Die volgende artikel het oorspronklik in Kerbode verskyn. Dit is ongelooflik hoe sterk Ben du Toit stelling inneem teen sekere dinge in die Kerk in die artikel hieronder. Hy is bv sterk gekant teen die groot doop en veral die her-doop. Maar as dit kom by waarhede in die Nuwe Testament oor Jesus en die bestaan van die duiwel, het Ben geen sterk opinies nie.
************************
Die herwinning van die betekenis van die doop
Dr Ben du Toit
2005/05/13
Die boodskap van die doop is ’n wonderlike genade-boodskap. En die gesprekke wat deesdae weer so intens oor hierdie kosbare sakrament gevoer word, skep ’n gulde geleentheid om ons weer van die wonder daarvan te vergewis, om te herontdek hoe ons die Evangelie binne die gereformeerde tradisie verstaan.
DEEL 1
Buiten die krisis rondom die “grootdoop vs kinderdoop”, wat homself siklies deur die gang van die geskiedenis in die kerk herhaal, is daar in ons tyd sekere faktore wat die gesprek oor doop nog meer dringend en meer kompleks maak. Hierdie faktore is:
1. Blootstelling aan verskillende Christelike en godsdienstige kontekste
Tot sowat 15 jaar gelede het die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika (deur middel van die belange van hulle lidmate) indirek (en soms direk) beheer oor die media gehad. Ons kon bepaal wat in die media gelees (gedrukte media), gehoor (radio) en gesien word (TV). Met die aanvaarding van ons nuwe Grondwet (1994) waarin die Handves vir Menseregte opgeneem is, word godsdiensvryheid en gelyke regte vir alle mense gewaarborg. Die openbare media moet hierdie regte eerbiedig en reflekteer. Ons word dus sedertdien blootgestel aan ’n uiteenlopende spektrum van Christelike en ander godsdienstige tradisies. Die vraag van ons tyd is nie meer “Wat is die waarheid?” nie, maar “Wie se waarheid is waar?”
2. Verbruikersmentaliteit:
Ons mense het gewoond geraak aan ’n feitlik onbeperkte verskeidenheid verbruikersitems om van kies – van ontbytpap tot vermaak tot ’n kerk! Die gevolg is lojaliteit aan ’n bepaalde saak of produk nie meer vanselfsprekend is nie. Die subtiele invloed van hierdie verbruikersmentaliteit word ook in die wêreld van godsdiens sigbaar. Mense is nie meer vanselfsprekend lojaal aan die NGK nie, hulle “shop” ook vir ’n kerk, hulle gaan aanbid waar hulle voel dat hulle behoeftes die beste gedien word.
Die NGK se Algemene Sinode se besluit ten gunste van stippellyngrense vir gemeentes is juis onder meer om ruimte te maak vir die diverse behoeftes van mense. Dit word immers nou as mense se reg beskou om te aanbid binne die spirituele konteks van hul keuse. As iemand dus nie van ’n gemeente, die leraar of die aanbiddingstyl hou nie, gaan hulle na ’n ander gemeente of selfs ’n ander kerk, sonder om daaroor skuldig te voel.
3. Destruktiewe teologiese invloede
Die gereformeerde verstaan van die Bybel word maklik verdraai deur blootstelling aan ’n (veral Amerikaans-gebaseerde) fundamentalistiese Skrifgebruik – waarin die Bybel direk [en op die klank van die woord af] op ons van toepassing gemaak word, sonder om die verskil tussen die konteks van die Bybel en ons tyd te verreken.
Videos en boeke wat ’n verdienstelikheidsleer propageer (en herinner aan die ou Armenianisme), met ’n stywe dosis (waarskynlik onbedoeld en naïef gemotiveerd) welvaartsteologie is vollop in omloop – en word heel dikwels ook deel van ons lidmate se teologie. Voorbeelde hiervan is die “Gebed van Jabes” wat wyd inslag gekry het onder baie van ons lidmate, asook ’n gedeelte soos 2 Kronieke 6 en 7 wat populêr gebruik word om hierdie lering te ondersteun. Hierin word rampe en teënspoed ongekompliseerd direk gesien as die gevolge van sonde. Wanneer die sonde bely word en bekering plaasvind, word vergifnis en nuwe seën (in die vorm van konkrete voorspoed) belowe.
Hierdie soort lering binne die NG Kerk beïnvloed veral ons verstaan van die verlossings-boodskap van Jesus Christus. Alhoewel dit Ou Testamentiese toelogie is, is dit nie Christelike teologie nie. Hierdie soort lering het die gevolg om ’n “Christelike” leer te propageer wat vreemd is aan ons tradisie – en ons nie help om die radikale onverdienstelike genade-boodskap van die doop helder te sien nie.
4. Soeke na warmte en aanvaarding
Daar word dikwels gesê die groei van die Charismatiese kerke is op die rekening van die NG Kerk, omdat ons nie vir mense ’n veilige, warm tuiste bied nie. Die perspektief bestaan, reg of verkeerd, dat die Gereformeerde kerke veroordelende, eksklusiewe gemeenskappe is, waarin daar ’n gebrek aan lewe, vernuwing, opwinding en vreugde is. Daarom soek mense dit elders en vind dit in die Pinkstergroepe, waar entoesiastiese eredienste beleef word, hulle welkom en geag voel, in nood bygestaan word, persoonlike aandag ontvang en voor gebid word – waar hulle dus die teenwoordigheid van die Here op hierdie manier ervaar.
Mense gaan nie noodwendig omrede die doop oor na ander kerke toe nie. Trouens, mense gaan selde oor na ander kerke as gevolg van leerstellige sake. Hulle neem hierdie besluit heel dikwels omdat hulle oor ’n bepaalde saak in die NG Kerk ongelukkig is. Hulle gaan dus ook omdat dit vir hulle daar aangenamer is. Die reeds genoemde maklike denkskema van sonde-teenspoed-bekering-gehoorsaamheid-seën is ’n baie aantreklike boodskap vir mense wat swaar kry weens weens werkloosheid, verarming, ontmagtiging, kinder- en huweliksprobleme en konflik.
Aan die ander kant van die munt is die eis van naasteliefde in ’n rasse-gepolariseerde gemeenskap (’n sterk tema in die NG Kerk wat amptelik worstel met kerk-hereniging en die Belydenis van Belhar) nie gewild nie. Daar is ’n weerstand teen die werklike moeilike, veeleisende uitdagings van naasteliefde. Daarom bevredig hierdie (ander) kerke en selfs teologiese sieninge binne die NG Kerk dikwels ’n sterk behoefte aan werklikheids-ontvlugting. Dis dus ook te verstane dat selfs iets soos die leer van die wegraping vir baie mense uiters aantreklik klink: Dit “verkoop” maklik. Dit stel die vooruitsig dat gelowiges en die onafwendbare toekomstige ellende sal vryspring.
Die NG Kerk moet hieruit ernstige lesse leer en maniere vind om mense die teenwoordigheid van God te laat beleef, sonder om op te gaan in ’n ander soort spiritualiteit en gepaardgaande ander teologie, wat net nog meer verwarring en onsekerheid op die lang duur veroorsaak.
5. Gebrekkige kennis van ons Gereformeerde belydenisskrifte
Ons lidmate het teologies verarm. Die gebrek aan basiese Bybelkennis is elke jaar ’n verontrustende verskynsel wanneer nuwe lidmate belydenis van geloof moet aflê – om nie eers te praat van ’n gebrek aan kennis van die Belydenisskrifte nie. Daarby ontbreek dit predikante somtyds aan die vaardigheid om op ’n verantwoordelike wyse vertolking ten opsigte van die Bybel en die belydenisskrifte toe te pas (hermeneutiek). Gemeentelede leef dus baie maal in onsekerheid. Hulle beleef die kerkleiding ook as onseker oor baie (meestal etiese) sake, maar ook oor selfs fundamentele teologiese geloofsoortuigings soos die doop.
Daar is ’n groot behoefte aan lering in die kerk. Dit is dan ironies dat mense dit gaan vind in Christelike groepe buite die kerk. Hierin lê ’n groot uitdaging vir ons predikante opgesluit. Hierin lê ’n groter uitdaging en verantwoordelikheid vir ons teologiese fakulteite opgesluit. Hoe prominent is die vertolking van die belydenisskrifte in teologiese opleiding?
Hierdie uitdagings dwing ons om weer betrokke te raak by teologiese gesprekke, om te vra na die herkoms van ons teologiese standpunte. En daardeur opnuut die gereformeerde tradisie te her-waardeer. Die krisis rondom die doop is dus nie net negatief nie, maar juis ’n geleentheid wat ons opgewonde behoort te maak – ’n geleentheid wat ons behoort aan te gryp..
DEEL 2
Wat leer ons kerk oor die doop? Kortliks die volgende:
1. Die kerk is ten gunste van beide die groot- en kleindoop
Dit is ’n valse voorstelling om te sê dat die NG Kerk teen die grootdoop is. Baie mense word in die NG Kerk as jongmense en volwassenes gedoop. Dit kom feitlike elke jaar voor met belydenis-aflegging. In sendingsituasies (soos die Nuwe Testamentiese tyd inderdaad ook was) word mense vandag in ons kerk groot gedoop nadat hulle die evangelie gehoor en die verlossingswerk van die Here aanvaar het. Wat egter ten sterkste afgewys word, is enige vorm van herdoop (later meer hieroor) In die breër Christelike kerk is hieroor ’n intensiewe ekumeniese gesprek sedert die 60-tiger jare aan die gang – spesifiek binne die Wêreldraad van Kerke. Dit is tog belangrik dat ons nie in ons klein hoekie alleen oor hierdie saak van die doop sal dink nie, maar ernstig sal kennis neem van wat die groter Christelike gemeenskap amptelik oor die saak sê.
’n Uiteenlopende groep Christelike kerke (waaronder ook Pentekostalistiese Kerke) het reeds in 1983 hulle in die sg BEM-dokument (Baptism, Eucharist and Ministry) van Faith and Order (WRK) verbind tot die weerhouding van die her-doop van mense, omdat enige sodanige handeling die integriteit van die sakrament self as ’n teken van God se genadige verbintenis aan iemand in sy wese aantas. Dat plaaslike Baptiste en ander Pentekostalistiese kerke hulle nie hieraan verbonde voel nie, is te verstane uit hoofde van hulle independentistiese beskouing oor kerkverband in die algemeen in die Christelike kerk asook in die ekumeniese beweging in die wêreld. Tog word hiermee ’n belangrike teologiese vertrekpunt gestel wat instemmend is met die klassieke Christelike geloof en ons kan nie dit maar net ignoreer wanneer ons ons wil vergewis van ’n standpunt oor die saak in die kerk nie.
2. Die verstaan van die doop in die Gereformeerde kerke hang ten nouste saam met die verstaan van verlossing
Ons kerke word vandag juis wat dit betref sterk beïnvloed deur die siening en lering en prediking van die Pinkster-kerke. Vir hulle kom geloof voor doop (soos by ons met ongedoopte volwassenes), en hulle sien dit as ’n daad van gehoorsaamheid, van aanvaarding van hul kant af van die genade van God. Trouens, vir hulle is die doop nie geldig as ons dit nie persoonlik aanvaar nie. Daarom herdoop hulle sonder meer mense wat reeds gedoop is. Vir sommige Pinkster-groepe is die kinderdoop selfs ’n onaanvaarbare dooppraktyk wat nie “Bybels” is nie en pleeg ouers wat hul kinders laat doop, sonde.
Die Gereformeerde kerke glo egter die geldigheid van die doop hang nie van ons aanvaarding daarvan af nie, maar berus in God self: die grond van ons geregtigheid is alleen in God te vind. Dit is God se teken van Sy verbintenis aan ons. Ons kan dit nooit waardig wees nie. As die geldigheid daarvan van ons sou afgehang het, sou ons altyd in onsekerheid geleef het.
Want, wanneer weet ’n mens nou genoeg; glo jy genoeg? Mettertyd besef ’n gelowige dat jy gegroei het in kennis en jou geloof beter as voorheen verstaan. Beteken dit dat jy dan weer gedoop moet word omdat jy die behoefte het om jou van jou kant af opnuut te verbind? Nee. Daarom praat ons van die onverdiende genade van God wat ons red.
Mense verstaan die woord “genade” vandag ook moeilik. Ons leer van kleins af dat ’n mens niks verniet kry nie – jy moet hard werk vir jou besittings en voorregte. Ons verstaan dus moeilik dat ons iets uit genade kan ontvang. Die doop is eintlik ’n uitstekende illustrasie van genade – wanneer God homself byvoorbeeld aan ’n kindjie (wat nog nie kan kies of weet hoe om te glo nie – en dit daarom op geen manier kan verdien nie) verbind. Wanneer God sy beloftes aan ’n kindjie toesê, verstaan ons dat dit onverdiende genade is.
Soos reeds in Deel I gestel is word daar al te gemaklik gewerk met ’n denk-konstruksie (veral uit die Ou Testament) wat leer dat die sleg wat jou oorkom die gevolg is van jou sonde. As jy jou egter bekeer, om vergifnis vra, van jou verkeerde weë afskeid neem en reg leef, sal God jou vergewe en jou seën met voorspoed (natuurlik die hemel eendag, maar ook ’n geseënde lewe hier op aarde).
Binne ons geloofstradisie glo ons egter doen nie goeie werke om gered te word nie, maar ons doen goeie werke uit dankbaarheid omdat ons reeds gered is. God en Sy genade, is eerste daar. Slegte dinge wat jou oorkom, soos rampe, siektes of lyding, is nie die direkte gevolge van sonde nie. Droogte vind nie plaas as gevolg van mense se sonde nie – hoewel iets soos hongersnood natuurlik indirek die gevolg van byvoorbeeld die onverantwoordelike omgaan met die natuur kan wees. En misdaad en geweld (sonde) lei natuurlik tot dood en lyding en selfs verarming. Maar, daar is nie ’n simplistiese direkte verband tussen sonde en rampe nie.
Trouens, omgekeerd glo ons ook dat as ’n mens as ’n opregte kind van die Here binne Sy wil te probeer leef, en die regte dinge doen deur mense lief te hê en te vergewe, dit nie noodwendig ’n geseënde, voorspoedige lewe sal verseker nie. Die teendeel is dikwels waar, wanneer uitermate toegewyde mense die een ramp na die ander beleef. Lees maar Hebr 11, waarin na twee groepe geloofshelde verwys word – diegene wie se geloof vir hulle voorspoed en seën gebring het, maar dan van vers 36 af die naamloses wat ten spyte van hul geloof, nie die beloftes bewaarheid gesien het nie, gely het en dikwels vreeslike dode gesterf het.
3. Ons leer om die genade van God te verstaan deur die hele Bybel in berekening te bring
Gereformeerdes glo nie in ’n skerpskutter-aanslag op die Bybel nie. Ons haal nie verse uit en bou ’n dogma daarom nie. Ons doen dit ook nie met hele geskrifte nie, en selfs nie eens met die Ou of Nuwe Testament op hul eie nie. Ons glo die hele Bybel moet in sy volle verband gelees word om die hele prentjie te kry van die genadige God wat ons aanbid en hoe Hy homself deur die geskiedenis telkens as sodanig openbaar het.
Daarom moet ’n mens gedurig die groter lyne wat deur die Bybel loop, raaksien en die fyner besonderhede in die lig daarvan verstaan. Doen ’n mens dit nie, kan ’n mens ’n drogbeeld van die God van die Bybel oprig.
God het oral tekens opgerig om die verstaan van Hom as ’n genadige God te versterk. Een van die eerste tekens van genade, was die teken aan Kain. Dit word soms verkeerdelik in ons volksmond as ’n negatiewe teken, die teken van ’n moordenaar, beskou. Maar as ons mooi lees, sien ons dis ’n genadeteken (Gen 4:15) – die teken wat God aan Kain gegee het sodat niemand hom mag doodgemaak het nadat hy sy broer vermoor het nie! God het Kain uit genade beskerm.
Die verbondsluiting het heelwat later plaasgevind (Gen 17) en die teken van genade (besnydenis) is aan Abraham gegee – aan hom en almal in sy huis, tot die seuntjies van 8 dae en ouer. Diegene wat deel van hierdie verbond wou word, moes eers in die God van Abraham glo (Hom aanbid), voordat hy besny is. Dit was nie ’n eksklusiewe teken nie – God se opdrag aan Abraham was eintlik dat hy moes sorg dat al die nasies van die aarde deur hom geseën word. Die teken aan baba-seuntjies het God se onverdiende genade deur Sy verbintenis aan hulle bewys – daarom is dit ’n genadeverbond genoem.
God het telkens sy volk uit genade gered en weer van vooraf met hulle begin. Tog het hulle dit nie verstaan of waardeer nie. Dit is hierdie magteloosheid van die mens om God te behaag wat Hom uiteindelik tot ’n finale stap van genade laat oorgaan het. In Hebreërs (1:1) lees ons dat God, nadat Hy in die verlede (OT) baie met die voorvaders deur die profete gepraat het, in hierdie (laaste) dae deur Sy Seun, Jesus, kom praat het. En na Jesus se kruisiging en opstanding het Hy Sy dissipels beveel om dissipels van al die nasies te maak en hulle te doop in die naam van die Drie-enige God. Dit is (terloops) nie die doop van Johannes nie (sien hieronder) – dit is die doop as inlywing in die liggaam van Christus (soos Paulus dit sou beskryf).
En in Handelinge 15 lees ons dan hoedat uiteindelik finaal van die besnydenis in die Christelike kerk afskeid geneem is, terwyl Paulus in Gal 3:26-29 verduidelik dat as ons in Christus gedoop is, is ons die nageslag van Abraham en erfgename van die beloftes van God. Dit maak nie saak of jy Jood of Griek, man of vrou is nie. Hier is weliswaar ’n nuwe verbond, maar terselfdertyd ’n bevestiging van die oue. Dis ’n genadige verbintenis van God aan mense wat in die verlossing van Christus glo – maar daarom ook, soos van ouds, aan hul huisgesinne as geseëndes deur dieselfde genade. Daarom lees ons (vanselfsprekend) van gesinne wat gedoop is (bv 1 Kor 1:16 en Hand 16:33-34), en verstaan ’n mens met nuwe verrassing nog beter Jesus se optrede (Matt 18 en 19) toe Hy die kindertjies, as die geringstes in die samelewing, tot die vernaamstes in Sy koninkryk verklaar het. Dit is onverdiende genade.
Wie behoefte het aan die (voortdurende) viering van hierdie genadige verbintenis van God, word opgeroep om die nagmaal te gebruik as ’n versterking van hul geloof. Die Pasga was die gereelde viering van die verlossing van die volk van God uit slawerny. Die gereelde viering van ons verlossing as Christene moet daarom aangemoedig word – veral vir diegene vir wie dit belangrik is om van hul kant af hierdie verbintenis te vier noudat hulle beter weet en meer verstaan. Die sakramente word te dikwels in die NG Kerk haastig afgehandel en nie gebruik om met verbeelding en oortuiging die gemeente te herinner aan God se genadige verbintenis aan hulle nie, asook ons antwoord daarop deur dankbare toewyding.
4. Die bekerings-doop/getuienis-doop/herdoop: Kan dit?
Vanuit verskeie oorde kom daar vandag die aandrang tot die toelating van ’n tipe herdoop-praktyk in die NG Kerk. Dit word by verskillende name genoem. Sommige praat van ’n bekeringsdoop. Ander van ’n getuienis-doop. Hoe ’n mens ookal daarna kyk, is dit net logies onmoontlik dat dit nie op een of ander manier as ’n her-doop, of tweede doop verstaan sal word nie. In die inleiding hierbo is verduidelik hoekom hierdie behoefte by baie mense in die NG Kerk vandag so ’n wesenlike een is. Kom ons kyk na die verskillende sake wat hier ter sprake is:
4.1 Die bekeringsdoop: Dit is effe onverstaanbaar dat mense vir die doel van onderskeiding hierdie her-doop as bekeringsdoop wil tipeer. Die doop as verbondsdoop is nog nooit anders gesien is as ’n bekeringsdoop nie. Die gereformeerde verstaan van die doop is dat dit juis alles te doen het met bekering, dat dit God is wat Homself aan die dopeling verbind en dat daarmee die dopeling opgeroep word tot ’n lewe van bekering.
Aan die anderkant, indien ’n persoon eers as volwassene die Evangelie hoor en aanvaar, volg die doop op hierdie persoon se aanvaarding van sondevergifnis deur Jesus Christus – dus as reaksie op sy/haar geloofsbelydenis dat Jesus sy/haar Verlosser is. Wanneer iemand as kind gedoop word, is God se verbintenis aan hom/haar daarop gerig dat hierdie kind, wanner hy/sy tot verstand gekom het (met ander woorde tot kennis en insig van die Evangelie van Jesus Christus gekom het), hulle hulle dan tot God sal bekeer – juis op grond van Sy beloftes en trou dat hulle uit genade gered word. Dit sou dus nie werk om hierdie tweede doop onderskeidend ’n bekerings-doop te noem nie.
4.2 Die getuienis-doop: Hierdie naam vir hierdie doopgeleentheid het skynbaar die bedoeling dat mense voel hulle was te jonk toe hulle gedoop is en dat hulle daarom daarin nie ’n keuse gehad nie – selfs dat hulle ouers se lewe en begrip van die doop toe nie op ’n peil was nie. By baie is daar egter nie eers ’n vraagteken of hulle doop geldig is of nie. Al wat hulle nou voel is dat hulle die behoefte het om ’n getuienis te lewer daarvan dat hulle die doop (beloftes van God) aanvaar. Gehoorsaamheid dien ook hier as ’n baie belangrike motief: Hulle wil aan God gehoorsaam wees deurdat hulle die tekste in die Bybel so verstaan dat hulle eers moet glo en dan gedoop word. Dit moet dus dien as ’n teken van die feit dat hulle van hulle kant af ’n aksie uitvoer op grond van ’n Bybelse verpligting of opdrag.
Nou beweer baie voorstanders van hierdie argument dat so ’n doophandeling nie die verbondsdoop verwerp nie. Hulle meen dat hulle gelyktydig die verbondsdoop sowel as die getuienis-doop kan aanvaar. Maar, dit is tog duidelik dat hulle met laasgenoemde iets meer wil doen/hê as die verbondsdoop, sodat hulle gerus sal wees dat hulle die regte ding gedoen het.
Vraag is: Hoe kan so’n standpunt eerlik voorgee dat hierdie doop-aksie nie ’n negatiewe siening van die kinderdoop veronderstel nie? Dit is moeilik om te verstaan hoedat diegene wat hierdie argument aanvoer, naamlik dat so ’n herdoop nie die verbondsdoop vervang, of in ’n minderwaardige lig stel nie, met alle eerlikheid hierdie soort standpunt kan handhaaf. Dit kan geen twyfel laat nie, dat indien die NG Kerk hierdie soort doopgebruik aanvaar, dit die einde sal beteken van die (kinder-) verbondsdoop. Teologies is hierdie standpunt net nie logies houdbaar nie.
5. Herdoop is on-Bybels
In die argumente teen die doopbeskouing van die NG Kerk, word baie staatgemaak op direkte verwysings (tekste) in die Bybel na die geloofsdoop, of groot-doop. Dan word gesê dat ’n mens nie die doop van kinders in die Bybel aantref nie. Die punt is egter dat, indien ’n mens in die Bybel sou wou gaan soek na tekens van ’n herdoop, sou ook dit verniet wees. Die Nuwe Testament ken nie soiets soos ’n herdoop nie. Trouens die blote moontlikheid van herdoop is onmoontlik op Bybelse grondslag.
Dikwels word in hierdie verband verwys na Hand 19:1-6 waar ons lees van ’n klompie “gelowiges” wat Paulus in Efese aantref. Hulle het egter nog nooit van die Heilige Gees gehoor nie, en was nog net gedoop met die doop van Johannes (die Doper – wat ook vir Jesus gedoop het). Daarop is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus, waarna hulle die hande opgelê is om die Heilige Gees te ontvang.
Ten minste twee vrae dring hulle aan ’n mens op hieroor:
1. As die bevel was, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees soos wat ons tot vandag oral doen, is dit interessant dat hulle hier gedoop is net in die Naam van die Here Jesus. Daarna is die Heilige Gees aan hulle gegee met die oplê van hande. Daar was dus aanvanklik, net soos met die nagmaal, nie absolute eenvormigheid rondom die bediening van die doop nie, asook die beskouing daaroor nie.
2. Die feit dat hulle weer gedoop is, was ’n duidelike teken daarvan dat die eerste doop nie as geldig, of as toereikend beskou was nie. Die Johannese doop was dan ook nie dieselfde as die Christelike doop nie – ten minste om twee redes: Eerstens was dit ’n bekeringsdoop, en tweedens kon dit nie ’n teken van verlossing wees nie, aangesien Jesus ten tyde van Johannes se lewe nog nie aan die kruis gesterf het nie.
Hier is dus wel sprake van ’n “herdoop”, maar dan juis met die veronderstelling dat die eerste doop ontoereikend, ongeldig was. Hier is hoegenaamd nie sprake van die oordoen van die Christelike doop nie.
Die gereformeerde doop-beskouing moet verder ook verstaan word in sy historiese konteks waar dit geformuleer is teenoor die sakraments-beskouing van die Rooms-Katolieke kerk. Vir die reformasie was dit belangrik om enige moontlike meganiese sakraments-beskouing af te wys. Dit was hulle interpretasie van die Roomse-sakramentsbeskouing – dat mens outomaties gered word deur die gebruik van die sakrament, wanneer die genade dan ingestort word deur die tekens. Hierteenoor wou die reformatore die doop nuut verstaan as ’n genadedaad van God. Hierdie genadedaad van God word so deur die groeiende en voortdurende toeëiening van hierdie beloftes in die mens werksaam deur die geloof, insluitende bekering, konfirmasie, belydenis en dade van dankbare gehoorsaamheid en toewyding. Daarom ook die belangrikheid van die openbare aflegging van belydenis deur die dopeling. Maar, nêrens het die reformatore, wat oorspronklik katolieke was, hulle eie doop in die Naam van die Drie-Enige God bevraagteken in die sin dat hulle hulleself laat herdoop het nie. Die doop as handeling van God het hulle aanvaar, selfs al het hulle die betekenis van die teken as waarborg en seël van God se verbintenis anders verstaan as binne die Roomse Kerk.
Op ’n praktiese en pastorale vlak is gemeentes soms met reg besorg oor die suigkrag van die kerke wat herdoop – en oor die moontlikheid dat hulle lidmate, baie dikwels juis toegewyde, ernstige en vrome lidmate, sal verwar en van hulle eie gemeente en tradisie, insluitende die wonderlike genade van Gods troue verbond teenoor ons, sal vervreem. Dit is so dat van ons lidmate hulle in Charismatiese en pinkster-kerke laat herdoop en dan weer terugkom na die NG Kerk. Nou word die vraag gevra: behoort ons nie daarom daaraan te dink om hierdie behoefte aan te spreek met ons eie herdoop-geleenthede nie? Moet ons nie dalk daaraan dink om op hierdie wyse lidmate te behou deur aan hierdie behoefte toe te gee nie? Dit gaan mos nie vir hulle oor die verwerping van hulle kinderdoop nie? word dan dikwels gesê.
Soos reeds gesê, is dit egter ’n onhoudbare argument. Lidmate wat hulle laat herdoop het, meen verniet dat die kerke wat hulle tot grootdoop oortuig het, dit sal aanvaar as hulle nog die betekenis van hulle kleindoop handhaaf. Dit impliseer tog juis dat die kerke wat mense herdoop daarmee sê dat die kleindoop nie reg is nie. Mens kan dit nie anders sien nie, as ’n verwerping van die kinderdoop as geldige doop. En enige poging van die NG Kerk om ’n tweede doop (al noem mens dit ook wat) toe te laat, sal hierdie standpunt eenvoudig bevestig.
Maar, meer as dit: So ’n gebruik sal die identiteitskrisis in die NG Kerk net nog ’n stap verder voer, met die gevolg dat mense dan nog meer onseker sal raak oor die kerk en die kerk juis daardeur nog meer lidmate verloor. Die instelling van ’n ander simboliese doopgeleentheid sal homself op die NG Kerk as sodanig wreek.
6. Doopvierings in die kerk as oplossing
In die NG Kerk word oor die algemeen te min gemaak van doopgeleenthede. En by aflegging van belydenis kry die doop heel dikwels nie die prominente plek wat dit verdien nie. In ’n baie definitiewe sin is die belydenisaflegging die openbare erkenning van die doop van die lidmate, as sigbare uitdrukking van die aanvaarding van God se genade en liefde.
Dit is verblydend om te sien hoedat daar in al meer gemeentes van die NG Kerk werklik moeite gemaak word om wonderlike boodskap van die doop aan lidmate meer verbeeldingryk aan te bied. Dit (kan) gebeur by ten minste drie geleenthede
1. Doop self: Met die doopbediening self behoort die hele diens met al die liturgiese momente beplan te word rondom die betekenis van die doop. Daar is werklik verbeeldingryke voorbeelde hiervan op te merk in die kerk. Dit is altyd benouend en ontstellend as mens hoor dat met die beplanning van die erediens die doop gou-gou afgehandel sal word, sodat met die eintlike diens voortgegaan kan word. Ook het die verbeeldinglose lees van ’n lang doop-formulier in die verlede ook groter kwaad as goed gedoen om die betekenis en sin van die doopbediening tuis te bring.
2. Belydenisaflegging: Daar is gemeentes waar die water as teken weer ’n rol speel by belydenisaflegging, soos die steek van ’n hand in die doopvont as herinnering aan die lidmaat se eie doop van jare gelede, of die aansteek van ’n kers, of die prominente rol van ouers in die seremonie as die interim draers van die boodskap van genade teenoor hulle kinders. Dit is belangrik om hierdie geleentheid te sien as ’n konfirmasie (confirmation) van die doop, soos wat dit nog altyd binne die klassieke teologie verstaan is.
3. Toewydingsgeleenthede (die nagmaal en ander simboliese geleenthede): Daar is ’n groeiende behoefte aan lidmate om na jare weer deel te hê aan ’n openbare toewydingsgeleentheid. Afgesien van die nagmaal, wat tog die mees waarskynlike sigbare deelnemende liturgiese handeling is, wat as toewydingsgeleentheid as sodanig ingerig kan word, kan daar ook ander liturgiese elemente geskep word hierdie behoefte aan te spreek.
7. Ten slotte: Die eenvoud van die Evangelie beteken nie die eenvoud van die Bybel nie
Daar word beweer dat geen mens wat die Bybel “rou” lees, soos ’n prominente kerkleier dit graag stel (maw, vir die eerste maal sonder kennis van die Christelike leer), die kinderdoop in die Bybel sal raaklees nie. Daarteenoor, word gesê, is daar egter baie tekste wat die grootdoop beskryf. Dan word daarby gevoeg dat die kerk sy leer van die kinderdoop uit die tradisie kry en nie uit die Bybel nie.
Dit is vanselfsprekend dat daar in die Bybel verwysings na die doop van volwassenes is. Dit was tog die begin van die Christelike kerk, die eerste geslag Christene. Dit is vandag nog vanselfsprekend so dat, oral waar kerke geplant word, volwassenes gedoop word nadat hulle tot geloof kom. Daar was ook aanvanklik geen dispuut oor die doop van kinders nie. Daarom is daaroor nie geskryf nie, buiten met ’n gemaklike terloopsheid (sien verwysings hierbo).
Paulus en die ander skrywers het wel aan gemeentes geskryf oor die dinge waaroor daar probleme of meningsverskille was (soos aan die Korintiërs oor die verdeeldheid as gevolg van die leierskap en geestesgawes; aan die Galasiërs oor hul terugkeer tot wettiese godsdiens, ens). Maar nêrens is geskryf oor die hoe van die doop of die nagmaal nie. Van die nagmaal gepraat: Daar word uitermate min oor die nagmaal geskryf. Maar, indien dit gevier moes word op grond van die laaste Pasga, is dit tog interessant dat Lukas se weergawe niemand nog laat wonder het hoekom ons nie twee maal wyn drink nie (Luk 22:17-20).
En as ’n mens “rou” die Bybel lees, sou jy ook nêrens die Sondag aantref nie. Die Sabbatdag, ja, dikwels. Maar nêrens word verduidelik hoe dit gekom het dat die Sondag, en nie meer die Sabbatdag nie, die Dag van die Here geword het nie. Die opstandingsdag is eers in 313 nC deur Keiser Konstantyn die Grote tot openbare rusdag verklaar. Dit staan nie in die Bybel nie en tog hou ons die Sondag vandag as die Dag van die Here sonder enige gevaar van teenspraak.
Dit is dus duidelik dat dit juis eie is aan die gereformeerde tradisie om met die vertolking van bepaalde sake, nie alleen rekening te hou met verantwoordelike vertolking van die Skrif, waarin met die hele Bybel as die Woord van God gewerk word nie, maar ook met die lig wat die tradisie en belydenisskrifte daarop werp – met ander woorde, ook met wat na die tyd van die Bybel met die Christelike kerk gebeur het. Daarom is ons ’n belydeniskerk. Die betekenis van die Hervorming is immers aan die een kant die bevryding van die Bybel uit die dwanggreep van die Pouslike tradisie, maar aan die ander kant die ernstig opneem van tradisie wat die Bybelse boodskap van verlossing uit genade alleen (sola scriptura; sola gratia) sentraal stel. Dít is wat ons gereformeerd maak.
Natuurlik is die Evangelie so eenvoudig dat ’n kind (!) dit kan verstaan. Maar die Bybel is nie vir kinders geskryf nie, daarom is dit ook belangrik dat kundige mense, wat deeglik daarvoor opgelei is, vir lidmate toerus en lei in hul lees en verstaan van die Bybel.
As die krisis rondom die doop ons kan uitbring by konstruktiewe teologiese gesprek, ’n herwaardering van die betekenis van die doop en ’n herwinning van ons gereformeerde siening van die Evangelie van genade – dan is dit iets waaroor ons diep dankbaar en opgewonde behoort te wees!
Ben du Toit
Mei 2005