In die volgende Facebookplasing reageer Chris van Wyk op Nadia Marais se artikel in Kerkbode Jesus diskrimineer nié (3 September 2018) en wys dat dit direk in stryd is met die Dordtse Leerreëls. Die implikasie is dat sy haar legitimasie-eed verbreek.
In reaksie op Chris se skrywe het die kuratorium gevra vir “respekvolle gesprek” (kyk Kuratorium vra respekvolle gesprek (20 Sep 2018)).
Daar was egter geen gebrek aan respekvolle gesprek nie, maar die enigste manier om Nadia te beskerm was om Chris se karakter aan te val en die man te speel.
***********
Die Dordtse Leerreëls in gedrang | Facebook
Deur Chris van Wyk
6 September 2018
Dit is duidelik dat Nadia Marais se teologie van die vader van die liberalisme kom, Friedrich Schleiermacher, soos sy dit self aanhaal in haar artikel in die Kerkbode: “Jesus diskrimineer nié”. Die beskrywing van God se genade kom dus nie uit die NG Kerk se belydenisskrifte waarvan ons bely dat dit in ooreenstemming met die Skrif is nie. God se genade word volgens ons belydenis onverdiend aan sy uitverkorenes geskenk, maar nie voor die voet aan alle mense nie, soos sy beweer nie.
Schleiermacher het aan die een kant die Augustinus-Calvinistiese siening van verkiesing verdedig, maar aan die ander kant die idee van ’n dubbele predestinasie en die gevolglike ewige verdoemenis vir die ongelowiges verwerp. Schleiermacher het geargumenteer vir ’n enkele predestinasie waardeur alle mense deur God se almagtige genade gered sal word.
Met hierdie siening het hy twee belangrike leerstellings van die Dordtse Leerreëls verwerp: beperkte versoening en verkiesing. Hy het aangevoer dat Jesus vir alle mense gesterf het, en aangesien daar geen partydigheid of wispelturigheid in God mag wees nie, moes alle mense in Christus verkies word.
Schleiermacher het geleer dat ’n ewige hel nie verenigbaar was met die liefde van God nie. Goddelike straf was rehabiliterend, nie strafregtelik nie, en ontwerp om die persoon te hervorm. Hy was dus deur en deur ’n universalis. ’n Teologie wat nie aanvaarbaar in die NG Kerk is nie.
Die Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1.7 leer ons dat sommige uitverkies is en sommige nie:
“Hierdie uitverkiesing is ’n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping ’n sekere aantal mense uit die hele menslike geslag uitverkies. Hierdie menslike geslag het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as die ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies. God het Christus ook van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en tot Fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak. Deur sy Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Hom. Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te gee, hulle te regverdig en te heilig en om hulle, wat kragtig in die gemeenskap van sy Seun bewaar word, uiteindelik as bewys van sy barmhartigheid en tot lof van sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik.”
Daarom verwerp die Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1.8 enige universele verstaan van die genade dat God nie sommige verbygaan met die genade nie:
“Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: God het oor niemand bloot kragtens sy regverdige wil besluit om hom in die val van Adam en in die gemeenskaplike staat van sonde en verdoemenis te laat bly nie. Ook het Hy in die gee van die genade wat vir die geloof en bekering nodig is, besluit om niemand verby te gaan nie. Die Sinode leer: Dit staan vas: Hy is barmhartig oor wie Hy wil, en Hy verhard wie Hy wil (Rom 9:18), en: Die is aan julle gegee om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie (Matt 13:11), en: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir die wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, so was dit u welbehae (Matt 1:25,26).
Dit is die leer van die NG Kerk. Hierdie artikel is direk in stryd daarmee.
Ek plaas my reaksie weer, want die redakteur wil nie my brief in Kerkbode plaas nie.
*********
Op 14 September 2018 het Chris van Wyk ook die volgende Facebookplasing gemaak. Alhoewel hy dit nie so uitlig nie, is dit duidelik ook in reaksie op Nadia Marais se artikel.
Diskrimineer Jesus in die evangelies? | Facebook
Deur Chris van Wyk
14 September 2018
Jesus diskrimineer “nie onbillik nie”, soos in die HAT definisie daarvan: “Diskriminasie: ’n Onbillike onderskeid maak in die behandeling, bv. van persone, groepe.”
Jesus diskrimineer egter wel “op ’n billike manier” in die sin van onderskeidings en keuses wat Hy maak tussen leringe en selfs tussen mense:
* Jesus weerstaan en verwilder die Satan wat Hom probeer verlei om God tweede te laat kom in sy lewe (Matt 4:10).
* Jesus diskrimineer op ’n billike manier teenoor die ander volgelinge van Hom deur twaalf onder hulle uit te kies om dissipels te word waarvan elf uiteindelik apostels (Matt 10:1). Hy kies later selfs ’n binnekring – Petrus, Johannes en Jakobus – wat dinge sien wat vir die ander nie beskore is nie (bv die berg van verheerliking – Matt 17).
* Jesus diskrimineer op ’n billike wyse teenoor die heidennasies deur die twaalf te beveel om net na Jode te gaan met die evangelie (Matt 10:4). Die heidene se tyd sou later kom soos Jesus aan die einde van die evangelie opdrag sou gee (Matt 28:18-20). Hy het ook voorloper genade aan hulle bewys soos by die Samaritaanse vrou (Joh 4).
* Jesus diskrimineer op ’n billike manier teenoor die onboetvaardige dorpe wat Hy verwyt dat hulle hulle nie bekeer het nie (Matt 11:20). Dit is in dié konteks wat Hy sê dat dit net dié is wat die Vader Hom gee wat na Hom toe sal kom en rus kry.
* Jesus verkondig sy verkiesing as ’n “billike diskriminasie” gewortel in God se eie besluit: “Niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.” (Matt 11:27)
Die beginsel kan uit menslike hoek uiteraard as onbillik getipeer word, want God verberg hierdie dinge vir slim en geleerde mense en maak dit aan eenvoudiges bekend (Matt 11:25)! Maar van God se kant af is dit billik en verantwoord al is die redes daarvoor net aan Hom bekend.
En dit is maar net ’n paar penstrepe uit die eerste evangelie in die Bybel, Matteus.