Die Bybelse Oplossing Vir Misdaad (Juig!)

Die Bybelse Oplossing Vir Misdaad

(Oorspronklike artikel het in Juig! Julie 2011 verskyn. Gekopieer vanaf http://www.juig.co.za/article.php?id=143)

Daar was ’n tyd in hierdie land toe baie min van ons deur misdaad geraak is. Dinge het egter begin verander en almal het iemand geken wat deur misdaad geaffekteer is. Deesdae het ons elkeen ons eie stories oor hoe ons besteel is, bedreig is deur misdaad, of erger nog, regstreeks daarmee gekonfronteer is.

Op ’n onlangse vergadering het die ongeveer 80 mense teenwoordig, die misdade wat hulle persoonlik ervaar het, opgenoem. Dit het gewissel van huisbraak, motordiefstal, selfoondiefstal, bedrog, kaping, tot gewapende roof en moord – almal het dit óf self ervaar óf hul onmiddellike familie het daaronder gely.

Die koste van misdaad

 By feitlik elke sosiale geleentheid word Suid-Afrikaners gevind wat stories uitruil – stories oor hoe hulle die dood net-net ontkom het, hoe die lang tentakels van misdaad hulle beetgekry het of hoe hul geliefdes getraumatiseer is weens een of ander misdaadsituasie. Misdaad is ’n werklikheid wat elkeen van ons affekteer.

Die situasie in Suid-Afrika het so verswak dat daar selfs ’n moratorium op misdaadstatistiek geplaas is. Die polisie word hier­deur verbied om misdaadstatistiek aan stemgeregtigde belastingbetalers beskikbaar te stel. Volgens navorsing deur die American Management Association, verloor Amerikaanse sake-ondernemings jaarliks meer as $10 biljoen weens werknemersdiefstal, meer as $4 biljoen weens geldverduistering, meer as $2,5 biljoen weens inbraak, $2 biljoen weens winkeldiefstal, meer as $1,3 biljoen weens brandstigting en meer as ’n halfmiljoen dollar per elke insident van rekenaarbedrog. Volgens die VSA se Handelsdepartement kan ’n derde van alle sakeondernemings wat jaarliks in die VSA bankrot verklaar word, teruggevoer word na werknemersdiefstal. Daar word bereken dat feitlik 50% van alle werknemers skuldig aan diefstal is. Kleinhandelaars in Suid-Afrika verloor jaarliks biljoene rande weens winkeldiefstal of werknemersdiefstal.

Wie betaal?

 Natuurlik betaal iemand hiervoor! Ek en jy en al die ander kliënte deel hierdie las van biljoene rande weens diefstal. Boonop moet ons ook nog vir die verhoogde versekeringspremies, meer sekerheidspersoneel en -toerusting betaal – net omdat winkeldief­stal aan die orde van die dag is. En die verlies word natuurlik by die verkoops­prys gevoeg. Ons betaal natuurlik ook vir misdaad deur ons belastings en die steun aan die polisiediens, die regstelsel en die gevangenisdienste, wat almal veronderstel is om ons teen die kriminele elemente daarbuite in die gemeenskap te beskerm. Ernstiger, egter, is die groot aantal Suid-Afrikaners wat direk deur die misdaad in ons land geraak word en daaronder ly.

Wat veroorsaak misdaad?

Ek het al gehoor hoe universiteitsprofessore en ander kundiges getuig van die ingewikkeldheid van die ontleding van sosiale sowel as ekonomiese faktore wat tot misdaad aanleiding gee. En tog, as ons die Bybel raadpleeg, kry ons ’n baie direkte antwoord: “As misdaad nie dadelik gestraf word nie, is mense se harte vol planne om verkeerd te doen.” Pred 8:11.

Dit is tog sekerlik ’n antwoord wat voor die hand liggend is. Misdaad neem toe in ons gemeenskap omdat ons howe skynbaar meer begaan is oor die ‘regte’ van die misdadiger as die regte van die slagoffer, of van die polisie. Moordenaars is al vrygelaat terwyl lede van die polisie vervolg word. Verkragters is al vrygelaat op grond van presidensiële kwytskelding terwyl slagoffers tronk toe gestuur is omdat hulle hulself verdedig het. Reg het verkeerd geword en verkeerd word deesdae as reg beskou!

Die rol van die regering

Die Bybel is baie duidelik daaromtrent dat God die siviele regering daargestel het om “…die kwaaddoener aan die pen (te) moet laat ry.” Rom 13:4. Hulle is ook opgeroep om God se geregtigheid te laat geskied. Die hoofpligte en verantwoordelikhede van enige siviele regering is die beskerming van wetsgehoorsame burgers en die straf van kriminele wat die wet verbreek. Psalm 101 herinner ons daaraan dat dit die plig van God-erende regeerders is om die bose te vernietig en om die wetsgehoorsames tot eer van God te beskerm. “Omdat die Here dit so wil hê, moet julle alle gesag aanvaar – die koning as staatshoof én die amptenare wat die koning benoem het. Die koning het ’n mandaat aan hulle gegee om dié wat kwaad doen, te straf, maar erkenning te gee aan dié wat goeddoen.” 1 Pet 2:13-14.

Rom 13:3-4 sê verder “Mense wat reg optree, hoef nie vir die owerhede bang te wees nie – die kwaaddoeners wel… Die owerheid is immers ’n dienaar van God om jou beste belange te bevorder.”

Doodstraf

Vir diegene wat die Woord van God as ge­saghebbend aanvaar, is die doodstraf nie ’n keuse of die uitkoms van ’n meningspeiling, of selfs ’n hof- of parlementêre uitspraak nie. Dit is God se baie duidelike opdrag: “Iemand wat ’n mens doodmaak, moet self ook doodgemaak word omdat dié mens as die beeld van God aangetas is.” Lev 9:6. God het die doodstraf ingestel nog lank voor die verordening van die wette van Moses. Om die waarheid te sê, dit is nie slegs vir Noag se tyd uitgeroep nie, maar vir alle geslagte. “As iemand ’n ander persoon so beseer dat hy daarvan sterf, moet hy self doodgemaak word. As hy die persoon egter doelbewus aangeval het met die bedoeling om hom dood te maak, moet hy weggevat word om tereggestel te word, selfs al het hy by die altaar kom skuil.” Eks 21:12-14.

“Enigeen wat die lewe van ’n ander persoon neem, moet doodgemaak word… Ek, die Here, is julle God.” Lev 24:17-22. God se Wet bly selfs na Golgotha geldend – Han 25:22. Jesus het ook geleer: “Julle moenie die rede vir My koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ’n streep deur die Wet of die profete te trek nie. Nee, Ek het gekom om die ware bedoeling van God se Wet te laat uitkom. Ek verseker julle, al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal die Wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly.” Matt 5:17-18. Deur God se Wet te gehoorsaam en moordenaars die doodstraf op te lê, kan ’n volk hulle bevry van die bloed van onskuldiges deur die skuldiges aan die pen te laat ry.

Die teendeel geld ook: ’n volk wat weier om die bloed van onskuldiges van die hand van moordenaars te eis, deel in die skuld van die moordenaar(s). Lees gerus Deut 21:1-9 in hierdie verband. Die teenstand wat die doodstraf van sekere ‘menseregtegroepe’ kry, is baie selektief. Net moordenaars kry die doodstraf – dit is dus ’n goeie vraag waarom hierdie groepe so behep is met die regte van die moordenaars.

Morele reg

Behoort ’n mens nie meelewing te betoon en geregtigheid te laat geskied teenoor die duisende slagoffers en families van slagoffers van geweldsmisdade nie? Sedert die Staat die doodstraf in 1989 in Suid-Afrika op eensydige wyse afgeskaf het, het kriminele meer as 500 000 onskuldiges in Suid-Afrika die ‘doodstraf’ opgelê. Wie veg vir hulle regte?

Wat van die 300 000 wat moontlik in die komende paar jaar vermoor kan word? Enige beskaafde gemeenskap het sekerlik die morele reg en plig om hulself teen diegene wat geen respek vir die lewe het nie, te beskerm? Deur die moordenaar met die dood te straf, is dieselfde as om ’n siek ledemaat te amputeer ten einde die res van die liggaam te red. Alle moord is ernstig en vereis die doodstraf. Dit is noodsaaklik vir geregtigheid, die opperge­sag van die reg en die be­skerming van onskuldiges.

Regstelling

In die geval van diefstal, brandstigting of kwaadwillige saakbeskadiging eis die Bybel dat regstelling moet plaasvind. Regstelling is die herstel van iets tot sy oorspronklike plek of eienaar. Die Bybel vereis dat regstelling teenoor die slagoffer van die misdaad moet geskied. Dit word ook vir strafbare nalatigheid vereis. God se Wet is baie duidelik: die oortreder word aanspreeklik en verantwoordelik gehou vir die vereffening van skuld.

