Kyk ook:
- Neels Jackson
- ’n Kerk vry van ideologie? (Dawie de Wet, 26 Okt 2022)
- Word NG Kerk se kultuurprobleem nou in nuwe konteks herhaal? (Gerhard Mahne, 25 Okt 2022)
*******
Die enigste manier om oor die evangelie te praat? – Kerkbode
Kerkbode
27 Oktober 2022
Neels Jackson van Centurion skryf: As ek vir ds Dawie de Wet van Willowmore reg verstaan, sien hy die leer van sonde, verlossing en dankbaarheid as die evangelie. As die gesprek oor sosiale geregtigheid nie oor sonde en vergifnis praat nie, dan is dit nie die evangelie nie, maar ’n ideologie.
Die leer van sonde en vergifnis is inderdaad ’n sentrale deel van die evangelie. Dit is rondom die korrekte verstaan van hierdie leer dat die gereformeerde tradisie ontstaan het. Maar is dit die hele evangelie? Is dit die enigste manier om oor die evangelie te praat? Dit lyk my die Bybelse getuienis lei ons in ’n ander rigting.
Eerstens. Daar kom situasies waarin die taal van sonde en vergifnis nie die regte taal is om te gebruik nie. In die verhaal van die man wat blind gebore is (Joh 9) wil die dissipels weet deur wie se sonde dit is dat die man blind gebore is. Jesus leer vir hulle dat dit nie hier oor sonde gaan nie. In die Job-verhaal was dit verkeerd van Job se vriende om sy ellende in terme van sonde te probeer verklaar.
Of dink aan ’n vrou wat fisiek en verbaal deur haar man verniel is – terwyl hy haar wou wys maak dat dit haar skuld is dat hy haar so moet straf. Met so ’n vrou moet ’n mens nie praat oor haar skuld nie. Haar waardigheid en selfrespek moet herstel word.
Tweedens. Die evangelie van God praat ook op ander maniere oor hoe God by mense betrokke is. Dit vertel byvoorbeeld van gebrokenheid en heling. Dit is wat met die blindgebore man van Johannes 9 gebeur het – en met soveel ander deur Jesus se wonderwerke.
Die Bybel vertel soms van verdrukking en bevryding. Dink aan die uittogverhaal in Eksodus. Of dink aan die lofsang van Maria in Lukas 1. As sy sing: “… maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog”, dan is dit nie ideologiese taal nie. Dit is ’n lofsang tot God.
Soms het ’n mens taal van stryd teen onreg nodig om oor die evangelie te praat. Dit gebeur byvoorbeeld wanneer Jesus die tafels van die geldwisselaars in die tempel omkeer en sê dat hulle die tempel in ’n rowersnes omskep het. Dit is by daardie tafels wat die armes uitgebuit is. Jesus bestry hierdie onreg. En dit is omdat onreg teen God se wil is dat die digter van Psalm 26 kan uitroep: “Laat reg aan my geskied, Here …”
Soms kom die evangelie na vore in die insluiting van mense wat gewoonlik uitgesluit is. Jesus se aardse bediening is vol daarvan.
En so sou ’n mens die ryke verskeidenheid van perspektiewe wat die evangelie bied, kon opnoem.
Om sonde en vergifnis as die enigste manier te sien waarop daar oor die evangelie gepraat kan word, is ’n ernstige verskraling van die evangelie. Jesus het nie gesê Hy bring die evangelie van verlossing nie. Hy het die evangelie van die koninkryk van God gebring (Luk 4:43). Dit sluit verlossing in, maar ook soveel meer.
Ek dink ’n mens moet versigtig wees om nie ander aspekte van die evangelie te misken en as wêreldse ideologieë te etiketteer nie.
Wat maak ons te midde van die meesleurende stroom van die postmoderne kultuur van die dag? Hoe tree gelowiges op midde-in die strominge van postmodernisme? Hoe gemaak met ’n “ander evangelie” en ’n “ander Jesus” wat voorgehou word? Daar word vertel dat Jesus se lewe baie belangriker is as die leer oor Hom. Jesus is nie die Een wat in gehoorsaamheid aan Sy Vader gekom het om ons van ons sonde te kom verlos nie – Hy was eerder iemand wat sosiale geregtigheid laat geskied het en wat naasteliefde aan alle mense bewys het. In postmodernisme het die leer oor die sonde het geen plek nie. Daarom vervaag ewigheidsbegrippe soos hemel en hel. Hel is waar daar die uiterste nood en ellende op aarde is (armoede, ellende, onreg ensomeer), en hemel is waar die kerk hierdie toedrag van sake met mag en mening beveg.
Die hooftemas rakende die ware evangelie is saamgevat in die Twaalf Artikels wat deel is (of behoort te wees) van die liturgie van die NG kerk. Jesus self gee Sy Groot Opdrag in Matteus 28 verse 18 tot 20. Daar mag onsekerheid oor sommige sake in die Skrif bestaan, maar oor hierdie hooftemas is daar geen twyfel nie.
Gelowiges het ’n keuse: gaan saam met hierdie postmoderne kultuur-van-die-dag-stroom of leef die kultuur van die Handelinge kerk uit – hulle het nie teruggedeins vir die uitdaging om die waarheid in ’n vyandige omgewing te verkondig nie. Hulle het ’n verskil gemaak binne die kultuur van hulle dag deur getrou te bly aan die ware evangelie.