Die Bybelse boodskap bly kerk se kern

*******

Die Bybelse boodskap bly kerk se kern | Netwerk24

Hoffie Hofmeyr

22 Junie 2024

Ruggraatlose instellings met bankrot-teologie moet eerder wyk, skryf prof. Hoffie Hofmeyr

Die meeste Rapport-lesers is waarskynlik optimisties en positief oor die huidige politieke ontwikkelinge. Uiteraard moet hierdie nuwe hoop getemper word deur realisme oor die komplekse uitdagings vir ’n regering van nasionale eenheid.

Van uiterste belang is die kerke se uitdaging in die nuwe werklikheid. Die kern van hierdie nuwe gees is ’n lotsgebondenheid, ongeag ras, kultuur en kleur, aan ons mooi land binne die groter verband van geloof in ’n Opperwese. Dit is dringend nodig dat die kerke, soos in die politiek, na binne en na buite met veel groter erns met mekaar begin praat. Dit beteken dat die kerke na binne moet ophou om uitgediende strukture te wil probeer behou. Veral die kerkleiers moet in kontak bly met die verskillende groeperinge onder hul lidmate.

Die kerke sal die nuwe tydsgees korrek moet probeer lees. Enersyds is daar strome van onder meer die postmodernisme en die New Age-beweging wat ons wêreld deur middel van grysheid en normloosheid van denke, oordrewe kontekstualisering, maar ook grootskaalse gelykmaking wil sien. Dit is jammer dat soveel predikante en teoloë hierby ingekoop het. Die kernsaak van die kerk is groter as sentralisme waar enkele persone of ’n sinode alle gesag beliggaam.

Wees versigtig om nie nou die “volkskerk” van die apartheidsjare te vervang met die nuwe ideologie van ’n nasiekerk nie. Met “nasiekerk” bedoel ek ’n kerk wat met sogenaamde droomscenario’s oormatig klem plaas op horisontalisme en menseregte –met min klem ook op mense­verantwoordelikhede.

Daar is wêreldwyd ’n nuwe verdelingslyn in die kerke aan die ontwikkel oor ’n duideliker visie oor die kerk se wese, veral met betrekking tot skrif­getrouheid en -ontrouheid. Die kern van kerkwees bly steeds om die Bybelse boodskap van hoop en toekoms aan ’n noodlydende wêreld te getuig, maar dit ook in praktyk uit te dra. Dit staan in duidelike teenstelling tot ’n ruggraatlose kerk met ’n soms bankrot-teologie wat alles vir almal probeer wees – en dan uiteindelik niks vir niemand is nie.

Die kerke sal, sonder om naïef te wees, vervul met ’n versigtig optimistiese en positiewe visie, ’n duidelike priesterlike (opofferende), koninklike (dienend-leidinggewend), maar ook ’n profetiese (lojaal­kritiese) stem ’n bydrae moet lewer tot die uitbou van ’n beter en regverdiger Suid-Afrika.

• Hofmeyr was voorheen verbonde aan die teologiese fakulteite van die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Leuven.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui