Die dood van dogma

*******

Die dood van dogma | Rapport

Rapport, 26 Junie 2005

Anton van Niekerk

Mense vra na moderne belydenis

Dit gaan baie moeilik wees om in ons tyd universele konsensus oor die boodskap van die Bybel te kry. Wie van moderne.mense verwag om alles wat in die Bybel staan letterlik op te neem, is om van ons te verwag om ons intellek te kruisig, skryf ANTON VAN NIEKERK, toevallig in dieselfde week waarin onder meer teologiese suiwerheid op ’n predikanteberaad ter sprake gekom het.

‘n Sentrale aspek van die huidige woelinge in die NG Kerk het te make met die kwessie van Skrifgesag en die tersaaklikheid van die gereformeerde kerke se tradisionele dogmas.

Vir die NG Kerk is dit nie ’n heeltemal nuwe verskynsel nie; die sogenaamde liberale stryd van die negentiende eeu (waarin T.F. Burgers, een van die presidente van die Vrystaatse Republiek, ’n sentrale figuur was) en die Du Plessis-hofsaak van die vroeë jare dertig was voorlopers van die huidige debat. Die tradisionalistiese establishment van die kerk het albei daardie debatte gesmoor. Maar die kwessies sal nie weggaan nie.

‘Ten diepste gaan dit in hierdie gesprekke om die vraag na ’n tersaaklike belydenis vir die mens van die moderne tyd. Die Bybel is ‘n komplekse teks met ’n ontstaansgeskiedenis van etlike eeue. Dis ’n onontkenbare klassieke werk van die ganse Westerse kultuur. Wat egter nie ontken kan word nie, is dat dit ontstaan het en geskryf is in ‘n historiese konteks en op grondslag van ’n veronderstelde wêreldbeeld wat ligjare verwyderd is van die van moderne mense.

In die Bybelse wêreldbeeld is die aarde die middelpunt van alles. Die hemel is “bokant ons”, en die doderyk is “onderkant ons”. Die werklikheid is deurspek met magiese kragte waarvan ons geen begrip het nie. Hulle word gepersonifieer in die vorm van demone en engele.

Daar is geen begrip van die idee dat die natuur ’n stabiele orde is wat redelik verklaar kan word met behulp van waarnemings en eksperimente en waarvan die gedrag op grond van universeel geldende wetmatighede voorspel en daarom selfs ook (in baie gevalle) beheer kan word nie. Die Bybelse wêreldbeeld dra hoegenaamd geen kennis van die wonderwêreld van atome, molekules, kwarke, selle, chromosome en gene wat die moderne wetenskap aan ons onthul het nie.

Wie van moderne mense verwag om alles wat in die Bybel staan letterlik op te neem, is om van ons te verwag om ons intellek te kruisig. Die Bybel moet vertolk word om tersaaklik te wees vir eietydse mense wat leef in eietydse omstandighede met eietydse probleme. Daarom is die vraag na die hermeneutiek of interpretasieteorie in terme waarvan ons die Bybel lees en verstaan van sulke deurslaggewende belang vir die huidige debat.

Dit sal ons goed doen om ietwat meer beskeie te wees oor “dogmas” wat ons op grond van die Bybel formuleer. Juis ons, wat beter as in die sewentiende eeu verstaan hoe mense se interpretasiehorisonne verskuif, moet minder arrogant wees oor “wat die Bybel sê”.

Vir Christene is die Bybel die gesaghebbende reeks van getuienisse van verskillende skrywers oor dit wat hulle beleef het as “die groot dade van God”, Daardie “groot dade” het plaasgevind in die geskiedenis (vir Christene ’n “heilsgeskiedenis”) van God se handelinge met sy bondsvolk soos beskryf in die Ou Testament, en in die verhaal van Jesus van Nasaret — God se finale Selfonthulling aan die mense — in die Nuwe Testament.

Vir gelowige lidmate wat laasgenoemde steeds aanvaar, is die vraag daarom nie of die Bybel aanvaar of verwerp moet word nie, maar wel hoe die Bybel geinterpreteer moet word.

By al die dinge wat oor die teorie van interpretasie gesê kan word, staan een ding soos ’n paal bo water: wat ons vind as die betekenis van ’n teks, ook die Bybelteks, word beslissend medebepaal deur wie ons is, wat ons historiese omstandighede is en watter vrae ons aan die teks stel.

Dat ons “slegs deur die geloof, en nie op grond van die werke van die wet nie, geregverdig word”, is ’n teks wat eeue lank in die Bybel gestaan het, maar waarvan die tersaaklikheid eers werklik deur Martin Luther herontdek is in sy eie besondere historiese omstandighede toe gebruike begin gevestig raak het wat die indruk gewek het dat mense hul verlossing self kan verdien.

Die Reformasie is nie afgehandel met Luther en Calvyn en hul insigte wat in sewentiende-eeuse belydenisskrifte opgeteken is nie. Soos hulle, moet ons opnuut vra wat die Bybel vandag, in ons omstandighede, vir ons sê. Wat dit betref, sal dit ons boonop goed doen om ietwat meer beskeie te wees oor “dogmas” wat ons op grond van die Bybel formuleer.

Juis ons, wat beter as in die sewentiende eeu verstaan hoe mense se interpretasiehorisonne verskuif, moet minder arrogant wees oor “wat die Bybel sê”. Een van die negatiefste nalatenskappe van die Reformasie is die idee dat ’n mens maar die kerk kan skeur ter wille van jou dogmatiese sekerhede. Die verskeurdheid van die kerk in die wêreld is die gevolg van die Reformasie; dit sien ons tot in ons tyd in die stryd oor byvoorbeeld die Belydenis van Belhar wat, ironies genoeg, juis tot stand gekom het uit legitieme protes teen kerkverskeurdheid.

Dit gaan baie moeilik wees om in ons tyd ‘n universele konsensus oor die boodskap van die Bybel te kry.

Dat ons “slegs deur die geloof, en nie op grond van die werke van die wet nie, geregverdig word”, is ‘n teks wat eeue lank in die Bybel gestaan het, maar waarvan die tersaaklikheid eers werldik deur Martin Luther herontdek Is. Dit was in sy eie besondere historiese omstandighede toe gebruike gevestig begin raak het wat die indruk gewek het dat mense hul verlossing self kan verdien.

Die enigste formule waaroor alle lidkerke van die Wêreldraad van Kerke kan saamstem, is: “Jesus is die Here.” Daarin lê egter goeie advies: soek die kern van die Belydenis, en maak jouself minder sorge oor die periferie. Sonder die geloof in die gekruisigde en verrese Christus kan ons nie Christene wees nie. Maar het ons die leer van die maagdelike geboorte of die erfsonde of selfs die lewe na die dood werklik nodig om steeds deel van die kerk te kan bly?

Ortodoksie — die idee dat ons as Christene oor alles wat in die Bybel staan, sal saamstem – is ’n onhaalbare ideaal. Wat myns insiens egter veel belangriker is as ortodoksie, is ortopraksie — die idee dat, hoewel ons nie oor alle leerstellings saamstem nie, ons wel kan saamstem oor hoe ons behoort te lewe en op te tree as Christene.

Ons dink veels te serebraal oor die geloof, so asof geloof slegs iets is van die rede en die verstand. Volgens die prediking van Jesus is geloof egter veel eerder ’n lewenswyse—dié lewenswyse wat blyk uit die Bergpreek (Matteus 5-7) en die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan. Dis die lewenswyse waarin ek ontdek dat ek God eers vind wanneer ek myself prysgee ter wille van die medemens: wanneer ek die ander wang draai, ’n tweede myl saamstap en, veral, verantwoordelikheid aanvaar vir die een wat geval het langs die pad en van wie ek sy enigste uitweg, en daarom sy naaste, geword het.

  • Anton van Niekerk is professor in filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch en ’n gelegitimeerde proponent van die NG Kerk. Sy boek Om eietyds te glo: credo van ‘n onseker gelowige, waarin hy die kwessies vervat in hierdie artikel beredeneer, verskyn later vanjaar by Lux Verbi.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui