Hierdie “reg” waarvan Joh 1:12 praat het ons eers wanneer ons op die boot is.
(9)Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. (10)Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, (11)daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. (12)“Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. (13)“Hulle keel is ’n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, (14)hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. (15)“Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. (16)Hulle laat ’n spoor van verwoesting en ellende agter. (17)Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, (18)ontsag vir God het hulle nie.” (19)Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. (20)Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ’n mens wat sonde is.
Aanhangers van standpunt 1 kan hierdie gedeelte gebruik as argument en sê dat geen mens in staat is om vir God te kies nie omdat die mens te verdorwe is. Daarom is dit God wat mense aan die kraag uit die water trek.
Hierdie gedeelte sê egter bloot dat niemand deur werke gered kan word nie omdat niemand daartoe instaat is om perfek te wees nie. Dit beteken nie dat ons soms die regte dinge kan doen nie, daarom sê hierdie gedeelte nie iets oor die uitverkiesing nie.
(13)want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Hierdie sê nie wat die persoon tot die besef gebring het om die Naam van die Here aan te roep nie: was dit God self of was dit die persoon?
3. Verdere bespreking
’n Mens moet erken dat die Bybel nie baie duidelik is oor hierdie kwessie nie: Maak jy ’n keuse vir God of is dit God wat jou uitverkies sonder enige keuse van jou kant af? Of is dit ’n kombinasie hiervan?
Iets wat ingedagte gehou moet word is Paulus se bekering: Hy het waarskynlik maar alte goed besef dat hy waarskynlik nie tot bekering sou kom as God hom nie op so ’n ingrypende manier tot bekering geruk het nie (Handelinge 9). Die vraag waarmee hy waarskynlik geworstel het, is: hoekom doen God dit dan nie met alle mense nie? Dit lyk of sy gevolgtrekking is dat God slegs sekere mense uitkies. Dit behels dat God witbroodjies het, alhoewel Paulus twee keer sê dat God nie mense voortrek nie (Rom 2:11 en Rom 9:14). Ook, ten spyte daarvan dat die implikasie is dat dit meer gaan oor God se roeping van mense as mense se keuses, het Paulus baie moeite gedoen met ongelowiges en het hy met hulle geredeneer om hulle te probeer oorwen vir die Evangelie, so asof die keuse by hulle gelê het (Handelinge 17:2; 18:4; 19:9; 28:23). Indien dit slegs van God afgehang het, sou mens verwag het dat Paulus eerder by God sou pleit en nie mense probeer oortuig nie. Dit bly dus maar verwarrend.
4. Mense wat hulle geloof verloor
Daar is voorbeelde van mense wat hulle geloof “verloor”. Dit ondersteun natuurlik standpunt 2. Voorstaanders van standpunt 1 redeneer dat daardie mense net nog nooit gered was nie. Indien dit so is, sal ons ooit vir mense kan verseker van geloofsekerheid?
Daar is mense wat afvallig geword het nadat hulle alles reg gedoen het om gered te word: Hulle het bely dat hulle kinders van God was, hulle was gereëlde kerkgangers en hulle lewe het vrug gedra volgens Galasiërs 5:22-23. Sommige, soos Charles Templeton, het selfs die Evangelie verkondig. Moet ’n mens dus aflei dat indien hierdie mense gesterf het voor hulle die Evangelie verwerp het, hulle hel toe sou gaan?
Kan ’n mens dan ooit geloofsekerheid hê? Hoe weet ons dan dat ons uitverkies is?
5. Gevolgtrekking
Daar is goeie argumente vir al die verskillende standpunte oor die uitverkiesing, maar vir elke standpunt is daar ook maar teenstrydighede in die Bybel. Ek is egter nie seker of Christene wat verskillende standpunte aanhang te ver verskil nie.
Ondersteuners van standpunt 1 kan nie sê dat jou eie vrye wil geen rol speel nie, want daar is net te veel plekke in die Bybel waar mense opgeroep word om ’n keuse te maak. As ons eie keuse nie ’n rol speel nie, dan is ons pionne sonder enige wil.
Ondersteuners van standpunt 2 kan nie die genade van redding ontken nie, want daar is ook genoeg dele in die Bybel wat standpunt 1 ondersteun.
’n Mens lei af dat die volgende vasstaan:
- Geen persoon wat sy sonde opreg bely en Jesus as sy saligmaker aanneem hoef te twyfel of hy/sy uitverkies is nie (Johannes 1:12 en Romeine 10:13).
- Geen gelowige kan roem dat hy/sy die wysheid gehad het om vir God te kies nie. Ons keuse vir God is bloot genade en gelowiges moet nederig wees daaroor.
- Geen ongelowige kan eendag homself probeer verweer en sê dat hy nie hel toe kan gaan nie, omdat God hom nie uitverkies het nie. Ons almal verdien die hel.
- Omdat almal die hel verdien is dit daarom nie onregverdig dat sekere mense hel toe gaan nie. Dit is net genade dat sommige mense wel hemel toe gaan. Dit kan vergelyk word met iemand wat uitgespoelde seesterre in die see gooi. Is dit onregverdig teenoor die seesterre wat nie teruggegooi is nie? Nee. Hulle sou in elkgeval doodgegaan het. Die wat wel teruggegooi word, word bloot uit genade teruggegooi.
Ons sal in nederigheid moet aanvaar dat ons nie alles van God of die Bybel sal verstaan nie (kyk Romeine 9:20-23, Job 38-41, Job 42:1-6 en 1 Korintiërs 13:9-12). Indien ons die voorreg het om kinders van God te wees, moet ons in groot dankbaarheid op ons knieë gaan en God dank vir hierdie groot geskenk.
Ek het nog nooit ’n Christen ontmoet wat glo dat ons almal pionne of marionette is wat totaal deur God beheer word nie. Ek weet ook nie van Christene wat die eer vir hulleself neem omdat hulle die regte keuse gemaak het om vir God te kies nie – almal weet dat dit genade is as jy die regte keuse gemaak het. Daarom is die uitverkiesing nie een van die belangrikste Christelike kwessies nie.
In kort: Die uitverkiesing het reeds voor die grondlegging van die wêreld plaasgevind, en nét mense uit die 12 stamme van Israel (Jakob se seuns) gebore en dié se suiwerbloed-nageslag kan aanneming tot kinders verkry. Géén ander nasie op die aarde nie. YHWH sê Self: Hy is net die God van Abraham, Isak & Jakob – Ex. 2:24. Daar is nog vele meer bewys vanuit die Bybel wat dit ononwonde bevestig, indien u sou belangstel in die vólle Waarheid van die Woord.
Elsabe, ek is glad nie ’n voorstaander van die siening dat slegs Jabob se afstammelinge (dus, die 12 stamme van Israel) gered kan word nie. Soos ek verstaan is dit die siening van Israelvisie. Kyk Israelvisie: is dit ’n geldige siening?.
Dit lyk vir my dat jy selfs verder gaan en sê dat dit slegs die suiwerbloednageslag van Jakob is wat gered kan word. Onthou dat Jakob ’n afstammeling is van Sem (Noag se seun). Die Arabiere is ook natuurlik afstammelinge van Sem. Die swartmense van Afrika is afstammelinge van Gam en Europeërs is afstammelinge van Jafet. As jy reg is, kan ek nie gered word nie, want ek dink nie ek het eers enige Joodse bloed in my are nie, nie eers te praat van ’n suiwerbloed Jood nie 🙂
Elsabe. Dis duidelik nie wat die bybelteks leer nie. En let wel. Dis nie die OT-teks en ook nie dei NT-teks wat dit leer. Terwyl herkoms as belangrik geag word, word die heilsaanbod aan alle nasies gemaak. Talle tekste in die bybel wat dit uitwys. Daar is lank nie meer so iets soos die “Suiwerbloednageslag van Israel” nie. En dis beslis nie ons Blankes nie. Eerder duidelik nie so iets nie. Afrikaans is ‘n Germaanse taal. Ons voorouers het alreeds in Noord-Europa gebly voordat Moses uit Egipte getrek het. Dus is die ‘verlore stamme hipotese’ maar ‘n idiotiese versinsel.
Uitverkiesing is ook iets heltemal anderste. Dit hou verband met God as oppergesag. En dit word maklik misverstaan. Die oorsaak is trouens dat mense nie die Heilige Gees het nie. En hulle begeertes van die vlees volg.
Ek wil graag hierdie artikel vir iemand aanstuur. Is daar ’n moontlikheid?
Jy is meer as welkom. Kopieer bloot die skakel van hierdie artikel en stuur aan.
2 TIM 3:16 DIE HELE SKRIF IS DEUR GOD GEÏNSPIREER…
Ja, hy kon dit sê van die Ou Testament, maar die Nuwe Testament het dan nog nie eens bestaan nie!