Hy moet werk en verdien, geldelik of andersins, en dit wat nodig is vir die herstel van dít wat geroof, vernietig of beskadig is, daarstel. “’n Dief wat gevang is, moet vir alles betaal wat gesteel is. As hy nie alles kan terugbetaal nie, moet hy self as slaaf verkoop word om die skuld te betaal. As iemand ’n bees of ’n donkie of ’n skaap steel en dit word nog lewendig van hom gekry, moet hy dubbel te­rugbetaal van wat die diere werd is.

Iemand kan toelaat dat sy weiveld of sy wingerd oorbewei word en dan sy vee in ’n ander man se veld injaag om daar te gaan wei. Hy moet dan skadevergoeding betaal met die beste wat sy eie veld kan oplewer. Wanneer ’n veldbrand uitbreek, na iemand anders se veld toe versprei en sy graan afbrand wat geoes is en reeds in gerwe gepak is, moet die een wat die vuur laat weghol het, ten volle vergoed vir die skade.” Eks 22:3-6.

Slegs oortreders baat nou

Die straf moet by die oortreding pas. Hoe ernstiger die misdaad, hoe swaarder die straf (Deut 19:15-21). Onder God se Wet sal daar minder misdadigers, minder slagoffers en ’n baie kleiner las op die belastingbetaler wees. Onder die huidige humanistiese stelsel, het ons tronke instellings geword ter bevordering van onderrig onder misdadigers – hulle leer by mekaar en werk presies uit hoe om nie die volgende keer gevang te word nie. In plaas van regstelling of vergoeding vir die slagoffer en sy familie, is dit die oortreder wat baat vind by die huidige stelsel omdat slagoffers gedwing word om kos, verblyf en vermaak aan die oortreders te verskaf terwyl hulle eintlik ’n straf moet uitdien. Die enigste oplossing vir hierdie situasie is die terugkeer na die Bybelse regstellingsproses.

Verseker dat dit nie lonend is nie

Hier is ’n paar praktiese wenke wat gesonde verstand vereis en wat kan help dat misdaad nie in Suid-Afrika lonend bly nie.

  1. Herhalende oortreders behoort gedwing te word om een vonnis uit te dien voordat die volgende vonnis ’n aanvang neem. Daar behoort nie vir hulle so-iets soos gelyklopende vonnisse te wees nie.
  2. Daar behoort nie borgtog aan herha­lende oortreders toegestaan te word nie.
  3. Alle gewelddadige oortreders behoort die volle verantwoordelikheid vir hul dade te dra of hulle as geestelik daartoe in staat gereken te word, onder die in­vloed van drank of dwelms, of nie (Num 35:16-21).
  4. Straf vir jeugdiges behoort dieselfde te wees as vir volwassenes. Diegene wat ‘volwasse oortredings’ begaan, soos bv. verkragting of moord, behoort ‘volwasse straf’ te dra. (Eseg 18:10-13).
  5. Daar behoort ’n terugkeer na Bybelse beginsels te wees – teregstelling vir alle eerste-graad-moorde, verkragting en ontvoering; regstelling vir alle diefstal of beskadiging van eiendom. (Eks 21 & 22).
  6. Dit is absoluut onmoontlik vir enige polisiemag om die veiligheid van elke landsburger te verseker. Daar behoort geen hindernis te wees indien wetsgehoorsame burgers vuurwapens vir selfverdediging wil bekom nie. Aangesien die grootste meerderheid gewelddadige misdade deur kriminele met ongelisensieerde vuurwapens gepleeg word, is dit belaglik om te dink dat deur die regte van landsburgers om gelisensieerde vuur­wapens te besit en te dra, te beperk, gaan meehelp om geweldsmisdade te verminder. Deur die potensiële slagoffers te ontwapen, dien net die belange van die misdadigers. Ons moet dus die Bybelse regte en verantwoordelikhede van landsburgers om vuurwapens te verkry, besit, dra en te gebruik vir persoonlike of gesinsbeskerming, herbevestig. (Eks 22:2, Neh 4:14, 1 Tim 5:8).

Dit het tyd geword dat die owerhede ’n beginselvaste, sterk en besliste aksie teen misdadigers wat die wet verbreek en min­ag, neem en sodoende wetsgehoorsame burgers beskerm. “Lewer elke dag regverdige uitsprake! As iemand besteel is, beskerm hulle teen die uitbuiters. As julle dit nie doen nie, sal My woede soos ’n vuur brand wat niemand kan blus nie. Dit sal gebeur oor al julle sondes wat julle doen.” Jer 21:112

deur Peter Hammond

 

Kyk ook

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui