Kyk ook:
DIE INSTITUSIE VAN CALVYN
Opnuut in Afrikaans vertaal en verkort weergegee
deur
DS. A. DUVENAGE
1966
JOHANNES CALVYN
INSTITUSIE OF ONDERWYSING IN DIE CHRISTELIKE GODSDIENS
Elektroniese weergawe:
Let wel: waar {xxx} in die teks voorkom dui dit op die oorspronklike bladsynommers in die gedrukte weergawe. Bladsy nommers word aan die einde van die bladsy geplaas en waar dit in die middel van ‘n woord voorkom, word dit voor die woord geplaas.
Ek het hier en daar voetnote bygevoeg waar Skrifverwysings na my mening na ‘n verkeerde vers verwys. Ook het ek in een besondere geval ‘n gedeelte in ‘n voetnoot aangehaal uit die vier-volume uitgawe van prof. Simpson omdat die gedeelte vir my besonder moeilik gelees het.
Rapporteer asseblief enige foute wat u opmerk aan: wjswanepoel@gmail.com
Inhoudsopgawe
- Voorwoord
- Die Geskiedenis en Betekenis van die Institusie
- Brief van Johannes Calvinus aan die koning van Frankryk
- EERSTE BOEK: Die kennis van God, die Skepper
- HOOFSTUK I. Die kennis van God en van onsself is ten nouste met mekaar verbind
- HOOFSTUK II. Wat dit beteken om God te ken en waartoe die kennis dien
- HOOFSTUK III. Die kennis van God is van nature in die gees van die mens ingeplant
- HOOFSTUK IV. Hierdie kennis (van God) word deels deur onwetendheid, deels deur boosheid verstik of vervals
- HOOFSTUK V. Die kennis van God skitter in die bou van die wêreld en in sy voortdurende besturing
- HOOFSTUK VI. Die leiding en onderwysing van die Skrif is nodig om tot God die Skepper te kom
- HOOFSTUK VII. Deur watter getuienis die Skrif bekragtig moet word sodat sy gesag vas staan, nl. deur die getuienis van die Gees. Dis ‘n goddelose versinsel dat sy geloofwaardigheid van die oordeel van die kerk afhang
- HOOFSTUK VIII. Voldoende bewyse kan wel aangevoer word om die geloofwaardigheid van die Heilige Skrif te bevestig
- HOOFSTUK IX. Die geesdrywers vernietig die godsvrug deurdat hulle die Skrif verlaat en hulle toevlug tot openbaringe neem
- HOOFSTUK X. Die Skrif stel uitsluitlik die ware God teenoor die afgode van die heidene, en dit bevestig die natuurlike Godskennis
- HOOFSTUK XI. Dit is sonde om aan God ‘n sigbare gestalte toe te skryf. Almal wat vir hulle afgode maak, wyk van die ware God af
- HOOFSTUK XII. God word van die afgode onderskei sodat Hy alleen gedien sal word
- HOOFSTUK XIII. Die Heilige Skrif leer vanaf die skepping dat God drie Persone is in een wese
- HOOFSTUK XIV. Ook in die skepping van die wêreld en van alle dinge onderskei die Heilige Skrif die ware God deur bepaalde eienskappe van alle verdigte gode
- HOOFSTUK XV. Hoedanig die mens geskape is. Hierin word ook gespreek oor die vermoëns van die siel, die beeld van God, die vrye wil en die oorspronklike staat van regtheid van ons natuur
- HOOFSTUK XVI. God onderhou en beskerm deur sy krag die wêreld wat hy geskape het en regeer elke deel daarvan deur sy voorsienigheid
- HOOFSTUK XVII. Waarheen en op watter doel hierdie leer gerig moet word sodat dit vir ons nuttig sal wees
- HOOFSTUK XVIII. God gebruik die diens van die goddelose en neig hulle gemoed om sy oordele uit te voer, maar Hyself bly rein van elke smet
- TWEEDE BOEK: Die kennis van God, die Verlosser in Christus, wat eers aan die vaders onder die wet, daarna aan ons in die Evangelie geopenbaar is
- HOOFSTUK I. Deur die val en afwyking van Adam is die hele menslike geslag aan die vloek onderworpe en van sy eerste oorsprong ontaard. Die erfsonde
- HOOFSTUK II. Die mens is nou beroof van wilsvryheid en aan ellendige diensbaarheid onderworpe
- HOOFSTUK III. Uit die verdorwe natuur van die mens kom niks anders voort as wat doemwaardig is nie
- HOOFSTUK IV. Hoe God in die hart van die mense werk
- HOOFSTUK V. Weerlegging van die teëwerpinge wat tot verdediging van die vrye wil aangevoer word
- HOOFSTUK VI. Die verlore mens moet sy verlossing in Christus soek
- HOOFSTUK VII. Die wet is aan die ou volk gegee om hulle hoop op die saligheid in Christus te voed tot op sy koms
- HOOFSTUK VIII. Uitleg van die sedewet
- HOOFSTUK IX. Hoewel Christus onder die wet aan die Jode bekend was is Hy tog eers in die evangelie ten volle geopenbaar
- HOOFSTUK X. Die gelykheid van die Oue en die Nuwe Testament
- HOOFSTUK XI. Die onderskeid tussen die Ou en die Nuwe Testament
- HOOFSTUK XII. Christus moes mens word om die amp van Middelaar te kan bedien
- HOOFSTUK XIII. Christus het die waaragtige wese van die menslike vlees aangeneem
- HOOFSTUK XIV. Hoe die twee nature van die Middelaar een persoon uitmaak
- HOOFSTUK XV. Om te weet waartoe Christus deur die Vader gestuur is en wat Hy vir ons gebring het, moet ons let op sy profetiese, koninklike en priesterlike amp
- HOOFSTUK XVI. Hoe Christus die amp van Verlosser volbring het om vir ons die saligheid te verdien; sy dood, opstanding en hemelvaart
- HOOFSTUK XVII. Tereg word gesê dat Christus vir ons die genade van God en die saligheid verdien het
- DERDE BOEK: Die wyse waarop die genade van Christus verkry word; die vrugte wat daaruit voortkom, en die werkinge wat daaruit volg.
- HOOFSTUK I. Die dinge wat oor Christus gesê is, word ons deel deur die verborge werking van die Heilige Gees
- HOOFSTUK II. Beskrywing van die geloof en verklaring van sy eienskappe
- HOOFSTUK III. Deur die geloof word ons wedergebore. Die boetvaardigheid
- HOOFSTUK IV. Hoe ver alles wat die Sofiste oor die boetvaardigheid leer, verwyder is van die suiwere waarheid van die evangelie. Hierby word ook gehandel oor die bieg en oor die voldoening
- HOOFSTUK V. Die aanvullinge wat hulle aan die voldoeninge toevoeg, naamlik die aflate en die vaevuur
- HOOFSTUK VI. Die lewe van die Christen. Met watter bewyse die Skrif ons daartoe aanspoor
- HOOFSTUK VII. Die hoofsom van die Christelike lewe; die selfverloëning
- HOOFSTUK VIII. ‘n Deel van die selfverloëning is om die kruis te dra
- HOOFSTUK IX. Die oordenking van die toekomende lewe
- HOOFSTUK X. Hoe ons die teenwoordige lewe en sy hulpmiddels moet gebruik
- HOOFSTUK XI. Die regverdigmaking deur die geloof. In die eerste plek ‘n omskrywing van die naam en die saak self
- HOOFSTUK XII. Ons moet ons harte ophef na die regterstoel van God om grondig oortuig te word hoe onverdiend die regverdigmaking is
- HOOFSTUK XIII. By die onverdiende regverdigmaking moet op twee sake gelet word
- HOOFSTUK XIV. Die begin van die regverdigmaking en sy gedurige voortgang
- HOOFSTUK XV. Om te roem in die verdienstelikheid van die goeie werke is om die lof van God, wat die geregtigheid skenk, sowel as die sekerheid van die saligheid te vernietig
- HOOFSTUK XVI. Weerlegging van die beskuldiginge waarmee die pousgesindes trag om hierdie leer met haat te beswaar
- HOOFSTUK XVII. Vereniging van die beloftes van die wet met die van die evangelie
- HOOFSTUK XVIII. Uit die loon word ten onregte besluit tot die regverdigheid van die werke
- HOOFSTUK XIX. Die Christelike vryheid
- HOOFSTUK XX. Die gebed is die vernaamste oefening van die geloof. Daardeur verkry ons daeliks God se weldade
- HOOFSTUK XXI. Die ewige verkiesing waardeur God sommige tot die saligheid, ander tot die verderf voorbeskik het
- HOOFSTUK XXII. Bevestiging van hierdie leer deur getuienisse van die Skrif
- HOOFSTUK XXIII. Weerlegging van die beskuldiginge waarmee hierdie leer altydten onregte beswaar is
- HOOFSTUK XXIV. Die verkiesing word bevestig deur die roeping van God. Dieverworpenes haal oor hulself die regverdige verderf waarvoor hulle bestem is
- HOOFSTUK XXV. Die laatste opstanding
- VIERDE BOEK: Die uiterlike hulpmiddels waardeur God ons roep tot die gemeenskap met Christus en ons daarin bewaar.
- HOOFSTUK I. Die ware kerk waarmee ons die gemeenskap moet onderhou, omdat dit die moeder van al die gelowiges is
- HOOFSTUK II. Vergelyking van die valse met die ware kerk
- HOOFSTUK III. Die leraars en dienaars van die kerk. Hulle verkiesing en amp
- HOOFSTUK IV. Die toestand in die ou kerk en die manier van regering wat ingebruik was vóór die tye van die pousdom
- HOOFSTUK V. Die ou regeringsvorm is deur die tirannie van die pousdom geheel en al onderdruk
- HOOFSTUK VI. Die opperheerskappy van die Roomse stoel
- HOOFSTUK VII. Die begin en voortgang van die Roomse pousdom totdat dit hom tot die teenswoordige hoogheid verhef het, waardeur die vryheid van die kerk onderdruk en alle regering omvergewerp is
- HOOFSTUK VIII. Die mag van die kerk met betrekking tot die leerstellinge van die geloof. Die teuellose ongebondenheid waarmee hierdie mag in die pousdom misbruik is om die suiwere leer te vervals
- HOOFSTUK IX. Die konsilies en hulle gesag
- HOOFSTUK X. Die mag om wette te maak, ten opsigte waarvan die pous en sy aanhangers die siele op wrede wyse getiranniseer en gepynig het
- HOOFSTUK XI. Die regspraak van die kerk en die misbruik daarvan soos dit in diepousdom gesien word
- HOOFSTUK XII. Die kerklike tug, die vernaamste gebruik waarvan in die sensuuren die ban geleë is
- HOOFSTUK XIII. Deur geloftes wat ligvaardig gedoen is, verstrik mense hulleself jammerlik
- HOOFSTUK XIV. Die sakramente
- HOOFSTUK XV. Die doop
- HOOFSTUK XVI. Die kinderdoop kom ooreen met die instelling van Christus en met die aard van die teken
- HOOFSTUK XVII. Die heilige nagmaal van Christus en wat dit ons skenk
- HOOFSTUK XVIII. Die Roomse Mis ontheilig en vernietig die nagmaal van Christus
- HOOFSTUK XIX. Hierin word aangetoon dat die vyf ander sogenoemde sakramente geen sakramente is nie. Ook word aangetoon hoedanig hulle is
- HOOFSTUK XX. Die burgerlike regering
- Voetnotas
Voorwoord
Hierdie boek is nie bedoel om in die plek van die Institusie gelees te word nie maar om die gewone lidmaat vertroud te maak met die gedagtes van die groot hervormer en om hom op die wyse begerig te maak om self die Institusie te lees en homself te bou met die rykdom van Skrifkennis en ware godsvrug wat soos ‘n verkwikkende waterstroom daarin vloei. Ek is daarvan oortuig dat die gelowiges in ons land, wie hulle ook mag wees en watter posisies hulle ook in die kerklike, maatskaplike en staatkundige lewe van die volk mag beklee, alleen dan die regte koers kan hou en aanwys as hulle weer geestelik hierdie wapenrusting aangetrek het.
Daarom het ek ook Calvyn self laat praat en nie sy gedagtes in my woorde weergegee nie. Dit maak dit aangenamer om die boek te lees. Lang aanhalings uit die kerkvaders en ander skrywers is weggelaat, of net ‘n enkele greep daaruit gemaak. So ook is die verklaring van tekste soveel moontlik beperk en word gewoonlik net na hulle verwys. Tekste wat in ons Afrikaanse Bybel anders lees as die lesing wat Calvyn gehad het, is weggelaat. Daardeur ly die leser egter geen skade nie. Die getal is maar baie gering.
Hiermee bied ek die werkie aan aan almal in ons land wat dieselfde dierbare geloof verkry het. Mag dit baie lesers vind. En mag die Here sy seën daarop gebied, sodat ons sal volhard om te wandel op die ou paaie, omdat hulle die beproefde paaie is.
Ek betuig my dank aan my dogters wat die manuskrip getik het, aan my vrou, wat gehelp het met die oorlees en korreksiewerk; aan professor H. Venter van die P.U. vir C.H.O. vir waardevolle advies; aan Pro Rege-Pers, wat die uitgawe onderneem. Bo alles aan die Here, wat my in staat gestel het om die werk te kan voltooi. Daarmee is ‘n lank gekoesterde begeerte vervul. Aan Hom alleen die eer.
A. Duvenage. Koster, 1966.
{11}
Die Geskiedenis en Betekenis van die Institusie
Dit is vir my ‘n eer om hierdie verkorte uitgawe van die onsterflike Institusie van die Christelike godsdiens van die groot Reformator, Johannes Calvyn, in te lei en aan te beveel by die Afrikaanse lesers. En ek is dankbaar dat die Here dit in die hart van redaksie en bewerker gegee het om hierdie verkorte uitgawe van Calvyn se meesterwerk in ons Afrikaanse taal saam te stel en in die lig te stuur en dat die Here die krag en bekwaamheid verleen het om hierdie werk te kan doen. Ook hierdie uitgawe loënstraf die onjuiste bewering dat die Institusie wel vroeër beskou is “als de uitdrukking van een levend geloof”, maar “thans niets meer is dan een geschiedkundig document” (Dr. A. Pierson: Studieën over Johannes Calvijn, 1527-1536, p. 223).
Byna 70 jaar gelede het dr. Pierson hierdie oordeel oor die Institusie neergeskrywe. Vandag is sy boek en sy oordeel feitlik vergeet en dink niemand meer aan ‘n herdruk van die boek van Pierson nie wat vandag alleen antikwaries te kry is, terwyl die Institusie van Calvyn nog gedurig in verskillende tale herdruk en uitgegee word.
Die Institusie is die meesterwerk van die Geneefse reformator. Calvyn het baie geskrywe. Hy het verklaringe van byna al die Bybelboeke geskrywe. Hierby moet nog getel word ‘n hele aantal pamflette, waaronder sy beroemde Ope Brief aan die Roomse kardinaal, Sadolet, en etlike duisende briewe, want Calvyn het in korrespondensie gestaan met die leiers van die kerkhervorming in verskillende lande en met byna al die gekroonde hoofde van Europa in die 16e eeu. Maar van al sy geskrifte bly die Institusie sy meesterwerk, in só ‘n mate dat wyle prof. dr. H.H. Kuyper, miskien wel die beste Calvyn-kenner van Europa gedurende die afgelope halwe eeu, in 1935 gesê het dat Calvyn ‘n man was van een boek, nl. die Institusie. Calvyn word uit hierdie boek die beste geken, ook omdat hy vanaf die eerste uitgawe van 1535 feitlik tot by sy dood gearbei het aan die verskillende uitgawes daarvan om dit altyd ryker en vollediger te maak.
Die eerste uitgawe van die Institusie het die lig gesien in die ou, eerbiedwaardige stad Basel — daar waar die grense van Switserland, Frankryk en Duitsland bymekaar kom. Basel was die woonplek van Desiderius Erasmus en Oecolampadius, daardie twee groot geleerdes van die 16de eeu. In Basel is in 1516 die eerste Griekse Nuwe Testament gedruk — die Textus Receptus — saamgestel uit Griekse handskrifte van die Baselse universiteitsbiblioteek. Neëntien jaar later verskyn dáár ook die eerste Latynse uitgawe van die Institusie toe Calvyn ‘n jong man van 26 jaar was. Hierdie boek het die {12} wêreld verbaas en stormenderhand ingeneem en het dadelik die naam van Calvyn beroemd gemaak as verdediger van die evangeliese waarheid. Dit is een van die weinige waarlik klassieke produkte in die geskiedenis van die godgeleerdheid.
Die Roomse het dadelik die betekenis van die Institusie besef en geweet dat daar nou ‘n teëstander opgetree het wat nie versmaad kon word nie. Florimond de Raemond noem dit “die Koran en Talmud van die kettery”. Op bevel van die Sorbonne is dit in Parys en ander plekke verbrand. Deur die Roomse is daar teen die Institusie gewoed meer as teen enige ander boek van die 16de eeu. Die eerste uitgawe van Basel in 1535 was, volgens prof.
E. Doumergue (vertaling ds. W.T.A. Winckel), “een groot en plechtig protest van een hart dat met medelijden voor de broeders vervuld was, en van eene conscientie, die van verontwaardiging trilde over ‘s konings (Frans I van Frankryk) onbeschaamdheid” (E. Doumerge: Calvyns jeugd, p. 473). So ‘n werk waarin die hart spreek en die konsensie protesteer, is onsterflik, verouder nooit nie en bly altyd meer as ‘n bloot geskiedkundige dokument.
Die aanleiding tot die eerste uitgawe van die Institusie was die vervolging van die Protestante in Frankryk. Koning Frans I het lank geaarsel oor die houding wat hy moes inneem teenoor die Protestante in sy ryk. Eindelik het hy besluit om die sg. kettery uit te roei. Maar hy was baie begerig om die steun van die “ketters” van Duitsland in sy stryd teen Spanje te verkry en te behou. Toe het hy ‘n plan gemaak om terselfdertyd die Franse Protestante uit te roei en die guns en steun van die Duitse Protestante te behou.
Om hierdie doel te bereik het die Franse koning gebruik gemaak van ‘n leuen. Hy het Op 1 Februarie 1535 ‘n geskrif gerig aan die State van die Keiserryk waarin hy die Franse Protestante bestempel het as “oproerlinge”, ‘n “besmetlike en dreigende pes”. Hy het hulle belaster dat hulle geesverwante was van die Wederdopers wat in Münster en verder in Duitsland soveel moeite gegee het. En aangesien die Duitse state en vorste getuies was van die buitensporighede van die Wederdopers, het die koning gemeen dat hy hierdeur die simpatie en steun van die Duitsers sou bly behou.
Die onmiddellike aanleiding tot die uitbarsting van die vervolging teen die einde van 1534 was ‘n aanplakbiljet wat deur ‘n sekere Feret, diensbode van die koning se apteker, opgestel en dwarsdeur Parys versprei is. Dit is orals opgeplak, selfs teen die deur van die koninklike verblyf in Fontainebleau, in die nag van 18 Oktober 1534. Die opskrif van die aanplakbiljet was: “Die gruwelike, ondraaglike en afgodiese misbruike van die Paapse mis”. Op die biljet word die mis beskrywe as ‘n godslasterlike ontkenning van die enige en algenoegsame offerande van Christus, terwyl die {13} pous met sy “hele gebroed van kardinale, biskoppe, priesters en monnike” veroordeel word as hipokriete en dienaars van die Antichris.
Die koning was baie kwaad hieroor en het bevel gegee dat alle persone wat van medepligtigheid of simpatie verdink word, gevange geneem moes word. Die gevangenisse was spoedig vol van verdagtes. Om die stad te suiwer van die verontreiniging wat veroorsaak is deur die belediging van die mis en die hiërargie, is Op 29 Januarie 1535 ‘n baie indrukwekkende optog deur die strate gehou van die Louvre af na die Notre Dame. Die beeld van die beskermheilige van Parys is in feestelike optog deur die strate gedra. Die aartsbiskop en ander hoogwaardigheidsbekleërs, die koning en sy drie seuns, te voet en kaalkop, met brandende waskerse in hulle hande, het die prosessie gelei en is gevolg deur prinse, kardinale, biskoppe, priesters, ambassadeurs en vername amptenare van die staat en die universiteit, twee aan twee, almal met brandende was toortse in die hand. Hoogmis is in die katedraal van Nortre Dame gevier om die sware skuld op die stad uit te wis. Daarna het die koning saam met die notabeles eetmaal gehou en toe verklaar dat hy nie sou aarsel om selfs van sy eie kinders te onthoof nie indien hulle skuldig bevind mag word dat hulle hierdie nuwe vervloekte ketterye aanhang, en hulle só op te offer aan die goddelike geregtigheid.
Die verrigtinge van die dag het ten einde gekom met die verbranding van ses Protestante. Hulle is met toue vasgemaak en opgetrek oor ‘n katrol van ‘n soort masjien wat soos ‘n hyskraan gelyk het. Langsaam het die beuls die martelaars in die vlamme laat afsak, hulle weer opgetrek en weer laat saak. Keer op keer is dit herhaal, totdat hulle die manne ten slotte in die vlamme laat stort het. Sommige se tong is vooraf uitgesny. Tussen 10 November 1534 en 5 Mei 1535 is vier-en-twintig Protestante op hierdie manier in die openbaar verbrand. Hulle het soos helde gesterwe. Onder hulle was ook Etienne de la Froge, ‘n boesemvriend van Calvyn.
Hierdie wreedhede was aanleiding tot die eerste uitgawe van die Institusie. Die koning het in sy geskrif aan die State van Duitsland hierdie wreedhede verskoon deur die bewering dat hy maar net oproerlinge, geesverwante van die Wederdopers, gestraf het. Hy het egter versuim om bewys te lewer ter stawing van sy beskuldigings van Wederdopery teen die Protestante van Frankryk. Hy het verklaar dat hy die bewyse vernietig het en gesê: “Ek het voorkeur daaraan gegee om hulle sonderlinge stellinge te begrawe in die skaduwees waaruit hulle voortgekom het, liewer as om dit te stuur aan u, wat die lig van die wêreld is. Ek bepaal my daarby om te sê dat, as u onder u dergelike, ja, selfs minder erge mense sou {14} gehad het, u hulle volgens u plig sou verfoei en verwens het”.
Toe die bloedige vervolging in Oktober 1534 uitgebreek het, het Calvyn, vergesel van ‘n boesemvriend, Louis du Tillet, Parys verlaat. Na omswerwinge van ‘n paar maande lank het hulle eindelik in Januarie 1535 in Basel aangekom. Daar het die laster van die Franse koning hom ter ore gekom en het hy aan die werk gespring om ‘n sistematiese uiteensetting te gee van die Christelike geloofsleer. Sy onmiddellike doel was om die gereformeerde godsdiens te verdedig en die belasteraars van die Protestante te weerlê. Met koorsagtige haas het hy gewerk om sy boek persklaar te kry. Hy het die werk opgedra aan koning Frans I. Net soos Justinus Martyr en ander apologete van die vroeë Christelike kerk in hulle geskrifte direk die Romeinse keisers aangespreek het ten behoewe van die veragte en vervolgde Christene, hulle geloofsgenote verdedig het teen die vuile lasteringe wat teen hulle uitgestrooi is en vir verdraagsaamheid gepleit het, so het Calvyn ook op die Franse koning ‘n beroep gedoen ter verdediging van die vervolgde en belasterde Franse Protestante.
Die voorrede van die Institusie, in die vorm van ‘n ope brief aan die Franse vors, is ‘n onsterflike stuk letterkunde wat die eeue verduur.
In sy voorrede op sy kommentaar op die Psalms het Calvyn self later die volgende geskrywe in verband met die ontstaan van die Institusie: “Ek het Frankryk verlaat en met opset na Duitsland gegaan, om daar, soos ek altyd gewens het, stil en rustig in een of ander skuilplek te kan lewe.
“Maar terwyl ek in Basel, deur slegs weinige mense geken, weggeskuil en vertoef het, het hulle in Frankryk baie getroue en heilige persone verbrand. Toe die gerug daarvan na die buiteland toe deurgedring het, is hierdie verbranding deur baie Duitsers afgekeur, sodat hulle ‘n afkeer gekry het van die bewerkers van hierdie tirannie. Om dit te keer het hulle toe sekere ellendige boekies gaan versprei, wat vol leuens was, dat naamlik alleen die Wederdopers en oproerige mense wat deur hulle dromerye en valse menings nie alleen die godsdiens nie maar ook die orde in die staat wou omkeer, so wreed behandel is. En toe ek gesien het dat vorstelike persone deur hulle veinserye probeer het om te bewerk dat nie alleen die vergieting van onskuldige bloed begrawe sou bly deur hulle valse lasteringe waarmee hulle die heilige martelaars na hulle dood nog beswaar het nie, maar ook dat daardeur die vermoording van die arme gelowiges tot die uiterste toe kon gedrywe word sonder dat iemand daarmee medelye kon hê, het ek besef dat alleen as ek my kragtig daarteen verset, ek nie lafhartig en ontrou bevind sou word nie. En dit was die oorsaak waarom ek my Institusie van die {15} Christelike godsdiens uitgegee het — in die eerste plek om te antwoord op die boosaardige lasteringe wat die teëparty uitgestrooi het, en my broeders, wie se dood kostelik was in die oë van die Here, daarvan te suiwer; en voorts, sodat die vreemde volke vir hulle tog enige medelye en verantwoordelikheid sou gevoel, aangesien dieselfde wreedheid weldra op baie arme mense toegepas kon word. Ek het destyds nie die boek laat sien soos dit nou na baie arbeid uitgebrei is nie, maar as ‘n klein handboek waarin kortliks die vernaamste stukke voorgestel word, met geen ander bedoeling nie as dat dit bekend sal wees watter geloof hulle bely het wat deur kwaadaardige en valse vleiers op so ‘n lae en ellendige manier belaster is.”
Die Institusie is geen koele en afgetrokke studeerkamer-redenering nie. Die boek is gemotiveer deur intens praktiese omstandighede. Dit is die kreet en protes van ‘n konsensie wat tot in sy diepste geroer is deur die gestorte bloed en bekladde eer van sy geloofsgenote. En hoewel Calvyn, na die eerste uitgawe, sy boek oorgewerk en uitgebrei het tot ‘n meesterlike uiteensetting van die Gereformeerde leer, het dit die spore van sy ontstaan nooit verloor nie. Vandaar die gespierde taal waarin dit geskrywe is en die gloed van innige sielsoortuiging wat op elke bladsy ‘n mens toespreek. Hoe iemand die Institusie droog en vervelend kan vind, is onbegryplik. Die skitterende voorrede alleen is al genoeg om ‘n mens van die teendeel te oortuig.
Die eerste uitgawe, in 1535, was maar ‘n kort handboek, soos Calvyn dit self genoem het. Dit het ses hoofstukke bevat, wat ‘n uiteensetting was van (1) die Tien Gebooie; (2) die Twaalf Artikels; (3) die Onse Vader; (4) doop en nagmaal; (5) die ander sogenoemde sakramente; (6) die Christelike vryheid, die regering van die kerk en die kerklike dissipline. Die tweede edisie het sewentien en die derde een-en-twintig hoofstukke bevat. Die laaste Latynse edisie, van 1559, het uitgegroei tot vier of vyf maal die oorspronklike grootte. Dit is ingedeel in vier boeke, en elke boek in ‘n aantal hoofstukke (van sewentien tot vyf-en-twintig elk), terwyl elke hoofstuk ook weer onderverdeel is in ‘n aantal seksies.
Die Institusie volg die trinitariese indeling van die Twaalf Artikels. In die eerste boek word die kennis van God, die Skepper, behandel en wat daarmee in verband staan, nl. die Heilige Skrif as bron van die regte kennis van God, in teëstelling met die Roomse leer van die kerk wat, volgens Rome, die Skrif gesagvol maak. Hierteenoor bou Calvyn die leer uit van die geloofwaardigheid van die Skrif self, soos dit bevestig word deur die getuienis van die Heilige Gees in die harte van die gelowiges. In die tweede boek word die leer van die kennis van God, die Verlosser, soos geopenbaar deur {16} Wet en Evangelie, behandel. In die derde boek word gehandel oor die kennis van God, die Heilige Gees, ons Heiligmaker, onder die opskrif: Hoe die genade van Christus ontvang word, terwyl in die vierde boek ter sprake kom die leer van die kerk, die sakramente en die burgerlike regering as uitwendige heilsmiddels.
Die invloed wat daar van die Institusie in die loop van meer as vier eeue uitgegaan het, is onberekenbaar. Die boek is vertaal in Frans, Duits, Nederlands, Engels, Pools, Hongaars, Italiaans, Arabies – ja, in byna alle Europese tale. Dit word bereken dat dit 100 jaar lank gemiddeld 5 uitgawes per jaar in die een of ander taal beleef het en dat daar elke tien weke ‘n uitgawe in een of ander taal van die pers gekom het. In die St. Thomasstift in Straatsburg het die professore Baum, Cunitz en Reuss, uitgewers van die volledige werke van Calvyn gedurende die vorige eeu, alleen 36 Latynse en 18 Franse uitgawes van die Institusie versamel. Dit is ongetwyfeld ‘n lewende boek wat binne 100 jaar tyd 500 uitgawes belewe! En nog is dit nie die einde nie. Daar word nog gedurig nuwe vertalings van die Institusie gemaak, en bestaande vertalings word nog gedurig herdruk. Onlangs het ‘n Japanse vertaling die lig aanskou. En nou kom hierdie Afrikaanse vertaling om die Afrikaanse volk hierdie kosbare kleinood uit die 16de eeu in die hande te stel.
Mag hierdie uitgawe baie gelees word en mag, onder die seën van die Here, die Afrikaanse volk daardeur geestelik opgebou word. Die Institusie is die vertolking van ‘n nog lewende geloof en kan vir ons volk tot ‘n onberekenbare seën wees. Die dank van kerk en volk van Suid-Afrika kom die bewerker toe vir sy arbeid en die uitgewer vir die publikasie daarvan.
Ds. J. V. Coetzee. Potchefstroom.
Januarie 1951
{17}
Brief van Johannes Calvinus aan die koning van Frankryk
Aan die seer magtige en deurlugtige monarg Frans, die allerchristelikste koning van Frankryk, sy vors, wens Johannes Calvinus vrede en saligheid in Christus.
Toe ek my ten taak gestel het om hierdie werk te skrywe, roemryke Koning, was niks verder van my gedagte as om te skrywe wat later aan u Majesteit aangebied sou word nie. Dit was slegs my bedoeling om sekere grondbeginsels neer te lê, waardeur diegene wat met enige godsdienstige ywer besiel is, tot ware godsvrug opgelei kan word. En hierdie werk het ek hoofsaaklik verrig vir ons Franse landgenote, van wie ek begryp het dat daar baie was wat gehonger en gedors het na Christus, maar van wie ek baie weiniges gesien het wat ook maar selfs met ‘n geringe kennis van Hom behoorlik toegerus was.
Dat dit my bedoeling was, getuig die boek self, wat immers in eenvoudige en ongeleerde trant opgestel is. Maar toe ek bewus geword het dat die raserny van sommige boosaardige mense in u koninkryk so ‘n krag gekry het dat daar vir die gesonde leer geen plek was nie, het dit my die moeite werd geskyn as ek deur dieselfde inspanning beide aan hulle onderwysing sou skenk en my belydenis onder u oë sou bring, sodat u daaruit kon leer wat die leer is waarteen met so ‘n groot waansin dié woedende mense ontvlam wat deesdaags met vuur en swaard u koninkryk verontrus. Inderdaad sal ek nie skroom om te erken dat ek in hierdie werk min of meer die hoofsom van die leer vervat het waarvan hulle luid uitroep dat dit met die kerker, verbanning, voëlvry-verklaring en vuur gestraf moet word en dat dit te land en ter see uitgeroei moet word nie.
Ek weet inderdaad met welke gruwelike aanklagte hulle u ore en u hart vervul het om ons saak by u so gehaat moontlik te maak, maar u behoort na u sagsinnigheid dit te oorweeg dat daar geen onskuld òf in woorde òf in dade sal wees nie, as die aanklag alleen voldoende bewys (van skuld) is.
Voorwaar, as iemand, om haat op te wek, voorgee dat hierdie leer, waarvan ek probeer om aan u rekenskap te gee, deur die stem van alle wetgewende vergaderinge veroordeel is, en dat dit lankal deur baie uitsprake van die regbank afgekeur is, dan sou hy niks anders sê nie as dat dit deels deur die partydigheid en mag van sy teenstanders met geweld terneergewerp is en deels deur leuens, listige streke en laster verraderlik en bedrieglik onderdruk is. Dit{18}is geweld dat sonder verhoor bloedige vonnisse daarteen gevel word, en bedrog dat dit onverdiend van opstand en misdaad beskuldig word.
Dat niemand mag meen dat ons ten onregte hieroor kla nie, o edele Koning, kan u self ons getuie wees met watter leuenagtige laster hierdie leer daagliks by u daarvan beskuldig word dat die bedoeling daarvan niks anders is nie as om aan die konings die septer uit die hand te ruk, die regbank en alle regspraak omver te werp, alle wetgewende vergaderinge en regeringe ten val te bring, die vrede en die rus van die volk te versteur, alle wette te vernietig, eiendomme en besittings te verstrooi — kortom, alles omver te werp. En tog hoor u maar ‘n baie geringe deel. Want daar word verskriklike dinge onder die volk verstrooi; en as hulle waar moes wees, sou die wêreld tereg oordeel dat die leer saam met diegene wat dit verkondig, deur duisend vure en kruise uitgedelg behoort te word. Wie sou hom dan daaroor verwonder dat die algemene haat daarteen ontvlam het, waar aan die onbillike beskuldiginge geloof geskenk word? Siedaar die rede waarom alle state saamstem ter veroordeling van ons leer en van onsself.
Bevooroordeel deur hierdie stemming spreek hulle wat ten oordeel sit, as vonnis uit die vooroordeel wat hulle van huis af meegebring het, en hulle is van mening dat hulle hulle taak behoorlik verrig het as hulle niemand vir straf oorlewer nie behalwe op sy eie bekentenis of wanneer hy deur kragtige getuienisse veroordeel is. Maar van welke misdaad veroordeel? Van die veroordeelde leer, sê hulle. Maar met welke reg is die leer veroordeel? Hierin tog was die krag van die verdediging geleë: nie om die leer self te verloën nie maar om die waarheid daarvan te verdedig. Hier word egter die geleentheid ontneem om die geringste woord te spreek.
Daarom is my versoek nie onbillik nie, onoorwinlike Koning, dat u van nuuts af weer sou kennis neem van hierdie saak, wat tot nog toe op verwarde wyse en sonder enige orde van reg en meer met onbeteuelde hartstog as met regmatige erns behandel of op enige manier hoegenaamd voortgedryf is. Mag u nie reken dat ek hier te doen het met my eie verdediging om daardeur ‘n veilige terugkeer in my vaderland te verseker nie, want hoewel ek teenoor dié vaderland, soos dit hoort, met ‘n passende gevoel van liefde besiel is, kan ek, soos sake nou staan, sonder ongerief daar wegbly. Maar ek bepleit die gemeenskaplike saak van alle gelowiges en van Christus self, wat vandag in u koninkryk op alle maniere verskeur en vertrap en as ‘t ware verlore op die grond lê en dit wel meer deur die tirannie van sommige Fariseërs as met u medewete. Hoe dit gekom het, is nie nodig om hier te vermeld nie, maar sekerlik lê dit vertrap. Want dit het die goddeloses{18}bewerkstellig dat die waarheid van Christus, al sou dit nie verdrewe en verstrooid vergaan nie, dan tog as begrawe en onbekend in die verborgene skuil, en dat die arme kerk òf deur wrede moorde vernietig òf deur ballingskappe uitgedryf òf deur dreigemente en verskrikkinge geslaan, selfs geen stem durf laat hoor nie. En hulle storm nog steeds aan met hulle gewone raserny en woede teen die muur wat reeds oorhel, om die val heeltemal te voltooi. Intussen tree niemand op as beskermer teen sulke rasende woede nie. As sommige mense wil voorgee dat hulle die waarheid baie goedgesind is, dan oordeel hulle dat ‘n mens die dwaling en onverstandigheid van onkundige mense moet verskoon. Want so spreek die gematigde mense wat dit dwaling en onverstandigheid noem waarvan hulle weet dat dit die gewisse waarheid van God is, en hulle noem diegene onkundige mense wie se verstand hulle deur Christus so hooggeag sien dat hy hulle die verborgenhede van sy hemelse wysheid waardig geag het. In so ‘n mate skaam almal hulle vir die evangelie.
U taak sal dit wees, deurlugtige Koning, om nòg u ore nòg u hart van so ‘n regmatige beskerming af te wend, veral waar dit gaan om so ‘n belangrike saak, naamlik hoe Gods eer ongedeerd sal kan bestaan op aarde, hoe Gods waarheid sy waardigheid kan behou, en hoe die ryk van Christus ongeskonde onder ons kan bly — ‘n saak, u ore, u kennisneming en u regterstoel waardig. Want, inderdaad, hierdie kenmerk dui die ware koning aan, as hy erken dat hy in die bestuur van sy ryk die dienaar van God is. En hy wat nie regeer om Gods eer te dien nie, regeer nie meer nie maar pleeg rowery. Verder vergis hy hom wat ‘n langdurige voorspoed verwag van ‘n koninkryk wat nie deur die septer van God, dit wil sê deur sy heilige Woord, geregeer word nie. Immers, die hemelse uitspraak, dat die volk verstrooi sal word as die profesie ontbreek, kan nie verborge gaan nie (Spr 29:18).
En minagting vir ons geringheid mag u nie van ‘n ywerige ondersoek hiervan aftrek nie. Watter armsalige en veragte mensies ons is, daarvan is ons wel bewus, naamlik voor God ellendige sondaars en voor die oë van die mense die mees veragtes, as u wil, uitwerpsels en uitvaagsels van die wêreld, of as daar iets nog meer veragteliks genoem kan word; sodat daar niks oorbly waarop ons voor God kan roem nie behalwe alleen op sy barmhartigheid, waardeur ons sonder enige eie verdienste tot die hoop op die ewige geluksaligheid aangeneem is. By die mense bly daar egter nie eens soveel oor nie, daar ons slegs in ons swakheid kan roem, ‘n ding wat volgens hulle oordeel die grootste skande is om ook maar enigsins te bely. Maar ons leer moet hoog verhewe staan bo alle aardse roem en onoorwinlik bo alle mag, want dit kom nie{19}van ons nie maar van die lewende God en van sy Gesalfde, wat die Vader tot Koning gestel het om van see tot see te heers en van die riviere tot aan die eindes van die aarde, en wel so te heers dat Hy die ganse aarde met sy mag van yster en van metaal, met sy glans van goud en silwer, wanneer Hy dit alleen maar met die roede van sy mond slaan, net so verbrysel soos erdekruike, soos die profete van die heerlikheid van sy koninkryk profeteer (Dan 2:34; Jes 11:4; Ps 2:9).
Hierteen beweer ons teenstanders dat ons Gods Woord bedrieglik voorhou, waarvan ons — volgens hulle bewering — die allersnoodste skenders is. In hoe ‘n hoë mate dit nie alleen kwaadwillige laster nie maar ook opvallende onbeskaamdheid is, sal u self, by die lees van
ons belydenis, na u wysheid kan beoordeel. Tog behoort hier ook iets gesê te word om by u ywer en die aandag tot die lees daarvan op te wek of ten minste die weg daartoe te baan. Toe Paulus begeer het dat alle profesie gevorm sou wees na die maat van die geloof (Rom 12:7), het hy daarmee ‘n onfeilbare rigsnoer gestel, waarvolgens die uitlegging van die Skrif ondersoek behoort te word. Indien ons leer dan volgens hierdie reël van die geloof afgemeet word, het ons die oorwinning in hande. Want wat kom beter en meer passend ooreen met die geloof as om te reken dat ons ontbloot is van alle deug, sodat ons deur God beklee mag word? Dat ons leeg is van al wat goed is, sodat ons deur Hom gevul mag word? Dat ons slawe van die sonde is, sodat ons deur Hom bevry mag word? Dat ons blind is, sodat ons deur Hom verlig mag word? Dat ons kreupel is, sodat ons deur Hom gelei mag word? Dat ons swak is, sodat ons deur Hom ondersteun mag word? Dat ons onsself alle stof tot roem ontneem, sodat Hy alleen roemryk mag uitblink en ons in Hom mag roem? Wanneer hierdie en ander dergelike dinge deur ons gesê word, werp hulle teë en kla dat op dié manier omvergewerp word ek weet nie wat vir ‘n blinde natuurlike lig, versonne voorbereidings, vrye wil, werke wat die ewige saligheid verdien, met al hulle oortollighede nie; want hulle kan nie verdra dat die lof en roem van alle goedheid, deug, geregtigheid en wysheid geheel en al by God berus nie. Maar ons lees nie dat hulle bestraf is wat te veel uit die fontein van die lewende water geput het nie; daarenteen word hulle ernstig berispe wat vir hulleself reënbakke uitgekap het, bakke wat gebars is en wat geen water hou nie (Jer 2:13). Verder, wat is meer in ooreenstemming met die geloof as om God voor te stel as ‘n genadige Vader wanneer Christus erken word as Broeder en Versoener; as om alle vreugde en voorspoed onbekommerd van Hom te verwag, wie se onuitspreeklike Liefde vir ons sover gegaan het dat Hy sy eie Seun nie gespaar het nie maar hom vir ons{20}oorgegee het (Rom 8:32); as om in die vaste verwagting van saligheid en ewige lewe te berus as ons bedink dat Christus deur die Vader gegee is, in wie sulke skatte verborge is? Hier val hulle ons aan en roep uit dat die sekerheid van vertroue nie vry is van aanmatiging en inbeelding nie. Maar soos ons ons niks van onsself moet inbeeld nie, moet ons ons alles voorstel van God. En ons word om geen ander rede van ydele roem beroof nie as om te leer roem in die Here. Wat sal ek nog verder sê? Deursoek, o magtige Koning, alle dele van ons saak en beskou ons as slegter as enige soort misdadiger, as u nie duidelik bevind dat ons hierom verdrukking en smaad ly nie, omdat ons ons hoop op die lewende God stel (1 Tim 4:10); omdat ons glo dat dit die ewige lewe is om die enige waaragtige God te ken en Jesus Christus wat Hy gestuur het (Joh 17:3). Weens hierdie hoop word sommige van ons met kettings gebind, sommige met roedes gegésel, sommige ter bespotting rondgevoer, sommige verban, sommige wreedaardig gemartel; ander ontkom deur vlug. Ons word almal deur benoudheid gedruk, deur vreeslike vervloekinge verwens, deur laster verskeur en op die vernederendste wyse behandel.
Let nou ook op ons teenstanders (ek spreek nou van die stand van die priesters, op wie se wenk en oordeel andere vyandskap teen ons beoefen) en gaan ondersoek ‘n oomblik saam met my deur watter hartstog hulle aangedryf word. Hulle staan aan hulleself en andere geredelik toe om die ware godsdiens, wat in die Skrif geleer word en wat deur almal as vasstaande gehou behoort te word, nie te ken nie, te verontagsaam en te verag; en hulle is van mening dat dit min saak maak wat elkeen aangaande God en Christus dink of nie dink nie, as hy maar met ‘n vaste geloof, soos hulle dit noem, sy verstand aan die oordeel van die kerk onderwerp. En dit maak op hulle nie ‘n groot indruk as dit gebeur dat die eer van God deur openlike godslastering besoedel word nie, mits niemand maar teen die primaat van die apostoliese stoel en die gesag van die heilige moederkerk ‘n vinger ophef nie. Waarom stry hulle dan met so ‘n wreedheid en bitterheid vir die mis, vaevuur, bedevaarte en dergelike onbenullighede, sodat hulle sê dat sonder ‘n baie vaste geloof, om dit so te noem, in hierdie dinge, die godvrugtigheid nie kan bestaan nie, hoewel hulle tog nie kan bewys dat één van die dinge uit Gods Woord is nie? Waarom anders as omdat die buik hulle God is en die kombuis hulle godsdiens? As dié weggeneem word, dan glo hulle dat hulle nie alleen nie meer Christene maar selfs geen mense meer sal wees nie. Want hoewel sommige hulle in oordaad te goed doen en andere van skraal krummeltjies leef, tog leef almal uit dieselfde pot, wat sonder daardie brandstof nie alleen koud sou word nie maar totaal {21}sou verys. Daarom is die bevindings dat die van hulle wat die meeste oor sy buik begaan is, die kragtigste stryder vir sy geloof is. Kortom, hulle lê hulle almal hierop toe òf om hulle ryk in stand te hou òf om hulle maag gevul te hou. Niemand gee die geringste blyk van opregte ywer nie.
En tog hou hulle darem ook nie op om ons leer aan te val en op alle moontlike maniere te beskuldig en te belaster nie om dit gehaat of verdag te maak. Hulle noem dit ‘n nuwe en eers kort gelede ontstane leer, twyfelagtig en onseker; hulle vra deur watter wonders dit bevestig is en of dit reg is dat dit homself handhaaf teenoor die eenparige mening van soveel heilige vaders en teen die oeroue gewoonte; hulle dring daarop aan dat ons sal erken dat dit skeuring bring, daar dit teen die kerk die stryd voer, of dat die kerk waarin iets dergeliks nooit gehoor is nie, baie eeue lank dood was.
Ten slotte sê hulle dat baie bewyse nie nodig is nie, want uit die vrugte kan beoordeel word hoe dit is, daar dit so ‘n groot hoop van sektes, soveel opstandige woelinge en so ‘n groot losbandigheid en booshede voortgebring het. Voorwaar, dit is baie maklik vir hulle om by die liggelowige en onkundige massa die saak, wat geen kampvegters het nie, te hoon. Maar as ons ook, op ons beurt, die kans sou kry om te spreek, dan sou voorwaar die bitsigheid afkoel waarmee hulle met so volle mond en net so onbeteueld as onbestraf te kere gaan. In die eerste plek: Dat hulle dit ‘n nuwe leer noem, daarin is hulle hoogs onregverdig teenoor God, wie se heilige Woord nie verdien het om van nuutheid beskuldig te word nie. Inderdaad twyfel ek daar nie aan nie dat dit nuut is vir hulle, vir wie Christus ook nuut is en die evangelie nuut is; maar hulle wat weet dat daardie prediking van Paulus oud is, dat Jesus Christus gesterwe het ter wille van ons sondes en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking (Rom 4:25), sal by ons niks nuuts aantref nie. Dat hierdie leer ‘n lang tyd onbekend en begrawe was, is die skuld van die menslike goddeloosheid. Daar dit deur Gods goedertierenheid nou weer aan ons gegee word, moes dit ten minste in ere herstel word en sy oudheid terugkry.
Uit dieselfde bron van onkunde kom dit dat hulle dit vir twyfelagtig en onseker hou. Dit is inderdaad wat God deur sy profeet kla (Jes 1:3): dat ‘n os sy besitter ken en ‘n esel die krip van sy eienaar maar dat Hy deur sy volk nie geken word nie. Maar hoeseer hulle ook die spot dryf met die onsekerheid daarvan: as hulle hulle leer met hulle eie bloed en die verlies van hulle lewe moes beseël, sou ‘n mens kan sien hoe hoog dit deur hulle geskat word. Ons geloof is heeltemal anders: dit huiwer nie vir die verskrikking van die dood nie, ja, selfs nie vir die regterstoel van God nie.{22}
Hulle handel oneerlik om wondertekens van ons te eis, want ons smee nie een of ander nuwe evangelie nie, maar ons behou juis daardie evangelie waarvan alle wondertekens wat Christus en die Apostels ooit gedoen het, die waarheid bewys. Maar dit sou hulle dan besonderlik op ons voorhê dat hulle deur voortdurende wondertekens tot op die huidige dag hulle geloof kan bevestig. Maar veeleer beroep hulle hulle op wonders wat ‘n anders geruste gemoed kan laat wankel — so flou en belaglik of ydel en onwaar is hulle. En tog, al was die wondertekens nog so wonderbaarlik, behoort hulle teen die waarheid van God geen gewig te hê nie, daar die Naam van God oral en altyd geheilig moet word, hetsy deur wondere, hetsy deur die natuurlike orde van dinge. Die skyn kon miskien indrukwekkender wees as die Skrif ons nie aangaande die bedoeling en die regmatige gebruik van die wonders onderwys het nie. Want Markus leer ons (Mark 16:20) dat die tekens wat op die prediking van die Apostels gevolg het, tot bevestiging daarvan gegee is. So vertel ook Lukas (Hand 14:3) dat die Here getuienis gegee het aan die woord van sy genade toe daar tekens en wonders geskied het deur die hande van die Apostels. En daarmee stem heeltemal ooreen die woord van die Apostel (Hebr 2:4) dat die saligheid, nadat die evangelie bekend gemaak is, bevestig is deur die medegetuienis van God, deur tekens en wonders en ‘n verskeidenheid van kragte. Sal ons dan die wondertekens, waarvan ons hoor dat hulle beseëlinge van die evangelie is, verdraai om die geloof aan die evangelie omver te werp? En sal ons hulle, wat bestemd was om slegs die waarheid te beseël, gebruik om leuens te bevestig? Daarom moet die leer, waarvan die evangelis sê dat dit die eerste kom, vooraf ondersoek en nagespeur word. En as dit goed bevind is, dan eers mag dit tereg sy bevestiging aan die wonders ontleen. Volgens die getuienis van Christus is dit die kenmerk van die ware leer dat dit nie die eer van mense nie maar die van God soek (Johannes 7:18; 8:50).
Waar Christus verseker dat dit die toets van die leer is, word ten onregte vir wondere gehou dinge wat aangewend word met ‘n ander doel as die verheerliking van die Naam van die enige God. En ons behoort te onthou dat Satan ook sy wondertekens het wat, hoewel hulle meer toordery is as ware kragte, tog van so ‘n aard is dat hulle onverstandiges en onkundiges mislei. Waarsêers en towenaars was altyd beroemd deur hulle wonders; die afgodediens is gevoed deur verbasingwekkende wonders, maar tog bewys hulle nie vir ons die waarheid van die bygeloof van die waarsêers en afgodedienaars nie. En vroeër het die Donatiste die eenvoudigheid van die volk met hierdie stormram geskud dat{23}hulle sterk was in wondertekens. So antwoord ons ook nou aan ons teenstanders soos Augustinus aan die Donatiste dat die Here ons teen die wonderdoeners gewaarsku het toe hy voorsê het (Mat 24:24) dat daar valse profete sou kom, wat, as dit moontlik was, met bedrieglike tekens en verskillende wonders die uitverkorenes tot dwaling sou verlei. En Paulus het ons gewaarsku (2 Thess 2:9) dat die ryk van die Antichris sou wees in allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen. Maar, sê hulle, hierdie wonders geskied nie deur afgode, nie deur kwaaddoeners, nie deur valse profete nie maar deur heiliges. Asof ons nie weet dat dit die lis van Satan is om homself in ‘n engel van die lig te verander nie (2 Kor 11:14). In die ou tyd het die Egiptenaars Jeremia, wat onder hulle begrawe is, vereer met offers en ander goddelike eerbewyse. Het hulle nie so die heilige profeet van God tot afgodediens misbruik nie? En tog het hulle deur so ‘n verering van die graf tot die opvatting gekom dat die genesing van die byt van ‘n slang die regmatige beloning vir die verering was. Wat sal ons anders sê as dit die regverdige straf van God was en altyd sal wees vir hulle wat die liefde tot die waarheid nie aangeneem het nie, naamlik om die kragtige werking van die dwaling te stuur dat hulle die leuen sal glo (2 Thess 2:11)? Aan wondertekens wat gewis is en wat nie vir bespotting vatbaar is nie, ontbreek dit ons dus allermins. Maar die tekens waarop hulle hulle beroep, is slegs sinsbedrog van Satan, omdat hulle die volk van die ware diens van God weglei tot ydelheid.
Verder stel hulle lasterlik teenoor ons die vaders (ek bedoel die ou skrywers van ‘n beter eeu) asof hulle dié het as voorstanders van hulle goddeloosheid. As die stryd besleg moes word deur die gesag van die vaders, dan sou die beste deel van die oorwinning (om dit baie beskeie te stel) na ons oorhel. Maar hoewel baie voortreflike en wyse dinge deur die vaders geskrywe is, tog het in sekere sake met hulle gebeur wat gewoonlik met mense gebeur, en daardie sogenaamde vrome seuns, handig soos hulle is van verstand, oordeel en gees, aanbid alleen hulle dwalinge en foute. Wat goed gesê is, merk hulle òf nie op nie òf ontveins hulle òf verdraai hulle, sodat ‘n mens sou sê dat dit hulle grootste sorg was om drek in goud te soek. Dan val hulle ons aan met valse geskreeu asof ons veragters en teenstanders van die vaders is.
Ons is daarenteen sover daarvan om hulle te verag dat, as dit in die bestek van my teenswoordige bedoeling sou pas, ek sonder enige moeite die beste deel van wat teenswoordig deur ons gesê word, met hulle getuienisse sou kan bewys. Maar ons hou ons so met hulle geskrifte besig dat ons steeds gedagtig is dat alles aan ons behoort om ons te dien, nie om oor ons te heers nie, want ons{24}is van Christus alleen, aan wie ons in alles, sonder uitsondering, gehoorsaam moet wees (1 Kor 3:21). Hy wat hierdie onderskeid nie vashou nie, sal in die godsdiens geen vastigheid hê nie. Want daar is baie dinge wat die heilige manne nie geweet het nie; dikwels verskil hulle van mekaar, soms is hulle ook met hulself in stryd. Nie sonder oorsaak nie, sê hulle, word ons deur Salomo vermaan om nie die ou grense wat ons vadere gemaak het, te oorskry nie (Spr 22:28). Maar die reël is nie dieselfde vir die grense van velde en vir die gehoorsaamheid van die geloof nie, want laasgenoemde moet so toegerus wees dat ‘n mens jou volk en die huis van jou vader
vergeet (Ps 45:11). As hulle dan so ‘n lus het in allegorisering, waarom lê hulle dit dan nie so uit nie dat die Apostels liewer as andere die vaders is wie se voorgeskrewe grenspale dit verkeerd is om te verwyder?
Want so het Hiëronymus dit uitgelê, wie se woorde hulle in hulle leer opgeneem het. En as hulle wil hê dat die grense van diegene wat hulle bedoel, moet bly staan, waarom oorskry hulle dit dan self so vryelik net so dikwels as hulle lus het? Dit was een van die vaders wat gesê het dat onse God nie eet nie en nie drink nie en dus nie bekers en skottels nodig het nie; en ‘n ander het gesê dat die sakramente nie na goud vra nie en dat die dinge wat nie deur goud gekoop word nie, nie deur goud aangenaam is nie. Hulle oorskry dus die grens wanneer hulle in hulle seremonies soveel behae skep in goud, silwer, ivoor, marmer, gesteentes en systowwe en meen dat God nie behoorlik gedien word as alles nie oorvloei van uitgelese geskitter of liewer van onsinnige weelde nie. Dit was ‘n vader wat gesê het dat dit die rede was waarom hy vryelik vleis geëet het op die dag waarop andere hulle daarvan onthou het, omdat hy ‘n Christen is. Dus oortree hulle die grense wanneer hulle ‘n siel in die ban doen wat in die veertigdaagse vas vleis geëet het. Dit was een van die vaders wat gesê het dat ‘n monnik wat nie met sy hande werk nie, gelyk geag moet word met ‘n geweldenaar of, as u verkies, ‘n struikrower; ‘n ander dat dit nie geoorloof is vir monnike om van andere se goed te lewe nie, selfs al verkeer hulle gedurig in oordenkinge, gebed en studie. Ook hierdie grens het hulle oorskry toe hulle luie en vraatsugtige monnike in bordele en hoerhuise geplaas het om hulle vet te maak met die besittinge van andere. Dit was ‘n vader wat gesê het dat dit ‘n verskriklike gruwel is om in die kerke van die Christene ‘n geskilderde beeld van Christus te sien of van een of ander heilige. En dit is nie deur die stem van één man uitgespreek nie maar ook deur ‘n kerklike konsilie besluit dat wat vereer word, nie aan die mure geskilder mag word nie. Hulle is baie ver buite hierdie grense, daar hulle nie ‘n hoek vry hou van afbeeldinge nie. ‘n Ander vader {25}het aangeraai dat ons, as ons deur die begrafnis die laaste eer aan die gestorwenes bewys het, hulle moet laat rus.
Hierdie grense verbreek hulle wanneer hulle ‘n voortdurende besorgdheid vir die dooies inboesem. Dit was een van die vaders wat getuig het dat die substansie van die brood en die wyn by die Nagmaal so bly, soos in die Here Christus die substansie en die natuur van die mens met die goddelike natuur verbonde bly. Dus gaan hulle die grens te buite wat voorgee dat wanneer die woorde van die Here uitgespreek is, die substansie van brood en wyn ophou, om oor te gaan in die liggaam en bloed van Christus. Dit was vaders wat, soos hulle aan die hele kerk slegs een Nagmaal bedien het en soos hulle die misdadigers en slegte mense daarvan geweer het, so ook baie ernstig al diegene veroordeel het wat, hoewel teenwoordig, aan die Nagmaal nie deelgeneem het nie. Hoe ver het hulle hierdie grense verskuiwe, daar hulle nie slegs die kerke nie maar ook private huise met hulle misse vul, elkeen toelaat om dié by te woon en elkeen des te vryer namate hy kwistiger geld uitdeel, ook al is hy onrein en misdadig. Tot die geloof in Christus en die gelowige gemeenskap van die sakramente nooi hulle niemand nie, maar liewers verkoop hulle hulle eie werk vir die genade en verdienste van Christus. Dit was vaders van wie die een verorden het dat diegene geheel van die Nagmaal van Christus uitgesluit moes word wat met deelname aan die een deel tevrede was en hulle van die ander deel onthou het, en die ander daar kragtig voor gestry het dat aan die Christelike volk die bloed van sy Heer nie onthou mag word nie, vir wie se belydenis hy beveel word om sy eie bloed te vergiet. Ook hierdie grense het hulle weggeruim, daar hulle met ‘n onskendbare wet juis dit beveel het wat eersgenoemde vader met die ban gestraf het en die laasgenoemde met kragtige redes afgekeur het. Dit was ‘n vader wat beweer het dat dit roekeloosheid was om in ‘n duistere saak ‘n beslissing na een van twee kante te vel sonder helder en duidelike getuienisse van die Skrif. Hierdie grens het hulle vergeet toe hulle soveel besluite, soveel reëls, soveel dogmatiese bepalinge sonder enige woord van God vasgestel het.
Dit was ‘n vader wat aan Montanus onder ander ketterye verwyt het dat hy die eerste die wette van die vas opgelê het. Hierdie grens ook het hulle ver oorskry, daar hulle die vas met baie streng wette gereël het. Dit was ‘n vader wat gesê het dat aan dienaars van die kerk die huwelik nie verbied moes word nie, wat die gemeenskap van ‘n man met sy eie vrou kuisheid genoem het, en dit was vaders wat met sy uitspraak saamgestem het. Hierdie grense het hulle te buite gegaan, daar hulle hulle priesters die ongehude staat streng beveel het. Dit was ‘n vader wat geoordeel{26}het dat alleen geluister moes word na Christus, van wie gesê is: Hoor Hom; en daar moet nie teruggesien word na wat ander voor ons gesê of gedoen het nie maar wat Christus beveel het, wat eerste van almal is. Hierdie grens stel hulle nie vir hulleself nie en laat ook nie toe dat ander dit vir hulle stel nie, daar hulle liewers beide oor hulleself en oor ander alle moontlike ander meesters stel as Christus.
Dit was ‘n vader wat beweer het dat die kerk hom nie bo Christus moet stel nie, omdat Hy altyd waaragtig oordeel, terwyl die kerklike regters, omdat hulle mense is, hulle dikwels vergis. Ook hierdie grens is verbreek, en hulle aarsel nie om te beweer dat die ganse gesag van die Skrif van die oordeel van die kerk afhang nie. Alle vaders het dit eenparig verfoei en met een mond vervloek dat die heilige Woord van God deur die spitsvondighede van die drogredenaars verontreinig word en in die twiste van die twisredenaars ingesleep word. Hou hulle hulle binne dié grense waar hulle gedurende hulle hele lewe niks anders verrig nie as om die eenvoud van die Skrif te verduister en te verwar deur hulle eindelose twiste en meer as spitsvondige woordgevegte, sodat as die vaders nou sou opstaan en hierdie soort strydkuns sou aanhoor, wat hulle bespiegelende godgeleerdheid noem, hulle niks minder sou glo as dat daar oor God geredeneer word nie? Maar my woorde sou hulle verder uitstrek as wat behoorlik is, as ek sou nagaan hoe brutaal hulle van hulle afwerp die juk van die vaders as wie se gehoorsame seuns hulle hulleself graag voordoen. Waarlik, die maande en die jare sou my ontbreek. En hulle is so hopeloos en jammerlik onbeskaamd dat hulle ons durf verwyt dat ons nie aarsel om die ou grense te oorskry nie.
Verder, dat hulle ons roep tot wat gewoonte was, daarmee bereik hulle niks nie. Want dit sou met ons baie sleg gaan as ons vir die gewoonte moes wyk. Inderdaad, as die oordeel van mense reg was, sou die gewoonte by die goeie mense gesoek moes word. Maar dit gebeur baie dikwels dat dit heeltemal anders gaan. Want wat ‘n mens baie sien doen, kry weldra die reg van gewoonte. En tog het dit baie selde met die menslike sake so goed gegaan dat die beter dinge die meerderheid behaag het. So het dan uit die persoonlike foute van vele mense baie dikwels ‘n openbare dwaling ontstaan of liewers ‘n gemeenskaplike instemming met die foute; en dit wil die (sogenaamde) goeie mense as ‘n wet beskou. Hulle wat oë het, sien dat meer as een see van boosheid die aarde oorstroom het, dat baie dodelike pestilensies dit aangetas het, dat alles tot ondergang neig, sodat ‘n mens òf aan die redding van menslike sake heeltemal moet wanhoop òf dat die hand geslaan moet word aan so grote booshede of liewer dat hulle geweld aangedoen{27}moet word. En tog word die geneesmiddel afgewys om geen ander rede nie as dit dat ons reeds so lank aan die booshede gewoond is. Al mag daar ook in die samelewing van mense vir ‘n openbare dwaling plek wees, in die koninkryk van God moet alleen sy ewige waarheid gehoor en gesien word, waaraan deur geen enkele reeks van jare, geen enkele gewoonte, geen enkele sameswering iets kan voorgeskrywe word nie. So het Jesaja voorheen die uitverkorenes van God geleer: “Julle mag nie alles ‘n sameswering (verbintenis) noem wat die volk ‘n sameswering (verbintenis) noem nie”. Dit beteken dat hulle hulle nie moes aansluit by die goddelose eenstemmigheid van die volk nie en nie moes vrees of beangs wees vir sy vrees nie maar veeleer die Here van die leërskare moes heilig en dat Hy self hulle vrees en angs moes wees. Laat hulle dus vir ons soveel voorbeelde as hulle wil uit vroeëre en teenswoordige tye voor die voete werp; as ons die Here van die leërskare heilig, sal ons nie erg verskrik word nie.
Want al het ook baie eeue saamgestem tot ‘n gelyke goddeloosheid, Hy is magtig om wraak uit te oefen tot in die derde en vierde geslag; of al span die hele wêreld tegelyk ook al saam tot dieselfde boosheid, Hy het ons deur ondervinding geleer wat die uiteinde is van hulle wat saam met die menigte sondig, toe Hy die ganse menslike geslag deur die sondvloed vernietig het, terwyl Noag met sy klein gesin gespaar is om deur die geloof van hom alleen die hele wêreld te veroordeel (Hebr 11:7). Kortom, die slegte gewoonte is niks anders as ‘n algemene pestilensie nie, waarin hulle wat onder die groot menigte val, nie minder omkom nie.
Hierby behoort oorweeg te word wat Cyprianus êrens sê dat diegene wat in onkunde sondig, hoewel hulle hulle nie aan alle skuld kan onttrek nie, tog in sekere opsig verskoonbaar kan lyk, maar dat hulle wat hardnekkig die waarheid deur die weldaad van God aan hulle gebied, versmaad, niks het wat hulle as voorwendsel sou kon aanbied nie. Hulle bring ons nie so in die noute met hulle ander bewys dat hulle ons dwing om te erken òf dat die kerk ‘n tyd lank dood was òf dat ons nou teen die kerk stry nie. Voorwaar, die kerk van Christus het geleef en sal lewe solank Christus sal heers aan die regterhand van die Vader, deur wie se hand dit gesteun word, deur wie se beskerming dit verdedig word en deur wie se krag dit ongedeerd onderhou word. Want Hy sal ongetwyfeld volbring wat Hy eenmaal onderneem het, naamlik om by sy eie mense te wees tot aan die voleinding van die wêreld (Mat 28:20).
Teen die kerk van Christus voer ons nou geen stryd nie, daar ons immers die enige God en Christus die Here in eenstemmigheid, met die ganse volk van die gelowiges, eer en aanbid, soos Hy altyd{28}deur alle vromes aanbid is. Maar hulle dwaal self nie weinig van die waarheid af wanneer hulle geen ander kerk erken nie as net die een wat hulle met hulle eie oë tans aanskou en dit binne die grense probeer insluit waarbinne dit geensins ingesluit is nie. Dit is die hoofpunte waarom ons geskil draai: ten eerste dat hulle beweer dat die gestalte van die kerk hom altyd vertoon en sigbaar is en ten tweede dat hulle hierdie gestalte stel in die stoel van die Roomse Kerk en in die orde van sy prelate. Ons beweer daarenteen dat die kerk ook kan bestaan sonder dat sy gestalte sigbaar is en dat sy gestalte nie deur die uiterlike glans wat hulle so dwaaslik bewonder nie, maar deur iets heeltemal anders gekenmerk word, naamlik deur die suiwere prediking van Gods Woord en die wettige bediening van die sakramente. Hulle mor as die kerk nie altyd met die vinger aangewys word nie. Maar hoe dikwels het dit gebeur dat dit onder die Joodse volk so misvorm is dat geen gedaante oorgebly het nie? Watter gestalte, dink ons, kon nog geskitter het toe Elia gekla het dat hy alleen oorgebly het (1 Kon 19:14)? Hoe lank was dit sonder gestalte na die koms van Christus? Hoe dikwels is dit nie sinds daardie tyd deur oorloë, oproer en ketterye so onderdruk dat dit nêrens sigbaar was nie? As hulle in daardie tyd geleef het, sou hulle dan wel geglo het dat daar ‘n kerk was? Maar Elia het gehoor dat daar seweduisend man oor was wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie. En ons hoef nie te twyfel nie dat Christus altyd op aarde geregeer het sinds Hy na die hemel opgevaar het. Maar as die vromes toe met hulle oë ‘n waarneembare gestalte gesoek het, sou hulle dan nie dadelik moed verloor het nie? En, voorwaar, Hilarius het dit reeds in sy tyd as ‘n baie groot fout beskou dat hulle, vervul met ‘n dwase bewondering vir die biskoplike waardigheid, die dodelike adder nie opgemerk het wat agter die masker geskuil het nie. Want hy spreek soos volg: “Een ding vermaan ek u, pas op vir die Antichris, want ten kwade het die liefde vir die mure u aangegryp; ten kwade aanbid u die kerk van Christus in dakke en geboue, ten kwade verbind u die woord vrede aan hulle; is dit twyfelagtig of die Antichris in hulle sal setel? Die berge, die bosse, die mere, die gevangenisse en die hole beskou ek as veiliger, want daarin het die profete ook gebly of was hulle versink terwyl hulle geprofeteer het”. Want wat vereer die wêreld vandag in sy gehoringde biskoppe anders as dat hulle gehou word vir die heilige leiers van die godsdiens wat hulle in vermaarde stede sien setel?
Weg dan met so ‘n dwase agting! Laat ons dit liewer aan die Here oorlaat dat Hy, daar Hy alleen weet wie syne is (2 Tim 2:19), soms ook aan sy kerk die uiterlike bekendheid voor die oë van die mense wegneem. Ek erken dat dit ‘n verskriklike straf van God oor die aarde is, maar as die goddeloosheid van die mense dit verdien,{29}waarom doen ons dan ons bes om ons teen die wraak van God te verset? So het die Here in die voorgaande eeue die ondankbaarheid van die mense gestraf, want omdat hulle onwillig was om sy waarheid te gehoorsaam en sy lig uitgedoof het, het Hy toegelaat dat hulle, verblind van verstand, deur verspotte leuens mislei, in diepe duisternis gedompel is, sodat geen gestalte van die ware kerk bly staan het nie. Intussen egter het Hy sy volk wat verstrooi was en te midde van die
dwalinge gaan wegkruip het, van die verderf behou. En geen wonder nie, want Hy het geweet om hulle te bewaar, selfs ook in die verwarring van Babilon en in die vlam van die brandende oond. Omdat hulle egter wil hê dat die gedaante van die kerk deur ek weet nie wat se ydele praal beoordeel moet word nie, sal ek die gevaar daarvan meer aandui as uiteensit, om nie my woorde tot in die oneindige uit te rek nie. Die priester, sê hulle, wat op die apostoliese stoel sit, en die biskoppe wat deur hom gesalf en gewy is as hulle maar myter en staf besit, stel die kerk voor en behoort as die kerk beskou te word, en daarom kan hulle ook nie dwaal nie. Hoe dan so? Omdat hulle herders van die kerk is en geheilig aan die Here. En was Aäron en die ander ampsdraers van Israel nie herders nie? Maar Aäron en sy seuns het tog ook, nadat hulle reeds tot priesters aangewys was, gedwaal toe hulle die kalf gemaak het (Ex 32:4). Waarom, volgens hierdie redenering, sou die vierhonderd profete wat Agab belieg het, nie die kerk voorgestel het nie? Maar die kerk het gestaan aan die kant van Miga, wat wel alleen en veragtelik was maar uit wie se mond die waarheid gekom het. Het die profete nie ook die naam en die gedaante van die kerk gedra en vertoon toe hulle soos een man teen Jeremia opgestaan het nie en met dreigemente verkondig het dat dit onmoontlik was dat die wet van die priester, die raad van die wyse en die woord van die profeet sou vergaan (Jer 4:9)? Het daar nie ook so ‘n glans geskitter in die raad wat die owerpriesters, skrifgeleerdes en Fariseërs byeengebring het toe hulle wou beraadslaag om Christus om die lewe te bring nie (Joh 12:10)? Laat hulle nou gaan en vashou aan die uiterlike masker, om Christus en alle profete tot skeurders te maak en aan die ander kant die dienaars van Satan tot werktuie van die Heilige Gees. As hulle uit oortuiging praat, laat hulle my in goeie trou antwoord waar in die wêreld hulle meen dat die kerk sy setel het sinds Eugenius volgens besluit van die Konsilie van Basel afgedank, van die pouslike waardigheid onthef is en in sy plek Amedaeus gekies is? Al sou hulle oopbars van spyt, kan hulle nie ontken nie dat die Konsilie, sover dit die uiterlike plegtighede aangaan, wettig was en nie slegs deur een pous nie maar deur twee as sodanig erken is. Eugenius is daar veroordeel weens skeurmakery, rebellie en hardnekkigheid saam met{30}die hele bende van kardinale en biskoppe wat saam met hom probeer het om die ontbinding van die Konsilie te bewerkstellig. Later is hy egter deur die guns van vorste ondersteun en het die pouslike waardigheid weer heeltemal teruggekry. Die verkiesing van Amedaeus, wat op die gesag van die algemene en heilige sinode en volgens die gebruiklike seremonies plaasgevind het, het in rook verdwyn, behalwe dat hy, soos ‘n blaffende hond met ‘n stuk brood wat hom in die bek gewerp word, met ‘n kardinaalsmus gepaai is. Uit die skoot van daardie ketters, rebelle en hardnekkigheid het voortgekom alle pouse, kardinale, biskoppe, abde en priesters wat daar was. Hier moet hulle hulleself noodgedwonge gevange gee. Want aan watter van die twee dele sal hulle die naam kerk toeken? Sal hulle ontken dat dit ‘n algemene konsilie was waaraan niks ontbreek het wat uiterlike majesteit betref nie? Immers, dit is deur twee bulle plegtig aangekondig, onder voorsitterskap van die legaat van die Roomse stoel gewy, in alle opsigte volgens orde goed ingerig, en het altyd, tot die einde toe, in dieselfde waardigheid volhard. Sal hulle erken dat Eugenius met sy ganse skare, deur wie hulle almal gewy is, ketters was? Dus moet hulle òf die gestalte van die kerk anders omskrywe, òf hulle sal almal, wat willens en wetens deur ketters georden is, deur ons vir ketters gehou word. En indien dit nooit tevore bevind is dat die kerk nie aan uiterlike praal gebind is nie, kan hulle vir ons tot voldoende bewys wees, hulle wat onder die skone naam van die kerk hulle so lank hoogmoedig by die wêreld aangeprys het, hoewel hulle tog verderflike pestilensies van die kerk was. Ek spreek nie oor hulle sedes en die verskriklike misdade waarvan hulle hele lewe vol is nie, want hulle sê dat hulle Fariseërs is na wie geluister moet word maar wat nie nagevolg moet word nie. Maar indien u ‘n weinig van u vrye tyd wil wy aan die lees van ons werke, sal u duidelik leer insien dat juis die leer waaraan hulle sê dat dit te danke is dat hulle die kerk is, ‘n verderflike sielemoordery is, ‘n brandfakkel, ‘n ondergang en verderf van die kerk. En eindelik handel hulle heeltemal nie opreg nie wanneer hulle naywerig vermeld watter groot beroeringe, opskuddinge en twiste die prediking van ons leer meegebring het en watter vrugte dit nou in baie gevalle dra. Want die skuld van hierdie rampe word ten onregte op die leer gewerp, terwyl dit aan die boosheid van Satan toegeskryf behoort te word. Dit is as ‘t ware onafskeidbaar verbonde aan die Woord van God dat Satan nooit rustig bly en slaap as dit te voorskyn kom nie. Dit is ‘n baie sekere en veral betroubare kenteken, waardeur dit onderskei word van valse leringe, wat hulle gemaklik laat ken deurdat hulle deur almal met welwillende ore aangeneem word en onder toejuiging van die wêreld aangehoor word. So was enkele eeue gelede, toe{31}alles in diepe duisternis gedompel was, byna alle mense tot spel en spot vir hierdie heer van die wêreld, en net soos ‘n Sardanapolus het hy (Satan) in diepe vrede gelê en homself vermaak. Want wat was daar anders vir hom te doen as om te lag en hom te vermaak, aangesien die besit van sy ryk rustig en ongestoord was? Maar toe die lig wat van bo skyn, sy duisternis ‘n weinig verdryf het en toe die Sterke sy koninkryk in beroering gebring en verstoor het, toe het hy begin om sy gewone traagheid af te skud en na die wapens te gryp. Eers het hy die krygsbendes van mense opgeroep om daardeur die aanligtende waarheid met geweld te onderdruk. En toe hy daardeur niks bereik het nie, het hy hom tot hinderlae gewend en deur sy wederdopers en ander dergelike bose gespuis onenighede en twiste oor leerstellings opgewek om daardeur die waarheid te verduister en eindelik uit te doof. En nou hou hy nog steeds aan om dit deur twee middele aan te val. Want hy probeer om daardie ware saak deur die geweld en mag van mense uit te ruk en deur sy onkruid, sover hy dit vermag, te verstik dat dit nie mag groei en vrugte dra nie.
Maar dit is alles tevergeefs, as ons luister na die vermaning van die Here, wat lank tevore al sy kunste aan ons geopenbaar het dat Hy ons nie onverhoeds sou vang nie en wat ons teen al sy liste met toereikende hulpmiddels gewapen het. Verder, van hoe groot kwaadwilligheid getuig dit nie om juis op Gods Woord die blaam te werp vir die beroeringe wat die goddelose en oproeriges of vir die sektes wat die bedrieërs daarteen opwek? Tog is dit nie ‘n nuwe verskynsel nie. Elia is gevra of dit nie hy was wat Israel beroer het nie. Christus is deur die Jode as ‘n oproermaker beskou. Die Apostels is beskuldig van volksopruiing.
Wat doen hulle anders wat teenswoordig alle beroeringe, opskuddinge en twiste wat teen ons opborrel, aan ons toereken? Maar Elia het ons geleer wat om aan sulke mense te antwoord: dat dit nie ons is wat dwalinge uitstrooi of opskudding verwek nie, maar hulle self wat teen God se krag stry (1 Kon 18:18).
Maar soos daardie een ding voldoende is om hulle vermetelheid te weerlê, so moet aan die ander kant die swakheid van ander tegemoetgekom word, wat, soos dit dikwels gebeur, deur dergelike besware ontroer en onthuts, aan die wankel gaan. Dat hulle nie deur die ontsteltenis mag beswyk en van hulle voete geslaan word nie, moet hulle weet dat die apostels in hulle tyd dieselfde ondervind het wat ons nou ondervind.
Dit was ongeleerde en onvaste mense wat tot hulle eie verderf verdraai het wat deur Paulus onder ingewing van God geskryf is, soos Petrus sê (2 Petr 3:16). Dit was veragters van God wat, toe hulle gehoor het dat die sonde oorvloedig was dat die genade meer{32}kan word, terstond daarteen ingebring het: Ons sal in die sonde bly dat die genade meer kan word. Toe hulle gehoor het dat die gelowiges nie onder die wet is nie, het hulle terstond gesê: Ons sal sondig, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade (Rom 6:1,15). Daar was mense wat beweer het dat die apostel ‘n aanspoorder was tot kwaaddoen. Baie valse apostels het ingedring om die kerke te verniel wat hy self gestig het. Party het die evangelie deur nyd en twis verkondig en nie opreg nie. Hulle bedoeling was om verdrukking aan sy boeie toe te voeg (Filipp. 1:15). In sommige plekke het die evangelie nie baie vooruitgang gemaak nie. Almal het hulle eie voordeel gesoek en nie wat van Christus is nie. Ander het omgedraai en teruggegaan soos honde na hulle uitbraaksel en soos varke om in die slyk te rol. Baie het die vryheid van die gees gebruik tot uitspattigheid van die vlees. Baie het binnegedring as broeders, deur wie gevare daarna die vromes bedreig het. Onder die broeders self het verskillende twiste ontstaan. Wat moes die Apostels hier doen? Moes miskien ‘n tyd lank verberg of liewer geheel en al opgegee en verlaat word daardie evangelie waarvan hulle gesien het dat dit die oorsaak was van soveel gevare en die geleentheid vir soveel ergernisse? Maar in sulke benoudhede het die gedagte by hulle opgekom dat Christus ‘n steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling was, daargestel tot ‘n val en opstanding van baie en tot ‘n teken wat weerspreek sal word (Luk 2:34). En met hierdie vertroue gewapen het hulle onverskrokke voortgegaan deur alle gevare van oproer en ergernisse heen. Ons behoort ook gesteun te word deur dieselfde oorweging, omdat Paulus getuig dat die evangelie onafgebroke hierdeur vergesel word, dat dit ‘n reuk van die dood is tot die dood vir diegene wat verlore gaan (2 Kor 2:16), hoewel dit vir ons veeleer hiertoe bestem was dat dit ‘n reuk van die lewe tot die lewe sou wees en ‘n krag van God tot redding vir hulle wat glo. En dit sou ons ook sekerlik ondervind het as ons nie deur ons ondankbaarheid hierdie so besondere weldaad van God bederf en tot ons ondergang gekeer het nie, terwyl dit ons enigste redmiddel tot saligheid moes wees.
Maar ek rig my weer tot u, o Koning. Laat u nie beweeg deur die ydele aanklagte waardeur ons teenstanders probeer om u skrik aan te ja nie, naamlik dat deur hierdie nuwe evangelie (soos hulle dit noem) niks anders nagejaag en gesoek word as ‘n geleentheid tot oproer en ‘n straffelose vryheid tot alle moontlike misdrywe nie. Want onse God is nie ‘n verwekker van verdeeldheid nie maar van vrede; en die Seun van God is nie ‘n dienaar van die sonde nie, omdat Hy gekom het om die werke van die duiwel te verbreek. En ons word onverdiend van sulke begeertes beskuldig waarvan ons{33}nooit die geringste verdenking gegee het nie. Sou ons inderdaad die omverwerping van koninkryke beoog, ons, van wie nooit enige oproerige woord gehoor is nie en wie se lewe steeds bekend was as rustig en eenvoudig toe ons onder u geleef het, en wat ook nou nog, hoewel van u huis verdryf, tog nie ophou om u en u ryk alle voorspoed toe te bid nie! Sou ons straffelose uitspattigheid van misdade najaag, in wie se sedes, hoewel daar baie dinge is om oor te vit, tog niks is wat so ‘n aantyging verdien nie. En ons het in die evangelie (Gode sy dank) nie so sleg gevorder nie of ons lewe kan vir die lasteraars ‘n voorbeeld wees van kuisheid, welwillendheid, barmhartigheid, matigheid, lydsaamheid, beskeidenheid en alle moontlike ander deugde. Dat ons voorwaar God opreg vrees en dien, is daaruit duidelik dat ons sowel deur ons lewe as deur ons dood daarna streef om sy Naam te heilig, en die afguns self is gedwing om aan sommige van ons die getuienis te gee van onskuld en burgerlike opregtheid, in wie alleen die een ding met die dood gestraf is wat as besondere lof gereken moes geword het. Indien sommige onder die dekmantel van die evangelie oproer gestig het (sodaniges is tot dusver in u koninkryk nie gevind nie), indien daar diegene is wat die ongebondenheid van hulle misslae probeer toedek deur die vryheid van God se genade — daar is wette en wettige strawwe waardeur hulle na verdienste streng in toom gehou kan word, mits maar nie intussen die evangelie van God in slegte reuk kom weens die slegtheid van misdadige mense nie. O Koning, u het nou ‘n genoegsaam uitvoerige uiteensetting van die giftige boosheid van die lasteraars verneem, dat u nie met ‘n te liggelowige oor u tot hulle aanklagte sou neig nie. Ek vrees selfs dat ek te uitvoerig was, daar hierdie voorwoord byna die afmeting van ‘n volledige verdedigingsgeskrif aangeneem het, hoewel dit nie my bedoeling was om deur hierdie voorwoord ‘n verdediging op te stel nie maar alleen om u gemoed sag te stem om ons regsaak aan te hoor, u gemoed, wat nou van ons afgewend en vervreemd, ja, selfs teen ons in toorn ontstoke is, maar wie se guns ons vertrou om te kan herwin wanneer u hierdie belydenis van ons, wat ons wil hê by u Majesteit as verdediging moet dien, eenmaal kalm en rustig sal gelees het. Maar as die inblasinge van die kwaadwilliges u ore so in beslag sal neem dat daar geen kans sal wees vir die beskuldigdes om vir hulleself te spreek nie maar aan die ander kant die onbeskaamde geeste van die raserny, onder u oogluikende goedkeuring, altyddeur woed met kettings, gesels, pynbanke, vuur en swaard, dan sal ons, soos skape bestem vir slagting, tot die uiterste gedrywe word; maar tog so dat ons ons siele in lydsaamheid besit en die kragtige hand van die Here verwag, wat ongetwyfeld op sy tyd sal kom en gewapend sal verskyn, sowel{34}om die armes uit die verdrukking te verlos asook om die veragters wat so onbekommerd nou van vreugde opspring, te straf. Mag die Here, die Koning van die konings, u troon deur regverdigheid en u setel deur billikheid bevestig, deurlugtige Koning.
Basel, 1 Augustus 1536.{35}
{37}
EERSTE BOEK: Die kennis van God, die Skepper
{38}
HOOFSTUK I. Die kennis van God en van onsself is ten nouste met mekaar verbind
1. Die hoofsom van ons wysheid bestaan uit twee dele, die kennis van God en die kennis van onsself. Die twee is egter met so baie bande aan mekaar verbind dat dit moeilik is om te bepaal watter een van die twee die eerste is en die oorsprong van die ander een.
Want ten eerste kan niemand homself betrag nie, sonder om dadelik sy gedagtes te rig op God, in wie hy leef en hom beweeg (Hand 17:28). Dis tog duidelik dat ons die begaafdhede wat ons besit, nie aan onsself te danke het nie Ja, ons bestaan selfs is ‘n bestaan in God.
Maar dis veral ons armoede, ons nietigheid en verdorwenheid waarin die val van die eerste mens ons gewerp het, wat ons tot die insig bring dat alleen in die Here die bron van alle ware wysheid en suiwere geregtigheid te vind is. Deur vrees wakker geskud leer ons so om ootmoedig te wees. Die kennis van onsself dryf ons dus om God te soek, en dit lei ons aan die hand om Hom te vind.
2. Aan die ander kant staan dit ook vas dat die mens nie tot suiwer kennis van homself kan kom voordat hy God nie aanskou het nie. Want deur die hoogmoed wat ons ingebore is, is ons altyd regverdig, wys en heilig in ons eie oë, totdat ons deur grondige bewyse oortuig word van ons onregverdigheid, verdorwenheid en dwaasheid. Hiervan word ons alleen dán oortuig as ons op die Here sien. Dit gaan met ons soos met iemand wat op die middel van die dag kyk na wat hy rondom hom op aarde sien. Dan mag hy dink dat sy oog goed en sterk is. Maar as hy opkyk in die son, word sy oog meteens verblind en moet hy erken dat sy oog wat goed sien as hy na die dinge op aarde kyk, swak is as hy na die son kyk.
Só gaan dit ook met die oordenking van ons geestelike goedere. Solank ons nie verder as die aarde kyk nie, is ons heeltemal tevrede met ons wysheid, mag en geregtigheid, maar as ons ons gedagtes ophef tot God en bedink hoedanig Hy is en hoe volmaak die geregtigheid, wysheid en mag is waaraan ons moet beantwoord, word ons geregtigheid ongeregtigheid, ons wysheid dwaasheid, ons mag onmag in ons eie oë.
3. Dit word bevestig deur die voorbeeld van die heiliges in die Skrif. Hulle word deur huiwering en skrik oorweldig in die teenwoordigheid van God. Hulle word só geskok dat hulle soos dooies {39} neerval (Rigt 13:22; Jes 6:5; Eseg 1:28; Eseg 3:14, e.a.p.). Abraham sê: “Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek, alhoewel ek stof en as is” (Gen 18:27), So bedek die serafs hulle ook voor die aangesig van God (Jes 6:2). As God sy heerlikheid laat uitstraal, sê die profeet, sal selfs die skitterendste wat ons ken, die son se glans, in vergelyking daarmee donkerheid word (Jes 24:23). Al hang dus die kennis van God en van onsself ten nouste saam, eis ‘n goeie orde van behandeling tog dat ons eers spreek oor die kennis van God en daarna oor die kennis van onsself.
HOOFSTUK II. Wat dit beteken om God te ken en waartoe die kennis dien
1. Onder die kennis van God verstaan ek alles wat ons aangaande Hom behoort te weet, wat tot sy eer dien en wat vir ons nuttig is. Waar hierdie kennis van God nie gevind word nie, daar is geen godsdiens en ook geen godsvrug nie. Ek spreek dus nog nie oor die kennis van God waardeur ons Hom in die Middelaar Christus as Verlosser aanneem nie, maar van die eerste kennis waartoe ons sou geraak het as Adam nie in die sonde geval het nie. Want dit is een saak om te bely dat God ons Skepper is wat ons deur sy voorsienige bestel lei, deur sy goedheid onderhou en ons alle seëninge skenk, en ‘n ander om die genade van versoening in Christus te omhels.
God openbaar Hom dus eers as Skepper in die formering van die wêreld en daarna as Verlosser in Christus. Hieruit vloei voort ‘n tweeledige kennis van God, oor die eerste waarvan dan nou gehandel moet word. Die ander deel sal op sy beurt volg.
Ons kan ons met die oordenking wie God is, nie besig hou sonder om Hom ook te dien nie. Tog is dit nie genoegsaam om te weet dat Hy die enigste God is wat deur almal gedien en aanbid behoort te word nie. Ons moet daarby ook die oortuiging hê dat Hy die bron is van alles wat goed is, sodat ons alleen in Hom alles sal soek.
Dit is my opvatting, nie alleen omdat Hy hierdie wêreld, wat Hy geformeer het, nog deur sy oneindige mag onderhou, deur sy wysheid bestuur, deur sy goedheid in stand hou en die menslike geslag met sy geregtigheid en oordeel regeer en in sy barmhartigheid verdra nie, maar ook omdat daar geen greintjie van wysheid of van regverdigheid of van waarheid onder die mense gevind {40} word wat nie van Hom afdaal en waarvan Hy nie die oorsprong is nie. Van Hom moet ons dus dit alles met danksegging begeer. Hieruit word die godsdiens gebore. Dit wil sê liefde tot God verbind met eerbied vir Hom. Want dán eers onderwerp die mense hulle in vrywillige gehoorsaamheid aan God as hulle gevoel dat hulle alles aan Hom verskuldig is, dat hulle deur sy vaderlike sorg gekoester word en dat Hy vir hulle die bewerker is van alles wat goed is.
2. Die wat hulle dus besig hou met die beantwoording van die vraag wat God is, vermaak hulle maar met blote bespieëlinge. Daar is vir ons veel meer aan geleë om te weet hoedanig Hy is en wat met sy natuur in ooreenstemming is. Want wat baat dit ons om ‘n God te ken met wie ons verder niks te maak het nie? Die kennis van God moet die volgende in ons opwek: In die eerste plek vrees en eerbied. In die tweede plek moet dit ons leer om alles wat goed is, van Hom te verwag en aan Hom toe te skrywe. Die gedagte aan God kan tog nie in ons opkom nie, sonder dat ons terselfdertyd bedink dat ons as sy skepsels, deur die reg van die skepping self, aan sy heerskappy toegewys en onderworpe is. Immers, ons is ons lewe aan Hom verskuldig. Daarom moet alles wat ons doen, op Hom gerig wees. Sy wil is ons lewenswet. Daarom is ons aan Hom gehoorsaamheid verskuldig. Waar dit nie die geval is nie, verderf ons ons lewe. Aan die ander kant kan ons Hom ook nie op die regte wyse waarneem nie, sonder om Hom te ken as die bron en oorsprong van alles wat goed is. Daaruit ontstaan dan die verlange om Hom aan te hang en op Hom te vertrou. Want die vroom siel dink nie maar vir hom een of ander God uit nie maar aanskou slegs die enige en waaragtige en is tevrede om Hom te hê só soos Hy Hom geopenbaar het.
As die vrome God só ken, vertrou hy Hom en gee hy Hom aan sy trou oor, omdat hy weet dat Hy alles bestuur. En omdat hy begryp dat God die bewerker van alle goeie dinge is, stel hy hom in tye van nood onder sy beskerming en verwag sy hulp van Hom. Omdat hy oortuig is van sy goedheid en barmhartigheid, leun hy met ‘n vaste vertroue op Hom en twyfel hy nie daaraan nie dat God in sy goedertierenheid altyd ‘n geneesmiddel het vir al sy rampe. Omdat hy God ken as Here en Vader, ag hy Hom ook waardig om altyd op sy bevel te let; om op te sien tot sy majesteit; om sy gebooie te gehoorsaam en te sorg vir die verbreiding van sy eer. Omdat hy Hom ken as regverdige Regter, stel hy hom altyd sy regterstoel voor oë en weerhou hom daarvan om sy toorn op te wek. Hy omhels Hom as wreker van die goddelose oor hulle boosheid maar ook as beloner van die ewige lewe aan die regverdiges. Bo alles weerhou hy hom van die sonde, nie net uit vrees vir die hellestraf nie maar omdat hy huiwer om God aanstoot {41} te gee wat hy as Vader liefhet en eer.
Die suiwere en ware godsdiens is dus geloof, verbind met ‘n ernstige vrees van God. Laasgenoemde is ‘n vrywillige eerbied verenig met ‘n diens van God volgens sy wet. Dit moet hier bygevoeg word, omdat baie voorgee dat hulle God eer maar intussen Hom nie vrees nie. Dan is daar wel ‘n groot vertoning deur seremonies, maar die opregtheid van hart word selde aangetref.
HOOFSTUK III. Die kennis van God is van nature in die gees van die mens ingeplant
1. Deur natuurlike ingewing dra die mens in hom die besef om dat daar ‘n God is. God het dit in hom ingeskape en hou dit altyddeur in stand sodat niemand hom sal kan verontskuldig dat hy nie geweet het nie. So word hulle deur hulle eie getuienis veroordeel omdat hulle Hom nie gedien het nie. As daar onbekendheid met God bestaan, sal ons dit ongetwyfeld by hulle vind wat die verste van die ontwikkeling en beskawing verwyderd is. En tog sê die heiden Cicero dat daar nêrens ‘n nasie gevind sal word wat so barbaars is dat hy nie hierdie Godsbesef in hom omdra nie. Dit geld selfs van hulle wat in hulle leefwyse nie veel van die diere verskil nie. Die afgodery is hiervan genoegsaam bewys. Ons weet dat die mens nie graag ‘n ander skepsel vereer as een wat bokant hom staan nie. En as hy nou liewer hout en klip vereer, sodat die mense tog nie sal dink dat hy geen God het nie, bewys dit voldoende hoe sterk hierdie Godsbesef is.
2. Die bewering van sommige dat sluwe en listige mense die godsdiens versin het om op dié wyse die eenvoudige volk in bedwang te hou, is dwaasheid. Ek stem toe dat geslepe mense baie dinge versin het op die gebied van die godsdiens, maar wat hierdie mense beweer, sou nooit kon gebeur het, as die verleiers sowel as die misleides nie in hulle siel oortuig was dat daar ‘n God is nie.
Al is daar vandag ook diegene wat sê dat daar geen God is nie, tog huiwer hulle teen hulle wil vir God wat hulle so verag. Ja, die grootste veragter van God skrik vir die geruis van ‘n vallende blaar.
Ook die goddelose dien dus as voorbeeld daarvan dat ‘n sekere kennis van God in die hart van alle mense kragdadig lewe. {42}
3. Daar is dus ‘n Godsbesef in die gees van die mens ingegrif wat nooit weer vernietig kan word nie. Die vrees van die goddelose vir God is daarvan die sprekende bewys. Hierdie waarheid leer ons nie eers op skool nie, maar elkeen leer dit vir homself van die moederskoot af, en sy eie natuur laat hom nie toe om dit te vergeet nie, al span hy ook al sy kragte in om dit te doen. Dit het selfs vir die wysgere nie verborge gebly, dat die mens in geen opsig bokant die onnosele vee uitmunt nie, ja, selfs nog ongelukkiger is, as die godsdiens uit sy lewe weg is. Dis alleen die godsdiens wat hom bokant die dier verhef en waardeur hy onsterflik word.
HOOFSTUK IV. Hierdie kennis (van God) word deels deur onwetendheid, deels deur boosheid verstik of vervals
1. God het dus in almal ‘n saad van die godsdiens gelê. Tog is daar nouliks een uit honderd wat die saad in sy hart koester, en niemand in wie dit ryp word nie, laat staan nog vrug dra. Sommige vergaan in bygeloof, ander val opsetlik van God af. Almal verbaster ten opsigte van die ware kennis van God. Daarom is daar in die wêreld geen ware godsvrug nie.
As ek sê dat sommige deur dwaling in bygeloof verval, verontskuldig dit hulle nie, want hierdie blindheid is byna altyd verbind met hoogmoedige hardnekkigheid. Die mense styg nie bokant hulleself uit soos hulle behoort te doen nie, maar hulle meet God af met die maatstaf van hulle eie stompsinnigheid en hou hulle besig met nietige bespieëlinge. Hulle gryp God nie aan soos Hy Hom openbaar nie, maar in hulle vermetelheid formeer hulle Hom soos hulle Hom vir hulleself voorgestel het. As daardie afgrond eers eenmaal geopen is, moet hulle noodwendig in die verderf stort. Want al hulle onderneminge om God te dien en te gehoorsaam bestee hulle nie aan Hom nie maar aan ‘n versinsel van hulle eie hart. Dit bedoel Paulus as hy sê dat hulle dwaas geword het terwyl hulle voorgee dat hulle wys is (Rom 1:22). Die mense bring uit eie beweging die duisternis oor hulle, en deur hulle hoogmoed maak hulle van hulleself dwase. Daarom is hulle dwaasheid nie te verontskuldig nie, want die oorsprong daarvan is nuuskierigheid wat meer wil weet as wat geoorloof is.
2. As Dawid sê dat die dwaas in sy hart sê: “Daar is geen God nie” (Ps 14:8 [1]; Ps 53:1), bedoel hy daarmee mense wat opsetlik{43} dwase van hulleself maak. So sien ons ook dat baie elke gedagte aan God wil verdryf deur te volhard om te sondig.
Die woorde van Dawid beteken dus dat hulle God van sy oordeel en voorsienige bestel beroof. Almal wat dit doen en onbekommerd aan hulle eie sondige luste toegee, loën dat daar ‘n God is. Die regverdige oordeel van God oor hulle is dat Hy hulle harte as met vet omsluit, sodat hulle siende nie sien nie.
Dawid verklaar self in Ps 36:2 wat hy bedoel. Daar sê hy dat daar geen vrees van God voor die oë van die goddelose is nie. Hulle maak hulle wys dat God nie sien nie. Ofskoon hulle moet erken dat God bestaan, beroof hulle Hom van sy heerlikheid deur Hom sy mag te ontsê. God trek hulle egter altyd weer terug tot sy regterstoel. Solank hierdie blinde drif egter in hulle heers, vergeet hulle in hulle binneste dat daar ‘n God is.
3. So word ook omvergewerp die nietige voorwendsel wat baie vir hulle eie bygeloof het. Want hulle dink dat enige beoefening van die godsdiens voldoende is, al is dit ook verkeerd. Hulle vergeet egter dat die ware godsdiens hom moet rig na Gods wil as die voortdurende reël; dat God altyd aan Homself gelyk bly en dat Hy geen produk is van die verbeelding, wat elkeen na eie lus kan verander nie. Ons kan ook sien hoe hulle God bespot, want hulle gryp die dinge aan wat vir God van geen belang is nie, maar die wat Hy voorskrywe en wat Hom behaag, behandel hulle met minagting.
Hulle sou egter nie só met God durf speel as hulle nie eers vir hulle ‘n God geformeer het wat hulle dwaashede te pas kom nie.
Paulus sê (Ef 2:12) dat die Efesiërs sonder God was toe hulle van die ware kennis van God afgedwaal het (vgl. ook Gal 4:8). En dit maak ook nie veel saak of die mens een God of meer aanvaar nie, want hy verwyder hom altyd van die ware God en val van Hom af. So bly niks anders as ‘n verfoeilike afgod oor nie. Ons stel dus saam met Lactantius vas dat die ware godsdiens saam verbind is met die waarheid.
4. Hierby kom nog as tweede sonde dat hulle nooit met God rekening hou nie, behalwe teen hulle wil, en nooit tot Hom nader nie, behalwe wanneer hulle teëstribbelend tot Hom getrek word. Ook dan word hulle nie gedring deur ‘n vrywillige vrees wat uit eerbied vir die goddelike majesteit voortkom nie, maar slegs deur ‘n slaafse vrees, wat die oordeel van God aan hulle afdwing. Omdat hulle die oordeel nie kan ontvlug nie, sidder hulle, maar verwens dit ook. Van die goddelose geld die woord dat vrees die gode op aarde laat ontstaan het. In hierdie gesindheid voer die mense oorlog teen die Here, wat nooit sonder oordeel kan wees nie. Hulle vrees sy mag, omdat hulle dit nie kan ontvlug nie. Maar omdat hulle {44} nie die skyn wil verwek dat hulle God verag nie, oefen hulle een of ander soort godsdiens uit. Intussen hou hulle nie op om hulle met elke soort sonde te besoedel nie, totdat hulle die heilige wet van die Here in alles oortree en sy regverdigheid vernietig het. Maar omdat dit ‘n skyn van godsdiens is wat nouliks die naam van skyn verdien, verskil hierdie verwarde kennis van God van die vroomheid wat in die harte van die gelowiges ingedruppel word en waaruit die ware godsdiens gebore word. Want waar hulle altyd aan God gehoorsaam behoort te wees, weerstrewe hulle Hom onbekommerd in byna al hulle werke en trag hulle slegs om Hom met bietjie offerandes gunstig te stem en met hulle te versoen. Waar hulle vertroue op Hom gevestig moes gewees het, verlaat hulle hulle op hulleself. En eindelik dwaal hulle so ver af dat die lig van God se heerlikheid deur die rook van hulle boosheid uitgedoof word. Tog bly die saad van die godsdiens, nl. dat daar ‘n God is, lewe, maar dit is so verdorwe dat dit net slegte vrugte voortbring As alles rustig is, bespot hulle God, maar as die wanhoop hulle aangryp, dan soek hulle Hom en bid hulle. Dit bewys dat hulle nie sonder kennis van God was nie maar dat hulle dit hardnekkig onderdruk het.
HOOFSTUK V. Die kennis van God skitter in die bou van die wêreld en in sy voortdurende besturing
1. Die hoogste doel van ‘n gelukkige lewe is om God te ken. Daarom het Hy in die harte van die mense gelê die saad van die godsdiens waaroor ons gespreek het, sodat die weg tot die geluk vir niemand gesluit sal wees nie. Daarbenewens het Hy Hom in die hele bouwerk van die wêreld só geopenbaar en bied Hy Hom elke dag daarin só duidelik aan dat die mens Hom aanskou elke keer as hy sy oë oopmaak. Sy wese is wel ongrypbaar, maar in elkeen van sy werke het Hy onbetwyfelbare kentekens van sy heerlikheid ingegrif só duidelik dat elke voorwendsel van onwetendheid weggeneem is, selfs vir die onkundigstes.
Daarom sê die profeet dat Hy Hom met die lig bedek soos met ‘n kleed (Ps 104:2). Dis of hy wil sê dat God toe eers in ‘n kleed sigbaar verskyn het nadat Hy die wêreld gemaak het. Op dieselfde plek noem hy die hemele God se tent; sê hy dat God sy solders bou in die waters, dat die wolke sy waens is en dat Hy op die vleuels van die wind wandel, ens. Waarheen ons ook mag staar, {45} nêrens is daar ‘n deeltjie van die wêreld waarin ons nie enige vonkies van sy heerlikheid sien skitter nie. Aan alle kante word ons oorweldig deur die krag van hierdie skittering. Daarom noem die skrywer van die brief aan die Hebreërs die wêreld die skou- toneel van die onsienlike dinge. Die pragtige ordening daarvan is soos ‘n spieël waarin ons God kan aanskou. So ken die profeet ook aan die hemelse skepsels ‘n taal toe wat alle volke kan verstaan (Ps 19:1), en sê Paulus dat aan die mense geopenbaar is wat van God geken kan word, nl. sy ewige krag en goddelikheid (Rom 1:19-20).
2. In hemel en op aarde is daar dus ontelbare bewyse wat getuig van die wysheid van God. Daar is die meer verborge wysheid wat die manne van die wetenskappe mag naspeur, maar daar is ook dié waarvan selfs die ongeleerdste ‘n getuie is. Dit staan vas: daar is niemand aan wie die Here nie op oorvloedige wyse sy wysheid bekend maak nie. So verkondig ook die menslike liggaam die bewonderenswaardigheid van die Maker daarvan.
3. Daarom het sommige wysgere in die oudheid die mens tereg ‘n wêreld in die klein (mikrokosmos) genoem, omdat dit ‘n buitengewone openbaring is van die mag, die goedheid en die wysheid van God, en sê Paulus ook dat God nie ver is van elkeen van ons nie (Hand 17:27).
As dit dus nie nodig is om buite onsself te gaan om God te vind nie, watter verskoning is daar dan vir die mens wat weier om in homself af te daal? So sê Dawid ook: “Wat is die mens dat U aan hom dink?” En: “Uit die mond van kinders en suigelinge het U sterkte gegrondves” (Ps 8:5,3). Daarmee gee hy te kenne dat nie net die menslike geslag ‘n duidelike spieël van die werke van God is nie maar dat ook die suigelinge ‘n tong het wat welsprekend genoeg is om die lof van God te verkondig. Paulus haal ook met instemming die woorde van die heidense digter aan dat ons van God se geslag is (Hand 17:28). Daarmee getuig God dat Hy ons Vader is.
4. Hier word die skandelike ondankbaarheid van die mens openbaar. Hy dra in hom ‘n werkplek van God om en behoort Hom te loof. Tog word hy hovaardig. Hy gevoel hoe wonderbaarlik God in hom werk. Hy ken die verskeidenheid van gawes wat hy deur God se goedheid besit, maar hy misbruik dit alles om God se Naam te verduister. Hy kan God honderd maal in sy liggaam en siel vind, van sy oë af tot in die naels van sy voete. Tog ontken hy dat daar ‘n God is, deur dit alles aan die natuur toe te dig.
5. Maar ek bemoei my nou nie met die swynestal nie. Ek bepaal my liewer by hulle wat graag ‘n onbeduidende uitspraak van Aristoteles aanhaal om te bewys dat die siel nie onsterflik is nie {46} en om God van sy reg te beroof. Hulle verbind die siel só met die liggaam dat dit nie sonder die liggaam kan bestaan nie. Maar die siel deursoek hemel en aarde, dit verbind die verlede met die toekoms, dit bedink nuttige dinge selfs in die slaap, dis die moeder van soveel wonderbare kunste. Wat anders kan ons hiervan sê as dat dit tekens van die onsterflikheid van die siel is, wat nie vernietig kan word nie?
En hoe moet ons dit met die gesonde verstand rym dat die mens “goddelik” is en tog sy Skepper nie erken nie? Sal ons dan onderskei tussen regverdig en onregverdig, en sal daar in die hemel geen Regter wees nie? Sal ons bekend staan as die uitvinders van so baie kunste sodat God van sy eer beroof word? Die ervaring leer tog dat aan ons van elders uitgedeel word wat ons het. Hulle praat, in navolging van Vergilius, van ‘n algemene gees wat die wêreld besiel. Dit beteken ‘n duistere God in plaas van die ware God.
Ek wil toegee dat deur ‘n vroom mens op ‘n vroom manier gesê kan word dat die natuur God is, maar dit is beter om God nie só met sy werke te verbind nie.
6. Laat elkeen dan homself herinner, as hy homself betrag, dat daar één God is wat almal só bestuur dat Hy wil dat ons die oog op Hom sal vestig, die geloof op Hom sal rig en dat Hy deur ons gedien en aangeroep wil wees. Want dit is skandelik om sulke kostelike gawes te geniet en die Gewer daarvan verby te gaan.
Daar is vervolgens God se mag wat ons (uit die skepping) leer ken. Dit getuig tog van groot krag om hierdie geweldige gevaarte van hemel en aarde alleen deur ‘n woord te onderhou; om net deur ‘n wenk (te gee) die hemele te laat bewe deur die gerommel van die donder, die lug een vlam van weerlig te maak, die see in bedwang te hou en sy golwe, opgesweep deur die wind, weer te kalmeer. Dit is die weg om God te soek: ons moet die lyne volg wat sy beeld oral vir ons teken. Sy almag lei ons weer om sy ewigheid te bedink. Want dit is tog duidelik dat Hy wat die oorsprong van alles is, ewig is en sy begin uit Homself het.
En as dan gevra word na die oorsaak waarom God alles gemaak het en nog onderhou, is daar maar net een antwoord, en dit is: sy goedheid (Ps 145:9).
7. Ook in die werke van God wat nie tot die gewone natuurorde behoort nie, vind ons duidelike bewyse van sy deugde. Hy betoon aan die opregtes sy goedertierenheid en aan die goddelose sy gestrengheid, hoewel Hy op baie maniere goed en weldadig is teenoor almal.
Dat God regverdig is, belet Hom egter nie om die skuldiges ‘n tyd lank ongestraf te laat bly nie, en dit te verdra dat die goeies en onskuldiges deur baie teëspoede gekwel word en selfs deur die {47} goddelose verdruk word. Ons moet dan bedink dat hy alle sonde haat as Hy een misdaad straf en dat daar ‘n ander oordeel is as Hy baie ongestraf laat verbygaan. Maar – hoe toon Hy ons nie sy barmhartigheid nie as Hy ellendige sondaars met sy goedheid onvermoeid agternaloop totdat Hy hulle boosheid gebreek het deur aan hulle goed te doen en hulle met meer as vaderlike goedheid na Hom terug te roep!
8. Met hierdie doel voor oë vermeld die profeet (Ps 107) dat God in hopelose omstandighede plotseling, bo verwagting, op wonderbaarlike wyse ongelukkiges wat byna verlore is, te hulp kom. Die voorbeelde wat hy opnoem, mag na blote toeval lyk, maar hulle is bewyse van God se hemelse voorsienigheid en veral van sy vaderlike goedheid. Daardeur gee Hy aan die gelowiges stof tot blydskap en stop Hy die mond van die goddelose toe (Ps 107:42). Wysheid is dit om op hierdie dinge ag te gee (Ps 107:43; vgl. ook Ps 113). Sy wysheid skitter egter die duidelikste daarin uit dat Hy die wysheid van hierdie wêreld dwaas maak en die wyse mense in hulle listigheid vang (1 Kor 3:19).
9. Ons het dus geen lang en vermoeiende bewysvoerings nodig om die majesteit van God aan te toon nie. Die weinige wat ons terloops aangehaal het, bewys dat hulle so voor die hand lê dat hulle gemaklik met die oë gesien en met die vingers aangewys kan word.
Hier moet weer daarop gewys word dat ons tot kennis van God uitgenooi word, ‘n kennis wat nie net in die verstand ronddwaal nie maar wat vrugbaar is deurdat dit in die hart wortelgeskiet het. Want God word uit sy deugde geken. Daarom is die regte weg om God te soek nie om sy wese te wil naspeur nie — wat ons moet aanbid — maar om sy werke te betrag waarin Hy Homself in ‘n noue betrekking tot ons stel en in ‘n sekere sin aan ons meedeel (Hand 17:27). Want Hy woon met sy krag in ons (vs. 28). So vermeld Dawid ook God se werke as hy sy grootheid wil vermeld (Ps 145).
10. Hierdie kennis moet ons nou nie net aanspoor om God te dien nie maar moet ook die hoop op die toekomende lewe in ons opwek. Want as ons sien dat die bewyse wat God ons sowel van sy goedheid as van sy gestrengheid gee, maar slegs ‘n aanvang (hier) het, moet ons konkludeer dat Hy ons ‘n voorsmaak gee van groter dinge wat in ‘n ander lewe geopenbaar en ten volle verwesenlik sal word. En as die godvrugtiges hier deur die goddelose mense gekwel word en onder laster gebuk gaan terwyl die goddelose voorspoed en rus geniet, moet ons daaruit aflei dat daar ‘n ander lewe is, waarin vir die ongeregtigheid straf en vir die regverdigheid loon weggelê is.
“As elke sonde nou openlik gestraf word”, sê Augustinus, “sou ons kan dink dat daar niks vir die laaste oordeel bewaar word nie.” {48}
En ‘n bietjie verder: “As God geen sonde openlik straf nie, sou die mense glo dat daar geen goddelike voorsienigheid is nie”.
11. Die Here openbaar Hom en sy ewige ryk dus baie duidelik aan ons in sy werke. En tog bly ons vir al hierdie getuienisse so ongevoelig dat hulle geen vrug by ons dra nie. Hoe klein is onder ons die getal van hulle wat die hemel en die aarde aanskou en aan die Skepper daarvan dink? Bly hulle nie maar by die werke staan nie? En wat die sake betref wat nie tot die gewone natuurgang behoort nie, hoeveel skryf dit nie maar aan toeval toe nie? Dis ‘n siekte waaraan nie net die gewone en ongeletterde mens ly nie maar wat selfs by die allervoortreflikstes (filosowe, bv. Plato, e.a.) aangetref word. En al word ons gedagtes deur die verloop van sake opgevoer tot God, verval ons so gou weer in nietige versinsels en misvorm die suiwere waarheid van God. Elkeen van ons aanvaar ‘n besondere dwaling. Daarin verskil ons van mekaar. Maar hierin kom ons almal met mekaar ooreen dat ons almal, sonder uitsondering, ons van die enige, ware God afwend na onnatuurlike dinge.
12. Hieruit ontstaan die menigte van dwalinge waarmee die wêreld vervul is. Elke mens se verstand is soos ‘n doolhof, sodat dit glad nie wonderlik is dat die nasies verskillende verdigsels voortgebring het en dat byna elke mens sy eie gode het nie. Soos die waters uit ‘n bron, so stroom uit die menslike brein ‘n menigte van gode. Dit alles tot skade van die ware godsdiens. Hierdie neiging (om gode te fabriseer) het die Epikureërs aangegryp om elke opvatting te verwerp dat daar ‘n God is. Dit is, volgens hulle, beter as om gode uit te dink en daarna ‘n eindelose geredetwis oor hulle aan te knoop.
Hieruit blyk dat as die mense aan hulleself oorgelaat word, hulle nie verder kom as om die onbekende God te aanbid nie.
13. Ons moet verder ook weet dat almal wat die ware godsdiens vervals, hulle van die enige God afskei. Hulle mag wel beweer dat hulle iets anders op die oog het, maar wat hulle bedoel of wat hulle hulle wysmaak, is nie die hoofsaak nie, omdat die Heilige Gees verklaar dat almal afvallig is wat afgode in die plek van God stel. Paulus sê dat die Efesiërs sonder God was totdat hulle uit die evangelie geleer het wat dit was om die ware God te dien (Ef 2:12). Dit geld vir alle volke (Rom 1:21). Alles wat die heidene as God vereer, is leuen en valsheid (Hab 2:18,20).
Vergelyk ook Joh 4:22 (aanbid wat julle nie weet nie). Vas bly staan ten slotte wat Paulus sê, nl. dat die heersers van hierdie wêreld die wysheid van God nie geken het nie (1 Kor 2:8). En as dit van hulle waar is, wat moet dan van die gewone man gesê word? Daar bly dus niks anders oor nie as net dit: God moet Homself vanuit die hemel openbaar.
{49}
14. Tevergeefs straal dus soveel lampe hulle lig in die wêreld uit om die heerlikheid van die Skepper aan ons bekend te maak. Hulle bestraal ons aan alle kante maar kan ons nie op die regte weg lei nie. Hulle wek wel enkele vonkies op, maar dié word uitgedoof voordat hulle ‘n volle glans kan uitstraal. Daarom sê die Skrif dat ons deur die geloof verstaan dat die dinge wat gesien word, nie uit sienlike dinge ontstaan het nie (Hebr 11:3); d.w.s. dat God, wat nie gesien kan word nie, in die sienlike dinge sigbaar word maar dat ons geen oë het om Hom te sien as ons nie deur ‘n inwendige openbaring deur die geloof verlig word nie. Die openbaring wat ons van God uit die skepping ontvang, dien net om die mens alle verontskuldiging te ontneem (Rom 1:19). Ook al lok God in sy guns die mense tot kennis van Hom, hou hulle tog nie op om in hulle eie, dodelike dwalinge te volhard nie.
15. Maar elke uitvlug word vir ons afgesny, al skiet ons ook te kort om uit die natuur tot suiwere en duidelike kennis van God te geraak. Ons het hier met die sonde van traagheid te doen. Dit is voorwaar ‘n verdediging wat werd is om aangewend te word, nl. dat die mens sou voorwend dat hy nie ore gehad het om te hoor of oë om te sien nie, terwyl al die redelose skepsels hom onderwys! Daarom word ons tereg van enige denkbare verontskuldiging uitgesluit, omdat ons dwaal terwyl alles die regte pad aanwys.
HOOFSTUK VI. Die leiding en onderwysing van die Skrif is nodig om tot God die Skepper te kom
1. Hoewel daar vir die ondankbaarheid van die mense geen verontskuldiging is nie en hoewel God Hom in die skepsels aan almal sonder uitsondering openbaar, is dit tog noodsaaklik dat daar ander en beter hulpmiddels bykom wat ons op die regte manier by die Skepper van die wêreld sal bring. Dit is die lig van sy Woord, sodat ons Hom tot saligheid sal ken. Hierdie voorreg het Hy hulle waardig geag wat Hy nader om Hom wil versamel.
Voorheen was dit die Jode, maar ook ons bewaar Hy nou deur dieselfde middel by die suiwere kennis van Hom. Die Skrif dien dus as bril. Dit versamel die kennis van God, dit verdryf die duisternis en dit toon ons duidelik die ware God. Dit is ‘n besondere gawe dat God sy kerk onderrig, nie net deur stom leermeesters nie maar ook selfs sy mond open en verkondig dat daar ‘n God is wat {50} gedien moet word en Homself ook noem as die God wat gedien moet word. Dit is seker dat Adam, Noag, Abraham en die orige vaders deur hierdie hulpmiddel gelei is tot die vertroulike kennis (van God) wat hulle van die ongelowiges onderskei het. Ek spreek nog nie oor die leer van die geloof nie en handel nog nie oor die verbond waardeur God die geslag van Abraham as sy kinders aangeneem het nie, maar spreek alleen hieroor hoe ons uit die Skrif moet leer dat die God wat die Skepper van die wêreld is, van die afgode onderskeie is.
2. God het Hom deur middel van goddelike uitsprake en gesigte aan die vaders bekend gemaak. Hy het ook die diens van mense gebruik. En dit alles om aan hulle te verskaf wat hulle aan hulle nageslag moes oorlewer. Hy het ook in hulle hart die sekerheid gegee dat wat hulle geleer het, van Hom afkomstig was. God het ook gewil dat dieselfde goddelike uitsprake wat Hy aan die vaders toevertrou het, ter bewaring op skrif gestel sou word. Met hierdie doel is die wet afgekondig, waarby later die profete as uitleggers gevoeg is. Die mens moet dus sy oë inspan om die werke van God (in die skepping) te aanskou. Maar hy moet ook luister na die Woord, sodat hy beter vordering kan maak. Ons moet dit dus so beskou dat niemand selfs die geringste smaak van die gesonde en regte leer kan verkry wat nie ‘n leerling van die Skrif is nie. Hier is gehoorsaamheid die moeder van die kennis van God.
3. As ons in ag neem hoe maklik die mens God vergeet, hoe groot sy neiging tot elke soort dwaling is en hoe groot sy begeerte is om altyd weer nuwe godsdienste uit te dink, kan ons insien hoe noodsaaklik dit was dat die hemelse leer so vasgelê sou word, sodat dit nie weer vergeet of verdorwe sou word nie. Na die Woord moet ons kom. Daarin word God uit sy werke reg beskrywe. As ons van die Woord afwyk, sal ons nooit die eindpaal bereik nie. Dit is wat Dawid telkens sê (Ps 93, Ps 96, Ps 97, Ps 99 e.a.): die valse godsdienste moet uitgeroei word, sodat die ware godsdiens sal bloei.
4. Daarom noem dieselfde profeet die wet van die Here, nadat Hy gesê het dat die hemele die eer van God vertel en die uitspansel sy handewerk verkondig (Ps 19:1-7). Die wet van die Here is volmaak; dit verkwik die siel. Die getuienis van die Here is gewis; dit gee wysheid aan die eenvoudige, ens. (vs. 8 e.v.). Daarmee bedoel hy dat die Skrif die besondere leerskool van die kinders van God is. Vergelyk Ps 29:9. In sy paleis sê elkeen: “heerlikheid”, waar die goddelose doof is vir die stem van God in die storm. Vergelyk ook Joh 4:22, waar Christus duidelik leer dat die mens nie tot God kan kom as hy nie deur sy heilige Woord gehelp en ondersteun word nie. {51}
HOOFSTUK VII. Deur watter getuienis die Skrif bekragtig moet word sodat sy gesag vas staan, nl. deur die getuienis van die Gees. Dis ‘n goddelose versinsel dat sy geloofwaardigheid van die oordeel van die kerk afhang
1. Voordat ek verder gaan, is dit wenslik om een en ander in te voeg oor die gesag van die Skrif, sodat alle twyfel weggeneem kan word. As dit uitgemaak is dat dit Gods Woord is wat aan ons voorgelê word, sal niemand aan God geloof durf ontsê as Hy spreek nie. Maar aangesien ons geen daelikse godsprake uit die hemel gegee word nie en net die Skrifte bestaan waardeur dit die Here behaag het om sy waarheid ewig te laat voortlewe, besit die Skrif gesag by die gelowiges, omdat hulle glo dat dit uit die hemel voortgekom het. By baie leef die verderflike dwaling dat die Skrif net soveel betekenis het as wat aan hom deur die oordeel van die kerk toegestaan word. Asof die ewige, onaantasbare waarheid van God op die oordeel van mense kan steun! Tot bespotting van die Heilige Gees vra hulle: Kan iemand ons laat glo dat hierdie dinge van God afkomstig is? Kan iemand ons verseker dat hulle ongeskonde tot ons gekom het, as die kerk dit nie doen nie? Alles hang dus af van die oordeel van die kerk, watter eerbied ons aan die Skrif verskuldig is en watter boeke dit bevat. Intussen bekommer hulle hulle nie daaroor in watter ongerymdhede hulle hulleself en ander verstrik nie. As hulle maar net die eenvoudigstes kan laat glo dat die kerk alles vermag. Maar as dit so is, wat sal gebeur met die ongelukkige mense wat ‘n vaste versekerdheid van die ewige lewe soek? As die beloftes daaromtrent van die oordeel van mense afhang, sal hulle ophou om deur angs heen en weer geslinger te word? Word ons geloof dan nie aan die spot van die goddelose oorgelewer nie as geleer word dat dit van menslike willekeur afhang?
2. Die apostel sê (Ef 2:20) dat die kerk gedra word deur die fondament van die profete en apostels. Die fondament moet dus vasstaan voordat die kerk ontstaan. Hulle moet ook nie sê dat dan tóg twyfelagtig bly wat aan die apostels toegeskrywe word, as die kerk dit nie met sy oordeel bevestig nie. Die kerk kan dus nie self ontstaan het sonder die Skrif nie. Dit is ‘n dwase versinsel dat by die kerk die mag berus om oor die Skrif te oordeel. As die kerk {52} die Skrif aanvaar, maak dit dit nie betroubaar nie maar doen dit net sy skuldige plig.
3. Die Skrif getuig self aangaande sy waaragtigheid, soos wit en swart dinge deur hulle kleur, en soet en bitter deur hulle smaak doen. Gewoonlik haal hulle ‘n uitspraak van Augustinus aan waarin hy sê dat hy die evangelie nie sou geglo het as die gesag van die kerk hom nie daartoe gedwing het nie. Maar uit die verband is dit duidelik hoe verkeerd hulle hier aanhaal. Hy het te doen gehad met die Manicheërs, wat wou hê dat hulle sonder teëspraak geglo moet word, omdat hulle beweer het dat hulle die waarheid het maar dit nie bewys het nie. Omdat hulle ook die evangelie voorgehou het, vra hy hulle wat hulle sou doen as hulle iemand sou aantref wat selfs die evangelie nie geglo het nie. En dan voeg hy daaraan toe: Wat my betref, ek sou die evangelie nie geglo het nie, ens., om daarmee te kenne te gee dat dit alleen die gesag van die kerk was wat hom, toe hy nog ongelowig was, daartoe beweeg het om die evangelie as die vaste waarheid van God te aanvaar. Augustinus leer dus nie dat die geloof op die gesag van die kerk rus nie, maar hy sê eenvoudig dat die ongelowiges geen sekerheid sou hê aangaande die evangelie om daardeur vir Christus gewin te word as die eenparige gevoele van die kerk hulle nie daartoe beweeg nie. Die gesag van die kerk is maar net die inleiding wat ons tot geloof in die evangelie voorberei. Nêrens leer Augustinus dat die gesag van die Skrif van die besluite van mense afhanklik is nie.
4. Ons moet daaraan vashou dat die leer dan eers geloofwaardig is as ons daarvan oortuig is dat God die Bewerker daarvan is. Daarom word die hoogste bewys van die waarheid van die Skrif oral ontleen aan God self, wat daarin spreek. Die profete en die apostels noem die heilige Naam van God om die hele wêreld tot gehoorsaamheid te dwing. As ons dan wil sorg dat die gewete van die mense nie gedurig deur twyfel heen en weer geslinger word nie, moet die oortuiging (dat die Skrif die Woord van God is) gesoek word by die inwendige getuienis van die Heilige Gees. Dit is wel waar dat daar baie bewyse bygebring kan word wat die mense sal oortuig dat as daar ‘n God in die hemel is, die wet en die profete en die evangelie van Hom afkomstig is. Ja, selfs geleerde mense sal moet erken dat daar duidelike tekens in die Skrif gevind word wat bewys dat dit God is wat spreek. As ons almal dit onbevooroordeeld benader, sal die majesteit van God ons dadelik teëstraal. En tog handel hulle verkeerd wat hulle bes doen om deur bewysvoeringe die onwankelbare geloofwaardigheid van die Skrif aan te toon. Want al sou ons ook op die wyse die heilige Woord van God bevry van die lasteringe van mense, sal ons tog nie die sekerheid in die harte opwek wat die godsvrug soek nie. Daarom moet {53} dieselfde Gees wat deur die mond van die profete gespreek het, in ons harte indring om ons te oortuig dat hulle getrou uitgespreek het wat God hulle opgedra het om te spreek (Jes 59:21). So word die Heilige Gees ook genoem die onderpand en seël aan ons gegee om die geloof van die godsaliges te bevestig (Ef 1:13; Ef 4:30).
5. Dit moet dus vas bly staan dat hulle wat deur die Heilige Gees onderwys is, volkome rus vind in die Skrif en ook dat dit sy geloofwaardigheid in homself dra. Deur sy krag verlig, glo ons nie meer op grond van ons eie oordeel of die van ander dat die Skrif van God afkomstig is nie, maar ons stel dit onomstootlik vas dat dit uit God se mond self tot ons gekom het deur die diens van mense.
Daarom sê God ook deur middel van Jesaja (Jes 23:10) dat die profete en die hele volk sy getuies is, omdat hulle dit as onbetwyfelbaar waar gehou het dat God gespreek het. Dit is die oortuiging wat geen redenering vereis nie, en dit die kennis wat op goeie gronde berus. Hiermee sal ‘n beskeie leser tevrede wees. Jesaja beloof (Jes 54:13) dat al die kinders van die vernieude kerk leerlinge van God sal wees. Dit is ‘n besondere voorreg wat God alleen die uitverkorenes waardig ag. Want wat is die ware begin van die leer anders as ‘n lus om na die stem van God te luister (Deut 30:12 e.v.)? Van die groot massa geld wat Jesaja inJes 53:1 sê. Die profetiese leer is vir hulle ongelooflik, omdat aan hulle die arm van die Here nie geopenbaar is nie.
HOOFSTUK VIII. Voldoende bewyse kan wel aangevoer word om die geloofwaardigheid van die Heilige Skrif te bevestig
1. As hierdie sekerheid wat hoër en sterker is as elke menslike oordeel, nie by ons aanwesig is nie, sal die gesag van die Skrif tevergeefs deur bewyse verdedig of deur die eenparige gevoele van die kerk bevestig of deur ander hulpmiddels versterk word. Dit sal daarenteen altyd twyfelagtig bly. Maar aan die ander kant, as ons eenmaal die Skrif godvresend aanvaar het, sal dié dinge wat die sekerheid in ons harte nie kon bewerkstellig nie, tog geskikte hulpmiddels wees. Dit blyk o.a. daaruit hoe goed georden die goddelike wysheid hom daarin vertoon, watter hemelse leer en watter ooreenstemming van die dele met mekaar daarin gevind word. Ons word dan versterk in ons geloof as ons bedink dat ons deur die waardigheid van die sake self en nie deur die bekoorlikheid {54} van woorde sover gebring word om dit te bewonder nie. Want dit is ook die voorsienige bestel van God dat die verborgenhede van sy hemelse koninkryk vir ‘n groot deel in eenvoudige woorde aan ons meegedeel sou word. Hieruit kan ons besluit, dat die krag van die waarheid van die Heilige Skrif te magtig is om woordkuns nodig te hê. Daarom sê Paulus ook (1 Kor 2:4-5) dat sy rede en sy prediking nie in oorredende woorde van menslike wysheid was nie maar in betoning van gees en krag, sodat die geloof van die Korinthiërs nie in wysheid van mense sou bestaan nie maar in die krag van God. Want die waarheid word teen alle twyfel beskut as dit nie op die hulp van ander hoef te steun nie. Dat hierdie krag net aan die Skrif eie is, blyk duidelik as ons dit stel naas ander menslike geskrifte. Lees byvoorbeeld Cicero of Plato, en hulle sal u aantrek of genot verskaf. Maar as u daarna die Heilige Skrif lees, sal dit u, of u wil of nie, só aangryp en só in u hart indring dat vergeleke daarmee die krag van die wysgere verdwyn. Dit is dus maklik om in te sien dat die Heilige Skrif iets goddeliks adem.
2. Ek erken dat sommige profete oor welsprekendheid beskik het. Deur sulke voorbeelde wil die Heilige Gees aantoon dat dit Hom nie aan welsprekendheid ontbreek nie. Maar of ons nou Dawid of Jesaja of Amos of Jeremia en Sagaria lees, oral sal ons die majesteit van die Gees bespeur waarvan ek gespreek het. Ek weet ook wel dat Satan sy goddelose dwalinge in eenvoudige taal klee. Maar hoe gekunsteld dit is, sien elkeen wat met ‘n bietjie verstand begiftig is. Wat egter die Heilige Skrif betref, staan dit vas dat dit vol uitsprake is wat nie deur mense opgestel kon word nie.
3. Hierdie onderwerp is deur ander uitvoerig behandel. Daarom is dit voldoende om maar net een en ander aan te raak wat van belang is vir die hele saak. Behalwe wat ek reeds bespreek het, is ook die oudheid van die Skrif van groot belang. Want al vertel die Griekse skrywers ook baie van die teologie van die Egiptenare, tog is daar geen enkele dokument van enige godsdiens wat nie baie later as Moses is nie. En ook Moses dink nie ‘n nuwe God uit nie, maar wat hy sê, is aan die Israeliete gedurende ‘n lang tydperk oorgelewer. Hy roep hulle terug na die verbond wat met Abraham gesluit is. As dit ‘n onbekende saak by die volk was, sou hy geen gehoor by hulle gevind het nie. Nou kan ons sien hoe oud die Heilige Skrif is.
4. Of ons moet die Egiptenare glo wat die ouderdom van hulle geskrifte tot 6000 jaar voor die skepping van die wêreld laat teruggaan. Maar hulle gesnater is selfs deur heidense skrywers al bespot. Ook is getrag om die geloofwaardigheid van Moses in twyfel te trek. Maar wanneer hy die seën verhaal wat Jakob oor sy nakomelinge uitgespreek het, maak hy dan sy eie stam beroemd? Nee, {55} hy brandmerk dit met ‘n ewige skande in die persoon van Levi (Gen 49:5-6). In gehoorsaamheid aan die bevel van die Heilige Gees vermeld hy ook die sonde van sy broer Aäron en sy suster Miriam (Num 12:1). Ook gee hy nie sy hoëpriesterlike amp aan sy seun nie. So vind ons meer bewyse in die wet vir die geloofwaardigheid van Moses.
5. Verder is die baie merkwaardige wonderwerke wat hy verhaal, soveel bekragtiginge van die wet deur hom gegee. Sy gesag word o.a. deur die volgende bewys: Hy het veertig dae lank op die berg vertoef. Sy gesig het geblink soos die son toe hy die wet afgekondig het. Die basuin het geblaas op die berg. Korag, Datan en Abiram word lewend deur die aarde opgesluk. Die rots gee water as hy met sy staf daarop slaan. Op sy gebed reën dit manna uit die hemel, ens. Deur dit alles het God hom aanbeveel as sy betroubare profeet. Sou hy dit kon gewaag het om al hierdie dinge voor die volk te noem en hulle hulle ongelowigheid en ondankbaarheid te verwyt as hulle nie self al die wondertekens gesien het nie?
6. Die vader van die leuen het heidense skrywers die ingewing gegee om te beweer dat die wonders aan towerkunste toegeskryf moet word. Maar Moses self het so ‘n afsku van hierdie bygeloof gehad dat hy beveel het om selfs hulle te stenig wat towenaars en waarsêers maar net geraadpleeg het. Die bedoeling van ‘n bedrieër is altyd om vir homself naam te maak. Maar wat doen Moses? Hy roep uit dat hy en Aäron niks is nie maar dat hulle net uitvoer wat God hulle voorgeskrywe het om te doen. Let ons op die sake self, watter towery kan dit bewerk dat elke dag genoeg manna om die volk te voed uit die hemel sou reën? Hoe sou hy deur goëlery die woede van die volk of van enkelinge wat teen hom opgestaan het, kon bedwing het?
7. Wie kan ontken dat hy deur die profetiese Gees gedrywe was toe hy die koningskap aan die stam van Juda toegewys het (Gen 49:10)? Veronderstel dat Moses die eerste ontwerper van hierdie voorsegging was, dan gaan daar tog 400 jaar verby waarin daar geen sprake van ‘n koning uit die stam van Juda was nie. Na die salwing van Saul lyk dit eerder asof die koninklike mag by die stam van Benjamin berus. Watter rede het Samuel gehad om Dawid te salf? Wie kon ooit verwag dat daar uit die onaansienlike huis van ‘n skaapboer ‘n koning sou voortkom en dat dit die jongste van sewe seuns sou wees? Was dit nie die vervulling van die hemelse voorsegging nie? En as hy voorsê dat die heidene in die verbond van God opgeneem sal word, bewys dit dan nie dat hy deur goddelike ingewing spreek nie?
Dit het tog eers byna tweeduisend jaar daarna gebeur. {56}
8. By die ander profete kan dit nog duideliker gesien word. In die tyd van Jesaja het Juda in vrede gelewe. Hulle het selfs gedink dat hulle by die Chaldeërs hulp kan vind. Tog verkondig Jesaja die ondergang van die stad en die ballingskap van die volk. Al gee ons ook toe dat dit nog geen voldoende bewys van inspirasie deur God is om lank vantevore dinge te sê nie, waar anders behalwe van God kom dan die voorstellings vandaan van die verlossing wat hy terselfdertyd verkondig? Hy noem Kores (Jes 45:1), wat die Chaldeërs moes onderwerp en die volk sy vryheid moes gee. Dit het 100 jaar daarna eers gebeur. Destyds kon niemand nog raai dat daar ‘n Kores sou wees wat met die Babiloniërs oorlog sou voer en aan Israel se ballingskap ‘n einde sou maak nie. Bewys hierdie verhaal nie duidelik dat Jesaja onbetwyfelbare uitsprake van God gee nie? En wie kan ontken dat Jeremia deur die Gees van God gelei word as hy verkondig dat die ballingskap 70 jaar sou duur (Jer 25:11-12), veral as ons dit stel naas die woorde van God deur die mond van Jesaja 42:9? En het Daniël nie 600 jaar vooruit sy profesieë opgestel, wat so duidelik is dat dit lyk asof hy die geskiedenis van dinge beskryf wat reeds plaasgevind het nie? As die gelowiges hierdie dinge goed oordink, is hulle voldoende gewapen teen die geblaf van die goddelose mense.
9. Ek weet wat hulle hierteen inbring. Wie gee ons die sekerheid dat Moses en die profete die dinge geskryf het wat onder hulle naam staan? Hulle durf selfs vra of daar ooit ‘n Moses gelewe het. Maar as iemand dit in twyfel sou trek of Plato of Aristoteles gelewe het, sou so ‘n uitsinnigheid seker met sweepslae gestraf word. So is die wet van Moses deur hemelse voorsienigheid wonderbaar bewaar. En al was dit deur die nalatigheid van die priesters ‘n tyd lank verlore, nogtans het koning Josia dit weer gevind, en van die tyd af het dit nooit weer verlore geraak nie. Ons kan dus sê dat die geskrifte van die profete van hand tot hand deur die vaders oorgelewer is, wat hulle self hoor spreek het of dit van ander verneem het wat die profete gehoor het.
10. Wat hulle uit die geskiedenis van die Makkabeërs aanvoer om afbreuk te doen aan die geloofwaardigheid van die Skrif, dien eerder tot bevestiging daarvan. Hulle sê dat Antiochus beveel het dat al die boeke verbrand moes word. Waar, so vra hulle, kom dié eksemplare dan vandaan wat ons nou het? Maar op my beurt vra ek: Hoe sou hulle so spoedig daarna vervaardig kon gewees het? Want dadelik na die vervolging het hulle te voorskyn gekom en is hulle deur alle gelowiges wat in die leer opgevoed was, sonder teëspraak aanvaar. Baie dinge word die Jode ten laste gelê maar nêrens dat hulle valse boeke onder valse name uitgegee het nie. Inderdaad was hulle wat Augustinus hulle noem: die boekafskrywers van die {57} Christelike kerk, waarvan hulleself geen nuttige gebruik gemaak het nie. Wie sien nie hierin die wonderbare leiding van God nie dat die heilige boeke terstond na die vervolging na die vaderland teruggekeer het? Daarna het die Griekse vertaling gevolg wat oor die hele wêreld verbrei is.
11. Kom ons tot die Nuwe Testament, word ons getref deur die eenvoudige en sobere manier waarop die drie evangeliste die geskiedenisse verhaal. Trotsaards erger hulle hieraan, omdat hulle nie hulle aandag gee aan die vernaamste stukke van die leer nie. Johannes weer is meer verhewe. So is dit ook gesteld met Paulus en Petrus. Die hemelse majesteit van hulle geskrifte boei ons en hou ons vas. En hulle was merendeels eenvoudige en ongeleerde mense wat dit nie in die skole van welsprekendheid kon geleer het nie. Mattheüs kom uit die tolhuis, Petrus en Johannes van hulle vissersbootjies af. Paulus toon dat hy deur ‘n bevel uit die hemel gedryf word om die leer te beskerm wat hy bestry het. Laat die honde loën dat die Heilige Gees op die apostels neergedaal het; die feite roep dit openlik uit dat hulle deur die Heilige Gees onderwys is. Voeg nou hierby die eenparige gevoele van die kerk, wat ook baie belangrik is. Gedurende soveel eeue het mense daaraan gehoorsaam. Hoe het Satan nie in die hele wêreld getrag om dit te onderdruk of te vernietig nie! Wysgere en redenaars het hulle kragte teen die Skrif ingespan, maar niemand het iets daarmee bereik nie. Die hele wêreld het hom gewapen om die Skrif te vernietig, maar al hulle pogings het soos rook verdwyn Hoe sou die Skrif weerstand kon gebied het as dit net op mensehulp gesteun het? Voeg nou hierby dat nie net een stad of een volk besluit het om dit aan te neem nie maar dat dit oor die lengte en breedte van die aarde gesag het, selfs onder die volke wat verder niks met mekaar in gemeen het nie. Voeg hierby nog die ooreenstemming in vroomheid van lewenswandel van almal wat God as ligte in sy kerk wil laat skitter.
12. Met gerustheid moet ons ons aansluit by die leer wat met die bloed van soveel heilige manne bevestig is. Hulle het nie geaarsel om vir die leer selfs die dood in te gaan nie. Hoe sal ons dit dan nie aanvaar nie? Daar is nog baie ander bewyse waardeur die Skrif beskerm word teen die listige pogings van belasteraars, maar die Heilige Skrif is dan eers voldoende vir ons om God tot ons saligheid te ken as dit deur die inwendige getuienis van die Heilige Gees in ons hart verseël word. Die menslike getuienisse kom maar in die tweede plek daarby as hulpmiddels. Dit is daarom dwaasheid om vir die ongelowige te wil bewys dat die Skrif die Woord van God is. Augustinus sê tereg dat die godsaligheid en die vrede in die hart vooraf moet gaan, voordat die mens iets van sulke groot dinge kan verstaan. {58}
HOOFSTUK IX. Die geesdrywers vernietig die godsvrug deurdat hulle die Skrif verlaat en hulle toevlug tot openbaringe neem
1. Hulle wat die Skrif versmaad en vir hulle ‘n weg uitdink om tot God te kom, dwaal en word deur raserny aangedryf. Onlangs het daar sulke warhoofde opgeduik wat nalaat om die Skrif te lees en ander bespot wat dit wel doen. Hulle sê dat sodaniges die letter volg wat doodmaak, terwyl hulle dan, soos hulle beweer, deur die Heilige Gees onderrig word. Ek sou graag van hulle wil weet wat vir ‘n gees dit is wat hulle so hoog verhef dat hulle dit as van geen waarde beskou om die Heilige Skrif te lees nie. As hulle antwoord dat dit die Gees van Christus is, is dit belaglik. Hulle sal moet toegee dat die apostels van die Here en ander gelowiges in die eerste kerk nie deur ‘n ander gees verlig is nie. En tog het die Gees hulle nie minagting vir die Woord geleer nie maar inteendeel hulle met groot eerbied daarvoor vervul, soos uit hulle geskrifte duidelik gesien kan word. So het die Here dit ook deur Jesaja voorsê (Jes 59:21). Hier bind God die ou volk nie aan eerste beginsels nie maar verkondig Hy dat dit die ware geluk van die nuwe kerk is in die ryk van Christus, nl. dat dit sowel deur die Woord van God as deur sy Gees geregeer word. Hierdie windsakke ruk dus uitmekaar wat die profeet deur ‘n onlosmaaklike band aan mekaar verbind. Paulus, wat tot in die derde hemel opgetrek was, vermaan Timotheüs ook om aan te hou met voorlesing (1 Tim 4:13).
Hier kan ook vermeld word sy lofspraak op die Heilige Skrif (2 Tim 3:16). Watter dweepsug is dit om te beweer dat die Skrif maar net tydelik is, terwyl dit tog die kinders van God tot op die einde van hulle loopbaan begelei! Verder sal ek ook van hulle wil weet of hulle ‘n ander gees in hulle opgeneem het as die wat Christus aan sy dissipels beloof het. Ek glo nie dat hulle sal waag om dit te beweer nie. Want hoe sal die Gees wees wat Hy belowe: “Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig” (Joh 16:13-14). Dit is dus nie die werk van die Heilige Gees om nuwe en onbekende openbaringe te gee of ‘n nuwe soort leer te verkondig wat ons van die evangelie weglei nie, maar juis om die leer wat ons in die evangelie het, in ons harte te verseël.
2. Hieruit kan ons opmaak dat ons ywerig die Skrif moet lees en hoor. Petrus prys ook die ywer van hulle wat ag gee op die profetiese woord (2 Petr 1:19). Elke gees wat die wysheid van {59} Gods Woord verbygaan, is dus ‘n leuengees. Maar hulle voer verder aan dat dit die Heilige Gees onwaardig is om Hom aan die Heilige Skrif te onderwerp. Net so asof dit vir die Heilige Gees smadelik is om aan Homself gelyk te bly en nooit te verander nie! As Hy met die maatstaf van ‘n mens of van ‘n engel gemeet sou word, sou dit vir Hom ‘n vernedering wees; maar as Hy met Homself vergelyk word, word Hom geen onreg aangedoen nie. En Hy wil dat ons Hom sal erken in die beeld wat Hy in die Skrifte van Homself gee. Soos Hy Hom daarin geopenbaar het, moet Hy ewig bly.
3. Wat hulle bewering betref dat ons die letter volg wat doodmaak (2 Kor 3:6), die volgende: Paulus stry hier teen die valse apostels wat die wet sonder Christus aanprys en so die volk aftrek van die weldaad van die Nuwe Testament. Daarom is die letter dood, en die wet van die Here maak hulle dood wat dit lees, omdat dit losgeskeur word van die genade in Christus. Maar as dit Christus verkondig, is dit ‘n woord van die lewe wat die siele bekeer en aan die eenvoudiges wysheid gee. Paulus noem self sy prediking ‘n bediening van die Gees, om daarmee te kenne te gee dat die Heilige Gees gebind is aan die waarheid wat Hy in die Skrifte uitgespreek het. God het sy Woord nie vir ‘n tydjie aan die mense gegee, om dit dan te laat verdwyn as die Heilige Gees kom nie, maar Hy het dieselfde Gees deur wie Hy die Woord gespreek het, gestuur om die Woord te bevestig. So het Christus die verstand van die twee dissipels geopen, nie om die Skrif te verwerp nie maar om dit te verstaan. So vermaan Paulus die Thessalonisensers om die Gees nie uit te blus nie. En dan voeg hy daaraan toe. “Verag die profesieë nie” (1 Thess 5:19-20).
Die lig van die Heilige Gees word dus uitgedoof sodra die profesieë verag word. Die kinders van God weet dat hulle sonder die Heilige Gees van die waarheid beroof is. Maar hulle weet ook dat die Woord die middel is waardeur die Here die verligting van sy Gees aan hulle uitdeel.
HOOFSTUK X. Die Skrif stel uitsluitlik die ware God teenoor die afgode van die heidene, en dit bevestig die natuurlike Godskennis
1. Ons het gesien dat die kennis van God duidelik deur die Woord ontvou word, hoewel dit nie onduidelik in die bouwerk {60} van die wêreld vir ons voor oë gestel word nie. Nou moet ons nagaan of God Hom in sy Woord net so aan ons openbaar soos vantevore in sy werke. ‘n Baie uitgebreide stof. Daarom gee ek as’t ware net ‘n kort inhoudsopgawe om die gelowiges te leer wat hulle in die Skrif aangaande God moet soek. Ek spreek nog nie oor die besondere verbond wat Hy met die geslag van Abraham opgerig het nie. Ons is nog besig met die kennis wat nie verder gaan as die skepping van die wêreld nie. En al moet ek ook ‘n paar plekke uit die Nuwe Testament aanhaal, moet dit vir ons voldoende wees om te weet hoe God die Skepper hemel en aarde bestuur. Orals word sy vaderlike goedheid en weldadigheid asook sy gestrengheid meegedeel.
2. Op bepaalde plekke kry ons ‘n baie helder beskrywing. Voor die ore van Moses roep God uit: “HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag” (Ex 34:6-7).
Hier word sy ewigheid verkondig deurdat die naam HERE twee maal gebruik word. Vervolgens word sy deugde vermeld soos Hy Hom jeens ons openbaar. Verder hoor ons dat hier dieselfde deugde opgesom word wat ons in die skepping aantref, nl. sy barmhartigheid, goedheid, regverdigheid, oordeel en waarheid. So noem die profete Hom ook. Ek noem hier alleen een psalm (145) waarin die hoofsom van al sy deugde noukeurig vermeld word. En tog word daar niks genoem wat ons nie ook in die skepsels kan sien nie. Deur die ervaring word ons dus geleer dat God sodanig is soos Hy Hom in sy Woord geopenbaar het. In Jeremia 9:24 sê Hy: “Laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen”.
Dit is nodig dat ons sy weldadigheid sal ken, waarop ons saligheid berus; sy reg, wat elke dag teen die kwaaddoeners uitgeoefen word, en sy geregtigheid waardeur die gelowiges bewaar word. Natuurlik word nie uit die oog verloor sy waarheid, mag, heiligheid of goedheid nie. Want hoe sou die kennis wat hier vereis word, kan bestaan as dit byvoorbeeld nie op sy onbuigbare waarheid gesteun het nie? Die kennis van God wat die skrifte ons bied, het dus dieselfde doel as die kennis wat in die skepsels openbaar word. Dit nooi ons uit om God te vrees en om op Hom te vertrou.
3. Maar die bedoeling is hier om ‘n kort oorsig van die algemene leer te gee. In die eerste plek moet die lesers opmerk {61} dat die Skrif uitdruklik al die gode van die heidene verwerp, om ons tot die ware God te lei. Dit is wel waar dat die Naam van die enige God oral bekend was. Want hulle wat ‘n groot klomp gode dien, vermeld tog die Naam van God in die enkelvoud, net so asof hulle met die enige God tevrede was. Dit het Justinus Martyr opgemerk, wat ‘n boek geskryf het oor die alleenheerskappy van God. Daarin toon hy aan dat die besef dat God één is, in almal se harte ingegrif is. Dieselfde bewys Tertullianus ook uit die algemene spreektaal. Hulle is dus nie te verontskuldig as hulle in allerhande valse versinsels verval nie. Ook die geleerdstes onder hulle bewys dat hulle dwaal as hulle die bystand van een of ander god begeer en so onsekere gode aanroep. Al hulle uitvlugte kan die skuld van hulle afwyking nie uitwis nie. Inderdaad is die waarheid van God deur almal verderwe. Daarom gebied Habakuk dat ons God in sy tempel moet soek (2:20). Dit is die God wat Hom in sy Woord geopenbaar het.
HOOFSTUK XI. Dit is sonde om aan God ‘n sigbare gestalte toe te skryf. Almal wat vir hulle afgode maak, wyk van die ware God af
1. As die Skrif God wil onderskei van die valse gode, stel dit Hom veral teenoor die afgode. God alleen kan aangaande Homself getuig. Hierdie beginsel moet ons vashou dat God deur ‘n goddelose leuen onteer word, elke keer as ons aan Hom ‘n sigbare gestalte toedig. As God vir Hom alleen die eer wil opeis dat Hy alleen God is en watter diens Hom welbehaaglik is, sê Hy: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak nie” (Ex 20:4). Daardeur wil Hy ons belet om Hom sigbaar voor te stel. Hy verwerp sonder uitsondering alle beelde, skilderye en ander tekens waardeur die bygelowige mense gedink het dat Hy in hulle midde is.
2. Ons kan dit maklik opmaak uit die redes wat Hy aan die verbod toevoeg. Deur die mond van Moses sê Hy: “Die HERE het met julle uit die vuur gespreek; julle het ‘n stem van woorde gehoor, maar geen verskyning gesien nie — net ‘n stem was daar. Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele”, ens. (Deut 4:12,15). Hier sien ons duidelik dat God elke keer sy stem stel teenoor enige verskyning, sodat ons sal weet dat almal van Hom {62} afwyk wat begeer om ‘n sigbare gestalte van Hom te hê. Van die profete is dit voldoende om net Jesaja aan te haal (Jes 40:18; Jes 41:7,29; Jes 45:9; Jes 46:5). So spreek Paulus ook (Hand 17:29). Uit al hierdie plekke is dit duidelik dat alle beelde en afbeeldings van God Hom mishaag, omdat dit ‘n ontering van sy majesteit is. Dwaas is ook die verweer asof die verbod net vir die Jode gegee is. Paulus, byvoorbeeld, spreek nie met die Jode nie maar met die Atheners.
3. God het egter soms deur tekens sy teenwoordigheid getoon, sodat gesê kan word dat Hy van aangesig tot aangesig gesien is. Maar hierdie tekens sê juis dat sy wese onbegryplik is. Daarom kon Moses ook nie deur sy gebed dit verkry om die aangesig van God te sien nie en het hy as antwoord ontvang dat geen mens in staat is om so ‘n glans te verdra nie (Ex 33:17-23).
Die Heilige Gees het wel in die gedaante van ‘n duif verskyn (Mat 3:16). Maar dit het ook weer dadelik verdwyn. Daardeur word ons onderrig dat Hy onsigbaar is en dat ons met sy krag en genade tevrede moet wees. En as God somtyds in die gestalte van ‘n mens verskyn het, was dit maar net ‘n voorspelling van sy toekomstige openbaring in Christus. Daarom mog die Jode dit nie as ‘n voorwendsel misbruik om God vir hulle in ‘n menslike gestalte voor te stel nie.
Ook die versoendeksel was so saamgestel dat dit die volk geleer het dat dit die beste aanskouing van God is as hulle hulle harte bokant hulleself verhef (Ex 25:17,18,21). Jesaja sê ook dat die serafs hulle aangesigte bedek, om daarmee te kenne te gee dat die glans van God se heerlikheid so groot is dat ook selfs die engele dit nie kan aanskou nie.
4. Dieselfde bedoeling lê ook in die woorde: “Die afgode van die heidene is silwer en goud, die werk van mensehande” (Ps 115:4; Ps 135:15). Die profeet beskou dit as ‘n uitgemaakte saak dat elke opvatting oor God wat op ons eie oordeel gebaseer is, ‘n dwase versinsel is. Uit dooie stof kan nie gode gemaak word nie. Dit is ook vermetel om die eer van God op die afgode oor te dra. Dink u dit in: ‘n aardse mensie, wat elke oomblik sy asem kan uitblaas, sal deur sy kunssinnigheid die Naam en die eer van God op ‘n dooie stuk hout oordra! Vergelyk ook Jes 40:21; Jes 44:12 e.v. Hoe spot die profeet nie met hulle omdat hulle nie op die fondamente van die aarde gelet het nie; omdat hulle nie weet en nie hoor nie.
En tog toon die gewoonte aan dat hierdie sonde ons van nature eie is. Dit staan daarom vas dat elke godsdiens te verwerp is wat die mens vir homself uitdink (Jes 2:8; Jes 31:7; Jes 57:10; Hos 14:4; Mig 5:12). Daarom bestraf die Heilige Gees dit ook met hierdie woorde van vervloeking: “Die wat hulle maak, sal net soos hulle word” (Ps 115:8). Ons moet hierby egter opmerk dat dit {63} nie net verbied word om ‘n gesnede beeld van God te maak nie maar ook ‘n gelykenis. Want so word God verkeerd en met krenking van sy majesteit voorgestel.
5. Ek ken ook die gesegde van Gregorius dat die beelde die boeke van die leke is. Die Heilige Gees noem ‘n beeld egter “nietigheid” (Jer 10:3) en ‘n “leuen” (Hab 2:18). As die kennis van God, wat die mense trag om uit beelde te verkry, nie bedrieglik en vals was nie, sou die profete dit nie veroordeel het nie. As ons dus sê dat dit nietigheid en leuenwerk is as die mense trag om God deur beelde voor te stel, herhaal ons maar net wat die profete gesê het.
6. Augustinus sê ook dat dit sonde is, nie net om beelde te aanbid nie maar ook om beelde van God te maak. Daardeur word die vrees vir God weggeneem en die dwaling vermeerder of versterk.
7. Die pousgesindes moet nou nie meer die uitvlug gebruik dat die beelde boeke van die leke is nie, want hierdie uitvlug word deur die Heilige Skrif weerlê. Verder is dit bekend watter wonderlike dinge hulle die mense opdring in die plek van God. En wat is hulle skilderye of beelde anders as toonbeelde van verdorwenheid en onreinheid? Maar afgesien hiervan is dit nie die manier om op heilige plekke die volk van God te onderwys nie. Hy het beveel dat dit deur die prediking van die Woord en die bediening van die heilige sakramente sal geskied. En wie is dan nou die leke wat deur middel van beelde onderwys moet word? Dis hulle wat Hy sy dissipels noem en wat Hy die openbaring van sy hemelse wysheid waardig ag. Op my beurt vra ek: Waar kom die onkunde dan vandaan? Kom dit nie hiervandaan dat die leer hulle onthou word nie? Paulus getuig (Gal 3:1) dat Jesus Christus voor die oë van die Galasiërs afgeskilder is as onder hulle gekruisig. Waartoe is dit dan nog nodig om oral in die kerke kruise van hout, silwer en goud op te rig as maar goed en getrou verkondig word dat Christus aan die kruis gesterf het, om die vloek te dra wat op ons gerus het, om vir ons sonde te betaal deur die offerande van sy liggaam, om ons te was en met God die Vader te versoen? Hieruit kan die leke meer leer as uit duisend kruise.
8. Dit word beweer dat die oorsprong van afgodery die begeerte van die mens is om aan sy afgestorwenes eer te bewys. Hierdie verkeerde gewoonte is seker baie oud, maar dit is nie die oorsprong van hierdie kwaad nie, want afgodsbeelde was reeds in gebruik voordat hierdie gewoonte ontstaan het (nl. om dooies te vereer). Moses verhaal dat Ragel die afgodsbeelde van haar vader gesteel het (Gen 31:9). Dit is die verstand van die mens wat altyd afgode fabriseer. Noag het dit seker in sy tyd al belewe dat sy nageslag hulle aan die beeldediens oorgee. Tera en Nahor het valse {64} gode vereer nog voor die geboorte van Abraham (Jos 24:2). Ons moet die saak vir ons só voorstel: die trotse gees van die mens waag dit om vir hom ‘n god voor te stel. Dan kom die tweede sonde dat die mens ook nou daardie beeld van God gaan maak. Die gees verwek dus die afgodsbeeld, en die hand bring hom in die wêreld. Dit is die oorsprong van beeldediens dat die mense nie glo dat God by hulle is as hulle Hom nie liggaamlik sien nie. Dit blyk ook uit die voorbeeld van die Israeliete (Ex 32:1 e.v.). ‘n Beeld wat voor hulle uitgaan, moes hulle dus verseker dat God hulle Leidsman op die pad was.
9. Hierop volg dadelik die aanbidding. Die mense vereer God ook in die beelde waarin hulle Hom aanskou, soos hulle meen. Eindelik bewonder hulle ook die beelde, asof daar iets goddeliks in was. Sodra daar aan God ‘n sigbare gestalte gegee word, word ook sy krag daaraan verbind. Dit maak geen verskil of hulle alleen ‘n beeld eer of God in die beeld nie. Dit is altyd beeldediens as aan ‘n beeld goddelike eer bewys word. Aan God word ontroof wat aan beelde geskenk word. Maar, sê hulle, die beelde word nie vir gode gehou nie. Ek antwoord: Toe die Jode ‘n goue kalf gemaak het, het hulle geweet dat dit God is wat hulle uit Egipteland gelei het. Hulle wou God behou, maar dan moes Hy in die gedaante van die kalf voor hulle uittrek. Ons moet ook nie dink dat die heidene so dom was dat hulle nie begryp het dat God iets anders as hout en klip was nie. Daarom het hulle ook gedurig die beelde van hulle gode verander. Ook het hulle verskillende beelde vir een god gehad. Met al die beeldedienaars, hetsy uit die Jode of uit die heidene, gaan dit soos volg: hulle is nie tevrede met die geestelike kennis nie en dink nou dat hulle ‘n gewisser kennis uit die beelde kry, totdat hulle eindelik gedink het dat God sy krag in die beelde openbaar. Sowel die Jode as die heidene was oortuig dat hulle die ewige God van hemel en aarde in sulke beelde dien.
10. Dit word wel ontken deur die voorstanders van die beelde in die kerk. Maar waarom kniel hulle dan voor die beelde? Waarom rig hulle, wanneer hulle bid, hulle aangesigte na die beelde asof dit die oor van God is? Waarom die pelgrimstogte om die beelde te soek waarvan hulle die gelyke in hulle huis het? Waarom stry hulle so vir die beelde, asof dit vir hulle verkiesliker was dat God hulle ontneem sou wees as hulle beelde? Hulle sê: “Die beelde is nie ons gode nie”. Dit het die Jode vanouds ook gesê. Tog hou die profete nie op om hulle die hoerery te verwyt wat hulle met hout en steen pleeg nie.
11. Ek ken ook hulle spitsvondige onderskeiding dat dit nie beeldeverering (eidololatreia) is nie maar alleen beeldediens (eidolodouleia). Hulle meen dat hulle onskuldig is as hulle net dienaars {65} van die beelde is en nie ook vereerders nie, net so asof dit nie makliker is om te vereer as om te dien nie. Trouens, die Griekse woord (latreuein) beteken niks anders as “dien” nie. Die hele onderskeiding is niks anders as bedrog nie. Nooit sal hulle ons kan bewys dat een en dieselfde ding twee dinge is nie. ‘n Moordenaar word nie onskuldig as hy aan sy daad ‘n ander naam gee nie. Hulle verskil dus niks van die ou beeldedienaars wat hulle self veroordeel nie.
12. Ek is nie so bygelowig dat ek sou meen dat ons geheel en al geen beelde mag duld nie. Maar omdat beeldhoukuns en skilderkuns gawes van God is, verlang ek dat hulle altwee suiwer gebruik sal word, sodat nie misbruik word of tot ons verderf aangewend sal word wat God ons tot sy eer en ons welsyn gegee het nie. Dit is ongeoorloof om God in ‘n sigbare gestalte af te beeld, omdat Hy dit self verbied het en omdat dit nie sonder ontheiliging van sy eer kan gebeur nie As dit ongeoorloof is om God af te beeld, is dit nog minder geoorloof om die beeld as God te hê of Hom daarin te dien. Alleen die dinge kan of mag afgebeeld word wat gesien kan word, maar Gods majesteit gaan ver bo wat ons met die oë kan sien. Daarom mag dit nie afgebeeld word nie.
13. Maar is dit nie nuttig om in die kerke beelde te hê wat geskiedenis of mense voorstel nie? Die kerk het in die eerste 500 jaar van sy bestaan geen beelde gehad nie. Die rede is dat die godsdiens toe gebloei het en die suiwere leer nog in aansien was. Sou die heilige vaders die kerke so lank sonder beelde gelaat het as hulle oortuig was dat dit nuttig en heilsaam was om hulle te besit? Maar hulle het dit nagelaat omdat hulle bewus was dat hulle geen nut gehad het nie of selfs gevaarlik was. Johannes sê ook dat ons ons moet bewaar, nie net van die afgodediens nie maar van die afgode self (1 Joh 5:21). Ons het dit ondervind dat sodra as beelde in die kerk geplaas word, die beeldediens vanself ontstaan. Die mense kan hulle nie weerhou om hulle bygelowig te vereer nie. Dit alles tot ondergang van die hele godsaligheid. En al sou hierdie gevare nie dreig nie, dan pas dit nie by die heiligheid van die kerk om ander beelde te ontvang as die wat God deur sy Woord geheilig het nie. Ek bedoel die heilige doop en die heilige nagmaal, wat ons so in beslag moet neem dat ons nie soek na beelde deur mense gemaak nie.
14, 15, 16. Eers op die kerkvergadering van Nicea, wat in die jaar 789 deur keiserin Iréne saamgeroep is, is besluit om beelde in die kerk in te voer en hulle ook te aanbid. Maar so dwaas en kinderagtig is die gronde wat daarvoor aangevoer is, en so gruwelik die Skrifverdraaiing dat die eerwaardige vaders hulle self daardeur alle agting en geloofwaardigheid ontneem het. Waar bly die onderskeid tussen latreia en douleia in die lig van hierdie uitspraak van die biskop van Ciprus op die vergadering dat hy die beelde met eerbied omhels en hulle dieselfde erediens toebring as die wat aan die heilige Drie-eenheid toekom, terwyl hy almal vervloek en verban wat weier om dit te doen?
HOOFSTUK XII. God word van die afgode onderskei sodat Hy alleen gedien sal word
1. In die begin het ons gesê dat die kennis van God nie maar blote bespieëling is nie maar dat dit ook diens van God insluit. Terloops het ons ook aangeroer hoe Hy behoort gedien te word. Nou herhaal ek net kortliks dat as die Skrif verseker dat daar een enige God is, dit nie net ‘n Naam noem nie maar verorden dat nie aan iets anders gegee mag word wat aan God toekom nie. Hieruit blyk duidelik in hoeverre die suiwere godsdiens van die bygeloof verskil. Daar moet ‘n vaste reël wees, sodat God nie op ‘n verkeerde wyse gedien word nie. Anders sal die godsdiens deur dwalinge te gronde gerig word. Om sy reg op te eis sê God dat Hy ‘n jaloerse God is en ‘n Wreker sal wees as Hy met die afgod op een lyn gestel word. Daarna beskryf Hy noukeurig die wettige diens. Hierdie twee sake vat Hy in sy wet saam. Ons moet dus vashou daaraan dat God van sy eer beroof word en sy diens geskend word as nie aan Hom alleen toegebring word wat Hom toekom nie. Ons moet ook let op die listige wyse waarop die bygeloof te werk gaan. Dit stel God nie op een lyn met ander gode nie maar omring Hom met ‘n skaar van mindere gode aan wie dit die werke toeskryf wat God alleen doen. So word die eer van God aan stukke geskeur. En so word nou aan God toegevoeg die heiliges wat in sy plek gedien, aangeroep en geprys word. So word die majesteit van God verdonker en word ons verlei om verskillende gode na te volg.
2. Hiervoor moet dan dien die onderskeid tussen eerbetoon en diensbetoon, sodat hulle ongestraf die eer wat aan God toekom, op engele en dode kan oorbring. Hulle beweer dat hulle aan God laat wat Hom toekom, dit is die eerbetoon. Hulle bewys dus aan Hom eer maar aan die ander diens en beweer dat hulle op die wyse aan God die meeste gee. Maar niemand kan dit betwyfel dat {67} diens meer as eer is nie. Dit sal vir ons moeilik wees om iemand te dien wat ons andersins nie sal weier om te eer nie. So word eintlik volgens hulle onderskeiding aan God inderdaad die mindere toegebring en aan die heiliges die meerdere.
3. Maar laat ons die saak self betrag. Paulus sê aan die Galasiërs (Gal 4:8) dat hulle voor hulle bekering dié gedien het wat van nature geen gode is nie. Verontskuldig hy daarmee hulle bygeloof? So weerstaan Christus ook Satan met die woorde: “Jy moet die Here, jou God, alleen dien” (Mat 4:10), terwyl Satan maar net geëis het dat Hy sal neerval en hom aanbid. Ons lees wel dikwels dat voor mense neergebuig word (Hand 10:25), maar dit was maar net ‘n burgerlike eerbetoning. Cornelius val nie voor die voete van Petrus neer met die bedoeling om hom in die plek van God te aanbid nie. Tog verbied Petrus hom dit baie ernstig, omdat mense so geneig is om aan die skepsels toe te bring wat aan God toekom. Dit is vir ons genoeg om dit vas te hou dat alle pligpleginge wat op iets anders as op die enige God gerig is, heiligskennis is.
HOOFSTUK XIII. Die Heilige Skrif leer vanaf die skepping dat God drie Persone is in een wese
1. As die Skrif leer dat God ‘n oneindige en geestelike wese is, dan vernietig dit die dwase opvattinge van die massa en ook die spitsvondighede van die ongelowige wysbegeerte. Een van die ou filosowe het gedink dat hy baie verstandig was toe hy gesê het dat God alles is wat ons sien en nie sien nie. Dit wil egter sê dat God in elke deeltjie van die wêreld uitgestort is. Dit is ‘n verbreking van die eenheid van God en ‘n beperking van sy oneindigheid.
2. Maar God openbaar Hom op nog duideliker wyse dat Hy nie net een is nie maar onderskeie is in drie Persone. As ons dit nie vashou nie, het ons net ‘n Naam oor, sonder die ware God. Sommige het beswaar teen die woord persoon, omdat dit dan ‘n menslike uitvindsel sou wees. Die Skrif noem Christus die afskynsel van Gods heerlikheid en ‘n afdruksel van sy wese (Hebr 1:3). Daardeur skrywe dit ongetwyfeld aan die Vader ‘n self- standigheid toe, onderskeie van die van die Seun. Daaruit kan weer afgelei word die selfstandigheid van die Seun, onderskeie van die van die Vader. Dieselfde geld ook van die Heilige Gees. Hy is ook God maar ‘n ander as die Vader. Hierdie onderskeiding raak {68} nie die wese van God nie. Uit hierdie woorde van die Skrif volg dat daar in God drie selfstandighede is. Dit word in Latyn uitgedruk deur die woord persoon.
3. Die teëstanders beweer dat dit beter is om maar net woorde te gebruik wat aan die Skrif ontleen is, as om vreemde woorde te gebruik wat later oorsaak van onenigheid en twis kan wees. Maar dan lê hulle ons ‘n haas onuitvoerbare taak op wanneer ons die Skrif moet verklaar. Wat kan daarteen ingebring word om die dinge in die Skrif wat vir ons begrip ingewikkeld is, in duideliker woorde uit te lê, woorde wat getrou die waarheid van die Heilige Skrif dien? As die kerk deur die grootste noodsaaklikheid gedwing was om die woorde Drie- eenheid, sy Persoon te gebruik en iemand hierteen beswaar het, kan ons maar net oordeel dat hy nie wil dat die waarheid duidelik gestel word nie.
4. Sulke nuwe woorde kom veral te pas wanneer die waarheid verdedig moet word teen lasteraars wat dit deur allerhande uitvlugte wil ontwyk. So was die ou kerkvaders genoodsaak om hulle belydenis duidelik te stel teenoor die valse leerstellinge van hulle tyd. Arius, byvoorbeeld, het erken dat Christus God en God se Seun was, omdat hy die duidelike uitsprake van die Skrif nie kon ontken nie. So het hy dit laat voorkom dat hy met die ander ooreenstem. Maar intussen het hy nie opgehou om te verkondig dat Christus geskape was en ‘n begin gehad het nie. Die vaders het toe geleer dat Christus die ewige Seun van die Vader is, eenswesens met die Vader. Toe het hy uit sy skuilhoek te voorskyn gekom. Wie sal nou beweer dat hulle maar strydlustige twisters was. Omdat hulle ter wille van een woord die rus van die kerk versteur het? Maar daardie woordjie het onderskeid gemaak tussen die ware gelowiges en die heiligskennende Ariane. Daarna het Sabellius opgestaan, wat beweer het dat die name Vader, Seun en Heilige Gees maar titels van God was, soos wat Hy ook byvoorbeeld regverdig, sterk en wys genoem word. Daarteenoor het die vaders geleer dat God een is in wese, onderskeie in drie Persone.
5. Ons moet dus versigtig wees om nie maar woorde te verwerp nie. Wat my betref, kan hulle maar begrawe word, as maar net almal vas glo dat die Vader en die Seun en die Gees een God is en dat tog die Seun nie die Vader is of die Gees die Seun nie.
(Calvyn toon nou breedvoerig aan hoedat die ou vaders verskillende woorde gebruik het, hoewel hulle in die leer ooreengestem het. Dan vervolg hy):
Ons het die stryd teen die Ariane en die Sabelliane, en ons moet oppas dat ons nie vir hulle ‘n uitvlug laat nie. Arius sê dat Christus God is maar beweer dat Hy geskape is. Sabellius sê dat die name Vader, Seun en Gees niks onderskeidelik in God te {68} kenne gee nie. Noem Christus nou eenswesens met die Vader, en dan ruk u Arius se masker af. Sê dat in die een wese van God ‘n drie-eenheid van persone is, en dan ontmasker u Sabellius. Skryf ons van die een God, dan verstaan ons daaronder eenheid van substansie. Hoor ons van drie in een wese, dan word daardeur die Persone in die Drie-eenheid aangedui. As dit maar bely word, gee ons niks om vir woorde nie. Maar ek het lankal, en meermale, ondervind dat die wat so oor woorde twis, ‘n verborge venyn koester. Dit is beter om hulle deur ons woorde uit te lok om hulleself te openbaar as om ter wille van hulle op ‘n duistere manier te spreek.
6. Ek kom nou tot die saak self. “Persoon” noem ek ‘n selfstandigheid in die wese van God wat deur ‘n onmeedeelbare eienskap van die ander onderskei is, En onder die woord selfstandigheid moet iets anders verstaan word as wese. Want as die Woord eenvoudigweg net God was en nie iets eiendommeliks gehad het nie, sou Johannes ten onregte gesê het dat dit altyd by God was (Joh 1:4). Omdat die Woord nie by God kon wees nie, of dit moes in die Vader wees, vloei hieruit voort dat die selfstandigheid wat met ‘n onverbreeklike band met die wese verbind is, tog ‘n besondere kenmerk het waardeur dit van die wese verskil. Wanneer eenvoudig van God gespreek word, het die naam eweseer betrekking op die Seun en die Gees as op die Vader. Maar sodra die Vader met die Seun vergelyk word, word elkeen deur ‘n besondere eienskap van die ander een onderskei. Ten derde beweer ek dat alles wat aan een van die Persone eie is, aan die ander nie meegedeel kan word nie, omdat aan die Seun nie toegeken kan word of op Hom oorgedra kan word wat aan die Vader eie is nie.
7. Voor ek verder gaan, moet ek die Godheid van die Seun en die Heilige Gees bewys. Daarna sal ons dan sien hoe hulle onder mekaar verskil. As die Skrif die Woord van God noem, moet daaronder nie maar ‘n stem verstaan word soos wat God ook deur die profete gespreek het nie. Eerder moet daaronder verstaan word die ewige Wysheid wat by God is en uit wie al die godsprake voortgekom het. Die ou profete het net so deur die Gees van Christus gespreek as die apostels (1 Petr 1:11).
Maar omdat Christus nog nie in die vlees geopenbaar was nie, is dit nodig om in te sien dat die Woord uit die Vader voortgekom het. En as die Gees die Gees van die Woord is, lei ons daaruit sonder twyfel af dat die Woord waaragtig God was. Dit leer Moses duidelik as hy spreek oor die skepping van die wêreld waarin hy die Woord as tussenskakel stel. As daar staan: “En God het gesê”. vat hulle dit op as ‘n bevel. Maar die apostels is beter uitlêers. Hulle sê (Hebr 1:2) dat die wêreld deur die Seun geskape is en dat Hy alle dinge dra deur die woord van sy krag. Hier beteken woord{70} bevel van die Seun, wat self die wesenlike en ewige Woord van die Vader is. Duidelik is ook die woorde: “Die HERE het my berei as eersteling van sy weg voor sy werke, van ouds af” (Spr 8:22). Hier word dit voorgestel dat die Wysheid voor die tye deur God voortgebring is en dat dit die leiding gehad het oor die skepping van die dinge en oor al God se werke. Hierop slaan ook die woord van Christus (Joh 5:17): “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook”. Ons besluit dus dat God so gespreek het dat ook die Woord sy eie taak gehad het en beide so gemeenskaplik gewerk het. Die duidelikste spreek Johannes (1:3) as hy verklaar dat die Woord wat van die begin af God was en by God was, saam met God die Vader, die Oorsprong is van alle dinge. Hier skrywe hy aan die Woord ‘n vaste wese toe, en tog noem hy iets besonders van Hom.
8. Sommige durf Hom sy godheid nie ontneem nie, maar heimlik beroof hulle Hom van sy ewigheid. Hulle sê dat Hy toe eers begin het om Woord te wees toe God by die skepping gespreek het. Maar op die wyse skryf hulle aan God verandering toe wat in stryd is met die Skrif, wat sê dat daar by Hom geen verandering of skaduwee van omkering is nie (Jak 1:17). Nooit mag beweer word dat die Woord, wat altyd God was en later die Skepper van die wêreld, ‘n begin gehad het nie (vgl. Joh 17:5). Ons stel dus weer vas dat die Woord, wat voor die begin van die tyd gegenereer is, van ewigheid af by Hom was, d.w.s. dat Hy ewig waaragtig God is.
9. Oor die Persoon van die Middelaar sal ek spreek by die leerstuk van die verlossing. Tog pas hier uitstekend sekere getuienisse wat die godheid van Christus bevestig. In Ps 45:7 word gesê: “U troon, o God, is vir ewig en altyd”. Die Jode het hierdie uitvlug dat die naam Elohim aan engele en hooggeplaaste persone gegee word. En tog is daar nêrens in die Skrif ‘n plek waar ‘n ewige troon vir ‘n skepsel opgerig word nie. Want Hy word nie net God genoem nie maar ook ‘n ewige Heerser. Verder word aan niemand hierdie titel gegee sonder dat daar iets bygevoeg word nie. So sê God vir Moses (Ex 7:1): “Kyk Ek stel jou as ‘n god vir Farao”. In Jesaja (Jes 9:5-6) word Christus genoem God en iemand wat met die hoogste mag beklee is, iets wat net aan God toekom; vgl. ook Jer 23:6.
10. Die Here word ook dikwels voorgestel in die persoon van die Engel wat aan die heilige vaders verskyn het (Rigt 6:7,13). Hy noem Homself met die naam van die ewige God. As iemand sou beweer dat dit maar net geskied uit eerbied vir die persoon wie se opdrag hy uitvoer, word die moeilikheid nie opgelos nie. ‘n Dienskneg van God sal nie toestaan dat aan hom ‘n offer gebring word wat God van sy eer sal beroof nie. En tog beveel die Engel {71} dat ‘n offer aan die Here gebring word. Daarna bewys Hy egter dat Hyself die Here is. Manoag en sy vrou sê dat hulle God gesien het. Servet beweer wel dat God nooit aan Abraham en die aartsvaders verskyn het nie maar dat in sy plek ‘n engel aanbid is Maar die regsinnige leraars van die kerk verklaar dit so dat hierdie vernaamste Engel die Woord van God is, wat toe reeds soos in ‘n voorspel begin het om die amp van Middelaar te beklee. Want Hy het nog wel nie in die vlees verskyn nie maar tog as tussenpersoon neergedaal om met die gelowiges te spreek. Hy word dus Engel genoem, omdat Hy in gemeenskap tree met die gelowiges, maar intussen behou Hy sy eintlike naam, naamlik God.
As Hosea spreek oor die worsteling van Jakob met die Engel, sê hy dat hierdie Engel, HERE, die God van die leërskare genoem word (Hos 12:4,5,6). Nog duideliker is die woord van Maleagi (Mal 3:1): “Dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het”. Ongetwyfeld was die tempel die tempel van God. Tog sê die profeet dat Christus na sy tempel sal kom. Hieruit volg dat Hy dieselfde God is wat die Jode altyd aanbid het.
11. Die Nuwe Testament is vol van getuienisse. Ek sal maar net ‘n paar noem. Veral opmerklik is die feit dat die apostels leer dat die dinge alreeds vervul is of nog vervul moet word wat aangaande die ewige God voorsê is. Jesaja (Jes 8:14) sê: “Die HERE van die leërskare sal vir die twee huise van Israel ‘n klip wees waar ‘n mens teen stamp en ‘n rots waar ‘n mens oor struikel”. Paulus verseker (Rom 9:33) dat dit in Christus vervul is. Op ‘n ander plek (Rom 14:11) sê hy: “So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig en elke tong sal God bely”. Hier word Jes 45:23 aangehaal. In Jesaja sê God dit van Homself. As Christus dit nou vervul, volg daaruit dat Hy self God is. Vergelyk verder Ef 4:8 met Ps 68:19, Joh 12:41 met Jes 6:1. Duidelik skryf ook die Hebreërbrief (Hebr 1:6,10) aan die Seun lofverheffinge toe wat alleen aan God toekom. Baie duidelik spreek Paulus ook die godheid van Christus uit in Fil 2:6, en Johannes getuig aangaande Hom dat Hy die waaragtige God en ewige lewe is (Joh 5:20).
12. Duidelik blyk die godheid van die Woord ook uit die werke wat in die Skrif aan Hom toegeskryf word. Toe Christus gesê het dat Hy van die begin af saam met die Vader werk, het die Jode baie goed verstaan dat Hy op goddelike mag aanspraak maak. Daarom het hulle probeer om Hom dood te maak, “omdat Hy nie alleen die Sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelyk gestel het”. Hy bestuur egter nie net die wêreld saam met die Vader nie maar doen ook {72} ander werke wat die skepsels nie kan doen nie. Hy vergewe die sondes (Mat 9:6 naas Jes 43:25) en bewys deur ‘n wonderwerk dat Hy mag het om dit te doen Hy ken ook die verborge gedagtes van die hart. (Mat 9:4).
13. Duidelik blyk sy godheid ook uit sy wonderwerke. Die profete en die apostels het ook wonders gedoen, maar hulle het net uitgedeel wat hulle van God ontvang het. Christus bewys egter uit sy wonderwerke sy eie krag. Vooraf het Hy soms ook gebid, maar om daardeur die eer aan sy Vader te gee. Meesal sien ons dat sy eie krag aan ons getoon word. Hoe sou Hy ook, wat aan ander opdrag en bevoegdheid gee om wonders te doen, nie self die outeur daarvan wees nie! Die apostels getuig self ook dat hulle die kragte in sy Naam doen (Hand 3:6). En Hyself getuig van sy werke dat hulle ‘n getuienis is van sy godheid (Joh 5:36; Joh 14:11). Hy eis ook geloof in Hom op (Joh 14:1). Die wat in My glo, het die ewige lewe, sê Hy (Joh 6:47).
Hy word ook in gebed aangeroep, hoewel God alleen aangeroep mag word (Joël 2:32 naas Hand 7:59; Hand 9:13). Paulus sê ook aan die Korinthiërs dat hy aan hulle niks anders verkondig het nie as Jesus Christus en Hom as gekruisigde (1 Kor 2:2). Is dit nie ‘n kragtige bewys van sy godheid nie dat net sy Naam aan ons verkondig word, terwyl God beveel (Jer 9:24) dat ons net Hom sal ken? Voeg hierby dat Paulus in sy groetes aan die gemeentes vir hulle dieselfde weldade van die Seun afbid as wat hy van die Vader afbid. Die gawes word ons dus nie net deur bemiddeling van Hom geskenk nie, maar Hy is self die Gewer daarvan.
14. Uit dieselfde bronne moet die bewys geput word tot verdediging van die godheid van die Gees. Duidelik is die getuienis van Moses (Gen 1:2) dat die Gees van God op die waters gesweef het. Hy is dus werksaam om die ongevormde massa te vorm. Jesaja sê ook (Jes 48:16): “En nou het die Here, HERE my met sy Gees gestuur”. Die Heilige Gees is dus deelgenoot om profete uit te stuur. Daaruit blyk sy goddelike majesteit. Maar die beste bewys lê in die werke waarmee ons vertroud is. Hy onderhou alles, die lewe in die hemel en op die aarde, Hy word deur geen grense ingesluit nie — alles dinge wat geheel en al die werk van God is. Deur sy eie krag bewerk Hy die wedergeboorte en ook die toekomstige onsterflikheid. En ten slotte word aan Hom soos aan die Seun al die werke toegeskrywe wat aan God eie is. Hy ondersoek die dieptes van God (1 Kor 2:10). Hy deel wysheid uit en die vermoë om te spreek. Dit alles kan God alleen doen (Ex 4:11). Ons regverdigmaking is sy werk. Van Hom kom mag, heiligmaking, waarheid, genade en alles wat goed is. Veral {73} opmerkenswaardig is hier die uitspraak van Paulus (1 Kor 12:11): “Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil”. Paulus toon dus aan dat Hy ‘n Persoon is in God.
15. Maar die Skrif’ nóém Hom ook God. Paulus sê dat ons ‘n tempel van God is en dat sy Gees in ons woon (1 Kor 3:17; 1 Kor 6:19; 2 Kor 6:16). En as Petrus Ananias bestraf dat hy vir die Heilige Gees gelieg het, sê hy: “Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God” (Hand 5:3-4; vgl. ook Hand 28:25; Jes 6:9).
Christus en sy apostels skryf aan die Heilige Gees toe die woorde wat die profete in die Naam van die Here van die leërskare gespreek het. Daaruit volg dat Hy die vernaamste Bewerker van die profesieë is. As God kla dat die weerspannigheid van die volk sy toorn opwek, sê Jesaja, dat hulle die Heilige Gees bedroef het (Jes 63:10). Verder is daar die lastering teen die Heilige Gees waarvoor daar geen vergiffenis is “in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie” Matt 12:31-32; Mark 3:29; Luk 12:10). Dit bewys sy goddelike majesteit.
16. Deur die koms van Christus het God Hom duideliker geopenbaar as ‘n drie-enige God. Paulus verbind (Ef 4:5) God, geloof en doop. Uit die feit dat daar een geloof is, toon hy aan dat daar een God is. Uit die feit dat daar een doop is, bewys hy dat daar een geloof is. As ons dus deur die doop ingewy word in die geloof en die diens van een God, moet ons Hom vir die ware God hou in wie se Naam ons gedoop word (Mat 28:19). Die bevel: “Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”, bewys dus dat daar in die wese van God drie Persone is in wie die een God geken word. As Christus dus voorskryf dat daar gedoop moet word in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, bedoel Hy dat ons met een geloof moet glo in die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Wat is dit anders as om te getuig dat die Vader en die Seun en die Gees een God is? As dit dus vas bly staan dat daar maar een God is en nie meer as een nie, besluit ons dat die Woord en die Gees niks anders as die wese van God self is nie.
17. Die Skrif maak ook onderskeid tussen die Vader en die Woord en tussen die Woord en die Gees — ‘n geheimenis wat ons met groot ingetoënheid moet ondersoek. Ek stem saam met Gregorius Nazianzenus, as hy sê: “Sodra ek aan die een God dink, word ek dadelik omstraal deur die glans van die drie Persone; sodra ek die drie onderskei, word ek dadelik weer na die een God gelei”. Dat die Seun ‘n eienskap het onderskeie van die Vader, toon die plekke aan wat ons reeds aangehaal het. Die Woord sou nie by God {74} gewees het as dit nie ‘n ander Een as die Vader was nie. Die Seun maak ook onderskeid tussen Hom en die Vader as Hy sê dat daar ‘n ander Een is wat van Hom getuig (Joh 5:32; Joh 8:16). Die Vader het ook alles deur die Woord geskape. Dit kan alleen as Hy in ‘n sekere sin van Hom onderskeie is.
Bowendien het die Vader nie op aarde neergedaal nie maar Hy wat van die Vader uitgegaan het. Die Vader het nie gesterf en opgestaan nie maar Hy wat deur Hom gestuur was. Hierdie onderskeiding het nie maar by die vleeswording begin nie, maar ook vantevore was die eniggebore Seun in die skoot van die Vader (Joh 1:18). Die onderskeid tussen die Heilige Gees en die Vader gee Christus te kenne met die woorde dat die Heilige Gees van die Vader uitgaan; die onderskeid tussen Homself en die Heilige Gees deur Hom die ander Trooster te noem wat Hy sal stuur (Joh 14:16; Joh 15:26).
18. Die onderskeid wat ons in die Skrif vind, mag ons nie verswyg nie. Die Vader is die begin en die oorsprong van alles. Die Seun die wysheid en die raad. Aan die Heilige Gees word die krag en die werkdadigheid toegeskrywe. Ons moet ook let op die orde waarin die dinge genoem word. Eers word die Vader genoem. Dan uit Hom die Seun. En daarna uit altwee die Gees. Duidelik vind ons dit in Rom 8:9, waar dieselfde Gees genoem word die Gees van Christus en dan weer die Gees van Hom wat Christus uit die dode opgewek het. Petrus sê ook dat die profete deur die Gees van Christus geprofeteer het (2 Petr 1:21), terwyl die Skrif op ander plekke weer sê dat dit die Gees van God die Vader was.
19. Die eenheid van God word egter deur die onderskeiding in drie Persone nie opgehef nie. Die Seun is een God met die Vader, omdat Hy saam met Hom een Gees het. Die Gees verskil nie van die Vader en die Seun nie, omdat Hy die Gees is van die Vader en die Seun. In elk van die Persone is die hele Goddelike natuur aanwesig, tesame met wat Hy as besondere eienskap besit. Augustinus sê: “Met betrekking tot Homself word Christus God genoem, maar met betrekking tot die Vader word Hy Seun genoem. So ook word die Vader met betrekking tot Homself God genoem. Maar met betrekking tot die Seun word Hy Vader genoem. Wat met betrekking tot die Seun Vader genoem word, is nie die Seun nie. Wat Seun genoem word met betrekking tot die Vader, is nie die Vader nie. Wat met betrekking tot Homself Vader genoem word en met betrekking tot Homself Seun, is dieselfde God”. Dit is baie beter om in die onderlinge betrekking, soos Augustinus dit noem, te berus as om deur allerhande spitsvondighede die verhewe verborgenheid te wil verklaar.
20. Laat hulle wat met die reël van die geloof tevrede is, {75} aanneem wat nuttig is om te weet, naamlik dit: as ons bely dat ons glo in een God, word onder die Naam God verstaan die enige en eenvoudige wese waarin drie Persone is. Ook dat so dikwels as die Naam God sonder nadere bepaling genoem word, sowel die Seun en die Heilige Gees asook die Vader aangedui word. Wanneer egter by die Vader die Seun genoem word, maak ons onderskeid tussen die Persone. In daardie geval word die Naam God in besonder aan die Vader toegeken, omdat Hy die Bron en Oorsprong van alles is. So word die eenheid van die wese behou en rekening gehou met die orde, wat egter geen afbreuk doen aan die godheid van die Seun en die Gees nie. Daarom is dit heiligskennis as die Seun ‘n ander God genoem word as die Vader.
21. Dit sal nou die moeite loon om hier teen die verkeerde leerstellinge van sommige in te gaan. Dit is my bedoeling om leersames aan die hand te lei, sodat hulle iets sal hê waarop hulle kan staan. Oor die verborgenhede van die Skrif moet hier met groot ingetoënheid gespreek word, sodat ons nie verder gaan as wat die Heilige Skrif bied nie. Want hoe sal die menslike gees oor die wese van God kan ondersoek as hy sy eie wese allermins begryp? Laat ons aan God die kennis van Homself oorlaat, want Hy is ‘n voldoende getuie vir Homself. En dit sal ons doen as ons Hom so bely soos Hy Hom aan ons in sy Woord geopenbaar het. Ons moet na Hom soek in sy Woord, oor Hom dink soos Hy in sy Woord spreek en niks anders oor Hom spreek as wat uit die Woord geneem is nie. Laat almal maar bedink as hulle oor God spreek dat die verstand van die mens ‘n doolhof betree as hy aan sy nuuskierigheid toegee. Hy moet hom deur die hemelse godsprake laat lei, al begryp hy ook nie die diepte van hierdie verborgenheid nie.
22. Om ‘n opsomming te gee van al die dwalinge wat van ouds af die suiwerheid van die geloof in hierdie hoofstuk van die leer aantas, sal ‘n lang werk wees. Die meeste van die ketters het hulle daarop toegelê om die hele heerlikheid van God te verduister. Baie sektes het ontstaan wat òf die wese van God uitmekaar ruk òf die onderskeid tussen die Persone wegneem. As ons vashou aan wat uit die Skrif aangetoon is, dat die wese van God enkelvoudig en ondeelbaar is en ook dat die Vader deur ‘n sekere eienskap onderskei is van die Seun en die Seun van die Gees, sal die deur vir al hierdie dwalinge gesluit wees.
Servet het die naam Drie-eenheid so gehaat dat hy alle Trinitariërs godloënaars genoem het. Die hoofsaak van sy leer is dat God in drie gedeel word as ons sê dat in sy wese drie Persone is. Hierdie drieheid, sê hy, bestaan in ons verbeelding, want dit stry teen die eenheid van God. Intussen beweer hy dat die Persone maar net {76} uitwendige vorms is wat God vir ons in hierdie of daardie gedaante afbeeld. In die begin was daar geen onderskeid in God nie, maar nadat Christus uit God as God voortgekom het, het ook die Gees as ‘n ander God uit Hom uitgestroom.
Hierdie wonderlike versinsel dat die Persoon niks anders as die sigbare gedaante van God se heerlikheid is nie, het geen uitvoerige weerlegging nodig nie. Johannes verklaar dat die Woord God was voordat die wêreld geskape was. Hy maak dus ‘n groot onderskeid tussen die Woord en ‘n gedaante. As die Woord, wat God was, by die Vader was en sy eie heerlikheid gehad het (Joh 17:5), kon Hy tog nie ‘n uiterlike glans wees nie. Hieruit volg dat Hy ‘n Persoon was wat in God self bestaan het. Moses stel ook die Gees voor as ‘n wesenlike krag van God as hy verhaal dat die Gees van God op die waters gesweef het (Gen 1:2). Hy was dus ‘n ewige Gees en altyd in God omdat Hy die ongeordende stof van hemel en aarde koesterend onderhou het, totdat daar ‘n skoonheid en orde gekom het.
Die verfoeilikste van Servet se dwaling is dat hy die Seun van God en die Gees met die skepsels vermeng. Hy beweer openlik dat daar in die wese van God verdelinge is, elkeen waarvan God is. Hy beweer verder dat die siele van die gelowiges van ewigheid af met God was en van dieselfde substansie is as Hy. Hy ken ook die godheid aan ander geskape dinge toe.
23. Uit hierdie poel het nog ‘n ander monster te voorskyn gekom. Om aan die goddeloosheid van Servet te ontkom erken sommige dat daar drie Persone is, maar hulle voeg daarby dat die Vader die enige God is en dat Hy die Seun en die Gees gemaak het en so sy godheid in hulle oorgestort het. Hierdeur word die Vader van die Seun en die Gees onderskei, nl. dat Hy alleen die Gewer van die wese is. Hierdie mening bedek hulle met die volgende redenering, nl. dat Christus oral die Seun van God genoem word. Daaruit lei hulle dan af dat die Vader eintlik alleen God is. Maar hulle vergeet dat die Naam by uitstek aan die Vader toegeskryf word, omdat Hy die bron en beginsel van die Godheid is. So word die enkelvoudige eenheid van die wese aangedui. Hierteen bring hulle in dat dit ongerymd is dat Hy die Seun van ‘n Persoon genoem word as Hy dan waarlik God se Seun is. Ek antwoord dat altwee waar is, nl. dat Hy die Seun van God is, omdat Hy die Woord is, en dat tog ook met die Persoon rekening gehou moet word. Ons moenie ‘n teëstelling maak tussen die Vader en die Seun nie, asof net aan die Vader die Naam van ware God toekom. Die God wat aan Jesaja verskyn het, was die enige ware God (Jes 6:1). Tog verseker Johannes (Joh 12:41) dat die God Christus {77} was. Vergelyk ook Jes 8:14 met Rom 9:33, waar Paulus verklaar dat die God wat vir Israel ‘n klip was waar ‘n mens teen stamp, Christus is, en ook Jes 45:23 met Rom 14:11. As ons die praatjiesmakers mag glo, kom die wese van God alleen aan die Vader toe. So sal die godheid van die Seun iets wees wat afgeneem is van die wese van God. Op hierdie wyse word die wese van God op ‘n skandelike manier uitmekaar geruk. Gevolglik bly oor dat die wese geheel en al volledig gemeen is aan die Vader en die Seun. Daar is geen onderskeid tussen die een en die ander nie. Christus is nie in naam God nie.
24. Op grond van baie plekke kan bewys word hoe onjuis hulle opvatting is, nl. dat oral in die Skrif waar sonder nadere aanduiding van God sprake is, alleen die Vader bedoel word. Juis die plekke wat hulle ter stawing van hulle opvatting aanhaal, bewys hulle onnadenkendheid. Immers, die Naam van die Seun word altyd daarby vermeld. Hulle sê dat God sy eie Vader sou wees as alleen die Vader die ware God was. Calvyn weerlê hulle dan breedvoerig uit die Skrif. Hy wys op plekke soos Fil 2:6,7,10; Gen 1:26 e.a. plekke en gaan dan soos volg voort:
25. Dit is die grond van hulle dwaling dat hulle droom van wesens van wie elkeen ‘n deel van die wese sou besit. Tog leer ons uit die Skrif dat die goddelike wese een is. Daarom is die wese sowel van die Seun as van die Gees ongegenereer. Maar as Persoon is die Vader in die wese die eerste. Hulle bewering is ook dwaasheid dat volgens ons gevoele daar uit die een wese drie Persone voortkom, soos uit ‘n fontein, en dat daar dus vier is en nie drie nie. Ons skei nie die Persone van die wese af nie maar onderskei hulle net in die een wese.
Wat hulle hierteen inbring, nl. dat op dié wyse die Drie-eenheid sonder God sou wees, is net so dwaas. Want die Persone is nooit sonder of buite die goddelike wese nie. Die Vader is alleen Vader omdat Hy God is, en die Seun alleen Seun omdat Hy God is. Daarom bely ons dat die Godheid volkome is uit Homself, hoewel die Seun Seun as Persoon uit die Vader is en die Gees uit die Vader en die Seun as Persone.
26. Hulle sê dat Christus dan ten onregte Seun van God genoem word as Hy self God is. Daarop is reeds geantwoord. Omdat die een Persoon met die ander vergelyk word, word die Naam God net geneem van die Vader, omdat Hy die begin is en nie omdat Hy die wese gee nie, soos hulle sê. So ook moet verstaan word die woorde van Christus (Joh 17:3). Christus spreek hier as Middelaar. Tog word sy majesteit nie verminder nie, want al het Hy Homself verneder, het Hy tog sy heerlikheid by die Vader nie verloor nie. {78} As Christus as Middelaar die Vader aanspreek, omdat Hy met die Naam God die godheid wat Hy self ook besit.[2] En as Hy vir die apostels sê: “My Vader is meer as Ek”, ken Hy aan Homself nie ‘n tweede goddelikheid toe nie. So getuig Johannes ook (1:1) dat Hy waaragtig God is, sodat niemand sal dink dat Hy in ‘n tweede graad van godheid is, benede die Vader nie. Ek vra my af wat die mense wil wat eers bely dat Christus waaragtig God is en onmiddellik daarna Hom uitsluit uit die godheid van die Vader, asof iemand waaragtig God kon wees wat nie die enige God is nie, en asof ‘n oorgestorte godheid nie ‘n blote versinsel is nie.
27. Hulle beweer dat, volgens Irenaeus, die Vader van Christus die ewige en enige God van Israel is. Maar ons moet in gedagte hou dat Irenaeus te doen gehad het met mense wat beweer het dat dit nie die Vader van Christus was wat in vroeër tyd deur Moses en die profete gespreek het nie. Daarom het hy hom besonder beywer om aan te toon dat in die Heilige Skrif van geen ander God as van die Vader van Christus gespreek word nie. Hy noem die Seun dan ook uitdruklik met die Naam God en sê dat Hy Skepper is van hemel en aarde en dat dit Hy is wat aan die vaders verskyn het.
28. Hulle beroep op Tertullianus baat hulle ook nie. Want die hoofsom van wat hy leer, is dat God een is deur die enigheid van sy wese en dat tog die eenheid onderskei word in ‘n drie- eenheid; dat daar drie is nie na die wese nie maar na die vorm, nie na die mag nie maar na die orde. As hy dus die Seun ná die Vader noem, beskou hy Hom nie as ‘n ander God nie maar onderskei hy Hom alleen as Persoon van die Vader. As hy sê dat die Seun sienlik is, het hy daarmee alleen sy mensheid op die oog. En as hy die Woord en die Gees ‘n deel van die geheel noem, het hy nie die wese in die oog nie maar alleen die onderskeiding van die Persone.
29. Almal wat die geskrifte van die ou kerkvaders met mekaar vergelyk, sal by Irenaeus niks anders vind nie as wat daarna deur ander oorgelewer is. Justinus is een van die oudstes. Hy steun ons in alles. Dieselfde leer verkondig Hilarius en Augustinus. Die gelowige leser sal opmerk dat hiermee al die lasteringe uit die weg geruim is wat Satan aangewend het om die suiwere geloof aan die leer omver te werp of te verduister. Ek het niks oorgeslaan wat teen my sou ingaan nie. My oogmerk is die opbouing van die kerk. Daarom het ek baie dinge onaangeroer gelaat wat vir die leser oortollig en nie tot nut sal wees nie. Ek neem dit ook nie op my om hulle tevrede te stel wat hulle deur ‘n lus tot bespiegeling laat lei nie. {79}
HOOFSTUK XIV. Ook in die skepping van die wêreld en van alle dinge onderskei die Heilige Skrif die ware God deur bepaalde eienskappe van alle verdigte gode
1. Dit is vir die gelowiges nodig dat God duidelik vir hulle geskilder word, sodat hulle nie tot die versinsels van die heidene sal verval nie (Jes 40:31). Die beskrywing van die wysgere dat God die siel van die wêreld is, is niksbeduidend. Daarom het God gewil dat daar ‘n skeppingsgeskiedenis sal wees, sodat die geloof van die kerk daarop sal steun en ons nie ‘n ander God sal gaan soek as die Een wat Moses as die Skepper van die wêreld noem nie.
In die eerste plek word die tyd genoem, sodat ons tot die oorsprong van alle dinge sal kom. Die kennis is vir ons nuttig, omdat daardeur die ewigheid van God ons helder voor die gees te staan kom. Ons moet ons ook nie laat beïnvloed deur hulle wat vra waarom God nie eerder geskep het nie. Dit is nie vir ons nuttig om die dinge te weet wat God opsetlik vir ons verborge wil laat bly nie. Iemand het aan ‘n persoon wat spottend gevra het wat God voor die skepping van die wêreld gedoen het, gesê dat Hy die hel gemaak het vir nuuskierige mense. As die Skrif ons nie lei nie, sal ons dwaal. Almal wat aan hulle nuuskierigheid toegee, sal eenmaal ondervind dat dit vir hulle beter sou gewees het om die geheime raadsbesluite van God te eerbiedig as om godslasteringe uit te braak. Augustinus sê dat God se wil die oorsaak van alle dinge is.
2. Hierby moet ook geneem word wat Moses vir ons verhaal dat God sy werk voltooi het, nie in een oomblik nie maar in ses dae. Daaruit leer ons God se vaderliefde ken vir die menslike geslag. Hy het Adam nie geformeer voordat Hy die wêreld nie met ‘n oorvloed van alle goeie dinge ryklik voorsien het nie. As Hy hom geplaas het op ‘n aarde wat nog leeg was, sou dit gelyk het asof Hy nie vir hom wou sorg nie. Maar nou bewys Hy sy goedheid jeens ons dat Hy ‘n sorgsame huisvader is, deurdat Hy eers die aarde, die waters en die lug met lewende wesens vul.
3. Voordat ek uitvoerig oor die natuur van die mens spreek, moet ek eers iets oor die engele inlas. Hulle is diensknegte van God. Hy is hulle Skepper. En aan Hom wy hulle hulle diens en eerbetoning. Al spreek Moses dus nie dadelik oor die engele nie, verbied niks ons om te vermeld wat die Skrif op baie ander plekke leer nie. Hierdie leer is ook noodsaaklik om baie dwalinge te weerlê. Baie skryf aan hulle goddelikheid toe. Manichaeus noem {80} twee beginsels van alle dinge: God en die duiwel. Aan God skryf hy toe die oorsprong van die goeie dinge. Die duiwel beskou hy as die bewerker van die slegte. As ons dit glo, ontvang God nie die eer wat Hom uit die skepping van die wêreld toekom nie, want so word aan die duiwel goddelikheid toegeskrywe. Waar bly vervolgens die almag van God, as die duiwel teen Gods wil in kan najaag wat hy wil. Die enigste fondament waarop die Manicheërs hulle leer bou, nl. dat dit onbehoorlik is om aan die goeie God die skepping van die kwaad toe te skryf, hinder die regsinnige geloof nie. Want ons leer dat in die ganse skepping geen ding van nature boos en verkeerd is nie. Die verkeerdheid en boosheid kom voort uit die bederf van die goeie natuur. Van die begin af het daar niks bestaan waarin God nie ‘n proef van sy wysheid en regverdigheid gegee het nie. Dit is dus vir ons nodig om ons hart hoër op te hef as wat ons oë kan sien, sodat ons nie van die eenvoudigheid van die geloof weggelei word nie. Dit is ons plig om graag die dinge nie te wil weet wat ons nie pas om te weet nie.
4. Die engele is dienaars van God. Hulle is aangestel om sy bevele uit te voer. Dit is nutteloos om die tyd te wil bepaal waarop hulle geskape is, of die orde waarin hulle geskape is. Moses sê (Gen 2:1): “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag”. Watter nuttigheid is dit nou om te wil bepaal op watter dag hulle geskape is? Ons moet die matigheid betrag en nie oor duister dinge iets anders weet of spreek as wat God in sy Woord geopenbaar het nie. Ons moet ons altyd besig hou met die oordenking van die dinge wat tot ons opbouing dien en nie aan nuuskierigheid toegee nie. God wil ons onderwys in die waaragtige vroomheid en in die vrees van sy Naam, Laat ons in dié kennis berus. As ons dissipels van Christus wil wees, moet ons die reël volg wat Hy self vir ons voorgeskryf het. Paulus (2 Kor 12:1 e.v.) was opgetrek tot in die derde hemel, en hy sê dat dit vir ‘n mens nie geoorloof is om die verborgenhede uit te spreek wat hy gesien het nie. Laat ons dus uit die Skrif nagaan wat God gewil het dat ons van die engele sal weet.
5. Ons lees oral in die Skrif dat hulle gehoorsame hemelse geeste is wat God gebruik om sy besluite uit te voer. Daarom dra hulle ook die naam engele. God gebruik hulle as tussenbodes om Hom aan die mense te openbaar. Hulle word verder genoem (Luk 2:13) ‘n leërskare, omdat hulle as volgelinge hulle vors omring, sy majesteit verheerlik en kenbaar maak en soos soldate let op die teken van hulle veldheer, bereid en toegerus om dadelik sy bevele uit te voer. Daniël sê (7:10) dat duisend maal duisende en tienduisend maal tienduisende by God se regterstoel gestaan het. {81}
Hulle word ook magte genoem (Kol 1:16; Ef 1:21), omdat God op wonderbare wyse deur hulle sy mag openbaar. Vervolgens word hulle owerhede genoem en heerskappye, omdat Hy deur hulle sy heerskappy in die wêreld uitoefen. Eindelik word hulle ook trone genoem, omdat die heerlikheid van God in ‘n sekere sin op hulle rus. Al hierdie name gebruik die Heilige Gees om die waardigheid van die diens van die engele aan te dui. Meermale word hulle ook gode genoem, omdat hulle in hulle diens soos in ‘n spieël die godheid vir ons aanskoulik maak. Dit is ook nie wonderlik nie, want as aan vorste en regters die eer toegeken word (Ps 82:6) dat hulle die plek van God inneem as hulle hulle amp bedien, is daar nog meer rede om hierdie eer aan engele op te dra, in wie die glans van die goddelike heerlikheid oorvloedig uitblink.
6. Tot ons troos, tot versterking van ons geloof leer die Skrif ons dat die engele uitdelers is van God se weldadigheid. Hulle waak vir ons heil, Hulle neem ons beskerming op hulle. Hulle lei ons op ons weë en sorg dat geen kwaad oor ons kom nie. Die uitsprake, wat in die eerste plek op Christus betrekking het, die Hoof van die kerk, het ook op alle gelowiges betrekking: “Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie” (Ps 91:11-12; vgl. ook Ps 34:8; Gen 16:9; Gen 24:7; Gen 48:16; Ex 14:19; Ex 23:20). Telkens as God Israel uit die hande van sy vyande wou verlos, het Hy deur die diens van engele verlossers verwek (Rigt 2:1; Rigt 6:11; Rigt 13:10). Om nie meer te noem nie: die engele het Christus gedien (Mat 4:11); hulle het Hom bygestaan in al sy benoudhede (Luk 22:43); hulle het sy opstanding verkondig aan die vroue (Mat 28:5) en sy wederkoms aan sy dissipels (Hand 1:10); hulle stry teen die duiwel en oefen God se wraak uit oor al ons vyande (2 Kon 19:35; Jes 37:36).
7. Ek sal nie durf beweer dat elke gelowige afsonderlik ‘n beskermengel het nie. Daniël spreek van die vors van die Perse en van die Grieke en van die groot vors wat oor Israel staan (Dan 10:13,20; Dan 12:1). Daarmee gee hy blykbaar te kenne dat bepaalde engele oor koninkryke en lande aangestel word.
Ook Christus sê aangaande die kinders “dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is” (Mat 18:10).
Ek weet egter nie of ons hieruit kan aflei dat elkeen deur ‘n eie engel gelei word nie. Maar hiervan kan ons seker wees, dat elkeen nie maar die voorwerp van die sorg van net een engel is nie maar dat almal eendragtig oor ons heil waak, Al die engele verheug hulle oor een sondaar wat hom bekeer (Luk 15:7). {82} Engele het die siel van Lasarus gedra in die skoot van Abraham (Luk 16:23). Elisa toon aan sy dienaar vurige waens (2 Kon 6:17). Wat Hand 12:15 betref, niks verhinder ons om aan te neem dat God toe aan een of ander engel die sorg vir Petrus opgedra het nie, sonder dat hy daarom sy voortdurende bewaker was. As dit nie vir iemand voldoende is dat al die hemelse leerskare oor sy heil waak nie, kan ek nie insien watter nuttigheid dit vir hom kan hê as hy sou weet dat een engel hom as bewaarder gegee is nie.
8. Migael word die groot vors genoem deur Daniël (Dan 12:1) en aartsengel deur Judas (vs. 9). Paulus leer (1 Thess 4:16) dat ‘n aartsengel die mense tot die oordeel sal oproep. Maar wie sou hieruit die rangorde onder die engele kan vasstel en aan elkeen sy eie plek toewys?
Wat hulle getal betref, Christus spreek van baie legioene (Mat 26:53); Daniël van baie tienduisendtalle, en die dienskneg van Elisa sien baie waens. Dit alles wys op ‘n geweldige aantal (vgl. ook Ps 34:8). As die Skrif hulle skilder met vlerke (gerubs en serafs), geskied dit dat ons versekerd sal wees dat hulle met ‘n ongelooflike snelheid altyd aanwesig is om ons te help.
9. Ons twyfel dus nie daaraan dat die engele dienende geeste is nie. God gebruik hulle diens om sy gelowiges te beskerm en deel deur hulle sy weldade onder die mense uit. Die Sadduseërs het geglo dat hulle maar net bewegings was wat van God op die mens uitgaan, of bewyse van sy krag. Hierteen pleit al die getuienisse van die Skrif wat ons reeds aangehaal het. Daar is egter ook nog ander plekke waaruit dit duidelik blyk dat hulle selfstandige geeste is. Stefanus sê (Hand 7:53) dat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang is (vgl. ook Gal 3:19). Christus sê (Mat 22:30) dat die uitverkorenes na die opstanding aan die engele gelyk sal wees; dat die dag van die oordeel selfs nie aan die engele bekend is nie (Mat 24:36) en dat Hy sal kom met sy heilige engele (Mat 25:31). Uit al die plekke blyk dat hulle selfstandige geeste is (vgl. ook 1 Tim 5:21; Hebr 1:4 en Hebr 2:16). Hulle het ook aan die vaders verskyn in die gedaante van mense.
10. Nou moet ons nog posisie inneem teen die bygeloof dat ook aan hulle die eer bewys moet word wat alleen aan Christus toekom. Paulus het al die stryd gehad met mense wat die engele so hoog verhef het dat hulle Christus in rang byna onderkant hulle gestel het (Kol 1:16,20). Daarom sê hy dat Christus bokant die engele gestel moet word en dat Hy ook vir hulle die bewerker is van alles wat goed is. Hulle put dus maar net uit dieselfde bron as ons en moet nie deur ons aanbid word nie (Openb 19:10; Openb 22:8-9). {83}
11. Teen hierdie gevaar sal ons gewapen wees as ons ondersoek waarom God gewoonlik deur hulle sy mag openbaar en vir die heil van die gelowiges sorg. Hy doen dit seker nie omdat Hy hulle nie kan mis nie, want so dikwels as dit Hom behaag, gaan Hy hulle verby en volbring sy werk net deur ‘n wenk. Hy doen dit dus tot ons vertroosting, sodat dit ons aan niks sal ontbreek wat ons siele kan opbeur om te hoop nie. Hierdie een saak behoort vir ons meer as voldoende te wees, nl. dat die Here ons verseker dat Hy ons Beskermer is. Maar as ons die baie gevare sien wat ons omring en die baie soorte van vyande, kan dit gebeur dat ons deur wanhoop beswyk as die Here ons nie die teenwoordigheid van sy genade laat voel nie. Daarom beloof Hy dat Hy ontelbare knegte het, aan wie Hy die sorg vir ons heil opgedra het. Daarvan het ons ‘n voorbeeld in die kneg van Elisa (2 Kon 6:17).
12. Wat ons oor die diens van die engele gesê het, moet daartoe strek om ons hoop op God des te sterker te bevestig. Want hulle is ons deur God geskenk tot beskerming, sodat ons nie deur die groot getal van ons vyande verskrik sal word nie maar ons toevlug sal neem na die woorde van Elisa: “Die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is” (2 Kon 6:16). Hoe verkeerd is dit daarom om ons deur die engele van God af te laat weglei! Hulle wat juis bestem is om aan ons te betuig dat sy hulp baie naby is. En hulle lei ons van Hom af as hulle ons nie by die hand na Hom toe lei nie om Hom alleen as ons Helper te sien, aan te roep en te loof; as hulle ons nie hou by die een Middelaar, Christus, om op Hom te steun en te rus nie. Wat in die gesig van Jakob beskryf is (Gen 28:12), is in Hom vervul (Joh 1:52).
13. Wat die Skrif ons aangaande die duiwels leer, het as doel om ons op ons hoede te stel vir hulle liste. Ook dat ons ons sal toerus met wapens wat sterk genoeg is om sulke magtige vyande te verjaag. As Satan genoem word god en owerste van hierdie wêreld, ‘n brullende leeu (2 Kor 4:4; Ef 2:2; 1 Petr 5:8), bedoel die Skrif dat ons waaksaam moet wees en bereid om die stryd aan te knoop. Dit word soms ook uitdruklik daarby gesê. As Petrus die duiwel ‘n brullende leeu noem, voeg hy dadelik daaraan toe dat ons hom deur die geloof kragtig moet weerstaan. En as Paulus sê (Ef 6:12 e.v.) dat ons worstelstryd nie is teen vlees en bloed nie maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug, voeg hy dadelik daaraan toe dat ons die volle wapenrusting van God moet aantrek. Laat ons sorg dra om nie sorgeloos en lafhartig te wees nie maar hom kragtig weerstaan. En laat ons onsself aanspoor om te volhard. Maar laat ons veral God se hulp inroep en niks onderneem sonder om op Hom te vertrou nie. {84}
14. Om ons hiertoe op te wek getuig die Heilige Skrif dat dit nie maar net een of ‘n paar vyande is wat met ons oorlog voer nie, maar groot menigtes. Uit Maria Magdalena het Christus sewe duiwels uitgedryf (Mark 16:9). Daar word selfs gesê (Luk 8:30) dat baie duiwels in een man gevaar het. Hieruit leer ons dat ons die stryd teen ‘n oneindige aantal vyande voer, sodat ons nie hulle getal sal gering ag of sorgeloos word nie.
As daar dikwels sprake is van een Satan of duiwel in die enkelvoud, dan word daarmee aangedui die oppergesag van die ryk van die boosheid, wat hom verset teen die ryk van geregtigheid. Soos die kerk een Hoof het, naamlik Christus, so het ook die goddelose en die goddeloosheid hulle een vors.
15. Ook dit moet ons aanvuur tot die voortdurende stryd met die duiwel, nl. dat hy oral die teëstander van God en van ons genoem word. As die eer van God ons ter harte gaan (soos dit moet), moet ons met alle krag ons verset teen hom wat dit wil uitdoof. As ons besiel is om die ryk van Christus te verdedig (soos ons moet), moet ons in ‘n onversoenlike oorlog gewikkel wees met hom wat saamsweer om dit te vernietig. As ons besorg is oor ons eie heil, mag ons geen vrede of wapenstilstand sluit met hom wat ons wil verderf nie. So word hy beskrywe in die derde hoofstuk van Genesis. Hy voer die mens af van die gehoorsaamheid, wat hy aan God verskuldig was, stort hom in die verderf en beroof God van sy eer. So word hy ook in die Evangelies genoem. Hy is die vyand wat die onkruid saai (Mat 13:28) Christus getuig van hom dat hy van die begin af ‘n mensmoordenaar, ‘n leuenaar is (Joh 8:44). Dit ondervind ons in al sy dade. Met leuens stry hy teen die waarheid van God. Hy verdonker die lig met duisternis. Hy verwar die gees van die mense. Hy wek haat op, blaas twis en stryd aan — alles met die bedoeling om die ryk van God omver te werp en die mense saam met hom te laat versink in die ewige verderf. Daaruit blyk dat hy van nature sleg is, boos en listig (1 Joh 3:8).
16. Die duiwel is deur God geskape. Tog moet ons nie dink dat hy boos geskape is nie. Die boosheid kom voort uit die bederf. Hy het verdoemlik geword deur sy eie afval en val. Hierop wys die Skrif ons, sodat ons nie sou glo dat hy so verdorwe uit die hand van God gekom het nie. Daarom sê Christus dat wanneer die Satan leuentaal praat, hy uit sy eie praat, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader van die leuen. Hy het nie in die waarheid staande gebly waarin hy eenmaal gestel was nie. Hoewel ons dit maar kortliks sê, is dit meer as voldoende om die majesteit van God van alle laster te bevry. Watter belang het dit vir ons om meer van die duiwel te weet? Dit is vir ons genoeg om te weet dat in die {85} begin die duiwels engele van God was maar deur ontaarding hulleself verderf het en vir ander tot werktuie van verderf geword het (2 Petr 2:4).
17. Wat betref die stryd wat God met Satan voer, moet dit by ons vas staan, dat hy sonder die wil en toestemming van God niks kan doen nie. Ons lees in die geskiedenis van Job dat hy hom voor God stel om sy bevele te ontvang en dat hy niks kan verrig as God hom nie verlof daartoe gee nie (Job 1:6; Job 2:1; vgl. ook 1 Kon 22:20-22). In ooreenstemming met hierdie voorbeelde sê Paulus in die algemeen (2 Thess 2:9,11) dat die verblinding van die ongelowiges die werk van God is, hoewel hy dit vantevore die werk van Satan genoem het. Satan staan só onder die mag van God en van sy wil dat hy gedwing is om gehoorsaamheid te bewys. As ons verder sê dat Satan God weerstaan, dan beweer ons dat die teëstand en stryd van die toelating van God afhang. Ek spreek nie oor die wil van die duiwel nie maar alleen oor wat hy kan volbring, Deur sy boosheid word hy geprikkel om hom teen God te verset, maar hy kan alleen volbring wat God hom toelaat. So moet hy sy Skepper gehoorsaam of hy wil of nie.
18. God regeer die bose geeste so dat hulle die gelowiges oefen in die stryd, hulle in die noute bring en afmat maar nooit kan oorwin nie. Maar die goddelose sleep hulle saam. Oor hulle siele en liggame voer hulle heerskappy en misbruik hulle as hulle slawe. Die gelowiges word aangespoor om vir die duiwel geen plek te gee nie (Ef 4:27) maar om hom te weerstaan 1 Petr 5:8). Paulus erken dat hy in die stryd nie ongedeerd gebly het nie (2 Kor 12:7). Maar omdat die belofte (Gen 3:15) op Christus en al sy lede betrekking het, daarom kan Satan die gelowiges nooit oorwin of ten onder bring nie. Hulle word beangs maar herstel hulle weer. Hulle val maar word weer opgerig. Hulle word gewond maar nie tot die dood toe nie, en op die end behaal hulle die oorwinning. Dit geld egter nie van elke geval afsonderlik nie. Dawid was ‘n tyd lank aan Satan oorgelaat (2 Sam 24:1). Paulus spreek van mense wat deur Satan gevang was om sy wil te doen (2 Tim 2:26). Maar hy sê ook: “En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel”. In ons Hoof was hierdie oorwinning altyd volkome, want die owerste van die wêreld het aan Hom niks gehad nie (Joh 14:30). In ons egter is dit nou nog ten dele, maar dit sal na ons dood volmaak word. Satan se mag gaan dus te gronde waar die koninkryk van Christus opgerig word (Luk 10:18; Luk 11:29). Vir hierdie doel het Christus die Satan oorwin, sodat hy sy kerk nie skade sal aandoen nie. Anders sal hy dit elke oomblik honderd maal te gronde rig. Hoe sal ons, wat so swak is, stand kan hou teen sy veelvuldige en voortdurende {86} aanvalle as ons nie op die oorwinning van ons veldheer vertrou nie? God staan Satan dus nie toe om oor die siele van die gelowiges heerskappy te voer nie, maar Hy gee slegs die goddelose aan hom oor, wat Hy nie waardig keur om tot sy kudde gereken te word nie (Ef 2:2). Die goddelose is voorwerpe van God se toorn. Aan wie anders sal hulle dan beter onderwerp kan word as aan die dienaar van die goddelike wraak?
19. Net soos die goeie engele nie maar bewegings is wat God in die gees van die mens opwek nie, so is ook die duiwels nie bose aandoenings wat ons vlees in ons opwek nie. Hierteen bestaan genoegsaam duidelike bewyse van die Heilige Skrif. In die eerste plek word hulle onreine geeste en afgevalle engele genoem. Hierdie name dui dus aan dat hulle nie maar net aandoening van die gees is nie maar geeste wat met sinne en verstand begiftig is. As Christus (Joh 8:44) en Johannes (1 Joh 3:10) die kinders van God met die kinders van die duiwel vergelyk, sal dit ‘n dwase vergelyking wees as die duiwels maar net sondige inblasinge was. Johannes sê duidelik dat die duiwel van die begin af sondig (1 Joh 3:8). Hiermee stem ook ooreen wat ons in die geskiedenis van Job lees, dat die Satan saam met die heilige engele voor God verskyn (Job 1:6; Job 2:1). Die duidelikste spreek die plekke wat spreek van die straf (Mat 8:29; Mat 25:41; 2 Petr 2:4). Hoe dwaas sou dit wees om te sê dat die duiwels vir die ewige oordeel bestem is as daar geen duiwels is nie.
20. Intussen moet ons ons vermaak in die aanskouing van die heerlike werke van God. Dit is kenmerk van die geloof dat dit oordink met watter doel God alles geskape het. Om dus met ‘n ware geloof aan te gryp wat ons aangaande God behoort te weet, is dit die moeite werd om die skeppingsgeskiedenis voor oë te hou. Daaruit leer ons dat God deur die krag van sy Woord en Gees hemel en aarde uit niks geskape het; dat Hy daaruit elke soort besielde en onbesielde wesens voortgebring het, elkeen sy eie natuur geskenk en sy eie roeping en plek toegeken het. Hy het ook gesorg dat elke soort tot op die jongste dag ongeskonde bewaar word. Hy het hemel en aarde ingerig soos ‘n huis wat met die duurste huisraad oorvloedig versier is. Eindelik het Hy die mens geformeer, hom met skitterende gawes versier en in hom die uitnemendste bewys van sy werke gegee.
21. Dit is nie nodig om breedvoerig na te gaan waartoe die oordenking van God se werk moet strek nie. Dit is alreeds op ‘n ander plek gedoen. God wil dat ons met hierdie heilige oordenking gedurig besig sal wees; sy wysheid, regverdigheid, goedheid en mag in al sy skepsels opmerksaam en aandagtig sal beskou en nie maar so terloops nie. So word ons harte geroer. Ek gee hier ‘n voorbeeld. {87} Hoe godvruglig word ons harte nie geroer nie as ons nagaan hoe groot die kunstenaar moet gewees het wat so ‘n groot getal sterre aan die hemel in so ‘n goeie orde gestel het dat daar niks heerliker is om te aanskou nie. Sommige het Hy aan hulle plek gebind dat hulle nie kan beweeg nie, maar aan ander laat Hy ‘n vrye loop toe, maar só dat hulle nie buitekant hulle bane beweeg nie. Almal se beweging het Hy so gereël dat hulle dae en nagte, maande, jare en jaargetye afmeet, sodat daar geen verwarring ontstaan nie. So ook as ons ons die onderhouding van die geweldige werk indink. Met hierdie voorbeelde wou ek aantoon wat dit beteken om God se deugde in die skepping van die wêreld te bely.
22. Nou bly nog die ander deel oor, nl. dat ons in gedagte sal hou dat God alles tot ons heil en beswil bestem het. En as ons dan in dit alles sy mag en genade voel, word ons opgewek om op Hom te vertrou, Hom aan te roep, te loof en lief te hê. Dat God alles ter wille van die mens skep, het ek alreeds aangetoon. Ook dat Hy dit in ses dae geskep het. In alles wil Hy sy vaderlike sorg vir ons laat uitkom. Hoe ondankbaar is dit dan nie om daaraan te twyfel of ons voorwerpe is van die sorg van hierdie goeie Vader, wat Hom oor ons bekommer het nog voordat ons gebore was. Hoe goddeloos om ons onrustig te maak daaroor dat sy goedertierenheid ons in die steek sal laat as ons in nood verkeer. Bowendien verneem ons uit Moses (Gen 1:28; Gen 9:2) dat Hy in sy mildheid alles aan ons onderwerp het. Daarom sal ons nooit iets ontbreek wat vir ons saligheid nodig is nie. Ons is in sy hand en sy kinders, wat Hy in sy troue hoede geneem het om te voed en op te voed. Van Hom verwag ons alles wat goed is, en ons hoop dat Hy nooit sal toelaat dat iets ons sal ontbreek wat tot ons saligheid nodig is nie. Deur dit alles word ons aangespoor om Hom met ons hele hart lief te hê en te dien.
HOOFSTUK XV. Hoedanig die mens geskape is. Hierin word ook gespreek oor die vermoëns van die siel, die beeld van God, die vrye wil en die oorspronklike staat van regtheid van ons natuur
1. Ons moet nou spreek oor die skepping van die mens Onder al die werke van God is hy die vernaamste bewys van God se {88} regverdigheid, wysheid en goedheid. In die tweede plek kan ons God nie reg ken as ons onsself nie ken nie. Die kennis is tweeledig. In die eerste plek moet ons weet hoedanig ons oorspronklik geskape is en in die tweede plek hoe ons toestand na die val van Adam geword het.
Ons beskrywe nou eers die onverdorwe natuur, omdat dit nodig is om te weet hoedanig ons in die begin geskape was. Ons moet oppas dat ons nie die natuurlike ellendes van die mens aan die Skepper van die natuur toeskryf nie. Die goddelose mense meen dat hulle voldoende deur hierdie voorwendsel verdedig word as hulle voorgee dat al hulle gebreke hulle oorsprong in God het. So gee hulle aan God die skuld. Ander wat eerbiediger oor God wil spreek, ontleen tog graag die verontskuldiging vir hulle boosheid aan die natuur. Hulle bedink nie dat hulle God smaadheid aandoen as bewys kan word dat daar enige fout in die natuur is nie. Ons moet hierdie bose neiginge van die mens teëstaan. Die rampsaligheid van die mensdom moet so behandel word dat alle uitvlugte afgesny word en God se regverdigheid van alle beskuldiging bevry word. Daarna sal ons behandel hoe ver die mens verwyder is van die suiwerheid waarmee Adam begiftig was.
In die eerste plek moet ons weet dat hy uit die aarde geneem is. Daardeur word vir hom ‘n toom vir sy hoogmoed aangelê. Niks is ongerymder as dat die mens hom sou beroem op sy voortreflikheid nie. Hy bewoon maar ‘n huis van klei en is self ook ‘n deel van die aarde. Maar omdat God Hom verwerdig het om die erdekruik te besiel en gewil het dat dit die woonplek sal wees van ‘n onsterflike gees, daarom kon Adam hom met reg beroem op die groot goedheid van sy Formeerder.
2. Verder moet dit vas staan dat die mens uit siel en liggaam bestaan. Onder die woord siel verstaan ek ‘n onsterflike maar nogtans geskape wese wat die edelste deel van die mens is. Soms word dit gees genoem. As die twee, siel en gees, saam genoem word, verskil hulle in betekenis van mekaar. Origens beteken die woord gees soveel as siel, as dit afsonderlik genoem word. So sê Salomo dat na die dood die gees terugkeer tot God, wat dit gegee het (Pred 12:7). En Christus gee sy gees in die hande van sy Vader oor (Luk 23:46). Vergelyk ook Hand 7:59. Hier moet ons onder die woord gees siel verstaan. God is die bewaarder van die siele na die dood. Dat die siel onsterflik is, word ook deur die gewete bewys. Dit onderskei tussen goed en kwaad. Dit vrees die oordeel van God. Die liggaam kan tog nie vir ‘n geestelike straf vrees nie. Hieruit volg dat die siel wese het. Dat hy kennis van God het bewys voldoende dat die siel onsterflik is. ‘n Verdwynende krag kan tog nie tot die bron van die lewe kom nie. {89}
Al die uitnemende gawes van die siel roep dit uit dat iets goddeliks hom ingegrif is en is bewyse van sy onsterflikheid. As die menslike siel hemel en aarde en die verborgenhede van die natuur deursoek, as dit hom dinge herinner, as dit die toekoms uit die verlede voorspel, toon dit daarmee duidelik aan dat daar in die mens iets is wat onderskeie is van die liggaam. Die liggaamlike sintuie kan tog nie begrippe vorm soos reg, regverdigheid en sedelikheid nie. Die gees moet dus die sleutel daarvan wees. Selfs die slaap is ‘n duidelike bewys van die onsterflikheid, omdat die gees dan nog werksaam is. As die siel nie iets wesenliks was nie, onderskeie van die liggaam, sou die Skrif nie leer dat ons erdehuise bewoon en deur die dood uit die tent van die vlees verhuis nie. Sulke Skrifuitsprake onderskei nie net die siel van die liggaam nie maar dra ook daarop oor die naam mens en bewys dat dit die vernaamste deel is.
Paulus noem ook twee dele (van die mens) as hy die gelowiges vermaan om hulle van alle besoedeling van die gees en van die vlees te reinig (2 Kor 7:1). Petrus noem Christus die Herder en Opsiener van die siele (1 Petr 2:25). Dit sou geen sin gehad het as daar geen siele was nie (vgl. ook Hebr 13:17; 1 Petr 1:9; 1 Petr 2:11; 2 Kor 1:23). Christus beveel ons ook om Hom te vrees wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel (Mat 10:28; vgl. ook Luk 16:22; 2 Kor 5:6,8).
3. ‘n Sterk bewys van die saak kan ons ook daaraan ontleen dat die mens geskape is na die beeld van God (Gen 1:27). Al skitter die heerlikheid van God in die hele mens, is die siel tog die eintlike setel van die beeld. Dit is dus geestelik. As Osiander die beeld van God sonder onderskeid ook tot die liggaam uitstrek, dwaal hy. Hy sê dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees hulle beeld in die mens gestel het, omdat Christus tog mens sou geword het, ook al het Adam nie in die sonde geval nie. Die liggaam wat vir Christus bestem was, is dan volgens hom die voorbeeld van die liggaam wat toe geskape is. Maar waar sal hy dit vind dat Christus die beeld van die Gees is? In orde gaan Hy tog aan die Gees vooraf. So word ook die onderskeiding tussen die Seun en die Gees tot niet gemaak. Daarby kom dat die mens dan net na die voorbeeld van Christus as mens gevorm is, terwyl die Skrif leer dat hy na die beeld van God geskape is.
Onder uitleggers is daar ook groot verskil van mening oor die betekenis van die woorde beeld en gelykenis. Gelykenis is egter alleen by wyse van verklaring aan beeld toegevoeg. Toe God besluit het om die mens na sy beeld te formeer, het Hy by wyse van verklaring daaraan toegevoeg: na ons gelykenis. Daarom word met hierdie woord aangedui die volmaaktheid waarmee Adam {90} beklee was. Hoewel die vernaamste setel van die goddelike beeld in die siel van die mens gesoek moet word, was daar tog geen enkel deel van die mens waarin nie enkele vonkies daarvan gegloei het nie. Dit sluit ook sy liggaam in. Met hierdie besondere eretitel verheerlik Moses die genade van God jeens ons.
4. Om die beeld van God ten volle te beskryf moet ook gelet word op die gawes waardeur die mens uitmunt. Dit leer ons uit die weeroprigting van die verdorwe natuur. Deur sy sondeval het Adam van God vervreemd geraak. Daardeur is die beeld van God wel nie vernietig nie maar tog gruwelik verdorwe. Die begin van ons saligheid is dus geleë in die vernuwing wat ons deur Christus verkry. Daarom word Hy ook die tweede Adam genoem, omdat Hy ons herstel het in die ware en volkome staat van regtheid voor God. Die doel van die wedergeboorte is dat Christus ons na die beeld van God hervorm (Kol 3:10; Ef 4:24). Wat sluit die vernuwing alles in? Paulus noem kennis, geregtigheid en heiligheid. Hieruit maak ons op dat die beeld van God oorspronklik bestaan het in die lig van die verstand, in die regskapenheid van die hart en in die gesondheid (suiwerheid) van al die dele.
As dit vas staan, verdwyn vanself die voorstelling van Osiander aangaande die gedaante van die menslike liggaam. Hierdie beeld van God word nou ten dele in die uitverkorenes aanskou, in soverre hulle na die gees wedergebore is. Ten volle sal dit uitskitter in die hemel hiernamaals.
Verwerp moet ook word die opvatting van hulle wat die gelykenis met God beperk tot die heerskappy wat aan die mens gegee is, asof hy net daarin aan God gelyk was dat hy as heerser oor alle dinge gestel word.
5. Voordat ek verder gaan, is dit nodig om die dwaasheid van die Manicheërs te weerlê, wat Servet vandag weer wil invoer. Genesis 2:7 verhaal dat God in die neus van die mens die asem van die lewe geblaas het. Daaruit lei hulle af dat die siel ‘n deel is van die onmeetlike Godheid, wat in die mens gevloei het. Maar daaruit sou volg dat God aan verandering en lyding onderhewig is en, nog erger, ook aan onverstand, bose begeerlikhede en allerhande soorte gebreke. Die mens is onstandvastig. Hy spreek in onwetendheid. Onder die geringste beproewinge beswyk hy. Sy siel is ‘n vergaarbak van alles wat vuil is. En dit alles moet ons nou ook aan die goddelike natuur toeskryf!
As Paulus (Hand 17:28) die woorde van die heidense digter aanhaal: “Ons is ook die geslag van God”, bedoel hy vir sover Hy ons met goddelike gawes versier het.
Die siele is dus net sowel as die engele geskape. Skepping is egter nie oorgieting nie maar ‘n begin van die wese uit niks. {91}
As Paulus oor die vernuwing van die beeld handel, kan ons uit sy woorde opmaak dat die mens oorspronklik aan God gelyk was deur genade en die krag van sy Gees en nie deur invloeiing van sy wese nie (2 Kor 3:18).
6. Ons het vantevore uit die Skrif geleer dat die siel ‘n onliggaamlike wese is. Nou moet ons daaraan toevoeg dat dit in die liggaam gestel is en daar soos in ‘n huis woon. Dit besiel al die dele van die liggaam en maak die lede geskik en bruikbaar om hulle taak uit te voer. Dit het die opperste leiding in die bestuur van die mens se lewe op aarde. Dit wek hom op om God te dien.
7. Ons sê dat daar twee dele in die menslike siel is: die verstand en die wil. Die taak van die verstand is om tussen goed en kwaad te onderskei. Die taak van die wil is om te kies en te volg wat die verstand goed ag en te vlug van wat die verstand afkeur.
8. Deur hierdie voortreflike gawes het die mens in sy eerste toestand uitgeblink. Sy rede, insig en oordeel was voldoende om sy aardse lewe te bestuur en om hom tot God in die ewige saligheid te laat opstyg. Daarby het nog gekom die moontlikheid om te kies, sodat die wil heeltemal in ooreenstemming was met die leiding wat die verstand aangegee het. Die mens het dus ‘n vrye wil besit, waardeur hy, as hy gewil het, die ewige lewe kon verkry. Adam kon dus staande bly as hy dit gewil het. Maar omdat sy wil ook na die ander kant gebuig kon word, het hy tot ‘n val gekom, en sy nakomelinge het die smet van hom geërf. Waarom God nie die mens die krag van volharding gegee het nie, is in sy raad verborge. Ons taak is om wys te wees in matigheid. Die mens het wel die gawe ontvang om te kan, as hy wil, maar hy het nie die wil om te kan nie. Tog is hy nie te verontskuldig nie. Hy het baie ontvang maar homself uit eie beweging die ondergang op die hals gehaal. God was nie verplig om hom ‘n onwankelbare wil te gee nie.
HOOFSTUK XVI. God onderhou en beskerm deur sy krag die wêreld wat hy geskape het en regeer elke deel daarvan deur sy voorsienigheid
1. Ons verskil van die ongelowiges daarin dat ons God nie maar net as Skepper eer nie maar sy goddelike krag ook sien in {92} die voortdurende bestaan van die wêreld. Daarop sien die woord van die apostel (Hebr 11:3) dat die wêreld deur die Woord van God toeberei is. As ons nie tot sy voorsienigheid opstyg nie, begryp ons nog nie wat dit beteken dat God Skepper is nie, al bely ons dit ook met die mond. Sommige meen dat die krag wat God in die begin in die dinge gelê het, voldoende is om alles te onderhou. Maar die geloof moet dieper deurdring. Dit moet begryp dat die Skepper ook die voortdurende bestuurder en onderhouer van alle dinge is. Hy onderhou, voed en versorg deur ‘n besondere voorsienigheid elke ding afsonderlik wat Hy gemaak het, selfs tot die kleinste mossie toe. Dawid getuig (Ps 33:6) dat die wêreld deur God geskape is. Maar dan voeg hy dadelik daaraan toe: “Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders” en wat daar verder volg van vers 13 af.
God kan nie vir die menslike sake sorg as Hy nie die Skepper van die wêreld is nie. En niemand kan glo dat God die wêreld gemaak het, sonder om terselfdertyd oortuig te wees dat Hy vir sy werke sorg nie (vgl. Ps 104:27 e.v.).
2. Die voorsienigheid van God soos die Skrif dit vir ons leer, staan teenoor die toeval. Die algemene oortuiging is dat alles by toeval geskied. Hierdeur word die voorsienigheid van God verduister en begrawe.
As iemand in die hande van rowers val of onder wilde diere beland, as hy skipbreuk ly, of as iemand anders wat in die wildernis verdwaal is, uitkoms vind en so aan die dood ontkom, skryf die verdorwe verstand dit alles aan toeval toe. Maar wie deur Christus onderwys is (Mat 10:30) dat ook die hare van ons hoof getel is, sal die oorsaak dieper soek en daaraan vashou dat alle denkbare gebeurtenisse deur die verborge raad van God bestier word. Ook die lewenslose dinge het van nature hulle besondere eienaardighede, maar hulle kan hulle krag nie openbaar as hulle nie deur die hand van God bestuur word nie. Hulle is werktuie wat Hy gebruik. Die krag van die son is wonderlik. Dit verlig die hele wêreld. Dit koester met sy warmte elke lewende wese en laat dit gedy. Dit maak die aarde vrugbaar met sy strale; dit laat die saadjie ontkiem, opgroei en vrug dra. Maar die lof vir dit alles eien God Hom toe, want die lig het bestaan voordat Hy die son geskep het (Gen 1:3,11). ‘n Godvrugtige mens sal nie aan die son die eer vir dit alles gee nie. Deur die wonders (Jos 10:13; 2 Kon 20:11) verkondig God dat die son nie deur ‘n blinde aandrywing van die natuur opgaan of ondergaan nie maar dat Hy dit in sy loop bestuur. Deur ‘n besondere voorsienigheid bestier Hy dit so dat die lente op die winter, die somer op die lente, die herfs op die somer volg. {93}
3. God is almagtig, sy almag is egter nie werkloos nie maar waaksaam, kragdadig en ‘n voortdurende werksaamheid. Hy word nie almagtig genoem omdat Hy wel alles kan doen maar tog af en toe, nou en dan, ophou om te werk nie. Ook word Hy nie almagtig genoem omdat Hy die vaste natuurorde onderhou nie maar omdat Hy deur sy voorsienigheid hemel en aarde bestuur en alles so lei dat niks sonder sy raad geskied nie. As in Ps 115:3 gesê word dat Hy alles doen wat Hom behaag, word daarmee ‘n vaste en vantevore oorwoë wilsuiting aangedui. Hulle wat leer dat die voorsienigheid van God maar net ‘n ewige natuurwet is, beroof Hom van sy eer en hulleself van ‘n nuttige leerstuk. Die voorsienigheid van God leer ons ook die besondere goedheid van God jeens ons. Dawid roep dit uit dat God vir hom lof toeberei het uit die mond van die kindertjies (Ps 8:3). Daarmee bedoel hy dat hulle dadelik na hulle geboorte deur hemelse sorg hulle voedsel voorberei vind.
Hierdie leerstuk werp vir ons ‘n dubbele vrug af. In die eerste plek leer dit ons dat God, wat hemel en aarde besit, mag het om aan ons wel te doen. In die tweede plek kan ons ons onbekommerd oorgee aan die beskerming deur Hom, aan wie se wil alle rampe onderworpe is, deur wie se wil Satan in toom gehou word en na wie se wenke almal luister. So alleen kan ons die vrees verdryf. Geen skepsel besit enige krag of mag om ons skade aan te doen nie (vgl. Jer 10:2).
4. Voorsienigheid beteken dus nie dat God uit die hemel werkloos aanskou wat op die aarde gebeur nie. Maar dit beteken dat Hy alle gebeurtenisse bestier (Gen 22:8). God weet nie net wat daar sál gebeur nie, maar Hy sorg ook dat dit gebeur. Dit beteken dus werksaamheid. Baie beweer dat voorsienigheid maar net beteken dat God vooruit weet wat sal gebeur. Ander ken weer ‘n algemene bestuur aan God toe. Hy reël dan die samestel van die hele wêreld maar lei nie elke skepsel in die besonder nie Die mens kan dus na eie vrye wil hierheen of daarheen gaan, dit of dat doen. So verdeel hulle die bestuur tussen God en die mens. God gee dan die krag, maar die mens lei sy handelinge soos hy wil. Ek swyg nou maar oor hulle wat praat van ‘n werklose God, en van die ander wat beweer dat God bo in die hemel so heers dat Hy die dinge op aarde aan die toeval oorlaat. Wat is bestuur anders as om alles te regeer volgens vasgestelde orde? Ek verwerp nie die leer van die algemene voorsienigheid nie, as hulle maar dit toestem dat God ook vir elkeen van sy werke ‘n besonderse sorg dra. Mens moet jou daaroor verwonder dat ‘n leerstuk wat deur sulke duidelike getuienisse van die Skrif bewys word, in twyfel getrek word. Hulle word self ook gedwing om te erken dat baie dinge geskied {94} deur ‘n buitengewone sorg van God. Hulle doen egter verkeerd as hulle dit net tot besondere handelinge beperk.
5. As ons sou toegee dat die begin van die beweging in God se mag geleë is maar dat verder alles vanself en by toeval gebeur, waarheen die natuur dit ook dryf, sal die afwisseling van die dae en nagte, van somer en winter, wel God se werk wees. Hy sou dan aan elkeen ‘n vaste wet voorgeskryf het, en dan sou die dae wat op die nagte volg, en die maande wat op die maande volg, dieselfde maat moet hê. Maar dit sou dan nie God se werk wees as die droogte al die vrugte verskroei of ontydige reën die gesaaides verniel nie, Op hierdie manier word daar vir God se vaderlike guns of vir sy oordele geen plek gelaat nie. Die vrugbaarheid van die een jaar sou dan nie ‘n besondere weldaad van God wees nie. En die skaarste en die honger van die ander een nie ‘n vloek en straf nie. Wat hierdie saak betref, is die gesag van God vir ons voldoende. In sy wet en in die profete sê Hy meermale dat Hy sy guns bewys as Hy die aarde met reën deurweek en dat dit ‘n teken van sy besondere wraak is as die hemel, op sy bevel, hard word soos yster en die gesaaides deur allerhande rampe vernietig word. As ons dit aanvaar, is dit seker dat daar geen druppel reën val as God dit nie beveel nie. Dawid prys God se algemene voorsienigheid (Ps 147:9). Maar dit is kinderagtig om dit net tot sekere handelinge te beperk. Christus maak ook geen uitsondering nie. Hy sê (Mat 10:29) dat geen mossie op die aarde val sonder die wil van die Vader nie. God woon dus so in die hoogte dat Hy Hom neerbuig om te sien wat op die hemel en op die aarde gebeur (Ps 113:5-6).
6. Ons weet dat die wêreld geskape is ter wille van die mens. Daarom moet ons ook by die bestuur daarvan hierdie doel voor oë hou. Die profeet Jeremia sê (10:23): “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie”. En Salomo sê (Spr 20:24): “Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af; hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?” Die profeet en Salomo skryf dus nie net die mag nie maar ook die keuse en die beskikking aan God toe. Die ligsinnigheid van hierdie mense hekel Salomo op ‘n ander plek, as hy sê (Spr 16:1): “Die planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die HERE”. Dit is dwaasheid dat mense sal besluit om iets sonder God te doen, as hulleself nie eers kan spreek behalwe wat Hy wil nie Om te bewys dat niks in die wêreld gebeur wat God nie beskik nie, toon die Skrif aan dat selfs die dinge wat die meeste na toeval lyk, aan God onderworpe is. Dit sou na toeval lyk as ‘n verbyganger gedood word deur ‘n tak wat van ‘n boom val. Maar God sê (Ex 21:13) dat {95} Hy die man oorgegee het in die hand van die een wat hom doodslaan. Dit geld selfs van die Iot. Dit lyk na toeval. Tog sê die Skrif (Spr 16:33) dat elke beslissing daarvan van die HERE kom (vgl. verder Ps 75:7). God kan sy amp as Regter nie aflê nie. Deur sy verborge raad blink sommige mense uit en ander bly veragtelik.
7. Ook afsonderlike gebeurtenisse getuig van God se besondere voorsienigheid. God het deur ‘n wind in die woestyn vir sy volk ‘n menigte van voëls as voedsel laat aanbring (Num 11:31; vgl. ook Jona 1:4,6). As dit nie so was dat die wind op sy bevel waai nie, sou dit nie waar wees wat die digter in Ps 104:4 sê nie (vgl. ook Ps 107:25 e.v.). God wek die stormwind op, en Hy laat die storm bedaar. So verkondig Hy ook elders (Jer 4:11; Eseg 19:12) dat Hy die volk deur verskroeiende winde gegesel het. Dit is ook ‘n bewys van sy besondere genade as Hy sommige mense met kinders seën en ander kinderloos laat (vgl. ook Gen 30:2). Verder, brood is ‘n natuurlike voedingsmiddel. Tog verklaar die Heilige Gees (Deut 8:3) nie net dat wat uit die aarde voortkom, God se besondere gawe is nie maar ook dat die mense nie van brood alleen lewe nie. Dit is nie die versadiging nie maar God se verborge seën wat ons laat welvaar. Aan die ander kant dreig Hy ook dat Hy die stut van die brood sal breek (Jes 3:1). Ons sou ook nie bid vir ons daaglikse brood as God ons nie die spys met sy vaderhand verskaf nie (vgl. ook verder Ps 136:25; Ps 34:16-17). Daaruit blyk dat die algemene voorsienigheid van God nie net dien tot instandhouding van die hele natuurorde nie maar dat dit ook vir ‘n bepaalde doel aangewend word, soos Hy in sy raad bepaal het.
8. Hulle wat hierdie leer in ‘n slegte daglig wil stel, sê ten onregte dat dit die leerstuk van die Stoïsyne oor die noodlot is. Ons sê dat God Regter en Bestuurder is van alles. Hy het van alle ewigheid af besluit wat Hy sal doen. Deur sy mag voer Hy nou sy besluit uit. Daarom beweer ons dat nie net hemel en aarde nie maar ook die planne en die wil van die mense so bestuur word dat hulle die doel dien wat deur God se voorsienigheid bepaal is. Gebeur daar dan niks by toeval of sommer nie? Ek antwoord dat geluk en toeval heidense woorde is, want as alle voorspoed ‘n seën van God is en teëspoed sy vloek, bly daar geen plek vir die toeval oor nie. Augustinus sê dat toeval niks anders is nie as iets waarvan die oorsaak vir ons verborge is. Hy sê ook dat hy die woord gebruik het maar dat hy spyt is dat hy dit gedoen het en stel as beginsel dat niks ongerymder kan wees nie as dat iets sou gebeur sonder dat God dit verorden het. Ons mag ook nie na die oorsaak van God se wil soek nie. As ons spreek van toelating, bedoel ons nie dat God werkloos toeskou nie maar dat Hy werkdadig wil. {96}
9. As ons sê dat iets toevallig is, bedoel ons daarmee iets wat deur die menslike insig nie gevat word nie maar wat tog vas en seker uit God se wil voortkom. Iemand dwaal byvoorbeeld in ‘n bos van sy geselskap af, beland tussen rowers en word vermoor. God het nie net sy dood voorsien nie maar dit ook so bepaal. Maar vir ons lyk dit na toeval. Wat moet ‘n Christen hiervan dink? Hy sal oordeel dat alles wat by sodanige dood plaasgevind het, in sy aard toevallig is, maar hy sal nie daaraan twyfel dat alles so onder God se voorsienige bestel plaasgevind het nie. So is dit ook met toekomstige gebeurlikhede. Hulle is vir ons onseker, maar ons glo dat niks sal gebeur wat God nie voorsien het nie. Met ‘n voorbeeld sal ons duidelik maak hoe God die uitkoms van ‘n saak buig in die rigting wat Hy wil. Toe Dawid in die woestyn van Maon byna in die hande van Saul geval het, het die Filistyne ‘n inval in die land gedoen en was Saul genoodsaak om weg te trek (1 Sam 23:26-27). Ons sal nie sê dat die Filistyne by toeval ‘n inval gemaak het nie maar erken dat God hulle aangedryf het. So ‘n oorsaak is nie altyd aanwysbaar nie, maar ons bely dat alle veranderinge in die wêreld voortkom uit die verborge werking van God se hand. Ondertussen is dit noodsaaklik dat wat God bepaal het, so sal gebeur dat dit nie in volstrekte sin of na sy aard noodwendig is nie. Daarvan is die beendere van Christus ‘n bekende voorbeeld. God het die beendere van sy Seun aan breekbaarheid onderwerp maar het hulle aan die gebreek-word onttrek. Wat van nature kon gebeur, het Hy gebind aan die noodsaaklikheid van sy raad.
HOOFSTUK XVII. Waarheen en op watter doel hierdie leer gerig moet word sodat dit vir ons nuttig sal wees
1. Almal wat nie die goeie en regte gebruik van hierdie leer ken nie, raak in allerhande strikke verwar. Daarom sal dit nuttig wees om kortliks te vermeld vir watter doel, volgens die Skrif, alles deur God bepaal is. In die eerste plek moet opgemerk word dat die voorsienigheid van God betrekking het op sowel die toekoms as op die verlede.
In die tweede plek dat alles so bestuur word dat God werk deur middels, dan weer sonder middels en dan weer teen alle middels in.
In die derde plek moet opgemerk word dat God toon dat die {97} hele menslike geslag voorwerp van sy sorg is maar dat Hy veral wag hou oor sy kerk.
Hieraan moet ons nog toevoeg dat die oorsake van die gebeurtenisse soms verborge is, sodat dit lyk asof die mense se sake deur ‘n blinde geluk beweeg word. As ons egter bereid is om te leer, sal die uitkoms bewys dat God goeie gronde vir sy raad het. Hy voed sy kinders op tot lydsaamheid. Hy verbeter hulle slegte neiginge. Hy leer hulle selfverloëning of skud hulle wakker uit hulle slaperigheid. Aan die ander kant werp Hy die trotsaards neer en verydel die raadslae van die goddelose. Hoewel die oorsake van God se handelinge vir ons verborge is, is ons verseker dat hulle by God verborge is. Van die blindgeborene sê Christus (Joh 9:3): “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word”. Die gevoel verset hom hierteen, maar Christus getuig dat hierin die heerlikheid van sy Vader skitter.
Verder moet ons beskeidenheid in ag neem en God nie wil dwing om rekenskap af te lê nie. Ons moet sy verborge oordele eerbiedig, en sy wil moet vir ons die allerregverdigste oorsaak van alles wees. As daar ‘n hewige donderstorm losbars, lyk dit vir ons of alles vergaan, maar intussen bly dit alles rustig in die hemel. So moet ons ook vasstel dat God in sy wysheid en regverdigheid al die beroeringe op aarde volgens ‘n vasgestelde orde na die regte einde lei. Dit is kranksinnigheid om die werke van God aan ons beoordeling te wil onderwerp en sy verborge raad te wil ondersoek.
2. Alleen hy wat bedink dat hy met sy Maker en met die Boumeester van die wêreld te doen het en hom ootmoedig en eerbiedig onderwerp, sal die voorsienigheid van God behoorlik tot sy nut oordink. Baie raas teen hierdie leer, omdat hulle nie wil hê dat vir God meer geoorloof moet wees as wat hulle met hulle verstand kan vat nie. Hulle spreek ons ook teë en sê dat ons beweer dat die wêreld deur die verborge raad van God bestuur word, net omdat ons nie met die gebooie van die wet tevrede is nie. Net so asof die Heilige Gees nie oral uitdruklik dieselfde leer nie! Maar laat hulle dan antwoord gee op die vraag waarom die Skrif sê dat die oordele van God ‘n groot watervloed is (Ps 36:7). Die wonderbare wyse waarop God die wêreld bestuur, word met reg ‘n watervloed genoem, omdat ons dit eerbiedig moet aanbid (vgl. ook Deut 29:29; Job 26:14; Job 28:21,28). Omdat God vir Homself die reg voorbehou om die wêreld te regeer, moet dit ons ingetoë en beskeie in sy oppergesag laat berus. Sy wil moet vir ons die enigste reël van regverdigheid en die regverdigste oorsaak van alle dinge wees.
3. Almal wat so beskeie is, sal oor die teëspoede van die {98} verlede nie teen God murmureer en die skuld vir hulle bose dade nie op Hom gooi nie, maar hulle sal uit die Skrif ondersoek en leer wat God welgevallig is, om dit onder leiding van die Heilige Gees na te streef. Hulle sal ook bereid wees om God te volg waarheen Hy hulle ook mag roep. Onheilige mense spreek sothede. Hulle sê: As die Here die oomblik van onse dood vasgestel het, kan ons nie daaraan ontkom nie. Dit is dus vergeefse moeite om op jou hoede te wees. Al die voorsorgmaatreëls sou dan òf doellose middels wees om God se wil te verander, òf anders word lewe en dood, gesondheid en siekte, vrede en oorlog nie deur ‘n vaste besluit van God bepaal nie. Hulle kom selfs tot die gevolgtrekking dat die gebede van die gelowiges verkeerd of selfs oorbodig is, omdat gevra word dat God sal sorg vir wat Hy alreeds van ewigheid af besluit het. Hulle neem dus alle besluite wat vir die toekoms geneem word, weg, net so asof hulle indruis teen die voorsienigheid van God. En wat die verlede betref, skryf hulle alles so toe aan die voorsienigheid van God dat hulle die skuld van die mens deur die vingers sien. As ‘n sluipmoordenaar ‘n goeie burger doodgemaak het, het hy God se raad uitgevoer, sê hulle. Hy kon nie teen God ingaan, wat dit van ewigheid af so bepaal het nie. So word van skandelike dade deugde gemaak, omdat hulle dan sg. gehoorsaamheid sou wees aan wat God bepaal het.
4. Salomo versoen maklik die menslike oorwegings met God se voorsienigheid wat die toekoms betref: “Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die HERE rig sy voetstappe”, sê hy in Spr 16:9. Daarmee gee hy te kenne dat ons deur die ewige besluite van God nie in die minste verhinder word om onder sy wil vir onsself te sorg en al ons sake te reël nie. Want Hy wat ons lewe binne bepaalde grense afgebaken het, het tewens die sorg daarvoor aan ons toevertrou. Hy het ons voorsien van die middels om dit te bewaar. Hy het ook gemaak dat ons gevare kan sien aankom en het voorsorgmaatreëls tot ons beskikking gestel. Ons plig is dus duidelik. As God ons die lewe gegee het om te beskerm, moet ons dit beskerm. As Hy ons die middels aanbied, moet ons dit ook gebruik. As Hy ons gevare laat voorsien, moet ons ons nie roekeloos daarin stort nie. As Hy geneesmiddels verskaf, moet ons hulle nie verag nie. Maar hulle sê dat alleen ‘n dodelike gevaar werklik ‘n gevaar is, en daaraan kan ons nie ontkom nie. Die Here egter gebied ons behoedsaamheid, omdat Hy nie wil hê dat dit vir ons ‘n dodelike gevaar sal wees nie. Die dwase bedink nie dat God ons die gawes van oorleg en behoedsaamheid gegee het nie, sodat ons in die bewaking van ons eie lewe sy voorsienigheid sal dien. Daarom het God ook die toekoms vir ons verborge gehou, sodat ons die middels sal gebruik wat vir ons voor die hand lê. {99}
5. Dieselfde mense skryf ook verkeerdelik die gebeurtenisse van die verlede bloot aan die voorsienigheid van God toe. Daar word geen diefstal of moord gepleeg nie, sê hulle, of God se wil is daarin werksaam. Waarom sal ‘n dief gestraf word, sê hulle, wat iemand beroof wat die Here met armoede wil kasty? Maar ek ontken dat hulle God se wil dien. Ons kan nie sê nie dat iemand op God se bevel Hom ‘n diens bewys as hy net ‘n sondige begeerte gehoorsaam nie. Alleen hy gehoorsaam God wat deur sy wil onderwys is en streef om te volbring wat God se wil van Hom vorder. Ons word egter uit Gods Woord onderwys wat sy wil is. God vra net dit van ons wat Hy ons leer. As ons iets teen sy gebod doen, is dit geen gehoorsaamheid nie maar hardnekkigheid en oortreding. Maar hulle sê: As God dit nie gewil het nie, sou ons dit nie gedoen het nie. Ek erken dit. Maar doen ons die kwaad met die bedoeling om Hom gehoorsaam te wees? Hy gebied dit ons geheel en al nie, maar ons stort ons met voorbedagte rade daarin en bedink nie wat Hy van ons wil nie. Kyk nou hoe dwaas redeneer hulle. Hulle wil hê dat die misdade ongestraf moet bly, omdat hulle net onder die beskikking van God bedryf word. Ek gee nog meer toe, nl. dat diewe en ander kwaaddoeners werktuie is van die goddelike voorsienigheid, wat die Here self gebruik om sy oordele uit te voer. Maar ek ontken dat hulle booshede verontskuldig mag word. Sal hulle hulle sonde bedek met God se regverdigheid? Of God betrek in hulle eie ongeregtigheid? Hulle word deur hulle eie gewete beskuldig, sodat hulle hulleself nie kan vry pleit nie. Hulle tref die kwaad in hulleself aan, sodat hulle God nie kan beskuldig nie. By God vind hulle niks anders as ‘n wettige gebruik van hulle boosheid nie. Maar, so werp hulle teë, Hy werk deur middel van hulle. Vanwaar, vra ek, kom die stank in ‘n lyk anders as deur die strale van die son? Tog sal niemand durf beweer dat die sonstrale stink nie. So gebruik God die diens van die boosdoener sonder om self besoedel te word.
6. Al hierdie lasteringe word tot niet gemaak deur ‘n godvrugtige oordenking. ‘n Christen wat vas oortuig is daarvan dat alles deur die beskikking van God gebeur en dat niks by toeval plaasvind nie, sal altyd op Hom die oë gevestig hou. Maar hy sal ook let op die mindere oorsake. Hy sal nie daaraan twyfel dat die besondere voorsienigheid van God hom beskerm nie en alleen sal laat geskied wat hom ten goede kom en tot heil is. Hy sal ook daarmee rekening hou dat God se voorsienigheid oor mense en oor die orige skepsels gaan. Wat die mense betref, sal hy erken dat hulle planne en pogings in God se hand is; dat Hy dit buig waarheen Hy wil en dit inbind so dikwels as Hy wil. Daar is baie en duidelike beloftes dat die besondere voorsienigheid van God oor {100} die heil van die gelowiges waak. So sê die digter: “Werp jou sorg op die HERE, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Ps 55:23). Vergelyk ook 1 Petr 5:7; Ps 91:1; Sag 2:8; Jes 49:15. Ja, dit is selfs die vernaamste doel van die Bybelse geskiedenisse dat hulle leer dat die weë van die heiliges so naarstiglik deur God bewaak word dat hulle selfs nie hulle voet teen ‘n klip stamp nie. Ons moet hierdie besondere sorg van God altyd voor die gees hou (vgl. Mat 10:29 e.v.). Op verskillende maniere toon Hy sy vaderlike sorg vir elkeen van ons afsonderlik en vir sy kerk.
7. By hierdie beloftes sal ‘n dienskneg van God die getuienisse voeg wat leer dat alle mense onder God se mag staan. Dit is die Here wat ons genade skenk, nie net by hulle wat ons goedgesind is nie, maar ook in die oë van die Egiptenaars. Hy weet om die boosheid van ons vyande op verskillende maniere te verbreek. Soms ontneem Hy hulle die verstand, soos Hy Satan stuur om ‘n leuen-gees in die mond van Agab se profete te wees. Rehabeam verdwaas Hy deur die raad van die jongmanne, sodat hy deur sy eie dwaasheid van die koninkryk beroof word (1 Kon 12:10,15; vgl. ook 2 Sam 17:7,14). So bestuur Hy al die skepsels, ook die duiwel self, tot nut en saligheid van sy eiendom. Vrug van hierdie kennis is dankbaarheid in voorspoed, geduld in teëspoed en vir die toekoms ‘n ongelooflike onbekommerdheid. Die gelowige redeneer by homself: “Voorwaar, dit is die Here wat die harte van die mense tot my geneig het, om werktuie te wees van sy goedertierenheid jeens my”. As daar oorvloed op die akker is, sal hy bedink dat dit die Here is wat die hemel verhoor het, sodat die hemel die aarde sal verhoor om die rykdom van vrugte aan hom te gee.
8. As teëspoed hom oorval, sal hy dadelik sy gees ophef tot God, wat magtig is om ons lydsaamheid te gee. As Josef maar net die troueloosheid van sy broers gesien het, sou hy nooit vir hulle goed gewees het nie. Maar hy het sy hart op God gerig, die onreg vergeet, sagmoedig opgetree en hulle selfs getroos (Gen 45:7-8 en Gen 50:20; vgl. ook Job 1:21; 2 Sam 16:10; Ps 39:10). Die mens het baie vordering gemaak wat soos volg kan dink: “Die Here het dit gewil, daarom moet ek dit dra; nie alleen omdat ek my nie mag verset nie maar ook omdat Hy niks anders wil as wat regverdig en heilsaam is nie”. Die hoofsaak kom hierop neer dat ons ons hart op God sal rig as mense ons kwaad aandoen, en bedink dat deur sy regverdige beskikking alles toegelaat en na ons gestuur is wat die vyand misdadig teenoor ons bedrywe het. So oefen God ons in die lydsaamheid. As rampe en ellende ons druk, laat ons ons dan die woorde van die wet herinner (Deut 28:2 e.v.) dat alle voorspoed uit die bron van God se seëning {101} vloei; dat alle teëspoede sy vervloekinge is. En laat ons skrik vir die woord uit Lev 26:23; vgl. ook Jes 4:7 [3]; Amos 3:6.
9. ‘n Gelowige mens sal sy oë nie vir ondergeskikte oorsake sluit nie. As hy van iemand ‘n weldaad ontvang, sal hy hom reken as ‘n dienaar van God se goedheid. Daarom sal hy hom nie verbygaan nie maar dit as sy plig gevoel en ook sy bes doen om hom sy dank te vergelde. Hy sal God eer en Hom prys as die vernaamste Skenker van die weldade, maar hy sal die mense eer as God se dienaars aan wie hy dank verskuldig is. As hy of sy naaste deur onbedagsaamheid ‘n verlies gely het, sal hy erken dat dit geskied onder God se wil, maar hy sal dit ook homself toereken. Dit was sy nalatigheid. Hy sal hom nie verontskuldig onder die voorwendsel dat dit God se voorsienigheid was nie.
Maar veral met betrekking tot die toekoms sal hy rekening hou met mindere oorsake. En hoewel hy onseker is wat die afloop sal wees van die sake wat hy onderneem, sal hy tog ywerig gebruik maak van die dinge wat vir hom nuttig lyk. Verder sal hy hom nie net deur sy eie sin laat lei nie maar hom toevertrou aan die wysheid van God, sodat hy daardeur die regte doel sal bereik. Hy sal nie net op uiterlike middels steun nie maar ook vashou aan God se voorsienigheid So het Joab erken dat die afloop van die stryd by God berus, maar intussen sy roeping volbring: “Wees sterk en laat ons ons sterk hou vir ons volk en vir die stede van onse God. Mag die HERE dan doen wat goed is in sy oë” (2 Sam 10:12). Hierdie kennis laat ons God aanroep en moedig die gevare verag.
10. Hierin word die onwaardeerbare geluk van ‘n gelowige openbaar. Die menslike lewe word deur baie rampe en met die dood bedreig. Om by onsself te begin: Ons liggaam is ‘n vergaderplek van duisend siektes, ons dra die oorsake van siektes in ons om. Die mens kan hom nie beweeg nie of hy dra sy verderf met hom saam en lei ‘n lewe wat met die dood verbind is. Hy word bedreig deur tallose gevare op die skip, op straat, in die huis, in die tuin. Sy saailand is blootgestel aan verwoesting deur die haelweer, deur ryp en droogtes en bedreig hom met onvrugbaarheid en as gevolg daarvan met hongersnood. Dan spreek ek nog nie eers van plunderinge, vergiftiging en openlike geweld nie. Is die lewe van die mens nie baie ellendig nie? Dit is net asof ‘n swaard altyd dreigend bokant sy kop hang. U sal sê dat al die dinge selde gebeur en ook nie al die mense oorkom nie. Ek stem dit toe, maar deur die voorbeeld van ander word ons daaraan herinner dat dit ons ook kan oorkom. Ons lewe dus in ‘n gedurige angs. Dit is godslastering om te sê dat God die mens blootgestel het aan alle moontlike slae van die geluk. Ek wil egter net aantoon hoe ellendig die mens sou gewees het as die geluk oor hom geheers het. {102}
11. Maar as die lig van die goddelike voorsienigheid ons eenmaal bestraal het, word ons nie net van die angs en vrees verlos nie maar van elke sorg. Ons wat huiwer vir die geluk, kan ons onbekommerd aan God toevertrou. Dit is die troos van ‘n gelowige dat hy insien dat die hemelse Vader alles in sy mag het en alles so regeer dat niks voorval wat Hy nie beskik nie. Verder dat hy so in God se troue hoede opgeneem is dat hy nie deur enige skade getref kan word as dit God nie behaag nie (vgl. Ps 91). Daarom kan die heiliges ook roem: “Die Here is my helper, ek sal nie vrees nie” (Ps 118:6; Ps 27:3; Ps 56:5). Hierdie gerustheid kan hulle nooit ontneem word nie, omdat hulle weet dat die Here oral werksaam is en hulle kan vertrou dat sy werk vir hulle heilsaam sal wees. As hulle deur die duiwel of sondige mense aangeval word, sal hulle dadelik beswyk as hulle nie deur die oordenking van Gods voorsienigheid versterk word nie. As hulle daaraan dink dat die duiwel en al die goddelose mense deur God in alle opsigte so in toom gehou word dat hulle geen enkele misdaad teen ons kan beraam of onderneem of dit volbring as God dit nie beveel nie, dan het hulle baie stof om hulle te troos. Want net soos dit die werk van die Here is om hulle woede te wapen en te stuur waarheen Hy wil, so is dit ook sy werk om vir hulle die maat en die grens vas te stel. Dawid sê (Ps 31:16) dat sy tye in God se hand is. Hy kon ook gesê het sy lewensloop. Maar deur die woord tye wil hy uitdruk dat al die wisselinge van die lewe deur God bestuur word.
Resin en die koning van Israel word deur die profeet rokende stukke brandhout genoem wat maar net ‘n bietjie rook kan afgee. Farao word vergelyk met ‘n seemonster en sy magte met visse wat God met ‘n haak optrek (Eseg 29:4). Ons kan dus maklik insien dat dit die toppunt van ellende is om nie God se voorsienigheid te bely nie en dat dit die hoogste geluk is om dit te ken.
12. Oor die voorsienigheid van God sou ons genoeg gesê het as daar nie plekke was wat daarop skyn te wys dat God se raad nie vas en bestendig is nie maar veranderlik. In die eerste plek word daar soms melding gemaak van God se berou (Gen 6:6; 1 Sam 15:11; Jer 18:18 e.a. plekke) Hierdie plekke is vir baie ‘n bewys vir die opvatting dat God nie deur ‘n ewige besluit die sake van die mense vasgestel het nie maar dat Hy, volgens die mens se verdienste, elke dag en elke uur dit of dat vasstel. Wat die woord berou betref, moet ons vasstel dat dit net so min soos onwetendheid of onmag by God aanwesig kan wees. Ons kan aan Hom geen berou toeskryf sonder om te sê dat Hy die toekoms nie ken nie of daaraan nie kan ontkom nie of onbedagsaam besluite neem. Maar God is nie ‘n mens dat iets Hom sal berou nie (1 Sam 15:29). Dit is ‘n figuurlike uitdrukking. In dieselfde hoofstuk waar {103} God sê dat dit Hom berou het dat Hy Saul koning oor Israel gemaak het (1 Sam 15:11) sê Samuel dit: “En ook lieg die Roem van Israel nie en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens dat Hy berou sou hê nie” (vs. 29). Met hierdie woorde word openlik die onveranderlikheid van God verseker. Dit is daarom seker dat wat God verorden het, ewig is en bokant alle berou verhewe. Dit getuig Bileam ook (Num 23:19).
13. Wat bedoel die woord berou dan? Dit is ‘n mensvormige spreekwyse oor God. Hy spreek ‘n taal wat ons kan verstaan. Die woord dui ‘n verandering van sy dade aan en nie ‘n verandering in Homself nie. Sy raadsplan en sy wil verander nie. Hy gaan in een lyn deur met wat Hy van ewigheid af voorsien, goedgekeur en besluit het, al lyk dit ook vir ons mense of daar ‘n onverwagte verandering plaasvind.
14. As die Heilige Skrif verhaal dat Ninevé nie ondergegaan het nie en dat Hiskia se lewe verleng is, bedoel dit nie dat die besluite van God tot niet gemaak is nie Die wat dit so opvat, verstaan dit nie reg nie. Waarom het die Here Jona na die Nineviete gestuur? Omdat Hy nie gewil het dat hulle sou omkom nie maar hulle hulle sou bekeer. Deur dergelike bedreiginge wil God die mens opwek tot bekering, sodat hy aan die oordeel sal ontkom wat hy deur sy sonde verdien het. Die blote bedreiging sluit dus ‘n stilswyende voorwaarde in. Dieselfde geld ook in die geval van koning Abimeleg (Gen 20:3,7). Die wat God wil spaar, bring Hy tot bekering deur straf aan te kondig. Die woord van Jesaja 14:27 bly ewig waar: “Die HERE van die leërskare het dit besluit — wie sal dit kan verydel? En sy hand is uitgestrek — wie sal dit kan afkeer?”
HOOFSTUK XVIII. God gebruik die diens van die goddelose en neig hulle gemoed om sy oordele uit te voer, maar Hyself bly rein van elke smet
1. Moeiliker is die plekke waar gesê word dat God Satan self en al die verworpenes na sy goeddunke gebruik. Want hoedat Hy nie deur hulle misdaad besmet word nie wanneer Hy deur hulle handel en vry van alle skuld bly en hulle tog regverdig veroordeel, kan die verstand van die mens nouliks begryp. Omdat hierdie knoop {104} onontwarbaar lyk, het baie die onderskeiding uitgevind tussen doen en toelaat Dit lyk ongerymd dat ‘n mens met die wil en op bevel van God verblind word en dat hy terstond vir sy blindheid gestraf word. Hulle gebruik dus hierdie uitvlug, dat dit geskied onder God se toelating maar nie met sy wil nie. Maar God spreek openlik uit dat Hy dit doen. Dit word deur baie en duidelike getuienisse bewys. Wat ons tevore uit Ps 115:3 aangehaal het, dat God alles doen wat Hy wil, het tog seker betrekking op al die handelinge van die mense. As God die Beskikker is van oorlog en vrede, wie sal dan durf sê dat die mense deur ‘n blinde beweging voortgedryf word, sonder dat Hy dit weet of Hom daarmee bemoei? Laat enkele voorbeelde dit toelig. Uit die eerste hoofstuk van Job weet ons dat Satan hom voor God stel om sy bevele te ontvang, net soos die goeie engele wat uit eie beweging gehoorsaam. Hy doen dit op ‘n ander manier en met ‘n ander bedoeling. Tog is dit duidelik dat hy niks kan doen wat God nie wil nie. En al lyk dit of daar net van ‘n blote toelating gespreek word, maak ons tog uit die woorde van Job op (Job 1:21) dat God die Bewerker was van die beproewing waarvan Satan en die misdadige rowers die dienaars was. Job erken dat hy deur God beroof is van al sy rykdomme en dat hy arm geword het, omdat dit God so behaag het. Wat die mense of Satan self ook mag doen, God hou die roer in hande (vgl. 1 Kon 22:20 e.v.). Die Jode het hulle voorgeneem om Christus te verdelg. Pilatus en die soldate was op hulle hand. En tog erken die dissipels in hulle gebed dat al die goddelose niks anders gedoen het as wat die hand en die raad van God besluit het nie (Hand 4:28). So het Petrus ook reeds verkondig dat Christus deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgegee was om doodgemaak te word (Hand 2:23; vgl. verder 2 Sam 16:22 met 2 Sam 12:12). God noem die Assiriër die roede van sy toorn en die byl waarmee Hy kap (Jes 5:26; Jes 10:5). Die val van die heilige stad en die verwoesting van die tempel noem Hy sy werk. Uit dit alles blyk duidelik hoe dwaas dit is om te praat van toelating in plaas van God se voorsienigheid, asof sy besluite van die mense se dade afhanklik was.
2. Salomo sê (Spr 21:1): “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome; Hy lei dit waarheen Hy wil” Dit geld seker van die hele menslike geslag. Alles wat ons in ons hart voorneem, word deur God se verborge ingewing tot sy doel gelei. As God nie in die hart van die mens werk nie, sou nie gesê kon word dat Hy wysheid van die oudstes wegneem of dat Hy die hart van die vorste van die aarde wegneem nie. Ons kan geen duideliker uitspraak verlang as dit nie, dat God sê dat Hy die harte van die mense verduister en hulle harte verhard (Rom 1:21). {105} Baie skryf dit toe aan die toelating van God. Hy sou dan die verworpenes verlaat, sodat hulle deur Satan verblind kan word. Maar die Heilige Gees sê uitdruklik dat die verblinding die regverdige oordeel van God is. Vergelyk wat die Skrif oor die verharding van Farao se hart sê (Ex 4:21), vergelyk ook Ps 105:25. So sê God ook deur Jesaja 10:6 dat Hy die Assiriërs teen die huigelagtige volk sal stuur en hulle bevel sal gee om te roof en te plunder. Hy buig hulle dus om sy oordele uit te voer. Dikwels werk God in die verworpenes deur die diens van Satan maar so dat Satan sy werk verrig net vir sover dit hom gegee is. ‘n Bose gees het Saul verskrik, maar die Skrif sê dat hy deur die Here gestuur is (1 Sam 16:14). Vergelyk ook die baie sterk uitsprake in Eseg 14:9; Rom 1:28. Die hoofsaak is dit: as gesê word dat die wil van God die oorsaak van alles is, bestuur sy voorsienigheid al die planne en werke van die mense sodat dit kragtig werk in die uitverkorenes wat deur die Heilige Gees gelei word, maar ook die verworpenes tot gehoorsaamheid dwing.
3. Daar was altyd goddelose mense wat hierdie leerstuk verwerp het. Hulle eerste teëwerping is dat as niks sonder die wil van God gebeur nie, daar in Hom twee teenstrydige wille is. Hy sou dan in sy verborge raad besluit wat Hy in sy wet openlik verbied het. Dit kan egter maklik weerlê word. Die Heilige Gees lê hierdie woorde in die mond van Job: “Soos dit God behaag het, so het dit gebeur”. Toe hy deur rowers geplunder is, het hy in hulle onregverdige daad die regverdige roede van God erken. God getuig dat Hy lig en duisternis skep, die goeie en die kwaad formeer (Jes 45:7), dat daar geen kwaad geskied wat Hy nié gedoen het nie (Amos 3:6). Is dit blote toelating, of voer God sy oordele met sy wil uit? So sê die hele kerk by Lukas (Hand 4:28) dat Herodes en Pilatus saamgespan het om te doen wat God se hand en raad besluit het. As Christus nie deur God se wil gekruisig was nie, waarvandaan sou dan vir ons die verlossing kom? Maar daarom is God nie in stryd met Homself nie. Ook word sy wil nie verander nie. Hy veins ook nie dat Hy nie wil wat Hy wel wil nie. Sy wil wat een is, lyk vir ons soms veelvoudig. Omdat ons verstand swak is, begryp ons nie hoe Hy aangaande ‘n sekere saak op verskillende wyse wil en nie wil dat dit geskied nie. Of moet ons aanneem dat daar by God verandering is? Dat Hy sy raad sou verander? Daarom sal alle vrome en beskeie mense berus in hierdie woorde van Augustinus, dat die mens soms deur ‘n goeie wil iets wil wat God nie wil nie, bv. ‘n goeie seun wil dat sy vader sal lewe, maar God wil dat hy sal sterf Aan die ander kant kan ‘n mens deur ‘n slegte wil dieselfde wil wat God wil deur ‘n goeie wil, bv. ‘n slegte seun wil dat sy vader sal sterf en God {106} wil dit ook. Die eerste een wil dus wat God nie wil nie, maar die laaste een wil wat God ook wil. En tog stem die vroomheid van die eerste eerder met die goeie wil van God ooreen as die goddeloosheid van die laaste, wat dieselfde wil as God.
4. So word ook die ander teëwerping uit die weg geruim. Hulle sê as God die diens van die goddelose mense gebruik en hulle planne bestuur, is Hy die Bewerker van die kwaad. En dan word die mense onregverdig veroordeel as hulle uitvoer wat God besluit het, omdat hulle sy wil gehoorsaam. Verkeerdelik word hier die wil vermeng met die gebod, terwyl die twee van mekaar verskil. Want toe Absalom gemeenskap gehad het met die vroue van sy vader (2 Sam 16:22), het God daardeur die owerspel van Dawid gestraf, maar Hy het hom nie beveel om bloedskande te pleeg nie. Dit moet ons weet dat, as God deur middel van die goddelose volbring wat Hy in sy verborge raad besluit het, hulle nie te verontskuldig is asof hulle sy gebod gehoorsaam het nie. Hiervan is die verkiesing van koning Jerobeam ‘n goeie voorbeeld. Die volk kon nie van die huis van Dawid afvallig word sonder om te sondig nie. Aan die ander kant kan aan God nie die vryheid ontneem word om die ondankbaarheid van Salomo só te straf nie. Ons sien dus dat God op regverdige wyse tot ‘n ander doel die afval wil, hoewel Hy die troueloosheid nie wil nie. Die lesers moet twee dinge opmerk. Dit het God behaag dat die volk deur die hand van een koning geregeer sou word. Dit het teen God se wil geskied dat dit in twee dele verskeur is. Tog het die skeuring uit dieselfde wil sy begin gehad. Teen God se wil is die heilige eenheid verskeur. En tog met sy wil is die tien stamme van Rehabeam afgeskeur. Ek het reeds vantevore duidelik uiteengesit hoe, in eenselfde werk, die skuld van die mens asook die regverdigheid van God openbaar word. As iemand nog beswaar het, laat hom dan dink aan die woorde van Augustinus: “Wie sal nie sidder by die oordele wanneer God ook in die harte van die slegte mense werk wat Hy wil nie, hoewel Hy hulle tog na hulle verdienstes vergeld”. God vra wat die mens wou doen, om hom daarvolgens te oordeel. Daar is seker diegene vir wie dit hard lyk. Laat hulle egter bedink dat hulle eiesinnigheid ook nie verdra kan word nie, omdat hulle ‘n saak afwys wat deur ‘n duidelike getuienis van die Skrif bevestig word, net omdat dit hulle verstand te bowe gaan. Ons wysheid moet dit wees dat ons ootmoedig en leersaam alles aanvaar wat die Heilige Skrif ons leer. {107}
{108}
TWEEDE BOEK: Die kennis van God, die Verlosser in Christus, wat eers aan die vaders onder die wet, daarna aan ons in die Evangelie geopenbaar is
{109}
{110}
HOOFSTUK I. Deur die val en afwyking van Adam is die hele menslike geslag aan die vloek onderworpe en van sy eerste oorsprong ontaard. Die erfsonde
1. Selfkennis is noodsaaklik. Maar ons moet oppas dat ons dit nie verkeerd gebruik nie, soos sommige wysgere doen. As hulle die mens opwek om homself te ken, bedoel hulle daarmee dat hy sal weet hoe waardig en voortreflik hy is. Met ander woorde, hy moet homself vertrou en hoogmoedig wees. Maar as ons van selfkennis praat, bedoel ons iets anders, nl. dat ons sal weet hoe voortreflik ons natuur sou gewees het as dit ongeskonde gebly het. Vervolgens moet ons bedink ons jammerlike toestand na die val van Adam. Dit vervul ons met skaamte en laat ons ons verootmoedig. Hieruit ontstaan ‘n mishaging van onsself en ware ootmoedigheid. Tewens word ons opgewek om God te soek, in wie elkeen die goedere weer kan herwin wat ons geheel en al verloor het.
2. Die waarheid van God eis dus van ons ‘n kennis wat alle vertroue op onsself wegneem, wat ons geen rede gee om te roem nie en wat ons nederig maak. Dit is vir die sondige natuur nie aangenaam nie. Die mens wil deur vleiery gestreel word. As hy daarom hoor dat sy gawes geprys word, luister hy graag. Maar daarom dwaal die mense ook so gruwelik. Die eieliefde maak hulle wys dat daar niks in hulle is wat gehaat moet word nie Dus word hierdie opvatting algemeen geglo dat die mens vir homself voldoende is om goed en gelukkig te lewe. En as daar dan nou nog woorde bykom wat sy trots streel, is dit vir hom baie aangenaam. Hulle wat die voortreflikheid van die menslike natuur prys, word in alle tye luid toegejuig. Hierdie aanprysing mislei egter en lei na die verderf. As iemand luister na sulke leermeesters wat ons net leer hoe ryk ons is, sal hy nie in die selfkennis vorder nie maar in die afgrond van onkunde beland.
3. Die tweede deel van die wysheid is dus in die kennis van onsself geleë. Daarin stem ons met die ongelowiges saam. Tog is daar ‘n groot verskil in die manier waarop die mens homself leer ken. Want hy meen dat hy homself uitnemend ondersoek het as hy op sy verstand en volmaaktheid vertrou en nou allerhande pligte van die deug doen. Maar wie homself by die lig van Gods Woord ondersoek, vind niks wat hom kan aanspoor om op homself te vertrou nie. Hoe dieper hy in sy selfondersoek gaan, des te meer word hy terneergeslaan, totdat hy naderhand van al sy selfvertroue {111} beroof is. En tog wil God nie hê dat ons die eerste adeldom sal vergeet wat Hy aan ons vader Adam gegee het nie. Dit moet ons juis opwek om na regverdigheid en goedheid te jaag. Want ons kan nie dink aan ons eerste oorsprong of aan die doel van ons skepping nie sonder om terselfdertyd na te dink oor die onsterflikheid en om Gods koninkryk te soek. Hierdie kennis maak ons nederig. Want wat is ons oorsprong? En wat is die doel van ons skepping? Dít wat ons weggegooi het. Die mens het dus niks waarop hy hoogmoedig kan vertrou nie. Ons verdeel die selfkennis dus so: in die eerste plek dat die mens sal leer wat sy plig is en in die tweede plek dat hy sal leer insien wat hy kan doen om daardie plig te volbring.
4. Wat was die sonde van Adam wat die vreeslike wraak van God oor die hele menslike geslag laat ontbrand het? Kinderagtig is die gedagte van die groot massa dat dit gulsigheid was. Ons moet die saak dieper beskou. Die verbod aangaande die boom van kennis van goed en kwaad was ‘n toets van Adam se gehoorsaamheid. Hy moes toon dat hy hom graag onder die heerskappy van God skik Dit was ‘n beproewing en oefening van sy geloof. Dit is dus nie moeilik om uit te maak deur watter sonde Adam die toorn van God opgewek het nie. Augustinus sê dat hovaardigheid die begin van die val was. Maar uit die hele verhaal blyk dit dat ongehoorsaamheid die begin was. So leer Paulus dit ook in Rom 5:19. Daarby moet ons opmerk dat die eerste mens van God se heerskappy afgeval het deurdat hy die waarheid verag het en hom tot die leuen geneig het. Daarom is ongeloof die wortel van die afval. Hieruit ontspruit eersug, hoogmoed, ondankbaarheid en alle ander sondes. Dit was die verbasende goddeloosheid dat dit vir die seun van die aarde te gering gelyk het om na die gelykenis van God geskape te wees, as dit nie gelykheid aan God beteken het nie. Adam sou hom nooit teen God se bevel verset het as hy nie aan sy Woord ongelowig geword het nie. So het hy dan, meegesleur deur die godslastering van die duiwel, die ganse heerlikheid van God wat in hom was, vernietig.
5. Die geestelike lewe van Adam het hierin bestaan dat hy aan sy Skepper verbonde gebly het. Vervreemding van Hom was die ondergang van sy siel. Deur sy afval het hy sy geslag te gronde gerig en ook die hele natuur aangetas (Rom 8:22). Nadat in hom die hemelse beeld verduister was, het hy as straf gedra dat in die plek van wysheid, mag, heiligheid, waarheid en regverdigheid daar nou gekom het blindheid, onmag, onreinheid, nietigheid en ongeregtigheid. En hy het ook sy nageslag in dieselfde ellende gedompel. Dit is die erflike verdorwenheid wat die vaders erfsonde genoem het. Oor hierdie saak was daar baie stryd, omdat dit so {112} onregverdig lyk dat deur die skuld van een almal skuldig word. Pelagius, byvoorbeeld, het geleer dat Adam net tot sy eie nadeel gesondig het maar geen skade aan sy nakomelinge toegebring het nie. Later het hy daaraan toegevoeg dat die sonde deur navolging en nie deur voortplanting nie van die een mens op die ander oorgaan. Regsinnige manne het egter geleer dat ons van moederskoot af ‘n aangebore verdorwenheid saambring. Dawid bely (Ps 51:7) dat sy verkeerdheid hom aangekleef het van sy geboorte af. Dit geld nie net van hom nie maar van die hele menslike geslag (vgl. Job 14:4).
6. Die onreinheid van die ouers gaan dus op die kinders oor. Almal sonder uitsondering is in hulle oorsprong besmet. Die begin van die besmetting lê by die eerste vader. Adam was nie maar net die voortplanter van die menslike natuur nie maar ook die wortel daarvan. En toe die wortel verdorwe geraak het, is die hele menslike geslag geskend. Dit maak die apostel duidelik deur die vergelyking van Adam met Christus (Rom 5:12). Wat sal die Pelagiane hierteen inbring? Dat die sonde van Adam deur navolging oorgeplant is? Maar beteken die geregtigheid van Christus dan maar net dat dit ons voorgestel word as ‘n voorbeeld om nagevolg te word? As egter die geregtigheid van Christus en die lewe deur meedeling ons geregtigheid en ons lewe is, is dit ‘n uitgemaakte saak dat ons beide ook so in Adam verloor het, nl. deur meedeling. Die woorde is ook nie onduidelik nie. Rom 5:19: “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één, baie tot regverdiges gestel word”. Vergelyk ook 1 Kor 15:22. Ons mag dus die woorde, dat ons in Adam gesterwe het, nie anders uitlê nie as dat hy ons natuur saam met hom in dieselfde ongeluk gestort het. Anders sou Paulus nie kon sê (Ef 2:3) dat ons almal van nature kinders van die toorn is nie, as ons nie reeds in die moederskoot vervloek was nie. Adam het homself dus so verderwe dat die besmetting van hom op sy ganse nakomelingskap oorgegaan het. So leer Christus ook (Joh 3:6) dat wat uit die vlees gebore is, vlees is, dat daarom vir almal die deur na die lewe gesluit is, totdat hulle wedergebore word.
7. Om die saak reg te verstaan is dit nie nodig om ons te bekommer oor die kwessie of die siel van die seun soos ‘n loot uit die siel van die vader ontstaan nie. Ons moet tevrede wees daarmee dat die Here die gawes wat Hy aan die menslike natuur wou meedeel, by Adam in bewaring gegee het. Dus, toe hy die gawes verloor het, het hy dit nie net vir homself verloor nie maar vir ons almal. Die menslike natuur is dus naak en besmet. Uit die verrotte wortel het daar verrotte takke voortgekom, wat weer hulle {113} verrotting oorgebring het op ander takkies wat uit hulle voortgekom het. Wat die Pelagiane beweer, dat kinders nie die verdorwenheid van hulle vroom ouers kan oorneem nie, kan maklik weerlê word. Want die kinders stam nie van die geestelike wedergeboorte af nie maar van die vleeslike voortplanting. En uit die natuur kom niks anders as net skuld voort nie.
8. Laat ons nou die erfsonde bepaal. Dit is ‘n erflike kwaad en verdorwenheid van ons natuur wat in al die dele van die siel versprei is. Dit stel ons skuldig voor God en bring in ons voort die werke van die vlees (Gal 5:19). Dit is wat Paulus eintlik met sonde bedoel. Maar die werke wat daaruit voortkom, soos owerspel, haat, moord ens., noem hy die vrugte van die sonde. Ons moet die twee sake dus onderskei:
a. Omdat ons in al die dele van ons natuur verdorwe is en verkeerd, staan ons reeds daarom skuldig en veroordeel voor God. Dit beteken nie dat ons vir die misdryf van iemand anders gebind is nie. As gesê word dat ons deur die sonde van Adam skuldig staan voor God, moet dit nie so opgevat word asof ons self onskuldig is en tog die skuld van sy misdaad moet dra nie. Van hom het nie net die straf op ons oorgegaan nie maar ook die smet Die apostel leer uitdruklik (Rom 5:12) dat almal gesondig het. Dit wil sê, almal is ingewikkeld in die erfsonde en besoedel met sy smette. Daarom is ook klein kindertjies deur hulle eie sonde skuldig. Hoewel hulle nog nie die vrugte van hulle ongeregtigheid voortgebring het nie, dra hulle tog die saad daarvan in hulle. Ja, selfs hulle hele natuur is ‘n soort saad van sonde.
b. Nou kom die tweede punt. Hierdie verkeerdheid bly nooit werkloos in ons nie maar bring voortdurend nuwe vrugte voort, soos ‘n fontein water laat uitstroom. Daarom het hulle wat die erfsonde net ‘n gemis van die oorspronklike geregtigheid noem, daarmee nog nie genoeg sy krag en werksaamheid uitgedruk nie. Want ons natuur is nie net van die goeie beroof nie maar ook ryk aan alle moontlike kwaad en vrugbaar om dit voort te bring.
9. Daarom het ek gesê dat die sonde al die dele van die siel in besit geneem het van die oomblik af dat Adam van die bron van geregtigheid afgewyk het. Want nie net die laer begeerlikheid het hom verlei nie, maar die goddeloosheid het die vesting van sy siel beset, en die hoogmoed het tot in die binneste van sy hart deurgedring. Dit is dus dwaas om die verdorwenheid net tot die sinlike begeerlikheid te beperk. Paulus neem alle twyfel weg. Hy leer dat {114} die verdorwenheid nie net ‘n deel van die siel aangetas het nie maar dat niks suiwer of rein is nie. As hy oor die sondige natuur handel, veroordeel hy nie net die sondige begeertes nie maar sê hy dat die verstand aan blindheid onderworpe is en die hart aan slegtheid. Hy beveel ook (Ef 4:23) dat nie net die luste tot niet gemaak moet word nie maar dat ons in die gees van ons gemoed vernuwe moet word. Daaruit volg dat die deel waarin die adel van ons siel die meeste skitter, nie net gewond is nie maar so verdorwe is dat dit nie net genesing nodig het nie maar byna ‘n nuwe natuur.
10. Laat hulle nou heenskeer wat dit waag om hulle sonde aan God toe te skrywe, omdat ons sê dat die mens van nature verdorwe is. Hulle soek hulle bevlekking in God se werk, terwyl God die mens goed gemaak het. Ons verderf het sy oorsprong by onsself en nie by God nie. Daar is dus geen rede om te kla behalwe oor onsself nie. Aan die mens en aan hom alleen moet sy ondergang toegeskrywe word. In sy goedheid het God hom goed gemaak, maar hy het deur sy eie dwaasheid in sonde verval.
11. Ons sê dus dat die mens verdorwe is deur ‘n natuurlike sondigheid, maar ‘n sondigheid wat nie uit die natuur voortgekom het nie. Dit is ‘n eienskap wat van buite na die mens gekom het, en nie ‘n eienskap wat tot sy wese behoort nie. Maar ons noem dit natuurlik, sodat niemand sal dink dat dit alleen deur ‘n slegte gewoonte verkry word nie maar deur ‘n erflike reg almal saam gevange hou. Paulus sê dat ons van nature kinders van die toorn is (Ef 2:3). So verdwyn ook die lering van die Manicheërs, wat dit voorgestel het dat ‘n wesenlike boosheid in die mens aanwesig is en daarvoor ‘n tweede skepper uitgedink het om die kwaad nie aan die regverdige God toe te skryf nie.
HOOFSTUK II. Die mens is nou beroof van wilsvryheid en aan ellendige diensbaarheid onderworpe
1. Die sonde woed nie net in die hele menslike geslag nie, maar hou ook elke mens afsonderlik gevange. Nou moet ons nader ondersoek of ons van alle vryheid beroof is en, as daar dan nog iets van oorgebly het, watter krag dit besit. Ek sal maar net terloops die doel meld waarop die hele hoofsaak neerkom. Die beste manier om ons vir dwaling te bewaar is om die gevare na te gaan wat ons van altwee kante bedreig. As vir die mens gesê word dat hy nie {115} meer in staat is om geregtigheid te beoefen nie, bekommer hy hom nie oor die geregtigheid nie. Aan die ander kant kan ons hom niks toegee sonder om God van sy eer te beroof en die mens te verlei om op homself te vertrou nie. Om nou nie op hierdie klippe te strand nie moet die mens geleer word dat daar in hom niks goeds oor is nie. Maar hy moet ook onderwys word om die goeie na te jaag wat hom ontbreek, en die vryheid waarvan hy beroof is. Hoe noodsaaklik dit is om die mens alle valse roem te ontneem, kan elkeen insien. Want as dit hom nie toegestaan was om in homself te roem toe hy nog met die uitnemendste gawes versier was nie, hoeveel te minder nou nadat hy deur sy ondankbaarheid in die grootste skande geval het! As aan ons iets meer toegeken word as wat waar is, word heiligskennis gepleeg en ons verderf gesoek.
2. Vantevore is gesê dat die vermoëns van die siel in die verstand en in die hart geleë is. Laat ons nou nagaan waartoe altwee nog in staat is. Die wysgere sê dat die rede in die verstand setel. Dit kan die mens by al sy oorlegginge voorlig en soos ‘n koning sy wil bestuur. Aan die ander kant is die sinne (gevoel). Hulle kruip op die grond en hou hulle met growwe dinge besig. Tussen die twee staan die lus. Dit kan die rede gehoorsaam, en dan word dit wil. Gehoorsaam dit egter die sinne, word dit sinnelike begeerlikheid. Hulle stel dus die wil tussen die rede en die sinne as iets wat vry is om die rede of die sinne te gehoorsaam.
3. Hulle ontken nie dat dit vir die mens baie moeilik is om die rede in hom te laat heers nie, omdat hy beurtelings deur die genietinge verlei word en dan weer bedreig word deur ‘n valse voorstelling van wat goed is en dan weer deur sy drifte geskud word. Maar hulle meen dat dit aan geen twyfel onderhewig is dat deug en ondeug in ons mag is nie. Dit is dus in hoofsaak die mening van alle wysgere dat die wil vry is om te kies om die rede of die sinne te volg.
4. Die kerklike skrywers volg die wysgere te veel na. Hulle het hulle bes gedoen om die Heilige Skrif met die leerstellinge van die wysbegeerte te versoen. Chrysostomus sê byvoorbeeld êrens: “Dikwels word hy wat sleg is, in ‘n goeie mens verander as hy wil. En hy wat goed is, val deur luiheid af en word sleg; want God het ons natuur met ‘n vrye wil begiftig… Laat ons van ons kant doen wat ons kan, God sal die orige vervul”. Hiermee stem Hieronymus ook ooreen as hy sê dat ons moet begin maar dat God sal Voltooi. Hulle ken dus aan die mens meer toe as wat behoorlik is. Die wat later gevolg het, het nog verder afgedwaal, totdat dit so ver gekom het dat algemeen aanvaar is dat die mens net as sinlike wese verdorwe is maar dat sy rede en sy wil vir die grootste gedeelte {116} ongeskonde gebly het. Almal het aanvaar dat die natuurlike gawes in die mens verdorwe was, maar die bonatuurlike is van hom weggeneem. Hulle wat beweer dat hulle dissipels van Christus is, het dus heeltemal te veel soos die wysgere oor hierdie saak gespreek. Die Latynse vaders gebruik die uitdrukking “vrye wil”. Die Griekse vaders noem die mens selfs eiemagtig, asof hy mag oor homself besit het. Ons moet dus nagaan wat die uitdrukking “vrye wil” beteken en dan uit die Skrif aantoon wat die mens deur sy eie natuur ten goede of ten kwade kan doen. Origenes sê dat die vrye wil die vermoë van die rede is om goed en kwaad te onderskei en van die wil om een van die twee te kies. Augustinus verskil nie veel van hom nie. Hy leer dat die vrye wil die vermoë van die rede en die wil is om die goeie te kies as die genade sy hulp bied, en die kwaad wanneer dit sy hulp onthou. Die Skolastici het die gevoele van Augustinus aanvaar, omdat dit duideliker was en God se genade nie uitgesluit het nie. Thomas sê dat dit goed pas as die vrye wil genoem word die mag om te kies. Daar het ons dus kortliks die hoofsaak waarin, volgens hulle, die krag van die vrye wil geleë is, nl. in die rede en in die wil. Nou moet ons nog nagaan hoeveel hulle aan elkeen van die twee toeken.
5. Gewoonlik ken hulle die middelmatige dinge wat geen betrekking op die koninkryk van God het nie, aan die mens se vrye wil toe; maar die ware geregtigheid skrywe hulle toe aan God se besondere genade en die geestelike wedergeboorte. Die skrywer van die boek oor die roeping van die heidene noem drieërlei wil op: ‘n sinlike, ‘n natuurlike en ‘n geestelike wil. Die eerste twee is vir die mens vry. Die laaste is die werk van die Heilige Gees in die mens. In die skole is ook drieërlei vryheid geleer: die eerste die vryheid van noodsaaklikheid, die tweede van sonde en die derde van ellende. Die eerste kan die mens nie ontneem word nie. Die orige twee het hy deur die sonde verloor.
6. As dit aangeneem word, is dit ongetwyfeld waar dat die mens geen vrye wil het om goeie werke te doen as hy nie deur die besondere genade van die wedergeboorte begiftig word nie. Dit is egter nog nie duidelik of die mens heeltemal van die vermoë om goed te doen beroof is nie en of hy nie nog oor ‘n bietjie krag beskik wat op homself niks vermag nie maar tog sy rol speel as die genade daarby kom. Lombardus leer dat ons tweërlei genade nodig het om ‘n goeie werk te doen. Die eerste noem hy die werkende genade. Dit laat ons die goeie wil. Die tweede is die meewerkende genade, wat die goeie wil help. Van hierdie verdeling hou ek nie, omdat hy feitlik beweer dat die mens in ‘n sekere sin die goeie begeer. Want hy en andere meen dat ons daarom met die tweede genade van God saamwerk, omdat dit in ons mag is om die {117} eerste genade te verag, vrugteloos te maak of dit deur gehoorsaamheid te bevestig. Eindelik verklaar Lombardus dat ons nie ‘n vrye wil het om goed en kwaad te doen of te bedink nie maar net in die sin dat ons nie gedwing word nie. Die vryheid word nie verhinder nie, al is ons ook dienaars van die sonde en al kan ons ook niks anders as sonde doen nie.
7. Op die manier kan ons sê dat die mens ‘n vrye wil het, nie omdat hy vry kan kies tussen goed en kwaad nie maar omdat hy die kwaad doen met sy wil en nie deur dwang nie. Dit is dus ‘n uitnemende vryheid as die mens nie gedwing word om die sonde te dien nie. Tog is hy so ‘n gewillige dienskneg dat sy wil deur die bande van die sonde geboei word. Ek hou nie van woordestryd nie maar is van oordeel dat ‘n mens jou moet weerhou van woorde wat ongerymd is en wat tot dwaling kan lei. Hoe baie is daar wat dit nie dadelik so sal opvat dat hulle heer is oor hulle verstand en wil as vir hulle gesê word dat die mens ‘n vrye wil het nie?
8. Die vaders het die woord vrye wil gedurig in die mond en verklaar ook watter waarde hulle daaraan heg. Augustinus sê: “Laat niemand die vrye wil so ontken dat hy die sonde sou wil verontskuldig nie”. Op ‘n ander plek erken hy dat, sonder die Heilige Gees, die wil van die mens nie vry is nie maar onderworpe aan begeertes wat dit oorwin. Niemand is vry wat nie deur God se genade vrygemaak is nie. Die mens het die kragte van ‘n vrye wil ontvang toe hy geskape is maar het dit deur die sonde verloor. Hoe durf ellendige mense hulle verhef op ‘n vrye wil voordat hulle bevry is? As hulle diensknegte van die sonde is, wat beroem hulle hulle nog op ‘n vrye wil? Ek is van oordeel dat hierdie uitdrukking “vrye wil” nie sonder groot gevaar behou kan word nie. Dit sal die kerk ten goede kom as dit afgeskaf word.
9. Die ou skrywers, met uitsondering van Augustinus, is dus almal onduidelik in hulle uitdrukkings. Soms leer hulle dat die mens van ‘n vrye wil beroof is en sy toevlug moet neem na die genade alleen. Dan weer lyk dit of hulle hom uitrus met sy eie wapens. Tog het hulle die eer vir al die goeie dinge aan die Heilige Gees toegeken. Cyprianus sê: “Ons mag in niks roem nie, want ons het niks nie”. Die mens is dus heeltemal afhanklik van God se genade. Chrysostomus sê dat die mens nie net van nature ‘n sondaar is nie maar dat hy heeltemal sonde is. Al gaan hulle dus ook soms ‘n bietjie te ver in die verheffing van die vrye wil, tog was dit altyd hulle doel om die mens te leer om nie op eie krag te vertrou nie maar sy sterkte alleen in God te soek. Nou kom ek tot die eenvoudige uitlegging van die waarheid oor die menslike natuur.
10. Ek moet hier herhaal wat ek alreeds gesê het, nl. dat hoe meer die mens deur die bewussyn van sy ellende, armoede en {118} skande neergedruk word, hoe groter vordering hy in die selfkennis gemaak het. Daar is geen gevaar dat die mens homself te veel sal ontneem nie, as hy maar net leer dat hy in God moet terugwin wat hom ontbreek. Maar hy kan vir homself nie ‘n bietjie meer toe-eien as wat hom toekom nie, sonder om homself deur vermetelheid te gronde te rig, deurdat hy die goddelike eer hom toe-eien en hom aan heiligskennis skuldig maak Dit is wel aangenaam om te hoor dat ons op onsself kan vertrou, maar die Skrif sê: “Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk” (Jer 17:5; vgl. ook Ps 147:10,11). Die woorde beteken dat ons nie die allerminste op eie krag mag vertrou nie, as ons wil dat God ons genadig sal wees. Die beloftes is ook alleen vir die wat hulle ellende ken (Jes 44:3; Jes 55:1).
11. Die woorde van Chrysostomus behaag my baie, nl. dat die fondament van ons wysbegeerte die ootmoed is. Augustinus sê ook: “As u my sou vra wat die reëls van die Christelike godsdiens is, sal ek antwoord: in die eerste, in die tweede, in die derde plek en altyddeur die ootmoed”. As iemand insien dat hy in homself niks is en in homself geen hulp vind nie, is die wapens in hom gebreek en het die oorlog op ‘n end gekom En dit is nodig dat alle wapens van goddeloosheid verbrysel, verbreek en verbrand word. Die mens moet ongewapend bly en geen hulp in homself vind nie. Hoe swakker hy in homself is, des te meer ondersteun die Here hom. Dit is wat onder ootmoed verstaan word, nl. die belydenis dat ons niks anders is as sleg nie en alleen deur God se barmhartigheid staande bly.
12. Ek aanvaar die uitspraak van Augustinus dat die natuurlike gawes in die mens deur die sonde verdorwe is en dat hy van die bonatuurlike gawes beroof is. Met bonatuurlike gawes word bedoel die geloof en die geregtigheid, waardeur die mens die hemelse lewe en die ewige geluksaligheid kan verkry. Toe hy dus van die koninkryk van God afstand gedoen het, het hy die geestelike gawes verloor en moet hulle nou deur die genade van die wedergeboorte terugkry. Dit sluit in die geloof, die liefde tot God en die naaste, die strewe na heiligheid en geregtigheid. Maar ook die ongeskondenheid van verstand en die opregtheid van hart is weggeneem. Dit is die verderf van die natuurlike goedere Die mens het wel nog verstand en wil oorgehou, maar sy verstand is swak, in duisternis gehul, en die wil is sleg. As redelike wese verskil hy van die redelose diere, omdat hy met verstand begiftig is, maar die lig word deur die duisternis van onwetendheid verdonker. So het die wil nie opgehou om te funksioneer nie, maar dit word deur slegte begeertes gekluister, sodat dit niks kan najaag wat goed is nie. Laat ons nou vervolgens nagaan waartoe die verstand nog in {119} staat is. Om te sê dat dit totaal verblind is en geen insig in iets besit nie, stry teen Gods Woord en teen die ervaring. Ons sien byvoorbeeld dat dit verlang om die waarheid te ondersoek. Maar dit kan die regte weg om die waarheid te vind nie hou nie. Dit tas in die duisternis rond en verdwaal eindelik. Dit onderskei ook nie altyd reg watter dinge nuttig is om na te jaag nie. Dit kwel hom oor nikswaardige dinge, maar tot die dinge wat nodig is om te weet, wend dit hom geheel en al nie of anders met teësin.
13. En tog is die pogings van die verstand nie altyd tevergeefs nie. Veral as dit hom rig op die laere dinge, bereik dit tog wel iets. Dit kan selfs iets smaak van die hoëre dinge. Ons moet dus hier onderskeid maak. En die onderskeiding is dit dat die insig in aardse dinge iets anders is as die insig in hemelse dinge. Aardse dinge noem ek die dinge wat geen betrekking op God en sy ryk, op die ware geregtigheid en op die geluksaligheid van die toekomende lewe het nie. Hemelse dinge noem ek die suiwere kennis van God, die aard van die ware geregtigheid en die verborgenhede van die hemelse koninkryk. Onder aardse dinge val die staatsbestuur, die huishoudkunde, kunste en die wetenskappe. Onder die hemelse dinge val die kennis van God, die goddelike wil en die reël om die lewe in ooreenstemming daarmee in te rig. Wat die aardse dinge betref, kan ons verder dit sê dat die mens van nature gemeenskap soek. Daarom is hy ook geneig om daardie gemeenskap te bewaar. Daarom het alle mense algemene indrukke van ‘n sekere burgerlike eerbaarheid en orde. Hierdie orde moet deur wette beskerm word. Daarin stem almal ooreen. Onenighede en twiste verander hieraan niks nie. Want die mense haat nie die wette omdat hulle nie weet dat hulle goed en heilig is nie, maar in hulle hartstogtelike begeerte stry hulle teen wat hulle met hulle eie verstand goedkeur. Vas bly staan dat in alle mense ‘n soort saad van burgerlike orde uitgestrooi is. Dit is ‘n bewys daarvan dat geen mens onkundig is hoe om sy lewe in te rig nie.
14. Nou volg die skone kunste en wetenskappe. Ons almal het ‘n sekere geskiktheid om dié te leer. Hieruit blyk die krag van die menslike verstand. Die mens kan egter nie net die dinge leer nie, maar hy kan ook iets nuuts uitdink. Hy kan verbeter op wat hy van ander geleer het. Elkeen moet hierin die besondere genade van God dankbaar erken. Dit is heeltemal ‘n genadegeskenk van sy barmhartigheid jeens elkeen afsonderlik.
15. As ons die werke van die heidense skrywers ter hand neem, moet ons altyd daaraan herinner word dat die verstand van die mens nog met uitnemende gawes van God versier is, ook al het dit uit sy oorspronklike staat verval. As ons die Gees van God hou vir die enigste bron van die waarheid, sal ons die waarheid {120} nie verag nie, waar dit hom ook al mag openbaar. Sal ons ontken dat die waarheid sy lig laat skyn het vir die ou regsgeleerdes wat die burgerlike orde so regverdig gereël het? Sal ons sê dat die wysgere verblind was toe hulle die natuur so noukeurig ondersoek en beskryf het? Sal ons sê dat hulle dwaas is wat die geneeskunde beoefen tot ons voordeel? Hoe moet ons oordeel oor die wiskundige wetenskappe? Is dit alles dwaashede van verstandelose mense? Nee, ons sal met groot bewondering die geskrifte van die ou mense lees en erken dat alles wat daarin voortreflik is, uit God is. God het nog so baie goeie dinge aan die menslike natuur gelaat nadat dit van die ware goed beroof was.
16. Laat ons intussen nie vergeet nie dat hierdie dinge voortreflike gawes is van die Gees van God wat Hy tot algemene nut van die menslike geslag uitdeel aan wie Hy wil. Niemand hoef ook te vra watter gemeenskap die goddelose met die Heilige Gees het nie. Want as daar gesê word dat die Gees van die Here net in die gelowiges woon, verstaan ons daaronder die Gees van heiligmaking, wat ons tot tempels van God heilig. Tog vervul en beweeg Hy alles deur die krag van dieselfde Gees volgens die eienaardigheid van elke soort. As die Here ons deur die diens van goddelose mense in die natuurwetenskappe of die wiskunde wil help, moet ons daarvan gebruik maak, sodat ons nie vir ons traagheid gestraf sal word as ons God se gawes verontagsaam wat Hy ons in die mense aanbied nie. Die vermoë om te begryp het egter voor God geen waarde as dit nie op die fondament van die waarheid steun nie.
17. Die hoofsaak is dat ons met rede begiftig is. Dit onderskei ons van die redelose diere. Want al word sommige mense ook met minder verstand gebore, verduister dit tog nie God se algemene genade nie. Daardeur word ons daaraan herinner dat ons aan God se goedheid moet toeskrywe dit wat aan ons gelaat is. Want as Hy ons nie gespaar het nie, sou die afval ons hele natuur verwoes het. God toon ons sy genade daarin dat sommige skerpsinniger is as andere, ander weer makliker een of ander kuns leer. Daarby kom dat God aan elkeen besondere geestesgawes skenk, ooreenkomstig die taak waartoe Hy hom roep. Daarvan tref ons baie voorbeelde aan in die boek Rigters waar gesê word dat die Gees van die Here iemand vervul het wat Hy geroep het om sy volk te regeer (Rigt 6:34). Eindelik is daar ook nog ‘n besondere ingewing. Al die dapper manne wie se harte die Here aangeraak het, het Saul nagevolg (vgl. ook 1 Sam 10:6 en 1 Sam 16:13). In hierdie verskeidenheid sien ons nog enkele tekens van die beeld van God wat die menslike geslag van die ander skepsels onderskei.
18. Nou moet ons uiteensit waartoe die menslike rede nog in staat is wanneer dit oor die koninkryk van God gaan, en die {121} geestelike insig, wat hoofsaaklik uit drie dinge bestaan, nl. die kennis van God, die kennis van sy vaderlike guns jeens ons en van die inrigting van ons lewe volgens die wet. In die eerste twee en veral in die tweede is die vernuftigste mense blinder as molle. Die wysgere sê soms ook paslike dinge aangaande God, maar dit gebeur sodat hulle nie hulle goddeloosheid agter onwetendheid kan verskuil nie. En die sekerheid dat God jeens ons weldadig is, het hulle selfs nie eers geruik nie. Die rede van die mens begryp dus nie wie die ware God is en hoe Hy teenoor ons gesind wil wees nie.
19. Maar aangesien ons ons met moeite laat oortuig dat ons insig in goddelike sake verduister is, sal dit beter wees om dit met getuienisse uit die Heilige Skrif te bewys. Johannes leer dat die lewe die lig van die mense was; dat die lig in die duisternis skyn maar dat dit deur die duisternis nie oorweldig is nie (Joh 1:4). As die Gees die mense duisternis noem, ontneem Hy hulle vir goed alle geestelike verstand. Daarom getuig Hy dat almal wat Christus aanneem, uit God gebore is en nie uit bloed of uit die wil van die vlees of van die man nie (Joh 1:13; vgl. ook Mat 16:17).
20. As ons oortuig is dat aan ons natuur alles ontbreek wat die hemelse Vader sy uitverkorenes deur die Gees van die wedergeboorte skenk, is hier geen plek vir twyfel nie Want so spreek die gelowige volk: “Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig” (Ps 36:10). Moses sê ook vir die volk dat hulle oë al die groot tekens en wonders gesien het wat die HERE aan Farao en al sy dienaars gedoen het. “Maar die HERE het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie” (Deut 29:2-4). Daarom beloof die Here deur die profeet dit as ‘n besondere genade dat Hy aan die Israeliete ‘n hart sal gee om Hom te ken. Dit spreek Christus ook duidelik uit as Hy sê (Joh 6:44) dat niemand tot Hom kan kom as die Vader hom nie trek nie.
Ons moet dit dus so verstaan dat net vir dié mens die ingang in die koninkryk van God oopstaan wie se verstand deur die Heilige Gees vernuut is. Die duidelikste spreek Paulus waar hy sê: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Kor 2:14). Hy verklaar ook dat God die wysheid van die wêreld dwaas gemaak het (1 Kor 1:20). Hoe sou ons dan nog kan beweer dat die wysheid van die mens so skerpsinnig is dat hy kan deurdring tot God en tot die geheimenisse van sy hemelse koninkryk?
21. Wat Paulus die mens in die aangehaalde tekste ontsê, {122} ken hy op ‘n ander plek in sy gebed aan God alleen toe: “dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee” (Ef 1:17). Alle wysheid en openbaring is dus ‘n gawe van God. Verder noem hy op: “verligte oë van die verstand”. As hulle dus ‘n nuwe openbaring nodig het, is hulle uit hulleself blind. Daarop volg dan: “sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is”. Hy bely dus dat die verstand van die mense nie soveel insig het dat hulle hulle roeping ken nie. En nou moet die Pelagiane nie beweer dat God die domheid van die mens te hulp kom deurdat Hy deur die onderwysing van sy Woord die mens se verstand daarheen lei waar dit nie kan kom nie. Want Dawid het die wet gehad waarin alle wysheid vervat is. Tog bid hy dat die Here sy oë sal open om die wonders uit sy wet te kan sien (Ps 119:18). Oral dus waar God nie met sy Gees skyn nie, is alles in duisternis gehul. As iemand aan homself meer insig toeskrywe, is hy des te blinder, omdat hy sy eie blindheid nie erken nie.
22. Nou bly nog die derde deel oor. Dit bestaan in kennis van die reël om goed te lewe, d.w.s. kennis van die werke van geregtigheid. Dit skyn asof die menslike verstand in hierdie opsig ‘n bietjie skerpsinniger is as in die eergenoemde sake. Paulus sê (Rom 2:14,15) dat die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen en vir hulleself ‘n wet is, omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan Ons kan dus nie sê dat hulle geheel en al blind is nie. Algemeen is dan ook die opvatting dat die mens deur die natuurlike wet genoegsaam onderwys word om reg te lewe. Maar waartoe is die kennis van die dinge van die wet vir die mense gegee? Paulus sê dit duidelik. Dit is, naamlik, dat hulle nie te verontskuldig sal wees nie. En dit is nodig vir die mens om dit te weet. Hy tog is so toegeeflik teenoor homself dat hy graag onwetendheid voorwend as hy sondig.
23. Themistius spreek meer na waarheid as hy beweer dat die mens wel reg kan oordeel as hy in die algemeen oor ‘n saak spreek (bv. dat doodslag sonde is), maar as hy sy eie geval moet beoordeel, dwaal hy. (Sy eie doodslag is nie sonde nie.) Dit is die onwetendheid, naamlik dat die mens die reël wat hy kort tevore gestel het, toe hy in algemeen gespreek het, vergeet sodra dit op hom van toepassing is. Hy bedrieg homself dus nie net deur ‘n valse skyn nie maar stort homself willens en wetens in die sonde.
24. As ons hoor dat die mens oor algemeen nog enigsins reg tussen goed en kwaad kan onderskei, moet ons nie dink dat die verstand nog goed en gaaf is nie. As ons die verstand aan die wet van God toets, sal ons insien hoe verblind dit is. Dit verstaan {123} byvoorbeeld nie dat dit in die eerste tafel van die wet met die ware diens van God te doen het nie. En ten opsigte van die vereistes van die tweede tafel van die wet dwaal dit ook maar gedurig, al het dit beter insig daarin. Dit keur byvoorbeeld tirannemoord goed en veroordeel die geduld wat God eis, as die openbaring van ‘n slaafse en daarom veragtelike gees. So is dit byvoorbeeld ook gestel ten opsigte van die begeerlikheid. Growwe uitbarstings daarvan word as sonde beskou, maar die sondige begeertes wat die gevoel streel, word nie as sonde aangemerk nie.
25. Sonde is nie onwetendheid nie, soos Plato beweer. Alle sonde geskied ook nie uit voorbedagte boosheid en slegtheid nie. Ons ondervind maar alte dikwels dat ons val terwyl ons bedoeling goed was. Ons verstand is aan soveel dwalinge onderhewig dat dit nie vaste leiding kan gee nie. Paulus toon aan hoe niksbeduidend dit voor die Here is, as hy sê dat ons nie uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie (2 Kor 3:5). Dit klink hard, maar die Heilige Gees sê dat die gedagtes van die mense nietigheid is (Ps 94:11; vgl. ook Gen 6:3; 8:21). So kan ons sien dat ons verstand aan die nietigheid onderworpe is. Dawid was hom hiervan bewus toe hy gebid het dat die Here hom verstand sal gee om sy gebooie reg te leer (Ps 119:34). En wat hy vir homself bid, bid Paulus vir die hele gemeente, nl. dat hulle vervul mag word met die kennis van God se wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat hulle waardig die Here mag wandel (Kol 1:9-10). Verder leer die Skrif dat ons verstand nie net een maal verlig word nie maar dat daar ‘n voortdurende toeneming in die verligting is. Dit sê Dawid duidelik in Ps 119:10: “Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie”. Hoewel hy wedergebore was, erken hy tog dat hy voortdurende leiding nodig het van oomblik tot oomblik om nie af te wyk van die kennis wat aan hom geskenk is nie.
26. Nou moet ons die wil ondersoek waarin al die vryheid om te beslis geleë is, want ons het vantevore al gesien dat die keuse meer deur die wil as deur die verstand bepaal word. Die wysgere leer dat al die skepsels die goeie deur ‘n natuurlike ingewing najaag. Die mens besit hierdie verlange gemeenskaplik saam met die diere. Maar hy kies nie uit wat in ooreenstemming met sy onsterflike natuur werklik goed vir hom is nie. Die natuurlike begeerte na wat goed is, het dus niks met die vryheid van die wil te maak nie. Vryheid van die wil beteken dat die mens met sy verstand onderskei wat goed is, dat hy dit uitkies en dat hy dit najaag. Eindelik moet ons ook opmerk dat, al begeer die mens ook om die goeie te verkry, hy dit tog nie navolg nie. Daar is niemand wat die ewige saligheid nie begeer nie. Tog jaag niemand dit na nie, {124} behalwe hy wat deur die Heilige Gees gedring word. Die natuurlike verlange van die mens dat dit met hom goed sal gaan, bewys dus niks vir die vryheid van die wil nie. Laat ons daarom nagaan of die wil in ander dinge so heeltemal verdorwe is dat dit net kwaad voortbring en of dit nog ‘n weinig ongeskonde is.
27. Hulle wat dit aan die voorafgaande genade van God toeskrywe dat ons werkdadig kan wil, meen tog dat die siel die vermoë besit om uit eie beweging die goeie na te strewe, maar dat dit net swak is om dit tot uitvoering te bring. Die Skolastici noem die mens ‘n bloot natuurlike wese soos die apostel hom beskrywe met die woorde: “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Om te wil is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie” (Rom 7:18-19). Maar op hierdie manier word die hele redenering van Paulus verdraai. Want hy handel oor die Christelike stryd wat die gelowiges voortdurend in hulle gevoel. Die apostel spreek hier oor wedergebore mense. Vir hulle alleen geld die verontskuldiging dat hulle nie die kwaad doen nie maar dat die sonde wat in hulle woon, dit doen (Rom 7:20). Van hulle alleen geld ook die woorde: “Ek het ‘n vermaak in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed” (Rom 7:22-23). Verder geld die woord van Christus dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is. Ons is almal sondaars. As die hele mens aan die heerskappy van die sonde onderworpe is, kan die wil tog nie uitgesonder wees nie. Anders sou die woord van Paulus ook nie waar wees dat dit God is wat in ons werk om te wil nie (Fil 2:13). Tereg sê Augustinus dat al die goeie wat ons het, van God afkomstig is en al die kwaad van onsself.
HOOFSTUK III. Uit die verdorwe natuur van die mens kom niks anders voort as wat doemwaardig is nie
1. Die mens kan alleen reg geken word uit die benaminge waarmee die Skrif hom noem. Christus teken hom met die woorde: “Wat uit die vlees gebore is, is vlees” (Joh 3:6). Hy is ‘n baie ongelukkige wese. “Want wat die vlees bedink is die dood, omdat dit vyandskap teen God is, want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom 8:6-7). Ontlok {125} nou hieraan iets goeds as u kan. Maar sommige sê dat die woord vlees alleen op die sinlike betrekking het en nie op die hoëre deel van die siel nie. Die woorde van Christus weerlê dit egter. Hy sê dat die mens wedergebore moet word omdat hy vlees is. Maar die siel word nie wedergebore as ‘n deel daarvan verbeter word nie maar wanneer dit heeltemal vernuut word. As oor hierdie saak nog twyfel bestaan, word dit weggeneem deur Paulus as hy ons beveel om in die gees van ons gemoed vernuut te word (Ef 4:23). Hy stel dus die slegte begeerte nie maar net in die sinlike deel van die siel nie, maar in die gees self, wat daarom vernuut moet word. Vantevore het hy laat sien dat ons in alles verdorwe en verkeerd is. Van die heidene sê hy dat hulle in die verdwaasdheid van hulle gemoed wandel. Hulle is verduisterd in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart (Ef 4:17-18). Dit geld van almal wat God nog nie deur die wedergeboorte vernuut het nie. Dit word nog duideliker deur wat hy in die volgende vers sê (vs. 20). Uit sy woorde maak ons op dat die genade van Christus die enigste geneesmiddel is waardeur ons bevry word van ons blindheid en van die rampe wat daaruit voorkom.
2. Die veroordeling van die hart is nie minder gestreng nie. Dit is bedrieglik bo alle dinge, ja, verdorwe (Jer 17:9). Ek sal maar net een plek aanhaal, nl. Rom 3:10-17. Met hierdie bliksems val Paulus nie net bepaalde mense aan nie maar die hele menslike geslag. Hy vaar ook nie uit teen die verdorwe sedes van hierdie of daardie tyd nie maar teken die verdorwenheid van die mens se natuur. Sy bedoeling is nie om die mense tot bekering op te wek nie maar om hulle te leer dat almal in die ellende sit, waaruit hulle nie kan geraak as hulle nie deur God se barmhartigheid daaruit getrek word nie. Hy ontsê aan die mens geregtigheid, d.w.s. die regte staat. Vervolgens ontsê hy aan hom verstand. Dat verstand aan hom ontbreek, word deur die afval van God bewys. Daaraan knoop hy vas dat almal afgewyk het; dat daar niemand is wat goed doen nie. Dan noem hy verder al hulle skandelike dade op en sê dat hulle die vrees van God nie ken nie. As dit die erfgoed van die menslike geslag is, word tevergeefs in ons natuur na iets goeds gesoek. Ek erken wel dat al hierdie skandelike dade nie in elke mens te voorskyn kom nie. Tog kan ons nie ontken dat hierdie veelkoppige slang in elkeen se hart skuil nie.
3. Dieselfde vraag wat vroeër opgelos is, kom hier weer op. Daar was in al die eeue mense wat sonder dat hulle Gods Woord besit het, gestrewe het om deugsaam te lewe. Dit lyk dus asof die menslike natuur nie geheel en al sondig is nie, omdat daar mense is wat nie net goeie dade doen nie maar hulle hele lewe {126} lank eervol gelewe het. Ons moet egter onthou dat, al is die natuur verdorwe, daar nog plek is vir die genade van God, nie om die verdorwenheid te reinig nie maar om dit in bedwang te hou. Want as die Here elkeen laat lewe volgens sy bose luste, sal op almal van toepassing wees wat Paulus sê in die teks wat ons aangehaal het (Rom 3:10 e.v.). In sy uitverkorenes genees die Here die siektes, soos ons straks sal aantoon. Maar by ander hou Hy hulle in bedwang ter wille van die samelewing. Sommige word deur skaamte weerhou om hulle bose luste uit te lewe. Ander deur vrees vir die wet. Ander streef om fatsoenlik te lewe, omdat dit vir hulle nuttig is, ens.
4. Die moeilikheid is egter nog nie opgelos nie. Moet ons dan nie sê dat as ‘n natuurlike mens uitmunt deur so ‘n suiwer lewe, die natuur van die mens dan ook ‘n deugsame lewe kan najaag nie? Maar watter goed kan die menslike natuur voortbring as hy altyd tot die bederf gedrywe word? Ons moet aan die menslike wil nie die vermoë toeskryf om die goeie te soek so lank as hy in sy verdorwenheid gebind sit nie. Die dinge waarvan ons gespreek het, is dus besondere genadegawes van God wat Hy op verskillende maniere uitdeel aan mense wat origens onheilig is. Toe Hy Saul koning oor sy volk wou maak, het Hy hom in ‘n ander mens verander (1 Sam 10:6). So moet ons ook oor die gewone mense oordeel. Hoe meer iemand egter bo ander uitblink, hoe meer word hy deur eersug aangedrywe. Daarom moet ons alle waarde ontsê aan alles wat in onheilige mense lofwaardig skyn te wees. Daarby kom nog dat die vernaamste deel ontbreek as daar geen begeerte is om die heerlikheid van God te laat uitkom soos by die wedergeborenes die geval is nie. Die groot massa sal dus al hierdie deugde prys, maar voor die hemelse gerig het hulle geen waarde om geregtigheid te verdien nie.
5. Die wil is dus diensbaar aan die sonde en kan hom nie beweeg om iets goeds te doen nie. Want so ‘n beweging is die begin van die bekering tot God, ‘n saak wat in die Skrif geheel en al aan God se genade toegeskryf word. So bid Jeremia (31:18) dat die Here hom sal bekeer as Hy hom bekeer wil hê. Toe die mens hom aan die sonde oorgegee het, is hy nie van sy wil beroof nie maar van die gesondheid van sy wil. Hy sondig nou vrywillig, omdat hy onderworpe is aan die noodsaaklikheid om te sondig. Die hoofsaak wat ons in die oog moet hou, is dat die mens, nadat hy ten gevolge van sy val verdorwe is, sondig mét sy wil en nie téén sy wil nie. Ook nie gedwonge nie. Omdat hy van nature sleg is, kan hy nie anders as om tot die kwaad beweeg en gebring te word nie.
6. Aan die ander kant moet ons nou nagaan hoedanig die {127} geneesmiddel van die goddelike genade is, waardeur die verdorwenheid van die natuur verbeter en genees word. As die apostel vir die Filippense sê (1:6) “dat hy vertrou dat Hy wat ‘n goeie werk in hulle begin het, dit ook sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus”, dui hy deur die begin van die goeie werk die bekering aan wat in die wil geleë is. God begin die goeie werk in ons deur in ons op te wek liefde, verlange en ywer na die geregtigheid. En Hy voltooi dit deur ons te versterk om te volhard. Hierteen moet niemand inbring dat God maar net die swak wil help nie. Deur Esegiël (36:26) sê die Here: “En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee”. Die wil moet dus nie net versterk word nie maar heeltemal verander en vernuut word, Die Here wil deur hierdie woorde aantoon dat daar uit ons hart nooit iets goeds te voorskyn kan kom as dit nie ‘n ander hart word nie. Daarom moet ons nie tussen Hom en ons verdeel wat Hy vir Homself alleen opeis nie. Ons wil moet dus vernietig word in soverre hy sondig is. Van ‘n slegte moet dit in ‘n goeie verander word. Dit is net God se werk. Hy help nie net die swak wil en verbeter nie net die slegte nie maar werk in ons om te wil (Fil 2:13). Al die goeie wat daar in die mens is, is dus die werk van die genade alleen. God is die Bewerker van die geestelike lewe van die begin af tot die end toe. Ons is sy maaksel, geskape in Christus tot goeie werke, wat God voorberei het sodat ons daarin sal wandel (Ef 2:10). Daar bly dus vir die mens niks oor om in te roem nie, omdat alles van God kom.
7. Nou sal daar miskien mense wees wat toegee dat die wil alleen deur die krag van die Here bekeer word; maar dan so dat God dit voorberei maar dat dit daarna self werk. Maar ek beweer dat twee dinge duidelik blyk uit die woorde van die profeet wat ek aangehaal het, nl. dat die Here ons slegte wil vernietig en dat Hy uit Homself ‘n goeie wil in die plek daarvan gee. Augustinus sê: “Die mense sloof hulle af om in ons wil iets te vind wat nie uit God is nie, en hoe dit gevind kan word, weet ek nie”.
8. Aangesien ons nou besig is met die punt waarom alles draai, laat ons die hoofsaak met duidelike getuienisse uit die Skrif bewys. Die begin van die goeie kan nêrens anders vandaan kom as van God nie. Immers daar is geen goeie wil behalwe in die uitverkorenes nie. Maar die oorsaak van die verkiesing moet buite die mense gesoek word. Daaruit volg dat die goeie wil voortkom uit dieselfde welbehae waardeur ons voor die skepping van die wêreld uitverkies is. Daar kom nog ‘n ander rede by. Die begin om goed te wil en te handel is die geloof. Maar die geloof is ‘n genadegawe van God. Daarom is dit louter genade as ons, wat van {128} nature met ons hele hart tot die kwaad geneig is, begin om die goeie te wil (vgl. Jer 32:39-40; Eseg 11:19).
Die Here kan nie duideliker vir Homself alles opeis wat in ons wil goed en reg is nie, as om te getuig dat ons bekering die skepping van ‘n nuwe gees en ‘n nuwe hart is.
9. So is ook die gebede van die heiliges ingerig. Salomo sê: “Mag die HERE ons nie verlaat en ons nie verwerp nie — deur ons hart tot Hom te neig om in al sy weë te wandel en om sy gebooie. . . te onderhou” (1 Kon 8:58). Hy toon aan dat ons hart hardnekkig is en dat dit hom verset teen die wet van God as dit nie gebuig word nie. Dieselfde sê die digter ook in Ps 119:36: “Neig my hart tot u getuienisse”. En as Dawid vra (Ps 51:12) dat God vir hom ‘n rein hart sal skep, erken hy daarmee dat al die dele van sy hart met onreinheid vervul is. As iemand hierteen opmerk dat sy gebed self ‘n teken is van ‘n heilige gemoedstemming, lê die antwoord voor die hand. Al het Dawid reeds gedeeltelik tot inkeer gekom, vergelyk hy tog sy vroeëre staat met die droewige val waarin hy nou verkeer. Hy bid dus tereg dat God aan hom alles sal gee wat Hy aan sy uitverkorenes in die wedergeboorte skenk. Christus sê ook vir sy apostels: “sonder My kan julle niks doen nie”. Met hierdie woorde sluit Hy alle moontlikheid uit dat ons die allerminste vermag. As ons van Hom geskei is, is ons droë, nuttelose hout (vgl. ook Fil 2:13; 1 Kor 12:6; Ps 86:11).
Met hierdie woorde gee die psalmdigter te kenne dat ook die gelowiges aan so baie verstrooiinge onderworpe is dat hulle maklik kan vergaan as God hulle nie standvastig maak nie. Die Here begin en eindig die goeie werk in ons. Hy laat die wil die goeie liefhê en dit najaag. Hy laat die ywer en inspanning nie beswyk nie maar laat die mens standvastig tot op die end toe volhard.
10. God beweeg die wil nie, soos dit baie eeue lank geglo is, dat dit daarna van ons sou afhang om daaraan te gehoorsaam of om dit teë te werk nie, maar Hy buig dit kragdadig. Die apostel leer nie dat aan ons die genade van ‘n goeie wil aangebied word as ons dit aanvaar nie, maar hy leer dat dit in ons gewerk word om te wil. Dit beteken dat die Here deur sy Gees ons hart buig, bestuur en daarin heerskappy voer (vgl. ook Eseg 11:19 en 36:27, waarin God belowe dat Hy aan die uitverkorenes ‘n nuwe gees sal gee). Dit beteken dat hulle nie net in sy gebooie kan wandel nie maar dat hulle ook inderdaad daarin wandel. Hierdie genade keur die Here nie elkeen sonder onderskeid waardig nie, soos algemeen beweer word dat dit aan niemand geweier word wat doen soveel as wat in hom is nie. Dit is die voor reg van die uitverkorenes alleen dat hulle deur die Gees van God wedergebore en deur sy leiding bestuur word. Die harte van die vromes word so {129} kragdadig deur God bestuur dat hulle met ‘n onbuigbare gesindheid volg. Die apostel sê dat elkeen wat uit God gebore is, nie kan sondig nie, omdat die saad van God in hom bly (1 Joh 3:9).
11. Daar sou nooit aan getwyfel gewees het dat die volharding ‘n genadegawe van God is, as die verderflike dwaling nie ingang gevind het dat dit uitgedeel word volgens die verdienste van die mense, namate elkeen hom nie vir die eerste genade ondankbaar betoon het nie. Hulle dwaal in tweërlei opsig. In die eerste plek leer hulle dat ons dankbaarheid vir die eerste genade en die wettige gebruik daarvan deur latere gawes beloon word. In die tweede plek voeg hulle hieraan toe dat die genade nie meer alleen in ons werk nie maar net met ons saamwerk. Wat die eerste betref, sê ons dat die Here daeliks sy dienare verryk en oorlaai met nuwe gawes van sy genade, omdat Hy behae het in die werk wat Hy in hulle begin het. Hierop slaan die uitspraak: “Aan hom wat het, sal gegee word”. Maar ons moet hier vir twee dinge oppas In die eerste plek moet ons nie sê dat die gebruik van die eerste genade vergeld word deur latere genadegawes nie, asof die mens deur sy ywer die genade van God opwek. In die tweede plek moet ons oppas dat ons die vergelding nie só sal opvat dat dit nie ‘n vrye genade van God is nie. Onhandig is ook die bekende onderskeiding tussen werkende en saamwerkende genade. Paulus sê (Fil 2:13) dat dit God is wat in ons werk om te wil sowel as om te werk. En dan voeg hy daaraan toe dat Hy dit doen na sy welbehae. Dit is dus ‘n verderflike dwaling om te sê dat die mens iets uit homself neem om met Gods genade saam te werk.
12. Ten opregte word ook die woord van die apostel verdraai (1 Kor 15:10): “Ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is”. Hulle vat dit so op dat Paulus homself ‘n medearbeider van die genade noem. Maar die apostel skrywe nie dat die genade van God saam met hom gearbei het nie, maar hy skrywe al die lof vir die werk alleen aan die genade toe.
13. Laat ons nou Augustinus met sy eie woorde hoor spreek, sodat die Pelagiane nie sal beweer dat ons die hele oudheid teen ons het nie. Hy sê in een van sy boeke dat die genade om in die goeie staande te bly aan Adam gegee was as hy gewil het. Aan ons word gegee dat ons wil en deur die wil die begeerte oorwin. Hy sê ook dat die wil van die heiliges deur die Heilige Gees so aangevuur word dat hulle kan, omdat hulle so wil, en daarom wil, omdat God bewerk dat hulle so wil. Verder bespreek hy uitvoerig hoe ons harte die leiding van God volg. Hy sê dat die Here wel die mense met hulle eie wil trek maar dat Hy self die wil gewerk het. Uit die mond van Augustinus het ons nou aangetoon {130} dat die Here nie net die genade aanbied om deur elkeen se vrye keuse aangeneem of verwerp te word nie maar dat Hy self in die hart die keuse en die wil werk.
14. Op ‘n ander plek sê hy dat die wil deur die genade nie weggeneem word nie maar van ‘n slegte in ‘n goeie wil verander word en as hy dan goed is, gehelp word. Daarmee gee hy net te kenne dat die mens nie deur ‘n uiterlike dwang gedryf word nie maar dat hy innerlik so geroer word dat hy met sy hele hart gehoorsaam. Hy bestry ook die opvatting dat die genade wat volg, gegee word as ‘n loon vir die verdienstelikheid van die mens, omdat hy hom dit waardig betoon het deur die eerste genade nie te verag nie. Die hele saak kan kort saamgevat word in sy woorde dat die menslike wil nie deur sy vryheid die genade verkry nie, maar deur die genade sy vryheid; dat hy deur God se genadige barmhartigheid tot die goeie bekeer word en as hy bekeer is, daarin volhard. So word aan die mens hierdie vrye wil gelaat, nl. dat hy hom nie tot God kan bekeer nie, behalwe deur genade.
HOOFSTUK IV. Hoe God in die hart van die mense werk
1. Dit is nou genoegsaam bewys dat die mens deur die sonde so gevange gehou word dat hy uit sy eie natuur die goeie nie kan najaag nie. Die onderskeid tussen dwang en noodsaaklikheid is ook uiteengesit, sodat dit duidelik is dat hy tog vrywillig sondig as hy uit noodsaak sondig. Nou moet verklaar word watter aandeel hy en watter aandeel die duiwel in die werk het. Dan moet die kwessie ook nog opgelos word of aan God enige aandeel aan die slegte werke toegeken word. Augustinus vergelyk die mens se wil met ‘n perd en God en die duiwel met die ruiters. As God die ruiter is, bestuur Hy die wil op ‘n bedaarde wyse soos ‘n ervare ruiter. Hy bedwing dit, breek sy hardnekkigheid in en voer hom om die regte pad. Maar as die duiwel die ruiter is, dryf hy hom soos ‘n dwase ruiter oor lanings en slote, laat hom van die steiltes neerval en dryf hom in kuile in. As dus gesê word dat die wil van die natuurlike mens aan die heerskappy van die duiwel onderworpe is, wil dit nie sê dat dit hom teësit maar tot gehoorsaamheid gedwing word nie, maar dit beteken dat hy deur die verleidinge van Satan betower word en hom tot beskikking van die duiwel stel om hom te gehoorsaam. Hulle wat die Here die leiding van sy Gees nie waardig keur nie, gee Hy deur sy regverdige oordeel aan die {131} werkinge van Satan oor. Daarom sê die apostel dat die god van hierdie wêreld die sinne van die ongelowiges verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus op hulle nie sou skyn nie (2 Kor 4:4). Die verblinding van die goddelose en die skandelike dade wat daaruit voortkom, word werke van Satan genoem, maar die oorsaak daarvan moet nie buite die menslike wil gesoek word nie.
2. Heeltemal anders staan dit met die werk van God in sulke mense. Daarvan is die onheil wat die Chaldeërs Job aangedoen het, ‘n voorbeeld. Hulle het sy herders doodgemaak en sy kuddes geroof. Hulle goddeloosheid is dus duidelik te sien. Maar Satan is hierin ook nie werkloos nie. Job herken egter daarin ‘n werk van die Here. Hoe moet ons nou dieselfde werk aan God, Satan en die mense toeskrywe, sonder om Satan te verontskuldig of God die Bewerker van die kwaad te maak? Dit is maklik as ons eers let op die bedoeling van die werk en dan op die manier daarvan. Die bedoeling van die Here is om die lydsaamheid van sy dienaar te oefen. Satan probeer om hom tot wanhoop te bring. Die Chaldeërs begeer teen alle reg en billikheid in om wins uit ‘n ander een se besitting te verkry. Daar is ook verskil in die manier van werk. Die Here laat Satan toe om sy dienskneg te tref. Die Chaldeërs, wat Hy uitgekies het om dit te doen, laat Hy aan Satan oor om hulle aan te por. Satan por hulle aan om die skandelike daad te volbring en hulle self volvoer die ongeregtigheid. So sien ons dat dit nie ongerymd is om dieselfde daad aan God, Satan en die mens toe te skrywe nie. Die verskil in doel en wyse openbaar egter die onberispelike regverdigheid van God en die boosheid van Satan en die mens.
3. Die ou vaders skrik soms terug vir hierdie eenvoudige waarheid, omdat hulle bang is dat hulle aan goddelose mense daardeur die geleentheid sou gee om op ‘n oneerbiedige wyse oor die werke van God te spreek. Ek meen egter dat daar geen gevaar bestaan nie, as ons eenvoudig vashou aan wat die Skrif leer. Augustinus leer ook dat die sondes nie net onder die toelating van God val nie maar ook onder sy mag, sodat die vroeëre sondes gestraf sal word. Dikwels word gesê dat God die verworpenes verblind en verhard. Dit kan nie net as toelating verklaar word nie. As God sy Gees wegneem, word ons hart verhard, en so kan gesê word dat Hy hulle verblind en verhard aan wie Hy die vermoë om te sien, te gehoorsaam en die goeie te doen, ontneem. Die tweede manier is dit: Om sy oordele uit te voer deur Satan, die dienaar van sy toorn, neig Hy hulle raadslae waarheen Hy wil, en wek hulle wil op en versterk hulle pogings. As Moses verhaal (Deut 2:30) dat Sihon die volk Israel nie wou toelaat om deur sy land te trek nie, omdat God sy gees {132} verhard en sy hart verstok het, voeg hy dadelik die bedoeling daarby: “sodat Hy hom in ons hand sou gee”. Omdat God dus gewil het dat hy sou omkom, was die verharding van sy hart die goddelike voorbereiding van sy val.
4. Jesaja sê (Jes 63:17): “HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie?” Daar is ook nog ander getuienisse wat verder gaan, bv. dié wat handel oor die verharding van Farao (Ex 4:21; Ex 7:3): “Ek sal die hart van Farao verhard, dat hy na julle nie hoor en die volk nie laat gaan nie”. God het Farao se hart aan Satan oorgegee om dit hardnekkig te maak. Moses getuig ook dat die Here die hart van die volk verhard het (Deut 2:30; vgl. ook Ps 105:25). So dikwels as dit Hom behaag het om die oortredinge van sy volk te straf, het Hy in die verworpenes gewerk om aan Hom hulle diens te lewer (vgl. Jes 5:26 enJes 7:18). Hy noem Sanherib ‘n byl wat deur sy hand gedrywe word (Jes 10:15).
5. Dat die diens van Satan gebruik word om die verworpenes aan te hits so dikwels as die Here hulle vir een of ander doel bestem, blyk ook voldoende uit die Skrif. In die boek Samuel word gesê dat ‘n bose gees wat deur die Here gestuur is, Saul verskrik het (1 Sam 16:14) of dat ‘n bose gees van God oor Saul vaardig geword het (1 Sam 18:10). Dit mag ons nie van die Heilige Gees verstaan nie. Daarom word ‘n onreine gees ‘n gees van God genoem, omdat hy op God se wil en mag ag gee en ‘n werktuig in sy hand is (vgl. ook 2 Thess 2:11). Tog is daar in dieselfde werk altyd ‘n groot onderskeid tussen wat die Here doen en wat Satan en die goddelose doen. Die Here bewerk dat die bose werktuie wat in sy mag is, sy regverdigheid dien. Maar hulle bring die boosheid uit hulleself voort.
6. Ons het vantevore aangeroer watter vryheid die mens besit in dié handelinge wat op hulleself nie regverdig of sondig is nie en wat meer op die liggaamlike lewe as op die geestelike betrekking het. Dit moet nou verder uiteengesit word. Sommige ken aan hom in sulke werke ‘n vrye keuse toe. Ek meen egter dat ons hier nie moet vergeet nie dat dit ook ‘n besondere genade van die Here is om te kies wat in ons belang is, en om te ontvlug wat vir ons skadelik is. As ons luister na so baie getuienisse dat die Here ook hierin die hart van die mense bestuur, sal hulle ons dwing om dit aan God se besondere inwerking toe te skryf. Wie het die wil van die Egiptenaars bestuur om aan die Israeliete silwergoed en goue goed te gee? Uit hulleself sou hulle nooit daartoe gekom het nie. Die Here het dus hulle harte aan Hom onderwerp. So het ook die Gees van God Saul tot die oorlog aangedryf (1 Sam 11:6). Wie het die hart van Absalom afkerig gemaak van die raad van {133} Agitófel (2 Sam 17:14)?
7. Miskien sal iemand sê dat dit besondere gevalle is wat nie op alle andere gevalle van toepassing is nie. Maar ek sê dat deur die gevalle voldoende bewys word dat God ook in uiterlike sake die wil van die mense buig en dat hulle keuse nie so vry is dat God se wil nie oor hulle vryheid regeer nie. As Salomo skrywe (Spr 21:1): “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil”, geld dit ongetwyfeld vir alle mense. Want as daar iemand is wie se wil nie onderworpe is nie, dan is dit seker die van ‘n koning wat oor die wil van ander mense regeer. As sy wil deur God se hand gebuig word, hoeveel te meer ons wil.
8. Die lesers moet hier bedink dat wat die mens se wil vermag, nie beoordeel moet word volgens die resultaat van die dinge nie, soos sommige doen. Want hulle wil die diensbaarheid van die mens se wil daaruit bewys dat selfs die magtigste heersers nie altyd verkry wat hulle wens nie. Maar die vermoë waaroor ons spreek, is dié binne-in die mens. By die bespreking van die vrye wil is dit nie die vraag of die mens alles kan volbring wat hy hom voorgeneem het nie, maar of hy in alle moontlike sake ‘n vrye keuse het.
HOOFSTUK V. Weerlegging van die teëwerpinge wat tot verdediging van die vrye wil aangevoer word
1. Oor die diensbaarheid van die menslike wil sou ons nou verder kon geswyg het, as daar nie sommige mense was wat ons mening bestry het nie. In die eerste plek bring hulle allerhande ongerymdhede saam om die opvatting gehaat te maak. Verder stry hulle ook daarteen met getuienisse uit die Heilige Skrif. As die sonde uit noodsaaklikheid geskied, sê hulle, is dit nie meer sonde nie. As dit vrywillig geskied, kan dit vermy word. Maar ek ontken dat die sonde nie toegereken moet word omdat dit uit noodsaaklikheid geskied nie. Ek ontken ook dat dit vermy kan word omdat dit vrywillig is. Want as iemand die stryd met God sal wil aanbind en aan sy oordeel sou wil ontkom deur die voorwendsel dat hy nie anders kan nie, sal hy die antwoord gereed vind dat die mens nie kragtens sy skepping nie maar deur die verdorwenheid van sy natuur nie anders kan as om kwaad te wil doen nie. Want {134} waar kom die onmag vandaan, as dit nie daaruit voortkom dat Adam uit eie beweging hom aan die heerskappy van die duiwel onderwerp het nie? Hieruit het die verdorwenheid ontstaan wat ons almal aankleef, dat die eerste mens van sy Skepper afgeval het. Die tweede deel van hulle redenering is foutief, want hulle verwar vrywillig met vry.
2. Verder werp hulle teë dat, as die wil nie vry tussen deug en ondeug kan kies nie, dit ook nie betaamlik is dat die mens gestraf word of beloning ontvang nie. Wat die straf betref, antwoord ek dat ons dit tereg ontvang, omdat die skuld van die sonde uit ons voortkom. Want watter verskil maak dit of die mens vry of diensbaar sondig is, as hy tog met ‘n vrywillige begeerte sondig? Wat die beloninge betref, bely ons dat hulle van God se goedertierenheid afhang en nie van ons verdienstes nie. God beloon nie ons verdienstes nie maar sy eie gawes. Hulle word beloninge genoem, omdat hulle die vergelding is van genadegawes wat God alreeds geskenk het. Augustinus sê: “As u vergeld moet word wat u verdien het, moet u gestraf word. Maar God gee u nie die verdiende straf nie maar ‘n onverdiende genade. As u dan ‘n vreemdeling wil wees van die genade, roem dan op u verdienstes”. Paulus sê (Rom 8:30): “Die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik”. Vergelyk ook 1 Kor 4:7, waaruit blyk dat die apostel aan die vrye wil alles ontneem, om geen plek vir verdienste oor te laat nie.
3. Verder sê hulle nog dat, as die wil nie goed of kwaad kan kies nie, moet almal òf sleg wees òf goed. Ons is nie bang om toe te stem wat Paulus verseker, dat almal sleg is en aan die boosheid oorgegee nie (Rom 3:12), maar saam met hom bely ons dat dit deur God se barmhartigheid is dat nie almal in die boosheid bly nie. God genees wie Hy wil. Die ander gaan Hy in sy regverdige oordeel verby. Hieruit volg ook dat hulle tot die einde toe volhard, want ook die volharding is ‘n gawe van God wat Hy uitdeel aan wie Hy wil.
4. Verder beweer hulle dat daar dan tevergeefs gewaarsku en vermaan word as dit nie in die mag van die sondaar is om te gehoorsaam nie. In hierdie saak staan ons egter nie alleen nie maar saam met Christus en al die apostels. Christus getuig dat ons sonder Hom niks kan doen nie (Joh 15:5). Tog bestraf Hy die wat die kwaad doen. Paulus getuig in die brief aan die Romeine (9:16) dat dit nie afhang van hom wat wil of van hom wat loop nie, maar van God wat Hom ontferm. Tog hou hy nie op om te waarsku, te vermaan en te bestraf nie. Moses vaardig die gebooie uit, die profete bedreig die oortreders, maar hulle almal bely tog dat God die {135} harte moet besny, dat Hy sy wet in hulle binneste moet skrywe en deur hulle te vernuut maak dat die leer sy uitwerking het.
5. Waartoe dien die vermaninge dan? Wel, as hulle deur die goddelose hardnekkig verwerp word, sal hulle ‘n getuienis teen hulle wees as hulle voor die regterstoel van God verskyn. Ja, selfs in hierdie lewe gésel dit hulle gewete en word hulle deur die krag daarvan neergewerp. Die vernaamste nuttigheid van die vermaninge word egter by die gelowiges waargeneem. God werk deur sy Gees, wat die Woord gebruik. Maar waarom word hulle nie liewer aan die leiding van die Gees oorgelaat nie, in plaas daarvan om op hulle plig gewys te word? O mens, wie is jy, dat jy vir God die wet wil voorskrywe? As Hy ons juis deur vermaninge wil voorberei om die genade te ontvang, watter rede het jy dan om met hierdie orde te spot? God werk op tweërlei wyse in sy uitverkorenes: inwendig deur die Gees, uitwendig deur die Woord. Deur sy Gees maak Hy hulle tot nuwe skepsels deur hulle verstand te verlig en hulle hart te vorm tot liefde en die beoefening van die geregtigheid. Deur sy Woord wek Hy hulle op om die vernuwing na te jaag, te soek en te verkry. As Hy dieselfde Woord vir die verworpenes bestem, maak Hy dit tot ‘n kragtige getuienis om hulle gewete in die noute te bring, sodat hulle in die dag van die oordeel nie te verontskuldig sal wees nie.
6. Hulle is baie ywerig om getuienisse uit die Skrif by te bring om ons onder die getal daarvan te verpletter. Hulle vernaamste krag soek hulle in die gebooie, en dan redeneer hulle so: Òf dat God met ons spot as Hy heiligheid, vroomheid, gehoorsaamheid, kuisheid, liefde en sagmoedigheid beveel en onreinheid, afgodediens, onkuisheid, toorn, diefstal, trotsheid, verbied; òf Hy eis net wat ons kan doen. Verder kan ons al die gebooie wat hulle opnoem, in drie soorte verdeel. Sommige van die gebooie eis die eerste bekering tot God; ander spreek eenvoudig oor die onderhouding van sy wet, en die ander beveel om te volhard in die genade wat ontvang is. Ons spreek eers in die algemeen oor almal. Dat die mens die gebooie van God se wet kan onderhou, is ‘n ou verbreide opvatting, maar dit kom voort uit onkunde aangaande die wet. Want wat beteken die woorde van Paulus dat die wet sonde tot sonde maak (Rom 7:7)? Dat dit daarby gekom het, sodat die misdaad meer sal word (Rom 5:20)? Beteken dit miskien dat die wet afgemeet word na wat ons kan doen, of bewys dit nie liewer ons onmag nie? Volgens Paulus is die liefde die vervulling van die wet (1 Tim 1:5). Maar as hy bid dat die harte van die Thessalonicense daarmee vervul sal word (1 Thess 3:12), erken hy daarmee dat die wet geen uitwerking in ons het as God nie die hele inhoud daarvan in ons hart gee nie. {136}
7. As die Skrif net geleer het dat die wet die reël is waarvolgens ons ons lewe moet inrig, sal ek my by hulle opvatting aansluit. Maar nou leer dit ons ‘n veelvuldige gebruik van die wet. Daarom moet ons nou nagaan wat die wet in die mens kan doen. Wat die onderhawige geval betref, die volgende: Sodra dit voorgeskrywe het wat ons moet doen, leer die wet ons dat die krag om te gehoorsaam uit die goedheid van God voortkom. Daarom nooi dit ons uit tot die gebed om te vra dat die gehoorsaamheid aan ons gegee sal word. As daar net ‘n bevel bestaan het en geen belofte nie, sou ons moes probeer het of ons kragte voldoende was om die bevel te gehoorsaam. Maar aangesien daar ook beloftes aan die gebooie verbind word, getuig hulle dat ons heeltemal onbekwaam is om die wet te hou. Daarom sê Augustinus ook: “God beveel wat ons nie kan doen nie, sodat ons sal weet wat ons van Hom moet vra”.
8. Dit sal duideliker word as ons die drie soorte gebooie nagaan waaroor ons reeds gespreek het. Die Here gebied meermale dat ons ons tot Hom moet bekeer. Daarenteen sê Jeremia egter (31:18): “Bekeer my, dan sal ek my bekeer”. God beveel dat ons die voorhuid van ons hart moet besny, maar deur Moses verkondig Hy dat die besnydenis sy werk is (Deut 30:6). Onder die tweede soort val die eenvoudige gebooie dat ons God moet eer, sy wil moet doen, sy besluite moet hou en sy leer navolg. Maar daarteenoor staan baie plekke wat getuig dat al ons regverdigheid, heiligheid en vroomheid gawes van God is. Onder die derde soort val byvoorbeeld die vermaning van Paulus en Barnabas aan die gelowiges om in die genade van God te bly (Hand 13:43). Maar dieselfde apostel leer ons op ander plekke wáár ons die krag moet soek om standvastig te bly (Ef 6:10; 2 Thess 1:11).
9. Sommige van hulle spot met al hierdie getuienisse. Hulle sê dat niks ons verhinder om aan te neem dat ons ons eie kragte inspan en dat God ons swak pogings steun nie. Hulle haal byvoorbeeld die woorde van Sagaria aan: “Keer terug na My . . . en Ek sal na julle terugkeer” (1:3). Die volk het gekla dat God Hom van hulle afgekeer het. Nou antwoord Hy dat Hy sy goedertierenheid nie van hulle sal onttrek as hulle na Hom terugkeer en weer reg gaan lewe nie. Die teks word dus verdraai as dit so uitgelê word dat die bekering ‘n werk van God en die mens gesamentlik is.
10. Die tweede groep van hulle argumente kom baie na aan die vorige. Hulle voer die beloftes aan soos ons hulle byvoorbeeld vind in Jes 1:19, Amos 5:14 en Jer 4:1. Hulle beweer dat God met ons die spot sou dryf as Hy ons beloftes aanbied wat ons nie kan bevestig of verwerp nie. Maar ek ontken dat God met ons die spot dryf as Hy ons uitnooi om sy weldade te verdien terwyl Hy weet dat ons heeltemal onmagtig is om dit te doen. Want die {137} beloftes word sowel aan die gelowiges as aan die goddelose aangebied en het by altwee hulle nuttigheid. Aan die ongelowiges betuig God daarmee dat hulle sy weldade onwaardig is en met reg uitgesluit word van die genietinge van die dinge wat Hy aan sy opregte dienaars skenk. Aan die ander kant wek Hy deur die beloftes die gelowiges op om sy genade af te smeek. Die beloftes dien dus om liefde vir sy gebooie in ons op te wek.
11. Ook die derde groep toon ooreenkoms met die voriges. Hulle haal plekke aan waarin God die ondankbare volk verwyt dat dit sy eie skuld is dat hy nie alle goeie dinge van God ontvang het nie (vgl. Num 14:43; Jer 7:13,14,28). Hoe sou God die volk so kon verwyt, vra hulle, as die volk dadelik daarop kon antwoord dat hulle onderworpe was aan die heerskappy van die sonde en nie die vryheid gehad het om te kies vir die voorspoed en teen die teëspoed nie; m.a.w. dat God hulle ten onregte die rampe verwyt, want hulle kon dit nie ontvlug nie. Maar ek vra of die volk kon bewys dat hy onskuldig was? As dit waar is dat die sondaars deur hulle eie skuld en nie deur die van ‘n ander van die weldade van God beroof word en deur sy wraak gestraf word, bestaan daar alle rede dat hulle die verwyte uit God se mond sal hoor. Dit is dus heiligskennis as die sondaars die oorsaak van hulle rampe aan God toeskryf, terwyl dit in hulleself gesoek moet word. En dit is dwaas om te beweer dat die hart tussen goed en kwaad kan kies. Die profeet sê (Ps 119:112): “Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag vir ewig, tot die einde toe”. Tog roem hy nie dat hy self die bewerker hiervan is nie. In dieselfde psalm erken hy dat die neiging om God se gebooie te betrag ‘n gawe van God is. Daarom sê Paulus ook (Fil 2:12): “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae”. Hy wys hulle op hulle taak om te werk, sodat hulle nie aan die traagheid van die vlees sal toegee nie. Terselfdertyd stem hy hulle tot nederigheid. Hulle moet bedink dat wat hulle gebied word, God se eie werk is. Dikwels word ons ook beveel om ons van alle besmetting te reinig. En tog is die Heilige Gees die outeur van ons heiligmaking. Hoe niksbeduidend alle menslike kragte in die geestelike stryd is, leer Johannes ons as hy sê (1 Joh 3:9) dat die wat uit God gebore is, nie kan sondig nie omdat sy saad in hulle bly. Die gelowiges kan alleen deur die wapens van God die Satan oorwin.
12. Uit die wet van Moses haal hulle ‘n getuienis aan wat ons uitleg skynbaar weerspreek (Deut 30:11-14). As hier net oor die gebooie gespreek word, erken ek dat hierdie uitspraak groot betekenis het vir die onderwerp waaroor ons handel. Maar alle twyfel word weggeneem deur die apostel, wat ons leer dat Moses {138} hier oor die evangelie gespreek het (Rom 10:8). As Moses net van die gebooie gespreek het, sou hy die volk met ‘n ydele selfvertroue vervul het en sou hulle hulle in die ongeluk gestort het as hulle in hulle eie kragte die onderhouding van die wet op hulle geneem het. Dit is daarom duidelik dat Moses met hierdie woorde sinspeel op die verbond van barmhartigheid wat hy saam met die eis van die wet afgekondig het. Ook hierdie teks bewys dus niks vir die vryheid van die menslike wil nie.
13. Hulle haal ook ander plekke aan, soos bv. Hos 5:15, waarin gesê word dat God soms sy genade terugtrek en die mense beproef om te sien wat hulle sal doen. Hulle sê dat dit belaglik sal wees wanneer God sou wil sien of Israel sy aangesig sal soek, as hulle nie uit eie beweging vir goed of kwaad kon kies nie. Net so asof dit nie telkens by die profete voorkom dat God oënskynlik sy volk verwerp totdat dit sy lewe verbeter het nie. Maar watter gevolgtrekking ontleen hulle nou eintlik aan sulke bedreiginge? As hulle meen dat ‘n volk wat deur God verlaat is, vanself oor die bekering kan nadink, het hulle die getuienis van die hele Skrif teen hulle. As hulle erken dat God se genade nodig is vir die mens om hom te bekeer, waarom twis hulle dan met ons? Dat die Here weggaan, beteken dat Hy sy profete wegneem. En as daar gesê word dat Hy wil sien wat die mense sal doen, beteken dit dat Hy hulle ‘n tyd lank deur allerhande verdrukkinge in die benoudheid bring. God doen altwee om ons des te meer te verootmoedig.
14. Hulle stry ook met die volgende argument: Die goeie werke word ons s’n genoem, en daar word gesê dat ons doen wat heilig is en die Here welbehaaglik, net so goed as wat daar gesê word dat ons die sonde doen. As die sonde ons dus met reg toegereken word, moet ook aan ons ‘n aandeel toegeken word aan die goeie werke. Maar as dit waar is, sou ons ook kon sê dat dit ons brood is, terwyl ons tog bid dat God dit aan ons sal gee. Iets sterker is hulle argument dat die Skrif dikwels getuig dat ons self God dien, die geregtigheid bewaar, die wet gehoorsaam en ons daarop toelê om goeie werke te doen. Ons kan ons egter maklik uit die moeilikheid losmaak as ons maar nagaan op watter manier die Gees van die Here in die heiliges werk. As God sy ryk in hulle oprig, hou hy hulle wil in bedwang deur sy Gees. Hy buig dit en vorm dit sodat dit heiligheid en geregtigheid sal najaag. En Hy versterk dit deur sy Gees, sodat dit nie wankel nie. Daarom sê Augustinus: “As God ons nie help nie, … sal ons nie eers die stryd kan voer nie”.
15. Hieruit blyk dat die Here deur sy Gees die mens se wil rig en lei. Hy verbeter dit, hervorm dit, beweeg dit, dra en onderhou dit. Al die werke wat die gevolg daarvan is, is van Hom afkomstig. Ons werk dus wat die Gees van God in ons werk. Alle vermenging {139} van die vrye wil en die genade van God is niks anders as die vernietiging van die genade nie. Alles wat God in ons werk, is ons s’n, as ons maar verstaan dat dit nie van ons afkomstig is nie maar dat ons verstand en wil deur Hom bestuur word.
16. Die getuienisse wat hulle verder bybring, sal nie veel moeite gee nie. Hulle haal aan uit Genesis 4:7: “Sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers”. Dit maak hulle van toepassing op die sonde, asof die Here vir Kain belowe dat die krag van die sonde nie in hom sal heers nie as hy sy bes doen om dit aan bande te lê. Gestel al dat God hier oor die sonde spreek, dan is wat Hy sê, ‘n belofte of ‘n bevel. As dit ‘n bevel is, het ons alreeds aangetoon dat daardeur niks bewys word van wat die mens nog kan doen nie. As dit ‘n belofte is, waar is dan die vervulling van die belofte, aangesien Kain beswyk het vir die sonde, waaroor hy moes geheers het? Hulle sal sê dat ‘n stilswyende voorwaarde in die belofte opgesluit was, nl. dat Kain die oorwinning sou behaal het as hy gestry het. Maar wie kan so ‘n gesogte uitleg aanvaar?
17. Hulle maak ook gebruik van die getuienis van die apostel dat dit nie afhang van hom wat wil of van hom wat loop nie, maar van God wat Hom ontferm (Rom 9:16). Hieruit lei hulle af dat die wil nog die goeie kan doen as dit maar net deur God se barmhartigheid gehelp word. Maar as hulle ernstig nagedink het oor wat Paulus behandel, sou hulle hierdie uitspraak nie so misbruik het nie. Paulus leer op hierdie plek dat die saligheid net vir hulle berei is wat die Here sy barmhartigheid waardig ag, en dat die val en ondergang vir hulle wag wat Hy nie uitverkies het nie. Die lot van die verworpenes het hy aangetoon in die voorbeeld van Farao. Die sekerheid van die verkiesing uit genade het hy bevestig met hierdie getuienis van Moses: “Ek sal my ontferm oor wie Ek my wil ontferm”. En nou maak hy die gevolgtrekking dat dit nie van hom afhang wat wil nie, ens. Paulus sê eenvoudig: “Daar is geen wil en daar is geen loop wat vir ons die weg na die saligheid baan nie. Dit is alleen die barmhartigheid van die Here”. Net so skryf hy aan Titus (3:4) dat die goedertierenheid van God ons Verlosser en sy liefde tot die mense verskyn het nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid.
18. Hulle voer ook Ecclesiasticus aan, van wie ons weet dat sy gesag twyfelagtig is. Hy sê dat aan die mens, toe hy geskape is, gebooie gegee is waardeur hy bewaar sou gewees het as hy hulle bewaar het; dat lewe en dood, goed en kwaad aan hom voorgestel is en dat aan hom gegee sou word wat hy gewil het. Laat dit so wees, maar wat sou hulle sê as ons daarop antwoord, dat hy die vermoë verloor het? My antwoord aan Ecclesiasticus is daarom {140} dit: “As u die mens wil leer dat hy by homself die krag moet soek om die saligheid te verdien, is u gesag by ons nie so groot dat dit ook maar die geringste sou kon beslis teen die onbetwyfelbare Woord van God nie”.
19. Gedurig het hulle in die mond die gelykenis van die Here Jesus oor die reisiger wat die moordenaars halfdood op die pad laat lê het (Luk 10:30-37). Die algemene opvatting is dat onder die beeld van die reisiger die ellende van die menslike geslag geteken word. Daaraan ontleen hulle nou die bewys dat die mens deur die moord van die sonde en van die duiwel nie heeltemal vermink is nie. Want daar word gesê dat die reisiger half lewend agtergelaat word. Maar as ek hulle vergelyking nie wil aanvaar nie, wat sal hulle doen? Want dit is duidelik dat die vergelyking aan die woorde van die Here nie reg laat geskied nie. Ek kan hierdie versinsel maklik omvergooi Om maar een plek te noem. Paulus sê dat God ons lewend gemaak het saam met Christus, nie toe ons nog half gelewe het nie maar toe ons dood was deur die misdade (Ef 2:5).
Hierdie waarheid staan vir ons onbetwyfelbaar vas dat die verstand van die mens so heeltemal vervreemd is van God dat dit niks in hom opneem, begeer en najaag nie as net wat goddeloos, besoedel en sondig is; dat die hart so vergiftig is deur die sonde dat dit net ‘n verdorwe stank van hom laat uitgaan.
HOOFSTUK VI. Die verlore mens moet sy verlossing in Christus soek
1. Ons voortreflike oorsprong, waaroor ons gespreek het, is vir ons van weinig voordeel, omdat die hele menslike geslag in die persoon van Adam verlore gegaan het. God moet in die persoon van sy eniggebore Seun as Verlosser verskyn. Al ons kennis van God as Skepper het vir ons geen nut as die geloof nie daarby kom dat God ons Vader in Christus is nie. Dit is waar dat die hele wêreld vir ons ‘n skool moes gewees het om ons godsvrug te leer, sodat ons langs dié weg tot die ewige lewe en volmaakte geluk sou kan kom. Maar na die val ontmoet ons oral net die vloek van God, wat ons siel met wanhoop moet vervul. God wil wel dat sy vaderlike goedheid jeens ons op baie maniere sal blyk. Uit die beskouing van die wêreld kan ons egter nie opmaak dat Hy ons Vader is nie. Ons gewete oortuig ons ook dat ons sonde die oorsaak van ons verwerping deur God is. {141}
Daarby kom nog dit dat ons verstand die waarheid nie opmerk nie, omdat dit verduister is. Ook beroof ons deur ons verdorwenheid God kwaadwilliglik van sy heerlikheid. Ons moet dus kom tot wat Paulus sê: “Aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red” (1 Kor 1:21). Hy noem die pragtige skoutoneel van hemel en aarde die wysheid van God waaruit ons Hom moes leer ken het. Omdat ons egter daarin so sleg gevorder het, roep hy ons terug tot die geloof in Christus. Die prediking van die kruis moet ons ootmoedig aanvaar, as ons weer tot God ons Skepper en Maker wil terugkeer, sodat Hy weer kan begin om vir ons ‘n Vader te wees. Christus sê ook (Joh 17:3): “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het”. Hy is die enigste deur waardeur ons tot die saligheid ingaan. Vergelyk ook Ef 2:12. Alleen die wat in sy Naam glo, word kinders van God (Joh 1:12) en nie die wat nie in sy Liggaam ingelyf is nie.
2. God het aan die volk Israel nooit hoop op genade sonder die Middelaar gegee nie. Hy het wel die hele nageslag van Abraham in sy verbond ingesluit. Tog sê Paulus dat Christus die eintlike saad is in wie al die volke geseën moet word (Gal 3:16). Dit staan wel nie met soveel woorde by Moses nie, tog is dit duidelik dat al die vromes dit geweet het. Voordat daar nog ‘n koning oor die volk gesalf was, sê Hanna: “Hy gee sterkte aan sy koning en verhef die horing van sy gesalfde” (1 Sam 2:10; vgl. ook vs. 35). Dit was ook die wil van God dat in Dawid en sy nageslag ‘n lewende beeld van Christus gesien sou word (vgl. 1 Kon 15:4; 2 Kon 8:19). God wil sy kerk so bewaar dat sy behoud en saligheid van die Hoof afhang. Daarom sê Dawid: “Die HERE … is ‘n vesting van verlossing vir sy gesalfde”, en dan voeg hy die gebed daarby: “Verlos u volk en seën u erfdeel” ens , om daarmee te kenne te gee dat die toestand van die kerk deur ‘n onverbreeklike verband met die ryk van Christus verbind is (Ps 28:8-9). Vergelyk ook Ps 80:18, waar die psalmdigter bid dat God sy volk weer in hulle Hoof sal oprig. Hieruit blyk duidelik dat God die menslike geslag nie sonder die Middelaar genadig kan wees nie en dat Christus aan die heilige vaders onder die wet altyd voorgestel was om hulle geloof op Hom te vestig.
3. As in teëspoed troos beloof word, en veral wanneer die bevryding van die kerk beskryf word, word die vertroue en hoop op Christus self gevestig (vgl. Hab 3:13). Hierop het ook betrekking die beroemde woord van Jesaja 7:14: “Kyk, ‘n maagd sal swanger word en ‘n seun baar”. Hiermee gee hy te kenne dat die Verlosser tog op sy tyd sal kom, hoewel die koning en die volk, deur hulle {142} ongeloof, die aangebode belofte verwerp het. So doen al die profete. Hulle maak melding van die ryk van Dawid waaraan die verlossing en ewige saligheid hang (as hulle wil aantoon dat God Hom wil laat versoen) (vgl. Jes 55:3; Jer 23:5-6; Eseg 34:23; Eseg 37:24,26 en veral Sag 9:9).
4. Dit was God se wil dat die Jode deur hierdie voorsegginge so onderrig sou word dat hulle hulle oë op Christus sou rig om verlos te word. Die herinnering hieraan kon nie uitgewis word nie dat God deur die hand van Christus die verlosser van sy kerk is, soos aan Dawid toegesê is, en dat só eers die genadeverbond vas sou staan waardeur Hy sy uitverkorenes as sy kinders aangeneem het. As die kinders sing: “Hosanna, die Seun van David”, sing hulle maar net wat algemeen bekend was, nl. dat die koms van die Verlosser die enigste pand was dat God sy volk barmhartig sal wees. Hiermee stem ook ooreen die woorde van Christus self aan sy apostels: “Glo in God, glo ook in My” (Joh 14:1). Hoewel die skrifgeleerdes deur allerhande onwaarhede verduister het wat die profete oor die Verlosser geleer het, het Christus dit tog as ‘n algemeen bekende saak aanvaar dat die kerk op geen ander manier verlos kon word nie as deur die openbaring van die Middelaar. Die lesers moet die volgende vashou: dat God vir ons ‘n Vader is om ons te beskerm, te lei en te koester, totdat Hy ons versamel in sy ewige koninkryk. Hieruit volg dat daar sonder Christus geen saligmakende kennis van God bestaan nie. Hy is daarom van die begin van die wêreld af aan alle uitverkorenes bekend gestel om op Hom te sien en hulle vertroue op Hom te vestig.
HOOFSTUK VII. Die wet is aan die ou volk gegee om hulle hoop op die saligheid in Christus te voed tot op sy koms
1. Die wet is ongeveer 400 jaar na die dood van Abraham gegee. Die doel daarvan was nie om die uitverkore volk van Christus af te lei nie maar om hulle harte in verwagting te hou tot op sy koms, om die verlange wakker te hou en hulle te versterk. Onder die wet verstaan ek nie net die tien gebooie nie maar ook die inrigting van die erediens wat God deur die hand van Moses beveel het. Onheilige mense hoor met afkeer van so baie seremonies. Hulle vra hulle ook verwonderd af waarom God die ou volk met so baie seremonies vermoei het. Hulle verag dit as kinderspel. {143} Dit alles doen hulle omdat hulle nie op die bedoeling van God let nie. Hy het nie die baie offerandes beveel om sy dienaars met aardse oefeninge besig te hou nie maar om hulle verstand na bo te rig. God is geestelik en kan daarom alleen in ‘n geestelike diens behae hê. Daarvan getuig so baie uitsprake van die profete waarin hulle die Jode berispe omdat hulle meen dat offerandes vir God enige waarde het. Hulle het dit nie gedoen om iets aan die wet te kort te doen nie maar om die oë te rig op die doel waarvan die groot massa afgedwaal het. Die doel van hulle aanneming as kinders is dat hulle vir God tot ‘n priesterlike koninkryk sou wees (Ex 19:6). Dit kon alleen bereik word as daar ‘n groter en heerliker versoening gekom het, nl. die offerande van Christus.
2. Terloops moet opgemerk word dat die koninkryk wat in die huis van Dawid opgerig is, ‘n deel van die wet is. Christus is dus aan die volk verkondig sowel in die geslag van die Leviete as in die nakomelinge van Dawid. Anders sou hulle, wat slawe van die sonde en die dood was, geen konings en priesters voor God kon gewees het nie. Dit is dus volkome waar dat die wet ‘n tugmeester tot Christus is (Gal 3:24). Hoe die Jode deur die seremonies na Christus gelei is, het ons al gesê en kan uit die verskillende getuienisse van die profete beter begryp word. Hulle moes wel daagliks nuwe offerandes bring. Tog belowe Jesaja dat deur ‘n enige offerande al hulle sondes versoen sal word (Jes 53:5). Om nie meer getuienisse te noem nie, verwys ek net na wat die skrywer van die brief aan die Hebreërs in hoofstuk 4-11 uitvoerig behandel, nl. dat die seremonies geen betekenis het as hulle van Christus losgemaak word nie. Wat die tien gebooie betref, moet ons die woorde van Paulus onthou dat Christus die einde van die wet is tot geregtigheid vir elkeen wat glo (Rom 10:4). Dit sou ons niks baat om te weet wat God van ons eis, as Christus ons nie te hulp kom nie.
3. Ons moet nou kortliks nagaan hoe ons deur die sedewet onderwys word om die vergewing te soek. As dit waar is dat die volmaakte geregtigheid ons in die wet geleer word, volg daaruit dat dit ook die volmaakte geregtigheid voor God is as ons die wet volledig hou. Aan die ander kant moet ons ook nagaan of ons die gehoorsaamheid bewys. Want wat beteken dit om te sien dat die ewige lewe as beloning op wetsonderhouding gegee word as dit nie vasstaan dat ons langs die weg tot die ewige lewe kan kom nie? Hierin word die swakheid van die wet openbaar. Want aangesien niemand van ons dit onderhou nie, word ons van die belofte van die lewe uitgesluit en verval ons onder die vloek. Dus bly net oor dat die mens deur die beloftes sy eie ellende beter kan verstaan, nl. dat die hoop op die saligheid vir hom afgesny is en {144} die dood hom dreig. Daarteenoor dreig vreeslike strawwe, sodat ons in die wet die dood onmiddellik voor ons sien.
4. Ons moet dus alle moed verloor as ons net op die wet sien, omdat dit ons net verdoem en vervloek en nie die geluksaligheid bring nie. Spot die Here dan met ons deur ons die hoop op geluk te toon, daartoe uit te nooi en te betuig dat dit vir ons gereed lê, terwyl intussen die toegang vir ons gesluit is? Ek antwoord dat die beloftes van die wet nie tevergeefs is nie, hoewel hulle van volmaakte gehoorsaamheid aan die wet afhanklik is. Hulle mis nie hulle werking nie, as ons maar geleer het dat hulle vir ons niks uitwerk as God ons nie deur sy goedheid uit genade omhels nie. Want dan skenk Hy ons alles uit genade op hierdie wyse: Hy verwerp nie ons halwe gehoorsaamheid nie. Hy vergewe wat aan die vervulling van die wet ontbreek, en laat ons die vrug van die beloftes geniet, net so asof ons alle voorwaardes vervul het.
5. Ons moet nou in enkele woorde uitlê wat ons gesê het oor die onmoontlikheid om die wet te hou. Onder onmoontlik verstaan ek wat nooit gewees het nie en deur God se ordinansie en besluit verhinder word om ooit te wees. As ons van die vroegste tye begin, was daar nooit ‘n heilige wat met sy hele hart, met sy hele verstand, met sy hele siel en met al sy kragte God bemin het nie. En ek sê dat daar hierna ook niemand sal wees wat tot die ware volmaaktheid sal kom nie, solank hy nog nie van die las van die liggaam verlos is nie. Hiervoor bestaan duidelike uitsprake van die Heilige Skrif. Dawid sê: “Niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie” (Ps 143:2; vgl. ook 1 Kon 8:46). Almal is vervloek wat nie bly in alles wat in die boek van die wet geskryf is nie (Gal 3:10). Dit is dus duidelik dat die vervulling van die wet onmoontlik is, as ons op die onmag van ons natuur let (Rom 8:3).
6. Om die saak duideliker te maak moet ons nou kortliks nagaan wat die taak en gebruik van die sedewet is. Die taak bestaan uit drie stukke. Die eerste is dat dit elkeen herinner aan sy ongeregtigheid, hom oortuig en hom veroordeel, deur hom die geregtigheid voor te hou wat God behaag. Want dit is nodig dat die mens wat blind is deur selfliefde, tot kennis en erkenning van sy swakheid en onreinheid gebring word. So moet hy ook genees word van die hoogmoed waaraan hy ly. Solank hy toegelaat word om op sy eie oordeel af te gaan, sien hy huigelary aan vir geregtigheid en verhef hom teen die genade van God. Maar as hy gedwing word om sy lewe in die weegskaal van die wet te weeg, laat hy die gewaande geregtigheid vaar. Nou sien hy dat hy ver verwyder is van heiligheid en vol van ontelbare foute (vgl. Rom 7:7).
7. Die wet is dus ‘n spieël waarin ons ons onmag, ons {145} ongeregtigheid en ten slotte ons vervloeking aanskou. Want elkeen wat die geregtigheid nie kan navolg nie, moet in die modder van die sonde bly steek. En op die sonde volg dadelik die vervloeking. Hierop slaan die woord van die apostel dat deur die wet die kennis van die sonde is (Rom 3:20). Hiermee hang ook saam die ander woord dat die wet daarby gekom het, sodat die misdaad meer sal word (Rom 5:20). Die wet wapen dus die toorn van God tot die ondergang van die sondaar, want dit kan niks anders doen as beskuldig, veroordeel en te gronde rig nie. Dit bevestig dat die lewe as loon weggelê is vir die wat geregtigheid doen, en leer ‘n gewisse ondergang vir die onregverdiges. Dit word nie tot nadeel van die wet gesê nie, want dit is duidelik dat ons deur ons verdorwenheid verhinder word om die geluk te geniet wat die wet aanbied. Daardeur word ook die genade van God liefliker en sy barmhartigheid beminnenswaardiger. Immers, dit leer ons dat Hy nooit moeg word om altyd weer goed te doen en nuwe gawes aan die voriges toe te voeg nie.
8. Ons almal se ongeregtigheid en verdoemenis word dus deur die getuienis van die wet verseël. Maar die doel is nie dat ons in wanhoop sal beswyk, die moed sal opgee en ons in die verderf stort nie. Dit oorkom wel die verworpenes weens hulle hardnekkigheid. Maar by die kinders van God het die onderwysing ‘n ander bedoeling. Die apostel getuig wel dat ons deur die wet veroordeel word, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig sal wees (Rom 3:19); dat God almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit het, nie om hulle te vernietig nie maar om almal barmhartig te wees. God verskyn onder die gebooie van die wet as Beloner net van die volmaakte geregtigheid en as ‘n gestrenge Regter van die misdade. Maar in Christus skitter sy aangesig vol van genade en sagmoedigheid, ook vir ellendige en onwaardige sondaars.
9. Augustinus spreek dikwels oor die uitwerking van die wet. “Die nuttigheid van die wet is daarin geleë”, sê hy, “dat dit die mens oortuig van sy swakheid en hom aandryf om die genade in Christus te vra”. Ook in die verworpenes werk die wet. Dit strek tot openbaring van die billikheid van die oordeel van God.
10. Die tweede taak van die wet is om die wat hulle nie oor reg en geregtigheid bekommer nie, ten minste te bedwing deur vrees vir die straf. Dit laat hulle hulle hande van die kwaad afhou wat hulle anders brutaalweg sou gedoen het. Hierdeur is hulle egter nie beter of regverdiger by God nie. Inteendeel, hoe meer hulle hulle inhou, hoe meer brand en kook hulle om in alle ongeregtigheid uit te bars as die vrees vir die wet nie daar was nie. Hulle haat ook die wet en vervloek God, die Wetgewer. As hulle {146} kon, sou hulle Hom uit die weg wou ruim. Hulle onderwerp hulle dus nie vrywillig nie maar teen hulle wil en teëstribbelend. Tog is hierdie gedwonge geregtigheid nodig vir die menslike samelewing. So word vir die rus daarvan gesorg en daarvoor gewaak dat alles nie in verwarring geraak nie. Ook vir die kinders van God is dit vóór hulle roeping nuttig om deur hierdie tug geoefen te word. Hulle word deur die skrik vir God se wraak teruggehou van brood-dronkenheid, ook al is hulle nog verstoke van die Gees van heiligmaking, en hulle word gewoond gemaak om die juk van geregtigheid te dra.
11. Op altwee take kan toegepas word die woorde van Paulus dat die wet ‘n tugmeester tot Christus is (Gal 3:24). Daar is twee soorte mense wat dit so na Christus lei. Die eerstes is die wat ongeskik is om die genade van Christus te ontvang, omdat hulle te veel op hulle eie deugsaamheid vertrou. Die wet maak hulle nederig deur hulle hulle eie ellende te leer ken. Die ander is die wat ‘n toom nodig het om nie losbandig te lewe nie. As God hulle nie dadelik wederbaar wat Hy as erfgename van sy ryk bestem het nie, bewaar Hy hulle onder die vrees, om hulle so tot die ware vroomheid op te voed.
12. Die derde gebruik van die wet en tewens die vernaamste vind plaas by die gelowiges in wie se hart die Gees van God alreeds heers. Hulle vorder in tweërlei opsig in die wet. Dit is vir hulle ‘n middel om daagliks beter te leer wat die wil van die Here is, en om in die kennis daarvan versterk te word. Niemand van ons het al so ver in die wysheid gevorder dat hy nie daagliks deur die onderwysing van die wet God se wil suiwerder kan leer ken nie. Die voortdurende oordenking van die wet spoor ons vervolgens ook aan tot gehoorsaamheid en hou ons van die pad van die sonde af. Dit het Dawid op die oog as hy in Ps 19:8 e.v. sê: “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë”. Hier sing die profeet van die groot nut wat die onderwysing van die wet meebring vir hulle aan wie God die bereidheid skenk om te gehoorsaam. Hy spreek ook nie net van die gebooie nie maar ook van die belofte van genade wat daarmee verbonde is. Dawid toon aan dat hy in die wet die Middelaar aangegryp het, sonder wie daar geen genieting of lieflikheid is nie.
13. Onervare mense wat dit nie kan onderskei nie, verwerp die wet. Hulle sê dat dit vir ‘n Christen nie pas om ‘n leer aan te hang wat die bediening van die dood bevat nie. Moses leer egter dat die wet in die heiliges ‘n voortrefliker gebruik het. Voor sy dood sê hy vir Israel: “Gee ag op al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, dat julle dit julle kinders beveel om al {147} die woorde van hierdie wet sorgvuldig te hou. Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe” (Deut 32:46-47). As elkeen erken dat in die wet ‘n volkome voorbeeld van geregtigheid skitter, moes ons òf geen enkel reël hê om goed en regverdig te lewe nie, òf dit is ongeoorloof om daarvan af te wyk. Dawid sê ook dat die lewe van ‘n regverdige man daarin bestaan dat hy gedurig die wet oordink. Dit pas op elke tyd, tot die voleinding van die wêreld toe. Ons moet ons dus nie aan die onderwys van die wet onttrek nie, omdat dit ‘n volkomener heiligheid voorskrywe as wat ons nou kan bereik. Want in hierdie volmaaktheid waartoe dit ons aanspoor, toon dit vir ons die einddoel waarna ons ons lewe lank moet streef. En as ons daarin nie beswyk nie, is dit goed. Want die hele lewe is ‘n loopbaan. En as ons dit afgeloop het, sal die Here gee dat ons die eindpaal bereik.
14. Die gelowiges word deur die wet aangespoor. Dit bind nie hulle gewete vas aan die vloek nie, maar dit verdryf hulle traagheid en openbaar aan hulle hulle onvolmaaktheid. Baie sê dat die wet vir die gelowiges afgeskaf is. Dit verskrik nie meer hulle gewete nie en veroordeel hulle nie. So ‘n afskaffing van die wet het Paulus ook geleer. Laat ons egter noukeurig onderskei wat in die wet afgeskaf is en wat nie. As die Here sê (Mat 5:17) dat Hy nie gekom het om die wet te ontbind nie maar om dit te vervul, bevestig Hy daarmee dat deur sy koms niks van die onderhouding van die wet weggeneem is nie. En dit tereg, want Hy het gekom om die oortreders van die wet te genees. Die wet leer ons dus nog, dit vermaan en bestraf ons en vorm ons tot elke goeie werk.
15. Wat Paulus oor die vloek sê, het alleen betrekking op die krag wat die wet het om die gewete te bind. Want die wet onderwys nie net nie, maar dit eis ook wat dit beveel. En as sy gebooie nie uitgevoer word nie, dreig dit met die vervloeking. Daarom sê Paulus (Gal 3:10) dat almal wat onder die wet is, onder die vloek is. Om ons van hierdie vervloeking te verlos het Christus vir ons tot ‘n vloek geword (Gal 3:13; Gal 4:4). Ons gewete word nie meer deur die angs vir die dood gedruk nie. Intussen bly dit vas staan dat daar niks van die gesag van die wet afgaan nie maar dat ons dit altyd met eerbied en gehoorsaamheid moet aanneem.
16. Anders is dit gesteld met die seremonies. Hulle gebruik is afgeskaf deur die koms van Christus. Dit ontneem egter niks aan hulle heiligheid nie. Die krag van Christus se dood en opstanding word in hulle getoon (Kol 2:17). In hulle afskaffing kom dus die waarheid beter uit. Hierop sien die woorde van Christus (Luk 16:16) dat die wet en die profete tot op die tyd van Johannes was en dat van toe af begin is om die koninkryk van God te verkondig. Dit beteken nie dat die heilige vaders beroof was van die prediking {148} wat die hoop op saligheid bevat het nie, maar dat hulle net van veraf aanskou het wat ons nou in die volle lig sien. Die wet is deur Moses gegee, die genade en die waarheid egter het deur Christus geword (Joh 1:17).
17. Meer moeilikheid lewer die woorde van Paulus (Kol 2:13): “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael”. Dit lyk of hy die afskaffing van die wet sover uitstrek dat ons niks meer met sy besluite te maak het nie. Hulle dwaal wat die woorde net op die sedewet laat slaan. Ander laat dit slaan op die wet van die seremonies, omdat in die seremonies meer ‘n belydenis van misdade as van versoening opgesluit gelê het. In die offers het Israel erken dat hulle die dood skuldig was en onrein. So is telkens deur hulle die handskrif van hulle sonde en onreinheid vernuut, maar betaling daarvoor het nie geskied nie. Daarom skryf die apostel (Hebr 9:15) dat die dood van Christus eers versoening gebring het vir die oortredinge wat onder die Ou Testament bly bestaan het. Die apostel noem dus tereg die seremonies handskrifte wat teen hulle doemwaardigheid en onreinheid getuig Die genade ontvang hulle net soos ons alleen in Christus. Omdat die valse apostels die Christelike kerk weer aan die seremonies wou bind, wys Paulus die Kollossensers op wat die uiteinde daarvan sal wees. Hulle sou die weldaad van Christus se offerande ontneem word.
HOOFSTUK VIII. Uitleg van die sedewet
1. Dit sal nie onvanpas wees om die tien gebooie met ‘n kort uitlegging daarvan hier in te voeg nie. Daaruit sal duideliker word wat ons alreeds geleer het, nl. dat die diens wat God eenmaal voorgeskrywe het, nog van krag is. Vervolgens sal blyk dat die Jode daaruit geleer het wat die ware godsdiens is; ook hoedat hulle tot die Middelaar getrek is. Ons het alreeds geleer hoedat die majesteit van God ons tot sy diens verbind. Verder dat die vernaamste deel van die selfkennis daarin bestaan dat ons sal afsien van alle vertroue op ons eie krag of geregtigheid en ware nederigheid sal leer. Dit alles bewerkstellig die Here in sy wet. Daarin maak Hy aanspraak op sy mag om te beveel en roep ons op tot {149} eerbiediging van sy goddelike wil. Verder beskuldig Hy ons van onmag sowel as van ongeregtigheid. Dit is waar dat ons gewete ons verhinder om in die sonde te slaap en inwendig getuig en ons herinner wat ons aan God verskuldig is. Tog word ons daardeur ternouernood geleer watter diens God welbehaaglik is. Daarby is ons deur eersug en selfliefde so verblind dat ons ons nie in ons ellende ken en verootmoedig nie. Daarom het die Here ons die geskrewe wet gegee om duidelik te getuig van die dinge wat in die natuurlike wet nog duister was.
2. Ons kan nou maklik begryp wat ons uit die wet moet leer, nl. dat God ons Skepper is en met reg die plek van Vader en Heer teenoor ons inneem. Vervolgens dat ons daarom aan Hom eerbied, liefde en vrees verskuldig is; dat ons nie ons eie meester is nie maar voortdurend op sy wenke moet let en moet bly in wat Hom behaag. Ten slotte leer ons dat Hy regverdigheid en opregtheid liefhet en ongeregtigheid haat. As ons dus nie in goddelose ondankbaarheid van ons Skepper wil afwyk nie, moet ons ons hele lewe lank geregtigheid beoefen. Ons mag nie as verontskuldiging aanvoer dat ons nie in staat is om dit te doen nie. Dit pas ons nie om God se eer af te meet na wat ons kan doen nie. Hy bly altyd ‘n vriend van geregtigheid en ‘n vyand van ongeregtigheid. En wat Hy van ons eis, is alleen gehoorsaamheid. Dit is ons skuld dat ons dit nie meer kan bewys nie.
As ons deur die leer van die wet sover gevorder het, moet ons nou tot onsself kom en twee gevolgtrekkinge maak. Die eerste is dat ons op verre na nie aan God se wil beantwoord nie en daarom onwaardig is om sy kinders genoem te word. Vervolgens dat ons kragte geheel en al niks beteken nie. Daaruit volg angs en vrees en ook dat ons ons eie kragte wantrou. En so gebeur dit dan dat ons ons alleen tot God se barmhartigheid wend en daarop die hoop vir die saligheid bou.
3. Die Here is nie tevrede daarmee dat Hy vir sy regverdigheid eerbied by ons opwek nie. Om ons harte te vervul met liefde vir Hom en met haat jeens die ongeregtigheid voeg Hy beloftes en bedreiginge daaraan toe, om ons te lok om Hom lief te hê en te soek. Hy kondig aan dat niemand tevergeefs sal gehoorsaam nie. Daarenteen verkondig Hy dat Hy die ongeregtigheid haat en dit nie ongestraf sal laat bly nie. Om ons op alle maniere aan te spoor belowe Hy seëninge vir die teenwoordige lewe en die ewige geluksaligheid vir die wat sy gebooie hou. Die oortreders dreig Hy egter met rampe vir die teenwoordige lewe en met die straf van die ewige dood. Want die belofte (Lev 18:5) dat die mens wat sy verordeninge doen, daardeur sal lewe en die dreigement (Eseg 18:20): “Die siel wat sondig, sal sterf”, het ongetwyfeld betrekking op ‘n ewige onsterflikheid en dood. In die wet word ‘n lang {150} opsomming gegee van die seëninge en vervloekinge vir die teenwoordige lewe (Lev 26:4 e.v.; Deut 28:1 e.v.). In die strafbepalinge word ons gewys op die volmaakte reinheid van God, wat geen ongeregtigheid kan verdra nie; in die beloftes op sy wonderbare goedertierenheid en liefde van die geregtigheid.
4. As die Here ons die volmaakte regverdigheid wil leer, toon Hy aan dat alleen gehoorsaamheid Hom behaag. Hierop moet ons let, omdat die mens so geneig is om vir hom ‘n godsdiens uit te dink waardeur hy hom by God verdienstelik maak. Hy wil vir hom geregtigheid verskaf buiten Gods Woord om. Hierdie neiging wil Moses beteuel as hy vir die volk sê (Deut 12:28,32): “Luister sorgvuldig na al hierdie woorde wat ek jou beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan tot in ewigheid, as jy doen wat goed en reg is in die oë van die HERE jou God. … Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie”. God het voorsien dat die Israeliete sal trag om nuwe geregtighede vir hulle op te rig. Daarom verkondig Hy dat die volmaakte geregtigheid in gehoorsaamheid bestaan. Tog het hulle hulle nie laat afhou van wat so streng verbied was nie. En ook ons vermoei ons om die een goeie werk na die ander uit te dink en te doen. Die beste middel om van hierdie kwaad genees te word, is om gedurig te bedink dat God ons die wet gegee het om ons volmaakte geregtigheid te leer. Ons probeer dus tevergeefs om God gunstig teenoor ons te stem deur allerhande werke te versin. Sy diens bestaan alleen in gehoorsaamheid. Alle strewe om goeie werke te doen, buite die wet van God om, is ‘n ondraaglike ontheiliging van die goddelike geregtigheid.
5. Voordat ons elke stuk afsonderlik behandel, moet ons eers wys op wat bevorderlik is vir die algemene kennis van die wet. Dadelik sal ons dan ook moet vasstel dat die wet ons nie net leer om uiterlik eerbaar te lewe nie maar dat dit ons ook vorm om innerlik regverdig te wees. Niemand sal dit ontken nie, maar weinige gee daarop ag. Dit kom omdat hulle nie op die Wetgewer let nie. As ‘n koning verbied om dood te maak en te steel, sal elkeen wat dit nie doen nie, nie aan oortreding skuldig wees nie. Maar God verbied onder doodslag ook die bose lus, toorn, haat en die begeerte na ‘n ander se goed. Want Hy is ‘n geestelike Wetgewer en spreek daarom net sowel tot die siel as tot die liggaam. Die menslike wet- gewer ondersoek wat die bedoeling was toe die misdaad gepleeg is, maar die verborge gedagtes laat hy buite rekening. Daarom is aan die aardse wette voldoen as maar net die daad nie gepleeg is nie. Die hart van die mense is ver van gehoorsaamheid verwyder. Tog meen hulle dat hulle die wet vervul het as hulle maar net vir die mense verberg wat hulle onder die oë van God doen. Die vernaamste van die wet ontbreek dus juis by hulle. Teen hulle getuig Paulus {151} (Rom 7:14) dat die wet geestelik is. Dit eis gehoorsaamheid van siel, verstand en wil en ‘n reinheid soos die van die engele.
6. As ons sê dat dit die betekenis van die wet is, is dit nie ‘n nuwe uitleg wat ons self gee nie, maar ons volg maar net Christus na, wat die beste uitlegger van die wet is (Mat 5:21 e.v.). Hy getuig byvoorbeeld dat elkeen wat sy broer haat, ‘n moordenaar is. Hulle wat dit nie insien nie, maak van Christus ‘n tweede Moses, wat vervul het wat aan die Mosaïese wet ontbreek het. Die wet van die evangelie oortref dus die ou wet. Dit is ‘n verderflike dwaling. Hulle meen dat Christus iets aan die wet toevoeg, terwyl Hy dit slegs in sy suiwere staat herstel. Hy bevry dit van die leuens van die Fariseërs wat dit verduister het.
7. Ons tweede opmerking is dat in die gebooie en verbiedinge meer opgesluit lê as wat deur die woorde uitgedruk word. Die deel word vir die geheel geneem. Ek is van oordeel dat by elke gebod oorweeg moet word waarom dit gegee is. So is byvoorbeeld die bedoeling van die vyfde gebod dat ons hulle moet eer aan wie God eer toeken. Dit behaag Hom. So moet by elke gebod afsonderlik nagegaan word waaroor dit gaan. Vervolgens moet die bedoeling gesoek word, totdat ons vind wat God behaag of mishaag. En dan moet daaruit weer die teendeel afgelei word.
8. Dit sal duideliker word as ons die gebooie self uitlê. Dit het geen bewys nodig dat as iets goeds gebied word, die kwaad verbied word wat daarmee in stryd is nie. Maar ons eis nog iets meer. Neem byvoorbeeld die gebod: “Jy mag nie doodslaan nie”. Die algemene gevoel is dat ons ons moet onthou van die kwaad en die lus om dit te doen. Maar ek sê dat daar ook nog in opgesluit lê dat ons die lewe van ons naaste met alle moontlike middels moet help. God eis van ons die liefde om daardie lewe te bewaar.
9. Wat die vraag betref waarom God die deel vir die geheel neem, moet ons opmerk dat Hy die gruwelikste oortreding noem, sodat ons daarvoor sal huiwer en Hy ‘n groter afsku vir elke sonde in ons hart sal indruk. Ons bedrieg ons meermaal deur sonde gering te ag as dit maar enigsins bedek is. Hierdie bedrog verdryf die Here as Hy ons daaraan gewoond maak om die hele menigte van sondes onder die hoofsonde saam te vat. Toorn en haat word, byvoorbeeld, nie as groot sondes beskou as hulle met hulle eie name genoem word nie, maar as hulle met die naam doodslag genoem word, begryp ons hoe verfoeilik hulle voor God is.
10. In die derde plek moet ons nagaan wat die bedoeling is van die verdeling van die wet in twee tafels. God het die wet so ingedeel dat die eerste deel op sy diens betrekking het en die tweede deel betrekking het op die liefde wat ons aan die mense verskuldig is. Die eerste fondament van die geregtigheid is die diens van God. Watse geregtigheid sal dit wees as ons nie roof of steel {152} nie, terwyl ons aan die ander kant God se majesteit van sy eer beroof? Regverdigheid sonder godsdiens is nie van veel waarde nie. Die godsdiens is dus die vernaamste deel van die geregtigheid. Sonder die vrees van die Here bewys mense ook nie aan mekaar geregtigheid en liefde nie. Daarom onderwys God ons deur die eerste tafel wat ons aan sy majesteit verskuldig is. Deur die ander leer Hy ons hoe ons in die vrees van sy Naam ons teenoor ons medemens moet gedra. Só het Christus ook die hele wet saamgevat in die woorde dat ons God moet liefhê met ons hele hart, met ons hele siel, met ons hele gemoed en met al ons kragte en dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself.
11. Om alle voorwendsels van verontskuldiging weg te neem beskryf God deur die tien gebooie uitvoerig alles wat op sy eer, vrees en liefde betrekking het en ook alles wat betref die liefde wat ons aan mense om sy ontwil moet bewys. Wat die verdeling van die gebooie betref, sommige verdeel dit so dat hulle drie gebooie op die eerste tafel plaas en die orige sewe op die tweede. Ander stel vier op die eerste tafel en ses op die tweede tafel. Origenes het hierdie verdeling en ook Augustinus.
Die eerste gebod
Ek is die HERE jou God, wat jou uit Egipteland uit die slawehuis uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
12. Die eerste sin is ‘n voorrede tot die hele wet. God sorg daarvoor dat die majesteit van sy wet nie in veragting sal kom nie. Om dit te bekragtig maak Hy van die volgende middels gebruik. Ten eerste maak Hy aanspraak op sy mag en sy reg om te heers, om daardeur die uitverkore volk te bind aan die noodsaaklikheid om te gehoorsaam. Ten tweede stel Hy die belofte van genade voor, om deur die lieflikheid daarvan die volk te lok om heiligheid na te jaag. Ten derde herinner Hy aan sy weldaad, om op die wyse die volk van ondankbaarheid te beskuldig as hulle nie aan sy goedertierenheid beantwoord nie.
13. Nadat Hy aangetoon het dat Hy die reg het om te gebied en dat aan Hom gehoorsaamheid verskuldig is, lok Hy ook die volk deur te verklaar dat Hy die God van die kerk is. Dit is asof Hy sê: “Ek het julle as my volk uitverkies om nie net in die teenwoordige lewe aan julle goed te doen nie maar om ook aan julle die saligheid van die toekomende lewe te skenk” (vgl. Deut 7:6; Deut 14:2; Deut 26:18). {153} Daarom kan Hy dan ook die volk vermaan om heilig te wees soos Hy heilig is (Lev 19:2).
14. Dan volg die herinnering aan die weldaad wat Hy so pas aan die volk bewys het maar wat ook van krag was vir die nageslag. Hy sê dat hulle daarom uit die slawerny verlos is dat hulle Hom wat hulle vrygemaak het, sal gehoorsaam en in onderdanigheid sal eer. Ons moet nie dink dat dit ons nie aangaan nie. Die slawerny van Israel in Egipte is maar net ‘n beeld van die geestelike gevangenskap waarin ons almal verkeer totdat God ons verlos en in die ryk van die vryheid oorplaas. Daarom moet ons luister na die wet van die hoogste Koning. Ons moet Hom van harte liefhê wie se gebooie ons mag onderhou en van wie se goedertierenheid ons ‘n oorvloed van goeie dinge en die onsterflike lewe mag verwag.
15. Nadat God die gesag van sy wet afgekondig het, gee Hy die eerste gebod. Die bedoeling van die gebod is dat Hy sy reg as God onder die volk alleen wil besit. Daarom gebied Hy dat alle goddeloosheid en bygeloof wat sy eer as God verduister, van ons geweer moet word en dat ons Hom alleen sal eer en aanbid. Wat ons aan God verskuldig is, kan ons onder vier hoofpunte saamvat: aanbidding, waarmee gehoorsaamheid gepaard gaan; vertroue, aanroeping en danksegging. Aanbidding is die verering en diens wat ons aan Hom bewys. Vertroue is die onbekommerdheid waardeur ons in Hom rus, omdat ons sy krag ken. Aanroeping beteken om toevlug te neem by sy trou en hulp. En danksegging is die dankbaarheid wat ons Hom toebring vir al die goeie wat ons van Hom ontvang.
Die woorde “voor my aangesig” beteken dat die volk geen nuwe gode kan aanneem sonder dat God getuie en aanskouer van so ‘n heiligskennis is nie. Ons gewete moet dus ook rein wees van die mees verborge gedagtes aan afvalligheid, as ons begeer dat ons godsdiens Hom welgevallig sal wees.
Die tweede gebod
Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie.
16. In die voorafgaande gebod het God gesê dat Hy alleen {154} God is en dat ons buiten Hom geen ander gode mag bedink of hê nie. In hierdie gebod sê Hy hoedanig Hy is en hoe Hy gedien moet word. Die gebod bestaan uit twee dele. Ten eerste verbied Hy ons om Hom onder een of ander gestalte voor te stel. Ten tweede verbied Hy ons om enige beeld te aanbid met die doel om daaraan godsdienstige eer te bewys.
17. Om ons van alle laksheid te genees, volg daarop die strafbepaling: “Want EK, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou”.
Dit beteken dat ons in Hom alleen moet rus. Hy verdra dit nie dat sy mag geminag word nie. Verder noem Hy Homself ‘n jaloerse God, wat geen mededinger kan verdra nie. In die derde plek verseker Hy dat Hy sy majesteit en heerlikheid sal beskerm deur die kinders, kleinkinders en agterkleinkinders te straf wat die goddeloosheid van hulle vaders navolg. So sal Hy ook barmhartigheid tot in verre nageslagte bewys aan die wat Hom liefhet en sy wet onderhou. Ons het hier die beeld van ‘n huwelik wat op wederkerige trou gebaseer is. Só tref ons dit meermale in die Skrif aan.
God betuig dat Hy ons in waarheid getrou het. Sy jaloersheid ontvlam as ons die reinheid van die huwelik besoedel deur ander te dien of sy diens met bygeloof te besmet. Want op die manier skend ons die woord van trou wat by die huwelik gegee is.
18. Wat bedoel God as Hy sê dat Hy die ongeregtigheid van die vaders sal besoek aan die kinders tot in die derde en vierde geslag? God verseker tog self dat Hy nie sal toelaat dat die seun die ongeregtigheid van die vader help dra nie (Eseg 18:20). Tog kom hierdie uitspraak meermale voor, bv. Num 14:18; Jer 32:18, Sommige meen dat dit net op tydelike strawwe betrekking het. Dis ook wel waar (vgl. Jes 39:7). Maar dis meer ‘n uitvlug as ‘n uitleg. Ons moet dit so opvat dat die regverdige straf van God nie net op die hoof van die goddelose kom nie maar neerdaal op sy hele gesin en op sy nageslag wat in sy voetspore wandel.
19. Laat ons eers nagaan of so ‘n straf met God se regverdigheid in ooreenstemming is. As die hele natuur van die mens voor God doemwaardig is, is die ondergang berei vir elkeen wat Hy nie waardig ag om aan sy genade deel te hê nie. Tog kom hy om deur sy eie ongeregtigheid en nie deur ‘n onbillike haat van God nie. As dus die goddelose oor hulle wandade die straf opgelê word dat hulle nageslag van God se genade beroof word, wie kan God dan van onregverdigheid beskuldig? Dit stry nie met die Woord van die Here in Eseg 18:20 nie. Want die kinders het {155} voorgegee dat hulle self onskuldig was maar nou die ongeregtigheid van die vaders moet dra. Aan hulle verkondig die profeet dat dit nie so is nie. Hulle word oor hulle eie sondes gestraf. God straf nie ‘n seun oor die ongeregtigheid van sy vader nie. As dus die besoeking waarvan hier sprake is, vervul word, beteken dit dat die kinders die vloek weens die sonde van die vaders dra, omdat hulle in die voetstappe van hulle ouers wandel.
20. Aan die ander kant gee God die belofte dat Hy sy barmhartigheid uitstrek tot in duisend geslagte. Hy sê: “Ek sal vir jou ‘n God wees en vir jou nageslag na jou” (Gen 17:7). Die regverdige se kinders is ook gelukkig na hom (Spr 20:7). Dis die seën van die verbond. Hierin lê vir die gelowige ‘n heerlike troos opgesluit, vir die goddelose egter ‘n geweldige skrik. Want as die herinnering van die ongeregtigheid van die vaders soveel vermag dat die vloek nog op die nageslag rus, hoe swaar sal die oordeel dan nie op die hoofde van die vaders rus nie!
Die derde gebod
Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik nie ongestraf laat bly nie.
21. Die bedoeling van die gebod is dat God se Naam vir ons heilig sal wees. Die hoofinhoud is dus dat ons dit nie sal ontheilig deur dit te verag of deur dit op ‘n oneerbiedige manier te gebruik nie. Die verbod sluit in dat ons ons moet beywer om dit godsdienstig te vereer. Ons moet oor God en sy verborgenhede met eerbied en ingetoënheid spreek en dink.
Die volgende drie dinge moet ons ywerig waarneem. Ten eerste moet elke gedagte oor Hom en alles wat ons spreek, in ooreenstemming wees met sy verhewenheid en beantwoord aan die gewyde hoogheid van sy Naam en tot sy eer geskied. Ten tweede moet ons sy Woord nie ligvaardig of verkeerd gebruik vir die bevrediging van ons eersug, hebsug of in ligsinnige skerts nie Ten derde moet ons sy werke nie teëspreek of murmureer nie maar sy wysheid, regverdigheid en goedheid prys. Dit beteken om die Naam van God te heilig. Waar dit anders geskied, word sy Naam ydellik gebruik.
Nog groter is die sonde as dit gebruik word vir goddelose doeleindes soos die oproep van dooies, vloek, ongeoorloofde geestes-besweringe en ander goddelose towerye. {156}
Maar in die gebod word veral oor die eed gespreek.
22. Wat is ‘n eed? Dit is om God aan te roep as getuie dat ons die waarheid spreek. Baie plekke in die Skrif toon aan dat dit ‘n deel is van die diens van God. So sê Jesaja dat die Egiptenaars die taal van Kanaän sal spreek en by die HERE van die leërskare sal sweer (Jes 19:18). Daarmee word hulle roeping tot die koninkryk van God aangedui. Vergelyk verder Jes 65:16; Jer 5:7; Sef 1:5. As ons God as getuie aanroep, erken ons dat Hy die kenner is van die hart en die beskermer van die waarheid.
23. Ons begryp dus dat die Here wil dat ons sy Naam dien as ons ‘n eed sweer. Daarom moet ons op ons hoede wees dat ons dit nie smaad of minag in plaas van dit te dien nie. Meineed is ‘n ontheiliging van sy Naam (Lev 19:12). As God van sy waarheid beroof word, hou Hy op om God te wees. Dan word Hy ‘n begunstiger van die leuen gemaak.
Ons merk verder op dat ons God nie as getuie van ons woorde kan aanroep sonder om Hom in te roep as wreker van die meineed as ons lieg nie.
24. God se Naam word ook veragtelik gemaak as ons onnodig sweer. Ons moet in gedagte hou dat die eed uit noodsaak ingestel is. Daar is maar net een noodsaaklikheid, naamlik as die godsdiens of die liefde gedien moet word.
Verder word God se Naam ontheilig as dit in gesprekke roekeloos gebruik word. Mense dink dat dit geen sonde is nie, omdat hulle hulle al daaraan gewoond gemaak het. Tog bly die gebod van die Here van krag en sal die straf gewis uitgevoer word.
Ook in ‘n ander opsig word daar gesondig, naamlik as mense sweer by een of ander skepsel, want so word die eer wat alleen aan God toekom, op hulle oorgebring.
25. Die Wederdopers verbied elke eedswering met ‘n beroep op die woorde van Christus (Mat 5:34-37). Maar op die manier maak hulle van Christus die teëstander van sy Vader. Hy sou dan op aarde gekom het om die gebooie van God af te skaf. God laat nie net die eed toe nie, maar Hy beveel ook om dit te gebruik as dit nodig is. En Christus getuig dat Hy een is met die Vader. Sal hulle God dan in stryd laat wees met Homself, deurdat Hy later verbied en veroordeel wat Hy in die wet goedgekeur het?
Laat ons let op wat Christus bedoel en waaroor Hy daar handel. Hy wil weer die regte insig in die wet gee, wat deur die versinsels van die skrifgeleerdes en Fariseërs vertroebel was. Hy veroordeel dus nie elke eedswering nie maar net dié wat nie volgens die wet was nie, d.w.s. as daar op ‘n ydele manier gesweer word. Die woordjie “hoegenaamd” behoort nie by “sweer” nie, soos hulle beweer, maar by die soorte ede wat daar verder opgenoem word. Die Jode het gedink dat hulle God se Naam nie ontheilig as hulle {157} by die hemel of die aarde sweer nie. Nou sny Christus hierdie uitvlug van hulle af. God se majesteit word tog beledig deur niksbeduidende ede. Daarom sê Hy: “Sweer hoegenaamd nie”. As die woordjie “hoegenaamd” dus by die woord “sweer” geneem word, het die woorde “nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie” ook geen betekenis nie.
26. Dit kan dus nie betwyfel word dat die Here net die ede afgekeur het wat deur die wet verbied word nie. Want Hy self het ook gesweer as die omstandighede dit vereis het, en sy dissipels het sy voorbeeld nagevolg. Hoe sou Paulus gesweer het as die eed heeltemal verbode was? Tog doen hy dit sonder enige beswaar (Rom 1:9; 2 Kor 1:23).
Sommige meen egter dat net openbare ede van die verbod uitgesluit is, soos die ede wat ons op bevel van die owerheid aflê, of die ede wat vorste aflê as hulle ‘n verbond met mekaar sluit. Tot hierdie groep reken hulle die ede waarvan ons by Paulus lees om die waardigheid van die evangelie te bevestig. Ek ontken ook nie dat die ede die veiligste is nie. Die owerheid kry die bevel om in ‘n twyfelagtige saak ‘n getuie die eed te laat aflê, en hy moet daaraan gehoorsaam. Só word geskille ook besleg (Hebr 6:16).
Maar dit sou alte gevaarlik wees om partikuliere ede te veroordeel wat heiliglik en eerbiedig in noodsaaklike omstandighede afgelê word. Want as dit vir partikuliere persone geoorloof is om in ‘n ernstige saak God as regter tussen hulle aan te roep, dan des te meer as getuie. So het Jakob en Laban as partikuliere persone God as getuie aangeroep toe hulle ‘n verbond met mekaar gesluit het (Gen 31:53; vgl. ook 1 Kon 18:10).
Ons moet dus ons ede matig en nie ligvaardig of uit bose lus of ter wille van onbeduidende sake sweer nie maar net wanneer die eer van God gehandhaaf en die stigting van ons broeder bevorder moet word.
Die vierde gebod
Dink aan die Sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die Sabbat van die HERE jou God; dan mag jy geen werk doen nie, ens.
27. Die bedoeling van die gebod is dat ons ons bedrywighede en werke agterweë sal laat en die dinge van die koninkryk van God {158} sal bedink. Om dit te kan doen moet ons ons oefen deur die middele wat God ingestel het. Daar is drie redes waarop die gebod berus. Die hemelse Wetgewer wil deur die rus op die sewende dag vir sy volk die geestelike rus afbeeld. Hulle moet van hulle eie werke rus om God in hulle te laat werk. Vervolgens wil Hy dat daar ‘n bepaalde dag sal wees waarop hulle moet saamkom om die wet te hoor en hulle in die godsaligheid te oefen. Ten derde wil Hy dat die diensknegte ‘n dag van rus geskenk sal word waarop hulle verposing van die arbeid sal hê.
28. Deur baie getuienisse van die Skrif word ons geleer dat die afskaduwing van die geestelike rus in die Sabbat die vernaamste is. God eis hier strenge gehoorsaamheid. As Hy deur die mond van die profete te kenne wil gee dat die hele godsdiens terneergewerp is, kla Hy dat sy Sabbatte geskend en ontheilig is (Num 15:32; Eseg 20:12; Jer 17:21; Jes 56:2). Die onderhouding van die Sabbat prys Hy aan (Ex 31:13; Ex 35:2), want dit is die teken dat Hy die heiligmaker van sy volk is. Ons moet dus heeltemal rus, sodat God in ons sal werk. Ons moet afstand doen van ons wil en van al die begeertes van die vlees om in God te rus (Hebr 3:13; Hebr 4:4).
29. Om sy volk aan te spoor om die dag te hou prys God dit met sy eie voorbeeld aan. Dis vir die gelowige ‘n kragtige aansporing om die Sabbat te hou as hy weet dat hy daarna streef om sy Skepper na te volg. Die getal sewe dui ewigdurendheid aan. Dit kan ook beteken dat die rus nooit volkome sal wees voordat die laaste dag nie aangebreek het nie (Jes 66:23). Dan sal God alles in almal wees (1 Kor 15:28).
30. As hier die beskouing vir iemand te spitsvondig klink, het ek geen beswaar daarteen nie as hy dit eenvoudig so opvat dat die Here ‘n bepaalde dag verorden het waarop die volk onder die tug van die wet hom moes oefen om na te dink oor die geestelike rus wat ewig duur. Verder dat Hy die sewende dag gekies het omdat dit voldoende was, of om sy volk sy eie voorbeeld voor te hou en hulle op dié wyse te leer dat die Sabbat geen ander bedoeling het as om die mens aan sy Skepper gelykvormig te maak nie. Die verklaring van die getal is van weinig belang. Hoofsaak is wat vir ons afgeskadu word, nl. dat ons van ons werke moet rus, nie net liggaamlik nie maar geestelik (vgl. Jes 58:13).
Deur die koms van Christus is alles wat aan die Sabbat seremonieel was, afgeskaf. Hy is die ware vervulling van die Sabbat. Deur die doop is ons saam met Hom in die dood begrawe, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel (Rom 6:4). En Christus is nie tevrede met net een dag nie maar lê {159} beslag op ons hele lewe. Die bygelowige onderhouding van dae moet daarom deur die Christene vermy word.
31. Hoewel die Sabbat afgeskaf is, bly vir ons nog van krag die verordening dat ons op ‘n bepaalde dag sal saamkom om Gods Woord te hoor, die sakramente te gebruik en openbare gebede te doen en ook dat ons diensbares van die arbeid sal kan rus. Só was dit die gebruik by die Jode wat eersgenoemde saak betref. En só het Moses beveel wat die rus van die diensknegte betref (Ex 23:12; Deut 5:14). Dit geld nog vir ons ook. As daar, verder, nie bepaalde dae vir ons kerklike samekomste was nie, sou die gevolg wees verwarring en verwoesting van die kerk.
Iemand mag miskien vra waarom ons nie liewer elke dag saamkom nie, sodat die onderskeid tussen die dae weggeneem word? Ek antwoord: Kon dit maar gebeur! Die geestelike wysheid is dit werd dat elke dag ‘n tydjie daarvoor afgesonder sal word.
32. Sommige sê dat die Christendom in die Jodedom gehou word omdat dit nog dae waarneem. Maar ek antwoord dat ons die Sabbat nie as ‘n seremonie waarneem nie maar net as ‘n noodsaaklike middel om die orde in die kerk te bewaar. Dis ook nie in stryd met wat Paulus in Kol 2:16 en Rom 14:5 skryf nie. Paulus waarsku daar teen die verkeerde onderskeiding van die dae en nie teen die wettige keuse wat die vrede van die gemeente dien nie. In die gemeentes wat hy gestig het, is die Sabbat vir hierdie doel gebruik (1 Kor 16:2).
33. Nie sonder rede is die dag van die Here, soos ons dit noem, in die plek van die Sabbat gestel nie. Immers, die opstanding van Christus is die vervulling van die ware rus wat die Sabbat afgebeeld het.
Ek sal ook kerke nie veroordeel wat ander dae bepaal om hulle samekomste te hou nie, as hulle hulle maar van bygeloof onthou. Die hoofsaak is tog maar dat ons ons hele lewe lank van ons sondige werke sal rus, sodat die Here deur sy Gees in ons kan werk. Vervolgens dat elkeen afsonderlik hom sal oefen in die oordenking van die werke van God. Dat ons almal saam die orde van die kerk sal onderhou, wat ingestel is om die Woord te hoor, die sakramente te gebruik en God in die openbare gebede aan te roep. En eindelik dat ons ons ondergeskiktes nie onmenslik met werk sal oorlaai nie.
Die vyfde gebod
Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee.{160}
34. Die hoofinhoud van die gebod is dat ons almal wat die Here oor ons gestel het, sal eer en gehoorsaam en dankbaar teenoor hulle sal wees. Daaruit volg die verbod dat ons aan hulle waardigheid geen afbreuk mag doen deur veragting, weerspannigheid of ondankbaarheid nie. So wyd is die betekenis van die woord eer in die Skrif. Die Here begin by die onderworpenheid wat die maklikste is om te dra, en maak ons langs dié weg gewoond om onderworpe te wees aan almal wat Hy oor ons gestel het. Om hulle hoogheid te beskerm lê Hy iets van sy Naam en majesteit op hulle. Dit pas ons dus om iets goddeliks in ons aardse vader te sien, net so ook in ‘n vors of heer.
35. Dit ly geen twyfel nie dat God hier ‘n algemene reël stel, nl. dat ons elkeen wat God oor ons gestel het, met eerbied, gehoorsaamheid en dankbaarheid sal bejeën en hom alle moontlike dienste sal bewys. Dit maak geen saak of hulle die eer waardig of onwaardig is nie, want hulle het deur God se voorsienigheid die plek verkry. God het egter die gebod gegee veral wat betref die eerbied wat aan ouers bewys moet word. Daarom beveel Hy dat almal wat hulle ouers ongehoorsaam is, doodgemaak moet word. Hulle is onwaardig om die lig te aanskou, omdat hulle die ouers nie erken wat hulle in die wêreld gebring het nie.
36. Om die gehoorsaamheid aan te prys word ‘n belofte toegevoeg om ons daarop opmerksaam te maak dat God aan onderworpenheid ‘n welgevalle het. Paulus sê dat dit die eerste gebod is met ‘n belofte. Want die belofte wat in die eerste tafel voorafgegaan het, strek hom uit oor die hele wet. In hierdie belofte spreek God egter tot die Israeliete oor die land wat Hy hulle beloof het. Die besit van die land was ‘n bewys van God se goedheid. Nou wil die Here sy genade betuig deur ‘n lang lewe te skenk. So kan vir ‘n lang tyd die vrugte van sy weldadigheid gepluk word. Die belofte het ook op ons betrekking. ‘n Lang lewe is ‘n bewys van God se goedheid. As ‘n gehoorsame kind vroeg sterf, vervul God nogtans sy belofte. Die hoofsaak is maar dat ons sal bedink dat ‘n lang lewe ‘n seën van God is. En dit is ‘n seën in sover dit ‘n bewys is van sy genade, wat Hy deur die dood oorvloediger aan sy diensknegte betuig en betoon.
37. As die Here die seëning van hierdie lewe beloof aan kinders wat hulle ouers gehoorsaam is, gee Hy terselfdertyd te kenne dat die vloek bokant die hoof hang van almal wat ongehoorsaam is. En Hy beveel dat die straf aan hulle voltrek sal word. En as hulle die oordeel ontvlug, voltrek Hy self die straf op een of ander wyse. Ons sien hoedat baie van die soort mense in gevegte omkom en ander op ongewone wyse gestraf word. En as sommige van hulle oud word, geskied dit sodat hulle vir groter strawwe in die toekoms bewaar word. Terloops moet ons opmerk dat ons beveel {161} word om in die Here te gehoorsaam (Ef 6:1). En dit is duidelik, want ons ouers staan bokant ons op die plek waarop die Here hulle gestel het. Die onderworpenheid wat aan hulle betoon word, moet dus ‘n trap wees om op te sien na die hemelse Vader. As hulle ons sou aanspoor om die wet te oortree, moet ons hulle nie as ouers nie maar as vreemdes beskou wat ons wil weglei van gehoorsaamheid aan die hemelse Vader. Dit moet ook ons houding wees teenoor konings en almal wat oor ons gestel is.
Die sesde gebod
Jy mag nie doodslaan nie.
38. God het die menslike geslag as ‘n eenheid geskape. Die bedoeling van die gebod is daarom dat die ongedeerdheid van ons naaste ons ter harte moet gaan. In hoofsaak word dus elke geweldpleging en onregverdige bejeëning verbied waardeur die liggaam van ons naaste skade berokken kan word. Aan die ander kant gebied Hy ons om die lewe van ons naaste te beskerm, om sy skade af te weer en hom te help as hy in gevaar verkeer. Verder word ook die doodslag van die hart verbied en die inwendige neiging beveel om die lewe van die broeder te bewaar. Die Heilige Gees sê dat elkeen wat sy broeder haat, ‘n moordenaar is (1 Joh 3:15; vgl. ook Mat 5:22).
39. Die Skrif noem twee gronde op waarop die gebod rus. Die eerste is dat ons naaste God se beeld is en die tweede dat hy ons vlees is. God wil dat ons eerbied sal hê vir sy beeld in ons naaste en dat ons ons vlees sal liefhê. Iemand wat nog nie bloed vergiet het nie, is dus nog nie noodwendig vry van die sonde van doodslag nie. As u iets teen die welsyn van die naaste wens of beraam, is u skuldig aan doodslag. En as u nie u bes doen om sy welsyn na vermoë te beskerm nie, oortree u ook deur onmenslikheid hierdie gebod.
Die sewende gebod
Jy mag nie egbreek nie.
40. Die bedoeling is dat God kuisheid en reinheid liefhet. Daarom moet ons alle onreinheid ver van ons af hou en ons met geen vleeslike wellus besoedel nie. Daarby sluit die gebod aan om {162} kuis en ingetoë te lewe. God verbied veral hoerery, om ons te leer om alle wellustigheid te verfoei. Die mens is so geskape dat hy nie alleen kan lewe nie maar ‘n hulp moet hê. Ten gevolge van die vloek van die sonde is hy nog meer aan hierdie noodsaaklikheid onderworpe. Nou kom God hom tegemoet deur die huwelik in te ste. En die gemeenskap wat deur sy gesag aangegaan is, deur sy seën te heilig. Daarom is elke gemeenskap buite die huwelik om vervloek.
41. Ek erken dat die maagdelike kuisheid ‘n ding is wat nie geminag mag word nie. Maar dit is nie die deel van almal nie. Daarom moet almal wat hulle nie kan beheers nie, in die huwelik tree. Nou moet niemand teëwerp dat hy alles met God se hulp vermag nie. Want God help alleen die wat in sy weë wandel. Die Here verseker (Mat 19:12) dat die onthouding ‘n besondere gawe is wat nie aan almal nie maar net aan sommige geskenk is.
42. Ons word dus geleer dat dit nie in elkeen se mag lê om in die ongehude staat kuis te lewe nie en ook dat kuisheid ‘n besondere genade is wat die Here net aan bepaalde persone skenk om hulle as geskikte dienaars vir sy werk te hê. Daarom moet niemand die huwelik ligvaardig verag as iets wat vir hom nie nuttig is nie. En niemand mag begeer om ongetroud te bly nie as net hy wat ‘n huisvrou kan ontbeer. As hy hom nie kan bedwing nie, moet hy trou, om hoerery te vermy (1 Kor 7:2,9). Die mens wat geen vrou aanraak nie, moet hom egter nie vlei dat hy nie van onkuisheid beskuldig kan word as sy gemoed van lus brand nie. Paulus omskrywe kuisheid as reinheid van siel verbind met reinheid van die liggaam.
43. As die getroudes weet dat hulle gemeenskap deur die Here geseën is, word hulle daardeur vermaan dat dit nie deur ‘n oormatige en ongebonde lus besoedel mag word nie. Die huwelik mag nie ‘n prikkel wees om ongebonde te lewe nie. Hulle moet weet dat nie alles hulle geoorloof is nie maar dat elke man sy vrou moet besit in matigheid en elke vrou haar man; dat hulle so moet lewe dat hulle niks doen, wat die eerbaarheid van die huwelik onwaardig is nie. God eis dat ons siel, gees en liggaam ongeskonde sal wees.
Ons merk ook op dat Hy wat die hoerery verbied, ook verbied om vir die kuisheid van ‘n ander strikke te stel deur buitensporige liggaamsversiering, onkuise gebare en vuil gesprekke. Al hierdie dinge is vlekke wat die kuisheid besoedel.
Die agste gebod
Jy mag nie steel nie.
44. Die bedoeling van die gebod is dat aan elkeen gegee moet word {163} wat hom toekom, aangesien God onregverdigheid haat. Die hoofinhoud is dus dat ons verbied word om ‘n poging aan te wend om iemand anders se goed te bemagtig en dat ons gebied word om elkeen te help om sy goed te bewaar. Ons moet altyd bedink dat alles wat iemand besit, deur die Here van alle dinge aan hom uitgedeel is. Ons kan dus nooit steel nie, sonder om sonde te doen teenoor hierdie uitdeling van God. Daar is baie maniere om te steel, soos bv. deur geweld, kwaadwillige bedrog, skyn van reg, ens. Alle listige planne waardeur ons die besittinge van ons naaste vir ons toe-eien, is diefstal. Hier moet die liefde wyk vir die begeerte om te bedrieg of om op enige ander wyse skade te berokken. AI gaan hulle voor die wêreld se regbank vry uit, voor God staan hulle skuldig. Hy sien die strikke wat ‘n listige mens vir ‘n eenvoudige stel. Hy sien die harde en onmenslike wette waarmee die armes verdruk word. Hy sien die verleidinge waarmee die slimme die onbedagsame vang. Verder moet ons opmerk dat ons ons naaste hulle goed onthou as ons hulle die dienste weier wat ons aan hulle verskuldig is, bv. ‘n administrateur wat die goed van sy heer deurbring; ‘n kneg wat sy heer se geheime openbaar maak; ‘n baas wat sy personeel wreed behandel.
45. Ons is dus gehoorsaam aan die gebod as ons tevrede is met ons lot en geen ander wins wil behaal as net die wat betaamlik en regmatig is nie; as ons nie onregverdig ryk wil word nie en ons naaste nie van sy besittings berowe om ons s’n te vermeerder nie; as ons nie rykdomme wil opstapel wat uit die bloed van ander gepers is nie; as ons nie saamskraap om ons hebsug of lus tot verkwisting te bevredig nie. Aan die ander kant moet dit altyd ons doel wees om almal soveel moontlik met raad en daad getrou te help om hulle eie goed te bewaar. As ons met trouelose bedrieërs te doen het, moet ons liewer bereid wees om iets wat ons toekom af te staan as om met hulle ‘n stryd aan te bind. Ons moet die nood van ander met hulle deel, en deur ons oorvloed hulle gebrek verlig. Ten slotte moet elkeen nagaan in hoeverre hy deur plig aan ‘n ander een verbind is en betaal wat hy skuldig is. Die volk moet almal wat oor hulle gestel is, in ere hou; hulle wette en bevele gehoorsaam en hulle aan niks onttrek wat hulle deur God se guns kan doen nie. Die regeerders weer moet sorg dra vir hulle onderdane. Hulle moet die openbare vrede bewaar, die goeie beskerm en die kwaaddoeners in toom hou. Kortom, hulle moet alles bestuur in die besef dat hulle aan God, die hoogste Regter, rekenskap van hulle ampsbediening sal aflê. Die dienaars van die kerk moet hulle getrou toelê op die bediening van die Woord. Hulle moet die leer van die saligheid nie vervals nie maar dit suiwer aan die volk van God onderwys. Deur leer en lewe moet hulle goeie herders vir hulle skape wees. Die gemeente weer moet hulle as gesante van {164} God ontvang en hulle die eer gee wat God hulle waardig keur. Hulle moet ook aan hulle gee wat hulle nodig het om te lewe. Die ouers moet hulle kinders as uit die hand van God ontvang, om hulle te onderhou, te regeer en te onderwys en nie deur hardheid hulle te verbitter nie. Die jongeres moet aan die grysaards eerbied bewys, omdat die Here dié leeftyd eerwaardig ag. Diensknegte moet hulle here gewillig gehoorsaam wees, van harte, asof hulle God dien. Base moet hulle knegte nie ru en smadelik behandel nie maar hulle erken as broeders en medediensknegte onder die hemelse Heer. Op hierdie manier moet elkeen nagaan wat hy aan sy naaste verskuldig is, en sy skuld betaal.
Die negende gebod
Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.
46. Die bedoeling van die gebod is dat ons die waarheid onder mekaar moet betrag, omdat God die leuen haat Die hoofinhoud is dus dat ons nie deur laster en valse beskuldiginge iemand sal krenk of hom deur leuens in sy besittinge skade sal aandoen nie. Eindelik dat ons nie iemand sal seermaak deur kwaad van hom te spreek of met hom te spot nie. Aan die verbod is die gebod verbind dat ons soveel moontlik elkeen sal help om sy naam en sy goed ongeskonde te beskerm. Dit maak geen saak of ons van oordeel is dat hier van ‘n getuienis voor die regbank of van ‘n gewone getuienis in partikuliere gesprekke sprake is nie. Eintlik is dit verkiesliker om dit in laasgenoemde sin te verstaan, omdat alreeds oor meineed in die derde gebod gehandel is.
47. Dit is wonderlik hoe onbekommerd in hierdie opsig gesondig word. Selde word maar iemand gevind wat nie aan hierdie siekte ly om die gebreke van sy naaste na te speur en te ontdek nie. Laat ons ook nie meen dat dit ‘n geskikte verontskuldiging is as ons dikwels nie lieg nie. Want God wil dat die naam van ons naaste ongeskonde bewaar sal bly. Dit behoort vir ons voldoende te wees om dit ongeskonde te bewaar. Sonder twyfel word dus kwaadsprekery in die algemeen veroordeel. Onder kwaadsprekery verstaan ons haatlike beskuldigings gebore uit kwaadwilligheid en lus tot agterklap. Daaronder verstaan ons ook platvloerse geestigheid waardeur die foute van ‘n ander op ‘n bytende wyse opgehaal word. Ons merk ook op dat verbied word die begeerte om na agterklap te luister en onregverdige oordele oor iemand te vel. God haat nie {165} net die woord van kwaadsprekery nie maar die kwaadaardigheid in die hart.
Die tiende gebod
Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie, ens.
48. Die bedoeling van die gebod is dat elke begeerte wat teen die liefde stry, uit ons hart verdryf moet word. Die hoofinhoud is dus dat daar nooit enige begeerte in ons mag opkom om ons naaste te benadeel nie. Daaraan beantwoord die gebod dat alles wat ons bedink en wil, tot nut en voordeel van die naaste moet strek. God het tot dusver gebied dat ons wil, ons strewe en ons werke deur die reël van die liefde beheers moet word. Nou beveel Hy dat ook die gedagtes van ons hart deur dieselfde liefde beheers moet word.
49. God eis dit nie sonder rede nie. Want wie kan ontken dat dit paslik is dat al die kragte van die siel deur die liefde in beslag geneem word? As die hele hart deurtrek was van die liefde, sou daar geen plek oop wees vir gedagtes wat die naaste kan benadeel nie.
Iemand mag teëwerp dat dit nie paslik is om gedagtes wat vlugtig in die gees opkom en weer verdwyn as begeertes te veroordeel nie. Ek antwoord dat God ‘n liefde eis wat Hy selfs nie deur die kleinste vlekkies van sondige begeertes besoedel wil sien nie. Hy eis ‘n hart wat selfs nie in die geringste teen die wet van die liefde sondig nie.
50. Dit sal nou nie moeilik wees om vas te stel wat die doel van die hele wet is nie. Dit is naamlik die vervulling van die geregtigheid, sodat die mens se lewe gevorm sal word na die voorbeeld van die goddelike heiligheid. As iemand in sy lewe alles vervul wat hom hier beveel word, sal hy die beeld van God in sy lewe vertoon. Daarom gee Moses die hoofinhoud van die wet soos volg weer: “En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel” (Deut 10:12)?
Die wet is dus daarop gerig om die mens deur ‘n heilige lewe met sy God te verenig en Hom aan te hang. Die heiligheid bestaan in die twee reeds genoemde hoofsake, nl. dat ons die HERE onse God moet liefhê met ons hele hart, met ons hele siel en al ons kragte en ons naaste soos onsself.
Dit toon Paulus ook aan as hy sê dat die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof (1 Tim 1:5). {166}
51. As Christus en die apostels die hoofinhoud van die wet opsom, noem hulle soms die eerste tafel nie. Sommige wil hulle woorde op altwee die tafels laat slaan maar ten onregte. Christus noem (Mat 23:23) die swaarste van die wet: die reg en die barmhartigheid en die trou. Deur die woord trou dui Hy aan getrouheid teenoor mense. Sommige verstaan dit as eerbied teenoor God. Maar ten onregte. Want Christus spreek hier oor die werke waardeur die mens moet bewys dat hy regverdig is. So tref ons dit ook by die profete aan. As hulle die volk vermaan om berou te hê, laat hulle die eerste tafel van die wet na en dring aan op getrouheid, barmhartigheid en regverdigheid. Hulle gaan dus nie die vrees van die Here verby nie maar eis dat die volk deur sy werke sal betoon dat hy die Here vrees.
52. Maar is dit dan van meer betekenis om onberispelik met die mense te lewe as om God ootmoedig te eer? Geheel en al nie. Ons kan ons naaste nie liefhê as ons God nie vrees nie. Die onberispelike wandel met die medemens is daarom die bewys dat ons God as ons Wetgewer eer. Ons kan aan God geen weldaad bewys nie maar wel aan ons naaste. Daarom noem die apostel ook die liefde die vervulling van die wet (Rom 13:8; vgl. ook Gal 5:14; Mat 7:12).
53. Laat ons hieraan vashou dat ons lewe dán volgens God se wil en die voorskrif van die wet sal wees as dit in alle opsigte vir ons broeders vrugbaar is. Hy lewe heilig, wat so min moontlik vir homself lewe. Niemand kan egter slegter lewe as om net te bedink en te soek wat syne is nie. Die apostel sê dat die liefde homself nie soek nie (1 Kor 13:5).
54. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan het Christus aangetoon dat die woord naaste almal insluit, ook die vreemdelinge, en nie net ons familiebetrekkinge of vriende nie. Ons moet die hele menslike geslag, sonder uitsondering, met liefde bejeën. Hier is geen onderskeid van barbaar of Griek, waardige of onwaardige, vriend of vyand nie. Almal moet in God beskou word en nie in hulleself nie. Hoedanig die mens ook mag wees, ons moet hom tog liefhê, omdat ons God liefhet.
55. Die Skolastici sê dat die gebooie: “Wreek julleself nie, het julle vyande lief”, geen gebooie is nie maar net raadgewinge wat ons kan gehoorsaam of nie. Alleen die monnike moet hulle noodsaaklik gehoorsaam. Hulle sou dan regverdiger wees as die eenvoudige Christene, omdat hulle hulle uit eie beweging verbind het om die raadgewinge na te kom. As rede gee hulle op dat die wette te swaar is vir die gewone Christene. Maar hoe durf hulle die ewige wet van God afskaf dat ons ons naaste moet liefhê? Kom daar êrens in die wet so ‘n onderskeiding voor? Tref ons nie oral gebooie aan wat baie streng van ons eis dat ons ons vyande {167} moet liefhê nie? (Spr 25:21; Ex 23:4; Deut 32:35).
56. Wat beteken hierdie woorde van Christus dan: “Julle moet julle vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is”? (Mat 5:44). Dit is tog geen aansporinge nie maar gebooie.
Wat bly daar dan vir ons oor as ons uit die getal van die kinders van God verwyder word? Volgens hulle is dan alleen die monnike die kinders van die hemelse Vader. En die kerk word verban na die heidene en die tollenaars (Mat 5:46). Hulle sê dat die gebooie te swaar is vir Christene om te volbring. Asof daar iets swaarders uitgedink kan word as om God lief te hê met die hele hart, met die hele siel en met alle kragte. Vir ons swakheid is selfs die kleinste puntjie van die wet moeilik, maar in die Here doen ons kragtige dade. Om Christen te wees beteken om ingeplant te wees in Christus, deur wie se genade ons vry is van die vloek van die wet en wat deur sy Gees die wet in ons hart skrywe.
57. Die verborge oortreding van die gebooie van die eerste tafel asook die regstreekse oortreding van die tiende gebod noem hulle ‘n vergeeflike sonde. Hulle sê dat die begeerte nie lank in die hart gebly het nie. Maar ek sê dat die begeerte nie in die hart kan inkom as die liefde wat die wet eis, nie ontbreek nie. Bowendien, die gebod sê dat ons God moet liefhê met ons hele hart, met ons hele verstand en met al ons kragte. As al die kragte van die siel dus nie ingespan word om God lief te hê nie, het ons alreeds afgewyk van die gehoorsaamheid wat die wet eis. Wat die laaste gebod betref, net dit: Die Here verbied ons nie net om iets te oorweeg of op tou te sit wat tot nadeel van ‘n ander kan strek nie, maar Hy verbied ook om deur die begeerte aangedryf te word en van begeerte te brand. En op oortreding van die wet rus altyd die vloek van God. Daar is dus geen rede om selfs die geringste begeerte te onttrek aan die oordeel dat dit die dood verdien nie (Rom 6:23).
58. As hulle maar die woord van Christus wil oordink (Mat 5:19): “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele”. Behoort hulle nie tot hierdie mense omdat hulle die oortreding van die wet so ‘n geringe saak maak dat dit die dood nie verdien nie? Hulle moes ook oorweeg het, nie net wat gebied word nie maar wie Hy is wat gebied. In elke oortreding van die wet wat Hy gegee het, hoe gering dit ook mag wees, word aan sy gesag afbreuk gedoen. Beteken dit vir hulle niks as God se majesteit geskend word nie? En het Hy nie self gesê nie (Eseg 18:20): “Die siel wat sondig, moet sterwe”? {168}
Die kinders van God mag dit egter glo dat daar vergewing is vir die sondes van die heiliges, omdat God barmhartig is.
HOOFSTUK IX. Hoewel Christus onder die wet aan die Jode bekend was is Hy tog eers in die evangelie ten volle geopenbaar
1. Deur die reiniginge en offerandes het God van die ou tyd af betuig dat Hy ‘n Vader is wat sy uitverkore volk vir Hom geheilig het. Hy was dus buite twyfel toe reeds in dieselfde beeld bekend waarin Hy nou in volle glans verskyn. Maleagi beveel die Jode om aan die wet van Moses te dink. En dan kondig hy dadelik daarop aan dat die son van geregtigheid sal opgaan (Mal 4:2). Hiermee gee hy te kenne dat die doel van die wet is om die gelowiges Christus te laat verwag en dat deur sy koms meer lig sal kom. So sê Petrus ook dat die profete ondersoek en nagevors het aangaande die saligheid wat nou deur die evangelie geopenbaar is en dat aan hulle geopenbaar is dat hulle nie vir hulleself nie maar vir ons die dinge bedien het wat nou deur die evangelie verkondig word (1 Petr 1:10,12). So teken Christus ook die meerdere genade wat ons deel geword het met die woorde: “Julle oë is gelukkig omdat hulle sien; en julle ore omdat hulle hoor”, ens. (Mat 13:16-17).
Dit is nie ‘n geringe aanprysing van die evangelie nie dat God ons bokant die heilige vaders verhef. Soos die skrywer van die brief aan die Hebreërs ook getuig dat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd tot die vaders deur die profete gespreek het maar in hierdie laaste dae tot ons gespreek het deur die Seun (Heb 1:1). Hoewel Christus dus aan die Jode bekend was, is dit nogtans waar dat God nou in ons hart geskyn het om verligting te gee van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus (2 Kor 4:6).
2. Onder evangelie verstaan ek die duidelike openbaring van die verborgenheid van Christus. Die leer van die geloof kan ook evangelie genoem word, en dan sluit dit in al die beloftes van die genadige sondevergewing waardeur God die mense met Hom versoen. Maar tog is dit in besonder toepaslik op die verkondiging van die genade wat in Christus gegee is Mat 4:17; Mat 9:35). Hy het dan ook die evangelie van die koninkryk verkondig en deur sy koms die lewe en die onverderflikheid deur die evangelie aan die {169} lig gebring. In die persoon van die Seun het dus die waarheid van al God se beloftes verskyn en is die hemele vir ons geopen (Joh 1:52).
3. Ons moet egter op ons hoede wees vir die dwaalleer wat sê dat die beloftes saam met die wet ‘n end geneem het. Servet beweer dat ons deur die geloof in die evangelie nou al die vervulling van al die beloftes geniet. Christus het wel alles volbring wat vir ons saligheid nodig is. Tog is dit verkeerd om daaruit af te lei dat ons die weldade alreeds ten volle besit. Paulus sê dat ons in hoop gered is. Deur in Christus te glo gaan ons weliswaar oor uit die dood in die lewe. Tog sê Johannes dat, hoewel ons nou kinders van God is, dit nog nie geopenbaar is wat ons sal wees nie, totdat ons aan Hom gelyk sal wees wanneer ons Hom sal sien soos Hy is (1 Joh 3:2). Die volle genieting toef dus nog totdat ons na die heerlikheid van Christus verander sal word. Op die belofte moet ons bou. Ons wandel nou deur geloof en nie deur aanskouing nie. In Christus besit ons alles wat op die volmaaktheid van die hemelse lewe betrekking het, en tog is die geloof ‘n aanskouing van die dinge wat nie gesien word nie.
4. Hieruit word ook die dwaling weerlê van hulle wat die wet op net een manier met die evangelie vergelyk. Hulle stel die verdienstelikheid van die werk volgens die wet teenoor die genadige toerekening van die geregtigheid. Paulus stel ook die regverdigheid wat uit die wet is, teenoor die wat uit die geloof in die evangelie is. Maar die evangelie het nie so in die plek van die wet gekom dat dit ‘n ander middel tot saligheid bring nie. Dit bevestig eerder alles wat die wet belowe het en voeg aan die skaduwee die liggaam toe. As Christus sê dat die wet en die profete tot op Johannes was, gee Hy daarmee te kenne dat die vaders alleen in die eerste beginsels onderrig is en dus ver benede die hoogheid van die leer van die evangelie gestaan het. Daaruit maak ons op dat die evangelie net duideliker is as die wet en die genade in Christus oorvloediger. Daarom word gesê dat deur sy koms die koninkryk van God op aarde opgerig is.
5. Johannes beklee ‘n plek tussen die wet en die evangelie. Hy verkondig Christus as die Lam van God en die offer wat ons sondes versoen, maar hy verkondig nie die opgestane Christus nie. In die opsig is hy minder as die apostels (Mat 11:11). Hierdie woorde van die Here sien dus nie op sy persoon nie maar op sy amp. Christus noem hom ‘n lamp wat brand en skyn (Joh 5:35). Hy is dus ‘n herout van Christus. Wat hy begin verkondig het, het die apostels na die hemelvaart van Christus voltooi. {170}
HOOFSTUK X. Die gelykheid van die Oue en die Nuwe Testament
1. Uit die voorgaande is dit duidelik dat Gods volk van die begin af deur dieselfde wet en deur die band van dieselfde leer met Hom verbind was as ons. Hulle was deelgenote van dieselfde erfenis as ons en het deur die genade van dieselfde Middelaar op die gemeenskaplike saligheid gehoop. In hoeverre verskil hulle dan van ons? Ons moet op hierdie saak breedvoeriger ingaan, omdat baie skrywers só oor die onderskeid tussen die Ou en Nuwe Testament handel, dat hulle die eenvoudige gelowiges in verwarring bring. Ons word hiertoe veral gedwing deur Servet en sommige dwase uit die sekte van die Wederdopers wat van die Joodse volk ‘n klomp swyne maak wat deur God vet gevoer is op aarde sonder enige hoop op die hemelse onsterflikheid. Ons behandel dus kortliks die verskil en ooreenkoms van die verbond wat God met Israel opgerig het, en die wat Hy met ons opgerig het.
2. Die verbond wat God met die vaders opgerig het, verskil in die geheel nie van die wat Hy met ons opgerig het in sover dit die wese daarvan betref nie. Dit verskil alleen in bediening. Die eenheid van die verbond kom hoofsaaklik op die volgende neer. In die eerste plek was hulle nie geroep om aardse rykdom en voorspoed te beërwe nie maar is hulle verkies tot die hoop op die onsterflikheid. In die tweede plek het die verbond alleen op die barmhartigheid van God gesteun, wat hulle geroep het, en nie op enige verdienstelikheid van hulle kant nie. In die derde plek het hulle Christus gehad en geken as Middelaar deur wie hulle met God verenig sou word en aan sy beloftes deel sou hê.
3. Aan die verklaring van die eerste punt sal ons besonder aandag moet gee en terloops inlas wat ontbreek aan die verklaring van die ander punte. Die apostel neem alle twyfel aangaande al hierdie punte weg as hy sê (Rom 1:2) dat God die evangelie van sy Seun tevore beloof het deur sy profete in die Heilige Skrifte. Eweso dat die wet en die profete getuig van die geregtigheid van God, wat nou sonder die wet geopenbaar is (Rom 3:21). Die evangelie hou die harte van die mense nie gevange in die vreugdes van die teenwoordige lewe nie maar voer hulle op tot die hoop op die onsterflikheid (Ef 1:13-14; Kol 1:4; 2 Thess 2:14). Daarom word die evangelie genoem die Woord van die saligheid en die krag van God om die gelowiges salig te maak. Dit is dus geestelik en open die toegang om die onverderflike lewe te besit. Ons moet dus nie dink dat hulle aan wie dit beloof was, die sorg vir hulle siele sou nagelaat het, en soos diere die luste van die vlees sou {171} nagejaag het nie. Die beloftes van die evangelie geld dus nie net vir die gelowiges onder die Nuwe Testament nie maar ook vir die onder die Ou Testament.
4. Die verbond het ook op die genadige barmhartigheid van God berus en is deur die tussenkoms van die Christus bevestig. Die evangelie lui dat sondaars deur die vaderlike goedheid van God geregverdig word, sonder enige verdienste aan hulle kant. En die hoofsaak van die evangelie is Christus. Wie sal dan die Jode van deelgenootskap aan Christus durf uitsluit, aangesien met hulle die verbond van die evangelie gesluit is, waarvan Hy die fondament is?
Ons het hier egter ‘n baie duidelike uitspraak van Christus self (Joh 8:56): “Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly”. Wat Christus daar getuig aangaande Abraham, geld vir die gelowige volk in die algemeen (Hebr 13:8; vgl. ook Luk 1:54-55 en 72).
5. Die apostel stel die Israeliete aan ons gelyk in sover dit die verbond aangaan maar ook wat die betekenis van die sakramente betref. Aan die Korinthiërs skryf hy dat die Here aan ons dieselfde weldade bewys het as aan die Jode en Hom ook deur dieselfde tekens van genade onder ons bekend gemaak het. Ons besit dus geen voorreg wat ons kan bevry van die wraak van God wat hulle getref het nie. Is ons gedoop? Ook die Jode is gedoop in die deurgang deur die Rooi See en in die wolk (1 Kor 10:1,11). Sommige beweer dat dit maar net ‘n vleeslike doop was. Maar dan sou die bewys van die apostel nie opgaan nie, wat juis aan die Korinthiërs die inbeelding wil ontneem dat hulle deur hulle doop bokant die Jode staan. Dan sou ook nie van toepassing wees wat hy daarop laat volg nie, dat hulle dieselfde geestelike spys geëet het en dieselfde geestelike drank gedrink het, nl. Christus.
6. Hulle werp die woord van Christus teë (Joh 6:49): “Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid”. Die antwoord daarop is nie moeilik nie. Die Here spreek hier met mense wat net met brood versadig wil word en hulle nie bekommer oor die spys van die siel nie. Hulle eis dat Hy sy krag deur een of ander wonder sal bewys soos Moses in die woestyn om só vir Hom gesag te verkry. Om nou aan te toon hoeveel voortrefliker die weldaad is wat hulle van Hom moes verwag, maak Christus hierdie vergelyking. As God deur Moses aan die volk voedsel gegee het sodat hulle nie in die woestyn sou sterf nie, kon die Jode daaruit opmaak hoe uitnemend die spys is wat die onsterflikheid skenk. Paulus het ook geweet dat die manna die lewendmaking in Christus afbeeld. Die gelowiges onder die Ou Testament het dus nie net dieselfde beloftes van die ewige lewe gehad nie, maar dit is ook deur geestelike sakramente aan hulle verseël. {172}
7. As die lesers wil hê dat ek aan hulle getuienisse uit die wet en profete sal voorlê waaruit hulle kan sien dat die vaders ook deel gehad het aan die geestelike verbond, voldoen ek graag aan hulle wens. Ek begin met die bewys wat vir die hoogmoedige Wederdopers van geen betekenis is nie maar wat tog groot invloed het vir die mense wat graag wil leer. Dit is ‘n uitgemaakte saak dat Gods Woord kragtig en lewend is, en dat dit diegene lewend maak wat God dit waardig ag Dit is ‘n onverganklike saad waardeur die uitverkorenes wedergebore word (1 Petr 1:23; Jes 40:8). Deur sy Woord het God Hom aan hulle verbind en hulle tot die ewige lewe afgesonder. Adam, Abel, Noag, Abraham het God aangehang deur sy Woord. Daarom kan nie daaraan getwyfel word dat hulle ook tot die onsterflike ryk van God toegang gehad het nie.
8. As dit nog te ingewikkeld is, laat ons dan die woorde van die verbond self neem. God sluit die verbond met sy volk altyd met hierdie woorde: “Ek sal vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees” (Lev 26:12). Die profete het ook altyd geleer dat in hierdie woorde die hoofsaak van die saligheid saamgevat is. Dawid sê byvoorbeeld: “Welgeluksalig is die volk wie se God die HERE is” (Ps 144:15; Ps 33:12). So kry ons dit ook by die ander profete (Hab 1:12; Jes 33:22) dat aan die sekerheid van die saligheid niks ontbreek nie, as die Here maar net vir ons ‘n God is. Hy woon in die midde van sy volk en gee aan hulle die lewe (Lev 26:11). Hy verkondig dat Hy ‘n God is, nie net vir ons liggaam nie maar veral vir ons siel.
9. Daarby kom nog dat God betuig dat Hy nie net vir hulle ‘n God was nie maar ook beloof dat Hy dit altyd sal bly. So het hulle hoop hom uitgestrek tot in die ewigheid. Verder het Hy hulle ook nog hierdie versekering gegee dat Hy die God van hulle nageslag na hulle sal wees. Hy neem die vrug van sy barmhartigheid nie van die dode weg nie maar dra dit oor tot in duisend geslagte. Die waarheid van hierdie laasgenoemde belofte bevestig God as Hy Hom die God van Abraham, Isak en Jakob noem lank na hulle dood. Dit sou ‘n belaglike benaming gewees het as hulle nie meer bestaan het nie (vgl. ook Mat 22:32).
10. Laat ons nou sien of die Here die gelowiges so onderwys het dat hulle gevoel het dat hulle elders ‘n beter lewe gehad het en of hulle oor daardie lewe nagedink het. In die eerste plek het hulle lewe hulle gedurig daaraan herinner dat hulle die ellendigste van alle mense sou wees as hulle net in hierdie lewe gelukkig sou wees. Adam, wat net deur die herinnering van sy verlore geluk seker die allerongelukkigste mens was, kon met moeite deur harde arbeid in sy behoeftes voorsien. Van sy twee seuns word die een hom deur ‘n goddelose broer ontruk. Hy hou net die ander een oor, wat hy met reg verag. Terwyl die hele wêreld onbekommerd {173} geniet, moet Noag ‘n groot deel van sy lewe aan die bou van ‘n ark bestee. Die ark is vir hom tien maande lank soos ‘n graf. Nadat hy aan so baie moeilikhede ontkom het, oorval nuwe droefheid hom. Hy word deur sy eie seun bespot en moet hom, wat hy deur die weldaad van God uit die sondvloed behou het, met sy eie mond vervloek.
11. As ons op Abraham se geloof let, is hy vir ons soos duisend ander. Maar wat die ervaringe van sy lewe betref, lyk dit asof God hom volgens ‘n vaste plan van al die genietinge van die lewe wou berowe. Hy word weggeruk van vaderland, ouers en vriende. Deur hongersnood word hy weer verdryf uit die land wat God hom aangewys het. Om hulp te soek vlug hy na Egipte, waar hy sy vrou tot beskikking van ‘n ander moet stel om homself te red. As hy terugkeer, word hy weer deur hongersnood bedreig. Dink verder aan die geskiedenis by Abimeleg, die skeiding met Lot, die naywer van die inwoners van die land, sy kinderloosheid, die geboorte van Ismael en die huislike onaangenaamheid wat daarmee gepaard gegaan het, totdat eindelik die bevel gekom het om Isak te offer.
12. Isak word deur minder rampe getref. Tog ondervind hy ook allerhande kwellinge. Die hongersnood verdryf hom uit Kanaän, sy bure verdruk hom op allerhande maniere. In sy huis moet hy baie moeilikhede van sy skoondogters verdra. Deur die onenigheid van sy seuns word hy gekwel en vind geen ander uitweg nie as om die een wat hy geseën het, weg te stuur. Jakob is ‘n besondere beeld van ongelukkigheid. Sy kinderjare bring hy in groot onrus deur. Hy moet vlug vir sy broer en sy ouers se geboortegrond verlaat. By sy oom Laban word hy ook nie sagter en vriendeliker behandel nie. Hy moet twintig jaar lank werk vir die vrou wat hy liefgehad het. By sy terugkeer is daar die ontmoeting met Esau wat hom opwag. Daar is die dood van Ragel, die treurige geskiedenis met Dina, die sonde van Ruben, die verhouding tussen Josef en sy broers, wat eindig soos bekend is. Inderdaad kon hy vir Farao sê (Gen 47:9): “Min in getal en vol teëspoed was die dae van my lewensjare”. Hy kon dus nooit sy hoop op aardse sake gevestig het nie.
13. Die heilige vaders het dus gedink aan en gesien op ‘n ander geluksaligheid as die van die aardse lewe. Dit verklaar die apostel ook in die brief aan die Hebreërs (11:9-16). Hulle sou stomper as ‘n stuk hout gewees het as hulle beloftes nagejaag het wat op aarde nooit verwesenlik kon word nie. Maar nou het hulle hulle as gaste en vreemdelinge hier beskou. Die belofte van die Here aangaande die land Kanaän het dus ‘n hoër strekking gehad. Daarom het hulle ook in Kanaän geen grond behalwe ‘n begraafplaas besit nie. Daarmee het hulle betuig dat hulle gehoop het om die belofte {174} na hulle dood te verkry. Vergelyk die begeerte van Jakob en Josef om in Kanaän begrawe te word.
14. Dit staan dus vas dat hulle by alles wat hulle gedoen het, die geluksaligheid van die toekomstige lewe voor oë gehad het. Waarom sou Jakob byvoorbeeld die eersgeboortereg so sterk begeer het wat hom selfs die ballingskap besorg het, as hy nie ‘n hoër seëning op die oog gehad het nie? Dit blyk uit sy woorde op sy sterfbed (Gen 49:18): “Op u verlossing wag ek, HERE”. Watter saligheid sou hy verwag het as hy die dood nie as die begin van ‘n nuwe lewe beskou het nie?
15. As ons nou by die profete kom, sien ons die ewige lewe en die koninkryk van Christus in volle skittering. Dawid sê byvoorbeeld (Ps 39:13): “Ek is ‘n vreemdeling by U, ‘n bywoner soos al my vaders. Waarlik, die mens wandel as skadubeeld rond … en nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U” (Ps 39:7-8). Waarlik, elkeen wat bely dat op aarde niks sekers of standvastigs is nie en tog sy hoop op God gevestig hou, bely daarmee dat vir hom die geluksaligheid elders weggelê is (vgl. ook Ps 102:26-29). Die saligheid van die kinders van God is dus ewig met God verbind. Hierdie hoop kan alleen bestaan as dit op ‘n belofte berus (vgl. Jes 51:6).
16. As hy sing van die voorspoed van die gelowiges, het dit betrekking op die hemelse heerlikheid (Ps 97:10-11): “Hy bewaar die siele van sy gunsgenote, Hy red hulle uit die hand van die goddelose. Die lig is vir die regverdige gesaai en vrolikheid vir die opregtes van hart” (vgl. Verder Ps 140:14; Ps 112:6 e.a.). As al die beloftes op die teenwoordige lewe sien, sou hulle nie met die ervaring van die gelowiges ooreenkom nie. Die goddelose is meesal voorspoedig en gelukkig, terwyl die geslag van die opregtes deur allerhande smaad, armoede, veragting en kruis gedruk word.
17. Die vaders onder die Ou Testament het dus goed geweet dat God selde of nooit in hierdie wêreld vervul wat Hy aan sy dienaars beloof het nie. Daarom het hulle hulle hart opgehef na God se heiligdom en daar gesien wat hulle hier nie gesien het nie. Wat hulle gesien het, was die laaste oordeel. Dit kon hulle met die oë van die liggaam nie sien nie, maar hulle het dit deur die geloof gegryp. In volle vertroue op daardie geloof het hulle nie daaraan getwyfel nie dat die tyd eenmaal sal aanbreek waarop die beloftes van God vervul sal word (vgl. Ps 17:15). En as hulle dan so die oë op die ewigheid gevestig het, het hulle die moeilikhede van die teenwoordige tyd gering geag en gejuig: “God sal nooit die regverdige laat wankel nie. Maar Hy sal die goddelose laat neerdaal in die put van vernietiging” (Ps 55:23-24). Dit sien alles op die toekomstige lewe, want in hierdie wêreld is daar geen put van verderf wat die goddelose verswelg nie (vgl. ook Ps 49:7-8). {175}
18. Wat die gelowiges in die ellendes getroos het en ‘n middel was om hulle in lydsaamheid te oefen, is belydenisse soos die wat ons byvoorbeeld in Ps 30:6 vind. Hoe kon die mense die end van die verdrukkinge in ‘n oomblik stel terwyl hulle byna hulle lewe lank gekwel is? Waar het hulle so ‘n lang duur van God se goedertierenheid gesien? As hulle dit op aarde gesoek het, sou hulle so iets nie kon vind nie Maar omdat hulle op die hemel gesien het, daarom kon hulle bely dat God se barmhartighede ewig is en dat die heiliges maar net ‘n kort rukkie deur die Here beproef word. Aan die ander kant het hulle die ewige verderf van die goddelose gesien. Daarom kan Salomo sê (Spr 10:7): “Die nagedagtenis van die regverdige is tot seën, maar die naam van die goddelose vergaan”; so ook 1 Sam 2:9: “Die voete van sy gunsgenote bewaar Hy, maar die goddelose mense kom om in duisternis”. Die woorde bewys dat hulle goed geweet het dat die laaste uitgang van die heiliges lewe en saligheid is en dat die geluk van die goddelose maar net ‘n pad is waarlangs hulle langsamerhand na die afgrond van die dood afgly.
19. Merkwaardig is veral hierdie uitspraak van Job: “Maar ek, ek weet: My Verlosser leef … En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou; Hom wat ék sal aanskou my ten goede” (19:25 e.v.). Die wat met hulle skerpsinnigheid te koop loop, soek hier die uitvlug dat dit nie verstaan moet word van die opstanding op die laaste dag nie maar van die eerste die beste dag waarop God sagter met hom sou handel. Ons sê dat Job sy oë na die toekomstige onsterflikheid opgehef het, omdat hy gesien het dat sy Verlosser hom sou bystaan selfs as hy in die graf lê. Dit was ook die gemeenskaplike geloof onder die Jode.
20. As ons by die latere profete steun soek, hoef ons nie te vrees dat ons dit nie sal vind nie. Hier is egter so ‘n ontsaglike hoeveelheid stof dat die opset van my werk nie toelaat om alles aan te haal nie. Ek meen ook dat ek deur die voorafgaande vir die leser die weg aangewys het waarop hy kan voortgaan. Hy moet net in gedagte hou dat die profete die goedheid van God vir die volk onder die beeld van tydelike seëninge afgebeeld het.
21. Ons sal ons met een voorbeeld tevrede stel. Die Jode in die ballingskap kon ternouerdood glo wat Esegiël aangaande hulle terugkeer geprofeteer het. Dit het vir hulle gelyk gestaan daaraan dat vergane lyke tot die lewe opgewek sal word. Nou toon die Here die profeet in ‘n gesig ‘n veld vol dor doodsbeendere. Aan hulle gee Hy in ‘n oogwink gees en lewe terug deur die krag van sy Woord. Die bedoeling van die gesig was wel om die Jode van hulle ongeloof te genees. Maar dit het hulle ook vermaan dat God magtig is om nog groter dinge te doen as om hulle uit die ballingskap te verlos. Ons kan hierdie uitspraak dus tereg met die van {176} Jesaja vergelyk (Jes 26:19-21).
22. Daar is ook enkele plekke wat duidelik die toekomstige onsterflikheid bewys wat op die gelowiges in die koninkryk van God wag. Sommige van die het ons al aangehaal, maar daar is nog baie ander ook. Ons noem veral net hierdie twee (Jes 66:22 e.v.; Dan 12:1-2).
23. Ons kan dus vasstel dat die verbond wat God met Israel gesluit het, nie tot aardse sake beperk was nie maar die belofte ingehou het van die geestelike en ewige lewe wat hulle verwag het. Laat ons hierdie verderflike opvatting verwerp dat die Here die Jode niks anders voorgestel het of dat hulle niks anders gesoek het nie as net die versadiging van hulle buik, die genieting van die vlees, bloeiende rykdomme en alles wat ‘n vleeslike mens van waarde ag. Want Christus belowe vandag aan ons geen ander koninkryk as die waarin ons met Abraham, Isak en Jakob sal aansit nie. En dit het Hy ook met die daad bevestig met sy opstanding (Mat 27:52 e.v.). Die opstanding van dié heiliges was ‘n seker pand dat alles wat Christus gedoen en gely het om die ewige saligheid te verwerf, net so betrekking gehad het op die gelowiges van die Ou Testament as op ons. Hulle het ook dieselfde Gees besit deur wie ons wedergebore word (Hand 15:8).
Wonderlik is die dwaasheid van die Joodse volk vandag nog wat ‘n aardse koninkryk van Christus verwag. Volgens die Skrif is dit egter hulle straf omdat hulle die evangelie verwerp het. Deur God se regverdige oordeel is hulle hart met blindheid geslaan, omdat hulle die aangebode lig van die hemel versmaad het en uit eie beweging duisternis oor hulle gebring het (2 Kor 3:14)
HOOFSTUK XI. Die onderskeid tussen die Ou en die Nuwe Testament
1. Is daar dan geen enkele onderskeid tussen die Ou en die Nuwe Testament nie? Ek aanvaar die onderskeid wat in die Skrif vermeld word, maar só dat dit aan die eenheid van die Skrif niks te kort doen nie. Die onderskeid bestaan hoofsaaklik in vier stukke. Hierdie punte het nie betrekking op die wese nie maar net op die wyse van bediening. Die beloftes van die Ou en Nuwe Testament bly dieselfde, en die fondament van die beloftes bly ook dieselfde, nl. Christus.
Die eerste punt van onderskeid is dit: God laat Israel die erfenis sien onder die beeld van aardse seëninge. Maar nou dat die genade van die toekomende lewe deur die evangelie duideliker {177} geopenbaar is, rig Hy ons hart regstreeks op die oordenking van die genade. Hulle wat dit nie opmerk nie, meen dat die ou volk nie hoër as die aardse dinge gestyg het nie. Die land Kanaän, byvoorbeeld, is dan ‘n beloning vir die wat die wet hou. Die verskil tussen ons en hulle wat so dink, is dat hulle leer dat die besit van die land Kanaän vir ons die hemelse erfenis afbeeld. Ons daarenteen beweer dat die Jode in die aardse besittinge wat hulle geniet het, soos in ‘n spieël die toekomstige erfenis aanskou het en geglo het dat dit vir hulle in die hemele toeberei is.
2. Dit blyk duidelik uit die vergelyking wat Paulus in sy brief aan die Galasiërs maak (Gal 4:1). Hy vergelyk die volk van die Jode met ‘n jong erfgenaam wat homself nog nie kan lei nie en moet luister na die woorde van ‘n voog wat oor hom aangestel is. Vir die Jode was dus dieselfde erfenis bestem as vir ons, maar deur hulle leeftyd was hulle nog nie in staat om dit te aanvaar en te gebruik nie. God teken dus die geestelike beloftes vir hulle onder die beeld van aardse beloftes. Aan die aartsvaders beloof Hy die land Kanaän as erfenis. Dit is egter nie die einddoel van hulle hoop nie maar net ‘n middel om hulle te oefen en te versterk in die hoop op die ware erfenis, wat nog nie gesien kon word nie. So hef God Abraham se gees op tot Hom as Hy vir hom sê (Gen 15:1): “Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot”. Die eindpunt van Abraham se loon is dus in die Here en nie in die dinge van hierdie wêreld nie (vgl. Verder Ps 16:5; Ps 73:27; Ps 142:6) Mense wat so spreek soos in die aangehaalde skrifgedeeltes, gee daarmee te kenne dat hulle verwagting bokant die wêreld en alle tydelike goedere uitgaan, al word die toekomstige geluksaligheid met aardse beelde beskrywe.
3. Dit is die rede waarom die heiliges onder die Ou Testament die aardse lewe en sy seëninge so hoog geag het. Hulle het goed geweet dat die Here sy genade vir hulle daarin geskets het. Daarom was die lewe vir hulle so lieflik. Aan die ander kant weer het Hy deur tydelike strawwe aan die verworpenes sy oordeel aangekondig. Omdat onervare mense hierop nie let nie, verwonder hulle hulle daaroor dat God nou nie so dikwels straf soos Hy voorheen gedoen het nie. Daar is egter geen moeilikheid as ons let op die leiding van God waaroor ek so pas gespreek het nie, nl. dat Hy vir daardie tyd die genade van die toekomstige saligheid deur aardse weldade en die swaarte van die geestelike dood deur liggaamlike strawwe wou afbeeld.
4. Die tweede onderskeid tussen die Ou en Nuwe Testament bestaan hierin dat die Ou Testament die skaduwee laat sien, terwyl die Nuwe Testament die volle werklikheid vertoon. Dit word baie duidelik in die brief aan die Hebreërs behandel. Ons moet hier daarop let in watter opsig wet en evangelie in hierdie brief met {178} mekaar vergelyk word. Ons stel op die voorgrond dat dit een verbond is wat God eenmaal bevestig het as ‘n ewige en onverganklike verbond. Christus is die vervulling van die verbond. Deur Hom verkry dit sy vastigheid en bekragtiging. Maar solank daar op die vervulling gewag word, skryf God deur middel van Moses die seremonies voor as tekens van die vervulling. En nou was dit die punt van verskil of die seremonies wat die wet voorgeskrywe het, voor Christus moes wyk of nie.
5. Hieruit is duidelik wat die apostel bedoel toe hy gesê het dat die wet vir die Jode ‘n tugmeester was na Christus voordat Hy nog in die vlees verskyn het. Hy erken daarmee dat hulle seuns en erfgename van God was, maar weens hulle jonkheid moes hulle onder ‘n tugmeester staan. Die Here het hulle die lig van sy Woord só geskenk dat hulle dit nog in die verte en in die duister gesien het. Hierdie geringheid van insig noem Paulus kinderleeftyd. Wat het die wet en die profete dan vir die mense van hulle tyd gebring? Hulle het hulle die smaak van die wysheid gegee wat eenmaal geopenbaar moes word. Maar as Christus met die vinger aangewys kan word, is die koninkryk van God ontsluit (Kol 2:3).
6. Die feit dat byna niemand in die Christelike kerk met Abraham vergelyk kan word nie en dat die profete, verlig deur die Heilige Gees, vandag nog die hele wêreld verlig, doen aan die waarheid van hierdie stelling niks af nie. Want die vraag is nie hoeveel genade die Here aan enkelinge geskenk het nie maar watter weg Hy gevolg het om die volk te leer. Ook hulle prediking is soms nog duister, hoewel hulle met ‘n besondere kennis bo ander toegerus was. En ook hulle moes hulle noodwendig onderwerp aan die gewone manier van onderwysing van die volk. Bowendien was baie van die dinge wat hulle ontvang het; vir hulleself ook nog duister. Daarom sê Christus: “Baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie” (Mat 13:17).
7. Ek kom nou tot die derde onderskeid. Dit is ontleen aan Jer 31:31-34. Hieroor handel die apostel ook in 2 Kor 3:6-7. Daar vergelyk hy wet en evangelie met mekaar. Die wet is op kliptafels geskrywe, en die evangelie word in die harte geskrywe. Die wet maak dood, die evangelie maak lewend. Die wet verkondig vervloeking, die evangelie geregtigheid. Die wet word tot niet gemaak, maar die evangelie bly. Die wet skryf voor wat reg is. Dit verbied die sonde en beloof beloning aan die dienaars van die geregtigheid en straf aan die oortreders, maar dit kan die boosheid van die hart nie verander of verbeter nie.
8. Laat ons nou stuk vir stuk die vergelyking van die apostel uitlê. Die Ou Testament is letterlik, omdat dit sonder kragdadigheid van die Gees afgekondig is; die Nuwe Testament is geestelik, omdat {179} die Here dit op geestelike wyse in die hart van die mense ingegrif het. Die Ou Testament is die bediening van die vervloeking, omdat dit die hele nageslag van Adam aan ongeregtigheid skuldig stel; die Nuwe Testament is die bediening van die geregtigheid, omdat dit God se barmhartigheid openbaar, waardeur ons geregverdig word. Hierdie laaste stelling het betrekking op die seremonies van die wet. Omdat die Ou Testament die beeld gehad het van die dinge wat nog nie was nie, moes dit met die tyd ondergaan en verdwyn. Maar omdat die evangelie die saak self vertoon, bly dit kragtig en onverganklik. Verder moet die onderskeid tussen letter en gees nie so opgevat word asof die Here tevergeefs sy wet aan die Jode gegee het omdat niemand hom bekeer het nie; maar dit is by wyse van vergelyking gestel om die oorvloedigheid van die genade aan te prys waarmee dieselfde Wetgewer die prediking van die evangelie vereer.
9. Die vierde onderskeid volg uit die derde. Die Skrif noem die Ou Testament ‘n testament van diensbaarheid, omdat dit in die harte vrees verwek. Die Nuwe Testament egter word die testament van vryheid genoem, omdat dit die kinders van God tot vertroue en onbekommerdheid oprig (Rom 8:15; Hebr 12:18-24). As daarteenoor gewys word op die vaders uit die Israelitiese volk wat met dieselfde Gees van die geloof as ons toegerus was en daarom ook deelgenote van dieselfde vryheid en blydskap was, antwoord ons dat dit nie uit die wet voortgekom het nie, maar dat hulle hulle toevlug tot die evangelie geneem het. Al het hulle ook die voorregte geniet wat hulle deur die genade van die evangelie gekry het, was hulle tog onderworpe aan dieselfde bande en laste as die gewone volk. Hulle moes dieselfde seremonies onderhou. Dit het gelykgestaan aan diensbaarheid. Daarom het hulle, in vergelyking met ons, onder die Testament van diensbaarheid en vrees gelewe.
10. Die laaste drie vergelykings wat ons genoem het, is die tussen die wet en die evangelie. Daarom word daarin die wet die Ou en die evangelie die Nuwe Testament genoem. Die eerste onderskeid bevat ook beloftes wat vóór die wet gedoen is. Al die heiliges wat God van die begin van die wêreld af uitgekies het, was saam met ons deelgenote van die ewige saligheid. Hulle het ook geglo in die Middelaar, wat hulle die Gees gegee het om goed te doen en hulle vergewing geskenk het so dikwels as wat hulle gesondig het.
11. Ons kan hieraan ‘n vyfde onderskeid toevoeg, nl. dat tot op die koms van Christus God vir Hom een volk afgesonder het waarmee Hy die verbond van genade gesluit het (Deut 10:14; 32:8). Hy het hulle deur sy Woord aan Hom verbind, sodat Hy die God van die volk genoem is en as sodanig beskou is. Intussen het Hy die ander volke in hulle nietigheid laat wandel (Hand 14:16) {180} asof hulle in geen betrekking tot Hom gestaan het nie. Hy het hulle nie die prediking van sy Woord geskenk wat hulle van hulle verderf kon genees nie. So was…Israel toe die troetelkind van die Here en die ander buitestanders. Maar toe die volheid van die tyd gekom het (Gal 4:4), is die skeidsmuur afgebreek wat vir so ‘n lang tyd die barmhartigheid van God tot Israel beperk het, en is die vrede ook verkondig aan hulle wat ver was (Ef 2:14). Daarom word daar nie meer op Griek of Jood, besnydenis of voorhuid gelet nie, maar Christus is alles in almal (Gal 6:15). Aan Hom is die heidene as erfdeel gegee. Met God versoen, vorm hulle saam met Israel die een volk van God.
12. Die roeping van die heidene is dus ‘n buitengewone teken wat die uitnemendheid van die Nuwe Testament bo die Oue in die lig stel. Die profete het wel duidelik van die roeping getuig, maar die vervulling daarvan is uitgestel tot op die tyd van die Messias. Christus het egter nie dadelik na die heidene gegaan nie maar het dit uitgestel tot na die tyd van sy vernedering. Toe het Hy van die Vader ‘n naam ontvang wat bo elke naam is (Fil 2:9). Daarom sê Hy ook vir die Kananese vrou dat Hy net na die verlore skape van die huis van Israel gestuur is (Mat 15:24; Mat 10:5). Die roeping van die heidene was dus bekend gemaak. Toe die apostels egter ‘n begin daarmee moes maak, het hulle daarvoor teruggehuiwer, omdat dit vir hulle onnatuurlik was. Dit het vir hulle gelyk asof die Here plotseling van plan verander het, waar Hy Israel soveel eeue lank van die orige volke afgesonder het. Die voorbeelde wat God in die ou tyd van die toekomstige roeping van die heidene gegee het, was nie sterk genoeg om hulle daartoe te beweeg om die evangelie aan die heidene te bring nie. God het slegs weiniges geroep, en dié het Hy in ‘n sekere sin in die huis van Abraham ingevoeg en aan Israel gelyk gestel om deel van sy volk te wees. Daarom sê Paulus dat dit ‘n verborgenheid is wat vir alle tye en geslagte verberg was.
13. In hierdie vier of vyf stukke is die hele onderskeid tussen die Ou en die Nuwe Testament voldoende en op eenvoudige wyse uitgelê. Sommige beweer egter dat dit nie paslik is dat die onveranderlike God later sou afkeur wat Hy eers beveel het nie. Ek antwoord dat God nie veranderlik is omdat Hy aan verskillende tye verskillende vorms aanpas soos Hy dit nuttig vir elke tyd geag het nie. As ‘n ouer sy kinders in hulle jeug anders opvoed, regeer en behandel as in hulle jongelingsjare, en weer in hulle later lewe anders as in hulle jongelingsjare, sal ons tog nie sê dat hy wispelturig is nie. Waarom sal ons dan sê dat God veranderlik is as Hy op verskillende tye verskillend optree (Gal 4:1,3 e.v.)? Hy het die Jode by die eerste beginsels gehou omdat dit by hulle leeftyd gepas het, maar aan ons gee Hy ‘n manliker onderwys. {181} Hierin kom sy onveranderlikheid uit dat Hy aan alle tye dieselfde leer geskenk het en volhard in sy eis dat Hy gedien moet word soos Hy van die begin af beveel het. Dat Hy die wyse van onderwys verander het, beteken nie dat Hy veranderlik is nie maar dat Hy Hom in die opsig aanpas by die begripsvermoë van mense wat aan verandering onderhewig is.
14. Maar, sê hulle, kon God dan nie net sowel van die begin af soos na die koms van Christus in duidelike woorde die ewige lewe geopenbaar het nie? Kon Hy nie met ‘n paar en duidelike sakramente sy kinders onderwys het nie? Kon Hy nie die Heilige Gees geskenk het en sy genade oor die hele wêreld uitgestort het nie? Maar dan kan hulle net so goed met God twis omdat Hy die wêreld so laat geskape het, terwyl Hy dit tog van die begin af kon gedoen het. Laat ons nie daaraan twyfel dat alles wat God gedoen het, wys en regverdig is nie, al weet ons ook baiemaal nie die rede waarom dit so moes gebeur nie. Ons sal ons te veel aanmatig as ons God nie toelaat om redes te hê vir sy raad wat vir ons verborge is nie. Dit is godvrugtig om te erken dat die vrye uitdeling van sy genadegawes in God se mag is; dat Hy die volkere verlig wat Hy wil en die verkondiging van sy Woord laat geskied waar Hy wil; om die kennis van sy Naam weer weg te neem van volke weens hulle ondankbaarheid en dit weer te herstel deur sy barmhartigheid, wanneer Hy wil.
HOOFSTUK XII. Christus moes mens word om die amp van Middelaar te kan bedien
1. Dit is vir ons van groot belang dat Hy wat ons Middelaar sou wees, waaragtig God en waaragtig mens moes wees. Dit het voortgevloei uit die hemelse besluit waarvan die saligheid van die mense afgehang het. Ons ongeregtighede, wat soos ‘n wolk tussen ons en God gestaan het, het ons heeltemal vervreemd van die koninkryk van die hemele. Niemand kon die tolk van die herstel van die vrede wees nie as net hy wat tot God kon nader. Maar wie van die kinders van Adam kon dit doen? Almal het voor die aangesig van God verskrik gestaan. Ook nie een van die engele nie, want hulle het ook ‘n hoof nodig deur wie hulle met God verbonde kon bly. Die saak was dus vir ons hopeloos as die majesteit van God nie tot ons neergedaal het nie, aangesien ons nie tot Hom kon opklim nie. So moes die Seun van God vir ons tot ‘n Immanuel {182} word en moes sy goddelike natuur met ons menslike natuur saamgevoeg word (1 Tim 2:5). So ‘n Middelaar, wat naby ons is, is nodig, want die mens sou nie sonder middelaar tot God kon genaak nie, al was hy ook vry van alle sondesmet (vgl. ook Hebr 4:15).
2. Dit sal ook duideliker word as ons nagaan watter voortreflike werk die Middelaar moes verrig. Hy moes ons tot kinders van God maak en van erfgename van die hel tot erfgename van die hemelse koninkryk. Hoe sou dit kon geskied as die Seun van God nie Seun van die mens geword het nie en wat ons s’n was, só aangeneem het dat Hy aan ons kon skenk wat van nature syne was? Hieruit ontstaan die heilige broederskap waarvan Hyself spreek (Joh 20:17; vgl. ook Rom 8:17). Ook hierom moes Hy waaragtig God en mens wees, sodat Hy vir ons die dood kon verslind, die sonde oorwin, die magte van Satan vernietig en die geregtigheid en lewe vir ons kon verdien en skenk.
3. Die tweede hoofpunt van ons versoening met God bestaan daarin dat die mens, wat deur sy ongehoorsaamheid homself verderf het, nou sy gehoorsaamheid as middel daarteenoor moet stel. Hy moet aan God se oordeel voldoening verskaf en die straf vir sy sonde betaal. Daarom het Christus ‘n waaragtige mens geword, om in die plek van Adam aan die Vader gehoorsaam te wees; om ons vlees tot voldoening voor die regverdige oordeel van God te stel en in dié vlees die straf te dra wat ons verdien het. As Hy alleen God was, kon Hy nie sterf nie. En as Hy net mens was, kon Hy die dood nie oorwin nie. Daarom het Hy die menslike natuur met die Goddelike verenig, om die menslike natuur aan die dood te onderwerp en om deur die krag van die Goddelike natuur die dood te oorwin en vir ons die oorwinning te gee. Wie Christus dus van sy Godheid of mensheid berowe, verminder sy majesteit of verduister sy goedheid. Hulle is ook onregverdig teenoor die mense, omdat hulle hulle geloof laat wankel.
Daarby kom dat die Verlosser die seun van Abraham en Dawid moes wees. Daardeur ontvang die gelowiges ‘n tweede vrug, nl. dat hulle des te meer verseker is dat Hy die Christus is wat die profete verkondig het.
4. Hy wat dit naarstig oordink, sal maklik alle dwalinge kan weerlê. Daar is byvoorbeeld hierdie dwaling dat Christus tog mens sou geword het ook al was dit nie nodig dat Hy ons sondes moes versoen nie. Ek erken geredelik dat Hy die Hoof van die engele is en dat Paulus Hom die Eersgeborene van die hele skepping noem (Kol 1:15). Tog getuig die hele Skrif dat Hy ons menslike natuur aangeneem het om Verlosser te word.
Dit is genoegsaam bekend wat van die begin af aangaande Hom belowe is. Hy moes die gevalle wêreld vernuwe en die verlore mense te hulp kom. So is Hy afgebeeld in die offerandes. Deur {183} die ewige raad van God is Hy bestem om die onreinheid van die mense af te was deur sy bloed te vergiet. Die profete belowe dat Hy God en mens met mekaar sal versoen (Jes 53:4-5). Hyself verklaar ook dat Hy deur God gestuur is om ons met Hom te versoen en ons uit die dood oor te bring in die lewe. En so spreek die apostels ook (Joh 1:9-10; Joh 3:16; Joh 5:25; Joh 11:25 e.a.p.). As Hy nie gekom het om ons met God te versoen nie, sou Hy nie priester wees en ook nie ons geregtigheid nie. Dit is die eenparige getuienis van die Heilige Skrif (Rom 8:3; Tit 2:11; Joh 3:14; Joh 10:17 e.a.p.).
5. As iemand hierteen inbring dat niks Christus kon verhinder om sy liefde te betuig jeens die wat nooit geval het nie, deur hulle vlees aan te neem, is my antwoord kort en bondig dit dat die Heilige Gees getuig dat Christus mens geword het om ons Verlosser te wees en dat dit nie geoorloof is om verder te ondersoek nie. Wie hiermee nie tevrede is nie, is ook nie tevrede met God se onveranderlike raad nie en ook nie met Christus, wat ons tot ‘n volkome verlossing gegee is nie. Paulus sê dat die Vader ons in Christus uitverkies het voor die skepping van die wêreld om ons as sy kinders vir Hom aan te neem (Ef 1:4). Dieselfde Paulus bid ook dat God aan die Efesiërs sal gee dat hulle mag begryp wat die lengte en die breedte en die hoogte en die diepte is, nl. die liefde van Christus, wat alle kennis ver oortref (Ef 3:16 e.v.). As hy van Christus melding maak, wil hy geen duimbreedte van die genade van die versoening afwyk nie (vgl. ook 1 Tim 1:15). Daarin berus ek.
Maar Osiander sê dat Christus in die vlees sou verskyn het, ook al het Adam nie in sonde geval nie. Hy grond sy bewering daarop dat die Skrif dit nêrens ontken of verwerp nie. Asof Paulus, nadat hy oor die verlossing deur Christus gespreek het, nie onmiddellik daaraan toevoeg nie: “Maar verwerp dwase strydvrae” (Tit 3:9).
6. Osiander se beginsel is heeltemal waardeloos. Hy beweer dat die mens na die beeld van God geskape is, omdat hy gevorm is na die voorbeeld van Christus wat sou kom. Daaruit maak hy op dat Christus tog mens sou geword het al het Adam nie geval nie. Hy meen ook dat die beeld van God nie net uitgeblink het in die uitnemende gawes waarmee Hy die mens versier het nie, maar dat God ook wesenlik in hom gewoon het. Maar ek beweer dat die beeld van God bestaan het in die uitnemende gawes waarmee God Adam bo al die ander lewende wesens versier het. As Osiander beweer dat die vernaamste voorbeeld van God se beeld in die mens Christus was, kan ons met net soveel reg beweer dat Christus ook die natuur van die engele deelagtig moes gewees het, omdat die beeld van God hom ook tot hulle uitstrek.
7. Daar is dus geen rede vir Osiander om te vrees dat God {184} leuenagtig bevind sal word as Hy nie eers ‘n vaste besluit aangaande die vleeswording van Christus geneem het wat nie van die sondeval van die mens afhanklik sou wees nie. Want as Adam nie geval het nie, sou hy saam met die engele aan God gelyk gewees het. Tog sou dit nie daarom nodig gewees het dat die Seun van God ‘n mens of ‘n engel sou word nie. Maar waarom is hy so bang vir wat die Skrif so duidelik leer (Hebr 4:15), nl. dat Christus ons in alles gelyk geword het uitgesonderd die sonde? En dat Lukas nie aarsel om Hom ‘n seun van Adam te noem nie (Luk 3:38)? Ek sou ook van hom wil weet waarom Paulus Christus die tweede Adam noem as dit nie bepaal was dat Hy mens moes word om die nakomelinge van Adam op te hef nie. Intussen redeneer Osiander dat Adam ‘n beeld van homself sou gewees het en nie van Christus nie as hy in die staat van regtheid gebly het. Daarop antwoord ek dat die beeld van God in die liggaam en siel van Adam geskitter het, ook al het die Seun van God nie in die vlees gekom nie. Uit Paulus se woorde (Kol 1:15) blyk dit dat Christus die Eersgeborene van die hele skepping is, omdat Hy die ewige Woord van God is en nie omdat Hy geskape is nie. Net so dwaas is sy bewering dat die mense Christus nie as koning sou gehad het as Hy nie mens was nie. Net so asof Hy, wat die Hoof van die engele is, nie ook deur sy goddelike krag die mense kon geregeer het nie. Die hoofsaak waaraan ons moet vashou, is dit dat, toe die volheid van die tyd gekom het, die Seun van God uitgestuur is, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, sodat Hy dié sou verlos wat onder die wet was (Gal 4:4).
HOOFSTUK XIII. Christus het die waaragtige wese van die menslike vlees aangeneem
1. Dit is nie nodig om nou weer oor die Godheid van Christus te handel nie. Dit het elders al geskied. Wat oorbly, is om te ondersoek hoe Christus die taak van Middelaar vervul het nadat Hy met ons vlees beklee is. In die ou tyd het die Manicheërs en die Marcioniete sy ware menslike natuur bestry. Laasgenoemdes spreek, van ‘n skyngestalte in plaas van sy liggaam. Eersgenoemdes het gesê dat Hy met ‘n hemelse liggaam beklee was. Die Skrif spreek egter anders. Die seën word belowe in die nageslag van Abraham; en Jakob (Gen 22:18). Die ewige troon word aan die Seun van Dawid belowe (Ps 45:7). Christus self noem Hom ook die Seun {185} van die mens, om daarmee te kenne te gee dat Hy waarlik mens is. En Paulus sê dat God sy Seun uitgestuur het, gebore uit ‘n vrou (Gal 4:4). Hy het nie die natuur van die engele aangeneem nie maar ons natuur, om deur sy dood hom tot niet te maak wat mag het oor die dood (Hebr 2:14-16; vgl. ook Rom 8:3; Ef 4:16).
2. Hulle verdraai die plekke wat hulle tot bevestiging van hulle dwalinge aanvoer. Marcion beweer dat Christus ‘n skyngestalte aangeneem het, omdat daar gesê word dat Hy aan die mense gelyk geword het en in gedaante gevind is as ‘n mens (Fil 2:7-8). Maar Paulus wil nie leer hoedanig die liggaam was wat Christus aangeneem het nie, maar dat Hy as ‘n onaansienlike en veragte mens gekom het. So kan hy deur Christus se voorbeeld ons aanspoor om nederig te wees. Christus was God, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en so sy Godheid te verberg. Hy leer nie wat Christus was nie maar hoe Hy Hom gedra het. ‘n Tydlank het sy goddelike heerlikheid nie geskitter nie maar is net ‘n menslike gestalte in ‘n nederige toestand gesien (vgl. ook 2 Kor 13:4).
Manichaeus spreek van ‘n liggaam uit die lug, omdat Christus die tweede Adam genoem word, uit die hemel hemels (1 Kor 15:47). Maar die apostel spreek daar nie oor die wese van Christus se liggaam nie maar van die geestelike krag wat ons lewend maak. As Christus nie dieselfde natuur as ons gehad het nie, sou die redenering van Paulus in 1 Kor 15:13 sonder betekenis wees. Hulle sê ook dat Christus die Seun van die mens genoem word, omdat God Hom aan die mense beloof het. Maar “Seun van die mens” beteken waaragtig mens (Ps 8:5; Hebr 2:11). Hieruit kan nie afgelei word dat ook die goddelose, Christus se broers is nie. Ons weet dat ons alleen deur die geloof kinders van God word. Ook hulle bewering dat Christus dadelik in die begin uit Adam gebore moes gewees het om die eersgeborene onder die broeders te wees, gaan nie op nie (Rom 8:29).
3. Hulle beweer verder dat Christus Seun van Dawid genoem word, omdat Hy aan hom belowe was, en beroep hulle dan op plekke soos Ps 132:11; Rom 1:3 e.a. Maar Hy word so genoem omdat Hy uit Maria, ‘n afstammeling van Dawid, gebore is, net soos Isak uit Abraham en Salomo uit Dawid gebore is.
4. Hulle beweer ook dat Christus onder die sonde ingesluit sou gewees het as Hy uit mense gebore was. Maar dit word maklik weerlê deur wat Paulus sê in Rom 5:12; 8:3 en 1 Kor 15:47. Hy was ook vry van die sondesmet, omdat Hy deur die Heilige Gees geheilig is en nie omdat Hy uit ‘n maagd gebore is nie. As die Skrif spreek van die heiligheid van Christus, word daarmee sy menslike natuur bedoel, want dit sou oorbodig wees om te sê dat God heilig is. Daarom moes Christus vry wees van die algemene verdorwenheid, {186} omdat Hy die mens weer in sy ongeskonde staat moes herstel. Vir hulle is dit alles ongerymd, omdat die Woord van God dan in ‘n aardse liggaam opgesluit sou gewees het as dit vlees word. Maar as die Woord Hom met die menslike natuur verbind, beteken dit nog nie insluiting nie. Die Seun van God het op so ‘n wonderbare wyse uit die hemel neergedaal dat Hy nogtans nie die hemel verlaat het nie (Joh 1:18). Dit het Hom behaag om op so ‘n wonderbare wyse in die skoot van sy moeder gedra te word, op aarde om te wandel en aan die kruis te hang dat hy tog nog altyd die wêreld vervul het soos van die begin af.
HOOFSTUK XIV. Hoe die twee nature van die Middelaar een persoon uitmaak
1. Die Skrif sê dat die Woord vlees geword het (Joh 1:14). Ons moet dit egter nie só verstaan asof dit in vlees verander het of heeltemal daarmee vermeng is nie, maar in dié sin dat dit uit die skoot van Maria vir Hom ‘n tempel gekies het om daarin te woon. Die Seun van God het Seun van die mens geword, nie deur vermenging van die wese nie maar deur eenheid van die Persoon. Elkeen van die twee nature het sy eienaardigheid behou, maar uit die twee het één Christus geword.
As ons hier ‘n vergelyking mag maak, kan ons op die mens self wys. Hy bestaan uit twee selfstandighede, maar die een is nie so met die ander verenig dat dit sy selfstandigheid verloor nie. Die siel is nie die liggaam, en die liggaam is nie die siel nie. Van die siel word dinge gesê wat nie op die liggaam van toepassing is nie, en omgekeerd. En van die mens in sy geheel word dinge gesê wat nòg op die siel nòg op die liggaam afsonderlik van toepassing is. Eienskappe van die siel word op die liggaam oorgedra en omgekeerd. En tog bly dit één mens. Só spreek die Skrif ook oor Christus. Dit ken aan Hom soms dinge toe wat net op die menslike natuur van toepassing is, en soms dinge wat net van die Goddelike natuur geld. En soms dinge wat altwee die nature insluit maar op nie een van die twee afsonderlik van toepassing is nie. Ons noem dit die verbinding van eienskappe.
2. Dit is geen menslike versinsels nie maar die duidelike leer van die Skrif. As Christus sê: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh 8:58), het dit nie op sy menslike natuur betrekking nie. Christus onderskei hier duidelik sy openbaring in die vlees van sy bestaan {187} van ewigheid af en pas hier op Hom as Persoon toe wat alleen aan sy goddelike natuur toekom. Dit geld ook van uitsprake soos byvoorbeeld die wat ons in Joh 5:17; Joh 17:5; Kol 1:15 lees. Hulle geld van sy Goddelike en nie van sy menslike natuur nie. Van sy menslike natuur geld weer uitsprake soos die volgende: dat Hy die Kneg van die Here genoem word (Jes 42:1), dat Hy toegeneem het in grootte en in genade by God en die mense (Luk 2:52), dat Hy van die laaste dag nie geweet het nie (Mark 13:32) en gesien en betas is (Luk 24:39). Tog skrywe Hy die dinge nie aan sy menslike natuur alleen toe nie maar sê dit asof dit van Hom as Middelaar geld. Verbinding van eienskappe vind ons ook in Hand 20:28; 1 Kor 2:8; 1 Joh 1:1 e.a.p.
3. Die plekke wat altwee nature saamvat, verklaar die waaragtige wese van Christus die allerbeste. In die evangelie volgens Johannes is daar baie te vind. Van altwee nature geld dat Hy van die Vader mag ontvang het om die sondes te vergewe; op te wek wie Hy wil; regvaardigheid, heiligheid en saligheid te skenk; aangestel te wees as Regter oor lewendes en dooies asook dat Hy die lig van die wêreld, die goeie Herder en die ware wynstok is (Joh 1:29; Joh 9:5; Joh 10:7,11; Joh 15:1).
Al het Hy as Seun van God al hierdie voorregte saam met die Vader voor die skepping van die wêreld besit, het Hy dit tog nie op dieselfde wyse besit nie. Aan ‘n gewone mens kan hulle ook nie gegee word nie. Hulle pas dus by Hom as Middelaar (vgl. ook 1 Kor 15:24,28). Christus sal regeer totdat Hy as Regter van hemel en aarde sal verskyn. Dán het Hy sy amp as Middelaar volbring. Wanneer ons God sal sien soos Hy is, sal Hy ophou om gesant van God te wees en tevrede wees met die heerlikheid wat Hy besit het voor die skepping van die wêreld.
4. As ons maar in die oog hou wat gesê is, sal ons alle moeilikhede kan oplos. Sommige struikel oor uitsprake van die Skrif aangaande Christus wat nòg by sy Godheid nòg by sy mensheid volkome pas. Dit kom daarvandaan dat hulle nie insien dat dit van sy Persoon as Middelaar geld nie. Hulle gebruik die eienskappe van sy Godheid om sy mensheid tot niet te maak en die van sy mensheid om sy Godheid te bestry. Hulle beweer eintlik dat Christus nie mens is nie, omdat Hy God is, en nie God is nie, omdat Hy mens is. En dat Hy nòg God nòg mens is, omdat Hy mens is en ook God. Dit is die dwaling van Nestorius. Hy onderskei nie net die twee nature nie maar skei hulle van mekaar. Op die wyse versin hy ‘n dubbele Christus in direkte teëspraak met die Skrif (Luk 1:32,43). Ons moet ook oppas vir die dwaling van Eutyches, wat die twee nature vernietig om die eenheid van Persoon te behou.
5. In ons tyd het ‘n ander monster opgestaan, Michael Servet, wat in die plek van die Seun van God ‘n mengsel stel, saamgesmelt {188} uit die wese van God, gees, vlees en drie ongeskape bestanddele. Hy sê dat Christus die Seun van God is, omdat Hy in die skoot van die maagd uit die Heilige Gees geword het. Hy vernietig die onderskeiding tussen die twee nature en maak van Christus iets wat uit God en mens vermeng is maar tog nie God of mens is nie. Voordat Christus in die vlees geopenbaar is, was daar in God net skaduagtige figure, sê hy. Die waarheid en vrug daarvan het eers werklikheid geword toe die Woord, wat tot die eer verordineer was, begin het om die Seun van God te word. Maar Christus is die Seun van God omdat Hy voor die tye van die wêreld uit die Vader geword het. En Hy het die menslike natuur aangeneem.
Servet sê dat ons ‘n dubbele Seun van God maak as ons sê dat die ewige Woord reeds Seun van God was voordat dit vlees geword het. Maar ons sê maar net dat Hy in die vlees geopenbaar is. As Hy voor sy vleeswording God was, volg daaruit nog nie dat Hy begin het om ‘n nuwe God te wees nie.
6. As Christus met sy vleeswording Seun van God geword het, volg daaruit dat Hy ook Seun is na sy menslike natuur. Servet sê dat Christus, wat in die vlees verskyn het, die Seun van God is. Buite die vlees kon Hy die naam nie dra nie. Ons erken dat Christus in die vlees Seun genoem word. Maar Hy is dit nie, soos die gelowiges, deur aanneming en genade nie maar waaragtige, natuurlike en daarom ewige Seun. Dit onderskei Hom van ons almal. God noem ons seuns, maar die naam waaragtige en eniggeborene skenk Hy alleen aan Christus. Hy is van nature wat ons as ‘n gawe ontvang. Dit leer Paulus ook as hy verklaar dat hy afgesonder is tot die evangelie van God, wat Hy tevore beloof het — aangaande sy Seun, wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid en na die Gees van heiligheid met krag as die Seun van God verklaar is . . . (Rom 1:1 e.v.). Waarom sou hy Hom uitdruklik die Seun van Dawid na die vlees noem en tog sê dat Hy as die Seun van God verklaar is as hy nie bedoel dat Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur Seun van God is nie? Hy onderskei hier dus duidelik die twee nature (vgl. ook Rom 9:5). Die Skrif noem Hom met ‘n dubbele naam: Seun van God en Seun van die mens. Hy is Seun van die mens, omdat Hy uit die geslag van Adam is, en Hy word Seun van God genoem, omdat Hy ewig God is.
7. Met groot rumoer voer hulle ook aan dat die engel vir Maria sê dat Hy, wat uit haar gebore sou word, Seun van God genoem sou word (Luk 1:32). Maar laat ons nagaan wat daar in die redenering steek. As dit sou beteken dat Hy eers na sy ontvangenis Seun van God geword het, volg daaruit dat Hy ook toe eers sou begin het om die Woord te wees. Johannes tog sê (1 Joh 1:1) dat Hy die Woord van die lewe verkondig wat sy hande getas het. {189}
Servet beweer dat Christus voor sy vleeswording nêrens Seun van God genoem word nie, behalwe op figuurlike wyse. Maar al is Hy nie toe so duidelik beskrywe nie, kan dit tog nie betwis word nie dat Hy ewig God is, omdat Hy die Woord is wat deur die Vader gegenereer is. En Hy word Middelaar genoem, omdat Hy God is, geopenbaar in die vlees. Ook sou God nie van die begin af Vader genoem kon gewees het as die wederkerige betrekking tot die Seun nie toe reeds bestaan het nie (Ef 3:14). Hulle almal laster wat leer dat Christus God se Seun is alleen in soverre Hy mens geword het.
8. Almal wat maar net ‘n Seun van God in die vlees ken, doen dit omdat Hy uit die Heilige Gees in die skoot van die maagd ontvang is. So het in vroeër tye die Manicheërs beweer dat die siel van die mens ‘n uitvloeisel van God is, omdat God die asem van die lewe in die mens geblaas het (Gen 2:7). Hulle gryp die naam Seun so vas dat hulle beweer dat Christus Seun van God is omdat Hy na sy menslike natuur uit God gebore is. So word die ewige generasie van die Wysheid tot niet gemaak; word by die Middelaar geen rekening met sy Godheid gehou nie of word daar ‘n skim in die plek van ‘n mens gestel. So word die hoop op die saligheid uitgedoof.
HOOFSTUK XV. Om te weet waartoe Christus deur die Vader gestuur is en wat Hy vir ons gebring het, moet ons let op sy profetiese, koninklike en priesterlike amp
1. Augustinus sê tereg dat die ketters alleen die naam van Christus met die ware gelowiges gemeen het, maar nie Christus self nie. Hy behoort alleen aan sy kerk. So is dit vandag ook met die pousgesindes gesteld. Ons geloof in Christus sal dán eers ‘n vaste fondament hê as ons daaraan vashou dat die amp wat die Vader aan Hom opgedra het, in drie dele bestaan. Hy is aan ons gegee tot profeet, tot koning en tot priester. Dit sal ons egter nie veel baat om net die name te ken nie. Daarby moet ook kom kennis van hulle doel en gebruik. God het deur ‘n hele reeks van profete aan sy volk hierdie leer verkondig. Tog was die gelowiges altyd hiervan oortuig dat alleen deur die koms van die Messias die kennis ten volle openbaar sou word. Ons vind dit selfs by die Samaritane (Joh 4:25). Die Jode het dit geglo op grond van {190} onbetwyfelbare godsprake (Jes 55:4; Jes 9:6). Nadat God in die ou tyd op baie en verskillende maniere tot die vaders gespreek het deur die profete, het Hy egter in die laaste tyd tot ons gespreek deur sy geliefde Seun (Hebr 1:1). Met hierdie woorde prys die Skrif die volmaaktheid van die leer van die evangelie aan,
2. Die naam Christus het betrekking op hierdie drie ampte. Onder die wet is sowel profete as priesters en konings met heilige olie gesalf. Daarom is ook die bekende naam Messias aan die beloofde Middelaar gegee. Ek erken dat Hy veral met die oog op sy koningskap Messias genoem is. Tog mag ons sy profetiese en priesterlike salwing nie verontagsaam nie. Van die eerste word uitdruklik melding gemaak deur Jesaja (61:1): “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges”, ens. Hier sien ons dat Hy met die Heilige Gees gesalf is om die verkondiger te wees van die genade van die Vader; ook dat Hy van die orige leraars onderskei word. Ons moet daarby egter opmerk dat Hy nie net vir Homself die salwing verkry het nie maar ook vir sy hele liggaam. In die voortdurende prediking van die evangelie word die krag van die Gees openbaar. Intussen bly vas staan dat Hy deur sy prediking ‘n end gemaak het aan alle profesieë. Hulle wat met die evangelie nie tevrede is nie en daaraan iets toevoeg, doen aan sy gesag afbreuk. Daarom spreek God ook by sy doop: “Dit is my geliefde Seun in Wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom”. Van Hom uit, as die Hoof, is die salwing verbrei oor al die lede van die liggaam, soos Joël voorsê het (Joël 3:1).
3. Ek kom nou tot sy koningskap. Dit is geestelik. Daaruit maak ons op waartoe dit dien, wat dit ons bring, en ook wat die krag en ewigheid daarvan is. Die ewigheid wat die engel aan die Persoon van Christus toeken (Dan 2:44), word tereg deur die engel by Lukas (1:33) op die saligheid van sy volk toegepas. Ook hierdie ewigheid moet op tweërlei manier verstaan word. Dit het betrekking op die hele liggaam van die kerk en op elke lid afsonderlik. Op die kerk het betrekking wat ons lees in Ps 89:36 e.v. Daar belowe God dat Hy deur die hand van sy Seun ‘n ewige regeerder en beskermer van sy kerk sal wees. Die ewige voortbestaan van die kerk word daardeur gewaarborg te midde van al die beroeringe en die neerlae wat dit ly (vgl. ook Ps 2:2 e.v.; Ps 110:1).
Uit dieselfde gedagte van “ewigheid” vloei vir die afsonderlike gelowige voort die hoop op ‘n geluksalige ontsterflikheid. Christus verklaar immers dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie (Joh 18:36).
4. Ons het gesê dat Christus se ryk geestelik is. Daarom verwag ons die vrug daarvan in ‘n lewe na hierdie lewe. Die geluksaligheid {191} wat ons in Christus belowe word, is nie geleë in uiterlike dinge soos rykdom of ‘n vrolike onbesorgde lewe nie, maar dit is die hemelse lewe. Christus verryk sy gelowiges met alles wat nodig is vir die saligheid van hulle siel en versterk hulle met krag teen al die aanvalle van hulle geestelike vyande. Daaruit lei ons al dat Hy meer om ons ontwil Koning is as om sy ontwil, sodat ons vervul sal word met die heilsgoedere van die Gees en ons daaruit sal weet dat ons waarlik met God verbind is om die volmaakte saligheid te ontvang. In vertroue op die krag van dieselfde Gees twyfel ons ook nie dat ons teenoor die duiwel en die wêreld altyd oorwinnaars sal wees nie. Vervolgens lewe ons in lydsaamheid onder kommer, honger, veragting, smaad, omdat ons weet dat ons Koning ons nooit in die steek sal laat nie maar ons altyd te hulp sal kom, totdat ons, nadat ons ons krygsdiens volbring het, opgeroep word tot die oorwinning. Hy laat ons deel in alles wat Hy van die Vader ontvang het, sodat ons onversaagd stry teen die duiwel, die sonde en die dood.
5. Christus is nie met olie of welriekende salwe gesalf nie, maar op Hom het gerus die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte en die Gees van kennis en van die vrees van die HERE (Jes 11:2). Dit is die vreugdeolie waarmee Hy bo sy metgeselle gesalf is (Ps 45:8). As Hy nie so voortreflik was nie, sou ons arm en ellendig gewees het. Maar nou het die Vader aan sy Seun die Gees gegee, nie met mate nie (Joh 3:34), sodat ons almal uit sy volheid genade op genade sal ontvang (Joh 1:16; Ef 4:7). Dit bevestig dat sy koninkryk geestelik is en dat ons die wêreld moet versaak om dit deelagtig te word.
Van hierdie heilige salwing is ‘n sigbare teken gesien by die doop van Christus, toe die Heilige Gees in die gedaante van ‘n duif op Hom neergedaal het (Luk 3:22). Aan die ewigheid waaroor ons gespreek het, word deur die uitspraak van Paulus in 1 Kor 15:24,28 geen afbreuk gedoen nie. Hy wil alleen sê dat in die volmaakte heerlikheid die bestuur van die koninkryk nie so sal wees soos dit nou is nie. Die Vader het aan die Seun alle mag gegee, sodat Hy ons deur sy hand sal bestuur en onderhou en ons onder sy beskerming sal bewaar en help. Solank ons van God vervreemd is, kom Christus as Middelaar tussenbei. Maar in die ryk van die volkomenheid sal God die enigste Hoof van sy kerk wees, omdat die amp van Christus om sy kerk te verdedig dan vervul sal wees, Om dieselfde rede noem die Skrif Hom orals Here, omdat die Vader Hom oor ons gestel het om ons deur sy hand te regeer. Aan sy heerskappy moet ons gehoorsaam wees, want teenoor die gelowiges vervul Hy wel die pligte van Koning en Herder, maar Hy dra ook ‘n ystersepter waarmee Hy al die weerspanniges verpletter (Ps 2:9; Ps 110:6). {192}
6. Die bedoeling en nuttigheid van sy priesteramp is dat Hy Middelaar is, vry van elke sondesmet, wat deur sy heiligheid ons met God versoen. Maar omdat die regverdige vloek van God op ons rus, is dit nodig dat ‘n soenoffer vir ons gebring sal word om die toorn van God stil te maak. Hierdie eer Kom alleen aan Christus toe, omdat Hy deur die offerande van sy dood ons skuld tot niet gemaak het en vir ons sondes voldoening gebring het. Hoe belangrik dit is, leer die eed van God ons (Ps 110:4). Ons misdade sluit vir ons die weg na God toe. Daarom moet ons by die dood van Christus begin, sodat die werkdadigheid en die nuttigheid van sy priesterskap ons deel mag word. Hieruit volg dat Hy ‘n ewige Voorbidder is deur wie se voorspraak ons guns verkry. Daaruit ontstaan weer die vertroue om self te bid en die geruste gewete, wat op God se vaderlike goedheid steun en vas oortuig is dat almal Hom welbehaaglik is wat deur die Middelaar geheilig is. Ons merk verder op dat Christus nie net Priester was nie maar terselfdertyd ook offerande. In Hom is ons ook priesters, wat onsself in alles wat ons besit, aan God offer. In Hom tree ons die hemelse heiligdom binne en is ons gebede en lofsange aangenaam voor die aangesig van God, net so asof onsself ook heilig was. Daarom is die misoffer so verfoeilik omdat hulle nie met die priesterskap van Christus tevrede is nie.
HOOFSTUK XVI. Hoe Christus die amp van Verlosser volbring het om vir ons die saligheid te verdien; sy dood, opstanding en hemelvaart
1. Wat ons tot dusver oor Christus gesê het, moet daartoe dien dat ons, wat in onsself vervloek, dood en verlore is, die geregtigheid, verlossing en die lewe in Hom sal soek. So getuig Petrus dat daar geen ander naam onder die hemel gegee is waardeur ons gered moet word nie (Hand 4:12). Die naam is aan Hom gegee deur die engel uit die hemel, en nie maar by toeval of deur die wil van ‘n mens nie. Die rede waarom Hy die naam moes dra, word ook bekend gemaak: “Dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Mat 1:21; Luk 1:31). As ons daarom in die minste van Hom afwyk, verloor ons die saligheid en beroof ons ons uit eie beweging daarvan.
Verder moet ook oorweeg word hoe Hy die saligheid vir ons verwerf het, sodat ons alles sal verwerp wat ons daarvan kan aftrek. Want niemand kan tot homself inkeer en oordink hoedanig hy is nie, sonder om te gevoel dat God op hom vertoorn is en {193} sonder om te soek na ‘n manier en middel om Hom te versoen nie. Immers, op sondaars rus die toorn en vloek van God solank as hulle nie van skuld verlos is nie. Die regverdige Regter kan nie toelaat dat sy wet ongestraf geskend word nie.
2. Laat ons in die verbygaan net eers nagaan hoe die dinge met mekaar gerym moet word, nl. dat God, wat aan ons barmhartigheid bewys, ons vyand was, totdat Hy deur Christus met ons versoen is. Want hoe sou Hy ons in Christus ‘n besondere wyse van sy liefde kon gee, as Hy ons nie reeds tevore met onverdiende goedheid omhels het nie? Die Skrif getuig tog dat die mense vervloek was en vyande van God totdat hulle ongeregtigheid deur Christus se offerande versoen is (Rom 5:10; Gal 3:10,13; Kol 1:21-22). Dit is so geskrywe, sodat ons des te beter sal verstaan hoe ellendig en rampsalig ons buite Christus is. Want as aan ons nie in soveel woorde gesê word dat die toorn en wraak van God op ons rus nie, sou ons nooit begryp het hoe ellendig ons sonder die barmhartigheid van God is nie Ons sou ook die weldaad van die verlossing minder werd geag het.
Om dus die lewe en die barmhartigheid van God begerig aan te gryp en met dankbaarheid sy vaderlike liefde in Christus te ontvang moet ons eers deur vrees vir sy toorn en skrik vir die ewige dood neergewerp word. Dan sien ons dat sonder Christus God vir ons ‘n vyand is en dat ons sy vaderlike liefde alleen in Hom kan omhels.
3. Al is dit gesê vanweë die swakheid van ons begrip, is dit tog waar. Want God kan die ongeregtigheid wat Hy in ons almal sien, nie liefhê nie, omdat Hy ten hoogste regverdig is. Wat ons in ons het, verdien sy toorn. Daarom is ons almal skuldig voor Hom en gebore vir die verdoemenis van die hel, sowel vanweë ons verdorwe natuur as die slegte lewe wat daaruit voortkom. Maar omdat die Here wat Hom toebehoort, in ons nie wil verderf nie, vind Hy nog iets wat Hy kan liefhê. Want al het ons deur ons eie skuld sondaars geword, bly ons tog sy skepsels. En al het ons uit eie beweging die dood oor ons gebring, het Hy ons tog geskape om te lewe. God word dus deur loutere en onverdiende liefde opgewek om ons in genade aan te neem. Maar omdat daar ‘n ewige en onversoenlike stryd tussen geregtigheid en ongeregtigheid is, kan Hy ons nie geheel en al opneem solank ons sondaars bly nie. Om dus alle stof tot vyandskap weg te neem en ons geheel en al met Hom te versoen vernietig Hy deur die soendood van Christus al die kwaad en stel Hy ons, wat tevore onrein en vuil was, regverdig en heilig voor Hom. Omdat Hy ons dus eerste liefgehad het, versoen Hy ons daarna met Hom. Ons moet dus ons hart alleen op Christus vestig. Deur Hom alleen verkry ons dit dat ons sondes ons nie toegereken word nie. {194}
4. Daarom sê Paulus (Ef 1:4) dat die liefde waarmee God ons voor die skepping van die wêreld liefgehad het, in Christus gefundeer was. Dit versoen die plekke met mekaar waar gesê word dat God sy liefde tot ons daarin bewys het dat Hy sy eniggebore Seun tot in die dood toe oorgegee het (Joh 3:16) en dat Hy tog ons vyand was voordat Hy deur die dood van Christus versoen was (Rom 5:10). Ons moet dit dus nie so verstaan dat God deur die dood van Christus versoen is, sodat Hy sal begin om ons lief te hê wat Hy gehaat het nie, maar ons is met Hom versoen terwyl Hy ons reeds liefgehad het. Hy het ons op wonderbare en Goddelike wyse liefgehad, ook toe Hy ons gehaat het. Hy het ons gehaat in sover ons nie was soos Hy ons gemaak het nie, en ons liefgehad omdat Hy ons gemaak het.
5. As dus gevra word hoe Christus die skeiding tussen God en ons weggeneem en die geregtigheid vir ons verdien het, kan daarop geantwoord word dat Hy dit gedoen het deur sy algehele gehoorsaamheid (Rom 5:19). Hy het die losprys om ons te verlos betaal van die oomblik af waarop Hy die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het. Maar insonderheid het Hy dit gedoen deur sy dood. Só getuig Hy self (Mat 20:28; vgl. ook Joh 1:29; Rom 3:24; Rom 4:25 en 2 Kor 5:21). Daarom volg in die Apostoliese Geloofsbelydenis terstond op sy geboorte sy dood en opstanding, omdat daarin die hoofsaak van ons saligheid geleë is. En tog word die gehoorsaamheid wat Hy in sy lewe betoon het, nie uitgesluit nie (Fil 2:7). In hierdie gehoorsaamheid neem sy vrywillige onderwerping die eerste plek in, omdat die offer wat Hy gebring het, vir ons geen geregtigheid sou verdien het as dit nie vrywillig gebring was nie (Joh 10:18; Jes 53:7). Dit is die bewys van sy onvergelyklike liefde vir ons dat onder die verskriklike vrees en angste Hy nie aan Homself gedink het nie, sodat Hy vir ons sou kan sorg (Hebr 10:5; Rs. 40:9).
Omdat die straf van God op ons gewag het, word in die eerste plek sy veroordeling deur Pilatus verhaal, sodat ons sal weet dat die straf wat ons moes ondergaan, deur Hom, die Regverdige, gedra is.
Om die vervloeking weg te neem wat op ons gerus het, was dit nie voldoende dat Hy maar een of ander dood sou sterf nie Om ons te verlos moes Hy ‘n sodanige dood kies waarby Hy sowel die vervloeking wat op ons gerus het, op Hom oorgebring het asook die versoening op Hom geneem het en op die wyse ons sou bevry.
Ons moet hier op twee dinge let wat deur die profete voorsê is. As ons hoor dat Hy van die regterstoel af weggelei is en tussen moordenaars opgehang is, het ons daarin die vervulling van die profesie dat Hy saam met die misdadigers gereken is (Jes 53:11; Mark 15:28). As ons hoor dat dieselfde mond wat Hom {195} veroordeel, ook sy onskuld betuig, weet ons dat Hy betaal het wat Hy nie geroof het nie (Ps 69:5). Dit is ons vryspraak dat die skuld wat ons strafwaardig gemaak het, op die hoof van die Seun van God oorgebring is.
6. Ook die manier waarop Hy ter dood gebring is, is ‘n groot verborgenheid. Die kruis was vervloek, nie alleen in die skatting van die mense nie maar ook deur die wet van God (Deut 21:23). As Christus dus aan die kruis hang, onderwerp Hy Hom aan die vervloeking. So moes dit gebeur, sodat ons van die vloek verlos sou word. So het Hy vervul wat in die slag- en soenoffers van die wet afgebeeld was. Hy het sy lewe gegee as ‘n offer vir die sonde, die krag van die vervloeking gebreek en nie daaronder beswyk nie (Jes 53:5,10; 2 Kor 5:21; Gal 3:13). Daarom gryp die geloof die vryspraak aan in Christus se veroordeling en die seëning in sy vervloeking (Kol 2:14-15). Ons moet altyd aan Christus se bloed dink as die offerande tot versoening van ons sondes maar ook as die bad om dit af te was.
7. In die Geloofsbelydenis volg nou dat Hy gesterf het en begrawe is. Hierin sien ons ook weer hoe Christus Hom oral in ons plek gestel het om die prys vir ons verlossing te betaal. Die dood het ons aan sy juk onderwerp, maar Christus gee Homself aan sy mag oor om ons daaruit te verlos (Hebr 2:9). Deur te sterf bewerk Hy dat ons nie sterf nie en vernietig Hy die duiwel, wat mag het oor die dood, en verlos Hy hulle wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was (Hebr 2:15). Dit is die eerste vrug wat ons uit sy dood verkry. Die tweede vrug is dat Hy ons ou mens doodmaak, sodat dit geen krag meer sal hê en ook nie vrugte dra nie.
Hiertoe dien ook sy begrafnis (Rom 6:5; Gal 2:19; Gal 6:14; Kol 3:3). In die dood en begrafnis van Christus word ons dus ‘n dubbele weldaad geskenk, nl. die verlossing van die dood en die doding van ons vlees.
8. Ook die neerdaling na die hel het in die verlossingswerk groot betekenis. Hoewel hierdie artikel blykbaar later eers aan die ander toegevoeg is, mag dit tog nie weggelaat word nie, omdat dan die vrug van Christus se dood baie verminder sal word.
Sommige is van oordeel dat hier nie iets nuuts gesê word nie maar dat slegs herhaal word wat alreeds aangaande sy begrafnis gesê is. Dit is wel waar dat die woord hel in die Skrif baiemaal in die sin van graf gebruik word. Maar waarom sal ‘n saak wat duidelik was, weer met ‘n onduidelike woord verduister word? Dit is ook onwaarskynlik dat in hierdie kort samevatting van die inhoud van die geloof, waarin die hoofsake in ‘n paar woorde weergegee word, duplikasie kan insluip.
9. Ander lê dit so uit dat Christus neergedaal het na die siele {196} van die vaders wat onder die wet gesterf het, om die tyding aan hulle te bring dat die verlossing volbring is en hulle uit te voer uit die kerker waarin hulle opgesluit was. Daarvoor soek hulle bevestiging in Ps 107:16 en Sag 9:11 maar ten onregte. Die psalmis spreek van hulle wat in verafgeleë streke in gevangenskap verkeer. En Sagaria het die oog op die Babiloniese gevangenskap, wat hy met ‘n diep droë kuil vergelyk.
Wat die woorde van Petrus betref (1 Petr 3:10), erken ek geredelik dat Christus aan die vaders verskyn het deur die krag van sy Gees, sodat hulle sou weet dat die genade geopenbaar is wat hulle slegs in hoop gesmaak het.
Die apostel prys die uitnemende krag van Christus se dood daardeur aan dat dit tot die dode toe deurgedring het. Die gelowiges het die besoeking aanskou wat hulle met spanning verwag het. Terselfdertyd het dit vir die verworpenes duidelik geblyk dat hulle van die saligheid uitgesluit word.
10. Ons soek dus ‘n beter verklaring van hierdie artikel. En dié vind ons in die Skrif. Daar sou niks volbring gewees het as Christus net die tydelike dood gesterf het nie. Hy moes ook die gestrengheid van die goddelike wraak ondervind, sodat Hy Hom teen God se toorn sou stel en aan sy regverdige oordeel voldoening verskaf. Daarom moet Hy ook met die magte van die hel en die verskrikkinge van die ewige dood die stryd aanbind. Nadat dus in die voorafgaande artikels die lyding geteken is wat die oog kan waarneem, word nou die onsigbare en onbegryplike oordeel genoem wat Hy voor God gedra het. Nie alleen die liggaam van Christus is as ‘n prys vir ons verlossing oorgelewer nie. Hy het nog ‘n groter prys betaal. In sy siel het Hy die vreeslike kwellinge gedra van ‘n mens wat voor God verdoem en verlore is.
11. Daarom sê Petrus dat Hy opgestaan het nadat Hy die smarte van die dood ontbind het. Hy noem nie net die dood nie maar vermeld uitdruklik die smarte wat voortspruit uit die vloek en die toorn van God. Dieselfde sê ook die skrywer van die brief aan die Hebreërs (Heb 5:7). Christus word verhoor uit die vrees, nie om vry te wees van die dood nie maar om nie soos ‘n sondaar daardeur verslind te word nie.
Nogtans sê ons nie dat God op Hom vertoorn was nie. Hoe sou Hy toornig kon wees op sy geliefde Seun in wie Hy ‘n welbehae het? Of hoe sou Christus deur sy tussenkoms die Vader met ander kon versoen as Hy self Hom as vyand gehad het? Ons sê dat Hy die las van God se toorn gedra het en al die tekens van die toorn en die straf ondervind het. Deur sy helse lyding verkry ons dit dat die dood verslind is.
12. Sommige kwaadwilliges beweer dat ek Christus ‘n gruwelike onreg aandoen as ek aan Hom vrees toeskrywe. Hulle beweer verder {197} dat ek wanhoop aan Hom toeskrywe. Maar die evangeliste noem uitdruklik die vrees en angs. Nog voordat die tyd aangebreek het dat Hy moes sterwe, het Hy in sy gees ontsteld geword en is Hy deur droefheid aangetas. In die stryd self word Hy meer beangs. Ons moet dus Christus se droefheid bely as ons ons nie vir sy kruis skaam nie. As sy siel geen deel aan die straf gehad het nie, sou Hy maar net ‘n Verlosser van ons liggaam gewees het. Maar Hy moes worstel om hulle op te rig wat neergewerp gelê het. Dit doen niks tekort aan sy hemelse heerlikheid nie; inteendeel, sy goedheid blink daarin uit dat Hy nie geweier het om ons swakhede op Hom te neem nie Dit is vir ons ‘n uitnemende troos. Immers, nou kan Hy met ons medelye hê (Hebr 4:15).
Hulle wys ook daarop dat dit onwaardig is om iets gebrekkigs aan Christus toe te skrywe — net so asof hulle wyser is as die Gees, wat getuig dat Christus in alles versoek was soos ons maar sonder sonde. Christus het Hom aan die swakheid onderwerp, nie uit dwang nie maar deur louter liefde en barmhartigheid.
Hulle beweer verder dat Christus wel die dood gevrees het maar nie die vloek en die toorn van God nie, omdat Hy geweet het dat Hy daarteen veilig was. Maar die bloed wat Hy gesweet het in Getsemané, en die drie maal herhaalde gebed: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan” (Matth 26:39) bewys dat Hy ‘n baie swaarder en moeiliker stryd gehad het as net met die dood wat ons almal sterf.
Is dit dan die neerdaling na die hel? Dit was die begin daarvan. Daaruit kan ons aflei watter verskriklike angste Hy gely het toe Hy as skuldige voor die regbank van God gestaan het. Dit stry nie met sy geloof nie, soos blyk uit sy uitroep aan die kruis: “my God, my God, waarom het u My verlaat?” (Mat 27:46). In sy angs hou Hy nie op om Hom sy God te noem nie, al roep Hy uit dat Hy Hom verlaat het.
Hierdeur word ook die dwalinge van Apollinaris en van die Monotheliete weerlê.
13. Dan volg sy opstanding uit die dode. As Christus nie opgestaan het nie, is alles onvolledig wat ons tot sover gesê het. Want aangesien in die kruis, die dood en die begrafnis van Christus net swakheid te sien is, moet die geloof oor alles heen spring om met krag toegerus te word. Daarom sê Petrus dat ons deur sy opstanding wedergebore word tot ‘n lewende hoop (1 Petr 1:3). Paulus sê ook (Rom 4:25) dat Hy oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking. Want hoe sou Hy ons van die dood kon bevry as Hy self daaronder beswyk het? En hoe sou Hy aan ons die oorwinning kon besorg as Hy self in die stryd die onderspit gedelf het? Daarom verdeel ons die stof van ons saligheid so dat deur sy dood die sonde vernietig en die {198} dood verslind is, en deur sy opstanding die regverdigheid herstel en die lewe weer aan die lig gebring is. As dus in die Skrif van sy dood gespreek word, moet daaronder ook sy opstanding ingesluit word en omgekeerd. Vervolgens verkry ons ‘n ander vrug uit sy opstanding, nl. ons heiligmaking (Rom 6:5; Kol 3:5). Die derde vrug van sy opstanding is dat ons verseker word van ons eie salige opstanding (1 Kor 15).
14. Op die opstanding volg die hemelvaart. Daarmee begin sy koninklike heerskappy (Ef 4:10). Die Here sê ook self vir sy dissipels dat dit vir hulle nuttig is dat Hy weggaan, want as Hy nie weggaan nie, sal die Heilige Gees nie kom nie (Joh 16:7). Deur die koms van die Heilige Gees bevorder Hy die uitbreiding van sy koninkryk, toon Hy sy mag deur sy gelowiges te help en sy vyande neer te werp. Deur sy hemelvaart hou Hy sy belofte dat Hy met ons sal wees tot aan die voleinding van die wêreld. Liggaamlik is Hy wel afwesig, maar na sy Godheid, majesteit en Gees wyk Hy nooit meer van ons nie.
15. Daarop volg in die Geloofsbelydenis dat Hy aan die regterhand van sy Vader sit. Dit is ‘n vergelyking wat ontleen is aan die gewoonte van vorste om kanseliers te hê aan wie hulle die regering opdra. Die uitdrukking beteken dus dat die Vader deur Hom alle dinge regeer totdat Hy kom om te oordeel (Ef 1:20; Fil 2:9).
16. Uit hierdie heerlikheid van ons Hoof ontvang die geloof baie vrug. Ten eerste het Hy vir ons die toegang geopen tot die hemelse koninkryk. Ons besit die hemel reeds in ons Hoof (Ef 2:5). Vervolgens verskyn Hy voor die aangesig van die Vader as ons Voorbidder (Hebr 7:25; 9:11). In die derde plek gryp die geloof sy mag aan waarin ons sterkte, krag, rykdom en roem teen die hel geleë is. Hy beklee dus die heerlikheid om daarvandaan sy krag op ons uit te stort, ons lewend te maak, deur sy Gees ons te heilig, ons vyande te bedwing, totdat Hy al sy en ons vyande neergewerp en die opbou van sy kerk voltooi het.
17. Maar ons verwag Hom ook uit die hemele op die jongste dag. Dan sal Hy sigbaar uit die hemel neerdaal soos sy apostels Hom na die hemel sien heenvaar het (Hand 1:11). Hy sal verskyn met die onuitspreeklike majesteit van sy koninkryk, met die glans van onsterflikheid en met die onmeetlike mag van sy Godheid, begelei deur engele, om die lewende en die dode te oordeel (Mat 25:31 e.v.; 1 Thess 4:16-17). Ons sal wel nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word (1 Kor 15:51). Die sterflike liggaam sal in een oomblik tot niet gaan en in ‘n heeltemal nuwe natuur verander word.
18. Dit is vir ons ‘n groot troos om te weet dat Christus die Regter sal wees. Want hoe sal so ‘n goedertieren Vors sy volk {199} veroordeel? Hoe sal die Hoof die lidmate verstrooi? Deur die oordeel sal Hy die ewige geluksaligheid skenk wat deur die evangelie beloof is.
19. Al ons saligheid is dus in Christus geleë. Laat ons daarom toesien dat ons nie, al is dit ook die allergeringste deel daarvan, by iemand anders soek nie. In Hom is saligheid, sterkte, heiligheid, goedertierenheid, vryspraak, kwytskelding van die vloek, genoegdoening, nuwe lewe, beërwing van die hemelse koninkryk, beskerming, oorvloed van alle goedere vir ons om te put.
HOOFSTUK XVII. Tereg word gesê dat Christus vir ons die genade van God en die saligheid verdien het
1. Daar is mense wat erken dat ons die saligheid deur Christus verkry. Nogtans wil hulle nie hoor van die woord verdienste nie. Daardeur sou dan die genade van God verduister word. Hulle sê dat Christus net ‘n werktuig of ‘n dienaar en nie die Bewerker van die saligheid of die Leidsman tot die lewe is nie (Hand 3:15). Augustinus sê egter: “Daar is geen duideliker voorbeeld van die predestinasie as die Middelaar self nie”. As daar dus van Christus se verdienste sprake is, klim ons op tot God se verordinering as die eerste oorsaak. Uit louter welbehae het Hy die Middelaar gestel om vir ons die saligheid te verdien. Die verdienste van Christus word dus ten onregte teenoor die barmhartigheid van God gestel. Daar is niks verkeerds in om te sê dat die regverdigmaking van die mense ‘n genadewerk van God is uit loutere barmhartigheid en dat die verdienste van Christus onder die barmhartigheid van God tog daarby te pas kom nie.
2. Baie plekke in die Skrif bevestig dit: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh 3:16). Hier sien ons dat die liefde van God die vernaamste oorsaak en oorsprong is (van ons saligheid) en die geloof in Christus die tweede oorsaak. As hulle teëwerp dat Christus net die formele oorsaak is, doen hulle afbreuk aan sy krag. Want as ons deur die geloof in Hom die geregtigheid verkry, dan moet die materie van ons saligheid in Hom gesoek word, soos met baie uitsprake van die Skrif duidelik bewys kan word, bv.: “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes” (1 Joh 4:10). {200} Die woord versoening het groot gewig. “Hy is ‘n versoening vir ons sondes” (1 Joh 2:2; vgl. ook Kol 1:20; 2 Kor 5:19; Ef 2:16 e.a.p.). Die rede vir hierdie verborgenheid vind ons in die eerste hoofstuk van die brief aan die gemeente van Efese. Daar sê Paulus dat ons in Christus uitverkies is, en voeg daaraan toe dat ons ook in Hom genade verkry het. God het hulle met sy guns omhels wat Hy voor die skepping van die wêreld liefgehad het, deur sy liefde te beklemtoon nadat Hy deur die bloed van Christus versoen was.
3. Dat Christus deur sy gehoorsaamheid vir ons genade by die Vader verdien het, blyk orals uit die Skrif Hy het genoegdoening gebring vir ons sondes, die straf betaal, God versoen, gely vir die onregverdiges, ens. (vgl. Rom 5:19).
4. As ons sê dat genade vir ons verwerf is, deur die verdienste van Christus, verstaan ons daaronder dat ons deur sy bloed gereinig is en dat sy dood die versoening vir ons sondes was (1 Joh 1:7). As dit die uitwerking van sy vergote bloed is dat die sondes ons nie toegereken word nie, volg daaruit dat deur hierdie prys aan die oordeel van God voldaan is. Daarop het ook betrekking die woord van die Doper: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh 1:29). Sonder bloedstorting vind daar geen vergifnis plaas nie (Hebr 9:22). Daaruit besluit hy dat Christus eenmaal verskyn het om die sonde deur sy offerande tot niet te maak. Die genade van Christus word verkleineer as ons loën dat sy offerande die krag het om te versoen (Jes 53:5; 1 Petr 2:24).
5. Die apostels getuig duidelik dat Hy die prys betaal het waarmee Hy ons van die skuld van die dood verlos het (Rom 3:24; 1 Petr 1:18; 1 Kor 6:20; Kol 2:14). Van groot betekenis is die woorde van die apostel Paulus: “As daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe” (Gal 2:21). Hieruit leer ons dat ons deur Christus verkry wat die wet vir ons sou gegee het as ons dit kon volbring het (vgl. verder Gal 4:4; Rom 4:5,25; Ef 5:2; Fil 1:29).
6. Dit is dan ook dwaasheid om soos Lombardus te vra of Christus ook vir Homself iets verdien het. Waarom sou die Seun van God na ons toe neerdaal om iets vir Homself te verdien? Die Skrif sê dat God Hom in die wêreld gestuur het en Hom aan die dood oorgegee het, omdat Hy die wêreld liefgehad het. Christus sê self ook: “Ek heilig Myself vir hulle” (Joh 17:19). {201}
{202}
DERDE BOEK: Die wyse waarop die genade van Christus verkry word; die vrugte wat daaruit voortkom, en die werkinge wat daaruit volg.
{203}
{204}
HOOFSTUK I. Die dinge wat oor Christus gesê is, word ons deel deur die verborge werking van die Heilige Gees
1. Ons moet nou nagaan hoe ons deel kry aan die goedere wat die Vader aan sy eniggebore Seun gegee het om arme en behoeftige sondaars daarmee te verryk.
In die eerste plek moet ons opmerk dat alles wat Christus tot saligheid van die menslike geslag gely en gedoen het, vir ons van geen waarde is solank ons van Hom geskei is nie. Om ons te kan meedeel wat Hy van die Vader ontvang het, moet Hy in ons woon. Daarom word Hy ons Hoof genoem en die eersgeborene onder baie broeders (Ef 4:15; Rom 8:29). Van ons weer word gesê dat ons in Hom ingeënt word en ons met Hom beklee (Rom 11:17; Gal 3:27). Dit geskied deur die geloof, wat nie die deel van almal is nie. Ons moet dus ondersoek instel na die verborge werking van die Gees, wat ons Christus en al sy weldade laat geniet. Oor sy Godheid het ons nie nodig om weer te handel nie. Dit is alreeds gedoen. Ons bepaal ons by sy getuienis in ons aangaande Christus.
Petrus sê dat die gelowiges uitverkore is in Christus … in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus (1 Petr 1:2). En as Paulus spreek oor ons heiligmaking en regverdigmaking, sê hy dat ons dit alles deelagtig word in die Naam van Jesus Christus en deur die Gees van onse God. Hy is die band waardeur Christus Homself kragdadig aan ons verbind.
2. Omdat hierdie saak vir ons van soveel betekenis is, moet ons verder weet dat Christus op ‘n besondere wyse met die Heilige Gees gesalf is, om ons van die wêreld af te sonder en ons tot die hoop op die ewige erfenis te versamel. Daarom word Hy die Gees van heiligmaking genoem, omdat Hy die wortel en die saad van die hemelse lewe in ons is. Deur die verligting van die Gees maak God vir Hom dissipels van mense wat vantevore die hemelse leer nie gehad het nie (Joël 2:28).
Verder word Hy beurtelings genoem die Gees van die Vader of die Gees van die Seun (Rom 8:9 en 11). Die Vader is die Gewer van die gawes en Christus die Uitdeler daarvan aan ons. Hy word ook die Gees van Christus genoem, nie net in sover Hy die ewige Woord is nie maar ook wat sy Persoon as Middelaar betref. Daarom word Christus ook die tweede Adam genoem (1 Kor 15:45).
3. Dit sal sy nut hê om hier te let op die name waarmee die Skrif die Heilige Gees noem as dit oor ons saligheid handel. Hy word genoem die Gees van aanneming tot kinders (Rom 8:15; Gal 4:6), {205} omdat Hy vir ons die getuie is van die onverdiende goedheid van God jeens ons in Christus en omdat Hy ons die moed gee om te bid: Abba, Vader. Om dieselfde rede word Hy ook die pand en seël van ons erfenis genoem (2 Kor 1:22), omdat Hy ons verseker dat ons saligheid veilig is onder die troue hoede van God. Hy word ook lewe genoem (Rom 8:10), water (Jes 55:1; Jes 44:3; Joh 7:37; Eseg 36:25). Verder word Hy ook genoem olie en salwing (1 Joh 2:20,27). Omdat Hy ons hart suiwer van sonde en ons tot liefde vir God laat ontbrand, word Hy vuur genoem (Luk 3:16). Eindelik word Hy fontein genoem, omdat die hemelse rykdomme ons uit Hom toestroom (Joh 4:44), en die hand van God waardeur Hy sy mag uitoefen (Hand 11:21). Deur die inblasing van sy krag regeer Hy ons so dat die goedere wat in ons is, gawes van sy genade is. Christus is dus vir ons van geen nut nie, totdat ons so met Hom verenig is deur die Heilige Gees dat ons vlees van sy vlees en been van sy bene is (Ef 5:30).
4. Sy vernaamste werk is egter om die geloof in ons te wek. Deur die geloof lei Hy ons tot die lig van die evangelie, soos Johannes leer Joh 1:12) dat alleen hulle kinders van God is wat nie uit vlees en bloed nie maar uit God gebore is. Daarmee stem die woord van Christus aan Petrus ooreen (Mat 16:17; vgl. ook Ef 1:13; 2 Thess 2:13). Johannes sê dit nog duideliker (1 Joh 3:24; 1 Joh 4:13). Daarom beloof Christus ook aan sy dissipels die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie (Joh 14:17). Ons kan Hom daarom tereg noem die sleutel waardeur die skatte van die hemelse koninkryk vir ons ontsluit word, en sy verligting die blik wat ons verstand verlig om te sien. Deur die Gees trek Christus ons na Hom en doop Hy ons met die Heilige Gees en met vuur (Luk 3:16). Hy verlig ons om die evangelie te glo; Hy wederbaar ons sodat ons nuwe skepsels word en maak ons tot tempels van God.
HOOFSTUK II. Beskrywing van die geloof en verklaring van sy eienskappe
1. Ons moet nou ‘n duidelike omskrywing van die geloof gee. Om dit te kan doen moet ons in herinnering terugroep wat ons vantevore al behandel het, naamlik, ten eerste, dat God ons deur sy wet voorskrywe wat ons moet doen, en dat die oordeel van die ewige dood op ons rus as ons in enige deel daarvan struikel; ten {206} tweede dat daar vir ons geen hoop op iets goeds is nie en ons deur God verwerp is en onder die ewige verderf lê, omdat ons die wet nie op so ‘n wyse soos God eis, kan vervul nie; in die derde plek dat daar ‘n middel tot verlossing uit ons ellende is, naamlik Christus. Deur Hom wil God ons te hulp kom, as ons maar met ‘n vaste geloof hierdie barmhartigheid omhels en daarin rus.
Nou moet ons nagaan hoedanig die geloof moet wees waardeur almal wat God as sy kinders aangeneem het, erfgename van die hemelse koninkryk word. En ons moet dit met te meer ywer doen, omdat in hierdie saak deur so baie gedwaal word. Vir hulle beteken geloof maar net ‘n aanvaarding van die evangeliese geskiedenis. In die skole word selfs geleer dat God voorwerp van die geloof is. Maar God bewoon ‘n ontoeganklike lig. Daarom is dit nodig dat Christus as Middelaar tussenbei kom. Daarom noem Hy Homself die lig van die wêreld (Joh 8:12), die weg, die waarheid en die lewe (Joh 14:6). Niemand kom tot die Vader behalwe deur Hom nie. Hy alleen ken die Vader en daarna almal aan wie Hy die Vader wil openbaar (Luk 10:22). Dit is wel waar dat die geloof hom op die enige God rig, maar dan moet daarby gevoeg word deur Jesus Christus wat Hy gestuur het. Soos ons deur die Heilige Gees getrek word om Christus te soek, só moet die Seun ons na die Vader lei. Petrus sê ook dat ons deur Christus in God glo (1 Petr 1:21).
2. Hierdie kwaad skrywe ons op rekening van die Skolastici, met hulle duister omskrywing van die geloof maar veral met hulle versinsel van ‘n “ingewikkelde geloof” (fides implicita), waarmee hulle die volk mislei. Volgens die versinsel beteken geloof nie kennis van God en van sy wil nie maar bestaan dit daarin dat die mens bereid is om as waarheid aan te neem alles wat die kerk leer. Hyself ondersoek niks nie maar dra daardie taak oor aan die kerk. Ons verkry egter die saligheid as ons bely dat God vir ons ‘n genadige Vader is deur die soenverdienste van Christus, wat aan ons gegee is tot regverdigmaking en lewe. As Paulus sê dat ons met die hart glo tot geregtigheid en met die mond bely tot redding (Rom 10:10), gee hy daarmee te kenne dat dit nie genoeg is as ons met ‘n “ingewikkelde geloof” glo wat ons nie begryp en ook nie ondersoek nie, maar dan eis hy ‘n “ontwikkelde” erkenning van God se goedheid, wat die bron van ons geregtigheid is.
3. Ek ontken nie dat baie dinge vir ons nog “ingewikkeld” is as gevolg van die onwetendheid wat ons aankleef nie. Hulle sal ook so bly totdat ons die las van die vlees afgelê het en nader aan God se teenwoordigheid gekom het. Dan is dit beter om ons oordeel op te skort ten einde die eenheid van die kerk te bewaar. Maar om dit geloof te noem is ongerymd. Want geloof bestaan in kennis van God en van Christus (Joh 17:3) en nie in eerbied vir die kerk nie. {207}
Hulle stel dit dus so voor dat die waarheid in dwaling bestaan, die lig is duisternis, die regte kennis in onwetendheid. Die Skrif leer egter oral dat met geloof insig verbind is.
4. Ons stem toe dat die geloof nog “ingewikkeld” is so lank as ons hier op aarde verkeer. Daar is nog baie dinge wat vir ons verborge is, en ons word deur dwalinge omring. Tog moet ons daarna strewe om deur leergierigheid verder te kom (Fil 3:15). As ons die Skrif lees, tref ons daeliks plekke aan wat vir ons duister is. Hierdeur maak God ons beskeie, sodat ook selfs die allerbeste leraar altyd bereid sal wees om te leer. Voorbeelde van die nog “ingewikkelde” geloof vind ons by die apostels van die Here. Hoewel hulle daeliks die Meester hoor, vorder hulle maar langsaam. Sy opstanding is vir hulle soos ‘n droom. Van hulle word gesê dat hulle geglo het toe die waarheid van Christus se woorde duidelik geblyk het. Nie dat hulle toe eers begin glo het nie maar omdat die saad van die geloof wat in hulle hart verborge was, toe krag ontvang het en opgeskiet het. Daar was dus in hulle ‘n ware maar “ingewikkelde” geloof, want hulle het Christus as hulle enigste Leraar aangeneem en het vasgestel dat Hy die Bewerker van hulle saligheid was.
5. Ons kan ook ‘n “ingewikkelde” geloof noem wat eintlik niks meer as ‘n voorbereiding van die geloof is nie.
Die evangeliste sê van sommige mense dat hulle geglo het, hoewel hulle maar net deur die wondertekens van die Here sover gekom het om te glo, dat Hy die beloofde Messias was maar nog nie in sy leer onderwys was nie. So ‘n verering wat hulle so ver gebring het om hulle graag aan Christus te onderwerp, word geloof genoem, hoewel dit slegs die begin daarvan was (Joh 4:42 en 53). Hieruit blyk dat selfs hulle gelowiges genoem word wat nog nie eers in die eerste beginsels onderwys is nie, as hulle hulle maar tot gehoorsaamheid laat lei. Na sy grote goedheid keur God so ‘n vrome gesindheid die eer waardig. Maar hierdie gesindheid, verbind met die verlange om vordering te maak, verskil hemelsbreed van die onwetendheid waarmee die pousgesindes tevrede is. As Paulus hulle veroordeel wat altyd leer maar nooit tot kennis van die waarheid kom nie, hoeveel smaad verdien hulle dan nie wat opsetlik daarna strewe om niks te weet nie!
6. Die ware kennis van Christus is dus dat ons Hom aanneem soos die Vader Hom aan ons aanbied, naamlik beklee met die evangelie. In die evangelie word die skatte van genade vir ons oopgemaak. As dit gesluit bly, sal Christus ons geen voordeel aanbring nie. Só verbind Paulus die geloof met die leer (Ef 4:20).
En tog beperk ek die geloof nie tot die evangelie nie. Ek erken ook dat deur Moses en die profete geleer is wat tot opbouing van die geloof voldoende was. Maar omdat ‘n vollediger openbaring van {208} Christus in die evangelie geskenk is, noem Paulus dit tereg die leer van die geloof (1 Tim 4:6). Vergelyk ook Rom 10:4. Die geloof kan dus net so min van die Woord losgemaak word as wat die strale van die son losgemaak kan word. Daarom roep God deur Jesaja: “Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe” (Jes 55:3). Vergelyk ook Joh 20:31 en Ps 95:8. “Hoor” word hier gebruik in die betekenis van “glo”.
Hiermee stem ooreen dat op baie plekke in die Evangelies die woorde gelowiges en dissipels mekaar afwissel. As die geloof dus van die Skrif afwyk, ontaard dit in liggelowigheid en dwaling. Neem die Woord weg, en dan bly daar geen geloof meer oor nie. Daarom beskrywe Paulus ook die geloof as gehoorsaamheid aan die evangelie (Rom 1:5). Geloof is kennis van God se wil oor ons. Dit word uit die Woord verkry. Die fondament daarvan is die vaste oortuiging dat God waaragtig is.
7. Die hart van die mens word egter nie deur elke moontlike stem van God tot geloof opgewek nie. Daarom moet ons ondersoek waarop die geloof eintlik in die Woord let. Dit was God se stem wat vir Adam gesê het: “Jy sal die dood sterwe” (Gen 2:17; vgl. ook Gen 4:10). Maar hierdie stemme kon op hulleself niks anders doen as om die geloof te skok nie.
Intussen ontken ons nie dat die taak van die geloof is om te erken dat God die waarheid spreek so dikwels as Hy spreek, en alles wat Hy spreek en op watter wyse Hy ook mag spreek nie, maar ons vra net wat die geloof in die Woord van die Here vind waarop dit kan steun en rus. As die gewete net toorn en wraak aanskou, sal dit dan nie sidder en bewe nie? En sal dit nie vlug vir God, vir wie dit bewe nie? En tog moet die geloof God soek en nie vir Hom vlug nie. Dit staan dus vas dat geloof nie beteken dat ons God se wil min of meer ken nie. Ons moet in die plek van God se wil sy goedertierenheid stel. Dan kom ons nader by die aard van die geloof. Ons word getrek om God te soek as ons geleer het dat ons saligheid by Hom weggelê is en Hy aan ons bevestig dat dit Hom ter harte gaan. Daarom is die belofte van genade nodig. Daardeur betuig Hy aan ons dat Hy vir ons ‘n goedertieren Vader is. Daarom word op baie plekke in die psalms goedertierenheid en waarheid met mekaar verbind (vgl. Ps 25:10; Ps 36:6; Ps 138:2 e.a.). God is getrou in sy beloftes, en Christus is die pand van sy liefde. Ons kan dus sê dat geloof ‘n gewisse kennis is van God se goedheid jeens ons, wat gegrond is op die waaragtigheid van sy genadige belofte in Christus, wat deur die Heilige Gees aan ons verstand geopenbaar en in ons hart verseël word.
8. Ons verwerp dus die dwase onderskeiding tussen ‘n gevormde en ongevormde geloof wat in die skole geleer word. Hulle stel dit so voor dat ook hulle alles glo wat tot die saligheid nodig {209} is by wie daar geen vrees van God of gevoel van godsaligheid gevind word nie. Net so asof die Heilige Gees nie met ons gees getuig dat ons kinders van God is nie! Dis nie nodig om langer met hulle te redetwis nie. Dis genoeg as ons net die geloof beskrywe soos Gods Woord dit leer. Voorlopig merk ek net op dat hulle gevoele ‘n ongerymde versinsel is. Hulle beweer dat geloof net ‘n instemming is met alles wat die Skrif leer. Maar ons moet eers nagaan of elkeen deur eie krag glo, of dat die Heilige Gees getuie is van ons aanneming tot kinders. Die instemming waarvan hulle spreek, is egter ‘n saak van die hart en nie van die verstand nie. Daarom word dit gehoorsaamheid van die geloof genoem (Rom 1:5; vgl. ook Joh 3:33). Geloof is dus kennis van Christus soos die Vader Hom aan ons gee tot regverdigmaking, vergewing van die sondes en heiligmaking.
9. Om hulle gevoele te bevestig dat die Skrif ook ‘n ongevormde geloof ken, beroep hulle hulle op die woorde van Paulus in 1 Kor 13:2. Hulle verstaan egter nie wat Paulus hier met geloof bedoel nie. Dit is naamlik die vermoë om wonders te doen. Hierdie geloof of krag kan ook ongelowige mense besit en misbruik, net soos die gawe van tale en van profesie. Geloof, naamlik, sonder liefde. Hulle hele dwaling spruit hieruit voort dat hulle nie in aanmerking neem dat die woord geloof verskillende betekenisse kan hê nie.
Daar is baie wat glo dat daar ‘n God is. Hulle glo ook dat die Heilige Skrif ware gebeurtenisse verhaal. Ander gaan nog verder. Gods Woord is vir hulle waaragtige Godspraak. Hulle verag sy bevele nie geheel en al nie en word ook geroer deur sy bedreiginge en beloftes. Van hulle word ook gesê dat hulle glo, maar in oneintlike sin. Hulle verag, verwerp en bestry Gods Woord nie openlik nie maar vertoon nog ‘n skyn van gehoorsaamheid.
10. Maar hierdie skaduwee of skyngeloof verdien nie om geloof genoem te word nie. Van Simon die towenaar word gesê dat hy geglo het. Tog het sy ongeloof baie gou openbaar geword (Hand 8:13,18). Hy het nie maar geloof geveins nie, maar, deur die majesteit van die evangelie oorwin, het hy erken dat Christus die Bewerker van die lewe en van die saligheid is en wou hy graag een van sy volgelinge wees. Vergelyk ook Luk 8:7,14, waar gesê word dat mense glo in wie die saad van die Woord verstik word voordat dit vrug dra. Die mense het ‘n smaak van die Woord verkry en dit begerig aangegryp. Hulle dwaling is dat hulle hulleself wysmaak dat eerbied vir Gods Woord die eintlike vroomheid is, omdat, volgens hulle, net openlike versmading en veragting van die Woord goddeloosheid is, maar die instemming dring nie tot in die hart deur om daar te bly nie. Die wat in so ‘n geloof roem, moet weet dat hulle nie beter as die duiwels is nie (Jak 2:19).
11. Ek weet dat dit vir sommige moeilik verklaarbaar is as {210} aan die verworpenes geloof toegeskrywe word, omdat geloof vrug van die uitverkiesing is (1 Thess 1:4). Maar die moeilikheid kan maklik opgelos word. Ervaring toon dat verworpenes soms deur byna net so ‘n gevoel getref word as die uitverkorenes, sodat hulle, soos hulle meen, in geen enkel opsig van die uitverkorenes verskil nie. Dis daarom nie ongerymd as die apostel aan hulle ‘n smaak van die hemelse gawes vir ‘n tyd toeken nie. En dit nie omdat hulle die krag van die geestelike genade en die lig van die geloof geheel en al in hulle opneem nie, maar om hulle alle verontskuldiging te ontneem dring God in hulle hart in, vir sover sy goedheid gesmaak kan word sonder die Gees van aanneming tot kinders.
As teëgewerp word dat die gelowiges op hierdie wyse alle sekerheid ontneem word, dan antwoord ek dat nieteenstaande daardie ooreenkoms tussen hulle en die tydgelowiges daar tog in hulle dié kragtige oortuiging lewe waardeur hulle roep: “Abba, Vader” (Gal 4:6). God wederbaar hulle sodat die saad van die Woord in hulle hart nooit vergaan nie, en verseël in hulle die genade van aanneming tot kinders. Daarom moet gelowiges hulleself ook altyd sorgvuldig ondersoek, sodat die sekerheid van die geloof nie deur vleeslike sorgeloosheid verdring word nie. Verworpenes besit egter nie die geloof en die wedergeboorte soos die uitverkorenes nie maar veins maar net geloof. Ek ontken ook nie dat God hulle hart in soverre verlig dat hulle sy genade beken nie, maar dit bly sonder grondige uitwerking. God betoon Hom nie goedgunstig jeens hulle omdat Hy hulle aan die dood onttrek nie, maar Hy openbaar net aan hulle sy barmhartigheid ‘n oomblik lank. Aan die uitverkorenes skenk Hy egter die lewende wortel van die geloof, sodat hulle tot die end toe volhard.
12. Die geloof is ‘n kennis van God se goedheid jeens ons en ‘n vaste oortuiging dat Hy waaragtig is. Daarom moet ons ons nie daaroor verwonder as die gevoel van God se liefde in die tydgelowiges verdwyn nie, want al is dit verwant aan die geloof, verskil dit tog in baie opsigte daarvan. Die wil van God is onveranderlik, en sy waarheid eweso. Maar ek ontken dat die verworpenes sover kom dat hulle tot in die verborge openbaring deurdring, wat die Skrif net aan die uitverkorenes toeken. Dit bly by hulle ‘n saak van gevoel wat weer verdwyn.
Eindelik, deur die val van die eerste mens is die beeld van God uit sy gees en siel uitgewis. Is dit dan ‘n wonder as Hy die verworpenes met enkele strale van sy genade verlig, wat Hy later weer laat uitdoof? Maar dit moet ons weet: hoe gering en swak die geloof in die uitverkorenes ook mag wees, dit kan tog nooit uit hul harte verwyder word nie, omdat die Gees van God vir hulle ‘n gewisse pand en seël is van hulle aanneming tot kinders. Die verworpenes word egter besprinkel met ‘n lig wat later weer verdwyn. {211}
Ek gaan nog verder. Uit die Skrif en die ervaring blyk dat daar in die hart van die verworpenes ook die verlange kan wees om God lief te hê. So het Saul God ‘n tyd lank liefgehad, omdat Hy hom op ‘n vaderlike wyse behandel het. Tog is dit nie ‘n hartgrondige wederliefde nie maar ‘n gesindheid soos die van ‘n huurling. Want alleen aan Christus is die Gees van die liefde gegee met die bepaling daarby dat Hy Hom in sy lede sal uitstort (Rom 5:5).
As daar nie baie van die algemene geloof afval nie, sou Christus nie vir sy dissipels gesê het nie: “As julle in my Woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh 8:31-32; vgl. ook Mat 15:13).
Daar is ander wat selfs nog verder gaan en God en mens bespot. Teen hulle wat onder ‘n bedrieglike voorwendsel die geloof ontheilig, tree Jakobus op (Jak 2:14).
13. Ons moet ook daarop let dat die woord geloof verskillende betekenisse het. Dikwels beteken dit soveel as die gesonde leer van die godsaligheid (1 Tim 3:9; 4:1,6; 2 Tim 2:16; Tit 1:13, Tit 2:2). Soms word dit egter op ‘n besondere geval toegepas (Mat 8:10; 9:2). Ons het ook al gesê dat Paulus geloof ook noem in die sin van die gawe om wonders te doen (1 Kor 13:2), wat onwedergeborenes ook kan besit. Elders noem hy geloof in die betekenis van die leer waardeur ons in die geloof onderwys word (1 Kor 13:10). Hier beteken geloof soveel as die diens van die kerk, wat nou nog nuttig is ter wille van ons swakheid. As die woord geloof selfs op ‘n valse leer oorgedra word, moet ons ons nie verwonder nie. ‘n Verkeerde godsdiens word soms ook die vrees van God genoem (2 Kon 17:32 e.v.).
Maar nou gaan dit oor die vraag wat die geloof is wat die kinders van God van die ongelowiges onderskei. Deur hierdie geloof roep ons God as Vader aan. Daardeur gaan ons oor van die dood in die lewe en woon Christus, die ewige saligheid en die lewe in ons. Ek meen dat ek die krag en die aard van die geloof kort en duidelik uitgelê het.
14. Laat ons nou die afsonderlike dele van die begripsbepaling van die geloof nagaan. As ons dit kennis noem, verstaan ons daaronder oneindig meer as begryp, soos ons die dinge begryp wat ons waarneem. Dit gaan die verstand ver te bowe. Dit begryp nie wat dit gevoel nie maar is oortuig van wat dit nie begryp nie (Ef 3:18). ‘n Oneindige kennis word deur die geloof omvat. Die apostel Johannes noem dit ook ‘n wetenskap (1 Joh 3:2). Die gelowiges is meer oortuig van die Goddelike waarheid as wat hulle onderwys is deur ‘n bewys wat die verstand lewer. Vergelyk ook 2 Kor 5:6. Daaruit konkludeer ons dat die kennis van die geloof sekerheid is en nie wat begryp word nie.
15. Hierdie kennis is vas en gewis. Die geloof is nie tevrede {212} met ‘n twyfelagtige en onsekere mening nie, ook nie met verwarde gedagtes nie maar eis sekerheid soos wat ons van sake besit wat onomstootlik bewys is. Die ongeloof sit so diep in ons hart dat niemand sonder harde stryd homself kan oortuig dat God getrou is nie. Daarom bevestig die Heilige Gees so gedurig die gesag van Gods Woord om ons van hierdie siekte te genees (Ps 12:7; Ps 18:31 en die helePs 119). Baie mense vat Gods barmhartigheid só op dat hulle so min moontlik troos daaruit ontvang. Hulle word altyd deur angs gekwel, omdat hulle daaraan twyfel of God hulle barmhartig sal wees.
Hulle redeneer by hulleself dat God se goedertierenheid groot en oorvloedig is; dat dit oor baie uitgestort is en vir almal beskikbaar, maar hulle is onseker of hulle self ook deel daaraan het. Heeltemal anders spreek die geloof in die Skrif. Dit stel God se genade buite alle twyfel. Daarom lei die apostel uit die geloof die vertroue af en daaruit weer die vrymoedigheid (Ef 3:12). Die vrymoedigheid spruit voort uit ‘n vaste vertroue op God se goedgunstigheid. Daarom word die woord geloof meermale gebruik vir vertroue.
16. Die vernaamste kenmerk van die geloof is dat ons die barmhartigheid van God aanvaar en ons toe-eien en dit nie net die deel van ander ag nie. Hieruit ontstaan die vertroue wat die apostel “vrede” noem (Rom 5:1), tensy iemand dit so wil verklaar dat uit die vertroue vrede ontstaan. Hierdie vertroue is ‘n gerustheid wat die gewete voor die oordeel van God kalmeer. Daarsonder sal dit gedurig deur angs gekwel word.
Waarlik gelowig is net dié mens wat met ‘n vaste oortuiging daarvan oortuig is dat God vir hom ‘n genadige en goedgunstige Vader is; wat van God se goedertierenheid vir homself alles verwag; wat op die beloftes van God se goedheid jeens hom vertrou en ‘n ontwyfelbare verwagting van die saligheid het (Hebr 3:14). ‘n Gelowige, sê ek, is net hy wat op die sekerheid van sy saligheid steun en die duiwel en die dood uittart (Rom 8:38; Ef 1:18).
17. Maar, sal iemand sê, die gelowiges het ‘n heeltemal ander ervaring. In die oordenking van God se genade jeens hulle word hulle soms nie net deur ongerustheid gekwel nie maar ook deur hewige verskrikkinge geskok. Daarom moet die moeilikheid opgelos word. As ons sê dat die geloof vas en onbekommerd moet wees, bedoel ons nie dat die gelowiges nooit deur twyfel of bekommernis aangeval word nie. Ons sê, inteendeel, dat hulle voortdurend stry teen hulle eie gebrek aan vertroue. Aan die ander kant ontken ons egter dat hulle afval van die vertroue op God se barmhartigheid. Dawid is vir ons in hierdie opsig ‘n voorbeeld. Hoewel hy glo, geniet hy tog nie altyd gemoedsrus nie (vgl. Ps 31:23 e.a). Maar wat so wonderlik is, is dat die geloof die hart onder al die skokke {213} ondersteun en dit sy toevlug tot God laat neem (Ps 27:14). Vergelyk hierteenoor Agas, wat bly vrees (Jes 7:4 e.v.) en hom van God afwend.
18. Om dit te begryp moet ons in gedagte hou dat ons nog in die vlees is. Die gelowige gevoel in hom ‘n verdeeldheid. Aan die een kant word sy siel deur die kennis van God se goedheid met lieflikheid deurstroom; aan die ander kant word dit deur die besef van sy ellendigheid benoud gemaak. Eensdeels rus dit op die belofte van die evangelie, andersdeels sidder dit vir die getuienis van sy ongeregtigheid. Nou spring dit op van vreugde, dan weer sidder dit vir die dood. Dit geskied weens die onvolmaaktheid van die geloof. In hierdie lewe sal ons nooit van die siekte van ongeloof genees wees en net deur die geloof in beslag geneem word nie. Maar al word ons ook heen en weer geslinger, verval ons tog nie in die afgrond van ongeloof nie. Die end van die stryd is altyd dat die geloof hom aan al die moeilikhede ontworstel.
19. Dit is dan die hoofsaak: sodra ook maar die geringste druppel van geloof in ons harte ingedruppel is, begin ons om God se vriendelike en goedgunstige aangesig te aanskou. Dit geskied nog uit die verte maar nogtans met so ‘n sekerheid dat ons weet dat ons ons dit nie inbeeld nie. Namate ons dan vordering maak, verkry ons groter sekerheid. In die begin is die hart wat deur die kennis van God verlig is, nog in baie onwetendheid bevange, maar dit verdwyn op die duur.
20. Altwee kante van die waarheid word ons deur die apostel Paulus geleer. Hy sê (1 Kor 13:9,12) dat ons ten dele ken en ten dele profeteer en deur ‘n spieël in ‘n raaisel sien. Dis maar ‘n klein deeltjie van die ware Goddelike wysheid wat aan ons in hierdie lewe gegee word. Ons kan met ons beperkte begrip nie die onmeetlike vat nie. Tog verklaar hy weer op ‘n ander plek (2 Kor 3:18) hoe onbedrieglik God Hom aan ons openbaar selfs deur die klein druppeltjie van geloof.
Die onwetendheid is die oorsaak van baie twyfel en vrees, te meer nog omdat ons hart tot ongelowigheid geneig is. Hierby kom dan nog die versoekinge en veral die aanklag van ons gewete. Hierdie dinge gryp die ongelowigheid aan om die geloof te bestry en ons in te prent dat God teen ons is en dat ons op geen hulp van Hom mag hoop nie.
21. Om hierdie aanvalle te weerstaan wapen die geloof hom met die Woord van die Here. As dit aangeveg word deur die gedagte dat God ons vyand is, omdat Hy toornig is, sê die geloof dat Hy barmhartig is ook as Hy kasty. Want kastyding kom voort uit liefde en nie uit toorn nie. As die gedagte opkom dat God ‘n Wreker van ongeregtigheid is, antwoord dit dat daar vergewing is vir alle sondes as die sondaar sy toevlug neem na God se goedertierenheid. {214} So oorkom ‘n gelowige al die moeilikhede en laat hom nooit die vertroue op God se barmhartigheid ontneem nie. Meer nog, al die aanvegtinge loop daarop uit dat die vertroue versterk word. Die bewys hiervoor is dit dat die gelowiges in al hulle benoudhede hulle klagte voor God neerlê en Hom aanroep, ook as dit lyk of hulle nie verhoor word nie. Die wortel van die geloof word dus nooit uit ‘n vroom hart uitgeroei nie, al word dit ook geskok en heen en weer geslinger. Dis onverganklik soos die Woord waarvan dit die vrug is (vgl. Job 13:15). Só is dit. Die ongelowigheid heers nie in die harte van die gelowiges nie maar bestry hulle van buite af. Dit wond hulle nie so dat die wond ongeneeslik is nie, omdat die geloof ‘n skild is wat die pyle opvang en breek. Die gelowige sal hom altyd so aan die bestryding ontworstel dat hy met Dawid sê: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my” (Ps 23:4). Aan hulle word die woord van Johannes vervul: “Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof” (1 Joh 5:4).
22. Daar is ook nog ‘n ander heilsame vorm van vrees. En dit is as die gelowige bedink dat die wraak van God oor die goddelose vir hom as waarskuwing dien. Dan wag hy hom daarvoor om nie deur dieselfde misdrywe God se toorn oor hom te bring nie. So vermaan Paulus die Korinthiërs met die oog op wat Israel in die woestyn oorkom het (1 Kor 10:5 e.v.). Hy wil daarmee nie hulle vertroue laat wankel nie maar net die vleeslike traagheid uitdrywe. So ook as hy die gelowiges uit die heidene aan die val van die Jode herinner (Rom 11:20). Hy wil hulle nie laat twyfel nie maar hulle net waarsku om hulle nie te verhef op die genade wat hulle ontvang het nie.
23. As die apostel ons vermaan om ons eie heil met vrees en bewing uit te werk (Fil 2:12), bedoel hy dat ons ons daaraan moet gewen om onsself te wantrou en na God op te sien. Daar is niks wat ons meer opwek om ons vertroue op God te vestig nie as wantroue van onsself, wat voortspruit uit die bewussyn van ons ellende. In die sin moet ook die woorde van die digter (Ps 5:8) opgevat word. So noem Salomo ook dié mens gelukkig wat gedurig vrees (Spr 28:14). Hy bedoel ‘n vrees wat ons versigtiger maak, en nie een waaronder ons beswyk nie. Dit is daarom nie ongerymd dat die gelowiges terselfdertyd verskrik word en tog ook ‘n onskokbare vertroosting ontvang nie, al na gelang hulle hulle eie nietigheid aanskou of hulle gedagtes op die waarheid van God rig. Maar hoe kan vrees en geloof in dieselfde hart setel? Wel, op dieselfde manier waarop onverskilligheid en angs daarin kan woon. Dit blyk uit die teksverband (Fil 2:12), waarin die apostel as oorsaak van die vrees en bewing God se welbehae aanwys.
24. Op hierdie wyse gee ons egter nie plek aan die verderflike {215} leer van sommige half- pousgesindes nie, wat ‘n vertroue leer wat met ongelowigheid vermeng is. Hulle stel dit so dat ons alle rede het om die goeie te hoop as ons op Christus sien. Maar omdat ons altyd al die goedere onwaardig is wat ons in Hom aangebied word, moet ons altyd twyfel en aarsel. So probeer Satan sydelings om die geloof te laat wankel. Maar wat vir ‘n vertroue is dit wat nou en dan vir wanhoop plek maak? As ons op Christus sien, staan ons saligheid vas, sê hulle. Maar as ons op onsself sien, staan ons verdoemenis vas. Maar Christus staan nie ver van ons af nie. Hy woon in ons. En ons verwag die saligheid van Hom, nie omdat Hy ons uit die verte red nie maar omdat Hy ons in sy liggaam ingelyf het en ons deelgenote gemaak het van Homself en al sy goedere. Maar ek keer die argument teen hulle. As u op uself sien, is u verdoemenis gewis. Maar aangesien u só deel gekry het aan Christus met al sy goedere en só een met Hom geword het, bedek sy geregtigheid u sondes, vernietig sy saligheid u verdoemenis en bedek sy waardigheid u onwaardigheid voor God. Hierdie gemeenskap waarmee Hy Hom aan ons verbind het, moet ons met altwee hande vashou (Rom 8:10). Christus woon in ons en groei elke dag meer en meer met ons saam tot een liggaam, totdat Hy heeltemal een met ons word. Tog loën ek nie dat die geloof vanweë sy swakheid soms onderbrekinge ondervind nie, soos ek reeds gesê het. Maar wat ook al mag gebeur, dit volhard om God te soek.
25. So spreek ook Bernardus. “As ek deur God se goedheid oor die siel dink, vind ek daarin twee teenoorgestelde dinge. As ek dit beskou soos dit in homself is, kan ek daarvan niks anders sê as dat dit tot niks geword het nie. Waarom is dit dan nodig om al sy ellendes een vir een op te noem, hoe dit belaai is met sondes, oorgiet met duisternis, verstrik in verleidinge, … onderworpe aan hartstogte, altyd geneig tot die kwaad? … As al sy geregtigheid … niks anders as ‘n besoedelde kleed is nie, hoedanig is sy ongeregtighede dan nie! … Wat sal ons dan sê? Net dit dat die mens tot nietigheid geword het… Hy is niks nie. Maar hoe is hy dan niks as God hom tog verheerlik? … Laat ons moed skep. Ook al is ons in ons hart niks nie, kan miskien in God se hart iets aangaande ons verborge wees. …
O, Vader van alle barmhartighede, hoe neig U u hart tot ons? Want u hart is waar u skat is. En hoe is ons u skat as ons niks is nie? Alle volke word voor U soos niks geag nie. Ja, voor U maar nie in U nie Só is hulle as U hulle na waarheid beoordeel, maar só is hulle nie in die aandoening van u liefde nie. Want U roep die dinge wat nie is nie, asof hulle was …
Ons is”, sê ek, “maar — in God se hart”.
26. Die vrees van die Here wat soms die beginsel van die wysheid, soms die wysheid self genoem word (Ps 111:10; Spr 1:7; Job 28:28), bestaan uit twee dele, omdat God sowel Vader as {216} Here is. Wie Hom dus wil dien soos dit behoort gedoen te word, sal daarna strewe om sowel ‘n gehoorsame seun as ‘n onderdanige dienskneg te wees. Die gehoorsaamheid wat ons aan Hom as Vader bewys, noem die Here eer. En die onderdanigheid wat ons aan Hom as Here bewys, noem Hy vrees (Mal 1:6). Wie dus by homself oorweeg hoedanige Vader God vir ons is, het genoegsame rede om sy ongenade meer as die dood te vrees al was daar geen hel nie. Maar om die ongebreideldheid van ons vlees aan bande te lê moet ons tewens bedink dat God alle ongeregtigheid haat en dat niemand aan sy wraak sal ontkom wat sy toorn opwek nie.
27. Wat Johannes sê (1 Joh 4:18) dat daar geen vrees in die liefde is nie maar dat die volmaakte liefde die vrees uitdryf, stry nie hiermee nie. Hy spreek van die vrees van ongelowigheid, wat heeltemal verskil van die vrees van die gelowiges.
Die goddelose mense vrees nie daarvoor om in God se ongenade te val nie, as hulle dit maar ongestraf kan doen. Hulle vrees Hom alleen omdat hulle weet dat Hy hulle kan straf. Die gelowiges vrees God se ongenade egter meer as die straf. Die oordenking daarvan maak hulle behoedsaam (Ef 5:6). Die goddelose verhard hulle egter, hoewel hulle vrees. Ons noem dit ‘n slaafse vrees, om dit van die kinderlike vrees van die gelowige te onderskei.
28. Die saligheid en die ewige lewe verkry ons dus as ons let op die goedgunstigheid van God. As Hy ons goedgesind is, kan niks goeds ons ontbreek nie. Ons besit dus genoegsame sekerheid van ons saligheid as Hy ons sy liefde betuig (Ps 80:4). Die geloof wat die liefde van God aangryp, besit al die beloftes van die teenwoordige en die toekomstige lewe. Dit is tevrede met hierdie sekerheid dat God ons nooit sal ontbreek nie, ook al ontbreek dit ons aan baie dinge vir hierdie lewe. Dit is veral verseker van die ewige lewe wat ons in Gods Woord verseker word. Daarom sing Dawid dat God se goedertierenheid beter as die lewe is (Ps 63:4). Al sou alles vir ons hier op aarde na wens gaan maar ons nie van God se liefde verseker was nie, sal ons geluk ellendig wees. Maar as God se vaderlike aangesig oor ons skyn, sal ook die ellendes self in hulpmiddels tot ons saligheid verander word (Rom 8:35 e.v.; Ps 23:4).
29. Die fondament waarop die geloof rus, is dus die belofte van genade. Want al bely dit ook dat God waaragtig is, of Hy nou beveel of verbied, belowe of dreig, eintlik begin dit tog by die belofte. Daarop rus dit en daarin eindig dit. Dit soek die lewe in God wat nie in gebooie of in die afkondiging van straf nie maar alleen in die belofte van barmhartigheid gevind word As ons dus wil dat ons geloof nie sal wankel nie, moet ons dit skraag met die belofte van die saligheid wat God ons uit eie beweging en milddadig aanbied.
Daarom noem die apostel die evangelie die woord van die geloof (Rom 10:8), omdat niks anders die geloof kan ondersteun nie as {217} net die boodskap waardeur God die wêreld met Homself versoen. Die evangelie is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo (Rom 1:16-17). Dit is die bediening van die versoening (2 Kor 5:18).
30. Ek verwerp die bewering van sommige dat ek op hierdie wyse die geloof verskeur of net ‘n deel daarvan neem. Ek erken dat die waarheid van God die algemene voorwerp van die geloof is, hetsy Hy dreig, hetsy Hy hoop wek op genade (vgl. Hebr 11:7). Maar ek wil net twee sake beklemtoon, naamlik dat die geloof nooit vas staan voordat dit nie die belofte van genade aangegryp het nie, en ten tweede dat ons alleen deur die geloof met God versoen word, omdat dit ons met Christus verbind. As die kwaadwilliges my wil berispe, moet hulle Paulus ook berispe, wat die evangelie in besonder die woord van die geloof noem.
31. Hieruit besluit ons dat die geloof die Woord net so nodig het soos die vrug die lewende wortel van die boom. Volgens die getuienis van Dawid (Ps 9:11) kan net hulle op God hoop wat sy Naam ken. Hierdie kennis verkry hulle net uit die getuienis wat God self van sy goedheid gee (vgl. ook Ps 119:41).
Intussen sluit ons nie die mag van God uit nie. As die geloof nie daarop sien nie, sal dit nooit aan God die eer gee wat Hom toekom nie. Abraham het geglo dat God mag het om te doen wat Hy belowe het. En dié geloof is hom tot geregtigheid gereken (Rom 4:21; vgl. ook 2 Tim 1:12). Dit is ook die rede waarom Jesaja so heerlik oor die oneindige mag van God handel as hy die volk van hulle saligheid wil verseker. In besonder herinner die gelowige hom die werke waardeur God in die verlede betuig het dat Hy ‘n Vader vir hom is (Ps 143:5; Ps 77:12). Maar al die almagswerke van God het vir ons geen betekenis sonder sy Woord nie. Daarom beweer ons dat daar van geloof geen sprake kan wees voordat God ons nie van sy genade verseker nie. Die voorbeelde van Sara en Rebekka (Gen 16:3 en 27:6) toon dat die geloof dikwels deur dwalinge besmet is. Maar as dit opreg is, sal dit altyd die oorhand behou. Verder verkondig hulle dwaling aan ons hoe sorgvuldig ons aan Gods Woord moet vashou.
32. Dit is nie sonder rede dat ons al die beloftes van God in Christus saamvat nie. Die apostel vat ook die hele evangelie in die kennis van Hom saam (Rom 1:17). Op ‘n ander plek leer hy dat al die beloftes van God in Christus ja en amen is (2 Kor 1:20). Die rede hiervoor lê voor die hand. Want as God iets belowe, betuig Hy daardeur sy goedgunstigheid, sodat daar geen enkele belofte is wat nie die getuienis van sy liefde is nie. Maar niemand word deur God bemin behalwe in Christus nie. Hy is die geliefde Seun in wie die liefde van die Vader setel (Mat 3:17; Mat 17:5). Uit Hom word die liefde van God oor ons uitgestort (Ef 1:6). {218} Daarom noem die apostel Hom ook ons vrede (Ef 2:14). In Hom is al God se beloftes vervul (Rom 15:8). Nou mag dit wel skyn asof die voorbeelde van Naäman en Cornelius hiermee in stryd is. Ek erken dat hulle geloof sowel wat die Persoon van Christus betref, as die amp wat die Vader Hom opgelê het, in sekere opsig ingehul was. Intussen moes hulle tog kennis van Christus gehad het, hoe gering en duister ook al.
33. Die blote verkondiging van Gods Woord moes genoegsaam gewees het om die geloof te wek. Ons blindheid en hardnekkigheid verhinder dit egter. Ons verstand is tot die nietigheid geneig en kan daarom nooit die waarheid van God vat nie. Dit is stomp en altyd blind vir sy lig. Daarom werk die Woord sonder die verligting van die Heilige Gees niks uit nie. Hieruit blyk ook dat die geloof die menslike kennis ver oortref. Dit is ook nie genoeg dat die verstand deur die Gees van God verlig word nie; die hart moet ook deur Hom versterk en gesteun word. Die geloof is dus ‘n besondere gawe van God. Die verstand van die mens word gereinig om God se waarheid te smaak, en die hart word in die waarheid bevestig. Immers, die Heilige Gees begin nie net die geloof nie maar vermeerder dit ook trapsgewyse, totdat Hy ons deur die geloof in die hemelse koninkryk bring (2 Tim 1:14; Gal 3:2).
Sommige beweer dat dit ongerymd is om te sê dat niemand in Christus kan glo nie, behalwe hy aan wie dit geskenk is. Dit kom daarvandaan dat hulle nie besef hoe verborge en verhewe die hemelse wysheid is, en ook nie hoe stompsinnig die mens is om die verborgenheid van God te begryp nie.
34. Niemand van die mense weet wat in die mens is nie, behalwe die gees van die mens wat in hom is (1 Kor 2:11). Hoe sou die mens dan seker kan weet wat die wil van God is? Nog meer: as ons aan God se waarheid twyfel in die geval van dinge wat ons met ons oë aanskou, hoe sal dit vir ons vas staan as die Here aan ons dinge belowe wat die oog nie sien en die verstand nie begryp nie? Die eerste stap om in God se skool vordering te maak is dus om van eie insig afstand te doen. Want ons word daardeur verhinder om die verborgenhede van God te verstaan, wat Hy net aan kindertjies openbaar (Mat 11:25; 16:17). Die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie (1 Kor 2:14). Die leer van God is vir hom dwaasheid, omdat dit geestelik onderskei moet word. Hier is die steun van die Heilige Gees nodig. Of liewer, hier is sy krag die enigste. Geen mens het die gedagte van God geken of was sy raadgewer nie (Rom 11:33 e.v.; 1 Kor 2:16). Maar die Gees ondersoek alle dinge. Ook die dieptes van God. Deur Hom ken ons die sin van Christus. Die siel wat deur Hom verlig is, kry as ‘t ware ‘n nuwe skerpsinnigheid, waarmee dit die hemelse verborgenhede aanskou. En as die verstand van die mens so deur die {219} lig van die Heilige Gees bestraal is, begin dit dan eers smaak kry in die dinge van die hemelse koninkryk. Daarom moet Christus die verstand van sy dissipels open om die Skrifte te verstaan (Luk 24:27,45) en moes die Heilige Gees kom om hulle in die hele waarheid te lei (Joh 16:13). Die Woord van God is wel soos die son wat almal bestraal aan wie dit verkondig word. Dit dra egter geen vrug by blindes nie. In hierdie opsig is ons almal blind. Daarom kan die Woord nie in ons hart indring as die Heilige Gees nie deur inwendige verligting die toegang berei nie.
35. Toe ons oor die verdorwenheid van die menslike natuur gehandel het, het ek breedvoerig aangetoon hoe onmoontlik dit vir die mense is om te glo. Ek sal dit nie weer herhaal nie. Dit is voldoende om te sê dat Paulus die Gees van die geloof die geloof self noem waarmee die Heilige Gees ons begiftig en wat ons nie uit onsself het nie (2 Kor 4:13). Daarom bid hy ook dat God in die Thessalonicense alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk van die geloof met krag volkome mag maak (2 Thess 1:11).
As hy die geloof God se werk noem en ook God se welgevalle, ontken hy daarmee dat dit uit die mens self voortkom. En daarmee nie tevrede nie, sê hy ook nog dat dit ‘n bewys van God se krag is. Om sy mildheid in so ‘n voortreflike saak nog meer in die lig te stel keur God nie almal sonder onderskeid waardig om die geloof te ontvang nie maar gee Hy dit as ‘n besondere voorreg aan wie Hy wil (Joh 6:44). Maar waarom aan die een en nie aan die ander nie? “Dit is te veel vir my”, sê Augustinus. “Dis ‘n afgrond, die diepte van die kruis. In bewondering kan ek uitroep maar nie bewys nie”. Die hoofsaak is dat Christus ons in sy liggaam inlyf om al sy goedere deelagtig te word as Hy ons deur die krag van sy Gees verlig om te glo.
36. Wat die verstand in hom opgeneem het, moet daarna in die hart uitgestort word. Ons het die Woord van God nog nie waarlik gelowig aangeneem voordat dit nie diep in die hart sy wortels uitgeslaan het nie, om daar as ‘n bolwerk al die versoekinge te weerstaan en af te weer. Dit is moeiliker om die hart gerus te maak as om die verstand met kennis te vul. Daarom word die Heilige Gees ‘n seël genoem om die beloftes in ons hart te verseël en is Hy ‘n pand om hulle te bevestig en vas te maak (Ef 1:13; 2 Kor 1:21).
37. Ek het nie vergeet wat ek vantevore gesê het nie, naamlik dat die geloof deur baie twyfelinge bestorm word. Die harte van die gelowiges is nie altyd kalm en rustig nie. Maar al word hulle ook hoe hewig aangeval, hulle behou altyd die oorwinning, omdat die Here hulle toevlug is (Ps 46:2-3; 3:6). As die Skrif ons daarom wil aanspoor om te glo, gebied dit ons om rustig te wees en die Here te verwag (Jes 30:15; Ps 37:7). Daarmee stem ook ooreen {220} die woord van die apostel: “Julle het lydsaamheid nodig” (Hebr 10:36).
38. Hieruit kan ons aflei hoe verderflik die leer van die Skolastici is, naamlik dat ons alleen uit ons werke kan gis of God ons genadig is. As ons uit ons werke moet gis hoe God jeens ons gesind is, kan ons nie deur die geringste gissing dit vasstel nie. Watter vertroue sou ons ooit kon hê as ons sou redeneer dat God ons genadig sal wees op voorwaarde dat ons lewe onberispelik is? Die geloof aanvaar egter die eenvoudige en genadige belofte. Dan bly daar geen plek meer vir twyfel oor nie.
39. Hulle beweer dat dit vermetel is om vir ons ‘n onbetwyfelbare kennis van God se wil toe te eien. Ek sal hulle dit toestem as ons onsself soveel sou wil aanmatig om die onbegryplike raad van God aan ons verstand te onderwerp. Maar as ons net saam met Paulus sê dat ons die Gees van God ontvang het, deur wie ons weet wat God ons geskenk het, wat kan hulle dan daarteen inbring (1 Kor 2:12)? Maar, sê hulle, dis ook vermetel om só oor die Gees van Christus te roem. Let nou op die domheid van mense wat leermeesters van die wêreld wil wees. Paulus noem hulle kinders van God wat deur sy Gees gelei word (Rom 8:14); hulle sê dat diegene kinders van God is wat deur hulle eie gees gelei word maar die Gees van God nie het nie. Paulus ontken dat hulle diensknegte van Christus is wat nie deur sy Gees gelei word nie (Rom 8:9); hulle versin ‘n Christendom wat die Gees van Christus nie nodig het nie. Hulle mag miskien antwoord dat hulle nie ontken dat ons die Heilige Gees moet hê nie maar dat dit ‘n blyk van beskeidenheid en nederigheid is om dit nie te sê nie. Maar waarom beveel Paulus dan die Korinthiërs om hulleself te ondersoek of hulle in die geloof is (2 Kor 13:5)? “Hieraan weet ons dat Hy in ons bly; aan die Gees wat Hy ons gegee het”, sê Johannes (1 Joh 3:24). Wat anders doen ons as om die beloftes van Christus in twyfel te trek as ons diensknegte van God wil wees sonder sy Gees? En watter smaadheid doen ons die Heilige Gees nie aan as ons die geloof, wat sy werk is, van Hom losmaak nie!
40. Hulle sê verder dat al kan ons ook vir die teenwoordige oortuig wees van God se genade, ons tog geen sekerheid het dat ons tot die end toe sal volhard nie. Gans anders spreek egter die apostel Paulus: “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe”, ens. (Rom 8:38-39). Hulle sê dat hy die sekerheid deur ‘n besondere openbaring gehad het. Paulus handel hier egter oor die goedere wat die deel is van alle gelowiges. Dit is ook verkeerd om die sekerheid van die geloof tot ‘n bepaalde moment te beperk. Die kenmerk van die geloof is juis dit dat dit hom óór die tyd heen uitstrek tot in die toekomstige onsterflikheid. Die gelowiges dank dit aan die genade van God dat hulle, verlig deur sy Gees, deur die geloof {221} die aanskouing van die hemelse lewe geniet. Om dit te bely is geen aanmatiging nie, maar om dit te verswyg is ondankbaarheid en geen beskeidenheid nie.
41. Die geloof rus dus op die belofte. Neem dié weg en dan verdwyn die geloof ook. Hierdie omskrywing van die geloof wyk nie af van wat die apostel leer as hy sê dat die geloof ‘n vaste vertroue is op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie (Hebr 11:1). Want onder die woord hypostasis, wat hy hier gebruik, verstaan hy ‘n stut waarop die gelowige hart steun. Hy wil sê dat die geloof ‘n vaste en onbekommerde besit is van die dinge wat God ons belowe. Om verder te kenne te gee dat die beloofde dinge te hoog is om deur ons begryp te word of om met die oë gesien en die hande getas te word, sê hy dat ons die dinge hoop. Die geloof is dus ‘n aanskoulike voorstelling van die dinge wat nie gesien word nie. Ons sien die verborgenhede van God net in die Woord, die waarheid waarvan vir ons bo alle twyfel verhewe is. As die hart hom so opgehef het en die goedheid van God gesmaak het, ontbrand dit in wederliefde tot Hom. Die bewering van die Skolastici dat die liefde aan die geloof en die hoop voorafgaan, is loutere onsin. Tereg sê Bernardus dat die roem van die gelowiges (2 Kor 1:12) uit drie dele bestaan. Ten eerste dat ons vergewing van sonde het alleen deur die goedertierenheid van God. Ten tweede dat ons geen goeie werk kan hê as God dit nie aan ons gee nie. Ten derde dat ons deur geen goeie werke die ewige lewe kan verdien nie. God gee dit as ‘n onverdiende gawe aan ons.
42. Waar die lewende geloof is, daar is ook die hoop op die ewige saligheid. Neem die hoop weg, en dan bly daar geen geloof oor nie. Die hoop is niks anders nie as ‘n verwagting van die dinge wat God belowe het, soos die geloof glo. Die geloof glo dat God waaragtig is, die hoop verwag dat Hy hom op die geleë tyd as sodanig sal openbaar. Die geloof glo dat Hy vir ons ‘n Vader is, die hoop verwag dat Hy Hom altyd as Vader jeens ons sal openbaar. So is die geloof die fondament waarop die hoop rus, en voed en ondersteun die hoop weer die geloof. Eers glo ons die beloftes van God, en dan word ons swak geloof deur die hoop ondersteun. Daarom sê Paulus dat ons in hoop gered is (Rom 8:24). Die hoop versterk die geloof, verkwik dit en laat dit volhard tot die end toe. Hierdie hulp van die hoop om die geloof te versterk het ons gedurig nodig. God stel sy beloftes soms uit. Daar staan ook spotters op wat vra: “Waar is die belofte van sy wederkoms?” (2 Petr 3:4). Hier versterk die hoop die geloof sodat dit nie vermoeid word nie.
43. Omdat die twee, geloof en hoop, so nou aan mekaar verbind is, gebruik die Skrif hulle soms deurmekaar. So skryf Petrus aan die geloof toe wat eintlik op die hoop van toepassing is (1 Petr 1:5). Maar hy doen dit met reg omdat die hoop die krag en voedsel {222} van die geloof is. Soms word geloof en hoop met mekaar verbind, soos in dieselfde brief (1 Petr 1:21; vgl. ook Fil 1:20).
Petrus Lombardus noem as fondament van die hoop die genade van God en die verdienstelikheid van die werke. Die hoop rig hom egter op die geloof. En die geloof rig hom alleen op die barmhartigheid van God. Hy sal ons nie bedrieg nie, wat gesê het: “Laat dit vir jou wees volgens jou geloof” (Mat 9:29).
HOOFSTUK III. Deur die geloof word ons wedergebore. Die boetvaardigheid
1. Deur die geloof besit ons Christus en geniet ons sy weldade. Nou moet ons nog oor die werkinge van die geloof spreek.
Die hoofinhoud van die evangelie word saamgevat in boetvaardigheid en vergewing van die sondes. As ons die twee stukke weglaat, is elke verhandeling oor die geloof nutteloos. Christus skenk ons en ons verkry deur die geloof sowel lewensvernuwing as genadige versoening. Oor altwee moet dus nou gehandel word, te begin met die boetvaardigheid. As ons dit goed ken, sal dit vir ons duideliker word hoedat die mens alleen deur die geloof en uit louter genade geregverdig word en dat die daadwerklike lewensheiliging tog nie daarvan losgemaak word nie.
Die boetvaardigheid word uit die geloof gebore, en nie omgekeerd die geloof uit die boetvaardigheid nie. Niemand kan die genade wat die evangelie aanbied, aanvaar sonder om hom van sy dwalinge te bekeer nie. Hulle wat dit andersom stel, ken nie die krag van die boetvaardigheid nie.
2. Hulle beweer dat Johannes en Christus die volk eers tot boetvaardigheid oproep. Daarna voeg hulle daaraan toe dat die koninkryk van die hemel naby gekom het. Dieselfde preek- opdrag ontvang die apostels ook. En Paulus volg ook dieselfde orde (Hand 20:21). Maar hulle verstaan die onderlinge samehang van die woorde nie. As Christus en Johannes só preek, grond hulle die eis van bekering juis op die genadige belofte van die saligheid. Hulle prediking is ‘n vervulling van die profesie van Jesaja: “Berei die weg van die Here” ens.
(Jes 40:3). Maar Jesaja kry die bevel om te begin met die heilstoesegging: “Troos, troos my volk” ens. (Jes 40:1-2).
As ons egter sê dat die boetvaardigheid sy oorsprong in die geloof het, bedoel ons nie daarmee dat dit alles binne ‘n bepaalde {223} tydsbestek afgeloop is nie. Ons wil maar alleen aantoon dat niemand waarlik boetvaardig kan wees as hy nie glo dat hy God toebehoort nie. En niemand is waarlik oortuig dat hy God toebehoort nie behalwe hy wat eers sy genade aangeneem het. Die psalmdigter sê: “By U is vergewing, dat U gevrees mag word” (Ps 130:4). Daaruit volg dat niemand God waarlik vrees nie, behalwe hy wat glo dat God hom genadig is. Niemand sal daarna strewe om sy wet te onderhou nie, behalwe hy wat daarvan oortuig is dat gehoorsaamheid God behaag (vgl. ook Hos 6:1). Die hoop op vergewing moet hier dien as aansporing, sodat hulle nie ongevoelig in die sonde sal bly lê nie. Ek het dit hier teen die dwaasheid van die meeste Wederdopers en van die Jesuïete, wat ‘n aantal dae vir hulle voornemende volgelinge voorskrywe waarin hulle hulle in die boetvaardigheid moet oefen. Daarna is dit afgeloop. ‘n Christen is sy lewe lank boetvaardig en nie net ‘n paar dae nie.
3. Sommige geleerde mense sê dat die boetvaardigheid uit twee dele bestaan, naamlik in die doding en die lewendmaking. Onder doding verstaan hulle die smart en die angs van die siel wat voortkom uit die kennis van die sonde en die gevoel van die oordeel van God. Wie tot kennis van die sonde gebring is, begin om die sonde te haat, om homself van harte te mishaag. Hy erken dat hy ellendig en verlore is, en begeer om ‘n ander mens te mag wees. Die besef van die oordeel van God werp hom neer. Hy sidder en gee die moed op. Dit is die eerste deel van die boetvaardigheid. Hulle noem dit verbryseling. Onder lewendmaking verstaan hulle die vertroosting wat uit die geloof gebore word. Die mens wat deur die bewussyn van sy sonde so neergewerp is, sien later op die barmhartigheid, die genade en die saligheid wat daar deur Christus is, vat moed en rig homself weer op. Hy keer dan uit die dood na die lewe terug. Hierdie beskrywing druk die krag van die boetvaardigheid goed uit, as dit maar reg uitgelê word. Maar ek stem nie met hulle saam as hulle die lewendmaking vereenselwig met die blydskap van die gemoed as dit na die vrees weer tot kalmte gekom het nie. Dit is eerder die begeerte om heilig te lewe wat uit die wedergeboorte voortkom. Die mens sterf vir homself om vir God te begin lewe.
4. Omdat hulle opgemerk het dat die woord boetvaardigheid in die Skrif verskillende betekenisse het, onderskei ander twee vorms daarvan. Die eerste noem hulle die boetvaardigheid van die wet. Die sondaar is gewond deur die brandyster van sy sonde en verbrysel deur die skrik vir God se toorn. Maar hy kom nie verder nie. Die ander een noem hulle die boetvaardigheid van die evangelie. Die sondaar is ook verslae oor sy sonde, maar hy gryp Christus aan as die troos in sy angs en die veilige hawe in sy ellende.
Voorbeelde van die eerste soort is Kain, Saul en Judas (Gen 4:13; 1 Sam 15:20; Mat 27:4). Hulle het beswyk omdat hulle {224} God net as Wreker en Regter geken het. Hulle boetvaardigheid was dus niks anders as ‘n voorportaal van die hel nie Die boetvaardigheid van die evangelie sien ons by almal wat deur skuldbesef verslae is maar deur vertroue op God se barmhartigheid hulle tot die Here bekeer. Ons vind dit by Dawid (2 Sam 24:10), by Hiskia (2 Kon 20:2), by Petrus (Mat 26:75) en by die menigte op Pinkster (Hand 2:37).
5. Hoewel dit alles waar is, moet ons tog die woord boetvaardigheid anders verstaan. Geloof en boetvaardigheid is nie dieselfde nie. Paulus sê (Hand 20:21) dat hy kragtig by sowel die Jode as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus. Ons kan geloof en boetvaardigheid wel nie van mekaar skei nie, maar ons moet hulle tog onderskei, net soos die geval is met die geloof en die hoop. Die woord boetvaardigheid is in die Hebreeus afgelei van ‘n woord wat “terugkeer” beteken. In die Grieks beteken dit “sinsverandering”. Die hoofsaak is dat ons ons van onsself afkeer en ons tot God wend. Die boetvaardigheid is dus ‘n ware bekering van ons lewe tot God. Dit kom voort uit ‘n opregte vrees van God en bestaan uit die doding van die ou mens en die lewendmaking van die gees. Só moet ons die vermaninge van die profete en die apostels verstaan. Hulle doel was om die mense ontsteld te maak oor hulle sondes, sodat hulle, getref deur die vrees vir die oordeel van God, teen wie hulle gesondig het, hulle voor Hom sal verootmoedig en weer terug sal keer om in sy weë te wandel (Luk 3:7-8 e.a.p.).
6. Die beskrywing van boetvaardigheid wat ek gee, bevat drie dele. As ons, in die eerste plek, die boetvaardigheid ‘n bekering van die lewe tot God noem, vereis dit nie net ‘n verandering in die werke nie maar in die siel self. Eers as die siel die oue afgelê het, kan dit nuwe vrugte voortbring. Dit bedoel die profeet as hy sê: “Maak vir julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees” (Eseg 18:31). Moses noem dit die besnydenis van die hart. Die beste beskrywing van die boetvaardigheid vind ons by Jeremia (Jer 4:1-4). Die goddeloosheid moet uit die hart uitgeruk word, omdat hulle weet dat hulle met God te doen het, wat dubbelhartigheid haat. Jesaja beskryf dit as ‘n losmaking van die bande van goddeloosheid (Jes 58:6).
7. Die tweede kenmerk van boetvaardigheid is dat dit uit ‘n opregte vrees van God voortkom. Voordat die hart van die sondaar tot inkeer kom, moet dit wakker geskud word deur die gedagte aan die oordeel van God. As hierdie gedagte diep wortelgeskiet het in die hart, nl. dat God eenmaal die regterstoel sal beklim en van elke woord en daad rekenskap sal eis, laat dit die sondaar geen oomblik met rus nie maar dryf hom aan om anders te lewe, sodat hy hom onbekommerd voor die oordeel kan stel. Daarom maak die Skrif dikwels melding van die oordeel as dit tot boetvaardigheid {225} oproep (Jer 4:4; Hand 17:30). Die apostel noem die ware bekering ‘n droefheid volgens die wil van God (2 Kor 7:10). Ons vrees dan nie net vir die straf nie maar haat en verfoei die sonde omdat dit God mishaag. Anders sal die traagheid van ons vlees nie verbeter word nie.
Nog op ‘n ander manier is die vrees vir die oordeel van God die begin van die boetvaardigheid, naamlik in die opsig dat ingesien word dat ‘n lewe wat miskien deur mense as deugsaam geroem word, tog voor God van geen waarde is as aan Hom nie sy reg en eer gegee word nie.
8. In die derde plek moet ons verklaar wat dit beteken dat die boetvaardigheid bestaan uit die doding van die vlees en die lewendmaking van die gees. Die profete sê: “Wyk af van die kwaad en doen wat goed is” (Ps 34:15; Jes 1:16). As hulle terugroep van die boosheid, eis hulle die ondergang van die hele vlees, wat vol boosheid en verkeerdheid is. ‘n Moeilike saak om uit ons aangebore aard te verhuis. Die vlees het tog nog nie ten onder gegaan voordat alles nie vernietig is wat ons uit onsself het nie.
Aangesien die hele neiging van ons vlees is om God te haat (Rom 8:6), is versaking van ons natuur die eerste stap na gehoorsaamheid aan die wet. Daarna volg die vernuwing. Dit bestaan daarin dat die vrugte van reg, trou en barmhartigheid voortgebring word. Dit kom voort uit die hart wat deur die Heilige Gees geheilig is. Ons sal uit onsself nooit strewe na wat reg is as ons nie eers onsself versaak het nie. Daarom word ons vermaan om die ou mens af te lê en vernuwe te word in die gees van ons gemoed. Die ondergang van die ou natuur is egter nodig as ons onder die kinders van God gereken wil word.
9. Altwee hierdie weldade verkry ons deur deelgenootskap aan Christus. Deur gelykvormigheid aan sy dood word die ou mens deur sy krag gekruisig en sterf die liggaam van die sonde, sodat die verdorwenheid van die ou natuur geen krag meer het nie. En deur deelgenootskap aan sy opstanding word ons opgewek tot ‘n nuwe lewe wat beantwoord aan die geregtigheid van God. Onder boetvaardigheid verstaan ek dus die wedergeboorte, waardeur die beeld van God weer in ons herstel word (2 Kor 3:18; Ef 4:23; Kol 3:10). Hierdie vernuwing word nie in een oomblik of dag of jaar volbring nie, maar deur voortdurende, langsame voortgang maak God die verdorwenhede van die vlees in sy uitverkorenes tot niet. Hy reinig hulle van hulle vuilheid en heilig hulle om tempels vir Hom te wees. Hy vernuwe hulle, sodat hulle hulle tot boetvaardigheid sal oefen gedurende hulle hele lewe en ook mag weet dat hierdie krygsdiens sy end alleen in die dood vind.
10. Die kinders van God word dan deur die wedergeboorte van die diensbaarheid aan die sonde bevry. Egter nie só asof hulle {226} heeltemal vry is en geen las meer van die vlees ondervind nie. Oorsaak tot stryd bly daar altyd oor om hulle te oefen en hulle hulle swakheid des te beter te laat ken. Hierin stem al die ou skrywers saam. Die begeerlikheid wat in die wedergeborene oorbly, moet ook egter nie net as ‘n swakheid beskou word nie maar as sonde. As Augustinus beweer dat die begeerlikheid eers dan sonde word as die wil dit toestem, dwaal hy. Die verdorwenheid self wat sulke begeertes in ons opwek, is sonde.
11. As gesê word dat God sy kerk van sonde reinig, het dit meer betrekking op die skuld as op die sonde self. Deur die wedergeboorte vernietig God die heerskappy van die sonde in sy uitverkorenes. Hy gee hulle die krag van die Gees, sodat hulle die oorhand behou in die stryd teen die sonde. Maar die sonde self bly in hulle woon, nie om in hulle te heers nie maar om hulle deur die bewussyn van hulle swakheid te verootmoedig (vgl. Rom 7). Paulus spreek hier as wedergeborene. En tog spreek hy van weerstrewigheid teen die wet van God en van geestelike ellende. En die wet beslis alles vir ons in hierdie opsig. Ons moet God liefhê met ons hele hart, met ons hele siel, met ons hele gemoed en met al ons kragte. Ons siel moet dus geheel en al deur liefde vir God in beslag geneem word. Daarom voldoen niemand aan die gebod in wie se hart daar selfs die geringste lus of begeerte teen die liefde vir God opkom nie. Wie nie erken dat die begeerlikheid van die vlees sonde is nie, moet ook ontken dat oortreding van die wet sonde is.
12. Hiermee veroordeel ons nie elke begeerte as sodanig nie. God het dit só in ons aard ingegrif om te begeer dat die neiging nie uitgeroei kan word sonder om die menslikheid self te vernietig nie. Ons veroordeel alleen die ongebonde begeertes wat teen God se ordinansies stry. Deur die verdorwenheid van ons natuur is al ons kragte só geskend dat ‘n gedurige tugloosheid al ons handelinge kenmerk. Uit die besoedelde natuur kan niks wat rein of suiwer is, voortkom nie. Daarom sê ons dat al die begeertes van die mens sondig is, nie omdat hulle natuurlik is nie maar omdat hulle uit ‘n besoedelde natuur voortkom.
13. Dit stem ooreen met die gevoele van Augustinus. “Die wet van die sonde is vergewe deur die geestelike wedergeboorte”, sê hy. “Vergewe, naamlik, omdat die skuld betaal is in die sakrament waardeur die gelowiges wedergebore word. Maar dit bly, omdat dit verlangens opwek waarteen die gelowiges stry”. En op ‘n ander plek: “So lank as u leef, moet die sonde in u lede wees, maar die heerskappy moet dit ten minste ontneem word. Wat dit beveel, moenie uitgevoer word nie”.
14. Sommige Wederdopers het oor die geestelike wedergeboorte ‘n dwaasheid uitgedink wat mens verbaas. Hulle sê dat die kinders van God in die staat van onskuld herstel is en hulle dus nie hoef {227} te bekommer daaroor om die luste van die vlees te beteuel nie. Hulle moet net die leiding van die Gees volg, dan sal hulle nooit afdwaal nie. So verdraai hulle die waarheid van God in leuen. Moet alle onderskeid tussen reg en onreg, goed en kwaad dan weggeneem word? So ‘n onderskeid is uit die vervloeking van Adam, sê hulle. Christus het ons daarvan verlos. Neem die onnodige vrees weg, sê hulle. Die Gees sal u niks kwaads beveel nie, as u u maar net onbesorgd aan sy leiding oorgee. Van so ‘n Christus en van so ‘n Gees lees ons egter niks in die Skrif nie. Die Gees is geen Beskermer teen doodslag, dronkenskap, twis, gierigheid en bedrog nie, maar die bewerker van liefde, soberheid, beskeidenheid, vrede, matigheid en waarheid.
Maar waartoe langer moeite doen om so ‘n dwaasheid te weerlê? Die Christen put sy kennis van die Gees uit die Skrif. Daarin word twee dinge aangaande Hom geleer. Ten eerste dat Hy ons tot heiligmaking gegee is. Hy suiwer ons van onreinheid en bring ons tot gehoorsaamheid aan God se geregtigheid. Hierdie gehoorsaamheid beteken beteueling en onderwerping van die sondige begeerte waaraan hulle die vrye teuel wil gee. Ten tweede leer die Skrif ons dat ons só deur Hom gereinig word dat tog nog baie gebreke en swakhede ons in hierdie lewe aanklewe. Ons is dus ver van volmaak af en moet daeliks met die sonde stry, om nie deur die sondige luste van die vlees oorweldig te word nie (vgl. 2 Kor 12:7; Rom 7:7 e.v.).
15. Die apostel onderskei in die boetvaardigheid sewe dele of werkinge (2 Kor 7:11). Ons kan hulle ook gesindhede noem wat met die boetvaardigheid gepaard gaan.
Uit die droefheid wat na die wil van God is, ontstaan ywer. Wie homself mishaag omdat hy teen God gesondig het, word terselfdertyd aangedryf tot ywer en opmerksaamheid om homself heeltemal los te wikkel uit die strikke van die duiwel en op sy hoede te wees teen sy hinderlae, sodat hy nie van die leiding van die Heilige Gees beroof word nie. Daarna volg verantwoording, wat nie verdediging van sy saak beteken of ontkenning van sy skuld nie maar afbidding van vergifnis, soos kinders wat misdryf het, nie hulleself regverdig nie maar vergewing wens te ontvang. Dan volg verontwaardiging. Die sondaar is vertoorn op homself as hy sy verkeerdheid en ondankbaarheid teenoor God oordink. Onder vrees verstaan hy angs wat ons oorval as ons daaraan dink wat ons verdien het, en hoe vreeslik God se toorn teen die sondaars is. Verlange beteken ywer en opgewektheid om te gehoorsaam. Hierop het ook betrekking die ywer wat hy daarna noem. Ons brand by die gedagte: “Wat het ek gedoen? Waartoe sou ek gekom het as God in sy barmhartigheid nie gehelp het nie?” Ten laaste noem hy bestraffing. Hoe strenger ons teenoor onsself is, hoe vuriger moet ons op God se genade en barmhartigheid hoop. {228}
Ons moet egter matig in dit alles wees, sodat die droefheid ons nie verslind en tot wanhoop voer nie. So ‘n oormatige droefheid is ook ‘n strik van Satan. “Droefheid oor die sonde is noodsaaklik”, sê Bernardus, “as dit nie onafgebroke voortduur nie. Laat ons die alsem meng met heuning (van God se goedheid), sodat die heilsame bitterheid gesondheid kan skenk”.
16. Nou verstaan ons ook wat die vrugte van die boetvaardigheid is. Hulle is naamlik vroomheid jeens God, liefde vir die naaste en heiligheid in die hele lewe. Kortom, hoe yweriger die mens sy lewe by die lig van God se wet ondersoek, des te duideliker bewys hy sy boetvaardigheid. Daarom roep die Gees ons gedurig terug na die gebooie van die wet as Hy ons vermaan om boetvaardig te wees. Oorvloedige getuienisse hiervan vind ons by die profete, wat altyd die hart as die bron van die sonde veroordeel. God sien die hart aan en nie die vervulling van seremonies nie (vgl. Joël 2:13; Jak 4:8).
Daar is wel uiterlike oefeninge wat ons gebruik om onsself te verneder of om openlik ons inkeer te kenne te gee. Ons moet die dinge nie oordryf nie sodat dit nie die skyn sal hê dat boetvaardigheid uit sugte en trane bestaan nie. Só het baie van die ouer skrywers gedoen, met die gevolg dat hulle strenger was as wat die kerklike sagmoedigheid vereis.
17. Ons moet hierdie inbeelding wegneem van hulle wat die vernaamste kenmerk van die bekering sien in vas en ween waarvan die profeet spreek (Joël 2:12). Wat daar oor die verskeuring van die hart gesê word, is kenmerkend van die bekering, maar ween en vas nie. Hy het voorsê dat ‘n groot onheil die Jode bedreig. Nou raai hy hulle aan om die toorn van God te voorkom, nie net deur hulle te bekeer nie maar ook deur die tekens van droefheid te toon. Om te ween en te vas is vir ons ook goed so dikwels as die Here ons met een of ander ongeluk of ramp skyn te bedreig.
Die herders van die kerke sal vandag ook goed doen as hulle tot vas en ween oproep wanneer ‘n groot gevaar die kerk bedreig, mits hulle maar daarby aandring op wat die vernaamste is, naamlik dat die harte verskeur word en nie die klere nie. Vas is bestem vir tye van groot rampspoedigheid. Verder moet die lewe van die gelowige deur eenvoud en matigheid gekenmerk word, sodat hy in sy hele lewe die gestalte vertoon van iemand wat vas.
Die saak sal verder behandel word as ons oor die kerklike tug spreek.
18. Ek moet dit nog byvoeg, naamlik dat as vas en ween boetvaardigheid genoem word, dit dan in oneintlike sin geskied. Want hulle is nie die bekering tot God nie maar ‘n belydenis van skuld en afbidding van die straf. Om in sak en as boete te doen is maar net ‘n betuiging van selfmishae wanneer God op ons toornig is oor ons {229} groot sondes. Ons veroordeel onsself voor die wêreld en die engele om so God se toorn af te wend. Want Paulus sê: “As ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie” (1 Kor 11:31).
Om mense getuies van ons boetvaardigheid te maak is nie altyd noodsaaklik nie, maar om in die verborgene ons sondes voor God te bely is ‘n deel van die ware boetvaardigheid, wat nie nagelaat mag word nie. Want God sal die sondes nie vergewe wat ons deur huigelary verberg nie. En ons moet ook nie net die sondes bely wat ons daeliks doen nie, maar die sondes moet in herinnering roep die sondes van die verlede. Só doen Dawid in Ps 51:7. Hy doen dit nie om sy sonde minder strafwaardig voor te stel nie maar om te bely hoe groot dit is (vgl. ook Ps 25:7). Hy kan maar net die barmhartigheid van God inroep as hy sy vroeëre lewe ondersoek.
Verder moet opgemerk word dat die boetvaardigheid wat ons gedurig moet beoefen, verskil van die boetvaardigheid wat ons vind by hulle wat hulle in teuellose losbandigheid aan die sonde oorgegee het en deur ‘n soort afval die juk van God afgeskud het. In die sin word dit ook in die Skrif gebruik, as dit verhaal dat die volk hom van die afgodery en ander growwe sondes tot die lewende God bekeer het. Dit is dan soos ‘n opstanding uit die dode. Hierdie laaste maak egter die eerste nie oorbodig nie. Ons verdorwe natuur dwing ons om ons hele lewe lank boetvaardig te wees.
19. Die hoofsom van die evangelie word in hierdie twee sake saamgevat, naamlik boetvaardigheid en vergewing van sondes.
God regverdig sy kinders verniet, om hulle terselfdertyd deur heiligmaking van die Gees tot ware geregtigheid te vernuwe. Só spreek Johannes die Doper: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mat 3:2). Hy wek hulle op om te erken dat hulle sondaars is en voor God doemwaardig, dit wil sê om boetvaardig te wees en na die doding van hulle vlees en die nuwe geboorte in die Gees te verlang. Terselfdertyd roep hy hulle op tot geloof, want onder die term “koninkryk van God” verstaan hy alles wat ons in Christus verkry, naamlik die vergewing van die sondes, die saligheid en die lewe. So preek Christus ook: “Die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Mark 1:15). Eers verklaar Hy dat in Hom die skatte van God se barmhartigheid geopen is; dan eis Hy boetvaardigheid, en eindelik vertroue op die beloftes van God. En toe Hy die hele evangelie kort wou saamvat, het Hy gesê dat Hy moes ly, uit die dode moes opstaan en dat in sy Naam bekering en vergewing verkondig moes word (Luk 24:26,46). Dit het die apostels ook na sy opstanding verkondig (Hand 5:31). Bekering in die Naam van Christus word verkondig as die mense geleer word dat hulle gedagtes, aandoeninge en neiginge verdorwe en sondig is; dat dit {230} daarom nodig is dat hulle wedergebore moet word as hulle in die koninkryk van God wil ingaan. Die vergewing van sondes word verkondig as die mense geleer word dat Christus vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing (1 Kor 1:30). Die goedheid van God waardeur ons sondes vergewe word, is, soos ons reeds vantevore gesien het, die eintlike voorwerp van ons geloof wat ons naarstig onderskei van die boetvaardigheid.
20. Die begin van die boetvaardigheid is om die sonde te haat. Dit open vir ons die toegang tot die kennis van Christus, wat Hom aan niemand anders wil openbaar nie, behalwe aan ellendige en neergeboë sondaars wat sug en honger en dors en van smart en ellende vergaan (Jes 61:1; Mat 11:5; Luk 4:18). Ons moet daarom ons hele lewe lank boetvaardig wees as ons in Christus wil bly. Hy tog het gekom om sondaars te roep maar — tot bekering (Mark 9:13; Hand 3:26).
As God dus vergewing van sondes aanbied, eis Hy gewoonlik bekering. Daarmee gee Hy te kenne dat sy barmhartigheid vir die mense ‘n rede moet wees om hulle te bekeer (Jes 56:1; Jes 59:20; Jes 55:6). Ons moet egter opmerk dat die boetvaardigheid nie die fondament is om vergewing te verdien nie. Omdat God egter besluit het om aan die mense barmhartigheid te bewys sodat hulle hulle sal bekeer, wys Hy aan wat hulle moet doen as hulle genade wil verkry. Daarom moet ons ons lewe lank teen die gebreke van ons sondige natuur stry. Die lewe van ‘n Christen is niks anders nie as ‘n voortdurende stryd om die vlees dood te maak, totdat dit heeltemal gesterf het en die Gees die heerskappy in ons het. Daarom het hy die meeste gevorder wat die meeste geleer het om homself te mishaag. En dit nie om in die sonde te bly lê nie maar om hom te haas om tot God te gaan en na Hom te verlang, sodat hy in die dood en lewe van Christus ingeplant, gedurig boetvaardig sal wees. Wie die sonde haat kan nie anders nie, want hy het die geregtigheid lief.
21. Die boetvaardigheid is dus ‘n besondere gawe van God. Daarom prys die kerk God dat Hy aan die heidene die bekering tot die lewe gegee het (Hand 11:18; vgl. ook 2 Tim 2:25-26). God verseker wel dat Hy wil dat alle mense hulle sal bekeer. Daartoe word almal vermaan, maar die uitwerking hang af van die Gees van die wedergeboorte. Want God maak deur die Gees van die wedergeboorte almal lewend wat Hy aan die verderf wil ontruk. Nie omdat die boetvaardigheid die oorsaak van die saligheid is nie maar omdat dit nie van die geloof en van die barmhartigheid van God geskei kan word nie (Jes 59:20). Dit staan vas dat die Gees die saligheid van die mense gewerk het waar die vrees van God kragtig is. Daarom noem die gelowiges by Jesaja dit as teken dat {231} hulle deur God verlaat is, naamlik dat Hy hulle hart verhard het (Jes 63:17). As die apostel dan ook die afvalliges wil uitsluit van die hoop op die saligheid, gee hy daarvoor hierdie rede op, naamlik dat dit onmoontlik is om hulle weer tot bekering (boetvaardigheid) te vernuwe (Hebr 6:6). God vernuut alleen die wat Hy nie verlore wil laat gaan nie, en gee aan hulle die boetvaardigheid as ‘n bewys van sy vaderlike guns.
Maar Hy straf deur verharding die verworpenes, wie se goddeloosheid onvergeeflik is. Hierdie wraak verkondig die apostel ook aan hulle wat moedswillig van die geloof in die evangelie afval, God bespot, sy genade versmaad en die bloed van Christus onrein ag en Hom ten opsigte van hulleself weer kruisig (Hebr 6:4; Hebr 10:26).
22. Om dit te verklaar moet ons nou ondersoek watter verskriklike sonde dit is waarvoor daar geen vergewing is nie. Teen die Heilige Gees sondig hulle wat die Goddelike waarheid waarmee hulle baie goed bekend is, tog in hardnekkige boosheid weerstaan, alleen met die doel om dit te weerstaan (Mat 12:31; Mark 3:28 e.a.p.).
Maar hoe kan iemand teen die Seun spreek sonder om hom terselfdertyd teen die Heilige Gees te verset? Dit word gedoen deur hulle wat hulle stoot aan die waarheid van God waarmee hulle onbekend is. In onwetendheid vloek hulle Christus. Intussen is hulle egter so gesind dat as die waarheid aan hulle geopenbaar word, hulle dit nie sal wil uitblus of een woord teen Christus sal wil spreek nie. Hulle sondig teen die Vader en die Seun. So is daar vandag baie wat die leer van die evangelie vervloek maar wat dit met hulle hele hart sal vereer as hulle weet dat dit die leer van die evangelie is. (Calvyn doel hier blykbaar op die leer wat deur hom en die ander Hervormers verkondig is.) Maar die wat in hulle gewete oortuig is dat dit Gods Woord is wat hulle verag en bestry en tog nie ophou om dit te doen nie, hulle laster teen die Heilige Gees. Hulle stry teen wat sy werk is: die verligting. Sodanig was sommige van die Jode wat die Gees probeer weerstaan het waarmee Stefanus gespreek het (Hand 6:10). Sodanig was ook die Fariseërs wat gesê het dat Christus deur Beëlsebul die duiwels uitdryf (Mat 9:34; Mat 12:24).
23. Die apostel spreek nie van een besonder val nie maar van ‘n algemene val waarmee die verworpenes die saligheid afwys. Dit blyk duidelik uit wat Johannes sê: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie” (1 Joh 2:19). Die apostel spreek teen hulle wat hulle verbeel het dat hulle die Christelike godsdiens weer kon aanneem, ook al het hulle eenmaal daarvan afvallig geword. Om hulle van so ‘n verderflike opvatting weg te roep sê hy dat die terugkeer na die gemeenskap met Christus nie oopstaan vir hulle wat dit willens en wetens opsetlik verwerp het nie. In Hebr 6:4 is dan ook sprake van mense wat die lig van die Heilige Gees {232} met opsetlike goddeloosheid verstik, hulle van die heiligmaking van die Gees vervreemd het, Gods Woord en die kragte van die toekomstige wêreld met die voete vertrap het. Die woord opsetlik (Hebr 10:6) dui aan ‘n vaste besluit om goddeloos te wees.
24. Vir sommige skyn dit hard en nie in ooreenstemming met die goedertierenheid van God nie, naamlik dat mense verstoot word wat God se barmhartigheid oor hulle inroep. Dit kan egter gemaklik weerlê word. Want hy sê nie dat vergifnis hulle geweier word as hulle hulle tot die Here bekeer nie, maar hy sê dat hulle nie tot boetvaardigheid kan kom nie, omdat hulle deur God se regverdige oordeel weens hulle ondankbaarheid met ewige blindheid geslaan is. Hierteen stry nie die voorbeeld van Esau wat later aangehaal word nie (Hebr 12:17), en ook nie die Woord van die Here deur die profeet nie: “So sal hulle roep, maar Ek nie hoor nie” (Sag 7:13). Hier is geen sprake van ware bekering of aanroeping van God nie maar alleen van die angs van die goddelose mense wat hulle dwing om te let op wat hulle verloor het. Nou sug hulle wanhopig oor die hulp wat hulle ontneem is. Dit is nodig om hierop te let, anders sou God Homself weerspreek. Deur die profeet getuig Hy tog dat Hy genadig sal wees sodra die sondaar hom bekeer (Eseg 18:20-21). En, soos ek reeds gesê het, die hart van die mens kan alleen deur voorafgaande genade verander word. Die kwelling van die verworpenes word in oneintlike sin bekering en aanroeping genoem.
25. God kan nie deur ‘n geveinsde boetvaardigheid versoen word nie. Maar hoe het Agab dan vergewing ontvang en is die aangekondigde straf afgewend, terwyl dit tog uit sy verdere lewe blyk dat hy maar net deur ‘n plotselinge skrik neergevel was? Hy het wel sy klere geskeur, maar sy hart het verstok gebly. Ek antwoord dat die huigelaars soms vir ‘n tyd so gespaar word, dat die toorn van God tog op hulle bly rus. Dit geskied nie soseer ter wille van hulle nie maar as ‘n voorbeeld vir almal. Watter voordeel was dit vir hom dat die straf hom in sy leeftyd nie getref het nie? Die vloek van God het in sy huis gewoon, en hy het vir ewig verlore gegaan. Dieselfde geld van Esau. Hy het ook maar net tydelike seëninge ontvang (Gen 27:38-39). Dis ‘n voorbeeld vir ander. Ons word daardeur geleer om die opregte boetvaardigheid te soek. Immers, God is gewillig om vergewing te skenk aan almal wat hulle in opregtheid met hulle hele hart tot Hom bekeer. Sy goedheid strek hom uit oor onwaardiges wat maar net soveel as ‘n geringe blyk van selfmishaging openbaar. Terselfdertyd leer ons watter vreeslike oordeel daar wag vir alle hardnekkiges wat God se bedreiginge brutaal verag. Deur sulke voorbeelde soos die wat ek genoem het, word die gelowiges tot betering van hulle lewe aangespoor en die hovaardigheid van die hardnekkiges des te ernstiger veroordeel. {233}
HOOFSTUK IV. Hoe ver alles wat die Sofiste oor die boetvaardigheid leer, verwyder is van die suiwere waarheid van die evangelie. Hierby word ook gehandel oor die bieg en oor die voldoening
1. Ek gaan nou kortliks ondersoek wat die Skolastiese Sofiste oor die boetvaardigheid geleer het. Hulle het die saak, wat tog nie baie ingewikkeld is nie, baie gaan verduister. Deur die definisie wat hulle daarvan gee, bewys hulle al dat hulle nooit begryp het wat boetvaardigheid is nie. Om boete te doen is, volgens hulle, om sondes wat vroeër bedrywe is, te beween en om nie sondes te bedrywe wat beween moet word nie. Hierdie woorde neem hulle van die vaders oor. Maar hulle het dit allermins bedoel as ‘n beskrywing van wat boetvaardigheid is, maar net as iets om die mense te waarsku om nie weer in dieselfde sondes te val waaruit hulle opgerig is nie.
Verder maak hulle baie van uiterlike handelinge, maar oor die inwendige vernuwing van die gemoed, wat ‘n ware lewensverbetering bewerk, heers ‘n wonderbaarlike stilte. Oor die verbryseling van die hart word veel gesê, maar hulle genees die wonde baie maklik met allerhande seremonies.
Boetvaardigheid bestaan dan, volgens hulle, in verbryseling van die hart, belydenis met die mond en voldoening deur goeie werke. Hierin dwaal hulle al, want iemand kan opreg berou hê oor sy sonde sonder dat hy dit met die mond voor mense bely. Verder blyk dit duidelik uit die vrae wat hulle stel en beantwoord, dat hulle oor sake spreek waarmee hulle heeltemal onbekend is, bv. of boetedoening oor een sonde God kan behaag as iemand in ander sondes volhard, net so ook of die boetedoening vir doodsondes meermaal herhaal kan word.
2. Ek wil hê dat die lesers daaraan moet dink dat hier nie oor ‘n kleinigheid gehandel word nie maar oor ‘n baie belangrike saak, naamlik die vergewing van die sondes. Want as hulle beweer dat die boetvaardigheid in die drie genoemde dinge bestaan, leer hulle tog dat die dinge noodsaaklik is om vergewing van die sondes te verkry. En as daar in die godsdiens een saak is wat vir ons belangrik is om te weet, dan is dit tog seker van belang om te weet en te begryp op watter wyse, volgens watter wet en op watter voorwaarde die vergewing van die sondes verkry word. As ons dit nie presies weet nie, kan die gewete nooit rus of vrede met God hê nie maar sidder dit, twyfel dit en is dit onrustig, word dit {234} gekwel en heen en weer geslinger en haat en ontvlug dit die aangesig van God. As die vergewing van die sondes van die voorwaardes afhanklik is wat hulle opnoem, dan is ons die ellendigste en wanhopigste van alle skepsels. Hulle sê dat verbryseling van die hart die eerste voorwaarde is om vergifnis van sondes te verkry, en hulle eis dat dit opreg en volmaak moet wees. Maar intussen sê hulle nie wanneer die sondaar gerus kan wees dat hy die verbryseling tot die volle maat deurgemaak het nie.
Ek erken dat ons daarop moet aandring dat elkeen sy sondes bitterlik sal beween, sodat hy homself sal mishaag en die sonde sal haat. Want dit is die onberoulike droefheid tot saligheid. Maar as nou ‘n droefheid geëis word wat met die grootheid van die skuld in ooreenstemming is, om daardeur vergewing te ontvang, dan word die gewete gekwel en geskok omdat ‘n verbryseling opgelê word wat sondaars nie kan bereik nie en dus nooit kan vasstel of hulle betaal het wat hulle verskuldig was nie. As hulle sê dat ons moet doen wat ons kan, kom dit maar weer op dieselfde neer. Want wanneer kan iemand vasstel dat hy al sy kragte ingespan het om sy sonde te beween?
3. Ons sê ook dat geen vergewing van sondes sonder boetvaardigheid verkry word nie, omdat net hulle wat verslae is deur die kennis van hulle sondes, God opreg aanroep om barmhartigheid te verkry. Die boetvaardigheid self is egter nie die oorsaak van die vergewing van die sondes nie. Daardie foltering van die siele het ons weggeneem, naamlik dat betaal moes word wat ons verskuldig was. Ons het die sondaar geleer dat hy nie op sy verbryseling en trane moet sien nie maar op die barmhartigheid van die Here.
En ons het daarop gewys dat die vermoeides en belastes deur Christus geroep word, omdat Hy gestuur is om aan die armes die evangelie te verkondig, om die gebrokenes van hart te verbind, om vir gevangenes ‘n vrylating uit te roep en die treurendes te vertroos, ens. (Jes 61:1; Mat 11:5,28). Daardeur word alle Fariseërs en veragters van God uitgesluit. Daar is ‘n groot verskil of geleer word dat sondaars vergewing ontvang as vrug van die verbryseling van hart, en of hulle geleer word om in hulle ellende te honger en te dors na die barmhartigheid van God.
4. Oor die bieg was daar altyd groot verskil onder Roomse teoloë. Sommige sê dat dit deur God beveel word; ander dat dit slegs ‘n instelling van die kerk is. Om hulle bewering te staaf verdraai en vervals eersgenoemdes die Skrif. Hulle gaan nog verder en beweer dat die bieg, wat sy wese betref, sy oorsprong in die goddelike reg het maar dat mense dit maar later die bepaalde vorm gegee het.
Maar laat ons sien op watter gronde hulle beweer dat die bieg ‘n bevel van God is. Hulle sê dat die Here Jesus die melaatses na {235} die priesters gestuur het (Mat 8:4 e.a.p.). Om wat te doen? Om te bieg? Wie het ooit gehoor dat dit die roeping van die priesters was om biegte aan te hoor? Daarom neem hulle hulle toevlug na allegorieë. Die Mosaïese wet het bepaal dat die priesters onderskeid moes maak tussen melaatsheid en melaatsheid, sê hulle. Sonde is ‘n geestelike melaatsheid. Daarom was dit die taak van die priesters om daaroor uitspraak te doen. Is dit nie spot met die Skrif om te sê dat die wet dit aan die priesters opgedra het om van melaatsheid kennis te neem nie. Sonde is geestelike melaatsheid. Laat ons daarom daarvan kennis neem.
Hierop antwoord ek dat die priesterskap op Christus oorgegaan het en in Hom vervul is. Daarom het alle regte van die priesterskap ook op Hom oorgegaan.
Dit egter daargelaat. Waarom stuur Christus die melaatses na die priesters? Om die eenvoudige rede dat hulle nie sou kon sê dat Hy ‘n oortreder van die wet was nie. Die wet het tog beveel dat die melaatse hom aan die priester moes vertoon en deur ‘n offer versoen moes word as hy van sy melaatsheid gereinig was. Verder het Hy hulle hierdeur gedwing om getuies van sy wonderwerk te wees.
5. Hulle tweede bewys is ook weer ‘n allegorie. Hulle sê dat die Here sy apostels beveel het om Lasarus se grafdoeke los te maak (Joh 11:44). Dit is egter waarskynliker dat die Here dit vir die Jode gesê het, sodat die wonder duidelik sal blyk en sy krag duidelik openbaar sal word dat Hy ‘n dooie kon opwek alleen deur te spreek.
Maar al gee ons toe dat die Here dit vir sy apostels gesê het, wat bereik hulle dan daarmee? Dat Hy aan sy apostels die mag gee om te ontbind? Ons kan dit baie eenvoudiger verklaar, as ons dan moet allegoriseer, naamlik só dat God wil dat sy gelowiges nie die sondes in herinnering sal roep wat Hy self vergeet het nie; dat hulle nie as sondaars sal veroordeel die wat Hy vrygespreek het, en nie hulle verwyt wat Hy vergewe het nie.
6. Hulle derde bewysplek is dat die wat na Johannes gekom het om gedoop te word, hulle sondes bely het (Mat 3:6) en dat Jakobus sê: “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar” Jak 5:16). Maar dis geen wonder dat die wat begeer het om gedoop te word, hulle sondes bely het nie. Tevore is gesê dat Johannes die doop van bekering verkondig het. Wie anders sou hy gedoop het as hulle wat bely het dat hulle sondaars was? Hulle het dus hulle sondes bely om gedoop te word.
Wat die woorde van Jakobus betref, het hulle skynbaar nie daarop gelet nie dat hy sê: “Bely mekaar die misdade en bid vir mekaar”. Hieruit sou volg dat net die priesters kan bieg. Immers, Jakobus spreek hier met mense wat die belydenis van ander kan aanhoor. Hy sê: “mekaar”, dit wil sê oor en weer, elkeen op sy {236} beurt. En oor en weer kan maar net dié bieg wat geskik is om as biegvaders op te tree. En aangesien hulle nou net die priesters hierdie eer waardig ag, lê ons alleen aan hulle die plig op om te bieg. Die bedoeling van Jakobus is egter baie eenvoudiger, naamlik dat ons ons swakhede aan mekaar moet openbaar om van mekaar raad, medelye en vertroosting te verkry. En verder om vir die broeders te bid, omdat ons hulle swakhede ken.
7. Ek vra my verwonderd af hoe hulle durf beweer dat die bieg uit die goddelike reg voortkom, waar hulle eie geskiedenisboeke vermeld dat dit nie vóór Innocentius III bestaan het nie (1200 n.C). Volgens hulle eie getuienis is die noodsaaklikheid om te bieg dus nog nie eers driehonderd jaar gelede afgekondig nie. Wat hulle verder ook mag beweer, ons weet dat Christus nie so ‘n wet ingestel het wat mense verplig om hulle sondes voor ander op te som nie. Hierdie tirannie is eers ingevoer in ‘n tyd van verval, toe die sogenoemde herders enige vorm van ongebondenheid vir hulleself geoorloof geag het.
Verder verhaal Sozomenus dat die bieg wel in die Westerse kerke en veral in Rome onderhou is. Daarmee gee hy te kenne dat dit nie ‘n algemene instelling van alle kerke was nie. Hy sê ook dat net een priester in besonder bestem was om die amp waar te neem. Daarmee weerlê hy wat hulle beweer dat die amp aan alle priesters gegee is. In Konstantinopel, waar dit ook bestaan het, is die bieg weens die misbruik wat daarvan gemaak is, deur die godvresende Nectarius afgeskaf. As dit ‘n instelling van God was, hoe sou Nectarius dit kon afgeskaf het? Sal hulle dit waag om hom en die hele kerk van die Ooste van kettery en skeurmakery te beskuldig?
8. Ook Chrysostomus het die afskaffing goedgekeur. “Bely u sonde voor God, wat dit genees … Dis nie nodig om in teenwoordigheid van getuies te bely nie … Ek dwing u nie om u sondes voor mense te openbaar nie … Toon u wonde aan die Here, die voortreflikste Geneesheer, en vra van Hom die geneesmiddel… Hy verwyt nooit maar genees liefderyk. Moet dit nie vir mense sê nie, sodat hulle u nie verwyt nie”. Meer sulke uitsprake kom in sy preke voor.
9. Laat ons allereers vra watter soort belydenis Gods Woord ons leer. Dan stel ons daarnaas wat die hoofsaak van hulle geheime bieg is. Die Skrif skrywe ons een manier van belydenis voor, naamlik dit: Omdat God die sonde vergewe, vergeet en tot niet maak, moet ons ons sondes voor Hom bely om vergewing te verkry. Hy is die Geneesheer; laat ons ons wonde aan Hom voorlê. Hy is die beledigde party; laat ons van Hom vrede verlang. Hy roep sondaars; laat ons na Hom gaan (Ps 32:5; 1 Joh 1:9 e.a.p.).
10. Op die verborge belydenis voor God volg ‘n vrywillige {237} belydenis voor die mense so dikwels as die eer van God en ons eie vernedering dit vereis, om sy barmhartigheid by die mense te roem. Dan moet die geheim van die hart nie maar net een maal in een mens se oor gefluister word nie, maar meermale moet in die openbaar eie smaad en God se heerlikheid en eer verkondig word. Só het Dawid gedoen (2 Sam 12:13). Só het God die openbare skuldbelydenis in die tempel verorden (Lev 16:21). En so pas dit ons om, deur die belydenis van ons ellende, die goedheid en barmhartigheid van God onder mekaar en voor die hele wêreld te verheerlik.
11. Hierdie soort belydenis behoort gereeld in die kerk plaas te vind. Dit behoort ook op ‘n besondere wyse gebruik te word as dit gebeur dat die volk deur ‘n gemeenskaplike sonde skuldig word. Hiervan het ons ‘n voorbeeld in die plegtige skuldbelydenis wat die volk onder leiding van Esra en Nehemia aflê.
Dit maak ook nie saak of daar in ‘n gemeenskap sommige is wat minder skuldig is nie. Hulle is lede van ‘n siek liggaam en mag daarom nie roem dat hulle gesond is nie. Veeleer het hulle ook deel aan die algemene skuld. So dikwels ons dus deur oorlog, pes of ander onheile getref word, moet ons rou dra en vas en mag die openbare skuldbelydenis nie agterweë bly nie.
Die gewone skuldbelydenis sal niemand wat die nuttigheid daarvan oorweeg het, afkeur nie. Want in alle heilige samekomste stel ons ons voor die aangesig van God en sy engele. Hoe sal ons dan anders begin as om ons onwaardigheid te bely? U mag miskien sê dat dit in elke gebed gebeur. Want as ons om vergifnis bid, bely ons ons sondes. Ek erken dit. Maar as u daaraan dink hoe sorgloos en onverskillig ons is, sal u my toestem dat dit ‘n heilsame instelling sal wees as die volk deur ‘n plegtige gebruik geoefen word om hom deur skuldbelydenis te verootmoedig. In sommige kerke bestaan al so ‘n formulier van skuldbelydenis wat deur die dienaar in sy eie naam en in die naam van die gemeente uitgespreek word. En dit werk vrugbaar.
12. Die Skrif keur ook twee soorte belydenis goed Die een geskied ter wille van onsself (Jak 5:16): “Bely mekaar die misdade”. Dit wil sê ontdek aan mekaar die swakhede oor en weer, om op die wyse mekaar van raad en troos te dien. Die ander belydenis geskied ter wille van die naaste, om hom te versoen as ons hom op een of ander manier kwaad aangedoen het. Wat die eerste soort belydenis betref, laat Jakobus ons vry om enigeen in die gemeente te kies wat ons hiervoor geskik ag. Tog is dit beter om daarvoor die herders te kies, omdat die Here hulle vir ons aanwys deurdat Hy hulle tot die diens geroep het. Uit hulle mond moet ons onderrig en vertroosting ontvang (Mat 16:19; Mat 18:18; Joh 20:23). {238}
Laat elkeen bedink dat dit sy plig is om die middel nie te verontagsaam wat die Here hom aanbied nie, naamlik om tot sy verligting van die belydenis by sy herder gebruik te maak so dikwels as hy so beangs en gekwel word deur die gevoel van sy sonde dat hy nie sonder die hulp van ander staande kan bly nie.
Maar hier moet matigheid in ag geneem word. God skryf hier niks bepaalds voor nie. Daarom moet die belydenis ‘n vrywillige saak wees en nie van almal geëis word nie. Vervolgens moet niemand gedwing word om al sy sondes op te noem nie, maar net soveel as wat hy nodig ag om volkome vertroos te word. Hierdie vryheid moet getroue herders handhaaf en beskerm en nie tiranniek optree of die volk bygelowig maak nie.
13. Oor die ander vorm van belydenis spreek Christus by Mattheüs Mat 5:23-24). Só moet die liefde wat deur ons skuld verbreek is, weer herstel word. Ons moet die skuldige daad erken en vergifnis vra. Hieronder val ook die belydenis van hulle wat teen die hele kerk gesondig het. Want as Christus die ergernis wat aan een lidmaat gegee is, so belangrik ag dat Hy almal wat teen ‘n broeder gesondig het, van die heilige verrigtinge terughou, hoeveel meer rede is daar dat die mens hom met die gemeente sal versoen wat hy deur sy slegte voorbeeld skade aangedoen het! So is die persoon in Korinthe weer in die gemeenskap van die kerk opgeneem nadat hy hom vrywillig aan die bestrawwing onderwerp het (2 Kor 2:6). Hierdie vorm van belydenis was ook bekend in die ou kerk. ‘n Ander manier om te bely ken die Skrif nie. En ons moet ook nie met nuwe bande die gewetens bind wat Christus verbied om in diensbaarheid te bring nie. Dat skape by hulle herder belydenis van skuld doen as hulle aan die Sakrament van die heilige Nagmaal wil deelneem, sou ek graag aanbeveel om oral in gebruik geneem te word.
14. In die drie soorte belydenis kom die sleutelmag van die kerk tot openbaring. Ten eerste wanneer die hele kerk in die openbaar skuldbelydenis doen en om vergewing bid. Ten tweede wanneer iemand deur een of ander growwe sonde algemene ergernis gegee het en berou betoon. En ten derde wanneer iemand die hulp van die dienaar nodig het en sy swakheid aan hom openbaar.
Hierdie dinge moenie onderskat word nie. As die hele kerk hom byvoorbeeld voor God se regterstoel skuldig verklaar en sy toevlug alleen tot sy barmhartigheid neem, is dit geen geringe troos om daar ‘n afgesant van Christus te hê en uit sy mond te hoor hoedat daar vergewing afgekondig word nie. Dieselfde geld van die ander twee gevalle wat ek genoem het. Watter weldaad is dit om van hom skuld vergewing te ontvang vir wie Christus in sy Woord sê: “As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe” (Mat 18:18; Joh 20:23); of: “Hou goeie moed, jou sondes is jou vergewe” (Mat 9:2).
{239}
Maar as ons oor die sleutelmag spreek, moet ons oppas dat ons nie enige mag versin wat van die prediking van die evangelie afgeskeie is nie. Want Christus het al die reg wat Hy aan sy kerk gegee het om te bind of te ontbind, aan sy Woord gebind. Hieroor sal breedvoeriger gehandel word as ons kom tot die regering van die kerk.
15. Maar wat doen die Roomse teoloë? Hulle bepaal dat alle persone van beide geslagte verplig is om ten minste een maal per jaar te bieg, as hulle tot jare van onderskeiding gekom het. Verder bepaal hulle dat die sondes nie vergewe word as daar nie die vaste voorneme bestaan om te bieg nie; dat daar geen toegang tot die paradys bestaan as die voorneme nie uitgevoer word nie, en eindelik dat die priester die sleutelmag besit om die sondaar te bind of te ontbind, volgens die Woord van die Here Christus: “Wat julle op aarde sal bind, sal in die hemel gebonde wees”. Oor hierdie mag voer hulle ‘n heftige stryd. Sommige sê dat daar in wese net een sleutel is, naamlik die mag om te bind of te ontbind. Ander weer noem twee sleutels, naamlik die onderskeiding en die mag. Ander weer het nog ander sleutels gesmee. Hulle durf egter nie bind en ontbind eenvoudig uitlê as sou dit sonde vergewe en tot niet maak beteken nie, want hulle hoor self hoe God deur die mond van Jesaja getuig: “Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil” (Jes 43:25). Maar hulle sê dat dit die priester toekom om uit te spreek wie gebind is of ontbonde, en te verklaar wie se sonde vergewe of gehou is. As hulle dan teëgewerp word dat hulle onwaardiges bind of ontbind, antwoord hulle daarop dat die verlening van die sleutelmag met hierdie beperking aangeneem moet word dat Christus belowe het dat die vonnis van die priester wat regverdig uitgespreek is, voor sy regterstoel erken sal word, volgens die verdienstelikheid van die gebondene of ontbondene.
16. Vir die oomblik swyg ek daaroor watter reg hulle het om die siele van die gelowiges deur hulle wette te bind. Dit kan nie verdra word dat hulle bepaal dat al die sondes bely moet word, dat daar geen vergewing is as daar nie hierdie voorneme is om te bieg nie, ens.
Moet al die sondes opgesom word? Dawid het seker terdeë oor die belydenis van sondes nagedink. Tog roep hy uit: “Die afdwalinge — wie bemerk hulle? Spreek my vry van die wat verborge is” (Ps 19:13; vgl. ook Ps 38:5). Hy het ongetwyfeld begryp hoe groot die afgrond van sy sondes was en hoe baie gedaantes die misdade gehad het. Daarom het hy nie ‘n lys van sy sondes opgemaak nie maar uit die dieptes van sy ellende tot die Here geroep.
17. Deur hierdie marteling is die siele van die kinders van God wreedaardig verskeur.
Wat ‘n onbegonne taak om al die sondes op te som wat {240} gedurende ‘n jaar bedryf is! Hoe meer sondes bely is, hoe groter het die som van die wat nie bely is nie, geword! Met skamele trooswoorde is die arme slagoffers opgebeur soos dit heet. “Doen wat jy kan. Bely jou onbedagsaamheid”, ens. Maar al die sg. trooswoorde kan die wonde nie genees wat hulle geslaan het nie. Want altyd het die bevel maar weerklink: “bely al jou sondes”. Wie kan nagaan wat gedurende ‘n hele jaar misdaan is en wat op elke dag afsonderlik? Elkeen weet dat ons nie eers in die aand die sondes van die een dag wat verbygegaan het, kan bereken nie!
18. Dat so baie in die bieg rus sou gevind het, het nie gebeur omdat hulle geglo het dat daardeur aan God voldoening verskaf is of dat hulleself voldaan was nie, maar hulle het dit maar gedoen soos ‘n wandelaar wat langs die pad ‘n rukkie gaan lê om uit te rus. Elkeen kan vir homself oordeel. Ek sal in hoofsaak sê wat se wet dit is. In die eerste plek is dit eenvoudig onmoontlik om te volbring. Dit kan niks anders bewerk as om tot wanhoop en ondergang te voer nie.
Vervolgens lei dit die sondaars weg van die ware besef van hulle sondes en maak van hulle huigelaars wat God en hulleself nie ken nie. Want terwyl al hulle aandag deur die opsomming van hulle sondes in beslag geneem word, vergeet hulle die verborge poel van hulle ongeregtighede. Die beste reël vir ons belydenis is om te erken dat die afgrond van ons sondes so groot is dat dit ons besef ver oortref. Só was die tollenaar gesteld toe hy bely het: “o God, wees my sondaar, genadig”. Dit is asof hy gesê het: “So groot soos ek is, is ek geheel en al sondaar. Ek kan die grootheid van my sonde nie volkome uitdruk nie. Mag die afgrond van u barmhartigheid hierdie afgrond van my sonde verslind”.
Maar moet die sondes dan nie afsonderlik bely word nie? Kan God tevrede wees net met die belydenis: “Ek is ‘n sondaar”? Ja, ons moet ons bes doen om sover ons daartoe in staat is, ons hele hart voor die Here uit te stort. Ons moet met ons hele verstand oorweeg hoe groot en hoe wyd vertak die smet van ons sonde is. Nie maar net dat ons onrein is nie maar ook hoe groot ons onreinheid is en in hoe baie vorms dit hom openbaar; nie net dat ons skuldenaars is nie maar ook hoe groot ons skuld is; nie net dat ons gewond is nie maar ook deur hoeveel wonde ons geslaan is. En as die sondaar sy hart dan só voor God uitgestort het, moet hy bedink dat daar nog baie meer oor is en dat die skuilhoeke van sy sonde nog te diep is om dit heeltemal te deursoek. Vergelyk die woorde van Dawid in Ps 19:13.
As hulle vervolgens verseker dat die sondes nie vergewe word as daar nie ‘n vaste voorneme is om te bely nie en dat die poorte van die paradys gesluit is vir hulle wat nagelaat het om te bieg, kan ons hulle dit ook nie toestem nie. Ons lees van nie een van hulle {241} wat vergewing van sondes van Christus ontvang het, dat hulle in die ore van ‘n priester gebieg het nie. Hulle kon ook nie, want daar was geen bieg of biegvaders nie. Gods Woord sê egter: “As die goddelose hom bekeer van al sy sondes … , sal al sy oortredinge wat hy begaan het, hom nie toegereken word nie” (Eseg 18:21-22). Wie hieraan iets durf byvoeg, bind nie die sondes nie maar die barmhartigheid van die Here.
Die biegvaders sê dat dit aan hulle opgedra is om te bind of te ontbind, asof dit ‘n soort regspraak was wat aan ‘n regbank toegeken was Maar so iets was aan die apostels heeltemal onbekend. Dit kom die priester nie toe om te weet of die sondaar ontbind word nie, maar dit kom Hom toe van wie vergewing gevra word. Want nooit kan hy wat die bieg aanhoor, weet of alles bely is of nie. Daarby kom dat die hele ontbinding berus op geloof en boetvaardigheid, waaroor die mens nie kan oordeel nie. Die mens kan maar net voorwaardelik vryspreek.
19. Dit is dus geen wonder dat ons die oorbieg veroordeel as iets wat vir die kerk skadelik is nie. Hulle sê wel dat dit sy nut het, bv. dat dit die biegteling skaam maak, en dat dit ‘n ernstige straf is. Daardeur word hy versigtiger en voorkom God se wraak deurdat hy homself straf. Asof ons ‘n sondaar nie voldoende deur skaamte verneder as ons hom oproep om voor die regterstoel van God te verskyn nie! Dis voorwaar ‘n pragtige godsdiens om op te hou om sondes te doen uit skaamte vir één mens en ons nie te skaam daarvoor dat God getuie is van ons sondige gewete nie. En dis ook vals. Want ons kan oral sien dat daar geen groter vermetelheid om te sondig ontstaan nie as juis daar waar die mense voor die priester gebuig het. Die res van die jaar dink hulle nooit aan die bieg, sug hulle nooit tot God, keer hulle nooit tot hulleself in nie maar stapel sonde op sonde, totdat hulle al hulle sondes, soos hulle dink, by een geleentheid uitspuug. En wanneer hulle dit uitgespuug het, meen hulle dat hulle van die las daarvan verlos is, dat hulle die oordeel van God weggeneem het en God beweeg het om hulle sondes te vergeet.
20. Hulle beroep hulle op die sleutelmag en vra of Christus dié dan tevergeefs gegee het. Ek antwoord dat daar ‘n baie ernstige rede was waarom Christus die sleutelmag gegee het. Maar ek gaan verder en sê dat die priesters nie die plaasvervangers of opvolgers van die apostels is nie. Christus het ook nie die sleutelmag aan die apostels gegee voordat Hy hulle nie met die Heilige Gees begiftig het nie Ek sê daarom dat aan niemand die sleutelmag toekom as hy nie eers die Heilige Gees ontvang het nie. Ek sê verder dat niemand die sleutelmag kan gebruik as die Heilige Gees nie voorgaan en leer en sê wat gedoen moet word nie. Ons moet hulle dus altyd vra of hulle die Heilige Gees het, wat die {242} Beskikker en Bestuurder van die sleutels is. As hulle bevestigend antwoord, moet ons hulle vra of die Heilige Gees kan dwaal. Dit sal hulle nie durf beweer nie, al gee hulle dit ook sydelings deur hulle leer te kenne. Die gevolgtrekking sal dan wees dat hulle nie die sleutelmag besit nie, omdat hulle sonder onderskeid bind wat die Here ontbind wil hê, en ontbind wat Hy gebind wil hê.
21. Deur waardiges en onwaardiges sonder onderskeid te bind of te ontbind matig hulle hulle die mag aan sonder kennis van die saak. Maar die verkondigers van die evangelie en die kerk het die Woord om daarvolgens te weet wie waardig of onwaardig is. Met die Woord kan die verkondigers van die evangelie die vergewing van die sondes in Christus belowe aan almal wat glo, en kan hulle die oordeel uitroep teen almal en oor almal wat Christus nie as Verlosser omhels nie. Met die Woord verklaar die kerk dat geen hoereerders, diewe, gierigaards, moordenaars en owerspelers die koninkryk van God sal beërwe nie (1 Kor 6:9-10) en bind hulle met vaste bande. En deur dieselfde Woord ontbind die kerk hulle wat hy vertroos as hulle tot bekering kom. Maar wat se mag is dit wat nie weet wat gebind of ontbind moet word nie? Wat beteken so ‘n mag as dit van geen nut is nie? Só kan ‘n Turk of die duiwel ook ontbind. Want dit beteken dieselfde as om te sê: “Ek het nie die Woord nie, wat ‘n vaste reël is om te ontbind, maar aan my is die mag gegee om jou te ontbind as jou verdienstelikheid van dié aard is”.
22. Iemand mag hierteen inbring dat die wettige dienaars van Christus niks minder onseker in hulle bediening is nie. Die ontbinding is tog van die geloof afhanklik en daarom altyd twyfelagtig. Die sondaars sal daarom geen ware troos smaak nie, omdat die dienaar geen regter oor die geloof kan wees nie. Die oplossing lê egter voor die hand. Die priester vergewe net die sondes waarvan hy ten minste self kennis geneem het, sê hulle. Die vergewing hang dus af van die oordeel van die priester. Die mag waaroor hulle spreek, is dus ‘n regspraak, verbonde aan ‘n ondersoek waaraan die vergewing en ontbinding verbind word. Hier staan egter niks vas nie. Die priester self is onseker, omdat hy nie weet of die sondaar sy sondes te goeder trou opnoem nie. Die onsekerheid van hulle ontbinding van die sondaar kom dus daarvandaan dat dit steun op die persoon van die priester en sy kennisneming van sake.
Van al die ongerymdhede is wat ons leer, vry. Want die ontbinding geskied op hierdie voorwaarde dat die sondaar sal vertrou dat God hom genadig sal wees as hy maar opreg in die offerande van Christus versoening soek en berus in die genade wat hom aangebied word. Hy wat verkondig wat Gods Woord vir hom sê kan dus nie dwaal nie. En die sondaar kan ‘n gewisse ontbinding ontvang as die voorwaarde om die genade in Christus te omhels daarby gevoeg {243} word volgens die Woord van die Meester self: “Laat dit vir jou wees volgens jou geloof” (Mat 9:29).
23. Wat Christus aangaande die prediking van die evangelie en die ban leer, het hulle gaan verdraai om daarvan ‘n geheime oorbieg te maak. Die ontbinding wat op die geloof volg, is niks anders nie as ‘n getuienis van skuldvergewing geneem uit die genadige belofte van die evangelie. Die ander ontbinding wat met die kerklike tug saamhang, gaan nie oor die verborge sondes nie maar het te maak met die openbare ergernis wat uit die gemeente weggeneem moet word.
En daar is geen grond in die Skrif daarvoor te vind om die skuldvergewing van die berouvolle sondaar in sy belydenis voor God met bykomende genoegdoening voor ‘n kerklike dienaar te beswaar nie.
24. Die hoofsaak kom hierop neer dat hulle sy Woord vervals as hulle God tot Outeur van die bieg wil maak. Dis ‘n wet wat deur mense opgelê is. Daarom kan ek met reg dit ‘n tirannieke wet noem en ‘n veronregting van God, wat die gewete aan sy Woord bind en geen mens daaroor wil laat heers nie. Dit is ook heiligskennis, want aan God kom dit toe om die sondes te vergewe. Daarin is ook ons saligheid geleë. Hierdie tirannie is ook eers in ‘n tyd van geestelike verval ingevoer. Dis ook ‘n verderflike wet wat opregte gelowiges in wanhoop stort en sorgloses nog meer afstomp. Ten slotte verduister en verderf dit die suiwere leer.
25. Volgens hulle neem die voldoening die derde plek in in die boetedoening. Hulle sê dat dit nie genoeg is as die sondaar sy vorige sondes nalaat en hom bekeer nie. Hy moet aan God ook voldoening gee vir die begane sonde. Dit geskied deur trane, vas, offerandes en werke van barmhartigheid. Daardeur word die skuld aan die geregtigheid van God betaal, die sonde vergeld en die vergewing verdien. Want al het God in sy barmhartigheid die skuld vergewe, tog straf Hy nog om sy geregtigheid te betoon. Dit wil sê die sondaar ontvang dan wel vergewing maar deur tussenkoms van die verdienstelike werke. Teenoor sulke leuens stel ek die onverdiende vergewing van die sondes, wat so duidelik in die Skrif verkondig word (Jes 52:3; Rom 5:8; Kol 2:13 e.v.; Titus 3:5).
In die eerste plek, wat is skuldvergewing anders as ‘n gawe van loutere milddadigheid? ‘n Skuldeiser skeld tog nie kwyt as hy die kwitansie in sy hand het dat die skuld betaal is nie, maar hy skeld kwyt as hy die naam van die skuldenaar skrap. Waarom anders sê die Skrif dat ons verniet geregverdig word, as dit nie juis elke gedagte aan voldoening wil uitskakel nie? En as God deur die mond van Jesaja uitroep: “EK, EK is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink EK nie” {244} Jes 43:25), verkondig Hy dan nie dat die oorsaak van die vergewing alleen sy goedheid is nie? As die hele Skrif getuig dat ons alleen deur die Naam van Christus vergewing ontvang (Hand 10:43), sluit dit dan nie alle ander name uit nie? Hoe kan hulle dan leer dat vergewing op grond van voldoening verkry word? So sê Paulus ook dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hulle misdade nie toe te reken nie (2 Kor 5:19). Hy noem ook die rede waarom. God het Hom naamlik sonde gemaak vir ons.
26. Hulle beweer verder dat die vergewing van die sondes wel eenmaal geskied as Christus ons deur die Doop in die genade van God aanneem maar dat daar voldoening gebring moet word vir sondes wat na die Doop begaan word. En eindelik dat die bloed van Christus vir ons geen voordeel bring as dit nie deur die sleutels van die kerk uitgedeel word nie.
Die Skrif spreek egter anders. Christus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29; vgl. ook 1 Joh 2:1,12). Hy het die straf wat op ons gerus het, op Hom gelaai en so ons skuld voor God tot niet gemaak.
27. Twee sake moet hier sorgvuldig gehandhaaf word, naamlik dat die eer van Christus nie geskend word nie en ten tweede dat die gewete vrede kan hê by God, omdat dit gerus is wat die vergewing van die sondes betref (Jes 53:4,6; 1 Petr 2:24; Rom 8:3). As ons, soos hulle beweer, voldoening moet bring vir die sondes wat na die Doop begaan is, bly die eer van Christus dan ongeskonde? En sal die vrede ooit in die gewete indaal? Wanneer is daar genoeg voldoening vir die sondes gedoen? Dus sal die sondaar altyd twyfel of God hom genadig sal wees, en altyd vrees. Paulus verwys ons na die kruis van Christus en nié na voldoening nie (2 Kor 5:20).
28. Hier neem hulle hulle toevlug na ‘n dwase onderskeiding. Hulle leer dat sommige sondes vergeeflik is en ander dodelik. Vir die dodelike sondes is ‘n swaar voldoening verskuldig. Die vergeeflike sondes daarenteen kan makliker versoen word, bv. deur die gebed van die Here, deur besprenkeling met wywater en deur die absolusie in die mis. So spot hulle met God.
En al spreek hulle ook gedurig van dodelike en vergeeflike sondes, kan hulle nie die een van die ander onderskei nie, behalwe dat hulle van die goddeloosheid en die onreinheid van die hart ‘n vergeeflike sonde maak.
Ons verklaar egter, op grond van die Skrif, dat die dood die besoldiging van die sonde is en dat die siel wat sondig, moet sterwe (Rom 6:3; Eseg 18:20). Verder verklaar ons dat die sondes van die gelowiges vergeeflik is, nie omdat hulle nie die dood verdien nie maar omdat deur die barmhartigheid van God daar geen {245} verdoemenis is vir die wat in Christus Jesus is nie (Rom 8:1). Hulle sondes word hulle nie toegereken nie. Deur vergewing is hulle tot niet gemaak. Alle sondes is dodelik, al is almal nie gelyk nie.
29. Hulle probeer om hulle uit die moeilikheid te red deur onderskeid te maak tussen skuld en straf. Die skuld word deur God se barmhartigheid vergewe. Maar nadat dit vergewe is, bly die straf nog oor. En God se regverdigheid eis dat dit betaal word. Die voldoening dien dus eintlik om die straf te vergewe. Wat ‘n verbasende ligsinnigheid! Hulle bely dat die vergewing van die skuld verniet verkry word en dan weer dat dit deur gebede en trane en ander voorbereidings verdien word. Maar dit is in stryd met alles wat ons in die Skrif oor die vergewing van die sondes geleer word Dit is die nuwe verbond wat God met ons in sy Gesalfde gemaak het dat Hy ons ongeregtigheid vergewe en aan ons sondes nie meer dink nie (Jer 31:31,34; vgl. verder Eseg 18:24-28; Jes 38:17; Jes 44:22 en baie ander plekke).
30. Wat sou Christus dan vir ons gedoen het as daar nog van ons geëis word om die straf vir ons sondes te dra? As ons sê dat Hy al ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het (1 Petr 2:24), gee ons daarmee tog niks anders te kenne nie as dat Hy die straf en die wraak op ons sondes tot die end toe gedra het. Dit leer Jesaja baie duidelik as hy sê dat die straf wat vir ons vrede aanbring, op Christus was (Jes 53:5). En wat is die straf anders as die straf wat ons sondes verdien het en wat deur ons betaal moes word voordat ons met God versoen kon word? Paulus noem ook die verlossing wat Christus aangebring het, ‘n losprys (Rom 3:24; 1 Kor 1:30; Ef 1:7; Kol 1:14). Met die woord verlossing bedoel hy hier die prys self en die voldoening vir die verlossing. Daarom sê hy dat Christus Homself as losprys vir ons gegee het (1 Tim 2:6). Verder dien as bewys die hele offerdiens, waarmee God betuig dat daar maar net een soort voldoening is waardeur aan sy oordeel voldoen word. En dit is nie die werke van mense nie maar die enige offerande van Christus (vgl. Hosea 14:3). God neem alle ongeregtigheid weg. Dit is die vergewing. Ons bied as offerdiere ons lippe aan. Dit is die voldoening. Ek weet dat hulle ook onderskeid maak tussen die ewige straf en tydelike strawwe. Maar die Skrifplekke wat ons aangehaal het, bewys dat God al die straf kwytskeld wat ons verdien het. As ons deur Christus van die skuld verlos word, moet ook die straf wat daaruit voortkom, weggeneem wees.
31. Laat ons sien hoedanig die bewyse is wat hulle vir hulle leer aanvoer. Dawid verkry vergewing vir die sonde met Batseba begaan maar word tog later gestraf deur die dood van die seun (2 Sam 12:13). Sulke strawwe wat na die vergewing opgelê word, moet deur voldoening afgekoop word, want Daniël vermaan {246} Nebukadnesar om met sy sondes en ongeregtigheid te breek deur aan die ellendiges genade te bewys as daar verlenging van sy rus moet wees (Dan 4:27). Hulle beroep hulle ook op Spr 16:6; Luk 7:47; 1 Petr 4:8. Daar is egter tweërlei oordeel. Die een is die oordeel van wraak wat vir God se vyande weggelê is. Dit is verbind met toorn. Die ander is die oordeel van kastyding, waardeur Hy sy kinders teregwys en vermaan. Die een is straf wat die slaaf van sy heer ontvang; die ander is die tugtiging wat die kind van sy vader ontvang. Die slaaf word gestraf omdat hy gesondig het, die kind word gekasty om hom te louter en te verbeter.
32. Ons kan dit kortliks só stel. In die eerste plek openbaar God vloek en toorn waar sprake is van straf. Daarvan verskoon Hy sy gelowiges. Daarenteen is die kastyding ‘n seën en ‘n bewys van die liefde van God (Job 5:17; Hebr 12:5). Gods Woord wys voldoende op hierdie onderskeiding. Al die slae wat die goddelose in hierdie lewe ontvang, skilder die Skrif vir ons af as ‘n soort voorportaal van die hel, vanwaar hulle van ver af hulle verdoemenis reeds aanskou. Hulle word daardeur egter nie verbeter nie. Maar as die Here sy diensknegte kasty, gee Hy hulle nie aan die dood oor nie. Hulle erken ook dat dit vir hulle goed is as hulle verdruk word (Ps 119:71) Sulke tugtiginge ondergaan die heiliges met ‘n getrooste gemoed, maar hulle bid die slae af wat die deel van die ongelowiges is (Jer 10:24; Ps 6:2; Ps 38:2).
Hierteen stry nie dat meermale gesê word dat God op sy heiliges toornig is as Hy hulle sonde straf nie (Jes 12:1; Hab 3:2; Miga 7:9). Daar word ook gesê dat Hy sy erfenis ontheilig, wat Hy in ewigheid nie sal ontheilig nie, soos ons weet. Dit sien nie op die gesindheid van God wat straf nie, maar op die gevoel van hewige smart wat hulle het wat iets van sy gestrengheid ondergaan. God wond sy gelowiges soms so dat hulle die gevoel het dat hulle nie ver van die verderf af is nie. Daardeur leer Hy hulle dat hulle sy toorn verdien het en wek Hy in hulle ‘n mishae in die sonde op en ‘n ernstige begeerte om vergewing daarvan te verkry. Maar Hy betuig ook daarmee aan hulle sy goedertierenheid oor hulle. Want die verbond wat Hy met ons gesluit het, staan vas (Ps 89:31 e.v.). En om ons nog des te meer van sy barmhartigheid te verseker getuig Hy dat Hy ons met ‘n menslike roede straf en met slae van mense kinders (2 Sam 7:14; vgl. ook Jes 48:10).
Onder die slae verhard die goddelose hulle, maar die gelowiges verootmoedig hulle om hulle sondes te oordink en neem terneergeslae hulle toevlug tot die gebed. As God daardie smarte nie versag nie, sal hulle honderd maal beswyk onder die geringste blyke van sy toorn.
33. Die ander onderskeid is dit: as die verworpenes deur God se roede geslaan word, begin hulle alreeds om die straf te dra. {247} Hulle ondervind dat God ‘n Regter en Wreker is. Die kinders van God word egter geslaan om daardeur op die pad van die bekering te vorder en nie om aan God vir hulle misdrywe te betaal nie. Die strawwe wat hulle ondergaan, sien dus meer op die toekoms as op die verlede. Chrysostomus sê dat God ons straf oplê, nie om ons sondes te straf nie maar om ons teen toekomstige sondes te verbeter. En Augustinus sê dat die lyding vir ons medisyne is en geen straf nie. Daarom kla God so dikwels oor die ondankbaarheid van sy volk omdat dit sy slae nie ag nie (Jes 1:5). Toe God Saul die koningskap ontneem het (1 Sam 15:23), het Hy hom gestraf; toe hy Dawid sy seuntjie ontneem het, het Hy hom getugtig tot verbetering (2 Sam 12:18). Dieselfde betekenis het ook die woorde van Paulus in 1 Kor 11:32.
34. Dit is nodig dat die gelowiges in die bitterheid van die verdrukkinge met hierdie gedagtes versterk sal wees. Wat sal die kinders van God doen as hulle geglo het dat die gestrengheid wat hulle gevoel God se wraak is? As iemand glo dat God hom nog wil straf, sal hy nooit daarvan oortuig kan word dat God hom liefhet nie. Hy sal eers dan vordering maak onder God se kastyding as hy bedink dat God wel oor sy sondes toorn maar homself genadig en goedgunstig gesind is. Anders moet gebeur wat die profeet kla dat hy ondervind het (Ps 88:17; vgl. ook Ps 90:7). Daarenteen sing Dawid oor die vaderlike kastydinge, om te leer dat die gelowiges daardeur meer gehelp as verdruk word. Dit is voorwaar ‘n harde beproewing as God die ongelowiges spaar en op hulle misdrywe geen ag slaan nie maar Hom hard betoon teenoor sy kinders. Daarom is dit vir hulle ‘n troos om te weet dat vir hulle saligheid gesorg word, deurdat hulle tot die regte weg teruggeroep word, maar dat die goddelose halsoorkop in hulle dwalinge voortstorm, die end waarvan die verderf is. Dit maak nie saak of die straf tydelik of ewig is nie. Oorloë, pessiektes is net soos die ewige dood ‘n vloek van God.
35. Nou kan elkeen ook insien wat die bedoeling van God is en as Hy Dawid straf. Dit moet dien as bewys dat doodslag en owerspel Hom ten seerste mishaag. Dawid moet onderwys word, sodat hy dit nie later weer sal waag om so ‘n misdaad te begaan nie. Die straf is geen voldoening wat hy aan God betaal nie. Só moet ook verklaar word die straf op die telling van die volk (2 Sam 24:15). Dit dien as ‘n vernedering vir Dawid en as ‘n voorbeeld vir alle tye.
Dit is ook die doel van die algemene vervloeking van die menslike geslag. Want as ons nog die ellendes ly wat ons vader as straf vir die sonde opgelê is, word ons daardeur herinner daaraan hoedat die oortreding van sy wet God mishaag, sodat ons daardeur des te ernstiger na die ware geluksaligheid sal soek. Dit is wonderlik dat hulle so die nadruk op die geval van Dawid lê en nie die {248} baie ander voorbeelde in aanmerking neem waarin geleer word dat God die sonde verniet vergewe nie, soos bv. Luk 18:14; Luk 22:61; Mat 9:2.
36. Daniël wil met sy raad aan die koning (Dan 5:27) alleen vra dat hy barmhartigheid en geregtigheid aan die onderworpe volke sal bewys in plaas van die strengheid en onregverdigheid waarmee hy hulle gekwel het.
As Salomo sê dat die liefde al die oortredinge bedek (Spr 10:12), handel hy oor verhoudinge tussen mense onder mekaar. Want die hele vers lui: “Haat verwek twiste, maar die liefde bedek al die oortredinge”. Die wat mekaar haat, byt en verskeur mekaar en vat alles sleg op, maar die wat mekaar liefhet, sien baie dinge deur die vingers, vergewe mekaar en verdra mekaar. Wat Spr 16:6 betref, word daar nie gehandel oor die oorsaak van die vergewing nie maar oor die ware bekering en die vrug daarvan. Wie hom tot God bekeer, sal vind dat Hy die genadige God is. So roem die apostel ook die weldadigheid en die meedeelsaamheid as offers waarin God ‘n welbehae het (Hebr 13:16). Ook hier word gehandel oor die onderlinge houding van die mense teenoor mekaar.
37. Ook die gelykenis (Luk 7:36) kan nie teen ons aangewend word nie. Wie die gelykenis aandagtig lees, sien dat Christus die liefde van die vrou nie die oorsaak van die vergewing van haar sondes maak nie maar die bewys daarvan. Op watter wyse sy die vergewing van die sondes verkry het, sê die Here ook openlik: “Jou geloof het jou gered”. Deur die geloof verkry ons vergewing, deur die liefde bewys ons dank en getuig ons van die weldadigheid van die Here.
38. Chrysostomus sê êrens: “Waar barmhartigheid gevra word, daar hou die ondervraging op…; waar barmhartigheid versoek word, is geen plek vir straf nie; waar barmhartigheid is, is die verantwoording kwytgeskeld”. Augustinus noem êrens die werke van barmhartigheid middele om die vergewing van sondes te verkry, maar hy lê dit op ‘n ander plek soos volg uit, nl. dat die vlees van Christus die waaragtige en enige offerande vir die sondes is, nie net vir die sondes wat in die doop uitgewis word nie, maar ook vir die wat later uit ons swakheid voortkom en waarvoor die hele kerk elke dag bid: “Vergeef ons ons skulde”.
39. Die kerkvaders het die voldoening ook genoem ‘n openbare belydenis waardeur die wat met die ban gestraf was, die kerk verseker het van hulle boetvaardigheid en bekering as hulle weer daarin opgeneem wou word. Hulle het dus daarmee nie aan God nie maar aan die kerk voldoening verskaf. Uit hierdie ou gebruik wat in die vroegste tye in die kerk bestaan het, sou dan die bieg ontstaan het, helaas só dat daar geen skaduwee van die oorspronklike beter wyse in oorgebly het nie! En hoe het hulle nie {249} die ou kerkvaders verknoei en vervals om aan hulle dwaasheid ‘n skyn van geloofwaardigheid te gee nie!
HOOFSTUK V. Die aanvullinge wat hulle aan die voldoeninge toevoeg, naamlik die aflate en die vaevuur
1. Uit hierdie leer van die voldoening het die aflate ontstaan. Wat ons nie deur ons verdienstes kan voldoen nie, sou dan deur die aflate aangevul word. Dit word beskrywe as ‘n uitdeling van die verdienstes van Christus en van die martelare deur die pous. Dat die mense hulle so lank deur so ‘n uitsinnige leer laat bedrieg het, is ‘n bewys in watter geestelike donkerheid die kerk eeue lank gedompel was.
2. Hulle noem dit die skat van die kerk, die verdienste van Christus, van die heilige apostels en van die martelare. Die bewaking hiervan is aan die biskop van Rome opgedra. Hy deel dit ook uit. Hy kan dit self wegskenk of ook ander die reg gee om dit weg te skenk. Hy kan ‘n volkome aflaat of ook ‘n aflaat vir ‘n bepaalde aantal jare skenk. Hierdie aflate is ‘n ontheiliging van die bloed van Christus Daardeur word die Christene van die genade van God en van die lewe wat in Christus is, asook van die regte weg van die saligheid afgevoer. Hoe kan Christus se bloed skandeliker ontheilig word as deur te ontken dat dit voldoende is vir die vergewing van die sondes? Die wet en al die profete getuig aangaande Christus dat ons deur Hom vergewing van die sondes verkry (Hand 10:43); die aflate skenk die vergewing van die sondes deur Petrus, Paulus en die martelare. Vergelyk verder Hand 20:28; 1 Kor 1:13; 2 Kor 5:21; Hebr 10:14; 1 Joh 1:7 en talle ander plekke.
3. Teen hierdie heiligskennis skrywe Leo die Roomse biskop, soos volg: “Al was die dood van baie heiliges kosbaar in die oë van God, tog was die dood van niemand, hoe onskuldig hy ook mag gewees het, die versoening van die wêreld nie. Die regverdiges het krone ontvang, nie gegee nie. Die onverskrokkenheid van gelowiges lewer voorbeelde van lydsaamheid maar geen gawes tot regverdigmaking nie … Daar is net Één, die Here Christus, in wie almal gekruisig is, gestorwe, begrawe en opgewek”. Mooi is ook die woorde van Augustinus: “Al sterf ons ook as broeders vir die broeders, tog word geen enkele martelaar se bloed tot vergewing van die sondes vergiet nie. Dit het Christus vir ons gedoen… {250} sodat ons Hom daarvoor sal dank”.
Volgens hulle het die martelaars deur hulle dood meer by God verdien as wat hulle vir hulleself nodig gehad het. ‘n Oorvloed van verdienstes het oorgebly, wat ander nou ten goede kom. Hulle bloed word vermeng met die bloed van Christus, en uit die tweërlei bloed bestaan die skat van die kerk tot vergewing van die sondes. Só moet die woorde van Paulus (Kol 1:24) verstaan word, sê hulle. Wat is dit anders as om aan Christus sy Naam te laat maar intussen van Hom ‘n gewone heilige te maak wat nouliks van die ander onderskei kan word? As dit gaan oor versoening van die sondes en heiligmaking, behoort Hy en Hy alleen verkondig te word. Maar die bloed van die martelare moet vir die kerk tot nut wees, sê hulle. Maar is dit dan geen vrug dat hulle deur hulle dood God verheerlik het nie? Dat hulle met hulle bloed die waarheid onderteken het en deur hulle veragting van die teenwoordige lewe getuig het dat hulle ‘n beter lewe soek? Maar hulle sien geen enkele vrug nie as Christus alleen die Versoener is, as Hy alleen gesterf het om ons van ons sondes te verlos.
4. Hulle verdraai op gruwelike wyse die woorde van Paulus (Kol 1:24). Dit het niks te maak met die werk van verlossing, voldoening en versoening nie maar sien op die verdrukkinge waardeur die lede van Christus hier op aarde geoefen moet word. Christus keur ons die eer waardig dat Hy ons verdrukkinge vir syne reken. En as Paulus daaraan toevoeg: “vir die kerk”, bedoel hy nie die verlossing van die kerk nie maar sy opbouing. Só skrywe hy ook aan Timotheüs dat hy alles verdra ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, met die ewige heerlikheid kan verkry (2 Tim 2:10; vgl. ook 2 Kor 1:6). Dat Paulus sou gedink het dat aan die lyding van Christus tot ons verlossing iets sou ontbreek of dat hy iets van sy lyding daarby moes voeg, word duidelik weerlê deur wat hy sê, nl. dat die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword het (Rom 5:15).
5. Wie het die pous geleer om die genade van Jesus Christus, wat Hy deur die woord van die evangelie wil uitdeel, in lood en perkament op te sluit? Want een van twee: òf die evangelie van God is nie waar nie, òf die aflate is ‘n leuen. In die evangelie ontvang ons die volle Christus tot ‘n volkome versoening met God (2 Kor 5:18,21), maar die aflate haal ‘n deel van die genade uit die voorraadkamer van die pous, bind dit aan lood en perkament en skeur dit af van Gods Woord.
6. Ook oor die vaevuur, waaroor baie wil hê dat liewer geswyg moet word, moet hier gehandel word. Dis ‘n verderflike versinsel van die duiwel wat die kruis van Christus nutteloos maak, die barmhartigheid van God smaadheid aandoen en die geloof laat {251} wankel. Want wat anders is vir hulle die vaevuur as ‘n voldoening wat die siele van die afgestorwenes ná hulle dood vir hulle sondes bring? Maar as die bloed van Christus die enigste voldoening vir die sondes van die gelowiges is, wat is die vaevuur dan anders as ‘n huiweringwekkende lastering van Christus?
7. Laat ons die Skrifgedeeltes nagaan wat hulle tot verdediging van hulle leer aanvoer. Uit die woorde van die Here (Mat 12:32 en parallelle plekke) lei hulle af dat daar vir sommige sondes vergewing is in die toekomende eeu.
Die Here wil egter aan hierdie skandelike boosheid alle hoop op vergewing ontneem. Nou is dit vir Hom nie genoeg om te sê dat dit nooit vergewe sal word nie. Om Homself nog sterker uit te druk maak Hy ‘n onderskeid tussen die oordeel wat elkeen se gewete in hierdie lewe gevoel, en die laaste oordeel wat openlik gevel sal word in die dag van die opstanding. Wie opsetlik die lig van die Gees wil uitblus, sal in hierdie lewe geen vergewing ontvang wat vir sondaars tot vergewing gegee is nie en ook nie op die jongste dag as die engele die skape van die bokke skei nie. Verder beroep hulle hulle op die woorde van die Here inMattheüs 5:25. As die regter hier God beteken, die teëparty die duiwel, die geregsdienaar ‘n engel en die gevangenis die vaevuur, dan gee ek die saak gewonne. Maar as dit duidelik is dat Christus wil aantoon aan hoeveel gevare hulle hulle blootstel wat hardnekkig die hoogste reg op die proef wil stel liewer as om billik te wees, waar kom die vaevuur dan hier te pas?
8. Hulle ontleen ook ‘n bewys aan die woorde Van Paulus in Fil 2:10. Die wat “onder die aarde is”, is dan, volgens hulle, diegene wat in die vaevuur gepynig word. Die apostel bedoel egter met kniebuiging nie die uitoefening van die ware godsdiens nie, maar hy spreek eenvoudig van die heerskappy van Christus, waaraan al die skepsels hulle moet onderwerp. Ons kan onder die woorde gevoeglik die duiwels verstaan wat voor die regterstoel van Christus gestel sal word en Hom met skrik as hulle Regter sal erken. Dieselfde gedagte vind ons ook in Rom 14:10-11: “Voor My sal elke knie hom buig” ens.
In die vierde plek haal hulle Openb 5:13 aan. Johannes sê egter net dat al die dele van die wêreld, van die hoogste hemele af tot die diepste dele van die aarde toe, elkeen op sy wyse, die heerlikheid van die Skepper verkondig.
9. Hulle sterkste bewysplek is die woorde van die apostel Paulus in 1 Kor 3:12-15. Die vuur waarvan hier sprake is, kan, volgens hulle, niks anders wees as die vaevuur nie, wat al die smette van die sonde wegbrand sodat ons suiwer en rein die koninkryk van God kan ingaan.
Voordat ek my verklaring van die teks gee, wil ek hulle eers {252} vra of hulle meen dat ook die apostels en die martelare deur die vaevuur heen moes gaan. Hulle sal sê: “Nee”, want dit sal tog te dwaas wees om te sê dat mense gereinig moet word wat oortollige verdienstes besit! Die apostel sê egter: “Ja”, want hy sê nie dat sommige se werk op die proef gestel sal word nie, maar almal se werk.
Die apostel gebruik hier egter beeldspraak. Met hout, hooi, stoppels, bedoel hy menslike leringe. Hulle sal deur vuur beproef word. Dis duidelik dat so ‘n beproewing van die Heilige Gees uitgaan. Dit is die vuur waarvan hier gespreek word. Alles wat met die Woord van God nie ooreenkom nie, sal verval en heeltemal vergaan.
Maar hoe word hulle dan behou wat aan hulle werk skade ly? Die apostel spreek hier van kerkbouers. In die hoofsake van die leer wyk hulle nie af nie, maar wel in die mindere. Daar vermeng hulle Gods Woord met hulle eie versinsels. Hulle ly skade aan hulle werk, deurdat die versinsels vernietig word. Hulle word gered maar soos deur vuur heen, d.w.s. omdat hulle van hulle mistasting gereinig word deur die krag van die Heilige Gees.
10. As my teëstanders my dit voor die voete werp dat dit al dertienhonderd jaar lank gebruiklik is om vir die dode te bid, vra ek hulle op my beurt volgens watter woord van God, watter openbaring, watter voorbeeld dit geskied het? Hier ontbreek nie net getuienisse uit die Skrif nie maar ook alle voorbeelde van die heiliges.
Ek erken dat daar iets mensliks in steek, maar juis daarom moet dit nie nagevolg word nie. Nòg die wet, nòg die evangelie gee ons die vryheid om vir die dode te bid. Daarom is dit ‘n ontheiliging van die gebed as ons meer aandurf as wat God ons beveel. Die Skrif bied ons ‘n ryker troos aan, as dit sê dat die dode salig is wat in die Here sterwe (Openb 14:13). Dit gee ook die rede daarby: omdat hulle van hulle arbeid rus. Ons moenie aan ons liefde sover toegee dat ons ‘n verkeerde manier van bid in die kerk invoer nie.
HOOFSTUK VI. Die lewe van die Christen. Met watter bewyse die Skrif ons daartoe aanspoor
1. Die doel van die wedergeboorte is dat daar in die lewe van die gelowiges ooreen- stemming sal wees tussen die geregtigheid van God en hulle gehoorsaamheid. Op dié wyse toon hulle dat hulle tot kinders van God aangeneem is. In die wet van God is die {253} vernuwing vervat waardeur die beeld van God in ons herstel word. Ons traagheid het egter baie aansporings en hulpmiddels nodig. Daarom sal dit wenslik wees om uit verskillende uitsprake van die Skrif die wyse aan te toon waarop ons ons lewe moet inrig, sodat hulle vir wie die bekering ter harte gaan, nie in hulle ywer sal dwaal nie. Dis ‘n baie uitgebreide onderwerp wat ek ter hand neem. My doel is egter nie om ‘n uitvoerige beskrywing van elke deug in alle besonderhede te gee nie. Dit sal vir my genoeg wees as ek die weg aangewys het waarlangs ‘n gelowige gelei word om sy lewe reg in te rig en sy pligte uit te voer. Die Skrif het ook hier sy eie metode wat ons nie sal verontagsaam nie.
2. Die onderwysing van die Skrif waaroor ons spreek, bestaan uit twee dele. Die eerste is dat liefde tot die geregtigheid, waartoe ons van nature geheel en al ongeneë is, in ons hart ingedruppel sal word. Die ander is dat vir ons ‘n reël voorgeskrywe word wat sal verhoed dat ons in ons strewe na geregtigheid sal dwaal.
Die Skrif het baie en goeie redes om die geregtigheid vir ons aan te prys. Veral vermaan dit ons om heilig te wees omdat God heilig is (Lev 19:1 e.v.; 1 Petr 1:16). Want toe ons nog gedwaal het soos skape, het God ons vergader om ons met Hom te verenig. Heiligheid is die band wat ons met God verbind, want Hy het geen gemeenskap met ongeregtigheid en onheiligheid nie. Hierop moet ons let. Want watter sin sou dit hê dat ons bevry is uit die sonde en onreinheid van die wêreld waarin ons versink gelê het, as ons ons sou veroorloof om ons hele lewe lank daarin rond te wentel? Bowendien vermaan die Skrif ons (Jes 35:8) dat ons die heilige stad Jerusalem wat ons mag bewoon, nie deur ons onreinheid sal ontheilig nie.
3. Om ons nog meer op te wek toon die Skrif aan dat God ons nie net in Christus met Homself versoen het nie maar ook in Hom die beeld gegee het wat ons moet vertoon.
As die wysgere ons wil vermaan om deugsaam te lewe, kom hulle niks verder nie as om te sê dat ons in ooreenstemming met die natuur moet lewe. Die Skrif vermaan ons egter op die regte wyse. Dit beveel ons om ons lewe aan God oor te gee, wat dit aan ons geskenk het. Dit voeg egter daaraan ook toe dat Christus, deur wie ons met God versoen is, vir ons as voorbeeld gestel word om sy gestalte in ons lewe uit te druk. Kan daar ‘n kragtiger opwekking gevind word? Want as ons op hierdie voorwaarde deur die Here as sy kinders aangeneem word dat ons Christus in ons lewe sal vertoon dan is ons nie net ontrou aan ons Skepper nie maar verwerp ons ook die Saligmaker self as ons nie die geregtigheid najaag nie.
Verder ontleen die Skrif aan al die weldade van God stof om ons te vermaan. Dit sê dat ons van die grootste ondankbaarheid beskuldig kan word as ons nie toon dat ons kinders van God {254} is nie, aangesien Hy Hom as ‘n Vader teenoor ons betoon het (Mat 1:6; Ef 5:1; 1 Joh 3:1). Christus het ons gereinig met die bad van sy bloed en die reiniging deur die doop aan ons meegedeel. Daarom pas dit nie dat ons met nuwe vuilheid besoedel sal word nie (Ef 5:26; Hebr 10:10; 1 Kor 6:11,15; 1 Petr 1:15,19). Hy het ons in sy liggaam ingelyf; daarom moet ons nougeset daarteen waak om ons met geen smet te besoedel nie (Joh 15:3; Ef 5:23). Hy, ons Hoof, het na die hemel opgevaar; daarom moet ons alle aardsgesindheid aflê (Kol 3:1). Die Heilige Gees maak van ons tempels van God, daarom moet ons Hom ook verheerlik (1 Kor 3:16; 6:19; 2 Kor 6:16). Dit is kragtige redes om ons lewe goed in te rig. So iets sal ons nie by die wysgere aantref wat nooit verder as die natuurlike waardigheid van die mens kom nie.
4. Dit is hier die plek om hulle aan te spreek wat niks behalwe die naam met Christus gemeen het nie maar tog Christene genoem wil word. Onbeskaamd roem hulle in sy heilige Naam. Want gemeenskap met Christus het net hulle wat die ware kennis aangaande Hom uit die evangelie ontvang het. Die apostel ontken dat hulle Christus reg leer ken het wat nie geleer het om die ou mens af te lê en hulle met Christus te beklee nie (Ef 4:22 e.v.). Valslik en ten onregte wend hulle kennis van Christus voor, hoewel hulle intussen welsprekend oor die evangelie praat. Want die evangelie is ‘n leer van die lewe en nie, soos die ander wetenskappe, maar net van die verstand en die geheue nie. Dit word dan eers aangeneem as dit die hele siel in besit neem en in die diepste van die hart rus. Laat hulle dus ophou om tot smaad van die Here te roem in wat hulle nie is nie, of anders hulle waardige dissipels van hulle Meester, Christus, betoon.
Ons gee die eerste plek aan die leer, omdat ons saligheid daarmee begin. Maar dit moet in ons hart ingeplant wees en ons wandel beheers, anders is dit vir ons onvrugbaar.
5. Ek eis nie dat ons in alles volmaak sal wees nie, hoewel ons dit tog moet begeer en najaag. Ek stel die eis van volmaaktheid volgens die Skrif nie só streng dat ek almal wat dit nog nie bereik het, vir geen Christene hou nie. Want op die manier sal almal uit die kerk uitgesluit word, omdat daar niemand is wat nie nog baie ver daarvan verwyder is nie. Baie het maar ‘n weinig gevorder en sou dan ten onregte verwerp word. Ek eis alleen dat die volmaaktheid as doelwit voor oë gestel word, sodat ons dit sal najaag. Want ons mag nie met God so handel dat ons ‘n deel van die dinge aanvaar wat Hy in sy Woord voorskrywe, en die ander links laat lê nie. God prys oral opregtheid aan as die vernaamste deel van sy diens, dit wil sê, ‘n eenvoudige hart wat vry is van alle bedrog en veinsery. {255}
Niemand besit egter hier op aarde soveel krag dat hy met voldoende ywer sy loopbaan loop nie. Die grootste deel is so swak dat hulle wankelend en selfs kruipend oor die grond gaan en weinig vorder. Tog moet ons gaan, elkeen na die maat van sy vermoë, en die weg voortsit wat ons begin het. Daar is niemand wat nie elke dag ‘n weinig sal vorder nie. Laat ons nie ophou om dit na te jaag dat ons altyd op die weg van die Here iets sal vorder, en nie die moed opgee omdat die vordering so gering is nie. Want al vorder ons nie na wens nie, tog is dit geen verlore moeite as vandag gister oortref nie. Laat ons slegs in alle opregtheid die einddoel voor oë hou, ons nie vlei en ook nie aan ons gebreke toegee nie, maar ons altyd daarop toelê om beter te word as wat ons is, totdat ons die volkomenheid sal bereik wanneer ons eenmaal die swakheid van ons vlees afgelê het.
HOOFSTUK VII. Die hoofsom van die Christelike lewe; die selfverloëning
1. Hoewel die wet van die Here ons leer hoe om ons lewe in te rig, het dit tog die Here behaag om ons nog noukeuriger te vorm volgens die reël wat Hy in sy wet voorgeskrywe het. Dit is naamlik dat ons ons liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is ons redelike godsdiens (Rom 12:1). Daaruit vloei die vermaning voort: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (vs. 2).
Dit is voorwaar ‘n groot saak dat ons aan God geheilig en toegewy is om net te dink, te spreek, te oorweeg en te doen wat tot sy eer strek. Want wat aan God geheilig is, kan nie vir ‘n onheilige gebruik aangewend word sonder om Hom groot onreg aan te doen nie. As ons nie aan onsself toebehoort nie, is dit duidelik watter dwalinge ons moet ontvlug en wat die doel is waarop al ons handelinge gerig moet wees.
Ons behoort nie aan onsself nie — laat daarom ons verstand of ons wil nie heerskappy voer oor wat ons bedink of doen nie.
Ons behoort nie aan onsself nie — laat ons daarom nie soek wat die vlees behaag nie.
Ons behoort nie aan onsself nie — laat ons daarom, sover moontlik, onsself en alles wat aan ons behoort, vergeet.
Ons behoort aan God — laat ons vir Hom lewe en sterwe. {256}
Ons behoort aan God — laat sy wil en wysheid al ons handelinge lei. Ons behoort aan God — laat Hy die enigste doel van ons lewe wees.
Ver het die mens gevorder wat geleer het dat hy nie aan homself toebehoort nie en wat die bestuur van sy lewe daarom aan God oorlaat.
Dit is dus die eerste stap dat die mens homself sal verloën en God gehoorsaam waarheen Hy ook al mag lei. Dit is die vernuwing van die gemoed (Ef 4:23) wat geen enkele wysgeer geken het nie. Dan is die hart heeltemal bekeer tot die wil van die Gees van God. Dan leef die mens self nie meer nie, maar hy laat Christus in hom lewe en regeer (Gal 2:20).
2. Daaruit volg dat ons nie met onsself rekening hou nie maar die dinge soek wat volgens die wil van God is en tot sy eer strek. As die Skrif ons beveel om nie oor onsself besorg te wees nie, roei dit uit ons hart uit alle hebsug, alle begeerte na mag, alle strewe na die guns van mense en alle eersug. ‘n Christen behoort altyd te bedink dat hy in sy ganse lewe met God te doen het. Op die wyse sal hy homself en alles wat hy besit, na God se wil en beslissing skik.
Dit is die selfverloëning wat Christus van ons eis. As dit eenmaal sy plek in die hart ingeneem het, is daarin geen plek meer vir trotsheid, gierigheid, onkuisheid, die sug na weelde, selfsug, verwyfdheid en ander booshede nie.
Aan die ander kant, waar geen selfverloëning is nie, daar het selfs die skandelikste sondes die vrye loop of word die eersug deur ‘n skyn van deugsaamheid bedek.
Wys my ‘n mens as u kan, wat nie ter wille van loon guns aan ander bewys as hy nie op God se bevel homself verloën nie. Almal wat nie deur hierdie beginsel gelei word nie, volg die deug na ter wille van die lof wat daaraan verbind is. Dit doen al die wysgere. Van al sulke mense wat behae daarin skep om nietige eer na te jaag, sê Christus dat hulle hulle loon weg het in hierdie wêreld en dat die hoere en tollenaars nader aan die koninkryk van die hemele is as hulle.
3. In Titus 2:11-14 gee die apostel ‘n noukeurige beskrywing van so ‘n goed ingerigte lewe.
Om ons te bemoedig stel hy die genade van God voorop. Dan neem hy twee beletsels weg wat ons hinder, naamlik (1) die goddeloosheid waartoe ons van nature geneig is, d.w.s. alles wat in stryd is met die vrees van God, (2) die wêreldse begeerlikheid, d.w.s. die vleeslike gesindheid.
Verder beperk hy al die lewenshandelinge tot drie hoofsake, naamlik ingetoënheid, regverdigheid en vroomheid. Ingetoënheid {257} beteken soveel as kuisheid, ‘n matige gebruik van tydelike goedere en verdraging van armoede. Regverdigheid beteken om aan elkeen te gee wat hom toekom. Die vroomheid hou ons rein van die besmetting met die wêreld en laat ons ‘n godgeheiligde lewe voer. Eindelik vestig dit ons hoop op die salige onsterflikheid deur ons daaraan te herinner dat ons nie tevergeefs stry nie, omdat Christus met sy laaste koms die algehele saligheid sal openbaar wat Hy vir ons verdien het.
4. Ons sien verder in hierdie woorde dat die selfverloëning eensdeels op die mense betrekking het maar ook, en dit veral, op God.
Want as die Skrif ons beveel (Rom 12:10; Fil 2:3) dat ons ons naaste hoër sal ag as onsself, dat ons sy belange sal bevorder, eis dit van ons wat ons uit onsself nie kan volbring as ons siel nie van sy natuurlike gesindheid gereinig is nie. Want as gevolg van ons selfsug dink elkeen dat hy goeie rede het om homself te verhef en al die ander te verag. As God ons iets geskenk het waaroor ons geen berou hoef te hê nie, vertrou ons daarop, verhef ons daarop en bars van trots. Ons baie gebreke verberg ons vir ander en maak ons wys dat hulle maar gering is. As ons dieselfde gawes wat ons besit, by ander opmerk, verkleineer ons hulle uit pure afgunstigheid. Hulle gebreke neem ons nie net baie skerp waar nie maar vergroot dit ook op haatlike wyse. Daarvandaan kom die oormoedigheid. Elkeen van ons wil bokant die ander uitsteek, sien op hulle neer en minag hulle onbekommerd.
Die armes wyk vir die rykes, die ongeleerdes vir die geleerdes, maar niemand is daar wat nie van homself iets dink nie. Elkeen dra ‘n koninkryk in sy eie hart om. En kom daar onenigheid, dan bars die vergif uit. Daar is geen geneesmiddel vir hierdie boosheid nie. Dit moet heeltemal uitgeroei word en kan alleen deur die leer van die Skrif uitgeroei word. Dit leer ons dat dit alles genadegawes van God is wat ons besit, en dat dit ondankbaarheid is om ons daarop te verhef (1 Kor 4:7).
Verder word ons geleer om gedurig ons gebreke te oordink en nederig te wees Op die wyse sal daar niks in ons oorbly waaroor ons ons kan verhef nie, maar sal ons baie stof vind om ons voor God te verootmoedig.
Aan die ander kant word ons beveel om die gawes van God wat ons in ander opmerk, só te eer en hoog te ag dat ons ook hulle ter wille van hulle gawes eer. Ons moet ook hulle gebreke deur die vingers sien, nie om hulle te vlei nie maar om nie hulle daaroor te verag wat ons moet eer nie. Só sal ons ons altyd voorkomend en vriendelik teenoor die mense gedra,
5. Dit is moeilik om die voordeel van ons naaste te soek. As u nie ophou om op uself te sien nie, sal u hierin niks bereik nie. {258} Hoe sal u die werke doen wat Paulus werke van die liefde noem, as u uself nie verloën nie (1 Kor 13:4-7)?
Al sou ook net hierdie een saak van ons geëis word, dat ons onsself nie sal soek nie, sal ons ons natuur groot geweld moet aandoen om onsself te verontagsaam en op die belange van die ander te let. Selfsugtig soos ons is, is dit vir ons onmoontlik om van ons eie reg afstand te doen en dit aan ander te gee. Maar die Skrif kom ons hierin te hulp deur ons daaraan te herinner dat God aan ons genadegawes toevertrou op hierdie voorwaarde dat ons hulle vir die algemene voordeel van die kerk sal aanwend. Die wettige gebruik van die gawes bestaan dus daarin dat ons ander mild en met bereidwilligheid deel daaraan gee.
Maar die Skrif gaan nog verder. Dit vergelyk die gawes met die vermoëns waarmee die lede van die liggaam toegerus is. Geen lid het of behou sy vermoë vir homself nie maar gebruik dit in diens van die ander. So het elke gelowige maar net die oog op die uitbouing van die kerk. Ons is maar net rentmeesters, wat van die uitdeling van ons gawes rekenskap sal moet aflê. Die regte uitdeling geskied volgens die reël van die liefde. Wat vir ons nuttig is, maak ons ondergeskik aan die voordeel van die naaste.
Dit is die wet waarvolgens ons die gawes moet bedien wat God ons geskenk het. Dit het die Here in sy wet al beveel, toe Hy bepaal het dat die eerstelinge aan Hom geoffer moet word (Ex 22:29; Ex 23:19). Daaruit moes die volk leer dat dit hom nie geoorloof was om iets van die goedere te geniet wat nie eers aan God geheilig is nie. Ons kan God egter nie met ons goed verryk nie, daarom skenk ons dit aan die heiliges wat op die aarde is (Ps 16:3). Daarom noem die Skrif weldadigheid en meedeelsaamheid offers waarin God ‘n behae het (Hebr 13:16).
6. Om te verhoed dat ons in goeddoen sal verslap, herinner die Skrif ons daaraan dat die liefde lankmoedig is en nie verbitter word nie (1 Kor 13:4). Die Here beveel dat ons aan alle mense goed sal doen, van wie ‘n groot deel dit onwaardig is as hulle volgens eie verdienstelikheid beoordeel word. Die Skrif kom ons egter hierin te hulp. Dit onderwys ons dat ons nie moet let op wat die mense self verdien nie, maar dat ons moet let op die beeld van God waaraan ons alle eerbetoning en liefde verskuldig is. Insonderheid moet in die huisgenote van die geloof daardie beeld opgemerk word wat die Gees van Christus in hulle herstel het (Gal 6:10). Ons het daarom geen rede om aan enige mens wat ons diensbetoning nodig het, dit te weier nie. Hy mag ‘n vreemdeling wees, maar God het op hom ‘n merkteken gedruk waarmee u vertroud behoort te wees. Hy mag in u oë waardeloos wees, maar God het hom die sieraad van sy beeld waardig geag. U mag miskien nie verplig wees om aan hom ‘n weldaad te vergeld nie, maar God het {259} hom in sy plek gestel, sodat u teenoor Hom sal erken hoe baie u aan Hom verskuldig is vir die baie en groot weldade wat Hy u bewys het. Al het hy u ook kwaad aangedoen, is dit nog geen rede waarom u nie liefde aan hom sal betoon nie (Mat 6:14; Mat 18:35; Luk 17:3).
Langs hierdie weg, naamlik om op die beeld van God in die mens te let, kom ons sover dat ons doen wat teen ons natuur indruis, nl. om hulle lief te hê wat ons haat, kwaad met goed te vergeld en ons naaste te vergewe.
7. Hierdie selfverloëning vind dan eers in ons plaas as ons die pligte van die liefde vervul. En nie hy vervul dit wat al die pligte so verrig dat hy selfs nie een oorslaan nie, maar hy vervul die pligte wat dit met die regte gesindheid van die liefde doen. Dit kan gebeur dat iemand aan almal betaal wat hy aan hulle verskuldig is, maar dat hy dit nie op die regte manier doen nie. Daar is mense wat baie milddadig wil voorkom maar wat tog uit die hoogte of gepaard met verwyte iets aan ander meedeel. Van Christene word nog meer vereis as om met vriendelike woorde hulle diensbetoning aangenaam te maak. Hulle moet hulle verplaas in die plek van die een wat hulle hulp nodig het, en met sy lot só medelyde hê asof hulle dit self gedra het. Wie só hulp bewys, sien nie op die hulpbehoewende neer en maak ook nie van hom sy skuldenaar nie. Hy sal ook nie meen dat hy van sy plig ontslae is as hy maar net een maal aan sy naaste ‘n diens bewys het nie, maar bedink dat hy sy naaste se skuldenaar is en dat daar geen grense vir weldoen bestaan nie, behalwe wanneer die vermoë te kort skiet.
8. Laat ons nou die vernaamste stuk van die selfverloëning behandel, naamlik die wat op God betrekking het. En dan leer die Skrif ons om onsself en alles wat ons besit, aan die wil van die Here oor te gee en om die begeertes van ons hart aan Hom oor te gee om bedwing te word.
Só alleen sal ons in hierdie lewe rus hê. Ons begeer om skatte en eer na te jaag, om mag te verkry en rykdomme op te hoop. Aan die ander kant koester ons ‘n wonderlike vrees vir armoede en onaansienlikheid en haat dit. Laat ons egter in die eerste plek die seën van die Here soek en daarop vertrou. Dit alleen laat ons arbeid of die hulp van mense vir ons enige voordeel hê. Al kan ons ook sonder die seën roem en rykdom verwerf, sal ons tog geen geluk smaak nie, omdat die vloek van God op so ‘n lewe rus.
9. As ons dus glo dat alleen die seën van die Here gelukkig maak en dat daarsonder ellende en rampe ons wag, moet ons nie op onsself vertrou of op die guns van mense nie. Ons moet ook nie begerig rykdom en eer najaag nie maar altyd op die Here sien. Onder sy leiding sal ons verkry wat Hy vir ons bestem het. Op {260} hierdie wyse sal dit gebeur dat ons in ons gejaag na skatte en eer nie ons naaste veronreg nie maar alleen die dinge najaag waardeur ons geen skuld op ons laai nie. Want wie kan hoop op die seën van die Here as hy hom van bedrog en ander bose streke bedien? Hoe kan iemand vertrou dat hy deur God gehelp sal word om te verkry wat hy teen Gods Woord begeer? As dit ons nie na wense gaan nie, moet ons nie in murmurering en verwensing van ons toestand verval nie, omdat ons weet dat ons dan teen God murmureer, wat rykdom en armoede, veragting en eer uitdeel soos Hy wil. As dit voorspoedig met ons gaan, moet ons dit nie aan onsself of aan die geluk toeskrywe nie maar God daarvoor dank. As ons nie vorder wanneer ander voorspoed het nie, het ons tog die troos dat die Here ons sake so bestuur soos wat dit vir ons nuttig is tot ons saligheid. Dit was ook die gesindheid van Dawid (Ps 131).
10. Hierdie gerustheid en lydsaamheid moet ons hele lewe beheers. Niemand het homself nog waarlik verloën nie, behalwe hy wat dit verdra dat al die dele van sy lewe deur die wil van God bestuur word. Wie so in sy gemoed gesteld is, sal hom nooit ongelukkig ag of hom oor sy lot bekla nie. Hierdie gesindheid is noodsaaklik, omdat ons lewe aan so baie dinge onderhewig is. Die een siekte na die ander val ons aan. Nou woed die pes, dan die oorlog. Soms neem die ryp of die hael die verwagting van die jaar weg. Ons kinders word deur die dood weggeruk. Ons huis brand af. Oor al sulke gebeurtenisse vervloek mense hulle lewe en beskuldig die Here van onregverdigheid en wreedheid. ‘n Gelowige merk egter in hierdie dinge God se vaderlike goedheid op. Al sterf sy bloedverwante, tog sal hy nie ophou om die Here te loof nie en te bedink dat die genade van die Here nie sy huis verlate sal laat bly nie. Al sien hy dat hongersnood dreig, sal hy tog die moed nie opgee nie maar in die geloof volhard dat ons in die hoede van die Here is en skape van sy weide (Ps 79:13). In sy krankheid sal hy homself opwek om lydsaam te wees. Kortom, hy sal alles kalm en met ‘n dankbare gemoed aanvaar, omdat hy weet dat dit deur die hand van God oor hom beskik is, wat regverdig sowel goed as kwaad ons toebedeel.
HOOFSTUK VIII. ‘n Deel van die selfverloëning is om die kruis te dra
1. ‘n Gelowige hart moet nog hoër opstyg, naamlik daarheen dat elkeen sy kruis moet opneem (Mat 16:24). Want almal wat die Here aangeneem het en sy gemeenskap waardig keur, moet {261} hulle voorberei op ‘n lewe wat hard en met baie en verskillende soorte van rampe vervul is. Dit behaag ons hemelse Vader om op die wyse almal te oefen wat Hom toebehoort. Só het Hy by Christus, sy Eniggeborene, begin, en dieselfde orde volg Hy by al sy kinders. Want al was Hy die geliefde Seun, tog was sy hele lewe niks anders as ‘n voortdurende kruis nie. Die rede daarvoor noem die Skrif (Hebr 5:8). Hy moes gehoorsaamheid leer uit wat Hy gely het. Waarom sal ons ons dan uitsonder van die voorwaarde wat Christus om ons ontwil moes aanvaar, sodat Hy vir ons ‘n voorbeeld van lydsaamheid sou wees (Rom 8:29)?
Hieruit put ons ook ‘n heerlike troos, naamlik dat ons onder alle teëspoede en rampe deel het aan die lyding van Christus. Ons word deur verskillende verdrukkinge heen na die hemelse heerlikheid gelei, net soos Hy deur verdrukkinge heen tot die heerlikheid ingegaan het. So word die bitterheid van die kruis versag. Hoe meer ons verdruk word, hoe vaster ons gemeenskap met Christus word. Deur gemeenskap met Hom word die lyding vir ons ‘n seën en bevorder dit ons saligheid.
2. Hierby kom nog dat die Here net nodig gehad het om die kruis te dra ten einde aan sy Vader sy gehoorsaamheid te bewys, maar vir ons is dit om verskillende redes nodig om gedurig die kruis te dra. In die eerste plek oorskat ons gewoonlik ons eie krag. Ons vertrou op ons vlees, verhef ons teen God asof ons eie kragte sonder sy genade vir ons voldoende was. Hierdie aanmatiging kan God alleen breek as Hy ons proefondervindelik laat ervaar hoe broos ons is. Dan leer ons om sy krag in te roep om onder die verdrukkinge staande te kan bly. Ja, ook die allerheiligstes het nodig om deur beproewinge tot selfkennis gebring te word. Vergelyk die voorbeeld van Dawid (Ps 30:7).
As gelowiges op dié wyse van hulle swakheid oortuig is, vorder hulle op die pad van nederigheid, skud die selfvertroue af en verlaat hulle op God se genade. Dan ondervind hulle ook die teenwoordigheid van die krag van God, waarin meer as voldoende hulp vir hulle geleë is.
3. Dit is wat Paulus leer, naamlik dat die verdrukking lydsaamheid werk en die lydsaamheid beproefdheid (Rom 5:3). Want as die gelowiges, deur die hand van God ondersteun, onder die beproewinge standvastig bly, ondervind hulle dat sy beloftes waar is. Die lydsaamheid bewys aan hulle dat God waarlik op sy tyd die hulp bewys wat Hy belowe het. Daardeur word ook die hoop versterk dat Hy dit ook in die toekoms sal doen. Nou sien ons hoe nuttig die kruis is. Dit verlos ons van alle eiewaan en selfvertroue en leer ons om ons op God alleen te verlaat. Dit is voorwaar geen geringe wins om so van ons selfliefde verlos te word nie; om te leer {262} om onsself te wantrou en op God te vertrou; om bevestig te word in sy genade; Hom as die Waaragtige te leer ken, wie se beloftes onwankelbaar is; om ons hoop op Hom te vestig en tot die end toe te volhard.
4. God het ook nog ‘n ander bedoeling as Hy sy gelowiges verdruk. Hy wil hulle lydsaamheid op die proef stel en hulle in die weg van gehoorsaamheid onderwys. Weliswaar kan hulle Hom geen gehoorsaamheid bewys as Hy hulle dit nie skenk nie, maar dit behaag Hom om deur sulke uitnemende bewyse die genadegawes bekend te maak wat Hy aan sy heiliges geskenk het. So sê die Skrif dat God Abraham op die proef gestel het en nou weet dat hy God vrees (Gen 22:1,12; vgl. ook 1 Petr 1:7).
Die kruis leer ons ook gehoorsaamheid. Só leer ons om nie na ons wil nie maar na God se wil te lewe. As alles na wense gegaan het, sou ons nie geweet het wat dit beteken om God te volg nie. ‘n Ou spreekwoord sê: “Volg God”; dit wil sê, “gee jou hand en rug vir God se roede”.
5. Hoe noodsaaklik gehoorsaamheid vir ons is, leer die losbandigheid van ons vlees ons. Ons is so gou gereed om God se juk af te Werp as Hy ons maar ‘n bietjie sag behandel. Ons is dan soos perde wat ‘n paar dae gevoer is sonder om te werk. Hulle kan byna nie deur hulle ruiter bedwing word nie. In ons is dieselfde sonde aanwesig wat in Israel was (Deut 32:15). Nou kom die Here ons teë met die kruis om ons oormoedigheid te tem, sodat ons nie verwilder of ons verhovaardig of oormoedig word nie. En Hy doen dit op verskillende maniere, soos dit vir elkeen heilsaam is. En al behandel Hy die een sagter as die ander, laat Hy tog niemand vry uitgaan nie, omdat Hy weet dat ons almal siek is.
6. Daarby kom dat ons allergenadigste Vader dit ook nodig ag om sondes te straf wat voorheen begaan is, ten einde ons gehoorsaam te hou. Daarom moet ons aan ons vroeëre lewe dink as ons getugtig word. Dan sal ons ongetwyfeld vind dat ons iets gedoen het wat so ‘n kastyding verdien. Maar die Skrif gee ons nog ‘n uitnemender rede aan, as dit ons opwek om onder beproewinge lydsaam te wees. God doen dit, naamlik, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie (1 Kor 11:32). Daarom moet ons ook te midde van die bitterheid van die verdrukkinge die barmhartigheid en goedheid van ons Vader jeens ons erken. Ook dan hou Hy nie op om ons saligheid te bevorder nie. Hy tugtig ons nie om ons dood te maak nie maar omdat Hy ons liefhet (Spr 3:11). God sal ons te gronde rig as Hy ons nie terugroep as ons van Hom afwyk nie. As ons sonder tugtiging is, is ons onegte kinders (Hebr 12:8). Ons sondig as ons Hom nie kan verdra as Hy ons sy goedheid en sy sorg vir ons saligheid betoon nie. Hier sien ons {263} die onderskeid tussen ongelowiges en gelowiges. Eersgenoemde word deur die geselinge slegter, laasgenoemdes boetvaardiger.
7. Dis ook vir ons ‘n besondere troos as ons ter wille van die geregtigheid vervolg word. Dan moet ons daaraan dink watter groot eer die Here ons waardig ag as Hy ons so versier met die besondere kenmerk van sy krygsdiens. Of ons nou moet ly omdat ons die waarheid van God teen die leuens van Satan moet verdedig of omdat ons goeie en onskuldige mense teen die ongeregtigheid van kwaadwilliges moet beskerm, laat dit vir ons nie swaar wees om ons in diens van God te stel nie. Christus spreek sodaniges salig (Mat 5:10). Die apostels het hulle ook daaroor verheug dat hulle waardig geag was om vir die Naam van Christus oneer te ly (Hand 5:41). As ons onskuldig deur goddelose mense van ons besittings beroof word, verval ons wel in armoede voor die mense, maar die ware rykdom by God in die hemel vermeerder. As ons uit ons huise gestoot word, word ons des te inniger in die gesin van God opgeneem. As ons verag word, skiet ons vaster wortel in Christus. As ons gesmaad word, neem ons ‘n heerliker plek in in die koninkryk van God. As ons doodgemaak word, word vir ons die toegang tot die geluksalige lewe geopen.
8. Deur sulke voorbeelde versag die Skrif die smaadhede wat ons ly as ons die geregtigheid verdedig. Ons sou daarom ondankbaar wees as ons hulle nie blymoedig uit die hand van die Here aanvaar nie. Deur sulke smaadhede word Christus in ons verheerlik. Smaad is vir ons bitterder as die dood. Daarom vermaan Paulus ons dat daar nie net vervolging vir ons wag nie maar ook smaadhede, omdat ons op die lewende God hoop (1 Tim 4:10; vgl. ook 2 Kor 6:8).
Daar word egter nie van ons ‘n blymoedigheid geëis wat alle smartgevoel wegneem nie. Want dan sou daar geen lydsaamheid onder die kruis wees as die heiliges nie deur die smart gekwel of deur moeilikhede beangstig was nie. Die krag van die gelowige openbaar hom egter daarin dat hy kragtig weerstand bied al ly hy ook hoe swaar.
9. Hierdie stryd wat die gelowiges teen die natuurlike gevoel van smart aanbind, beskrywe Paulus vir ons in 2 Kor 4:8. Om die kruis lydsaam te dra beteken nie om ongevoelig te wees vir die smart soos die ou Stoïsyne geleer het en soos sommige Christene vandag ook leer nie, bv. dat dit sonde is om te ween. Christus het egter sowel deur sy woorde as deur sy dade hierdie wysheid veroordeel. Hyself het geween oor sy eie en oor ander se rampe en sy dissipels ook so geleer (Joh 16:20). Hy spreek ook hulle salig wat treur (Mat 5:4). As alle trane afgekeur word, wat moet ons dan dink van die Here self wat getuig dat sy {264} siel diep bedroef is tot die dood toe (Mat 25:38)? Vergelyk ook Luk 22:44.
10. Ek het hierdie dinge gesê om die godvrugtige gemoedere vir vertwyfeling te bewaar. Hulle mag nie dadelik nalaat om die lydsaamheid te beoefen omdat hulle die natuurlike gevoel van smart nie van hulle kan afskud nie. Die Skrif prys die heiliges omdat hulle kan verdra as swaar rampe hulle tref; omdat hulle nie beswyk as hulle deur bitterheid gewond word nie; omdat hulle deur God se goedheid weer asem skep as hulle deur angs gedruk word. Intussen is daar tweestryd in hulle hart. Die natuurlike gevoel vrees die kwaad en wil dit ontvlug, die geloof wil egter ook onder die moeilike omstandighede God se wil gehoorsaam. Van hierdie tweestryd spreek die Here tot Petrus (Joh 21:18).
As ons dissipels van Christus wil wees, moet ons ons altyd hierop toelê dat ons hart vervul sal wees van eerbied vir en gehoorsaamheid aan God, om op dié wyse alles te bedwing wat teen sy ordinansie stry. Die end van die tweestryd moet altyd wees: “Die Here het dit só gewil. Laat ons sy wil volg”.
11. Laat ons nou kortliks die verskil tussen die wysgerige en die Christelike lydsaamheid vasstel. Baie min wysgere het dit begryp dat God ons deur die verdrukkinge oefen en dat ons Hom daarom moet gehoorsaam. Hulle sê alleen dat dit noodsaaklik só moet gebeur. Dit beteken maar net dat ons voor God moet swig, omdat dit tevergeefs is om teen Hom te stry. Want as ons God net gehoorsaam omdat ons moet, sal ons dadelik ophou om Hom te gehoorsaam as ons daaraan kan ontkom.
Maar die Skrif leer ons anders. Dit leer ons dat die wil van God regverdig en goed is en dat God vir ons saligheid sorg. Geen armoede, ballingskap, gevangenskap, smaad, siekte of verlies van dierbares kan oor ons kom sonder die wil en voorsienige bestel van God nie. En verdien ons menigvuldige, daelikse sondes nie dat ons nog swaarder getugtig sal word nie? Verdien die geregtigheid en waarheid van God nie dat ons om hulle ontwil sal ly nie? Ons hoor hier dus nie die flou gesegde dat ons moet berus omdat dit moet nie, maar die bevel dat ons moet gehoorsaam, omdat dit ongeoorloof is om ons te verset.
Maar God vertroos ons nog meer. Hy verklaar dat Hy vir ons saligheid sorg deur vir ons die kruis op te lê. As dit dan vasstaan dat die verdrukkinge vir ons heilsaam is, waarom sal ons hulle dan nie dankbaar en kalm aanneem nie? As ons hulle lydsaam dra, swig ons nie vir wat noodsaaklik moet gebeur nie, maar berus ons in wat vir ons goed is. Daaruit volg geestelike blydskap onder die kruis en danksegging. {265}
HOOFSTUK IX. Die oordenking van die toekomende lewe
1. Watter verdrukkinge ons ook mag ly, altyd moet ons daaraan dink dat die doel daarvan is om ons gewoond te maak daaraan om hierdie lewe gering te ag en die toekomende lewe te oordink. God weet hoe lief ons hierdie wêreld het. Daarom gebruik Hy die geskikte middel om die liefde te verdryf. Daar is seker niemand onder ons wat nie graag die skyn wil wek dat hy sy lewe lank die hemelse onsterflikheid soek nie. Ons wil tog graag onderskeie wees van die diere. Daarom koester ons die hoop op die ewige lewe na die dood. Maar as ons elkeen se oorlegginge en dade ondersoek, sal ons niks anders as die aarde daarin sien nie Verstrik in die verleidinge van die lewe soek die siel sy geluk op aarde. Om hierdie kwaad teë te gaan onderwys die Here ons deur al die ellende hoe nietig hierdie lewe is. Hy onderrig ons deur oorloë, oproere, onvrugbaarheid van die aarde, brand, dood en ander plae hoe ongestadig alles hier is. Ons trek dan eers profyt uit die tug van die kruis as ons geleer het hoe onrustig en ongelukkig hierdie lewe is; dat die goeie wat dit bied, nietig en met baie kwaad vermeng is, en as ons dan daaruit die gevolgtrekking maak dat ons hier op niks anders as stryd kan hoop nie en daarom ons oë na die hemel moet ophef as ons aan die kroon dink.
2. Tussen die twee is daar geen middeweg nie: òf die aarde moet vir ons waardeloos word, òf dit moet ons in sy liefde gevange hou. Daarom moet ons ons uit hierdie boeie losmaak as die ewigheid ons ter harte gaan. Verder is dit nodig dat ons herhaaldelik van die verlokkinge van hierdie lewe weggeroep word. Wat sou van ons word as ons hier altyd die goeie en die geluk sou geniet? Dis ‘n algemene gesegde dat die lewe soos rook of ‘n skaduwee is. Tog dink ons maar baie min daaraan. Ons lewe almal so asof die onsterflikheid hier ons deel is. As daar ‘n lykstoet verbygaan of as ons tussen die graftes wandel, filosofeer ons oor die nietigheid van die lewe, omdat ons die dood sien. Maar dit duur maar vir ‘n oomblik, soos die applous in ‘n skouburg. Ons vergeet die dood en die onsterflikheid en lewe maar weer onbekommerd verder. Wie sal dan durf ontken dat dit vir ons almal nodig is dat ons op alle maniere en met allerhande middels oortuig word daarvan hoe ongelukkig hierdie lewe is? As God ons dan onderwys, is dit ons plig om na Hom te luister, sodat ons die wêreld sal versaak en met ons hele hart die toekomende lewe sal oordink.
3. Die gelowiges moet egter leer om hierdie lewe op so ‘n wyse gering te ag dat hulle dit nie haat en ondankbaar word jeens God nie. Want al is die lewe vol van baie ellendes, is dit tog ‘n {266} seën van God wat ons nie mag versmaad nie. As ons dit daarom nie as ‘n weldaad van God beskou nie, is ons alreeds ondankbaar teenoor Horn. Dit is vir ons veral ‘n getuienis van God se goedheid, omdat dit geheel en al bestem is om ons saligheid te dien. Want voordat God ons die erfenis van die ewige heerlikheid skenk, wil Hy deur mindere bewyse toon dat Hy ons Vader is Die bewyse is die goeie dinge wat ons elke dag uit sy hand ontvang. Sal ons dan hierdie lewe gering ag asof dit niks goeds bevat nie? Al sou die getuienisse van die Skrif ontbreek (wat baie oorvloedig is), spoor die natuur self ons aan om Hom te dank omdat Hy ons die lewenslig laat aanskou het, ons toestaan om dit te gebruik en al die middele skenk wat ons nodig het om dit te bewaar. Verder word ons hier voorberei op die heerlikheid van die hemelse koninkryk. Die Here het dit so beskik dat alleen hulle eenmaal gekroon sal word wat hier op aarde gestry het. Eindelik is daar nog hierdie rede, naamlik dat ons in hierdie lewe deur die verskillende weldade die lieflikheid van God se goedheid begin smaak, sodat ons des te vuriger sal verlang na die volkome openbaring daarvan.
4. Alles wat ons aan die verkeerde liefde vir hierdie lewe onttrek, moet ons by die verlange na die betere lewe voeg. Ek erken dat hulle die dinge alte verkeerd ingesien het wat geoordeel het dat dit die beste was om nie gebore te word nie, en die naasbeste om so spoedig moontlik daarna te sterwe. Omdat hulle God se lig en die ware godsdiens nie gehad het nie, kon hulle in die lewe niks anders sien as net wat ongelukkig maak en afskuwelik is nie. Daarom kon hulle ook nie insien hoedat iets die gelowiges ten goede kon kom wat op sigself nie begerenswaardig was nie. Daarom het hulle in wanhoop geëindig. Omdat die gelowiges egter begryp dat hierdie lewe op sigself niks anders as ellende is nie, oordink hulle des te vuriger die toekomende ewige lewe. As ons eers sover kom om te vergelyk, kan die teenwoordige lewe met gerustheid nie net verontagsaam word nie maar moet dit ook versmaad word as dit met die toekomende lewe vergelyk word. Want as die hemel ons vaderland is, wat is die aarde dan anders as die plek van ballingskap? As ons tot die lewe ingaan deur uit hierdie wêreld te verhuis, wat is die wêreld dan anders as ‘n graf ? As ons volkome vryheid verkry wanneer ons van die liggaam verlos word, wat is die liggaam dan anders as ‘n gevangenis? As dit die toppunt van saligheid is om God se teenwoordigheid te geniet, is dit dan nie rampsalig om dit te mis nie? En tog woon ons uit van die Here solank ons in die wêreld woon (2 Kor 5:6). As ons so die aardse lewe met die hemelse vergelyk, val dit nie swaar om dit gering te ag nie. Tog mag ons dit nooit haat nie, behalwe in sover dit ons aan die sonde onderworpe hou. Die haat moet egter nooit teen die lewe self gekeer wees nie. Hoe dit ook al sy, dit moet ons afkeer so opwek dat {267} ons bereid is om daarin te bly solank die Here dit wil, al verlang ons ook na die end. Ons afkeer mag nooit in ongeduldigheid of murmurering ontaard nie. Want die lewe is ‘n wagpos waarop die Here ons gestel het. Daarop moet ons bly staan totdat Hy ons wegroep. Paulus bekla wel sy lot dat hy langer deur die bande van die lewe vasgehou word as wat hy begeer (Rom 7:24), tog betuig hy dat hy tot altwee bereid is, om aan God se bevel gehoorsaam te wees (Fil 1:23). Hy bely dat hy dit aan God verskuldig is om sy Naam deur die dood of deur die lewe te verheerlik. En aan God kom dit toe om te bepaal wat die meeste tot sy eer dien. Ons laat dus ons lewe en dood aan die Here oor. Tog brand ons van verlange na die dood en oordink dit gedurig. Die lewe verag ons egter net as ons dit met die toekomende onsterflikheid vergelyk. En omdat dit ons diensbaar hou aan die sonde, verlang ons om dit vaarwel te sê wanneer dit die Here behaag.
5. Daarom is dit onnatuurlik dat so baie wat hulle Christene noem, sidder vir die dood so dikwels hulle daarvan hoor praat, in plaas van daarna te verlang. Dit is wel nie te verwonder as ons natuurlike gevoel huiwer as dit van ontbinding hoor nie. Die lig in die hart van ‘n Christen behoort egter hierdie vrees te oorwin en te onderdruk. Want as ons bedink dat ons verderflike, bouvallige liggaam ontbind word om tot die volmaakte, onverderflike hemelse heerlikheid vernuut te word, sal die geloof ons dan nie dwing om vurig dit te verlang waarvoor ons natuur terugdeins nie? As ons bedink dat ons deur die dood uit ons ballingskap teruggeroep word om ons hemelse vaderland te bewoon, sal dit ons nie baie troos nie?
Iemand sal miskien sê dat daar tog niks is wat nie verlang om altyd te bly lewe nie. Dis waar. Maar daarom beweer ek ook dat ons moet uitsien na die toekomende onsterflikheid. Daar word ons die blywende toestand deelagtig wat hier op aarde nêrens te vind is nie. Paulus leer ons om die dood met opgewektheid tegemoet te gaan, omdat ons nie ontklee nie maar oorklee wil word (2 Kor 5:2). Sal die redelose skepsel bewus wees van sy nietigheid en met reikhalsende verlange uitsien na die dag van die opstanding om saam met die kinders van God van die nietigheid verlos te word (Rom 8:19 e.v.) en ons, wat met die lig van die verstand begiftig is en deur die Gees van God verlig is, ons gemoedere nie bokant die verrotting van die aarde kan ophef nie? Niemand het in die leerskool van Christus gevorder nie, behalwe hy wat die dag van sy dood en van die laaste opstanding met vreugde verwag. Dit is die kenmerk van die gelowige (Tit 2:13) en die oorsaak van ons groot blydskap (Luk 21:28). Is dit dan redelik dat die dinge waarvan Christus gewil het dat hulle blydskap in ons sal verwek, niks anders as droefheid en verslaenheid opwek nie? Waarom roem ons dan nog in Christus as ons Meester? Laat ons verstandiger word {268} en sugtend na die koms van die Here verlang as die allergelukkigste saak. Want Hy sal kom as ons Verlosser om ons uit die onmeetlike poel van sonde en ellende te trek en ons te bring na die geluksalige lewe en die erfenis van sy heerlikheid.
6. Die gelowiges moet hier op aarde as slagskape gereken word, sodat hulle aan Christus, hulle Hoof, gelykvormig sal word (Rom 8:36). Hulle sal daarom die ellendigste van alle skepsels wees as hulle nie die wêreld oorwin deur hulle harte opwaarts in die hemel te verhef nie. As hulle dit eers gedoen het, sal hulle onder alle rampe staande bly, al sien hulle ook dat die goddelose mense eer en vrede geniet, dat hulle in weelde lewe en oorvloedige genietinge smaak. Ja, ook al word hulle deur hulle trots versmaad. Want die dag sal hulle voor oë staan waarop die Here sy gelowiges in die rus van sy koninkryk sal opneem, alle trane van hulle oë sal afvee, hulle sal beklee met die kleed van heerlikheid en vreugde en hulle deel sal gee aan sy geluksaligheid (Jes 25:8; Openb 7:17). Maar die goddelose wat op aarde gebloei het, sal Hy in uiterste smaadheid verwerp, hulle blydskap sal Hy verander in geween en knersing van die tande, hulle vrede deur gewetenskwelling wegneem. So sal Hy regverdig handel deur aan die wat sy gelowiges verdruk, verdrukking te vergelde en aan hulle wat verdruk word, verligting te gee in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele (2 Thess 1:6-7). Dit is ons enigste troos. As dit ons ontneem word, moet die moed ons ontsink of moet ons ons tot ons eie verderf streel met die nietige vertroostinge van hierdie wêreld. Asaf het ook eers tot kalmte gekom nadat hy in die heiligdomme van God ingegaan en op die end van die goddelose gelet het. Die kruis van Christus triomfeer dus dan eers in die harte van die gelowiges as hulle hulle oë op die krag van sy opstanding gerig hou.
HOOFSTUK X. Hoe ons die teenwoordige lewe en sy hulpmiddels moet gebruik
1. Deur sulke onderwysinge leer die Skrif ons genoegsaam wat die regte gebruik van die aardse goedere is — ‘n saak wat ons nie mag verontagsaam nie. Want as ons moet lewe, moet ons ook van die nodige middels gebruik maak. Ons kan selfs nie die dinge vermy wat meer genot verskaf as wat hulle die nooddruf vervul nie. Ons moet dus ‘n maatstaf hê. En dit gee God ons in sy Woord. Daarin leer Hy ons dat die teenwoordige lewe ‘n pelgrimstog is. As ons nou {269} net oor die aarde trek, moet ons die dinge so gebruik dat hulle ons nie in ons loop belemmer nie. Daarom sê Paulus dat ons hierdie wêreld moet gebruik asof ons dit nie ten volle gebruik nie, en dat die wat koop, moet wees asof hulle nie besit nie (1 Kor 7:29 e.v.). Ons moet hier goed op let. Daar is sommige wat te streng is en wat leer dat ons net die goedere moet gebruik wat noodsaaklik is. ‘n Baie goeie raad, maar dis te streng. Daardeur word die gewetens met strenger bande gebind as wat Gods Woord doen. Noodsaak beteken vir hulle dat die mens hom moet onthou van alles wat hy kan mis. Brood en water sou dan voldoende wees om van te lewe. Andere het selfs nog verder gegaan. Teenswoordig is daar egter baie wat leer dat ons vryheid nie deur maatstawwe aan bande gelê moet word nie maar dat dit aan elkeen se gewete oorgelaat moet word om te gebruik soveel as hy vir homself geoorloof ag. Hulle leer dit egter net om hulle onmatigheid te verontskuldig en die losbandigheid van die vlees te voed. Die Skrif gee ons egter algemene reëls waaraan ons ons lewe kan toets.
2. Die beginsel is dan dat die gebruik van God se gawes ons nie van die regte weg aflei as hulle vir die doel gebruik word waarvoor Hy hulle gemaak en bestem het nie. Dit is naamlik tot ons welsyn en nie tot ons verderf nie. So het Hy byvoorbeeld die voedsel geskape nie alleen om ons nooddruf te vervul nie maar ook omdat Hy vir ons blydskap sorg. So het Hy met klere ook die sierlikheid en die eerbaarheid op die oog. So het ons in die bome, die blomme en vrugte die gebruik daarvan maar ook die lieflike geur en die mooiheid wat ons mag geniet (vgl. Ps 104:15). Sou God dan al die dinge so mooi gemaak het en dit vir ons nie geoorloof wees om dit te geniet nie? So het Hy goud en silwer, ivoor en marmer kosbaarder gemaak as ander metale en gesteentes, sodat hulle vir ons van soveel groter waarde sou wees.
3. Weg dus met die onmenslike wysheid wat ons net wil toestaan om te gebruik wat noodsaaklik is. Dit beroof ons van God se weldadigheid en maak van die mens ‘n stuk hout.
Maar aan die ander kant moet ook die begeerlikheid van die vlees aan bande gelê word. As dit nie gebeur nie, loop dit oor. Dit het ook sy voorstanders wat hom alles toegee.
In die eerste plek moet dan vasgestel word dat alle dinge vir ons geskape is sodat ons die Gewer sal ken en sy goedertierenheid jeens ons met danksegging sal erken. Waar is die dankbaarheid as ons so swelg in voedsel en drank dat ons heeltemal afstomp en heeltemal onbekwaam word om ons roeping te vervul? Waar is in die kleding ons dankbaarheid jeens God as ons oor hulle kosbaarheid onsself bewonder en ander versmaad? Paulus sê dat ons geen voorsorg vir die vlees moet maak om sy begeerlikhede te bevredig nie (Rom 13:14).
{270}
4. Die regte gesindheid is dus dat ons die teenwoordige lewe gering sal ag en die hemelse onsterflikheid sal oordink. Daaruit volg twee reëls. Die eerste is dat die wat hierdie wêreld gebruik, dit so moet gebruik asof hulle dit nie ten volle gebruik nie, ens. (1 Kor 7:29 e.v.); vervolgens dat hulle sal weet hoe om alle gebrek lydsaam en alle oorvloed matig te dra. As Paulus beveel dat ons die wêreld moet gebruik asof ons dit nie ten volle gebruik nie, roei hy daarmee alle gulsigheid in spys en drank uit en alle trotsheid en eiesinnigheid asook alle besorgdheid wat ons kan aflei van die oordenking van die hemelse lewe en die versorging van ons siel.
Die vryheid van die gelowiges mag dus nie aan bepaalde reëls gebind word nie. Tog moet dit aan hierdie wet onderworpe wees, naamlik die wet van selfbeheersing. Daarteenoor moet hulle oppas om nie van hulpmiddels beletsels te maak nie.
5. Die ander reël is dit dat hulle wat met weinige goedere bedeel is, die besit van meer goedere geduldig moet ontbeer, sodat hulle nie deur ‘n oormatige begeerte daarna gekwel word nie. Die wat hulle aan hierdie reël van tevredenheid hou, het groot vordering gemaak in die skool van die Here. Wie hierin nie vordering gemaak het nie, het nouliks iets waaruit hy kan bewys dat hy ‘n dissipel van Christus is. Wie armoede nie gelate kan dra nie, sal, as hy oorvloed het, ‘n ander siekte vertoon. Wie byvoorbeeld oor ‘n sobere maaltyd ontevrede is, sal hom aan oordaad skuldig maak as sy tafel ruimer voorsien is.
Laat daarom almal wat ernstig daarna strewe om gelowig te lewe, hulle daarop toelê dat hulle soos Paulus kan sê: “In elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly” (Fil 4:12).
Die derde reël is dat God in sy milddadigheid ons alles in bewaring gee en dat ons eenmaal rekenskap sal moet aflê (Luk 16:2). Hy prys soberheid en matigheid aan, verfoei trotsheid en praal en het alleen in dié beheer van sy goedere ‘n welgevalle wat met die liefde verbind is.
6. Eindelik moet ons ook hierop let, naamlik dat God elkeen van ons beveel om op sy roeping te let in alles wat hy doen. Want God het aan elke mens ‘n roeping opgelê, sodat ons in ons eersug nie alles tegelyk sal wil aangryp en alles onderstebo keer nie. God noem ons lewe ‘n roeping, en Hy stel elkeen op sy pos. Volgens daardie pos waarop God hom gestel het, sal sy lewe beoordeel word. Die wysgere ag dit byvoorbeeld ‘n uitnemende daad om die vaderland van ‘n tiran te bevry. Maar God veroordeel elkeen wat as partikuliere persoon sy hand aan ‘n tiran slaan. Laat ons dit maar weet dat die roeping van die Here die beginsel is en {271} die fondament vir elkeen om in elke saak reg te handel. Wie hom nie daaraan hou nie, sal nooit die regte weg bewandel nie. Hy mag miskien soms iets doen wat in die oë van die mense lofwaardig lyk, maar voor die gerig van God sal dit verwerp word. Ons lewe sal dan eers goed ingerig wees as ons dit in die oog hou. Dan sal niemand probeer om meer te doen as wat sy roeping hom oplê nie. Hy sal weet dat hy die grense nie mag oorskry nie. Vir die gewone burger sal sy amptelike lewe nie moeilik val nie. Die owerheid sal bereidwillig sy amp volbring; die huisvader sy pligte. Vir almal sal dit ‘n krag wees om te weet dat God vir hulle ‘n Leidsman is en dat Hy vir elkeen sy las oplê. Tewens sal elkeen weet dat geen werk so onaansienlik of gering is dat dit nie in God se oë skitter en deur Hom kosbaar geag word nie.
HOOFSTUK XI. Die regverdigmaking deur die geloof. In die eerste plek ‘n omskrywing van die naam en die saak self
1. In die voorafgaande is genoegsaam uiteengesit hoedat daar vir die mens maar net een middel is om die saligheid te herwin. Dit is deur die geloof en nie deur die wet nie. Dit vervloek hom. Verder is gehandel oor wat die geloof self is; aan watter weldade, van God dit ons deel gee en watter vrugte dit in ons werk. Die hoofsaak is dit dat Christus deur die geloof aangegryp en besit moet word. Deur gemeenskap met Hom verkry ons ‘n dubbele genade. In die eerste plek word ons deur sy onskuld met God versoen en is God vir ons ‘n Vader in die hemele in plaas van ‘n Regter. Verder word ons deur sy Gees geheilig en lê ons ons toe op onskuld en reinheid van die lewe. Ook oor die tweede weldaad, die wedergeboorte, is genoegsaam gehandel. Die wyse van regverdigmaking is egter net terloops aangeraak, omdat dit van belang was om eers te handel oor die goeie werke wat die vrug van die geloof is. Die regverdigmaking moet dus nou bespreek word, en wel só dat ons in gedagte hou dat dit die vernaamste pilaar is waarop die godsdiens rus. Voordat ons nie weet watter plek ons by God inneem en watter oordeel Hy oor ons vel nie, het ons geen fondament waarop ons saligheid kan rus nie.
2. Ons moet nou eers uitlê wat dit beteken dat die mens voor God geregverdig word; dat hy geregverdig word deur die geloof of deur die werke. Geregverdig voor God noem ons die mens wat God vir regverdig hou en wat vanweë sy geregtigheid voor God {272} aangenaam is. God verfoei ongeregtigheid. Daarom kan geen sondaar genade in sy oë vind solank as hy ‘n sondaar is of daarvoor gehou word nie. Regverdig word hy wat nie vir ‘n sondaar nie maar vir ‘n regverdige gehou word en wat daarom voor die regterstoel van God kan bestaan, waar al die sondaars beswyk. Net soos ons van iemand wat onskuldig aangekla is, sê dat hy deur die regter regverdig verklaar word, so is iemand by God regverdig wat Hy uit die getal van die sondaars afsonder en wat Hom as Getuie en Beskermer van sy regverdigheid het.
Ons kan dus sê dat dié mens deur sy werke geregverdig word wat deur sy volmaakte werke aan God se oordeel beantwoord en voldoen.
Aan die ander kant word hy deur die geloof geregverdig wat geen verdienstelike werke besit nie maar Christus se geregtigheid deur die geloof aanneem en daarmee beklee voor God se aangesig verskyn, nie as ‘n sondaar nie maar as ‘n regverdige.
Regverdigmaking beteken dus dat God ons in genade aanneem en vir regverdig hou. Dit bestaan in die vergewing van die sondes en die toerekening van die geregtigheid van Christus.
3. Dit word deur baie en duidelike uitsprake van die Skrif bevestig. Ek noem net enkele. As Lukas verhaal dat die volk God geregverdig het nadat hulle Christus gehoor het (Luk 7:29), òf as Christus sê dat die wysheid geregverdig is deur al sy kinders (vs. 35), beteken dit alleen dat aan God en die leer die lof toegebring word wat Hom en die leer toekom. En as Christus die Fariseërs verwyt dat hulle hulleself regverdig, wil Hy daarmee sê dat hulle eergierig strewe na die regverdigheid wat hulle nie besit nie (Luk 16:15).
God reken regverdigheid toe uit die geloof (Gal 3:8; Rom 3:26). Regverdigmaking is niks anders nie as om hom vry te spreek wat aangekla word, net so asof sy onskuld bewys is. As God ons deur die tussenkoms van Christus regverdig maak, spreek Hy ons vry, nie omdat ons ons onskuld kon bewys nie maar deur ons die regverdigheid van Christus toe te reken (Hand 13:38). Regverdigmaking beteken dat die sondes vergewe word. Dis ‘n vryspraak van die sondaar op grond van die voldoening deur Christus. Ons kry daaraan deel deur die geloof.
4. Maar genoeg oor die woord. As ons die saak self beskou sal alle twyfel weggeneem word. Paulus beskryf dit as “aanneming”. Aan die Efesiërs skrywe hy: “deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil” (1:5). Daarmee bedoel hy dieselfde wat hy op ‘n ander plek (Rom 3:24) só uitdruk dat “ons sonder verdienste geregverdig word deur die verlossing wat in Christus Jesus is”. In Rom 4:6 noem hy die regverdigmaking toerekening van {273} geregtigheid deur God. Hy aarsel ook nie om dit in vergewing van die sondes te laat bestaan nie. Die duidelikste spreek hy hieroor in 2 Kor 5:18. Daar noem hy die hoofsom van die evangelie dat ons met God versoen is, omdat Hy ons deur Christus in genade wil aanneem sonder om ons ons sondes toe te reken. Christus, wat geen sonde geken het nie, is vir ons sonde gemaak (vs. 21; vgl. ook Rom 5:19). Ons word in Christus geregverdig buite ons om.
5. Ek moet nou eers Osiander weerlê. Hy wil nie die onverdiende regverdigheid ontken nie maar verduister dit tog deur te spreek van ‘n essensiële regverdigheid. Sy leer het iets van die Manicheërs. Hy wil die wese van God in die mens oorstort. Hy sê dat Christus één is met ons en ons met Hom, maar hy vergeet dat ons met Christus verbind word deur die verborge krag van sy Gees. Hieruit spruit hierdie ander versinsel van hom voort dat Adam na die beeld van God geskape is, omdat Christus reeds vóór die val bestem was as ‘n voorbeeld van die hele menslike geslag.
Maar om tot die saak terug te keer. Hy sê dat ons één is met Christus. Ons erken dit. Maar ons ontken dat Christus se wese met ons s’n vermeng word. Hy stel dit só, omdat hy beweer dat Christus ons geregtigheid is, omdat Hy die ewige God is, die bron van die geregtigheid en die geregtigheid self van God. Hy sê dat hy deur die uitdrukking essensiële regverdigheid maar net wil bestry dat ons om Christus ontwil vir regverdig gereken word. Nou versin hy dat ons in God regverdig is wat ons wese betref, omdat sowel God se wese as sy hoedanigheid in ons ingegiet word. Hy beweer dat sowel die Vader as die Gees in ons woon. Ons betwis dit nie maar ontken dat daar ‘n wesensvermenging plaasvind en dat die Vader Homself in ons oorstort en ons tot ‘n deel van Hom maak. Dat ons deur die krag van die Heilige Gees met Christus verenig word, dat Hy ons Hoof is en ons sy liggaam, het vir hom geen waarde as God se wese nie met ons vermeng word nie. Ons word dus nie geregverdig alleen deur die genade van die Middelaar nie, maar alleen wanneer God se wese met ons s’n verenig word.
6. Ons moet teen Osiander op ons hoede wees. Hy verstaan onder die woorde regverdigheid en regverdigmaking twee dinge. Regverdigmaking beteken, volgens hom, nie net dat ons met God versoen word deur onverdiende genade nie, maar dit beteken ook dat ons regverdig gemaak word. Regverdigheid is dus nie ‘n onverdiende toerekening nie, maar dis heiligheid, regskapenheid wat God se wese, wat in ons woon, in ons inblaas. Verder ontken hy baie heftig dat Christus ons regverdigheid is omdat Hy as priester ons sondes versoen het, maar Hy is dit omdat Hy die ewige God en die lewe is. {274}
Hy vra of God die wat Hy regverdig, laat soos hulle van nature is en niks aan hulle gebreke verander nie. Die antwoord is maklik. Ons verkry in Christus regverdigmaking en heiligmaking. Die twee weldade kan nie van mekaar geskei word nie maar moet tog onderskei word, soos die lig van die son onderskei word van sy hitte. Só leer die Skrif ons. Christus het vir ons geword geregtigheid en heiligmaking (1 Kor 1:30). Die Skrif toon gedurig aan dat om geregverdig te word iets anders is as om nuwe skepsele te word. Maar Osiander sê dat dit een en dieselfde saak is. Só handel hy ook met die woord regverdigheid. As die Skrif sê dat Abraham se geloof vir hom tot regverdigheid (geregtigheid) gereken is, verklaar hy dit só dat dit geskied het nadat hy Christus (wat die regverdigheid van God en God self is) omhels het en in uitnemende deugde uitgemunt het. Maar die Skrif getuig dat Abraham in God geglo het en dat sy geloof hom tot geregtigheid gereken is. Hieruit volg dat daar vir die werke in die regverdigmaking van die sondaar geen plek is nie.
7. Hy sê dat dit nie die geloof is wat ons regverdig nie maar alleen in sover dit Christus aanneem. Dit neem ek graag aan. Want as die geloof, wat altyd swak en onvolmaak is, ons moes regverdig, sou die regverdigmaking maar ten dele wees.
Ons sê dat God alleen regverdig maak. Verder bring ons dit ook op Christus oor, omdat Hy ons tot regverdigmaking gegee is. Die geloof vergelyk ons met ‘n vat. Ons kan Christus nie bevat as ons nie met die oop mond van die siel kom om sy genade te begeer nie.
Die geloof, wat maar net ‘n werktuig is om die regverdigheid te verkry, word deur Osiander dus op onverstandige wyse vereenselwig met Christus, wat die Oorsaak, Skenker en Bedienaar van die groot weldaad is.
8. Ons bely dat dit die ewige Woord is wat ons in sy vlees met die Vader versoen het en ons die regverdigheid geskenk het. Hy kan nie op ‘n ánder wyse die amp van Middelaar vervul en vir ons die regverdigheid verwerf as Hy nie ook ewig God was nie. Maar Osiander leer dat Christus ons regverdigheid voor God is sover dit sy goddelike maar nie sover dit sy menslike natuur betref nie. Maar as dit dan eintlik die taak van sy goddelike natuur was, sou dit ook die taak van die Vader en die Gees wees. Maar hoe verklaar hy dan dat Christus vir ons regverdigheid van God geword het? Hy kan tog nie word wat Hy van ewigheid af is nie. Christus is wel ons regverdigheid, maar in watter sin Hy dit is, leer Jesaja ons in Jes 53:11: “Deur sy kennis sal my Kneg, die regverdige, baie regverdig maak”. Hier spreek die Vader. Hy dra aan die Seun die taak op om regverdig te maak. Hy sê ook waarom Hy dit kan doen, naamlik omdat Hy regverdig is. Christus regverdig ons deurdat Hy die gestalte van ‘n dienskneg aanneem en omdat {275} Hy aan die Vader gehoorsaamheid betoon het. Hy skenk ons dus nie die regverdigmaking na sy goddelike natuur nie maar kragtens die diens wat Hom opgelê was. Dit wil sê Hy regverdig ons deur die krag van sy dood en opstanding.
9. As hy teëwerp dat hierdie werk vir die menslike natuur te magtig is en dat dit daarom aan die goddelike natuur alleen toegeskrywe kan word, stem ek die eerste deel toe maar nie die tweede nie. Want hoewel Christus nie deur sy bloed ons siele kon reinig of die Vader deur sy offer kon versoen en ons van die skuld kon bevry as Hy nie ook waaragtig God was nie, is dit tog seker dat Hy die versoening na sy menslike natuur volbring het. Want Paulus sê dat ons geregverdig is deur die gehoorsaamheid van Christus (Rom 5:19). En Hy kan alleen gehoorsaam wees deurdat Hy die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het. Dieselfde apostel sê ook dat Hy wat geen sonde geken het nie, vir ons sonde gemaak is. En Christus sê dat sy vlees waarlik spys en sy bloed waarlik drank is. So ontken ek nie dat Christus ons regverdig omdat Hy God en mens is nie, waaraan ook die Vader en die Gees deel het, en dat die regverdigheid, waarvan Hy ons deelgenote maak, die ewige regverdigheid is van die ewige God.
10. Ek erken dat ons dán eers regverdig is wanneer ons aan Christus deel het. Hy woon in ons hart en verenig ons op dié wyse met Homself. Maar hierdie vereniging van die lede van die liggaam met die Hoof, Christus, is iets totaal anders as die vermenging wat Osiander leer. Vir sy bewering beroep hy hom ten onregte op die woorde van die apostel Petrus: ” … sodat julle daardeur deelgenote kan word aan die goddelike natuur” (2 Petr 1:4). Asof ons nou al is wat ons eers met die wederkoms van Christus sal wees, soos Johannes getuig dat ons “aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Joh 3:2).
11. In die tweede deel van sy leer steek nog groter gevaar. Hy beweer naamlik dat ons saam met God regverdig is. Hy spot met hulle wat beweer dat die woord regverdigmaking aan die regspraak ontleen is. Ons moet tog metterdaad regverdig wees, sê hy. Hy verwerp geheel en al die gedagte van regverdigmaking deur onverdiende toerekening. Maar as God ons dan nie regverdig maak deurdat Hy ons vryspreek en ons vergifnis van sondes skenk nie, wat beteken dan die woorde van Paulus dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hulle misdade nie toe te reken nie: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak” (2 Kor 5:19,21)?
Hulle word dus vir regverdig gehou wat met God versoen word. Die wyse waarop dit geskied, word daarby gevoeg, naamlik dat God regverdig deur vergifnis van sondes te skenk. Op ‘n ander plek word die regverdigmaking teenoor die beskuldiging gestel. Hierdie {276} teëstelling bewys duidelik dat die woord regverdigmaking aan die regspraak ontleen is. Dawid sê ook: “Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe is” (Ps 32:1; vgl. Rom 4:7). Hieruit blyk dat die vergewing van die sondes nie maar ‘n deel van die regverdigmaking is of daartoe bydra nie maar dat die hele regverdigmaking daarin bestaan dat die skuld nie toegereken word nie.
Hierteenoor beweer Osiander dat dit tot oneer van God sou wees en teen sy natuur sou stry, as Hy hulle regverdig maak wat metterdaad sondaars bly. Maar ons moet die genade van die regverdigmaking nie van die wedergeboorte skei nie, al moet ons hulle ook onderskei. Laasgenoemde begin God in sy uitverkorenes só, en Hy gaan daarmee hulle hele lewe só voort en soms langsaam, dat hulle altyd voor sy regterstoel aan die oordeel van die dood onderworpe is. Maar die regverdigmaking bewerk Hy nie ten dele nie maar só dat hulle vrymoedig in die hemele verskyn, beklee met die onskuld van Christus. Die onderskeid tussen wedergeboorte en regverdigmaking beskryf die apostel Paulus so mooi in hoofstukke 7 en 8 van die brief aan die Romeine. As hy spreek oor sy werklike regverdigheid, kla hy: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom 7:24). Maar as hy sy toevlug neem tot die regverdigmaking, wat alleen in God se barmhartigheid geleë is, dan roep hy uit: “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel?” ens. (Rom 8:33 e.v.). Osiander se teëwerping dat regverdigmaking in die sin van onverdiende toerekening strydig is met die natuur van God, kom op sy eie hoof terug. Want hy moet tog erken dat sonder vergewing van sondes niemand God kan behaag nie. Maar as dit waar is, dan moet hy ook toegee dat dit vasstaan dat mense vir regverdiges gehou word wat dit metterdaad nie is nie. Dit is maar goed dat hy in hierdie saak nie die skeidsregter is nie maar dat die Woord van die HERE vas bly staan: “Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil wees” (Ex 33:19).
12. Osiander beweer dat ons nie genade by God verkry alleen deur toerekening van Christus se geregtigheid nie. God kan nie vir regverdig hou die wat dit nie is nie. Daaruit konkludeer hy dat Christus ons nie na sy menslike natuur nie maar na sy goddelike natuur tot geregtigheid gegee is en dat hierdie geregtigheid nie die geregtigheid van ‘n mens is nie maar van God. Op hierdie wyse sluit hy die menslike natuur van Christus heeltemal uit van die werk van die regverdigmaking.
Dis die moeite werd om te sien hoe hy stry. Hy sê dat Christus tot wysheid geword het. Dit pas net op die ewige Woord. Maar daarom is Christus ook nie as mens ons geregtigheid nie (1 Kor 1:30). Ek antwoord dat die eniggebore Seun van God wel God se ewige Wysheid is. Paulus ken egter die naam op ‘n ander wyse {277} hier aan Hom toe, naamlik omdat in Hom al die skatte van wysheid en kennis verborge is (Kol 2:3). Wat Hy by die Vader gehad het, dit het Hy aan ons geopenbaar. Wat Paulus sê, het dus geen betrekking op die wese van die Seun nie maar op ons voordeel en word met reg op Christus se menslike natuur toegepas. Só het Hy ook in die duisternis as lig vóór sy vleeswording geskyn. Tog was die lig verborge totdat Christus die natuur van ‘n mens aangeneem het (Joh 8:12). Ons verdeel Christus dus nie, soos Osiander beweer dat ons doen nie. Ons beroof Hom ook nie van die eer wat Hom toekom nie. Ons ontken ook nie dat die geregtigheid wat Hy ons bring, die geregtigheid van God is nie. Ons leer alleen hoe dit ons deel word, naamlik dat ons die geregtigheid het in sy dood en opstanding. Ons beweer verder dat elkeen wat ‘n tweevoudige geregtigheid leer, sodat die arme siele nie net in die barmhartigheid van God rus sal vind nie, Christus spottend met ‘n kroon van dorings kroon.
13. Sommige spreek van ‘n regverdigheid wat uit die geloof en uit die werke saamgestel is. Maar daar is ‘n groot verskil tussen regverdig uit die geloof en regverdig deur die werke. As die een van krag is, kan die ander een nie terselfdertyd ook geld nie. Die apostel sê dat hy alles prysgee en as drek beskou om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met sy geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met die wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof (Fil 3:8-9).
Dit was dan ook die oorsaak van die val van die Jode, dat hulle hulle eie geregtigheid probeer oprig het en hulle nie aan die geregtigheid van God onderwerp het nie (Rom 10:3).
14. Die baasvervalsers van die Skrif versin hier ‘n skerpsinnige uitvlug. Hulle sê dat Paulus (bv. Rom 4:2; Rom 8:27) spreek van werke van onwedergebore mense wat hulle deur hulle eie vrye wil sonder die genade van Christus doen. Dit het egter nie op die geestelike werke betrekking nie. Op dié wyse word die mens geregverdig sowel deur die geloof as deur die werke, as dit maar nie sy eie werke is nie maar gawes van Christus en die vrugte van die wedergeboorte. Paulus spreek só, sê hulle, omdat hy die Jode wil oortuig dat alleen die Gees van Christus, en nie ons eie ywer nie, ons die geregtigheid skenk: Maar hulle merk nie op nie dat Paulus op ‘n ander plek alle werke uitsluit, hoe hulle ook mag wees en met watter naam hulle ook genoem mag word (Gal 3:11-12). Die geregtigheid wat uit die wet is, beskryf Moses met hierdie woorde: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe”[4]. Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, bestaan daarin dat die mens glo dat Christus gesterf en opgestaan het. Hieruit volg dat selfs die geestelike werke nie in aanmerking kom as aan die geloof die krag toegeskrywe word om regverdig te maak nie. Selfs Abraham se werke was nie {278} voldoende om hom voor God te regverdig nie (Rom 4:2 e.v.).
15. Ons bely saam met Paulus dat die wat die wet volbring, regverdig is by God maar ook dat ons die wet in die geheel nie onderhou nie. Die werke baat ons dus niks nie. Die pousgesindes bedrieg hulleself in tweërlei opsig. Ten eerste noem hulle die geloof ‘n versekerdheid van die gewete waardeur ons van God loon vir ons verdienste verwag. Ten tweede verstaan hulle onder genade nie die toerekening van onverdiende geregtigheid nie maar die Gees wat die mens help om heiligheid na te jaag. Die regverdigmaking volg dus op die heiligmaking. So beland hulle in ‘n soort Pelagianisme.
16. Maar as die Skrif oor die regverdigheid uit die geloof spreek, voer dit ons in ‘n ander rigting. Dit leer ons om nie op ons eie werke te sien nie maar alleen op die barmhartigheid van God en die volmaakte offerande van Christus. Uit loutere en onverdiende goedheid neem God die sondaar aan. Hy merk niks in hom op wat Hom tot barmhartigheid kan beweeg nie, behalwe sy ellende, en neem uit Homself oorsaak om aan hom goed te doen, sodat die sondaar sy saligheid in God se barmhartigheid sal laat rus en nie in sy werke nie.
17. Hier moet ons weer let op die verhouding van geloof en evangelie tot mekaar. Ons sê dat die geloof daarom regverdig omdat dit die geregtigheid aanvaar wat in die evangelie aangebied word. En as gesê word dat dit deur die evangelie aangebied word, word daarmee die inagneming van die werke uitgesluit (vgl. bv. Rom 10:5,9; Gal 3:18). Die wet het ook sy beloftes, maar hulle verskil van die beloftes van die evangelie. Eersgenoemde stel as voorwaarde dat die werke van die wet gedoen sal word; laasgenoemde is onverdiend en steun alleen op die barmhartigheid van God. Hierteen moet niemand inbring dat alleen dié geregtigheid verwerp word wat die mense uit eie krag en uit eie vrye wil aan God wil opdring nie. Die liefde is die vervulling van die wet. Waarom regverdig dit ons dan nie voor God nie? Die vraag klem te meer omdat die Heilige Gees die liefde in ons werk. Die antwoord daarop is dat dit selfs in die allerheiligstes nog onvolmaak is en daarom op sigself niks kan verdien nie.
18. Die tweede plek is Gal 3:11-12: “En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe. Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe”. Hoe kan hierdie argument opgaan as dit nie vasgestaan het dat by die geloof die werke nie gereken word nie maar heeltemal afgesonder word daarvan? Uit hierdie vergelyking blyk dus dat hulle wat deur die geloof geregverdig word, sonder, ja, geheel en al buite die verdienstelikheid van die werke geregverdig word, omdat die geloof die regverdigheid ontvang wat die evangelie skenk; d.w.s. die {279} regverdigheid wat alleen op die barmhartigheid van God rus. Waar werke is, word die verskuldigde loon betaal; wat aan die geloof geskenk word, is onverdiend (Rom 4:2; vgl. ookRom 3:21 e.v.). Paulus sluit die werke uit en sê dat ons ledig nader om die regverdigheid te ontvang.
19. Hulle durf nie ontken dat die mens deur die geloof geregverdig word nie, want die Skrif leer dit deurgaans. Maar, sê hulle, die Skrif sê nêrens uitdruklik dat dit alleen deur die geloof geskied nie. Maar wat beteken dan hierdie woorde van Paulus: “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet”, en: “En hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is” (Rom 3:21,24)? Hulle sê dat hier gehandel word oor die werke van die seremoniële wet maar nie oor die van die sedewet nie. Maar sou hulle werklik durf beweer dat Paulus die lewe aan die vervulling van die seremoniële wet bind en met die dood dreig die wat dit nie vervul nie (Gal 3:10,12)? Dis duidelik dat hier van die sedewet gespreek word en gesê word dat die mens nie deur die werke van die wet geregverdig word nie. (Vgl. ook Rom 3:20; Rom 4:15; Gal 3:21 e.v.).
20. Waarom die apostel deurgaans van die werke van die wet spreek, is duidelik. Die werke verkry hulle waarde deur die goedkeuring van God. Wie sal waag om loon oor die werke te eis as God dit nie beloof het nie?
Waardeloos is ook hulle skerpsinnigheid dat ons alleen deur dié geloof geregverdig word wat deur die liefde werk. Op die wyse sou die regverdigheid op die liefde steun. Saam met Paulus erken ons graag dat geen ander geloof regverdig maak nie as net dié geloof wat deur die liefde werk. Maar sy krag om te regverdig ontleen die geloof nie aan die liefde nie maar deurdat dit ons in gemeenskap bring met die regverdigheid van Christus. Anders sou die hele bewysvoering van die apostel (Rom 4:4-5) verval. Die geloof word dán eers tot geregtigheid gereken as die regverdigheid geskenk word uit genade wat nie verskuldig is nie.
21. Ons moet nou ook die waarheid van die stelling ondersoek dat die regverdigheid uit die geloof die versoening met God is en dat dit alleen in die vergewing van die sonde geleë is. Ons moet altyd terugkeer na die grondreël dat die toorn van God op almal rus wat in hulle sonde volhard (vgl. Jes 59:1-2). Hier word duidelik geleer dat die sonde skeiding maak tussen die mens en God en oorsaak is dat God sy aangesig van die mens afwend. Dit kan ook nie anders nie. Sy regverdigheid eis dat Hy niks met die sonde te doen wil hê nie. Daarom leer die apostel dat die mens God se vyand is, totdat hy deur Christus in genade herstel word (Rom 5:8). Dit staan dus vas dat hulle wat God aanneem, geregverdig word deurdat hulle deur vergewing van die sondes van die smette {280} van die sonde gereinig word. Só ‘n regverdigmaking kan met één woord die vergewing van die sonde genoem word.
22. Dit blyk duidelik uit wat die apostel in 2 Kor 5:19-21 sê. Hier word regverdigheid en versoening deurmekaar gebruik. Hy leer ook hoe die regverdigheid verkry word. Dit geskied deurdat die sonde nie toegereken word nie. Só getuig hy ook dat die regverdigheid die mens toegereken word sonder die werke (Rom 4:6). Dit bestaan in die vergifnis van die sondes. Vergelyk verder Luk 1:77; Hand 13:38. Alleen hulle is regverdig wat vergifnis uit barmhartigheid verkry het.
23. Hieruit volg ook dit dat ons alleen deur die tussenkoms van Christus se geregtigheid voor God regverdig is. Dit is dieselfde asof daar gesê word dat die geregtigheid van Christus deur toerekening die mens meegedeel word. Daarmee is ook weerlê die versinsel asof die mens dáárom deur die geloof geregverdig word omdat die geloof hom ‘n deelgenoot maak van die Heilige Gees, waardeur hy dan geregverdig word. Daar kan nie aan getwyfel word dat hy geen geregtigheid besit vir wie geleer word dat hy dit buite homself moet soek nie. En dit betuig die apostel baie duidelik in 2 Kor 5:21: “God het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom”. U sien dat ons geregtigheid in Christus geleë is en nie in ons nie en dat dit ons deel word omdat ons deel het aan Christus, wie se gehoorsaamheid ons toegereken word.
HOOFSTUK XII. Ons moet ons harte ophef na die regterstoel van God om grondig oortuig te word hoe onverdiend die regverdigmaking is
1. Wat is nou die fondament van die hele leer? In die eerste plek moet ons in gedagte hou dat hier nie gehandel word oor ‘n regverdigheid wat voor die menslike regbank kan bestaan nie, maar oor een wat voor God se regterstoel sal kan stand hou. En ons moet dit doen sodat ons dit nie sal waag om te bepaal hoe suiwer die werke moet wees om aan die oordeel van God te voldoen nie.
Dis wonderlik hoe ligsinnig en vermetel dit gewoonlik gedoen word. Mense wat die gruwelikste sondes doen, praat met ‘n groot mond oor regverdigmaking op grond van die werke. Dit kom daarvandaan dat hulle nie bedink dat God só regverdig is dat niks vir Hom aangenaam is wat nie in alle opsigte suiwer en volmaak is nie. {281} So ‘n volmaaktheid is nog nooit in ‘n mens gevind nie en sal ook nooit in een gevind word nie. Dit is natuurlik maklik om in die studeerkamers te praat oor die verdienstelikheid van die werke, maar as ons voor God verskyn, sal dit alles verdwyn. Hoe sal ons die hemelse Regter antwoord as Hy ons tot verantwoording roep? Laat ons ons die Regter voor oë stel nie soos ons Hom vir ons voorstel nie maar soos Hy Homself in die Skrif openbaar. Deur sy glans word die sterre verduister, en deur sy krag smelt die berge weg. Deur sy toorn word die aarde geskud, en voor sy reinheid word alle dinge onrein. Hy hou die skuldige nie onskuldige nie, en sy wraak dring deur tot in die diepte van die hel. Wie sal met ‘n geruste hart voor sy troon verskyn as Hy gaan sit om die dade van die mense te ondersoek? Wie kan woon by ‘n verterende vuur? Wie kan woon by ‘n ewige gloed (Jes 33:14)? Sou ‘n sterfling regverdig wees voor God? Of ‘n man rein wees voor sy Maker (Job 4:17; vgl. ookJob 15:15-16)? Al sou iemand ook aan die eise van die wet voldoen, sou hy tog nie kan bestaan voor die ondersoek van die regverdigheid wat alle besef ver te bowe gaan nie (Deut 27:26).
2. Hierheen moet ons ons oë ophef, sodat ons sal leer om te bewe en nie te roem nie. Dit is maklik vir die mens om te roem dat hy iets besit wat ander nie behoort te minag nie maar as hy homself voor God stel, stort die selfvertroue inmekaar en vergaan. Dit gaan met ons siel teenoor God soos dit met die oog in die gewone lewe gaan. Solank ons die dinge rondom ons op aarde aanskou, mag ons miskien dink dat ons baie goed sien, maar as ons in die son kyk, word ons verblind en merk ons hoe swak ons oog is.
Laat ons ons nie bedrieg deur ‘n nietige selfvertroue nie. Al dink ons ook dat ons net soos ander is of beter, beteken dit alles niks voor God nie. As ons oormoedigheid nie hierdeur bedwing word nie, sal Hy ons antwoord wat Hy vir die Fariseërs gesê het: “Dit is julle wat julself regverdig voor die mense … ; wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God” (Luk 16:15). Die diensknegte van God wat deur die Heilige Gees onderwys is, beroem hulle nie op hulle regverdigheid voor die mense nie maar hulle bid: “Gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie” (Ps 143:2; vgl. ook Job 9:2).
3. Ons vind dergelike voorbeelde nie net in die Skrif nie; al die gelowige skrywers toon aan dat hulle van dieselfde gevoele is. Augustinus, byvoorbeeld sê: “Dit is die enigste hoop van al die vromes, wat sug onder die las van die sondige vlees en die swakheid van die lewe, dat ons ‘n Middelaar het, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes”. En Bernardus sê: “Daarom is die ontferming van die Here my verdienste. Ek is nie gans en al sonder verdienstes nie, so lank as Hy nie sonder {282} ontferminge is nie … Ek sal Christus se geregtigheid gedenk, want dit is ook myne”.
4. Ja, só is dit inderdaad. Die verontruste gewete besef dat dit die enigste toevlugsoord vir hom is as dit met die oordeel van God te doen kry. Want as die sterre, wat snags helder skyn, verdof wanneer die son verskyn, wat sal daar dan van die allervoortreflikste onskuld van die mens word as dit teenoor die heiligheid van God gestel word? Want die ondersoek sal streng wees. Dit sal die bedoelinge van die harte openbaar maak en die verborge dinge van die duisternis in die lig bring (1 Kor 4:5). Dit sal die weerstrewige gewete dwing om alles te voorskyn te bring wat nou uit die geheue verdwyn het. Die aanklaer, die duiwel, sal ons in die noute bring, omdat hy kennis dra van al die misdrywe wat ons onder sy aanstokery gedoen het. Daar sal die vertoning van die goeie werke niks baat nie, omdat ‘n opregte wil geëis word.
Alle huigelary sal daar beskaamd neerval. Wie nie só aan die oordeel van God dink nie, kan ‘n oomblik lank aan homself regverdigheid toeskrywe, maar dit sal deur die oordeel van God uit hom gedrywe word, soos skatte waarvan ons gedroom het, verdwyn as ons wakker word. Maar wie onder die oog van God ondersoek instel na die ware regverdigheid, sal vind dat selfs ons allerbeste werke niks anders as ‘n besoedelde kleed is nie.
5. Ons moet ons dus sonder enige selfbedrog ondersoek. Dis geen wonder dat ons so blind is nie, want niemand van ons is op sy hoede om nie jeens homself toegeeflik te wees nie. Só getuig die Skrif aangaande elke mens: “Elke weg van ‘n mens is reg in sy oë” (Spr 21:2; Spr 16:2). Maar word hy daarom vrygespreek al bedrieg hy homself? Inteendeel. Salomo voeg daaraan toe: “maar die HERE toets die harte”. Laat ons ons daarom nie tot ons eie ondergang bedrieg nie maar ons voor die regterstoel van God stel. Sy lig sal al ons verborge booshede openbaar. Dan sal ons ook die waarheid van Job se woorde ondervind (Job 15:16) en saam met hom getuig: “Al was ek regverdig, my eie mond sou my veroordeel” (Job 9:20). Want op ons almal het die woorde van Jesaja betrekking dat ons almal soos skape gedwaal het en dat elkeen maar sy eie pad geloop het (Jes 53:6). Die ondersoek moet vervolgens sover gaan totdat ons geheel en al verslae is. Dan eers het dit ons voorberei om die genade van Christus te ontvang. Bekend is die uitspraak dat God die hoogmoediges weerstaan maar aan die nederiges genade gee (1 Petr 5:5).
6. Daar is maar net een manier om onsself te verneder. En dit is om plek te maak vir God se barmhartigheid. Dit wil sê dat ons in onsself arm en leeg moet wees. Want ek noem dit geen nederigheid as ons meen dat daar nog iets goeds in ons oorgebly het nie. Dis ‘n verderflike geveinsdheid wat leer dat ons gering van onsself {283} moet dink voor God maar wat prysenswaardig in ons is, in waarde moet hou. Die profeet sê dat God die verdrukte volk verlos (Ps 18:28). As u dus deel wil hê aan die verlossing, bedink dan dat die saligheid alleen vir die nederiges berei is en dat nederigheid nie maar ‘n bietjie beskeidenheid is nie maar ‘n ongeveinsde vernedering van die gemoed wat deur ‘n opregte besef van sy ellende en armoede terneergeslaan is. Só word dit oral in Gods Woord beskrywe (Sef 3:11; Jes 57:15; Jes 66:2).
7. In ‘n gelykenis het Christus bowendien vir ons die ware nederigheid geteken (Luk 18:9-14). Die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie maar het met groot weeklag gebid: “o God, wees my, sondaar, genadig”. Dit was geen geveinsde beskeidenheid nie maar die gesindheid van sy hart. Teenoor hom stel Hy die Fariseër wat God dank dat hy nie soos die ander mense is nie: rowers, onregverdiges ens. Hy erken dat die geregtigheid wat hy besit, ‘n gawe van God is, maar omdat hy vertrou dat hy regverdig is, gaan hy weg van God se aangesig, onwelgevallig en gehaat. Maar die tollenaar word geregverdig deur die belydenis dat hy geen geregtigheid besit nie. Hieruit sien ons hoe welgevallig ons nederigheid voor God se aangesig is. Die hart staan eers dan oop om sy barmhartigheid te ontvang as dit heeltemal leeg is van alle inbeelding van eie waardigheid. Daarom is Christus deur die Vader gestuur om aan armes die evangelie te verkondig, om die treurendes te troos en te genees die wat gebroke is van hart (Jes 61:1 e.v.). Volgens die bevel nooi Hy na Hom toe uit almal wat vermoeid en belas is, om aan sy weldadigheid deel te hê (Mat 11:28).
8. As ons daarom aan die roepstem van Christus gehoor wil gee, moet ons alle hovaardigheid sowel as alle sorgloosheid ver van ons wegdrywe en ons haas na Christus om, leeg en hongerig in onsself, met sy goedere vervul te word. Nooit sal ons na behore op Hom vertrou nie, tensy ons ons self geheel en al wantrou. Want in sover iemand nog op homself vertrou, in dieselfde mate staan hy die barmhartigheid van God teë, wat alleen hom kan red.
HOOFSTUK XIII. By die onverdiende regverdigmaking moet op twee sake gelet word
1. Hier moet ons veral op twee dinge let. Die eerste is dat die eer van die Here onaangetas en ongeskonde sal bly. Die tweede {284} is dat ons gewete voor sy oordeel ‘n kalme vrede en ongesteurde rus sal besit.
As dit oor die regverdigmaking gaan, spoor die Skrif ons gedurig en baie ernstig aan om aan God alleen die lof daarvoor te gee. Die apostel getuig selfs (Rom 3:25) dat toe die Here ons in Christus geregverdig het, Hy hierdie doel gehad het, nl. om sy geregtigheid te bewys. En dan voeg hy daaraan toe: “sodat Hyself regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is”. God alleen moet vir regverdig gehou word, omdat Hy die genade van regverdigmaking meedeel aan mense wat dit nie verdien nie. Daarom wil Hy dat elke mond gestop sal word. Want so lank as die mens nog iets het wat hy tot sy verdediging kan inbring, gaan daar iets van God se eer af. Deur ons ongeregtigheid te erken verheerlik ons sy Naam (Eseg 20:43). So ook gee Jeremia Jer 9:23) te kenne dat daar iets van God se eer verlore gaan as die mens in homself roem.
2. So is dit ongetwyfeld. Ons roem nooit waarlik in Hom voordat ons nie geheel en al van ons eie eer afstand gedoen het nie. Ons moet dit as algemene reël vashou dat elkeen wat in homself roem, teen God roem. Paulus sê (Rom 3:19) dat die hele wêreld dán eers voor God doemwaardig is, as elke mond gestop is. Hierteen moet niemand inbring dat hy nie roem nie, as hy sonder enige aanmatiging sê dat hy regverdig is. Want so ‘n selfwaardering wek vertroue, en vertroue laat roem. Laat ons dus by die behandeling van hierdie saak dit altyd in die oog hou dat die eer vir ons regverdigmaking ongeskonde aan die Here gelaat moet word (Rom 3:26; Ef 1:6; Ef 2:8; 1 Petr 2:9). Dis die hoofsaak dat die mens geen korreltjie regverdigheid vir homself kan toe-eien sonder om heiligskennis te pleeg nie.
3. As ons nou vra op watter wyse die gewete voor God tot rus gebring kan word, is daar geen ander manier as net dit nie dat die onverdiende regverdigmaking ons as ‘n gawe van God geskenk word. Laat ons altyd dink aan die woord van Salomo: “Wie kan sê: Ek het my hart suiwer gehou, ek is rein van my sonde?” (Spr 20:9).
Daar is voorwaar niemand wat nie deur ‘n stroom van onreinheid oorweldig word nie. As selfs die allervolmaakste sy eie gewete ondersoek en sy dade in gedagtenis bring, sal hy vind dat sy sake met God in orde is? Sal hy nie veeleer deur vreeslike kwellinge verskeur word as hy opmerk dat hy die stof tot sy veroordeling in homself omdra nie? As die gewete op God sien, moet dit vrede hê met sy oordeel of deur verskrikkinge van die hel gefolter word. Ons moet dus ‘n sodanige belydenis van die regverdigmaking hê wat deur sy onwankelbaarheid ons siel in God se oordeel ondersteun. “As die belofte van die erfenis uit die wet is, het die geloof {285} waardeloos geword en die belofte tot niet geraak”, sê Paulus (Rom 4:14). Elkeen kan vir homself hiervan getuig. Die gelowige wat in opregtheid homself ondersoek, word deur angs gekwel. Want hy merk op dat hy deur ‘n groot skuldelas gedruk word en in die verste verte nie die voorwaardes vervul het wat hom opgelê was nie, Dan is die geloof alreeds onderdruk en uitgeblus. Want om te glo beteken om nie te twyfel of onseker te wees nie maar om gerus te wees en iets te hê waarop ons steun.
4. In die tweede plek sê Paulus dat die belofte tot niet sal raak. Want as die vervulling van die belofte van ons verdienstelikheid sou afhang, wanneer sal ons sover gevorder het dat ons God se weldadigheid verdien het? Dit volg logies uit die eerste lid. As die geloof waardeloos geword het, sal ook die belofte sy krag verloor. Daarom is die erfenis uit die geloof, sodat dit deur genade sal wees om die belofte vas te maak. En dit is alleen vas as dit op die barmhartigheid van God steun, want wat Hy in sy barmhartigheid belowe, volbring Hy in sy getrouheid (Ps 119:76). Hierop moet ons al ons hoop vestig en nie op ons werke sien om van hulle enige hulp te verwag nie.
Laat ons dit kortliks só saamvat: Die Skrif toon aan dat die beloftes van God alleen dán vasstaan as hulle deur ‘n vaste vertroue van die gewete aangegryp word. Waar twyfel of onsekerheid heers, daar verloor hulle hulle krag. Verder verklaar die Skrif dat hulle hulle krag verloor as hulle op ons werke steun. Een van twee: ons geregtigheid moet tot niet gaan, òf ons werke moenie in aanmerking kom nie. Dit wil sê, daar moet alleen vir die geloof plek wees. En dié rig hom alleen op die belofte en wend die gedagte af van alle waardigheid of verdienstelikheid van die mens. Daarom word Christus die Koning van die vrede en ons vrede genoem (Jes 9:6; Ef 2:14), omdat Hy alleen al die beroeringe van die siel stilmaak deur sy selfofferande waardeur God versoen is.
5. Paulus sê dat ons alleen dan vrede het as ons dit vir vas aanneem dat ons deur die geloof geregverdig word (Rom 5:1). En waarvandaan die sekerheid kom, sê hy ook, nl. omdat die liefde van God deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort is (Rom 5:5). Daarom roep hy ook uit: “Wie sal ons skei van die liefde van God wat in Christus Jesus is?” (Rom 8:34). As ons dit nie kan sê nie, sal ons in gedurige vrees lewe. Hulle wat sê dat ons deur die geloof geregverdig word omdat ons, nadat ons wedergebore is, regverdig is omdat ons geestelik lewe, het nog nooit die lieflikheid van die genade gesmaak nie. Hulle ken ook die lieflike Vadernaam nie en die heerlikheid om te mag bid: “Abba, Vader” (Gal 4:6; vgl. ook Ef 3:12). Hierdie vrymoedigheid waarvan die apostel hier spreek, ontvang ons nie uit die wedergeboorte nie, want dié is hier altyd onvolmaak. Daar is maar net een uitweg: gelowiges {286} hou hieraan vas dat hulle die hemelse koninkryk alleen beërwe omdat hulle in die liggaam van Christus ingelyf is en uit genade vir regverdig gehou word. Wat die regverdigmaking betref, is die geloof suiwer passief. Dit bring uit homself niks by om God se genade te verdien nie maar ontvang van Christus wat dit nie het nie.
HOOFSTUK XIV. Die begin van die regverdigmaking en sy gedurige voortgang
1. Ons ondersoek nou hoe die mens gedurende sy hele lewe regverdig kan wees.
Laat ons die mense in vier groepe verdeel. Daar is die wat geen kennis van God besit nie en in afgodery versink lê. Ander weer is in die leer ingewy maar verloën God deur hulle sondige lewe. Hulle is net in naam Christene. Weer ander is huigelaars wat die boosheid van hulle hart met ‘n vroom skyn bedek. En dan is daar die wat deur die Gees van God wedergebore is en heilig wil lewe.
By die eersgenoemdes sal niks goeds gevind word nie. Die Skrif sê dat al die versinsels wat hulle in hulle hart bedink, net sleg is; dat daar geen vrees van God voor hulle oë is nie, ens. (Jer 17:9; Gen 8:21; Ps 14:2; Ps 94:11). Hulle is vlees (Gen 6:3). Hieronder moet ons al die sondige werke verstaan wat Paulus opnoem (Gal 5:19). En as sommige van hulle miskien eerbaar lewe, moet ons ons tog nie deur die skyn laat bedrieg nie maar vra uit watter gesindheid van die hart sulke werke voortkom.
2. Ek ontken nie dat al die uitnemende gawes wat ons in die ongelowiges sien, geskenke van God is nie. Ek beweer nie dat daar geen onderskeid is tussen die regverdigheid en matigheid van Titus en die onmatigheid en wreedheid van Nero nie. Die Here het so ‘n onderskeid tussen eerbaarheid en skandelikheid in die harte van die mense gelê en Hy hou dit deur sy voorsienige bestel in stand. Hierdeur verdien hulle niks nie. Dit behaag God alleen om deur die tydelike seëninge wat Hy hulle skenk, te toon dat Hy geregtigheid liefhet.
3. Tog is dit waar wat Augustinus sê dat almal wat van die ware diens van die enige God vervreemd is, geen beloning verdien nie maar straf, omdat hulle die suiwer gawes van God deur die onreinheid van hulle hart besmet. Want al is hulle instrumente van God om die menslike samelewing in stand te hou deur hulle regverdigheid, soberheid, matigheid en vriendelikheid, volbring hulle tog hierdie goeie werke van God op ‘n slegte manier. Hulle word {287} nie deur ‘n opregte begeerte na die goeie aangedryf nie maar deur eersug of selfsug of ‘n ander verkeerde gesindheid van die hart. Die oorsprong van hulle werke is dus onsuiwer. En ook hulle doel is verkeerd, omdat dit nie op God gerig is nie. By hulle word dus nie ware geregtigheid gevind nie.
4. Bowendien, as dit waar is wat Johannes sê (1 Joh 5:12) dat wie die Seun van God nie het nie, die lewe nie het nie, gaan hulle tog, wie hulle ook mag wees en wat hulle ook mag gedoen het, die ewige dood tegemoet. Hulle is slegte bome, want sonder gemeenskap met Christus is daar geen heiligmaking nie. Hulle kan dus wel vrugte dra wat mooi is om na te kyk en ook heerlik smaak, maar hulle is nie goed nie. As die mens nie met God deur die geloof versoen is nie, kan hy Hom nie behaag nie (Hebr 11:6) en verdien alles wat hy bedink en doen, om vervloek en veroordeel te word.
5. Maar die saak word nog duideliker as ons teenoor die natuurlike toestand van die mens die genade van God stel. Want die Skrif getuig oral dat God niks in die mens vind wat Hom sou beweeg om aan hom goed te doen nie, maar dat Hy Hom met onverdiende goedheid teëkom. Ons is dood en kan onsself nie lewend maak nie. Dit is God wat ons uit die dood lewend maak as Hy ons met sy kennis verlig (Joh 5:25; Rom 4:17; Ef 2:4). As ons niks is nie, wat kan ons dan doen? (Rom 11:35). Niemand kan hom daarop beroem dat hy deur sy regverdigheid God beweeg het nie. Ons kan maar eers goed doen as ons wedergebore is. Laat ons bely dat ons deur God geroep is met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is (2 Tim 1:9), sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe (Tit 3:7). Christus het nie gekom om regverdiges te roep nie maar sondaars (Mat 9:13). As alleen sondaars toegelaat word, waarom sal ons dan soek om deur ingebeelde geregtighede toegang te verkry?
6. Die vrees bekruip my soms dat ek onreg doen aan God se barmhartigheid, omdat ek so my bes doen om dit te verdedig asof dit ‘n twyfelagtige saak is. Maar ons is so verdorwe dat ons God altyd wil ontneem wat Hom toekom. Daarom moet dit met krag neergeslaan word. Jesaja beskrywe die verdorwenheid van die menslike geslag en sy herstel mooi in hoofstuk 59:15. Let daarop dat die profeet sê dat niemand die Here help om sy saligheid te verkry nie. Waar is ons geregtighede dan? Vergelyk ook Hos 2:19,23. As die verbond, wat ons eerste verbinding met God is, op sy barmhartigheid steun, dan het ons eie geregtigheid geen fondament nie. Ek sal graag van hulle wat dit so voorstel dat die mens met geregtigheid deur sy werke God tegemoetgaan, wil weet of {288} God se vyande Hom iets kan toebring wat vir Hom aangenaam kan wees? Ons is almal uitgesproke doodsvyande van God totdat ons as vriende aangeneem word nadat Hy ons geregverdig het. As die regverdigmaking die begin van die liefde is, watter geregtigheid op grond van die werke kan daaraan voorafgaan? Johannes sê dat ons God nie eerste liefgehad het nie (1 Joh 4:10; vgl. Hos 14:5). As God ons vrywillig liefhet, word sy liefde voorwaar nie deur ons werke opgewek nie. Ook al is ons deur Christus verlos, is ons tog nog duisternis en erfgename van die dood totdat ons deur die roeping van die Vader in die gemeenskap met Christus ingelyf word deur die Heilige Gees (1 Kor 6:11; 1 Petr 1:2). Dit staan dus vas dat die begin van ons saligheid ‘n opstanding is soos uit die dood tot die lewe. En dit geskied wanneer dit ons om Christus ontwil gegee word om in Hom te glo.
7. Hieronder val nou ook die tweede en derde groep mense wat ek genoem het. Want die onsuiwerheid van die gewete bewys dat hulle nog nie deur God se Gees wedergebore is nie. Daarom besit hulle ook geen geloof nie. En daaruit blyk dat hulle nog nie met God versoen en regverdig voor Hom is nie. Want daartoe kom ons alleen deur die geloof. Wat anders kan sondaars wat van God vervreemd is, voortbring as net wat vir Hom verfoeilik is (Hag 2:12 e.v.)? Hulle bedrieg hulleself maar as hulle dink dat die mooi skynende werke wat hulle soms doen, deur God nie versmaad moet word nie. Hy sê dat daar geen heiligmaking is sonder dat die hart gesuiwer is nie.
8. Laat die huigelaars nou let op Jes 1:13 e.v. En laat hulle dan hulle bes doen om God deur hulle werke vir hulle te win. Hulle sal Hom daardeur nog meer terg, want selfs die offer van die goddelose is vir die HERE ‘n gruwel (Spr 15:8). Volkome na waarheid is daar gesê dat die mens geen genade by God verdien deur die werke nie, maar dat inteendeel die werke God dan eers behaag, as die mens genade in sy oë gevind het (Gen 4:4). Alleen die geloof reinig die hart (Hand 15:9). God sien dus eers die mens aan en dan sy werke, en nie omgekeerd nie.
9. Laat ons nou ondersoek watter geregtigheid hulle besit wat ons in die vierde plek genoem het. Ons bely dat God ons met Hom versoen deur die tussenkoms van Christus se geregtigheid, dat Hy ons begiftig met die genadige vergewing van die sondes en ons só vir regverdig hou. Aan hierdie barmhartigheid verbind Hy hierdie weldadigheid dat Hy deur sy Heilige Gees in ons woon, wat die begeertes van ons vlees elke dag meer en meer doodmaak en ons heilig tot ware lewensreinheid deurdat Hy ons hart vorm tot gehoorsaamheid aan die wet. Dan is dit ons wil om sy wil te dien en sy eer op elke moontlike manier te bevorder. Tog bly daar nog oorblyfsels van die, onvolmaaktheid in ons oor, ook al wandel {289} ons op die weë van die Here, gelei deur die Heilige Gees. Dit geskied om ons nederig te hou. “Daar is geen mens wat nie sondig nie”, sê die Skrif (1 Kon 8:46). Watter geregtigheid sal hulle dan nog uit hulle werke verkry? Selfs die beste werke is nog altyd verdorwe deur die onreinheid van die vlees, en verdien regverdiglik om deur God versmaad te word.
10. Maar al sou dit ook kon gebeur dat ons enige volmaakte werke gehad het, is één sonde nogtans voldoende om elke gedagtenis aan vroeëre regverdigheid uit te wis, want “wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword” (Jak 2:10; Eseg 18:24). Aangesien hierdie lewe nooit vry van sonde is nie, sou alle geregtigheid wat ons verdien het, deur die sonde wat daarop volg, vernietig word en ons nie tot geregtigheid gereken kan word nie.
Eindelik moet ons in gedagte hou dat die wet van ons gedurige gehoorsaamheid eis en nie maar ‘n enkele regverdige daad nie. Daarom reken God ons die vergewing van die sondes nie maar een maal toe tot geregtigheid, sodat ons nou verder sou soek om in wetsvolbrenging geregtigheid te verkry nie. Dit sou ons tot ‘n valse hoop bring. Want aangesien ons hier nooit volmaak kan wees nie, sal die wet altyd oorsaak vind om ons aan te kla, as God se barmhartigheid nie daarteen ingegaan en ons deur ‘n gedurige vergewing van die sondes herhaaldelik vrygespreek het nie.
11. Hierdie twee sake moet ons vashou, naamlik dat daar nooit ‘n werk van ‘n gelowige mens was, wat nie voor die gestrenge oordeel van God verdoemlik was nie. En, gestel dat daar so ‘n werk kon wees — wat vir ‘n mens onmoontlik is — sou dit tog deur die sonde van so ‘n persoon verdorwe wees en sy aangenaamheid verloor. Dit is die spil waarom alles draai. Oor die beginsel van die regverdigmaking is daar tussen ons en die verstandigste onder die Skolastici geen verskil nie, naamlik dat die sondaar uit genade van die verdoemenis verlos word en regverdigheid verkry, en dit deur die vergewing van die sondes. Maar hulle verstaan onder die woord regverdigmaking die vernuwing waardeur ons deur die Gees van God vernuwe word tot gehoorsaamheid aan die wet. Die regverdigheid van ‘n wedergebore mens beskrywe hulle dan soos volg: Die mens word deur sy goeie werke regverdig geag by God, en deur die verdienstelikheid van die werke is hy aangenaam, nadat hy deur die geloof in Christus eenmaal met God versoen is. Maar God verklaar dat Hy vir Abraham sy geloof tot geregtigheid toegereken het, nie toe hy nog die afgode gedien het nie maar nadat hy reeds baie jare lank God uit ‘n rein hart gedien het en gehoorsaamheid aan die wet betoon het vir sover ‘n sterflike mens dit kan doen. Tog was sy regverdigheid nog in sy geloof geleë. Vergelyk ook Hab 2:4; Rom 4:7. Paulus en Dawid spreek hier oor die gelowiges. {290} Ons moet die geluksaligheid dus nie maar net een maal ontvang nie maar ons hele lewe lank besit. Want Christus bly altyd Middelaar om ons met die Vader te versoen, en die uitwerking van sy dood duur vir ewig. Paulus sê ook dat ons uit genade gered is en nie dat die begin van ons redding uit genade is nie (Ef 2:8).
12. Die uitvlugte van die Skolastici help hulle niks nie. Hulle sê dat die goeie werke nie deur hulle innerlike waardigheid voldoende is om geregtigheid te verdien nie maar dat dit aan die aannemende genade te danke is dat hulle soveel mag besit. Hulle erken ook dat die regverdigheid deur die werke hier altyd onvolmaak is. Daarom stem hulle toe dat ons vergewing van sondes nodig het so lank as ons lewe, om aan te vul wat aan die werke te kort kom. Maar die sondes wat bedryf word, word deur die oortollige werke goedgemaak. Ek antwoord dat wat hulle aannemende genade noem, niks anders is nie as die genadige goedheid waarmee die Vader ons in Christus omhels wanneer Hy ons met die onskuld van Christus beklee en ons dié toereken. As ons met die geregtigheid van Christus beklee is, ontvang ons ‘n gedurige vergewing van die sondes. Beklee met sy reinheid word ons vuilheid ons nie toegereken nie maar begrawe en bedek, sodat ons nie in die oordeel van God kom nie.
13. As dit waar is, kan geen werke van ons uit hulleself ons by God aangenaam maak nie. Hulle kan Hom nie eers behaag nie, behalwe vir sover die mens wat deur die genade van Christus bedek is, God behaag en vergewing van sondes verkry. Want God het nie aan sekere werke die belofte van die lewe gebind nie, maar Hy verklaar dat dié mens sal lewe wat hierdie dinge doen (Lev 18:5), terwyl Hy aan die ander kant die bekende vloek uitspreek teen almal wat nie bly in alles wat in die wet geskrywe is nie. Daarmee word hulle versinsel van ‘n gedeeltelike regverdigheid voldoende weerlê, omdat in die hemele geen ander regverdigheid as die volledige onderhouding van die wet erken word nie.
Hulle leerstuk van genoegdoening deur oortollige goeie werke staan ook nie vaster nie, want hulle kom altyd op hierdie punt neer dat hy wat die wet gedeeltelik vervul, in sover deur die werke geregverdig is. Maar God betuig herhaaldelik dat alleen die volkome onderhouding van die wet die mens regverdig. Hulle deurgrond nie wat sonde in die oë van die Here is nie. Want dan sou hulle ook begryp het dat al sou ook alle regverdige dade van die mense op een hoop versamel word, dit nog nie voldoende sou wees om vir één sonde genoegdoening te doen nie. Ter wille van één misdaad is die mens só deur God verwerp dat hy ook op geen enkele manier die saligheid kan herwin nie. Vir God kan niks welgevallig wees wat van sy vyande kom nie. Ons sondes moet dus vergewe wees voordat die Here enige werk van ons in guns kan aansien. {291}
14. Hoe kan ook die geroem in oortollige goeie werke gerym word met die Woord van die Here: “Wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen” (Luk 17:10)? Dit beteken dat die geregtigheid van een mens meer moet wees as al die geregtighede van die mense. Hoe sou ons dan durf roem dat ons meer as dit volbring het?
15. Ten onregte beroep hulle hulle op die woorde van die apostel Paulus (1 Kor 9:1,12) dat hy onder die Korinthiërs afstand van sy reg gedoen het wat hy anders kon gebruik het. Hy het nie net sy plig teenoor hulle gedoen nie maar ook gedoen wat sy plig hom nie voorgeskrywe het nie. Maar hulle behoort tog te let op die rede wat die apostel self vir hierdie handelwyse gee. Hy het dit naamlik gedoen om die swakkes geen aanstoot te gee nie. Die dwaalleraars het probeer om guns te verkry vir hulle skadelike leerstukke en haat op te wek teen die evangelie deur hulle baie welwillend voor te doen. Dit was dus vir Paulus noodsaaklik om òf die leer in gevaar te stel òf sulke listighede teë te gaan. Hy het dus maar net gedoen wat hy as verstandige uitdeler van die evangelie moes doen. Al bestaan daar vir ons nie so ‘n rede nie, behoort al ons werke tog aan die Here, soos Christus ons ook in die gelykenis leer (Luk 17:7 e.v.).
Die oortollige goeie werke waarvan hulle spreek, het God hulle nooit beveel nie en keur Hy ook nie goed nie. Oor sulke werke spreek die Here deur Jesaja ook (Jes 1:12). Daarvan geld wat Hy op ‘n ander plek deur dieselfde profeet sê dat geld afgeweeg word vir wat geen brood is nie, en arbeid vir wat nie kan versadig nie (Jes 55:2).
16. Hierdie twee peste moet uit ons hart verdryf word, naamlik dat ons op die geregtigheid van ons werke sal vertrou en dat ons op hulle sal roem. Die Skrif ontneem ons alle vertroue op die werke en leer ons saam met Dawid bid: “En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie” (Ps 143:2). Ons moet kom tot wat Jesaja leer: “In die HERE sal geregverdig word en hulle beroem die hele geslag van Israel” (Jes 45:25); “want ons is ‘n planting van die HERE, tot sy verheerliking” (Jes 61:3).
17. Die Skrif verkondig oral 1) dat die bewerkende oorsaak van ons saligheid die barmhartigheid van die hemelse Vader en sy onverdiende liefde is; 2) die materiële oorsaak Christus is, wat met sy gehoorsaamheid vir ons geregtigheid verwerf; 3) die formele of instrumentele oorsaak die geloof is. Al drie die oorsake vind ons in die woorde van Johannes (3:16): “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige {292} lewe kan hê”. 4) Die doeloorsaak is die betoning van sy geregtigheid (Rom 3:23,26) en die lof van die heerlikheid van sy genade (Ef 1:6). As al die dele van ons saligheid dan buite ons bestaan, watter rede is daar om op ons werke te vertrou of te roem?
18. Ons vind dat die heiliges hulle dikwels versterk en troos deur die oordenking van hulle onskuld en opregtheid. Hulle verkondig dit soms selfs in die openbaar. Hiervoor is daar twee redes. Die eerste is dat as hulle hulle goeie saak met die slegte saak van die goddelose vergelyk, hulle daaraan die sekerheid van hulle oorwinning ontleen, en dit nie omdat hulle geregtigheid dit verdien nie maar omdat hulle teëstanders verdien om veroordeel te word. Die tweede rede is dat hulle enige troos en vertroue skep uit die suiwerheid van hulle eie gewete voor God.
Die eerste rede sal ons later nagaan. Wat die tweede betref, gaan ons nou kortliks na hoe daarmee gerym moet word wat ons vantevore gesê het, nl. dat ons voor die gerig van God op geen werke mag vertrou en ook nie in hulle mag roem nie. As dit gaan oor die grondvesting van hulle saligheid, vestig die gelowiges hulle oë alleen op die goedheid van God, en dit nie net wat die begin daarvan betref nie, maar ook wat betref die voleindiging daarvan. Dán is die goeie werke ook die bewyse daarvan dat God in hulle woon en regeer. As ons dus die vertroue op die werke uitsluit, bedoel ons maar net dat die hart van ‘n Christen nie op die verdienstelikheid van die werke moet steun nie maar alleen op die belofte van onverdiende geregtigheid moet vertrou. Maar ons verbied nie dat hy sy geloof deur die tekens van God se goedertierenheid jeens hom sal ondersteun en versterk nie. Hulle is vir hom die bewys dat die Gees van aanneming tot kinders aan hom geskenk is.
19. As daarom die heiliges hul geloof versterk of stof tot blydskap daaruit put dat hulle gewete hulle nie beskuldig nie, doen hulle niks anders nie as om uit die vrugte van hulle roeping te besluit dat God hulle as sy kinders aangeneem het (Spr 14:26; 2 Kon 20:3).
20. Augustinus sê so mooi: “Ek sê nie tot God: Verag die werk van my hande nie. Ek het die Here gesoek met my hande en het nie bedroë uitgekom nie. Maar ek prys die werke van my hande nie aan nie, want ek vrees dat as U hulle besien, U meer sonde as verdienstes sal vind. Net dit sê ek. Dit vra en begeer ek: Verag die werk van u hande nie. Aanskou u werk in my, nie myne nie. Want as U my werk aansien, veroordeel U dit, maar as U u werk sien, kroon U dit. Ook die goeie werke wat ek het, is uit U”.
Hy noem dus twee redes waarom hy sy werke nie aan God durf aanbied nie. Die eerste rede is dat as hy goeie werke het, daarin niks van hom is nie. En die tweede is dat ook die goeie werke deur {293} die veelheid van sonde bevlek is,
21. As die Skrif sê dat die goeie werke van die gelowiges oorsake is waarom die Here aan hulle goed doen, moet tog vas bly staan wat reeds gesê is, naamlik dat die bewerkende oorsaak van hulle saligheid die liefde van God is, die materiële oorsaak die gehoorsaamheid van Christus en die instrumentele oorsaak die verligting deur die Heilige Gees (dit is die geloof) en dat die doel is die lof van die heerlikheid van sy genade. Maar hy aanvaar ook die werke as mindere oorsake. Waarom? Hy voeg genade op genade. Dit wil sê genade wat die trap is tot die volgende genade, maak Hy in ‘n sekere sin die oorsaak daarvan. Dit alles doen Hy om niks agter te hou wat tot ons verryking kan dien nie. Só gaan Hy met sy milddadigheid voort op so ‘n wyse dat Hy wil dat ons altyd op die genadige uitverkiesing sal sien, wat die bron en begin van al sy navolgende weldade is.
HOOFSTUK XV. Om te roem in die verdienstelikheid van die goeie werke is om die lof van God, wat die geregtigheid skenk, sowel as die sekerheid van die saligheid te vernietig
1. Die hoofsaak het ons nou afgehandel, naamlik dat ons regverdigmaking geleë is alleen in die barmhartigheid van God, in die gemeenskap met Christus en daarom alleen in die geloof. Ons moet daarop let dat dit die hoofsaak is, sodat ons nie verward raak in die waanwysheid van hulle wat hulle toevlug neem tot die uitsprake van die Skrif wat aan die werke enige verdienstelikheid skyn toe te ken nie. Net so asof bewys is dat die regverdigmaking op grond van die werke geskied as aangetoon is dat hulle van enige waarde is voor God. Die mens kan alleen deur die werke regverdig wees as hy op volmaakte wyse die wet volkome onderhou het. ‘n Ander vraag is of die werke tog nie by God genade verdien nie al is hulle allermins genoegsaam om die mens regverdig te maak.
2. Wat die woord verdienste self betref, wil ek vooraf sê dat hy wat eerste hierdie naam aan die werke van mense gegee het, groot afbreuk gedoen het aan die volkomenheid van die geloof. Christelike skrywers moet tog nie woorde gebruik wat aan die Skrif vreemd is en aanstoot gee nie. Waarom was dit nodig om die woord verdienste in te voer, as die waarde van goeie werke op duidelike wyse deur ‘n {294} ander woord weergegee kon gewees het wat geen skade berokken het nie? Die woord verduister God se genade en vervul die mense met hoogmoed. Het die ou skrywers van die kerk tog maar nie die woordjie gebruik wat die nageslag soveel stof tot dwaling gegee het nie! Trouens hulle getuig op baie plekke dat hulle nie bedoel het om aan die waarheid te kort te doen nie. Augustinus sê byvoorbeeld: “Die heiliges skrywe aan hulle verdienstes niks toe nie maar alles aan u barmhartigheid, o God”. So kan meer getuienisse van ander skrywers aangehaal word.
3. Die Skrif toon aan wat ons werke verdien, as dit sê dat hulle voor God nie kan bestaan nie, omdat hulle vol onreinheid is. Wat verder die volmaakte onderhouding van die wet sou verdien (as dit kon gebeur), beveel dit ons om onsself as onverdienstelike diensknegte te beskou as ons alles gedoen het wat ons beveel is (Luk 17:10). Ons het dan maar net ons skuldige plig gedoen, waarvoor ons geen dank hoef te ontvang nie. Tog noem die Here die goeie werke wat Hy ons geskenk het, ook ons werke en getuig Hy dat hulle Hom aangenaam is en vergeld sal word. En dit is ons plig om ons deur so ‘n belofte te laat bemoedig en moed te vat, sodat ons nie moeg sal word om goed te doen en God se groot goedheid met opregte dankbaarheid te bejeën nie. Alles wat in die werke geprys kan word, is genade van God. Daarin is niks wat ons aan ons self kan toeskrywe nie. As ons dit so beskou, verdwyn elke waan van verdienste. Ons verdeel die eer vir die goeie werke nie tussen God en die mens nie maar bewaar dit alleen vir die Here. Aan die mens skryf ons net dit toe dat hy deur sy onreinheid juis wat goed is, besmet. Die goeie werke behaag die Here dus. Hulle is ook nie nutteloos vir hulle wat hulle doen nie. Hulle word selfs deur groot weldade van God by wyse van terugbetaling vergeld, maar nie omdat hulle dit verdien nie maar omdat God in sy goedheid self hierdie prys vir hulle vasgestel het. Hoe Godonterend is dit dan nie dat mense nie met hierdie mildheid van God tevrede is nie en na vergelding vir hulle werke soek? As iemand wat deur die goedheid van iemand anders die vruggebruik van ‘n akker mag hê, nog daarop aanspraak sou maak dat hy die eienaar is, sou hy dan nie verdien om vir so ‘n ondankbaarheid die besitting te verloor wat hy gehad het nie? As ons hierdie gesindheid teenoor mense verskuldig is, hoeveel te meer dan nie teenoor die Here nie!
4. Ek weet dat die Sofiste sommige plekke misbruik om daarmee te bewys dat die woord verdienste jeens God in die Skrif gevind word. Hulle haal uit Hebreërs (13:16) aan: “Vergeet die weldadigheid en die mededeelsaamheid nie, want deur sodanige offers maak die mens hom verdienstelik by God”. Maar in die Griekse woorde van die apostel staan niks anders te lees nie as net dat God ‘n welbehae aan sulke offers het. {295}
En as Christus sê dat aan hom wat het, gegee sal word en dat die goeie en getroue dienskneg wat oor weinig getrou was, oor veel aangestel sal word (Mat 25:21,29), dan wys Hy op ‘n ander plek aan dat hierdie beloning van die gelowiges ‘n geskenk is van sy onverdiende goedheid. “O almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk”, sê Hy (Jes 55:1). Alles wat die vromes dus tot bevordering van hulle saligheid gegee word, sowel as die saligheid self, is louter weldadigheid van God. Tog betuig Hy dat Hy sowel in die saligheid as in die genadegawes met die werke rekening hou. Dit behaag Hom om die gawes wat Hy ons skenk, so te eer om daarmee die grootheid van sy liefde vir ons te betuig.
5. Die apostel Paulus sê aan die gemeente van Korinthe dat die fondament waarop hy gebou het, behou moet word. Die fondament is Jesus Christus (1 Kor 3:11). Beteken dit dat Hy maar net die begin van die saligheid is en maar net die weg vir ons geopen het, sodat ons in eie krag verder daarop sal wandel? Geensins, want tevore het hy gesê dat Christus vir ons geregtigheid geword het (1:30). Hy sê nie dat Christus gestuur is om ons te help om geregtigheid te verkry nie maar dat Hy ons geregtigheid self is. In Hom is ons uitverkies van ewigheid af vóór die grondlegging van die wêreld, sonder enige verdienste aan ons kant maar na die welbehae van die wil van God. Deur sy dood is ons verlos van die vloek van die dood en bevry van die verderf. In Hom is ons deur die hemelse Vader aangeneem as kinders en erfgename. Deur sy bloed is ons met die Vader versoen. In Hom ingeplant het ons die ewige lewe. Hy het ook vir ons geword wysheid, heiligmaking en verlossing (Ef 1:4; Kol 1:14,20; Joh 10:28). Kortom, al sy goedere is ook ons goedere. In onsself besit ons niks nie, maar in Hom besit ons alles. Op hierdie fondament moet ons gebou word as ons wil opwas tot ‘n tempel aan die Here geheilig.
6. Maar die wêreld is lankal anders geleer. Goeie werke sou ons aangenaam maak by God vóórdat ons in Christus ingeplant word. Asof die Skrif lieg as dit sê: “Wie die Seun van God nie het nie, het die lewe nie” (1 Joh 5:12). As hulle dan dood is, hoe kan hulle iets goeds voortbring? Eweso getuig die Skrif dat alles wat nie uit die geloof is nie, sonde is (Rom 14:23) en dat ‘n slegte boom nie goeie vrugte kan dra nie.
Wat laat hulle dan aan Christus oor? Hulle sê dat Hy vir ons die eerste genade verdien het, dit wil sê die geleentheid om te verdien en dat dit nou van ons afhang om van die aangebode geleentheid gebruik te maak. Watter onbeskaamde goddeloosheid! Die Skrif getuig dat almal geregverdig is wat in Hom glo; hulle leer dat Hy maar net vir elkeen die weg open om homself te regverdig. As hulle maar verstaan het wat die Skrif getuig dat hy wat die Seun het, {296} die lewe het (1 Joh 5:12); dat elkeen wat glo, oorgegaan het uit die dood in die lewe (Joh 5:24). Vergelyk verder Rom 3:24; 1 Joh 3:24; Ef 2:6; Kol 1:13 — almal uitsprake wat bewys dat ons deur die geloof in Christus nie net die moontlikheid verkry om regverdigheid te verdien en die saligheid te verkry nie maar dat altwee ons geskenk word. Deur die geloof in Christus is ons reeds kinders van God, erfgename van die hemel en deelgenote van die regverdigheid.
7. So het die skole van die Sorbonne die hoofsaak van die godsdiens, naamlik die regverdigmaking deur die geloof, ons ontneem. Hulle erken dat die mens geregverdig word deur ‘n gevormde geloof, maar lê dit só uit dat die goeie werke van die geloof die krag ontvang om regverdig te maak. Hulle durf die geloof nie verswyg nie, omdat die Skrif dit gedurig vermeld. Maar hulle doen nog meer. Hulle ontneem ‘n deel van die eer vir die goeie werke aan God om dit vir die mens te gee. Hulle soek die oorsprong van die goeie werke in die vrye wil, omdat hulle insien dat hulle geen verdienste genoem kan word, as hulle vrugte van God se genade genoem word nie. Die Skrif sê egter dat ons die maaksel van God is, geskape tot goeie werke wat God voorberei het sodat ons daarin sal wandel (Ef 2:10). Aangesien daar dan uit ons niks goeds kan voortkom as ons nie wedergebore is nie, en die wedergeboorte geheel en al die werk van God is, mag ons geen greintjie van die goeie werke aan onsself toeskrywe nie Ons spreek nie van verdienste nie, maar ons beur die gemoedere van die gelowiges met ‘n besondere troos op as ons leer dat hulle God in hulle goeie werke behaag.
8. Laat ons ons van hierdie vaste fondament nie ‘n duimbreed laat aflei nie. As ons lering of vermaning nodig het, wys die Skrif ons daarop dat die Seun van God vir hierdie doel verskyn het om die werke van die duiwel te verbreek (1 Joh 3:8); dat almal wat uit God gebore is, nie sondig nie; dat dit genoeg is dat ons die afgelope tyd die wil van die heidene volbring het, ens. (1 Petr 4:3). Christus wil dissipels hê wat hulleself verloën, die kruis opneem en Hom navolg (Luk 9:23). Hy was gehoorsaam aan die Vader tot die dood toe. Hy het met sy hele hart die eer van die Vader gesoek. Hy het sy lewe vir die broeders gestel, aan sy vyande goed gedoen en vir hulle gebid.
As ons troos nodig het, vind ons dit oorvloedig in die woorde van die apostel: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie”, ens. (2 Kor 4:8 e.v.). As ons saam met Christus gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe (2 Tim 2:11; vgl. verder Fil 3:10; Rom 8:29 e.v.).
Ons regverdig nie die mens uit sy werke nie. Ons sê alleen dat almal wat uit God is, wedergebore is en nuwe skepsels word, sodat {297} hulle uit die ryk van die sonde sal oorgaan in die ryk van geregtigheid. Deur hierdie getuienis maak hulle hulle roeping vas en word soos bome uit die vrugte beoordeel.
HOOFSTUK XVI. Weerlegging van die beskuldiginge waarmee die pousgesindes trag om hierdie leer met haat te beswaar
1. Ons teëstanders beskuldig ons dat ons die goeie werke tot nie maak en die mense terughou om hulle te doen as ons sê dat hulle die saligheid daarmee nie verdien nie. Verder beweer hulle dat ons die weg tot die regverdigmaking veels te maklik maak as ons sê dat dit in die genadige vergewing van die sondes bestaan. Ons sou die mense dan verlei om te sondig.
Ek sal kortliks hierop antwoord.
Hulle sê dat die goeie werke deur die leer van die regverdigmaking uit die geloof tot niet gemaak word. Ek beweer dat hulle juis daardeur bevestig word. Want ons spreek nie van ‘n geloof of van ‘n regverdigmaking sonder goeie werke nie. Ons sê dat regverdigmaking en goeie werke saamhang maar dat die regverdigmaking uit die geloof is en nie uit die werke nie. Deur die geloof gryp ons die geregtigheid van Christus aan, deur wie alleen ons met God versoen word. Maar ons kan nie sy geregtigheid aangryp sonder om terselfdertyd sy heiligmaking aan te gryp nie. Immers, Hy het vir ons geword wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing (1 Kor 1:30). Christus regverdig dus niemand wat Hy nie terselfdertyd heilig nie. Want Hy kan nie gedeel word nie. Hy skenk altwee die weldade aan ons deurdat Hy Homself aan ons skenk. Dis dus duidelik dat ons nie sonder die werke nie maar tog ook nie deur die werke geregverdig word nie.
2. Dis ook ‘n onwaarheid dat die mense afgetrek word van die begeerte om goed te doen as ons hulle die inbeelding ontneem dat hulle iets daarmee kan verdien. Dis ‘n baie swak teëwerping.
In die eerste plek dwaal hulle as hulle beweer dat die mens nie sorg sal dra om goeie werke te doen as daar vir hom geen loon in vooruitsig gestel word nie. Want as die mense alleen beloning op die oog het as hulle God dien, vorder ons weinig. God wil vrywillig gedien en bemin word. In so ‘n dienaar het Hy ‘n welbehae wat nie ophou om Hom te dien nie, ook al word alle hoop om loon te ontvang vir hom afgesny. {298}
Verder is daar geen skerper aansporing om die mense op te wek om goed te doen nie as dat hulle gewys word op die doel van hulle verlossing soos die Woord van God ons dit leer, naamlik dat dit al te goddelose ondankbaarheid is om Hom nie lief te hê wat ons eerste liefgehad het nie (1 Joh 4:10); dat deur die bloed van Christus ons gewete gereinig is van dooie werke om die lewende God te dien (Hebr 9:14); dat dit heiligskennis is om die Seun van God te vertrap en die bloed van die testament waardeur ons geheilig is, onrein te ag (Hebr 10:29; vgl. verder Luk 1:74; Rom 6:18; Kol 3:1; Tit 2:11 e.v.; 1 Kor 3:16; Ef 3:21; 1 Joh 3:3,10 ens.).
3. Ek het maar enkele uitsprake opgenoem. Die apostels vermaan ons gedurigdeur om goeie werke te doen sonder om van verdienste melding te maak. Hulle vernaamste aansporing ontleen hulle hieraan dat ons saligheid op God se barmhartigheid rus sonder enige verdienste aan ons kant. So vermaan Paulus ons by die ontferminge van God wat Hy ons waardig geag het (Rom 12:1). Dit moet vir ons genoeg wees, sodat God deur ons verheerlik sal word. In ‘n slaafse gehoorsaamheid wat die oog op loon het, het Hy geen behae nie. Hy het die blymoedige gewer lief (2 Kor 9:7).
Ek verontagsaam ook nie die manier van aansporing wat die Skrif dikwels gebruik omdat dit geen enkel middel wil laat verbygaan om ons aan te moedig nie. Dit herinner aan die loon wat God aan elkeen sal gee volgens sy werke, maar ek ontken dat dit die enigste en vernaamste middel is. Ek gee ook nie toe dat dit as uitgangspunt geneem moet word nie. Dit het ook geen nut as nie vooraf bely word, dat ons alleen deur die verdienste van Christus, wat ons in die geloof aangryp, geregverdig word nie.
4. Die mees ongegronde laster is dit dat ons, volgens hulle, die mense uitnooi om sonde te doen as ons leer dat die regverdigmaking in die onverdiende vergewing van die sondes bestaan. Ons sê dat die vergewing so kosbaar is dat geen werke van ons daarteen kan opweeg nie. Dit kan daarom nooit verkry word as dit nie uit genade gegee word nie.
Verder sê ons dat dit wel onverdiend is sover dit ons betref, maar nie vir Christus nie. Dit het Hom sy allerheiligste bloed gekos. Geen ander prys was waardig om aan die oordeel van God te betaal nie. Bowendien sê ons dat ons onreinheid só groot is dat dit deur niks anders afgewas kon word nie as net deur die fontein van sy suiwere bloed. Moet hulle wat dit hoor, nie ‘n groter afkeer van die sonde kry as wanneer vir hulle gesê word dat die sonde deur die goeie werke afgewas word nie? Sal dit hulle nie terughou om weer in die modder van die sonde te gaan wentel nadat hulle daarvan gewas is nie?
Dis nou duidelik wie die vergewing van die sondes goedkoop maak. Hulle sê dat God deur hulle nietige voldoeninge versoen {299} word; ons getuig dat die skuld van die sonde te swaar en die belediging God aangedaan te groot is dat dit deur sulke nikswerd voldoeninge kwytgeskeld kan word. Dit is net die voorreg van Christus se bloed. Hulle praat van werke van voldoening as ons gesondig het; ons sê dat ons alleen tot God se barmhartigheid die toevlug moet neem.
HOOFSTUK XVII. Vereniging van die beloftes van die wet met die van die evangelie
1. Ons belasteraars kan ons dus nie beskou as vyande van die goeie werke nie. Ons ontken dat die mens deur goeie werke geregverdig word, nie met die bedoeling dat daar geen goeie werke gedoen moet word nie, ook nie om te sê dat die werke nie goed is nie. Ons doen dit alleen met die bedoeling dat die vertroue nie op hulle gevestig en ons saligheid nie aan hulle toegeskrywe sal word nie. Ons vertroue, ons roem, die enigste anker van ons saligheid is dat Christus, die Seun van God, ons toebehoort en dat ons in Hom kinders van God en erfgename van die hemelse koninkryk is, deur God se goedheid en nie deur ons waardigheid nie geroep tot die hoop van die ewige geluksaligheid.
Maar nou kom ons teëstanders met die beloftes wat die Here in sy wet aan hulle gegee het wat dit onderhou. En hulle vra of ons wil beweer dat die beloftes heeltemal kragteloos is en of hulle nog hulle krag behou. Aangesien dit nou dwaas sal wees om te beweer dat hulle nie meer geld nie, konkludeer hulle daaruit dat ons nie deur die geloof alleen geregverdig word nie. Hulle beroep hulle op uitsprake soos in Deut 7:12; Jer 7:5,23.
Ons antwoord dat God se beloftes alleen geldig is vir die wat sy wet volkome onderhou. So iemand is egter nêrens te vind nie. Die wet bewys dat die hele menslike geslag aan die vloek en toorn van God onderworpe is. Om daarvan verlos te word moet ons onder die mag van die wet uitgaan en in die ware geestelike vryheid gestel word. Dit rig die verslae gewete op en vertroos dit omdat dit verkondig dat ons vry is van die vloek van en die veroordeling deur die wet. Hierdie bevryding van die onderworpenheid aan die wet verkry ons as ons die barmhartigheid van God in Christus deur die geloof aangryp.
2. Daarom sal al die beloftes kragteloos wees wat ons in die wet aangebied word, as God se goedheid ons nie deur die evangelie {300} te hulp gekom het nie. Want aan die voorwaarde dat ons die wet moet volbring ten einde die beloftes te verkry, sal nooit voldoen word nie. God help ons egter nie so dat Hy dit aan ons oorlaat om ‘n deel van die regverdigmaking deur ons werke te verdien nie, maar Hy help ons deur Christus aan ons toe te wys as ons geregtigheid (Gal 2:16). Ons verdorwenheid is oorsaak daarvan dat ons geen voordeel uit die beloftes van die wet trek nie. As Dawid melding maak van die beloning wat die Here vir sy diensknegte berei het, erken hy dadelik daarna sy sondes waardeur die beloning tot niet gemaak word. In vs. 12 (Ps 19) roem hy die weldade van die wet, in vs. 13 bid hy om van die verborge afdwalinge gereinig te word.
3. Is die beloftes van die wet dan tevergeefs gegee? Ek het alreeds gesê dat dit nie my mening is nie. Maar ek sê dat hulle ons nie baat as op die verdienstelikheid van die werke gelet word nie. So leer Paulus (Rom 10:5) dat die heerlike belofte (Lev 18:5) van geen waarde is as ons daarby bly staan nie, omdat selfs die allerheiligste diensknegte van God ver te kort skiet in die vervulling van die wet en deur baie oortredinge omring is. Maar as die beloftes van die evangelie daarby gevoeg word wat die onverdiende vergewing van die sondes verkondig, is ons voor God aangenaam en neem Hy ons werke gunstig aan. En dan beloon Hy hulle ook met die seëninge wat Hy kragtens die verbond aan die onderhouding van sy wet verskuldig is.
Ek erken dus dat die werke van die gelowiges vergeld word met wat die Here in sy wet belowe het aan die wat geregtigheid en heiligheid najaag. Maar ons moet altyd let op die oorsaak waarom hierdie werke voor God aangenaam is. Die oorsaak is drieledig.
Die eerste oorsaak is dit dat God Hom van die onvolmaakte werke van sy diensknegte afwend en hulle in Christus omhels en met Hom versoen deur die tussenkoms van die geloof sonder die hulp van die werke. Die tweede is dat Hy die werke deur sy vaderlike goedgunstigheid tot die hoë eer verhef dat Hy hulle van waarde ag, sonder om hulle verdienstelikheid in ag te neem. Die derde is dat Hy hulle goedgunstig aanneem, sonder om hulle onvolmaaktheid in rekening te bring, want dan sou hulle almal onrein wees.
4. Hulle haal die woorde van Petrus aan: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (Hand 10:34-35). Hieruit lei hulle af dat God in sy barmhartigheid die sondaar só te hulp kom dat Hy Hom deur sy werke tot barmhartigheid laat beweeg.
Ons moet egter daarop let dat, volgens die Skrif, die mens op tweërlei manier deur God aangeneem word. Want, ten eerste, vind God in die mens soos hy van nature is, niks waardeur Hy tot barmhartigheid beweeg sou kan word nie, behalwe alleen sy ellende. {301} As dit dus vasstaan dat die mens verstoke is van alles wat goed is, en belaai met alle kwaad as God hom in die begin aanneem, oor watter deug van hom sal God hom dan die hemelse roeping waardig ag?
As die engel vir Cornelius sê dat sy gebed verhoor en sy aalmoese voor God in herinnering gebring is (vs. 31), beteken dit nie dat die mens hom voorberei om God se genade te ontvang deur goeie werke na te jaag nie. Want Cornelius was toe al deur die Gees verlig en geheilig, omdat by hom geregtigheid gevind is, wat ‘n vrug van die Heilige Gees is (Gal 5:5). Hy het dus van God in genade alles ontvang wat hom by God aangenaam gemaak het.
Daar is volgens die Skrif geen ander oorsaak waarom God die mens aanneem nie, as net die een dat Hy hom op alle maniere verlore sien as hy aan homself oorgelaat word. En Hy verlos hom omdat Hy hom nie verlore wil laat gaan nie.
5. Nadat die Here die mens uit die verderf weggeruk het, neem Hy hom as nuwe skepsel aan tesame met die gawes van sy Gees. Dit is die roeping waarvan Petrus spreek as hy sê dat die gelowiges, nadat hulle geroep is, God behaag, ook wat hulle werke betref. Want die Here het die goeie lief wat Hy deur sy Gees in hulle werk. En Hy merk die werke as goed aan, omdat Hy vergifnis skenk. God het sy kinders lief, omdat Hy in hulle die trekke van sy gelaat sien. Omdat hulle nog sondaars is en hulle werke onvolmaak en sondig, omhels Hy hulle in Christus en nie soseer in hulleself nie. So moet die plekke verstaan word wat sê dat God goedertieren en barmhartig is oor die wat geregtigheid doen (Deut 7:9; 1 Kon 8:23; Neh 1:5). Maar dat Hy geregtigheid en heiligheid eis, geskied sodat sy goedheid nie bespot sal word nie en dat almal wat Hy in sy verbond opgeneem het, hulle skuldige plig voor oë gestel sal word.
6. Ons moet egter opmerk in hoever hierdie beloftes van die beloftes van die wet verskil. Laasgenoemde sê dat daar vergelding vir die mens wag, op voorwaarde dat hy doen wat hom beveel word. Maar as gesê word dat die Here die verbond van barmhartigheid hou vir die wat Hom liefhet, word daarmee aangetoon hoedanig sy diensknegte is wat sy verbond aangeneem het, en word nie die rede genoem waarom God aan hulle goed doen nie.
7. Groter moeilikheid skyn die plekke op te lewer wat die goeie werke vereer met die naam “geregtigheid” en daarby betuig dat die mens daardeur geregverdig word (Deut 6:25; 24:13; Ps 106:31). Ons teëstanders sê dat dit nie waar is dat ons alleen uit die geloof geregverdig word as daar geregtigheid uit die werke is nie.
Ons erken graag dat die volkome gehoorsaamheid aan die wet geregtigheid is en dat die onderhouding van elke gebod ‘n deel van die geregtigheid is, maar ons sê dat daar weens die swakheid {302} van ons vlees nêrens so ‘n geregtigheid gevind word nie.
8. Uit wat die Skrif aangaande Abraham getuig (Rom 4:3) vergeleke met wat dit van Pinehas sê (Ps 106:31), besluit ons teëstanders dat ons wel nie sonder geloof geregverdig word nie maar ook nie deur die geloof alleen nie. Ons werke vul ons geregtigheid aan en maak dit volkome. Paulus getuig egter dat almal wat deur die geloof geregverdig word, nie nodig het om deur die werke geregverdig te word nie. Die goeie werke is ook nie ‘n deel van hulle geregtigheid nie. Die sondaar word regverdig verklaar wanneer hy in die gemeenskap met Christus opgeneem word. Dan word hy uit genade met God versoen. Dit wil sê hy word deur die bloed van Christus gereinig, ontvang vergewing van sondes, word met die geregtigheid van Christus as sy eie beklee en verskyn só onbekommerd voor die hemelse regterstoel. Maar as die sonde eenmaal versoen is, het die goeie werke wat daarna gedoen word, waarde, omdat wat in hulle onvolmaak is, deur die volmaaktheid van Christus bedek word. So word die goeie werke van die gelowige dan vir regverdig geag of, wat dieselfde is, vir hom tot geregtigheid gereken.
9. Niemand sal durf beweer dat die mens ter wille van twee of meer of selfs baie goeie werke geregverdig word as hy origens ‘n oortreder van die wet is nie. Die Skrif spreek in die opsig te duidelik: “Vervloek is hy wat die woorde van hierdie wet nie hou om dit te doen nie” (Deut 27:26). Daar is ook geen werk wat nie onsuiwer of onvolmaak is nie. Daar is dus geen werk wat “regverdig” genoem kan word nie. Maar as dit dan nou vas staan dat die regverdigmaking uit die geloof die oorsaak is dat werke die mens tot geregtigheid gereken word — werke wat andersins onrein en Gods liefde nie waardig is nie —, waarom doen hulle dan so hulle bes om die regverdigmaking uit die geloof te vernietig deur die regverdigmaking op grond van die werke op die voorgrond te stel?
Laat ons dan die dwaashede laat vaar. As werke regverdig genoem word op grond daarvan dat die mens uit die geloof regverdig word, dan verminder eersgenoemde nie die betekenis van laasgenoemde nie maar versterk dit. Die werke wat na ons onverdiende regverdigmaking verrig word, kom nie in die plek van die geloof nie. Want as die regverdigmaking uit die geloof weggeneem word, word die onreinheid van die werke openbaar. Hulle kan dus ook nie ‘n deel van ons regverdigmaking wees nie.
10. Op hierdie wyse sal ons toegee dat in die werke ‘n deel van die geregtigheid geleë is en God aangenaam is, naamlik as God dit met vergewing aanneem, dit wil sê, as Hy ons en alles wat ons besit, in Christus aansien. As ons in Christus ingeplant is, verskyn ons as regverdiges voor God, omdat ons ongeregtighede deur sy onskuld {303} bedek is. Eweso word ons werke regverdig genoem, omdat al die gebreke wat hulle aanklewe, om Christus ontwil ons nie toegereken word nie. Só kan ons sê dat nie net ons nie maar ook ons werke geregverdig word. Om met krag te bewys dat ons regverdigmaking alleen op die barmhartigheid van God rus, lê Paulus baie sterk nadruk op die woorde van Dawid: “Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Welgeluksalig is die mens aan wie die Here die ongeregtigheid nie toereken nie” (Ps 32:1). Dit stry nie met ander uitsprake van die Skrif soos die wat ons bv. in Ps 1:1; Ps 112:1; Spr 14:21; Jak 1:12 en ander plekke vind nie. Al die werke wat daar opgenoem word, kan die mens nooit só volmaak volbring dat hy daarom in die oë van die Here aangenaam is nie, tensy hy deur vergewing van die sondes van sy ellende verlos word.
11. Hulle sê dat ons leer deur Jakobus weerspreek word. Hy leer Jak 2:14 e.v.) dat Abraham uit die werke geregverdig is en dat ons almal deur die werke geregverdig word en nie deur die geloof alleen nie.
Stry dit dan nie met wat Paulus aangaande Abraham getuig nie (Rom 4:3)? Hoe stem die twee uitsprake dan met mekaar ooreen? Vas staan dat die Heilige Gees Homself nie weerspreek nie. Laat ons eers let op Jakobus se doel. Dan sal ook duidelik word waarin ons teëstanders dit mis het. Jakobus bestry hier die mense wat sê dat hulle gelowiges is maar deur hulle werke hulle ongeloof openbaar. Hy wil nie afbreuk doen aan die krag van die ware geloof nie maar aantoon hoe dwaas sulke mense is wat soveel waarde aan ‘n skyngeloof heg.
Nou is dit ook duidelik in watter opsig ons teëstanders dit mis het. Hulle maak twee verkeerde gevolgtrekkings. Die eerste wat betref die woord geloof, die tweede wat betref die woord regverdig maak. Dat die apostel so ‘n ydele waan geloof noem, is ‘n saak van toegewing. Dit toon hy aan as hy sê: “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie?” (vs. 14). Hy sê nie: “As iemand die geloof het sonder die werke”, maar: “as hy sê dat hy die geloof het”. ‘n Weinig verder sê hy dat dit gelyk is aan die geloof van die duiwels. Eindelik noem hy dit ‘n dooie geloof. Dis geen wonder dat so ‘n geloof nie regverdig kan maak nie. As Jakobus dus ontken dat so ‘n geloof regverdig kan maak, doen dit geen afbreuk aan die Christelike geloof, wat heeltemal anders is nie. Die ware geloof verenig ons met Christus en skenk ons deel aan sy regverdigheid, d.w.s. dit rus op die sekerheid dat God barmhartig is.
12. Ons moet nog ‘n ander verkeerde gevolgtrekking van hulle bespreek. Hulle sê dat Jakobus ‘n deel van die regverdigmaking aan die werke toeken. As ons Jakobus in ooreenstemming met ander {304} dele van die Skrif wil bring, moet ons aan die woord regverdig maak ‘n ander betekenis gee as wat dit by Paulus het. As Jakobus met die woord regverdig maak dieselfde bedoel as wat Paulus daarmee bedoel, sou hy die woord van Moses verkeerd aangehaal het: “En Abraham het God geglo” ens. Jak 2:23). Hy spreek hier nie oor die toerekening van die geregtigheid deur God nie maar sê dat almal wat deur ‘n ware geloof regverdig is, ook deur hulle gehoorsaamheid en goeie werke bewys dat hulle regverdig is. Abraham is nie geregverdig omdat hy Isak geoffer het nie, maar is voor sy geboorte geregverdig, omdat hy God geglo het toe Hy hom die belofte gegee het.
Paulus beweer dat ons sonder die verdienstelikheid van goeie werke geregverdig word; Jakobus sê dat niemand vir ‘n regverdige gehou moet word wat nie goeie werke doen nie. Só word die moeilikheid opgelos.
Op watter manier hulle ook die woorde van Jakobus mag verdraai, hulle kan net twee gedagtes daaruit haal, naamlik dat ‘n vertoning van geloof die mens nie regverdig nie en dat ‘n gelowige nie met so ‘n inbeelding tevrede is en uit sy werke bewys dat hy regverdig is nie.
13. Wat hulle uit Paulus aanhaal (Rom 2:13), help hulle ook niks nie. Die apostel ontmasker hier die valse vertroue van die Jode wat hulle daarop beroem dat hulle die wet ken maar intussen die grootste veragters daarvan is. God vra nie of ons die wet ken nie maar of ons dit onderhou Die verband wys dit duidelik uit. Ons lei uit die woorde van Paulus net die teenoorgestelde bewys af, naamlik dit: om uit die wet geregverdig te word beteken om volmaakte werke te doen. Niemand kan hom daarop beroem dat hy deur sy werke die wet volkome gehou het nie. Daarom is daar geen regverdigmaking uit die wet nie.
14. Verder voer hulle die plekke aan waarin die gelowiges hulle geregtigheid vrymoedig aan God voorlê om beoordeel te word en ook vra om volgens die geregtigheid behandel te word. So byvoorbeeld Dawid in Ps 7:9: “Doen aan my reg, HERE, na my geregtigheid en na my onskuld wat by my is”. (Vgl. ook Ps 17:1,3; Ps 18:21 e.v. enPs 26:1,9 en meer ander plekke.) Ons moet hier hulle omstandighede in aanmerking neem. Hulle wil nie dat hulle lewe in die algemeen ondersoek sal word om daarvolgens vrygespreek of veroordeel te word nie, maar hulle bring ‘n besondere saak vir beslissing na die gereg. En dan matig hulle hulle geen geregtigheid aan vergeleke met Gods volmaaktheid nie maar op grond van die vergelyking met die bose en misdadigers. Wanneer die heiliges God se oordeel inroep om hulle onskuld te bewys, bedoel hulle nie dat hulle vry van alle skuld en in alle opsigte onberispelik is nie. Nee, die vertroue op hulle saligheid vestig hulle alleen op God se goedheid {305} maar beveel tog hulle saak waarin hulle onskuldig verdruk word, aan Hom aan, omdat hulle vertrou dat Hy ‘n Wreker is van die armes wat onregverdig ly. Hulle beroem hulle dus nie op ‘n onskuld wat aan God se heiligheid genoegdoening kan verskaf as hulle streng ondersoek sou word nie. Hulle weet egter dat die boosheid, slegtheid en verdorwenheid van hulle teëstanders asook hulle opregtheid en reinheid by God bekend is. Daarom vrees hulle nie om Hom as Regter tussen hulle in te roep nie. Dit bedoel Dawid as hy vir Saul sê: “Die HERE tog vergeld aan elkeen sy regverdigheid en getrouheid” (1 Sam 26:23). Hy betuig alleen hoe groot sy onskuld was vergeleke met die ongeregtigheid van Saul. So verdedig Paulus sy trou en opregtheid teenoor die kwaadsprekers (2 Kor 1:12). Uit 1 Kor 4:4 blyk dit wel dat hy geweet het dat hy nie daardeur voor God regverdig is omdat hy hom van geen kwaad bewus was nie. Hy het geweet dat die oordeel van God ver bokant die mens se verdorwe blik uitgaan. Die vromes verdedig dus wel hulle onskuld teenoor die huigelary van die goddelose mense en beroep hulle op God as getuie, maar as hulle met God te doen het, roep almal uit één mond: “As U, HERE, die ongeregtigheid in gedagtenis hou, Here wie sal bestaan?” (Ps 130:3; ook Ps 143:2).
15. Daar is ook ander uitsprake van die Skrif wat aangehaal kan word. So bv.: “Wie in sy regskapenheid wandel as ‘n regverdige …” (Spr 20:7); so sê Esegiël ook dat sekerlik sal lewe wie reg en geregtigheid gedoen het (Eseg 18:9; Eseg 33:15). Ons ontken of verduister nie een van die plekke nie. Maar laat daar iemand te voorskyn kom wat so suiwer is. As daar niemand is nie, moet almal voor God se aangesig omkom of die toevlug na sy barmhartigheid neem.
Intussen ontken ons nie dat hulle suiwerheid, al is dit ook maar half en onvolmaak, vir die gelowiges ‘n stap tot die onsterflikheid is nie. Maar dit kom daarvandaan dat die Here nie die verdienstelikheid van die werke van hulle wat Hy tot die verbond van genade aangeneem het, ondersoek nie maar dat Hy hulle deur sy vaderlike goedertierenheid omhels. Hier moenie op gebede van die apostel gewys word waarin hy die gelowiges so ‘n volmaaktheid toewens dat hulle in die dag van die Here onberispelik mag wees nie (Ef 1:4; 1 Thess 3:13). Gelowiges moet wel daarna strewe om onbevlek en onskuldig eenmaal voor God te verskyn; maar aangesien ons lewe op sy beste maar ‘n vordering is, sal ons dán eers die doel bereik as ons, verlos van die sondige vlees, die Here ten volle sal aanhang. Verder sê ons saam met Augustinus dat as ons die deug van die heiliges volmaak noem, behoort tot die volmaaktheid ook die kennis van hulle onvolmaaktheid sowel wat die waarheid as wat die ootmoed betref. {306}
HOOFSTUK XVIII. Uit die loon word ten onregte besluit tot die regverdigheid van die werke
1. Laat ons nou die uitsprake beskou waarin die Skrif ons verseker dat God elkeen na sy werke sal vergeld, soos bv.: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor 5:10; ook Mat 25:34; Joh 5:29).
Hierby voeg ons die uitsprake wat die ewige lewe die loon op die werke noem, soos bv. 1 Kor 3:8: “Elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang”. Vergelyk ook Mat 5:12. Daarmee gee die Skrif te kenne wat op ons werke sal volg en nie die oorsaak van die loon nie. Die Here volbring ons saligheid langs hierdie trappe van sy barmhartigheid, naamlik deurdat Hy die uitverkorenes tot Hom roep, die geroepenes regverdig en die geregverdigdes verheerlik (Rom 8:30). Dit is dus geen wonder nie dat gesê word dat hulle volgens hulle werke gekroon word, omdat Hy hulle langs die weg van die goeie werke na die lewe voer om sy werk in hulle te volbring in die orde wat Hy vasgestel het. Deur die werke word hulle voorberei om die kroon van die onsterflikheid te ontvang. Daarom word ook gesê dat hulle hulle eie heil uitwerk (Fil 2:12). Hulle lê hulle naamlik toe op goeie werke en bedink die ewige lewe. So beveel Christus ook die skare om nie te werk vir die spys wat vergaan nie, maar vir die spys wat bly tot in die ewige lewe. Maar dadelik voeg Hy daaraan toe: “wat die Seun van die mens julle sal gee” (Joh 6:27). Daaruit volg dat die woord werk nie teenoor die genade gestel word nie maar betrekking het op die ywer. Daaruit volg nie dat die gelowiges self die outeurs van hulle saligheid is nie. Dit beteken alleen dat die ewige lewe in hulle begin sodra hulle deur die kennis van die evangelie en die verligting van die Heilige Gees deel aan Christus verkry. En God, wat die goeie werk in hulle begin het, sal dit ook voleindig tot op die dag van Jesus Christus (Fil 1:6). Dit word volbring wanneer hulle deur regverdigheid en heiligheid die beeld van die hemelse Vader vertoon.
2. Ons moet ook nie uit die woord loon besluit dat ons werke die oorsaak van ons saligheid is nie. Dit moet by ons vas staan dat die koninkryk van die hemele nie ‘n besoldiging van diensknegte is nie maar ‘n erfenis van die kinders, wat net hulle sal ontvang wat Hy as kinders aangeneem het. Die groot saak waarom dit gaan, is die aanneming. Die Heilige Gees noem juis die erfenis by name op al die plekke waar Hy belowe dat die ewige heerlikheid die loon op die werke sal wees. Daarmee bewys Hy dat die saligheid nie die loon {307} op die werke is nie. So sê Christus ook vir die gesaligdes: “Beërf die koninkryk wat vir julle berei is” (Mat 25:34), as Hy die werke opsom wat Hy met die beloning van die hemel vergeld. En Paulus spreek van die erfenis as vergelding wat van die Here ontvang word (Kol 3:24). Ons moet die saligheid dus toeskrywe aan die feit dat God aanneem. Waarom word die werke dan ook genoem? Één voorbeeld van die Skrif sal dit verduidelik. Abraham ontvang die belofte van ‘n nageslag in wie al die volke van die aarde geseën sal word, ens., nog vóór die geboorte van Isak (Gen 15:5; Gen 17:11). Baie jare daarna maak Abraham in gehoorsaamheid aan die woord van die Here hom gereed om sy seun te offer. Dan ontvang hy die belofte: “Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Gen 22:3,16-18). Het Abraham nou deur sy gehoorsaamheid die seëning verdien? Hy het tog die belofte ontvang voordat die gebod gegee is. Die Here beloon dus die werke van die gelowiges met die goedere wat Hy hulle reeds gegee het voordat daar nog aan werke gedink was en Hy geen ander rede gehad het om aan hulle goed te doen nie as net sy barmhartigheid alleen.
3. Die Here mislei en bespot ons nie as Hy sê dat Hy die werke vergeld wat Hy ons uit genade gegee het vóórdat die werke daar was nie. Hy wil dat ons deur die goeie werke geoefen sal word om te jaag na die beloning, of genieting — om so te sê — van wat Hy ons belowe het, en dat ons in die goeie werke sal wandel om te streef na die salige hoop wat in die hemele vir ons weggelê is. Die apostel spreek van die hoop wat vir die Kolossensers in die hemele weggelê is, waarvan hulle vroeër gehoor het deur die woord van die waarheid van die evangelie (Kol 1:5). As hulle uit die evangelie die hoop leer ken het, is dit tog duidelik dat dit op Christus steun en nie op die werke nie. Daarmee stem ook die woorde van Petrus ooreen dat die gelowiges in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd (1 Petr 1:5).
Dieselfde gedagte lê ten grondslag aan die gelykenis van Christus in Mat 20:1 e.v. Dis ‘n gawe van genade en nie ‘n beloning van die werk nie. Almal ontvang dieselfde loon.
Eindelik moet opgemerk word dat as in al die plekke die ewige lewe die loon op die werke genoem word, dit nie verstaan moet word van die gemeenskap wat ons met God het as Hy ons in Christus omhels nie, maar van die genieting van die geluksaligheid, {308} soos die woorde van Christus self aandui: “en in die eeu wat kom, die ewige lewe” (Mark 10:30). Dis vrug van die aanneming.
4. Ons moenie dink dat die Heilige Gees deur so ‘n belofte die waardigheid van ons werke aanprys asof hulle so ‘n loon verdien nie. Want die Skrif laat ons niks oor om voor God op te roem nie; inteendeel, dit is altyd besig om ons ootmoedig te maak, ons neer te werp en te verbrysel. Deur die belofte word alleen ons swakheid ondersteun, wat dadelik sal beswyk as dit nie op so ‘n wyse getroos word nie. Die pad van selfverloëning is tog so moeilik. Tog is dit die eerste wat Christus sy volgelinge leer. Vervolgens oefen Hy hulle hulle hele lewe lank deur die kruis om hulle te leer om hulle begeerte of vertroue nie op die teenwoordige goedere te stel nie. Dat daar dus van loon gespreek word, geskied om ons te troos en nie om ons te laat roem nie. God neem ons dan op uit die arbeid tot die rus, uit die droefheid tot die vreugde, uit die smaad tot die heerlikheid.
5. As die Skrif sê (2 Tim 4:8) dat God, die regverdige Regter, eenmaal aan sy gelowiges die kroon van die geregtigheid sal gee, antwoord ek daarom saam met Augustinus: “Aan wie sal die regverdige Regter die kroon gee as die barmhartige Vader nie die genade geskenk het nie? En hoe sal daar geregtigheid wees as die genade wat die goddelose regverdig, nie voorafgegaan het nie?” Maar ek voeg dit daaraan toe: “Hoe sal Hy ons geregtigheid toereken as Hy nie die ongeregtigheid wat daar in ons werke is, deur sy goedertierenheid verberg nie? Hoe sou Hy hulle loon waardig ag as Hy nie alles wegneem wat in hulle strafwaardig was nie?”
6. ‘n Verwante plek is die volgende: “Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang” (Luk 16:9; vgl. ook 1 Tim 6:17). Die goeie werke word hier vergelyk met rykdomme wat in die ewige lewe geniet word. Ons sal hierdie plekke alleen dán reg verstaan as ons op die doel van die Heilige Gees let. As dit waar is wat Christus sê, dat ons hart dáár is waar ons skat is, moet die gelowiges toesien dat hulle die dinge wat hulle waarlik wil geniet, daarheen stuur waar hulle ‘n volmaakte lewe sal hê. Ons moet maak soos die mense wat na ‘n ander plek trek waar hulle permanent gaan woon. Hulle stuur hulle besittings vooruit, want hulle ag hulle gelukkiger hoe meer besittings hulle daar het waar hulle gaan woon. As ons glo dat die hemel ons vaderland is, moet ons ons rykdomme daarheen stuur en hulle nie hier hou nie. Maar hoe sal ons hulle stuur? Deurdat ons dit aan die armes en behoeftiges meedeel. Alles wat aan hulle geskenk word, reken die Here dat dit aan Hom gegee is (Mat 25:40; Spr 19:17; 2 Kor 9:6). Wat aan die broeders uit liefde ten koste gelê word, word in die hand van die Here in bewaring {309} gegee. En Hy sal dit met hoë rente teruggee.
7. Paulus skrywe aan die Thessalonicense dat die verdrukking wat hulle ly, ‘n teken is van die regverdige oordeel van God dat hulle die koninkryk van God waardig geag mag word. Dan vervolg hy: “aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde, en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele” (2 Thess 1:5-7). Die skrywer van die brief aan die Hebreërs sê ook dat God nie onregverdig is “om julle werk te vergeet nie en die liefdearbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien” (Hebr 6:10).
Wat die eerste plek betref, is daar geen sprake van verdienstelikheid nie. God die Vader wil dat ons, sy kinders aan Christus gelykvormig sal word. Soos Hy eers gely het en daarna ingegaan het in die heerlikheid wat vir Hom bestem was, so moet ons ook deur baie verdrukkinge ingaan in die koninkryk van die hemele (Luk 24:26; Hand 14:22). As ons daarom verdrukkinge ly vir die Naam van Christus, word op ons die merktekens gedruk waarmee God sy skape teken (Gal 6:17; 2 Kor 4:10; Fil 3:10), en word ons aangespoor deur die versekering dat ons arbeid nie tevergeefs sal wees nie. Laat ons egter altyd bedink dat hierdie beloftes vir ons van geen nut sou wees as die onverdiende verbond van barmhartigheid nie voorafgaan nie. Daarop rus al die sekerheid van ons saligheid. Daarom kan ons vertrou dat God ook ons onwaardige gehoorsaamheid sal beloon. Augustinus sê so mooi: “Die Here, wat Hom tot ons skuldenaar gemaak het, is getrou. Hy ontvang niks van ons nie maar belowe ons alles”.
8. Ook hierdie woorde van die apostel Paulus word graag aangehaal: “Al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie” (1 Kor 13:2), asook die woorde uit vs. 13 en dié uit Kol 3:14, dat die liefde die band van volmaaktheid is. Uit die eerste twee tekste konkludeer hulle dat ons eerder deur die liefde as deur die geloof geregverdig word, omdat dit dan, volgens hulle, die vernaamste deug sou wees.
Dit kan maklik weerlê word. Wat in vers 2 gesê word, het geen betrekking op die ware geloof nie. In vs. 13 verstaan ons onder geloof ook die ware geloof. As hier nou gesê word dat die liefde die grootste is, beteken dit nie dat dit meer verdienste besit nie maar dat dit vrugbaarder is, hom verder uitstrek en meer mense dien, terwyl die geloof net vir ‘n tyd is. Maar die liefde regverdig ons nie meer as die geloof nie. Ons regverdigmaking bestaan alleen in die barmhartigheid van God en die verdienste van Christus. As die geloof dit aangryp, sê ons dat dit ons regverdig maak. Dit is dus maar ‘n instrument waardeur ons die regverdigheid deur Christus {310} sonder verdienste verkry. Maar hulle maak van die liefde ‘n werk wat God aangenaam is, ten gevolge waarvan die regverdigheid ons toegereken word. Op die wyse stel hulle God se barmhartigheid opsy en gaan Christus verby.
Uit die derde teks lei hulle af dat as die liefde die band van die volmaaktheid is, dit ook die band van die regverdigheid is, omdat regverdigheid niks anders as volmaaktheid is nie. Maar wat bereik hulle nou hiermee? Ek sal altyd daarop antwoord dat ons die volmaaktheid nooit sal bereik as ons nie eers volmaak in die liefde is nie. Daaruit konkludeer ek weer dat alle hoop om volmaak te wees vir ons afgesny is omdat niemand volmaak in die liefde is nie.
9. Ek sal nie al die getuienisse behandel wat hulle aanhaal nie. Ek eindig met ‘n woord van Christus self. Aan ‘n wetgeleerde wat Hom gevra het wat nodig was om die saligheid te verkry, het Hy geantwoord: “As jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mat 19:17). Hier, sê hulle, gebied die Skenker van die genade self dat ons die koninkryk van God moet verwerf deur die gebooie te onderhou. Asof dit nie vas gestaan het dat Christus sy antwoorde aangepas het by die mense met wie Hy te doen gehad het nie! Hier vra ‘n leraar van die wet die Here wat die mense moet doen om die saligheid te verkry. Christus verwys hom, wat so op die werke vertrou, dus volkome tereg na die wet, waarin die regverdigheid volmaak afgespieël is. Ons sê ook dat die gebooie onderhou moet word as die lewe in die werke gesoek word. Dis ook vir ons noodsaaklik om te weet hoedanig die pad van die lewe is, hoe ver ons daarvan afgedwaal het, hoe onbekwaam ons is om die gebooie van die Here te onderhou, anders sal ons nooit ons toevlug na Christus neem nie. Christus roep dus die wetgeleerde terug na die wet om hom van sy hoogmoed te genees en hom te leer dat hy ‘n sondaar is onderworpe aan die vreeslike oordeel van die ewige dood. Elders troos Hy ander wat alreeds deur so ‘n selfkennis verneder is, met die belofte van genade: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee …, en julle sal rus vind vir julle siele (Mat 11:28-30).
10. Die Sofiste het hierdie uitvlug, dat die geloof êrens (Joh 6:29) ‘n werk genoem word. Ons tas dus mis as ons die geloof teenoor die werke stel. Net so asof die geloof vir ons regverdigheid verdien omdat dit gehoorsaamheid aan God se wil is en nie omdat dit die barmhartigheid van God omhels en só die geregtigheid van Christus wat in die evangelie ons aangebied word, in ons hart verseël nie.
Ek sal nie al hulle dwaashede weerlê nie. Net één teëwerping wil ek terloops ondersoek. Net soos elke sonde ons tot ongeregtigheid toegereken word, sê hulle, so word ook elke goeie werk afsonderlik {311} ons tot geregtigheid gereken. Hierop antwoord ek dat niemand regverdig is wat nie sy hele lewe lank die regte weg volg nie. Sodra hy daarvan afwyk, verval hy in ongeregtigheid. Jakobus sê: “Wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie steel nie” Jak 2:10-11). Hieruit volg dat die mens nie op grond van een of meer goeie werke regverdigheid verkry nie, maar deur ‘n onbuigbare en onvermoeide onderhouding van die wil van God. ‘n Mens moet ‘n dwaas wees om te redeneer dat die mens, wat deur baie sondes God se toorn opgewek het, deur een goeie werk met Hom versoen kan word.
HOOFSTUK XIX. Die Christelike vryheid
1. Elkeen wat die hoofsaak van die evangeliese leer wil behandel, moet ook oor die Christelike vryheid handel. Dit is besonder noodsaaklik. Sonder kennis daarvan aarsel die gewete gedurig. Dit deins terug en is altyd beangs. Maar insonderheid is dit ‘n aanhangsel van die regverdigmaking en leer dit ons om die krag daarvan te verstaan.
Dit was ook nodig om die behandeling daarvan tot hier toe uit te stel, want sodra van die Christelike vryheid melding gemaak word, begin die bose luste en sondige roersels te werk. Onder die voorwendsel van vryheid verwerp sommige alle gehoorsaamheid. Hulle is verontwaardig daaroor en sê dat daardeur alle orde, matigheid en onderskeid tussen dinge weggeneem word. Wat moet ons nou doen? Moet ons die Christelike vryheid vaarwel sê? Maar as die vryheid nie geken word nie, word Christus nie geken nie en ook nie die waarheid van die evangelie en die inwendige vrede van die siel nie.
2. Die Christelike vryheid bestaan uit drie dele. Die eerste is dat die gewete van die gelowige hom bokant die wet sal verhef en die regverdigheid deur die wet sal vergeet as dit verseker wil wees dat dit regverdig voor God is. Die wet regverdig niemand nie. Ons moet daarom alleen God se barmhartigheid omhels, van onsself afsien en die oog op Christus gevestig hou. Hieruit mag egter nie besluit word dat die wet vir die gelowiges oorbodig is nie. Dit onderwys en vermaan hulle en spoor hulle aan. Die hele lewe van die Christene moet ‘n oordenking van die godsaligheid wees, omdat hulle tot heiligmaking geroep is (Ef 1:4; 1 Thess 4:3). Dit is nou die taak van die wet om hulle aan hul plig te herinner en hulle {312} aan te spoor om heiligheid na te jaag. Maar as die gewete bekommerd is oor die vraag hoe God dit genadig sal wees, wat dit sal antwoord as dit voor sy regterstoel gedaag word, dan moenie oorweeg word wat die wet eis nie, maar moet Christus alleen as ons regverdigheid voor oë gestel word. Hy oortref alle volmaaktheid van die wet.
3. Hieroor handel die hele brief aan die Galasiërs. Dat die apostel hier nie net daaroor handel dat ons van die seremoniële wet vry is nie, is duidelik uit sulke uitsprake soos die wat ons vind in Gal 3:13; Gal 5:1 e.v. Hy behandel wel die seremoniële wet, want hy stry teen die valse leraars wat die skaduwees van die wet, wat deur die koms van Christus afgeskaf is, weer in die kerk wou invoer. Daarom toon hy aan dat ons in Christus die volkome vervulling het van al die dinge wat deur die seremoniële wet afgeskadu was. Vervolgens waarsku hy die gelowiges om nie te dink dat hulle deur enige werk van die wet of wat ook al regverdigheid voor God kan verkry nie. Vervolgens leer hy dat hulle deur die kruis van Christus van die vloek van die wet verlos is. Ten slotte verkondig hy aan hulle hulle vryheid, sodat hulle deur geen vrees oorweldig sal word nie.
4. Die tweede deel van die Christelike vryheid bestaan hierin dat die gewete nie deur die wet gedwing word om dit te gehoorsaam nie, maar uit eie beweging Gods wil gehoorsaam. Solank die gewete onder die heerskappy van die wet verkeer, leef dit in ‘n voortdurende angs. Om dus blymoedig en bereidwillig God te gehoorsaam moet dit eers vrygemaak word van die wet. Want die wet eis volmaakte liefde en veroordeel alle onvolmaaktheid. En nou is dit met die gelowiges so gesteld dat hulle graag die wet van God wil vervul, maar dit bly alles onvolmaak en dus onder die vloek van die wet.
5. Al ons werke is dus vervloek as hulle met die maatstaf van die wet gemeet word. Hoe sal die ongelukkige siele hulle dan aangord om iets te doen waarvoor hulle slegs kan verwag om vervloeking te ontvang? Maar as hulle van die gestrenge eis en hardheid van die wet bevry is en hoor dat hulle met vaderlike sagmoedigheid deur God geroep word, sal hulle opgewek op sy roepstem antwoord en Hom volg as Hy hulle lei. Hulle wat aan die juk van die wet gebind is, is soos diensknegte vir wie hulle werk elke dag deur hulle here opgelê word. Hulle dink dat hulle niks gedoen het nie en durf nie voor hulle here kom as hulle nie die taak volkome volbring het wat hulle opgelê was nie. Maar die kinders wat met groter mildheid deur hulle vaders behandel word, aarsel nie om hulle werke aan te bied nie, al is hulle onvolmaak, vol gebreke en halfklaar gedoen. En hulle doen dit omdat hulle vertrou dat hulle gehoorsaamheid en bereidwilligheid vir hulle vaders aangenaam sal wees, {313} ook al is dit nie so volkome soos hulle dit graag sou wou gehad het nie. Só moet ons ook wees. Ons moet vas vertrou dat ons gehoorsaamheid vir ons allergoedertierendste Vader aangenaam sal wees, hoe klein en gebrekkig en onvolmaak dit ook mag wees. So verseker die Here ons self: “Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man medelyde het met sy seun wat hom dien” (Mal 3:17).
6. Dit is die rede waarom die skrywer van die brief aan die Hebreërs al die goeie werke van die vaders aan die geloof toeskrywe en hulle daarvolgens beoordeel (Hebr 11). Van hierdie vryheid sê Paulus dat die sonde nie oor ons sal heers nie, want ons is nie onder die wet nie maar onder die genade (Rom 6:14). Dis die troos van die gelowiges dat hulle mag hoor dat hulle vry is van die wet, hoewel hulle duidelik gevoel dat die sonde nog nie gesterf het nie en dat die geregtigheid nog nie in hulle lewe nie. Daar is geen rede om te vrees en die moed te laat sink nie, asof God altyd vertoorn sal bly oor die oorblyfsels van die sonde. Hy lê nie die wet as maatstaf van hulle werke aan nie. Hulle wat hieruit sou wou aflei dat hulle maar sonde kan doen omdat ons nie onder die wet is nie, moet egter weet dat hulle geen deel aan die vryheid het nie.
7. Die derde deel van die Christelike vryheid bestaan daarin dat ons in middelmatige dinge deur geen beswaar voor God gebind sal wees om die te gebruik en dan weer nie te gebruik nie. Die kennis van hierdie vryheid is vir ons baie noodsaaklik, anders sal ons geen gewetensrus hê en sal daar geen end aan die bygelowighede wees nie. Ons beland dan in ‘n doolhof. As iemand byvoorbeeld daaraan sou twyfel of hy goeie wyn mag drink, sal hy daarna met geen vrede in die gewete slegte wyn drink nie. Ten slotte sal hy niks durf aanraak wat lekkerder en suiwerder as gewone water is nie. Hy sal, soos gesê word, dit nie geoorloof ag om oor ‘n strooitjie te stap nie.
8. Paulus sê: “Ek weet en is oortuig in die Here Jesus dat niks op sigself onrein is nie, maar hy wat reken dat iets onrein is, vir hom is dit onrein” (Rom 14:14). Met hierdie woorde onderwerp hy die middelmatige dinge aan ons vryheid, as ons maar in ons gemoed van die vryheid voor God verseker is. Daarom voeg hy daaraan toe: “Gelukkig is hy wat homself nie oordeel in wat hy vir geoorloof ag nie. Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde” (Rom 14:22-23). Almal wat hulle in sulke benoudhede moedig hou en alles aandurf, wend hulle van God af. Maar hulle wat God vrees, word deur skrik verwar, omdat hulle hulle gedwonge sien om iets teen hulle gewete te doen. Niemand van die twee soorte mense ontvang die gawes van God met danksegging, waardeur alles vir ons gebruik geheilig word nie (1 Tim 4:4-5).
Die bedoeling van hierdie vryheid is daarom dit dat ons God {314} se gawes sonder gewetensbeswaar en sonder gemoedsonrus mag gebruik vir die doel waarvoor Hy hulle aan ons gegee het. Deur hierdie vrymoedigheid het ons siele vrede met Hom en prys ons sy goedheid jeens ons.
9. Ons moet egter in gedagte hou dat die Christelike vryheid in al sy dele ‘n geestelike saak is. Die krag daarvan is om die bevreesde gewete voor God stil te maak. Die gewete kan bekommerd wees oor die vergewing van die sondes of oor die vraag of die onvolmaakte en met sonde besoedelde werke God kan behaag. Dit kan ook gekwel word oor die gebruik van die middelmatige dinge.
Almal lê die vryheid verkeerd uit wat dit gebruik as ‘n voorwendsel vir hulle begeerte om die goeie gawes van God vir die bevrediging van hulle luste te misbruik. Ook hulle misbruik dit wat van oordeel is dat daar geen vryheid is as hulle dit nie kan gebruik sonder om met die swak broeders rekening te hou nie.
Op die eerste manier word die meeste gesondig. Daar is haas niemand wat ryk is wat nie in weelde behae skep nie. In prag en skittering wil hulle ander oortref. Dit alles word in naam van die Christelike vryheid verdedig. Hulle sê dis middelmatige sake. Ek stem dit toe, mits dit middelmatig gebruik word. Maar as die dinge al te vurig begeer word, as daarop geroem word of as hulle in oordaad verkwis word, is dit seker dat die dinge wat op hulself geoorloof is, deur die sondes verontreinig word.
Tussen die middelmatige dinge maak hierdie woord van Paulus ‘n goeie onderskeiding: “Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel” (Tit 1:15). Waarom roep die Skrif sy wee uit oor die rykes, oor die wat versadig is, oor die wat nou lag of oor hulle wat akker by akker voeg (Luk 6:24; Amos 6:1; Jes 5:8)? Goud, rykdom is goeie gawes van God wat Hy vir die mens se gebruik bestem het. En om te lag, om nuwe besittings te verwerf, om wyn te drink is nêrens verbied nie. Dit is wel waar, maar om in genietinge te baai, om verstand en gemoed deur welluste dronk te maak en altyd na meer te verlang is misbruik van God se gawes. Weggedoen moet word die oormatige begeerte, die oordadige verkwisting en die ydelheid. Dan kan die gawes van God met ‘n rein gewete gebruik word. Ons moet eenvoudig en matig lewe en bedink dat God ons voed om te lewe, en nie om in oordaad te swelg nie. Die wet van die Christelike vryheid is om soos Paulus vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ons is, om te weet om verneder te word en ook om oorvloed te hê, om versadig te wees en om honger te ly (Fil 4:11-12).
10. Baie dwaal in hierdie opsig dat hulle hulle vryheid onverstandig gebruik sonder om hulle oor die swakheid van hulle broeders te bekommer. Daar is teenswoordig baie wat meen dat hulle {315} hulle vryheid kwyt is as hulle nie op Vrydag vleis eet nie. Ek keur dit nie af dat hulle eet nie, maar die valse opvatting keur ek af. Hulle moet bedink dat hulle deur hulle vryheid niks by die mens verkry nie maar wel by God en dat dit daarin bestaan dat hulle van iets gebruik maak of dit nalaat. As hulle verstaan dat dit vir God geen verskil maak of hulle vleis of eiers eet nie, is dit meer as genoeg. Dan is die gewete vry.
Hulle struikel egter as hulle nie die swak broeders in ag neem nie. Maar is dit nie soms nodig dat ons ons vryheid voor die mense sal handhaaf nie? Ek stem dit toe, maar tog moet met die grootste versigtigheid te werk gegaan word, om nie die swakkes wat die Here aan ons sorg opgedra het, aanstoot te gee nie.
11. Ons moet nou een en ander sê oor die aanstoot: hoe ons dit moet onderskei, vir watter soort ons op ons hoede moet wees, en oor watter ons ons nie moet bekommer nie. Daaruit kan ons die plek van ons vryheid bepaal. Gewoonlik word onderskei tussen aanstoot gee en aanstoot neem. Hierdie onderskeiding is ook Skriftuurlik. Ons gee aanstoot wanneer ons iets ontydig, ligvaardig, roekeloos en nie op die regte tyd of plek doen nie. Die skuld lê dan by ons wat die daad doen waardeur die swakkes aanstoot neem.
Ergernis word geneem wanneer ‘n saak wat andersins nie verkeerd is nie, deur die kwaadwilligheid van ander as ‘n oorsaak van aanstoot opgevat word. Die skuld lê dan by hom.
Ons noem die eerste die aanstoot van die swakkes; die ander die aanstoot van die Fariseërs. Ons sal ons vryheid só gebruik dat ons die onwetendheid van die swakkes in ag neem soos Paulus leer in Rom 14:1,13; Rom 15:1; 1 Kor 8:9; 1 Kor 10:25, maar nie die suurheid van die Fariseërs nie. Hoe ons ons teenoor hulle moet gedra, leer die Here ons self in Mat 15:14.
12. Maar tog bly die saak nog onseker as ons nie weet wie ons vir swakkes en wie vir Fariseërs moet hou nie. Paulus wys ons egter hier die pad aan. Toe hy Timotheüs met hom wou saamneem, het hy hom besny (Hand 16:3), maar hy kon nie daartoe beweeg word om Titus te besny nie (Gal 2:3). Hier word op twee verskillende maniere gehandel sonder dat Paulus egter van beginsel of hart verander. Aan die besnydenis van Timotheüs lê hierdie beginsel ten grondslag dat hy, hoewel hy van almal vry was, homself tog aan almal diensbaar gemaak het om soveel moontlik van hulle te win (1 Kor 9:19-28). Hier word die vryheid in ‘n middelmatige saak reg gebruik. Maar die geval van Titus was geen middelmatige saak nie. Daar was “ingesmokkelde valse broeders wat ingesluip het om ons vryheid, te bespied, wat ons in Christus Jesus het”. Aan hulle het hy nie ‘n oomblik in onderworpenheid toegegee nie” (Gal 2:3-5). Hier het ons die geval waarin dit noodsaaklik is om die vryheid te handhaaf. {316}
Verder gee hy vir ons ‘n duidelike reël aan hoe ons ons vryheid tot stigting van die naaste moet gebruik. Ons moet die liefde betrag (1 Kor 10:23-24).
13. Alles wat ek hier geleer het oor die vermyding van aanstoot, het op middelmatige sake betrekking. Wat noodsaaklik gedoen moet word, mag nie nagelaat word uit vrees dat ons aanstoot sal gee nie. Want net soos die vryheid aan die liefde onderworpe moet wees, só moet ook weer die liefde onder die suiwerheid van die geloof staan. Ons moet stellig met die liefde rekening hou maar nie verder as wat die diens van die Here dit toelaat nie. Dit wil sê dat ons nie God beledig ter wille van die naaste nie. Ons moet kragtig voorwaarts gaan, ongeag die struikelblokke waarmee Satan en die wêreld probeer om ons van die gehoorsaamheid aan die wil van God weg te lei.
Watter gevare ook mag dreig dit is ons nie geoorloof om ‘n duimbreed van God se bevel af te wyk nie Ons mag selfs niks beproef wat Hy ons nie toestaan nie.
14. Die gelowige verkry deur Christus se weldadigheid hierdie voorreg dat hy vry is in die dinge waarin die Here gewil het dat hy vry sal wees. Daarom is hy ook losgemaak van die mag van alle mense. Want dit is onbetaamlik dat Christus die lofsegging vir sy so grote mildheid sou verloor of dat die gewete van die gelowige die vrug van die mildheid sou verloor. Ons moet hierdie vryheid hoog ag. Christus het dit nie met goud of silwer nie maar met sy kosbare bloed gekoop. Paulus aarsel daarom nie om te sê dat Christus se dood vir ons van geen nut sal wees as ons ons siel aan die wil van mense onderwerp nie (Gal 5:1-4).
15. Onder die mense is daar tweërlei regering. Die een is geestelik. Daardeur word die gewete in die diens van God onderrig. Die ander is burgerlik. Daardeur word die mense onderrig in die burgerlike pligte wat hulle teenoor mekaar in ag moet neem. Ons moet die twee altyd onderskei. Daar is in die mens, om dit so uit te druk, twee wêrelde, waaroor verskillende konings en verskillende wette kan regeer. Hierdie onderskeiding verhoed dat ons die dinge wat die evangelie oor die geestelike vryheid leer, op die burgerlike orde gaan betrek, asof ons nie aan menslike wette onderworpe is nie, omdat ons gewete voor God vrygemaak is. Hieroor spreek ek later uitvoeriger.
Ten slotte nog net dit. Hierdie saak, wat op sigself nie ingewikkeld is nie, lewer tog vir baie moeilikhede op, omdat hulle nie noukeurig genoeg tussen die uiterlike regspleging en die regspleging van die gewete onderskei nie. Die moeilikheid word nog groter omdat Paulus gebied (Rom 13:1,5) dat ons aan die owerheid gehoorsaam moet wees nie alleen uit vrees vir die straf nie maar ook ter wille van die gewete. {317}
Daaruit volg dat die gewete ook aan die burgerlike wette gebind is. As dit so was, verval alles wat ons oor die geestelike regering gesê het. Om die knoop los te maak moet ons weet wat die gewete is. Dit is iets tussen God en die mens wat hom belet om te onderdruk wat hy weet en hom so lank vervolg totdat hy skuld erken. Dit is die mens gegee as ‘n wagter wat al sy geheime waarneem, sodat niks in die duisternis begrawe sal bly nie. Vandaar die spreekwoord: Die gewete is soos duisend getuies.
16. Soos die werke dus op die mense betrekking het, so het die gewete betrekking op God. Om ‘n goeie gewete te hê, is dus niks anders nie as om opreg van hart te wees. In dié sin sê Paulus (1 Tim 1:5) dat die doel van die gebod liefde is uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof. Die vrugte van ‘n goeie gewete kan wel die mense ten goede kom, maar die gewete self het met God te doen. Hiervandaan kom dit dat gesê word dat ‘n wet die gewete bind. Byvoorbeeld: God gebied om die hart kuis te hou en rein van alle luste. En Hy verbied elke onkuise woord en daad. Aan die onderhouding van die wet is my gewete gebind, ook al lewe daar geen ander mens op die wêreld nie.
Anders is dit gesteld met die sake wat op hulleself middelmatig is. Ons moet ons van hulle onthou as hulle aanstoot veroorsaak, maar ons doen dit met ‘n vrye gewete. In die sin spreek Paulus van vleis eet wat aan die afgode geoffer is (1 Kor 10:28). ‘n Gelowige sal sondig as hy sulke vleis sou eet hoewel hy tevore gewaarsku was. Maar ook al onthou hy hom ter wille van sy broeder omdat God dit gebied, tog verloor hy nie daardeur sy vryheid van gewete nie.
HOOFSTUK XX. Die gebed is die vernaamste oefening van die geloof. Daardeur verkry ons daeliks God se weldade
1. Uit wat tot sover behandel is, sien ons duidelik hoe arm en ontbloot aan alle goeie dinge die mens is, en hoe hom alle hulpmiddels tot die saligheid ontbreek. As hy daarom na middels soek om hom in sy armoede te hulp te kom, moet hy buite homself gaan om dit van elders te verkry.
Daarna is uitgelê dat die Here uit eie beweging Hom in sy Christus mild betoon. In Hom bied Hy ons alle geluksaligheid aan in die plek van ons ellende, en rykdom vir ons armoede. In Hom open Hy vir ons die hemelse skatte, sodat ons geloof sy geliefde {318} Seun sal aanskou en al ons verwagting en hoop op Hom gevestig sal wees en rus. Dit is ‘n verborgenheid wat net hulle leer ken wie se oë God geopen het om in sy lig die lig te sien.
Nadat ons dan deur die geloof geleer het dat alles wat ons ontbreek, in God is en in onse Here Jesus Christus, bly nog oor dat ons in Hom soek en van Hom in ons gebede vra dit wat in Hom vir ons weggelê is. Want as ons weet dat God die Here en Gewer van al die goeie dinge is en dat Hy ons uitnooi om van Hom te eis, sal dit vir ons tot geen voordeel wees as ons dit nie doen nie. Ons sou doen soos iemand wat ‘n skat in die aarde begrawe laat lê wat vir hom aangewys is. Daarom sê die apostel ook (Rom 10:14) dat ons hart deur die geloof bekwaam gemaak word om God aan te roep. ‘n Weinig vantevore (8:26) het hy gesê dat die Gees ons swakhede te hulp kom om ons begeertes aan God bekend te maak en met vertroue te roep: Abba, Vader. Dit moet nou uitvoeriger behandel word.
2. Deur die weldaad van die gebed verkry ons dus dit dat ons deurdring tot die rykdomme wat vir ons by ons hemelse Vader weggelê is. In die gebed spreek ons met God in sy heiligdom oor sy beloftes. Dan ervaar ons dat ons nie tevergeefs geglo het die dinge wat Hy ons in sy Woord toegesê het nie. God beveel ons om van Hom in die gebed te vra wat ons van Hom mag verwag. Verder kan ons met geen woorde voldoende uitlê hoe nodig en nuttig die gebed is nie. Dis waarlik nie sonder rede dat ons hemelse Vader betuig dat die enigste middel tot ons saligheid in die aanroeping van sy Naam geleë is nie. Deur die aanroeping bring ons Hom geheel en al na ons toe, sodat Hy ons sy teenwoordigheid sal betoon. Hieruit ontstaan ‘n heerlike rus en kalmte vir die gewete. As die nood wat ons druk, voor Hom uitgespreek is, vind ons daarin die heerlike rus dat nie een van ons rampe vir Hom verborge is nie, en is ons oortuig dat Hy vir ons die beste wil sorg en die beste kan sorg.
3. Iemand mag sê: “Maar weet God dan nie in watter nood ons verkeer en wat vir ons nuttig is nie, ook sonder dat ons bid?”. Dit lyk, met ander woorde, so oorbodig om God met ons gebede lastig te val, asof Hy sou slaap totdat Hy deur ons stem wakker gemaak word. Die wat so redeneer, verstaan nie waarom God sy kinders beveel het om te bid nie. Hy het dit nie ter wille van Hom nie maar ter wille van ons verordineer. God wil wel dat aan Hom die eer gegee sal word wat Hom toekom as die Gewer van alles wat vir ons nuttig is. Maar die nuttigheid daarvan ondervind ons tog ook weer. Daarom al waak God ook as ons in ons ellendes gevoelloos is, en hou Hy oor ons die wag om ons te help sonder dat ons dit van Hom vra, is dit tog ons plig om Hom aan te roep. Daarvoor is daar verskillende redes. Die eerste is dat ons hart altyd sal brand van ‘n ernstige begeerte om Hom te soek, lief te hê en te dien. Ons gewen {319} ons om in alle nood die toevlug na Horn te neem.
Vervolgens dat daar geen enkele begeerte of wens in ons hart sal opkom waarvan ons Horn nie getuie sou wil maak nie. Ons word geleer om ons wense voor sy oë uit te stal en ons hele hart uit te stort.
Ten derde dat ons bekwaam gemaak sal word om met ware dankbaarheid die weldade uit sy hand te ontvang.
Ten vierde dat ons, na gebedsverhoring, des te vuriger sy goedertierenheid sal oordink en die weldade sal geniet wat ons deur ons gebede verkry het. Ten slotte dat die belydenis van sy Voorsienigheid in ons hart versterk sal word deur ons eie ervaring en dat ons sal begryp dat Hy nie net belowe dat Hy ons nooit sal verlaat nie en dat Hy uit eie beweging die toegang geopen het om Hom in tye van nood aan te roep, maar ook dat Hy altyd sy hand uitgestrek hou om sy kinders te help.
Hulle spreek soos dwase wat sê dat God se Voorsienigheid tog die wag hou oor alles en dat dit daarom tevergeefs is om Hom met ons gebede te vermoei. God betuig daarenteen dat Hy naby almal is wat Hom aanroep (Ps 145:18).
Niks beter is wat ander sê nie dat dit oorbodig is om te vra vir dinge wat die Here uit eie beweging bereid is om te gee. Hy wil dat ons sal erken dat wat ons oorkom, ons op ons gebed gegee is. “Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep” (Ps 34:16). God se oë waak om die nood van die blindes te hulp te kom, maar Hy wil op sy beurt ons versugtinge hoor, om sy liefde vir ons des te beter te bewys.
4. Die eerste vereiste om te bid soos dit behoort, is dit dat ons in ons hart so gesteld sal wees soos dit hulle betaam wat hulle opmaak om met God te spreek. Dit sal ons verkry as ons ons hart losmaak van alle vleeslike sorge en gedagtes wat ons van die suiwere aanskouing van God kan aflei. Ons moet sover dit kan, bokant onsself uitstyg. Ek verlang egter nie dat die hart deur geen enkele bekommernis beswaar sal wees nie. Inteendeel, dit is juis die benoudheid wat ons vurig laat bid. Die heilige manne van God getuig van groot kwellings en bekommernisse as hulle sê dat hulle uit die diepte of uit die mond van die dood hulle klaende stem tot God verhef. Ek bedoel alleen dat ons alle sorge moet verdryf wat van buite af op die hart aanstorm en dit van die hemel wegtrek en na die aarde aftrek. As ek sê dat ons bokant onsself moet uitstyg, bedoel ek dat ons moet opstyg tot ‘n suiwerheid wat God waardig is, en nie maar enige dwase versinsel voor God mag bring nie.
5. Twee dinge moet hier vermeld word. Ten eerste dat elkeen wat bid, sy gedagtes daarop moet rig en nie toelaat dat hy deur afdwalende gedagtes daarvan afgetrek word nie. Daar is niks wat meer in stryd is met die eerbied wat ons aan God verskuldig is nie, as ligsinnigheid wat die openbaring is van losbandigheid wat {320} geen vrees ken nie. Hoe moeiliker dit is, des te meer moet ons ons daarvoor inspan. Elke bidder weet dat gedurig gedagtes insluip wat die gang van die gebed afbreek of teëhou. Ons moet gedurig daaraan dink hoe onwaardig dit is as God ons toelaat om met Hom te spreek, om dan sy vriendelikheid te misbruik deur die heilige met die onheilige te vermeng. Daar moet eerbied wees vir God se majesteit, sodat ons vry van aardse sorge tot Hom kan nader. Hiertoe dien die seremonie van die opheffing van die hande. Dit dien om die mense daaraan te herinner dat hulle ver van God verwyderd is as hulle nie hulle gedagtes opwaarts verhef nie (Ps 25:1). Die Skrif spreek meermale ook van die opheffing van die gebed.
Die tweede vereiste is dat ons nie meer moet vra as wat God ons toelaat om te vra nie. God beveel ons wel om ons hart voor Hom uit te stort, maar Hy gee tog nie die vrye teuel aan ons sondige neiginge nie. Ook belowe Hy dat Hy die begeertes van die opregtes sal vervul, maar sy goedertierenheid gaan tog nie sover dat Hy Hom na hulle goeddunke sal skik nie. Ons moet hierop goed ag gee. Baie waag dit om sonder skaamte of eerbied God aan te spreek en selfs sondige begeertes voor Hom te bring, wat hulle skaam sal wees om voor mense uit te spreek. Daarom moet ons altyd dink aan die woord van Johannes: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Joh 5:14). Aangesien ons egter nie so volmaak is nie, moet ons ‘n middel soek om ons te help. Om ons in ons swakheid te hulp te kom gee God ons sy Gees as leermeester. Hy sê ons voor wat goed is, en bestuur ons geneenthede. Ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees kom ons swakhede te hulp en tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge (Rom 8:26). Hy bid of sug nie inderdaad self nie, maar wek in ons die vertroue op, die verlange en sugtinge waartoe ons uit onsself nie in staat is nie.
Paulus noem die sugtinge na waarheid onuitspreeklik. Elke ware bidder weet hoedat hy deur benoudhede so verwar en belemmer kan word dat hy nouliks iets kan vind om uit te spreek. Dit is daarom ‘n besondere gawe om goed te bid. Ek sê dit nie met die doel dat ons aan ons traagheid sal toegee en die taak om te bid aan die Gees van God sal oorlaat nie, maar ek sê dit sodat ons ‘n afkeer sal hê van ons traagheid en die hulp van die Heilige Gees sal soek.
6. Die tweede reël van die gebed is dat ons ons nood reg sal ken en vurig sal begeer om die dinge te verkry wat ons van God bid. Baie bid uit gewoonte. Hulle harte is koud, en hulle oorweeg nie wat hulle vra nie. Dis geveinsdheid wat God verfoei. Ander weer mompel ‘n paar woorde sonder om te dink, net so asof hulle God deur hulle gebede moet versoen. Ons moet dus vurig begeer {321} om van God te verkry wat ons van Hom bid, selfs as ons bid vir die dinge wat net tot sy eer strek, bv. dat sy Naam geheilig sal word.
7. Ons word wel nie altyd deur ‘n gelyke nood gedwing om te bid nie. Dit leer Jakobus ons ook as hy sê: “Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing” Jak 5:13). Daarom skerp God ons deur die nood op om te bid. Dawid noem dit “die tyd as U te vinde is” Ps 32:6). Hoe swaarder die druk en beproewinge is, des te vryer toegang het ons tot God.
Intussen bly die woord van Paulus van krag dat ons altyddeur moet bid. Al het ons ook voorspoed in ons sake en ons baie stof tot blydskap het, tog is daar geen tydstip in ons lewe waarop ons armoede ons nie aanspoor om te bid nie. As ons bedink hoe baie gevare ons elke oomblik bedreig, sal die vrees ons self leer dat ons geen oomblik mag nalaat om te bid nie.
In geestelike dinge kan ons dit beter insien. Wanneer het ons nie nodig om die straf op ons baie sondes ootmoedig af te bid nie? Wanneer sal die versoekinge vir ons ‘n wapenstilstand vergun, sodat ons nie nodig het om hulp te soek nie? Daarby moet die verlange na God se koninkryk en sy heerlikheid ons altyd so vervul dat ons gedurig moet bid dat dit sal kom. As die Skrif ons vermaan om altyddeur te bid, bestraf dit ons sorgeloosheid omdat ons nie besef hoe noodsaaklik die gebed vir ons is nie.
God belowe dat Hy naby almal sal wees wat Hom in waarheid aanroep. Daarom is boetvaardigheid ‘n vereiste vir die opregte gebed. Die Skrif sê ook dat God die goddeloses nie verhoor nie en dat hulle gebed vir Hom ‘n gruwel is. Dis billik dat hulle, wat hulle harte toesluit, God se ore gesluit sal vind (Jes 1:15; Jer 1:7 e.v.[5]). God ag dit ‘n groot smaad wat Hom aangedoen word deur die goddelose wat wel die mond vol het oor sy verbond maar sy Naam deur hulle lewe ontheilig (Jes 29:13; Jak 4:3). Laat elkeen wat hom opmaak om te bid, hom oor sy sondes mishaag. En laat hom die gesindheid van ‘n bedelaar aanneem.
8. Die derde vereiste vir die gebed is dat ons afstand sal doen van elke gedagte aan eie roem, elke waan van waardigheid sal laat vaar en alle selfvertroue en aan God alleen al die eer sal gee. Van hierdie nederigheid het ons baie voorbeelde by die knegte van God. Hoe heiliger hulle is, hoe dieper buig hulle hulle voor God neer (Dan 9:18; Ps 143:2; Jes 64:5 e.v.; Jer 14:7). Hulle almal bedek nie hulle sondes nie maar vertrou alleen op God se barmhartigheid. Hulle steun net hierop dat God vir hulle sal sorg, omdat hulle sy eiendom is.
9. Die begin en voorbereiding om reg te bid bestaan dus daarin dat ons met ootmoedige en opregte skuldbelydenis bid dat God ons sondes sal vergewe. Selfs die allerheiligste mens sal niks van God verkry voordat hy nie uit genade met Hom versoen is nie. {322} En God kan niemand genadig wees nie behalwe die aan wie Hy vergewing geskenk het. So bid die gelowiges. Voordat Dawid iets van God vra bid hy: “Dink nie aan die sondes van my jonkheid nie” (Ps 25:7). Hy roep ook in herinnering die sondes uit lank vervloë dae tot selfs vóór sy geboorte, nie om sy skuld klein te maak nie maar om homself nog te meer te veroordeel. Al die gelowiges ontleen hulle moed om te bid alleen aan die feit dat God barmhartig is, dit wil sê, hulle gaan altyd uit van die feit dat hulle met God versoen is. Want elkeen wat sy gewete ondersoek sal sidder om voor God te nader as hy nie op sy barmhartigheid en vergewing vertrou nie. Dat niemand iets van God sal verkry as hy nie eers met Hom versoen is nie, blyk uit die woorde van die Here Jesus self. Voordat Hy die verlamde man genees het, het Hy eers vir hom gesê: “Jou sondes is jou vergewe” (Mat 9:2). Daarom moes die gebed onder die wet ook deur bloedstorting geheilig word, Ons vra dus van God dat Hy ons genadig sal wees voordat ons vra dat Hy sy guns deur uiterlike tekens sal bevestig.
10. Dit skyn soms asof die heiliges hulle eie geregtigheid na vore bring as ‘n pleitgrond waarom God hulle moet verhoor (Ps 86:2; 2 Kon 30:3 [6]). Hulle bedoel egter alleen om uit hulle wedergeboorte te bewys dat hulle diensknegte en kinders van God is, aan wie Hy belowe het dat Hy hulle genadig sal wees (Ps 34:16; 1 Joh 3:22). Op die wyse versterk Hy hulle vertroue. Ook moet daarop gelet word dat hulle só bid as hulle hulleself voor die Here vergelyk met hulle vyande, uit wie se onregverdige behandeling hulle wens verlos te word. Hulle pleit voor die Here daarop dat hulle saak reg is, steun nie op hulle verdienstelikheid nie maar alleen op God se goedertierenheid.
11. Die vierde vereiste is dat ons ‘n vaste hoop het dat ons verhoor sal word, al is ons ook deur ootmoed neergewerp. Dit mag wel na ‘n teenstrydigheid lyk as ons die besef van die regverdige wraak van God met ‘n vaste vertroue op sy guns verbind. Hulle kom egter goed met mekaar ooreen. Want hulle wat deur hulle sonde neergedruk word, word alleen deur God se goedheid weer opgerig.
Die boetvaardigheid en die geloof is bondgenote. Die een verskrik ons en die ander een maak ons bly. En altwee ontmoet mekaar in die gebed. Dit druk Dawid uit met die woorde: “Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan, my buig na u heilige tempel, in u vrees” (Ps 5:8) Onder die goedheid van God sluit hy die geloof in, sonder om ewewel die vrees uit te sluit. Want sy majesteit dring ons tot eerbied, en ons eie onwaardigheid laat ons vrees.
As ek van vertroue spreek, bedoel ek egter nie ‘n vertroue wat die hart van elke gevoel van angs bevry en dit met ‘n volmaakte rus vervul nie. Die heiliges word die allerbeste aangespoor om {323} God aan te roep as hulle in groot nood verkeer, deur onrus gekwel word en byna beswyk totdat die geloof hulle te hulp kom. Want onder al die benoudhede skitter God se goedheid hulle dan teë. Deur swaar rampe vermoei sug hulle dan en vrees vir nog groter angste. Tog word die lyding versag en hoop hulle op uitkoms, omdat hulle op God se goedheid vertrou.
Die gebed van die gelowige word dus deur twee dinge gedra. Hy sug onder die rampe, vrees vir nog groter rampe maar neem tog die toevlug tot God sonder om te twyfel dat Hy bereid is om hom te help. Want God word uitermate vertoorn as ons van Hom ‘n weldaad vra wat ons nie verwag om te kry nie. Ons bid dus in die geloof (Mark 11:24; Mat 21:22; Jak 1:5). Jakobus stel hier die geloof teenoor die twyfel. Die twyfelaar vergelyk hy met ‘n golf van die see. In Jak 5:15 noem hy die gebed van die geloof die ware gebed. Die geloof verkry alles wat ons op ons gebed geskenk word. Dit bedoel Paulus ook met die bekende woorde (Rom 10:14): “Hoe sal hulle Hom aanroep in wie hulle nie geglo het nie?” ens. God kan alleen deur hulle in opregtheid aangeroep word aan wie deur die prediking van die evangelie sy goedertierenheid en vriendelikheid bekend gemaak is.
12. Ons teëstanders begryp hierdie dinge nie. Daarom meen hulle dat ons ongerymde dinge sê as ons die gelowiges beveel om vas te vertrou dat God hulle genadig is. As hulle enige kennis van die ware gebed gehad het, sou hulle begryp het dat God sonder so ‘n vaste vertroue nie aangeroep kan word nie. Ons hou vas aan die woorde van Paulus dat God alleen deur hulle aangeroep kan word wat sy barmhartigheid uit die evangelie leer ken het en vas oortuig is dat dit ook vir hulle berei is. So onderwys die Heilige Gees ons (Hebr 4:16; Ef 3:12).
Ons moet dus met altwee hande vashou dat ons verkry wat ons in die geloof van God bid. So ‘n gebed is vir God aangenaam wat uit die vermetelheid van die geloof gebore is en op ‘n onbeskroomde sekerheid van die hoop gefundeer is. Daarom bid die kerk ook: “Laat u goedertierenheid, HERE, oor ons wees net soos ons op U wag” (Ps 33:22; vgl. ook Ps 56:10). Daarmee kom ook die woorde van Paulus ooreen. Voordat hy die gemeente vermaan om met alle gebed te bid, wek hy hulle eers op om die skild van die geloof op te neem, die helm van verlossing aan te neem en die swaard van die Gees — dit is die Woord van God (Ef 6:16-18). Verder moet die lesers onthou wat ek alreeds gesê het dat die belydenis van ons ellende, armoede en onreinheid geen afbreuk aan die geloof doen nie. Die gebed is waarlik nie ingestel sodat ons ons voor God sal verhef nie, maar sodat ons ons skuld sal bely en ons ellende by Hom beween.
13. As God ons beveel om te bid, stel Hy ons deur die gebod skuldig aan goddelose hardnekkigheid as ons nie gehoorsaam nie. {324} Daar kan geen korter en duideliker bevel gegee word as hierdie een nie: “Roep My aan in die dag van benoudheid” (Ps 50:15). Christus voeg aan die bevel ook nog ‘n belofte toe: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek en julle sal vind; klop en vir julle sal oopgemaak word” (Mat 7:7). Hierdie belofte is noodsaaklik, want al stem elkeen toe dat die gebod gehoorsaam moet word, tog sal die meeste mense vir God vlug as Hy hulle roep, tensy Hy belowe dat Hy hulle tegemoet sal kom. Almal wat dus nie in die gebed tot God nader nie, is ongehoorsaam en ongelowig. Nog meer, hulle is huigelaars wat onder die valse voorwendsel van nederigheid en beskeidenheid God se gebod trots verag, sy vriendelike uitnodiging nie glo nie en Hom van die vernaamste deel van sy diens beroof. Daarom is dit Hom bo alles aangenaam as ons Hom aanroep in die dag van nood. Daarom open Hy vir ons self die weg daartoe (Sag 13:9; vgl. ook Ps 65:3).
14. Dit is wonderlik dat ons deur die lieflikheid van die beloftes so matig of byna nie beweeg word nie. ‘n Groot deel van die mense verlaat liewer die bron van lewende waters, grawe vir hulle droë putte en swerf langs allerhande weë rond as om die milddadigheid van God wat hulle aangebied word, te omhels. “Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut”, sê Salomo (Spr 18:10). En Joël sê: “Elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word” Joël 2:32; vgl. ook Jes 65:24; Ps 91:15; Ps 145:18). En tog is daar uit honderd nouliks een wat na Hom toe kom! Só vas sit ons in die ondankbaarheid gebind. God wil dat ons ons sorge op Hom sal werp. Hy lê ons die naam Vader in die mond. Ter wille van sy beloftes verhoor Hy ons en nie ter wille van enige verdienstelikheid wat ons sou besit nie. Want God verkondig dat Hy almal genadig wil wees. Daar is dus selfs vir die allerellendigste hoop dat hy sal verkry wat hy van God bid. Daar moet alleen opregtheid van hart, mishaging van onsself, nederigheid en geloof by ons gevind word, sodat ons die Naam van God nie deur huigelary ontheilig nie. Dan sal die algoeie Vader niemand afwys wat Hy op allerhande maniere aanspoor om na Hom te kom nie. Só bid Dawid soos ons dit vind in 2 Sam 7:27-29; vgl. ook Ps 119:76. Watter voorwendsels die ongelowiges ook mag gebruik om nie hulle toevlug tot God te neem nie, staan dit tog vas dat hulle Hom beroof van die eer wat Hom toekom, want hulle ontken daarmee dat Hy die Gewer van alles is.
Daarenteen word die gelowiges kragtig aangespoor deur hierdie gedagte dat hulle aan God se gebod gehoorsaam is as hulle bid, en dat niks Hom meer behaag as gehoorsaamheid nie. So klim ons met die trappe van die beloftes op en bly tog nog smekelinge in selfvernedering.
15. Daar word teëgewerp dat God tog die gebede van Jotam {325} (Rigt 9:20) en van Simson (Rigt 16:28) verhoor het. Al was daar by hulle ywer vir die goeie aanwesig, tog het die begeerte na wraak die oorhand gehad. Hieruit word dan die gevolgtrekking gemaak dat gebede tog verhoor word, al beantwoord hulle nie aan die eise van Gods Woord nie. Daarop antwoord ek dat ‘n enkele uitsondering nie ‘n ewige wet ophef nie. Ons moet hier ook let op die antwoord wat Christus aan sy apostels gee (Luk 9:55). Ons moet nog verder gaan en sê dat die gebede wat God verhoor, Hom nie altyd behaag nie maar dat hulle nodig is om as voorbeelde te dien dat Hy die ellendiges help en die sugte verhoor van hulle wat onregverdig verdruk word. Psalm 107 leer duidelik dat die gebede van ongelowiges ook verhoor word. Hier dring die nood om te bid. Tog het God die gebede genadig verhoor. Doen God dit om te bewys dat die gebed Hom aangenaam is? Nee, Hy doen dit om sy barmhartigheid groot te maak en ook om sy opregte dienaars aan te spoor om te bid, omdat hulle sien dat selfs die gebede van die onheiliges vir hulle profytlik is. So was Hy deur die geveinsde boetvaardigheid van Agab bewoë (1 Kon 21:29) om deur die voorbeeld aan te toon dat Hy op die gebede van sy uitverkorenes let as hulle met opregte bekering tot Hom nader. Daarenteen verwyt Hy die Jode dat hulle na gebedsverhoring, hardnekkig in die sonde volhard (Ps 106:43). God verhoor dus ongelowiges soms ook, net soos Hy sy son oor goeies en slegtes laat opgaan.
Moeiliker skyn die gevalle te wees van Abraham, wat vir Sodom bid hoewel hy geen bevel van God gehad het om dit te doen nie (Gen 18:23); van Samuel, wat vir Saul gebid het (1 Sam 15:11; 16:1), en van Jeremia, wat gebid het dat Jerusalem nie sal ondergaan nie (Jer 32:16). Hulle het gesteun op die algemene beginsel waarvolgens God beveel om ook aan die onwaardiges barmhartigheid te bewys. Hoewel hulle nie sonder geloof was nie, is hulle tog in die besondere gevalle deur hulle mening bedrieg.
16. Intussen moet opgemerk word dat die vier vereistes vir die ware gebed wat ek opgenoem het, nie so gestreng opgevat moet word, asof God elke gebed sou verwerp waarin Hy geen volmaakte geloof of bekering vind nie. Want die gebede van die gelowiges is nog in baie opsigte onvolmaak, omdat hulle nog sondige mense is. Hoe baie klagtes van Dawid getuig nie van onmatigheid nie! Nie asof hy met opset hom bekla oor God of teen sy oordele ingaan nie maar omdat hy deur swakheid beswyk en dan geen ander beter troos vind as om sy smarte in God se skoot te werp nie (Ps 39:14). In die Heilige Skrif vind ons baie voorbeelde waaruit duidelik blyk dat die geloof van die heiliges dikwels met twyfel vermeng is. Nie een beantwoord volkome aan die eise wat ons gestel het nie. Daar is nie een gebed wat God nie met reg sou moes verstoot as Hy nie die smette vergewe waarmee dit bevlek is nie. Maar dit mag {326} vir ons geen rede wees om sorgloos te wees nie. Nee, ons moet onsself bestraf en daarna strewe om die gebreke te oorwin. Satan sal wel op allerhande maniere probeer om ons te belet om te bid. Ons moet egter volhard, vas oortuig dat al is daar nog baie hinderpale, ons poginge God behaag en ons gebede vir Hom aangenaam is, as ons maar die volmaaktheid najaag.
17. Geen mens is uit homself waardig om voor God te verskyn nie. Daarom het die hemelse Vader, om ons van skaamte en vrees te verlos, aan ons sy Seun, Jesus Christus, gegee as Voorspraak en Middelaar by Hom (1 Tim 2:5; 1 Joh 2:1). Onder sy aanvoering kan ons onbesorg tot God nader in die vaste vertroue dat niks ons geweier sal word wat ons in sy Naam vra nie. Die Vader kan Hom niks weier nie (Hebr 4:16; Joh 14:13; 16:24). Hieruit blyk dit duidelik dat almal wat God nie in die Naam van Christus aanroep nie, sy bevel oortree, sy wil verag, en geen belofte het dat hulle iets sal verkry nie. Immers, soveel beloftes van God as wat daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen (2 Kor 1:20).
18. Ons moet ook die tydstip in ag neem waarop Christus sy apostels beveel om in sy Naam te bid. Dit is naamlik nadat Hy na die hemel sou opgevaar het. “In daardie dag sal julle in my Naam bid”, sê Hy (Joh 16:26). Dit is ook seker dat almal wat gebid het, van die begin van die wêreld af ter wille van die Middelaar verhoor is. Daarom het God verordineer dat die hoëpriester die name van die stamme van Israel op sy skouers sal dra, en net soveel kosbare stene op sy bors (Ex 28:9-12). Hiertoe het ook die offerandes gedien, sodat die gebede vas en van waarde sou wees.
Hierdie seremonies van die wet leer ons dat ons geen toegang tot God het nie en dat ons daarom ‘n Middelaar nodig het om in ons naam te verskyn, sodat ons in sy Persoon verhoor mag word. Vervolgens leer dit ons dat ons gebede deur die besprenkeling met sy bloed, gereinig moet word. As die heiliges dan ook iets begeer het, het hulle hulle hoop op die offerande gevestig (Ps 20:4). God is dus van die begin af deur die voorbidding van Christus versoen om die gebede van die gelowiges aan te neem. Deur sy hemelvaart word dit alleen heerliker werklikheid. Daarom is ons sonde nie te verontskuldig, as ons so ‘n onskatbare weldaad wat insonderheid vir ons bestem is, nie met altwee hande aangryp nie.
19. Christus is dus die enigste weg tot God. Almal wat hierdie weg verlaat, het geen toegang tot God nie. Hulle vind op sy troon niks anders as toorn, verskrikking en oordeel nie.
Intussen doen die heiliges ook voorbidding vir mekaar (1 Tim 2:1). Maar hierdie voorbidding steun op die voorbidding van Christus en doen niks daarvan af nie. Hulle geskied tog ook maar in die Naam van Christus. {327}
20. Hulle bewering dat Christus die Middelaar van verlossing is en die gelowiges die middelaars van voorbidding, is beuselagtig. Net so asof Christus, nadat Hy ‘n tydelike bemiddeling vervul het, die ewige bemiddeling op sy diensknegte afgeskuif het! Maar Johannes sê: “As iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige” (1 Joh 2:1). Paulus sê ook dat Hy aan die regterhand van die Vader sit en vir ons intree (Rom 8:34; vgl. ook 1 Tim 2:5). En self vra hy ook die voorbidding van die gemeentes op aarde (Rom 15:30; Ef 6:19; Kol 4:3). Hy maak nie van homself ‘n middelaar tussen God en die volk nie maar vra dat die lede van Christus se liggaam vir mekaar sal bid, omdat hulle vir mekaar sorg dra. Hulle gebede styg op tot hulle Hoof in die hemel.
Ons moet die voorbidding egter nie vir ons só voorstel nie asof Christus op sy knieë soos ‘n smekeling voor God neergeboë lê nie, maar dat Hy só voor die aangesig van God verskyn dat sy dood as ‘n ewige voorbidding vir ons dien. Hy bring in die hemelse heiligdom die gebede van die volk van God na Hom.
21. Wat die afgestorwe heiliges betref, net dit. As ons aanneem dat hulle tot God bid, moet ons nie meen dat hulle ‘n ander toegang tot God het nie, as alleen deur Christus, wat die enigste weg is. Ons moet ook nie meen dat hulle gebede in ‘n ander naam God welgevallig is nie. Dit is daarom dwaasheid om deur hulle die toegang na die Vader te wil verkry en ons só van Christus te laat weglei, sonder wie daar ook vir hulle geen toegang tot God is nie. Om hulle voorbidding te soek, openbaar ‘n gebrek aan vertroue en ‘n vrees dat Christus hierin te kort sal skiet of te gestreng sal wees. Hierdeur onteer hulle Hom en beroof Hom van die titel wat die Vader Hom gegee het, nl. dat Hy ‘n ewige Middelaar is. Hulle verduister ook die heerlikheid van sy geboorte, verydel sy kruis en verwerp die goedertierenheid van God, wat as Vader Hom aan hulle aanbied. Daarom bied die Skrif ons Hom alleen aan, stuur ons na Hom toe en vestig ons oog op Hom. As hulle inbring dat die openbare gebede in hulle kerke eindig met die woorde: “deur Christus, onse Here”, is dit ‘n waardelose uitvlug, want die voorbidding van Christus word ewe goed ontheilig deur dit te vermeng met die gebede en verdienstes van die heiliges as deur dit weg te laat.
22. Die dwaasheid het so ver voortgewoeker dat ons hier duidelik te doen het met bygeloof wat losbandig is. Want nadat hulle begin het met die voorbidding van die heiliges, het hulle so langsamerhand aan elkeen sy werk toegeken, sodat nou hierdie en dan weer daardie heilige se voorspraak ingeroep word. Daarna het elkeen vir hom ‘n heilige as beskermgod aangeneem. Ja, elke stad het ook sy eie god gehad soos Israel outyds (Jer 2:28; Jes 11:13). Eindelik het hulle ook hierdie heiligskennis gepleeg dat hulle die afgestorwe {328} heiliges nie net as voorbidders aangeroep het nie maar selfs as beskermers van hulle saligheid. Só verval ‘n mens as jy die Woord van God verlaat.
23. Hulle probeer tevergeefs om hierdie voorbidding met die gesag van die Skrif te dek. Hulle beweer dat die gebede van die gelowiges deur engele voor God se aangesig gebring word. Maar as hulle die afgestorwe heiliges met die engele wil vergelyk, dan moet hulle ook bewys dat hulle dienende geeste is aan wie God dit opgedra het om vir ons saligheid te sorg, ons op ons weë te bewaar, ons te vermaan en te troos en oor ons te waak (Hebr 1:15 [7]; Ps 91:11; Ps 34:8).
Waar haal hulle die vermetelheid vandaan om aan God voorsprake op te dring wat Hy nie vir hierdie amp verordineer het nie?
Hulle beroep hulle ook op die woorde van die Here tot Jeremia (15:1): “Al staan Moses en Samuel voor my aangesig, my siel wil niks van hierdie volk weet nie”. Hieruit lei hulle af dat die dode vir die lewende bid. Maar ek lei daaruit af dat nòg Moses, nòg Samuel vir die volk gebid het. Nog meer: dat daar glad geen voorbidding deur die afgestorwenes vir die volk was nie. Want as Moses dit nie gedoen het nie, wat al die ander oortref het, wie anders sou dit doen? Die Here sê maar net dat Hy die misdrywe van die volk nie sal spaar nie, ook al sou hulle ‘n Moses of Samuel as voorspraak gehad het. Dit blyk duidelik uit Eseg 14:14. Paulus sê ook nie dat Dawid sy nageslag met sy gebede te hulp kom nie, maar alleen dat hy sy eie geslag volgens die raad van God gedien het (Hand 13:36).
24. Hulle sê dat ons op hierdie manier die afgestorwe heiliges alle trekking van die liefde ontneem, terwyl hulle gedurende hulle lewe niks anders as vroomheid en barmhartigheid bewys het nie. Ek wil nie nuuskierig ondersoek wat hulle doen of bedink nie. Dis egter onwaarskynlik dat hulle deur allerhande begeertes heen en weer geslinger word. Dit staan vas dat hulle met ‘n onbeweeglike wil strewe na die koninkryk van God, wat sowel in die ondergang van die goddelose as in die saligheid van die gelowiges bestaan. As dit waar is, kan nie daaraan getwyfel word dat hulle liefde in die gemeenskap met die liggaam van Christus ingesluit word nie. Hieruit volg egter nie dat ons hulle moet aanroep nie. Dit volg ook nie daaruit dat op aarde mense vir mekaar voorbidding doen nie. Want dit dien om die liefde te voed en te versterk, deurdat ons in mekaar se nood deel.
En hulle doen dit volgens die gebod en belofte van die Here, die twee vernaamste dele van die gebed. Maar dit geld nie ten opsigte van die dode wat die Here van ons weggeneem het nie. Ons het met hulle geen omgang meer nie (Pred 9:5-6).
En as nou voorgewend word dat hulle dieselfde liefde vir ons behou, soos hulle ook deur dieselfde geloof met ons verenig is, dan {329} vra ek: Wie het aan ons geopenbaar dat hulle ons stem kan hoor en kan sien wat ons nodig het? Hulle beweer wel dat die afgestorwenes in die lig van die aangesig van God wat hulle bestraal, kan sien wat hier op aarde onder die mense gebeur. Maar dit is niks anders nie as die dronk drome van harsings wat in die verborge dinge van die Here wil deurdring, en ‘n vertrapping van sy Woord.
25. Die ander getuienisse wat hulle uit die Skrif aanvoer om hulle leuen te verdedig, is ‘n verdraaiing van die Skrif. Hulle sê dat Jakob begeer dat sy naam en die van sy vaders Abraham en Isak oor sy nageslag aangeroep mag word (Gen 48:16). Laat ons sien wat die aanroeping beteken. Jakob spreek só omdat hy weet dat die geluksaligheid van sy nageslag geleë is in die erfenis van die verbond wat God met hom gesluit het. Hier is dus geen sprake van voorbidding deur die dode nie maar ‘n herinnering van God aan sy verbond waarin Hy dit op Hom geneem het om hulle genadig te wees ter wille van Abraham en Isak. Hoe min die heiliges op die verdienstes van die vaders gesteun het, getuig die woord van die kerk by Jesaja: “Want U is ons Vader! Want Abraham weet van ons nie, en Israel ken ons nie. U, o HERE, is ons Vader; ons Verlosser is van ouds af u Naam” (63:16).
Waar ons nou die Here Jesus het, in wie se hand die ewige verbond van barmhartigheid gesluit en bevestig is, aan wie se Naam sal ons dan voorkeur gee bo syne? Maar aangesien hulle nou wil dat deur hierdie woorde (Gen 38:16) die aartsvaders tot voorsprake gestel word, sal ek graag van hulle wil verneem waarom die naam van Abraham, die vader van die kerk, by hulle selfs nie die geringste plek inneem nie?
Hulle beweer ook dat God gebid word om Hom ter wille van Dawid oor die volk te ontferm. Hier word egter gedoel op die verbond met Dawid en nie op sy persoon nie en word in beeldspraak die enige voorbidding van Christus bevestig. Wat aan Dawid alleen eie was, omdat hy voorbeeld van Christus was, kan nie op ander toegepas word nie.
26. Vir sommige dra dit baie gewig dat ons dikwels lees dat die gebede van die heiliges verhoor is. Waarom? Wel, omdat hulle gebid het. “Op U het ons vaders vertrou”, sê die profeet, “hulle het vertrou, en U het hulle uitgered. Hulle het U aangeroep en het ontvlug” (Ps 22:5-6). Laat ons dan ook soos hulle bid, sodat ons ook soos hulle verhoor mag word. Dis verkeerd om hieruit te besluit dat net hulle verhoor word wat een maal verhoor is. Dan redeneer Jakobus beter (5:17). Lei hy nou hieruit af dat Elia ‘n besondere voorreg gehad het om verhoor te word en dat ons daarom die toevlug na hom moet neem? Allermins. Hy leer ons alleen dat die krag van ‘n opregte gebed altyddurend is, om ons op die wyse aan te spoor om ook só te bid. {330}
27. Dit is dan die hoofsom: die Skrif leer ons dat ons God moet aanroep. Wie dus tot iemand anders bid, pleeg heiligskennis. Daarom word ook in die psalm gesê: “As ons die Naam van onse God vergeet het en ons hande uitgebrei het na ‘n vreemde god — sou God dit nie naspeur nie?” (Ps 44:21-22). Verder wil God dat ons Hom in die geloof sal aanroep. Die geloof is egter op sy Woord gegrond. Daarom word die gebed vervals as dit hom van die Woord afwend. Wat die voorbidding betref, het ons gesien dat dit alleen aan Christus toekom en dat geen gebed by God aangenaam is nie behalwe die wat deur Hom geheilig word. En al bid die gelowiges ook vir mekaar, vervang dit nie die voorbidding van Christus nie, omdat almal alleen op sy voorbidding steun. Ons het ook gesien dat ons nêrens lees dat aan die dode opgedra word om vir ons te bid nie.
Daarom is dit alleen voldoende om hierdie dwaling te veroordeel, naamlik dat die geloof die begin van die ware gebed is en dat die geloof uit die Woord van God is, waarin geen melding gemaak word van hierdie versinsel wat die bygeloof uitgedink het nie. Verder staan dit vas dat hierdie bygeloof voortgekom het uit gebrek aan vertroue, of omdat hulle nie met Christus as Voorbidder tevrede was nie.
28. Die gebed bestaan eintlik uit smeking en gebede. Tog is daar ‘n nou verband tussen gebed en danksegging. Deur gebed en smeking stort ons ons begeertes voor God uit. Ons vra die dinge wat dien tot verbreiding van sy eer en verheerliking van sy Naam, asook die dinge wat vir ons nuttig is. Deur te dank verkondig ons sy weldade jeens ons en skryf ons al die goeie wat ons ontvang het, aan sy milddadigheid toe. Dawid vat altwee saam in die woorde: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer” (Ps 50:15). Dis nie sonder rede dat die Skrif ons vermaan om dit in ag te neem nie. Ons armoede is so groot, en ons word deur sulke groot benoudhede gedruk dat almal voldoende rede het om gedurig tot God te sug en sy hulp smekend in te roep. En al is ons vry van teëspoede, is daar nog die skuld van ons sondes en die baie aanvegtinge en versoekinge wat ons om hulp laat roep.
Ons kan ook nie ophou om te loof en te dank sonder om te sondig nie, want God hou nie op om die een weldaad op die ander te stapel om ons tot dankbaarheid te dwing nie. Dit ontbreek ons nooit aan stof om Hom te loof en te dank nie, want ons word daeliks onder sy weldade begrawe, en sy wonderwerke aan ons is so groot. Bowendien is ons so afhanklik van sy seën dat ons gedurig onsself en alles wat aan ons behoort, aan Hom moet opdra. Alles wat ons oorlê, spreek en doen, moet ons in vertroue op sy hulp oorlê, spreek en doen. Want vervloek is elkeen wat op homself vertrou en wat buite God se wil om en sonder Hom iets {331} onderneem of selfs trag om te onderneem (Jak 4:14; Jes 30:1; Jes 31:1). Omdat Hy die Gewer is van al die goeie, moet ons met gedurige danksegging alles uit sy hand ontvang en sy lof verkondig sonder om op te hou. Dit is die betekenis van Paulus se woorde dat God se gawes geheilig word deur die woord en die gebed (1 Tim 4:5). Dawid sê ook dat God deur sy milddadigheid ‘n nuwe lied in sy mond gegee het (Ps 40:4). God gee ons telkens stof om Hom te prys as Hy aan ons goed doen. Daarom is dit sonde om te swyg as ons ‘n weldaad ontvang. Vergelyk in die verband Jes 38:20; 42:10; Ps 51:17; 106:47; 116:1 en baie ander plekke. Hierdie laaste Skrif-uitspraak wys aan dat God geen behae in ons lof het as dit nie uit die lieflikheid van die liefde voortkom nie. Paulus gebied selfs om te dank nog voordat ons verkry wat ons begeer het (Fil 4:6). Verder, as die gebed met danksegging verbind moet wees in tye van teëspoed, moet ons des te meer God se lof sing as Hy ons begeertes bewillig. En net soos ons gebede deur Christus se voorbidding geheilig moet word, so is ook ons mond nie suiwer om God se Naam te verheerlik as Christus die Priester ons nie te hulp kom nie.
29. Die gebed sonder ophou waarvan Paulus spreek (1 Thess 5:17), sien in die eerste plek op die persoonlike gebed. Maar dit het ook betrekking op die openbare gebede van die kerk. Dit is daarom noodsaaklik dat hierdie gebede volgens ‘n vasgestelde orde en op bepaalde ure sal plaasvind, sodat alles welvoeglik en ordelik sal toegaan volgens die woord van Paulus (1 Kor 14:40). Dit verhinder egter geen kerk om meermale saam te kom om homself tot gebed op te wek nie.
Dit het egter niks te maak met die ydele herhaling van woorde wat Christus veroordeel nie (Mat 6:7). Deur hierdie woorde verbied Hy ons nie om lank, dikwels en aanhoudend te bid nie maar net om daarop te vertrou dat ons met ons woorde God iets sal afpers, asof Hy ‘n mens is. So dink die huigelaars en Fariseërs (Luk 18:11). Hieraan verwant is ‘n ander misbruik wat Christus ook veroordeel, naamlik dat ons bid om deur die mense gesien te word. Die gebed is ‘n aandoening van die hart, wat voor God, die Ondersoeker van die harte, uitgestort word. Daarom beveel Christus ons (Mat 6:6) om in ons binnekamer te gaan en daar ons Vader te bid, wat in die verborgene is. Daarmee leer Hy ons om ‘n eensame plek te soek, wat daartoe kan meewerk dat ons met al ons gedagtes in ons hart kan afdaal, en belowe Hy dat God naby ons sal wees. Hy ontken nie dat ons ook op ander plekke kan bid nie, maar toon net aan dat om te bid iets is wat veral in die gemoed geleë is en rustigheid van hart eis, ver van al die gewoel en sorge van die lewe. Christus het self die eensaamheid opgesoek om te bid. Maar Hy het ook in die openbaar gebid. Daarom moet die {332} kerk dit ook doen (1 Tim 2:8). Wie weier om dit te doen, weet ook nie wat dit is om tuis of in die eensaamheid te bid nie.
Om te verhoed dat die openbare gebede van die kerk geminag sal word, noem Hy dit met skitterende lofwoorde, veral toe Hy die tempel die huis van gebed genoem het (Jes 56:7). Daarmee leer Hy ons dat die roeping om te bid die vernaamste deel van sy diens is. Daaraan word ook heerlike beloftes toegevoeg (Ps 65:2 e.v.).
30. God beveel in sy Woord dat openbare gebede gedoen moet word. Daarom moet daar ook kerkgeboue wees waar dit kan geskied. Hulle wat weier om met die volk van God saam te vergader, mag dit nie doen onder die voorwendsel dat hulle in hulle binnekamer gaan om God se gebod te gehoorsaam nie. Want Hy wat belowe om te doen wat twee of drie vra wat in sy Naam vergader, getuig daarmee dat Hy die openbare gebede nie gering ag nie (Mat 18:20). Daar moet net nie na eer by mense gesoek word nie maar ‘n opregte en ware gesindheid wat in die verborgene van die hart woon, moet aanwesig wees.
Ons moet net nie die kerkgeboue vir die woonplekke van God hou waar Hy dan nader aan ons sal wees nie. Ook moet ons geen verborge heiligheid aan hulle toeskrywe waardeur ons gebede dan heiliger sou wees nie. Onsself is die tempel van God. Jesaja (66:1) en Stefanus (Hand 7:48) het die Jode ernstig berispe omdat hulle gemeen het dat God in ‘n tempel woon wat met hande gemaak is. Dit was maar net ‘n afskaduwing van die ware tempel.
31. Dis ook duidelik dat nòg die stem, nòg die gesange in die gebed enige betekenis het, as dit nie uit die diepste hart voortkom nie. Die dinge wek selfs sy toorn op as hulle maar net uit ons mond of keel kom. Dis ‘n misbruik van sy Naam en ‘n bespotting van sy majesteit. Hierop pas die woorde van die Here deur die mond van Jesaja (Jes 29:13; Mat 15:8).
Ons veroordeel nie die stem en die gesang nie. Ons prys dit eerder aan. Dit moet alleen uit die regte gesindheid van die hart voortkom. Só word die gees geoefen om aan God te dink. Verder is dit veral paslik dat ons tong aan die diens van die Here gewy sal wees, omdat dit in besonder geskape is om God se lof te verkondig. So verheerlik ons God in die openbare gebede in een gees en geloof, met een gemeenskaplike stem en mond. Elkeen hoor van sy broeder die openbare belydenis van geloof en word daartoe opgewek.
32. Die gewoonte om in die kerke te sing is nie net oud nie maar was alreeds in die tyd van die apostels gebruiklik (1 Kor 14:15; Kol 3:16). Wanneer die gesang so verhewe is as wat paslik is voor die aangesig van God en die heilige engele, gee dit aan die heilige handelinge waardigheid en aangenaamheid, en is {333} dit ‘n kragtige middel om die harte op te wek tot die regte ywer en vurigheid om te bid. Ons moet net oppas dat die ore nie meer deur die mooi melodie gestreel word as wat die harte deur die geestelike betekenis van die woorde geroer word nie.
33. Uit die voorgaande is dit ook duidelik dat die openbare gebede nie in ‘n onbekende taal uitgespreek moet word nie maar in die taal van die volk, sodat almal dit kan verstaan. Want hulle geskied tot stigting van die hele gemeente. Hierop is ook van toepassing die woorde wat die apostel Paulus wel in ‘n ander verband gebruik (1 Kor 14:15-16).
Vir die persoonlike gebed is die tong nie altyd noodsaaklik nie, soos blyk uit die geval van Hanna (1 Sam 1:13) en die ervaring van baie heiliges. Die houding van die liggaam, soos bv. kniel en die hoof ontbloot, is oefeninge wat ons tot groter eerbied teenoor die Here opwek.
34. Ons moet nou die regte manier leer om te bid en ook die vorm van die gebed. Dit het ons hemelse Vader ons deur sy geliefde Seun gegee. Daarin merk ons sy onmeetlike goedheid op. Omdat God weet dat ons nie begryp hoe groot ons armoede is, wat ons behoort te vra en wat in ons belang is nie, kom Hy ons onwetendheid te hulp en skenk wat ons ontbreek. Hy gee ons ‘n gebed waarin Hy aan ons leer alles wat ons van Hom mag vra, alles wat vir ons nuttig en nodig is. Uit hierdie goedheid put ons ‘n groot vertroosting, omdat ons weet dat ons niks wat ongerymd is of wat Hom nie behaag nie, van Hom vra.
35. Die gebed self bestaan uit ses bedes. Die eerste drie is besonderlik op God se eer gerig, sonder dat op ons voordeel gelet word. Die orige drie sien op ons. Daarin vra ons wat vir ons nuttig is.
Ons gaan nou oor om die gebed self te verklaar.
36. Onse Vader wat in die hemele is.
Hier word ons geleer dat ons God moet aanroep in die Naam van Christus. Daarom noem ons Hom onse Vader. Want wie sal hom dit durf aanmatig om God Vader te noem en homself kind van God, as Hy ons nie in Christus uit genade tot kinders aangeneem het nie? Johannes sê: Almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh 1:12). Daarom noem God Homself ons Vader en wil Hy dat ons Hom só sal noem. Deur die groot lieflikheid van die Naam wil Hy ons van alle wantroue verlos, aangesien nêrens elders groter liefde gevind kan word as in ‘n vader nie. En sy liefde vir ons is soveel groter en voortrefliker as al die liefde van ons ouers, aangesien Hy alle mense in goedheid en barmhartigheid ver oortref. Al sou ook alle vaders op aarde alle liefde vir hulle kinders aflê, sal Hy ons tog nooit in die steek {334} laat nie, omdat Hy Homself nie kan verloën nie (1 Joh 3:1; Ps 27:10; Jes 63:16; 2 Tim 2:13; Jes 49:15; Mat 7:11).
Daarom soek ons ook ons hulp by Hom alleen, anders sou ons te kenne gee dat Hy arm is, onvermoënd, wreed en oorgestreng.
37. Laat ons nie aanvoer dat ons bevrees gemaak word deur die bewussyn van ons sondes, wat ons goedertieren Vader vertoorn op ons maak nie. Want as onder mense ‘n seun geen beter verdediger kan hê om sy saak by sy vader te bepleit nie en geen beter bemiddelaar om die verlore guns van sy vader weer terug te win as om sy skuld te erken en hom op sy vader se barmhartigheid te beroep nie, sal dan die Vader van alle barmhartigheid en die God van alle vertroosting nie op ons skuldbelydenis bewoë word nie? (2 Kor 1:3). Sal Hy nie eerder die versugtinge van sy kinders as die voorspraak van ander hoor nie?
Hierdie oorvloedige vaderlike sagmoedigheid leer Christus ons in die gelykenis (Luk 15:11 e.v.) waarin die vader sy seun wat hom van hom vervreemd het en sy goed losbandig verkwis het, met uitgestrekte arms omhels en nie wag totdat hy in soveel woorde vergifnis gevra het nie, maar hom voorkom, hom van ver af herken, hom tegemoetloop, troos en in genade aanneem.
Hierdeur leer Christus ons hoeveel oorvloediger sagmoedigheid ons van Hom moet verwag wat nie net ons Vader is nie maar ook die beste en mees goedertieren van alle vaders, hoewel ons ondankbare, weerspannige en slegte kinders is. As ons ons maar op sy barmhartigheid werp. Om hierdie vertroue nog vaster te maak gebied Christus ons om Hom onse Vader te noem.
So ‘n onmeetlike goedgunstigheid kan ons hart nie vat nie. Daarom gee Christus, wat self vir ons die pand is van ons aanneming as kinders, aan ons die Heilige Gees, deur wie ons roep: “Abba, Vader”. As daar dus twyfel in ons hart opkom, laat ons Hom bid om sy Gees, wat ons moedig sal maak om só te bid.
38. Ons mag God dus ons gemeenskaplike Vader noem. Dit leer ons hoe sterk die liefde moet wees wat ons onderling vir mekaar moet hê. As van ons gemeenskaplike Vader alle goeie gawes neerdaal, moet ons ook bereid wees om aan ander mee te deel wat vir hulle nuttig is. Bo alles moet ons hulle opdra aan die sorg en voorsienigheid van die allerbeste Vader, omdat niks hulle kan ontbreek as Hy hulle genadig is nie. Ons liefde vir die Vader betoon ons dan aan sy huisgesin, wat Hy die volheid noem van Hom wat alles in almal vervul (Ef 1:23).
‘n Christen omvat dus in sy gebed alle mense op aarde wat hy sy broeders mag noem. Insonderheid bid hy vir die huisgenote van die geloof (Gal 6:10).
39. Dit verhinder ons nie om vir onsself en vir bepaalde persone in besonder te bid nie, as ons maar net nie die gemeenskap {335} uit die oog verloor of ons daarvan afkeer nie. Net soos ons nie sondig omdat ons nie alle armes kan help nie maar net die met wie ons bekend is, so stry ook hulle nie teen God se gebod wat die gemeenskap in die oog hou maar tog vir hulle bid met wie se nood hulle bekend is nie. Verder merk ons op dat ons met ons gebede ook hulle kan help wat vir ons vreemdelinge is en ver van ons verwyder is.
40. Daar word bygevoeg dat Hy in die hemel is. Dit beteken nie dat Hy tot ‘n sekere plek, naamlik die hemel, beperk word nie. Want Salomo sê dat die hoogste hemel Hom nie kan bevat nie (1 Kon 8:27). Maar aangesien ons sintuie geneig is om iets te verbind aan die plek waar hulle dit waarneem, word God buite elke plek gestel. Hy is verhewe bokant alle wisselvalligheid of verandering. Die woorde gee ook te kenne dat Hy die hele wêreld omvat, saamhou en regeer. Dit beteken dus net soveel asof bely word dat Hy ‘n onbegrensde grootheid, ‘n onbevatbare wese, ‘n onmeetlike mag en ‘n ewige onsterflikheid besit. Wanneer daar dus oor God gespreek word, moet ons ons gedagtes hoog opvoer. Ons moet niks wat aards of vleeslik is, van Hom dink nie, Hom nie met ons beperkte maatstawwe afmeet nie en sy wil nie volgens ons gesindheid gaan beoordeel nie. Daarby moet ons op Hom vertrou deur wie se voorsienigheid hemel en aarde bestuur word.
Die kort inhoud is dus dat onder die naam Vader dié God aan ons voorgestel word wat in sy beeld aan ons verskyn het, sodat ons Hom met onwankelbare geloof sal aanroep. Verder weerhou die naam Vader ons dat ons nie na ingebeelde gode ons toevlug sal neem nie maar deur sy Seun tot Hom die Vader van die engele en die kerk sal nader. En aangesien sy troon in die hemele gevestig is, herinner die hele wêreldbestuur ons dat ons nie tevergeefs na Hom sal kom wat uit eie beweging ons met sy daadwerklike sorg tegemoetkom nie. Verder dat ons vas oortuig daarvan sal wees dat Hy ons saligheid nie verontagsaam nie, omdat Hy Hom verwerdig om sy voorsienige bestel ook tot ons uit te strek.
41. Die eerste bede: “Laat u Naam geheilig word”.
Die noodsaaklikheid van hierdie gebed openbaar aan ons ons skande. Want wat is onwaardiger as dat die eer van God deur ons ondankbaarheid en boosheid verduister word en deur ons vermetelheid en onbeskaamdheid vernietig word?
Oral waar God bekend geword het, daar word sy krag, goedheid, wysheid, regverdigheid, barmhartigheid en waarheid openbaar. Hierdie deugde van God moet ons aanspoor om Hom te loof.
Die hoofinhoud is dus dat ons begeer dat God die eer sal verkry wat Hy waardig is, en dat die mense met die grootste eerbied oor Hom sal spreek en dink. Daarteenoor word die ontheiliging van sy Naam gestel, ‘n sonde wat altyd op aarde voorgekom het, Ons {336} bid hier dus dat God sy heilige Naam van alle veragting en smaadheid sal bevry en dat Hy die hele menslike geslag sal dwing om dit te eerbiedig.
Aangesien God Hom deur sy Woord en werke aan ons openbaar, word dit deur ons geheilig as ons in altwee opsigte Hom gee wat Hom toekom, Dit wil sê, die Skrif moet sy regmatige gesag by ons hê, en niks moet ons verhinder om Hom die lof toe te bring wat Hy uit die hele wêreldregering moet ontvang nie. Verder bid ons dat alle goddeloosheid vernietig sal word en alle lasteringe wat die heiligheid van sy Naam verduister, en dat Hy alle heiligskennis aan bande sal lê.
42. Die tweede bede: “Laat u koninkryk kom”.
God regeer waar die mense hulleself verloën, die wêreld verag en na die hemelse lewe jaag. Die koninkryk bestaan uit twee dele. Die eerste is dat God al die sondige begeertes van die vlees deur die krag van sy Gees verbeter. Die ander deel is dat Hy al ons gesindhede neig om sy heerskappy te gehoorsaam.
Ons begin dus by onsself en vra dat ons gereinig mag word van alle verdorwenheid waardeur God se koninkryk besmet mag word. Verder bid ons dat Hy deur sy Woord almal se verstand en hart sal onderwerp tot gehoorsaamheid aan sy koninkryk. Dit geskied as Hy deur die verborge werkinge van sy Gees sy Woord kragdadig laat werk.
Daarna kom ons na die goddelose vyande. God rig sy koninkryk op as Hy die wêreld verneder en van sy oormoed en hovaardigheid reinig. En ons bid dat dit daeliks sal gebeur, sodat God sy kerk uit alle wêrelddele sal versamel; dat Hy dit sal uitbrei en vermeerder; dit met sy gawes sal verryk en dit in goeie orde sal bevestig. Dat Hy aan die ander kant al die vyande van die suiwere leer en die ware godsdiens sal neerwerp, hulle planne tot niet sal maak en hulle pogings sal verydel tot op die dag van die wederkoms van Christus, wanneer Hy alles in almal sal wees (1 Kor 15:28).
Die bede trek ons dus af van die verdorwenhede van die wêreld wat ons van God skei. Dit wakker vervolgens ons ywer aan om die vlees dood te maak. Eindelik leer dit ons om ons kruis te dra, omdat God wil dat sy koninkryk op die wyse uitgebrei sal word.
43. Die derde bede: “Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde”.
Die uitleg is dat God dán Koning in die wêreld sal wees as almal hulle aan sy wil onderwerp. Hier word nie gespreek oor sy verborge wil, waardeur Hy elke ding bestuur en na sy bestemming lei nie. Want al woed Satan en die mense ook teen Hom, weet Hy tog om hulle só te regeer dat hulle doen wat Hy besluit het.
Maar hier word van sy geopenbaarde wil gespreek, wat ons {337} gewillig moet gehoorsaam soos die engele Hom gewillig gehoorsaam en hulle inspan om sy bevele uit te voer (Ps 103:20). As ons dit vra, sien ons af van ons sondige begeertes, verloën ons onsself en vra ons dat Hy in ons ‘n nuwe hart sal skep, sodat alles in ons met sy wil sal ooreenstem. Dit beteken dat sy Gees in ons hart sal heers, sodat ons sal liefhê wat Hy liefhet, en haat wat Hom mishaag.
In hierdie drie bedes word ons dus geleer dat ons die eer van God gedurig voor oë moet hou sonder om op onsself te let. Daardeur bely ons dat ons sy diensknegte en kinders is wat ywer vir sy eer. Hulle mag dus nie tot die getal van God se knegte en kinders gereken word vir wie die sake wat in hierdie drie bedes genoem word, nie ter harte gaan nie. Alles wat ons hier bid, sal geskied, ook teen hulle wil, en in hulle ondergang eindig.
44. Nou volg die tweede deel van die gebed, waarin ons tot die dinge kom wat vir ons nuttig is. Ons verloor egter die eer van God nie uit die oog nie (1 Kor 10:31). God staan ons egter toe om vir ons belange te sorg maar onder hierdie voorwaarde dat ons sy eer sal verheerlik met al die weldade wat Hy ons bewys.
“Gee ons vandag ons daaglikse brood.”
Ons bid hier vir alles wat ons nodig het vir die onderhoud van die liggaam. Dus nie net vir voedsel en klere nie maar vir alles wat ons nodig het om ons brood in vrede te eet.
Ons stel ons dus onder sy sorg, sodat Hy ons sal voed, versorg en bewaar. Want ons goeie Vader ag dit nie benede sy waardigheid om ook ons liggaam in sy trou en hoede aan te neem nie Op die wyse oefen Hy ons om alles, selfs ‘n krummeltjie brood en ‘n druppel water, van Hom te verwag. Dit is nou eenmaal só met ons gesteld dat ons meer bekommerd is oor ons liggaam as oor ons siel. Mense is beangs as hulle nie oor ‘n goeie voorraad wyn, koring en olie beskik nie. Maar hulle wat op God vertrou, werp daardie angstige besorgdheid van hulle af en verwag van die Here alles, ook die saligheid en die ewige lewe.
Ons het dus al baie gevorder in die geloof as ons van God die dinge verwag waaroor ons so besorg kan wees.
Ons ontvang dan die bevel om te bid vir ons brood, sodat ons tevrede sal wees met die rantsoen wat Hy ons wil skenk, en nie sal probeer om op listige maniere wins te maak nie. Intussen moet ons weet dat dit ons brood word, deurdat God dit aan ons gee. Nòg ons ywer en inspanning, nòg ons eie hande verwerf vir ons iets as God se seën nie daarby kom nie. Selfs ‘n oorvloed van brood baat ons niks as God dit nie vir ons in voedsel verander nie. Só geld die gebed sowel vir rykes as vir armes.
Deur die woordjie daaglikse word die oormatige begeerte na verganklike dinge aan bande gelê. Want ons gee ons maar alte graag {338} oor aan genot, pralery en weelde as ons maar enige oorvloed besit. Daarom beveel God ons om te bid slegs vir soveel as nodig is om die nooddruf van een dag te vervul. En ons doen dit in die vertroue dat die hemelse Vader ons môre ook sal voed as Hy ons vandag gevoed het.
Al besit ons ook oorvloed, moet ons tog nog vir ons daaglikse brood bid. Ons moet weet dat alle goeie dinge niks is as God nie sy seën daaroor gee nie. Verder moet ons opmerk dat hier bedoel word brood wat ons deur eerlike arbeid verkry en dat dit God se gawe bly, al het ons dit deur ons vaardigheid en ywer verwerf.
45. Dan volg: “Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe”.
In hierdie en die volgende bede vat Christus kortliks alles saam wat op die hemelse lewe betrekking het. Só bestaan die verbond wat God met sy kerk gesluit het, uit hierdie twee dele: “Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart” (Jer 31:33), en: “Ek vergewe al hulle ongeregtighede waarmee hulle teen My gesondig en teen My oortree het” (Jer 33:8). Christus begin by die vergewing van die sondes. Daarna kom Hy by die tweede genade.
Hy noem die sondes skulde, omdat ons daarvoor gestraf moet word. Ons kan op geen manier voldoen nie. Deur vergewing uit onverdiende barmhartigheid word ons van die straf bevry. God skenk aan Homself voldoening deur sy barmhartigheid in Christus (Rom 3:24). Daarom het hulle wat vertrou dat God deur hulle eie verdienstes of die van ander voldaan word en dat vir die skuld deur voldoening betaal word, geen deel aan hierdie onverdiende skenking nie. As hulle God nog op hierdie wyse aanroep, doen hulle niks anders nie as om hulle eie beskuldiging te onderteken en met hulle eie getuienis hulle oordeel te verseël.
Christus onderwys almal om hulle skuld te bely, omdat Hy weet dat die gelowiges nooit heeltemal van die gebreke van die vlees verlos word nie. Dit behaag God om sy beeld langsamerhand in ons te vorm, sodat daar altyd nog besmetting van die sonde in ons oorbly. Wie die mense leer dat hulle van alle skuld vry kan wees, maak God tot leuenaar (1 Joh 1:10). Hulle kweek ‘n toestand van sorgeloosheid aan wat lynreg teen die barmhartigheid van God indruis. Hulle is wreed, stort die mense in wanhoop en verbreek God se verbond.
Ten slotte vra ons dat ons skulde vergewe sal word soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Ons skenk vergifnis aan elkeen wat ons beledig of onregverdig behandel het. Dit beteken nie dat ons die skuld van die sondes vergewe nie. Dit kan God alleen doen (Jes 43:25). Ons vergifnis bestaan daarin dat ons alle toorn, haat en wraakgierigheid aflê en die onreg vergeet. Daarom mag {339} ons ook nie van God vergewing vra as ons nie bereid is om die onreg wat ons aangedoen is, te vergewe nie. As ons haat in ons hart koester en net op die geleë tyd wag; ja, as ons ons nie beywer om ons met hom te versoen en hom aan ons te verbind nie, bid ons met hierdie gebed dat God ons geen vergifnis van ons sondes sal skenk nie.
Eindelik merk ons op dat die toevoeging “soos ons ook ons skuldenaars vergewe” nie beteken dat ons vergifnis verdien omdat ons aan ander vergifnis geskenk het nie. Nee, dis alleen ‘n bevestiging dat God alreeds vergewing geskenk het as ons ons daarvan bewus is dat ons ander vergewe het. Aan die ander kant skrap God almal uit die getal van sy kinders wat wraakgierig is en nie bereid om te vergewe nie.
46. “En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose”.
Die sesde bede kom ooreen met die belofte dat God sy wet op ons hart sal skrywe. Ons is in ‘n voortdurende stryd gewikkel om aan God gehoorsaam te wees. Daarom begeer ons om van wapens voorsien en gehelp te word sodat ons die oorwinning sal behaal. Want ons het nie net die genade van die Heilige Gees nodig wat ons hart tot gehoorsaamheid aan God ombuig nie, maar ook sy hulp, sodat ons onoorwinlik sal bly staan teenoor al die liste en geweld van die duiwel. Daar is baie en verskeie soorte versoeking. Die sondige gedagtes van ons hart wat ons tot oortreding van die wet van God aanspoor en ingegee word òf deur ons eie begeerlikheid òf deur die duiwel, is versoekinge. Selfs dinge wat op hulleself nie verkeerd is nie, word deur die liste van die duiwel versoekinge wat ons van God aftrek. Rykdom, mag, eer en hoogheid kan sulke versoekinge wees. Hulle kan deur hulle lieflikheid ons só bekoor dat ons God vergeet. Armoede, skande, veragting en verdrukking kan deur hulle bitterheid ons van God vervreem en die moed en vertroue laat verloor. Ons bid dus dat God nie sal toelaat dat ons vir die versoekinge beswyk nie maar dat Hy ons deur sy hand sal ondersteun sodat ons standvastig sal bly. Nogtans vra ons nie dat God ons glad nie sal laat versoek word nie, want dit is nuttig om ons tot groter waaksaamheid aan te spoor (Jak 1:2). As God ons versoek, dien dit om ons geloof te versterk. Maar as Satan ons versoek, bedoel hy ons verderf en ondergang (Jak 1:13; 2 Petr 2:9). Teen die Bose vertrou ons nie op ons vrye wil nie maar steun ons alleen op die krag van God. As die Gees van God nie ons krag in die stryd teen Satan is nie, sal ons die oorwinning nie behaal voordat ons nie, vervul met die Gees, al die swakheid van ons vlees afgelê het nie. Ons bid dus om altyd meer met God se genade vervul te word, sodat ons oor alle kwaad sal triomfeer.
47. “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die{340}heerlikheid tot in ewigheid. Amen”.
Hierdie drie bedes, waarin ons onsself en almal wat aan ons behoort, aan God opdra, toon duidelik aan dat die gebede van die gelowiges in die openbaar moet geskied en sowel die stigting van die kerk as die bevordering van die gemeenskap van die heiliges bedoel. Ons bid vir ons brood, om vergifnis van ons skulde, ens.
Dan word ook die rede opgenoem waarom ons so ‘n groot vrymoedigheid het om te bid en so ‘n vaste vertroue dat ons dit sal verkry. Aan God behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid. Dit is die kalme rus van die geloof dat ons gebede nie op ons waardigheid steun nie. Al is ons ook hoe ellendig en onwaardig, kan ons nog met vertroue so bid, omdat die koninkryk, krag en heerlikheid nooit aan ons Vader ontneem kan word nie.
Die slotwoord “Amen” druk die vurige verlange uit om te verkry wat ons van God gebid het. Ook word ons hoop versterk dat al die dinge alreeds verkry is en ons sekerlik toegestaan sal word omdat God, wat dit belowe het, nie kan lieg nie.
48. In die gebed het ons dus alles wat ons van God kan en moet bid. Dit is ons deur die allerbeste Meester, Christus, geleer, wat die Vader as leraar oor ons aangestel het en na wie ons moet Juister (Mat 17:5). Die gebed is so volmaak in alle opsigte dat alles wat nie daarmee in ooreenstemming gebring kan word nie, nie werd is om deur God goedgekeur te word nie. Ook mag ons niks daarby voeg nie, want daarin het Hy ons voorgeskrywe wat Hom waardig en aangenaam is, wat vir ons nodig is en wat Hy ons wil skenk. Wie meer van God vra, wil aan sy wysheid iets byvoeg, hulle wil hulle nie na sy wil skik nie en sal niks verkry nie, omdat hulle nie uit die geloof bid nie.
Tertullianus noem dié gebed die wettige gebed, om daarmee te kenne te gee dat alle ander gebede buite die wet is en ongeoorloof.
49. Ons moet dit egter nie só opvat asof ons aan die formulier-gebed só gebind is dat ons geen woord of lettergreep mag verander nie. Want oral in die Skrif kan ons gebede lees wat in woorde baie van hierdie gebed verskil. Die Heilige Gees gee ook aan die gelowiges gebede in wat in die woordkeuse nie met die woorde van hierdie gebed ooreenstem nie. Ek bedoel maar net dit dat niemand ooit iets anders mag soek of vra as wat hier in hoofsaak begrepe is nie. Hier het ons die leer van die goddelike wysheid wat geleer het wat dit wil, en gewil het wat noodsaaklik is.
50. Ek het vantevore alreeds gesê dat ons altyd met opgehewe harte tot God moet sug en sonder ophou moet bid. Tog is dit nodig dat elkeen vir homself besondere gebedsure bepaal wat nie mag verbygaan sonder dat hy bid nie, bv. as ons in die oggend opstaan, voordat ons met ons werk begin, voor en na elke maaltyd en wanneer ons gaan slaap. Alleen moet ons op ons hoede wees dat ons {341} nie bygelowige waarde aan die tye gaan heg nie asof ons God iets daarmee betaal. Hulle moet maar net dien as hulpmiddels vir ons swakheid.
In besonder moet ons in tye van persoonlike of algemene nood haastig tot God gaan met ons harte, nie met ons voete nie. In tye van voorspoed moet ons Hom loof en dank omdat ons sy hand daarin sien. En eindelik moet ons op ons hoede wees om God nie aan bepaalde omstandighede te wil bind of vir Hom voor te wil skrywe op watter tyd, plek of wyse Hy iets moet doen nie. Daarom bid ons dat sy wil sal geskied voordat ons vir onsself iets vra Daardeur laat ons God as Regter en Bestuurder van al ons begeertes.
51. As ons ons harte tot hierdie gehoorsaamheid geskik het en ons deur die wette van God se voorsienigheid laat regeer, sal dit ons nie moeilik val om in die gebed te volhard en Hom met lydsaamheid te verwag nie. Ons is dan verseker daarvan dat Hy ons altyd bystaan, al lyk dit nie so nie, en dat Hy op sy tyd sal toon dat Hy nie doof was vir ons gebede nie, al het dit vir die mense so gelyk. Dis ons kragtigste troos om nie te beswyk of deur wanhoop te vergaan as God nie dadelik antwoord nie. Dit doen hulle wat dink dat God toornig is as Hy nie dadelik op hulle gebed antwoord nie. Dan laat hulle alle hoop vaar en hou op om te bid. Daarteenoor sien ons in die psalms hoe Dawid en ander gelowiges in die gebed volhard, ook al lyk dit of God nie hoor nie.
Ons moet God ook nie versoek nie, soos hulle doen wat van Hom ‘n dienaar van hulle begeertes maak. As Hy dan nie dadelik aan hulle versoeke gehoor gee nie, word hulle boos, spreek lasterlik, murmureer en maak lawaai. Aan sodaniges skenk Hy soms in sy toorn wat Hy vir ander in sy barmhartigheid en genade weier (Num 11:18,23).
52. As ons eindelik, nadat ons lank gewag het, bemerk dat ons nie gevorder het deur te bid nie, sal ons geloof ons tog verseker dat ons verkry het wat vir ons nuttig was. Die Here belowe immers dat Hy vir ons sorg in ons moeilikhede as ons die las op Hom werp. Hy sal sorg dat ons in armoede oorvloed en in verdrukking troos besit. Want al sou alles ons ook in die steek laat, God sal ons tog nie verlaat nie. Hy kan die verwagting en lydsaamheid van sy volk nie bedrieg nie.
HOOFSTUK XXI. Die ewige verkiesing waardeur God sommige tot die saligheid, ander tot die verderf voorbeskik het
1. Die verbond van die lewe word nie aan alle mense sonder {342} onderskeid verkondig nie. En by dié aan wie dit verkondig word, vind dit nie dieselfde ingang nie. In hierdie onderskeid word die wonderbare hoogheid van God se oordeel openbaar. Daar kan nie aan getwyfel word nie dat hierdie verskil dien tot uitvoering van die goeddunke van God se ewige verkiesing.
Dit is duidelik dat dit God se wil is om aan sommige die saligheid aan te bied en van ander dit te weerhou. Hier rys nou moeilike vrae op, wat alleen verklaar kan word as ons van die verkiesing en predestinasie weet wat ons behoort te weet. Vir baie is dit ‘n ingewikkelde vraagstuk. Hulle beweer dat dit nie paslik is dat uit die hele menslike geslag sommige tot die saligheid en ander tot die verderf voorbeskik word nie. Hoe verkeerd hulle redeneer, sal later blyk. Hierdie leer is nie net nuttig nie maar dra ook ‘n soete vrug. Nooit sal ons oortuig wees dat ons saligheid uit die onverdiende barmhartigheid van God voortkom, voordat ons nie met sy ewige verkiesing bekend is nie. Dit verheerlik God se genade deurdat dit aan ons openbaar dat Hy nie almal sonder onderskeid tot saligheid aanneem nie, maar aan sommige gee wat Hy aan ander weier. Waar hierdie waarheid nie bely word nie, word die eer van God verminder en aan die ware nederigheid afbreuk gedoen (Rom 11:5-6). Hulle wat hierdie leer verswyg, doen die mense en God onreg aan. Want niks anders as hierdie leer verneder ons en laat ons besef hoeseer ons God se skuldenaars is nie. Ons sal ook onder al die gevare geen steunsel hê as ons nie die woord van Christus het nie dat Hy almal salig sal maak wat die Vader Hom gegee het om te bewaar (Joh 10:28-29). Hieruit lei ons af dat almal wat nie weet dat hulle God se eiendom is nie, deur vrees ellendig is.
Hieruit word ook die kerk gebore, soos Bernardus tereg opmerk.
Voordat ek tot die saak kom, moet ek hier eers ‘n woord van waarskuwing spreek. Die uiteensetting van die predestinasie is reeds moeilik, maar dit word gevaarlik gemaak deur die nuuskierigheid van mense wat die verborgenhede van God wil naspeur en ondersoek. Ons moet die mense betyds op hulle plig wys. In die eerste plek moet hulle bedink dat hulle in die geheimenisse van die goddelike wysheid deurdring as hulle die predestinasie ondersoek; vervolgens dat elkeen wat ligsinnig daarin indring, niks sal vind om sy nuuskierigheid tevrede te stel nie maar in ‘n doolhof sal beland waaruit hy nie kan kom nie. Geen mens sal ongestraf die dinge ondersoek wat God gewil het dat dit by Hom verborge sal bly nie. Wat Hy vir ons bestem het om te weet, het Hy in sy Woord geopenbaar, dit wil sê, soveel as wat vir ons nuttig en in ons belang is. Verder moet ons sy wysheid aanbid en nie wil begryp nie.
2. “Ons het by die pad van die geloof gekom. Laat ons dit {343} standvastig hou. Dit voer na die kamer van die Koning waarin al die skatte van kennis en wysheid verborge is” (Augustinus).
As ons maar daaraan vashou dat Gods Woord die enigste weg is wat ons kan lei om te ondersoek wat ons aangaande Hom behoort te weet, en ook die enigste lig is, sal ons maklik van alle roekeloosheid teruggehou word. Om ‘n ander kennis van die predestinasie te soek as die wat in Gods Woord geopenbaar is, is net so dwaas as om in die duisternis te wil sien. Ons moenie skaam wees om iets nie te weet in ‘n saak waarin onwetendheid juis wetenskap is nie. As ons oormoedigheid ons aandryf, sal dit nuttig wees om daarteenoor te stel dat die ondersoek na die heerlikheid die nuuskieriges nie tot eer strek nie, net soos dit nie goed is om baie heuning te eet nie (Spr 25:27).
3. Ander, wat hierdie kwaad wil vermy, sê dat nie oor die predestinasie gespreek moet word nie. Elke ondersoek daarvan moet vermy word. Ons kan waardering hê vir hulle opvatting dat die geheimenisse van God met groot ingetoënheid benader moet word, maar ons moet ons tog deur die Woord van God laat lei. Die Skrif is die skool van die Heilige Gees. Daarin word niks oorgeslaan wat nodig en nuttig is om te weet nie. En daarin word niks geleer wat nie nuttig is nie. Ons moet dus oppas dat ons die gelowiges nie van ‘n weldaad van hulle God beroof nie, of om die Gees te beskuldig dat Hy dinge bekend gemaak het wat liewer verswyg moes gewees het.
Laat ons ‘n Christen toestaan om sy hart en ore oop te maak vir elke woord van God wat tot hom gerig is, net met hierdie voorbehoud daarby dat die weg om te ondersoek vir hom gesluit is as God nie verder spreek nie. “Dit is die eer van God om ‘n saak te verberg” (Spr 25:2); “Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid” (Deut 29:29).
4. Die onheilige mense gryp in die leerstuk iets aan om dit te belaster of te bespot. Maar as dit ons afskrik, sal ons al die vernaamste leerstukke van die geloof moet verswyg, want daar is geeneen wat hulle nie sal belaster nie. ‘n Weerbarstige gees sal ook die leerstuk van die heilige Drie-eenheid of die leerstuk van sy voorsienigheid belaster. Hy sal lag as hy hoor dat die skepping vyfduisend jaar oud is. Sal ons moet swyg oor die godheid van die Seun en die Heilige Gees? Die valse apostels het die evangelie ook belaster en verdag voorgestel. Tog kon hulle dit nie regkry dat Paulus hom oor die evangelie sou skaam nie. Nietig is ook hulle bewering dat die bespreking van die saak vir die gelowiges gevaarlik is, omdat dit strydig is met die vermaninge, die geloof kan laat wankel en die hart moedeloos maak. Ek sal later op elke beskuldiging antwoord. Nou sê ek net dat ons nie dinge moet naspeur wat God verberg {344} het, en nie moet verontagsaam wat Hy geopenbaar het, sodat ons nie weens nuuskierigheid of ondankbaarheid veroordeel word nie. Ons kan veilig die Skrif volg, wat langsaam met ons loop, soos ‘n moeder met haar kind, om ons swakheid te hulp te kom.
Hulle wat die predestinasie uit vreesagtigheid wil verswyg om die wat swak is, nie in verwarring te bring nie, beskuldig God sydelings van onbedagsaamheid, omdat Hy dan ‘n gevaar, wat hulle vermy, nie sou voorsien het nie. Hulle laster God as sou Hy dinge geopenbaar het wat vir die kerk skadelik is.
5. Niemand wat vir ‘n gelowige gehou wil word, durf die predestinasie loën nie. Dit word egter deur baie verduister, veral deur hulle wat God se voorwete die oorsaak daarvan maak. Dis egter verkeerd. As ons sê dat God vooruit weet, bedoel ons daarmee dat alle dinge altyd voor sy oë is en bly. Vir Hom is daar nie so iets soos verlede en toekoms nie, maar alles is vir Hom teenwoordige tyd. Hierdie voorwete gaan oor die hele wêreld en oor al die skepsels.
Maar predestinasie noem ons die ewige besluit van God waardeur Hy by Homself bepaal het wat Hy gewil het wat van elke mens sal word. Sommige word vir die ewige lewe, ander vir die ewige verdoemenis verordineer. Vervolgens gaan hierdie predestinasie nie net oor persone nie maar ook oor volke. Hiervan het God ‘n bewys gegee in die verkiesing van die geslag van Abraham (Deut 32:8). God verlos hulle ook gedurig weer, omdat Hy hulle vaders liefgehad het (Deut 4:37; Deut 7:7; Deut 10:14-15). Hulle word beveel om ‘n heilige volk te wees, omdat God hulle verkies het (Deut 23:5; Ps 47:5). Die gawes waarmee hulle versier is, skrywe almal aan God se onverdiende liefde toe. God verwyt hulle ook dat hulle dit nie verdien het nie, want hulle is ‘n hardnekkige volk (Deut 9:6). Om hulle te beskaam wys die profete die Jode op hulle verkiesing, waarvan hulle skandelik afgewyk het. Laat die persone dan nou te voorskyn kom wat God se verkiesing aan die waardigheid van die mens of aan die verdienstelikheid van die werke wil bind. God strek sy barmhartigheid uit tot onedeles, tot boses en weerspanniges. Sal hulle met God hieroor twis? Hierdie verkiesing is ook die fondament van alle dankbaarheid en van die hoop op die toekoms (Ps 100:3). God neem oorsaak uit Homself om ‘n mens, of ‘n volk, te verkies, omdat daar in die mens niks is wat so ‘n eer waardig is nie. Met die welbehae van God moet ons tevrede wees (Ps 105:6). As die psalmdigter al God se weldade as vrugte van die verkiesing opgesom het, besluit hy met die woorde dat God so milddadig gehandel het, omdat Hy aan sy verbond gedink het (Ps 44:4). So spoor Dawid tot dankbaarheid aan (Ps 33:12); Samuel wek op tot hoop (1 Sam 12:22) en Dawid wapen hom vir die geloofstryd (Ps 65:5). Vergelyk verder Jes 41:9; Sag 2:12.
6. Hieraan moet nou die tweede stuk toegevoeg word, waarin {345} die besondere genade van God nog meer opgemerk word. God het uit dieselfde geslag van Abraham sommige verwerp en ander in sy kerk as sy kinders opgeneem. Ismael het in die begin op gelyke voet met Isak gestaan, omdat die geestelike verbond deur die besnydenis ook in hom verseël was. Hy word verwerp. Daarna Esau. Ten slotte ‘n groot menigte, en byna die hele Israel. In Isak word die saad genoem. Daarna in Jakob. So ook word Saul verwerp.[8] Die heilige geskiedenis herhaal dit telkens weer, sodat die wonderbare geheimenis van God se genade des te duideliker openbaar sal word. Deur hulle eie skuld het Ismael en Esau en andere afgeval, want hulle het God se verbond nie gehou nie. Tog was dit ‘n besondere weldaad van God dat Hy Israel bokant ander volke gestel het (Ps 147:20). Daarin het Hy getoon dat Hy in sy milddadigheid vry is en deur geen wette gebonde nie. Die ongelyke verdeling van sy genade bewys juis hoe onverdiend dit is. Daarom beskuldig Maleagi tereg die volk van dubbele ondankbaarheid, omdat hulle troueloos en goddeloos God, hulle weldadige Vader, verag (Mal 1:2).
7. Dit is nou voldoende duidelik dat God deur sy verborge raad vry verkies wie Hy wil, met verwerping van andere. Tog is sy genadige verkiesing nog nie volledig uiteengesit, voordat ons nie tot die afsonderlike persone kom aan wie God nie net die saligheid aanbied nie maar dit ook só skenk dat daar geen onsekerheid of twyfelagtigheid kan wees nie. Hulle word gereken as die nageslag waarvan Paulus spreek (Rom 9:8; Gal 3:16,19-20).
God het wel die geslag van Abraham verkies, maar baie van sy nakomelinge is as verrotte ledemate afgesny. Ons moet daarom kom tot die Hoof in wie die hemelse Vader sy uitverkorenes met mekaar verenig het en hulle deur ‘n onlosmaaklike band aan Hom verbind het. In die aanneming van Abraham se geslag skitter die milddadige guns van God wat Hy aan ander ontsê het; maar in Christus skitter die krag van sy genade baie heerliker, omdat hulle in hulle Hoof ingeplant is en nooit weer kan afval nie.
Ons sê dus wat die Skrif duidelik aantoon, nl. dat God deur ‘n ewige en onveranderlike raad eenmaal vasgestel het watter mense Hy eenmaal tot die saligheid wil aanneem, en aan die ander kant watter Hy aan die verderf wil prysgee. Ons beweer dat hierdie raad gegrond is in sy onverdiende barmhartigheid wat die uitverkorenes betref, sonder dat Hy hulle waardigheid in aanmerking neem. Verder beweer ons dat God deur sy regverdige en onberispelike maar ook onbegryplike oordeel die toegang tot die lewe gesluit het vir die wat Hy aan die verdoemenis oorgee.
Verder beweer ons dat hulle roeping vir die uitverkorenes ‘n getuienis is van hulle verkiesing. Dat vervolgens die regverdigmaking ‘n tweede teken is waardeur dit aan hulle geopenbaar word, totdat ons kom tot die heerlikmaking, wat die vervulling daarvan is. {346}
En net soos die Here sy uitverkorenes deur die roeping en die regverdigmaking teken, so maak Hy ook aan die verworpenes bekend watter oordeel hulle wag, deur hulle uit te sluit van die kennis van sy Naam en die heiligmaking deur sy Gees.
Ek gaan baie versinsels verby wat dwase mense versin het om die predestinasie omver te werp. Ek sal my net besig hou met die teëwerpinge waaroor geleerde mense gestry het of wat vir die eenvoudiges moeilikheid kan oplewer of wat deur ‘n skynsel van vroomheid deur goddelose mense ingebring word om die regverdigheid van God te belaster.
HOOFSTUK XXII. Bevestiging van hierdie leer deur getuienisse van die Skrif
1. Alles wat ons hier bespreek het, word deur baie mense weerspreek. Allermees die verkiesing van die gelowiges uit genade. Oor die algemeen is hierdie mense van oordeel dat God onderskeid maak tussen die mense in sover Hy vooruitsien wat elkeen se verdienstes sal wees.
Hy neem dus hulle as sy kinders aan van wie Hy vantevore weet dat hulle sy genade nie onwaardig sal wees nie. Maar hulle van wie Hy vantevore sien dat hulle natuur tot boosheid en goddeloosheid geneig sal wees, gee Hy aan die oordeel van die dood oor.
So verduister hulle die verkiesing met die dekmantel van voorwete en gee ook ‘n valse oorsaak daarvoor aan.
Ander weer, wat nie in die Skrif geoefen is nie, twis met God omdat Hy sommige na sy eie goeddunke verkies en ander verbygaan. Ons leer egter dat dit God altyd vrygestaan het om sy genade te skenk aan wie Hy wil.
Maar laat hulle antwoord waarom hulle mense is en nie osse of esels nie. God kon van hulle honde gemaak het. Nogtans het Hy hulle na sy beeld gemaak. Sal hulle nou aan die redelose diere die reg gee om met God te twis oor hul lot, asof dit onregverdig is dat Hy hulle van die mense onderskei?
As hulle by die persone kom oor wie hulle ergernis so opgewek word, moet hulle ten minste by die voorbeeld van Christus verskrik. Hy word as sterflike mens uit die geslag van Dawid gebore. Waardeur het Hy dit verdien om reeds in die moederskoot die Hoof van die engele te word, die eniggebore Seun van God, die beeld en die heerlikheid van die Vader, die lig, die geregtigheid en die saligheid van die wêreld? Augustinus het tereg al opgemerk dat die Hoof {347} van die kerk ‘n duidelike afspieëling is van die verkiesing uit genade, sodat hierdie verkiesing ons nie in verwarring sal bring nie. Hy het nie die Seun van God geword deur regverdig te lewe nie, maar is met die eer begiftig om ander deelgenote van sy genade te maak. As hulle aan God die vrye reg wil ontsê om te verkies of te verwerp, moet hulle ook wegneem wat aan Christus gegee is.
Ons let nou op wat die Skrif aangaande verkiesing en verwerping leer.
As Paulus verkondig (Ef 1:4) dat ons in Christus verkies is voor die grondlegging van die wêreld, ontneem hy ons alle waardigheid. Omdat God in die hele nageslag van Adam niks gevind het wat waardig was om verkies te word nie, het Hy Christus aangesien om uit sy liggaam lede te verkies wat Hy tot die deelgenootskap aan die lewe sou aanneem. Ons is in Christus aangeneem, omdat ons uit onsself so ‘n waardigheid nie verdien het nie. Vergelyk ook Kol 1:12. Dis dus ‘n saak van God se welbehae en nie van verdienstelikheid nie (Ef 1:4).
2. Laat ons op elke lid van die vers (Ef 1:4) afsonderlik let. Dan sal alle twyfel verdwyn. As Paulus van uitverkorenes spreek, bedoel hy die gelowiges. Die woord word dan ook geweld aangedoen deur hulle wat dit laat slaan op die tyd waarin die evangelie geopenbaar is. As hy sê dat hulle verkies is voor die grondlegging van die wêreld, ontneem hy hulle alle waardigheid. Want watter rede kon daar wees om onderskeid te maak tussen mense wat nog nie was nie en daarna in Adam gelyk geword het? As hulle in Christus verkies is, volg daaruit dat elkeen buite homself verkies is en dat die een van die ander afgeskeie is. Want almal is nie lede van Christus nie. Wat daaraan toegevoeg word, nl. dat hulle verkies is om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, weerlê die dwaling wat die verkiesing aflei uit die voorwetenskap dat hulle deugsaam sal lewe. Dis juis die vrug van die verkiesing. En vra ons na die hoër oorsaak, dan antwoord Paulus dat God alles voorverordineer het na die welbehae van sy wil.
3. Waar die welbehae van God regeer, kom die werke nie in aanmerking nie. Dit leer die apostel duidelik in 2 Tim 1:9: “God wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is”.
Ons het ook alreeds gesê dat die woorde “om heilig en sonder gebrek” te wees, alle twyfel ophef. As ons sê dat God ons uitverkies het omdat Hy vooruitgesien het dat ons heilig sal wees, keer ons die orde van Paulus om. As God ons uitverkies om heilig te wees, kon Hy ons tog nie uitverkies het omdat Hy vooruit gesien het dat ons heilig sou wees nie. Die twee dinge stry tog met mekaar.
Van geen waarde is ook hulle uitvlug dat God ons uitverkies {348} het, nie ter wille van verdienstes wat ons alreeds besit het nie, maar ter wille van toekomstige verdienstes. Want as gesê word dat die gelowiges verkies is om heilig te wees, volg daaruit dat die heiligheid wat in hulle later lewe openbaar word, sy oorsprong in die verkiesing het. Dit bevestig Paulus ook met die woorde: “na die welbehae van sy wil” (Ef 1:5), en sê hy verder dat die doel van die uitverkiesing is “tot lof van die heerlikheid van sy genade” (vs. 6). As die genade nie onverdiend is nie, was dit ook nie werd om in ons verlossing, verkondig te word nie. Ten slotte geld vir alle gelowiges die woord van Christus: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (Joh 15:16; vgl. ook Rom 11:35). God vind dus by die mens niks nie maar kom hom met sy genade voor.
4. In sy brief aan die Romeine Rom 9:6,11) gaan Paulus dieper op die saak in. Dáár sê hy dat hulle nie almal Israel is wat uit Israel is nie. Dit sê hy om die hovaardigheid van die Joodse volk te verneder. Hulle het gedink dat die waarheid van die evangelie van hulle afhanklik was. Hoewel Paulus dus toegee dat die nageslag van Abraham heilig was kragtens die verbond, verseker hy tog dat daaronder ook baie buitestaanders was, nie alleen omdat hulle ontaard het nie maar omdat hulle nie uitverkies is nie. Hier word duidelik die versinsel weerlê dat die mens oor sy eie staat beslis. Dit blyk ten oorvloede uit die voorbeeld van Jakob en Esau. Altwee is kinders van Abraham, in die skoot van hulle moeder. Tog word die eer van die eersgeboorte op Jakob oorgebring. Dit lyk onnatuurlik. Maar Paulus sê dat daardeur die verkiesing van die een en die verwerping van die ander betuig word. Wat is die oorsaak hiervan? Die wat die voorwete leer, sê dat dit geleë is in die deugde en die ondeugde van die twee broers. Maar Paulus sê: “Toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie — dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep — is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat” Rom 9:11-13).
As die feit dat God iets vooruit weet, iets beteken het in die onderskeid wat daar tussen die twee broers gemaak is, sou die vermelding van die tyd onvanpas wees.
Laat ons vir ‘n oomblik aanneem dat Jakob verkies is omdat hy deur sy toekomstige deugdelikheid hom dit waardig betoon het, waarom sê Paulus dan dat hy nog nie gebore was nie? En dat hy nog geen goed of kwaad gedoen het nie? Hier sou teëgewerp kon word dat God Jakob se vroomheid gesien het, asof hy alreeds volwasse was. Maar die apostel sê dat die aanneming voortgekom het nie uit die werke nie maar deur die roeping van God. {349}
Ten slotte is dit duidelik dat die woorde verkiesing en voorneme ons leer dat alles alleen uit die verborge raad van God voortkom.
5. Wat sal hulle nou antwoord wat aan die werke enige waarde in die verkiesing toeken, hetsy die werke al gedoen is of nog gedoen moet word? Dit sal in alle geval strydig wees met wat die apostel sê dat die onderskeid tussen die broers gemaak is toe hulle nog nie gebore was nie. Dit het alleen op die roeping van God berus, sonder inagneming van die werke. Hulle skerpsinnigheid sou die apostel ook nie ontgaan het as dit enige betekenis gehad het nie. Maar hy stel die verkiesing vóór die werke, omdat hy geweet het dat God niks goeds in die mens kan sien nie, behalwe die goeie wat Hy besluit het om aan hom te gee deur die weldaad van die verkiesing. In die twee broers is alles gelyk. Tog verskil God se oordeel oor hulle. Daar was alleen die eersgeboortereg waarin die een die ander oortref het. Tog stel God dit ook tersyde om aan die vlees alle stof om te roem te ontneem. Dit doen Hy meermale. Hy gaan Ismael verby en stel sy hart op Isak. En Hy skenk aan Efraim meer eer as aan Manasse.
6. As iemand hierteen sou inbring dat ons nie uit die geringere weldade besluite moet neem aangaande die belangrike saak van die toekomende lewe nie, antwoord ek dat die apostel nie die Skrif willens en wetens misbruik het nie. Hy het ingesien dat God die geestelike verkiesing van Jakob deur ‘n sigbare teken wou verduidelik. Want as die eersgeboortereg wat hom gegee is, nie na die toekomende eeu heengewys het nie, sou dit ‘n belaglike seën gewees het. Daaruit tog het vir hom niks anders op aarde voortgekom nie as ellende, moeite, ballingskap, bitter droefheid en sorge. Die uiterlike seën was dus ‘n bewys van die onverganklike geestelike seën.
Verder moet ons in gedagte hou dat die land Kanaän die pand was van die hemelse woning. Jakob word ingeplant in die liggaam van Christus om dieselfde lewe met Hom te deel. As ons na die oorsaak vra, antwoord die apostel: “Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm” (Rom 9:15). Met hierdie woorde getuig God dat Hy in die mens geen rede vind om aan hom goed te doen nie. Sy barmhartigheid is die enigste rede. Daarom is die saligheid van sy eiendom sy werk alleen. As God Homself die oorsaak van u saligheid noem, waarom sal u dit dan by uself gaan soek? As Hy sy barmhartigheid u skenk, waarom sal u dan u toevlug neem na u eie verdienstes? (Vgl. ook 1 Petr 1:2; 2 Tim 2:19).
7. Maar laat ons hoogste Leraar oor die saak uitspraak gee. As dit skyn asof Hy tevergeefs vir die skare preek, getuig Hy daarenteen: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom” (Joh 6:37). “En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy {350} My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie” (vs. 39). Die uitverkorenes het dus aan die Vader behoort voordat Hy hulle aan sy eniggebore Seun geskenk het. Van nature was hulle dit nie. God het hulle sy eiendom gemaak deur hulle te trek. “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie”, sê Christus (Joh 6:44). Daarom sê Christus ook dat Hy nie vir die wêreld bid nie maar vir die wat die Vader Hom gegee het, want hulle was syne (Joh 17:9).
Verder maak Christus ook aanspraak daarop dat Hy saam met die Vader verkies. “Ek spreek nie van julle almal nie — Ek weet wie Ek uitverkies het” (Joh 13:18). Hy het hulle uitverkies uit die wêreld (Joh 15:19). Christus spreek dus hier van ‘n besondere klas mense, wat van die ander onderskeie is deur die hemelse besluit en nie deur hulle eie deugde nie. As Hy Judas ook tel onder die getal van die wat Hy uitverkies het, moet dit alleen verstaan word van die apostelamp. Dit is wel ‘n heerlike bewys van die guns van God maar sluit tog nie die hoop op die ewige saligheid in nie. Christus sal egter nie toelaat dat iemand verlore gaan wat Hy eenmaal in sy liggaam ingelyf het nie. Die hoofsaak is dus dat God tot sy kinders maak dié wat Hy wil, en dat die oorsaak daarvan sy welbehae is.
8. Ambrosius, Origenes en Hieronymus was van gevoele dat God sy genade onder die mense uitdeel al na gelang Hy vooruit gesien het dat elkeen dit goed sal gebruik. In die begin het Augustinus ook so gedink. Later het hy dit egter herroep en bestry.
Maar laat ons op die saak self let. Dis ‘n ernstige vraag of God regverdig handel as Hy net sommige mense sy genade waardig ag. Paulus kon hom maklik uit die moeilikheid gered het deur te sê dat God op die werke sien. Waarom doen hy dit dan nie? Eenvoudig omdat hy dit nie mog doen nie. Sonder omweë antwoord hy dat God sy uitverkorenes goedgesind is omdat Hy wil, en daarom oor hulle barmhartig is omdat Hy wil.
9. Ek bekommer my ook nie veel oor die skerpsinnigheid van Thomas nie, wat beweer dat God gepredestineer het dat die mens heerlikheid uit sy werke sal ontvang, omdat Hy besluit het om hom die genade te skenk waardeur hy die heerlikheid kan verdien. Maar die Here wil dat ons in die verkiesing niks anders as sy loutere goedheid sal sien nie. Daarom is dit verkeerd as iemand hier iets meer wil ontdek.
10. Sommige maak die teëwerping dat God met Homself in stryd sal wees as Hy in die algemeen almal na Hom roep maar alleen die enkele uitverkorenes toelaat om tot Hom te nader. So neem die algemeenheid van die beloftes die onderskeiding van die besondere genade weg. Hulle bewering is in tweërlei opsig onjuis. God, wat dreig dat daar droogte oor die een stad sal wees terwyl {351} dit op die ander een reën (Amos 4:7), verbind Hom nie aan ‘n vaste wet dat Hy almal op gelyke wyse sal roep nie. Hy verbied Paulus om die evangelie in Asië te verkondig, keer hom van Bithinië af weg en trek hom na Macedonië. Daarmee betuig Hy dat Hy die skat uitdeel aan wie Hy wil. Deur Jesaja Jes 8:16) verkondig God duidelik hoe Hy alleen vir die uitverkorenes die belofte van die saligheid bestem. Uit die woorde blyk dat die opvatting onjuis is dat die leer van die saligheid só aan elkeen voorgestel word dat dit vir hom doeltreffend tot voordeel sal strek. Dit is afsonderlik weggelê net vir die kinders van die kerk. Die evangelie spreek wel almal aan, maar die gawe van die geloof word slegs aan weinige gegee. Die oorsaak hiervan is, sê Jesaja, dat die arm van die HERE nie aan almal geopenbaar is nie (Jes 53:1). Hiermee wil die profeet nie die mense hulle skuld ontneem nie. Hy leer alleen dat die geloof ‘n besondere gawe is. Ek sou graag van hulle wil weet of die prediking alleen of ook die geloof kinders van God maak (Joh 1:12). Dit is gewis dat die saad ook in die dorings of op rotsagtige plekke val. Waarom? Nie alleen omdat die grootste deel van die mense weerspanning teen God is nie, maar ook omdat nie almal met die ore en oë begiftig is nie.
Hoe moet ons dit dan met mekaar rym dat God mense tot Hom roep van wie Hy weet dat hulle nie sal kom nie? Laat Augustinus hierop antwoord: “Wil jy met my redetwis? Verwonder jou saam met my en roep uit: O diepte. Laat ons saam ooreenstem in vrees, sodat ons nie in dwaling sal omkom nie”.
As die verkiesing volgens Paulus die moeder van die geloof is, kan die geloof nie die deel van almal wees nie, omdat die verkiesing besonder is. Daarom spreek hy ook van die geloof van die uitverkorenes (Tit 1:1). Dit wil sê, niemand verwerf die geloof deur eie toedoen nie, maar God verlig uit genade die wat Hy tevore verkies het. Maar die woord van Christus beslis alles, nl. dat net hulle sien wat uit God gebore is (Joh 6:46; vgl. ook vs. 39). Die geloof is dus ‘n besondere pand van God se vaderlike liefde wat Hy weggelê het vir die kinders wat Hy aangeneem het. Daarom sê Christus ook dat die skape die herder volg omdat hulle sy stem ken. En hulle ken sy stem, omdat God hulle ore deurboor het. Niemand maak van homself ‘n skaap nie, maar hy word deur die hemelse genade tot skaap gemaak. Daarom is ons saligheid vas en veilig, omdat dit deur God se onoorwinlike mag bewaar word. Die uitverkiesing hou vir ewig stand.
11. Ons moet nou nog oor die verworpenes spreek. Net soos Jakob tot genade aangeneem is toe hy nog niks deur goeie werke verdien het nie, so word Esau gehaat toe hy nog deur geen enkele wandaad verontreinig was nie. Dit bewys dat die werke nie die grond van die predestinasie is nie. En as Paulus die teëwerping {352} beantwoord of God dan nie onregverdig is nie, sê hy nie dat God Esau na sy werke vergeld het nie, maar is hy tevrede met die oplossing dat die verworpenes vir hierdie doel verwek word, naamlik dat God se heerlikheid deur hulle in die lig gestel sal word. En hy voeg ten slotte daaraan toe dat God barmhartig is oor wie Hy wil en verhard wie Hy wil. As ons geen ander bewys as sy welbehae vir God se barmhartigheid kan aanwys nie, kan ons ook vir die verwerping geen ander rede as sy wil vind nie.
HOOFSTUK XXIII. Weerlegging van die beskuldiginge waarmee hierdie leer altydten onregte beswaar is
1. Die mens se verstand kom teen hierdie leer in opstand. Asof hulle die blaam van God wil afweer, bely baie dat daar ‘n verkiesing tot saligheid is, maar geen verwerping nie. Dit is kinderagtig, want daar kan nie van verkiesing gespreek word as daarteenoor nie verwerping staan nie. Die wat God verbygaan, verwerp Hy, omdat Hy hulle wil uitsluit van die erfdeel wat Hy vir sy kinders verordineer het. Paulus doen ook nie sy bes om God met behulp van ‘n leuen te verontskuldig nie. Hy wys maar net daarop dat dit vir die maaksel nie geoorloof is om met sy Maker te twis nie (Rom 9:20). Hoe verklaar hulle ook hierdie woorde van Christus: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word” (Mat 15:13)? Van geen betekenis is ook hulle antwoord dat God hulle nie heeltemal verwerp wat Hy in sy lankmoedigheid verdra nie, maar dat Hy sy oordeel oor hulle opskort vir geval hulle miskien tot inkeer kom. Asof Paulus aan God ‘n lankmoedigheid toeskrywe waarmee Hy die bekering afwag van hulle wat vir die verderf toeberei is! God laat nie net toe nie maar bestuur deur sy krag, sê Augustinus tereg as hy hierdie plek (Rom 9:22) uitlê.
Hulle sê ook dat nie sonder rede gesê word nie dat die voorwerpe van toorn vir die verderf toeberei is maar dat God die voorwerpe van barmhartigheid tevore toeberei het. Op die manier skryf Paulus die eer vir die saligheid aan God toe maar werp hy die skuld vir die verderf op hulle wat dit deur hulle eie wil oor hulle bring. Paulus skryf egter alles aan die verborge raad van God toe. Hy verhard wie Hy wil.
2. Maar hulle gaan verder en vra watter reg God het om vertoorn te wees op sy skepsels wat Hom vantevore deur geen enkele {353} misdaad geterg het nie. Hulle sê dat dit meer by die willekeur van ‘n tiran as by die regverdige oordeel van ‘n regter pas om aan die verderf oor te gee wie hy wil; dat die mense daarom rede het om hulle oor God te beklaag as hulle alleen deur sy goeddunke, sonder dat hulle dit verdien het, tot die ewige dood gepredestineer word. Die gelowige sal egter bedink dat dit nie pas om die oorsake van God se wil te ondersoek nie, want sy wil is en moet ook die oorsaak wees van alles wat is. Want as God se wil enige oorsaak het, moet iets daaraan voorafgegaan het waaraan dit gebind is. Om so iets slegs maar te dink is ongeoorloof. God se wil is soseer die hoogste reël van regverdigheid dat vir regverdig gehou moet word alles wat Hy wil, juis omdat Hy dit wil. As u vra waarom Hy dit gewil het, vra u na iets wat hoër is as God se wil en wat nie gevind kan word nie.
En tog leer ons hiermee nie ‘n absolute mag van God nie. Dit is ‘n onheilige iets. God is nie wetteloos nie. Hy is vir Homself ‘n wet. Maar ons sê dat God nie verplig is om rekenskap te gee nie en dat ons onbevoegde regters is om in hierdie saak uitspraak te gee. As ons daarom meer wil weet as wat geoorloof is, moet ons die woord van die psalm onthou dat God regverdig is as Hy spreek, rein as Hy gerig hou (Ps 51:6).
3. As hulle ons vra waarom God van die begin af sommige tot die dood gepredestineer het wat die oordeel van die dood nog nie kon verdien het nie, omdat hulle nog nie daar was nie, dan gee ons hulle geen antwoord nie. Ons vra hulle op ons beurt wat, volgens hulle oordeel, God aan die mens verskuldig is as Hy hom na sy aard wil beoordeel? Ons is almal haatlik voor God, omdat ons deur die sonde verdorwe is. As almal wat God tot die dood verordineer, deur hulle natuurlike staat aan die oordeel van die dood onderworpe is, oor watter onreg hulle aangedoen, kan hulle hulle dan bekla? Laat al die kinders van Adam God dan aankla — wat sal hulle tot hulle verdediging kan inbring as God hulle oproep om hulleself te besien? As almal uit ‘n verdorwe massa geneem is, is dit geen wonder as hulle aan die verdoemenis onderworpe is nie. Laat hulle ophou om God van onregverdigheid te beskuldig as Hy hulle tot die ewige dood verwys. Hulle gevoel self hoe hulle deur hulle eie natuur daarheen gevoer word. Met opset onderdruk hulle die oorsaak van hulle verdoemenis, wat hulle in hulleself vind, om God as voorwendsel vir hulle vryspraak te gebruik.
4. Hulle vra ook of hulle dan nie vantevore deur God tot hierdie verdorwenheid gepredestineer is, wat nou as oorsaak vir hulle verdoemenis voorgewend word nie. As hulle dus in hulle verdorwenheid omkom, dra hulle niks anders nie as die straf van die rampsaligheid waarin Adam deur Gods predestinasie geval en sy {354} nageslag saam met hom gesleep het. Is God dan nie onregverdig as Hy sy skepsels so bespot nie?
Ek erken dat al die nakomelinge van Adam deur Gods wil in hierdie staat van ellende geval het. Die oorsaak van die wil is egter in God verborge. Maar daaruit volg nog nie dat Hy aan hierdie lastering onderworpe is nie. Ons antwoord liewer hierop met die woorde van Paulus: “Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê nie: Waarom het u my só gemaak? Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?” (Rom 9:20-21).
Hulle sê dat op die manier die waarheid van God nie verdedig word nie maar dat net na ‘n uitvlug gesoek word. Want dit lyk asof hier niks anders gesê word nie as dat God oor ‘n mag beskik wat niemand kan verhinder om te doen wat dit wil nie. Die saak staan egter anders. Hier word ons beveel om te bedink wie God is. Want hoe sou die Regter van die hele aarde enige onreg kan begaan? Om reg te doen behoort tot sy natuur. Daarom het Hy regverdigheid lief en het ‘n afkeer van onregverdigheid. Daarom soek die apostel nie na ‘n uitweg nie, maar hy wys daarop dat die handelinge van die goddelike geregtigheid te hoog is om na menslike maatstaf afgemeet te word of deur die klein menslike verstand begryp te word. Die apostel erken dat die oordele van God só diep is dat dit alle menslike verstand verslind. Maar hy leer ook dat dit ongeoorloof is om hulle af te keur as ons hulle nie kan begryp nie.
5. Laat hulle dan maar God se voorsienigheid belaster, ek sê dat daarvan geen rekenskap afgelê hoef te word nie, omdat dit ons begripsvermoë ver te bowe gaan. Sou hulle dan dink dat God se mag so beperk is dat dit nie meer kan doen as wat ons kan begryp nie? Saam met Augustinus sê ek dat God mense geskape het van wie Hy geweet het dat hulle verlore sal gaan. En dat dit só gebeur het omdat Hy dit so gewil het. Maar dit kom ons nie toe om die rede te ondersoek waarom Hy dit gewil het nie, omdat ons dit nie kan begryp nie. Dit betaam ons ook nie om van God se wil ‘n punt van geskil te maak nie, omdat dit die hoogste reël van regverdigheid is. Ons moet die mond van die onbeskaamdes snoer deur soos Paulus te sê: “Ellendige mens, wie is jy wat God beskuldig?” God se oordele is ‘n groot watervloed (Ps 36:7). Ondersoek jou beperkte verstand of dit kan vat wat God by Homself besluit het. Waarom laat jy jou nie afskrik deur wat die geskiedenis van Job en die profetiese geskrifte verkondig aangaande die onbegryplike wysheid en die gedugte mag van God nie? Aanvaar die raad van Augustinus: “Jy, ‘n mens, verwag van my ‘n antwoord. Ek is ook ‘n mens. Laat ons daarom altwee luister na Hom wat sê: Wie is jy, o mens? Gelowige onwetendheid is beter as ligvaardige {355} kennis. Soek na verdienste, en jy sal net straf vind. Petrus verloën. Die moordenaar glo. Soek jy na die rede? Ek skrik vir die afgrond. Redeneer jy. Ek sal bewonder. Disputeer jy. Ek sal glo. Paulus het berus omdat hy bewondering gevind het. Sal jy God se oordele deurgrond wat hy ondeurgrondelik noem?” Die Here het nie ‘n ander verdediging nodig as die wat die Heilige Gees deur die mond van Paulus uitgespreek het nie. Ons leer af om goed te spreek as ons ophou om met God te spreek.
6. Hulle tweede teëwerping dien nie soseer om God te beskuldig nie as wel om die mens te verontskuldig. Hulle sê: “Waarom sal God die mense die dinge as sonde toereken wat Hy hulle gepredestineer het om te doen? Wat moet hulle doen? Moet hulle teen sy besluite stry? Dit sal tevergeefs wees, omdat hulle nie kan nie. Hulle word daarom ten onregte gestraf vir die dinge waarvan die oorsaak in God se predestinasie geleë is”.
Ek sal nie my toevlug na die verdediging neem wat kerklike skrywers deurgaans gebruik nie, naamlik dat die voorwete van God nie verhinder dat die mens vir ‘n sondaar gereken word nie. Want daarmee sou die lastering nie ophou nie maar aanhou. Hulle sal sê dat God tog die kwaad wat Hy vooruitgesien het, kon teëgegaan het as Hy dit gewil het. Omdat Hy dit nie gedoen het nie, het Hy dus met voorbedagte rade die mens geskape met die bedoeling dat hy hom op aarde só sal gedra. Daarom kan hom nie as skuld toegereken word wat hy nie kan ontgaan nie en wat hy deur die wil van God ondergaan.
Hoe moet ons die knoop losmaak? Vir ons moet vas staan wat Salomo sê (Spr 16:4), nl. dat die beskikking oor alle dinge in God se hand berus. By Hom berus die beskikking oor saligheid en dood. Hy verordineer dit deur sy raad en wil só dat sommige mense van die moederskoot af aan die dood oorgegee is, sodat hulle deur hulle verderf sy Naam sal verheerlik. God sien vooruit wat sal gebeur, omdat Hy besluit het dat dit so sal gebeur. Die voorkennis van God, waarop baie hulle beroep, gee dus niks, omdat dit nie die oorsaak van die dinge is nie.
7. Hulle sê dat dit nêrens uitdruklik geskrywe staan dat God besluit het dat Adam deur sy val verlore sal gaan nie. Net so asof God die edelste van sy skepsels met ‘n twyfelagtige doel geskape het!
Hulle sê dat hy ‘n vrye wil gehad het om self sy lot te bepaal en dat God niks anders beskik het nie as net om met hom te handel volgens wat hy verdien het. Maar waar bly dan die almag van God waardeur Hy alles bestuur? Of hulle dit wil of nie, die predestinasie vertoon hom in die nageslag. Die Skrif sê dat alle sterwelinge in die persoon van één mens aan die dood oorgegee is. Daar dit nie aan die natuur toegeskrywe kan word nie, daarom moet dit uit die wonderbare raad van God voortkom. {356}
Ek vra hulle ook hoe dit kan kom dat so baie volke saam met hulle klein kindertjies deur die val van Adam reddeloos in die ewige dood gewerp word as God dit nie gewil het nie?
Ek erken dat dit ‘n huiweringwekkende besluit is. Tog sal niemand kan ontken dat God geweet het hoe dit met die mens sal gaan voordat Hy hom gemaak het nie. En dat Hy dit vooruit geweet het, omdat Hy deur sy besluit dit so verorden het. Dit alles moet vir ons nie ongerymd voorkom dat God nie alleen die val van die eerste mens en in hom die verderf van sy nageslag voorsien het nie maar dit ook so gereël het. Aan Hom kom dit toe om deur sy wysheid alles vooruit te weet wat sal gebeur, en aan Hom kom dit toe om deur sy almagtige hand alles te regeer en te bestuur.
8. Hulle maak ook onderskeid tussen toelating en wil en sê dat die goddelose verlore gaan omdat God dit toelaat en nie omdat Hy dit wil nie. Maar hoe kan God iets toelaat wat Hy nie wil nie? Net so asof God nie bepaal het in watter staat die vernaamste van sy skepsels sal verkeer nie. Ek aarsel nie om saam met Augustinus te bely dat die wil van God die oorsaak van die dinge is nie en dat noodsaaklik sal geskied wat Hy wil. Eweso sal geskied wat Hy tevore vooruitgesien het.
As die Pelagiane of Wederdopers om hulleself en die goddelose te verontskuldig ons nou voorhou dat hulle deur God se predestinasie gebind is, bring hulle niks aan wat ter sake is nie. Want as die predestinasie niks anders as die uitdeling van God se regverdigheid is nie, is dit seker dat hulle ondergang regverdig is. Bowendien vloei die verderf van die goddelose só uit die predestinasie voort dat nogtans die oorsaak en die stof daarvan in hulleself gevind word.
Die eerste mens het geval omdat God geoordeel het dat die eer van sy Naam daardeur verheerlik sou word. Waarom Hy so geoordeel het, is vir ons verborge. Maar waar gespreek word van God se eer, daar geskied alles ook regverdiglik. Die mens val dus omdat God dit só verordineer, maar hy val deur sy eie skuld. Want God getuig (Gen 1:31) dat alles wat Hy gemaak het, baie goed was. Waar kry die mens dan die verdorwenheid vandaan dat hy van God afval? Nie van God nie. Deur eie boosheid het hy daarom die suiwere natuur verderf wat hy van God ontvang het. En deur sy val het hy sy hele nageslag met hom saam in die verderf gestort. Laat ons liewer in die verdorwe natuur van die mens die oorsaak van sy verdoemenis aanskou, as om die verborge oorsaak in God se predestinasie te ondersoek. Verder sê ons dat ongeleerdheid in die dinge wat ons nie kan en mag weet nie, geleerdheid is en dat die begeerte om dit te weet ‘n vorm van dwaasheid is.
9. Miskien sal iemand sê dat ek nog niks na vore gebring het om hulle te weerlê nie. Maar ek beweer dat dit ook nie gedoen kan {357} word op so ‘n wyse dat die goddeloosheid nie murmureer en teëspreek nie. Maar ek meen tog dat wat ek gesê het, voldoende is om hulle die rede om teë te spreek of na allerhande voorwendsels te soek, te ontneem. Die verworpenes wil hulle verontskuldig as hulle sondig. Hulle kan dan nie aan die noodsaaklikheid om te sondig ontkom nie, want dit is hulle deur God se beskikking opgelê. Maar ons ontken dat hulle daardeur verontskuldig word, en hou vol dat hulle verkeerd handel deur die oorsprong van hulle verdoemenis in die verborge raad van God te soek maar vir die verdorwenheid van hulle natuur, waaruit dit werklik voortkom, die oë te sluit. Hierdie verdorwenheid kan hulle nie aan God toeskrywe nie, omdat Hy getuig het dat sy skepping goed is. Hoewel die mens deur die ewige voorsienigheid van God tot die rampsaligheid geskape is waaraan hy onderworpe is, tog het hy aanleiding daartoe geneem uit homself en nie uit God nie. Deur geen ander oorsaak is hy so verdorwe as alleen omdat hy ontaard het en van ‘n suiwere skepsel van God, ‘n sondige en onreine skepsel geword het.
10. Hulle derde teëwerping is dat as God uit die algemene verderf sommige as erfgename van sy koninkryk aanneem na die welbehae van sy wil, soos ons leer, dan sou Hy die persoon aanneem. En dit stry teen die Skrif. Een van twee moet dus waar wees: òf die Skrif is in stryd met homself, òf God neem die werke by die verkiesing in aanmerking.
Maar as die Skrif leer dat God geen aannemer van die persoon is nie, bedoel dit nie die mens nie maar sake soos rykdom, mag, adel, afkoms en dergelike (Hand 10:34; Rom 2:10; Gal 3:28 e.a.p.). Daarom kan ons sê dat God uit louter welbehae, sonder om enige verdienstelikheid in aanmerking te neem, as sy kinders verkies wie Hy wil, en die ander verstoot en verwerp. God sien dus op geen mens nie. Geeneen besit die geringste verdienstelikheid dat God hom sou aanneem nie. Hy ontleen alleen aan sy goedheid rede om aan hom goed te doen. Sy barmhartigheid is vry om homself te openbaar waar dit Hom behaag en so dikwels dit Hom behaag. En God doen dit om die hoogmoed van die vlees te verneder (1 Kor 1:26 e.v.).
11. As God almal skuldig vind, laat Hy dan almal op gelyke wyse straf; as Hy hulle onskuldig bevind, laat Hy dan sy gestrenge oordeel van hulle afhou, sê hulle. Hulle handel met God só asof Hy nie barmhartig mag wees nie of dat Hy sy oordeel moet prysgee as Hy barmhartig wil wees.
Hulle eis dat almal gestraf moet word as almal skuldig is. Ons erken dat ‘n gemeenskaplike skuld op almal rus. Maar ons sê dat God se barmhartigheid sommige te hulp kom. Laat dit almal te hulp kom, sê hulle. Maar ons antwoord dat dit reg is dat God Hom as regverdige Regter openbaar deur te straf. Só handel {358} enige skuldeiser ook. Dit is in sy mag om die een sy skuld kwyt te skeld en van die ander een dit te eis. God kan dus genade skenk aan wie Hy wil, omdat Hy barmhartig is, maar Hy kan dit nie aan almal gee nie, omdat Hy ‘n regverdige Regter is. As Paulus sê dat God almal in die ongehoorsaamheid ingesluit het om vir almal barmhartig te kan wees (Rom 11:32), moet ons daaraan toevoeg dat Hy niemand se skuldenaar is nie, omdat niemand eers aan Hom iets gegee het sodat dit hom vergeld moet word nie.
12. Om die leer van die predestinasie omver te werp voer hulle ook nog die volgende aan. Hulle sê dat dit die ywer om goed te doen wegneem. Want, só sê hulle, wie sal nou nie dink dat dit geen saak maak hoe hy lewe nie, aangesien die lewe of die dood vir hom deur God se ewige en onveranderlike besluit bepaal is? Só sal alle mense volgens hulle eie sondige luste lewe. Nou is dit wel waar dat daar sulke swyne is wat die leerstuk van die predestinasie so besoedel. Hulle spot ook met alle vermaninge en bestrawwinge onder die voorwendsel dat God weet wat Hy besluit het om met hulle te doen. As Hy besluit het dat hulle salig sal word, sal Hy hulle dit op sy tyd gee. As Hy die dood oor hulle beskik het, sal hulle hulle tevergeefs daarteen verset. Maar die Skrif spreek anders. Dit vermeld nie die predestinasie met die doel dat ons ons sal verhef en ligvaardig sal probeer om God se ontoeganklike geheimenisse na te speur nie, maar om ons te verootmoedig en te leer om vir sy oordeel te bewe en na sy barmhartigheid op te sien. Dit getuig (Ef 1:4) dat ons uitverkies is om heilig en sonder gebrek voor God in liefde te wees. As ‘n heilige lewe die doel van die verkiesing is, sal dit ons aanspoor om die heiligheid na te jaag en sal dit nie as ‘n dekmantel vir ons traagheid dien nie. Hulle ander beswaar dat op dié wyse die verworpenes tevergeefs sal trag om deur ‘n opregte lewenswandel God te behaag, is ‘n leuen. So ‘n voorneme kan alleen voortkom uit die verkiesing. Die verworpenes hou egter nie op om deur hulle skandelike dade die toorn van God teen hulle op te wek en deur duidelike tekens te bevestig dat God se oordeel oor hulle reeds gevel is nie.
13. Dis ‘n onbeskaamde belastering van die leerstuk as sou dit elke vermaning om godsalig te lewe tot niet maak. Ek stip maar net ‘n paar sake aan. Paulus het duidelik en openlik die uitverkiesing verkondig. Was hy daarom traag om te vermaan en aan te spoor (1 Thess 4:7; Ef 2:10 e.a.p.)?
Christus sê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader hom nie trek nie” (Joh 6:44). Nogtans beveel Hy om in Hom te glo en bestraf Hy die Jode oor hulle ongeloof (Joh 6:44).
Laat die prediking voortgaan, sodat die mense sal glo.
Laat die mense die predestinasie ken, sodat hulle wat gehoorsaam, hulle nie sal verhef nie maar in die Here roem. Nie sonder {359} rede nie sê Christus: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor” (Mat 13:9). As ons dus vermaan en preek, gehoorsaam hulle graag wat ore het. Maar aan hulle wat dit nie het nie, word die woord vervul: “Hoor altyddeur, maar verstaan nie” (Jes 6:9).
14. Ons moet egter die voorbeeld van Augustinus navolg. Hy het hom beywer om te stig. Daarom het hy sy manier om die waarheid te onderwys só ingerig dat hy op sy hoede was om nie aanstoot te gee nie. Hy sê dat die dinge wat na waarheid gesê word, ook op ‘n paslike manier gesê moet word. As iemand byvoorbeeld só sou preek: “As julle nie glo nie, is dit omdat julle reeds deur God vir die verderf bestem is”, dan sal hy nie net traagheid in die hand werk nie maar ook aan die sonde vry spel laat. As iemand sou sê dat hulle wat hoor, ook in die toekoms nie sal glo nie, sal dit meer ‘n vervloeking wees as ‘n verkondiging.
Calvyn haal ook met instemming hierdie woorde van Augustinus aan: “Omdat ons nie weet wie tot die getal van die gepredestineerdes behoort nie, en wie nie, moet ons só gesind wees dat ons sou wens dat almal salig word. So sal ons ons beywer om elke mens wat ons ontmoet, ‘n deelgenoot van die vrede te maak, maar ons vrede sal rus op die kinders van die vrede. Ons moet die bestrawwing dus as ‘n heilsame geneesmiddel aan almal toedien, sodat hulle nie vergaan of ander te gronde rig nie, maar dit is die werk van God om die bestrawwing profytlik te maak vir die wat Hy tevore geken en verordineer het”.
HOOFSTUK XXIV. Die verkiesing word bevestig deur die roeping van God. Dieverworpenes haal oor hulself die regverdige verderf waarvoor hulle bestem is
1. Om die saak nog duideliker te maak handel ons nou verder oor die roeping van die uitverkorenes en oor die verblinding en verharding van die goddelose. Oor eersgenoemde het ek alreeds een en ander gesê (hfst. 22:10-11). God maak die verkiesing wat in Hom verborge is, deur die roeping openbaar (Rom 8:29-30). Deur die verkiesing het Hy alreeds sy eiendom as sy kinders aangeneem. Tog moet hulle nog geroep word om hulle besitting te verkry. Aan die ander kant ontvang hulle na hulle roeping reeds kennis van hulle verkiesing. Daarom noem Paulus die Gees wat hulle ontvang het, die Gees van aanneming tot kinders en die seël en onderpand van hulle erfdeel (Rom 8:15; Ef 1:13-14), omdat {360} Hy die sekerheid van hulle toekomstige aanneming deur sy getuienis in hulle hart bevestig en verseël. Want hoewel die prediking van die evangelie uit die verkiesing soos uit ‘n fontein ontspring, is dit op sigself nog geen sekere bewys van die verkiesing nie, omdat dit ook die verworpenes bereik. Maar God onderwys sy uitverkorenes kragdadiglik om hulle tot die geloof te bring. So sê Christus: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My gegee het” (Joh 17:6). Die Vader moet egter die mense tot die Seun trek (Joh 6:44).
Waarom onderwys Hy dan nie almal sodat hulle na Christus kom nie? Die wat Hy onderwys, onderwys Hy deur sy barmhartigheid. En die wat Hy nie onderwys nie, onderwys Hy nie deur sy oordeel. Want Hy ontferm Hom oor wie Hy wil, en verhard wie Hy wil.
Deur hulle te roep neem Hy hulle in sy huisgesin op en verenig Hom met hulle, sodat hulle één is. As die Skrif dus die roeping aan die verkiesing verbind, gee dit daarmee te kenne dat in die roeping niks anders gesoek moet word as die onverdiende barmhartigheid van God nie. Hier geskied wat Paulus betuig (Rom 9:16), nl. dat dit nie afhang van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. En dit nie op die wyse waarop sommige dit verstaan wat die saligheid tussen die genade van God en die wil en die poging van die mens verdeel nie.
2. Dit word duidelik bewys deur die manier waarop die roeping geskied, naamlik deur die prediking van die Woord en die verligting deur die Heilige Gees. Só sê God deur Jesaja: “Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; aan ‘n nasie wat na my Naam nie genoem is nie, het Ek gesê: Hier is Ek, hier is Ek” (Jes 65:1).
Hy herinner die Jode ook daaraan dat Hy hulle vader Abraham geroep het uit ‘n geslag wat in afgodediens versink gelê het (Jos 24:3). God gee dus ‘n duidelike bewys van sy onverdiende goedheid deur hulle eerste met sy Woord te bestraal wat dit nie verdien nie. Hierin vertoon God se goedheid hom, maar nie tot saligheid vir almal nie. Vir die verworpenes wag ‘n swaarder oordeel, omdat hulle die getuienis van God se liefde versmaad. God onttrek ook aan hulle die kragdadige werking van sy Gees. Die inwendige roeping is dus ‘n onbedrieglike pand van die saligheid (1 Joh 3:24). ‘n Goeie voorbeeld daarvan dat God ore gee om te hoor en oë om te sien, vind ons in Hand 13:48. Sowel Jode as heidene hoor die prediking van Paulus en Barnabas, maar net diegene het geglo wat tot die ewige lewe verordineer was.
3. Ons moet op ons hoede wees vir twee dwalinge. Sommige mense maak die mens tot ‘n medewerker van God. Deur sy instemming bekragtig hy God se verkiesing. Volgens hulle staan die wil {361} van die mens dus bokant die raad van God. Maar die Skrif leer dat die geloof self ons gegee word en nie net dat dit aan ons gegee word om te glo nie.
Ander weer maak die verkiesing afhanklik van wat later volg. Dit is twyfelagtig totdat dit deur die geloof bevestig word. Dat die verkiesing, wat ons betref, deur die geloof bevestig word, is duidelik. Maar dis onjuis om te sê dat die verkiesing eers dan kragdadig is as ons die evangelie aangeneem het en dat dit sy krag aan ons geloof ontleen.
4. Dit is dus verkeerd om die krag van die verkiesing afhanklik te maak van die geloof aan die evangelie waardeur ons gevoel dat ons deel aan die verkiesing het.
Die regte weg is dat ons, om seker te wees van ons verkiesing, ons sal hou aan die tekens wat die gewisse getuienisse daarvan is. Daar is seker geen swaarder versoeking waarmee Satan ons kan aanval nie, as deur twyfel aangaande ons verkiesing op te wek en as hy ons dan verlei om dit op ‘n verkeerde wyse na te wil speur. Dit is deur te probeer deurbreek in die geheimenisse van die goddelike wysheid en in die ewigheid deur te dring, sodat ons sal begryp wat voor God se regterstoel oor ons besluit is. So stort ons ons in ‘n draaikolk en sal verswelg word. Hierdie poging is des te dodeliker omdat ons almal daartoe geneig is. Daar is maar min mense wat nie deur hierdie gedagte verontrus word nie: “Waar kom jou saligheid anders vandaan as uit God se verkiesing? Watter openbaring besit jy van jou verkiesing?” As die gedagte eers by iemand opgekom het, martel dit hom gedurigdeur, of dit verbyster hom totaal. Só word die gewete verontrus en beroof van die vrede met God as ons die Woord loslaat en selfstandig die ewige raad van God wil naspeur. Ons moet begin met die roeping deur God en daarmee eindig. Deur die roeping wil God ons openbaar soveel as wat ons van sy raad mag weet.
5. Ons moet in die eerste plek ons oë op Christus rig as ons God se vaderlike sagmoedigheid en sy hart soek wat ons gunstig gesind is. In Hom rus die Vader se hart (Mat 3:17). En na Hom moet ons ook ons toevlug neem as ons die saligheid, die lewe en die onsterflikheid van die hemelse koninkryk soek. In Hom alleen is die bron van die lewe en die anker van die saligheid. In Hom het God ons verkies (Ef 1:4), omdat Hy ons nie anders kon liefhê as in Hom nie. En ons word alleen erfgename van die koninkryk omdat ons aan Hom deel het. As ons dan in Hom uitverkies is, sal ons die sekerheid van ons verkiesing nie in onsself en selfs nie in God die Vader vind nie, as ons Hom vir ons alleen sonder die Seun voorstel. As ons dus gemeenskap met Christus het, het ons voldoende getuienis dat ons ingeskryf is in die boek van die lewe.
Verder het Hy ons die onbetwyfelbare gemeenskap met Hom {362} geskenk toe Hy deur die prediking van die evangelie dit aan ons betuig het dat die Vader Hom aan ons gegee het sodat Hy met al sy goedere ons sal toebehoort (Rom 8:32; Joh 3:15; Joh 5:24; Joh 6:35). As ons begeer om iets meer as kinders van God te wees, moet ons bokant Christus uitstyg. Die praktyk van hierdie leer laat hom ook in ons gebede geld. Want hoewel die vertroue dat ons uitverkies is, ons moed gee om God aan te roep, sal dit tog baie verkeerd wees om God ons verkiesing op te dring as ons bid, of dit vir Hom as voorwaarde te stel waarom Hy ons moet verhoor. God wil dat ons met sy beloftes tevrede sal wees.
6. God gee ons egter nog meer vastigheid aangaande ons verkiesing. Christus neem in sy trou en beskerming almal op wat Hy met die kennis van sy Naam verlig en in sy kerk opneem. En aangaande almal wat Hy ontvang, sê Hy dat die Vader hulle aan Hom oorgegee het om hulle te bewaar tot die ewige lewe (Joh 6:37,39; Joh 17:6,12). As ons dus wil weet of God vir ons saligheid sorg, moet ons ondersoek of Hy ons aan Christus gegee het. As ons twyfel of ons deur Hom in bewaring aangeneem is, kom Hy ons twyfel tegemoet deur Hom uit eie beweging as Herder aan te bied en te sê dat ons sy skape is as ons na sy stem luister (Joh 10:3).
Maar nou kom daar angs in ons op as ons aan ons toekomstige staat dink. Christus sê dat baie geroep maar min uitverkies is (Mat 22:14), en Paulus dat wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie (1 Kor 10:12; vgl. Ook Rom 11:20). Die roeping alleen is nie voldoende as dit nie met volharding gepaard gaan nie. Christus neem egter die bekommernis weg as Hy sê: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh 6:37,40; Joh 10:27). Daarom kan Paulus ook roem teen dood of lewe, teenwoordige of toekomende dinge (Rom 8:38; vgl. Ook Fil 1:6; Ps 138:8). Christus bid ook vir sy uitverkorenes dat hulle geloof nie sal ophou nie (Luk 22:32).
7. Maar dit gebeur daeliks dat mense van Christus afvallig word wat skynbaar ook aan Hom behoort het. Ja, Christus sonder self die seun van die verderf uit as Hy vir die Vader sê dat niemand verlore gegaan het wat Hy Hom gegee het nie (Joh 17:12). Dit is waar. Maar dit is ook waar dat hulle Christus nooit met die vertroue van die hart aangehang het waardeur die sekerheid van ons verkiesing bevestig word nie. “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het”, sê Johannes (1 Joh 2:19). Ek ontken nie dat hulle dieselfde tekens van die roeping vertoon as die uitverkorenes nie, maar ek ontken dat hulle uitverkore was. Sulke voorbeelde moet ons nie aan die waarheid van God se beloftes laat twyfel nie (Joh 3:16; Joh 6:39). {363}
Wat betref die woord van die apostel Paulus (Rom 11:11 e.v.): daarmee wil hy die Christene nie die gerustheid ontneem nie. Hy wil alleen die valse vleeslike gerustheid voorkom wat grootsheid, aanmatiging en veragting van ander meebring en die vrees van God uitdoof en maak dat hulle vergeet dat hulle genade ontvang het. Want hy spreek heidene aan en leer dat hulle die Jode nie hoogmoedig moet bespot nie, omdat die Jode verstoot en hulle in hulle plek gestel is. Hulle moet vrees, d.w.s. hulle moet ootmoedig op God se genade sien.
8. Wat die woorde van Christus betref (Mat 22:14), merk ons op dat daar tweërlei roeping is. Daar is ‘n algemene roeping. Deur die prediking van die Woord nooi God almal na Hom, ook die ongelowiges. Maar daar is ook ‘n besondere roeping, wat Hy alleen die gelowiges waardig ag wanneer Hy deur die inwendige verligting van sy Gees dit bewerk dat die gepredikte Woord in hulle hart bly. Soms skenk Hy dit ook aan hulle wat Hy ‘n tyd lank verlig en daarna weens hulle ondankbaarheid verlaat en met groter blindheid slaan. Hierdie uitwendige en inwendige roeping beskrywe die Here vir ons in die gelykenis (Mat 22:1-14). God sal die huigelaars op sy tyd uit die kerk werp. Deur die gelykenis wil die Gees ons dus ook vermaan om dit te verdra dat daar saam met ons Ismaeliete in die kerk is.
9. Dit is ook die rede waarom Christus Judas uitsonder as Hy sê dat niemand verlore gegaan het van die wat die Vader aan Hom gegee het nie, behalwe die seun van die verderf (Joh 17:12). Hy was geen skaap nie maar het net die plek van ‘n skaap ingeneem. Sy woorde dat Judas ook uitverkies was (Joh 6:70), sien alleen op sy amp as apostel. As Hy egter van die verkiesing tot die saligheid spreek, sonder Hy Hom uit (Joh 13:18). Die woord verkiesing het dus op die twee plekke nie dieselfde betekenis nie.
10. Die uitverkorenes word nie dadelik van hulle geboorte af en ook nie almal op dieselfde leeftyd tot die skaapkraal van Christus vergader nie. Dit gebeur wanneer dit God behaag om sy genade aan hulle uit te deel. Maar voordat hulle tot die opperste Herder versamel word, dwaal hulle soos die ander in die woestyn rond en verskil in geen opsig van hulle nie, behalwe dat God in sy besondere barmhartigheid hulle bewaar, dat hulle nie in die uiterste goddeloosheid verval nie. Dit geskied nie deur enige goedheid wat hulle aangebore is nie, maar alleen omdat God oor hulle saligheid waak. Hulle wat beweer dat ‘n saad van die verkiesing in die hart van die uitverkorenes ingeplant is van hulle geboorte af, word nie deur die gesag van die Skrif gesteun nie. Hulle voer die voorbeelde van Paulus en Cornelius aan om dit te staaf. Wat Paulus betref, gee ek toe dat hy as Fariseër onberispelik gelewe het. Maar wat Cornelius betref, is dit duidelik dat hy toe reeds verlig en {364} wedergebore was en niks meer nodig gehad het nie as net die duidelike openbaring van die evangelie.
Die Skrif weerspreek hulle opvatting op meer as een plek. Paulus sê vir die Efesiërs dat hulle vóór hulle wedergeboorte “dood was deur die misdade en die sondes waarin hulle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, en dat hulle van nature kinders van die toorn was net soos ook die ander” (Ef 2:1-3; vgl. ook Ef 2:12; Ef 5:8). Hulle laat dit slaan op gebrek aan kennis van die ware God, wat ook by uitverkorenes aangetref word voordat hulle geroep is. Maar wat sal hulle dan sê van uitsprake van die apostel soos die wat opgeteken staan in 1 Kor 6:9,11, waar die apostel sê dat sommige van die Korinthiërs hoereerders, afgodedienaars, egbrekers ens. was voordat hulle Christus geken het? Vergelyk ook Rom 6:19.
11. Ek vra watter saad van verkiesing daar in hulle gegroei het wat in hulle hele lewensloop verontreinig was en hulle in gruwelike booshede gewentel het? As die apostel volgens hierdie mense se opvatting moes gespreek het, moes hy aangetoon het hoeveel hulle aan God se weldadigheid verskuldig was, wat hulle bewaar het om nie in sulke liederlikhede te verval nie. So Petrus ook (1 Petr 4:3).
Watter saad van geregtigheid was daar in Ragab, die hoer, voordat sy geglo het? Of in Manasse toe hy Jerusalem met die bloed van die profete geverf het? Of in die moordenaar wat eers in sy laaste oomblikke aan bekering gedink het? Laat ons liewer vashou aan wat die Skrif ons leer, nl. dat ons almal gedwaal het soos skape en elkeen sy eie pad geloop het, d.w.s. na die verderf (Jes 53:6). God roep hulle op sy tyd. Intussen bewaar Hy hulle dat hulle nie in die sonde van onvergeeflike lastering verval nie.
12. Soos God deur die krag van sy roeping die saligheid van sy uitverkorenes werk, waartoe Hy hulle deur sy ewige raad verordineer het, so handhaaf Hy sy oordeel teen die verworpenes, waardeur Hy sy raad aangaande hulle volbring. Soms beroof Hy hulle van die geleentheid om sy Woord te hoor, soms verblind en verhard Hy hulle deur die prediking nog meer. As voorbeeld van die eerste geval noem ek, onder baie, dit dat God omtrent vierduisend jaar lank voor die geboorte van Christus die lig van sy saligmakende evangelie vir die heidene verberg het.
As nou gesê word dat die weldaad hulle nie meegedeel is omdat hulle dit nie werd was nie, antwoord ek daarop dat hulle nakomelinge niks waardiger was nie.
Behalwe die ervaring, is die profeet Maleagi hiervan ‘n genoegsame getuie. Hy bestraf die ongeloof wat met growwe lasteringe vermeng was. Tog verkondig hy dat daar ‘n Verlosser sal kom (Mal 4:1). {365} Wanneer word die verlossing dan meer aan die nakomelinge as aan die voorouers gegee? As iemand hiervoor ‘n hoër oorsaak wil soek as die verborge en ondeurgrondelike raad van God, sal hy hom tevergeefs vermoei.
Van die tweede geval wat ek genoem het, lewer die ervaring en die Skrif baie voorbeelde op. Dieselfde Woord word aan honderd mense tegelyk verkondig. Twintig neem dit gelowig aan. Die res beskou dit as waardeloos, bespot en verwerp dit. Die verskil kan ons nie net aan hulle boosheid toeskrywe nie; want ook die ander sou met dieselfde boosheid bevange gewees het as die Here nie deur sy goedheid hulle harte verbeter het nie. Hier geld die woord van Paulus: “Wie onderskei jou?” (1 Kor 4:7). Daarmee gee hy te kenne dat dit maar net God se genade is as ons glo.
13. Waarom skenk God genade aan die een mens en gaan Hy die ander een verby? Aangaande die eerste gee Lukas vir ons die rede aan. Hulle was verordineer tot die ewige lewe (Hand 13:48). Die ander gaan Hy verby, omdat hulle voorwerpe van die toorn is. Augustinus sê: “God sou die wil van die goddelose wel tot die goeie kon ombuig, want Hy is almagtig. Waarom doen Hy dit dan nie? Omdat Hy nie wil nie. Waarom Hy nie wil nie, is by Hom bekend”. Ons moenie wyser wil wees as wat behoort nie. Dis beter as om saam met Chrysostomus ‘n uitvlug te soek en te sê dat God dié trek wat hulle hand uitsteek, asof die mens beslis en nie God nie. Geen mens kan uit eie beweging tot God gaan nie. Selfs die godvresendes het nog ‘n besondere ingewing van die Gees nodig. Lidia, die purper- verkoopster, het God gevrees. Tog moes haar hart geopen word om ag te gee op wat Paulus sê (Hand 16:14). Dit geld nie net vir haar nie. Elkeen se vordering in die godsvrug is ‘n verborge werk van die Gees. Dit kan nie in twyfel getrek word nie dat God sy Woord na baie stuur wie se blindheid Hy nog swaarder wil maak. Waarom laat Hy so baie bevele aan Farao gee? Omdat Hy miskien gehoop het dat hy deur die herhaalde boodskappe verteder sou word? Nee. Voordat Hy begin het, het Hy geweet wat die afloop sal wees. “Ek sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie”, sê Hy vir Moses in Midian (Ex 4:21; vgl. ook Eseg 2:3; Eseg 12:2 en veral Jes 6:9). God spreek hulle aan, maar — sodat hulle nog dower sal word. Hy steek ‘n lig op, sodat hulle blinder gemaak sal word. Christus sê dat Hy tot die skare deur gelykenisse spreek, omdat dit aan hulle nie gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te verstaan nie (Mat 13:11).
14. Ons moet nou nagaan waarom God só handel soos Hy doen. As iemand antwoord dat dit so geskied omdat die mense deur hulle goddeloosheid en ondankbaarheid dit verdien het, sal hy die waarheid spreek. Maar omdat die rede van die onderskeid nog nie {366} duidelik is nie, naamlik waarom sommige gehoorsaam buig en ander verhard bly, sal ons moet kom tot wat Paulus uit Moses aanteken, naamlik dat God hulle hiertoe laat optree sodat sy Naam oor die hele aarde verkondig kan word (Rom 9:17). Die skuld waarom die verworpenes ongehoorsaam is aan die Woord van God, is dus die verdorwenheid van hulle hart. Maar daaraan moet toegevoeg word dat hulle aan hierdie boosheid oorgegee is, omdat hulle deur God se regverdige maar onnaspeurbare oordeel verwek is om deur hulle verdoemenis sy eer te verheerlik. Vergelyk ook 1 Sam 2:25; Joh 12:37.
Dat God se belofte nie vir al die mense geld nie, leer die Skrif ons ook as dit sê dat Christus ‘n struikelblok is vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke, terwyl Hy vir ons die krag van God en die wysheid van God is (1 Kor 1:23-24). Die eer vir ons geloof kom alleen aan God toe. Die verworpenes ly egter niks wat nie in ooreenstemming met sy regverdige oordeel is nie. Dat ons die rede daarvoor nie begryp nie — ons moenie weier om iets nie te weet as die wysheid van God vir ons te hoog is nie.
15. Ons teëstanders beroep hulle op enkele uitsprake van die Skrif waarin God skynbaar ontken dat die goddelose omkom omdat Hy dit so bepaal het, behalwe in sover hulle uit eie beweging die dood oor hulle bring, hoewel Hy daarteen ingaan. Die uitsprake stry nie met ons opvatting nie.
Hulle haal byvoorbeeld Eseg 33:11 aan, waar die Here sê dat Hy geen behae het in die dood van die goddelose nie maar daarin dat hy hom bekeer van sy weg en lewe. As dit tot die hele menslike geslag uitgestrek word, waarom bekeer God dan nie baie wie se harte buigbaarder is as die van hulle wat hulle op sy daelikse uitnodiging meer en meer verhard nie? Vergelyk ook die woord van die Here oor die manne van Ninevé en Sodom (Mat 11:23 e.v.). Waarom open God dan nie vir die mense die deur van boetvaardigheid as hulle meer bereid is om sy genade te ontvang nie?
Ons sien hieruit dat die plek met geweld verdraai word as die wil van God teenoor sy ewige raad gestel word. Die profeet wil alleen hoop op vergewing skenk aan die wat hulle bekeer. God is bereid om te vergewe as die sondaar hom bekeer. Hy het geen behae in sy dood nie maar in boetvaardigheid. Die ervaring leer egter dat Hy só die bekering wil van die wat Hy tot Hom roep, dat Hy nie almal se hart aanraak nie. Maar daarom mag ons nog nie sê dat Hy bedrieglik handel nie. Want die Woord wat hulle hoor en nie gehoorsaam nie, is tog ‘n getuienis van die genade van God waardeur Hy die mense met Homself versoen.
16. In die tweede plek haal hulle die woorde van Paulus aan dat God wil dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom (1 Tim 2:4). Die verband moet vir ons hierdie {367} woord verklaar. Paulus het Timotheüs beveel om in die openbare eredienste te bid vir konings en almal wat hoog geplaas is. Nou kom dit ongerymd voor dat tot God gebid word vir mense wat nie tot die gemeente behoort het nie maar ook al hulle kragte ingespan het om sy ryk te onderdruk. Maar Paulus beveel om vir hulle te bid, omdat God vir geen enkele soort mens die weg tot die saligheid toegesluit het nie. Inteendeel, Hy het sy barmhartigheid só uitgestort dat Hy wil dat elke soort deel daaraan sal hê. Paulus spreek dus nie oor wat God oral en altyd en in alle mense werk nie, maar hy sê alleen dat dit Hom vrystaan om konings en heersers eindelik deelgenote te maak van die hemelse leer waarteen hulle nou nog woed. Immers, Hy is in die hemel en doen wat Hom behaag (Ps 115:3). En Hy is genadig vir wie Hy genadig wil wees, en ontferm Hom oor wie Hy Hom wil ontferm (Ex 33:19).
Verder haal hulle die woorde aan dat God nie wil hê dat sommige moet vergaan nie maar dat almal tot bekering moet kom (2 Petr 3:9). Ongetwyfeld is die bekering in die hand van God. Of Hy almal wil bekeer, moet aan Hom gevra word. Hy belowe dat Hy aan weinige ‘n hart van vlees sal gee maar aan ander hulle hart van klip sal laat (Eseg 36:26). En ten slotte die woord: “Keer terug na My, en Ek sal na julle terugkeer” (Sag 1:3). Niemand kan egter na God kom as God hom nie voorkom nie. Anders sou Hy nie gesê het nie dat Efraim bid: “Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die HERE, my God (Jer 31:18).
17. U mag miskien sê dat as dit so is, ons maar min op die beloftes van die evangelie kan vertrou. Want God se wil sou dan in stryd wees met sy onskendbare besluit. Dit is egter nie die geval nie. Die beloftes van die saligheid is wel algemeen, maar hulle is nie in stryd met die predestinasie van die verworpenes nie, as ons maar net let op hulle uitwerking. Ons weet dat die beloftes eers dán vir ons van krag is as ons hulle in die geloof aanneem. Maar waar geen geloof is nie, daar geld ook die beloftes nie.
Maar as dit só met die beloftes gesteld is, laat ons sien of hierdie twee sake met mekaar stry, dat God van ewigheid af verordineer het wie Hy met sy liefde wil omhels, en jeens wie Hy sy toorn wil openbaar; en dat Hy tog aan almal sonder onderskeid die saligheid verkondig. Ek sê dat hulle met mekaar ooreenstem. Want as Hy belowe, wil Hy niks anders sê nie as dat sy barmhartigheid vir almal berei is wat dit begeer en inroep. Maar net hulle doen dit wat Hy verlig het, dit wil sê die wat Hy tot die saligheid gepredestineer het. Vir hulle is die beloftes vas en onwrikbaar, sodat ons nie kan sê dat daar enige teenstrydigheid is tussen God se ewige verkiesing en die verkondiging van sy genade nie. Maar waarom noem Hy dan almal? Hy doen dit sodat die gelowiges gerus sal wees as hulle begryp dat daar geen enkele onderskeid {368} tussen sondaars is nie, as daar maar geloof aanwesig is, en sodat die goddeloses nie die voorwendsel sal kan hê dat hulle geen toevlug teen die diensbaarheid aan die sonde het nie, omdat hulle die toevlug verwerp wat hulle aangebied word.
Hulle beroep op die woorde van Christus (Mat 23:37) baat hulle ook niks nie. Die wil van God waaroor dit hier gaan, moet nader bepaal word. Dit is bekend hoe God Hom daarop toegelê het om die volk vas te hou, en met watter groot hardnekkigheid hulle die versameling versmaad het. Maar daaruit volg nog nie dat God se raad deur die boosheid van mense vernietig kan word nie.
Vervolgens sê hulle dat daar nie ‘n dubbele wil in God kan wees nie. Ek stem dit toe. Maar waarom let hulle nie daarop dat God op menslike wyse spreek nie? Vergelyk bv. Jes 65:2. Hierdie woorde kan tog nie letterlik op God toegepas word nie. Vir ons besef kom dit soms voor asof daar tweërlei wil in God is. Nogtans wil Hy nie wat teenstrydig met mekaar is nie, maar met sy menigvuldige wysheid (Ef 3:10) verbaas Hy ons, totdat dit aan ons gegee sal word om te leer insien dat Hy op wonderbaarlike wyse wil wat teen sy wil skyn te stry.
Hulle sê ook spottend dat dit onregverdig is as God iemand verwerp wat nie deur sy skuld tevore die straf verdien het nie, aangesien Hy almal se Vader is. Maar laat hulle dan antwoord op die vraag waarom God Hom aan een volk verbind het? En waarom Hy so ‘n getal daaruit soos ‘n blom gepluk het? Hulle vergeet dat God só sy son laat opgaan oor slegtes en goeies (Mat 5:45) dat tog vir weiniges die erfenis weggelê is vir wie eenmaal gesê sal word: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk” (Mat 25:34). Hulle sê ook dat God nie een skepsel haat wat Hy gemaak het nie. Tog haat Hy tereg die verworpenes, omdat hulle van sy Gees verstoke is en niks anders kan voortbring as alleen ‘n oorsaak om hulle te vervloek nie.
Hieraan voeg hulle toe dat daar geen onderskeid tussen Jood en heiden is nie en dat daarom God se genade aan almal sonder onderskeid aangebied word. Seker, as hulle maar toegee dat God sowel uit die Jode as uit die heidene sy volk na sy welbehae vergader, op so ‘n wyse dat Hy aan niemand gebind is nie.
Só word ook weerlê wat hulle uit Rom 11:32 aanvoer dat God almal in die ongehoor- saamheid ingesluit het om vir almal barmhartig te kan wees. Die apostel sê alleen dat die saligheid van almal aan die barmhartigheid toegeskrywe moet word, en nie dat die weldaad die deel van al die mense is nie.
Die slotsom van alles is dat ons met Paulus huiwer by so ‘n afgrond, en as ander teëspreek, ons nie skaam om saam met hom uit te roep nie: “O mens, wie is jy wat teen God antwoord?” (Rom 9:20). Want na waarheid sê Augustinus dat almal verkeerd handel {369} wat God se regverdigheid afmeet volgens die maatstaf van menslike regverdigheid.
HOOFSTUK XXV. Die laatste opstanding
1. Christus skyn deur die evangelie nadat Hy die dood oorwin het, en verlig ons lewe. Gevolglik word van ons gesê dat ons deur die geloof uit die dood in die lewe oorgegaan het, dat ons nie meer vreemdelinge en bywoners is nie maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, wat ons saam met Christus in die hemele laat sit het, sodat daar aan ons volkome geluksaligheid niks ontbreek nie (2 Tim 1:10; Joh 5:24; Ef 2:6,19). Tog moet ons weet wat oor die aard van die hoop geleer word, sodat ons nie moeg sal word om onder ‘n harde krygsdiens geoefen te word, asof die oorwinning wat Christus behaal het, geen enkele vrug opgelewer het nie. Want aangesien ons die dinge hoop wat ons nie sien nie (Rom 8:25), en die geloof ‘n bewys is van die sake wat ons nie sien nie (Hebr 11:1), woon ons uit van die Here so lank as ons in die liggaam inwoon (2 Kor 5:6). Daarom sê Paulus ook dat ons gesterf het en dat ons lewe met Christus verborge is in God; en dat, wanneer Hy, wat ons lewe is, geopenbaar sal word, ons saam met Hom in heerlikheid geopenbaar sal word (Kol 3:3-4). Ons moet dus ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus (Tit 2:12-13). Hiervoor is buitengewone lydsaamheid nodig, sodat ons nie moeg sal word of ons wagpos verlaat nie. Alles wat ons tot sover aangaande ons saligheid gesê het, vereis dat ons ons harte sal ophef na die hemel, sodat ons Christus sal liefhê en ons in Hom sal verheug met ‘n onuitspreeklike en heerlike vreugde, en die einddoel van ons geloof sal verkry soos Petrus getuig (1 Petr 1:8-9). As ons só die oë op Christus vestig, word die woord waarlik vervul dat ons hart is waar ons skat is (Mat 6:21).
Daarom is die geloof so ‘n seldsame saak in hierdie wêreld, omdat niks vir ons moeiliker is nie as om deur ontelbare hindernisse op te klim en voort te gaan tot die prys van die hemelse roeping. By al die ellendes waaronder ons begrawe word, kom nog die bespotting deur onheilige mense. Daarom het eers dié mens behoorlik in die evangelie gevorder wat hom aan die gedurige oordenking van die geluksalige opstanding gewen het.
2. Die ou wysgere het oor die hoogste goed van die mens {370} diepsinnige bespieëlinge gehou. Alleen Plato het erken dat die hoogste goed van die mens in sy vereniging met God bestaan. Maar hoe dit kon geskied, kon hy nie besef nie. Dit is ook geen wonder nie. Alleen ons ken die volmaakte geluksaligheid in ons aardse vreemdelingskap en sal eenmaal versadig word met die volle genieting daarvan. Daarom ontvang net hulle die vrug uit Christus se weldade wat hulle harte op die opstanding rig. Paulus sê ook dat dit die doel is wat hy najaag (Fil 3:8). Daarna moet ons ook strewe. ‘n Gelowige se wandel is in die hemel (Fil 3:20), vanwaar ons ook ons Saligmaker verwag. Om die gelowiges te bewaar sodat hulle nie sal verslap nie gee Paulus aan hulle die skepsels as metgeselle. Alles verlang na vernuwing. Omdat Adam die hele natuurorde deur sy val versteur het, is die diensbaarheid vir die skepsels ‘n swaar saak. Paulus sê dat hulle sug en in barensnood is (Rom 8:19), sodat ons, wat die eerstelinge van die Gees het, ons sal skaam om in ons verderf weg te kwyn. Om ons te prikkel noem hy die wederkoms van Christus ons saligheid (Hebr 9:28). Hierdie kennis hou ons staande in ons ellende.
3. Die belangrikheid van die saak sal ons ywer opskerp. Paulus beweer nie verniet dat die hele evangelie tevergeefs en ‘n bedrog is as die dode nie opstaan nie. Ons toestand sou dan ellendiger wees as die van ander mense, omdat ons blootgestel aan die haat en die smaad van vele, elke uur in gevaar verkeer soos skape wat bestem is om geslag te word. Die gesag van die evangelie sal ook in sy hele hoofsom verval waarin ons aanneming as kinders en die vrug van ons saligheid begrepe is. Laat ons ons daarom inspan om so ‘n allergewigtigste saak te volg.
Dit is ‘n moeilike saak om te glo dat die liggame wat deur vertering vergaan het, op hulle tyd eenmaal weer sal opstaan. Baie wysgere het geglo dat die siel onsterflik is. Die opstanding van die vlees is net deur ‘n enkele bely. Dit leer ons dat die opstanding ‘n saak is wat te moeilik vir die mens is om uit te dink. Om ons geloof te help om so ‘n groot hindernis te oorkom bied die Skrif ons twee hulpmiddels aan. Die eerste is ons deelgenootskap aan Christus, en die tweede is God se almag. As daar dus van die opstanding sprake is, moet ons aan Christus dink, wat, nadat Hy sy lewe hier volbring het, met onsterflikheid beklee is om vir ons ‘n pand te wees van ons toekomstige opstanding. In ons ellendes dra ons die doding van die Here Jesus in ons liggaam om, sodat ook sy lewe in ons liggaam openbaar kan word (2 Kor 4:10). En ons kan en mag Hom nie van ons skei nie, anders verskeur ons Hom. Daarom sê Paulus: “As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie” (1 Kor 15:13). Dit was vir hom ‘n uitgemaakte saak dat Christus nie vir Homself alleen aan die dood onderworpe was of deur sy opstanding oor die dood {371} getriomfeer het nie, maar dat in Hom as die Hoof begin het wat in al die lede vervul moet word, elkeen in sy graad en orde. Paulus verseker ons uitdruklik dat Christus daarom na die hemel opgevaar het en op die laaste dag as Regter weer sal kom, om ons vernederde liggaam gelykvormig te maak aan sy verheerlikte liggaam (Fil 3:21). Hy doen dit sodat ons deelgenootskap aan die salige opstanding van Christus vir ons nie ‘n twyfelagtige saak sal wees nie (vgl. ook Kol 3:4).
Christus het dus opgestaan om ons as deelgenote aan die toekomende lewe te hê. Hy is deur die Vader opgewek omdat Hy die Hoof van die kerk is waarvan Hy Hom nie laat skei nie. Hy is opgewek deur die krag van die Gees, waaraan ons deel het. Met een woord, Hy is opgewek sodat Hy die opstanding en die lewe sal wees. Hierop verlaat ons ons en wag met lydsaamheid op die tyd wanneer God sy ryk weer sal oprig.
Christus het ons ook op baie en verskillende maniere verseker dat Hy opgestaan het. Wysneuse lag daaroor dat Christus aan bevreesde vroue en dissipels verskyn het.
Waarom het Hy nie in majesteit aan Pilatus of aan die Joodse priesters en Jerusalem verskyn nie? Onheilige mense beskou ook sy getuies as sulke ongeskikte persone. Ek antwoord dat God dit alles in sy voorsienigheid so bestuur het, sodat hulle na die graf getrek sou word om van die engele te hoor wat hulle met hulle oë gesien het. Hulle geloofwaardigheid kan dus nie verdink word nie, omdat hulle gedink het dat wat die vroue hulle vertel het, ‘n fabel was.
Uitvoerig word nou alles opgesom wat op die opstandingsmôre plaasgevind het. Dan volg die vermelding van die verskyninge aan die dissipels, hoedat hulle sy hande en voete betas het (1 Joh 1:1). Hulle ongelowigheid dien dus tot versterking van ons geloof. Christus spreek met hulle oor die dinge van die koninkryk van God en vaar voor hulle oë op na die hemel (vgl. verder 1 Kor 15:6). Die sending van die Heilige Gees is ‘n onomstootlike bewys dat Hy lewe en met die hoogste mag beklee is. So verskyn Hy aan Paulus op weg na Damaskus. En so sien Stefanus Hom (Hand 7:55). Om so baie en onbetwyfelbare getuies nie te glo nie is blote hardnekkigheid.
4. As hy die opstanding wil bewys, leer Paulus ons om op God se almag te sien, “wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Hom kan onderwerp” (Fil 3:21). Dieselfde almag sien ons in die natuur. Deur ‘n bewys aan die natuur ontleen, bestraf Paulus die dwaasheid van hulle wat die opstanding loën. “Dwase mens! Wat jy saai, word nie {372} lewendig as dit nie gesterf het nie”, sê hy (1 Kor 15:36). In die gesaaide sien ons ‘n beeld van die opstanding. Die gewas word gebore uit die vertering. Die saak sal dan ook nie so moeilik wees om te glo nie, as ons maar let op die wonders wat ons in alle dele van die wêreld sien. Net die mens wat aan God se krag sy heerlikheid gee, is waarlik oortuig van die toekomstige opstanding. Met daardie vertroue het die gelowiges onder die ou bedeling hulleself getroos (Jes 26:19; Job 19:25). Christus leer dat die stem van die evangelie lewend maak, en voeg dan daaraan toe: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan …” (Joh 5:28 e.v.). Laat ons dan volgens die voorbeeld van Paulus nou reeds te midde van die stryd blymoedig triomfeer, omdat Hy wat die toekomende lewe belowe het, magtig is om te bewaar wat by Hom weggelê is. En laat ons roem dat die kroon van die regverdigheid vir ons weggelê is (2 Tim 4:8; vgl. ook 2 Thess 1:6).
5. Die verstand van die mens behoort hierdie saak onophoudelik te oordink. Maar asof dit opsetlik elke gedagte aan die opstanding wil vernietig, het dit die dood die end van alles genoem en die ondergang van die mens. Salomo spreek die algemeen aanvaarde mening uit as hy sê dat ‘n lewendige hond beter is as ‘n dooie leeu (Pred 9:4). Hierdie dwaasheid het selfs tot in die kerk deurgedring. Die Sadduseërs het openlik bely dat daar geen opstanding is nie. Hulle het selfs gesê dat die siel sterflik is. Tog het selfs die ongelowiges deur ‘n natuurlike ingewing ‘n beeld van die opstanding voor oë gehad. Want wat is die heilige gewoonte om te begrawe anders as ‘n pand van ‘n nuwe lewe? Dit het nie uit dwaling ontstaan nie. Die begrafnis het by die heilige vaders altyd sy gewyde karakter behou. En dit was God se wil dat dieselfde gewoonte by die heidene sou bly voortbestaan. Daarmee het God hulle ongelowigheid weerlê, deurdat almal bely het wat niemand geglo het nie.
Ook op ander maniere het Satan getrag om die leer te laat verdwyn. Daar is die Chiliaste, wat die ryk van Christus tot duisend jaar beperk. Hulle versinsel is egter te kinderagtig om dit nog te weerlê. Hulle wil hulle dwaling ‘n skyn van waarheid gee deur hulle op die openbaring van Johannes te beroep (20:4), maar ten onregte. Want in die getal van duisend jaar gaan dit nie oor die ewige geluksaligheid van die kerk nie maar net oor die verskillende beroeringe wat vir die kerk wag solank dit nog op aarde stry. Die hele Skrif getuig verder dat daar geen end sal wees aan die geluksaligheid van die uitverkorenes en aan die straf van die verworpenes nie. Hulle wat aan die kinders van God duisend jaar toeken om die toekomende lewe te geniet, bemerk nie watter groot smaad hulle op Christus en sy ryk laai nie. Want as hulle nie {373} met onsterflikheid beklee sal word nie, is Christus ook nie tot onsterflike heerlikheid opgeneem nie. As hulle geluksaligheid ‘n end het, is die koninkryk van Christus tydelik. Hulle is dus heeltemal onervare in goddelike sake, of hulle trag om die genade van God en die krag van Christus te laat wankel wat daarin vervul word dat die ewige lewe vernuut word nadat die sonde en die dood oorwin is.
Hoe dwaas hulle is wat vrees dat hulle aan God te groot wreedheid sal toeskrywe as hulle sê dat die verworpenes aan ewige strawwe oorgegee word, is selfs vir blindes duidelik. Die Here sou dan onregverdig wees as Hy hulle uit sy koninkryk verban wat hulle die koninkryk onwaardig gemaak het.
Maar hulle sonde is tydelik, werp hulle teë. Ek erken dit. Maar God se majesteit en sy geregtigheid, wat hulle deur hulle sonde geskend het, is ewig. Maar is die straf dan nie swaarder as die misdaad nie? vra hulle. Dit is egter ‘n laster wat ons nie mag verdra nie as die majesteit van God só gering geag word dat die ondergang van ‘n siel hoër geskat word as die smaad Hom aangedoen.
6. Behalwe hierdie dwaashede is daar nog twee ander. Sommige meen dat die hele mens doodgaan. Die siele sal dan saam met die liggame opstaan. Ander gee toe dat die siele onsterflik is, maar meen dat hulle met nuwe liggame beklee sal word. Daarmee word die opstanding van die vlees geloën.
Oor die eerste dwaasheid het ek alreeds iets gesê toe ek oor die skepping van die mens gespreek het. Ek wys die leser nou net daarop hoe beesagtig die dwaling is om van die siel wat na die beeld van God geskape is, ‘n verdwynende asempie te maak wat net in hierdie verganklike lewe die liggaam laat groei; om die tempel van die Heilige Gees te vernietig en ten slotte die deel van ons waarin die goddelikheid die duidelikste skitter en waarin die tekens van onsterflikheid kenbaar is, van hierdie gawe te beroof. Die toestand van die liggaam is op dié wyse beter as die van die siel.
Die hele Skrif leer ons anders. Dit vergelyk die liggaam met ‘n hut waaruit ons verhuis as ons sterf (vgl. 2 Petr 1:13; 2 Kor 5:1 e.v.). As die siele die liggame nie oorlewe nie, wat geniet dan die teenwoordigheid van God nadat hulle van die liggame geskei het? Die Skrif neem egter alle twyfel weg as dit ons leer dat ons by die geeste van die volmaakte regverdiges vergader word (Hebr 12:23), dit wil sê die heilige vaders. As die siele nie hulle wese behou en die geluksalige heerlikheid nie na die dood kon geniet nie, sou Christus nie vir die moordenaar gesê het nie: “Vandag sal jy met My in die Paradys wees” (Luk 23:43; vgl. ook Hand 7:59 en 1 Petr 2:25).
Om ondersoek in te stel na hulle toestand in die tussentyd is ongeoorloof en dien tot niks nie. Baie kwel hulle met die vrae of hulle ‘n sekere plek inneem en of hulle die hemelse heerlikheid {374} geniet. Maar dit is dwaas om verder te wil ondersoek as wat God ons toestaan om te weet. Die Skrif gaan nie verder as om te sê nie (Mat 5:8,26; Joh 12:32) dat Christus by hulle teenwoordig is en hulle in die Paradys opneem om hulle te troos, maar dat die siele van die verworpenes die kwellinge ly wat hulle verdien het.
Die kwessie van die plek is net so onbeduidend. Ons weet dat die siel nie dieselfde afmetinge as die liggaam het nie. Laat ons tevrede wees met die grense wat God vir ons gestel het. Die siele van die opregtes kom na die aardse stryd tot die salige rus, waar hulle met gelukkige blydskap die genieting van die beloofde heerlikheid verwag wat aanbreek as Christus verskyn. Die verworpenes deel in dieselfde lot wat Judas aan die duiwels toeskrywe (vs. 6).
7. Wonderlik is ook die dwaling van hulle wat leer dat die siele nie die liggame sal ontvang waarmee hulle nou beklee is nie, maar dat hulle ander, nuwe liggame sal ontvang. Hulle sê dit is nie paslik dat die onrein vlees sal opstaan nie Dit is net so goed asof hulle sê dat God nie kan reinig wat met die smet van die sonde besoedel is nie. Paulus beveel (2 Kor 7:1) dat die gelowiges hulle moet reinig van alle besmetting van die vlees en die gees. Daaruit volg die oordeel wat hy elders aankondig (2 Kor 5:10) dat elkeen sal ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. Daarmee stem ooreen die ander woord: “sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word” (2 Kor 4:10). Daarom bid hy ook elders (1 Thess 5:23) dat God sowel die liggame as die siele en die geeste onberispelik sal bewaar tot die dag van Christus. Dit is tog ongerymd dat die liggame wat God vir Hom as tempels gewy het, sonder hoop op die opstanding sal verteer. Is hulle nie ook lede van Christus nie (1 Kor 6:15)? Beveel God nie dat ons vir Hom alle dele daarvan sal heilig nie? Wil Hy nie dat ons met ons tong sy Naam sal verheerlik en heilige hande tot Hom sal ophef nie (1 Tim 2:8)? Watter dwaasheid is dit dan dat ‘n deel van die mens, wat deur die hemelse Regter so hoog geëer word, deur ‘n sterflike mens tot stof gemaak word sonder enige hoop op opstanding! Paulus sê so duidelik: “Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Kor 15:53). As God nuwe liggame maak, waar is dan die verandering van hoedanigheid? As hy gesê het dat ons vernuwe moet word, kan dit miskien nog misverstaan gewees het, maar nie nou dat hy die liggame as met die vinger aanwys nie. Hulle kan ook nie daaraan ontkom nie, dat hy in Rom 14:11 die woorde van Jesaja aanhaal: “So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie hom buig” (Jes 49:18), d.w.s. elkeen sal verplig wees om rekenskap te gee, wat nie kan gebeur as daar nuwe liggame voor die regterstoel gestel word nie. Vergelyk ook Dan 12:2. {375}
Ons verstand bevestig dit ook. Die dood is bykomstig. Dit het sy oorsprong in die val van die mens. Maar daarom moet die opstanding wat Christus bring, op dieselfde liggaam betrekking hê wat begin het om sterflik te wees. Opmerkenswaardig is ook die woorde van Christus in Mat 10:28. Daar sou geen rede wees om te vrees as die liggaam wat ons nou dra, nie aan straf onderhewig was nie. Vergelyk ook Joh 5:28. Sal ons sê dat die siele in die graftes rus om die stem van Christus te hoor? Is dit nie só dat die liggame op sy bevel die krag sal verkry wat hulle verloor het nie? En as ons met nuwe liggame begiftig word, waar is dan die gelykvormigheid van die Hoof en die lede? Het Christus met ‘n nuwe liggaam opgestaan? Nee. (Vgl. Joh 2:19). Dit sou vir ons tot geen voordeel gestrek het as die liggaam wat as soenoffer geoffer was, vernietig was nie. Dat baie heiliges na Christus se opstanding opgestaan het, is die pand van die laaste opstanding waarop ons hoop (Mat 27:52).
8. Die wortel van die saak is ongeloof. Dit lyk vir die mense ongelooflik dat ‘n lyk wat deur ontbinding lankal verteer is, tot sy vroeëre staat kan terugkeer. Maar die Heilige Gees vermaan ons op verskillende plekke in die Skrif om die opstanding van die vlees te verwag. Volgens Paulus (Kol 2:12) is die doop ‘n seël van die toekomstige opstanding. So vermaan die heilige nagmaal ons ook om dit te glo as ons die tekens van die geestelike genade met die mond ontvang. Die hele vermaning van Paulus om ons lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God te stel (Rom 6:13), sou ook van geen waarde wees as daaraan nie later toegevoeg word nie: “Hy wat Christus uit die dode opgewek het, sal ook julle sterflike liggame lewend maak” Rom 8:11). Wat sal dit help om die voete, die hande, die oë en die tonge tot gehoorsaamheid aan God te skik as hulle nie die vrug daarvan ontvang nie? Paulus sê ook dat die liggaam vir die Here is en die Here vir die liggaam en dat Hy wat Christus opgewek het, ons ook sal opwek (1 Kor 6:13,15,19). Nog duideliker is wat volg, nl. dat die liggame tempels is van die Heilige Gees en lede van Christus. Daarom kan ons ook roem dat ons as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam aan sy verheerlikte liggaam gelykvormig sal maak (Fil 3:21). Sal God die liggame wat nou ook in die stryd gely het, van die kroon berowe (Hand 14:22)?
In hierdie geloof het God ook die heilige vaders onder die wet geoefen. Waartoe anders het die gebruik om die dode te begrawe gedien as om hulle te onderwys dat daar vir die begrawe liggame ‘n nuwe lewe berei was? Hierdie gewoonte het nie uit bygelowigheid voortgekom nie. Ons sien dat die Heilige Gees die begrafnisse net so uitvoerig verhaal as die vernaamste verborgenhede van die geloof. Die seremonie was vir die vaders ‘n besondere hulpmiddel {376} vir hulle geloof. Abraham sou nie so sorgvuldig vir die begrafnis van sy vrou gesorg het (Gen 23:4,19) as hy nie daarvan oortuig was dat dit sy eie geloof en die van sy huisgesin sou versterk nie. Hoe dwaas sou ook die bevel van Jakob gewees het (Gen 47:30) as ons met ander, nuwe liggame opgewek word? Dan sou Christus se woorde (Joh 6:39) ook van geen krag wees nie. Dit is selfs vir kinders duidelik dat die woorde opstanding en opwek nie op iets kan sien wat nou eers geskape word nie. Dit geld ook van die woord slaap. Daarom word begraafplekke in Grieks ook slaapplekke (koimeteria) genoem.
Ek moet nou nog oor die opstanding iets sê. Dis ‘n verborgenheid (1 Kor 15:51). In die eerste plek moet ons vashou aan wat ek gesê het, nl. dat ons in dieselfde vlees sal opstaan wat ons nou dra, vir sover dit die substansie betref maar nie wat die hoedanigheid aangaan nie, soos die vlees van Christus dieselfde was wat geoffer was maar tog deur ander gawes uitgeblink het asof dit ‘n ander vlees was. Dit verduidelik Paulus met gewone voorbeelde (1 Kor 15:39). Die liggaam wat opstaan, sal baie heerliker wees. Die verganklike sal onverganklikheid aandoen, ens. Dit sal vir God, die Almagtige, ook nie moeilik wees om die aarde, die waters en die vuur te beveel om terug te gee wat hulle oënskynlik verteer het nie (Jes 26:21). Verder moet ons let op die onderskeid tussen hulle wat lankal oorlede is, en hulle wat op dié dag nog sal lewe (1 Kor 15:51). Dit sal vir die laasgenoemde nie nodig wees dat daar ‘n tydsruimte sal verloop tussen die dood en die begin van die nuwe lewe nie. Die basuin sal weerklink, die dode sal onverderflik opgewek word, en die lewendes sal deur ‘n plotselinge verandering omgevorm word tot dieselfde heerlikheid. Die wat dan lewe, sal die dode hoegenaamd nie voor wees nie (1 Thess 4:15); inteendeel, die wat in Christus ontslaap het, sal eerste opstaan. So troos Paulus die gelowiges wat moet sterwe.
9. Hier is egter ‘n moeiliker saak, naamlik deur watter reg die goddelose wat deur God vervloek is, deel het aan die opstanding, wat ‘n besondere weldaad van Christus is? Wat is minder gepas as dat die goddelose in hulle hardnekkige blindheid ook dit verkry wat die kinders van God alleen deur die geloof ontvang? Tog staan dit vas dat die een opstanding ‘n opstanding tot die verdoemenis sal wees en die ander ‘n opstanding tot die lewe (Mat 25:32).
Dit behoort vir ons nie so ongewoon te lyk nie. In die daelikse lewe sien ons iets soortgelyks. Ons weet dat ons in Adam beroof is van die reg om op aarde te lewe of om die voedsel te gebruik wat uit die aarde voortkom. Waarom laat God dan sy son opgaan oor slegtes en goeies (Mat 5:45) en skenk Hy in sy milddadigheid selfs gedurig oorvloed van spys aan die goddelose? Ons merk hieruit dat ook die goddelose mense deel het aan die dinge wat alleen aan {377} Christus en sy gelowiges toekom. Nie dat dit hulle wettige besitting sal wees nie maar sodat hulle des te minder te verontskuldig sal wees. Die voorspoed wat hulle geniet, oortref soms selfs die seëninge van die gelowiges. Dit verswaar egter hulle oordeel. As hierteen ingebring word dat die opstanding nie vergelyk kan word met aardse weldade, wat verganklik is nie, antwoord ek daarop dat die goddelose die verderf van die duiwel verdien het omdat hulle van God, die Bron van die lewe, vervreemd is. Nogtans is deur die wonderbare raad van God die middetoestand gevind dat hulle buite die lewe in die dood sou lewe. Daarom is dit nie ongerymd as die goddelose ook aan die opstanding deel het nie. Daardeur word hulle teen hulle wil voor die regterstoel van Christus getrek, wat hulle nou weier om as hulle Meester en Leraar te gehoorsaam. Maar die opstanding en die hemelse heerlikheid is die deel alleen van die kinders van God.
10. Dan sal die profesie ten volle vervul wees dat die dood verslind is in die oorwinning (1 Kor 15:54). Daarom moet ons altyd dink aan die ewige geluksaligheid wat die doel van die opstanding is. Dis so ‘n groot saligheid dat ons nog nie die geringste deel daarvan aangestip het nie, al het ons alles daaroor gesê wat die mensetong kan sê. Want al hoor ons dat die koninkryk van God vol glans en vreugde, geluksaligheid en heerlikheid is, gaan die dinge tog ons begripsvermoë ver te bowe. Ons sal sy heerlikheid van aangesig tot aangesig aanskou. “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is”, sê Johannes (1 Joh 3:2). Daarom het die profete dit ook altyd onder aardse beelde afgebeeld, omdat die geluksaligheid, soos dit is, met geen woorde beskryf kan word nie.
Omdat die heerlikheid egter ‘n verlange in ons opwek, moet ons ons altyd met hierdie oordenking besig hou dat hulle wat die volmaakte geluksaligheid najaag, niks bokant God mag najaag nie, soos die Skrif ons op verskillende plekke leer (Gen 15:1; Ps 16:5; Ps 17:15). Petrus sê (2 Petr 1:4) dat die gelowiges hiertoe geroep is om die goddelike natuur deelagtig te word. Hoe so? Omdat Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo (2 Thess 1:10). As die Here die uitverkorenes in sy heerlikheid, krag en regverdigheid sal laat deel, ja, Homself aan hulle te geniet sal gee en in ‘n mate één met hulle sal word, dan is alle geluk in dié weldaad vervat. En as ons in die oordenking daarvan ver gevorder het, laat ons dan bedink dat ons nog maar aan die begin staan. Daarom moet ons in hierdie saak soberheid betrag. Ons voel soms hoe ons geprikkel word deur ‘n begeerte om meer te weet as wat geoorloof is. Dan kom daar by ons nietige en skadelike vrae op. Wat die Skrif leer, moet vir ons voldoende {378} wees. God deel sy gawes op verskillende maniere uit op aarde. Só sal die gelowiges in die hemel ook nie dieselfde maat van heerlikheid besit wanneer God sy gawes bekroon nie. Op almal is nie toepaslik wat Christus vir sy apostels sê nie (Mat 19:28). Paulus is oortuig daarvan dat vir hom ‘n besondere kroon weggelê is in ooreenstemming met sy arbeid. Christus sê dat die vrug van die apostelskap in die hemel verborge is, as Hy die voortreflikheid daarvan wil aanwys (vgl. ook Dan 12:3). As ons die Skrif aandagtig lees, sien ons dat dit nie net die ewige lewe aan die gelowiges belowe nie maar aan elkeen ‘n besondere loon (2 Tim 4:14; Mat 19:29).
11. Met spitsvondige en nuuskierige vrae hou ek my nie op, en ek beantwoord hulle ook nie. Niksbetekenende mense ondersoek hoe groot die verskil sal wees tussen die profete en die apostels, tussen die apostels en die martelaars, tussen die getroudes en die ongetroudes. Daar is geen hoek van die hemel wat hulle nie deursoek nie. Hulle vra ook waartoe die vernuwing dien, aangesien die kinders van God geen enkele ding nodig sal hê nie maar soos die engele sal wees. So is daar nog baie ander nuttelose vrae wat hulle stel, en kom daar geen end aan die twiste nie. Laat ons tevrede wees daarmee dat ons nou deur ‘n spieël in ‘n raaisel sien, totdat ons eenmaal sal sien van aangesig tot aangesig.
12. Die gedugte wraak van God teen die verworpenes kan op geen enkele wyse voldoende beskrywe word nie. Daarom beeld die Skrif hulle lyding vir ons uit met woorde soos duisternis, geween, knersing van die tande, onuitbluslike vuur en die wurm wat nie sterf nie (Mat 8:12; Mat 22:13; Mark 9:43; Jes 66:24; Jes 30:33). Deur so te spreek wil die Heilige Gees ons met vrees en skrik vervul. Ons word daardeur gehelp om enigsins iets te verstaan van die rampsalige lot van die verlorenes. Dit is rampsalig om van elke gemeenskap met God vervreemd te word, en dan ook nog te ondervind dat sy majesteit só teen ons is dat ons nie daaraan kan ontkom nie. Sy toorn is soos ‘n vuur wat alles verslind. Die apostel sê dat hulle as straf ‘n ewige verderf sal ondergaan, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte (2 Thess 1:9). Hulle het geen rus nie maar voel dat hulle deur God as vyand verskeur word. Hulle sidder vir sy bliksems en word deur die krag van sy hand vermorsel. Hoe vreeslik is dit om so deur God vir ewig beleër te word! Deur hierdie waarheid wil God sy dienaars onder die kruis aanspoor om hulle te haas totdat Hy alles sal wees in almal. {379}
{380}
VIERDE BOEK: Die uiterlike hulpmiddels waardeur God ons roep tot die gemeenskap met Christus en ons daarin bewaar.
{381}
{382}
HOOFSTUK I. Die ware kerk waarmee ons die gemeenskap moet onderhou, omdat dit die moeder van al die gelowiges is
1. In die voorgaande boek is uiteengesit dat ons deur die geloof deel verkry aan Christus en die heil wat Hy bring. Ons verstand is egter so traag en verduister dat ons uiterlike hulpmiddels nodig het waardeur die geloof in ons gewerk en vermeerder kan word sodat dit tot die end toe kan volhard. Daarom het God ons die hulpmiddels gegee en die prediking van die evangelie as ‘n skat vir sy kerk om te bewaar. Hy het herders en leraars aangestel om sy volk te onderwys (Ef 4:11). En Hy het hulle met gesag beklee. Met één woord: Hy het niks nagelaat wat vir die heilige eenstemmigheid van die geloof en die goeie orde nie bevorderlik kan wees nie. Insonderheid het Hy die sakramente ingestel wat baie nuttige hulpmiddels is om die geloof te voed en te versterk.
Daarom moet ons nou handel oor die kerk, oor sy regering, orde en mag, asook oor die sakramente en ten laaste oor die burgerlike orde. Ook sal ons die gelowige lesers vrywaar teen die bederf waarmee Satan in die pousdom alles vervals het wat God tot ons saligheid verorden het.
Ek begin dan met die kerk. God wil dat sy kinders in die skoot daarvan versamel sal word, om nie net deur haar moeite en diens gevoed te word solank hulle nog suigelinge en kinders is nie, maar ook om deur haar moederlike sorg geregeer te word totdat hulle opgegroei het en die einddoel van die geloof bereik het. Want hierdie twee dinge wat God saamgevoeg het, mag nie van mekaar geskei word nie, naamlik dat wie Hom as Vader het die kerk as moeder het. En dit nie net onder die wet nie maar ook na die koms van Christus, soos Paulus getuig (Gal 4:26).
2. As ons in die Artikels van die Geloof bely dat ons ‘n kerk glo, dan het dit nie net betrekking op die sigbare kerk, waaroor ons nou handel nie, maar sluit dit al die uitverkorenes van God in, ook die wat reeds ontslaap het. Daarom word ook die woord glo gebruik, omdat dikwels geen onderskeid tussen die kinders van God en die onheilige mense gesien kan word nie.
Ons glo egter nie in die kerk nie, net so min as wat ons in die vergewing van die sondes of in die opstanding van die vlees glo. Ons glo alleen in God, omdat ons hart op Hom as die Waaragtige steun en ons vertroue op Hom rus. Dit is egter nie op die kerk van toepassing nie. Die bedoeling is dat ons sal weet dat die genade {383} van Christus nie uitgeblus en sy bloed nie onvrugbaar gemaak kan word nie maar dat dit altyd vrug dra.
Ons moet ook let op die uitverkiesing deur God en sy inwendige roeping. Hy alleen weet wie Hom toebehoort, en Hy hou hulle onder sy seël beslote (2 Tim 2:19).
Dis ook nie genoeg as ons in ons gedagtes aan ‘n skare van uitverkorenes dink nie. Ons moet ook aan so ‘n eenheid van die kerk dink, waarin ons volgens ons oortuiging waarlik ingeplant is. Want as ons nie saam met die ander lede onder Christus as ons Hoof verenig is nie, het ons geen hoop op die toekomstige erfenis nie. Daarom word die kerk ook katoliek,
d.w.s. algemeen, genoem, omdat ons nie twee of drie kerke kan hê sonder om Christus te verskeur nie — iets wat onmoontlik is.
Al die uitverkorenes van God is in Christus só met mekaar verbind dat hulle saam één liggaam vorm. Hulle lewe deur één geloof, hoop en liefde en deur dieselfde Gees van God, geroep om die ewige lewe te beërwe maar bowenal tot die gemeenskap met God en Christus. Al roep die verwoesting wat ons oral sien dit uit dat daar niks van die kerk oorgebly het nie, tog is Christus se dood vrugbaar en bewaar God sy kerk op wonderbare wyse (1 Kon 19:18).
3. Die artikel van die geloof het in sekere opsig ook betrekking op die sigbare kerk, sodat elkeen van ons in broederlike eensgesindheid met al die kinders van God sal lewe, aan die kerk die gesag sal toeken wat dit toekom, en hom, met een woord, sal gedra, soos ‘n skaap van die kudde. Daarom word daarby gevoeg: “die gemeenskap van die heiliges”. Dit sê hoedanig die kerk is. Die gelowiges word tot die gemeenskap met Christus onder hierdie bepaling vergader, dat hulle al die weldade wat God hulle verleen, aan mekaar sal meedeel. Daardeur word die verskeidenheid van die genadegawes nie tot niet gemaak en ook die burgerlike orde nie omvergewerp nie. Gelowiges is egter één van hart en siel (Hand 4:32; Ef 4:4). En omdat hulle glo dat God hulle gemeenskaplike Vader en Christus hulle gemeenskaplike Hoof is, daarom deel hulle hulle gawes wederkerig met mekaar.
Dit is vir ons van groet belang om te weet watter vrug ons hieruit verkry. Want ons glo aan ‘n kerk met die bepaling daarby dat ons vas oortuig is dat ons lidmate daarvan is. Só alleen rus ons saligheid op so ‘n vaste grondslag dat dit nie kan val nie.
In die eerste plek staan die kerk vas deur die verkiesing van God en kan dit alleen deur sy voorsienigheid wissel of ten onder gaan. Vervolgens is dit enigsins verbind met die vastigheid van Christus, wat nie sal toelaat dat sy gelowiges van Hom losgeruk sal word nie. Daarby kom dat ons daarvan seker is dat die waarheid vir ons sal bly vas staan solank ons in die boesem van die kerk bly. Ten slotte is hierdie beloftes ons deel: “Op die berg Sion sal daar {384} ontkoming wees” (Joël 2:32; Obadja 1:17), en: “God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie” (Ps 46:6). Ook in die woord gemeenskap lê daar baie vertroosting. Daardeur word ons hoop bevestig, omdat ons weet dat alles wat God aan sy gelowiges gee, ons ook toekom. Deelgenootskap aan die kerk hou ons in die gemeenskap met God.
4. Ons handel oor die sigbare kerk. Laat ons uit die naam “moeder” leer hoe nuttig en noodsaaklik dit is om haar te ken. Daar is vir ons geen ingang tot die lewe as die kerk ons nie in haar skoot ontvang en baar en aan haar borste voed en ons eindelik onder haar beskerming neem totdat ons na hierdie lewe aan die engele gelyk sal wees nie. Want ons swakheid laat nie toe dat ons uit die skool ontslaan word voordat ons nie ons lewe lank leerlinge was nie. Daarby kom nog dat buite haar skoot geen vergewing van die sondes of saligheid verwag kan word nie (Jes 37:32; vgl. ook Joël 2:32; Eseg 13:9). In Ps 106:4 word God se vaderlike guns tot sy kudde beperk, sodat afval van die kerk altyd die dood as gevolg het.
5. Maar laat ons voortgaan. Paulus skrywe dat Christus gegee het “sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Ef 4:11-13). Hier sien ons hoedat God, wat sy gelowiges in ‘n oomblik kon volmaak, tog wil dat hulle tot die manlike leeftyd sal opgroei deur die opvoeding van die kerk. Die wyse waarop dit geskied, word uitgedruk. Aan die herders word die prediking van die hemelse leer opgelê. En almal moet met ‘n sagmoedige en leersame gees hulle aan die herders toevertrou om hulle deur hulle te laat regeer. Só het Jesaja van ouds al die koninkryk van Christus geteken (Jes 59:21). Daaruit volg dat almal wat die geestelike spys van die siel versmaad wat God deur die kerk aan hulle gee, verdien om van honger en gebrek om te kom. God gee ons die geloof in die hart maar deur middel van die evangelie (Rom 10:17). Daarom het Hy voorheen bepaal dat daar heilige samekomste by die heiligdom gehou sou word, sodat die leer wat deur die priesters verkondig is, die eenheid van die geloof sou voed. En as die tempel die heilige woonplek van God genoem word (Ps 132:14), geskied dit om waardering, liefde, eerbied vir die hemelse leer in te boesem en om te verhoed dat ons op die nietige mens sal sien. Ons ontvang die onwaardeerbare skat in erdekruike. God is egter die Outeur van die instelling en wil dat ons Hom as sodanig sal erken. Daarom het Hy voorheen aan sy volk belowe dat hulle nooit sonder profete sal wees nie (Deut 18:10 e.v.). {385} So het Hy in die ou tyd sy volk nie deur engele nie maar deur leraars laat onderrig. En so wil Hy ons vandag nog onderrig. En soos Hy vroeër nie tevrede was om net die wet aan die volk te gee nie maar ook priesters gegee het om dit uit te lê, so wil Hy nou ook dat ons nie net sal lees nie, maar Hy stel ook meesters oor ons aan om ons te help. Dit is vir ons in tweërlei opsig nuttig. Aan die een kant beproef God daardeur ons gehoorsaamheid. As ons sy dienaars hoor spreek, is dit of ons Hom self hoor spreek. Aan die ander kant kom Hy ons swakheid te hulp deurdat Hy ons op menslike wyse toespreek om ons tot Hom te lok. Hulle wat meen dat die gesag van die leer vernietig word omdat ‘n nietige mens dit bedien, verraai hulle ondankbaarheid. Dis ‘n besondere voorreg dat God die monde en tonge van mense heilig sodat sy stem daarin gehoor sal word. Laat ons daarom gehoorsaam die leer van die saligheid omhels, want ofskoon Hy nie aan die uiterlike middels gebind is nie, het Hy ons nogtans daaraan gebind. Baie maak deur trotsheid of naywer hulleself wys dat hulle voldoende kan vorder as hulle self die Skrif lees en oordink. Hulle verwaarloos die samekomste van die gemeente en ag die prediking oorbodig. Hulle verbreek die heilige band van eenheid en verval as straf in allerhande dwalinge. Ons moet daarom hierdie oefening van die vroomheid gebruik omdat God dit noodsaaklik ag. Daarom is die afvalliges verfoeilik, omdat hulle daarop uit is om die kerk te skeur. Ons hou ons aan wat Paulus leer, nl. dat die kerk alleen deur die prediking van die Woord gebou word en dat die heiliges onderling verbind word as hulle eendragtig leer en die orde van die kerk onderhou wat God voorgeskrywe het. Daarom kla Dawid ook dat hy deur die wreedheid van die vyand verhinder word om die tabernakel te besoek, omdat daar niks is wat vir die gelowiges meer waarde het nie as hierdie hulpmiddel waardeur God sy gelowiges opbou (Ps 84).
6. Oor die kragdadigheid van die bediening heers daar tans groot verskil. Sommige vergroot die waarde daarvan bo die maat. Ander weer beweer dat ten onregte aan ‘n sterflike mens toegeskrywe word wat eintlik die werk van die Heilige Gees is. Wat hulle aanvoer, kan maklik opgelos word. Ons moet noukeurig let op die plekke waarin God, die Outeur van die prediking, sy Heilige Gees daaraan verbind en vrug belowe, en aan die ander kant die plekke waarin Hy geen gebruik van uiterlike hulpmiddels maak nie en sowel die begin van die geloof as sy verdere voortgang aan Homself toeken. Christus sê dat Hy sy apostels aangestel het om vrug te gaan dra (Joh 15:16). Wat die vrug is, sê Petrus. Dit is dat ons wedergebore word uit onverganklike saad (1 Petr 1:23). Daarom roem Paulus dat hy deur die evangelie die vader van die Korinthiërs geword het (1 Kor 4:15) en dat hulle die seël op sy {386} apostelskap is (1 Kor 9:2; vgl. ook 1 Kor 2:4; 2 Kor 3:6; Gal 3:2). Op verskillende plekke maak hy homself nie net tot ‘n medewerker van God nie maar eien hy hom ook die rol toe dat hy die saligheid aanbring. Maar dit het hy nooit gesê met die bedoeling om aan homself iets, al was dit ook hoe weinig, sonder God toe te skrywe nie. Want hy sê ook op ‘n ander plek: “Ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is” (1 Kor 15:10; vgl. ook 1 Kor 3:7). Ons moet ook die uitsprake onthou waarin God aan Homself die verligting van die verstand en die vernuwing van die hart toeskryf.
7. Daar is dus die onsigbare kerk wat alleen by God bekend is. Dit bestaan uit al die heiliges wat van die begin van die wêreld af en nog sal lewe. Maar die Skrif dui ook met die naam kerk aan die hele menigte van mense wat oor die hele aarde versprei is en wat bely dat hulle een God en Christus dien. Hulle is deur die doop in sy verbond ingelyf. Deur deelneming aan die nagmaal betuig hulle dat hulle één is in die ware leer en die liefde. Hulle besit dieselfde Woord en onderhou die predikamp.
Maar in hierdie kerk is daar baie huigelaars. Hulle besit niks van Christus as net die naam en die skyn nie. Daar is eergieriges, hebsugtiges, afgunstiges en kwaadsprekers. Sommige voer ‘n onrein lewe. Hulle almal word ‘n tyd lank verdra, omdat hulle nie deur ‘n wettige oordeel oortuig kan word nie of omdat die tug nie streng gehandhaaf word nie. Soos dit nodig is dat ons sal glo dat daar ‘n onsigbare kerk is wat alleen by God bekend is, so gebied God ons ook om hierdie sigbare kerk hoog te ag en die gemeenskap daarmee te onderhou.
8. Daarom het die Here die kerk deur bepaalde merktekens aangewys. En dit is ‘n besondere voorreg om van God self te verneem wie Hom toebehoort. Volgens die oordeel van die liefde moet ons almal vir lidmate van die kerk hou wat deur belydenis van die geloof, deur ‘n voorbeeldige lewenswandel en deur deelgenootskap aan die sakramente dieselfde God en Christus saam met ons bely Maar die kennis van die liggaam van die kerk self het God met bepaalde kentekens aangewys.
9. Ons ken die kerk uit die volgende. Oral waar Gods Woord suiwer verkondig en aangehoor en die sakramente volgens die instelling van Christus bedien word, is daar ‘n kerk van God. God se belofte kan nie bedrieg nie: “Waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde” (Mat 18:20).
Om die hoofsaak goed te begryp vat ons dit dus só saam: die algemene kerk is ‘n menigte wat uit allerhande volke versamel is. Hulle is deur afstande van mekaar verwyder, maar stem tog saam in die een waarheid van die goddelike leer en is deur die band van dieselfde godsdiens aan mekaar verbind. Onder hierdie algemene {387} kerk is die afsonderlike kerke oor die stede en dorpe versprei, maar só dat elkeen met reg die naam en die gesag van ‘n kerk besit. Só hou ons vas aan die eenheid van die algemene kerk en beroof aan die ander kant nie die afsonderlike kerke van hulle gesag nie.
10. Ons het die verkondiging van die Woord en die onderhouding van die sakramente as merktekens van die kerk genoem. Die twee dra altyd vrug. En niemand sal ongestraf die gesag van die kerk verag, sy vermaninge verwerp of sy bestrawwing bespot nie. Nog minder sal iemand hom ongestraf van die kerk afskei of sy eenheid verbreek nie. Want die Here heg aan die gemeenskap met die kerk so ‘n groot waarde dat Hy hom vir ‘n verlater van die godsdiens hou wat hom afsydig hou van elke vergadering wat die ware bediening van die Woord en sakramente onderhou. As die gesag van die kerk geskend word, reken Hy dit as ‘n skending van sy gesag. Nie verniet word die kerk die pilaar en grondslag van die waarheid genoem nie (1 Tim 3:15). Met hierdie woorde gee Paulus te kenne dat dit die getroue bewaker van die waarheid van God op aarde is. Deur sy werksaamheid bewaar God die suiwere prediking van die Woord en betoon Hy Hom jeens ons ‘n huisvader wat ons met geestelike spyse voed en sorg vir alles wat nuttig is vir ons saligheid. Vergelyk ook Ef 1:23; Ef 5:27. Hieruit volg dat dit ‘n verloëning van God en Christus is om die gemeenskap met die kerk op te sê. Dis ‘n trouelose skending van die huwelik wat die Seun van God Hom verwerdig het om met ons aan te gaan. Wie die ondergang van die waarheid van God beraam deur hom van die kerk af te skei, verdien dat God hom met die bliksems van sy toorn verpletter.
11. Laat ons daarom die merktekens in ons harte ingedruk standvastig bewaar. Want daar is niks waarop Satan hom meer toelê as om een van hierdie merktekens of altwee weg te neem nie. Deur vernietiging van die merktekens wil hy die regte onderskeiding van die kerk wegneem. Deur dit in veragting te bring wil hy ons daarvan laat afval. Christus het daarin die diens van Woord en sakramente verorden. As hulle weggeneem word, hou die opbouing van die kerk op. Selfs die gedagte om ons van die vergadering van die gelowiges los te maak is ‘n dodelike versoeking. Ons moet ons ook nie deur die naam “kerk” laat bedrieg nie maar aan hierdie kenmerke elke vergadering toets wat op die naam “kerk” aanspraak maak.
12. Ons sê dat die suiwere bediening van die Woord en sakramente ‘n pand en kenteken van die ware kerk is. Dit beteken dat die kerk nooit verwerp mag word solank dit daarby bly nie, ook al is dit origens vol foute. Daar kan selfs in die bediening van die Woord of sakramente miskien een of ander fout insluip. En dan hoef dit ons nog nie van die gemeenskap van die kerk te vervreemd {388} nie. Ek bedoel dit dat daar hoofsake van die leer is wat vas moet bly staan, soos bv. dat daar een God is, dat Christus God is en die Seun van God, dat ons saligheid in die barmhartigheid van God geleë is, ens. Maar daar is ander waaroor daar verskil tussen die kerke is maar wat tog die eenheid van die geloof nie verskeur nie. Dit is middelmatige sake. Dit is wel ‘n groot saak as ons in alles eensgesind is. Tog is daar niemand wie se verstand nie verduister is nie. Daarom moet ons òf geen kerk oorhou nie òf die misverstand vergewe in die sake wat nie die hoofsaak van die godsdiens raak of die saligheid skade aandoen nie.
Hiermee bedoel ek nie om soveel as die allergeringste dwaling in beskerming te neem nie. Ek bedoel alleen dat ons nie ter wille van klein verskille die kerk moet verlaat nie, as origens die gesonde leer ongeskonde bewaar word en wanneer die sakramente bedien word soos deur die Here ingestel. As ons maar intussen ons bes doen om te verbeter wat ons mishaag, vervul ons daarmee ons skuldige plig. Dit is die roeping van elke lidmaat van die kerk om die algemene opbouing daarvan te bevorder met die gawes wat God hom gegee het. Maar dit moet betaamlik en ordelik geskied. Dit wil sê, ons moenie die gemeenskap met die kerk verbreek òf die vrede en die tug versteur as ons daarin bly nie.
13. Maar ons toegeeflikheid om die onvolmaaktheid van die lewe te verdra moet nog verder gaan. Daar was altyd mense wat vervul was met ‘n valse waan van volkome heiligheid en wat die omgang vermy het van mense in wie hulle nog iets mensliks gesien het. So oudtyds die Donatiste en teenswoordige sommige Wederdopers. Daar is ander wat sondig deur ‘n ywer sonder verstand. As hulle bemerk dat die lewe van die aan wie die evangelie verkondig is, nie by die leer pas nie, besluit hulle dadelik dat daar geen kerk is nie. Dit is seker ‘n geregverdigde aanstoot wat ons gee. Die Here sal dit ook nie ongestraf laat bly nie, soos Hy alreeds bewys het. En wee ons as ons deur ongebondenheid aanleiding gee dat die swak gewetens gewond word. Maar hulle sondig weer op ‘n ander manier. Hulle meen dat daar van geen kerk sprake kan wees as die lidmate nie volmaak heilig lewe nie. Nou begaan hulle die fout dat hulle uit haat teen die sonde die wettige kerk verlaat asof dit ‘n versameling van goddelose is. Hulle voer aan dat die kerk van Christus heilig is, maar hulle vergeet wat Hy self ons aangaande sy kerk in die twee bekende gelykenisse leer (Mat 13:24 en 47). Die suiwering geskied eers aan die end. Hulle vergeet dat die kerk ‘n dorsvloer is waarop die koring onder die kaf verborge is. Hulle soek dus tevergeefs na ‘n kerk wat geen sondevlekke het nie.
14. Maar dit kan tog nie geduld word dat die sonde soos ‘n pes alom woed nie, sê hulle. Maar ook in hierdie geval het ons ‘n uitspraak van die apostel. In die gemeente van Korinthe was {389} daar nie net enkele sondaars nie maar baie. Dit was ook nie ligte afdwalinge nie maar gruwelike skandalige dinge. Nie net die sedes was bedorwe nie maar ook die leer. Wat doen die apostel nou? Skei hy hom van hulle af? Of verban hy hulle uit die ryk van Christus? Hy doen dit nie maar erken hulle as ‘n kerk van Christus en preek vir hulle.
As daar onder die Korinthiërs nog ‘n kerk is waar soveel wanpraktyke heers, waar ‘n skandelike daad goedgekeur word wat selfs in die oë van die heidene verfoeilik is, waar sommige die opstanding van die dode geloën het, waarmee die evangelie staan of val, en dit omdat die diens van Woord en sakramente daar nog nie verwerp was nie — wie sal dan die naam “kerk” durf ontsê aan hulle aan wie nie ‘n tiende deel van al die misdade ten laste gelê kan word nie? En wat sou hierdie yweraars met die Galasiërs gedoen het, wat byna van die evangelie afvallig geword het maar by wie dieselfde apostel nog kerke vind?
15. Hulle sê dat die apostel die Korinthiërs ernstig vermaan omdat hulle ‘n man wat so ‘n skandelike daad begaan het, in hulle gemeenskap verdra. Hulle beroep hulle ook op sy bevel: “Met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie” (1 Kor 5:2,11). As dit nie eens geoorloof is om gewone brood met so iemand saam te eet nie, sê hulle, hoeveel te minder mag ons dan die brood van die Here saam met hom eet?
Ek erken dat dit ‘n groot skande is as swyne en honde ‘n plek onder die kinders van God het. En nog skandeliker is dit as die liggaam van die Here aan hulle gegee word. Maar as dit met die kerke reg gesteld is, sal hulle die kwaaddoeners nie in hulle midde verdra nie en ook nie waardiges en onwaardiges sonder onderskeid aan die tafel van die Here toelaat nie.. Maar omdat die herders nie altyd so nougeset waak nie, soms ook te toegeeflik is of verhinder word om so gestreng te wees soos dit behoort te wees, gebeur dit dat die sondaars nie altyd uit die vergadering van die gelowiges verwyder word nie. Ek erken dat dit verkeerd is en wil dit nie goedpraat nie. Maar al is die kerk ook nalatig in die vervulling van sy plig, dan nog mag nie elke lidmaat hom daarvan afskei nie. Ek erken dat dit die roeping van ‘n gelowige is om geen persoonlike omgang met die goddelose te hê nie, maar dit is iets anders as om uit haat teenoor hulle die gemeenskap met die kerk te verbreek.
Hulle is in die opsig ook baie strenger as Paulus. Want as hy ons vermaan om die nagmaal van die Here reg te gebruik, eis hy nie dat die een die ander een of die hele gemeente moet ondersoek nie maar — dat elkeen homself moet beproef (1 Kor 11:28). Dit kan ons nie skade aandoen as onwaardiges hulle by ons indring nie. Dit is nie die roeping van elkeen afsonderlik om te oordeel {390} wie ontvang mag word en wie nie, maar dis die roeping van die gemeente, soos later behandel sal word.
16. Uit onberade ywer vir die geregtigheid oorkom hierdie versoeking soms selfs goeie lidmate. Tog sal ons meestal vind dat die alte grote gestrengheid meer voortspruit uit trotsheid en ‘n valse inbeelding van heiligheid as uit ware heiligheid of ‘n begeerte daarna. En so het hulle meesal geen ander rede nie as om te bewys dat hulle beter as ander is. Augustinus gee aan die godvresende mense die raad dat hulle met ontferming sal verbeter wat hulle kan, en geduldig sal verdra wat hulle nie kan verbeter nie. Hulle moet met liefde sug en treur totdat God dit verbeter of straf of in die oestyd die onkruid uitroei en die kaf uitwan. Laat ons ons nie van die gemeenskap van die heiliges afskei nie maar bedink dat daar in so ‘n groot menigte baie is wat in God se oë waarlik heilig en onskuldig is, hoewel hulle vir ons verborge is. Laat ons bedink dat daar onder hulle wat skynbaar siek is, baie is wat geen behae in hulle gebreke het nie maar in die vrees van die Here die heiligheid najaag. Laat ons tog nie ‘n mens veroordeel omdat hy eenmaal geval het nie, aangesien selfs die allerheiligstes ook soms swaar sondig. Laat ons bedink dat die bediening van Woord en sakramente so ‘n krag besit om die kerk te vergader dat dit nie deur die sonde van goddelose mense tot niet gemaak kan word nie. En laat ons bedink as ons die kerk beoordeel dat die oordeel van God meer beteken as die van mense.
17. Hulle sê dat die kerk tog nie sonder rede heilig genoem word nie. Laat ons dit nie so verstaan dat dit ‘n kerk beteken wat in alle opsigte volmaak is nie. Dan sal ons geen enkele kerk oorhou nie. Paulus sê dat “Christus Homself vir die kerk oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kan stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef 5:25 e.v.). Aan die ander kant is dit ook waar dat die Here daeliks werksaam is om die rimpels uit te stryk en die vlekke van die kerk af te was. Daaruit volg dat die heiligheid van die kerk nog nie voltooi is nie. Dit vorder daeliks in heiligmaking maar het die eindpaal van volmaaktheid nog nie bereik nie. As die profete voorspel dat Jerusalem en die tempel heilig sal wees (Joël 3:17; Jes 35:8), beteken dit nie dat geen sondevlekke die lidmate van die kerk meer sal aanklewe nie maar dat God hulle die heiligheid toereken waarna hulle jaag maar wat hulle nog nie bereik het nie. Van die skepping van die wêreld af was daar geen tyd waarin God nie sy kerk gehad het nie. En tot aan die voleinding sal daar ook nie so ‘n tyd wees nie. Altyd is Hy met sy barmhartigheid werksaam in die verdorwe menslike geslag. Dit het Hy met vaste beloftes betuig (Ps 89:4; 132:13; Jer 31:35). {391}
18. Christus self, die apostels en byna al die profete gee ons in hierdie opsig ‘n voorbeeld. Vreeslik is die beskrywing wat Jesaja, Jeremia en ander profete van die kerk in Jerusalem gee. Onder die volk, die owerheid en die priesters was dit so bedorwe dat Jesaja nie aarsel om Jerusalem op een lyn met Sodom en Gomorra te stel nie (Jes 1:10). Die diens van die Here was in veragting en besmet. Diefstal, troueloosheid, moord en ander misdade het oral voorgekom. Tog stig die profete nie nuwe kerke en rig ook nie nuwe altare op nie. Hulle het bely dat die Here aan Israel sy Woord in bewaring gegee en daar sy diens ingestel het. Hulle een groot begeerte was om die eenheid van die kerk te bewaar. Ons mag ons dus nie dadelik aan die gemeenskap van die kerk onttrek omdat almal se lewe nie met ons opvattings of met die Christelike belydenis ooreenkom nie.
19. Hoe was verder die toestand in die dae van Christus en die apostels? Die goddeloosheid van die Fariseërs en die ongebondenheid van ander het hulle nie verhinder om dieselfde heilige handelinge as die volk te gebruik en met hulle in dieselfde tempel vir die openbare uitoefening van die godsdiens saam te kom nie. As ons ons nie deur die voorbeeld van die profete en die apostels laat beweeg nie, laat ons ons ten minste by die gesag van Christus neerlê. Cyprianus sê: “Al word daar ook onkruid in die kerk gesien … is dit nog geen rede vir ons om dit te verlaat nie. Ons moet alleen arbei om self graan te wees, en ons daarop toelê om ‘n goue of silwerwerktuig te wees. Om die erdewerktuie te verbreek is die werk van die Here, aan wie ‘n ysterroede gegee is. Niemand mag homself die bevoegdheid toeëien om die dorsvloer te suiwer en die onkruid deur sy menslike oordeel uit te ruk nie”.
Laat ons hierdie twee dinge vashou: In die eerste plek het hy geen enkele verontskuldiging wat uit eie beweging die gemeenskap met die kerk verbreek waar Gods Woord verkondig en die sakramente bedien word nie. En ten tweede mag die gebreke van sommige of van baie ons nie verhinder om ons geloof te bely deur die seremonies wat God ingestel het nie. Die opregte gewete word nie deur die onwaardigheid van ‘n ander gekwes nie, al is hy ook ‘n leraar. En die sakramente is vir die opregte nie minder heilsaam omdat hulle ook deur ‘n onreine gebruik word nie.
20. Hulle eiesinnigheid en hoogmoed gaan nog verder. Hulle erken geen kerk as dit nie selfs van die allergeringste smette gesuiwer is nie. En hulle is vertoorn op die leraars wat die gelowiges vermaan om die volmaaktheid na te jaag maar hulle tog leer om hulle hele lewe lank onder die las van die sondes te sug en hulle toevlug tot die vergewing daarvan te neem. Hulle beweer dat op die wyse die mense van die volmaaktheid weggelei word.
Ek erken wel dat ons met groot ywer die volmaaktheid moet {392} najaag en ander daartoe aanspoor, maar dis ‘n duiwelse versinsel om die mense daarop te laat vertrou dat hulle reeds in hierdie lewe volmaak kan wees. Daarom word in die Artikels van die Geloof die artikel oor die vergewing van die sondes aan die een oor die kerk verbind. God het die vergewing alleen aan die lidmate van die kerk toegesê (Jes 33:24; Jer 33:8). Die vergewing van die sondes, waarsonder ons geen gemeenskap met God het nie, is dus vir ons die eerste ingang in die kerk en die koninkryk van God (Hos 2:17). En daarom word ons ook deur die teken van die afwassing tot die gemeenskap met die kerk aangeneem.
21. Maar die Here ontvang ons nie net een maal in sy kerk deur die vergewing van die sondes nie, maar Hy bewaar en beskerm ons daarin deur dieselfde vergewing. Elke vrome kan getuig dat God se barmhartigheid doelloos sou wees as dit net eenmaal verkry word, want elkeen is in sy gewete daeliks oortuig van baie swakhede wat God se barmhartigheid nodig het. As ons dan ook nie deur die voortdurende genade van die Here gesteun word deurdat Hy ons ons sondes vergewe nie, sal ons nie een oomblik in die kerk bly nie. Ons moet daarom daaraan dink dat daar altyd vergewing vir ons sondes is deur die milddadigheid van God en deur die tussenkoms van Christus se verdienste en deur die heiligmaking van die Gees.
22. Die Here het aan sy kerk sleutels gegee om hierdie weldaad aan ons mee te deel. Want toe Christus aan sy apostels die bevel en die mag gegee het om die sondes te vergewe (Mat 16:19; Mat 18:18; Joh 20:23), was dit sy wil dat die amp voortdurend onder die gelowiges bedien sou word. Dit leer Paulus ook as hy sê dat die bediening van die versoening aan die dienaars van die kerk toevertrou is (2 Kor 5:19-20). Die volk moet in die naam van Christus vermaan word om hom met God te versoen. En die gelowiges moet deur die beloftes van die evangelie in die hoop op vergewing versterk word. En dit sowel in die openbare vergadering van die gelowiges as in hulle huise (Hand 20:20).
Op drie dinge moet ons daarom let: Ten eerste dat die kinders van God in hierdie lewe nooit voor God kan bestaan as die sondes hulle nie vergewe word nie, al het hulle ook hoe ver gevorder op die pad van heiligmaking. Ten tweede dat die weldaad soseer die eiendom van die kerk is dat ons dit alleen kan geniet as ons in die gemeenskap van die kerk bly. Ten derde dat hierdie weldaad aan ons deur die dienaars van die kerk uitgedeel word deur die verkondiging van die evangelie of deur die bediening van die sakramente. Hierin veral kom die sleutelmag uit wat die Here aan sy kerk gegee het.
23. In die ou tyd het die Novatiane geleer wat sommige Wederdopers vandag ook weer leer. Hulle stel dit só voor dat die {393} volk van God in die doop weer gebore word tot ‘n rein lewe soos die van die engele. As iemand daarna sondig, gee hulle hom geen enkele hoop op vergewing van die sondes nie en bly daar vir hom niks anders oor nie as die onverbiddelike oordeel van God.
Hierdie leuen word deur die Skrif duidelik weerlê. Op bevel van die Here bid die heiliges elke dag: “Vergeef ons ons skulde”. Daarmee bely hulle dat hulle skuldenaars is. En hulle bid nie tevergeefs nie, want die Here beveel ons om vir die dinge te bid wat Hy ons sal gee. Wat wil ons dan meer hê? Die Here eis van die heiliges dat hulle altyd hulle sondes sal bely, en Hy belowe vergewing. Hoe durf hulle dit dan waag om te leer dat die gelowiges vry van sonde is of om hulle van die genade uit te sluit as hulle gesondig het? En waarom beveel Hy om die broeder sewentig maal sewe maal te vergewe anders as om ons te leer om hierin sy navolgers te wees? Hy vergewe dus nie een of twee maal nie maar so dikwels ons met skuldbelydenis na Hom kom.
24. Toe die aartsvaders saamgespan het om hulle broer dood te maak, was hulle reeds besny en in die verbond van God opgeneem en deur hulle vader in die weg van geregtigheid onderwys. Simeon en Levi het op gruwelike wyse wraak geneem op die inwoners van Sigem. En wat het Ruben en Juda nie misdoen nie! Tog is hulle nie uit die uitverkore volk geskrap nie maar tot hoofde daarvan gemaak. En wat het Dawid gedoen? Tog het hy vergewing ontvang. Al die beloftes aan die Israeliete van God se barmhartigheid wat daar in die wet en profete staan, bewys dat die Here versoeningsgesind is teenoor die misdade van sy volk (Deut 30:3).
25. Die profete is vol beloftes wat aan die sondige volk God se barmhartigheid toesê. Daar is seker geen groter sonde as weerspannigheid nie. Dit word egskeiding genoem tussen God en die kerk. Nogtans word dit deur die goedheid van God oorwin (vgl. Jer 3:1,12,14; Eseg 18:23 en 32; 1 Kon 8:46). Daarom het God ook in die wet die daelikse offerandes vir die sondes verorden (Num 28:3).
26. Is dan deur die koms van Christus, in wie die volheid van die genade geopenbaar is, hierdie weldaad aan die gelowiges ontneem, sodat hulle nie meer om vergewing van hulle sondes durf smeek nie? Dit sou beteken dat Christus tot verderf van sy eiendom gekom het en nie tot hulle saligheid nie. As ons die Skrifte glo wat uitdruklik sê dat eers in Christus die genade van die Here en sy liefde vir die mense ten volle verskyn het (Tit 3:4; 2 Tim 1:9), dan moet ons nie daaraan twyfel nie dat die goedertierenheid van die hemelse Vader ons nou eerder baie oorvloediger toevloei as dat dit verminder is. Voorbeelde daarvan vind ons genoeg in die Skrif. Petrus het sy Here drie maal in een nag verloën. Tog het hy vergewing ontvang. Vergelyk ook 2 Thess 3:14-15. {394}
27. Soms is hele gemeentes aan growwe sondes skuldig. Tog wil Paulus hulle liewer daaruit losmaak eerder as om hulle te vervloek. Die afwyking van die Galasiërs was nie gering nie. By die Korinthiërs het baie misdrywe voorgekom. Tog word hulle nie van God se barmhartigheid uitgesluit nie maar aangespoor om hulle te bekeer (2 Kor 12:21). Want die verbond van die Here wat Hy met Christus gesluit het, bly en sal vir ewig bly (Ps 89:31 e.v.). Die orde van die Artikels van die Geloof wys ook aan dat die vergewing van die sondes altyd in die kerk bly.
28 Sommige noem nie elke oortreding van die wet ‘n onvergeeflike misdaad nie, maar alleen die wat die sondaar willens en wetens begaan. Maar hoe onjuis hierdie bewering is, bewys God self. In sy wet het Hy sekere offerandes voorgeskrywe wat gebring moes word tot versoening van sondes wat onwetend begaan is en ander tot versoening van die sondes wat willens en wetens begaan is. Só het die enige offer van Christus krag tot versoening ook van hierdie sondes. Bowendien, wie kan Dawid verontskuldig weens onwetendheid? Het hy nie geweet dat owerspel en doodslag sondes is nie? Het Petrus nie geweet wat dit beteken om sy Meester te verloën nie? Laat ons tog nie die weg vir God se barmhartigheid, wat so mild is, toesluit nie.
29. Ek weet dat die ou skrywers dit so uitgelê het dat die sondes wat die gelowiges elke dag vergewe word, ligter afdwalinge was maar dat die boetedoening, wat in dié tyd vir growwe sondes vereis is, net so min herhaal mog word as die doop. Hiermee wou hulle nie die sondaars in wanhoop stort nie. Hulle wou dit ook nie so voorstel asof die daelikse afdwaling gering in die oë van God was maar dat Hy growwer afdwalings moeilik vergewe nie. Hulle wou deur die gestrengheid alleen ander afskrik om nie ligvaardig in dié sondes te verval waardeur hulle vervreemd van die gemeenskap van die kerk geraak het nie. Gods Woord skrywe ons egter groter matigheid voor, sodat die sondaar nie deur droefheid verteer word nie.
HOOFSTUK II. Vergelyking van die valse met die ware kerk
1. Ons het alreeds uiteengesit hoe gewigtig die bediening van Woord en sakramente is en dat ons hulle hoog moet ag sodat hulle vir ons kentekens kan wees waaraan ons die kerk ken. As die bediening maar suiwer is, is dit nog ‘n kerk, al kleef gebreke hom nog aan. Geringe afdwalinge maak die bediening ook nie onwettig nie, d.w.s. dwalinge wat die hoofsaak van die leer nie raak nie, waaroor daar eenstemmigheid behoort te heers. En wat die {395} sakramente betref, het ons sulke dwalinge op die oog wat die wettige instelling deur Christus nie tot niet maak nie. As die hoofsaak van die leer egter vervals is en die sakramente omvergewerp is, volg daarop noodsaaklik die ondergang van die kerk. Paulus sê dat die kerk gebou is op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is (Ef 2:20). As die fondament weggeneem word, hoe sal die gebou dan bly staan? Hoe kan daar ‘n kerk wees waar die leuen heers (1 Tim 3:15)?
2. Uit dit alles kan ons opmaak wat daar van die kerk onder die pousdom oorgebly het. In die plek van die bediening van die Woord heers daar ‘n bestuur wat uit leuens saamgesmee is, wat die suiwere lig uitblus. In die plek van die nagmaal van die Here het daar ‘n skandelike heiligskennis gekom. Die diens van God is deur ‘n ondraaglike menigte van bygelowighede misvorm. Die leer is heeltemal begrawe, en die openbare samekomste is plekke van afgodery en goddeloosheid. Daarom bestaan daar geen gevaar dat ons ons van die kerk van Christus sal afskeur as ons weier om aan daardie skandaligheid deel te neem nie. Die kerk is nie ingestel om ‘n band te wees wat ons in afgodery, goddeloosheid en onkunde aangaande God sal hou nie, maar om ons in die vrees van God en gehoorsaamheid aan die waarheid te hou. Hulle prys hulle kerk aan asof dit die enigste ter wêreld is, en noem almal skeurmakers wat hulle daaraan onttrek. Maar hoe bewys hulle dat hulle die ware kerk is? Uit die ou geskiedenisboeke haal hulle aan dat hulle afstam van die heilige manne in Italië, Frankryk en Spanje wat kerke gestig en opgebou het deur die gesonde leer, en die leer selfs met hulle bloed verseël het. Verder is die kerk dan ook bewaar deur die onafgebroke opeenvolging van biskoppe.
Dis ‘n niksbeduidende redenering. Hulle enigste doel is maar net om op elke moontlike manier hulle saak te bevorder. Ek sou hulle wil vra waarom hulle dan nie Afrika, Egipte en die hele Asië noem nie? Om die eenvoudige rede dat daar geen opeenvolging van biskoppe was nie. Maar waarom het die kerk in Griekeland dan ondergegaan, waar daar wel die opeenvolging van biskoppe was? Die opeenvolging van biskoppe is dus nutteloos as die nageslag nie die waarheid van, Christus bewaar en daarin volhard nie.
3. Die Roomse hou vandag dieselfde dinge voor wat die Jode altyd die profete voorgehou het. As die profete hulle oor hulle goddeloosheid en afgodery bestraf het, het hulle altyd die tempel, die seremonies en die priesterskap voorgehou. Só hou die Roomse ons ook dinge voor waarsonder die kerk goed kan bestaan. Ons kan hulle maklik weerlê met die woorde van Jeremia: “Vertrou nie op bedrieglike woorde nie, wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit” (Jer 7:4). Die Here erken alleen iets as sy eiendom waar sy Woord gehoor en noukeurig in {396} ag geneem word. Anders gaan Hy weg as die priesters sy diens deur bygelowighede vervals. As God sy tempel kon verlaat, moet hulle ons nie wys wil maak dat Hy só aan persone of plekke gebind is dat Hy by hulle sal bly wat net die naam en skyn van ‘n kerk het nie. Paulus ontneem aan die Jode die naam van kerk, hoewel dit gelyk het asof hulle die volk van God is en by hulle niks ontbreek het wat op ‘n kerk gelyk het nie. Hy doen dit omdat hulle Christus verwerp (Rom 9:-12; ook Gal 4:22 e.v.). As hulle op uiterlike dinge wys — wel, Ismael was ook besny. Wys hulle op die oudheid — hy was die eersgeborene. Tog word hy verwerp, omdat nie almal Israel is wat uit Israel is nie (Rom 9:6). Wat die opeenvolging betref — Kajafas was die opvolger van baie godvresende priesters. Het die vergadering wat Christus veroordeel het, daarom ook die naam kerk verdien? Dit is dus ongerymd om die leer ter syde te stel en alleen op die opeenvolging van persone te let.
4. Die Roomse kwel ons en verskrik die onervarenes met die naam “kerk”, hoewel hulle doodsvyande van Christus is. Maar ons moenie aanneem dat daar ‘n kerk van Christus is waar Gods Woord nie aanwesig is nie. Want die kenmerk van die kerk teken Christus self vir ons met die woorde: “Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem” (Joh 18:37; ookJoh 10:4,14). Hoe dwaas is dit dan om te wil bepaal wat ‘n kerk is, as Christus vir ons so ‘n duidelike kenmerk gee! Paulus sê ook dat die kerk gebou is op die leer van die apostels en profete en nie op die oordeel van mense of op priesterskappe nie.
Die kerk is die ryk van Christus. Daar regeer Hy deur sy Woord. Hoe kan daar dan ‘n ryk van Christus wees waar sy septer, dit is sy Woord, nie gevind word nie?
5. Hulle beskuldig ons van skeurmakery en kettery, omdat ons ‘n ander leer verkondig as hulle, hulle wette nie gehoorsaam nie en afsonderlik vergader vir die gebed, die doop, die nagmaal en ander heilige handelinge.
Dit is ‘n swaar beskuldiging maar kan maklik weerlê word. Ketters en skeurmakers is mense wat tweedrag saai en so die eenheid van die kerk verbreek. Die eenheid word deur twee bande saamgebind, naamlik eenstemmigheid in die gesonde leer en broederlike liefde. Die broederlike liefde is egter so nou aan die eenstemmigheid in die geloof verbind dat laasgenoemde die begin en end van eersgenoemde is. As Paulus ons vermaan om die eenheid van die Gees te bewaar, noem hy as fondament dat daar een God is, een geloof en een doop (Ef 4:5).
Ja oral waar hy ons opwek om dieselfde gevoele te hê en dieselfde te wil, voeg hy daaraan toe: in Christus. Daarmee gee hy te kenne dat waar Gods Woord nie saambind nie, dit ‘n vergadering {397} van goddelose is en geen gemeenskap van die heiliges nie.
6. Cyprianus lei ook, soos Paulus, die eenheid van die kerk van Christus af. Ketterye en skeurmakery ontstaan deurdat die mense nie die Hoof soek en die leer van die hemelse Meester nie bewaar nie. Laat hulle ons dan maar vir ketters uitkryt, daar is geen ander oorsaak vir die vervreemding as net dit dat hulle die suiwere belydenis van die waarheid nie kan verdra nie. Dit is genoeg om ons vry te spreek. So het dit ook met die apostels gegaan. Hulle is ter wille van die Naam van Christus uit die sinagoge, die wettige kerke van daardie tyd, gewerp (Joh 16:2). En ons is bereid om aan te toon dat hulle ons ook ter wille van die Naam van Christus uitgewerp het.
7. Dit sal nog duideliker word hoe ons die kerke moet beskou wat deur Rome in beslag geneem is, as ons hulle vergelyk met die kerk onder Israel, soos die profete die vir ons teken. Die ware kerk het onder Israel bestaan toe hulle die wette van die verbond gehou het. Hulle het die ware leer in die wet gehad. Deur die teken van die besnydenis is hulle in die verbond ingelyf. Deur die ander sakramente is hulle in die geloof versterk. Ongetwyfeld was toe op hulle van toepassing die eretitels waarmee die Here sy kerk noem. Maar toe hulle die wet verlaat het en in afgodery en bygeloof verval het, het hulle die voorreg gedeeltelik verloor. Want wie sal hulle die naam van kerk durf ontsê by wie God die verkondiging van die Woord en die onderhouding van die verborgenhede weggelê het? Maar aan die anderkant wie sal dit waag om ‘n vergadering ‘n kerk te noem waar die bediening van die Woord, die siel van die kerk, openlik en ongestraf met die voete vertrap word?
8. Maar was daar dan van die kerk onder Israel niks oor toe hulle tot afgodery verval het nie? Daar was trappe in die afval. Die val van Juda en Israel was in die begin toe hulle van die suiwer diens van God afgeval het, nie ewe groot nie. By die Israeliete het dit van kwaad na erger gegaan tot op die regering van Agab. Die konings wat na hom gekom het tot by die ondergang van die ryk, was deels aan hom gelyk, deels het hulle, omdat hulle ‘n weinig beter wou wees, die voorbeeld van Jerobeam nagevolg. Maar almal was goddeloos en afgodsdienaars. In Juda was daar konings wat die diens van God vervals het, maar ook ander wat dit weer herstel het. Tot die laaste trap het hulle gekom toe die priesters die tempel van God met onheilige en verfoeilike seremonies besoedel het.
9. Laat die pousgesindes ontken, as hulle kan, dat die godsdiens onder hulle net so bedorwe is soos onder Israel in die tyd van Jerobeam. Hulle het ‘n nog growwer afgodery en is in die leer geen haar suiwerder nie maar eerder onsuiwerder. Ek oordryf nie.
As hulle ons tot die gemeenskap met hulle kerk wil dwing, eis {398} hulle van ons twee dinge. In die eerste plek dat ons moet deelneem aan hulle gebede, heilige handelinge en seremonies. In die tweede plek dat ons aan hulle kerk die eer, mag en regspraak sal toeken wat Christus aan sy kerk gegee het.
Wat die eerste saak betref, stem ek toe dat die profete nie op afsonderlike plekke aanbid het toe die sake in Jerusalem so verdorwe was nie. Maar hulle het die gebod van God gehad om in die tempel van Salomo saam te kom. Hulle het ook die Levitiese priesters gehad en het geweet dat God hulle aangestel het as bedienaars van die heilige dinge en dat hulle nog nie afgesit was nie, hoe onwaardig hulle ook mog gewees het om die plek te beklee. Maar wat die allervernaamste is, hulle is nie gedwing om aan die bygelowige dienste deel te neem nie. Hulle het niks waargeneem wat nie deur God ingestel is nie Maar noem my een profeet of ‘n ander vroom man wat soveel as een maal in Bet-El aanbid of geoffer het. Hulle het geweet dat hulle dit nie kon doen sonder om hulle met heiligskennis te besoedel nie. Só kan ons nie met die Roomse saamkom sonder om ons met afgodery te besmet nie. Want wat vir hulle die vernaamste band van gemeenskap is, naamlik die mis; verfoei ons as die grofste heiligskennis.
10. Teen hulle tweede eis verset ons ons nog kragtiger. As ons die kerk se oordeel moet eerbiedig, sy gesag erken, sy vermaninge moet gehoorsaam, sy gemeenskap in alles moet onderhou, kan ons nie toegee dat hulle ‘n kerk is, sonder dat ons genoodsaak word om ons daaraan te onderwerp en te gehoorsaam nie.
Ons sal hulle egter graag toegee wat die profete die Israeliete van hulle tyd toegegee het toe sake dáár in net so ‘n slegte of in ‘n beter toestand was. Hulle het oral uitgeroep dat die samekomste onheilig was en dat die gelowiges daaraan net so min mag deelneem as dat hulle God mag verloën. As dit kerke was, dan het Elia, Miga, Jesaja, Jeremia, Hosea en die ander profete nie aan die kerk behoort nie. As dit kerke was, dan is die kerk nie ‘n pilaar van die waarheid nie maar ‘n vesting van die leuen. Dan is dit nie ‘n tabernakel van die lewende God nie maar ‘n woonplek van die afgode.
As iemand vandag die vergaderinge van die pousgesindes, wat met afgodery en bygeloof besmet is, as kerke wil erken, in die volle gemeenskap waarvan ‘n Christen moet volhard, só selfs dat hy met die leer instem, sal hy grootliks dwaal. Want as hulle kerke is, berus die sleutelmag by hulle. Die sleutelmag is egter onafskeidelik aan die Woord verbonde, wat dáár nie gevind word nie. Hulle verstoot uit hulle gemeenskap almal wat opreg bely dat hulle diensknegte van Christus is. In die plek van die diens van die Woord het hulle skole van goddeloosheid en ‘n vuil versameling van allerhande dwalinge. Hulle is dus geen kerke nie.
11. Soos daar egter onder die Jode enkele voorregte van die {399} kerk oorgebly het, so ontsê ons ook nou nie aan die pousdom alle spore van die kerk wat die Here uit die verwoesting wou laat oorbly nie. God het eenmaal met die Jode sy verbond gesluit. Die verbond het deur die goedheid van God van krag gebly. Sy trou kon deur hulle ontrou nie vernietig word nie. En die besnydenis kon deur hulle onrein hande nie só vernietig word dat dit tog nie die ware teken van die verbond sou wees nie. So het God ook nou in die pousdom nog sy verbond gegee en die doop as teken van die verbond bewaar. Deur sy voorsienigheid het Hy bewerk dat daar ook nog ander oorblyfsels sou wees, sodat die kerk nie heeltemal te gronde sou gaan nie.
12. Ons ken die titel kerk dus nie sonder meer aan die pousgesindes toe nie. Ons erken inteendeel dat daar by hulle nog kerke is. Maar ons twis alleen oor die ware reëling van die kerk wat in die gemeenskaplike sakramente maar veral in die gemeenskaplike leer gevind word. Daniël Dan 9:27) en Paulus (2 Thess 2:4) het voorsê dat die Antichris in die tempel van God sal sit. Ons is van oordeel dat die pous van Rome die leier van daardie verderflike ryk is.
Dat gesê word dat hy in die tempel van God sal sit, daarmee word te kenne gegee dat sy ryk sodanig sal wees dat dit nòg die Naam van Christus, nòg die van die kerk tot niet sal maak. Hieruit blyk dat ons allermins ontken dat daar onder sy tirannie nog kerke oorbly, maar dan kerke wat hy deur sy goddeloosheid ontheilig, deur sy heerskappy verdruk, deur verderflike leringe byna verwoes het. Christus is daarin half begrawe, die evangelie verduister, die vroomheid verdryf en die diens van God byna vernietig. Met een woord: alles is daar so verwar dat die kerke eerder die voorkoms van Babilon vertoon as van die heilige stad van God.
HOOFSTUK III. Die leraars en dienaars van die kerk. Hulle verkiesing en amp
1. Ons moet nou handel oor die orde waarvolgens God sy kerk wil bestuur. Hy alleen regeer in sy kerk en beklee daar die hoogste gesag. Hierdie heerskappy oefen Hy deur sy Woord uit. Maar God woon nie in ‘n sigbare gedaante onder ons om mondeling sy wil aan ons bekend te maak nie. Hy gebruik daarvoor die diens van mense, nie om sy reg en eer op hulle oor te dra nie maar alleen om deur hulle mond sy eie werk te volbring.
Ek moet nou hier herhaal wat ek reeds vantevore gesê het. {400} Daar is verskillende redes waarom God sy diens deur mense laat verrig. In die eerste plek betoon Hy daarmee sy goedgunstigheid jeens ons, as Hy uit die mense sommige neem om sy gesante in die wêreld te wees om uitlêers van sy verborge wil te wees; met een woord, om Hom te verteen- woordig. Daarom noem Hy ons ook sy tempel.
Vervolgens is dit vir ons ‘n goeie en nuttige oefening om nederig te wees as die Here ons leer om sy Woord te gehoorsaam, ook al word dit verkondig deur mense wat ons gelykes en soms ons minderes is. As God self vanuit die hemel sou spreek, sal sy heilige woorde deur die ore en harte van almal eerbiedig ontvang word. Maar as een of ander mensie uit die stof opstaan en in die Naam van God spreek, dan betoon ons ons eerbied vir die Here as ons ons graag deur sy dienaar laat leer, hoewel hy in geen opsig ons meerdere is nie. Hy leer ons om die skat te waardeer en nie op die draer daarvan te let nie.
Ten derde is niks beter geskik om die onderlinge liefde te voed nie as dit dat die mense deur hierdie band onderling aan mekaar verbind word deurdat een as herder aangestel word om die ander te onderwys, en die ander as dissipels uit een mond die gemeenskaplike leer ontvang. Want as niemand die hulp van ‘n ander nodig gehad het nie, sal die een uit hoogmoed die ander verag of deur hom verag word. God het dus met hierdie band sy kerk saamgebind, omdat dit die kragtigste middel is om die eenheid te bewaar. Daarop het Paulus die oog gehad toe hy aan die Efesiërs geskrywe het: “Dit is een liggaam en een Gees…” (Ef 4:4-16).
2. Met hierdie woorde toon hy aan dat die diens van mense wat God gebruik om sy kerk te bestuur, die vernaamste senuwee is waardeur die gelowiges in een liggaam saamgebind word. Verder wys hy daarop dat die kerk op geen ander manier ongeskonde bewaar kan word nie, as dit nie deur hierdie hulpmiddels gesteun word nie waaraan dit die Here behaag het om die saligheid te bind. Christus het opgevaar, sê hy, sodat Hy alles tot volheid kan bring. En Hy doen dit deur middel van die dienaars aan wie Hy die amp opgedra het. Hy deel deur hulle sy gawes aan sy kerk uit, vertoon Homself as teenwoordig en openbaar die krag van sy Gees. So word die liggaam van Christus opgebou, groei ons deur alles op in Hom wat die Hoof is, en groei ons ook onderling saam. Só word ons gebring tot die eenheid in Christus as ons die apostels ontvang en die bediende leer nie verag nie. Almal wat hierdie orde en hierdie wyse van kerkregering wil vernietig, lê hulle toe op die ondergang van die kerk. So noodsaaklik is die amp van apostel en herder om die kerk op aarde te bewaar.
3. Daarom het ek daarop gewys dat God met alle moontlike lofwoorde die waardigheid van die amp vir ons aanprys. Dit moet {401} by ons die hoogste eer en aansien geniet. Dat Hy aan die mense ‘n besondere weldaad skenk as Hy vir hulle leraars verwek, betuig Hy met hierdie woorde: “Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor” (Jes 52:7); ook as Hy sy apostels die lig van die wêreld en die sout van die aarde noem (Mat 5:13-14), en as Christus sê: “Wie na julle luister, luister na My” (Luk 10:16). Paulus noem die diens van die evangelie die bediening van die Gees (2 Kor 3:8). Maar God bewys ook met voorbeelde hoe noodsaaklik hierdie diens is. Aan Cornelius laat Hy nie deur die engel die evangelie verkondig nie maar beveel hom om Petrus te laat roep (Hand 10:3). Paulus onderwys Hy nie self nie maar stuur hom na Ananias (Hand 9:6). Wie sal dit dan nou waag om hierdie diens te verag of om dit as oorbodig links te laat lê as God deur sulke voorbeelde bewys hoe nuttig dit is?
4. Paulus noem die persone op wat volgens die instelling van Christus die kerk regeer. Hulle is apostels, profete, evangeliste, herders en ten slotte leraars. Alleen die twee laasgenoemdes beklee ‘n gewone amp in die kerk. Die eerste drie het God net verwek toe die kerk nog gestig moes word.
Aan die apostels is geen vaste grense vir hulle arbeid gegee nie. Hulle moes as die eerste boumeesters die fondamente van die kerk in die hele wêreld lê (Mat 28:19; Mark 16:15; Rom 15:19-20).
Die profete was hulle wat deur ‘n besondere openbaring uitgeblink het. Die evangeliste het die naaste aan die apostels gestaan, hoewel hulle in waardigheid benede hulle gestaan het. Sulkes was Timotheüs en Titus. Hierdie drie ampte was nie bestem om vir altyd te bly nie. Maar sonder herders en leraars kan die kerk nooit wees nie. Die leraars moet die Skrif uitlê. Aan die herders is opgedra die bediening van Woord en sakramente en die tug.
5. So kom die leraars dan ooreen met die profete uit die ou tyd, terwyl die herders weer meer gelykheid vertoon met die apostels, net met hierdie verskil dat elkeen ‘n bepaalde kerk regeer. Die amp van die profete was wel uitnemender vanweë die besondere openbaringe wat hulle te beurt geval het, maar die amp van die leraars word byna op dieselfde wyse bedien en het geheel en al dieselfde doel.
6. Die amp van die apostels was om die evangelie te verkondig en die sakramente van die doop en die nagmaal te bedien. Hierdie verordening het nou oorgegaan op hulle wat die apostels opgevolg het. En die herders? Paulus spreek nie net van homself nie maar van alle herders as hy sê: “So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God” (1 Kor 4:1; vgl. ook Tit 1:9). {402}
Uit hierdie en ander plekke is dit duidelik dat die amp van die herders ook is om die evangelie te verkondig en die sakramente te bedien. Die verkondiging geskied nie net deur die openbare predikasies nie maar sluit ook in persoonlike vermaninge van huis tot huis (Hand 20:20). Die herders moet dus die kerk só lei dat hulle nie begeer om sonder arbeid ‘n waardigheid te beklee nie maar om die volk deur die evangelie van Christus te onderwys om godsalig te lewe, om die heilige sakramente te bedien en die tug uit te oefen (vgl. 1 Kor 9:16). Wat die apostels aan die hele wêreld gedoen het, dit moet elke herder aan sy eie kudde doen.
7. Ons ken aan elke herder sy eie kerk toe. Dit wil egter nie sê dat hy nie ook ander kerke kan help wanneer daar miskien wanorde heers wat sy teenwoordigheid vereis, of wanneer hy oor ‘n moeilike saak geraadpleeg word nie. Hierdie bepaling moet in ag geneem word dat elkeen met sy eie grense tevrede sal wees en nie in die arbeidsveld van ‘n ander sal indring nie; dat ook niemand oral sal preek sonder dat hy beroep is of almal na een plek sal stroom nie. En dat ook niemand sy eie gemeente na willekeur sal verlaat nie. Dis geen menslike uitvindsel nie maar ‘n instelling van God self (Hand 14:23; Hand 20:18; Tit 1:5).
Elkeen wat die sorg van een kerk op hom geneem het, moet dus weet dat hy aan hierdie wet van die goddelike beroeping gebind is. Egter nie só dat hy nooit daarvandaan mag weggaan nie. Dit kan wel as die algemene nuttigheid dit vereis, mits dit maar behoorlik en ordelik geskied. Hy mag nie self aan verhuising of aan ontslag dink al na gelang dit vir hom voordelig voorkom nie. Bowendien, as dit nuttig is dat hy na elders verplaas sal word, moet hy nie eie insig volg nie maar die openbare gesag afwag.
8. In navolging van die Skrif, wat die name sonder onderskeid deurmekaar gebruik, het ek die regeerders van die kerk genoem opsieners, ouderlinge, herders en dienaars. ‘n Opsiener noem dit elkeen wat die diens van die Woord waarneem (Tit 1:5,7; Fil 1:1; Hand 20:17,28). Tot sover het ons nog net gehandel oor die ampte wat hulle met die diens van die Woord besig hou. Maar Paulus noem ook ander (Rom 12:7-8; 1 Kor 12:28), soos kragte, genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe en die versorging van die armes. Van al die ampte is daar twee wat altyd bly, naamlik die regering en die versorging van die armes.
Die regeerders is uit die volk gekies om saam met die opsieners toesig te hou oor die handel en wandel en die tug te handhaaf. Só moet ons die woorde verstaan: “Wie ‘n voorganger is, met ywer” (Rom 12:8).
Só het elke kerk dan van die begin af sy eie raad gehad, gekies uit vrome, ernstige en heilige manne, by wie die regspraak tot verbetering van die gebreke berus het. Hierdie amp van regering {403} is vir alle tye noodsaaklik.
9. Die sorg vir die armes was aan die diakens opgedra. In Rom 12:8 spreek Paulus van twee soorte diakens, as my oordeel my nie bedrieg nie. Onder “wie uitdeel” verstaan ek dan die diakens wat die aalmoese beheer het, en onder “wie barmhartigheid bewys” die diakens wat die armes en siekes versorg het. Hoewel die woord diakonia ‘n ruimer betekenis het, noem die Skrif tog in besonder húlle diakens wat die kerk aangestel het om die aalmoese uit te deel en vir die armes sorg te dra. Van hulle oorsprong, instelling en amp lees ons in Hand 6.
10. In die heilige vergadering moet alles welvoeglik en ordelik toegaan (1 Kor 14:40). Dit geld veral van die regering van die kerk. Daarom moet toegesien word dat niemand in die kerk ‘n openbare amp sal beklee wat nie daartoe geroep is nie.
Sal iemand dus as ‘n ware dienaar van die kerk beskou word, dan moet hy eers wettig geroep wees. Vervolgens moet hy die taak wat hom opgelê is, aanvaar en uitvoer. As Paulus wil bewys dat hy apostel is, noem hy naas die getrouheid waarmee hy sy amp uitvoer, ook sy roeping. Ons handel nou verder alleen oor die roeping.
11. Wat hierdie saak betref, is daar vier sake wat behandel moet word. Ten eerste moet ons weet watter dienaars beroep moet word; vervolgens hoe hulle beroep moet word en deur wie; ten laaste hoe hulle in hulle amp gestel moet word.
Ek handel hier oor die uitwendige roeping, wat op die openbare orde in die kerk betrekking het. Die inwendige roeping, waarvan elke dienaar hom voor God bewus is, behandel ek nie. Laasgenoemde is die getuienis van ons hart dat ons nie uit eersug of hebsug die amp aanvaar nie maar gedring deur ‘n opregte vrees van God en ‘n begeerte om die kerk op te bou.
12. Op twee plekke leer Paulus hoedanig die opsieners moet wees wat verkies sal word (1 Tim 3:1; Tit 1:7). Die hoofsaak is dat net sulke persone verkies moet word wat gesond is in die leer en heilig lewe. Hulle moenie bekend staan vir enige gebrek wat hulle hulle gesag kan ontneem en die amp in versmaadheid bring nie. Dit geld ook vir die diakens en ouderlinge. Toegesien moet word dat hulle die gawes en middels besit wat nodig is om die amp te kan bedien. So het Christus sy apostels toegerus met alles wat hulle nodig gehad het om hulle amp te bedien.
Wat die tweede punt betref, hier het ek nie op die oog die manier van verkiesing nie maar die godsdienstige vrees wat by die verkiesing in ag geneem moet word. Lukas verhaal vir ons dat die gelowiges gevas en gebid het toe hulle ouderlinge moes verkies. Hulle het besef dat hulle met ‘n baie ernstige saak besig was wat hulle alleen met die grootste eerbied en sorgvuldigheid met die hulp en leiding van die Heilige Gees kon verrig. {404}
13. Die derde punt is deur wie die dienaars verkies moet word. Ons kan hier aan die roeping van die apostels geen vaste reël ontleen nie Dit was ‘n buitengewone amp. Daarom moes hulle deur die Here self geroep en aangestel word. Dit is dan ook die rede waarom die apostels nie self iemand anders in die plek van Judas durf aanstel het nie, maar twee manne voorgestel het sodat die Here self deur die lot sou aanwys wie van die twee sy opvolger moes wees (Hand 1:23 e.v.). Só moet ons dit ook verstaan as Paulus sê dat hy ‘n apostel is nie vanweë mense of deur ‘n mens nie (Gal 1:1). Daarmee gee hy teenoor sy belasteraars te kenne dat hy in geen enkele opsig by die ander apostels agterstaan nie.
14. Dat die opsieners deur mense aangewys moet word, sal niemand ontken nie. Die Skrif is vol getuienisse daarvan. Hierteen stry die genoemde woorde van Paulus nie (Gal 1:1). Hy spreek daar nie oor die gewone verkiesing van dienaars nie. Trouens, die Here het Paulus ook op so ‘n wyse aangewys dat Hy tog die orde van die kerklike roeping gebruik het (Hand 13:2). God het vooraf gesê dat Hy Paulus as apostel vir die heidene bestem het. Tog wil Hy dat hy deur die kerk verkies sal word. Dieselfde geld ook van die verkiesing van Matthias. Die apostels tree só op dat sy verkiesing deur die lot ‘n duidelike getuienis uit die hemel sou ontvang en dat tog die orde van die kerk nie geheel en al verbygegaan word nie. Daarom wys hulle nie self iemand aan nie maar stel twee voor.
15. Die vraag is nou of ‘n dienaar deur die hele gemeente verkies moet word of alleen deur sy mededienaars en ouderlinge en of hy op gesag van een persoon alleen aangestel kan word. Hulle wat die reg aan een persoon toeken, beroep hulle op wat Paulus aan Titus skrywe: “Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy van stad tot stad ouderlinge kan aanstel soos ek jou beveel het” (Tit 1:5; vgl. ook 1 Tim 5:22).
Hulle dwaal egter as hulle meen dat Timotheüs in Efese en Titus in Kreta in hierdie saak eiemagtig opgetree het. Hulle het alleen die leiding gehad om die volk met goeie en heilsame raad voor te gaan en nie om met uitsluiting van ander te doen wat hulle behaag het nie. Lukas sê dat Paulus en Barnabas in elke gemeente vir hulle deur opsteking van die hande ouderlinge laat kies het, soos die Grieke gewoond was om te doen as hulle verkiesing hou (Hand 14:23). Paulus sou seker nie vir Timotheüs en Titus meer toegelaat het as wat hy vir homself as reël aangeneem het nie. Cyprianus sê dus tereg dat dit op God se gesag geskied dat die priester in teenwoordigheid van die volk gekies word. Op dieselfde wyse is ook die sewe diakens verkies. Die beroeping van ‘n dienaar is dus wettig volgens Gods Woord as hulle wat vir die amp geskik is, verkies word deur die eenstemmigheid en goedkeuring van die gemeente, onder die leiding van die ander herders, sodat daar nie {405} deur ligsinnigheid, partyskap of oproerigheid gesondig word nie.
16. Die laaste punt insake die beroeping van dienaars is die manier waarop hulle in hulle amp gestel word. Dit is bekend dat die apostels geen ander seremonie gebruik het nie as alleen die oplegging van die hande. Hierdie handeling is oorgeneem uit die gewoonte van die Hebreërs. Wat hulle geseën of geheilig wil hê, het hulle met oplegging van die hande as’t ware voor die aangesig van God gestel. So het Jakob Efraim en Manasse geseën (Gen 48:14). Só het die Here ook gedoen toe Hy vir die kindertjies gebid het (Mat 19:15).
So het die apostels dan deur die handoplegging te kenne gegee dat hulle die persone wat hulle in die diens gestel het, aan God aangebied het. Hierdie gewoonte het hulle egter ook gebruik in die geval van die persone aan wie hulle die sigbare gawes van die Gees meegedeel het (Hand 19:6).
Ons het dus geen uitdruklike gebod vir die handoplegging nie. Nogtans kan die gebruik daarvan deur die apostels vir ons as ‘n gebod geld. Dit is ook nuttig dat op so ‘n wyse die waardigheid van die bediening by die gemeente aangeprys word. Terselfdertyd word ook hy wat tot die heilige diens ingelei word, daaraan herinner dat hy nie meer sy eie meester is nie maar dat hy aan God en sy diens in die kerk oorgegee is. As daar maar geen bygelowige misbruik van gemaak word nie, is hierdie seremonie profytlik. Immers, die Heilige Gees het niks wat onnodig is, in die kerk ingestel nie.
Ten slotte moet ons ook weet dat alleen die herders die hande opgelê het en nie die hele gemeente nie. Dit is ook onseker of meer as een die hande opgelê het of nie. Die apostels het die diakens die hande opgelê (Hand 6:6). Maar Paulus sê dat hy alleen vir Timotheüs die hande opgelê het (2 Tim 1:6).
HOOFSTUK IV. Die toestand in die ou kerk en die manier van regering wat ingebruik was vóór die tye van die pousdom
1. Tot sover het ons gehandel oor die kerkregering soos dit uit die suiwere Woord van God aan ons oorgelewer is. Ook het ons gehandel oor die dienste soos deur Christus ingestel. Dit sal nou nuttig wees om na te gaan hoe die ou kerk daar uitgesien het. Al het die opsieners van daardie tyd ook baie reëls gemaak, tog het hulle die hele kerkregering so versigtig volgens Gods Woord ingerig dat niks daarmee in stryd was nie. Laat ons nagaan wat hulle {406} in ag geneem het. Die ou kerk het volgens die Skrif die dienaars van die kerk in drie range verdeel. Uit die ouderlinge is die herders en leraars gekies. Die ander het die toesig gehad oor die handel en wandel en die kerklike tug. Aan die diakens was die versorging van die armes en die uitdeling van die aalmoese opgedra.
Die lectores en die akolute, soos hulle genoem is, het geen kerklike amp beklee nie maar was manne wat van jongs af voorberei is om later in die kerk te dien.
2. Aan die ouderlinge, wat hulle presbiters genoem het, was die leeramp opgedra. Hulle het uit hulle getal in elke stad een gekies aan wie hulle die naam biskop gegee het, sodat daar geen onenigheid sou ontstaan waar almal gelyk was nie. Die biskop was egter nie só in eer en waardigheid die meerdere van die ander dat hy heerskappy oor hulle gehad het nie. Sy posisie het ooreengekom met die van die voorsitter van ‘n vergadering. Hy het die sake aan die orde gestel, laat stem, vermaan en aangespoor en die besluite uitgevoer.
Die ou skrywers erken self dat dit só ingestel is as gevolg van die nood van die tye. ‘n Presbiter is dieselfde as ‘n biskop, sê Hieronymus. Hulle het geweet dat hulle meer deur die gewoonte as deur die beskikking van die Here die meerderes van die presbiters was en dat hulle die kerk met algemene oorleg moes regeer. Elke stad het dus ‘n kollege van presbiters gehad wat herders en leraars was. Hulle almal het die leeramp en regeeramp beklee, wat volgens Paulus die amp van die biskop was. Hulle het ook die manne opgelei wat hulle vir die heilige diens aangemeld het. Elke stad het ook ‘n bepaalde landstreek gehad wat sy presbiters van die stad ontvang het en as deel van die liggaam van die kerk gereken is. As die gebied te uitgestrek was, sodat die biskop nie oral sy amp kon uitvoer nie, is daar op bepaalde plekke presbiters verkies wat sake van minder belang waargeneem het. Hulle is landsbiskoppe genoem.
3. Sowel die biskoppe as die presbiters moes Woord en sakrament bedien. Alleen in Alexandrië is die bepaling gemaak dat ‘n presbiter nie mog preek nie, en dit omdat Arius die kerk in beroering gebring het. Maar verder is almal gedwing om hulle amp te vervul soos die Here dit van hulle geëis het. Ek spreek hier nie van die gewoonte net van een eeu nie. Selfs in die dae van Gregorius, toe die kerk al in verval was, sou dit nie geduld gewees het dat ‘n biskop nie gepreek het nie. Dit is as die vernaamste deel van sy amp beskou. Hyself het gesê dat ‘n priester sterf as geen geluid van hom verneem word nie, want hy wek die toorn van die verborge Regter teen hom op.
4. Elke provinsie het weer ‘n aartsbiskop gehad. Die Sinode van Nicea het ook patriarge aangestel, wat in rang en waardigheid weer hoër gestaan het as die aartsbiskoppe. Dit het alles gedien {407} tot onderhouding van die tug. As in enige kerk iets voorgeval het wat deur weiniges nie in orde gebring kon word nie, het die saak voor die provinsiale sinode gedien. As die grootte of gewigtigheid van die saak verder ondersoek vereis, is die patriarge by die sinode gevoeg. Van hierdie sinode was daar slegs ‘n beroep op die algemene konsilie moontlik.
Sommige noem hierdie regeringswyse ‘n hiërargie, maar ten onregte. Die naam kom in die Skrif nie voor nie, omdat die Heilige Gees wou verhoed dat iemand vir hom die opperheerskappy in die regering van die kerk sou toe-eien. Die ou biskoppe wou geen ander vorm van kerkregering hê as wat God in sy Woord voorgeskrywe het nie.
5. Dit was met die diakens in die tyd nie anders gesteld as in die dae van die apostels nie. Hulle het die daelikse gifte van die gelowiges ontvang asook die jaarlikse inkomste van die kerk. Hiermee het hulle sowel die dienaars as die armes onderhou.
Dit het hulle gedoen onder toesig van die biskop, aan wie hulle jaarliks verslag van hulle bediening moes doen. Hy het aan die diakens voorgeskrywe wie onderhou moes word en hoeveel aan elkeen gegee moes word. Hy moes ook toesien dat die diakens hulle getrou van hulle roeping gekwyt het. Selfs in die dae van Gregorius, toe die kerk al in verval was, was die diakens nog die versorgers van die armes onder toesig van die biskop. Onderdiakens is in die begin by die diakens gevoeg om hulle met die versorging van die armes te help. Opperdiakens is aangestel toe die vermeerdering van die goedere ‘n noukeuriger manier van bediening vereis het. Dat hulle ook gebruik is om die evangelie voor te lees en die volk op te roep tot die gebed asook om die beker by die heilige nagmaal rond te gee — dit alles is gedoen om hulle amp te versier en dat hulle sou weet dat hulle ‘n geestelike en aan God geheiligde diens verrig.
6. Hieruit kan ons opmaak wat die gebruik van die kerklike goedere was en hoe die uitdeling geskied het. Herhaaldelik word die biskoppe en diakens dit voorgehou dat hulle daaraan moes dink dat hulle nie hulle eie goedere beheer het nie maar die wat vir die nooddruf van die armes bestem was. Hulle is vermaan om met bewing en eerbied, as voor die aangesig van God, sonder aansien van persoon, die goedere uit te deel aan wie dit verskuldig was. Die dienaars is onderhou en die armes nie verwaarloos nie. Die dienaars is egter nie so ruim onderhou dat hulle in weelde en oorvloed kon lewe nie. Hulle het slegs soveel ontvang as nodig was om in hulle nooddruf te voorsien.
7. In die begin het die biskoppe en diakens die kerklike goedere bedien soos hulle gewil het, omdat hulle getrou was. As gevolg van wanpraktyke wat later ontstaan het, is reëls vasgestel {408} waardeur die inkomste van die kerk in vier dele verdeel is. Een deel is bestem vir die geestelikes, ‘n tweede vir die armes, die derde om kerke en ander geboue te repareer en die vierde om die armes wat van buite gekom het, te versorg.
8. Wat vir die versiering van die heilige diens bestee is, was in die begin maar gering. Selfs later, toe die kerk ryker geword het, is matigheid nog betrag. Al die geld het tot beskikking van die armes gebly, ingeval ‘n noodtoestand mog ontstaan. Toe hongersnood die provinsie van Jerusalem getref het en die armoede op geen ander manier teëgegaan kon word nie, het Cyrillus al die gereedskap en klere van die kerk verkoop en die armes gevoed. Toe die Ariane Ambrosius verwyt het dat hy heilige voorwerpe gebruik het om gevangenes los te koop, het hy sy daad verontskuldig met hierdie woorde: “Hy wat die apostels sonder geld uitgestuur het, het ook die kerk sonder geld vergader. Die kerk besit goud nie om te bewaar nie maar om uit te gee en hulp te bied in tye van nood… Sal die Here nie sê nie: Waarom het julle soveel armes van honger laat sterf, terwyl julle die goud gehad het waarmee julle vir hulle voedsel kon verskaf het?”
9. Dit is die ampte wat die ou kerk gehad het. Die ander waarvan ons lees, was meer voorbereidende oefeninge as bepaalde ampte. So is jongmanne wat die voorneme gehad het om later in die heilige diens te tree, van jongs af deur die biskoppe onderwys, sodat hulle nie later as onervare nuwelinge tot die diens sou toetree nie. Hulle is “clerici” genoem. Dis jammer dat hulle nie ‘n ander naam gedra het nie.
Petrus noem die kerk die “clerus”, dit is: die erfdeel van die Here (1 Petr 5:3). Die instelling was egter heilig en heilsaam. Aan hulle is opgedra om die deure van die kerk oop en toe te sluit. Hulle is “deurwagters” genoem. Later is hulle wat die biskoppe in sy huislike pligte gehelp het, “akoluthe” genoem. Hulle het hom oral vergesel. In die begin eershalwe, later sodat geen verdenking op hom sou rus nie. Later is aan hulle die geleentheid gegee om van die preekstoel af voor te lees, sodat hulle aan die gemeente bekend sou word en ook vrymoedigheid sou verkry om voor ‘n gehoor op te tree. Op die wyse is hulle langsamerhand bevorder, totdat hulle onderdiakens geword het. Dit was dus ‘n oefenskool wat hulle deurloop het, en geen ampte wat hulle beklee het nie.
10. As eerste en tweede hoofpunte by die verkiesing van dienaars het ons genoem: hoedanig hulle moes wees en hoe godvresend daarby te werk gegaan moes word. Hierin het die ou kerk hom aan die voorskrif van Paulus en die voorbeeld van die apostels gehou. Met aanroeping van die Naam van God het hulle saamgekom. Daarbenewens het hulle ‘n formulier van ondersoek gehad, waarmee hulle die lewe en die leer getoets het van hulle wat verkies moes {409} word. Hierin was hulle egter te streng. Hulle het meer vereis as Paulus en ook die ongehude staat as voorwaarde gestel.
Wat die derde punt betref, naamlik wie die dienaars moes aanstel, het hulle nie altyd dieselfde reël gevolg nie. In die ou tyd is niemand onder die geestelikes opgeneem sonder die toestemming van die hele gemeente nie. Cyprianus vra verskoning aan die gemeente omdat hy dit in ‘n sekere geval nie gedoen het nie. Later is die toestemming van die volk egter nie meer by die verkiesing tot ondergeskikte ampte gevra nie. Nog later is ook die verkiesing van ander dienaars behalwe van die biskoppe aan die oordeel van die biskop en die presbiters oorgelaat. Die rede hiervoor was dat die persone bekend was. Niemand het byvoorbeeld onderdiaken geword wat nie gedurende ‘n lang tyd as clericus beproef was nie. Nadat hy hierin beproef gevind is, is hy as diaken aangestel. En as hy hierin getrou bevind was, het die eer hom te beurt geval om presbiter te word. Niemand is dus tot die een of ander amp bevorder as hy nie reeds baie jare onder die oë van die gemeente gedien het nie.
Ten slotte: alle verkiesings het op vasgestelde tye van die jaar plaasgevind om te verhoed dat iemand sonder toestemming van die gelowiges sou insluip of al te gemaklik bevorder sou word.
11. Die volk het ‘n lang tyd sy vryheid in die verkiesing van die biskoppe behou. Op die Konsilie van Antiochië is besluit dat niemand aan die volk opgedring mag word nie. Vandaar die uitspraak: “Wie aan die hoof van almal sal staan, moet deur almal verkies word”. As ‘n biskop iemand as sy opvolger bestem het, was dit eers van krag as die hele volk so besluit het.
12. Die Konsilie van Laodicea het egter goeie redes gehad om te besluit dat die verkiesing nie aan die volk oorgelaat moes word nie. Dit was om eenstemmigheid te verkry. Eers het die geestelikes dan alleen gekies. Die verkosene is daarna aan die owerhede voorgestel, wat die verkiesing bekragtig het as hulle van oordeel was dat dit behoorlik plaasgevind het. So nie, het hulle iemand anders verkies, wat hulle beter geag het. Daarna is die saak voor die volk gelê, hoewel dié nie aan die keuse gebind was nie.
As die verkiesing by die volk begin het, wys die bedoeling maar net om te wete te kom wie hulle die meeste begeer het. Daarna het die geestelikes gekies.
Die bedoeling van die sinode was dus duidelik. Dit was om te verhoed dat die geestelikes hulle deur die onbeteuelde menigte sou laat meesleep.
Hierdie wyse van verkiesing het nog in die dae van Gregorius bestaan, soos uit baie van sy briewe blyk, miskien ook nog geruime tyd daarna. Die kerk mog nie van sy reg beroof word deur die {410} verkiesing aan een persoon oor te laat nie, al was dit ook die koning of die keiser.
13. Nou moet ons nog die vraag behandel op watter wyse die dienaars in hulle amp bevestig is nadat hulle verkies is. Die Latynse vaders het hierdie plegtigheid “ordening” genoem. Die Griekse vaders noem dit “handopsteking” of “handoplegging”. Die Konsilie van Nicea het besluit dat die biskop van die hoofstad saam met al die biskoppe van die provinsie moes saamkom om hom wat verkies is te orden. As almal nie kon kom nie, moes daar ten minste drie saamkom. Die afwesiges moes skriftelik hulle instemming betuig. Die aanwesigheid van almal is vereis, sodat daar ‘n deeglike ondersoek kon plaasvind na die leer en lewe van hom wat georden moes word.
14. Langsamerhand het egter ‘n ander gewoonte ontstaan. Die wat verkies was, het na die hoofstad gegaan om te versoek dat hulle georden sou word. Nog later het ‘n nog slegter gewoonte ontstaan. Byna al die biskoppe van Italië het versoek dat hulle wyding in Rome sal plaasvind. Slegs in ‘n paar stede het die ou reg bewaar gebly. Die plegtigheid het deur oplegging van die hande geskied.
HOOFSTUK V. Die ou regeringsvorm is deur die tirannie van die pousdom geheel en al onderdruk
1. Dit sal die moeite loon om die orde van kerkregering in die Roomse Kerk vandag met die van die ou kerk te vergelyk.
Ons begin by die roeping, om te sien watter persone tot die diens geroep word en hoe dit geskied. Daarna sal ons nagaan hoe getrou hulle hulle amp vervul.
Ons gee die eerste plek aan die biskoppe. Om na die leer ondersoek in te stel is al ‘n verouderde saak. Dit staan vas dat daar in die laaste honderd jaar nouliks een uit die honderd biskoppe gekies is wat iets van die leer af geweet het. As ‘n ondersoek na hulle wandel ingestel word, sal ons bevind dat daar min is wat nie deur die ou reëls as onwaardig afgekeur sou gewees het nie. Die ergerlikste nog is dit dat selfs kinders wat nouliks tien jaar oud is, met toestemming van die pous biskoppe gemaak is.
2. In die verkiesing is die volk al sy regte ontneem. Die voordragte, toestemming en ondertekening het alles verdwyn. Al die mag is aan die, kanunnike oorgedra. Hulle dra die biskopsamp op aan wie hulle wil, bring hom voor die volk, nie om ondersoek te word nie maar om aanbid te word. In die hele pousdom vind daar {411} vandag geen enkele verkiesing plaas wat volgens Goddelike en kerklike reg wettig is nie. Hoe sal hulle dit goedpraat dat hulle die kerk so van sy reg beroof het? Die verdorwenheid van die tye het dit vereis, sê hulle. Maar as dit blyk dat die geneesmiddel erger as die kwaal is, waarom roei hulle dan nie liewer die kwaad uit nie?
Hulle antwoord dat aan die kanunnike baie noukeurig voorgeskrywe is waaraan hulle hulle moet hou. Maar is die Woord van God nie baie kragtiger as duisende reëls nie (1 Tim 3:2 e.v.)?
3. Hulle lieg egter as hulle sê dat dit as geneesmiddel uitgevind is. Die saak staan só. Toe die volk uit gebrek aan belangstelling die verkiesing aan die presbiters oorgelaat het, het hulle die geleentheid misbruik om die volk te tiranniseer en dit later deur nuwe reëls te bevestig.
Die ordening van die biskoppe is niks anders as bespotlik nie. Want die ondersoek wat daar plaasvind, is ‘n leë vertoning.
Die kerk het dan ook geen nuwe skade gely toe sommige vorste van die pouse die reg verkry het om self biskoppe te benoem nie. Daardeur is alleen aan die kanunnike ‘n reg ontneem wat hulle wederregtelik vir hulleself geroof het. Gelowige regeerders behoort egter nie aan so iets deel te neem nie. Want dit is ‘n berowing van die kerk as aan die volk ‘n biskop opgedring word wat hulle nie begeer het en aan wie se verkiesing hulle nie deelgeneem het nie.
4. Dit is dan die voortreflike roeping! Die biskoppe beroem hulle daarop. Hulle sou dan die opvolgers van die apostels wees! Hulle sê ook dat dit hulle alleenreg is om presbiters te benoem. Maar hulle kies geen ouderlinge om die volk te regeer en te leer nie, maar priesters om te offer. En in die geval van die diakens is daar ook geen sprake van hulle eintlike werk nie. Hulle word georden om allerhande seremonies met die beker en die skottel te verrig.
5. Selfs as die growwe misbruike weggeneem word, bly dit nog altyd ongerymd dat ‘n presbiter aangestel word aan wie geen vaste standplaas aangewys word nie. Hulle orden hulle om te offer. Maar ‘n ouderling word tog gekies om die kerk te regeer, en ‘n diaken om die aalmoese te administreer. Alles wat hulle doen, omring hulle egter met prag en praal, om daardeur eerbied by die eenvoudiges op te wek. Maar watter waarde het hierdie sinledige vertonings vir verstandige mense?
Van die waaragtige ondersoek, van die instemming van die volk en van ander noodsaaklike dinge word niks gerep nie. Die biskoppe het hulle manne wat die ondersoek moet waarneem. Maar wat ondersoek hulle? Of hulle die mis kan lees. Of hulle ‘n eenvoudige woord kan verbuig. Dis nie eers nodig dat hulle één sinnetjie kan vertaal nie. En tog word hulle nie van die priesterskap {412} afgehou nie, solank hulle maar net geld of guns saambring.
6. Gedra hulle hulle beter by die toekenning van die poste? Hulle gedra hulle alleen só dat die een die ander niks kan verwyt nie. Simonie kom gedurig voor. Sommige verkry dit op grond van bloedverwantskap, ander op grond van die aansien van hulle ouers. Ander verwerf die guns deur onderdanigheid. Priesterskappe word verleen nie met die bedoeling dat daar vir die kerke gesorg sal word nie maar vir hulle wat dit ontvang. En dan praat ek nog nie eers daarvan nie dat hierdie dinge geskenk word aan barbiers, koks, eseldrywers en daardie klas mense. Die regsale weerklink van regsake oor priesterskappe meer as oor iets anders. Kan dit verdra word dat hulle wat herders genoem word, in die kerk ingedring het soos soldate in ‘n vyandige gebied? Prosesse word gevoer. Met geld word gekoop. Ja, selfs kinders verkry dit as ‘n erfenis van hulle ooms en ander familiebetrekkinge, soms selfs as onegte kinders van hulle vaders.
7. Sou die wetteloosheid van die volk ooit sover gegaan het? Maar nog monsteragtiger is dit dat een man (wat homself nie eers kan regeer nie) aangestel word om vyf, ses kerke te regeer! Aan die howe van vorste kan teenswoordig jong manne gesien word wat drie abdye, twee bisdomme en een aartsbisdom besit. Oral is daar kanunnike wat belas is met vyf, ses, sewe priesterskappe, waaraan geen sorg bestee word nie, behalwe om die inkomste te ontvang. Dat dit in stryd met Gods Woord en met die besluite van verskillende konsilies is, dra by hulle geen gewig nie. Maar dit is ‘n skandaal wat teen God, die natuur en die kerkregering ingaan dat een rower meer as een kerk besit én dat hy ‘n herder genoem word wat nie by sy skape kan wees nie, ook al sou hy dit wil.
8. Laat ons nou sien hoe getrou hulle hulle amp bedien. Dit is die tweede kenmerk van ‘n wettige herder. Van die priesters wat in die pousdom verkies word, is sommige monnike; ander word wêreldlike priesters genoem. Die eerste soort was onbekend in die ou kerk. Gregorius, in wie se tyd die kerk al grootliks in verval was, het verbied dat ‘n monnik ook ‘n kerklike amp sou beklee. Ek vra: Hoe kan iemand sy amp goed vervul as hy deur die reëls onbevoeg verklaar word? Sommige bedelmonnike preek. Ander prewel die mis. Asof dit die wil van Christus was dat dienaars hiervoor aangestel sou word! As die Skrif verklaar dat dit die roeping van die dienaar is om sy eie kerk te regeer, is dit dan nie ‘n goddelose ontheiliging om God se heilige instelling geheel en al te verander nie? Want hulle sê dat ‘n monnik met sy klooster tevrede moet wees. Hy moet geen sakramente bedien of enige ander openbare ampsplig vervul nie. Is dit nie ‘n bespotting van God om iemand as dienaar aan te stel om hom van die ware diens te onthou nie?
9. Die wêreldlike priesters lewe deels uit hulle priesterskappe, {413} deels vind hulle hulle onderhoud deur die mis te lees of te sing. Die lesers moenie van my ‘n lang bespreking van hierdie sake verwag nie. Ek sê alleen dit dat as dit die plig van ‘n dienaar is om die skape te wei en die geestelike koninkryk van Christus te bestuur, dan doen al die priesters nie net nie hulle plig nie, maar dan het hulle ook geen wettige amp nie. Want aan hulle word geen geleentheid gegee om te onderwys nie. En hulle het geen gemeente om te regeer nie. Hulle het niks anders nie as ‘n altaar om Christus op te offer. En dit beteken nie om vir God nie maar om vir die duiwels te offer.
10. Op een lyn met hulle stel ek die kanunnike, dekane, kapelaans, prooste en almal wat deur gemaklike priesterskappe onderhou word. Watter diens kan hulle die kerk bewys wat die verkondiging van die Woord, die bediening van die sakramente en die handhawing van die tug as te swaar laste van hulle afgeskuif het? As hulle die gewoonte of die ou gebruik as verdediging aanvoer, wys ek hulle op die woord van Christus waarin Hy vir ons die ware dienaar teken. En as hulle hulle nie aan die gesag van Christus wil onderwerp nie, laat die gesag van die ou kerk dan die saak besleg. En dié sluit hulle ook uit van die eer van die ouderlingskap. Want al die lui buike raak nie met hulle pinkie aan die geringste deel van hulle amp nie.
11. Dan is daar nog die biskoppe en die bestuurders van parogieë. Ons gee graag toe dat hulle ‘n uitnemende amp beklee, as hulle dit maar net uitgeoefen het! Maar hulle maak asof die amp van ‘n herder daarin bestaan dat hy niks doen nie. Hulle verlaat hulle kerke en skuif die sorg daarvoor op ander af. Tog wil hulle herders genoem word. As ‘n soldaat wat altyd op die slagveld of in die leërkamp was en nooit ‘n regsaal of ‘n boek gesien het nie, hom vir ‘n regsgeleerde sou uitgee, wie sou dan so ‘n dwaasheid verdra? En tog doen hulle nog ongerymder dinge wat herders genoem wil word maar dit nie wil wees nie. Baie van hulle verslind hulle lewe lank die inkomste van die kerk, wat hulle nooit eers besoek om te inspekteer nie. Ander kom een maal per jaar net om nie die inkomste te verloor nie. Hy sal dan nou ‘n herder wees, wat nooit eers ‘n skaap gesien het nie!
12. Gregorius het in sy tyd al daaroor gekla. “Die wêreld is vol priesters”, sê hy, maar ons vind maar weinig arbeiders in die oes. Ons neem wel die priesteramp op ons maar verrig nie die ampswerk nie.” As hy sulke skerp woorde gebruik teen hulle wat nie so ywerig was om hulle ampspligte te vervul nie, wat sou sy oordeel dan wees oor biskoppe wat in hulle hele lewe nouliks eenmaal op die preekstoel klim? En wat dit benede die waardigheid van ‘n biskop ag om vir die volk te preek?
13. As ons die teenswoordige kerkregering onder die pousdom ondersoek, sal ons bevind dat daar geen roofhol is waarin die {414} struikrowers bandeloser optree nie. Dis alles so vreemd aan die instelling van Christus; alles so ver verwyder van die sedes en instellinge van die ou kerk dat aan Christus geen groter onreg aangedoen kan word as om sy Naam aan so ‘n regering te verbind nie! Ons is die pilare van die kerk, die stadhouers van Christus, die hoofde van die gelowiges, sê hulle, want die apostoliese mag het deur opvolging tot ons gekom. Voortdurend pronk hulle met die dwaashede. Maar ek vra wat hulle met die apostels gemeen het? Want dit gaan nie oor een of ander oorerflike leer nie. Dit kan aan slapendes ook gegee word, Maar dit gaan oor die predikamp wat hulle soseer nalaat.
14. As ons hulle sedes beskou, waar is dan die lig van die wêreld wat Christus vereis? Waar die sout van die aarde? Waar die heiligheid wat ‘n gedurige lewensreël moet wees? Daar is vandag geen klas mense wat meer in weelde, genot en allerhande welluste lewe nie. Daar is geen bekwamer of meer ervare meesters in valsheid, bedrog, verraad en troueloosheid nie. Ek swyg maar van hulle hoogmoed, roofsug en wreedheid. Maar ek sê een ding, nl. dat niemand onder die biskoppe, en van die hoofde van parogieë nie een uit honderd, in hulle amp sal oorbly as hulle met die reëls van die ou kerk gemeet moet word nie. Laat hulle hulle dan maar op hulle priesterskap beroem, dit is nie van Christus nie, nie van die apostels, nie van die vaders en nie van die ou kerk afkomstig nie.
15. Ons kom nou by die diakens en die heilige uitdeling van die kerkgoedere. Hulle benoem hulle diakens nie meer om dit te doen nie. Die diakenamp is nou net ‘n sport tot die priesterskap. Hulle het geen ander taak nie as om by die altaar te dien, die evangelie voor te lees of te sing en meer sulke beuselagtighede. Hulle het dus inderdaad geen amp meer nie, want wat hulle doen, het niks te maak met die instelling van die apostels of met die gebruik in die ou kerk nie.
16. So is die ou gebruike vernietig. Die vernaamste deel van die kerkgoedere het die biskoppe en die stadspriesters onder mekaar verdeel. Egter nie sonder baie getwis nie. So het hulle daarvoor gesorg dat die armes geen sent van die kerkgoedere ontvang het nie, selfs nie eers die vierde deel waarop hulle geregtig is nie. Laat hulle my antwoord of die diakenskap die vryheid om te steel beteken. As hulle dit ontken, sal hulle ook moet erken dat hulle geen diakenamp meer het nie.
17. Hulle het ‘n mooi uitvlug. Hulle beweer naamlik dat die waardigheid van die kerk op gepaste wyse deur hierdie skittering verhoog word. Sommige durf selfs sover gaan om te sê dat dan eers die voorsegginge vervul word waarin die ou profete die heerlikheid van Christus se koninkryk beskrywe, as die priesters in weelde lewe. Daarvoor beroep hulle hulle op uitsprake soos in Ps 72:10; {415} Jes 52:1; Jes 60:6 voorkom. As ‘n Jood hom op die Skrifwoorde sou beroep, sou hulle hom ‘n dwaas noem, omdat hy dinge wat geestelik van die geestelike koninkryk van Christus gesê is, aards gaan opvat. Die uitsprake beteken tog seker dat alles wat kosbaar en voortreflik is, aan die Here behoort.
In die dae van die apostels het die kerk nie so ‘n weelde geken nie. Tog het die koninkryk van Christus toe sy hoogste bloei bereik. Tereg het die Sinode van Aquileia, waarvan Ambrosius voorsitter was, gesê dat armoede die heerlikheid van die priesters van die Here is.
18. Laat ons kortliks saamvat hoe ver die verkwisting van die kerkgoedere wat nou aan die gang is, verwyder is van die ware diakenskap wat in Gods Woord beskrywe word en wat deur die ou kerk onderhou is. Ek sê dat alles wat tot versiering van die tempel aangewend word, verkeerd bestee word as die maat wat die heilige dinge self voorskrywe, nie in ag geneem word nie. Maar wat sien ons vandag? Dit, dat niks goed is wat nie die bewys van oordaad lewer nie Maar oor die lewende tempels is hulle nie besorg nie. Hulle sal liewer duisende armes van honger laat omkom as om een beker te offer om die ellende te verlig. Hulle verkwis die goedere wat aan Christus gewy is en bestee moes word soos Hy dit gewil het. Geen bisdom of abdy is ryk genoeg om die gulsigheid van die priesters te bevredig nie. Om hulleself te spaar beweeg hulle die volk om geld wat vir die armes gegee moes gewees het, te bestee aan die bou van tempels, die oprigting van beelde en om kosbare kledingstukke aan te koop.
19. Wat sal ek sê van die inkomste wat hulle uit landerye en ander besittings verkry? Dit is dwaasheid om hier nog na ‘n kerklike orde te soek. Hulle wat voorbeelde behoort te wees van soberheid, matigheid, ingetoënheid en nederigheid, boots die leefwyse van vorste na. God verbied die ampsdraers om vuilgewinsoekers te wees, en gebied om met ‘n eenvoudige leefwyse tevrede te wees; hulle besit dorpe en kastele, vorstedomme en selfs koninkryke! Hulle verwerp die woord van Hieronymus dat dit die eer van ‘n biskop is om vir die goedere van die armes te sorg, en sy skande om hom vir eie rykdom te beywer. Daar is by hulle dus lankal geen spoor van die diakenamp meer oor nie.
HOOFSTUK VI. Die opperheerskappy van die Roomse stoel
1. Tot sover het ons die range van dienaars behandel wat daar in die ou kerk was maar in die loop van die tyd ontaard het sodat {416} in die Roomse Kerk nou nog net die skyn daarvan oorgebly het. Ons het dit gedoen sodat die leser self kan oordeel watter soort kerk die Roomse het en of ons skuldig is aan die sonde van skeurmakery waarvan hulle ons beskuldig.
Maar ons het nog nie gehandel oor die hoofsaak van die hele orde nie, naamlik die opperheerskappy van die Roomse stoel, omdat Christus dit nie ingestel en die ou kerk dit ook nie geken het nie. Tog probeer hulle om die wêreld daarvan te oortuig dat die vernaamste band van kerklike eenheid die aanvaarding van en onderwerping aan die Roomse stoel is. As hulle oor hulle hiërargie handel, begin hulle altyd met hierdie grondstelling dat die pous van Rome as die plaasvervanger van Christus in sy plek oor die hele kerk aangestel is en dat die kerk dán eers goed ingerig is as die pouslike stoel die opperheerskappy het.
2. Die saak waaroor dit gaan is dit, naamlik of dit vir die kerklike regering nodig is dat een stoel in waardigheid en mag bokant die ander sal uitsteek, sodat dit die hoof van die hele liggaam is. Om dit te bewys beroep hulle hulle op die hoëpriester van die ou Verbond en ook op die hoogste regbank wat God in Jerusalem ingestel het. Maar niks dwing ons om iets wat vir een nasie nuttig was, oor die hele wêreld uit te strek nie Dit sal vandag ongerymd wees om die hele kerk in die Ooste en die Weste deur een man te laat regeer. Dan kan met ewe veel reg beweer word dat een koning oor die hele wêreld moet regeer.
Bowendien was die hoëpriester die beeld van Christus. Wat van sy hoëpriesterskap geld, het op Christus oorgegaan en nie op die pous nie. Hy leer ons. Hy versoen ons met God deur sy dood, en Hy tree vir ons as Voorbidder in by die Vader. Dit is sy priesterskap wat hy aan niemand anders gee nie.
3. In die Nuwe Testament het hulle niks om aan te voer om hulle bewering te staaf nie behalwe die woorde: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou” (Mat 16:18), en: “Laat my skape wei” (Joh 21:15).
Maar dan moet hulle eers bewys dat met hierdie woorde aan Petrus mag oor al die kerke gegee word en dat bind en ontbind beteken om gesag oor die hele wêreld te hê. Christus sê dat dit beteken om die sondes te hou of te vergewe. Dit geskied deur die bediening van die Woord en die toepassing van die tug (2 Kor 5:18; 2 Kor 10:16). Bowendien vermaan Petrus self die ouderlinge om as herders toesig te hou oor die kudde van God wat onder hulle is (1 Petr 5:2).
4. Hoe word die mense dan gebind of ontbind? Só dat die geloof sommige met God versoen en ander deur hulle ongeloof nog vaster gehou word. Hiermee dui Christus die waardigheid van die amp van die apostels aan. Aan Petrus word dus gegee wat die ander {417} gemeenskaplik met hom besit, want anders sou aan hulle onreg aangedoen en die majesteit van die leer aangetas word. Wat Christus in Mat 16:18 aan Petrus toesê, gee Hy later aan al die apostels (Joh 20:23).
Wat besit Petrus dan meer as die ander? Hierin is hy meer as hulle, beweer die Roomse, dat aan hom gemeenskaplik en afsonderlik gegee word wat aan die ander alleen gemeenskaplik gegee word. Maar Cyprianus sê dat God in die persoon van een die sleutels aan almal gegee het om daardeur die eenheid van sy kerk aan te dui.
5. Hulle sê egter dat Christus vir niemand anders gesê het nie: “Jy is Petrus en op hierdie petra sal Ek my gemeente bou”. Asof Christus hier iets anders aangaande Petrus getuig as wat hyself en Paulus aangaande al die gelowiges getuig (Ef 2:20; 1 Petr 2:5).
Ek sal graag aan Petrus die eer gee dat hy onder die eerstes gestel word wat die kerk gebou het. Maar ek sal nie toelaat dat hulle daaruit aflei dat hy heerskappy oor die ander het nie. Daar is immers ‘n groot onderskeid tussen eer en mag. Die apostels het Petrus toegelaat om in hulle vergadering die woord te voer en in ‘n sekere sin die eerste te wees om te vermaan en op te wek. Van ‘n mag wat hy oor hulle sou besit het, lees ons egter niks nie.
6. Hierdie ou beuselagtigheid is nie eers die moeite werd om te weerlê nie, naamlik dat die kerk op Petrus gebou is, omdat Christus gesê het: “Op hierdie petra sal Ek my gemeente bou”. Die hele Skrif getuig daarteen. Petrus het in sy naam en in die naam van sy broeders bely dat Christus die Seun van God is. Op hierdie petra bou Christus sy kerk. Dit is die enigste fondament. Niemand kan ‘n ander fondament lê nie (1 Kor 3:11).
7. Die Skrif alleen kan hierdie saak beslis. Dit getuig dat hy een van die twaalf was, gelyk aan die ander en nie hulle heer nie. As daar iets behandel moes word, het hy dit aan die vergadering voorgelê en gesê wat gedoen moes word. Hy luister egter ook na wat die ander sê en gee aan hulle die geleentheid om hulle mening uit te spreek. As hulle iets besluit het, gehoorsaam hy (Hand 15:7). Wanneer hy aan die opsieners skrywe, beveel hy hulle nie asof hy hulle meerdere was nie, maar hy spreek hulle aan as ampsgenote en vermaan hulle vriendelik. Hy verantwoord hom as hy beskuldig word dat hy by onbesnede mense in die huis gegaan het (Hand 11:4). As hy saam met Johannes na Samaria gestuur word, weier hy nie (Hand 8:14). Verder neem wat Paulus in die brief aan die Galasiërs skryf, alle twyfel by ons weg. Paulus sê dat hy die gelyke van Petrus is en dat Petrus aan hom die regterhand van gemeenskap gegee het, sodat hulle gesamentlik in die wingerd van die Here sal arbei. Hy vermeld ook dat hy Petrus bestraf het en {418} dat hy na die vermaning geluister het. Dit alles bewys dat Petrus nie meer mag oor die ander apostels besit het as hulle oor hom nie.
8. Maar al gee ek hulle toe wat hulle beweer, nl. dat Petrus die owerste van die apostels was en in waardigheid hulle oortref het, dan is daar nog geen rede om van ‘n enkele geval ‘n algemene reël te maak nie. As een mens aan die hoof van twaalf gestaan het omdat hulle getal so klein was, moet daaruit nou volg dat een aan die hoof van honderdduisend mense gestel moet word?
9. Laat dit nou goed wees dat die hele wêreld deur een mens geregeer word, dan sal ek nog nie toegee dat dit ook vir die regering van die kerk geld nie. As hulle dit wil hê, doen hulle Christus groot onreg aan. Want die Skrif sê dat Hy die Hoof van die kerk is, uit wie die hele liggaam — goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die ondersteuning van elke afsonderlike deel in sy mate — die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde (Ef 4:16). Ek weet wat hulle uitvlug is as dit hulle voorgehou word. Hulle sê dat Christus die eintlike Hoof van die kerk genoem word omdat Hy deur sy eie gesag en in sy eie Naam alleen regeer. Maar dit belet nie dat daar onder Hom ‘n bedienende hoof is wat sy plek op aarde inneem nie. Maar dan moet hulle eers bewys dat Christus so iets verorden het. Maar dit sal hulle nêrens lees nie; inteendeel, hulle sal baie plekke kry wat dit weerlê (Ef 1:22; Ef 4:15; Ef 5:23; Kol 1:18; Kol 2:10).
10. Meer as een maal gee Paulus vir ons ‘n beeld van die kerk. Maar van een hoof lees ons niks nie. Ons kan uit sy beskrywing eerder opmaak dat dit nie by die kerk van Christus pas nie. Deur sy hemelvaart is Christus nie meer sigbaar by ons teenwoordig nie. Tog het Hy opgevaar sodat Hy alles tot volheid kan bring (Ef 4:10). Daarom is Hy nou nog by sy kerk teenwoordig en sal Hy altyd teenwoordig wees. As Paulus wil aantoon op watter wyse Hy teenwoordig is, wys hy op die bedieninge (Ef 4:7,11). Waarom sê hy dan nie dat Christus één oor almal aangestel het om sy plek in te neem nie? Want dit moes hy op hierdie plek gewis gedoen het. En as hy oor die eenheid van die kerk spreek, waarom noem hy dan nie een opperpriester om die kerk in die eenheid te bewaar nie (Ef 4:4-6)? Paulus spreek tog hier oor die regering van die kerk. Hy spreek nie van ‘n alleenheerskappy onder die dienare nie maar wys ook aan dat daar nie so iets is nie.
11. Maar aangeneem dat die opperheerskappy oor die kerk so aan Petrus gegee is dat dit deur ‘n onafgebroke opeenvolging altyd só sou bly, waaruit sal hulle dan bewys dat die eer aan Rome toegekom het, dat elke biskop van dié stad aan die hoof van die hele wêreld staan? Hulle sê dat Petrus in Rome gelewe het en daar gesterf het. Maar Christus dan? Het Hy nie met sy dood sy priesterlike amp in Jerusalem vervul nie? Sou Hy, die Hoof van die kerk, {419} die eer nie vir Jerusalem kon verdien wat Petrus, sy mindere, vir Rome kon verdien nie? Wat ‘n kinderagtige dwaasheid!
12. Laat ons sien hoe pragtig hulle redeneer. Petrus het die oppergesag onder die apostels gehad, sê hulle. Daarom moet die kerk waar hy gewoon het, dié voorreg hê. Maar hy het eers in Antiochië gewoon. Daarom moet die kerk in Antiochië op die primaat aanspraak maak. Maar, sê hulle, Petrus het die eer met hom saamgeneem toe hy na Rome verhuis het. Daar sou dan ‘n brief van pous Marcellus aan die ouderlinge in Antiochië bestaan waarin hy skrywe: “Die stoel van Petrus was in die begin by julle, maar daarna is dit op bevel van die Here na ons toe oorgebring”. Maar waaruit het die goeie man geweet dat dit ‘n bevel van die Here was? Bowendien, as die primaat die persoon betref, het dit niks met die plek te maak nie. En as dit eenmaal aan ‘n sekere plek gegee is, word dit nie deur die dood of vertrek van die persoon weggeneem nie. Rome matig dus hom sonder enige rede die primaat aan.
13. Maar laat dit so wees. Laat die primaat van Antiochië op Rome oorgegaan het. Waarom het Antiochië dan nie die tweede plek behou nie? As ons ‘n kerk moet eer omdat sy stigter eerwaardig is, wat sal ons dan van die ander kerke sê? Paulus noem drie wat as pilare geag is, naamlik Jakobus, Petrus en Johannes. As aan Rome die eerste plek toegeken word ter ere van Petrus, waarom dan nie aan Jerusalem die tweede en aan Efese die derde plek nie? En tog het Jerusalem outyds die laaste plek ingeneem en Efese selfs geen plek nie.
14. Ons kan ook geen geloof heg aan wat hulle van die verblyf van Petrus in Rome verhaal nie. Uit die brief aan die Galasiërs weet ons seker dat hy ongeveer twintig jaar lank na die dood van Christus in Jerusalem gebly het. Daarna het hy na Antiochië gegaan; maar hoe lank hy daar vertoef het, is onseker. Eusebius noem vyf en twintig jaar, Gregorius sewe jaar. Van die dood van Christus af tot aan die end van die regering van Nero, onder wie Petrus dan gedood sou wees, is sewe en dertig jaar. As ons nou die twintig jaar daarvan aftrek wat Petrus in Jerusalem was, bly daar maar sewentien jaar oor, wat tussen Antiochië en Rome verdeel moet word. As hy lank m Antiochië gewoon het, was hy maar vir ‘n kort tydjie in Rome. Dit kan duidelik bewys word. In sy brief aan die Romeine noem Paulus Petrus nie. Dit sou hy nie kon doen as Petrus dié kerk geregeer het nie. Hy noem hom selfs ook nie onder die wat hy beveel om te groet nie.
15. Lukas verhaal dat die broeders Paulus tegemoet gegaan het (Hand 28:16). Oor Petrus rep hy geen woord nie. Van Rome af het Paulus verskillende briewe geskrywe. Maar met geen enkele woord maak hy melding daarvan dat Petrus ook daar is nie. In sy {420} brief aan die Filippense sê hy dat hy niemand het wat so getrou in die werk van die Here is soos Timotheüs nie, maar dat almal hulle eie belange soek (Fil 2:20-21). En in sy tweede brief aan Timotheüs kla hy dat niemand in sy eerste verdediging hom bygestaan het nie maar dat almal hom verlaat het (2 Tim 4:16). Waar was Petrus in die tyd? As hy ook in Rome was, soos die Roomse beweer, brandmerk Paulus hom hier as ‘n verlater van die evangelie. Ek sal dit nie betwis dat hy in Rome gesterf het nie, maar dat hy ‘n lang tyd daar biskop was, glo ek nie.
16. Net so min soos op die Skrif kan hulle hulle op die getuienis van die ou kerk beroep. Ek ontken nie dat die ou skrywers aan die kerk in Rome groot eer bewys nie. Daarvoor was daar veral drie redes. Die opvatting dat hierdie kerk deur Petrus gestig is, het baie daartoe bygedra om sy invloed en gesag te vestig. Daarom is dit in die Weste eershalwe die apostoliese stoel genoem. Bowendien was Rome die hoofstad van die ryk, sodat aangeneem kan word dat daar voortreflike en geleerde manne was. Ten derde is dit nie só deur godsdienstige twiste in beroering gebring soos die kerke in die Ooste en in Afrika nie. Só kon die kerk van Rome beter as die ander vashou aan die leer wat eenmaal oorgelewer is.
17. Maar as ons teëstanders hieruit wil konkludeer dat die kerk in Rome hierdeur die primaat oor al die kerke besit, is dit heeltemal verkeerd. Die ou skrywers spreek ook anders. Hieronymus noem verskillende voorbeelde van die eenheid van die kerk op maar spreek nêrens van een hoof op aarde nie. En Cyprianus sê dat daar maar een biskopsamp is waarvan elke biskop ‘n volledige deel besit, en maar een kerk wat hom in altyd wyer kringe openbaar. Soos daar maar een bron van die lig is wat sy baie strale uitskiet, een fontein waaruit baie stroompies oral heen vloei, een stam en wortel wat baie takke dra, só is die biskopamp van Christus algemeen en omvat die hele kerk.
HOOFSTUK VII. Die begin en voortgang van die Roomse pousdom totdat dit hom tot die teenswoordige hoogheid verhef het, waardeur die vryheid van die kerk onderdruk en alle regering omvergewerp is
1-2. Die Konsilie van Nicea het aan die biskop van Rome die eerste plek onder die patriarge toegeken en hom beveel om te sorg vir die kerke wat in die nabyheid van die stad geleë was. Maar {421} op die tweede Konsilie van Efese was die patriarg van Alexandrië voorsitter.
Op die Konsilie van Chalcedon het die gesante van die kerk van Rome wel die eerste plek ingeneem, maar — met toestemming van die keiser. Leo self erken dat dit ‘n buitengewone vergunning was. Dit het gebeur vanweë die gebleke onbekwaamheid van die biskoppe van die Oosterse Kerk op die Konsilie van Efese, waar alles in die war geloop het. Dit was dus ‘n buitengewone voorreg en geen algemene reël nie. Op die daaropvolgende Sinodes van Konstantinopel en Carthago was die afgesante van die kerk van Rome dan ook nie voorsitters nie. Op die Konsilie van Aquileia in Italië is van die biskop van Rome selfs nie eers melding gemaak nie.
1. Dit is nie moeilik om vas te stel wanneer die titel van primaat en ander titels ingesluip het waarop die pous nou so trots is nie. Cyprianus spreek die ander as medebiskoppe aan. Die Konsilie van Carthago het selfs verbied dat iemand eerste biskop genoem sou word. In die tyd was die biskop van Rome tevrede met die algemene naam “broeder”. Al die eretitels waarmee nou so gepronk word, was ten enemale onbekend toe die kerk nog suiwer was. Wat ‘n opperste priester en enigste hoof van die kerk op aarde was, het hulle toe nog nie geweet nie. Alle biskoppe het dieselfde priesterskap en gelyke waardigheid besit.
2. In die tyd van Gregorius, biskop van Rome, wou Johannes van Konstantinopel hom tot algemene biskop verhef. In die stryd hieroor voer Gregorius nie aan dat die waardigheid hom toekom nie, maar hy noem die naam onheilig en ‘n voorbode van die Antichris, wat naby is. “Nooit het iemand van my voorgangers hierdie onheilige naam gebruik nie”, skrywe hy. “Dit moet ver verwyder wees van ‘n Christelike gemoed dat iemand hom iets sou wil aanmatig waardeur hy, selfs in die allerminste, te kort sou doen aan die eer van sy medebroeders. Om tot dié snode naam toe te stem, beteken niks anders nie as om die geloof te vernietig… Elkeen wat hom die algemene priester noem… is in sy hoogmoed ‘n voorloper van die Antichris”.
3. Ek kom nou tot die seggenskap wat die Roomse pous hom oor alle kerke toe- eien.
Toe die Oosterse kerke deur die Ariaanse twiste verdeel en verskeur is, het Athanasius, die verdediger van die regsinnige belydenis, na Rome gevlug om aan die woede van sy vyande te ontkom en die verdrukte gelowiges te versterk. Hy is eervol ontvang en het dit gedaan gekry dat die kerke in die Weste sy saak sou verdedig. Só het Rome langsamerhand die toevlugsoord van gelowiges geword, wat aan hom graag soveel gesag opgedra het as wat hulle maar kon. Maar later het hierheen ook slegte en goddelose biskoppe uitgewyk om hulle wettige vonnis te ontvlug. En Rome het almal {422} met oop arms ontvang. Op die wyse het Rome vir homself buitengewone mag verkry, deurdat hy oral as bemiddelaar ingeroep is.
4. Laat ons nou ondersoek watter mag die Roomse stoel in die tyd gehad het. Die kerklike mag behels vier sake: om biskoppe te orden, konsilies uit te skrywe, appèlle aan te hoor en bestrawwende vermaninge uit te deel. Al die ou sinodes het beveel dat die biskoppe georden moes word deur die biskop van die hoofstad van hulle gebied. Nêrens beveel hulle om die biskop van Rome daarby te roep nie, behalwe in sy eie patriargaatskap. Langsamerhand het egter die gewoonte ontstaan dat al die biskoppe van Italië na Rome gekom het om daar georden te word. Net die metropolitane het dit nie gedoen nie. As een van hulle georden moes word, het die biskop van Rome een van sy presbiters daarheen gestuur, maar net om hom te verteenwoordig, nie om die ordening te lei nie. Die biskop van Rome het dus net in sy gebied die reg gehad om te orden. Aan die ordening was die versending van die sinodale brief verbonde. Dit was ‘n geskrif waarin die patriarge rekenskap gegee het van hulle geloof en hulle instemming met die besluite van die regsinnige konsilies te kenne gegee het. Die biskop van Rome was ook verplig om so ‘n sinodale brief te gee, ‘n bewys dat hy nie die meerdere van die ander was nie.
5. Die vermaninge wat die biskoppe van Rome aan ander uitgedeel het, het hulle ook van ander ontvang en verdra. Irenaeus het Victor ernstig vermaan omdat hy die vrede van die kerk versteur het oor ‘n saak van geen belang nie, en hy het gehoorsaam. Die biskoppe was voorheen so vry om mekaar oor en weer te vermaan as dit nodig was. Hieruit blyk dat die biskop van Rome geen alleenseggenskap oor die ander gehad het nie.
6. Elke metropolitaan moes op bepaalde tye die provinsiale sinode oproep. Hierin het die biskop van Rome geen seggenskap gehad nie. ‘n Algemene konsilie kon alleen deur die keiser saamgeroep word.
7. Wat die reg van appèl betref, het baie hulle dikwels op die biskop van Rome beroep, wat dan ook probeer het om hom die ondersoek van die sake toe te eien. Op die Konsilie van Mileve het hy selfs probeer om die besluit ongedaan te laat maak wat almal met die ban bedreig wat van oorsee na Rome wou appelleer. Die sinode het egter die ou besluit gehandhaaf.
8. Die volgende gebeurtenis toon aan wat die jurisdiksie van die biskop van Rome in dié tyd was. Die biskop van Carthago is deur die ander biskoppe op ‘n sekere aanklag onverhoord veroordeel. Daarop het die saak voor keiser Constantyn gekom, wat die beslissing daaroor opdra aan die biskop van Rome, bygestaan deur biskoppe uit Italië, Frankryk en Spanje. As dit die alleenreg van die biskop van Rome was om sake te verhoor, waarom dan ander {423} bygevoeg? En dit nogal deur die keiser! Die aanklaer verloor die saak en gaan in hoër beroep. Constantyn stel die biskop van Arles aan om die saak te verhoor. Hieruit blyk dat die biskop van Rome in dié tyd nog geen seggenskap oor die ander gehad het nie.
9. Leo, bekend vir sy eersug, benoem oral sy plaasvervangers maar met die uitdruklike bepaling daarby dat die metropolitane hulle ou privileges ongeskonde sal behou.
10. In die tyd van Gregorius het Rome in groot aansien gekom as gevolg van die oorloë, wat byna die hele wêreld beroer het. Van alle kante het die biskoppe hulle aangesluit by die biskop van Rome, sodat sy mag en aansien aansienlik gestyg het. Tog het hy nie na willekeur oor hulle geheers nie maar alleen die hardnekkiges deur sy gesag bedwing. Herhaaldelik getuig hy dat hy die regte van die ander biskoppe net so getrou bewaar as wat hy sy reg van hulle eis. “Ek begeer om my broeders in alles te eer”, skryf hy.
11. Dit was dus in dié tyd die hele mag van die biskop van Rome. Hy het hom teen hardnekkige biskoppe verset om die goeies te help. Gregorius het hom daarvan onthou om oor ander te heers. Hy het erken dat hy saam met die ander aan die keiser onderworpe was. Met ander kerke het hy hom nie bemoei nie, behalwe wanneer die nood dit vereis het. Tog het dit vir hom gevoel of hy hom in ‘n doolhof bevind omdat hy nie al sy tyd aan sy biskopsamp kon wy nie.
12. In dié tyd het die biskoppe van Rome en Konstantinopel met mekaar ‘n stryd oor die primaat gevoer. Die hoofstad van die keiserryk was toe Konstantinopel. Daarom moes die kerk daar ná die kerk van Rome ‘n ereplek inneem. Op die Taurinensiese Konsilie is besluit dat die stede waar die burgerlike regering gevestig was, ook die setels van die vernaamste biskoppe sou wees. Innocentius van Rome was egter bevrees dat die waardigheid van die biskop van Rome daaronder sou ly. Daarom het hy ‘n wet afgekondig waarin hy sê dat dit nie nodig was dat die kerk van hoofstad sou verander as die keiser van hoofstad verander nie. Die sinode het egter meer gesag as een man.
13. Kragtens hierdie ou bepaling is op die eerste Konsilie van Konstantinopel bepaal dat die biskop van dié stad die eerste sou wees ná die biskop van Rome, omdat Konstantinopel die tweede Rome was.
Maar toe die Konsilie van Chalcédon jare daarna dieselfde besluit geneem het, het Leo van Rome hom heftig daarteen verset, omdat hy ingesien het dat Konstantinopel nie lank met die tweede plek tevrede sou wees nie. Hy het egter niks uitgerig nie, en sy opvolgers het die saak laat rus.
14. Toe ‘n weinig daarna Johannes van Konstantinopel hom algemene patriarg gaan noem het, het Gregorius van Rome hom {424} daarteen verset. Tog het hy die eer wat hy aan ander geweier het, nie vir homself toegeëien nie. Hy bestraf die biskop van Alexandrië omdat dié hom (Gregorius) as algemene patriarg aangespreek het.
15. Eindelik het Bonifacius III van die keiser verkry wat Gregorius nie begeer het nie, naamlik dat Rome die hoof van alle kerke sou wees. Maar werklike gesag het Rome eers verkry nadat Frankryk deur allerhande skelmstreke onder die mag van Rome gekom het. Die mag van Rome is nog versterk deur Karel die Grote, wat keiser geword het deur die toedoen van die pous van Rome.
16. Van dié tyd af het die tirannie van Rome toegeneem. Dit kon ook toeneem as gevolg van die onkunde en slapheid van die ander biskoppe. Bernardus kla: “In Rome vergader mense wat besmet is met die sondes van eersug, geldsug, simonie, kerkroof, hoerery, bloedskande. As ek dit durf sê, is dit hier meer ‘n weiveld van duiwels as van skape”.
17. Al sou ons aan die pous die seggenskap en die hoogheid toestaan wat die setel in die dae van Leo en Gregorius besit het, sou ons op verre na nog nie by die dinge kom waarop die pous vandag aanspraak maak nie. Ek spreek nog nie eers oor die aardse heerskappy of burgerlike bestuur nie maar oor die geestelike mag wat hulle hulle toe-eien. Die pous is biskop van die hele wêreld. Hy het mag om te gebied, en almal moet gehoorsaam. Die provinsiale sinodes het geen gesag nie, omdat hy nie teenwoordig is nie. Hy alleen kan geestelikes orden. Kortom kom dit hierop neer dat by die pous van Rome alleen die hoogste beslissing in alle kerklike sake berus, sowel wat die leer en die tug as die maak van wette en die regspraak betref.
Niemand kan hom veroordeel as hy sy mag misbruik nie — geen keiser of koning of geestelike nie. Hy is dus regter oor almal maar aan die oordeel van niemand onderworpe nie. So word gesê: “Die sake van ander mense wil God deur mense laat besleg, maar hy wat op hierdie stoel sit, het Hy, sonder ondersoek, onder sy eie oordeel gestel”.
18. En om hierdie bepalinge meer gewig te gee het hulle dit valslik onder die naam van die ou biskoppe uitgegee asof die dinge maar altyd so was. Dit is egter sekerder as seker dat al die dinge eers later versin is. Alles wat vandag aan die pous toegeskrywe word, bv. dat hy nie kan dwaal nie, dat hy hoof is van al die kerke op aarde, ens., is uit die lug gegryp.
19. Uit die geskiedenis kan baie getuienisse asook besluite van konsilies aangehaal word waardeur die pous in sy aansprake weerlê kan word. Selfs die naam “hoof” is nie eens deur die ou kerk gebruik nie. Ek laat dit alles daar. Laat die beskermers van die Roomse stoel my net antwoord hoe hulle die titel algemene {425} biskop, wat deur Gregorius met die ban vervloek is, durf verdedig. Algemeen was die belydenis in dié tyd dat almal lede was van die kerk onder een Hoof. Die heiliges voor die wet, die heiliges onder die wet en die heiliges onder die genade is almal lede om die liggaam van Christus te volmaak. Niemand wou hom algemene biskop laat noem nie.
20. Ek sal al hulle aansprake nie stuk vir stuk nagaan nie. Ek vra weer aan die beste beskermers van die Roomse stoel of hulle nie skaam is om die teenwoordige pousdom te verdedig nie, wat honderd maal slegter is as in die dae van Gregorius. Hy kla dat hy deur te veel ander dinge in beslag geneem word; dat hy deur die wêreldse magte so neergedruk word dat hy nie tyd het om sy gees tot die hemelse dinge op te hef nie; dat hy deur die storms van die besige lewe só geteister word dat hy met reg kan sê dat hy in die diepte van die see gekom het. Tog het hy nog persoonlik gepreek, vermaan en bestraf, die kerk geregeer en sy ampsbroeders van raad gedien. En die man beween sy ellende! Wat moet ons oordeel dan wees oor die teenswoordige pousdom? Nou word daar geen predikasies gehou en geen tug gehandhaaf nie. Daar is geen ywer vir die kerk en geen geestelike bediening nie! Kortom, daar is niks anders as wêreld nie. En tog prys hulle dit asof daar niks beter gevind kan word nie!
21. Laat dit waar wees (wat dit nie is nie) dat Petrus deur die woord van die Here aangestel is as hoof van die hele kerk; dat hy die eer aan die stoel van Rome toevertrou het; dat dit deur die gesag van die ou kerk bekragtig en deur langdurige gebruik bevestig is; dat aan die pous die hoogste mag deur almal eendragtig opgedra is en dat hy regter is oor alle sake en mense en aan die oordeel van niemand onderworpe is nie. Laat hulle nog meer hê as hulle wil. Ek antwoord dat al die dinge waardeloos is, as daar in Rome nie ‘n kerk en ‘n biskop is nie. Wat self geen kerk is nie, kan nie die moeder van die kerke wees nie. En wie self geen biskop is nie, kan nie die owerste van die biskoppe wees nie. Die kerk word tog aan sekere merktekens geken. En ‘n biskop oefen tog ‘n amp uit. Hy onderwys die volk uit die Woord van God, bedien die sakramente en vermaan en bestraf die sondaars. Maar die pous raak nie een van die dinge selfs met sy pinkie aan nie.
22. Dis met ‘n biskop nie soos met ‘n koning gesteld nie. Hy behou sy eer en titel ook al verrig hy nie die taak van ‘n koning nie. Maar ‘n biskop is gebind aan die bevel van Christus. Nou beweer ek dat die pous geen biskop is nie. Eerder die teenoorgestelde. Die wêreld is vandag vol verkeerde en goddelose leringe, vol van bygeloof, verblind deur dwalinge en in afgodediens versonke. Al hierdie dinge het hulle oorsprong by die pouse. Daar is dan ook geen ander rede waarom hulle so teen die opkomende {426} leer van die evangelie woed en konings en vorste tot wreedheid aanspoor nie, as net dit dat hulle insien dat hulle hele ryk inmekaarstort sodra die evangelie van Christus heers. Leo was wreed. Clemens bloeddorstig. Paulus onmenslik. Sal die apostoliese stoel dan nou dáár wees waar niks anders as huiweringwekkende afval gesien word nie? Sal hy die stadhouer van Christus wees wat die evangelie vervolg en daarmee bewys dat hy die Antichris is? Sal hy die opvolger van Petrus wees wat met vuur en swaard alles verwoes wat Petrus gebou het? En sal hy hoof van die kerk wees wat die kerk afhou en afskeur van Christus, die ware Hoof daarvan?
23. Sommige meen dat ons kwaadspreek as ons die pous die Antichris noem, maar ons spreek maar net Paulus na. Hy skryf dat die Antichris in die tempel van God sal sit (2 Thess 2:4). Elders getuig die Heilige Gees dat sy ryk deur grootspraak en godslasteringe gekenmerk word (Dan 7:25). Hy stry dus teen die ryk van Christus. Maar nou neem hy nie die Naam van Christus of van die kerk weg nie maar misbruik dit as ‘n voorwendsel en skuil daaronder soos onder ‘n masker. Alle ketterye en sektes behoort wel tot die ryk van die Antichris, maar die eintlike afval kom tog eers as die hele kerk daardeur in beslag geneem word, al volhard baie lidmate hier en daar nog in die ware eenheid van die geloof.
Verder is dit die kenmerk van die Antichris dat hy God se eer Hom ontroof om dit vir homself toe te eien. Dit is dan ook die vernaamste kenmerk waarop ons moet let as ons na hom soek, veral as hy deur sy hoogmoed voortgaan om die kerk te verstrooi. Dit alles vind ons by die pous.
24. Laat die Roomse nou die oudheid teenoor ons stel. Dis dwaas en belaglik om die eer van die primaat so aan een plek te bind dat hy, wat die verwoedste vyand van Christus is, die grootste teenstander van die evangelie, die verwoester van die kerk, die wreedste slagter van die heiliges, as die stadhouer van Christus, die opvolger van Petrus en die opperste hoof van die kerk gehou moet word, net omdat hy op die stoel sit wat van ouds af die eerste van almal was.
27-28. As ons tot die persone kom, vind ons onder die stadhouers van Christus manne soos Julius, Leo, Clemens en Paulus, wat van Christus weinig of niks geweet het nie. Maar waarom noem ek vier of vyf pouse? Die godsdiens van die pouse is genoegsaam bekend. Die eerste artikel van hulle verborge teologie is dat daar geen God is nie; die tweede dat alles wat van Christus geskrywe staan en geleer word, leuens en bedrog is, en die derde dat die leer van die lewe hiernamaals en die opstanding pure fabels is.
Johannes XXII weer het openlik beweer dat die siel sterflik is en saam met die liggame vergaan tot op die dag van die opstanding. Geen kardinaal het hom teëgespreek nie. Die koning van Frankryk {422} het hom gedwing om die dwaalleer te herroep.
29-30, Maar ek het nie lus om te twis nie. Ek keer terug na die saak waarmee ek begin het. Dit is goddeloos en smadelik vir Christus om Hom en die Heilige Gees en die kerk so aan een plek te bind dat elkeen wat daar die leiding het, vir sy stadhouer en hoof van die kerk gereken moet word, ook al sou dit die duiwel wees. En dit alleen omdat dit dan die stoel van Petrus sou gewees het. Die pouse is lankal ontbloot van alle godsdiens of die grootste vyande daarvan. Hulle word deur die stoel waarop hulle sit, net so min stadhouers van Christus as wat ‘n afgod God word as hy in die tempel van God geplaas word.
Verder bedwing hulle die ongebondenheid van die volk nie met die tug nie. Met hulle hele hofstoet, met hulle hele skare van geestelikes het hulle hulle so oorgegee aan alle slegtigheid, onsedelikheid, onreinheid en misdaad dat hulle meer na monsters as na mense lyk. Rome mag voorheen die hoof van die kerke gewees het; teenswoordig is dit nie werd om onder die kleinste toontjies gereken te word nie. Op hulle kardinale is van toepassing die woord van die profeet: “Julle het van die weg afgewyk, julle het baie deur jul onderrig laat struikel, julle het die verbond van Levi verbreek, sê die HERE van die leërskare. So maak Ek julle dan ook veragtelik en gering by die hele volk” (Mal 2:8-9(a)). Beroep hulle hulle op die woord van die Here aan Petrus (Luk 22:32), ons sal op ons beurt op hulle van toepassing maak die woord van die Here aan dieselfde Petrus: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok” (Mat 16:23).
HOOFSTUK VIII. Die mag van die kerk met betrekking tot die leerstellinge van die geloof. Die teuellose ongebondenheid waarmee hierdie mag in die pousdom misbruik is om die suiwere leer te vervals
1. Nou volg die derde punt. Dit handel oor die mag van die kerk. Die mag kan gesien word deels in elke biskop, deels in die provinsiale en deels in die algemene konsilies. Dis ‘n geestelike mag en bestaan in die bevoegdheid om te leer, om te regeer en om wette te maak. Die stuk oor die leer bestaan uit twee dele: die bevoegdheid om leerstellinge neer te lê en die bevoegdheid om hulle uit te lê. Verder moet onthou word dat die doel van die mag is om op te bou en nie om af te breek nie (2 Kor 10:8; 13:10). {428} Ook moet hulle wat die mag uitoefen, nie dink dat hulle meer is as dienaars van Christus en van sy gemeente nie. Die dienaars self moet die gesag van Christus eerbiedig. Van Hom alleen staan daar geskrywe: “Luister na Hom” (Mat 17:5). Die kerk besit dus geen onbeperkte mag nie. Daarom is dit goed om daarop te let hoe dit deur profete en apostels beskrywe word. Anders verval ons tot tirannie.
2. Ons moet in gedagte hou dat alle gesag en waardigheid wat die Heilige Gees in die Skrif aan die priesters, die profete, die apostels of hulle opvolgers toeken, nie aan die mense self gegee word nie maar aan die diens waaroor hulle aangestel is, dit wil sê aan die Woord, waarvan die bediening aan hulle toevertrou is. Hulle het geen gesag gehad om te leer nie, behalwe in die Naam en deur die Woord van die Here. As hulle tot hulle amp geroep word, word hulle terselfdertyd beveel om alleen te spreek wat die Here hulle in die mond lê. Die gesag van die priesters weer word met die swaarste strawwe bevestig. Maar dan moet hulle ook voldoen aan die voorwaarde om gehoor te word. “Die lippe van ‘n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is ‘n boodskapper van die HERE van die leërskare” (Mal 2:7). Dit wil sê die priester moet, deur wat hy verkondig, bewys dat God hom gestuur het.
3. Die gesag van die profete beskrywe God aan Esegiël met hierdie woorde: “Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku” (Eseg 3:1,7; vgl. ook Jer 23:28). Geen profeet het dus gespreek as die Here hom nie die woorde in die mond gelê het nie.
4. Die apostels word genoem die lig van die wêreld en die sout van die aarde (Mat 5:13). Na hulle moet geluister word soos na Christus (Luk 10:16). Alles wat hulle op aarde bind of ontbind, sal in die hemel gebind of ontbind wees (Joh 20:23). Maar hulle naam gee al te kenne hoeveel hulle in hulle ampsbediening toegestaan is. Hulle mag nie spreek wat hulle wil nie, maar moet getrou die opdragte oorbring van Hom wat hulle gestuur het (Mat 28:19). Ja, Hyself pas hierdie leer op Homself toe as Hy sê: “My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het” (Joh 7:16). Die mag van die kerk is dus nie onbegrens nie maar onderworpe aan die Woord van God en daarin ingesluit.
5. Van die begin af was dit dus so, en dit is vandag nog so, dat die diensknegte van God niks mag verkondig wat hulle nie van Hom geleer het nie. God het hulle egter op verskillende maniere onderwys na gelang van die tye waarin hulle opgetree het. Hy doen dit nou anders as in vroeër eeue. Ek bedoel dit dat God Hom aan die mense alleen deur die Seun openbaar, die enigste Wysheid, {429} Lig en Waarheid. Uit hierdie bron het die aartsvaders en die profete geput. Maar die wysheid het hom nie altyd op dieselfde manier geopenbaar nie. By die aartsvaders gebruik God verborge openbaringe, wat Hy terselfdertyd met tekens bevestig. Hulle weer het van mond tot mond aan hulle nageslag oorgelewer wat hulle ontvang het. En God het in hulle getuig dat wat hulle gehoor het, van die hemel afkomstig was.
6. Maar toe dit God behaag het om ‘n duideliker gestalte aan sy kerk te gee, het Hy sy Woord op skrif laat stel Daaruit moes die priesters neem wat hulle die volk moes leer, en daaraan moes alle onderwysing getoets word. Na die afkondiging van die wet is die priesters beveel om niks anders te leer nie as wat daarin vervat was. Daarna het die profete gekom, wat uitleggers van die wet was. Hulle het niks daaraan toegevoeg nie, behalwe die voorsegging van die toekomstige dinge. Ter wille van die swakheid van sy volk het God ook hulle profesieë as deel van sy Woord laat opskrywe. Hierby kom die geskiedenisboeke, wat ook die werk van die profete is onder ingewing van die Heilige Gees. Die psalms tel ek ook by die profesieë. Dit was dus vir die ou verbondsvolk die Woord van die Here tot op die koms van Christus. So het God getrou die weg aangewys waarvan geen haarbreedte afgewyk moet word nie (Mal 4:4).
7. Maar toe die Wysheid van God in die vlees geopenbaar is, het Hy aan ons alles verkondig wat die menslike verstand aangaande die hemelse Vader kan begryp en moet bedink. Ons besit nou die volle waarheid aangaande God (Hebr 1:1). Met hierdie woorde gee die skrywer te kenne dat God se openbaring finaal is in sy Seun. Dis die laaste en ewige getuienis van sy kant. Daarom word die hele Nieu-Testamentiese tydperk tot op die oordeelsdag genoem die laaste uur, die laaste tye, die laaste dae, sodat ons tevrede sal wees met die leer van Christus en geen nuwe leer sal versin of toelaat dat dit deur ander versin sal word nie. Na die Seun moet ons luister (Mat 17:5). Dit wil sê dat ons voor Hom gestel word en beveel word om van Hom al ons wysheid te begeer, Hom alleen aan te hang en op Hom alleen te vertrou. Wat kan dan ook nog van mense verwag of begeer word noudat die Woord van die lewe Hom vertroulik aan ons geopenbaar het?
8. Dit is dan die grondreël: dat ons in die kerk niks anders as die Woord van God sal eerbiedig nie as net die wet en die profete en die geskrifte van die apostels. Verder dat alleen die Woord ons voorskryf hoe ons moet onderwys. Die apostels het alleen die skrifte van die profete uitgelê en aangetoon dat in Christus vervul is wat hulle voorsê het, en dit onder ingewing van die Heilige Gees. Christus beveel hulle ook om te gaan verkondig wat {430} Hy hulle gebied. Verder sê Hy vir hulle: “Maar julle, laat julle nie Rabbi noem nie, want Één is julle leermeester: Christus” (Mat 23:8). Vanweë hulle onbekwaamheid om alles te verstaan wat Hy hulle geleer het, belowe Hy aan hulle die Gees van die waarheid, wat hulle in die hele waarheid sal lei en hulle sal herinner aan alles wat Hy hulle geleer het (Joh 14:26; 16:13).
9. Petrus, wat van sy Meester geleer het hoeveel hom geoorloof is, skrywe: “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God” (1 Petr 4:11), dit wil sê met die vaste vertroue wat ‘n dienskneg van die Here pas wat met sy bevele toegerus is. En dit beteken weer om hom ver weg te hou van alle menslike uitvindsels, sodat die suiwere Woord van God in die vergadering van die gelowiges onderwys en geleer sal word. Dit is die geestelike wapens, kragtig deur God om vestings neer te werp (2 Kor 10:4), waardeur die getroue diensknegte van God planne verbreek en elke skans wat teen die kennis van God opgewerp word, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus. Met hierdie groot mag is die herders van die kerk toegerus. Deur die Woord durf hulle alles vrymoedig aan. Hulle dwing die wêreld om te wyk vir die majesteit van die Woord. Deur die Woord gebied hulle oor almal, van die aansienlikste tot die geringste toe. Hulle bou die huis van Christus en werp die van Satan neer. Hulle laat die skape wei en vernietig die wolwe; onderrig die leersames en bestraf die weerspanniges; bind en ontbind, en as dit nodig is, bliksem en donder hulle, maar alles deur die Woord van God.
Ons stel dus vas dat dit vir die getroue dienaars nie toegelaat is om nuwe leerstukke te maak nie maar dat hulle eenvoudig moet bly by die leer waaraan God almal sonder uitsondering onderwerp het. Dit geld vir elkeen afsonderlik en dit geld vir die kerk in sy geheel. “Die geloof is uit die gehoor, en die gehoor is deur die Woord van God” (Rom 10:17). As die geloof alleen op Gods Woord rus, watter plek is daar dan vir die woord van die wêreld? God laat die mens nie toe om ‘n nuwe leerstuk te formuleer nie, sodat Hy, die Waaragtige, wat nie kan lieg of bedrieg nie, alleen ons leermeester sal wees.
10. As ons hierdie mag van die kerk vergelyk met die mag waarmee die geestelike tiranne hulle by die volk van God opdring, is dit ‘n vergelyking soos die tussen Christus en Belial. Vir hulle is dit ‘n uitgemaakte saak dat die algemene konsilie die ware beeld van die kerk is. Daarna stel hulle vas dat elke konsilie regstreeks deur die Heilige Gees geregeer word en daarom nie kan dwaal nie. En aangesien hulle self die konsilies regeer en uitmaak, maak hulle vir hulleself aanspraak op alles wat dan van die konsilies sou geld. Só wil hulle ons geloof bind aan alles wat hulle goedkeur of veroordeel. Intussen smee hulle na willekeur en {431} met veragting van Gods Woord leerstukke en eis dat ons dié sal glo. Volgens hulle is alleen hy ‘n Christen wat al hulle leerstukke aanneem, al is dit nie met ‘n helder dan tog met ‘n ingewikkelde geloof.
11. Watter bewyse het hulle dat aan die kerk die gesag gegee is? Hulle sê dat dit die belofte het dat dit nooit deur Christus verlaat sal word nie maar deur sy Gees in alle waarheid gelei sal word. Maar baie van die beloftes wat hulle noem, is aan elke gelowige net sowel as aan die hele kerk gegee. Toe die Here vir die apostels gesê het: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mat 28:20), het Hy dit nie net vir hulle gesamentlik gesê nie maar ook vir elkeen afsonderlik. Dit geld ook van die belofte aangaande die Heilige Gees (Joh 14:16). Hy het dit ook belowe aan ander dissipels wat Hy alreeds aangeneem het of wat nog later in Hom sal glo. As hulle nou sulke beloftes so uitlê dat hulle net aan die kerk in sy geheel en nie aan die gelowiges afsonderlik ook gegee is nie, ontneem hulle aan die Christene alle vertroue en bemoediging. Maar dit nou daargelaat. Ek bely dat die Here sy volk gedurig bystaan en hulle met sy Gees regeer (1 Kor 2:12). Ek bely verder dat die Gees nie ‘n Gees van dwaling, van onwetendheid, van leuen of duisternis is nie maar die Gees van gewisse openbaring, wysheid, waarheid en lig, wat ons leer wat die hoop van die roeping deur God en wat die rykdom van die heerlikheid van God se erfdeel onder die heiliges is (Ef 1:18). Maar aangesien selfs die voortreflikste van die gelowiges nog maar die eerstelinge van die Gees ontvang het, moet almal hulle binne die perke van Gods Woord hou, sodat hulle nie van die regte pad sal afdwaal nie.
12. Hierteen sal hulle inbring dat alles wat aan elkeen van die gelowiges gedeeltelik gegee word, geheel en al en ten volle aan die kerk self toekom. Dit ontken ek. God het wel aan elke deel afsonderlik die gawes van sy Gees met mate só uitgedeel dat aan die liggaam niks noodsaakliks ontbreek nie. Maar aan die rykdomme van die kerk ontbreek daar altyd daardie volkome volmaaktheid waarop ons teenstanders roem. Daarom word die kerk nog nie in die steek gelaat nie, want die Here weet wat dit nodig het. Maar om dit nederig en beskeie te hou, gee Hy daaraan nie meer as wat vir hom nuttig is nie.
Hierteen bring hulle in dat die kerk met die waterbad deur die Woord gereinig is (Ef 5:26). En ook dat dit ‘n pilaar en grondslag van die waarheid genoem word (1 Tim 3:15). Maar in die eerste plek word hier nie geleer wat Christus alreeds in sy kerk voltooi het nie maar wat Hy nog daeliks daarin werk. As Hy almal daeliks heilig en reinig, staan dit vas dat hulle nog vol vlekke en rimpels is. Dit is dus dwaas om te glo dat die kerk in alle opsigte {432} onbevlek is as sy lidmate nog met sonde bevlek is.
Die kerk is deur Christus geheilig. Maar dis nog maar die begin van die heiligmaking. Die volkomenheid breek eers aan met die wederkoms van Christus. As ons dit nie glo nie, moet ons saam met die Pelagiane bely dat die regverdigheid van die gelowiges volmaak is, en moet ons saam met die Donatiste geen swakheid verdra nie. Die ander teks (1 Tim 3:15) beteken maar net dat in die kerk God se waarheid deur die diens van die prediking bewaar word. Die kerk bewaak dus die waarheid as dit die Woord van God bewaar (Ef 4:11).
13. As hulle sê dat die kerk nie kan dwaal nie, lê hulle dit só uit dat die kerk veilig sonder die Woord kan gaan as dit deur die Gees van God gelei word. Dit kan niks anders as die waarheid spreek nie. En as dit daarom iets buite of naas Gods Woord vasstel, moet dit vir ‘n uitspraak van God gehou word. Maar as ons sê dat die kerk nie kan dwaal in sake wat vir die saligheid nodig is nie, bedoel ons daarmee dat dit afsien van sy eie wysheid en hom deur die Heilige Gees, wat deur die Woord spreek, laat onderwys. Dit is dus die verskil: hulle sê dat die kerk gesag het buite die Woord om; ons sê dat dit aan die Woord gebind is. Christus sê vir sy apostels dat die Heilige Gees hulle in die hele waarheid sal lei. Maar hoe? “Hy sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh 16:13; Joh 14:26). Nou kan ons insien hoe verkeerd hulle spreek. Die Heilige Gees self wil met ‘n onverbreeklike band aan die Woord gebind wees. As ons teenstanders leer dat die kerk deur die Gees geregeer word sonder die Woord, wil hulle die onskendbare besluit van God afskaf wat verbied dat by sy Woord iets bygevoeg of iets daarvan weggeneem word.
14. Hierteen bring hulle in dat die kerk sommige dinge aan die geskrifte van die apostels moes toevoeg of dat hulle self later mondeling moes aanvul wat hulle minder duidelik geleer het omdat Christus vir hulle gesê het: “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie” (Joh 16:12). Die “baie dinge” is dan die leerstellinge wat hulle, sonder die Skrif, alleen deur die gewoonte, aangeneem het. Ek erken dat die dissipels nog onkundig was toe die Here dit vir hulle gesê het, maar was hulle dit nog toe hulle hulle geskrifte uitgegee het, deur die Heilige Gees in alle waarheid gelei?
Laat ons hulle dit egter toegee. Maar dan moet hulle aantoon watter dinge sonder die Skrif geopenbaar moet word. Wie sal spreek as die Here swyg? En as iemand durf spreek, waarmee sal hy dit bewys?
15. Hulle beweer ook dat Christus beveel het om elkeen wat die leer van die kerk weerspreek, vir ‘n heiden en tollenaar te hou (Mat 18:17). Hier is egter geen sprake van die leer nie maar {433} van die kerklike tug. Hulle wat vermaan word, moet hulle nie teen die oordeel van die kerk verset nie. Maar dit nou daargelaat; wat anders kan hulle uit die plek aflei as dit dat niemand die eensgesindheid van die kerk mag minag nie? En wie ontken dit? Maar dan moet die kerk uit Gods Woord spreek. Anders word dit deur die goddelose mense bespot omdat dit meninge van mense vir goddelike uitsprake hou.
16. Die voorbeelde wat hulle gebruik, help hulle ook niks nie. Hulle beweer dat die kinderdoop nie op ‘n duidelike bevel van die Skrif berus nie maar op ‘n besluit van die kerk. Op ‘n ander plek sal ek aantoon dat die bewering onjuis is.
Hulle sê ook dat op die Konsilie van Nicea besluit is dat die Seun eenswesens met die Vader is, terwyl die woord nêrens in die Skrif voorkom nie. Ek erken dit, maar aangesien die Skrif getuig dat daar maar één God is en Christus so baie male die enige en waaragtige God genoem word, wat het die vaders dan anders gedoen as om die eenvoudige sin van die Skrif te verklaar?
HOOFSTUK IX. Die konsilies en hulle gesag
1. Die pausgesindes dra alles wat van die kerk gesê word, dadelik oor op die konsilies, omdat hulle dan die kerk sou afbeeld. Ja, hulle hele stryd vir die mag van die kerk geskied met die oog op hulle pous en sy trawante. Voordat ek hierdie saak behandel, wil ek egter twee opmerkings maak. Ten eerste dat ek die ou konsilies van harte eerbiedig en begeer dat almal hulle die eer sal betoon wat aan hulle verskuldig is. Maar dan moet aan Christus niks ontneem word nie. Dit is sy alleenreg dat Hy voorsitter van alle konsilies is. En Hy is voorsitter as Hy die hele vergadering deur sy Woord en Gees bestuur. Ten tweede: Dat ek die konsilies nie so hoog ag soos ons teenstanders begeer nie, geskied nie omdat ek bevrees is dat hulle ons saak ongunstig en die van ons teenstanders gunstig gesind sal wees nie. Ons is vir die verdediging van die waarheid en die omverwerping van die pousdom oorvloedig deur die Woord van die Here toegerus. En ook die ou konsilies gee ons voldoende stof om dit te doen.
2. Laat ons nou oor die saak self spreek. As ons uit die Skrif te wete wil kom wat die gesag van die konsilies is, is daar geen duideliker belofte nie as hierdie woorde van Christus nie: “Waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde” (Mat 18:20). Maar dit geld net sowel vir elke besondere vergadering as vir ‘n algemene konsilie. Die nadruk val op die voorwaarde wat {434} Christus stel, naamlik dat in sy Naam vergader word. Wat beteken dit? Ek ontken dat hulle in Christus se Naam vergader wat God se verbod verwerp waarin Hy verbied om iets by sy Woord by te voeg of iets daarvan weg te laat (Deut 4:2; Openb 22:18) en volgens eie goeddunke een en ander vasstel. Dit is ook die verbond wat God in die ou tyd met die Levitiese priesters gesluit het, naamlik dat hulle uit sy mond sal onderwys (Mal 2:7). Dit het Hy ook van die profete geëis. En dieselfde wet lê Hy sy apostels op. Wie hierdie verbond skend, keur God nòg die priesterskap nòg enige gesag waardig.
3. Hulle bewering dat die waarheid nie in die kerk gevind word as dit nie by die herders gevind word nie, en dat die kerk nie bestaan as dit nie in die algemene konsilies gesien word, gaan nie op nie. In die dae van Jesaja het God die kerk in Jerusalem nog nie verlaat nie. Hoor egter wat hy van die herders sê: “Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom, honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer” (Jes 56:10 e.v.). Dieselfde geld van die kerk in die dae van Hosea Hos 9:8), Jeremia Jer 6:13; Jer 14:4) en Esegiël Eseg 22:25).
4. Nou mag miskien gesê word: So was dit onder die Jode, maar ons tyd is vry van so ‘n kwaad. Mog dit maar die geval gewees het! Die Heilige Gees sê duidelik deur die mond van Petrus: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer” (2 Petr 2:1). Christus en sy apostels sê dat die gevaar van die kant van die herders dreig (Hand 20:29). Die Antichris sal in die tempel van God sit (2 Thess 2:4). Die geskiedenis van al die eeue bewys dat die waarheid nie altyd by die herders gevind word nie en dat die behoud van die kerk nie van hulle afhang nie.
5. Niemand moet my woorde so opvat asof ek die gesag van die herders oral en sonder onderskeid wil ondermyn nie. Ek wys alleen daarop dat daar onderskeid tussen hulle gemaak moet word en dat nie elkeen ‘n herder is wat so genoem word nie.
Die pous en sy biskoppe verwerp die gehoorsaamheid aan Gods Woord. Tog probeer hulle om ons te oortuig dat die Gees van God voortdurend in hulle woon en dat die kerk met hulle bestaan en sterf. Asof die Here nie magtig is om die wêreld vandag net so te straf soos Hy die ondankbaarheid van die ou volk gestraf het nie, naamlik om die herders met blindheid en waansin te slaan (Sag 12:4). Hulle begryp nie dat hulle, dieselfde liedjie sing wat die bestryders van Gods Woord in die ou tyd gesing het nie (Jer 18:18).
6. Nou kan ons ook maklik antwoord op die punt aangaande die algemene konsilies. Dit kan nie ontken word dat die Jode in die dae van die profete die ware kerk gehad het nie. Maar watter {435} gedaante sou dit vertoon het as in dié dae ‘n konsilie van priesters saamgeroep was? Lees maar wat die profete van hulle sê (Jer 4:9; Eseg 7:26). Ons het ‘n merkwaardige voorbeeld van die gees wat in so ‘n vergadering sou geheers het in 1 Kon 22. Agab roep ‘n konsilie saam. Daar is vierhonderd profete wat gekom het om die goddelose koning te vlei. Daarom stuur God Satan uit om ‘n leuengees in hulle mond te wees. Die waarheid word daar veroordeel, Miga as ketter veroordeel, geslaan en in die gevangenis gewerp. Só het dit ook met Jeremia en die ander profete gegaan.
7. Hier is nog ‘n voorbeeld wat heeltemal voldoende is. Daar kan geen fout gevind word met die Joodse raad wat teen Christus vergader, sover dit sy saamstelling betref nie (Joh 11:47 e.v.). Formeel is alles in orde. Tog word Christus en sy leer daar veroordeel. In daardie vergadering was die kerk dus nie. En moet ons nie vrees dat so iets ons sal oorkom nie? Die Heilige Gees voorspel tog nadruklik deur die mond van Paulus dat daar afval kom (2 Thess 2:3). Dit kan nie gebeur as die herders God nie eers verlaat het nie. Daarom mag ons nie toegee dat die kerk in die vergadering van die herders bestaan nie. God verkondig nêrens dat hulle altyd goed sal wees nie maar wel dat hulle soms sleg sal wees.
8. Maar het die konsilies dan geen gesag om besluite te neem nie? Ja seker. Ek beweer ook nie dat alle konsilies veroordeel en hulle besluite verwerp moet word nie. Ek begeer maar net dat as ‘n besluit van ‘n konsilie aangehaal word, vooraf ondersoek sal word in watter tyd dit gehou is, waarom dit gehou is en watter persone daar teenwoordig was. Vervolgens dat die besluit wat geneem is, aan die Skrif getoets sal word. So sal dit gebeur dat die konsilies hulle gesag behou maar die Skrif die hoogste en eerste plek sal inneem. Ons erken graag die Konsilies van Nicea, Konstantinopel, Chalcedon en andere, wat saamgekom het om dwalinge te weerlê. Hulle besluite bevat niks anders as die suiwere en oorspronklike uitlegging van die Skrif nie. Latere konsilies lewer die bewys hoe dat die kerk langsamerhand ontaard het. Ongetwyfeld was daar toe ook goeie biskoppe, maar hulle is deur die ander oorstem.
9. Die enigste deugsame reël om tussen wettige en onwettige konsilies te onderskei is om die Skrif te laat spreek. Byna nege-honderd jaar gelede het die Konsilie van Konstantinopel besluit dat die beelde uit die kerke verwyder moet word. Nie lank daarna nie het die Konsilie van Nicea besluit dat hulle weer ingevoer moet word. Watter een sal ons nou as wettig erken? Oor die algemeen het die laaste een die veld behou. Die beelde is weer in die kerke ingevoer, en dis aanvaar om hulle te dien. Dis duidelik dat Satan die ingewer van so ‘n besluit is. Daarom is daar maar net een manier om tussen konsilies te onderskei, en dit is om hulle op {436} die weegskaal van Gods Woord te weeg.
10. Maar ook die ou konsilies was nie altyd volmaak nie. Menslike swakhede en sonde het hulle ook maar aangeklewe. ‘n Treffende voorbeeld hiervan is die Konsilie van Nicea, wat saamgekom het om die vernaamste stuk van ons belydenis teenoor Arius te verdedig. Dit was ‘n waardige vergadering. Tog het die eensgesindheid daar ook ontbreek. Beskuldigings is mekaar na die hoof geslinger, totdat keiser Constantyn ‘n end daaraan gemaak het.
11. Pous Leo beskuldig die Konsilie van Chalcedon van eersug en ligvaardigheid, hoewel hy erken dat sy leerstukke regsinnig is. Hy sê nie dat dit onwettig is nie maar erken dat dit kon dwaal. Ons besluit dus dat die Heilige Gees die konsilies, wat andersins vroom en heilig was, tog so geregeer het dat Hy hulle iets mensliks laat oorkom het, sodat ons nie op mense sou vertrou nie.
Uit die voorbeeld van die algemene konsilies kan ons nou maklik oordeel hoeveel gesag die konsilie van ‘n provinsie besit om geloofsartikels op te stel.
12. As die Roomse sien dat hulle hulle saak nie met argumente kan verdedig nie, neem hulle hulle toevlug na die Skrifwoord: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig” (Hebr 13:17). Maar ek beweer dat hulle geen voorgangers is nie. Josua was ‘n profeet en uitnemende herder. En wat sê God vir hom? “Hierdie wetboek mag uit jou mond nie wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan” (Jos 1:8). Ons erken dus net hulle as ons geestelike leiers wat nie van die wet van die Here afwyk nie. As ons maar te goeder trou die leerstellinge van elke moontlike herder moet aanvaar, waarom vermaan God ons dan so nadruklik om nie na die woorde van die valse profete te luister nie (Jer 23:16; Mat 7:15; 1 Joh 4:1)? “As ‘n blinde ‘n ander blinde lei, sal hulle altwee in die sloot val” (Mat 15:14). Ons moet ons nie deur name laat verblind nie maar die geeste op die proef stel of hulle uit God is (1 Joh 4:1).
13. Die kerk het dus geen mag om iets nuuts te leer nie. Laat ons nou ondersoek watter mag dit het om die Skrif uit te lê. As daar verskil oor die leer ontstaan, is daar seker geen beter geneesmiddel nie as om ‘n sinode van regsinnige biskoppe saam te roep waarop die leerstuk wat in geding is, ondersoek kan word. So ‘n uitspraak wat deur die herders van die kerk gesamentlik gegee word terwyl hulle die leiding van die Heilige Gees afgebid het, sal baie meer krag hê as ‘n verklaring van elkeen afsonderlik. Bowendien, wanneer die biskoppe saam vergader, beraadslaag hulle gesamentlik beter wat en hoe hulle moet leer, sodat daar geen verskil sal wees wat aanstoot gee nie. Ten derde word dié weg ons ook deur die {437} apostel Paulus in 1 Kor 14:29 voorgeskrywe. Al kan elke kerk dus selfstandig ‘n saak beoordeel, tog moet in ernstige sake die kerke gesamentlik optree. Só het die Konsilie van Nicea vergader, die leringe van Arius ondersoek en veroordeel en is die vrede in die kerk herstel; so het die Konsilie van Efese die dwalinge van Nestorius veroordeel, ens.
Laat ons egter net in gedagte hou dat ons nie altyd sulke voorstanders van die waarheid soos Athanasius, Basilius e.a. vind nie. Op die tweede Konsilie van Efese is die kettery van Euthyches gehandhaaf en ‘n godvrugtige man soos Flavianus uit die kerk verban. Dit is dus nie waar dat die uitleg wat ‘n konsilie van ‘n Skrifgedeelte gee, onfeilbaar is nie.
14. Maar die Roomse het iets anders op die oog as hulle leer dat die konsilies die mag het om die Skrif so uit te lê dat daar geen hoër beroep moontlik is nie. Hulle gebruik dit as ‘n voorwendsel om alles wat hulle konsilies vasgestel het, uitlegging van die Skrif te noem. Die leerstukke oor die vaevuur, die voorbidding van die heiliges, die oorbieg is dan alles uitlegging van die Skrif, hoewel daarvan geen woord in die Skrif staan nie. En dit nie alleen nie, maar dit sou dan nog uitlegging van die Skrif wees as ‘n konsilie iets sou vasstel wat lynreg in stryd met die Skrif is! Byvoorbeeld: Christus beveel almal om by die nagmaal uit die drinkbeker te drink. Die Konsilie van Constanz het dit egter verbied om die drinkbeker aan die gemeente te gee. Maar dis nog uitlegging van die woorde van Christus!
Paulus sê dat die verbod om te trou ‘n lering van die duiwel is (1 Tim 4:1). Die Gees sê dat die huwelik eerbaar is (Hebr 13:4). Hulle verbied die priesters om te trou en noem dit ‘n ware en natuurlike uitlegging van die Skrif. As iemand dit waag om hulle teë te spreek, word hy ‘n ketter genoem. Teen die uitspraak van die kerk kan nie in hoër beroep gegaan word nie. Om te twyfel of sy uitspraak waar is, is ongeoorloof, sê hulle.
Wat hulle verder leer oor die mag van die kerk om die Skrif goed te keur, slaan ek opsetlik oor. Dis godslastering om die uitsprake van God aan die menslike oordeel te onderwerp.
HOOFSTUK X. Die mag om wette te maak, ten opsigte waarvan die pous en sy aanhangers die siele op wrede wyse getiranniseer en gepynig het
1. Nou volg die tweede deel van die mag van die kerk, wat {438} volgens hulle daarin bestaan dat dit die mag het om wette te maak. Hieruit ontstaan die tallose menslike tradisies wat soos strikke die ellendige siele verwurg. So vervals hulle die diens van God en beroof Hom, die enigste Wetgewer, van sy reg. Daarom moet nou nagegaan word of dit vir die kerk geoorloof is om die gewetens deur sy wette te bind.
Dit gaan dus daaroor dat God behoorlik gedien word volgens die reël wat Hy voorgeskryf het, en dat ons geestelike vryheid onaangetas sal bly. Ons stryd gaan teen die tradisies. Dit is gebooie wat betrekking het op die diens van die Here wat deur mense gemaak is, buiten Gods Woord om. En ons doel is alleen om die barbaarse heerskappy te beteuel van hulle wat hulleself herders noem maar niks anders as wrede beuls is nie. Want hulle beweer dat die wette geestelik is en nodig om die ewige lewe te verkry. Só word die heerskappy van Christus aangetas en die vryheid wat Hy aan die gelowiges gegee het, onderdruk en vernietig.
Oor baie dinge wat hulle in hierdie verband beweer, swyg ek. Ek beweer net dit dat die gewetens nie gedwing moet word in sake waarin hulle deur Christus vrygemaak is nie. As hulle die genade wat hulle eenmaal in Christus verkry het, wil behou, moet die gelowiges een Koning erken, Christus, en deur die één wet van vryheid, die evangelie, geregeer word.
2. Ons sien hoe versigtig Paulus in hierdie saak opgetree het. Hy wou selfs nie in één saak die gewetens bind nie (1 Kor 7:35). Want hy het voorsien hoe die gewetens gewond sal word as hulle gedwing word om dinge te doen wat die Here hulle vrygelaat het. Hulle daarenteen het baie insettinge wat hulle met die swaar dreigement vasgestel het, naamlik die aansegging van die ewige dood. En hulle eis die volvoering daarvan baie gestreng af as iets wat noodsaaklik is om die saligheid te verkry. Daaronder is baie wat moeilik is om te hou. Almal saam is onmoontlik om te hou. Word die gelowiges nie hierdeur deur die grootste angs en skrik gepynig nie? Dit is daarom my bedoeling om sulke insettinge hier te bestry.
3. Hierdie saak bring baie in die war, omdat nie genoegsaam tussen die vierskaar van die gereg en die van die gewete onderskei word nie. Die moeilikheid word nog groter, omdat Paulus beveel om aan die owerhede gehoorsaam te wees, nie alleen uit vrees vir die straf nie maar ook ter wille van die gewete. Dit is dus nodig dat ons sal weet wat die gewete is. Dit hang saam met die woord scientia, wat “kennis” beteken. Die mens het egter ook ‘n besef van die oordeel van God oor sy dade wat hom nie toelaat om sy sonde te verberg nie maar hom skuldig stel voor Gods regterstoel. Dit word conscientia, “medewetenskap”, genoem. Die gewete is dus iets tussen God en die mens wat hom nie toelaat om iets te verberg nie maar hom agtervolg totdat hy skuld erken. Dit is die betekenis {439} van Paulus se woorde as hy sê dat die heidene se gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig (Rom 2:15). Hierdie besef wat die mens voor die oordeel van God stel, is aan hom gegee as ‘n bewaker om al sy geheime dade waar te neem, sodat niks in die duisternis verborge sal bly nie. Daarvandaan kom die ou spreekwoord: “Die gewete is soos duisend getuies”.
4. Soos die goeie werke op die mense betrekking het, so het die gewete betrekking op God. Dit is niks anders nie as suiwerheid van hart. In dié sin skryf Paulus dat die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof (1 Tim 1:5). ‘n Bietjie verder aan sê hy dat sommige aan die geloof skipbreuk gely het omdat hulle nie aan die goeie gewete vasgehou het nie. Die goeie gewete is dus ‘n lewende gesindheid om God te dien en ‘n opregte begeerte om vroom en heilig te lewe.
Soms word dit ook tot die mense uitgestrek. Paulus sê dat hy hom oefen om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê (Hand 24:16). Maar dit is alleen gesê omdat die vrugte van die goeie gewete die mense ten goede kom. Eintlik sien die gewete alleen op God. Daarom word ook gesê dat die wet die gewete bind, omdat dit die mens bind sonder aansien van persoon en sonder om met hom rekening te hou. Byvoorbeeld: God gebied ons om kuis en ingetoë te lewe. Aan die onderhouding van hierdie wet is ek gebind, ook al leef daar geen ander mens op die aarde nie.
Anders is dit gesteld met die middelmatige sake. Van hulle moet ons ons onthou as hulle aanstoot gee. Maar die gewete bly vry (1 Kor 10:28).
5. As mense wette maak om vrees in te boesem asof die onderhouding daarvan op sigself noodsaaklik is, word die gewete geweld aangedoen. Want die gewete het met God te maak en nie met die mense nie. Maar die moeilikheid wat uit Paulus se woorde ontstaan, is nog nie weggeneem nie. Want as ons die owerhede moet gehoorsaam ook ter wille van die gewete, skyn daaruit te volg dat die wette van die owerhede ook oor die gewete heers. En as dit waar is, geld dit ook van die kerklike wette. In die eerste plek moet ons hier onderskei tussen die algemene en die besondere. Die wette afsonderlik raak nie die gewete nie. Tog moet ons die owerhede eer, omdat God hulle ingestel het. Die besondere wette het egter nie betrekking op die inwendige regering van die siel nie, omdat die diens van God bo alle menslike insettinge verhef is. Menslike wette wat goed en regverdig is, moet onderhou word, of hulle nou deur die owerheid of deur die kerk gemaak word. Op sigself bind hulle egter nie die gewete nie, omdat die noodsaaklikheid om hulle te onderhou op ‘n algemene doel betrekking het en nie op hulleself nie. {440}
6. Sodanig is die wette wat teenswoordig kerklike insettinge in die pousdom genoem word en as die ware en noodsaaklike diens van God aan die gelowiges opgedring word. En net so ontelbaar soos hulle is, net soveel bande is hulle om die siele mee te verstrik. Ek sal net die hoofsaak noem en my besig hou met die mag wat hulle het, soos hulle sê, om wette te maak. Onder hierdie voorwendsel beswaar hulle die gewetens met nuwe wette. Hulle beweer dat hulle deur die Here aangestel is as geestelike wetgewers, omdat die regering van die kerk aan hulle toevertrou is. Daarom beweer hulle dat alles wat hulle beveel en voorskrywe, noodsaaklik onderhou moet word. Elkeen wat hulle gebooie oortree, is dubbel skuldig. Hy is weerspannig teen God en ongehoorsaam aan die kerk. Laat ons toegee dat al die mag wat die ware biskoppe het, hulle met reg toekom. Dan ontken ek nog dat hulle as wetgewers oor die gelowiges aangestel is om wat hulle uit hulleself, sonder Gods Woord, uitgedink het, aan die kerk op te lê as dinge wat noodsaaklik onderhou moet word. Die apostels het so ‘n reg nie geken nie, en God verbied sy dienaars so iets. Ek vra my verwonderd af hoe hulle dit kan waag om vir hulle ‘n mag aan te matig wat God uitdruklik verbied.
7. Die Here het in sy wet aan ons die volmaakte reël gegee om reg te lewe en het aan die mense niks oorgelaat om daarby te voeg nie. Hy het dit gedoen, in die eerste plek, sodat ons sal bely dat Hy ons enigste Meester en die Bestuurder van ons lewe is, en in die tweede plek om te betuig dat Hy van ons niks anders as gehoorsaamheid eis nie. Daarom sê Jakobus: “Hy wat sy broeder oordeel, oordeel die wet; en as jy die wet oordeel, is jy nie ‘n dader van die wet nie, maar ‘n regter. Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf” (Jak 4:11-12). Hier maak God daarop aanspraak dat dit sy reg alleen is om ons deur sy Woord en wette te regeer. Dit kan geen mens hom aanmatig nie. Vergelyk ook Jes 33:22; 1 Petr 5:3. Daarmee is die bevoegdheid hulle ontneem waarop hulle aanspraak maak, naamlik om in die kerk iets te beveel buite Gods Woord om.
8. Laat ons die twee redes in gedagte hou wat ek genoem het waarom die Here die reg vir Homself voorbehou. Die eerste is dat sy wil vir ons die volmaakte reël sal wees van alle geregtigheid en heiligheid. Kennis van Hom is die volmaakte wetenskap. Die tweede is dat ons Hom moet gehoorsaam en van sy wil afhanklik is. As ons die twee redes in gedagte hou, sal ons maklik kan onderskei watter insettinge van mense met Gods Woord in stryd is.
Met die eerste rede stry die apostel Paulus teen die valse leraars in sy brief aan die Kolossense. God het ons ten volle geopenbaar hoe Hy gedien wil wees. In die evangelie is al die wysheid begrepe waardeur die mens van God in Christus volmaak kan word. Alle {441} skatte van wysheid en kennis is in Hom verborge. Daarmee staan alle eiewillige godsdiens veroordeel.
Die tweede rede gebruik hy in sy brief aan die Galasiërs waarin hy duidelik sê dat die gewete deur geen menslike insettinge gebind mag word nie (Gal 5).
9. Laat ons die leer op ons tyd toepas. Ons beweer dat die sogenaamde kerklike insettinge waarmee die pous en sy aanhangers die kerk belas, verderflik en goddeloos is, sowel die wat oor die seremonies of godsdienstige gebruike handel, as die wat oor die kerkregering handel. Ons teenstanders daarenteen voer aan dat hulle heilig en heilsaam is. Ons het rede om hierdie insettinge te bestry. In die eerste plek getuig die outeurs daarvan self dat die hoofsaak van die godsdiens in hulle geleë is. Waarin sondig ons dan as ons nie kan verdra wat Paulus ook nie kon verdra nie, naamlik dat die mens sal bepaal wat die wettige wyse is om God te dien? Dis ‘n verloëning van Christus (Kol 2:20). Dis ook nie onbekend hoe hulle die gewetens dwing om te onderhou wat hulle beveel nie. Ook hierin het ons Paulus aan ons kant, wat dit ook nie kon verdra nie (Gal 5:1).
10. Nou kom nog die allerergste hierby. As eenmaal ‘n begin daarmee gemaak word om die godsdiens in sulke nietige versinsels te soek, word hierdie verkeerdheid op die voet gevolg deur die kwaad wat Christus die Fariseërs verwyt (Mat 15:3 e.v.). Van hierdie beskuldiging van Christus kan hulle hulle nie suiwer nie. Want dit is by hulle ‘n groter sonde om aan die end van die jaar te versuim om te bieg as om die hele jaar deur baie sleg te lewe; om op Vrydag ‘n stukkie vleis te eet as om elke dag die hele liggaam deur hoerery te verontreinig; om by ‘n afgodsbeeld sonder eerbetuiging verby te loop as om mense smadelik te behandel. As hierdie dinge en nog baie ander insettinge nie as gevolg het dat God se gebod kragteloos gemaak word nie, wat is dit dan? Die onderhouding van God se gebooie prys hulle maar baie matig aan, maar op die noukeurige gehoorsaamheid aan hulle eie gebooie lê hulle naarstig nadruk. Oortreding van God se wet straf hulle maar baie lig, maar die geringste oortreding van één van hulle gebooie straf hulle met gevangenis, ballingskap, vuur en swaard. Hulle sal liewer sien dat die hele wet van God ten onder gaan as dat een titteltjie van hulle gebooie geskend word. Só word meer waarde geheg aan die eerste beginsels van hierdie wêreld (Gal 4:9) as aan die hemelse woorde van God.
11. Daar is nog twee ander euwels wat ons in hulle insettinge afkeur. In die eerste plek is hul nutteloos en selfs dwaas. Ten tweede is hulle aantal so groot dat hulle die gewete onderdruk, in ‘n soort Jodedom terugval en nie tot Christus kom nie. Dit is, soos Paulus sê, dinge wat ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens {442} en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, maar geen waarde het nie maar strek tot versadiging van die vlees (Kol 2:23).
12. Só word vandag nie net die ongeleerde volk bedrieg nie maar almal gevang wat trots is op hulle menslike wysheid. Huigelaars en dwase vroutjies mag meen dat niks beter bedink kan word nie, maar wie dieper grawe en na waarheid en godsvrug soek, merk dat dit nuttelose beuselagtighede is wat moet dien om die mense te bedrieg. Aan die een kant het hulle as voorbeelde die dwaashede van die ou heidene geneem, en aan die ander kant het hulle soos ape die gebruike van die ou Mosaïese wet nagevolg. Van so ‘n mengelmoes kan niks goeds verwag word nie.
13. Die tweede euwel is dat die getal insettinge so groot is, dat die kerk hulle nooit kan onderhou nie. Hierin word ‘n soort Jodedom openbaar wat vir die gelowige harte ‘n ware marteling is. Augustinus het in sy tyd al gekla dat die gebooie van God verag word, dat, byvoorbeeld, iemand wat agt dae na sy doop met sy kaal voet op die aarde getrap het, ernstiger bestraf is as hy wat homself beskonke gedrink het. As die heilige man vandag moes gelewe het, hoeveel meer rede sou hy nie gehad het om te kla nie! As verkeerde wetgewers eers eenmaal die mag in hande gekry het, is daar geen end aan die gebooie en verbooie nie. Maar wat sê Paulus hiervan (Kol 2:20)? Hier het ons die metode van die valse apostels. Dit begin met bygeloof. Die volgende stap is: “moenie eet nie”. En die derde: “raak selfs nie eers aan nie”.
14. Ons veroordeel hierdie tirannie, waardeur die gewete deur so baie gebooie gekwel word, Christus half begrawe en ons na die Joodse skaduwees teruggevoer word. Christus het sy volk saamgebind deur ‘n paar sakramente wat maklik onderhou kan word, sê Augustinus. Hoeveel seremonies die kerk vandag het, weet ons. Ek weet ook watter verontskuldigings hulle aanvoer. Daar is onder ons net so baie onkundiges, sê hulle, soos onder Israel. Ter wille van hulle is hierdie onderwysmetode ingestel. Die sterkes het dit wel nie nodig nie, maar hulle moenie die dinge verag wat vir die swakkeres nuttig is nie. Ek weet baie goed wat ons aan die swakker broeders verskuldig is, maar beweer dat dit nie die manier is om vir hulle te sorg, deur hulle naamlik, onder ‘n groot hoop seremonies te begrawe nie. God wou sy ou volk soos kindertjies onderwys maar ons op ‘n ander, eenvoudiger manier. Die Jode het onder voogdyskap van die wet gestaan, maar ons is volwasse (Gal 4:1 e.v.). Dit is dus dwaas om die ongeletterdes te hulp te wil kom deur terug te keer na die Jodedom wat Christus afgeskaf het. Hy wys self ook op die onderskeid (Joh 4:23). Maar moet die onkundiges dan nie deur seremonies gehelp word nie? Ja seker, maar dan moet Christus daardeur vertoon en nie verduister word nie. Verder moet hulle min in getal wees, maklik {443} om te onderhou en duidelik.
15 Hulle verlei die harte deur te beweer dat die seremonies offerandes aan God is waardeur die sondes versoen en geregtigheid en saligheid verkry word. Hier word dus van werke wat mense versin het, beweer dat deur hulle die ewige lewe verdien kan word. Maar God beloon die werke wat Hy ons beveel, omdat daaruit ons gehoorsaamheid blyk. Dit is wat God eis: gehoorsaamheid en nie offers nie (Jer 7:22; Mat 15:8). Daarby is die seremonies van die pousdom skadelik, omdat hulle losgemaak word van die leer, die mense nie na Christus lei nie maar by tekens bepaal wat geen betekenis het nie. En ten slotte is hulle deur hebsugtige priesters uitgedink met die doel om geld te maak.
15. Wat ek hier sê, geld vir alle tye. Telkens as die bygeloof insluip en mense met hulle versinsels God wil dien, ontaard al hulle wette. God dreig al die eeue deur dat Hy hulle met blindheid sal slaan wat Hom deur middel van leringe van mense wil dien (Jes 29:13-14). Vrug van die verblinding is dat die mense tot allerhande ongerymdhede verval.
16. Hulle verdedig hulleself met die bewering dat hulle insettinge van God afkomstig is. Die kerk word tog deur die Heilige Gees geregeer sodat dit nie kan dwaal nie. En hulle is die kerk, sê hulle.
Vervolgens wil hulle ons laat glo dat ‘n groot deel van hulle verordeninge van die apostels afkomstig is. Hulle verwys ter verdediging na Hand 15:20-29. Ons het alreeds aangetoon dat hulle ten onregte aanspraak maak op die naam van “kerk”. Christus erken dit nie as ‘n kerk wat Gods Woord verbygaan en in oormoed self wette maak nie (Deut 12:32; Spr 30:6).
Maar dit geld alleen van die wet, kan iemand miskien sê. Daarna het gevolg die profete en die bediening van die evangelie. Ek erken dit maar beweer ook dat dit vervulling van die wet is en geen toevoeging daaraan nie. As God so ywer oor die wet wat Hy deur die diens van Moses gegee het, sal Hy ons nie des te meer verbied om iets by die profete en die evangelie by te voeg nie (1 Sam 13:22; Jer 7:22; 11:7)?
17. Ons stry teen die menslike insettings wat ons onder die naam “kerk” opgedring word. Ons bespot nie die kerk soos hulle ons dit nagee om haat teen ons op te wek nie, maar ons bewys daaraan die hoogste lof, naamlik gehoorsaamheid. Hulle doen die kerk onreg aan deur dit weerspannig te maak teen sy Here en dit verder te laat gaan as wat Gods Woord toelaat. Om maar daarvan te swyg dat dit onbeskaamd en goddeloos is om gedurig te skreeu oor die mag van die kerk en intussen die gehoorsaamheid aan sy gebod te verontagsaam wat die Here sy kerk beveel.
Hulle bewering dat hulle instellings hulle oorsprong by die {444} apostels het, is louter bedrog. Die apostels het hulle juis daarop toegelê dat die gewetens nie met nuwe insettings belas en die diens van God nie met menslike uitvindsels besoedel sal word nie.
Bedrog is ook hulle bewering dat baie van die dinge wat hulle verkondig, dinge is wat nie skriftelik oorgelewer is nie maar wat na Christus se hemelvaart deur die Heilige Gees aan die apostels geopenbaar is. Dit was dan leerstukke wat die apostels nog nie kon verstaan solank Christus nog by hulle was nie.
18. Ek noem net een voorbeeld. Die apostels het die Nagmaal van die Here op eenvoudige wyse gevier. Hulle opvolgers het begin om iets daarby te voeg om die waardigheid van die sakrament te verhoog. Daarna het ander gekom wat meer dinge bygevoeg het, soos die gewaad van die priester, die versiering van die altaar en meer ander nuttelose dinge. Hulle antwoord dat die oortuiging vroeër algemeen geheers het dat die dinge wat met eenstemmigheid in die kerk onderhou is, van die apostels afkomstig is. Daarvoor beroep hulle hulle op Augustinus. Maar Augustinus spreek in die woorde waarna hulle verwys, oor die gebruik om jaarliks die lyding, opstanding en hemelvaart van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees feestelik te herdenk.
19. Hulle beweer ook dat die wywater van die apostels afkomstig is. Asof die geskiedenis nie vermeld dat dit afkomstig is van ek weet nie watter Roomse biskop, wat die doop seker nie met so ‘n vreemde teken sou besoedel het as hy maar die apostels geraadpleeg het nie. Maar al sou ons ook toegee dat iets uit die dae van die apostels afkomstig is, maak dit tog nog ‘n groot verskil of dit ingestel is as iets wat die gelowiges mag gebruik, omdat dit nuttig is, of hulle daarvan kan onthou, en of daarvan ‘n wet gemaak word wat die gewetens bind. Dan moet dit afgeskaf word.
20. Hulle beroep op die voorbeeld van die apostels (Hand 15:20 e.v.) baat hulle ook niks nie. Want hier word geen nuwe wet gemaak nie maar alleen die ou gebod van die liefde toegepas. Die hoofsaak van die besluit is tog, eerstens, dat die heidene hulle vryheid moes behou en nie verontrus word nie; en in die tweede plek dat hulle weer nie hulle vryheid moes misbruik en so aanstoot aan die broeders uit die Jode gee nie.
21. Net so sal getroue herders ook doen wat aan die hoof van kerke staan wat nog nie goed ingerig is nie Hulle sal hulle huisgenote verbied om op Vrydae vleis te eet of om op die feesdae in die openbaar te werk, totdat die swakkes met wie hulle saamlewe, sterker geword het. Want dit is wel middelmatige sake, maar as hulle die broeders aanstoot gee, is dit ‘n misdaad om hulle te doen. Dieselfde geld van die aangehaalde voorbeeld van die apostels. Dat dit die bedoeling van die apostels was dat nie aanstoot gegee moes word nie, word deur die woorde van die apostel Paulus in {445} 1 Kor 8:1-7 bevestig.
22. Ons teenstanders beweer dat ons die wette moet gehoorsaam, al is hulle ook hoe onbillik en onregverdig. Want die saak is nie dat ons met die dwalinge sal instem nie maar dat ons as onderdane die harde heerskappy moet verdra van hulle wat oor ons gestel is. Maar dit gaan nie daaroor dat ons liggaamlik sal ly nie maar dat ons gewetens beroof word van hulle vryheid wat Christus deur sy bloed verwerf het. Maar laat ons dit ook maar laat rus. Ons sê dat God se heerskappy Hom ontneem word as Hy gedien word met wette wat mense ingestel het. Hy alleen is Wetgewer. As sodanig wil Hy geëer word (Jes 29:13; Mat 15:19). Israel se afgodery het juis daaruit ontstaan dat hulle God se gebod oortree het en nuwe dienste ingestel het. ‘n Treffende voorbeeld van hoe God die skending van sy diens straf, vind ons in 2 Kon 17:24 e.v.
Ek gaan nog verder. Al skuil daar ook geen goddeloosheid in die diens wat die mens versin nie, word dit tog streng deur die Gees van God veroordeel, omdat van sy gebod afgewyk word (2 Kon 16:10 e.v.).
23. Baie vra verwonderd waarom die Here hulle so vreeslik dreig wat Hom met gebooie van mense wil dien. Maar as hulle daarop sou let wat dit beteken om in hierdie saak alleen na God te luister, sal hulle ook verstaan waarom God sulke ongehoorsaamheid so verfoei. Want sulke mense wend ‘n skyn van nederigheid voor maar is tog nie nederig voor God nie. Hulle skryf aan Hom die wette voor wat hulle onderbou. Daarom waarsku Paulus ons om ons nie te laat bedrieg deur insettinge van mense wat niks anders as eiewillige godsdiens is nie (Kol 2:4-8).
24. Die verdedigers van die bygelowigheid beweer dat Samuel in Rama geoffer het en dat dit tog God behaag het hoewel dit teen die wet was (1 Sam 7:17). Maar Samuel rig hier geen tweede altaar teen die altaar van God op nie maar het alleen Rama, waar hy gewoon het, gekies, omdat die ark nog geen vaste verblyfplek gehad het nie. Verder dien die geval van Gideon vir ons as ‘n afskrikwekkende voorbeeld daarvan hoe God alle menslike verdigsels om Hom te dien vervloek (Rigt 8:17)
25. Maar het Christus dan nie gesê dat die laste gedra moet word wat die skrifgeleerdes en Fariseërs opgelê het nie (Mat 23:3)? Ons moet die woorde egter in verband neem met sy woorde aan die apostels: “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs” (Mat 16:6). Daarmee bedoel Hy hulle leer wat hulle aan Gods Woord toevoeg. Christus eis alleen dat die volk sal luister wanneer die Fariseërs aan hulle die wet van Moses leer. Die skape luister dan na die stem van die Herder, wat ook deur die mond van die huurling spreek.
26. Onervare mense meen dat as die gewetens deur menslike {446} insettings gebind word en God tevergeefs geëer word, dan ook alle wette geskrap moet word waardeur die orde in die kerk gereël word. Ons moet egter onderskei tussen wette en wette. In elke gemeenskap van mense is daar ‘n regering nodig wat die vrede bewaar en eendrag handhaaf. Daar heers ook sekere gebruike wat nie verontagsaam kan word sonder om die openbare eerbaarheid te skend nie. As ons daarom vir die welsyn van die kerk wil sorg, moet ons doen wat Paulus in 1 Kor 14:40 beveel. Wette is die senuwees van die kerk. Ons moet alleen in ag neem dat hierdie wette nie tot ons saligheid nodig is en dus nie tot die wese van die godsdiens behoort nie.
27. Ons het dus hier ‘n betroubare maatstaf om ons die onderskeid aan te wys tussen goddelose menslike insettings en die bepalinge wat vir die goeie bestaan van die kerk noodsaaklik is. Die doel van laasgenoemde is dat in die heilige vergadering van die gelowiges alles betaamlik en met paslike waardigheid sal geskied en dat die mense in orde gehou word. Welvoeglik geskied alles as ingetoënheid en erns gesien kan word, en ordelik wanneer hulle wat regeer, weet om goed te regeer en dat die volk geleer word om God te gehoorsaam en so die vrede en die rus bewaar word.
28. Vir ons is welvoeglik alle dinge wat dien om ons daaraan te herinner hoe ingetoë, godvrugtig en eerbiedig ons die heilige dinge moet beskou. Vervolgens is dit nodig dat die heilige verborgenhede ons na Christus sal heenlei. En ordelik geskied alles as alle verwarring, weerspannigheid en onenigheid weggeneem is. Dis onwelvoeglik as ‘n vrou met onbedekte hoof bid of profeteer, as by die Nagmaal elkeen sy eie ete gebruik en die een honger het en die ander dronk is (1 Kor 11:5,21). Welvoeglik is byvoorbeeld om met geboë knieë en ontblote hoof te bid, om ons dode eerbaar te begrawe.
Tot die orde word gereken sulke sake soos die tye vir die openbare eredienste, die rus en stilte in die vergadering van die gemeente, die bepaalde tye om die nagmaal te vier, die kategetiese onderrig, die kerklike sensuur en so meer.
29. Om alle onduidelikheid te voorkom merk ek hier op dat ek alleen die verordeninge goedkeur wat op die gesag van God berus en uit die Heilige Skrif geneem is. God het al die dele van sy diens en alles wat tot ons saligheid nodig is, volledig in sy Woord geopenbaar. Daarin moet Hy as ons enigste Leraar gehoor word. Maar wat die uiterlike regering en die seremonies betref, het Hy nie alles van stuk tot stuk vir ons beskrywe nie, omdat Hy voorsien het dat hulle van tyd en omstandighede afhang. Hier moet ons die algemene reëls volg wat Hy gegee het, sodat ons alles welvoeglik en ordelik sal onderhou. Hierdie gebruike kan dus verander of selfs afgeskaf en ander in hulle plek gestel word. Alleen moet dit nie ligvaardiglik {447} en te dikwels geskied nie — ‘n gevaar wat nie werklikheid sal word as ons ons maar deur die liefde laat lei nie.
30. Verder is dit die plig van die gelowiges om hierdie insettinge met ‘n vrye gewete gehoorsaam te onderhou; om hulle nie te verag en hoogmoedig te oortree nie.
Maar watter vryheid kan die gewete dan hê as dit so behoedsaam moet wees? Die vryheid is daar omdat die wette nie vas en ewig is nie maar oefeninge vir die menslike swakheid. Hoewel hulle nie vir ons almal nodig is nie, onderhou ons hulle tog omdat ons verplig is om teenoor mekaar die liefde te betrag.
Maar is die godsdiens dan geleë in die sluier van ‘n vrou of in haar stilswyging in die gemeente, sodat dit sonde is as daaraan nie voldoen word nie? Geheel en al nie. As sy so haastig is om haar naaste te help dat sy nie die tyd het om haar te sluier nie, is dit geen sonde as sy met ongedekte hoof in die openbaar verskyn nie. Selfs as deur vergeetagtigheid ‘n fout begaan is, sondig so iemand nie. Maar as die nalating geskied uit veragting, is dit weerspannigheid, wat afgekeur moet word. So ook maak dit geen saak op watter uur van die dag en op watter plek die gemeente saamkom en watter psalms daar gesing sal word nie, solank daar maar bepaalde ure is vir die samekoms van die gemeente in ‘n gebou wat dit kan huisves. As iemand hierin wyser wil wees, moet hy maar self sien hoe hy sy eiesinnigheid vir die Here welbehaaglik kan maak. Dis nie ons gewoonte om twisgierig te wees nie (1 Kor 11:16).
31. Verder moet toegesien word dat geen dwaling sal insluip wat die regte gebruik vervals of verduister nie. Dit sal verkry word as daarop gelet word dat die gebruike nuttig is en min in getal, veral as daarby kom die onderrig van ‘n getroue herder. Só sal elkeen sy vryheid behou maar die vryheid ook deur die liefde laat beheers.
Vervolgens moet ons die dinge sonder enige bygelowigheid onderhou en nie eiesinnig van ander eis om dit ook te onderhou nie. So sou ons die diens van God in seremonies laat bestaan. Die een kerk mag ook nie die ander een weens verskeidenheid van regering verag nie.
Ten slotte moet ons van die dinge nie ewige wette maak nie maar die stigting van die kerk in die oog hou. As die stigting van die kerk dit vereis, moet ons nie net gewillig wees om iets te verander nie maar selfs om die onderhouding af te skaf van dinge wat by ons in swang was.
{448}
HOOFSTUK XI. Die regspraak van die kerk en die misbruik daarvan soos dit in diepousdom gesien word
1. Nou bly nog oor die derde en vernaamste deel van die kerklike mag, naamlik die regspraak. Net soos geen stad sonder ‘n regering kan bestaan nie, so het ook die kerk sy geestelike regering nodig, wat heeltemal van die burgerlike regering verskil. Dit maak die burgerlike regering nie oorbodig nie maar help en versterk dit. Om reg te spreek is daar van die begin af kerkrade ingestel wat sensuur uitgeoefen het, sondes bestraf en die sleutelmag bedien het. Paulus noem hulle regeringe (1 Kor 12:28), voorstanders (Rom 12:8). In sy brief aan Timotheüs spreek hy van twee soorte ouderlinge: die wat arbei in woord en leer, en die ander wat net regeer (1 Tim 5:17),
Hierdie sleutelmag het Christus aan sy kerk gegee (Mat 18:18).
Die vermaninge en bestrawwing waarvan hier gespreek word, kan nie gegee word as die saak nie ondersoek word nie. Daarvoor is ‘n sekere kollege nodig.
Die lesers moet daarop let dat hier nie oor die gesag van die prediking gespreek word nie. Daaroor handel die Here in Mat 16:19 en Joh 20:23. Christus het die diens van die Woord aan sy apostels toevertrou en hulle toegerus om te bind en te ontbind; om sondes te hou en sondes te vergewe. Die hoofinhoud van die evangelie is tog dat ons, wat diensknegte van die sonde en die dood is, ontbind en bevry word deur die verlossing wat in Christus Jesus is, en dat hulle wat Christus nie as Verlosser en Saligmaker aanneem nie, tot ewige bande veroordeel word. Dit was nodig dat die apostels te midde van soveel benoudhede en gevare waarin hulle verkeer het, daarvan seker sou wees dat hulle die saak van God behartig, dat God aan hulle kant was en dat Christus vanuit die hemel die waarheid van die leer sou bevestig wat Hy hulle gegee het. Aan die ander kant moes ook die hoorders volkome seker daarvan wees dat die leer van die evangelie die Woord van God self was en nie die van die apostels nie. Want die vergewing van die sonde en die boodskap van saligheid lê nie in die mag van mense nie.
Die prediking van die evangelie is dus nie ‘n mag as ons dit van die kant van die mens besien nie, maar ‘n bediening. Die mag het Christus aan sy Woord gegee, nie aan mense nie. Die Woord van die evangelie wat hulle verkondig, is die eie uitspraak van God, geskrywe in die boek van die lewe, bevestig in die hemel en vas en seker. {449}
2. Die ander plek waar gespreek word oor die mag om te bind en te ontbind, is Mat 18:18. Die twee tekste hou verband met mekaar. Altwee spreek van mag om te bind en te ontbind. Dit geskied deur die Woord van God. Verder is die gebod dieselfde en die belofte dieselfde. Hulle verskil egter hierin dat die eerste op die prediking betrekking het en die tweede op die tug wat aan die kerk opgedra is.
Die kerk bind die persoon wat hy afsny. Daardeur werp dit hom nie in die ewige verderf en wanhoop nie, maar dit veroordeel sy lewenswyse en herinner hom aan sy verdoemenis as hy hom nie bekeer nie. Dit ontbind hom as dit hom weer in sy gemeenskap opneem, omdat dit hom dan weer ‘n deelgenoot maak van die eenheid in Christus.
Om nou te verhoed dat iemand die oordeel van die kerk hardnekkig sal verag of dit van geen betekenis sal ag dat hy deur die gelowiges veroordeel is nie, betuig die Here dat die oordeel van die gelowiges niks anders is nie as die afkondiging van sy eie uitspraak. In die hemel word as geldig beskou wat hulle op aarde gedoen het. Hulle, kan nie dwaal nie, want hulle het Gods Woord, wat die sondaar veroordeel, en Gods Woord om die wat hulle bekeer, weer in genade aan te neem.
3. Sommige meen dat dit alles net vir ‘n bepaalde tyd geldig was, naamlik vir die tyd toe die owerhede nog nie die evangelie aangeneem het nie. Hulle vergis hulle egter, omdat hulle nie die groot onderskeid tussen die kerklike en die burgerlike mag in ag neem nie. Die kerk besit nie die reg om met die swaard te straf of te dwing nie. Dis die reg van die owerheid. Sy doel is ook nie om iemand teen sy wil te straf nie maar om die sondaar tot boetvaardigheid te bring. Die kerk neem dus nie die taak van die owerheid uit sy hande nie, en die owerheid kan ook nie doen wat die kerk moet volbring nie.
In ‘n goedingerigte staat sal iemand deur die owerheid vir sy misdaad gestraf word. Maar nou kan dit gebeur dat hy geen tekens van boetvaardigheid openbaar nie maar mopper. Sal die kerk dit nou daarby laat? Hy kan nie aan die nagmaal toegelaat word voordat hy nie eers deur ‘n openlike verklaring van boetvaardigheid die aanstoot wegneem wat hy gegee het nie. Anders word die nagmaal van die Here ontheilig.
As die kerk hierdie sleutelmag nie mag bedien as die owerheid Christelik is nie, dan moet die predikers ook ophou om die sondes te bestraf en die mense te vermaan. Daar is dan Christelike magistrate wat die dinge met die swaard kan straf.
4. As ons die woorde van Christus aandagtig oordink, sal ons bemerk dat Hy daarin nie ‘n tydelike verordening vir sy kerk voorskrywe nie maar ‘n altyddurende. Anders sou die kerk die {450} ongehoorsames by die owerheid moet aankla. En dit is nie paslik nie. Christus stel hier niks nuuts in nie, maar Hy volg die gewoonte wat in die ou kerk van sy volk altyd in ag geneem is. Daarmee het Hy te kenne gegee dat die kerk nooit sonder geestelike regspraak kan wees nie. Ook nie as die owerheid Christelik word nie. Ja, die owerheid sonder hom nie uit van die gehoorsaamheid wat van die kinders van God geëis word nie, en onderwerp hom aan die oordeel van die kerk volgens Gods Woord. “Wat is eervoller”, sê Ambrosius, “as dat die keiser ‘n seun van die kerk genoem word? Want ‘n goeie keiser is in die kerk, nie bokant die kerk nie”.
5. Dis wenslik om te sien wat die regte gebruik van die kerklike regspraak oudtyds was en hoe groot die misbruik is wat ingesluip het. In die eerste plek is die doel van die kerklike regspraak om te voorkom dat aanstoot gegee word en, as daar gegee is, om dit weg te neem. Hier moet veral op twee dinge gelet word, naamlik dat die geestelike mag van die swaardmag geskei moet word en dat dit nie volgens die goeddunke van een persoon uitgeoefen sal word nie maar deur ‘n wettige vergadering (1 Kor 5:4). Die heilige biskoppe het hulle mag nie uitgeoefen deur boetes op te lê of deur gevangenisstraf nie, maar hulle het alleen die Woord van die Here gebruik. Die strengste straf is die ban, wat alleen in die uiterste gevalle gebruik word, volgens Gods Woord. Die regspraak van die ou kerk was dus niks anders nie as ‘n praktiese toepassing van wat Paulus in 2 Kor 10:4-6 leer.
6. Soos ek reeds gesê het, het so ‘n mag nie by een persoon alleen berus nie maar by die vergadering van ouderlinge, egter so dat die gemeente daarvan kennis geneem het. Verder was daar twee soorte ouderlinge, van wie sommige die Woord verkondig en die ander net toesig gehou het oor die lewe van die gemeentelede. Hierdie instelling het egter langsamerhand ontaard. Ambrosius kla dat die ou sinagoge en daarna die kerk ouderlinge gehad het sonder wie se raad niks gedoen is nie. “Hoe dit in onbruik geraak het, weet ek nie”, sê hy. “Miskien deur die luiheid of liewer die trotsheid van die leraars.”
Vandag is die toestand baie treuriger. Een man, die biskop, het vir homself ‘n reg opgeëis wat aan die hele kerk gegee is.
7. Uit die een kwaad het die ander voortgekom. Die biskoppe het die saak aan beamptes opgedra wat in geen opsig van wêreldlike regters verskil nie. Daar word net oor aardse sake gehandel. Tog noem hulle dit ‘n geestelike regspraak. Só word met God gespot. Van die instelling van Christus en die gewoonte van die ou kerk het hier niks oorgebly nie. Trouens dit verskil daarvan soos die duisternis van die lig. Dan swyg ek maar van die rowerye en heiligskennis wat hieruit voortkom, en hoedanige mense vir die amp verkies word. {451}
8. Uit die weinige wat ek gesê het, vertrou ek dat dit vir elkeen duidelik sal wees dat die geestelike mag waarmee die pous pronk, ‘n tirannie is wat goddeloos indruis teen Gods Woord en onregverdig is teenoor sy volk. Onder die naam “geestelike mag” vat ek saam hulle stoutmoedigheid om nuwe leerstukke te maak waarmee hulle die ongelukkige volk van die suiwerheid van Gods Woord wegruk, hulle onbillike insettings en hulle sogenoemde kerklike regspraak.
Dit vorm nie deel van die onderwerp wat ons nou bespreek, om ook oor die reg van die swaard te handel wat hulle hulle toe-eien nie, maar dis tog wenslik om op te merk dat hulle altyd aan hulleself gelyk bly. Hulle is, naamlik, nooit herders van die kerk nie Ek beskuldig nie die besondere foute van mense nie maar die hele orde. Christus het hierdie mag nie aan die bedienaars van die Woord gegee nie (Mat 20:25; Luk 22:25).
Moses het wel die twee ampte terselfdertyd gedra, maar dit was ‘n wonder en bowendien tydelik. Later word die burgerlike regering aan hom oorgelaat maar kry hy die bevel om die priesterskap aan sy broer oor te gee. En dit is al die eeue deur in die kerk onderhou. Geen biskop het op die mag van die swaard aanspraak gemaak nie. In die tyd van Ambrosius was dit ‘n algemene spreekwoord dat die keisers meer die priesterskap begeer het as die priesters die keiserskap.
9. Nadat hulle ‘n manier bedink het om die titel, eer en rykdom van hulle amp te behou, sonder die sorg en las wat daaraan verbonde was, het die biskoppe die reg van die swaard vir hulle opgeëis. Maar is dit nou die taak van die biskoppe om regsake te besleg en provinsies te bestuur? In hulle eie amp het hulle soveel te doen dat hulle dit ter nouernood behoorlik kan volbring.
Maar hulle sê dat op dié wyse die heerlikheid van Christus se ryk toeneem. Ook dat hulle nie verhinder word om hulle roeping uit te voer nie. Wat die eerste bewering betref, as dit ‘n passende versiering van die heilige amp is, het hulle rede om oor Christus te kla. Hy sê vir sy apostels: “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie” (Mat 20:25-26). Vir Homself maak Hy nie daarop aanspraak om Regter in aardse sake te wees nie (Luk 12:14). Sou Hy dit geweier het as dit in ooreenstemming met sy amp was? Sal die diensknegte hulle dan nie onder die reël stel waaraan hulle Meester Hom onderwerp het nie?
Wat hulle tweede bewering betref, verwys ek hulle na die voorbeeld van die apostels (Hand 6:2). Hieruit is dit duidelik dat geen mens tegelykertyd ‘n goeie vors en ‘n goeie biskop kan wees nie. Want as die apostels, wat ryker begaafd was, tog bely {452} dat hulle nie die Woord en die tafels tegelykertyd kon bedien nie, hoe kan hulle die apostels in ywer oortref? Die gevolg is maar net dat hulle hulle amp verwaarloos.
10. Langsamerhand het hulle deur van listige streke of dreigemente gebruik te maak of deur die inskiklikheid van vorste hulleself tot hierdie posisie verhef. So was dit oudtyds die gewoonte dat gelowiges die bemiddeling van die biskop ingeroep het, sodat hulle nie regsake met mekaar sou hê nie. Van hierdie vrywillige bemiddeling het hulle nou ‘n gewone regspraak gaan maak. So het dit ook later gebeur dat stede en lande wat deur allerhande moeilikhede gedruk was, hulle vrywillig onder die beskerming van een of ander biskop gestel het. Op handige wyse het hulle nou van hulleself meesters gemaak in plaas van beskermers en die bewys gelewer dat hulle geen biskoppe is nie. Op die wyse het hulle die bederf in die kerk gebring.
11. Eindelik het die pous sy hand gelê, eers op koninkryke, daarna op die keiserryk. En dan roem hy dat hy dit volgens goddelike reg besit! Hierdie aanspraak word deur Bernardus se woorde weerlê, nl. dat Petrus aan sy opvolgers nie kon gee wat hy nie gehad het nie, maar dat hy gegee het wat hy gehad het, naamlik die sorg vir die kerke. As die Here sê dat Hy nie aangestel is as Regter om tussen twee mense te oordeel nie, moet dit vir die dienskneg nie onwaardig voorkom omdat hy nie regter is oor alle mense nie.
12.-16. Gregorius noem nog die keiser sy heer en homself sy onwaardige dienaar. Eers Gregorius VII het in sy stryd teen Hendrik IV dit gedaan gekry dat die pouse nie langer aan die keisers onderworpe sou wees nie. Sinds die tyd het die pouse voortgegaan om ook die gebiede van ander vorste deur bedrog of wapengeweld in te palm.
Ook die stad Rome, wat destyds vry was, het hulle in hulle mag gekry, totdat hulle eindelik die mag verkry het wat hulle nou besit, en waaroor hulle die wêreld in beroering bring om dit te behou of selfs te vermeerder. Hulle deins nie terug vir oorloë, bloedvergieting, plundering van stede, verwoesting van koninkryke nie. En dit alles net om die eiendom in besit te kry. Dis duidelik dat hulle die eer van Christus geheel en al nie soek nie.
Hiermee gaan gepaard ‘n valse vryheid wat hulle vir hulleself opeis, naamlik dat hulle hulle” nie voor ‘n burgerlike regter hoef te verantwoord nie. Die vryheid en waardigheid van die kerk sou dan daarin bestaan dat dit nie aan die algemene wette onderworpe is nie. Die vroeëre biskoppe, wat die reg van die kerk gestreng gehandhaaf het, was egter nie van mening dat hulle waardigheid verminder het omdat hulle aan die gewone wette onderworpe was nie. Maar hulle het nie geduld dat die vorste deur geweld en willekeur die kerk sou verhinder om sy roeping uit te voer nie, maar {453} bely dat dit die roeping van konings en vorste was om deur wetgewing en andersins die ware godsdiens te beskerm en te bevorder.
HOOFSTUK XII. Die kerklike tug, die vernaamste gebruik waarvan in die sensuuren die ban geleë is
1. Die kerklike tug moet nou kortliks verklaar word. Dit hang saam met die sleutelmag. Om die tugoefening beter te verstaan verdeel ons die kerk in twee hoofgroepe, naamlik in die geestelikes, dit is die ampsdraers, en die gemeente.
Ons spreek eers oor die algemene tug, waaraan almal onderworpe is. Daarna handel ons oor die ampsdraers, wat bowendien nog aan ‘n eie tug onderworpe is.
Geen gemeenskap van mense, selfs geen huisgesin, kan sonder tug bestaan nie. So is ook die tug noodsaaklik in die kerk, omdat sy toestand so ordelik as immer moontlik moet wees. Soos die saligmakende leer aangaande Christus die siel van die kerk is, so is die tug die spiere wat die lede van die liggaam aan mekaar verbind. Almal wat dus die tug opsetlik of uit onnadenkendheid wegneem, verwoes die kerk. Want wat sal gebeur as dit vir elkeen vrystaan om te doen wat hy wil? Die tug is daarom die toom waarmee hulle bedwing word wat teen die leer van Christus woed, die prikkel om die traes aan te spoor. Soms is dit ook die vaderlike roede waarmee, in ooreenstemming met die sagmoedigheid van Christus, diegene getug word wat swaar gesondig het. Die tug is dus noodsaaklik. Dis die enigste geneesmiddel wat Christus voorskrywe.
2. Die grondslag van die tug is die persoonlike vermaning. Elkeen moet sy broeder vermaan wanneer dit nodig is. En elkeen wat nie sy plig doen nie, wat hom onbehoorlik gedra, moet hom laat vermaan. Insonderheid egter moet die herders en ouderlinge hier waaksaam wees. Hulle roeping is nie net om te preek nie maar om van huis tot huis te vermaan en op te wek as daar nie voldoende vordering in die leer is nie. Só het die apostel Paulus gedoen (Hand 20:20).
As iemand hierdie vermaninge hardnekkig verwerp en in sy sonde volhard, gebied Christus dat hy die tweede maal in die teenwoordigheid van getuies vermaan word. As hy nog nie luister nie, moet hy voor die vergadering van die ouderlinge geroep word en daar ernstig vermaan word om hom te onderwerp. As hy hom dan nog nie verootmoedig nie maar in sy sonde volhard, beveel Christus dat hy, as ‘n veragter van die kerk, van die gemeenskap van die {454} gelowiges afgesny moet word (Mat 18:15-17).
3. Sommige sondes is verborge, ander is openbaar, dit is, bekend. Aangaande die eerste sê Christus: “As jou broeder teen jou sondig”. Die woorde “teen jou” beteken: “met jou medewete”. Ander weet daar dus nog nie van nie. Dan geld die reël: “Bestraf hom tussen jou en hom alleen”.
Wat die openbare sondes betref, sê Paulus: “Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal, sodat ook die ander kan vrees” (1 Tim 5:20). Dit het hy self ook met Petrus gedoen toe hy openlik aanstoot gegee het (Gal 2:14).
By die verborge sondes volg ons dus die stappe wat Christus noem; by openbare sondes moet dadelik tot openlike bestrawwing deur die kerk oorgegaan word.
4. Ons moet ook nog hierdie ander onderskeiding maak. Sommige sondes is alleen vergrype, ander is misdade. Laasgenoemdes moet nie alleen met woorde bestraf word nie maar met ‘n strenger middel. So het Paulus die bloedskender met die ban gestraf (1 Kor 5:4).
Nou verstaan ons dat die geestelike regspraak van die kerk wat die sondes straf soos Gods Woord dit voorskrywe, die beste middel is om die kerk gesond te hou, die beste fondament van orde en die beste band van eenheid is. As die kerk dus openbare sondaars en ook die wat hardnekkig in ligtere sondes volhard, van sy gemeenskap afsny, oefen dit alleen ‘n reg uit wat die Here aan hom opgedra het. Verder betuig die Here dat so ‘n afsnyding niks anders as ‘n afkondiging van sy wil is nie en dat in die hemel bekragtig word wat op aarde gedoen is. Hulle vergis hulle dus wat dink dat die kerk sonder die band van die tug kan bly bestaan.
5. Die doel wat die kerk met die bestrawwing en afsnyding beoog, is drieledig. Die eerste is dat hulle wat ‘n skandelike lewe lei, nie onder die Christene genoem mag word nie. Dit sal tot smaad van God geskied, want dit sou beteken dat sy kerk ‘n saamrotting van misdadigers was. Ons moet hier ook rekening hou met die nagmaal van die Here. Dit mag nie verontreinig word deur dit sonder onderskeid aan almal uit te reik nie. As hy aan wie die uitdeling toevertrou is, willens en wetens iemand toelaat wat hy met reg kon afgehou het, is hy net so skuldig aan heiligskennis as wanneer hy die liggaam van die Here vir die honde gegooi het. Chrysostomus sê vir die priesters wat die mag van die vorste vrees: “Die bloed sal van julle hande geëis word. As julle die mens vrees, sal hy julle uitlag, maar as julle God vrees, sal julle ook deur die mense geëerbiedig word”.
Die tweede doel is dat die goeies nie deur hulle gedurige omgang met die slegtes besmet sal word nie. Ons word so maklik deur slegte voorbeelde verlei. Hierop wys Paulus as hy die gemeente {455} van Korinthe beveel om die slegte mens onder hulle uit te verwyder (1 Kor 5:6,11).
Die derde doel is dat die sondaar uit skaamte berou sal kry oor sy skandelikheid (2 Thess 3:14; 1 Kor 5:5).
6. Nadat die doel vermeld is, moet ons nog nagaan hoe die kerk hierdie deel van die tug uitvoer. Ons behou die verdeling wat ons van openbare en verborge sondes gegee het, en verwys vir die manier van optrede in beide gevalle na wat reeds gesê is.
Wanneer die ondersoek begin, moet gelet word op die onderskeid tussen bose dade en ligtere vergrype. In die geval van laasgenoemdes moet nie so streng opgetree word nie. ‘n Sagsinnige en vaderlike vermaning wat die sondaar tot besinning bring, is voldoende. Hy sal dan verheug wees oor die vermaning en nie verbitterd nie.
Met sondige dade moet ernstiger gehandel word. Sulke persone doen die kerk skade aan en kan nie met woorde alleen bestraf word nie. Hulle moet vir ‘n tyd lank van die nagmaal afgehou word totdat hulle boetvaardigheid bewys het. Paulus bestraf nie net die Korinthiër met woorde nie maar verwyder hom ook uit die kerk (1 Kor 5:5). Hierdie wyse van tugoefening vind ons in die ou kerk toe dit nog reg geregeer is.
7. Van die tug is niemand uitgesonder nie, selfs nie vorste nie. En tereg. Want Christus regeer ook oor die konings. So is Theodosius deur Ambrosius van die gemeenskap van die kerk afgesny oor die bloedbad wat hy in Thessalonika aangerig het. Hy het sy koninklike sierade afgelê, in die openbaar sy sonde bely en vergewing gevra. Magtige konings moenie dink dat dit vir hulle ‘n oneer is om ootmoedig voor Christus te buig en deur die kerk geoordeel te word nie. Hulle moet eerder begeer dat die priesters hulle nie sal spaar nie, sodat die Here hulle sal spaar.
Die wettige gang van sake in die afsnyding van die sondaar is dat die ouderlinge dit doen met medewete van die gemeente en onder aanroeping van die Naam van die Here.
8. Die kerk moet egter daaraan dink om die gestrengheid met die gees van sagmoedigheid gepaard te laat gaan. Toegesien moet word dat hy wat bestraf word, nie deur al te groot droefheid verteer word nie (2 Kor 2:7). Die doel van die tug moet altyd in die oog gehou word, naamlik dat die sondaar tot berou gebring word; dat die slegte voorbeeld weggeneem word, sodat die gemeente nie besmet word en die Naam van Christus nie gelaster word nie.
As die sondaar dus berou betoon en daardeur die aanstoot wegneem wat hy gegee het, moet hy nie langer gestraf word nie. In die opsig kan die oormatige gestrengheid van die ou kerk nie verontskuldig word nie. Dit het afgewyk van die voorskrif van Christus en was daarom gevaarlik: Want wat anders as geveinsdheid of {456} wanhoop kon die gevolg daarvan wees as die sondaar vir vier of sewe jaar of selfs lewenslank die gebruik van die nagmaal ontsê is? En dat iemand wat die tweede maal in sonde geval het, nie weer toegelaat is om boete te doen nie maar vir altyd uit die kerk verban is, was nie nuttig en ook nie redelik nie.
Ek beskuldig nie al die voorgangers nie, maar ek keur die gewoonte af. Hulle het egter die gewoonte maar verdra, omdat hulle dit nie kon verander nie. Cyprianus verklaar dat hy nie so streng was nie en dat sy toegewendheid en vriendelikheid tot beskikking van almal gestaan het. So ook Chrysostomus en Augustinus.
9. As die kerk met sagmoedigheid die gevalle sondaar bestraf, moet elke lidmaat persoonlik ook so gesind wees. Ons mag die wat afgesny is, nie uit die getal van die uitverkorenes skrap of wanhoop asof hulle alreeds verlore is nie. Ons kan wel sê dat hulle van Christus en sy kerk vervreem is maar alleen vir solank hulle in die sonde volhard. As hulle dan ook meer hardnekkigheid as sagmoedigheid openbaar, moet ons hulle aan die oordeel van God oorlaat, beter dinge van hulle hoop vir die toekoms en nie ophou om God vir hulle te bid nie. In een woord: laat ons die persoon wat in die hand van God is, nie aan die dood oorgee nie maar alleen uit God se wet sy werke beoordeel. Laat ons vir God se mag geen perke stel en nie vir sy barmhartigheid die wet voorskrywe nie. As dit Hom behaag, word die allerslegstes verander in die allerbestes, wilde takke ingeënt en buitestaanders in die kerk opgeneem. Dit doen God sodat die mens hom nie die reg sal aanmatig om te oordeel nie.
10. Daar is ook onderskeid tussen die afsnyding en die vervloeking, of anathema, soos dit genoem word. Laasgenoemde gee die mens oor aan die ewige verderf, sonder hoop op vergewing, maar die afsnyding bestraf meer die persoon se leefwyse. In soverre dit hom straf, straf dit hom so dat dit hom tot die saligheid terugroep deur hom op die verdoemenis te wys. En as hy berou kry, staan die versoening en weeropneming in die kerklike gemeenskap vir hom oop. Die vervloeking word daarom selde of in die geheel nie gebruik nie.
Ofskoon die kerklike tug meebring dat ons nie intiem sal omgaan met die wat afgesny is nie, moet ons tog op alle moontlike maniere daarna strewe dat hulle hulle sal bekeer en tot die gemeenskap van die kerk sal terugkeer. So sê Paulus: “Beskou hom nie as ‘n vyand nie, maar vermaan hom as ‘n broeder” (2 Thess 3:15). Anders loop ons gevaar om van die tug ‘n foltering te maak.
11. Tot matiging van die tug dien ook wat Augustinus in sy stryd teen die Donatiste skrywe: “Die lidmate mag hulle nie dadelik van die kerk afskei nie, ook al sien hulle dat die sondes {457} nie met so ‘n ywer deur die kerkraad bestraf word soos dit behoort nie. Ook mag die herders nie hulle diens verlaat of deur te groot gestrengheid die kerk in beroering bring as hulle nie alles so kan verbeter soos hulle dit begeer nie. Elkeen wat deur vermaning verbeter wat hy kan, en met behoud van die band van vrede uitsluit wat hy nie kan verbeter nie en wat hy nie kon uitsluit sonder om die band van vrede te verbreek nie, met billikheid afkeur en verdra, is vry en verlos van vervloeking”. Altyd moet gelet word op die eenheid van die Gees in die band van vrede, wat ons moet bewaar deur mekaar te verdra. Hy erken dat nie net die herders nie maar ook elke lidmaat hom daarop moet toelê dat daar geen gebreke in die kerk sal bly bestaan nie. Ook sê hy dat elkeen wat nalatig is om te vermaan, skuldig is voor God, ook al sou hy die ander se sondige wandel veroordeel. Maar altyd moet versigtig opgetree word, sodat die koring nie saam met die onkruid uitgetrek word nie.
Daarna besluit hy met Cyprianus: “Laat die mens met barmhartigheid verbeter wat hy kan, en wat hy nie kan verbeter nie, geduldig verdra en met liefde betreur en beween”.
12. Augustinus bestry hier die Donatiste. Hulle het die biskoppe verraaiers van die tug genoem en hulle van die kerk afgeskei, omdat die biskoppe gebreke in die kerk wel met woorde bestraf het maar nie met afsnyding nie. En dit omdat hulle geen hoop gehad het om iets daarmee te bereik nie. So doen die Wederdopers teenswoordig. Hulle erken geen vergadering as die kerk van Christus as dit nie so volmaak soos engele is nie. “Sulke mense probeer nie uit haat jeens die ongeregtigheid van ander nie maar uit die begeerte om te twis, om die swak mense … saam te sleep of te verdeel.. . Wat die Skrif beveel om te doen om die foute van die broeders te verbeter met behoud van die suiwere liefde en bewaring van die eenheid van die vrede, dit gebruik hulle vir onheilige skeuring en die geleentheid om af te breek. So verander die Satan hom in ‘n engel van die lig … Hy begeer niks anders nie as om die band van vrede en eenheid te verbreek” (Augustinus).
13. Wanneer die sonde die hele gemeente aangetas het, beveel hy groot barmhartigheid aan in plaas van gestrenge tug, anders word die goeies wat swak is, meer beroer as dat die slegtes verbeter word. Sulke sondes word nie deur hardheid en deur te beveel weggeneem nie maar deur onderwysing en vermaning, sê hy. Die bestrawwing moet sodanig gematig word dat dit die liggaam gesond maak en nie ten onder laat gaan nie . . . Ons moet ook dit in ag neem dat ons mekaar verdra en daardeur ons daarop toelê om die eenheid van die Gees in die band van die vrede te bewaar.
14. Die orige deel van die tug, wat eintlik nie onder die sleutelmag val nie, bestaan hierin dat die herders in tye van nood die {458} volk opwek om te vas en openbare gebede en ander oefeninge van boetvaardigheid en geloof te doen. Tyd en wyse hiervan word in Gods Woord nie voorgeskrywe nie maar aan die oordeel van die kerk oorgelaat. Dit is nuttig en was gebruiklik in die ou kerk, wat hierin die voorbeeld van die wet en die profete nagevolg het.
As deur die sinode ‘n beslissing geneem moet word oor sake wat die godsdiens raak, of as daar ‘n dienaar verkies moet word, in tye van pes, oorlog en hongersnood is dit ‘n heilsame instelling om die volk op te roep om te vas en te bid.
Ons gaan dus iets oor hierdie saak sê, omdat baie dit nie nodig ag nie en ander weer in bygeloof verval.
15. Wanneer op die regte wyse gevas word, word daarmee drie dinge beoog. Ons gebruik dit: eerstelik om ons vlees te onderwerp; ten tweede om ons in heilige oordenkinge te oefen en ten derde dat dit ‘n bewys sal wees van ons verootmoediging voor God as ons voor Hom skuld bely. Die eerste geld alleen wanneer ons om persoonlike redes vas; die tweede en derde wanneer daar om persoonlike sowel as gemeenskaplike redes gevas word. Hoofsaak is die gesindheid van die hart.
16. Vas is ‘n teken van openbare verootmoediging. Dit sal dus nuttig wees in verband met die tug, waaroor ons nou handel, om ‘n vas- en biddag uit te roep elke keer as ons God aanroep in verband met een of ander gewigtige saak. Só het die gemeente in Antiochië gedoen toe hulle Paulus en Barnabas die hande opgelê het (Hand 13:3). Só het Paulus en Barnabas gedoen by die verkiesing van ouderlinge in die gemeentes (Hand 14:23). Só het Nehemia Neh 1:4) en Anna hulle geoefen om in die gebed te volhard (Luk 2:37).
17. As daar pes, oorlog, hongersnood of ‘n ander ramp land en volk bedreig, is dit die plig van die herders om die kerk op te wek om te vas en ootmoedig die toorn van God af te bid. So was dit onder Israel gebruiklik (Joël 2:15). Waarom sal ons die heilige oefening tot verootmoediging en skuldbelydenis dan nie in tye van nood gebruik soos die ou kerk nie? Ons lees dat Israel gevas het om sy droefheid te bewys (1 Sam 7:6; 31:13). Ook die Nineviete het dit gedoen (Jona 3:5). Christus sê ook nie dat dit afgeskaf is nie, maar bestem dit alleen vir tye van groot ellende en verbind dit met rou (Mat 9:15). Vir die gelowiges is dit ‘n goeie hulpmiddel teen sorgloosheid wanneer hulle deur God gekasty word.
18. Maar wat is vas? Ons verstaan daaronder nie net matigheid en spaarsaamheid in die gebruik van voedsel nie. Die lewe van die gelowige moet altyd matig en sober wees. Dit moet altyd, sover moontlik, ‘n gedaante van vas vertoon. Maar daarbenewens is daar nog ‘n ander, tydelike vas. Dit geskied as ons van ons gewone {459} leefwyse vir ‘n bepaalde tyd iets afneem en minder voedsel as gewoonlik gebruik.
Hier is drie dinge van belang: Ten eerste die tyd wanneer gevas word, bv. as ons vas om te kan bid. Ten tweede die hoedanigheid van die voedsel wat genuttig word — dit moet gewone en eenvoudige voedsel wees; lekkernye moet vermy word. Ten derde die hoeveelheid voedsel wat genuttig word, naamlik minder as gewoonlik.
19. Ons moet egter altyd daarteen waak dat geen bygeloof insluip nie. Dan is dit beter dat dit heeltemal afgeskaf word. Hoofsaak is wat Joël sê, nl. dat die harte geskeur moet word en nie die klere nie (2:13). Die vas het voor God geen waarde as dit nie gepaard gaan met selfmishaging, ware verootmoediging en opregte droefheid, gebore uit die vrees van die Here nie. Ons moet God nie met ‘n skynvroomheid wil bedrieg nie (Jes 58:5).
Die tweede kwaad waarteen gewaak moet word, is dit dat die vas vir ‘n verdienstelike werk of ‘n soort godsdiens gehou word. Op sigself is dit ‘n middelmatige saak, wat alleen van belang is insover dit die doeleindes dien waarop dit gerig is.
In die derde plek moet dit nie as een van die vernaamste godsdienstige pligte aangemerk word sodat die mense sal dink dat hulle iets uitnemends gedoen het as hulle gevas het nie.
20. Die veertigdaagse vas in navolging van Christus is indertyd bygelowig onderhou. Dis egter duidelik dat Hy nie gevas het om vir ander ‘n voorbeeld te gee nie maar om te bevestig dat die evangelie nie ‘n menslike leer was nie maar ‘n hemelse. So het Moses veertig dae lank gevas (Ex 34:28) en daarmee die gesag van die wet verkondig, en ewe-eens Elia om die volk te leer dat God hom aangestel het as beskermer van die wet waarvan hulle afgewyk het.
21. Later het daar nog verderfliker gewoontes gevolg. By die verkeerde ywer van die volk het nog die onkunde van die biskoppe gekom asook hulle begeerte om heerskappy te voer. So is allerhande goddelose wette gemaak wat die gewetens met verderflike bande omknel het. Verbode was dit byvoorbeeld om vleis te eet, maar ondertussen het hulle hulle met allerhande lekkernye volgestop.
22. Nou volg die ander deel van die tug, wat insonderheid op die geestelikheid betrekking het. Dit is vervat in die reëls wat die ou biskoppe vir hulleself en hulle orde opgelê het, soos bv. dat geen geestelike aan drinkpartye of koophandel mag deelneem of by danspartye teenwoordig mag wees nie. Daar is ook strawwe bygevoeg om die gesag van die reëls te handhaaf. Vir hierdie doel moes elke biskop oor sy geestelikes toesig hou, om hulle ooreenkomstig die reëls te regeer. Jaarlikse ondersoekinge en sinodes is gehou waarop die onagsames vermaan en die oortreders gestraf is. Die biskoppe het ook elke jaar hulle provinsiale sinodes gehou, wat {460} hulle weer bestraf het as hulle hulle plig versuim het. Solank hierdie gestrengheid geheers het, het die geestelikes nie méér van die volk geëis as wat hulle deur hulle eie voorbeeld en werk bewys het nie. Ja, hulle was selfs strenger teenoor hulleself as teenoor die volk.
Maar dit alles het nou in onbruik geraak. Daar is teenswoordig niemand ongebondener as die geestelike stand nie. Só selfs dat die hele wêreld daaroor skreeu.
23. In een saak is hulle egter te streng, naamlik in die verbod vir die priesters om te trou. Dit het die kerk beroof van goeie en geskikte herders en ‘n gruwelike modderpoel van misdade veroorsaak. Dis ‘n goddelose tirannie, in stryd met Gods Woord en onbillik. Dit staan die mens nie vry om te verbied wat God toegelaat het nie. Dat God daarvoor gesorg het dat geen inbreuk op hierdie vryheid gemaak sou word nie, hoef nie bewys te word nie. Vergelyk die woorde van Paulus, 1 Tim 3:2; Tit 1:6. Nog kragtiger is sy uitspraak dat die Heilige Gees getuig dat daar in die laaste dae mense sal wees wat verbied om te trou. Hy noem dit leringe van die duiwel.
24. Hulle sê dat die priester tog deur een of ander kenteken van die gewone volk onderskei moet word. Asof God nie ook daarvoor gesorg het nie! Onder die vereistes vir ‘n goeie biskop tel Paulus ook die huwelik; hulle leer dat dit vir ‘n geestelike ‘n besmetting van die vlees is en ‘n onverdraaglike sonde. Stel nou hiernaas die woord van die Here dat die huwelik ‘n beeld van sy heilige verbintenis met sy kerk is!
25. Hulle sê dat die Levitiese priesters hulle van hulle vroue moes onthou as dit hulle beurt was om te dien, sodat hulle die heilige diens rein en onbevlek kon verrig. Die dienste wat ons moet verrig, is edeler en moet daagliks verrig word. Dit sal daarom onbetaamlik wees as hulle deur getroudes verrig word.
Maar die priesters was voorbeelde van Christus en moes die heiligheid van die Middelaar afbeeld. Die herders is dit egter vandag nie meer nie. Die apostel sonder verder niemand uit as hy sê dat die huwelik eerbaar is nie (Hebr 13:4) Dat die amp nie te heilig is vir ‘n getroude persoon nie, het die apostels ook deur hulle voorbeeld self bewys (1 Kor 9:5).
26.-28. Die ou kerk, wat in die kennis van God en in die heilige lewenswandel uitgemunt het, het die huwelik aangeprys ook vir die geestelike stand en dit nie as oneerbaar beskou nie. Daarna het die tye gekom waarin die ongehude staat bygelowig bewonder is. Uit hierdie tyd is hiérdie bepaling afkomstig dat ‘n priester nie mag trou nie. Wat egter deur die apostels geoorloof geag is, sal ons nie ongeoorloof noem nie. Werp hulle ons die oudheid voor die voete, op ons beurt eis ons dan dat hulle die kuisheid van die ou tyd in ere sal herstel, sodat die kerk verlos {461} sal word van die vuilheid wat dit nou so mismaak.
Van die ou skrywers haal ek net Chrysostomus aan, ‘n bewonderaar van die ongehude staat. Hy sê: “Die eerste graad van die kuisheid is die maagdelikheid, die tweede ‘n getroue huwelik. Dus is die kuise liefde van die huwelik ‘n tweede soort maagdelikheid”.
HOOFSTUK XIII. Deur geloftes wat ligvaardig gedoen is, verstrik mense hulleself jammerlik
1. Dis waarlik betreurenswaardig dat die kerk wat Christus met sy bloed vrygekoop het, deur ‘n wrede tirannie onderdruk en onder ‘n groot hoop tradisies begrawe word. Intussen bewys elkeen se persoonlike dwaasheid dat God nie sonder oorsaak aan Satan en sy dienaars soveel mag toegestaan het nie. Want dit was vir hulle nie genoeg dat hulle die juk van Christus afgegooi en laste gaan dra het wat hulle deur valse leraars opgelê was nie. Hulle het nog verder gegaan. Elkeen het vir homself nog laste gaan oplê en putte gegrawe waarin hy nog dieper weggesink het. Dit het hulle gedoen deur die geloftes wat hulle uitgedink het, en waarmee hulle hulle nog meer gebind het. Dit sal dus nie onvanpas wees om oor hierdie kwaad te spreek waardeur die diens van God vervals word nie.
Om te verstaan watter groot verderf deur die geloftes ingevoer word, moet die lesers die grondbeginsels in die oog hou wat ons vantevore genoem het. In die eerste plek het ons geleer dat alles wat ons nodig het om godvrugtige lewe, in die wet geopenbaar is. Ten tweede het ons geleer dat God eenvoudige gehoorsaamheid aan sy wil regverdigheid noem. As dit waar is, kan ons gemaklik daaruit opmaak dat alles wat ons versin om ons by Hom verdienstelik te maak, Hom nie behaag nie.
Hieruit ontstaan die vraag hoe ons moet oordeel oor die geloftes wat teen die uitdruklike Woord van God gedoen is. Kan ‘n Christen sulke geloftes doen, en in hoever bind hulle hom? In al die eeue het die bygeloof hier sy rol gespeel. Mense het aan God enigiets belowe wat hulle in die gedagte gekom het. Hulle het met God omgegaan soos die heidene met hulle gode gedoen het. Daarom is dit gewens om op die saak van die geloftes nader in te gaan.
2. Om nie te dwaal in ons oordeel oor watter geloftes wettig en watter sondig is nie, moet ons drie dinge bedink, naamlik: aan wie word die gelofte gedoen; wie ons is wat die gelofte doen, en met watter gesindheid ons dit doen.
Die eerste punt herinner ons daaraan dat ons met God te doen {462} het. Hy het alleen behae in ons gehoorsaamheid. Oor alle eiewillige diens spreek Hy die vloek uit (Kol 2:23), al lyk dit ook nog so mooi in die oë van die mense. Ons moet dus nie aan God iets belowe as ons nie weet hoe Hy daaroor sal oordeel nie. Hier geld veral die woord van die Here in Rom 14:23. God moet ons deur sy Woord leer. Dan is ons gevrywaar teen die gevaar om ligvaardiglik geloftes te doen.
3. Die tweede punt sluit in dat ons ons kragte sal afmeet; dat ons op ons roeping sal let en dat ons die weldaad van die vryheid wat God ons gegee het, nie sal verontagsaam nie. Want die mens handel ligvaardiglik wat belowe wat hy nie kan doen nie of wat met sy roeping in stryd is. En hy is ondankbaar wat die weldaad verag wat God hom gegee het, nl. om oor alle dinge te heers.
As ek dit sê, bedoel ek nie dat iets so in ons mag is dat ons in vertroue op ons eie krag aan God iets kan belowe nie. In sy goedheid gee God ons sommige dinge, maar in sy regverdigheid onthou Hy ander dinge aan ons? Daarom moet elkeen let op die genade wat aan hom gegee is (Rom 12:3; 1 Kor 12:11). Die gawes wat God ons gegee het, bepaal dus watter geloftes ons aan God kan doen. Voorbeelde van ligvaardige geloftes vind ons in Rigt 11:30; Hand 23:12.
Ons vind die ligvaardigheid tans by die priesters, monnike en nonne, wat hulle eie swakheid vergeet en vertrou dat hulle ongetroud kan lewe. Waar leer Gods Woord hulle dat hulle hulle hele lewe kuis sal bly? Hulle kan die hulp van God hierin nie verwag nie; inteendeel, hulle versoek God deurdat hulle ingaan teen die natuur en sy gawes versmaad.
Om die ongehude staat aan te prys noem hulle die huwelik ‘n bevlekking. Maar God ag dit nie strydig met sy majesteit nie. Hy noem dit eerbaar (Hebr 13:4). En Christus het dit deur sy teenwoordigheid geheilig (Joh 2:2 e.v.). Ons mag dus niks belowe wat ons kan verhinder om ons roeping te volbring nie. Wat betref die vryheid waarvan ek gespreek het, net dit. God het alles aan ons onderwerp om deur ons tot ons voordeel gebruik te word. Daarom moet ons nie dink dat dit Hom ‘n aangename diens is as ons onsself tot slawe maak van die dinge wat ons behoort te dien nie.
4. In die derde plek handel ek nou oor die gesindheid waarmee ‘n gelofte gedoen moet word. Dit is belangrik, want God sien die hart aan en nie die uiterlike vorm nie.
Sover ek kan oordeel, kan ons met ons geloftes vier dinge beoog. Twee daarvan sien op die verlede en twee op die toekoms. Tot die verlede behoort die gelofte van dank aan God vir weldade wat ons ontvang het, en die van boetvaardigheid oor bedrewe kwaad om die toorn van God af te bid.
Van die gelofte van dank het ons voorbeelde by Jakob (Gen 28:20-22) {463} asook in verskillende psalms Ps 22:26; Ps 56:13; Ps 116:14,18). Sulke geloftes kan ons vandag ook nog doen as die Here ons uit een of ander groot gevaar verlos het.
Die gelofte van boetvaardigheid verduidelik ek met ‘n voorbeeld. Iemand kan homself die gebruik van lekkernye ‘n tyd lank vrywillig ontsê en hom met ‘n gelofte bind, omdat hy deur sy gulsigheid in sonde verval het. Tog laat ek hom hierin vry en sê alleen dat so ‘n gelofte geoorloof is.
5. Die geloftes wat op die toekoms betrekking het, strek daartoe om ons aan te spoor om versigtiger te wandel, of om ons skuldige plig te doen. As iemand byvoorbeeld vind dat hy vergeetagtig is of traag om sy roeping te vervul, waarom sal hy nie sy geheue wakker skud of sy traagheid verdryf deur ‘n gelofte te doen nie? Sodanige geloftes is wettig as hulle op die Woord van God gegrond is, met ons roeping ooreenkom en in ons vermoë is om na te kom.
6. Dis nou nie moeilik om oor geloftes in die algemeen ‘n oordeel te vel nie. Daar is die gemeenskaplike gelofte wat alle gelowiges by die doop doen en wat deur die onderwysing in die Christelike leer en deur die gebruik van die nagmaal versterk en bekragtig word. Die hoofsom van hierdie gelofte is dat ons die duiwel afsweer en ons aan God oorgee tot sy diens om sy heilige gebooie te gehoorsaam en nie die sondige begeertes van die vlees te volbring nie. Dit moet ons egter nie verontrus dat ons die gebod van God nie volmaak kan gehoorsaam nie. Want die gelofte is ingesluit in die verbond van die genade, waarin ook die vergewing van die sondes en die Gees van heiligmaking aan ons toegesê is. Die gelofte wat ons daar doen, gaan daarom gepaard met die gebed om vergewing en om hulp.
By die beoordeling van die besondere geloftes moet ons die genoemde drie reëls in gedagte hou. Verder moet ons hulle maar selde doen en dan net vir ‘n bepaalde tydsduur. Wie baie geloftes doen, sal nalatig word om hulle te betaal en maklik in bygeloof verval. En wie homself met ‘n altyddurende gelofte verbind, sal dit op die duur met teësin betaal of dit heeltemal verbreek.
7. Dis bekend dat die wêreld eeue lank aan bygeloof in hierdie opsig gely het. Die een het ‘n gelofte gedoen om geen wyn te drink nie. Asof onthouding op sigself vir God ‘n aangename diens is! Ander het hulle verbind om te vas of om geen vleis te eet nie. Ander het nog kinderagtiger geloftes gedoen. Al hierdie dinge is verderflik en goddeloos. Want hoe die vlees daaroor ook mag oordeel, God verfoei niks meer as eiewillige godsdiens nie. Daarby kom nog die verderflike opvatting dat hulle daarmee vir hulleself buitengewone geregtigheid verdien en dat die hoofsaak van die diens van die Here sulke uiterlike dinge is. {464}
8. Die kloostergeloftes is vandag in eer. Die kerk keur hulle goed. Daarom spreek ek kortliks oor hulle. In die eerste plek merk ek op dat daar in die ou kloosters heeltemal anders gelewe is as tans. Die kloostergemeenskappe was destyds die kweekplekke waar manne hulle voorberei het om in die kerk te dien. So verhaal byvoorbeeld Chrysostomus en Augustinus.
9. Breedvoerig beskrywe lg. die ou kloosterlewe in twee boeke. Die kloosterlinge het heilig en kuis saamgelewe. Met gebed, lees en samesprekings het hulle hulle tyd deurgebring. Hoogmoedig en afgunstig op mekaar was hulle nie. Niemand het iets besit nie, en niemand was vir die ander tot ‘n las nie. Hulle het gewerk om in hulle onderhoud te voorsien en sodat, hulle gees nie van God afgetrek mag word nie. Die werk was aan hulle toegewys deur persone wat “dekens” genoem is en wat weer verantwoording verskuldig was aan een wat “vader” genoem is. Verder noem hy hulle matigheid in spys en drank en veral hulle liefdeslewe.
10. Die lesers kan nou self die teenswoordige monnikewese met die uit die ou tyd vergelyk. Hulle het nie geëis wat Gods Woord vry gelaat het nie; vandag word niks anders so streng geëis nie. In die ou tyd is geen ledigheid of luiheid in die kloosters gedoog nie; vandag stel hulle in ledigheid die vernaamste deel van hulle heiligheid. Ontneem hulle die ledigheid, en dan bly daar niks oor van hulle sogenaamde beskouende lewe, waardeur hulle, soos hulle beweer, bokant die gewone mense uitsteek nie.
Augustinus wil dat die lewe in die klooster ‘n oefening sal wees om so godsalig te lewe soos dit van alle Christene geëis word. Volgens hom is die liefde die enigste reël van die kloosterlewe. Ons monnike skei hulle van die kerk af, en, nie tevrede met wat Christus sy volgelinge beveel nie, versin hulle ‘n soort nuwe vroomheid, om dan volmaakter as ander mense te wees.
11. As hulle dit ontken, wil ek van hulle weet waarom hulle dan hulle orde volmaak noem en die naam ontsê aan al die ander roepinge van God? Hulle beweer wel dat hulle stand alleen so genoem word omdat dit die beste van almal is om die volmaaktheid te verkry. Maar dit is alleen daarop bereken om mense te vang. Die gewone volk glo dat die kloosterlewe volmaak en van alle gebreke gesuiwer is. Onder hierdie dekmantel drywe hulle ‘n baie winsgewende handel.
En watter vermetelheid is dit nie om aan ‘n instelling wat nêrens goedgekeur word nie, so ‘n hoë eer toe te ken! En om al die roepinge wat God voortreflik noem, so ‘n eer te ontsê!
12. Ek spreek die waarheid as ek sê dat hulle nie tevrede is met wat God voorskrywe nie. Hulle beskuldig hulleself. Want hulle leer dat hulle meer op hulle neem as wat Christus hulle opgelê het. En dit omdat hulle belowe om die vermaninge van die {465} evangelie aangaande vyands-liefde en die aflegging van wraakgierigheid, ens., te hou, waaraan die gewone Christene nie gebind is nie. Maar al die ou leraars getuig eenparig dat Christus geen woord gespreek het wat nie deur almal noodsaaklik onderhou moet word nie. Oral leer hulle dat hierdie leringe bedoel word waarvan ons teenstanders sê dat dit maar net raadgewinge is. Die teenswoordige monnikwese is dus gegrond op die verfoeilike stelling dat daar ‘n volmaakter lewensreël is as die wat God aan sy hele kerk gegee het.
13. Hulle kom met nog ‘n bewys vir hulle volmaaktheid. Hulle beroep hulle op die woord van die Here aan die ryk jongman: “As jy volmaak wil wees . ..” (Mat 19:21). Laat ons toegee dat hulle hulle goed aan die armes gee. Is hulle nou daardeur volmaak? As die volmaaktheid daarin bestaan, wat bedoel Paulus dan as hy sê dat selfs hy wat al sy goed uitdeel aan die armes, niks is as hy nie die liefde het nie (1 Kor 13:3)? In Kol 3:14, waar geen sprake van verlating van aardse besittings is nie, noem hy die liefde die band van volmaaktheid. Wat beteken die woorde van Christus dan? Net dit dat Hy die jongman wat deur sy goeie werke die ewige lewe wou verdien, na die wet verwys. Hy self skrywe nie iets anders voor as wat die wet leer nie, omdat dit die volmaakte geregtigheid leer. Terselfdertyd onderwys Hy hom wat so aan sy rykdomme verknog was, hoe ver hy verwyderd was van die geregtigheid wat die wet eis. As hy dan so ‘n goeie onderhouer van die wet was, moet hy dit bewys deur al sy goed te verkoop en aan die armes te gee en Christus te volg. Dit sou vir hom nie swaar gewees het as hy God liefgehad het nie. Wie God met sy hele hart liefhet, verfoei alles wat met die liefde in stryd is.
14. Die monnikewese word selfs ‘n vorm van tweede doop genoem. Die ou vaders het so iets nie geken nie. Die ou monnike het hulle lewe laat beheers deur die liefde, by die hedendaagse monnike word dit nie aangetref nie. Hulle skei hulle van die kerk af en verbreek sy eenheid deurdat hulle hulle eie bediening van Woord en sakramente het. Die ou monnike het die openbare byeenkomste besoek. Al die kloosters is vandag vergaderplekke van skeurmakers wat die orde van die kerk versteur. Daarom noem hulle hulleself ook met besondere name, soos Franciskane, Dominikane ens. — iets wat Paulus verfoei het (1 Kor 1:12; Kor. 3:4).
15. Die verskil tussen die ou monnike en die van ons tyd lê in die beroep self. Ek spreek oor die gebreke van die monnikewese en nie oor die van die monnike nie. Dit staan vas dat daar geen klas mense is wat meer met allerhande gebreke besoedel is as hulle nie. Daar is wel enkele goeies, maar hulle verdwyn in die groot massa van die slegtes.
16. Ons “hedendaagse kappiedraers verskil van die ou monnike net soveel soos wat ape van mense verskil. {466}
Maar selfs in die ou monnikewese is daar iets wat ek nie kan goedkeur nie. Dit mag mooi lyk om al die aardse besittinge weg te gee en vry van bekommernis te lewe, maar die sorg om ‘n huisgesin godvrugtig te regeer word deur God hoër geag. Dit mag mooi wees om ver van die samelewing af te sit en filosofeer, maar dis geen bewys van Christelike sagmoedigheid om uit haat teen die menslike geslag na ‘n eensame woestyn te vlug en die pligte te verlaat wat God ons insonderheid beveel het nie. Ook al het daar geen ander kwaad in die monnikewese gesteek nie, was dit nog genoeg om dit te veroordeel, naamlik dat hulle ‘n gevaarlike voorbeeld in die kerk ingevoer het.
17. Laat ons nou sien met watter geloftes hulle in hierdie voortreflike orde ingelei word. In die eerste plek is alles wat hulle aan God belowe, ‘n gruwel, omdat hulle ‘n nuwe en eiewillige diens instel om Hom te behaag. In die tweede plek is dit ‘n ongeoorloofde en roekelose waagstuk wat hulle onderneem, omdat hulle vir hulleself ‘n lewenswyse uitdink sonder om vooraf te ondersoek of God hulle daartoe roep en of Hy so ‘n lewe goedkeur. In die derde plek beweer ek dat hulle aan die duiwel toegewy word en nie aan God nie, omdat hulle die ware diens van God verderwe (Deut 32:17).
Watter besondere geloftes lê hulle nou af? Hulle belowe aan God ‘n voortdurende maagdelike reinheid. Asof hulle vantevore met Hom ‘n verbond gemaak het dat Hy hulle sou onthef van die noodsaaklikheid om ‘n huwelik aan te gaan. Nou moet hulle nie aanvaar dat hulle die gelofte doen in vertroue alleen op sy genade nie. Want God sê self dat almal nie die gawe van onthouding het nie (Mat 19:11). Onthouding noem ek dat nie net die liggaam nie maar ook die siel rein bewaar word. Hulle dan aan wie dit nie gegee is nie, word deur God tot die huwelik geroep (1 Kor 7:9).
18. Vervolgens beweer hulle dat hierdie gelofte al in die tyd van die apostels in gebruik was, omdat Paulus sê dat die weduwees hulle eerste geloof verwerp wat weer trou nadat hulle ‘n openbare diens in die kerk aangeneem het (1 Tim 5:11-12). Hierop antwoord ek in die eerste plek dat hulle belowe het om ongetroud te bly, omdat hulle die diens nie sou kon verrig as hulle in die huwelik getree het nie. In die tweede plek sê ek dat hulle nie so gebind was dat dit nie vir hulle beter sou gewees het om te trou as om deur die vleeslike begeertes gekwel te word nie. In die derde plek sê ek dat Paulus voorskrywe om sulke weduwees te kies wat alreeds vantevore die bewys van hulle ingetoënheid gegee het.
Ons keur die gelofte af om ongetroud te bly, omdat dit verkeerdelik vir ‘n deel van die ware diens van die Here gehou word. En ten tweede omdat dit ligvaardiglik gedoen word deur mense wat die gawe van onthouding nie besit nie. {467}
19. Maar hoe bring hulle die uitspraak van die apostel in verband met die nonne? Want die diakonesse is gekies om die armes te help en die pligte van die liefde waar te neem, nie om met gesang en onverstaanbare gemompel God aan te roep en die orige tyd in ledigheid deur te bring nie. Hulle het die gelofte om ongetroud te bly afgelê om hulle diens des te beker te kan uitvoer en nie as ‘n erediens wat hulle aan God bewys nie. En hulle het dit gedoen nie toe hulle nog jongedogters was nie maar toe hulle alreeds op hulle jare was en alle gevare oorwin het.
20. Mense vrees soms om geloftes te verbreek wat hulle gedoen het maar wat hulle mishaag. Aan die ander kant is hulle bang dat hulle nog meer sal sondig as hulle die geloftes hou.
Om hulle besware uit die weg te ruim sê ek dat alle geloftes wat nie wettig is en nie gedoen moes gewees het nie, vir God van geen waarde is en deur ons nie gehou moet word nie. Ons kan nie gedwing word om iets te doen wat God nie van ons eis en wat Hom nie behaag nie. Dan doen ons dit nie uit die geloof nie. En alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde (Rom 14:23).
21. Daarom kan hulle wat monnike was maar nou ‘n eerbare lewe lei, nie van woordbreuk en meineed beskuldig word nie. Dit word wel gesê dat hulle ‘n onverbreekbare band verbreek het waarmee hulle aan God en die kerk verbind was, maar ek sê dat daar geen band was wanneer God tot niet maak wat die mens vasgestel het nie.
En al sou ons ook toegee dat hulle verbind was toe hulle in die strikke van onwetendheid aangaande God en die dwaling verkeer het, dan is hulle nou vrygemaak deur die genade van Christus, nadat hulle deur die kennis van die waarheid verlig is. Want as die kruis van Christus ons bevry van die vloek van die wet van God, hoeveel te meer sal dit ons dan nie ontruk aan die bande wat niks anders as strikke van Satan is nie?
Hier is nog ‘n ander argument. As ‘n onmoontlike gelofte die ondergang van ‘n siel beteken wat God nie verlore wil laat gaan nie, volg daaruit dat dit geensins gehou moet word nie.
HOOFSTUK XIV. Die sakramente
1. Naas die prediking van die evangelie het ons nog ‘n ander hulpmiddel vir ons geloof, naamlik die sakramente Dis van groot belang dat duidelik geleer sal word met watter doel hulle ingestel is en hoe hulle gebruik moet word. Ons sê eers wat ‘n sakrament is. Dis ‘n uitwendige teken waardeur die Here die beloftes van sy {468} goedheid jeens ons aan ons verseël om die swakheid van ons geloof te versterk en ons van ons kant ons geloof bely voor Hom, die engele en die mense. Of ons kan soos Augustinus sê dat dit ‘n sigbare teken is van ‘n heilige saak.
2. As oor goddelike sake gehandel word, het die ou vertaler die Griekse woord mysterion (verborgenheid) in Latyn weergegee met die woord sacramentum. So bv. in Ef 1:9: “Deurdat Hy aan ons die sakrament van sy wil bekend gemaak het”, so ook inEf 3:2; Kol 1:26; 1 Tim 3:16. So het dit gebeur dat die woord gebruik is om die tekens aan te dui wat ‘n verhewe, aanskoulike voorstelling van geestelike sake gegee het.
3. Uit die gegewe definisie lei ons af dat daar nie ‘n sakrament kan wees as vooraf nie ‘n belofte gegee is nie. Dit word as aanhangsel gevoeg by die belofte om dit te versterk, te verseël en vir ons waar en vas te maak. God het voorsien dat ons onwetendheid, ons traagheid en swakheid dit nodig het. Ons geloof is klein en swak. Dit word heen en weer geslinger, dit wankel en word neergewerp as dit nie aan alle kante ondersteun en op alle moontlike maniere onderskraag word nie. In sy oneindige goedheid pas Hy Hom nou by ons swakheid aan en lei ons deur die aardse dinge na Hom. Hy maak die sigbare dinge ‘n spieël van die geestelike goedere.
4. Daarom word gesê dat ‘n sakrament uit die woord en die uiterlike teken bestaan. Onder woord verstaan ons die gepredikte woord wat die sigbare teken vir ons verklaar. Nie soos onder die tirannie van die pous gebeur nie, dat die priester die wydingswoorde mompel terwyl die volk daaruit geen onderwysing ontvang nie, omdat hulle dit nie verstaan nie. Augustinus sê: “Laat die woord by die element kom, en dan ontstaan die sakramente . . . Nie omdat die woord gespreek word nie, maar omdat dit geglo word”. “Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig”, sê Paulus (Rom 10:8). En Petrus eis ook die prediking sodat die geloof daaruit gebore kan word (1 Petr 3:21).
Dis ook nie onbekend wat Christus gedoen het en wat Hy ons beveel het om te doen nie. Só het God van die begin af ook gedoen. Telkens as Hy aan die vaders ‘n teken gee, laat Hy dit voorafgaan deur die onderwysing. Deur die vooraf verkondigde belofte lei die dienaar dus die gemeente heen na die saak waarop die teken wys.
5. Ons moet ook nie luister na hulle wat skerpsinnig wil wees en sê: “Ons weet dat die Woord van God wat aan die sakrament voorafgaan, die ware wil van God is, of ons weet dit nie. As ons dit weet, leer ons uit die sakrament wat daarop volg, niks nuuts nie. As ons dit nie weet nie, sal die sakrament ons dit ook nie leer nie”.
Daarop antwoord ons kortliks dat die seëls wat aan openbare oorkondes geheg word, op hulleself beskou ons ook niks sou sê as die perkament nie beskrywe was nie. Maar nou dat hulle aan {469} ‘n geskrif bevestig is, verseël hulle wat geskrywe is. So noem Paulus die besnydenis ‘n seël (Rom 4:11). Die sakramente versterk dus ons geloof deurdat hulle ons die beloftes soos op ‘n skildery laat sien.
6. Hier kom die verbonde wat mense oudtyds met mekaar gesluit het, ons te hulp. Watter betekenis sou ‘n geslagte dier hê as die woorde van die verbond nie voorafgegaan het nie? Maar as daar vooraf gespreek is, dan word die bepalinge van die verbond deur sulke tekens bekragtig. So verseker die sakramente ons van God se trou en lei ons aan die hand soos onderwysers met kinders doen. Augustinus noem hulle daarom sigbare woorde, omdat hulle God se beloftes vir ons afskilder. Ons kan hulle ook pilare van ons geloof noem. Soos ‘n gebou stewig op sy fondament rus maar tog nog stewiger word as pilare daaronder aangebring word, só rus die geloof op die Woord van God soos op ‘n fondament. As die sakramente egter daarby kom, steun dit daarop as op pilare nog vaster. Ons kan hulle ook spieëls noem waarin ons die rykdom van God se genade aanskou.
7. Hulle redenering gaan ook nie op as hulle beweer dat die sakramente geen getuienisse van God se genade is nie, omdat hulle ook aan goddelose mense bedien word. Maar dan is die evangelie ook nie ‘n getuienis van God se genade nie, want dit word ook deur baie verag wat dit hoor. Ja, ook Christus, want baie het Hom gesien en geken, maar slegs weinige het Hom aangeneem.
Dit staan dus vas dat die Here sy barmhartigheid en die onderpand van sy genade deur die Woord en sakramente ons aanbied. Maar die genade word alleen deur hulle aangeneem wat die Woord en sakramente met ‘n vaste geloof aanneem.
Die sakramente word dus tereg getuienisse van God se genade genoem en seëls van sy goedgunstigheid jeens ons om ons geloof te ondersteun, te voed en te versterk. Die redenering van sommige mense gaan ook nie op nie, naamlik dat ons geloof nie beter kan word as dit goed is nie, omdat geloof ongeskok op die barmhartigheid van God steun. Dit sal vir hulle egter beter wees om saam met die apostels te vra dat die Here hulle meer geloof sal gee (Luk 17:5), as om vir hulle ‘n volmaakte geloof in te beeld wat geen mens nog ooit bereik het of sal bereik nie. Of het die man geen geloof gehad wat gesê het nie: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp” (Mark 9:24)?
8. Hulle haal die woorde van Filippus aan die hofdienaar aan dat hy gedoop kan word as hy “met sy hele hart glo” (Hand 8:37). Wat moet die doop nou bevestig as die geloof die hele hart vervul? Maar “met die hele hart glo” beteken nie om “volmaak in Christus te glo” nie, maar alleen om met ‘n opregte hart Hom te omhels en met ‘n brandende begeerte na Hom te honger en te dors. “Met {470} die hele hart” is in die Skrif dieselfde as “met ‘n opregte hart” (Ps 119:10; Ps 138:1). Leuenaars word verwyt dat hulle ‘n dubbele hart het.
Hulle sê ook dat die Heilige Gees dan tevergeefs aan ons gegee sou wees as die sakramente die geloof versterk. Dit is immers sy werk om die geloof te begin, te beskerm en te volmaak. Ek erken dat die geloof die eie werk van die Heilige Gees is. Maar in die plek van die een weldaad van God wat hulle verkondig, verkondig ons drie. In die eerste plek leer God ons deur sy Woord. Vervolgens versterk Hy ons deur die sakramente. En eindelik verlig Hy ons hart deur die Heilige Gees en open dit vir die Woord en sakramente.
9. Die lesers moet onthou wat ek vantevore gesê het aangaande die versterking van die geloof deur die sakramente. Hulle versterk die geloof alleen omdat God hulle daarvoor ingestel het, en nie omdat hulle ‘n verborge krag in hulleself daartoe besit nie. As die Heilige Gees nie in die harte indring en die toegang tot die siele oopmaak nie, kan die sakramente niks doen nie. Hulle is dan soos die sonlig wat voor ‘n blinde oog skitter, of ‘n geluid wat ‘n dowe oor tref.
10. Hiermee is die teenwerpinge van ander weerlê. Hulle sê dat ons die Heilige Gees onreg aandoen as ons die versterking van die geloof aan ‘n skepsel toeskrywe. Maar ons ontneem Hom nie die eer dat Hy die geloof versterk nie. Hy verlig ons hart om die versterking aan te neem wat deur die sakramente voorgestel word. Hy toon ons dat dit God is wat deur Woord en sakramente tot ons spreek. Hy versag die harde hart en stem dit tot die gehoorsaamheid wat dit aan Gods Woord verskuldig is. Met een woord, Hy bring die uiterlike woorde en sakramente van ons ore af in ons siel oor. Só versterk die Woord en sakramente dan ons geloof deurdat hulle aan ons die goeie wil van die hemelse Vader jeens ons voor oë stel. Niks kan God verhinder om deur die sakramente ons geloof te versterk nie, net soos Hy deur die sonstrale ons oë verlig.
11. Dat die uiterlike woord hierdie eienskap besit, leer Christus ons in die bekende gelykenis (Mat 13). As die saad in ‘n verwaarloosde deel van die akker val, sterf dit. Maar as dit in ‘n goed bewerkte deel val, dra dit baie vrug. Só is ook die Woord van God onvrugbaar as dit in ‘n harde hart val, maar as die hart deur die Heilige Gees bewerk is, dra dit baie vrug. So is die geloof uit die Woord, groei dit en bereik sy volmaaktheid deur die Woord, soos die graan uit die saad ontstaan. As Paulus die Korinthiërs daaraan wil herinner hoe kragdadig God sy arbeid gebruik het, sê hy dat hy die bediening van die Gees het (1 Kor 2:4), asof die krag van die Heilige Gees onverbreeklik aan sy prediking verbind was om die harte te verlig. Maar as hy wil aantoon wat die Woord van God op sigself vermag, vergelyk hy die dienaars by landbouers wat niks {471} meer kan doen as om te ploeg, te saai en nat te maak nie.
12. Die sakramente is soseer versterkinge van ons geloof dat die Here hulle soms wegneem wanneer Hy die vertroue wil wegneem op die dinge wat in hulle beloof word. Dit doen Hy by Adam (Gen 3:22). Hy ontneem hom die teken van sy belofte, sodat hy nie tevergeefs op die onsterflikheid sou hoop nie. Dit is ook die betekenis van wat Paulus in Ef 2:12 leer. Hulle wat die teken van die belofte nie ontvang het nie, was van die belofte self uitgesluit.
Op hulle ander beswaar, dat die eer van God verminder word as ons aan ‘n skepsel so ‘n groot krag toeken, kan ons maklik antwoord. Ons ken aan ‘n skepsel geen krag toe nie. Ons sê alleen dat God middels en instrumente gebruik wat Hy nuttig ag, net soos in die natuur son en vuur middels is om ons te verlig en te verwarm. Op hulleself is hulle niks nie, maar as middels kragtig om ons te seën.
13. Hulle sê ook dat die enigste Betekenis van die sakrament is dat ons daardeur betuig dat ons as soldate onder Christus dien of dat dit maar net ‘n teken is wat ons van die onheiliges onderskei. Hoewel die woord sakrament die krygseed beteken wat die soldaat aflê, het die vaders daarvan gemaak die woord van die Veldheer waarmee Hy soldate in sy geledere opneem. Deur die sakramente beloof God dat Hy vir ons ‘n God sal wees en ons sy volk sal wees. In die eerste plek ondersteun die sakramente dus ons geloof by God, en eers in die tweede plek is hulle vir die mense ‘n getuienis van ons geloof.
14. Hierdie mense verswak die krag van die sakramente en neem hulle nuttigheid weg. Teenoor hulle staan ander wat allerhande verborge kragte daaraan toeskrywe, wat hulle nêrens in die Skrif deur God toegeken word nie. Hierdeur word die eenvoudiges bedrieg en van God afgetrek. Hulle leer dat die sakramente regverdig maak en die genade aanbring, as ons nie deur ‘n dodelike sonde dié weldade van ons afweer nie, Dis ‘n verderflike en duiwelse leer, wat die regverdigheid sonder die geloof belowe en die mense laat steun op iets wat hulle aanskou, in plaas van op God. ‘n Sakrament wat sonder geloof ontvang word, is ‘n verderf van die kerk. En die mens bedrieg homself wat dink dat die sakramente hom iets meer laat ontvang as wat God in sy Woord hom aanbied en hy gelowig aanneem. Die saligheid hang dus nie af van die deelname aan die sakrament nie. Die geloof kan ook daarsonder bestaan.
15. Ons moet in die sakrament onderskei tussen die teken en die saak wat afgebeeld word. Hulle is wel saamgevoeg maar nie so nou met mekaar verbind dat hulle nie van mekaar geskei kan word nie. Ons moet oppas om nie aan die een deel iets toe te skrywe wat aan die ander deel toekom nie. Alleen in die uitverkorenes {472} werk die sakramente uit wat hulle afbeeld. Om dus nie net die teken te ontvang nie maar ook die betekende saak self moet die belofte-woord wat daarin opgesluit lê, gelowig aangeneem word. So is die sakramente vir ons tot nut en vorder ons in die gemeenskap met Christus.
16. Christus is dus die substansie van alle sakramente. Buite Hom belowe hulle ons niks nie.
Hulle het dus hierdie uitwerking in ons dat hulle die ware kennis van Christus in ons versterk en vermeerder, asook om Hom voller te besit en sy rykdomme te geniet. Dit geskied wanneer ons met ‘n ware geloof aanneem wat in hulle ons aangebied word.
Maar bewerk die goddelose deur sy ondankbaarheid dan dat die instelling van God tot niet raak en verlore gaan? Hierop antwoord ek dat die krag en die waarheid van die sakrament nie afhanklik is van die staat van hom wat dit ontvang nie. Wat God ingestel het, bly vas staan, al verander die mense ook. Niks verhinder dus dat die teken is wat dit genoem word en sy krag behou nie maar dat ‘n goddelose mens geen nuttigheid daaruit verkry nie. Twee foute moet hier vermy word. Die eerste is om dit só te verstaan asof die tekens tevergeefs gegee is en dat ons dit kan bewerk dat hulle vir ons geen vrug bring nie. Die tweede is om ons harte nie bokant die sigbare tekens op te hef nie en om daarom aan die tekens die dinge toe te skrywe wat Christus alleen ons aanbring deur die Heilige Gees wat ons Hom deur die uiterlike tekens deelagtig maak.
17. Laat ons dit vashou dat die sakramente ons, net soos die Woord, Christus en al die skatte van die hemelse genade aanbied en voor oë stel. Maar hulle skenk ons niks en is vir ons tot geen voordeel as hulle nie deur die geloof aangeneem word nie. Ons moet ook oppas vir ‘n ander dwaling, naamlik om nie aan hulle een of ander verborge krag toe te ken waardeur hulle op hulleself aan ons die gawes van die Heilige Gees sou skenk nie. Hulle getuig en bevestig slegs aan ons die goedertierenheid van God jeens ons. Hulle het alleen waarde as die Heilige Gees hulle gebruik om ons verstand en hart oop en geskik te maak om die getuienis aan te neem. Hulle skenk dus geen genade nie maar bekragtig alleen wat God ons in sy mildheid skenk. En die Heilige Gees bewerk dat hulle in ons vrug dra. Hierdie innerlike genadewerking van die Heilige Gees is onderskeie van die uiterlike bediening. God skenk egter waarlik alles wat Hy deur die tekens belowe en afbeeld, en die tekens is nie sonder uitwerking nie, sodat bewys sal word dat hulle Outeur waaragtig en getrou is. So beskou, behou die sakramente hulle waardigheid, word hulle nuttigheid voldoende aangeprys, en word aan hulle niks toegeskrywe wat hulle nie toekom nie, en niks ontneem wat hulle toekom nie. So word die versinsel {473} weggeneem dat die regverdigmaking en die krag van die Heilige Gees in die tekens ingesluit is. God volbring innerlik wat die dienaar deur die uiterlike handeling afbeeld en betuig.
18. Die naam “sakrament” soos ons dit tot nou toe behandel het, omvat in die algemeen al die tekens wat God aan mense gegee het om die waarheid van sy beloftes aan hulle te verseker. Soms is die tekens natuurlike dinge, soos die boom van die lewe (Gen 2:17) en die reënboog (Gen 9:13). Soms is hulle wonders. So die rokende oond wat Hy Abraham laat sien (Gen 15:17); die wolvlies van Gideon (Rigt 6:37) en die skaduwee op Agas se sonnewyser (Jes 38:7; 2 Kon 20:9).
19. Ons handel egter nou oor die sakramente wat die Here aan sy kerk gegee het om sy liefhebbers te voed tot een geloof en die belydenis van die ware geloof. Augustinus sê dat die mense tot geen religie — laat dit dan wees die ware of ‘n valse — verenig kan word as hulle nie deur deelgenootskap aan dieselfde sakramente saamverbind word nie. So het God van die begin af bepaalde oefeninge van godsaligheid vir sy gelowiges ingestel wat Satan nageboots het deur die sogenaamde inwydinge en ander seremonies by die heidene. Tog bewys hulle dat die mense dergelike tekens as hulpmiddels in hulle godsdiens nie kan mis nie. Van God se kant besien is die sakramente getuienisse van sy genade en voed en versterk hulle die geloof. Van ons kant besien betuig ons daarmee ons trou aan Hom en bely ons ons geloof voor die mense.
20. Die sakramente het verskil na gelang van die omstandighede en die bedeling waarin hulle gegee is. So het God aan Abraham en sy nakomelinge die besnydenis gegee, waarby later die reiniging en offerandes gevoeg is. Dit was die sakramente van die Jode tot op die koms van Christus.
Hy het weer aan sy kerk die sakramente van die heilige doop en die heilige nagmaal gegee. Die oplegging van die hande waarmee die kerkdienaars tot hulle diens ingelei word, tel ek nie onder die sakramente nie. Die sakramente van die ou verbond teken die Christus af wat nog moes kom; die van die Nuwe Testament die Christus wat gekom het.
21. Die besnydenis was vir die Jode ‘n teken dat die natuur van die mens verdorwe is en besnoei moet word. Bowendien het dit hulle versterk in die geloof in die belofte aangaande die Christus wat aan Abraham gegee was, in wie al die geslagte van die aarde geseën sal wees (Gen 22:18). En daarom was die besnydenis vir Abraham en sy nakomelinge ‘n seël van die regverdigheid van die geloof (Rom 4:11).
Die reiniging het hulle natuurlike besoedeling afgebeeld en het aan hulle die afwassing deur die bloed van Christus voorgestel (Hebr 9:1,14; 1 Joh 1:7; Openb 1:5). Die offerandes het {474} hulle hulle ongeregtigheid geleer en dat aan God se oordeel betaal moes word. Met een woord, dat daar ‘n Hoëpriester sou wees, Christus, wat as die Middelaar tussen God en die mense sal optree om deur sy bloedstorting die sondes te versoen (Hebr 4:14; Fil 2:8; Rom 5:19). Deur sy gehoorsaamheid het Hy die ongehoorsaamheid van die mense tot niet gemaak.
22. Ons sakramente bied ons Christus duideliker aan. Die doop verkondig aan ons dat ons gereinig en afgewas is; die nagmaal dat ons verlos is. Hierdie sake word in Christus gevind wat deur water en bloed gekom het (1 Joh 5:6), sodat Hy ons sal reinig en versoen. Daarvan is die Gees van God getuie (1 Joh 5:8). Hierdie hoë verborgenheid word ons getoon in die kruis van Christus toe water en bloed uit sy heilige sy gevloei het (Joh 19:34). Augustinus noem dit so treffend die fontein van ons sakramente.
23. Verwerp moet ook word die onderskeid wat daar gemaak word tussen die sakramente van die Ou en die van die Nuwe Testament, asof eersgenoemdes maar net die genade van God afgebeeld het en laasgenoemde dit metterdaad gee. Die apostel sê dat die vaders dieselfde geestelike spys geëet het as ons, d.i. Christus (1 Kor 10:3). Wat die Jode die ware gemeenskap met Christus geskenk het, mag ons nie tot ‘n sinledige teken verlaag nie Hulle sakramente was vir hulle net sulke seëls van God se goedgunstigheid jeens hulle as wat ons sakramente dit vir ons is.
24. Hierteen word aangevoer dat Paulus sê dat die besnydenis niks is voor God nie. Maar dit kan met ewe veel reg van die doop gesê word. Paulus sê dit ook (1 Kor 10:5) en Petrus (1 Petr 3:21). Maar op ‘n ander plek skyn dit tog asof die apostel die besnydenis heeltemal verag as hy dit met die besnydenis van Christus vergelyk (Kol 2:11). Maar dit is nie die geval nie. Paulus tree daar op teen hulle wat die besnydenis nog as noodsaaklik vereis hoewel dit alreeds afgeskaf was. Hy vermaan die gelowiges om die skaduwees los te laat en die waarheid vas te hou dat hulle deur die doop saam met Christus begrawe was. Die doop is vir die Christene vandag dieselfde wat die besnydenis vir die vaders was.
25. Al die Joodse seremonies was skaduwees van die toekomstige dinge. Kort saamgevat kom die hoofsaak hierop neer: ten eerste dat al die seremonies van die wet geen waarde het as hulle nie op Christus gerig word nie; ten tweede dat hulle eers vervul is toe Christus in die vlees geopenbaar is, en ten slotte dat hulle deur sy koms afgeskaf moes word net soos die skaduwee in die helder sonlig verdwyn.
26. Die Sofiste is miskien mislei deur die woorde van Augustinus dat die sakramente van die ou bedeling die Saligmaker net {475} beloof het, terwyl ons sakramente die saligheid gee. Maar hy bedoel niks anders as wat hy op ander plekke leer nie, nl. dat die sakramente van die wet verkondig dat Christus sal kom, terwyl ons sakramente verkondig dat Hy gekom het.
Wat sy opvatting oor die betekende saak en die krag van die ou sakramente was, lê hy op meer as een plek uit. So byvoorbeeld as hy sê dat die sakramente van die Jode van ons s’n verskil het, wat die tekens betref maar gelyk was in die saak wat aangedui word. Christus is vir hulle byvoorbeeld afgebeeld in die steenrots maar vir ons geopenbaar in die vlees. Albei soorte sakramente getuig dat God se vaderlike goedheid in Christus en die gawe van die Heilige Gees ons aangebied word. Ons sakramente doen dit net duideliker. In altwee soorte sakramente word Christus ons voor oë gestel, in ons sakramente net voller en duideliker.
God het die sakramente ingestel sodat die gelowiges niks daarheen sou bring as net hulle armoede nie.
HOOFSTUK XV. Die doop
1. Die doop is die teken dat ons in die gemeenskap van die kerk opgeneem word, sodat ons, in Christus ingeplant, onder die getal van die kinders van God gereken word. Dit is aan ons deur God gegee om te dien as ‘n getuienis van ons geloof by Hom en as ‘n belydenis voor die mense.
Die doop versterk ons geloof in drieërlei opsig, In die eerste plek verseël God daardeur aan ons dat al ons sondes so weggedoen en uitgewis is dat hulle nooit voor sy aangesig sal kom en vir ons toegereken word nie.
2. So moet ons die woorde van Paulus verstaan dat die kerk deur Christus geheilig is nadat Hy dit met die waterbad deur die Woord gereinig het (Ef 5:26). En op ‘n ander plek dat Hy na sy barmhartigheid ons gered het deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees (Tit 3:5). Petrus weer sê dat die doop ons red (1 Petr 3:21). Paulus wil egter nie te kenne gee dat die water ons afwas, wederbaar en reinig nie. Petrus ook nie. Hulle wil alleen te kenne gee dat die kennis en sekerheid van die gawes daardeur verkry word. Die evangelie verkondig aan ons die boodskap van ons afwassing en heiligmaking, en die doop verseël dit. Die doop getuig dus dat ons sondes deur die bloed van Christus afgewas is en dat die water dit maar net afbeeld.
3. Ons moenie dink dat die doop alleen met die oog op die {476} sondes van die verlede gegee is nie, asof ons vir die sondes waarin ons na ons doop val, ander, nuwe versoeningsmiddels moet soek. Hierdie dwaling het veroorsaak dat in die ou tyd sommige die doop nie voor hulle sterfdag wou ontvang nie. Ons moet dit altyd bedink dat wanneer ons gedoop word, ons vir ons hele lewe afgewas en gereinig word. Wanneer ons dan in sondes val, moet ons aan ons doop dink om verseker te wees van die vergewing. Al word die doop net een maal bedien, word dit tog deur die sondes wat daarna bedryf word, nie vernietig nie. Want die reinheid van Christus wat ons in die doop aangebied word, behou altyd sy krag. Dit word deur geen sondevlekke verduister nie maar bedek al ons vuilhede.
Hierdie leer is egter geen vrybrief om te sondig nie. Dit is alleen aan hulle gegee wat sug onder die las van hulle sondes as hulle weer daarin geval het. Vir hulle is dit ‘n middel om hulle self op te rig en te vertroos, sodat hulle nie in wanhoop of vertwyfeling verval nie. Christus versoen die sondes wat tevore gedoen is (Rom 3:25). Hy is deur die Vader alleen aan ellendige sondaars gegee, wat, deur die brandyster van hulle gewete gewond, hulle toevlug neem tot Hom, wat genees. Maar hulle wat die vergewing van die sondes misbruik as ‘n vrybrief om te sondig, roep die toorn en oordeel van God teen hulle wakker.
4. Ek weet wel dat daar ‘n ander leer aangeneem is, naamlik dat ons na die doop deur die weldaad van boetedoening en die sleutels vergewing van sondes verkry, wat ons in die eerste wedergeboorte alleen deur die doop gegee word. Maar die wat dit leer, dwaal, omdat hulle vergeet dat die sleutelmag só met die doop verbind is dat dit nie daarvan geskei kan word nie. Aan die sondaar word deur die evangelie vergewing van die sonde deur die bloed van Christus verkondig. En daarvan is die doop die teken en getuienis.
Aan hierdie dwaling dank ons die versonne sakrament van die boetedoening. Asof die doop nie die sakrament van die boetedoening was nie! As ons ons lewe lank boete moet doen, moet die krag van die doop hom ook sover uitstrek. Daarom herinner die gelowiges hulle altyd weer hulle doop, so dikwels hulle deur skuldbesef verbrysel word, om hulle te versterk in die vertroue op die enige en ewige afwassing wat ons in die bloed van Christus het.
5. Die tweede vrug van die doop is dat dit ons leer dat ons in Christus gesterf het en met Hom opgestaan, het tot ‘n nuwe lewe (Rom 6:3-4). Deur die doop maak Hy ons sy dood deelagtig, sodat ons in Hom ingeplant word en met Hom lewe (Kol 2:12). So word dan in die doop aan ons belowe, ten eerste die genadige vergewing van die sondes en die toerekening van die geregtigheid, en ten tweede die genade van die Heilige Gees, wat ons tot ‘n nuwe lewe wederbaar. {477}
6. Ten slotte ontvang ons geloof nog hierdie nuttigheid uit die doop, dat dit aan ons betuig dat ons nie net in die dood en die lewe van Christus ingeplant is nie maar dat ons so met Christus self verenig is dat ons aan al sy goedere deel het. Daarom het Hy die doop in sy eie liggaam geheilig, sodat Hy dit as ‘n sterk band van gemeenskap met ons sal besit. Daaruit bewys Paulus dat ons kinders van God is, omdat ons wat gedoop is, ons met Christus beklee het (Gal 3:27). Christus is die voorwerp van die doop, omdat in Hom die vervulling daarvan is. Daarom word gesê dat die apostels in die Naam van die Here Jesus gedoop het. Want al die gawes van God wat die doop aan ons verkondig, word alleen in Christus gevind. Nogtans word daardeur die Vader en die Heilige Gees nie uitgesluit nie. In die Vader het ons die oorsaak van ons reiniging en wedergeboorte, in die Seun die materie en in die Heilige Gees die uitvoering daarvan.
7. Die doop van Johannes is daarom dieselfde as die van die apostels. Johannes en die apostels het dieselfde leer verkondig. Hulle het in die Naam van Christus gedoop tot bekering en vergewing van die sondes. Johannes het gesê dat Christus die Lam van God was wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29). Wat kon die apostels hieraan toevoeg? Die verskil tussen hom en hulle is maar net dit, dat hy gedoop het in die Naam van Hom wat sou kom, en die apostels in die Naam van Hom wat gekom het (Luk 3:16; Hand 19:4).
8. Dat daar na die opstanding van Christus oorvloediger geestesgawes uitgestort is, kan nie as bewys aangevoer word dat dit ‘n ander doop was nie. Want die doop wat die apostels bedien het toe Christus nog op aarde was, is sy doop genoem. Tog het dit geen meerdere geestesgawes as die doop van Johannes gehad nie. Selfs na die hemelvaart word die Samaritane nie met meer as gewone gawes begiftig nie, ook al is hulle in die Naam van Jesus gedoop, totdat Petrus en Johannes gestuur is om hulle die hande op te lê (Hand 8:14,17). Daar is wel beweer dat die doop van Johannes maar net ‘n voorbereiding was van die doop van Christus, omdat Paulus die dissipels weer gedoop het wat met die doop van Johannes gedoop was (Hand 19:3,5). Later sal uitgelê word hoedat hulle hul hierin vergis.
Maar wat bedoel Johannes dan as hy sê dat hy wel met water doop maar dat Christus met die Heilige Gees en met vuur sal doop (Matth: 3:11)? Johannes onderskei hier nie die een doop van die ander nie maar vergelyk homself met Christus. Hy is maar die bedienaar van die water, maar Christus gee die Heilige Gees. Hy sal sy krag sigbaar bewys op die dag as Hy sy Gees op sy apostels sal uitstort. So bedien die dienaars vandag nog maar net die uitwendige teken, maar Christus werk die inwendige genade. {478}
9. Die apostel sê dat Israel in die wolk en die see gedoop is (1 Kor 10:2). Die doding van die vlees is afgebeeld toe die Here hulle uit die hand en wrede diensbaarheid van Farao verlos het en hulle deur die Rooisee gelei het. So belowe Hy ons in die doop dat ons deur sy krag uit die diensbaarheid van die sonde verlos is en dat ons Farao, die duiwel, oorwin is, hoewel hy nog nie ophou om ons te kwel en moeite aan te doen nie. In die wolk is die teken van die reiniging gegee. Soos die wolk Israel teen die meedoënlose hitte van die son beskut het, so verkondig die doop aan ons dat ons deur die bloed van Christus bedek is teen die vuur gloed van God se toorn.
10. Dis nou duidelik hoe onjuis die leer is dat ons deur die doop van die erfsonde verlos word en weer herstel word in dieselfde geregtigheid en suiwerheid van natuur wat Adam sou behou het as hy nie in die sonde geval het nie. Hierdie leraars het nog nooit verstaan wat die erfsonde is nie. Vantevore is al gesê dat dit ‘n verdorwenheid van ons natuur is wat ons in die eerste plek skuldig stel voor die toorn van God en wat verder in ons voortbring wat die Skrif werke van die vlees noem (Gal 5:19). Ons is dus wat ons natuur betref, geheel en al verdorwe en doemwaardig voor God. Selfs die klein kindertjies is van die moederskoot af doemwaardig, omdat hulle die saad van die ongeregtigheid in hulle dra. Daarom is hulle natuur haatlik en verfoeilik voor God. Die gelowiges ontvang nou deur die doop die versekering dat hierdie veroordeling van hulle weggeneem is. God beloof ons deur hierdie teken dat ons volle vergifnis ontvang, sowel van die skuld wat ons toegereken moes gewees het, as van die straf wat ons weens die skuld moes betaal het. In sy barmhartigheid reken Hy ons vir regverdig en onskuldig.
11. In die tweede plek moet ons opmerk dat hierdie verdorwenheid nooit werkloos in ons is nie maar altyd werke van die vlees voortbring. Hierdie sondige begeerlikheid word eers met ons dood uitgeblus. Die doop belowe ons wel dat ons Farao verdrink het, maar tog nie só dat hy nie meer daar is of ons moeite sal aandoen nie, maar alleen só dat hy nie meer sal oorwin nie. Niemand moet hom egter bedrieg as hy hoor dat daar nog oorblyfsels van die sonde in ons woon nie. Dit word nie gesê met die bedoeling dat ons onbekommerd in die sonde sal bly lê en slaap nie, maar alleen om ons vir vertwyfeling te bewaar. Laat ons glo dat ons groot vordering gemaak het as ons bemerk dat ons sondige begeerte daagliks ‘n weinig verminder totdat ons eindelik met ons dood die ondergang van ons vlees sal bereik. Intussen moet ons dapper stry, want ons word gedoop tot die kruisiging van ons vlees. Dit begin met ons doop, word elke dag voortgesit en sal voleindig word wanneer ons uit hierdie lewe {479} na die Here verhuis.
12. Ons leer hier niks anders as wat Paulus in Rom 7 uiteensit nie. Nadat hy oor die onverdiende regverdigmaking gehandel het, voeg hy daaraan toe dat almal wat met die geregtigheid van Christus beklee word, terselfdertyd deur die Heilige Gees wederbaar word en dat ons in die doop die pand daarvan besit. Hieruit volg die vermaning aan die gelowiges om die sonde nie in hulle sterflike liggaam te laat heers nie. Omdat ons nog altyd deur swakheid aangekleef word, voeg hy tot ons vertroosting daaraan toe dat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade. Om te voorkom dat ons oormoedig word omdat ons nie onder die wet is nie, verduidelik hy wat die afskaffing van die wet beteken, en wat sy gebruik. Ons is bevry van die gestrengheid van die wet, sodat ons Christus sal aanhang. En dit is die taak van die wet om ons van ons verdorwenheid en ellende te oortuig. Verder sê hy dat hy voortdurend met die sondige oorblyfsels van die vlees stry, dat ‘n ander wet hom onder die wet van die sonde gevange neem, en hy roep eindelik uit: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom 7:24).
As die kinders van God in ‘n kerker gevange gehou word solank hulle hier lewe, moet hulle baie benoud word as hulle aan hulle gevaarlike toestand dink. Daarom troos hy hulle ten slotte met die versekering dat daar geen verdoemenis is vir die wat in Christus Jesus is nie (hfst. 8). Hulle wat die Here eenmaal in sy genade aangeneem en in die gemeenskap met Christus ingelyf het en deur die doop in die gemeenskap van sy kerk opgeneem het, is van skuld en verdoemenis vrygespreek, al dra hulle ook nog die sonde in hulle om.
13. Die tweede doel van ons doop is dat dit dien as ons belydenis voor die mense. Daardeur bely ons in die openbaar dat ons onder die getal van God se volk gereken wil word; dat ons met alle Christene saamstem in die diens van die enige God; betuig ons ons geloof, sodat nie net ons harte die lof van God sal verkondig nie maar ook ons tong en al die lede van ons liggaam.
14. Nadat uiteengesit is wat die Here met die instelling van die doop bedoel, is dit maklik om te oordeel hoe ons dit moet gebruik en ontvang. Omdat dit gegee is om ons geloof te voed en te versterk, moet ons dit ontvang as uit die hand van die Outeur self. Ons moet vas oortuig daarvan wees dat dit Hy is wat deur die teken tot ons spreek; dat Hy ons reinig, afwas en die herinnering aan ons sonde tot niet maak; dat Hy ons deelgenote van sy dood maak; dat Hy Satan se heerskappy hom ontneem en één met ons word, sodat ons vir kinders van God gereken word; dat Hy ten slotte so sekerlik dit alles in ons siele werk as wat ons liggame uitwendig ondergedompel en deur die water ingesluit {480} word. Nie asof die genadegawes aan die sakrament self gebind is nie maar omdat dit God se wil is om deur hierdie teken aan ons te betuig dat Hy dit alles aan ons wil skenk.
15. Hiervan het ons ‘n duidelike bewys in Cornelius. Hy is gedoop toe hy die vergewing van die sondes en die gawes van die Heilige Gees alreeds ontvang het (Hand 10:48). Maar as die sondes nie deur die doop afgewas word nie, waarom het Ananias dan vir Paulus gesê dat hy hom moet laat doop en sy sondes afwas (Hand 9:17)? Ek antwoord dat Ananias alleen bedoel het dat Paulus deur die teken van die doop van die vergewing van sy sondes verseker sal word.
Hiermee bedoel ek nie om die krag van die doop te verminder nie, asof God nie by die teken die betekende saak sou voeg, insover Hy deur uitwendige middels werk nie. Ek bedoel alleen dat ons ook uit hierdie sakrament niks ontvang nie as alleen vir sover ons dit met ‘n gelowige hart aanneem. As die geloof ontbreek, sal dit ‘n getuienis van ons ondankbaarheid wees wat ons skuldig voor God stel, omdat ons die belofte nie glo wat daarin gegee word nie. In sover dit ‘n teken van ons belydenis is, betuig ons daarmee dat ons op God se barmhartigheid vertrou, dat ons reiniging bestaan in die vergewing van die sondes wat Christus vir ons verdien het, en dat ons in die kerk van God ingaan om met die gelowiges saam te lewe, één in die geloof en die liefde (1 Kor 12:13).
18. Ons ontvang ook nie die sakrament uit die hand van die dienaar nie maar, soos dit waarlik is, uit die hand van God. Daaruit volg dat daaraan niks gegee of ontneem word deur die waardigheid of onwaardigheid van die dienaar wat dit bedien nie. Die Wederdopers beweer dat ons nie wettig gedoop is nie, omdat ons deur goddelose priesters in die Roomse Kerk gedoop is. Hulle dring aan op weer doop. Ons is egter nie in die naam van een of ander mens gedoop nie maar in die Naam van die Drie-enige God. Die Jode is ook nie benadeel omdat hulle deur onrein en afvallige priesters besny is nie. Die besnydenis het die teken van genade gebly, hoewel dit deur bygelowighede besmet was. Toe Josia en Hiskia die afvalliges weer vergader het, het hulle hulle ook nie vir die tweede keer laat besny nie.
16. Die doop is ook nie ongeldig as die geloof soms eers jare daarna volg nie. In ons blindheid en ongelowigheid het ons wel ‘n lang tyd die belofte nie geken wat aan ons in die doop gegee is nie, maar die belofte self het altyd vas, kragtig en waaragtig gebly, omdat dit van God afkomstig was. God bly waaragtig al is al die mense ook leuenagtig en ontrou. Ons erken dat die doop ons vir die tyd toe ons die belofte verontagsaam het, tot geen voordeel was nie. Maar nou dat ons ons deur God se genade bekeer het, kla ons onsself aan oor ons blindheid en hardheid van hart, omdat {481} ons so ‘n groot goedheid van God so ‘n lang tyd met ondankbaarheid bejeën het. Verder glo ons nie dat die belofte self opgehou het nie. Wat egter vir ons alles beslis, is dit: as God die Jode tot bekering roep, beveel Hy nie dat hulle weer besny moet word omdat hulle deur goddelose hande besny was en ‘n tyd lank in sonde gelewe het nie. Hy eis alleen bekering van die hart. Al het hulle die verbond geskend, tog het die teken van die verbond onskendbaar gebly.
17. Hulle beroep hulle ook op Paulus, wat die dissipels oorgedoop het wat met die doop van Johannes gedoop was (Hand 19:3 e.v.). Sommige meen dat ‘n verkeerde navolger van Johannes hulle gedoop het. Hulle grond hulle gissing hierop dat die dissipels erken dat hulle niks van die Heilige Gees weet nie. In so ‘n onkunde sou Johannes sy dissipels egter nooit laat bly het nie. Ons moet dit egter só verstaan dat hulle nog nie gehoor het dat die gawe van die Heilige Gees aan die dissipels van Christus gegee is nie. Ek gee toe dat die doop waarmee hulle gedoop was, die ware doop van Johannes was en dieselfde as die doop wat Christus bedien het. Ek ontken egter dat hulle oorgedoop is. Die woorde dat hulle gedoop is in die Naam van die Here Jesus, beteken ook nie dat Paulus hulle net in die suiwere leer onderrig het, soos sommige beweer nie. Ek verstaan dit só, dat hulle die sigbare gawes van die Heilige Gees ontvang het, wat deur oplegging van die hande geskenk is. Dit is niks nuuts om dit met die naam doop aan te dui nie. Vergelyk Hand 1:5 enHand 11:16. Hierteen stry ook nie dat daaraan toegevoeg word nie: “En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom” (vs. 6). Lukas verhaal hier nie twee verskillende dinge nie, maar hy volg die gewone vertelwyse wat ons by die Jode vind, om eers die hoofinhoud voorop te stel en dan die saak uitvoeriger weer te gee. Die woorde beskrywe dus vir ons hoedanig die doop was waarvan gespreek is.
18. Ek vertrou dat die krag, die waardigheid, die nuttigheid en die doel van hierdie verborgenheid nou duidelik genoeg is.
Wat die uiterlike teken betref, leer al die dinge wat later bygebring is, soos die beswering, die waskers, die salwing, die beademinge en die speeksel, dat niks heiliger of beter of veiliger is nie as om met die gesag van Christus alleen tevrede te wees. Laat wie gedoop moet word, in die vergadering van die gelowiges gebring word, sodat die hele gemeente daarvan getuie is en vir hom bid. Die belydenis van geloof moet voorgelees word en die beloftes wat in die doop vervat is, verklaar word. Daarna moet hy gedoop word in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en dit moet met gebed en danksegging afgesluit word. So word niks weggelaat wat ter sake is nie, en spreek die seremonie duidelik. {482}
Verder is dit van geen belang of hy wat gedoop word, een maal of drie maal heeltemal ondergedompel word en of hy net besprinkel word nie. Hierin moet die kerke vrygelaat word. Dit is egter seker dat die ou kerk die indompeling onderhou het.
19. Dit is ook verkeerd as persone wat nie ampsdraers is nie, die doop bedien. Want die bediening van die doop is net so ‘n kerklike handeling soos die nagmaal. Christus het sy apostels beveel om te doop en nie vroue of enige moontlike mens nie.
Ook kan die praktyk nie verdedig word dat leke die doop bedien as daar doodsgevaar dreig en daar nie ‘n dienaar betyds aanwesig kan wees om te doop nie. Die ou vaders self was nie seker of dit met reg geskied het nie. Daar is geen gevaar dat so iemand die genade van die wedergeboorte sal verloor as hy ongedoop sou sterf nie. Want as God belowe dat Hy vir ons ‘n God sal wees en vir ons nageslag na ons, verklaar Hy daarmee dat Hy ons kindertjies as sy kinders aanneem nog voor hulle geboorte. In daardie woord lê hulle saligheid opgesluit En niemand sal durf beweer dat God se belofte op sigself nie voldoende is nie.
As dit waar is dat almal verlore gaan wat ongedoop sterf, is ons toestand slegter as die van die ou verbondsvolk. Want dan sou die genade van God nou beperkter wees as onder die wet. Dan sou ons moet besluit dat Christus nie gekom het om die belofte te vervul nie maar om dit af te skaf.
20. Wat die gewoonte in die kerk voor die tyd van Augustinus was, leer ons uit Tertullianus. Hy sê dat dit vroue nie toegelaat was om in die gemeente te leer, te doop of te offer nie.
Epifanius verwyt die ketter Marcion dat hy aan die vroue vryheid gegee het om te doop — iets wat selfs aan die heilige moeder van Christus nie toegestaan was om te doen nie.
21. Die voorbeeld van Sippora kan ook nie aangehaal word nie (Ex 4:25). Dat die Here daarna Moses laat staan het, kan nie as bewys aangevoer word dat Hy haar daad goedgekeur het nie. Dan sou ons ook moet toestem dat die godsdiens God behaag het wat die heidene na die wegvoering van Israel na Samaria oorgebring het. Dit sal voldoende wees as ek in hierdie geval daarop wys dat dit met die doop anders gesteld is as met die besnydenis. Ons lees nêrens dat dit insonderheid aan die priesters opgedra was om dit te voltrek nie. Ek sou ook kon volstaan deur te verwys na die duidelike bevel van Christus (Mat 28:19) en na die Skrifwoord “dat niemand die waardigheid vir homself neem nie, maar hy wat deur God geroep word, net soos Aäron” (Hebr 5:4). Maar ek laat dit alles na. Ek wil net hê dat die lesers daarop sal let dat Sippora se bedoeling nie was om God te dien nie. As sy sien dat haar seun in lewensgevaar verkeer, mor sy teen God en haar man omdat sy gedwing word om sy bloed te vergiet. {483}
Sy kan ook nie verontskuldig word dat sy haar seun besny het in teenwoordigheid van haar man, wat nie maar ‘n gewone man was nie maar die grootste en vernaamste profeet in Israel. Sy mag dit net so min gedoen het as wat ‘n vrou vandag in die teenwoordigheid van die biskop mag doop.
Ek herhaal dat klein kindertjies wat ongedoop sterf, nie uit die koninkryk van God uitgesluit is nie. Ons moet rus in God se verbond. Die krag van die verbond hang nie van die doop of iets anders af nie. Die doop kom maar net as seël by die verbond om die belofte aan ons te bevestig. Die kinders van die gelowiges word daarom nie gedoop sodat hulle kinders van God sal word nie maar omdat hulle alreeds vantevore deur die weldaad van die belofte tot die liggaam van Christus behoort. Daarom word hulle deur ‘n sigbare teken in die kerk opgeneem. As ons dus nie uit sorgloosheid of minagting die teken nalaat nie, is ons veilig. Dis baie heiliger om die sakrament daar te soek waar God dit in bewaring gegee het. En as ons dit nie van die kerk kan ontvang nie, God se genade is nie só aan die sakramente gebind dat ons dit nie deur die geloof uit sy Woord kan verkry nie.
HOOFSTUK XVI. Die kinderdoop kom ooreen met die instelling van Christus en met die aard van die teken
1. Oor die kinderdoop word daar vandag deur sommige kranksinnige geeste ernstige beroeringe in die kerk verwek. Ter wille van die suiwerheid van die leer en die vrede van die kerk is ek dus verplig om hierdie aanhangsel toe te voeg aan wat alreeds oor die doop gesê is. Hulle bestry die kinderdoop met die oënskynlik aanloklike bewering dat dit nie op ‘n instelling van God gegrond is nie, maar deur die vermetelheid van mense ligvaardiglik ingevoer is.
Die bewering klink gewigtig. Want as ‘n sakrament nie op die vaste fondament van Gods Woord gegrond is nie, hang dit aan ‘n draad. Laat ons daarom in die eerste plek die ontstaan van die kinderdoop nagaan. As dit blyk dat mense dit ligvaardiglik uitgedink het, moet ons dit laat vaar. Maar as dit blyk dat dit op God se gesag berus, moet ons oppas om nie aan die heilige instellinge van God te torring en op dié wyse die Outeur smaadheid aan te doen nie.
2. As ons wil weet wat die doop is en waarvoor dit gegee is, moet ons nie by die teken bly staan nie maar ons gedagtes rig {484} op die beloftes van God wat ons daarin aangebied word, en die verborgenhede wat daarin vir ons aanskoulik voorgestel word. Wie dit weet, het die hele waarheid van die doop. Daaruit sal hy ook leer wat die wyse en nuttigheid van die besprenkeling is. Maar wie net op die sigbare seremonie let, sal nie die krag en die eintlike wese van die doop of die betekenis van die water verstaan nie.
Wat is die doop dan? Watter krag besit dit? Die Skrif leer dat dit in die eerste plek aan ons verkondig die reiniging van die sondes wat ons uit Christus se bloed verkry. Verder verkondig dit aan ons die doding van die vlees deurdat ons deel het aan sy dood. Daardeur word die gelowiges wedergebore tot ‘n nuwe lewe. Dis die hoofsaak van die doop volgens die Skrif. Verder betuig ons daarmee ons geloof voor die mense.
3. Vóór die instelling van die doop het die volk van God die besnydenis gehad. Laat ons nou nagaan waarin die twee tekens van mekaar verskil en waarin hulle met mekaar ooreenkom. Daaruit sal dan duidelik word watter gevolgtrekking ons vir die een uit die ander een kan maak. As die Here Abraham beveel om die besnydenis te onderhou, sê Hy vooraf dat Hy vir hom en sy nageslag tot ‘n God sal wees. In hierdie woorde is die belofte van die ewige lewe saamgevat soos Christus dit uitlê. Hy ontleen daaraan die bewys van die onsterflikheid en die opstanding van die gelowiges (Mat 22:32). Nou is die vergewing van die sondes die eerste toegang tot God en die eerste ingang in die onsterflike lewe. Daaruit volg dat hierdie belofte beantwoord aan die belofte van die doop insake ons reiniging.
Daarna eis die Here van Abraham dat hy met ‘n opregte hart voor Hom sal wandel (Gen 17:1). Dit sien op die wedergeboorte. Niemand mag daaraan twyfel dat die besnydenis op die doding van die vlees, d.i. die wedergeboorte, sien nie, want Moses verklaar dit self so (Deut 30:6). Hy vermaan die volk om die voorhuid van hulle hart te besny, omdat hulle God se uitverkore volk is, maar leer hulle terselfdertyd dat dit die werk van God se genade is. Aan die vaders is dus in die besnydenis dieselfde geestelike belofte gegee wat aan ons in die doop gegee word, nl. die vergewing van die sondes en die doding van die vlees. En soos Christus die fondament van die doop is op wie die belofte van die vergewing van die sondes en die wedergeboorte rus, so is Hy dit ook van die besnydenis. Want Hy word aan Abraham belowe en in Hom die seëning van al die volke. En om die genadegawe te verseël voeg God die teken van die besnydenis daaraan toe.
4. By beide, doop en besnydenis, is die belofte dieselfde, naamlik God se vaderlike guns, die vergewing van die sondes en die ewige lewe. Vervolgens is ook die afgebeelde saak dieselfde, {485} naamlik die wedergeboorte. En die fondament waarop die vervulling van die dinge steun, is ook dieselfde. Verskil is daar alleen wat die uitwendige seremonie betref. Ons stel dus vas dat alles op die doop van toepassing is wat op die besnydenis van toepassing was, behalwe die sigbare seremonie. Tot hierdie resultaat kom ons op grond van wat die apostel ons leer om die Skrif uit te lê na die maat van die geloof (Rom 12:3,6). Soos die besnydenis vir die Jode ‘n teken was wat hulle verseker het dat hulle as volk van God aangeneem is en hulle van hulle kant bely het dat hulle hulle aan God verbind en tot sy kerk toetree, so verkondig die doop dieselfde aan ons en bely ons deur ons doop dieselfde as hulle.
5. As ons nou wil ondersoek of die klein kindertjies reg het op die doop, sal dit dwaas wees om net op die uiterlike dinge te let en die geestelike verborgenheid te vergeet. As daarop gelet word, sal dit blyk dat die kinders reg het op die doop. Want God het in die ou tyd die kinders wat besny is, die dinge geskenk wat deur die besnydenis afgebeeld is. Die besnydenis was tog ‘n seël om die belofte van die verbond aan die kinders te verseël. En as die verbond vas en onwankelbaar bly, sluit dit vandag die kinders van die Christene net sowel in as destyds die kinders van die Jode. En as die kinders aan die betekende saak deel het, waarom moet die teken hulle dan weerhou word? Woord en teken kan tog nie van mekaar geskei word nie.
Hulle teenwerping dat vir die besnydenis ‘n bepaalde dag vasgestel was, is maar net ‘n uitvlug. Ons gee toe dat ons nie aan bepaalde dae gebind is nie, maar as God nou verklaar dat die klein kindertjies in die openbaar in sy verbond opgeneem moet word, wat wil ons dan meer hê?
6. Die Skrif leer verder dat die verbond wat God eenmaal met Abraham gesluit het, en daarom ook die belofte-woord, vir die Christene vandag nog net so geldig is as wat dit vir die Jode was. Anders moet ons aanneem dat Christus deur sy koms die genade van die Vader verminder het. En dit is godslastering. Die kinders van die Jode is dus ‘n heilige geslag genoem omdat hulle erfgename van die verbond was. Dit het hulle onderskei van die kinders van die ongelowiges. Net so is die kinders van die Christene vandag heilig, al is hulle ook gebore uit ouers van wie slegs een ‘n gelowige is (1 Kor 7:14).
En as God, dadelik nadat Hy die verbond met Abraham gesluit het, hom beveel om dit deur ‘n uitwendige sakrament aan die kinders te verseël, watter rede kan Christene dan vandag hê om dit nie aan hulle kinders te verseël nie?
Al is die teken afgeskaf, bly die verbond tog dieselfde. En dit is die hoofsaak waarop ons moet let. Anders sou Christus God se genade aan ons onduideliker verkondig het as oudtyds aan die Jode. {486}
7. As die Here Jesus ‘n bewys wil lewer dat Hy gekom het om die barmhartigheid van die Vader eerder uit te brei as om dit te beperk, omhels Hy vriendelik die kindertjies wat na Hom gebring word en bestraf Hy sy dissipels wat dit wou verhinder (Mat 19:14). Maar wat het die ontvangs van die kinders nou met die doop te maak? Want daar word nie gesê dat Hy hulle gedoop het nie maar dat Hy hulle omhels en geseën het.
Maar laat ons Christus se daad noukeurig besien. Hy beveel om die kinders na Hom te bring. Hy gee ook die rede daarvoor, naamlik dat aan sulkes die koninkryk van die hemele behoort. Daarna het Hy hulle omhels en in die gebed aan die Vader opgedra. As dit nou reg is dat die kinders na Christus gebring word, waarom sal dit dan nie reg wees dat hulle die doop ontvang wat die teken van ons gemeenskap met Hom is nie? Hoe onbillik sal ons wees as ons hulle verdrywe wat Hy na Hom toe nooi? Hulle ander uitvlug dat dit al groot kinders was wat kon loop, openbaar maar net hulle onkunde. Die Griekse woorde beteken klein kindertjies wat nog aan die moeder se bors was. Die woord kom beteken dus eenvoudig “tot Hom nader”. Hulle ander beswaar, naamlik dat Christus nie sê: “vir hulle is die koninkryk van die hemele” nie maar “vir sulkes” gaan ook nie op nie. Want as Christus gebied dat hulle die kinders na Hom sal laat nader kom, is dit duidelik dat Hy werklik die kinderleeftyd bedoel. Die woord sulkes beteken dus die kinders self en die wat soos hulle is.
8. Daar is seker nou niemand meer wat nie insien dat die kinderdoop in die Skrif gegrond is en nie ‘n instelling van mense is nie.
Hulle werp egter ook teë dat ons nêrens lees dat die apostels soveel as een klein kindjie gedoop het nie. Maar die Skrif vermeld dat huisgesinne gedoop is, en wie, behalwe ‘n dwaas, kan daaruit konkludeer dat die kinders nie gedoop is nie?
As hierdie soort argumente iets werd is, moet ons ook die vroue van die nagmaal weghou, omdat ons nêrens lees dat hulle in die tyd van die apostels toegelaat is om dit te gebruik nie.
As ons dus let op die doel waarvoor die doop ingestel is, is dit duidelik dat dit net sowel aan die kinders as aan die volwassenes toekom. Die doop kan hulle nie ontsê word sonder om die wil van God openlik te weerstaan nie.
Wat hulle verder aan die volk vertel, nl. dat die kinderdoop ‘n lang tyd na Christus se opstanding onbekend was, is ‘n skandelike leuen.
9. Laat ons nou kortliks ondersoek wat die vrug van die doop is sowel vir die ouers wat hulle kinders laat doop, as vir die kinders self. Terloops, as iemand die kinderdoop ‘n saak van geen betekenis noem nie, geld dit net so vir die besnydenis. Hierdie {487} heilige instelling is nie oorbodig nie, omdat dit ons geloof versterk. Die teken van God wat aan die kind meegedeel word, verseël die belofte wat aan die gelowige ouers gegee is. Dit verseker hulle dat Hy nie net vir hulle nie maar ook vir hulle nageslag tot in duisend geslagte ‘n God sal wees.
Dit gee hulle stof om sy eer te verkondig, vervul hulle harte met buitengewone blydskap, waardeur hulle kragtig aangevuur word om so ‘n liefhebbende Vader, wat ook oor hulle nageslag besorg is, nog meer wederliefde te bewys.
Ek bekommer my ook nie as iemand teëwerp dat die belofte van God vir ons voldoende moet wees nie. God het dit anders goedgevind. Hy wil ons so ver tegemoetkom, omdat Hy ons swakheid ken.
Hulle wat die belofte van God glo, dat Hy sy barmhartigheid ook oor hulle kinders uitbrei, is daarom verplig om hulle kinders na die kerk te bring en hulle te laat teken met die teken van sy barmhartigheid en daardeur hulleself te bemoedig tot ‘n vaster vertroue. Immers, hulle sien voor hulle oë dat die verbond van die Here in die liggame van hulle kinders ingegraveer word.
Aan die anderkant ontvang ook die kinders voordeel van die doop. Hulle word in die kerk ingelyf en by die ander lidmate aanbeveel. En as hulle opgegroei het, word hulle deur die doop vermaan om God ywerig te dien. Immers, Hy het hulle as sy kinders aangeneem nog voordat hulle Hom vanweë hulle leeftyd as Vader kon erken.
Eindelik moet die vervloeking ons verskrik dat God ‘n wreker sal wees as iemand nalaat om sy kind met die teken van die verbond te teken, omdat hy daardeur die aangebode genade afwys en as ‘t ware afsweer.
10. Laat ons nou die argumente ondersoek waarmee sommige heethoofde hierdie heilige instelling van God aanval. In die eerste plek gevoel hulle dat die gelykheid van die doop en die besnydenis hulle uitermate in die noute dryf. Daarom doen hulle hulle bes om die twee so van mekaar te skei dat die een niks gemeenskapliks met die ander een besit nie. Hulle sê dat die betekende sake verskil; dat dit nie dieselfde verbond is nie en dat die benaming van die kinders ook nie dieselfde is nie.
As hulle die eerste wil bewys, sê hulle dat die besnydenis ‘n teken van die doding was. Dit gee ons hulle toe en besluit dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het omdat dit dieselfde gedagte uitdruk.
En as hulle wil bewys dat dit nie dieselfde verbond is nie, verdraai en vervals hulle die Skrif. Hulle sê dat die verbond wat met die Jode gesluit is, ‘n tydelike verbond was en dat die beloftes alleen op die teenswoordige en liggaamlike lewe betrekking {488} gehad het. As dit waar is, kan ons niks anders sê nie as dat die Jode soos ‘n kudde varke ‘n tyd lank met God se weldade versadig is, om hulle eindelik vir ewig in die verderf te laat omkom.
11. As die besnydenis net ‘n letterlike teken was, is die doop dit ook. Want die apostel maak die een nie geesteliker as die ander een nie (Kol 2:11). Wat bedoel hy met hierdie woorde anders as dat die waarheid van die doop ook die waarheid van die besnydenis is, aangesien hulle dieselfde saak afbeeld? Want hy wil bewys dat die doop vir die Christene dieselfde is wat die besnydenis eertyds vir die Jode was. Laat die gelowiges dan oorweeg of dit ‘n aardse teken is wat niks anders as geestelik en hemels is nie.
Ek sal net op een teëwerping antwoord. Dit staan vas dat die vernaamste beloftes van die verbond wat God met Israel gesluit het, geestelik was en op die ewige lewe betrekking gehad het. So is hulle ook deur die vaders opgevat. Intussen ontken ons nie dat Hy sy goedgunstigheid met aardse weldade bevestig het, om op die wyse hulle hoop op die geestelike beloftes te versterk. So het Hy byvoorbeeld aan Abraham die besit van die land Kanaän belowe as ‘n duidelike bewys van sy genade, toe Hy aan hom die ewige saligheid belowe het. So moet alle aardse beloftes verstaan word wat aan die Jode gegee is. Die geestelike belofte was hoofsaak, en die ander het daarop betrekking gehad.
12. In die benaming van die kinders vind hulle hierdie verskil: In die Ou Testament word kinders van Abraham genoem almal wat uit hom gebore is, in die Nuwe Testament die wat sy geloof navolg. Die vleeslike kinders was dus maar ‘n afskaduwing van die geestelike kinders wat deur Gods Woord tot die onsterflike lewe wedergebore is.
Ons erken dat die vleeslike nageslag van Abraham ‘n tyd lank die plek van die geestelike nageslag ingeneem het. Maar hulle vergis hulle terdeë as hulle dink dat die geestelike seëninge van God nooit aan die vleeslike nageslag van Abraham belowe is nie. Die Here belowe aan Abraham dat hy ‘n nageslag sal hê waarin al die volke van die aarde geseën sal wees. Terselfdertyd gee Hy aan hom sy Woord dat Hy vir hom en sy nageslag na hom ‘n God sal wees. Daarom is almal wat Christus as die Bewerker van die seën aanneem, erfgename van die belofte en kinders van Abraham.
13. God het voor die opstanding van Christus ander volke verbygegaan en die Jode as sy eiendomsvolk aangeneem. Om aan hulle te betuig dat Hy die Beskermer van hulle saligheid is, het Hy aan hulle die besnydenis gegee. Daardeur is hulle hoop op die ewige lewe versterk. As Paulus daarom wil bewys dat die heidene saam met die Jode kinders van Abraham is, sê hy dat die geloof Abraham as geregtigheid toegereken is toe hy nog onbesnede was (Rom 4:9-13). Hy stel dus altwee gelyk in waardigheid. Vir die {489} tyd wat God bepaal het, was hy die vader van die besnydenis. Maar toe die middelmuur van skeiding afgebreek is (Ef 2:14) en ook vir die heidene die toegang tot die koninkryk van God geopen is, het hy vir hulle ‘n vader geword sonder die besnydenis, omdat hulle die doop in die plek daarvan ontvang het.
14. Maar, so word hierteen aangevoer, Paulus leer tog (Rom 9:7) dat nie almal kinders is omdat hulle Abraham se nageslag is nie, maar dat alleen die kinders van die belofte vir die nageslag gereken word. Dit lyk of hy wil leer dat vleeslike verwantskap met Abraham van geen waarde is nie, terwyl ons dit van enige waarde ag. Paulus wil egter vir die Jode aantoon hoe weinig God se goedheid aan Abraham se geslag gebind is. Daarvoor voer hy as bewys Ismael en Esau aan. Hoewel hulle vleeslike nakomelinge van Abraham was, is hulle tog verwerp en het die seën by Isak en Jakob gebly. Daaruit volg dat die saligheid afhang van God se barmhartigheid, wat Hy bewys aan wie Hy wil, en dat die Jode geen rede het om hulle op die verbond te beroem nie, tensy hulle die wet van die verbond bewaar, dit wil sê, die Woord gehoorsaam.
Hy ontneem die Jode dus alle valse vertroue op hulle afkoms. Tog het hy ook ingesien dat die verbond van God wat Hy eenmaal met die nageslag van Abraham opgerig het, nie tot niet gemaak kan word nie. Daarom betoog hy in die selfde hoofstuk dat die vleeslike verwantskap met Abraham nie van sy waardigheid beroof mag word nie. Die Jode is die eerste en natuurlike erfgename van die evangelie, behalwe as hulle verstoot word vanweë hulle ondankbaarheid. En tog ook weer só dat die hemelse seën nie geheel en al van hulle weggegaan het nie. Daarom noem hy hulle nog heilig, al is hulle verbondsbrekers. Soveel eer ag hy die geslag waardig wat God sy heilige verbond waardig geag het. Ons is maar aangenome kinders, lote wat op ‘n vreemde stam ingeënt is Om hulle nie van hulle voorreg te beroof nie moes die evangelie eers aan die Jode verkondig word. Die eer moes aan hulle betoon word, totdat hulle dit verwerp het en deur hulle ondankbaarheid gemaak het dat die eer nou na die heidene oorgebring is. Tog mag ons hulle nie verag nie, al voer hulle ook hardnekkig oorlog teen die evangelie. Ons moet bedink dat God se seën nog onder hulle oorbly ter wille van die belofte. God se roeping is onberoulik.
15. Hier sien ons nou die krag van die belofte wat aan Abraham se nageslag gegee is. Ons bely wel dat God se verkiesing onderskeid maak tussen die erfgename van die koninkryk en die vreemdelinge, maar ons sien ook dat dit God behaag het om insonderheid aan die nageslag van Abraham sy barmhartigheid te bewys en dit met die besnydenis te verseël. Só staan dit ook met die Christelike kerk. Die kinders van die gelowiges is heilig kragtens hulle geboorte uit gelowige ouers, net soos die Joodse {490} kinders dit was (1 Kor 7:14). Daaruit volg dat hulle met reg afgeskei word van die wat onrein is.
Hulle bewering is dus heeltemal verkeerd, naamlik dat die kinders wat in die ou tyd besny is, maar net die geestelike kindskap afgebeeld het wat uit die wedergeboorte ontstaan. Petrus verkondig aan die Jode dat die belofte aan hulle en hulle kinders toekom (Hand 2:39; vgl. ook Rom 15:8).
As ons na ons teenstanders luister, waar bly dan die belofte van die tweede gebod aan God se diensknegte dat Hy barmhartigheid sal bewys aan hulle nageslag tot in duisend geslagte? Is dit afgeskaf? Maar Christus het nie gekom om die wet te ontbind nie maar om dit te vervul. Ons slotsom is dus dat God vir sy volk so goed is dat Hy om hulle ontwil ook hulle kinders onder die getal van sy volk reken.
16. Die onderskeidinge wat hulle verder tussen doop en besnydenis maak, is belaglik en baiemaal met mekaar in stryd. Soms word die doop hoër geag as die besnydenis en soms weer minder. Verder gaan hulle bewering ook nie op dat as doop en besnydenis met mekaar ooreenkom, die vroue nie gedoop mag word nie. Dis egter duidelik dat die besnydenis die heiligmaking van die geslag van Israel betuig het. In dié sin was dus ook die vroue mededeelgenote van die besnydenis. Ons handhaaf dus dat die doop met die besnydenis ooreenkom wat betref die inwendige verborgenheid, die beloftes, die wettigheid en die krag daarvan.
17. Hulle dink dat hulle ‘n baie sterk bewys het waarom die kinders nie gedoop mag word nie as hulle redeneer dat die kinders vanweë hulle leeftyd nog nie die verborgenheid van die doop, naamlik die geestelike wedergeboorte, kan verstaan nie. Hulle moet dus vir kinders van Adam gehou word totdat hulle opgegroei het. Maar op dié wyse word hulle in die dood gelaat. Christus beveel egter dat hulle na Hom, wat die lewe is, gebring moet word sodat Hy hulle lewend sal maak.
Hulle uitvlug dat die kinders nie verlore gaan nie al word hulle vir kinders van Adam gereken, word deur die hele Skrif weerspreek. Want dit getuig dat almal in Adam sterf (1 Kor 15:22), dat almal van nature aan die toorn van God onderworpe is (Ef 2:3), in sonde ontvang (Ps 51:7) en dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie (1 Kor 15:50).
Ons moet dus in Christus ingeplant word om van die slawerny van die dood verlos te word.
Maar, so vra hulle, hoe kan klein kindertjies wedergebore word wat nog geen kennis van goed of kwaad besit nie? Ons antwoord dat die werk van God tog aanwesig is, al begryp ons dit nie. Vergelyk hier die geval van Johannes die Doper, wat met die Heilige Gees vervul is reeds van die skoot van sy moeder af (Luk 1:15). {491} Daardeur het God die bewys gelewer van wat Hy in ander kan doen. Laat ons maar nie probeer om vir God ‘n wet te stel nie. Hy heilig wie Hy wil, op dieselfde wyse waarop Hy Johannes geheilig het.
18. Christus is daarom van kindsbeen af geheilig, sodat Hy uit elke leeftyd sonder onderskeid sy uitverkorenes in Homself sou heilig. Om die skuld van die ongehoorsaamheid wat in ons vlees begaan is, tot niet te maak moes Hy ons vlees aanneem om in ons plek volmaakte gehoorsaamheid te betoon. Eweso is Hy van die Heilige Gees ontvang om sy heiligheid ook in ons oor te stort. As ons in Christus die allervolmaakste voorbeeld het van die genadegawes waarmee God sy kinders begiftig, dan is Hy ook in hierdie opsig vir ons die bewys dat die kinderleeftyd nie ‘n beletsel vir heiligmaking is nie. Ons bely daarom dat niemand van die uitverkorenes onwedergebore sterf nie.
Hulle gevolgtrekking uit die woorde van die apostel Petrus (1 Petr 1:23) dat die Heilige Gees geen ander wedergeboorte ken nie as net die uit die onverganklike saad deur die lewende Woord van God, is ook verkeerd. Petrus het hier alleen dié gelowiges op die oog wat deur die prediking van die evangelie onderwys is. Ons erken dat vir hulle die Woord van God die enigste saad van die wedergeboorte is, maar ons betwis dit dat hieruit volg dat die klein kinders nie deur die krag van God wedergebore kan word nie. God kan Hom aan die kindertjies openbaar op ‘n wyse wat vir ons onbegryplik en bewonderenswaardig is.
19. Maar, sê hulle, die geloof is tog uit die gehoor (Rom 10:17). Klein kindertjies kan nog nie hoor nie. Daarom kan hulle God ook nog nie ken nie Hulle weet nog van geen goed of kwaad nie, soos Moses sê (Deut 1:39). Hulle sien egter nie in nie dat Paulus hier handel oor die gewone weg wat God volg as Hy sy uitverkorenes roep en dat hy nie vir God ‘n reël neerlê, asof Hy op geen ander wyse kan werk nie. Hy het inderdaad baie persone met ware kennis aangaande Hom begiftig deur die verligting van die Heilige Gees sonder die prediking. Laat hulle my antwoord watter gevaar daarin steek as ons sê dat klein kindertjies nou ‘n deel van die genade ontvang, waarvan hulle die volle oorvloed eers later sal geniet.
Uitverkorenes wat as kind sterwe, aanskou God se aangesig. Waarom sal God hulle dan nie met ‘n klein vonkie bestraal, as dit Hom behaag, voordat Hy hulle uit hierdie lewe wegneem nie?
20. Hulle gaan verder en sê dat die doop die sakrament is van die bekering en die geloof. Kindertjies kan hulle nog nie bekeer en glo nie. Daarom moet ons oppas dat ons nie die betekenis van die doop vernietig deur dit aan kindertjies te bedien nie.
Maar net so was die besnydenis ‘n teken van die bekering. {492} Paulus noem dit selfs ‘n seël van die regverdigheid van die geloof (Rom 4:11). Laat hulle nou van God rekenskap eis waarom Hy beveel het dat ook klein kindertjies besny moes word. Al het hulle op daardie oomblik nog nie begryp wat die bedoeling van die teken was nie, kon hulle tog later, as hulle opgegroei het, daaroor nadink. So word kindertjies gedoop tot die toekomstige bekering en geloof. Al het dit nog nie in hulle vorm aangeneem nie, lê tog die saad van altwee in hulle deur die verborge werking van die Heilige Gees.
21. Hulle beskuldig ons van ongerymdheid. Ons verwerp dit en sê dat God diegene deur die onbegryplike krag van sy Gees vernuut wat Hy uitverkies het en wat Hy uit die lewe wegneem nadat hulle die teken van die wedergeboorte ontvang het. As dit hulle gegee word om op te groei tot die leeftyd waarin aan hulle die waarheid van die doop geleer kan word, sal hulle hierdeur meer aangevuur word om die vernuwing na te jaag, waarvan hulle alreeds die teken ontvang het. Dit leer Paulus in Rom 6:4; Kol 2:12. Hy bedoel hier nie dat die wat gedoop moet word, reeds vantevore met Christus begrawe moet wees nie, maar leer net vir die wat reeds gedoop is, wat in die doop opgesluit lê. Só het Moses en die profete die volk daaraan herinner wat die besnydenis beteken, hoewel hulle reeds as kinders besny is.
Hoewel die bejaardes eers die betekenis van die sakrament moet verstaan voordat hulle gedoop word, moet ons die kindertjies anders beskou.
Hulle beroep hulle op 1 Petr. 3:21 en beweer dat op grond van daardie uitspraak die kinderdoop van die baan is. Maar ook hier dwaal hulle, omdat hulle die betekende saak in tydsorde aan die teken laat voorafgaan. Dieselfde geld egter ook van die besnydenis. As hulle verklaring dan korrek is, sou God nooit beveel het dat kindertjies besny moet word nie.
22. Al sulke redeneringe is Skrifverdraaiing. Wat hulle verder beweer, stip ek kortliks aan. Hulle sê dat die doop tot vergewing van die sondes gegee is, en beroep hulle dan op Ef 5:26. Hulle kon geen beter teks aanhaal om hulle dwaling te weerlê nie. Want as Christus wil dat die afwassing van die sondes deur die doop betuig sal word, waardeur Hy sy kerk reinig, dan is dit nie reg dat die afwassing nie aan die klein kindertjies betuig sal word nie. Immers, hulle word met reg ook tot die kerk gereken, omdat hulle erfgename van die koninkryk van die hemele genoem word. Paulus sluit die hele kerk in as hy sê dat dit met die waterbad gereinig is. Uit 1 Kor 12:13 volg ewe-eens dat die klein kindertjies, wat Christus onder die lidmate reken, gedoop moet word, sodat hulle nie van die liggaam van Christus afgeskeur word nie.
23. Hulle beroep hulle ook op die praktyk in die dae van die apostels. Toe is niemand gedoop wat nie vooraf sy geloof {491} en bekering bely het nie. Petrus sê vir die Jode dat hulle hulle moet bekeer en daarna laat doop tot vergewing van die sondes (Hand 2:38; vgl. ook Hand 8:37). Hieruit maak hulle dan die gevolgtrekking dat niemand gedoop mag word as daar nie geloof en bekering voorafgegaan het nie. Maar as ons so redeneer, bewys die eerste teks dat net bekering nodig is om gedoop te word, en die tweede dat net geloof vereis word.
Ter oplossing van die saak merk ons op dat hier sprake is van volwassenes wat nie gedoop mag word voordat hulle geloof en bekering gesien word nie. Maar dat klein kindertjies tot ‘n ander kategorie behoort, is volkome duidelik. So is die heidene ook eers in die wet en die verbond van die Here onderwys voordat hulle besny is.
24. So het God eers met Abraham die verbond opgerig en die sakrament aan hom geskenk nadat hy die belofte geglo het. Dit was gepas dat Abraham eers die voorwaardes van die verbond moes leer maar Isak nie, omdat hy van die moederskoot af in die verbond opgeneem was. God noem die kinders wat uit Israel gebore is, sy kinders (Eseg 16:20; Eseg 23:37), vir wie Hy belowe het om ‘n Vader te wees. Daarom is daar ook geen rede om die teken van die verbond aan hulle te onthou nie.
Ons kan alles kortliks soos volg saamvat: Hulle wat op volwasse leeftyd tot die geloof in Christus kom, moet eers hulle geloof en bekering bewys voordat hulle gedoop en tot die verbond toegelaat mag word. Maar kinders wat uit Christelike ouers gebore is, word deur God as erfgename van die verbond aangeneem en daarom ook tot die doop.
25. Hulle haal ook die woorde van Christus aan Nikodemus aan: “As iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie” (Joh 3:5). Christus self noem hier die doop die wedergeboorte, sê hulle. Hoe kan ons hulle dan doop wat nie vir wedergeboorte vatbaar is nie?
Hulle vergis hulle egter terdeë as hulle meen dat Christus hier oor die doop spreek. Nikodemus dink dat Hy spreek van liggaamlik weer gebore word. Nou toon Christus hom aan op watter wyse God ons wederbaar, naamlik deur water en Gees, d.w.s. deur die Gees wat in die reiniging van die siele die diens van water vervul. Ek neem water en Gees eenvoudig vir Gees wat water is. En dit is niks nuuts nie. In Mat 3:11 is sprake van doop met die Heilige Gees en met vuur. Dit beteken die Heilige Gees skenk, wat in die wedergeboorte die taak en natuur van vuur het. So beteken wedergebore word deur water en Gees om die Heilige Gees te ontvang wat die siel reinig soos water die liggaam reinig.
26. Verder is dit duidelik dat hulle versinsel verwerp moet {494} word, omdat hulle almal wat nie gedoop is nie, aan die ewige dood oorgee.
Laat ons veronderstel dat die doop alleen aan volwassenes bedien mag word. Wat, sal hulle dan sê, gebeur met iemand wat behoorlik in die leer onderwys is maar plotseling sterf voordat hy gedoop kan word? Die belofte van die Here is duidelik dat elkeen wat in die Seun glo, die dood nie sal sien nie en nie in die oordeel sal kom nie maar uit die dood in die lewe oorgegaan het. Nêrens lees ons dat Hy iemand verdoem wat nog nie gedoop is nie. Hiermee bedoel ek nie dat die doop ongestraf geminag kan word nie. Ek wil maar net bewys dat die doop nie so noodsaaklik is dat ons moet dink dat elkeen verlore is wat nie in die geleentheid is om dit te bekom nie. As ons hulle versinsel moet toestem, moet ons sonder uitsondering elkeen verdoem wat om een of ander rede nie gedoop is nie, hoe groot sy geloof in Christus ook mag gewees het. Bowendien veroordeel hulle alle klein kindertjies tot die ewige dood aan wie hulle die doop, wat volgens hulle noodsaaklik is om salig te word, weier. Laat hulle nou sien hoe dit ooreenstem met die woorde van Christus dat aan sulkes die koninkryk van die hemele behoort.
27. Hulle beroep hulle veral op die woorde van Christus aan sy apostels dat hulle dissipels moet maak van al die nasies en hulle moet doop (Mat 28:19). Hieraan verbind hulle dan die woorde uit Markus: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word” (Mark 16:16). Christus sê dus self dat die onderwysing aan die doop moet voorafgaan. Hierdie orde het Hy ook deur sy eie voorbeeld self bevestig: Hy het Hom eers laat doop toe Hy dertig jaar oud was.
Hulle vergis hulle egter as hulle dink dat op hierdie plekke vir die eerste maal van die doop sprake is. Christus het van die begin af sy apostels beveel om te doop. Daar is dus geen rede om te beweer dat die wet en reël van die doop uit hierdie twee plekke afgelei moet word nie. Maar watter krag besit die bewysvoering nou? As ek ook soos hulle uitvlugte soek, lê hier ‘n hele veld vir my oop. As hulle dan so op die volgorde van die woorde let, kan ons ook beweer dat ons eers moet doop en dan onderwys, want Christus sê: “Doop hulle … en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het”.
28. Ek wil my egter nie deur sulke skerpsinnighede loswikkel nie. Die waarheid beskerm homself op ‘n waardiger wyse. Christus beveel hier om die evangelie te verkondig. Daaraan verbind Hy die bediening van die doop as aanhangsel. Van die doop word net gespreek as ‘n saak wat aan die leeramp opgedra is. Hoedanig is die persone nou wat tot sy koninkryk vergader moet word? Dis duidelik dat hier gespreek word oor mense wat in staat is om die leer aan te neem. Hulle kan gedoop word nadat hulle onderwys {495} ontvang het. En dan voeg Hy die belofte daaraan toe dat hulle wat geglo het en gedoop is, gered sal word. Van kinders is hier nie met een enkele woord sprake nie. Hulle bewysvoering kom dan hierop neer: volwassenes moet eers onderwys word en glo voordat hulle gedoop word, daarom is dit ongeoorloof om kinders te doop. Maar so ‘n redenering is van geen waarde nie.
29. Hulle pas dus op die kindertjies toe wat net vir volwassenes geld. Dis net so dwaas as om nie voedsel aan kindertjies te gee nie, omdat die apostel sê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Thess 3:10).
Die voorbeeld van Christus steun hulle saak ook nie. Hy is op dertigjarige leeftyd gedoop, omdat Hy toe besluit het om deur sy prediking ‘n vaste fondament vir die doop neer te lê. Hy het dus die doop deur sy eie liggaam geheilig op die tydstip wat daarvoor die geskikste was, naamlik toe Hy begin preek het. Ten slotte, as hulle dan so die dertigste jaar noem, waarom onderhou hulle dit dan self nie? Want hulle neem elkeen aan wat volgens hulle oordeel genoegsaam gevorder het.
30. Onjuis is ook hulle gevolgtrekking dat dan aan die kinders ook die heilige nagmaal bedien moet word, as hulle reg het op die doop. Die Skrif self wys egter vir ons die groot verskil tussen die twee sakramente aan. Die doop is die inlywing in die Christelike kerk en die teken van ons geestelike wedergeboorte, maar die nagmaal is aan volwassenes gegee wat vaste spyse kan verdra. Hulle kan die liggaam en bloed van die Here onderskei. Hulle kan die dood van die Here verkondig. Hulle kan hulleself beproef (1 Kor 11:28). Maar kindertjies kan van al die dinge niks doen nie. So is ook die Pasga ook eers geëet deur kinders wat na die betekenis daarvan kon vra.
31. Servet, ‘n groot sieraad onder hulle, beweer dat die sakramente van Christus volmaak is en daarom ook volmaakte mense vereis of altans mense wat tot die volmaaktheid in staat is. Maar ons antwoord dat die volmaaktheid van die doop hom uitstrek tot die dood toe en daarom verkeerdelik tot een tydstip beperk word. Dit is dwaasheid om in die mens op die eerste dag die volmaaktheid te eis waartoe die doop ons ons hele lewe lank opvoer.
Vervolgens sê hy dat Christus die sakramente ingestel het tot sy gedagtenis, sodat elkeen sal gedenk dat hy met Hom begrawe is. Die woorde van Paulus dat elkeen homself sal beproef, geld egter alleen vir die nagmaal en nie vir die doop nie. Daaruit lei ons af dat almal gedoop moet word wat kragtens hulle leeftyd hulleself nog nie kan beproef nie.
Sy derde argument is dat almal wat nie in die Seun van God glo nie, in die dood en onder die toorn van God lê. Kinders wat nog nie kan glo nie, lê dus in hulle verdoemenis. Christus spreek hier {496} egter nie oor die algemene skuld waaronder al die nakomelinge van Adam lê nie, maar Hy dreig alleen die veragters van die evangelie met die oordeel. Maar dit het op die kinders geen betrekking nie. Op my beurt sê ek dat almal wat deur Christus geseën word, van die vloek van Adam en die toorn van God verlos word. Uit die feit dat Hy die kindertjies geseën het, volg dat hulle van die dood verlos is.
Verder bring hy hier nog by wat nêrens gelees word nie, dat elkeen wat uit die Gees gebore is, die stem van die Gees hoor. Maar ook al sou dit so geskrywe gestaan het, volg daaruit niks meer nie, as net dat die gelowiges deur die Heilige Gees gehoorsaam gemaak word.
Sy vierde argument is dat met die doop, wat geestelik is, gewag moet word tot op die tyd wat daarvoor geskik is, omdat die natuurlike voorafgaan. Ek erken dat al die nakomelinge van Adam in die verdoemenis lê. Dit verhinder egter nie dat God dadelik ‘n geneesmiddel daarteen kan aanbring nie. Kinders is heilig kragtens ‘n bonatuurlike genade (1 Kor 7:14).
Vervolgens kom hy met ‘n allegorie, naamlik dat toe Dawid die vesting Sion ingeneem het, hy geen kreupeles of blindes met hom saamgeneem het nie maar geoefende soldate (2 Sam 5:8). Hierteenoor stel ek die gelykenis dat God blindes en kreupeles na die hemelse maaltyd nooi (Luk 14:21).
Dan volg nog ‘n allegorie, nl. dat Christus van die apostels vissers van mense gemaak het, nie van klein kindertjies nie. Maar ek vra wat die woorde van Christus dan beteken dat allerhande soorte visse in die net van die evangelie saamgebring word? Verder sal ek graag van Servet wil weet waarom klein kindertjies nie mense is nie.
In die sewende plek voer hy aan dat geestelike dinge met geestelike vergelyk moet word (1 Kor 2:13). Daarom kan kinders nie gedoop word nie, omdat hulle nie geestelik is nie. Maar die apostel spreek hier oor die leer en verwyt die hoogmoedige Korinthiërs hulle traagheid, omdat hulle nog in die eerste beginsels van die hemelse leer onderwys moet word. Wie sal nou daaruit besluit dat die kinders wat God in genade as sy kinders aangeneem het, nie gedoop mag word nie? Sy bewering dat hulle met geestelike voedsel gespysig moet word as hulle nuwe mense is, kan maklik beantwoord word. Deur die doop word hulle in die kudde van Christus opgeneem. Die teken van aanneming is vir hulle voldoende, totdat hulle vaste spys kan verdra as hulle opgroei.
Hy sê ook dat Christus almal tot die nagmaal roep wat Hom toebehoort. Maar Christus roep net die wat sy dood kan gedenk. Daaruit volg dat kinders op ‘n ander trap staan totdat hulle opgegroei het, en tog geen vreemdelinge is nie. {497}
Op sy bewering dat dit wonderlik is dat ‘n mens nie eet as hy gebore is nie, antwoord ek dat die siele op ‘n ander wyse gevoed word as deur die nagmaal te eet. Christus is die spys ook vir die klein kinders, ook al het hulle nie deel aan die teken nie. Met die doop staan dit anders. Daardeur word net die deur tot die kerk vir hulle geopen.
Hy sê ook dat ‘n goeie huisheer op die regte tyd aan sy huisgesin voedsel gee. Met watter reg sal hy nou daarmee die tyd om te doop bepaal?
Verder herinner hy aan die woorde van die Here Jesus (Joh 4:35). Maar Christus wil alleen sy apostels aanspoor om ywerig te wees in hulle sending. Wie sal nou daaruit besluit dat die oestyd die enigste tyd is om te doop?
Sy elfde redenering is dat in die eerste kerk dissipels en Christene dieselfde persone was en dat al die Christene broeders van mekaar was. Wie sal nou hieruit opmaak dat kinders vreemdelinge is en nie broeders nie, omdat ons hulle van die nagmaal weghou? Die moordenaar aan die kruis was egter ook ‘n broeder, al het hy nooit nagmaal gebruik nie.
Hy voer verder aan dat Cornelius gedoop is nadat hy die Heilige Gees ontvang het (Hand 10:44). Maar die hofdienaar en die Samaritane is gedoop voordat hulle die gawe van die Heilige Gees ontvang het. Dan sê hy nog dat ons deur die wedergeboorte gode word met wie God spreek. En dat dit nie op die klein kindertjies pas nie. Maar in Ps 82 word gehandel oor konings en owerheidspersone wat kragtens hulle amp konings genoem word. Maar die handige uitlegger pas dit op kinders toe om hulle uit die kerk te weer!
32. Dis nou duidelik hoe die kerk van Christus deur die stryd oor die kinderdoop in verwarring gebring word. Dis ook duidelik wat Satan se doel is. Hy wil ons die vertroue en die geestelike vreugde ontneem wat ons hieruit verkry, en aan die eer van God se goedheid te kort doen. Want hoe lieflik is dit vir die gelowiges om nie net deur die woord nie maar ook deur die aanskouing van die oë verseker te word daarvan dat hulle soveel genade van hulle hemelse Vader verkry dat hulle nageslag ook voorwerpe van sy sorg is! Soos ‘n getroue huisvader sorg Hy nog vir ons na ons dood. Moet ons harte nie van dankbaarheid opspring nie? Maar Satan wil hierdie betoning van God se genade wegneem sowel as die belofte wat ons voor ons oë sien. Die gevolg daarvan sal wees goddelose ondankbaarheid jeens God en traagheid om ons kinders godvrugtig op te voed. Laat ons daarom aan God ons kinders aanbied, vir wie Hy ‘n plek onder sy vriende en huisgenote toegeken het dadelik van die oomblik van hulle geboorte af. {498}
HOOFSTUK XVII. Die heilige nagmaal van Christus en wat dit ons skenk
1. Nadat God ons eenmaal in sy huisgesin opgeneem het, nie as sy diensknegte nie maar as sy kinders, neem Hy ook, soos ‘n goeie huisvader wat oor sy kinders besorg is, dit op Hom om ons ons lewe lank te voed. En daarmee nie tevrede nie het Hy ons ook ‘n pand gegee om ons van sy onafgebroke milddadigheid te verseker. Vir hierdie doel het Hy deur sy Seun aan sy kerk ‘n tweede sakrament gegee. Dit is die geestelike maaltyd waarby Christus die lewendmakende brood is, soos Hyself betuig (Joh 6:51). Hiermee word ons siele tot die ware en geluksalige onsterflikheid gevoed. Die kennis van hierdie groot verborgenheid is baie noodsaaklik en vereis ‘n noukeurige uiteensetting.
In die eerste plek: die tekens is brood en wyn, wat ons die onsigbare voedsel laat sien wat ons uit die vlees en bloed van Christus ontvang.
Vervolgens is Christus die enigste voedsel van ons siele. Daarom nooi die hemelse Vader ons na Hom toe, sodat ons verkwik word deur die spys te gebruik en só krag versamel totdat ons die hemelse onsterflikheid bereik. Hierdie verborgenheid van die verborge vereniging van Christus met die gelowiges is van nature onbegryplik. Daarom laat Hy ons ‘n beeld daarvan sien, wat by ons swak begrip pas. En Hy verseker ons deur die pande en tekens dat ons siele so seker met Christus gevoed word, soos brood en wyn die liggaamlike lewe onderhou.
Ons sien dus nou al wat die doel van hierdie verborge seëning is. Dit is, naamlik, om ons te verseker dat die liggaam van die Here eenmaal so vir ons geoffer is dat ons dit nou eet en deur te eet die krag van die enige offerande in ons bemerk. Dit verseker ons vervolgens dat sy bloed so seker vir ons vergiet is dat dit vir ons ‘n voortdurende drank is. So lui die woorde van die belofte dan ook: “Neem, dit is my liggaam wat vir julle gebreek word” (Mat 26:26; 1 Kor 11:24).
Ons word dus beveel om die liggaam van die Here wat eenmaal vir ons saligheid geoffer is, te neem en te eet. Die sigbare brood waaraan ons deel het, verseker ons dus dat die krag van sy lewendmakende dood in ons sal werk. Daarom noem Hy ook die drinkbeker die testament in sy bloed.
2. Die gelowige hart ontvang dus ‘n groot vertroue uit hierdie sakrament. Dit betuig aan die volk van God dat hulle met Christus tot een liggaam saamgegroei het, sodat hulle alles wat aan Hom {499} behoort, hulle eie mag noem.
Hieruit volg dat ons seker is dat die ewige lewe waarvan Hy erfgenaam is, ons deel is en dat die koninkryk van die hemele waarin Hy reeds ingegaan het, ons nie kan ontgaan nie. Ons sondes kan ons ook nie veroordeel nie, omdat Hy ons van die skuld verlos het. Dit was sy wil dat die sondes Hom toegereken sal word asof dit syne was.
Dit is die wonderbare plekverwisseling wat Hy in sy onmeetlike goedertierenheid met ons aangaan, dat Hy Seun van die mens met ons geword het en ons met Hom tot kinders van God gemaak het. Dat Hy dit vir ons moontlik gemaak het om na die hemel op te styg deurdat Hy op aarde neergedaal het. Dat Hy ons sy onsterflikheid geskenk het deur ons sterflikheid te ontvang. Dat Hy deur sy krag ons versterk het deur ons swakheid aan te neem; sy rykdom op ons oorgedra het deur ons armoede op Hom te neem en ons met sy geregtigheid beklee het deur ons ongeregtigheid op Hom te neem.
3. Al die dinge verkondig die sakrament so seker aan ons asof Christus self teenwoordig is en ons Hom met ons oë sien en met ons hande tas. Want hierdie woorde kan nie bedrieg nie: “Neem eet; dit is my liggaam. Neem, drink; dit is my bloed”.
As Hy ons beveel om dit te neem, gee Hy daarmee te kenne dat dit ons toekom. En as Hy beveel om dit te eet, verklaar Hy daarmee dat dit met ons een substansie word. As Hy sê dat sy liggaam vir ons oorgegee is en dat sy bloed vir ons vergiet is, leer Hy ons daarmee dat Hy altwee aangeneem en afgelê het, vir ons saligheid en nie vir sy eie voordeel nie. Ons moet dan ook daarop let dat die hele krag van die sakrament geleë is in die woorde: “Wat vir julle gegee; wat vir julle vergiet word”. Sy liggaam en bloed behoort ons toe. Nog meer, hulle is bestem om die voedsel van ons geestelike lewe te wees. Net soos brood ons liggaamlike lewe voed, onderhou en versterk, so is die liggaam van Christus die enigste voedsel om ons siel te voed en lewend te maak. So ook word ons deur die bloed van Christus geestelik gevoed, verkwik, versterk en opgevrolik, soos wyn die liggaam voed, verkwik, versterk en vrolik maak.
4. Die vernaamste taak van die sakrament is dus nie dat dit ons die liggaam van Christus aanbied nie maar dat dit die belofte aan ons verseël en bevestig dat Hy die brood van die lewe is en dat elkeen wat daarvan eet, in ewigheid sal lewe. Om dit aan ons te verseël stuur dit ons na die kruis van Christus, waar die belofte waarlik volbring en volkome vervul is. Want ons eet Christus dán eers tot ons saligheid as ons Hom gekruisig eet en die kragtige werking van sy dood met ons hele hart aangryp.
Christus noem Homself die brood van die lewe, omdat die {500} Vader Hom as brood aan ons gegee het en Hy Homself ook as sodanig betoon het toe Hy ons menslike sterflikheid deelagtig geword het en ons deelgenote van sy goddelike onsterflikheid gemaak het; toe Hy ons vloek op Hom geneem het om ons met sy seëning te vervul; toe Hy deur sy dood die dood verslind het; toe Hy deur sy opstanding ons vlees, wat Hy aangeneem het, tot heerlikheid en onverderflikheid opgewek het.
5. Hierdie versekering geskied sowel deur die evangelie as deur die heilige nagmaal. Daarin bied Hy Homself met al sy goedere nog duideliker aan ons aan en neem ons Hom deur die geloof aan. Die sakrament maak Christus nie die brood van die lewe nie maar herinner ons daaraan dat Hy die brood van die lewe geword het sodat ons dit gedurig sal eet en die krag van die brood sal gevoel. Want dit belowe ons dat alles wat Christus gedoen of gely het, geskied het om ons vir ewig lewend te maak. Dit word mooi saamgevat in die woorde van Christus: “Die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee” (Joh 6:51). Eenmaal het Hy sy liggaam gegee sodat dit brood sou word, toe Hy dit tot verlossing van die wêreld gegee het om gekruisig te word. Daeliks bied Hy ons dit as die gekruisigde liggaam in die evangelie aan en verseël dit deur die heilige nagmaal. Op die wyse vervul Hy inwendig wat Hy ons uitwendig laat sien.
Vervolgens moet ons hier op ons hoede wees vir twee foute. Ons moet die tekens nie so geringag dat ons hulle losmaak van die verborgenhede waaraan hulle verbind is nie, en ons moet hulle nie so hoog skat dat ons die verborgenhede verduister wat hulle afbeeld nie. Almal wat nie ongelowig is nie, erken dat Christus die brood van die lewe is, waardeur die gelowiges tot die ewige saligheid gevoed word. Maar almal stem nie saam oor die wyse waarop ons aan Hom deel kry nie. Sommige meen dat om Christus se vlees te eet en sy bloed te drink beteken om in Hom te glo. Maar ek meen dat Christus met die woorde bedoel dat Hy ons lewend maak deurdat ons aan Hom deel het. Ek meen dus dat die eet vrug is van die geloof.
As die Here Homself dus die brood van die lewe noem, wil Hy ons nie net leer dat ons saligheid in die geloof aan sy dood en opstanding geleë is nie, maar veel meer dat sy lewe ons lewe word, net soos brood as dit geëet word, die liggaamskrag versterk.
6. Augustinus sê dat ons eet terwyl ons glo. Ek ontken dit nie maar voeg daaraan toe dat ons Christus deur die geloof omhels as Een wat Hom met ons verenig, sodat Hy ons Hoof sal wees en ons sy lede.
Uit alles blyk dat ons die nagmaal reg gebruik as ons op God sien en aanneem wat Hy ons aanbied.
7. Die opvatting van hulle dat ons deur die nagmaal net aan {501} die Gees van Christus gemeenskap het, stel my nie tevrede nie. Daar staan tog nie verniet geskrywe dat sy vlees waarlik spys en sy bloed waarlik drank is nie, en dat elkeen die lewe het wat sy vlees eet en sy bloed drink. Ek sal nou probeer aantoon hoe ver die gemeenskap gaan, ten minste, as mens so ‘n groot verborgenheid in woorde kan uitdruk. Ek bely graag dat ek dit nie eers ten volle met my verstand kan begryp nie. Ook as ek probeer het om alles te sê, het ek nog maar weinig gesê wat die saak waardig is. Ek kan alleen in bewondering oor hierdie verborgenheid uitbreek. Tog sal ek die hoofinhoud van my gevoelens weergee, hoe gebrekkig dit ook mag wees, in die vertroue dat die gelowiges dit sal aanneem.
8. In die eerste plek leer die Skrif ons dat Christus van die begin af die lewendmakende Woord van die Vader was, die bron en oorsprong van die lewe, van wie alle dinge hulle lewe ontvang het (Joh 1:4; 1 Joh 1:1). Maar die lewe is toe eers geopenbaar, sê Johannes, toe die Seun van God ons vlees aangeneem het. Want hoewel Hy vantevore sy krag in die skepsels uitgestort het, moes die mens wat deur die sonde van God vervreemd geraak het, tog tot die gemeenskap met die Woord aangeneem word om die hoop op die onsterflikheid terug te kry.
Vanaf die oomblik dat die Bron van die lewe begin het om in ons vlees te woon, is Hy nie meer vir ons verborge nie maar bied Hy Homself ons aan sodat ons aan Hom deel sal hê. Selfs die vlees waarin Hy woon, gee Hy aan ons as ‘n lewendmakende vlees, sodat ons tot die onsterflikheid gevoed word deurdat ons deel daaraan het.
Dit is die betekenis van Jesus se woorde in Joh 6:48,51. Hy leer ons daar dat Hy nie net die lewe is omdat Hy die ewige Woord van God is wat uit die hemel na ons neergedaal het nie, maar ook dat Hy die krag in die vlees uitgestort het toe Hy neergedaal het, sodat ons deel sal hê aan die lewe. Hieruit volg dat sy vlees waarlik spys en sy bloed waarlik drank is waardeur die gelowiges tot die ewige lewe gevoed word. Dit is dan ons troos dat ons die lewe in ons eie vlees vind.
9. In sigself besit die vlees van Christus nie die krag om ons lewend te maak nie. In sy eerste toestand was dit aan die sterflikheid onderworpe. En hoewel dit nou onsterflikheid verkry het, lewe dit tog nie deur sigself nie. Dit word egter lewendmakend genoem, omdat dit met die volheid van die lewe deurdring is om dit aan ons mee te deel. So moet ons dan ook die woorde van die Here Jesus verstaan (Joh 5:26). Christus spreek hier van die gawes waarmee Hy in sy menslike natuur toegerus was. Ook in sy mensheid woon die volheid van die lewe. En so is die vlees van Christus soos ‘n ryk en onuitputlike bron wat die lewe in ons oorgiet wat uit sy Godheid ontspring. Gemeenskap aan die vlees en {502} bloed van Christus is dus nodig vir almal wat die hemelse lewe begeer (Ef 1:23; Ef 4:15; 1 Kor 6:15). Die kerk is die liggaam van Christus en Hy is die Hoof daarvan. Dit kan egter alleen gebeur as Hy met sy Gees en liggaam aan ons verbind is (Ef 5:30). “Hierdie verborgenheid is groot”, sê die apostel. Hy bewonder dit liewer as om dit uit te lê.
10. Die hoofsaak is dus dat ons siele net so deur die vlees en bloed van Christus gevoed word soos brood en wyn die liggaamlike lewe voed en in stand hou. Anders sou die betekende saak nie met die teken ooreenkom nie.
Hier moet nie die beswaar ingebring word van die groot afstand wat Christus van ons skei nie. Ons moet daaraan dink dat die verborge krag van die Heilige Gees ons verstand ver te bowe gaan. Dit is dwaasheid om sy onmeetlike krag met ons beperkte mate te wil meet. Die geloof moet aangryp wat die verstand nie begryp nie, naamlik dat die Gees waarlik verenig wat deur afstand van mekaar geskei is. Die heilige gemeenskap met sy vlees en bloed, waardeur Christus sy lewe in ons oorstort net so asof dit in ons murg en beendere deurdring, betuig en verseël Hy aan ons in die heilige nagmaal. Dis nie ‘n teken sonder betekenis wat Hy ons daar voorhou nie, maar ‘n vervulling van wat Hy belowe, deur die kragtige werking van sy Gees.
Hy bied die betekende saak aan en stel dit voor die oë van almal wat aan die maaltyd aansit, hoewel dit alleen deur die gelowiges met vrug ontvang word (1 Kor 10:16). Dit is geen figuurlike spreekwyse waardeur die naam van die betekende saak aan die teken gegee word nie. Ek erken dat die breking van die brood ‘n teken is en nie die saak self nie, maar saam met die teken word die saak self verskaf. Die Here bedrieg ons nie. As Hy ons die teken van sy liggaam gee, verseker Hy ons van ons waaragtige deelgenootskap aan Hom.
11. Die heilige nagmaal behels dus twee sake: die sigbare tekens wat die onsigbare sake ons voor oë stel, en die geestelike waarheid wat deur die tekens afgebeeld en gegee word. As ons wil weet hoedanig die waarheid is, moet ons op drie dinge let, naamlik die betekenis, die inhoud wat daaraan verbind is, en die krag of vrug wat uit beide volg. Die betekenis lê in die beloftes wat in die teken opgesluit lê. Die inhoud of substansie noem ek Christus met sy dood en opstanding. En die vrug of uitwerking is die verlossing, die regverdigmaking, die heiligmaking, die ewige lewe en al die ander weldade wat Christus ons skenk.
In die tekens van brood en wyn word Christus ons waarlik in die nagmaal gegee. So ook sy liggaam en bloed, waarin Hy alle gehoorsaamheid vervul het om vir ons die regverdigmaking te verdien. Ons word met Hom tot een liggaam verenig. Ons verkry {503} deel aan Hom, en ons gevoel sy krag in die gemeenskap van al sy goedere.
12. Ons moet ons nie voorstel dat die liggaam van Christus aan die brood verbind is nie, soos die Roomse leer, sodat dit met die hande getas, met die tande vermaal en met die mond ingesluk kan word nie. Christus se liggaam is soos elke menslike liggaam begrens, en is nou in die hemel, waarheen dit opgeneem is totdat Hy weer kom om te oordeel. Die gemeenskap met Hom geniet ons deur sy Gees. Hy skenk ons alles wat Christus besit.
13. Die Skolastici weer sê dat Christus nie plaaslik of liggaamlik in die sakrament opgesluit is nie. Maar hulle redenering kom tog daarop neer dat Hy in die gedaante van die brood gesoek moet word. Wat tevore brood was, word deur die konsekrasie Christus. So sê Lombardus dat die liggaam van Christus, wat op sigself sigbaar is, na die konsekrasie onder die gedaante van die brood verberg word. Die brood is niks anders as ‘n masker wat ons verhinder om die liggaam van Christus te sien nie. Op die wyse het hulle sover gekom om die brood vir God te hou.
14. Hieruit het die versinsel van die transsubstansiasie ontstaan, waarvoor hulle vandag so dapper veg. Volgens hulle verander die brood in die liggaam van Christus. Hy vernietig die substansie van die brood om Homself onder die gedaante van die brood te verberg. Ek erken dat sommige vaders die woord verandering gebruik het. Hulle bedoeling was egter nie om die substansie van die tekens weg te neem nie. Hulle wou alleen leer dat die brood van die sakrament baie verskil van die gewone brood. Almal verkondig egter oral dat die heilige nagmaal uit twee dele bestaan: ‘n aardse en ‘n hemelse. Onder die aardse deel verstaan hulle eenparig die brood en die wyn. Hierdie dwaling is dan ook nie lank gelede eers uitgedink nie.
Watter verandering vind daar dan in die doop plaas? Die vaders spreek hier ook van ‘n wonderbare verandering as hulle die water ‘n geestelike bad van die siel noem. Tog ontken niemand dat dit water bly nie. So is dit ook in die nagmaal. Christus wil alleen betuig dat sy vlees spys is. Nou eis die aard van die sakrament dat die aardse teken aan die hemelse werklikheid sal beantwoord. Ware brood moet dus die ware liggaam van Christus voorstel.
15. Die oorsaak van hierdie dwaling is dat die konsekrasie vir hulle die krag van ‘n towerformule het. Hierdie saak is vir hulle verborge, naamlik dat die brood net vir dié mense ‘n sakrament is tot wie die Woord van die belofte gespreek is. So verander die water in die doop ook nie, maar as die belofte daarmee verbind word, word dit vir ons iets wat dit vantevore nie was nie (Ex 17:6). Laat ons dit met ‘n voorbeeld verduidelik. Die water wat in die woestyn uit die rots gestroom het, was vir die Israeliete ‘n teken {504} van dieselfde saak wat die wyn in die nagmaal vir ons afbeeld (1 Kor 10:4). Maar die volk se groot- en kleinvee het ook van die water gedrink. Hieruit volg dat daar geen verandering in die aardse elemente plaasvind as hulle vir ‘n geestelike doel aangewend word nie. Alleen vir die mense verander hulle, in sover hulle seëls van die belofte is. Hulle sê dat die mens se gees nie na Christus in die hemel kan deurdring nie. Maar hulle geneesmiddel is nog skadeliker. Maar, sê hulle, die staf van Moses wat in ‘n slang verander het, word slang genoem maar behou tog ook sy ou naam “staf” (Ex 4:3; Ex 7:10). So, sê hulle, is dit ook aanneemlik dat die brood ‘n ander substansie word, in oneintlike sin, maar tog brood genoem word. Hoe hulle ‘n verband kan vind tussen die luisterryke wonder en hulle bedrieëry, begryp ek nie.
16. Ander weer erken dat die brood van die nagmaal aards en verganklik is en geen verandering ondergaan nie, maar dit sluit die liggaam van Christus in. En dit omdat die liggaam onsigbaar is, onmeetlik en alomteenwoordig. Hulle kan hulle nie ‘n deelname aan die vlees en bloed van Christus voorstel nie, behalwe dit dat Hy in die brood neerdaal. Dat Hy ons tot Hom ophef, begryp hulle nie.
17. Om hulle dwaling te verdedig skroom sommige nie om te sê dat die vlees van Christus altyd dieselfde afmeting gehad het as die hemel en die aarde nie. Dat Hy as kind gebore is, opgegroei het, gesterf het en begrawe is en Hom na sy opstanding liggaamlik aan sy apostels vertoon het, was alleen ‘n beskikking van God, sodat Hy voor die oë van die mense sou kon vervul wat tot ons saligheid nodig was. Dis die dwaling van Marcion, wat aan Christus ‘n skynliggaam gee.
Om hulleself te red beweer ander weer dat die liggaam wat in die sakrament gegee word, verheerlik en onsterflik is. Daarom is dit nie ongerymd as dit op verskillende plekke sonder enige gedaante in die sakrament teenwoordig is nie. Maar hulle vergeet dat Christus voor sy dood sy sterflike liggaam aan sy apostels gegee het. Wel het Hy aan drie van hulle sy verheerlikte liggaam op die berg laat sien (Mat 17:2), maar Hy het dit gedoen alleen om hulle ‘n voorsmaak van die onsterflikheid te gee. Toe Hy egter sy liggaam aan sy apostels gegee het, was Hy nog nie verheerlik nie.
18. Maar as hulle so die liggaam en die bloed van die Here aan die brood en die wyn verbind, moet noodsaaklik die liggaam van die bloed afgesonder word. Want die brood en die wyn word afsonderlik gegee. Dit is ‘n nuttelose uitvlug om te sê dat die bloed in die liggaam is en die liggaam in die bloed, want dit is twee onderskeie tekens. Maar as ons met ons oë en hart na die hemel opgevoer word om Christus daar in die heerlikheid van sy koninkryk {505} te soek soos die tekens ons na Hom nooi, sal ons onder die tekens van brood en wyn met sy liggaam gevoed en met sy bloed gedrenk word. Want al is Hy met sy vlees in die hemel, regeer Hy tog in die mag en majesteit en heerlikheid van sy Vader. Hierdie koninkryk is onbegrens, sodat Christus sy krag bewys waar Hy wil, in die hemel en op die aarde. Hy is met sy mag en krag altyd naby sy volk, lewe in hulle, onderhou hulle, versterk en bewaar hulle net so asof Hy liggaamlik teenwoordig is. En Hy voed hulle met sy liggaam deur die krag van sy Gees.
19. Die teenwoordigheid van Christus in die nagmaal moet ons dus só bely dat, eerstens, aan sy hemelse heerlikheid niks tekort gedoen word nie. Dit geskied wanneer dit in die brood ingesluit word. In die tweede plek moet ons aan sy liggaam niks toeskrywe wat met sy menslike natuur in stryd is nie, soos bv. dat dit oneindig is en alomteenwoordig.
As hierdie twee sake in ag geneem word, neem ek graag alles aan wat kan help om die belydenis uit te druk dat die liggaam en bloed van Christus waarlik en wesenlik onder die tekens van brood en wyn aan die gelowiges geskenk word en dat hulle dit inderdaad geniet as ‘n voedsel van die ewige lewe.
20. Die geliefkoosde teëwerping van ons teëstanders is dat ons van die instellingswoorde van Christus afwyk. Dit sal daarom die beste wees om die woorde uit te lê. Die drie evangeliste sê dat Christus die brood geneem, gedank het, dit gebreek het en aan sy dissipels gegee het met die woorde: “Neem, eet, dit is my liggaam wat vir julle gebreek word” (Mat 26:26; 1 Kor 11:24 e.a.p.). En van die beker sê Hy volgens Mattheüs en Markus: “Dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (Mat 26:28). Paulus en Lukas sê dat die Here gesê het: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word” (Luk 22:20).
Nou sê die voorstanders van die transsubstansiasie dat die woord dit die gedaante van die brood aandui, terwyl dit tog duidelik is dat dit brood was wat Christus geneem het en aan sy apostels gegee het. Wat van die brood gesê word, kan nie op die gedaante oorgebring word nie.
Ander sê weer dat die woordjie, is beteken “gesubstansieer word”. Maar dis ‘n ongehoorde saak by enige volk dat die woordjie is beteken “in iets anders verander”.
Ander sê weer dat dit beteken dat die liggaam van Christus met, in en onder die brood is. Maar daar is tog ‘n groot verskil of ons sê dat die brood die liggaam is, en of ons sê dat die liggaam met die brood is.
Ander hou hulle aan die letter en beweer dat die brood werklik die liggaam is. Maar op die wyse sou die brood Christus, ja, God self, {506} wees. Hulle ontken dit wel maar vorder niks daarmee nie, omdat almal eenstemmig is dat die hele Christus ons in die nagmaal aangebied word. En dis godslastering om van iets wat verganklik is, te sê dat dit Christus is.
21. Die naam van die saak word dus op figuurlike wyse aan die teken gegee, omdat daar verwantskap is tussen die betekende saak en die teken. Hierdie figuurlike spreekwyse kom in die Skrif meermale voor. So word die besnydenis ‘n verbond genoem en die offerandes van die wet versoeninge. Die rots waaruit die water in die woestyn gevloei het, is Christus, en die duif is die Heilige Gees. Die naam van die saak wat afgebeeld word, word daarom aan die teken gegee, omdat die teken die geestelike saak nie net afbeeld nie maar ook waarlik skenk. So word die brood die liggaam van Christus genoem, omdat dit ‘n teken is waardeur die Here ons die nuttiging van sy liggaam aanbied.
22. Hulle sê ook dat die woordjie is nie figuurlik opgevat kan word nie. Paulus sê egter dat die brood die gemeenskap met die liggaam van Christus is. Die gemeenskap is tog iets anders as die liggaam self (1 Kor 10:16). En hoe verklaar hulle dan die woorde van Paulus dat die steenrots Christus was (1 Kor 10:4)? En dat die kerk Christus is (1 Kor 12:12)?
23. Hulle verbied ons om te sê dat iets figuurlik gesproke is. Maar dan moet ons dit ook letterlik opvat as die Skrif sê dat God ‘n krygsman is, dat Hy oë en ore en hande het.
Hulle teenwerping dat dit onwaarskynlik is dat Christus figuurlike taal sou gebruik het as Hy sy apostels wou troos, pleit eerder vir ons. As die apostels egter die woorde van die Here Jesus nie figuurlik verstaan het nie, sou dit vir hulle ‘n onoorkomelike swarigheid gewees het om te glo dat Christus voor hulle oë aan die tafel gesit het en tog onsigbaar in die brood ingesluit was, vir hulle, wat nie eens kon verstaan hoe Hy uit die wêreld sou gaan en na die Vader gaan voordat hulle dit nie gesien het nie (Joh 14:5,8; 16:17). Dat hulle sonder aarseling geëet het, bewys dat hulle Christus se woorde verstaan het soos ons dit verstaan. Ten slotte, as ons so angsvallig aan die letterlike betekenis van die woorde moet vashou, sou die woorde van Christus: “dit is my bloed”, ‘n onnodige herhaling wees van die woorde: “dit is my liggaam”, of ‘n verdeling wat die liggaam van die bloed skei.
24. Ons moet nog ‘n verdere beskuldiging weerlê. Hulle sê dat ons God se almag aan die natuurlike orde en die menslike rede onderwerp. Ek beroep my egter op die leer self wat ek verkondig. Dit toon tog duidelik aan dat so iets nie die geval is nie. Leer die natuur ons dat Christus uit die hemel ons siele voed, net soos brood en wyn ons liggame voed? Die menslike rede leer ons tog ook nie dat Christus se vlees tot ons deurdring om vir ons voedsel te wees {507} nie! Maar hierdie yweraars vir God se almag stel sy almag afhanklik van ‘n wonder wat hulleself gefabriseer het.
Ek wil die lesers vra om nogmaals ernstig te oorweeg of ons leer ‘n menslike gevoele is en of dit op die vlerke van die geloof bokant die wêreld opstyg tot in die hemele. Ons sê dat Christus sowel deur die uiterlike teken as deur sy Gees tot ons neerdaal om ons siele deur sy vlees en bloed lewend te maak. Wie nie insien dat hierin wonders opgesluit lê nie, is erger as dom. Want daar is niks wat meer met die natuur in stryd is nie as dat die siele die geestelike en hemelse lewe sal verkry van die vlees, wat sy oorsprong uit die aarde het en aan die dood onderworpe is.
Hulle moet dus ophou om ons te belaster asof ons God se almag wil beperk. Die vraag hier is nie wat God kon doen nie maar wat Hy wou doen. En wat was sy wil? Dit, dat Christus aan die broeders in alle opsigte gelyk sou word, uitgesonderd die sonde. En hoedanig is ons vlees? Dit het bepaalde afmetinge. Dis aan een plek gebind. Dit kan gesien en getas word. Nou sê hulle: Waarom kan God nie maak dat dieselfde vlees op verskillende plekke teenwoordig sal wees en geen gedaante hê nie? Dis ‘n dwaas wat van God se almag eis dat dit vlees sal maak wat terselfdertyd vlees en ook nie vlees is nie. Dan kan ons ook verlang dat Hy sal maak dat lig lig is en terselfdertyd ook duisternis. Vlees moet dus vlees wees en gees gees, elkeen volgens die wet wat God daarvoor gestel het. En die wet vir die vlees is dat dit aan een plek gebonde is en sy eie vorm en gedaante sal hê. Dit is die vlees wat Christus aangeneem het. Hy het dit wel met onverderflikheid en heerlikheid begiftig maar nie van sy natuur berowe nie.
25. Hulle sê dat hulle ‘n woord het waardeur God se wil bekend gemaak is. Ek erken dat hulle ‘n woord het, maar so ‘n woord soos Marcion en die Manicheërs ook gehad het toe hulle geleer het dat die liggaam van Christus òf ‘n hemelse liggaam was òf ‘n skynliggaam. Hulle het die woord aangehaal: “Die eerste mens is uit die aarde aards, die tweede mens is uit die hemel hemels”.
Waar haal hulle dit vandaan dat die liggaam van Christus in die hemel sigbaar is, maar op aarde onsigbaar wegskuil onder ontelbare stukkies brood? Hulle sal sê dat die noodsaaklikheid dit vereis. Maar die skerpsinnigheid wat deur die hele Skrif weerspreek word, ontleen hulle daaraan dat hulle Christus se liggaam aan die nagmaal vleeslik wil eet.
26. Om die geloof van die godvrugtiges te versterk dui ek kortliks aan dat die leer wat ons gegee het, uit die suiwere Woord van God geneem is en op die gesag daarvan berus. Die liggaam van Christus is na sy opstanding begrens en in die hemel tot die jongste dag toe. Ek weet dat hulle die bewyse wat hiervoor aangehaal word, ontwyk. So verklaar hulle bv. Joh 14:12,28 só dat die weggaan {508} maar net ‘n verandering van sy sterflike staat was. Maar as dit so was, sou Christus nie gesê het dat Hy die Heilige Gees in sy plek sal stuur om sy afwesigheid te vergoed nie.
Hulle sê ook dat die woorde van Christus: “My het julle nie altyd nie” (Mat 26:11), maar net beteken dat Hy nie altyd arm en ellendig sal wees nie. Die hele teksverband gaan egter teen so ‘n verklaring in.
Liggaamlik is Christus dus nie meer op die aarde nie. Daarop sien sy woord: “My het julle nie altyd nie”. Na sy majesteit, voorsienigheid, sy onuitspreeklike en onsigbare genade is Hy egter altyd by ons. Hierop sien die woorde: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mat 28:20).
27. Hulle ontken dat die woord opvaar ‘n verhuising van die een plek na die ander beteken. Dit dui net die majesteit van sy ryk aan, sê hulle. Maar het Hy dan nie voor die oë van sy dissipels weggevaar na die hemel nie? Vermeld die evangeliste nie duidelik dat Hy in die hemele opgeneem is nie? Hierteen voer hulle aan dat ‘n wolk Hom voor hulle oë weggeneem het, sodat die gelowiges daardeur sou leer dat Hy nie meer op aarde sigbaar sal wees nie. Asof dit alles nie gebeur het om die geloof aan sy onsigbare teenwoordigheid te wek nie. Paulus sê dan ook uitdruklik dat ons Hom uit die hemel verwag (Fil 3:20).
28. Die teenstanders beroep hulle graag op die ou skrywers, en veral op Augustinus. Maar ten onregte. Hulle bewering dat oral in sy boeke gelees kan word dat die vlees en bloed van Christus in die nagmaal uitgedeel word, beteken nie veel nie. Hy sê self dat ‘n liggaam aan ‘n bepaalde plek gebind is. As ons die liggaam dit ontneem, is dit nêrens en is dit geen liggaam nie. Christus het wel aan sy vlees onsterflikheid gegee maar die natuur daarvan nie vernietig nie. Ons moenie die Godheid van die Middelaar so bely dat ons die waarheid van sy liggaam vernietig nie. Na sy Godheid is Hy alomteenwoordig maar na sy mensheid in die hemel. Op ‘n ander plek sê hy ook dat Christus nie meer liggaamlik by sy gelowiges teenwoordig is nie maar geestelik.
29. Hulle sal met geen woord uit die Skrif kan bewys dat Christus onsigbaar in die nagmaal teenwoordig is nie. Hulle neem dit maar as ‘n uitgemaakte saak aan dat die liggaam van Christus ons op geen ander manier gegee kan word as onsigbaar in die brood nie. So word hulle gedwing om ‘n tweevoudige liggaam aan Christus toe te ken. Dit is sigbaar in die hemel maar onsigbaar in die nagmaal deur ‘n besondere beskikking. Maar Petrus sê dat die hemel Hom moet ontvang tot op die tyd van die wederoprigting van alle dinge (Hand 3:21).
Hulle beweer ook dat dit nie pas om die natuur van die verheerlikte liggaam aan die wette van die algemene natuur {509} onderworpe te maak nie. Dit is die dwaling van Servet, wat leer dat die liggaam van Christus deur sy Godheid verswelg is. So word die liggaamlike substansie vernietig en die onderskeid tussen die goddelike en die menslike natuur opgehef. En as die liggaam van Christus op die een plek gesien word en op die ander onsigbaar is, waar is dan die natuur van die liggaam self, wat in bepaalde afmetinge bestaan? En waar die eenheid? Van sy verheerlikte liggaam sê Christus self: “Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het geen vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie” (Luk 24:39). Paulus weerspreek hulle ook as hy sê dat Christus ons vernederde liggaam aan sy verheerlikte liggaam gelykvormig sal maak (Fil 3:21). Niemand sal so dom wees om te glo dat dit ‘n onsigbare en onmeetbare liggaam sal wees nie. Die hele Skrif leer duidelik dat Christus ons ware vlees aangeneem het toe Hy gebore is; dat Hy in ons vlees gely het, met die ware vlees opgestaan en na die hemel gevaar het. Dit is ook vir ons die hoop op ons opstanding en hemelvaart. As ons vlees nie waarlik in Christus opgestaan en na die hemel gevaar het nie, sou ons hoop maar baie swak gewees het.
Hulle beroep daarop dat die Here uit die geslote graf uitgegaan het; dat Hy by sy dissipels ingekom het terwyl die deure gesluit was, steun hulle dwaling ook nie. Dit beteken maar net dat Hy deur sy goddelike krag vir Hom ‘n weg gebaan het. Hulle maak egter van Christus se liggaam ‘n gees en beklee dit met teenstrydige hoedanighede.
30. Wat hulle van die onsigbare teenwoordigheid van Christus se liggaam beweer, bevestig nog nie dat dit in die brood ingesluit is nie. Om dit te bewys is hulle genoodsaak om te leer dat dit ook alomteenwoordig is. Deur kragtige en duidelike getuienisse van die Skrif is al aangetoon dat Christus se liggaam begrens was en dat Hy deur sy hemelvaart bewys het dat Hy nie op alle plekke is nie. As Hy na die een plek gaan, verlaat Hy die ander een. Hulle beroep op Mat 28:20 baat hulle ook nie. Dan sou Christus ook buite die nagmaal liggaamlik in ons moes woon. Die verband bewys ook dat Christus nie oor sy vlees spreek nie maar dat Hy aan sy dissipels sy bystand belowe om hulle in die swaar taak wat Hy hulle opgelê het, staande te hou teen die aanvalle van Satan en die wêreld.
Sommige weer beweer dat die vereniging van die twee nature so eng is dat waar die Godheid is, die menslike natuur ook moet wees. So word van God ‘n mens en van die mens God gemaak. Dit is die dwaling van Eutyches en na hom van Servet. Die Skrif leer egter dat die twee nature in Christus sodanig verenig is dat elkeen sy eienaardigheid behou. As die Skrif sê dat niemand in die hemel opgevaar het nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal {510} het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is (Joh 3:13), dan het ons hier te maak met wat die vaders die mededeling van eienskappe genoem het. Dieselfde Christus wat as Seun van die mens op aarde gewandel het, was God in die hemel. Toe Hy neergedaal het, het sy Godheid nie die hemel verlaat om in die liggaam te woon nie, maar was in die hemel en het tog op ‘n onuitspreeklike wyse terselfdertyd in die mensheid van Christus gewoon.
So is dan ons Middelaar altyd by sy gelowiges teenwoordig, ook in die nagmaal, maar so dat sy vlees in die hemel is tot op die dag van die oordeel,
31. Hulle vergis hulle wat ontken dat Christus se vlees in die nagmaal teenwoordig is as dit nie in die brood is nie. Want op die wyse laat hulle niks oor aan die verborge werking van die Heilige Gees wat Christus met ons verenig nie. Hulle meen dat Christus alleen dan by ons teenwoordig kan wees as Hy na ons toe neerdaal. Maar ons kan sy teenwoordigheid ook geniet deurdat Hy ons na Hom opvoer. Die vraag is dus alleen hoe Christus in die nagmaal teenwoordig is. Hulle sluit Christus in die brood in. Ons is van oordeel dat dit vir ons ongeoorloof is om Hom uit die hemel neer te trek.
32. As iemand my vra op watter wyse Christus in die nagmaal teenwoordig is, sal ek nie skaam wees om te erken dat dit ‘n verborgenheid is wat te hoog is om deur my verstand begryp en in woorde weergegee te word nie. Ek ervaar dit meer as wat ek dit begryp. Sonder om teë te spreek omhels ek die waarheid van God waarin ek veilig kan rus. Hy sê dat sy vlees spys en dat sy bloed drank is vir my siel. Ek bied Hom my siel aan om met die spyse gevoed te word. In sy heilige nagmaal gebied Hy my onder die tekens van brood en wyn om sy liggaam en bloed te neem, te eet en te drink. Ek twyfel nie daaraan dat Hy my dit waarlik gee en ek dit waarlik ontvang nie. Ek verwerp slegs die ongerymdhede wat sy hemelse Majesteit onwaardig is of nie by sy menslike natuur pas nie, omdat hulle ook met Gods Woord in stryd is. Die teenwoordigheid van sy liggaam pas by die wese van ‘n sakrament. Dit skenk aan ons siele ‘n onbetwyfelbare vertroue op die ewige lewe en verseker ons van die onsterflikheid van ons vlees Dit word deur sy onsterflike vlees lewend gemaak en het in ‘n sekere sin deel aan sy onsterflikheid. Verder bely ek openhartig dat ek die vermenging van Christus se vlees met ons siel verwerp, omdat dit vir ons genoeg is dat Christus uit die substansie van sy vlees die lewe in ons siele uitstort, hoewel sy vlees self nie in ons ingaan nie.
33. Hulle erken geen gemeenskap met Christus as hulle nie sy vlees onder die brood insluk nie. Maar ons doen die Heilige {511} Gees groot onreg aan as ons nie glo dat Hy deur sy onbegryplike krag ons gemeenskap aan die vlees en bloed van Christus skenk nie. As hierdie verborgenheid maar behoorlik oorweeg is, sou die deur gesluit gewees het vir baie skandelike dwalinge waaruit vreeslike onenighede ontstaan het wat die kerk skade aangedoen het. Die belangrike saak is tog om te weet hoe ons deel verkry aan die liggaam van Christus, wat eenmaal vir ons oorgegee is, en aan sy bloed, wat vir ons vergiet is. Want dit beteken om die hele gekruisigde Christus te besit, sodat ons al sy weldade sal geniet. Maar al hierdie gewigtige dinge verontagsaam hulle, om hulle alleen met hierdie spitsvondigheid besig te hou, naamlik hoe die liggaam van Christus onder die gedaante van brood verborge is. Hulle bewering is vals dat om geestelik te eet, soos ons leer, beteken om nie te eet nie. Vals is ook hulle bewering dat ons alleen let op die vrug wat die gelowiges verkry as hulle die vlees van Christus eet. Ons het vantevore alreeds gesê dat Christus self die materie van die nagmaal is. Daaruit volg dat ons deur die offerande van sy dood van ons sondes gereinig word, dat ons deur sy bloed afgewas en deur sy opstanding opgewek word tot die hoop op die ewige lewe.
Wat die ongelowiges betref, die vlees en bloed van Christus word aan hulle net so waarlik as aan die uitverkorenes van God gegee. Maar terselfdertyd is ook waar dat hulle deur hulle hardheid God se genade verdryf, sodat dit in hulle nie deurdring nie, net soos die reënwater wegvloei wat op ‘n rots val. Christus kan sonder geloof net so min ontvang word as wat saad in die vuur kan ontspruit.
34. Augustinus veral het geleer dat die genade nie deur die ongeloof van die mense tot niet gemaak word nie. Die ongelowige eet alleen die sakrament uitwendig, nie die krag van die sakrament inwendig nie. Hy eet nie met die hart nie maar byt net met die tande, sê hy, as hy die woorde van die Here verklaar: “Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe” (Joh 6:54). Dis ook ‘n bekende gesegde van hom dat Judas maar net die brood van die Here geëet het, maar die ander dissipels die brood, die Here, geëet het. Daarmee sluit hy baie duidelik die ongelowiges uit van die deelgenootskap aan die liggaam en bloed van die Here. Hulle ontvang maar net die teken, terwyl Christus alleen deur die geloof ontvang word. Die liggaam wat Hy vir ons geoffer het, is in die hemelse heerlikheid opgeneem. Deur die verborge krag van die Gees maak dit ons lewend. Dis duidelik dat hulle wat alleen sakramenteel die liggaam van Christus eet, nie waarlik eet nie, omdat Christus se liggaam nie van sy krag geskei kan word nie.
35. Hierdie kennis sal ons ook weerhou om Christus nie in die sakrament te aanbid nie. Hulle redeneer soos volg: as die {512} liggaam in die sakrament is, dan is die siel en die Godheid van Christus ook daar aanwesig, omdat dit nie van die liggaam geskei kan word nie. Maar ons ontken wat hulle aanneem. Die liggaam van Christus is nie Christus self nie. Hulle het ook nie die Skrif op hulle hand nie. Christus beveel sy apostels om te neem, te eet en te drink en nie dat hulle dit moet aanbid nie. Die apostels het dan ook die sakrament ontvang en geëet terwyl hulle aan tafel gesit het. Hulle het nie neergeval en dit aanbid nie. So verhaal Lukas ook dat die gelowiges die gemeenskap in die breking van die brood beoefen het en nie in die aanbidding daarvan nie.
36. Die lesers kan nou insien hoe gevaarlik dit is om in sulke moeilike sake van die eenvoudige Woord van God af te dwaal. Die sakrament moet ons help om ons gedagtes opwaarts te verhef om die hoë geestelike verborgenhede te begryp, anders dwaal ons af van die regte weg om Christus te soek. Die Konsilie van Nicea wou ongetwyfeld hierdie kwaad om Christus in die brood te aanbid teëgegaan het toe dit ons verbied het om met ons verstand aan die tekens te bly hang. Daarom is oudtyds die gemeente altyd vermaan om die harte opwaarts in die hemel te verhef. Die Skrif beveel ons ook om Hom in die hemel te soek, waar Hy aan die regterhand van die Vader sit (Kol 3:1). Daar wil Hy deur ons aanbid wees. Daarom het hulle wat die aanbidding van die sakrament uitgedink het, dit buite die Skrif om gedoen, ‘n eie God uitgedink en die lewende God verlaat. En dit is afgodery om die gawes in die plek van die Gewer te eer. So het hulle God onteer en van sy heilige sakrament ‘n veragtelike afgod gemaak. Laat ons daarom na God se leer luister. Dan is ons in die skool van die Heilige Gees, die beste Leermeester.
37. As die bygeloof eers ingetree het, is daar nie ‘n end aan sonde doen nie. So het hulle dan ook allerhande seremonies uitgedink wat in die geheel nie by die instelling van die nagmaal pas nie. En dit alleen om aan die teken goddelike eer te bewys. Hulle vereer Christus hiermee, sê hulle. As dit by die nagmaal gebeur, sou ek sê dat die aanbidding dan eers wettig is as dit hom direk op Christus in die hemel rig.
Maar hoe kan hulle Christus in die brood eer, aangesien hulle geen enkele belofte in die verband het nie? Hulle wy ‘n hostie, soos hulle dit noem, dra dit in prosessie rond en vertoon dit om gesien, geëer en aanbid te word. Maar hoe is die hostie dan gewy? Deur die woorde: “Dit is my liggaam”, sê hulle. Daarop antwoord ek dat terselfdertyd gesê is: “Neem en eet”. Die belofte kan dus nie van die gebod af geskei word nie.
Tot sover het ons uiteengesit hoe die sakrament ons help om aan God getrou te wees. Dit roep God se milddadigheid in ons herinnering op en vermaan ons om nie ondankbaar te wees vir {513} so ‘n oorvloedige weldaad nie maar dit met paslike lof en danksegging te verheerlik.
Ons spreek nou oor die tweede gebruik van die sakrament. Dit is, naamlik, ook ‘n openbare belydenis. Daarom het die Here sy apostels geleer om dit tot sy gedagtenis te doen. En Paulus lê dit so uit dat ons die dood van die Here verkondig (1 Kor 11:26). Dit beteken om in die openbaar en almal saam as uit een mond te bely dat al ons vertroue dat ons die lewe en die saligheid sal ontvang, in die dood van die Here geleë is. Deur hierdie belydenis verheerlik ons Hom en wek ander deur ons voorbeeld op om aan Hom die eer toe te bring.
38. In die derde plek vermaan die Here ons ook deur die sakrament om rein en heilig te lewe, liefde, vrede en eendrag te betrag. Want in die sakrament maak Hy ons sy liggaam so deelagtig dat dit heeltemal een met ons word en ons daarmee. En aangesien Hy net een liggaam het, waarvan ons deelgenote is, vorm ons ook met mekaar saam een liggaam. Die eenheid stel die brood ons voor oë, wat uit verskillende koringkorrels gemaak is wat so met mekaar vermeng is dat die een nie van die ander geskei kan word nie. So heg word ons ook met mekaar verbind dat daar geen tweedrag of verdeeldheid onder ons kom nie (1 Kor 10:16-17). Ons sal daarom dan eers die nagmaal van die Here reg gebruik as hierdie gedagte in ons ingegraveer is dat ons niemand van ons broeders kan beledig, minag of op enige manier kwaad aandoen sonder om Christus te beledig, te minag of kwaad aan te doen nie. Dat ons geen onenigheid met ons broeders kan hê sonder om onenigheid met Christus te hê nie. Dat ons Christus nie kan liefhê sonder om Hom in ons broeders lief te hê nie. Dat ons dit nie kan verdra dat ‘n broeder kwaad aangedoen word sonder om medelyde met hom te hê nie Daarom noem Augustinus nie sonder rede nie die sakrament herhaaldelik die band van die liefde.
39. Dit bevestig wat ek alreeds gesê het, naamlik dat die regte bediening van die sakrament nie sonder die Woord kan plaasvind nie. Want die verkondiging is nodig, of ons nou in ons geloof versterk, in ons belydenis geoefen of opgewek moet word om ons plig te betrag. Dit is dus geheel en al verkeerd om die nagmaal stilswyend te bedien soos dit onder die tirannie van die pous gebeur. Aan die gemeente moet die betekenis daarvan uitgelê word. Omdat hulle dit nie insien nie, het die dwaling ontstaan dat hulle nie opgemerk het dat die beloftes nie vir die tekens bestem was nie maar vir hulle wat dit ontvang. Christus spreek nie die brood aan om sy liggaam te word nie, maar Hy beveel sy dissipels om dit te eet en belowe aan hulle die gemeenskap van sy liggaam en bloed. So leer Paulus ook dat die beloftes saam met die brood en die beker aan die gelowiges aangebied moet word. Daarom mag die {514} sakrament ook nie aan siekes uitgereik word sonder dat die beloftes herhaal en die sakrament verklaar word nie.
40. Ons sien dus dat hier die heilige brood van die nagmaal ‘n geestelike voedsel is, soet en lieflik en heilsaam vir die opregte dienaars van God. Daardeur gevoel hulle dat Christus hulle lewe is. Daardeur word hulle tot danksegging opgewek en vermaan om mekaar lief te hê. Aan die ander kant is dit ‘n skadelike vergif vir almal wie se geloof dit nie voed en versterk en wat nie tot lof en liefde opgewek word nie. Net soos voedsel beskadig word en meer skade aanrig as wat dit voed wanneer dit in ‘n siek liggaam opgeneem word, so laat ook hierdie geestelike voedsel die sondaar nog dieper val as dit in ‘n besoedelde siel teregkom, omdat vir die besoedeldes en onreines niks rein is nie (Tit 1:15). Soos Paulus sê: “Wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie” (1 Kor 11:29). Want wie nie erken dat dié liggaam sy lewe is nie, of wie in onenigheid met die broeders lewe, besoedel die liggaam van die Here deur heiligskennende goddeloosheid en bring die ewige verdoemenis oor homself. Want hoewel hy geen vertroue op Christus het nie, bely hy tog dat sy saligheid in Hom geleë is. Hoewel hy, vervul met haat, hom afskei van die lede van Christus, betuig hy tog dat dit die saligheid is om gemeenskap met Christus te hê. Daarom gebied Paulus die mens om homself te beproef en só van die brood te eet en uit die beker te drink. Elkeen moet dus by homself ondersoek of hy met ‘n hartlike vertroue steun op die saligheid wat Christus verdien het, en of hy ook daarvan belydenis doen. Verder of hy hom daarop toelê om Christus na te volg deur heiligheid na te jaag. Of hy bereid is om hom vir die broeders te gee volgens die voorbeeld van Christus. Of hy al die broeders beskou as lede van Christus se liggaam en begeer om hulle te koester, te beskerm en te help. Nie of hy volmaak is in geloof en liefde nie, maar of hy dit najaag en begeer om sy geloof te versterk.
41. Om die mense voor te berei om op waardige wyse te eet, het hulle die arme gewetens vreeslik gekwel maar niks nuttigs geleer nie. Hulle sê dat alleen diegene op waardige wyse eet wat rein en suiwer is van alle sonde. Hierdeur word alle mense wat ooit op aarde gelewe het of nog sal lewe, van die gebruik van die nagmaal afgehou. Want as ons die waardigheid in onsself moet soek, is dit met ons gedaan. Net wanhoop en die ewige verderf wag vir ons. Ook al sou ons met al ons kragte ons inspan om die waardigheid te soek, sal ons tog niks anders bereik as om die alleronwaardigste te wees nie. Om hierdie wond te genees het hulle ‘n manier uitgedink om waardigheid te verkry, naamlik dat ons ons onwaardigheid sal versoen deur berou, bieg en voldoening. {515}
Dis egter ‘n skraal en niksbeduidende troos vir verslae en neergeboë harte wat deur hulle sonde verskrik is. Want as die Here niemand aan die nagmaal toelaat behalwe die wat regverdig en onskuldig is nie, is daar ‘n groot waarborg nodig om iemand te verseker dat hy die regverdigheid besit wat God van hom eis. Die sekerheid is nie dat hy aan God genoegdoening verskaf het wat gedoen het wat hy kon nie. En wanneer sal iemand seker wees dat hy gedoen het wat hy kon doen? So sal die toegang vir ons altyd gesluit bly, omdat ons nooit voldoende sekerheid kan verkry of ons waardig is nie.
42. Ons kan nou maklik beoordeel wie die outeur van die Roomse leer is. Dis ‘n leer wat deur sy gruwelike gestrengheid die arme en deur angs en droefheid benoude sondaars beroof van die vertroosting van hierdie sakrament, waarin al die genietinge van die evangelie hulle voor oë gestel word. Die duiwel kon die mense langs geen korter weg na die verderf lei nie as deur hulle te laat weier om die voedsel te eet waardeur die goeie hemelse Vader hulle wil voed. Laat ons bedink dat hierdie heilige maaltyd vir die gesondes, regverdiges en rykes, as daar sulke mense gevind kan word, niks van betekenis kan gee nie. Vir die siekes is dit egter ‘n geneesmiddel, vir die sondaars ‘n troos en vir die armes ‘n groot geskenk.
Christus word ons in die maaltyd as spys gegee. Sonder Hom vergaan ons soos die liggaam wegkwyn as mens nie eet nie. Omdat ons in onsself dood is, daarom is Hy ons tot die lewe gegee. Die enigste waardigheid wat ons voor God kan bring, is dat ons Hom ons onwaardigheid aanbied, sodat Hy deur sy barmhartigheid ons Hom waardig sal maak; dat ons in onsself die moed sal opgee, sodat ons in Hom vertroos mag word; dat ons onsself sal verneder, sodat Hy ons sal oprig, en dat ons onsself sal aankla, sodat Hy ons regverdig sal maak. Bowendien dat ons die eenheid sal najaag wat Hy ons in die nagmaal aanprys en sal begeer dat ons almal één siel, één hart en één tong sal hê, omdat Hy ons inderdaad één in Homself maak.
Hoe sal ons wat arm is en besoedel met die vuilheid van die sonde, wat halfdood is, die liggaam van die Here op waardige wyse eet? Deur te bedink dat ons as armes na die milddadige Gewer kom, as siekes na die Geneesheer, as sondaars na die Outeur van geregtigheid en as dooies na Hom wat lewend maak. Ook moet ons bedink dat die waardigheid wat God beveel, veral geleë is in die geloof wat alles in Christus soek en niks in onsself nie, en in dit liefde wat ons God mag aanbied, al is dit onvolmaak, sodat Hy dit sal verbeter en vermeerder.
Daar is egter ander wat met ons ooreenstem dat ons waardigheid in die geloof en liefde geleë is maar wat tog dwaal omdat hulle ‘n volmaakte geloof eis, waaraan niks ontbreek nie, en ‘n liefde {516} gelykstaande aan die wat Christus ons betoon het. Daardeur dryf hulle, net soos die eersgenoemdes, almal van die nagmaal af, omdat ons almal onvolmaak is. En so maak hulle die sakrament oorbodig, omdat dit nie vir volmaaktes gegee is nie maar vir swakkes om hulle geloof en liefde te versterk.
43. Wat die uiterlike handelinge betref — dit maak nie saak of die gelowiges die brood in die hand neem of nie; of hulle dit onder mekaar verdeel of dat elkeen eet wat aan hom gegee word; of hulle die beker weer vir die diaken gee, of vir die naasaansittende; of die brood gesuurd is of ongesuurd en die wyn rooi of wit. Dit is middelmatige dinge wat in die vryheid van die kerk gelaat word.
Die nagmaal sal heel gepas eenmaal per week soos volg bedien kan word: Die dienaar begin met die openbare gebed. Daarna volg die prediking. Terwyl die dienaar die brood en die wyn voor hom op die tafel het, vermeld hy die instelling van die nagmaal en verkondig die beloftes wat ons daarin nagelaat word. Terselfdertyd word van die nagmaal uitgesluit hulle wat deur die verbod van die Here daarvan afgehou word. Daarna bid hy dat die Here, wat in sy milddadigheid ons die voedsel gegee het, ons ook sal onderrig om dit met geloof en ‘n dankbare hart te ontvang. Tewens dat Hy ons onwaardiges deur sy groot barmhartigheid so ‘n maaltyd waardig sal maak. Daarna word psalms gesing of iets gelees en neem die gelowiges ordelik deel aan die heilige maaltyd, terwyl die dienaar die brood breek en aan die gemeente gee. As die nagmaal beëindig is, vermaan hy die gemeente tot ‘n lewe in geloof en liefde soos dit Christene betaam. Daarna word gedank en die lof van God gesing en laat hy die gemeente in vrede gaan.
44. Wat ons tot sover oor die sakrament gesê het, toon duidelik aan dat dit nie ingestel is om een maal per jaar, en dit terloops soos die geval nou is, gehou te word nie. Dit moet dikwels deur alle Christene gebruik word, sodat hulle dikwels die lyding van Christus sal herdink en deur die herdenking hulle geloof sal versterk. Hulle sal daardeur ook mekaar aanspoor om God se lof te sing en sy goedheid te verkondig. Ten slotte sal daardeur die onderlinge liefde gevoed en aan mekaar betuig word. Want deur elke nagmaalsviering verbind ons ons tot al die pligte van die liefde teenoor mekaar om niks te doen waardeur die broeder gekwes, of na te laat waardeur hy gehelp kan word as die geleentheid daarvoor hom voordoen nie.
Dit was die gebruik in die apostoliese kerk. Lukas verhaal dat die gelowiges volhard het in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede (Hand 2:42). So moet in elke vergadering van die gelowiges die Woord verkondig, gebed gedoen, die nagmaal uitgedeel en {517} liefdegawes gebring word. So was ook die orde in die ou kerk. Wie nie aan die nagmaal deelgeneem het nie, moes vermaan word. As hulle na die vermaning nog nie deelneem nie, moes hulle uit die gemeente uitgesluit word.
45. Deur hierdie instelling wou die heilige manne die veelvuldige gebruik van die nagmaal handhaaf soos die apostels dit oorgelewer het. Hulle het ingesien dat dit baie heilsaam vir die gelowiges was. Deur die onagsaamheid van die volk het dit egter langsamerhand in onbruik geraak. Augustinus sê dat die nagmaal in sy tyd op sommige plekke daagliks, op ander plekke op bepaalde dae gehou is. Wie nalatig was om die viering by te woon, is baie ernstig vermaan. So getuig Chrysostomus ook.
46. Die gewoonte om die nagmaal een maal per jaar te hou, is ‘n uitvindsel van die duiwel. Daardeur is die mense in die geleentheid gestel om ‘n hele jaar lank onbekommerd te lewe. Dit moes liefs elke week gehou gewees het.
47. Uit dieselfde hoek kom ook die ander instelling wat die helfte van die nagmaal aan die volk onthou of ontsteel. Die teken van die bloed is aan die leke of onheiliges (só noem hulle die erfdeel van die Here) verbied. God beveel dat almal moet drink; hulle durf dit afskaf en beveel dat nie almal moet drink nie maar net die wat geskeer en gesalf is.
Hulle verontskuldig hulle deur te wys op die gevare wat kan ontstaan as die drinkbeker aan almal, sonder onderskeid, gegee word. Asof die ewige wysheid van God dit nie voorsien het nie.
Bowendien sê hulle dat die een teken voldoende is. Want as die liggaam van Christus daar is, is die hele Christus daar teenwoordig. Die liggaam bevat dus ook die bloed. Maar Christus het nie sonder rede sy liggaam van sy bloed onderskei nie. Hy wil die swakheid van ons geloof te hulp kom. Daarom het Hy die drinkbeker afsonderlik gegee, om te leer dat Hy nie net die spys nie maar ook die drank vir ons siel is. As dus een deel weggeneem word, sal ons slegs die helfte van die voedsel in Hom vind en beroof word van die versterking van die geloof, wat Christus noodsaaklik ag.
48. Hulle het, ook hulle uitvlugte. Hulle sê dat ons nie van een daad ‘n reël moet maak waaraan die kerk vir altyd gebind is nie. Maar hulle lieg as hulle sê dat dit ‘n daad is wat net een maal plaasgevind het. Christus verorden hier wat sy apostels later moet doen. Hy beveel: “Drink almal daaruit”. En Paulus sê dat dit ‘n blywende instelling is.
Hulle tweede uitvlug is dit dat Christus alleen die apostels toegelaat het om aan die nagmaal deel te hê, omdat Hy hulle alreeds as sy priesters aangeneem en verkies het. Ek vra: Deur watter Godspraak is hierdie oplossing aan hulle geopenbaar, wat {518} so strydig is met Gods Woord? Die Skrif noem die twaalf nêrens priesters nie. My tweede vraag is, waarom al die gelowiges sonder onderskeid, van die tyd van die apostels af tot duisend jaar daarna, aan altwee tekens deel gehad het. Het die ou kerk dan nie geweet wie Christus as disgenote aan sy nagmaal toegelaat het nie? Chrysostomus sê: “Aan almal word een liggaam gegee en een beker”
49. En so getuig al die Griekse en Latynse skrywers. Hierdie gewoonte is ook nie verbreek solank die kerk nog gesond was nie. Gregorius, wat met reg die laaste biskop van Rome genoem kan word, getuig dat dit nog in sy tyd onderhou is. En so het dit nog vierhonderd jaar na sy dood geduur, toe alles al ontaard was. Dit is as ‘n onskendbare wet beskou. Niemand het daaraan getwyfel dat dit heiligskennis was om te skei wat die Here verbind het nie.
50. In die derde plek vra ek waarom Christus eenvoudig sê dat hulle die brood moet eet maar dat almal uit die beker moet drink. Wou Hy nie juis daardeur hierdie lis van die duiwel teëgaan nie?
In die vierde plek vra ek wie dit sal waag om, sonder opdrag van die Here, mense tot deelgenootskap aan sy tafel uit te nooi, wat deur Hom uitgesluit word. Hy tog keur, volgens hulle, alleen priesters die nagmaal waardig.
En, eindelik, vra ek of Paulus dan gelieg het toe hy vir die Korinthiërs gesê het, dat hy van die Here ontvang het wat hy aan hulle oorgelewer het. En as hy dan daarna verklaar wat hy aan hulle oorgelewer het, naamlik dat almal sonder onderskeid aan altwee tekens deel het.
HOOFSTUK XVIII. Die Roomse Mis ontheilig en vernietig die nagmaal van Christus
1. Deur dergelike uitvindsels het die Satan probeer om die heilige nagmaal van Christus te verduister en te besoedel, sodat dit nie meer suiwer in die kerk behou sal word nie. Die hoogtepunt van hierdie verfoeilikheid was toe hy die hele wêreld so verblind het dat almal geglo het dat die Mis ‘n offerande was om vergewing van die sondes te verkry.
Ek bind die stryd hier aan teen die opvatting waarmee die Antichris van Rome en sy profete die hele wêreld vervul het, naamlik dat die Mis ‘n werk is waardeur die priester wat Christus offer, en die ander wat daaraan deelneem, hulle by God verdienstelik maak, of dat dit ‘n soenoffer is waardeur hulle hulle met God {519} versoen. Die hele handeling is so ingerig dat dit ‘n soort versoening is waardeur aan God genoegdoening geskied om lewendes en dooies te versoen.
Maar uit Gods Woord kan bewys word dat hierdie Mis Christus groot smaadheid aandoen, sy kruis begrawe en onderdruk, sy dood aan die vergetelheid prysgee, die vrug wegneem wat dit vir ons het, en die sakrament kragteloos maak waarin die herinnering daaraan vir ons bewaar is.
2. Laat ons nou aantoon wat in die eerste plek genoem is, naamlik dat Christus deur die Mis smaadheid aangedoen word, want Hy is as Priester en Hoëpriester deur die Vader geheilig volgens die orde van Melgisedek, om ‘n ewigblywende priesterskap te beklee (Hebr 5:5,10; Hebr 7:17,21; Hebr 9:11; Hebr 10:21; Ps 110:4). Daarom het Hy geen plaasvervanger nodig nie. Wie nou nog daagliks offer, moet noodsaaklik priesters aanstel en hulle as opvolgers en plaasvervangers in die plek van Christus stel. Daarmee beroof hulle Hom nie net van sy eer en ontneem hulle Hom nie net die voorreg van sy ewige priesterskap nie, maar hulle probeer ook om Hom van die regterhand van die Vader te verdrywe, waar Hy nie kan sit as Hy nie vir ewig priester bly nie.
Nou moet hulle nie aanvoer dat hulle priesters nie in die plek van Christus gestel word nie maar dat hulle net helpers van sy ewige priesterskap is. Die Skrif sê dat “hulle wel priesters geword het in ‘n groot aantal, omdat hulle deur die dood verhinder is om aan te bly” (Hebr 7:23). Daarom het Christus geen ampsgenote nodig nie, omdat Hy nie deur die dood verhinder is nie.
Hulle haal ook nog die voorbeeld van Melgisedek aan om hulle goddeloosheid te verdedig. Hy het vir Abraham en sy manskappe brood en wyn gebring. Dit is, volgens hulle, ‘n voorspelling van die Mis! Asof die ooreenkoms tussen hom en Christus in die aanbieding van brood en wyn geleë is. As die aanbieding van brood en wyn die Misoffer afgebeeld het, sou die apostel, wat die allerkleinste dinge ondersoek, dan so ‘n belangrike saak vergeet het? Nog erger maak hulle dit as hulle op die brood en wyn toepas wat die apostel van die seëning sê (Hebr 7:7).
3. In die tweede plek het ons gesê dat die Mis die kruislyding van Christus onderdruk en bedek. Dit is volkome seker dat die kruis van Christus omvergewerp word sodra daar ‘n altaar opgerig word. Want as Hy Homself aan die kruis as ‘n offerande opgeoffer het om ons vir ewig te heilig en te verlos, bly die krag van sy offerande vir altyd voortduur (Hebr 9:12). Anders was sy offerande net so kragteloos soos die van die beeste en kleinvee wat onder die bedeling van die wet geslag is. Daarom sal ons een van twee moet bely: òf dat die offer wat Christus een maal aan die kruis volbring het, nie vir ewig kan reinig nie, òf dat Hy een {520} offer een maal vir alle eeue volbring het. Dit is wat die apostel sê dat die Hoëpriester, Christus, een maal in die voleinding van die eeue verskyn het om die sonde deur sy offer weg te neem (Hebr 9:26; vgl. ookHand 10:10,14). Daaraan voeg hy toe: “waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie” (Hebr 10:18). Dit sê Christus ook in sy kruiswoord: “Dit is volbring” (Joh 19:30). Is dit nou geoorloof om so ‘n volmaakte offerande elke dag met baie offers aan te vul asof dit onvolmaak was? Gods Woord verseker en betuig dat die offer een maal gebring is en ewig van krag bly; hulle sê dat dit onvolmaak en swak is.
Hulle beweer egter dat dit nie nuwe offerandes is nie maar alleen ‘n herhaling van dieselfde offerande. Maar die Skrif sê dat die offerande een maal geoffer is en nie meer herhaal word nie. Ander weer sê dat dit nie ‘n herhaling van die offerande van Christus is nie maar alleen ‘n toepassing daarvan. Die ware toepassing geskied egter deur die prediking van die evangelie en die bediening van die heilige nagmaal (1 Kor 5:7).
4. Hulle beroep hulle ook nog op die woord van die Here deur die profeet Maleagi dat in elke plek tot eer van sy Naam reukwerk gebring sal word en ‘n rein offer (Mal 1:11). Asof dit iets nuuts of ongewoons is by die profete om, as hulle oor die roeping van die heidene spreek, die geestelike diens van God deur die uitwendige seremonies van die wet aan te dui. So byvoorbeeld noem hulle die bekering opgaan na Jerusalem, die aanbidding van God die offer van alle soorte van gawes. (Vgl. Verder Jes 19:21 e.v.).
5. Die derde kwaad van die Mis is dat dit die dood van Christus uit die herinnering van die mense wegneem. Christus het deur sy dood die ewige testament bevestig waardeur die vergewing van sondes ons geskenk word. Wie hieraan iets durf verander, verloën sy dood. Die Mis is niks anders as ‘n nuwe en ander testament nie. Want word deur elke Mis nie ‘n nuwe vergewing van die sondes belowe nie? Word Christus nie op dié wyse deur die Mispriesters daagliks geoffer nie? Want waar ‘n testament is, daar moet noodsaaklik die dood van die testamentmaker aangekondig word (Hebr 9:16,25-26).
Hulle beweer wel dat dit ‘n onbloedige offerande is. Maar dan hang dit nog nie van die goeddunke van die mens af om die offerande van natuur te laat verander nie. Die apostel sê dat daar bloedstorting moet plaasvind as daar afwassing van die sondes sal wees.
6. In die vierde plek ontneem die Mis ons die vrug van Christus se dood. Want wie sal daaraan dink dat hy deur die dood van Christus verlos is as hy in die Mis ‘n nuwe verlossing sien? En ook hy ontkom nie wat sê dat ons in die Mis alleen vergewing {521} van sondes verkry omdat dit alreeds deur die dood van Christus verkry is nie. Want dit is net so goed asof hy sou sê dat ons deur Christus verlos is op die voorwaarde dat ons onsself verlos. As ons Christus dan in die Mis aan die Vader offer, verkry ons deur hierdie werk vergewing van sondes en het ons deel aan sy lyding. So is die lyding van Christus dan maar net vir ons ‘n voorbeeld hoe om onsself te verlos. Maar Christus verwys sy apostels na sy dood om daarmee te kenne te gee dat die nagmaal ‘n herinneringsteken is waaruit hulle kan leer dat die offer waardeur God versoen moes word, net een maal gebring moes word. Christus is nie net die enigste offerande nie, maar sy offer moes ook net een maal gebring word.
7. Ten slotte neem die Mis die nagmaal heeltemal weg, waarin die Here die herinnering aan sy lyding afgebeeld het. Want die nagmaal is ‘n gawe van God wat ons met danksegging behoort aan te neem. Maar die Misoffer betaal aan God die prys wat Hy as voldoening aanneem. Dit verskil dus van die nagmaal net soveel as wat gee van ontvang verskil. En dis ondankbaarheid van die mens dat hy God tot sy skuldenaar maak, waar hy Hom vir sy milddadige goedheid behoort te dank. Die nagmaal belowe dat ons deur die dood van Christus nie net een maal lewend gemaak is nie maar voortdurend lewend gemaak word, omdat ons saligheid in sy dood vervul is. Die Misoffer sê dat Christus daagliks geoffer moet word om vir ons tot enige voordeel te wees. Die nagmaal word in die openbare vergadering van die gelowiges uitgedeel, maar die Mis word nie aan die gemeente uitgedeel nie. So word die toegang vir die besondere Misse geopen.
8. Dit is reëlreg in stryd met die instelling van Christus en daarom ‘n goddelose ontheiliging van die nagmaal. Die Here het beveel dat die brood onder mekaar verdeel moet word. (Vgl. ook 1 Kor 10:16). As dus een die brood ontvang sonder om dit uit te deel, hoe stem dit ooreen met wat Paulus leer? Hulle sê dat die een dit doen in naam van die hele kerk. Deur watter gebod? Is dit nie om God openlik te bespot as een vir hom hou wat vir vele bestem is nie? Omdat die woorde van Christus en Paulus duidelik genoeg is, kan ons besluit dat waar geen brood gebreek word, daar ook geen nagmaal van die Here is nie maar ‘n nabootsing. En nabootsing van so ‘n groot verborgenheid is goddeloos.
Ten slotte is die Mis ook afgodery, want die brood word ten toon gestel om in die plek van Christus aanbid te word.
9. Hierdie dwaling was aan die kerk, toe dit nog suiwer was, onbekend. Voor ek eindig, vra ek hulle hoe hulle kan glo dat hierdie manier om te offer vir God aangenaam kan wees, ‘n manier waarvoor hulle geen enkel gebod het nie en wat selfs nie met een woord deur die Skrif goedgekeur word nie? Hulle weet {522} tog dat God gehoorsaamheid liewer het as offerandes (1 Sam 15:22). Verder moet hulle bewys dat God hulle as priesters aangestel het, want niemand neem die waardigheid vir homself nie (Hebr 5:4-5). Of anders moet hulle erken dat hulle die eer roekeloos vir hulleself toegeëien het.
10. Die ou kerkvaders gebruik soms wel die woord offerande vir die nagmaal maar verklaar terselfdertyd dat hulle daaronder verstaan die gedagtenis aan die ewige offerande van Christus wat Hy aan die kruis volbring het. Augustinus sê dat dit die stem van die Antichris sal wees as iemand van ‘n biskop ‘n middelaar tussen God en mense maak.
11. Die offerande van Christus word ons so vertoon in die nagmaal dat die kruis ons voor oë gestel word (Gal 3:1). Die ou vaders het egter gesondig in die wyse waarop hulle die nagmaal bedien het. Want hulle het die Joodse manier van offer meer nagevolg as wat Christus verordineer het of die aard van die evangelie meebring. Hulle het te veel die skaduwees van die wet nagevolg.
12. Die Skrif maak duidelik onderskeid tussen die offerandes van die wet en ons nagmaal. Die offerandes het wel, net soos die nagmaal, die krag en werking van Christus se dood aan die volk afgebeeld, maar op ‘n ander wyse. Hulle het heengewys na die offerande wat Christus sou bring; maar nou gee die Here ons die vrug van die offerande om te geniet. Hy het ons ‘n tafel gegee waaraan ons kan eet, nie ‘n altaar waarop die slagoffer geoffer moet word nie. Hy het geen priester geheilig om te offer nie, maar dienaars om die heilige maaltyd uit te deel. Hoe heiliger die verborgenheid is, met des te groter eerbied moet ons dit behandel. Ons gaan dus die veiligste as ons ons alleen hou aan wat die Skrif leer.
13. Ek sal nou kortliks verklaar wat ek met die woord offerande en priester bedoel. In die algemeen omvat die woord offerande alles wat aan God geoffer word. En al was daar verskillende soorte offerandes, kan hulle almal tog tot twee soorte herlei word.
Die offer is gebring vir die sonde waardeur die skuld voor God versoen is, of dit was as smeking bedoel om die guns van God af te bid of as danksegging om die dank van die hart te betuig vir ontvange weldade, of dit was eenvoudig ‘n handeling om die vernuwing van die verbond te bekragtig. Tot hierdie laaste het behoort die brandoffers, die spysoffers, die vrywillige offers, die eerstelinge en die vredeoffers.
Laat ons die offers in twee soorte verdeel. Die een noem ons dan die dankoffers. Hulle word aan God gebring deur hulle wat, met baie weldade oorlaai, hulle aan God oorgee met alles wat hulle doen.
Die ander noem ons soenoffers. Dit is offers waardeur die {523} sondaar die toorn van God wil laat ophou, aan sy oordeel voldoening wil skenk en daardeur die sonde afwas sodat die sondaar, gereinig van sy vuilheid, met God versoen word.
So is in die wet die offerandes genoem wat gebring is vir die versoening van die sondes, nie omdat hulle die ongeregtigheid tot niet gemaak en die genade van God verdien het nie, maar alleen omdat hulle die ware offerande afgeskadu het wat Christus gebring het en Hy alleen kon bring. Deur sy offerande is die genade van die Vader vir ons verkry en die sondes versoen. Daarom is daar nou geen plek meer vir ‘n ander soenoffer nie.
14. Daarom is dit ‘n skandelike smaad en lastering teen Christus en die offer wat Hy deur sy dood aan die kruis volbring het, as iemand deur herhaling van die offerande dink om vergewing van sondes te ontvang, God te versoen en geregtigheid te verkry. En daaroor gaan dit dan ook in die Mis.
15. Plato het in sy tyd gespot met die mense wat gemeen het om met hulle offers hulle sondes te bedek, sodat die gode dié nie sou sien nie. Dit was of die mense ‘n verbond met die gode gemaak het om so rustig in die sonde te kan lewe. Dit lyk byna of hy hier sinspeel op die versoening deur die Mis.
Hy spot ook met hulle omdat hulle meen dat hulle deur hulle offers die straf op hulle sondes kan afkoop. Dien die Mis nie ook volgens die Roomse leer om die lyding in die vaevuur te ontgaan nie?
16. Tot die ander soort offerandes, wat ons die dankoffers noem, behoort die werke van liefde waarmee ons die Here in sy lidmate eer. Verder ons gebede, ons lof en danksegginge en alles wat deur ons in die diens van God gedoen word. Hulle almal is die vrug van een groot offerande, waardeur ons met liggaam en siel aan die Here tot ‘n heilige tempel geheilig is. Hierdie soort offerandes dien nie om die toorn van God stil te maak, vergewing van die sondes te verkry en geregtigheid te verdien nie, maar hulle dien net tot verheerliking van God. Hulle is onmisbaar vir die kerk (Mal 1:11; Rom 12:1; Hebr 13:16; Fil 4:18).
17. So noem Dawid sy gebed ‘n reukoffer (Ps 141:2). Hosea noem die danksegginge offerdiere van die lippe (Hos 14:3). Die apostel noem ook die lofoffers die vrug van die lippe wat sy Naam bely (Hebr 13:15). Ons is almal ‘n koninklike priesterdom wat deur Christus aan God die offers bring waarvan die apostel spreek (1 Petr 2:9). Hy is ons Hoëpriester, wat vir ons in die hemelse heiligdom ingegaan het. Hy is die altaar waarop ons ons gawes neerlê. En Hy maak ons tot konings en priesters vir sy God en Vader (Openb 1:6).
18. So kan ‘n blinde sien, ‘n dowe hoor en selfs ‘n kind verstaan watter gruwel die Mis is. In ‘n goue beker ingeskink het dit al die konings van die aarde en die volke dronk gemaak om hulle saligheid {524} in so ‘n afgrond te soek. En dan spreek ek nie van die koophandel wat hulle dryf en die wins wat hulle maak met hulle Misse nie, ek se alleen dat die Mis op sy beste van sy wortel af tot in sy top vol goddeloosheid, godslastering, afgodery en heiligskennis is.
19. Die lesers het nou, kort saamgevat, alles wat ons nodig het om te weet aangaande die twee sakramente. Die doop is, om dit so te noem, die ingang in die kerk en ‘n inwyding van die geloof. Die nagmaal is die voortdurende voedsel waarmee Christus die huisgesin van sy gelowiges geestelik voed. Soos daar maar een God is, een geloof, een Christus en een kerk, so is daar maar net een doop, wat nie weer herhaal word nie. Die nagmaal word egter herhaaldelik bedien, sodat die wat eenmaal in die kerk opgeneem is, sal begryp dat hulle gedurigdeur deur Christus gevoed word.
Behalwe hierdie twee het God geen ander sakramente ingestel nie, en die kerk moet ook geen ander erken nie. Geen mens kan ‘n sakrament instel nie. Want ‘n sakrament is ingestel om ons te onderwys aangaande een of ander belofte van God en om ons sy goeie wil jeens ons te betuig.
20. Met hierdie twee moet die Christelike kerk tevrede wees en, ‘n derde tot aan die voleinding van die wêreld selfs nie eens begeer nie. Aan ons is Christus geopenbaar, in wie al die skatte van wysheid en kennis so oorvloedig verborge is dat, om ‘n nuwe toevoegsel tot hierdie skatte te begeer, sou beteken om God teen ons uit te daag. Ons moet na Christus alleen honger, Hom soek, op Hom hoop en Hom grondig leer ken, totdat die groot dag sal verskyn waarop Hy die heerlikheid van sy koninkryk ten volle sal openbaar en ons Hom sal laat sien soos Hy is (1 Joh 3:2). Daarom word die tyd waarin ons lewe, in die Skrif genoem die laaste uur, die laaste dae, die laaste tye (1 Joh 2:18; 1 Petr 1:20), sodat niemand homself sal bedrieg deur ‘n nuwe openbaring te verwag nie. Want nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun (Hebr 1:1), wat alleen die Vader kan openbaar (Luk 10:22) en ten volle geopenbaar het. Die mens mag dus geen ander sakrament aan die bestaande byvoeg nie, maar hy mag ook die bestaande nie met menslike uitvindsels vermeng nie.
HOOFSTUK XIX. Hierin word aangetoon dat die vyf ander sogenoemde sakramente geen sakramente is nie. Ook word aangetoon hoedanig hulle is
{525}
1. Wat ons tot sover oor die sakramente gesê het, is vir verstandige mense voldoende om hulle tevrede te laat wees met die twee sakramente wat die Here ingestel het, en geen ander te laat aanneem wat nie deur die gesag van Gods Woord gedek word nie. Daarom lyk dit vir my wenslik om die orige vyf wat gewoonlik aan die ware sakramente van die Here toegevoeg word, afsonderlik te ondersoek en hulle eenvoudig te laat sien soos hulle is. Op die wyse sal ek dan aantoon dat hulle ten onregte vir sakramente gehou word.
Vooraf wil ek net sê dat ek die stryd oor die naam nie uit twisgierigheid onderneem nie maar dat ek ander gewigtige redes daarvoor het. Hulle wat die getal sakramente op sewe stel, sê dat almal die onsigbare genade sigbaar voorstel. Die Heilige Gees gebruik hulle as middels om regverdigheid en genade te laat verkry. Hulle beweer selfs dat die sakramente wat onder die wet gegee is, ten onregte so genoem word, omdat hulle nie gegee het wat hulle afgebeeld het nie. Kan ons dit verdra dat tekens wat die Here met sy mond geheilig en waaraan Hy voortreflike beloftes verbind het, nie vir sakramente gehou moet word nie en dat intussen die eer gegee word aan seremonies wat mense uit hulleself bedink het of sonder ‘n uitdruklike bevel van God onderhou?
2. Ek twis dus nie oor ‘n woord nie maar oor die saak self. Daarom moet ons vashou aan wat ek vantevore gesê het, nl. dat God alleen oor die instelling van ‘n sakrament kan beslis. ‘n Sakrament moet ons tog deur ‘n gewisse belofte van God troos. Dit moet vir ons ‘n getuienis wees dat God ons goedgesind is. Daarvan kan geen mens of engel ons verseker nie, net God alleen (Jes 40:13; Rom 11:34). ‘n Sakrament is ook ‘n seël wat God se verbond aan ons verseël. ‘n Mens kan dus geen sakrament instel nie, maar Gods Woord moet voorafgaan om iets tot ‘n sakrament te maak.
Bowendien is dit nuttig om tussen die sakramente en die ander seremonies te onderskei. Dit sal ons bewaar om nie in ongerymdhede te verval nie. Die apostels, byvoorbeeld, het gekniel as hulle bid. Sal ons nou van die kniebuiging ook ‘n sakrament maak?
3. As hulle hulle op die gesag van die ou kerk beroep, bedrieg hulle hulleself. Want die getal word nooit by hulle gevind nie. Wel gebruik hulle die woord sakrament soms nogal vrylik vir alle seremonies en sake waardeur die godsaligheid geoefen word. Maar as hulle oor die tekens spreek wat getuienisse van God se genade jeens ons is, is hulle tevrede met die twee, naamlik die doop en die nagmaal. Augustinus noem herhaaldelik net die twee. Is dit waarskynlik dat hy nou nagelaat het om die getal sewe te noem as dit toe in die kerk ingestel was? En dit te meer waar hy andersins nogal baie waarde daaraan heg om getalle presies weer te gee. {526}
Die vormsel
4. Dit was in die ou tyd die gewoonte dat die ouers hulle kinders wat klein gedoop was, aan die begin van hulle jongelingsjare voor die biskop gestel het om belydenis van hulle geloof te doen. Hy het hulle ondersoek aan die hand van die kategismus wat toe algemeen in gebruik was. Dit was ‘n ernstige en heilige handeling. Om dit nog indrukwekkender te maak het hy hulle die hande opgelê en met ‘n plegtige seën laat gaan. Hierdie gebruik keur ek goed en sal graag sien dat dit suiwer herstel word.
5. Later is die saak vergeet. Toe is die vormsel as ‘n sakrament van God uitgedink en ingestel. Dit sou dan die Heilige Gees gee om die genade te vermeerder wat in die doop geskenk is. Ook verstrek dit hulle vir die stryd wat in die doop wedergebore is.
Hierdie vormsel is uitgevoer deur die persoon te salf en soos volg toe te spreek: “Ek teken u met die teken van die heilige kruis en versterk u met die salwing van die saligheid in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees”. Dit is alles wel mooi, maar waar is die Woord van die Here wat die teenwoordigheid van die Heilige Gees hier belowe? Die eerste wat van ‘n dienaar geëis word, is dat hy niks sonder ‘n bevel sal doen nie. Laat hulle vir ons ‘n gebod aanwys om dit te doen, en ek sal geen woord meer sê nie. Maar as hulle dit nie kan doen nie, kan ons hulle heiligskennis nie verontskuldig nie.
6. Hulle beroep hulle op die voorbeeld van die apostels (Hand 8:15-17). Dit was die Here se wil dat die sigbare en wonderbare gawe van die Heilige Gees, wat Hy in dié tyd op sy gemeente uitgestort het, deur die handoplegging van die apostels bedien en uitgedeel sou word. Daardeur is die persoon as’t ware aan God aanbeveel en aangebied. As die diens wat die apostels destyds verrig het, nou nog in die kerk bestaan, moet die handoplegging bewaar bly. Maar as die gawe nie meer so geskenk word nie, waartoe dien dan die handoplegging? Die Heilige Gees woon nou tog by die volk van God. Sonder sy leiding en besturing kan die kerk van God nie bestaan nie. Die wonderbare kragte en werkinge wat deur die handoplegging uitgedeel is, moes net ‘n bepaalde tyd duur en het opgehou.
7. Die apostels het die hande opgelê vir die tyd toe dit die Here behaag het dat die sigbare gawes van die Heilige Gees op hulle gebede geskenk sou word. Hy het nie gewil dat die nakomelinge ‘n teken sou naboots wat geen sin het nie, omdat die saak nie meer daarmee gepaard gaan nie. As hulle bewys dat hulle die apostels in hierdie saak navolg, waarvandaan kry hulle dan die olie van saligheid, soos hulle dit noem? Wie het hulle geleer om hulle saligheid in die olie te soek en aan die olie die krag toe te {527} ken om te versterk? Het Paulus dit gedoen? Hy wat ons ver wegtrek van die beginsels van hierdie wêreld en die onderhouding van sulke dinge skerp veroordeel (Gal 4:9; Kol 2:20)? Dit verklaar ek met vrymoedigheid dat hulle wat die olie ‘n olie van die saligheid noem, die saligheid verwerp wat in Christus is. Hulle verloën Hom en het geen deel in die ryk van God nie. Want die olie is vir die maag en die maag vir die olie, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak.
8. Die salwers sê dat ons in die doop wedergebore word tot die lewe en in die vormsel toegerus word vir die stryd. Hulle gaan selfs sover dat hulle sê dat die doop sonder die vormsel nie behoorlik volbring kan word nie. Maar is ons dan nie met Christus deur die doop in sy dood begrawe, sodat ons ook aan sy opstanding deel het nie (Rom 6:4)? Hierdie gemeenskap met die dood en lewe van Christus is, volgens die uitlegging van Paulus, die doding van ons vlees en die lewendmaking deur die Gees. Ons ou mens is gekruisig sodat ons in ‘n nuwe lewe sal wandel.
Gods Woord sê dat almal wat in Christus gedoop is, hulle met Hom en sy gawes beklee het (Gal 3:27). Die salwers sê dat die gedooptes geen enkele belofte in die doop ontvang het waardeur hulle tot die stryd toegerus word nie. Die eerste is die woord van die waarheid, die tweede die van die leuen. Die vormsel is ‘n smaad wat die doop aangedoen word. Dis ‘n valse belofte van die duiwel wat ons van die waarheid van God aftrek.
9. Vervolgens sê hulle dat alle Christene die Heilige Gees moet ontvang deur oplegging van die hande na die doop, sodat hulle volmaakte Christene kan word. Ek het gedink dat alles in die Skrif vervat is wat nodig is om Christen te word, maar nou sien ek dat die ware gedaante van die godsdiens nie uit die Skrif nie maar van elders gesoek moet word. Die hemelse waarheid begin dus net om van mense Christene te maak, die olie voltooi dit. Deur hierdie opvatting word al die apostels en martelare, van wie dit volkome seker is dat hulle nooit gesalf is nie, aan die verdoemenis oorgegee.
10. Eindelik sê hulle dat hierdie heilige salwing meer geëer moet word as die doop, omdat dit deur die hoogste priesters bedien word, terwyl die doop deur gewone priesters bedien word. Is dit geen Donatisme wat die krag van die sakrament van die waardigheid van die dienaars laat afhang nie? Maar waar kry die biskoppe miskien die besondere voorreg vandaan? Hulle sê dat alleen die apostels die Heilige Gees uitgedeel het. Maar is die biskoppe miskien apostels?
11. Niksbeduidend is hulle tweede rede. Hulle noem die vormsel waardiger as die doop omdat dit die voorhoof met olie bestryk, terwyl die doop alleen die skedel bestryk. Hulle wil egter maar net {528} die suiwerheid van die sakramente met hulle suurdeeg verderf. Ons sê dat die voorhoof ook met water bevogtig word in die doop. Met hulle derde rede voltooi hulle hulle goddeloosheid. Want hulle sê dat in die vormsel ‘n groter toeneming van deugde gegee word as in die doop. Die apostels het deur die oplegging van die hande sigbare gawes van die Gees meegedeel, maar waarin betoon hulle vetterige olies sy vrugbaarheid?
12. Hulle laaste uitvlug is dat dit ‘n ou instelling is. Al sou dit waar wees, bereik hulle daarmee nog niks nie. Want ‘n sakrament is nie van die aarde nie maar van die hemel, nie van mense nie maar van God afkomstig.
En wat beroep hulle hulle op die oudheid. Die ou leraars noem nêrens meer as twee sakramente op nie.
13. Laat ons liewer die gewoonte behou wat by die vaders gebruiklik was voordat hierdie ontydige gedrog van ‘n sakrament gebore is, naamlik dat die kinders onderwys sal word sodat hulle rekenskap van hulle geloof kan gee. Die beste manier sou wees dat daar ‘n kategismus vir die doel opgestel word wat die hoofinhoud van al die stukke van ons religie saamvat en uitlê.
Laat dan ‘n kind van tien jaar oud hom by die gemeente aanmeld om belydenis van geloof af te lê. Hy moet dan oor elke hoofstuk van die leer ondervra word en daarop antwoord. As hy iets nie weet of nie goed begryp nie, moet hy verder onderwys word. Op die wyse sal hy dan die enige, ware en suiwere geloof bely waarmee die gelowiges God eendragtig dien, met die kerk as getuie. Só sal die traagheid van baie ouers opgeskerp word, wat die onderwysing van hulle kinders so onbekommerd verwaarloos. Daar sal ook groter eenstemmigheid in geloofsake onder die Christene wees, en die onkunde van baie sal nie so groot wees nie. Ook sal ander nie so maklik deur nuwe en vreemde leringe weggeruk word nie.
Die boetedoening
14. Oor die boetedoening spreek hulle so verward dat uit hulle leer niks sekers verkry kan word nie. Op ‘n ander plek het ons uitvoerig gehandel oor wat die Skrif aangaande die boetedoening leer. Nou vermeld ek net die rede waarom hulle dit ‘n sakrament noem. Ek vermeld net eers kortliks die gewoonte van die ou kerk waarop hulle hulle beroep. Hulle het hierdie reël gevolg: Diegene wat die opgelegde boetedoening volbring het, is in die openbaar versoen deur oplegging van die hande. Dit was die teken van vryspraak. Daardeur is die sondaar voor God weer opgerig deur die vertroue dat sy sondes vergewe is, en is die gemeente vermaan om sy misdaad te vergeet en hom weer in genade aan te neem. Cyprianus {529} noem dit herhaaldelik “die vrede gee”. Verder is nog bepaal dat dit moet geskied met die gesag van die biskop, sodat dit in groter agting by die volk sal wees. Met verloop van tyd het dit egter sover gekom dat hierdie seremonie ook gebruik is waar in die privaat sonde versoen is. Die ou gebruik was seker vir die kerk heilsaam, en ek sou graag sien dat dit weer herstel word.
Hoe dit ook sy, ons sien in elk geval dat die handoplegging by boetedoening ‘n seremonie is wat deur mense ingestel is en nie deur God nie. Dis ‘n middelmatige saak wat ons wel nie minag nie maar tog van minder waarde beskou as die wat God in sy Woord aanbeveel.
15. Die Roomse doen nou hulle bes om hier ‘n sakrament te vind. Die beste wat hulle egter bereik, is om die saak ingewikkeld en deur ‘n verskeidenheid van meninge verward te maak. As die lesers hulle herinner wat ek oor ‘n sakrament gesê het, sal hulle bevind dat ons hier nie te maak het met ‘n uitwendige seremonie wat die Here tot versterking van ons geloof ingestel het nie.
16. En as hulle dan hier ‘n sakrament soek, sou dit seker meer sin gehad het om die absolusie deur die priester ‘n sakrament te noem as om dit met die uitwendige of inwendige boetedoening te doen. Want dan het dit voor die hand gelê om te sê dat die absolusie ‘n seremonie is om ons geloof aangaande die vergewing van die sonde te versterk en dat dit die belofte van die sleutels het soos hulle dit noem.
17. Ek ontken dus dat die boetedoening of die absolusie ‘n sakrament is. In die eerste plek omdat hier geen enkele besondere belofte van God daarvoor bestaan nie. En dit is tog die enigste grond vir ‘n sakrament. In die tweede plek omdat ook die handeling waarmee dit geskied, ‘n uitvindsel van mense is. Hierdie leuen-sakrament probeer hulle goedpraat met die woorde dat as iemand die kleed van onskuld, wat hy in die doop ontvang het, deur sonde beskadig het, hy dit weer deur boetedoening kan herstel. Maar dit is ‘n goddelose bewering. Die doop word deur die sonde nie tot niet gemaak nie. Veeleer moet die sondaar gedurig daaraan dink so dikwels as hy aan die vergewing van sy sondes dink, sodat hy moed sal vat en sy geloof sal versterk dat hy die vergewing sal ontvang wat in die doop aan hom belowe is.
Die sogenaamde laaste oliesel
18. Die derde sakrament deur hulle versin is die laaste oliesel. Dit word alleen in uiterste gevalle deur ‘n priester bedien met olie wat deur ‘n biskop gewy is. Hy spreek dan hierdie woorde: “Mag God deur hierdie heilige salwing en deur sy goedertierene barmhartigheid alles vergewe wat u deur die gesig, die gehoor, die reuk, {530} die gevoel en die smaak gesondig het”.
Hulle beweer dat die sakrament ‘n tweeledige krag besit. Dit dien tot vergewing van die sondes en tot verligting van die liggaamlike krankheid, as dit vir die kranke nuttig is. So nie, dien dit tog tot saligheid van die siel.
Vir hierdie instelling beroep hulle hulle op die woorde van Jakobus (Jak 5:14-15). Dit is egter niks anders nie as toneelspelagtige huigelary waarmee hulle die apostels na-aap. Jakobus het hier in gedagte dat die apostels tydens hulle eerste uitsending op bevel van die Here dooies opgewek, duiwels uitgedryf, melaatses gereinig en siekes gesond gemaak het, terwyl hulle hulle met olie gesalf het (Mark 6:13). Dat daar in sulke seremonies geen verborgenheid skuil nie, merk ons op uit die gedrag van die Here sowel as van sy apostels. Die Here het ‘n blinde die gesig gegee deur klei aan sy oë te smeer. Ander het Hy genees deur hulle aan te raak en ander deur net ‘n woord te spreek. So ook die apostels.
Die salwing is dus nie gebruik as ‘n geneesmiddel nie maar was maar ‘n teken om die eenvoudiges te onderwys dat die eer vir hulle genesing nie aan die apostels toegekom het nie. Die gawe van gesondmaking het egter verdwyn, net soos die orige wonders wat die Here ‘n tyd lank laat geskied het ter wille van die verbreiding van die evangelie.
19. Waarom maak hulle dan net van die salwing ‘n sakrament en nie ook van ander tekens wat die Skrif vermeld nie? Waarom maak hulle nie ook ‘n badwater Siloam om op bepaalde tye die siekes daarin te dompel nie? Dit sal tevergeefs gebeur, sê hulle. Wel, net so is dit ook met hulle salwing gesteld. Maar Jakobus gebied dit, sê hulle. Seker, maar hy het gespreek vir die tyd toe die kerk nog so ‘n seëning van God geniet het. Die Here is altyd naby sy volk en genees hulle kwale as dit nodig is. Hy doen egter geen wonders meer soos deur die hande van die apostels nie. Die gawe was net vir ‘n tyd en het verdwyn, ten dele ook deur die mense se ondankbaarheid.
20. Die apostels het met die olie alleen te kenne gegee dat die gawe om gesond te maak die krag van die Heilige Gees was en nie hulle krag nie. Hierdie mense doen die Heilige Gees groot onreg aan. Hulle beweer dat hulle stinkende en kragtelose olie die krag van die Heilige Gees is. Dan kan ons ook maar beweer dat elke duif die Heilige Gees is, omdat Hy in die gedaante van ‘n duif verskyn het.
Vir ons is dit duidelik dat hulle salwing geen sakrament is nie. Dit is nie deur God ingestel en dit het ook geen belofte nie.
21. Hulle beroep hulle op Jakobus. Maar Jakobus beveel dat alle krankes gesalf moet word; hulle salf net die wat op hulle uiterste is. Dis wreed, aangesien hulle olie dan ‘n medisyn sou wees {531} om die lyding te versag en die siel te troos.
Jakobus wil dat die siekes deur die ouderlinge van die gemeente gesalf sal word; hulle laat niemand anders toe om dit te doen nie, behalwe die priesters.
Jakobus wil dat met gewone olie gesalf sal word. Ook Markus spreek van geen ander olie nie. Maar hierdie mense wil van geen ander olie weet nie as net die wat deur die biskop gewy is, wat deur die asem verwarm, deur baie gemompel van woorde betower is en nege maal met kniebuiging begroet is, drie maal met die woorde: “Wees gegroet, heilige olie”; drie maal met: “Wees gegroet, heilige salf”; drie maal met: “Wees gegroet, heilige balsem”.
Jakobus sê dat as die sieke gesondig het en vir hom gebid is, hy vergewing van sondes sal ontvang. Hulle bind die vergewing aan hulle verfoeilike salwing.
Die kerklike ordes
22. Die sakrament van die orde is die vierde. Maar dit is so vrugbaar dat dit uit homself sewe sakramentjies voortbring, Hulle sê daar is sewe, maar as hulle hulle opnoem, is daar eintlik dertien.
In die eerste plek wil ons terloops daarop wys hoeveel ongerymdhede hulle ons opdring as hulle hulle ordes sakramente noem. In die tweede plek sal ons sien of die seremonie wat hulle gebruik as hulle hulle dienaars orden, wel die naam van sakrament verdien.
Hulle maak dan sewe ordes of kerklike trappe wat hulle met die naam “sakrament” noem. Hulle is die deurwagters, die lesers, die besweerders, die akolute, die onderdiakens, die diakens en die priesters. Hulle sê dat daar sewe is, omdat die wat tot die ordes bevorder word, met die sewevoudige gawe van die Heilige Gees toegerus moet wees. Hiervoor beroep hulle hulle op Jesaja 11:2. Ander noem weer nege ordes op na die gelykenis van die triomferende kerk, soos hulle sê. Onder hulle is daar ook weer verskil. Sommige meen dat die kerklike tonsuur die eerste orde is en die biskopsamp die laaste. Ander laat weer die tonsuur weg en reken die aartsbiskopsamp daarby. Sommige skei weer die psalmiste van die lesers. Wat moet ons dan volg as daar so baie verskil is? Is daar nou sewe ordes of nie? So lyk dit as oor goddelike sake sonder Gods Woord geredeneer word.
23. Die toppunt van dwaasheid is egter dat hulle in elke orde Christus ‘n ampsgenoot van hulle maak. So het Hy byvoorbeeld die amp van deurwagter bedien toe Hy die kopers en verkopers uit die tempel gedryf het (Joh 2:15). Hy is ook deurwagter, omdat Hy Homself die deur noem (Joh 10:7). Die amp van leser het Hy aangeneem toe Hy in die sinagoge uit Jesaja gelees het. En toe Hy die voete van sy dissipels gewas het, het Hy die amp van {532} onderdiaken verrig, ens. Dis alles so bespotlik dat ek myself belaglik sal maak as ek my in alle erns daarmee besig sal hou.
24. Hulle benoem hulle lesers, psalmiste, deurwagters en akolute met groot praal en plegtigheid om dienste te verrig waarvoor hulle kinders en leke aanstel om dit te doen. Want wie steek die kerse op? Of wie giet die wyn of die water uit die kannetjie? Dis gewoonlik ‘n kind of ‘n leek wat daarmee sy kos verdien. Hulle word dus deur sakramente geheilig en ontvang die Heilige Gees om — niks te doen nie!
25. Laat ons nou oor die seremonies self spreek. In die eerste plek wy hulle elkeen wat hulle in hulle orde opneem, deur ‘n algemene teken in die geestelike stand in. Hulle skeer die hare bo-op die hoof af om daardeur die koninklike waardigheid soos deur ‘n kroon aan te dui. Geestelikes moet konings wees om hulleself en ander te regeer! Want dis van hulle wat Petrus sê: “Julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry” (1 Petr 2:9). Wat van die hele kerk gesê word, matig hulle vir hulleself alleen aan! Net so asof hulle alleen deur Christus se bloed gekoop is!
Hulle noem nog ander redes op. Die hoof word bo kaal geskeer om dan aan te dui dat die gees onbelemmerd tot God opstyg om sy heerlikheid te aanskou. Of om hulle te leer dat die gebreke van mond en oë weggeneem moet word. Of dit simboliseer die aflegging van die tydelike dinge. Die hare wat oorbly, beteken die goedere wat nodig is vir die onderhoud van die tydelike dinge. Alles figuur. Seker omdat die voorhangsel van die tempel nog nie geskeur is nie!
26. Hulle bewering dat die kruin van die geestelikes sy oorsprong in die nasireërskap het, bewys alleen dat hulle sakrament suiwere Jodedom is. Verder verraai hulle hulle onkunde as hulle beweer dat Priscilla, Aquila en Paulus hulle hare geskeer het omdat hulle ‘n gelofte gedoen het (Hand 18:18). Van Priscilla word dit nêrens gelees nie. Verder kan die woorde net sowel op Paulus sien as op Aquila. In elk geval, Paulus het sy hare laat skeer alleen ter wille van die swakheid van die broeders. Ek noem sulke geloftes geloftes van die liefde.
Soos hy self sê dat hy vir die Jode soos ‘n Jood geword het.
27. Augustinus verklaar dat die geestelikes gelas is om hulle hare af te skeer, sodat hulle nie sou lyk soos die verwyfde mans wat met hulle lang hare gepronk het nie. Dit was so algemeen dat sommige monnike hulle hare laat groei het om met hulle heiligheid te koop te loop. Later het hulle weer die hare geskeer toe ander volke wat gewoon was om lang hare te dra, die Christelike godsdiens aangeneem het. Die deurwagters ontvang die sleutels van die kerk as hulle gewy word. Die lesers ontvang die Bybel. Die {533} besweerders die formules van beswering. Die akolute die waskerse en die kan. Daar is dan nou die seremonies wat soveel verborge krag besit dat hulle nie net tekens en pande van die onsigbare genade is nie maar dit ook self werk!
28. Daar is nog drie ordes oor, waarvoor hulle hulle oënskynlik op Gods Woord kan beroep. Hulle word daarom in besonder heilige ordes genoem.
Ons begin met die orde van die priesters. Hulle taak is om die offer te volbring, die gebede uit te spreek en die gawes van God te seën. Daarom ontvang hulle ‘n skottel met hosties as hulle georden word. Dis die teken dat aan hulle mag gegee is om aan God soenoffers te bring. Ook word hulle hande gesalf. Daardeur word hulle geleer dat hulle mag gegee is om dinge te heilig.
Wat hulle hier opnoem, is op geen enkele letter uit Gods Woord gebaseer nie. Dis tog ‘n uitgemaakte saak dat almal Christus onreg aandoen wat hulleself priesters noem om soenoffers te offer. God het Hom met eedswering geheilig as Priester volgens die orde van Melgisedek (Ps 110:4; Hebr 5:6; 7:3). En Hy het met een offerande een maal die sonde versoen. En, ingegaan in die hemelse heiligdom, bid Hy nou ook vir ons. In Hom is ons almal priesters om lof en dank, onsself en alles wat ons besit, aan God te offer.
Dus hulle priesterskap is goddeloos en ‘n heiligskennis.
Die handoplegging berus op ‘n Skriftuurlike grondslag (1 Tim 4:14). Ek tel dit egter nie by die sakramente nie, omdat dit ‘n besondere seremonie is vir ‘n bepaalde amp.
Christus het ook nie beveel om offerandes te bring nie maar om die evangelie te verkondig en sy skape te laat wei (Mat 28:19; Joh 21:15). Hy het die genade van die Heilige Gees belowe, nie om die sondes te versoen nie maar om die regering van die kerk na behore waar te neem en te onderhou.
29. Toe die Here die apostels uitgestuur het om die evangelie te verkondig, het Hy op hulle geblaas (Joh 20:22). Deur die teken het Hy die krag van die Heilige Gees, wat Hy hulle gegee het, aanskoulik voorgestel.
Hulle behou die seremonie. En asof hulle die Heilige Gees uit hulle keel kon laat voortkom, prewel hulle oor die wat hulle priesters maak: “Ontvang die Heilige Gees”. Hulle beweer dat hulle die voorbeeld van die Here behou. Maar Christus het baie dinge gedoen wat Hy nie as voorbeeld vir ons gelaat het om na te volg nie. Hy het vir Lasarus gesê: “Kom uit”. Vir die verlamde man het Hy gesê: “Staan op en gaan heen”. Waarom sê hulle dit nie ook vir alle dooies en verlamdes nie?
Christus het ‘n bewys van sy goddelike krag gegee toe Hy op sy apostels geblaas en hulle met die gawe van die Heilige Gees {534} vervul het. As hulle dit ook wil doen, daag hulle God uit en bespot Christus.
30. Hulle beweer dat hulle die salwing van die seuns van Aäron ontvang het. Volgens hulle het hulle orde sy oorsprong dan ook daar. Maar as hulle hulle uitgee vir opvolgers van die seuns van Aäron, doen hulle Christus groot onreg aan. Die ou priesterskap het sy priesterskap alleen afgebeeld.
As hulle dan so ‘n behae het in die seremonies van Moses, waarom offer hulle dan nie nog beeste en skape nie? Deur navolgers van die Leviete te wil wees val hulle van Christus af en verloën die herdersamp.
31. Hulle beweer dat die salwing ‘n geestelike merkteken is. Maar watter verband het die olie met die siel? En waar is die Woord wat dit tot ‘n sakrament maak? Miskien dit dat God Moses beveel het om die seuns van Aäron te salf? Maar hy het ook bevel ontvang aangaande die rok, die efod en die tulband. Ook is hy beveel om ‘n kalf te slag, om die vet daarvan te verbrand; om die ramme te slag en die klere van Aäron en sy seuns met die bloed van die een ram te heilig. Waarom onderhou hulle hierdie dinge dan nie ook nie? Baie vernuftig probeer hulle om ‘n godsdiens saam te lap uit Christendom, Jodedom en heidendom.
32. Tussen hulle diakens en die van die ou kerk is daar nie die minste ooreenkoms nie. Die amp van die diakens is, volgens hulle, om die priesters by te staan en hulle te dien in alles wat by die sakramente verrig moet word, naamlik in die doop, in die salwing, in die skottel en in die kelk. Hulle moet ook die offerandes aandra en op die altaar skik. Hulle moet die tafel dek, die kruis dra, die evangelie vir die volk voorlees en sing. Is hier een woord by oor die werklike diens van die diakens?
Laat ons hoor hoe hierdie wyding geskied. Die biskop alleen lê sy hande op hom. Daarna lê hy ‘n linnedoek en stool op sy linkerskouer as teken dat hy die ligte juk van die Here ontvang het. Hy gee hom ‘n teks uit die evangelie as teken dat hy die verkondiger daarvan is.
Maar wat het al hierdie dinge met die diakens te maak? Eweso kan iemand apostels aanstel en hulle opdra om die tempel uit te vee, die muise te vang en die honde te verjaag.
33. Die onderdiakens het in die ou kerk die armversorging behartig. Teenswoordig is hulle Werk onbeduidend. Hulle moet die kelk en die skottel, die kan met water en handdoek na die altaar bring en die water ingiet om die hande te was, ens.
By hulle ordening ontvang hulle van die biskop die skottel en die kelk en van die opperdiaken die kan met water, die handdoek en ander beuselagtige dinge. En nou eis hulle dat ons sal erken dat die Heilige Gees in sulke dwaashede ingesluit is! Hier is geen {535} woord van ‘n belofte van God nie. Hy het nie een van die seremonies ingestel wat hulle gebruik nie. Daarom is dit ook geen sakrament nie.
Die huwelik
34. Die laaste sakrament is die huwelik. Almal erken dat dit deur God ingestel is. Tot op die tyd van Gregorius het niemand egter gesien dat dit as sakrament gegee is nie. Dis ‘n goeie en heilige ordinansie van God maar geen sakrament nie. Net soos die landbou en boerbedryf, byvoorbeeld, ordinansies van God is maar geen sakramente nie. ‘n Sakrament is tog nie net instelling van God nie maar ‘n instelling om ‘n belofte te bevestig. Selfs ‘n kind kan sien dat daar in die huwelik nie so iets is nie.
Hulle sê egter dat dit ‘n teken van ‘n heilige saak is, naamlik van die geestelike gemeenskap van Christus met sy kerk. Maar as ons op die wyse van Rome aangaan, sal alle tekens van heilige sake sakramente wees, soos bv. die mosterdsaad, die suurdeeg, die herder, ja, selfs die dief (Mat 13; Joh 10; 1 Thess 5).
35. Maar hulle beroep hulle op die woorde van die apostel Paulus: “Hierdie verborgenheid (sakrament) is groot” (Ef 5:32).
Paulus wil aantoon met watter besondere liefde die man sy vrou moet liefhê. Daarom wys hy op die voorbeeld van Christus en kom dan so tot die uitspraak hierbo aangehaal. Met ander woorde, Paulus het hier op die oog die geestelike huwelik van Christus met sy kerk, en nie die huwelik tussen man en vrou nie.
36. Die woord sakrament het hulle bedrieg. Maar is dit nou billik dat die hele kerk vir hulle onkunde moet boet?
Paulus het die woord musterion gebruik. Die., vertaler kon dit so laat staan het, omdat dit ook in Latyn voorkom. Of hy kon dit vertaal het met die woord arcanum. Hy het egter verkies om dit met die woord sacramentum te vertaal maar in dieselfde sin waarin Paulus die woord musterion gebruik. Waarom sien hulle dan nie die ander plekke raak waarin die vertaler van die Vulgaat die Griekse woord ook met sacramentum weergee nie (Ef 1:9; 3:9; 1 Tim 3:9)? Maar as die huwelik ‘n sakrament is, waarom verbied hulle dit dan aan die priesters as iets wat onrein en vleeslik vuil is?
37. Aan hierdie een dwaling het hulle ‘n hele ry dwalinge, leuens en bedrieëry vasgeknoop en het hulle wette gaan maak wat goddeloos is teenoor God en onregverdig teenoor die mense, soos bv. dat huwelike wat sonder die goedkeuring van die ouers gesluit is, van krag sal bly, maar huwelike tussen bloedverwante is tot in die sewende graad toe onwettig. En as hulle aangegaan is, moet hulle ontbind word. Vanaf die sewende week voor Paasfees tot die agtste dag daarna mag geen huwelike gesluit word nie. So ook gedurende die drie weke voor die geboortedag van Johannes en {536} van Advent af tot Driekonings toe.
Maar genoeg. Ons moet ons nou maar losmaak uit hulle modder waarmee ek al langer besig was as wat my voorneme was. Maar ek glo tog dat ek iets nuttigs verrig het deur die leeuvel van die esels af te trek.
HOOFSTUK XX. Die burgerlike regering
1. Die mens word op tweërlei wyse geregeer. Daar is allereers die innerlike, wat op die ewige lewe gerig is. Daaroor is nou genoeg gesê. Dis nou die geskikte plek om ook oor die ander, die burgerlike regering, een en ander te sê. Dit mag miskien lyk asof dit niks met die leer van die geloof te maak het nie. Tog sal die vervolg aantoon dat ek met reg dit hier behandel. Ek is selfs gedwing om dit te doen. Mense wat van hulle verstand beroof is, wil hierdie ordinansie van God omverwerp.
Aan die ander kant aarsel die vleiers van vorste nie om hulle mag so hoog te verhef dat hulle dit teenoor die heerskappy van God self stel nie. As hierdie tweeledige kwaad nie teëgegaan word nie, sal die suiwerheid van die geloof te gronde gaan.
Bowendien is vir ons baie daaraan geleë om te weet hoe goedertieren God in hierdie opsig vir die menslike geslag gesorg het, sodat ons tot groter dankbaarheid jeens Hom opgewek sal word.
Voordat ons tot die saak self kom, herinner ons net daaraan dat ons die twee sake van mekaar moet onderskei, soos ons reeds gesê het. Want as die mense hoor dat in die evangelie ‘n vryheid belowe word wat geen enkele koning of owerheid onder die mense erken nie maar alleen op Christus sien, dan dink hulle dat hulle nie hulle vryheid kan geniet so lank as daar nog ‘n mag oor hulle gestel is nie. Die hele wêreld moet eers verander word, sodat daar geen regspraak, geen wette, owerheid of iets anders sal wees wat hulle vryheid in die weg staan nie. Wie egter onderskei tussen liggaam en siel, tussen die teenwoordige en die toekomstige, ewige lewe, sal maklik begryp dat die geestelike ryk van Christus en die burgerlike regering baie ver van mekaar verskil. Dis egter ‘n Joodse dwaasheid om die ryk van Christus in hierdie wêreld te soek en daarin op te sluit. Die apostel vermaan ons om te staan in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en ons nie weer onder die juk van diensbaarheid te laat bring nie (Gal 5:1). Terselfdertyd beveel hy egter die slawe om hulle nie daaroor te kwel dat hulle slawe is nie (1 Kor 7:21; vgl. ook Gal 3:28; Kol 3:11). Daarmee gee hy te kenne dat dit geen saak maak wat ons toestand by die mense is of onder watter volk se wette ons {537} lewe nie, omdat die koninkryk van Christus nie in sulke dinge bestaan nie.
2. Die doel van die onderskeiding beteken nie dat ons sal dink dat die burgerlike regering ‘n saak is wat die Christen nie aangaan nie. Dwepers sê wel dat ons deur Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het en nou in die koninkryk van God oorgebring is. Dit is ons daarom onwaardig om ons besig te hou met die onheilige beslommernisse wat betrekking het op sake waarby ‘n Christen geen belang het nie.
Ons het egter vantevore al daarop gewys dat die soort regering onderskeie is van die geestelike heerskappy van Christus. Hulle stry ook nie met mekaar nie. Die ryk van Christus begin reeds hier op aarde die beginsels van die hemelse koninkryk in ons te werk. Die taak van die burgerlike regering is om die godsdiens te beskerm, die gesonde leer en die kerk te verdedig, ‘n menslike samelewing te bevorder, ons sedes en gewoontes in ooreenstemming met die burgerlike geregtigheid te vorm en om die algemene vrede en rus te bewaar. Dis natuurlik oorbodig as die ryk van God die natuurlike lewe tot niet maak. Maar as dit God se wil is dat ons as vreemdelinge hier op aarde sal verkeer, kan daardie hulpmiddels ons nie ontneem word sonder om ons ons menswees te ontneem nie. Want hulle bewering dat in die kerk van God so ‘n volmaaktheid aangetref moet word dat dit vir die gelowiges as wet voldoende is, is dwaasheid. So ‘n volmaaktheid word onder mense hier nooit gevind nie. Want as die kwaaddoeners nouliks deur gestrenge wette in toom gehou kan word, wat kan ons dan van hulle verwag as hulle sien dat hulle geen straf hoef te vrees nie?
3. Oor die nuttigheid van die burgerlike regering sal op ‘n ander plek gehandel word. Nou wil ek net sê dat dit ‘n onmenslike barbaarsheid is om daaraan te dink om dit omver te werp. Want dit is vir ons nie minder nuttig as brood en water, son en lug nie. Sy doel is nie net dat die mense sal asemhaal, eet en drink nie maar ook dat daar geen afgodery, geen skending van die Naam van God, geen lastering teen die waarheid openlik sal plaasvind en onder die volk verbrei word nie. Dit beskerm die openbare rus, sodat elkeen sy eiendom sal behou en die mense met mekaar handel kan drywe en eerbaarheid en ingetoënheid in eer gehou sal word.
Nou moet niemand hom daaroor verwonder dat ek die sorg vir die religie aan die burgerlike owerheid opdra nie. Ek beoog daarmee alleenlik dat die ware religie wat in God se wet saamgevat is, nie openlik en deur openbare heiligskennis ongestraf geskend en besoedel sal word nie.
Die lesers sal beter verstaan hoe ons oor die burgerlike regering moet oordeel as ons die onderdele daarvan afsonderlik behandel. Daar is drie onderdele: die owerheid, wat die wette beskerm en {538} bewaar; die wette waarvolgens hy regeer, en die volk, wat deur die wette geregeer word en die wette gehoorsaam.
Ons let nou eers daarop of die amp van die owerheid wettig is en God welbehaaglik; wat sy roeping is en hoe groot sy mag is. Vervolgens deur watter wette ‘n Christelike staat geregeer behoort te word en eindelik watter nut die volk van die wette het en hoeveel gehoorsaamheid dit aan die owerheid verskuldig is.
4. Die Here betuig nie net dat die owerheidsamp Hom behaag nie, maar vermeld sy vaardigheid ook op eervolle wyse. Hulle word byvoorbeeld gode genoem (Ex 22:8; Ps 82:1,6). Daarmee word te kenne gegee dat hulle hulle opdrag van God het, met goddelike gesag beklee is en in sekere sin sy plaasvervangers is. Dit is die uitleg wat Christus self gee (Joh 10:35). God het hulle ‘n saak opgedra om Hom in hulle amp te dien soos Moses en Josafat vir die regters gesê het: “Julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die HERE” (Deut 1:16; 2 Kron 19:6). Daarop sien ook wat Salomo sê (Spr 8:15). God se voorsienigheid en sy heilige ordinansie het dit goedgevind dat die sake van die mense só bestuur sal word. God help hulle om die wette te maak en geregtigheid uit te oefen. (Vgl. ook Rom 13:1). Hierby kom nog die voorbeeld van heilige manne soos Dawid, Josia, Hiskia, wat oor koninkryke aangestel was, en Josef en Daniël, wat openbare regeringsbetrekkinge beklee het; Moses en die rigters, wat oor ‘n vry volk geregeer het. Die burgerlike regering is dus ‘n roeping wat voor God heilig en wettig is en onder mense die eervolste van alMal 5. Hulle wat regeringloosheid wil invoer, bring hierteen in dat in die ou tyd konings en regters oor die ruwe volk aangestel is maar dat so ‘n slaafse regeerwyse nou nie meer pas by die volmaaktheid wat Christus met die evangelie gebring het nie. Hiermee openbaar hulle net hulle onkunde en hovaardigheid.
Dit kan ook maklik weerlê word. As Dawid konings en regters vermaan om die Seun te kus (Ps 2:12), gebied hy hulle nie om hulle heerskappy neer te lê en soos gewone mense te lewe nie, maar hy vermaan hulle om hulle mag aan Christus te onderwerp. En as Jesaja konings die oppassers en vorstinne die pleegmoeders van die kerk noem, ontneem hy hulle nie die eer wat hulle toekom nie maar stel hulle deur ‘n eervolle naam aan as beskermers van die dienaars van God (Jes 49:23). Want die voorsegging het betrekking op die koms van Christus.
Baie getuienisse wat aan die owerhede hulle reg toeken, gaan ek verby en noem nog net 1 Tim 2:2, waarin Paulus Timotheüs vermaan dat in die vergadering van die gelowiges gebede gedoen moet word vir konings en almal wat hooggeplaas is. En dan voeg hy as rede daaraan toe: “sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid”. Met die woorde beveel hy die {539} kerk in hulle hoede en beskerming aan.
6. Met hierdie gedagte moet die owerhede hulle gedurig besig hou. Daardeur sal hulle opgewek word om hulle plig uit te voer. Tewens sal dit hulle troos en die baie moeilikhede wat hulle amp meebring, versag. Want hoeveel eerlikheid, versigtigheid, sagmoedigheid en selfbeheersing moet hulle nie beoefen nie wat weet dat hulle geroep is om dienaars van die goddelike geregtigheid te wees! Hoe sal hulle ongeregtigheid toelaat as hulle hoor dat hulle regterstoel die troon van God is? As hulle hulle herinner dat hulle God se stadhouers is, moet hulle hulle ywerig daarop toelê dat die mense in hulle ‘n beeld sien van God se voorsienigheid, bewaking, goedheid en regverdigheid. Daarom het ek na die woorde van Moses en Josafat verwys (Deut 1:16; 2 Kron 19:6). As hulle hulle misgaan, is hulle nie net onregverdig teenoor mense nie maar smaad hulle God deur sy heilige regte te ontheilig. Aan die ander kant kan hulle hulle ook troos met die gedagte dat hulle in ‘n heilige amp staan.
7. Hulle wat deur soveel getuienisse van die Skrif nie daarvan weerhou kan word om hierdie heilige diens te bestempel as iets wat met die godsdiens en die Christelike vroomheid niks te maak het nie, doen God smaadheid aan. Hulle verwerp nie die owerheid nie maar God, sodat Hy nie oor hulle sal regeer nie, soos Israel gedoen het (1 Sam 8:7).
Hulle beroep hulle op die woord van die Here aan sy apostels dat die konings van die nasies oor hulle heers maar dat dit onder hulle nie só moet wees nie. Die oudste moet word soos die jongste en wie ‘n leier is, soos een wat dien (Luk 22:25-26). Daarmee wil hulle dan bewys dat dit vir ‘n Christen ongeoorloof is om ‘n owerheidsamp te beklee. Maar Christus veroordeel hier nie die koninklike waardigheid nie. Hy bestraf alleen die eersug van die apostels. Die owerhede is deur God verordineer en moet deur ons geëerbiedig word (Rom 13:1; Spr 8:15; 1 Petr 2:17).
8. Dit is nutteloos vir partikuliere persone om te beredeneer wat die beste regeringsvorm sal wees in die plek waar hulle woon.
Dit is hulle nie geoorloof om oor die inrigting van een af ander gemenebes te beraadslaag nie. Dit sou ook alleen ligvaardiglik bepaal kan word, aangesien so baie van omstandighede afhang. Dit sal ook nie maklik wees om uit te maak watter regeringsvorm die nuttigste sal wees nie. Hulle voorwaardes is so eenders. ‘n Koningskap verval maklik tot tirannie, ‘n Regering deur die vernaamstes ontaard so maklik in ‘n partyregering deur weiniges. En ‘n volksregering verval die maklikste tot oproer.
As ons die drie regeringsvorms met mekaar vergelyk, skyn dit my dat òf die aristokratiese regeringsvorm die beste is òf dan anders so ‘n regeringsvorm wat bestaan uit die verbinding van {540} die aristokratiese vorm met die burgerlike regeringsvorm.
Die sonde van die mense is oorsaak daarvan dat dit veiliger en beter is as meer as een regeer. Dan kan hulle mekaar help, leer en vermaan. En as een hom verhef meer as wat paslik is, is daar genoeg ander om sy willekeur te bedwing. Nie net die ervaring het die bewys nie, maar die Here het dit ook deur sy gesag bevestig toe Hy onder Israel ‘n aristokratiese regeringsvorm ingestel het wat aan ‘n burgerlike regering gegrens het. Hy wou hulle in die beste staat bewaar totdat Hy in Dawid ‘n beeld van Christus te voorskyn gebring het.
Geen regeringsvorm is gelukkiger as die een waarin ‘n behoorlik gematigde vryheid heers nie. En hulle wat so ‘n toestand mag geniet, is die gelukkigste. Dis ook hulle plig om dit te bewaar en te behou. Die owerhede moet ook naarstig daarop toesien dat die vryheid nie in die minste geskend sal word nie. As hulle daarin nalatig is, is hulle troueloos in hulle amp en verraaiers van die vaderland.
As hulle aan wie die Here ‘n ander regeringsvorm toebedeel het, hulle hierdeur laat oprui om na ‘n verandering van regering te streef, sal dit nie net dwaas van hulle wees nie maar ook skadelik. Want as ons die hele wêreld in oënskou neem, sal ons opmerk dat God om gewigtige redes dit so beskik het dat verskillende lande deur verskillende regeringsvorms bestuur word. Vir hulle vir wie die wil van die Here voldoende is, is dit onnodig om meer te sê. As dit Hom behaag om konings oor koninkryke aan te stel en raadshere oor vry state, is dit ons plig om hulle te gehoorsaam wat Hy oor ons aangestel het.
9. Ons moet nou aanwys hoedanig en wat die amp van die owerhede is. Volgens die Skrif strek dit hom uit oor altwee tafels van die wet. En as die ou heidense skrywers oor die amp van die owerhede handel, neem hulle hulle uitgangspunt in die godsdiens. Almal bely dat geen burgerlike regering doeltreffend ingerig kan word wat nie in die eerste plek sorg dra vir die godsdiens nie. Dis verkeerde wette wat die reg van God verwaarloos en net vir die mense sorg. Christelike owerhede moet hulle daarom skaam as hulle nie hiervoor sorg dra nie. Ons het reeds aangetoon dat God hulle hierdie taak in besonder opgelê het. Daarom moet hulle hulle daarop toelê om sy eer te beskerm en te verdedig. Want hulle is sy stadhouers en regeer deur sy goedheid. Die Skrif prys dan ook die vroom konings omdat hulle die vervalle diens van die Here weer herstel het of gesorg het dat die godsdiens onder hulle regering ongeskonde sou bloei. Terwyl aan die ander kant die gebreke van regeringloosheid beskrywe word met die woorde dat daar geen koning in Israel was nie en dat elkeen gedoen het wat goed was in sy oë (Rigt 21:25).
Dit sou ook dwaas wees om te dink dat God owerstes sal {541} aanstel om aardse geskille te besleg maar sal nalaat wat van baie groter belang is, naamlik dat Hyself suiwer gedien sal word volgens die voorskrif van sy wet. Hierdie oproerige mense, wat alles wil vernuwe, word net deur een begeerte beheers. Hulle wil dat alle regters uit die weg geruim sal word wat die skending van die ware godsdiens straf.
Wat die tweede tafel van die wet betref, vind ons die roeping van die owerheid baie duidelik geteken in Jer 22:3; Deut 1:16. Duidelik spreek die Skrif ook in Deut 16:19; Deut 17:16. Ek gaan die plekke egter verby, omdat ek nie die owerhede wil onderwys nie maar die onderdane leer wat owerhede is en met watter doel God hulle ingestel het. Hulle is beskermers en verdedigers van die openbare sedelikheid, eerbaarheid en rus, en hulle moet hulle daarop toelê om vir die algemene welvaart en vrede van almal te sorg (Ps 101). Daarom is hulle ook met mag beklee om die kwaaddoeners en misdadigers streng in toom te hou; om die onskuldiges te beskerm en te verlos en om die goddelose mense te weerstaan, hulle geweld te onderdruk en hulle misdade te straf.
10. Maar hier rys ‘n vraag. As God se wet doodslag verbied (Ex 20:13; Deut 5:17), hoe kan owerhede dan tegelyk godvresend wees en tog bloed vergiet? Die beswaar verdwyn egter as ons maar insien dat die owerheid net die oordeel van God uitvoer as hy straf en niks uit homself doen nie. God Self gee hulle die swaard in die hande om teen die moordenaars te gebruik (Rom 13:4).
As vorste en owerhede weet dat niks God so welgevallig is as gehoorsaamheid nie, moet hulle hulle hierop toelê om hulle opregte godsvrug te betoon. Dit was ongetwyfeld die gesindheid wat Moses besiel het toe hy die Egiptenaar doodgeslaan het (Ex 2:12) en toe hy die heiligskennis van die volk gestraf het (Ex 32:27; vgl. verder 1 Kon 2:35; Ps 101:8). Sowel Moses as Dawid het hulle hande geheilig toe hulle die wraak uitgeoefen het wat God hulle opgelê het. As hulle nie straf uitgeoefen het nie, sou hulle hulle hande besoedel het (Spr 16:12; Spr 20:8,26 e.a.p.).
Alleen moet hulle daarteen waak om nie onnodig wreed te wees nie. Die beste raadgewer van die konings is hulle sagsinnigheid. Die owerheid moet op hierdie twee sake let: hy moenie deur te grote strengheid meer wond as genees nie; en hy mag ook nie deur te grote goedheid in ‘n wrede mensliewendheid verval tot skade van baie mense nie. Dit is seker ellendig om onder ‘n vors te lewe onder wie niks geoorloof is nie, maar nog ellendiger om onder een te lewe onder wie alles geoorloof is.
11. Hierom kan dit vir ‘n vors en sy volk ook nodig wees om die wapens op te neem ten einde die land teen vyandelike invalle of inlandse oproermakers te verdedig. Want dit maak geen verskil of dit ‘n koning is of ‘n gewone persoon wat ‘n ander een se land {542} inval waarop hy geen reg het nie. Almal moet as rowers beskou en behandel word. Die Heilige Gees verklaar op verskillende plekke in die Skrif dat sulke oorloë gewettig is.
12. As hulle teëwerp dat daar geen enkele getuienis of voorbeeld in die Nuwe Testament gevind word wat leer dat oorlog vir ‘n Christen geoorloof is nie, antwoord ek in die eerste plek dat die redes om oorlog te voer wat daar vroeër was, vandag nog daar is. En dat daar geen rede is wat die owerheid kan belet om sy onderdane te beskerm nie. Verder dat ons in die apostoliese geskrifte geen uitdruklike behandeling van hierdie sake moet soek nie, daar hulle doel was om die koninkryk van Christus te verkondig en nie om ‘n burgerlike regering op te rig nie. Eindelik dat daar ook terloops aangewys word dat Christus deur sy koms in die opsig niks verander het nie. Want as die evangelie alle oorlogvoering veroordeel het, sou Johannes vir die soldate gesê het om hulle wapens weg te gooi en hulle aan alle krygsdiens te onttrek. Maar hy het anders gespreek (Luk 3:14). Die owerhede moet egter sorg daarvoor dra dat hulle nie aan hulle hartstogte toegee nie. As daar gestraf moet word, moet hulle hulle nie deur haastige toorn laat aandryf nie; hulle nie deur haat laat oorheers of onversoenlik wees nie. Hulle moet selfs medelyde hê met die menslike natuur in die persoon wie se misdaad hulle straf. As hulle die wapens vir die oorlog aangord, moet dit alleen in die uiterste noodsaaklikheid wees. Alles moet eers op die proef gestel word voordat na die wapen gegryp word. Geen persoonlike gevoel mag hulle oorheers nie. Die algemene heil van die volk moet die deurslag gee.
Uit die reg om oorlog te voer volg die reg om garnisoene aan te hou, verdrae te sluit met ander vorste om die gemeenskaplike vyande te weerstaan, en allerhande soort oorlogstoerusting.
13. Ten slotte wil ek nog opmerk dat belastings die wettige inkomste van die vorste is. Hulle moet dit veral gebruik om die algemene laste te dra wat aan die uitvoering van hulle amp verbonde is. Hulle kan dit egter ook vir hulle huisgesinne gebruik, omdat dit in ‘n sekere sin saamhang met die waardigheid wat hulle beklee. So het Dawid, Hiskia en ander rojaal gelewe op staatskoste. Hulle moet net onthou dat dit skatte van die volk is, wat hulle nie mag verkwis (Rom 13:6) sonder om die volk onreg aan te doen nie.
14. Naas die owerheid is die wette. Hulle is die sterk senuwees van die staat. Plato en Cicero noem hulle die siele waarsonder die staat nie kan bestaan nie. Ons kan hulle die stom owerheid noem en die owerheid die lewende wet.
Ek gee hier geen lang verhandeling oor die beste soort wette nie. Ek noem net in die verbygaan watter wette die staat godvrugtig voor die Here kan gebruik en watter vir die mense heilsaam is. Baie dwaal in hierdie opsig. Hulle sê dat ‘n staat nie goed geregeer {543} word nie, as dit die wette van Moses verontagsaam en volgens die algemene reg van die volke bestuur word. Dis ‘n verkeerde en dwase opvatting. Moses self verdeel die wet in sedes, seremonies en regte. Ons moet elke deel afsonderlik goed besien om uit te kan maak wat vir ons nog van krag is of nie.
15. Die sedewet is in twee dele verdeel. Die eerste gebied ons om God met ‘n opregte geloof en suiwere godsvrug te dien. Die ander deel leer ons om die mense opreg lief te hê. Hierdie wet is die ewige reël van geregtigheid, wat in alle tye vir alle volke voorgeskrywe is wat begeer om hulle lewe volgens God se wil in te rig.
Die seremoniële wet was ‘n kinderlike onderwysing van die Jode. Dit het die Here behaag om hulle daardeur te leer totdat die volheid van die tyd sou aanbreek waarin Hy die waarheid sou openbaar wat toe deur figure afgebeeld was.
Die wet van die regte wat tot inrigting van hulle staatkundige lewe aan hulle gegee is, het hulle bepaalde vorms van billikheid en regverdigheid geleer, sodat hulle in rus en vrede met mekaar kon lewe.
Die seremonies en ook die regsinstellings kan sonder skade vir die ware godsvrug afgeskaf word, terwyl die pligte en gebooie van die liefde tog bly. So kan elke volk vry wees om wette te maak wat, volgens sy oordeel, vir hom nuttig sal wees. Hulle moet ewewel volgens die ewige beginsel van die liefde ingerig wees.
16. By alle wette moet op twee dinge gelet word, naamlik wat die wet voorskrywe en sy billikheid. Die billikheid is by almal dieselfde en moet dan ook die doel wees van alle wette in ooreenstemming met die aard van die saak wat gereël word. Daar is geen beswaar teen dat die voorskrifte verskil nie, omdat hulle aan verskillende omstandighede gebind is, solank hulle maar net dieselfde doel, naamlik die billikheid, beoog.
Die billikheid moet dan die doel, die reël en die grens van alle wette wees. Al die wette wat volgens hierdie reël gemaak is, wat op hierdie doel gerig en deur hierdie grens beperk word, keur ons nie af nie, al verskil hulle ook van die Joodse wette.
Die wet van God verbied diefstal. Die straf daarop kan ons in Exodus lees. Ander volke weer het bepaal dat die dief gedwing moet word om dit dubbel terug te gee. Sommige het verder gegaan en diefstal met verbanning gestraf, ander met geseling en ander weer, met doodstraf. En so ook met die ander wette. Maar almal het dieselfde doel beoog. Hulle het, soos uit een mond, strawwe uitgevaardig teen die misdade wat God se ewige wet veroordeel het, al het hulle verskil in die wyse waarop gestraf is. Ons moet daarop let dat daar lande is wat gou te gronde sal gaan as die wette teen oproer byvoorbeeld nie baie streng is nie. Ook is daar tye wat ‘n baie strenge toepassing van die wet nodig maak bv. tye van oorlog, {544} oproer, pessiektes. Daar is volke wat enigiets sal doen as hulle nie deur streng wetgewing in toom gehou word nie. Dit is dus nodeloos om te kla dat Moses se wette op die wyse afgeskaf word. Hulle word nie afgeskaf nie, want hulle is nooit aan ons gegee nie. God was Israel se Wetgewer, omdat Hy die volk in sy troue beskerming geneem het. Soos ‘n wyse wetgewer het Hy in besonder op die belange van die volk gelet.
17. Nou moet ons nog spreek oor die nut wat die Christen uit wette, regte en owerhede verkry. Daarmee hang saam die saak van eerbied wat ons aan die owerhede verskuldig is en hoe ver die gehoorsaamheid moet gaan.
Baie is van oordeel dat die amp van die owerheid onder Christene oorbodig is. Hulle kan hulle hulp nie inroep nie, omdat hulle nie mag straf nie, iemand nie voor die regbank mag daag of prosedeer nie. Paulus getuig egter dat die owerhede dienaars van God is ons ten goede (Rom 13:6). Deur hulle mag en beskerming teen bose en onregverdige mense word ons verdedig, sodat ons rustig en veilig kan lewe.
Hier moet egter opgepas word dat ons nie ons broeder haat nie, nie kan rus as ons nie met ander kan twis nie en nie met ‘n rasende begeerte vervul sal wees om ons te wreek of hom skade aan te doen nie.
18. Sulke mense moet weet dat ‘n regspraak wettig is as dit op die regte manier gebruik word. Die regte prosedure is dat die beskuldigde op die vasgestelde dag verskyn en met alles wat hy kan aanvoer, sy saak sonder bitterheid sal verdedig, net met die gesindheid om deur die reg te beskerm wat aan hom behoort.
Die eiser wat op onregmatige wyse in sy lewe of besittings aangetas is, moet hom onder beskerming van die owerheid stel, sy klag uiteensit en eis wat billik en goed is, sonder enige begeerte om skade aan te doen of om hom te wreek, sonder bitterheid en haat en twisgierigheid. Hy moet bereid wees om liewer van sy reg afstand te doen en skade te ly as om deur ‘n vyandige gesindheid teenoor sy teëstander vervul te wees.
Aan die ander kant is die regverdigste saak goddeloos as die gemoedere met kwaadwilligheid vervul is, deur haat aangedrywe en dors na wraak en brand van lus om te twis. Dan word die liefde prysgegee. Ons moet die teëstander altyd met dieselfde liefde en welwillendheid bejeën asof die saak op minlike wyse geskik is. En aangesien die hulp van die owerheid ‘n heilige gawe van God is, moet ons des te meer op ons hoede wees dat dit nie deur ons skuld besoedel word nie.
19. Hulle wat elke regsgeding kortweg veroordeel, moet begryp dat hulle terselfdertyd God se heilige ordinansie verwerp en ‘n gawe wat vir die reines rein is. Of hulle moet Paulus veroordeel, {545} wat die valse beskuldiginge van sy aanklaers weerlê het en ook hul listigheid geopenbaar het. Hy het ook gebruik gemaak van die voorreg wat die Romeinse burgerskap hom verleen het, en toe dit nodig was, hom op die keiser beroep (Hand 22:1; Hand 24:12; Hand 25:10).
Hierteen stry nie dat die begeerte na wraak vir al die Christene verbied is nie. Want as die proses oor ‘n siviele saak gaan of as dit ‘n saak is wat die lewe raak, verlang ons dat die aanklaer iemand sal wees wat na die regsaal kom sonder om deur persoonlike wraakgevoelens aangedryf te word maar wie se enigste doel is om die poginge van ‘n verkeerde mens te verhinder, sodat hulle die staat nie skade sal aandoen nie.
Hulle beweer ook dat sodanige verontregtes die hulp van die Here moet verwag Hy sal aan die verdruktes reg verskaf. Hulle egter wat hulp by die owerheid soek, voorkom die wraak van die hemelse Beskermer. Tog is dit nie so nie. Want die straf van die owerheid kom nie van ‘n mens af nie maar van God, wat dit deur die diens van ‘n mens uitoefen.
20. Ons is ook nie in stryd met die woord van Christus wat ons beveel om ‘n slegte mens nie te weerstaan nie (Mat 5:39). Hy wil sy apostels eerder weerhou, dat hulle nie kwaad met kwaad vergeld nie. Hulle moet dit liewer verdra dat die onreg teen hulle verdubbel word as om daarna te strewe om dit te vergeld. Want Christene is gebore om smaadhede en onreg te dra. Hulle is blootgestel aan die slegtigheid, bedrieëry en spot van die allerslegste mense. En dit nie alleen nie, hulle moet al die dinge lydsaam verdra. Hulle moet altyd bereid wees om die volgende belediging te ondergaan en op die wyse die kruis te dra. Hulle moet goed doen aan die wat hulle haat en seën die wat vervolg; hulle nie deur die kwaad laat oorwin nie maar die kwaad deur die goeie oorwin (Rom 12:21).
As hulle so gesind is, sal hulle nie oog vir oog en tand vir tand vergeld nie maar die onregverdige behandeling vergewe. Tog sal dit hulle nie verhinder om die hulp van die owerheid vir die beskerming van hulle goed in te roep nie, of om uit ywer vir die algemene welvaart te eis dat ‘n skadelike mens gestraf sal word, al is dit ook met die dood.
21. Hulle teëwerping dat Paulus prosesvoering in die algemeen veroordeel, is vals (1 Kor 6:1 e.v.). Daar het in die kerk van Korinthe ‘n begeerte geheers om te prosedeer. Dit het so ver gegaan dat hulle die evangelie wat hulle bely het, aan die spot van die goddelose mense blootgestel het. Dit is wat Paulus in die eerste plek bestraf. En verder dit dat die een broeder met die ander een ‘n proses aangegaan het liewer as om onreg te ly. Paulus bestraf dus die sug om te prosedeer. Hy sê dat dit ‘n teken was dat hulle te prikkelbaar was en te weinig bereid om lydsaam te {546} wees. Christene moet hulle daarop toelê om liewer van hulle reg afstand te doen as om na die regbank te hardloop. Hulle kan tog nie daaruit kom sonder dat hulle gemoed in beroering gebring en die haat aangewakker is nie. Maar as iemand sien dat hy sy saak kan verdedig sonder om aan die liefde skade te ly, sondig hy nie teen die uitspraak van Paulus nie. Die liefde is die beste raadgewer, soos ek in die begin gesê het. Daarsonder is elke geding goddeloos.
22. Die eerste plig van die onderdane jeens hulle owerhede is dat hulle met groot eerbied vir hulle amp vervul sal wees. Dis ‘n regsbevoegdheid wat God aan hulle opgedra het. Daarom moet hulle as dienaars van God geëer word.
Sommige is baie gehoorsaam aan hulle owerhede. Hulle sal ook nie graag wil hê dat daar geen owerhede is nie. Maar hulle beskou hulle tog net as ‘n noodsaaklike kwaad. Die Skrif eis egter meer van ons (1 Petr 2:17; Spr 24:21). Die apostel Paulus eis ook gehoorsaamheid, nie alleen ter wille van die straf nie maar ter wille van die gewete (Rom 13:5). Die gehoorsaamheid wat aan hulle bewys word, word aan God self bewys. Ek spreek nie oor die persone van die owerhede nie maar oor hulle amp. Die is eerbiedwaardig en moet deur ons as sodanig beskou word.
23. Hieruit volg nog ‘n ander plig vir die onderdane, naamlik om met, bereidvaardigheid hulle gehoorsaamheid te bewys, hetsy om hulle besluite te gehoorsaam, belastings te betaal, publieke dienste op hulle te neem wat op die verdediging van die land betrekking het, of om ander bevele uit te voer. “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie”, gebied Paulus (Rom 13:1; vgl. ook Tit 3:1; 1 Petr 2:13). Om te bewys dat hulle die owerhede van harte onderdanig is, beveel Paulus die onderdane om vir hulle te bid (1 Tim 2:1). Geen mens kan hom teen die owerheid verset, sonder om hom teen God te verset nie. En al is die owerheid ongewapen, is God tog gewapen om die veragting te straf wat Hom aangedoen is.
Onder die gehoorsaamheid verstaan ek verder dat niemand uit eie beweging in publieke sake sal inmeng of ligvaardiglik doen wat die taak van die owerheid is nie. As daar in die samelewing iets verbeter moet word, mag hulle geen oproer verwek nie maar dit tot kennis van die owerheid bring, die enigste een wie se hande nie gebind is nie. Ek verstaan dit só dat hulle niks durf doen as hulle nie beveel word om dit te doen nie.
24. ‘n Regeerder wat die naam waardig is, is ‘n vader van die vaderland, ‘n herder van die volk, ‘n bewaker van die vrede, ‘n handhawer van die geregtigheid en ‘n verdediger van die onskuld. Dit sal ‘n dwaas wees wat nie in so ‘n regering ‘n behae het nie. {547}
Die geskiedenis leer egter dat sommige vorste hulle nie bekommer oor die dinge waarvoor hulle behoort te sorg nie, en sorgvry die lewe geniet. Ander weer is net bedag op hulle eie voordeel. Weer ander berowe die volk van hulle geld om dit op allerhande geskenke te verkwis. En nog ander is niks minder as straatrowers nie. Dis daarom vir baie onderdane moeilik om te glo dat sulke vorste ook as vorste erken moet word. Hulle sien in so ‘n persoon niks van die beeld van God wat uit ‘n owerheidspersoon moet straal nie. En hulle ontdek in hom geen spoor van ‘n dienskneg van God nie, van wie die goeies lof ontvang en die kwaaddoeners straf. Daarom erken hulle hulle nie as vorste nie maar vervolg hulle as tiranne.
25. Maar Gods Woord leer ons dat ons onderdanig moet wees, nie net aan die vorste wat getrou hulle amp uitoefen nie, maar aan almal wat regeer, ook al vervul hulle nie hulle plig nie. Die Here betuig dat alle owerhede hulle mag alleen van Hom ontvang. Die wat goed regeer, is voorbeelde van sy weldadigheid jeens ons. Die onregverdiges en heerssugtiges het Hy verwek om die ongeregtigheid van die volk te straf. Almal is met heilige majesteit beklee. Ons moet die slegtes daarom met dieselfde eerbied en agting bejeën, sover dit die openbare gehoorsaamheid betref, as die waarmee ons die goeies sal eer (Jes 3:4; Jes 10:5; Hos 13:11)
26. Die lesers moet opmerk dat dit God is wat in sy voorsienige bestel koninkryke uitdeel en konings aanstel. Ons lees in die profeet Daniël dat God die tye en geleenthede verander; dat Hy konings afsit en konings aanstel (Dan 2:21,37). Dis algemeen bekend dat Nebukadnesar ‘n rower en verwoester was. Tog sê die Here aangaande hom dat Hy Egipteland aan hom gegee het as loon vir die gehoorsaamheid wat hy aan Hom bewys het (Eseg 29:19; vgl. ook Dan 2:37; Dan 5:18; 1 Sam 8:11). Hieruit volg dat ons ook die allerslegste tiran die eerbied moet gee wat God hom waardig keur.
27. Besonder leersaam is Jer 27:5 e.v. Die Here wil dat die wrede tiran gehoorsaam gedien sal word om geen rede as omdat hy die koninkryk besit nie. Hy is deur God op die troon geplaas en tot die koninklike majesteit verhef wat nie geskend mag word nie. As ons dit in gedagte hou dat ook die allerslegste konings hulle gesag van God ontvang, sal dit nooit in ons gedagtes opkom om hulle na hulle verdienste te behandel nie maar ons as hulle onderdane gedra.
28. Die gebod geld ook nie net vir Israel nie, soos sommige beweer. Ons moet let op die rede vir die bevel: “Ek het die koninkryk aan Nebukadnesar gegee”, sê die Here (Jer 27:5). “Daarom dien die koning van Babel en lewe” (vs. 17). As die Here iemand tot die koninklike waardigheid verhef, betuig Hy daarmee dat dit sy wil {548} is dat so iemand sal regeer (Spr 28:2).
Jeremia noem nog ‘n ander gebod van die Here. Die weggevoerdes moet die vrede van Babel soek en Hom vir die vrede van die stad bid, omdat hulle vrede in die vrede van Babel geleë is (Jer 29:7).
En Dawid wou sy hand nie teen Saul uitsteek nie, omdat hy die gesalfde van die Here was. En dit terwyl hy alreeds as koning aangewys en gesalf was (1 Sam 24:7,11; 1 Sam 26:9).
29. Hierdie eerbied is ons tot die uiterste toe verskuldig aan al ons owerhede, hoedanig hulle ook mag wees. Ek sê dit meermale, sodat ons sal leer om nie na die mens te kyk nie maar dit as voldoende sal ag vir die bepaling van ons gedrag dat dit die wil van die Here is dat hulle so ‘n onskendbare posisie beklee.
Maar het die owerhede dan nie ook verpligtinge teenoor hulle onderdane nie? Dit het ek alreeds toegestem. Maar as ons nou daaruit sou konkludeer dat ons net aan die regverdige owerhede gehoorsaamheid verskuldig is, redeneer ons verkeerd. As ouers hard is teenoor hulle kinders, onthef dit die kinders nog nie van die verpligting om hulle ouers te gehoorsaam nie. Elkeen moet maar net let op wat sy plig is en nie op wat die ander een se plig is nie. As ons daarom deur ‘n hardvogtige vors gekwel word of deur ‘n hebsugtige beroof word of deur ‘n goddelose gekwel word, moet ons in die eerste plek aan ons sondes dink as die oorsaak waarom God ons so kasty. Dit sal ons ootmoedig stem. Verder moet ons ook daaraan dink dat dit nie ons roeping is om sulke rampe te genees nie. Ons kan maar net die hulp van die Here inroep, in wie se hand die harte van die konings is (Spr 21:1).
30. Ons sien hier ook die wonderbare goedheid en mag en voorsienigheid van die Here. Soms verwek Hy uit sy diensknegte manne as redders en beveel hulle om ‘n misdadige regeerder te straf. Op ‘n ander keer bestem Hy daarvoor die woede van mense wat misdaad beoog maar tog sy wil volbring sonder dat hulle dit weet. So het hy Israel deur Moses uit die tirannie verlos en deur Otniël uit die mag van die koning van Aram. Die hovaardigheid van Tirus straf Hy deur die Egiptenaars. Die vermetelheid van die Egiptenaars deur die Assiriërs. Die wreedheid van die Assiriërs deur die Babiloniërs. En die oormoed van Babel beteuel Hy deur die Mede en Perse.
31. Deur al die dade voltrek die Here sy werk. Hy verbreek die bloedige septers van konings en maak ‘n end aan hulle ondraaglike dwingelandy. Laat die vorste dit hoor en skrik.
Intussen moet ons oppas dat ons nie die gesag van die owerheid verag of skend nie, al word dit ook deur onwaardige persone uitgeoefen. God het hulle met majesteit beklee. Daarom moet ons nie dadelik dink dat dit ons roeping is om die wraak van die Here oor {549} die dwingeland te bring nie.
Ek spreek van partikuliere persone. Want as daar volksmagistrate aangestel is om die willekeur van die konings te bedwing, is dit hulle plig om die ongebondenheid van die konings te weerstaan. Hulle sal troueloos wees as hulle die gewelddadige optrede van die konings deur die vingers sien. Daardeur sal hulle die vryheid van die volk verraai, wat hulle kragtens die bevel van die Here behoort te beskerm.
32. Ons is dus gehoorsaamheid aan die owerhede verskuldig. Egter altyd met hierdie bepaling daarby dat die gehoorsaamheid ons nie ongehoorsaam moet maak aan Hom, aan wie se wil al die begeertes van die konings onderworpe moet wees, vir wie se besluite hulle bevel moet wyk en voor wie se majesteit hulle almal moet buig nie. Hoe verkeerd sal dit nie wees om Hom te beledig ten einde mense tevrede te stel nie. Hy is die Koning van die konings. As Hy spreek, moet voor alles en bo almal na Hom geluister word. Verder is ons onderworpe aan die wat ons regeer, maar — alleen in Hom. As hulle iets teen sy gebod beveel, moet dit nie uitgevoer word nie. Hier moet ons ons nie bekommer oor die waardigheid waarmee die owerhede beklee is nie. Aan hulle word geen onreg gedoen as hulle onder die mag van God bedwing word nie. Daarom kon Daniël ook sê dat hy nie gesondig het toe hy die goddelose bevel van die koning nie gehoorsaam het nie (Dan 6:22). Die koning het tog sy perke te buite gegaan en was nie net onregverdig teenoor die mense nie maar het hom ook teen God verhef en só sy eie mag vernietig. Aan die ander kant word Israel veroordeel omdat dit al te inskiklik die goddelose gebod van die koning gehoorsaam het (1 Kon 12:30). Hier verdien gehoorsaamheid geen lof nie. God dra sy reg nie aan mense oor as Hy hulle oor ander aanstel nie. En die aardse mag verloor niks van sy waardigheid as dit aan die Outeur daarvan onderwerp word nie. Hom moet ook die hemelse heerskappy onderdanig vrees. Ek weet hoe gevaarlik hierdie standvastigheid is. Konings verdra dit nie as hulle geminag word nie. Hulle grimmigheid is soos boodskappers van die dood (Spr 21:14). Petrus sê egter dat ons God meer moet gehoorsaam as die mense (Hand 5:29). Ons moet dus liewer alles ly eerder as om van hierdie gebod af te wyk. Paulus sê ook dat ons duur gekoop is, en voeg daaraan toe: “Moenie slawe van mense word nie” (1 Kor 7:23).
Aan God die lof.
Voetnotas
[1] Daar word waarskynlik hier verwys na Ps 14:1 WJS
[2] Hierdie maak nie sin nie. Ek vermoed dat dit as volg moet lees: “As Christus as Middelaar die Vader aanspreek, omdat Hy met die Naam God die godheid wat Hy self ook besit, en as Hy vir die apostels sê: “My Vader is meer as Ek”, ken Hy aan Homself nie ‘n tweede goddelikheid toe nie.” (WJS).
[3] Volgens die Simpson vertaling van die institusie word hier verwys na Jes 45:7.
[4] Lev 18:5[5] Ek vermoed dat hier verwys word na Jer 11:7 e.v., sien bv Simpson vertaling, Boek III, bl. 1087, voetnoot 46.
[6] Ek vermoed dat hier verwys word na 2 Kon 20:3, sien Simpson vertaling, Boek 3, bl. 1090, voetnoot 67.
[7] Ek vermoed hier word verwys na Hebr 1:14, sien Simpson vertaling Boek 3, bl. 1113, voetnoot 209.
[8] Die gedeelte “Daarna Esau ….. So ook word Saul verwerp.” lees vir my moeilik. Prof. Simpson het dit so vertaal: “Daarna Esau, en uiteindelik ‘n ontelbare menigte en amper die hele Israel. In Isak is die saad geroep, en dieselfde roeping het ook in Jakob voortgeduur. Deur Saul se verwerping het God ‘n dergelike voorbeeld gegee soos ook skitterend in die Psalm verkondig word: “Hy het die stam van Josef verwerp en die stam van Efraim nie uitverkies nie, maar Hy het die stam van Juda uitverkies” (Ps 78:67-68).”