In die artikel hieronder pleit Anton van Niekerk vir kerkeenheid ten alle koste. Die huis moet eerder ruimer gemaak word sodat almal steeds tuis voel. Hy pleit vir ortopraksie eerder as ortodoksie.
‘n Eenvoudige verskil tussen ortodoksie en ortopraksie is die volgende:
- Ortodoksie = regte geloof
- Ortopraksie = regte praktyk
Kyk ook Ortopraksie teenoor ortodoksie.
Anton sê:
“Met “ortopraksie” bedoel ek die strewe om, as ons dan nou nie oor alles in ons koppe kan saamstem nie, ons hemel en aarde moet beweeg om saam te werk in die diens wat die Kerk aan die wêreld moet lewer.”
Dus kan elkeen maar sy eie beeld van God vir homself skep (wat niks anders is as afgodediens nie) solank ons nie skeur nie.
Dit is totaal on-Bybels!
Kyk ook Kerkeenheid.
*******
Die ewige stryd om ware geloof | Netwerk24
Anton van Niekerk
07 Desember 2021
Behoort die Christelike Kerk aan te hou om onderling te baklei oor hoe en wat ons moet glo?
Roep in herinnering Christus se bekende gebed in Johannes 17:21: “Ek bid dat hulle (dit is Sy volgelinge, die Kerk) één mag wees, net soos U, Vader, in My is en ek in U, dat hulle ook in ons mag wees, sodat die wêreld kan sien en glo dat u my gestuur het.”
Ek vind dit van die sterkste taal in die hele Bybel: Christus maak in hierdie woorde die eenheid van die Kerk die voorwaarde waaronder die wêreld sal glo in dié God wat in Christus geopenbaar is.
Maar wat moet ons glo? Daaroor baklei ons alte graag en veral sedert die Kerkhervorming van die 16de eeu, toe die gedagte vir die eerste keer fatsoenlik geword het dat die Kerk mag skeur ter wille van ’n bestaande of ’n nuwe ortodoksie.
Met “ortodoksie” bedoel ek die vermeende konsensus wat vervat word in elke belydenisskrif.
Vandaar die hordes kerke en geskrifte wat met nóg ’n skeuring dreig of nóg ’n ortodoksie verdedig.
Ek vertel graag ’n storie daaroor wat ek self ervaar het. Toe my finalejaar-teologieklas ten tyde van ons legitimasie in 1979 gevra is om twee groepe senior predikante te ontmoet wat by dieselfde geleentheid ’n reünie gehou het, het ’n verteenwoordiger van elke groep ons “toegespreek”.
Die eerste dominee – ’n fors man vol selfvertroue – vertel ons toe met taamlike bravade van die prestasies van sy klasmaats oor die jare heen. Sy groep het sóveel moderators, sóveel skribas, sóveel aktuarii en sóveel teologiese professore opgelewer.
Toe kom die tweede groep se verteenwoordiger aan die woord – beskeie van houding, stem en postuur. “Ja . . .” begin hy huiwerig, “ons klas het nou wel nie naastenby soveel dominees en teoloë in belangrike poste opgelewer nie. Maar ek kan wel die jong broeders wat voor my sit, verseker dat óns klasgroep verreweg die meeste leiers opgelewer het wat elk hul eie kerk gestig het!”
Sy verhaal was, en is steeds, vir my baie snaaks.
En tog verwoord en illustreer dit ’n enorme tragedie: die verskeurdheid wat so endemies is aan die Kerk; die verspotte oortuiging dat elke keer as ’n individu of groep beetgepak word deur ’n nuwe idee of oortuiging – meestal gegrond op ’n ander, dikwels meer eietydse interpretasie van die Bybel – dan regverdig dit die stigting van ’n nuwe kerk. En dit terwyl die kern van Christus se hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 juis aanvoer dat die wêreld se geloof in die Eenheid tussen Hom en Sy Vader afhang van die (sigbare) eenheid vir Sy volgelinge – die Kerk.
Waar lê die grootste probleem?
Ruimte laat nie toe dat ek te veel daaroor sê nie. Tog meen ek dat ’n kernaspek van die probleem rakende die eenheid van die Kerk die gevolg is van die sug na ortodoksie. In hoogs uitsonderlike gevalle kan ons weliswaar die strewe na ortodoksie nie geringskat nie. Die Reformasie en die ontstaan van die Belhar-belydenis illustreer dit.
Ons behoort wel in hierdie dae minder besorgd te wees oor ortodoksie en méér oor ortopraksie.
Met “ortopraksie” bedoel ek die strewe om, as ons dan nou nie oor alles in ons koppe kan saamstem nie, ons hemel en aarde moet beweeg om saam te werk in die diens wat die Kerk aan die wêreld moet lewer.
Ons hoef nie oor alles wat ons glo, met mekaar saam te stem nie. Ons durf wel nie toelaat dat dit ons stuit in die uitvoering van die Kerk se dienswerk-verantwoordelikheid nie.
Aan laasgenoemde kan ons almal saamwerk.
Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.