Die goeie nuus van die evangelie

Kyk ook:

Dr Nadia Marais doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Dus lei sy toekomstige NG Kerk predikante op.

Sy is baie uitgesproke ten gunste van die gay-kwessie (kyk Wie is Nadia Marais?).

Die titel van haar artikel hieronder is “Die goeie nuus van die evangelie”. Die goeie nuus van die evangelie word saamgevat in:

Johannes 1:12: Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Johannes 3:16: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Dus gaan die goeie nuus van die evangelie nie oor ons aardse lewe nie, maar oorwegend oor die lewe hierna in die hemel. Dit is daarom dat die sendingopdrag gegee word om hierdie goeie nuus te gaan verkondig sodat soveel as moontlik mense hierdie verlossing kan ontvang. Paulus gaan verder en sê in Filippense 1:21: want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.

Dit is dus duidelik dat die lewe hierna veel belangriker is as die lewe hier op aarde.

Hieroor sê Nadia egter bitter min in haar artikel. Inteendeel, dit is uiters moeilik om te verstaan wat sy wil tuisbring.

Besluit maar self wat sy hierdeur wil sê. My kommentaar verskyn tussen [rooi-bruin blokhakies].

***********

Die goeie nuus van die evangelie | Kerkbode

26 Maart 2018

Nadia Marais

Daar moet tog meer wees aan hierdie lewe as pyn en dood, teleurstellings en tekortkominge van ons geliefdes en vriende, verraad en vergrype en geweld en onreg wat ons oral rondom ons waarneem. “Hoe kan ek ooit weer gelukkig wees?” vra die teoloog Ellen Charry na die afsterwe van haar man. Anders gestel, aan watter goeie nuus hou ons vas? Wat is goed aan die goeie nuus?

Hierdie is van die belangrike, dog komplekse vrae waaraan ’n hele aantal teoloë tans aandag skenk. Ook nie net teoloë nie, maar akademici in verskeie dissiplines en vakgebiede fokus op die inhoud van geluk, ’n goeie lewe, welwese, florering.

In reaksie op die opbloei van die positiewe sielkunde heroorweeg ook teoloë en kerke die inhoud van God se “ja”: die goeie nuus van die evangelie. So skryf Ellen Charry van Princeton byvoorbeeld ’n boek oor God en die kuns van geluk, waarin sy argumenteer dat die verlossingsleer die plek is waarvandaan die kerk die goeie nuus bedink; en span talle ekologiese teoloë, feministiese teoloë en bevrydingteoloë die taal van “florering” in om uitdrukking te gee aan die goeie nuus van die evangelie.

Die besorgdheid oor menslike florering is alreeds duidelik in die seëntaal van die Bybel, waaronder die saligsprekinge wat in beide die Ou en Nuwe Testament teëgekom word, en wat in Afrikaans op verskeie maniere vertaal word: “gelukkig”, “geseënd”, “welgeluksalig”, byvoorbeeld. In laasgenoemde vertaling word die teologiese taalverbintenis tussen “verlossing” of “saligheid” en “geluk” besonder duidelik gemaak: Die goeie nuus van die evangelie het te make met geluk, florering, seën, oorvloed, lewe. [As jy slegs na die Ou Testament kyk, mag jy dalk tot hierdie gevolgtrekking kom, maar die Nuwe Testament vertel iets anders. Jakobus sê “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom” (Jak 1:2). Dus gaan dit duidelik NIE oor wêreldse geluk nie.] Tog is die nadenke hieroor allermins ’n eenvoudige taak, want – skryf Allan Boesak – ons leef in ’n tyd waarin ons ontnugter is deur ons eie vooruitgang en waarin ons verlange na die goeie verlam is.

Daarbenewens is daar wesenlike gevare, elkeen met die potensiaal vir misbruik, aan die kerk se pogings om hierdie goeie nuus te verwoord. Dit is moontlik om die goeie nuus van die evangelie op ons diepste wense en drome te skoei, en dit sodoende te verbuig tot ’n welvaartsboodskap waarin verlossing gelyk is aan rykdom en gesondheid. Dit is moontlik om die goeie nuus van die evangelie uitsluitlik mensgerig te interpreteer, sodat verlossing slegs menslike florering beteken; dikwels dan ook ten koste van ander lewende wesens en die ekologie. [Dit is nie seker wat sy hier bedoel nie. Verlossing gaan daaroor om van die hel gered te word – om hemel toe te gaan. Verlossing het dus niks met menslike florering op aarde en die ekologie te doen nie.] Dit is moontlik om die goeie nuus van die evangelie te verskraal tot ’n oppervlakkige soort optimisme, waarbinne hoegenaamd geen troos vir pyn, dood of lyding te vinde is nie. Die kerk vind haar heil immers nie in enige goeie nuus nie, maar in die spesifieke goeie nuus dat ons deur die drie-enige God geskape, gekies, gered en getroos word. [Ek sou met haar kon saamstem, mits sy erken dat hierdie goeie nuus slegs verkry kan word deur Jesus Christus aan te neem.]

Die moeiliker vraag waarmee die kerk dan worstel, is of sy haar heil in die goeie nuus van die evangelie vind. Die grootste versoekings vir die kerk, oor die eeue heen, sou nie ’n gebrek aan entoesiasme, positiewe denke of strategieë wees nie; maar liewer om nie aan sommer enige goeie nuus vas te gryp en vas te klou nie. Elkeen van die klassieke leerdwalings was gewild en aantreklik, juis omdat dit pogings was om uitdrukking te gee aan goeie nuus – maar nietemin ’n verbuiging, soms meer subtiel en soms minder so, van die goeie nuus van die evangelie. Dan sou die kerk se taak behels om hierdie goeie nuus van ander goeie nuus te onderskei.

Hierdie taak behels onder meer om die aantreklike alternatiewe vir die goeie nuus van die evangelie, wat in ons eie hart en in ons midde leef, uit te ken. In die NG Kerk spring ons dit ook nie vry nie. Talle Suid-Afrikaanse teoloë het daarop gewys dat natuurlike teologie – gegrond in die argument dat daar ’n skeppingsorde en skeppingsordeninge is waarin ons ons heil kan vind – ten diepste ’n verbuiging van die verlossingsleer is. Die natuurteologiese argumente wat gebruik is om apartheid te regverdig is nie net as sondig beskryf nie, maar ook as kettery, leerdwaling, ’n evangelie naas dié evangelie. [Ek het haar verloor.]

Tog blyk skeppingsordeninge desnieteenstaande nog altyd deel van die kerk se taalgebruik te wees; en steek ou natuurteologiese lieflingargumente weer kop uit in die debat oor seksualiteit. [Wat het seksualiteit met die goeie nuus van die evangelie te make?] Dalk het ons nooit werklik afgesien daarvan nie, die ekumeniese verwerping van hierdie soort heilsbegrippe ten spyt. In ons nadenke oor die aard en omvang van die goeie nuus van die evangelie word ons dan ook dikwels voor goedbedoelde teologiese versoekings gestel, en word die foutlyne in ons heilslere en verlossingsbegrippe pynlik opvallend.

Tog blý dit die kerk se taak om die goeie nuus van die evangelie – die onvervangbare verlossingsboodskap – te verkondig. Hoe ons getrou bly aan hierdie spesifieke evangelie, te midde van soveel ander evangelies wat verkondig word (en kan word), toets ons aan ons eie diepste geloofsoortuigings oor wat die goeie nuus van die evangelie behels. [Dit lyk of sy wil impliseer dat daar mense is (die konserwatiewes) wat met goeie bedoelings die goeie nuus van die evangelie aangryp, maar sekere mense (homoseksueles) daarby wil uitsluit.]

  • Dr Nadia Marais doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

1 thought on “Die goeie nuus van die evangelie”

  1. Dus kan ek saam met die kommetaar in rooi stem en maak ek die afleiding dat die probleem wat ons het begin by die opleiding van toekomstige kerkleiers en kan ons verwag dat die evangelie reeds daar al skip breuk lei en die kerk aangaande brandpunt kwessies soos Rom 1 klaar ‘n verdraaing van GOD se woord word om mense se opinies bo GOD se waarheid te stel.
    Dankie vir goeie kommentaar oor haar “opinie”.
    Groete.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui