Die invloed van die evolusieleer op die teologie in Suid-Afrika

Kyk ook:

Charles Darwin het in 1831-1836 ’n reis om die wêreld onderneem en na vore gekom met ’n wetenskaplike teorie dat alle vorme van lewe ’n gemeenskaplike oorsprong gehad het (On the Origin of Species). Die wêreld was aangegryp deur sy bevindinge. Evolusie was op almal se lippe en vandag het die evolusieleer selfs die Christendom se oorheersende lewens- en wêreldbeskouing geword. Dit veroorsaak dat selfs leraars of teoloë wat geroep is om te sê: “So sê die Here”, mislei word. Hulle is in die versoeking om die waarhede van die Skrif te verdraai, in ’n poging om in pas te bly met die heersende wêreldbeskouing.

alt

Dit is die tragiese werklikheid wat ek in hierdie artikel verder wil uitspel.

1. WAT LEER DIE EVOLUSIELEER?

Drie fisici Alpher, Bethe en Gamow het op 1 April 1948 ’n artikel gepubliseer oor die ontstaan van die heelal. Hulle het dit as ’n Aprilgrap beskou, maar dit het die wetenskaplike wêreld aangegryp en uiteindelik het dit die standaard model vir moderne kosmologie geword (kyk Oerknalteorie is Aprilgek-grap, sê prof Jan Boeyens). Dit staan vandag bekend as die “Big Bang” of die Oerknal.

Darwin het ’n alternatiewe verklaring gegee vir die ontstaan en die evolusie van lewe. Nou het die fisika ’n alternatiewe verklaring gevind vir die ontstaan van materie. Kom ons gaan nader daarop in:

Daar was ’n tyd in die oneindige verlede toe daar niks was nie – niks, behalwe ’n baie klein ongeskape voorwerpie wat in die groot leë heelal rondgesweef het. Die naamlose voorwerpie was eintlik net ’n stoffie, kleiner as die kleinste atoom wat ons kan bedink.

alt

Toe het hierdie stoffie op ’n onverklaarbare wyse ontplof. Dit het sowat 13 miljard (13 000 000 000) jaar gelede gebeur. ’n Onberekenbare hoeveelheid energie en temperatuur is skielik vrygestel. Die ontploffing het met sulke merkwaardige wiskundige presisie verloop, dat dit uiteindelik die heelal met ’n onvoorstelbare hoeveelheid massa, glorie en lig gevul het.

Op ’n stadium het een van die brokstukke van hierdie ontploffing oorsprong aan ons aarde gegee.

Die aarde was in verskeie opsigte ’n unieke voorwerp in die heelal. Een van die verskynsels op aarde was ’n hoog komplekse organiese stof wat aminosure genoem word. Daar het iets baie merkwaardig met die aminosure gebeur. Die omstandighede was presies korrek sodat die aminosure op ’n manier gerangskik het, sodat hulle proteïene en selle gevorm het en nog merkwaardiger, die selle het begin lewe – vanself!

Met verloop van tyd het die selle begin verdeel en nog nuwe lewende organismes het ontstaan. Party van hulle het ’n manlike en ander ’n vroulike ontwikkeling beleef. Die manlike en vroulike organismes was in staat om saam te kom en ’n nageslag te bewerk, wat weer gelei het na ontelbare nuwe vorme van lewe. Party van die lewende organismes het plante geword en ander het diere geword. So is die aarde na nog baie miljoene jare gevul met ’n ongelooflike verskeidenheid van lewende wesens en organismes. Die hoogtepunt van alles was die verskyning van die mens uit een van die diersoorte.

Hierdie verstommende proses wat evolusie genoem word, gaan volgens sy aanhangers vandag nog op die aarde en in die heelal voort . Dit gebeur sonder enige plan of intelligensie van buite die sisteem.

Dit is in kort ’n weergawe van die evolusieleer wat die vertrekpunt geword het van alle wetenskap en waarheid, in die samelewing.

Wat sê ons daarvan?

2. “DAMNED NONSENSE”

CS Lewis raak die panteïsme in sy bekende boek Mere Christianity aan. Na hy ’n paar implikasies van die panteïsme uitgespel het, sê Lewis, Christene sal daarop reageer met: “Don’t talk damned nonsense”.

Iemand het Lewis daaroor gekapittel dat hy die woord “damned” gebruik het. Hierop het hy geantwoord dat hy dit letterlik bedoel het. “I mean exactly what I say – nonsense that is damned, is under God’s curse, and wil (apart from God’s grace) lead those who believe it to eternal death” (Mere Christianity, bl 37).

As ons eerlik wil wees met onsself glo ek dat elke regdenkende mens oor die evolusieleer behoort te sê: “Don’t talk damned nonsense”. Tog gebeur dit nie. Waarom is dit so dat goeie Christenmense en van jou beste vriende tog maar op ’n manier die evolusieleer in hulle denke wil inkorporeer? Hulle meen dat ons moet aanvaar dat God evolusie as werkswyse gebruik het toe Hy geskep het. As dit blyk dat hierdie uitgangspunt ons in botsing bring met belangrike areas van ons geloof val hulle terug op die gedagte dat dit nie regtig saak maak wat ons glo oor God as Skepper nie. “The Bible is not about the ages of the rocks, it is about the Rock of Ages”, sê hulle.

3. JH KROEZE

alt

JH Kroeze is ’n gerekende Gereformeerde teoloog van Suid-Afrika, wat bv meegewerk het aan die Handboek vir Bybelse Geskiedenis. Kom ons kyk hoe hy die geslagsregisters in Genesis 5 en 11 beoordeel. Om die geheue te verfris haal ek ’n gedeelte van ’n geslagsregister aan uit Genesis 11:

(10) Hier volg die familieregister van Sem. Toe Sem 100 was, het hy die vader geword van Arpaksad, twee jaar na die oorstroming. (11)Sem het na die geboorte van Arpaksad nog 500 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. (12)Toe Arpaksad 35 was, het hy die vader geword van Selag. (13)Arpaksad het na die geboorte van Selag nog 403 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. ……. (26)Toe Tera 70 was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran.

Dit is duidelik dat hierdie geslagsregisters van begin tot einde buitengewoon spesifiek is. Die ouderdom van die vader word telkens aangedui toe sy seun wat die geslag verder moes dra gebore is. Op grond daarvan kan bereken word hoeveel tyd van die een geslag na die volgende verloop het. Volgens die inligting uit die geslagsregisters, soos opgeteken in Genesis 5 en 11, het daar sowat 2000 jaar verloop vanaf Adam tot by Abraham. Wie eerlik is met wat daar geskrywe staan moet toegee dat die geslagsregisters waterdig is. Daar is geen ruimte vir bespiegeling oor wat daar staan nie.

Kroeze bevraagteken nogtans die voor die hand liggende inligting van die geslagsregisters. Hy bevraagteken die hoë ouderdomme van die mense wat in die registers opgeneem is. Hy wys daarop dat die ouderdom van Sem meebring dat Sem nog geleef het tot in die tyd Jakob en Esau. Dit is vir Kroeze ’n probleem ten spyte van die feit dat God gesê het, dat Hy besluit het dat die mens nie meer so lank soos aan die begin sal lewe nie (Gen 6:3). In die aangehaalde gedeelte is dit reeds duidelik hoedat die ouderdomme van die mense na die sondvloed drasties begin afneem net. Sem was nog uit die geslag van die mense wat baie oud geword het.

Kroeze sien ook simboliek en kunsmatigheid in die Bybelse kronologie. Hy maak groot gewag van geslagte wat oorgeslaan sou wees en dat dit eintlik gaan oor stamhoofde.

Dan laat hy die aap uit die mou as hy sê: “By hierdie opvatting van die genealogie verkry ons baie eeue ‘tydwins’”.

Kroeze soek dus tyd in die Bybel. Waarom soek hy tyd? Die enigste verklaring is dat Kroeze wil ruimte maak vir die mense se verwagting dat die Bybel moet kan inpas by die heersende evolusionêre wetenskapsbeskouing. Kroeze bevraagteken nie die tydsraamwerke van die evolusieleer nie, maar hy bevraagteken die noukeurige navorsingswerk van die Bybelse geskiedskrywers. Dit is werk wat deur die beskikking van God vir ons nagelaat is.

Die skrywers van Kronieke het geen probleem gehad om die geslagsregisters in Genesis net so te gebruik nie (1 Kron 1) en Lukas gebruik ook dieselfde geslagsregisters (Luk 3:23-38) om te wys dat Jesus nie net ’n afstammeling van Abraham is nie, maar dat Hy uit Adam gebore is.

Groot geleerdes van die verlede het die geslagsregisters gerespekteer en het die tyd van die skepping daaruit bereken:

  • Biskop James Ussher: 4004 vC
  • Jose ben Halafta: 3761 vC
  • Bede: 3952 vC
  • Scaliger (tydgenoot van Ussher): 3949 vC
  • Johannes Kepler: 3992 vC
  • Isaac Newton: 4000 vC

Kyk Belangrike Bybelse datums.

Selfs die Vrymesselaars en die Ortodokse Jode werk al die jare met ’n kalender wat die skepping dateer as 4000 jaar vC.

Dit is net nou, vandat die evolusieleer homself laat geld het, dat Bybelse Skrifverklaarders skielik aanpassings wil maak in die geslagsregisters en na tyd soek wat die Bybel duidelik nie toelaat nie.

Mens kan ook vra wat Kroeze werklik bereik as hy die mense in die Bybelse geslagsregisters tot stamhoofde verklaar, met geslagte tussenin. Hy kan hoogstens ’n duisend jaar of wat daar indruk, maar as jy die Bybel werklik met die evolusieleer wil versoen het jy honderde duisende jare tyd nodig. In so ’n situasie het jy in elk geval nie meer met realistiese geskiedskrywing te doen nie, maar met fiksie, want niemand kan ernstig opgeneem word as hy voorgee dat hy menslike geskiedenis oor ’n tydperk van honderduisende jare kan weergee nie.

Die geslagsregisters in die Bybel is van die merkwaardigste historiese nalatenskappe vir die ganse mensdom, maar soos ons uit hierdie voorbeeld kan sien het dit ’n verleentheid, ’n steen des aanstoots vir die kerk geword. Mense wat die geslagsregisters wil aanvaar soos dit daar staan word as “kreasioniste” geëtiketteer soos ons ook sal sien uit die bespreking van nog ’n teoloog:

4. ADRIO KÖNIG

Adrio König kom in sy boek Die Groot Geloofswoordeboek uit by temas rondom evolusie (Bl. 389 e.v.).

alt

4.1. Apologeet van die Bybelse geloof

König staan bekend as ’n apologeet van die Bybelse geloof in Suid-Afrika. Hy het bv opgestaan vir ons geloof oor die opstanding van Christus toe dit openlik by die Teologiese Fakulteit, Pretoria bevraagteken is. König het vir hom respek verdien deur die saak hard en duidelik aan te spreek toe die kerkleiers gewoon stilgebly, of teologiese diskussies gehou het oor die “misterie” van die opstanding.

As dit egter by die Bybelse skeppingsleer kom stel König teleur. Hy soek teologies aansluiting by die evolusieleer.

4.2. König inkorporeer die evolusieleer in sy teologie

König glo nie dat dit nodig is dat ons moet kies tussen skepping of evolusie nie. Hy bespiegel oor die “sterk getuienis dat ’n spesie baie lank onveranderd kan voortbestaan en dan skielik dramaties kan verander”. Hy vereenselwig hom nié met die kreasioniste wat (op wetenskaplike gronde) sê dat daar geen oorgange van een spesie na ’n ander moontlik is nie.

Dit is vir König ’n probleem dat Christene aan wetenskaplikes wil “opdring” dat die aarde net ’n paar duisend jaar oud is. Hy sê ons moet onthou dat natuurwetenskaplikes met “waarnemings en eksperimente” werk en daar is vasgestel dat sterre derduisende ligjare ver van ons verwyderd is. Hy sê: Ons moet die moed bymekaarskraap om te erken dat die mensdom baie ouer as 6000 jaar moet wees en dat almal nie noodwendig van een mensepaar afstam nie”.

Dit is dan ’n paar vertrekpunte waarmee König sy uitleg van Genesis en uiteindelik die hele Bybel benader. In sy boek Die Groot Geloofswoordeboek kom die implikasies van hierdie vertrekpunte van König spoedig aan die lig:

4.3. Implikasies van König se teologie

4.3.1. Adam het net simboliese betekenis

König sê: “Al moet ons aanvaar dat Adam en Eva nie regtig 6000 jaar gelede as die eerste mense bestaan het nie, kan ons nog altyd hulle simboliese waarde behou dat alle mense onder die oordeel van God staan en net deur Christus gered kan word.”

Kroeze het nog na tyd gesoek, maar König het nie meer tyd nodig nie, want hy het vir hom uitgemaak dat daar nooit ’n Adam was nie. Dit is noodwendig een van die gevolge van die evolusieleer op die teologiese denke van ’n Christen. Waar sou Adam per slot van rekening inpas in die miljoene jare van evolusionêre ontwikkeling? Die Andrew Murray pryswenner Gideon Joubert skryf in sy Die Groot Gedagte (bladsy 18):

Niemand weet wat lewe is nie. Niemand weet hoe die eerste lewe ontstaan het of waarvandaan dit gekom het nie. Al wat ons weet, is dat een mooi dag, naastenby 4550 miljoen jaar gelede, lewe op aarde opgewek is.

En verder (bladsy 20):

Daar tussen die ruigtes is die eerste aapagtige mens wat regop loop. Dit was soos gister dat homo sapiens van ons tyd, sy verskyning gemaak het. Dit was minder as ’n half miljoen jaar, waarskynlik eers ’n kwart miljoen jaar gelede.

Wanneer ’n Christen eers eenmaal sy staanplek op Darwin se On the Origin of Species ingeneem het, word dit problematies om nog met ’n ander voet op die Bybel te probeer staan. König soek “tussen die ruigtes” na ’n Bybelse Adam, maar die beste wat hy kan doen is om aan Adam ’n simboliese betekenis te gee. Hy sê ons kan “nog altyd hulle (Adam en Eva se) simboliese waarde behou dat alle mense onder die oordeel van God staan en net deur Christus gered kan word”.

Kom ons probeer ’n analogie kry vir wat König hier sê.

Elke keer as ek die naam König tik moet ek die simbool “ö” invoeg deur Alt 148 op die sleutelbord te tik. Uiteindelik word die letters K-ö-n-i-g op die skerm ’n simbool vir ’n persoon. Net so spel die letters Adam die naam van ’n persoon. Adam was ’n persoon in die geskiedenis van die mensdom. Hy was ’n persoon met verantwoordelikhede voor God. Sy oortreding het implikasies gehad. Hy het ’n vrou en kinders gehad. Adam kan nie willekeurig gereduseer word tot ’n blote simbool op ’n rekenaarskerm dat alle mense onder die oordeel van God staan en net deur Christus gered kan word nie.

As die woord “Adam” by die badkamers van ’n winkelkompleks staan is dit iets anders. Dan is dit ’n simbool vir die ingang wat mans moet gebruik, maar dit is nie wat Paulus daarmee bedoel het nie!

4.3.2. Die sondeval verval

König skryf ’n paragraaf oor die vraag na die oorsprong van die sonde. Die beste wat hy kan sê is dat dit “’n verkeerde vraag” is (Geloofswoordeboek bl. 403). Hy meen dat alle pogings om die oorsprong van die sonde te verklaar, ook die “sluheid van die slang”, pogings is om aan die sonde ’n sinvolle plek te gee en hy voel sterk daaroor dat sonde sinloos is.

Luister hoe hy dit beskrywe:

Genesis 3 se verhaal is net so sinloos. Trouens as dit nie in die Bybel gestaan het nie sou ek dit nie geglo het nie”.

In effek glo König nie die verhaal nie, want hy sê verder:

“En dan kom die eerste die beste slang aangeseil, en weens sy goedkoop verdagmakery verloor Eva onmiddelik haar vertroue in die Here. Dis nie eens ’n lang gesprek nie. Daar is omtrent geen weerstand by haar nie, en haar man volg gedweë, sonder enige navraag. Wie kan daaruit sin maak?

König beskou die gebeure in Eden as ’n “sprokiesverhaal” (bl. 405). Teen so ’n agtergrond kan dit duidelik nie as betroubare bron beskou word waaruit so ’n gewigtige saak soos die bestaan van die sonde in die wêreld afgelei kan word nie. Hy kom tot die konklusie: “Die sonde het nie ’n sinvolle oorsprong nie. Dit het net ’n onverklaarbare begin.”

Ek voel om König te herinner aan die titel van ’n ander boek wat hy geskryf het: Die Evangelie is op die spel. Die oorsprong van die sonde is deel van die evangelie. Paulus beskryf dit as volg:Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word” (Rom 5:19).

König behandel wel hierdie teks (Geloofswoordeboek bl. 154), maar hy bly ontwykend as hy sê:

Romeine 5 is nie geskryf om ons iets van Adam te vertel nie, maar van Christus. … Ons betrokkenheid by Adam se sonde word eenvoudig veronderstel, sonder verdere verduideliking. …. Dit gaan vir Paulus nie in die eerste plek oor hoe ons deur een mens se sonde geraak word nie. Hy wil verduidelik hoe ons deur een Mens se gehoorsaamheid aan die genade van God deel het.

König probeer met hierdie redenasies om voor te gee dat Paulus nie ’n historiese Adam en ’n sondeval in gedagte gehad het nie, maar ek reken dat König moet erken dat hy nie oortuig met sy weergawe van wat Paulus wil sê nie.

’n Basiese beginsel van die eksegese van ’n teks is om te vra wat die skrywer bedoel het en hoe sy lesers dit waarskynlik verstaan het. In 1 Timoteus praat Paulus meer pertinent oor wat hy met Adam en Eva bedoel. Hy sê dáár dat dit nie Adam is nie, maar die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het (1Tim 2:14). In 1 Kor 15 lê Paulus ook ’n verband tussen Adam en Christus wat die opstanding betref as hy sê: “Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word” (1 Kor 15:22). Dit is tog duidelik dat Paulus hier aan niemand anders as die historiese Adam van Genesis gedink het toe hy hierdie verbande tussen Adam en Christus gelê het nie.

König ontwyk hierdie voor die hand liggende werklikheid en verval in allerande niksseggende argumentasies as hy sê dat “die manier waarop ons aan die ongehoorsaamheid van Adam deel kry, nie uitgespel word nie”. Zagarias Ursinus en Casper Olevianus het dit in geen onduidelike taal uitgespel toe hulle in die Heidelbergse Kategismus geskryf het:

Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe natuur van die mens dan vandaan? Antw: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys. Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.

4.3.3. Die Bybelskrywers het ’n primitiewe wêreldbeeld gehad

König maak ’n saak uit dat die mense in die Bybelse tyd ’n ander wêreldbeeld gehad het as wat ons vandag het. Hy sê: “Hulle het vas geglo dat die blou lug daarbo ’n harde koepel is met vensters in waardeur die reën val. Die sterre is klein liggies wat aan hierdie koepel vas is. Die aarde staan op pilare of fondamente wat diep ingeplant is in die water onder die aarde. In hierdie watermassa is die doderyk waarheen die dooies gaan”.

König maak hierdie stellings om daarmee voor te gee dat die Bybelse skeppingsverhale dateer uit ’n tydperk toe mense nog onkundig was. Die woorde wat deesdae in die kerk gebruik word is “agterhaald” en “pre-modern” om die mense van die Bybelse tyd te beskryf. Ons kan dus nie die stories oor ’n skepping in ses dae, ’n Adam en ’n Eva wat kaal rondgeloop het en ’n slang wat met hulle gepraat het te letterlik opneem nie. Ons moet dit vertaal vir ons tyd. Ons moet net soek na ’n boodskap tussen die antieke stories (want dit is immers ons Bybel).

Wie so oor die Bybelskrywers dink doen dit vanuit ’n evolusionêre wêreldbeeld wat nie rekening hou met die hoogs gevorderde beskawings van die antieke tye nie. Volgens die evolusionêre wêreldbeeld was die eerste mense grotbewoners wat van jag geleef het. Oor ’n bestek van duisende jare het hulle sodanig ontwikkel dat hulle geleer het om te ploeg en te plant. Hulle het klipwerktuie begin maak en later selfs geleer om ystervoorwerpe met vuur te bewerk.

Hierdie evolusionêre uitgangspunt misken die geskiedenis wat getuig van merkwaardige kundigheid wat mense duisende jare gelede reeds gehad het.

alt

Die bekende beeld van Atlas wat die aarde op sy skouers dra is ’n goeie voorbeeld van die mens se merkwaardige verlede. Atlas is ’n figuur uit die Griekse mitologie wat deur Zeus die straf opgelê is om die uitspansel op sy skouers te dra. In baie Griekse kunswerke is hy egter afgebeeld met die aarde op sy skouers. Dit is opvallend dat die aarde as ’n bal afgebeeld is. Op die bol verskyn die sterrekonstellasies, die ewenaar en die skeerkringe.

Die beeld hiernaas word in Napels in Italië bewaar en dateer uit die tyd kort na Christus. Dit word aanvaar dat die beeld ’n kopie is van ’n veel ouer Griekse beeld en dat die inligting daarop ’n weergawe van menslike kennis is wat eeue tevore reeds bestaan het.

Dit is ook bekend dat die mense van Mesopotamië in die tyd van Abraham (2000 vC) reeds oor hoogs gevorderde kennis van die sterre beskik het. Die sterrekundiges van antieke Babilonië was wiskundige meesters. Hulle kon sonsverduisteringe voorspel en die langste en die kortste dag bepaal. Die inligting wat hulle nagelaat het oor die posisies van die planete stel ons in staat om die geskiedenis van Mesopotamië te dateer. In baie lande van die wêreld is daar bewyse van hoogsgevorderde kennis van die sterrestelses en kalenders uit antieke tye (3000 vC), soos in Skotland, verskillende lande van Europa, Griekeland, Indië, Egipte, China en Sentraal-Amerika.

Dit is die wêreld waaruit die volk van die Here en die Bybelskrywers gekom het. Job wat waarskynlik ’n tydsgenoot van Abraham was, bevestig die merkwaardige insigte wat die mense in die antieke tye reeds, van die hemelruim gehad het. Hy praat van die sterrekonstellasies in Job 9:9: “Hy het die Beer en Orion gemaak, die Sewester en die sterrebeelde in die suide”. Hy sê ook God “laat die aarde hang waar niks is nie” (Job 26:7).

4.3.4. ’n Drieverdieping Wêreldbeeld

Ten spyte van hierdie werklikhede, wil König hê dat ons die Bybel moet interpreteer vanuit ’n soort primitiewe wêreldbeeld wat hy as volg beskryf (Geloofswoordeboek bl. 500):

In die Bybel word ’n drieverdieping-wêreldbeeld veronderstel: die hemel is daarbo, die aarde in die middel, en die doderyk onder die aarde (Eks 20:4). Bokant die aarde is ’n koepel wat ‘die water daarbo’ keer dat dit nie op die aarde val nie. Hierdie water is gevaarlik soos dit tydens die sondvloed geblyk het. Daar is vensters of openinge in die koepel waardeur die water stroom as dit reën (Mal 3:10). Die sterre is klein liggies in die blou koepel. Die aarde is ’n plat skyf bo-op ‘die water onder die aarde’ en dit rus op fondamente wat in die water staan (Jes 24:18; Jer 31:37). Dit beteken dat die hemel ‘daarbo’ is en die die hel onder die aarde. Die aarde is die middelpunt, en die son draai om die aarde.

Die Duitse teoloog Rudolf Bultmann is die persoon wat volgens my kennis die gedagte van die drieverdieping-wêreldbeeld in die teologie gevestig het. Hy het gesê dat die mense van die Nuwe Testament die heelal met drie verdiepings (hemel, aarde, hel) gesien het. Die aarde het die werkplek van bonatuurlike magte geword: God en sy engele, Satan en sy demone. Dit is alles mitologiese taal en die moderne mens met sy wetenskaplike kennis kan nie daarmee genoeë neem nie. Wie dit van die moderne mens vra stel hom voor die eis van ’n sacraficium sacramentum (opoffering van die verstand).

Julian Müller het ook die drieverdieping wêreldbeeld van die Bybel as argument gebruik toe hy die opstanding van Jesus en die ander wonderdade van Jesus bevraagteken het. Ben du Toit bevraagteken die Bybelse leer deur na die Bybelskrywers as pre-modern te verwys.

Nou wil dit lyk of König op dieselfde spoor is – hierdie keer om ons te oortuig dat dit vir die hedendaagse mens onaanvaarbaar is om te dink aan Adam en Eva as werklike mense. Dit is blykbaar ook onaanvaarbaar om aan hulle te dink as ons gemeenskaplike voorouers en dat die sonde by hulle begin het. Hy sê die kreasioniste wat die Bybel so wil gebruik en wil voorgee dat dit alles in 6000 jaar se tyd gebeur het, maak hulleself ongeloofwaardig. Die kerk moes elke keer nog “sy kop in skaamte laat sak” omdat hulle nie ag gegee het op die insigte van die wetenskap nie (bl 393).

Die tekste wat König aanhaal ter stawing van sy weergawe van die Bybelskrywers se wêreldbeeld, lyk vir my na doodgewone beeldspraak:

As Maleagi in Mal 3:10 sê: Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie”, is die “vensters van die hemel” ooglopende beeldspraak en nie ’n refleksie van ’n destydse wêreldbeeld nie. Amos laat bv blyk dat hy geweet het waar die reën vandaan kom toe hy gesê het: “Hy wat die water van die see roep en dit oor die aarde uitstort, sy Naam is die Here”.

As daar in Eks 20:4 staan: Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie, kan jy nie daaruit aflei dat die Israeliete geglo het dat die aarde op water dryf nie. Die bedoeling is duidelik. Die verbod om beelde te maak en te aanbid is omvattend. Jy mag selfs nie ’n vis, wat in die water vir die oog verborge is, aanbid soos die Filistyne bv. gedoen het nie.

Wat is die punt? Dit gaan nie daaroor dat die mense van die Bybelse tyd minder wetenskaplike kennis oor die wêreld gehad het as vandag nie. Ons weet wetenskap en tegniek het dramaties toegeneem. Die punt is dat dit verkeerd is om die betroubaarheid van die Bybelskrywers se geskrifte te bevraagteken aan die hand van die wetenskaplike kennis waaroor hulle beskik het.

Wêreldbeeld gaan in die eerste plek oor die manier waarop jy na die werklikheid kyk en nie oor die hoeveelheid kennis waaroor jy beskik nie. Kyk jy bv vanuit ’n animistiese hoek na die werklikheid, maw dat daar (bose) geestelike magte in natuurvoorwerpe skuil, soos bv in die Afrika godsdienste? Kyk jy vanuit ’n afgodiese hoek na die natuur wat bv die son en die maan vergoddelik en aanbid, soos die ou Egiptenare? Kyk jy vanuit ’n ateïstiese hoek na die werklikheid waarin God nie funksioneer nie? Of kyk jy na die werklikheid as ’n geskape werklikheid waar God bo en buite die werklikheid is. Dit is die Bybelse wêreldbeeld.

Moses is by uitstek die persoon by wie Israel geleer het om op die regte manier na God en die werklikheid te kyk. Ons moet aanvaar dat Moses ’n groot rol gespeel het in die redigering van die die Pentateug en die boek Genesis waaroor dit veral hier gaan. Dit gaan dus nie daaroor of die aarde rond of plat is nie, maar dit gaan daaroor om saam met Israel na God op te sien en uit te roep:

Hoog bo die geraas van baie waters,
hoog bo die golwe van die see,
troon die Here in sy koninklike mag (Ps 93:4).

Die Bybel en die skrywers van Israel staan kop en skouers uit bo die mitologiese denkpatrone van die heidene onder wie hulle geleef het. Israel het nie soos die heidene die natuur vereer of animistiese magte aan die natuur toegeken nie. Daardie dinge was deel van die heidene se afgodsdiens waarteen die Here en die profete voortdurend gewaarsku het.

4.3.5. ’n Temporele wêrelbeeld

König gaan verder en lê vir die Bybelskrywers nie net ’n drieverdieping wêreldbeeld ten laste (soos Rudolf Bultmann en Julian Muller) nie, hy gaan voort om te praat van hulle “temporele wêreldbeeld”. König sê (heel korrek) die geslagsregisters in die Bybel impliseer dat die aarde maar net sowat 6000 jaar gelede geskep is. Hy maak ook melding van die ouderdomme van die mense in Genesis 1-11 (soms ouer as 900 jaar). Dit is vir König ’n aanduiding van ’n “temporele wêreldbeeld” waarvan hy hom wil distansieer (bl 501).

As ons wíl praat van ’n temporele wêreldbeeld is dit inderdaad so dat die Bybel aan ons ’n temporele wêreldbeeld voorhou. Dit is nie iets wat ons moet afwys nie! Tyd is deel van die skepping. Die wêreld wat ons ken is “temporeel” in die sin dat dit ’n begin en ’n einde het. Tyd soos ons dit ken het ’n begin gehad en dit sal ’n einde hê.

Daar was ’n dag toe die aarde se horlosie begin tik het en daar sal ’n dag wees wanneer die horlosie sal ophou tik. Tyd soos ons dit ken op aarde sal oorgaan in ewigheid. Daar sal nie meer geskiedenis wees nie, want daar sal nie meer tyd wees nie. Hierdie wêreld is nie vir ewig nie. Dit is bestem vir die vuur (2 Pet 3:7). Daar sal ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde kom (Op 21:1).

Waar het ons dit geleer? By die Bybelskrywers! Hulle het geleef met ’n temporele wêreld en hulle getuig van ’n temporele wêreldbeeld en ons volg hulle daarin na want dit is waarvan die Gees ons oortuig. Dit het niks met natuurwetenskaplike kennis te doen nie.

Die evolusionêre wêreldbeeld daarenteen ken nie ’n begin en ’n einde nie. Die “begin” word na die oneindige verplaas en oor die einde word gedink in terme van ’n onsekere selfvernietinging in die oneindigheid.

Luister hoe skryf Gideon Joubert in sy Die Groot Gedagte, oor die einde (vanuit sy evolusionêre hoek): Die son sal uiteindelik ’n rooireus word. Oor 5000 miljoen of 6000 miljoen jaar sal die uitswellende son die aarde saam met al die planete tot as verbrand. Dit lyk of daar vir ons geen hoop is nie.

König verdedig sy teologie met die volgende woorde:

Die evangelie staan of val nie by hoe alles geskep is nie, maar by hoe ons verlos word; nie by Genesis 1 en 2 en Psalm 104 en Job 38 nie, maar by Matteus 27 en 1 Korintiers 15 (bl. 501).

Op sigself klink so ’n stelling baie waar, maar ons moet kennis neem dat König in werklikheid regverdiging soek vir sy siening dat Adam nie regtig ons eerste voorvader was, wat die menslike geslag in sonde laat val het nie. Teen daardie agtergrond is sy stelling ’n halwe waarheid en misleidend.

Waarom doen gerespekteerde teoloë soos König sulke dinge? Alles dui daarop dat selfs teoloë so vasgevang is in die evolusionêre paradigma van ons tyd, dat hulle bereid is om hulle teologie daarvolgens aan te pas.

5. WENTZEL VAN HUYSSTEEN

alt

Wentzel van Huyssteen is een van die NG Kerk se “blou oog” teoloë.

Hy was van 1972 Hoof van die Departement Godsdiens aan UP. Hy is in die VSA raakgesien en vanaf 1992 tot 2014 was hy aangestel as Professor in Teologie en Wetenskap by Princeton se Teologiese Seminarium. Hy het ’n lang lys van internasionale prestasies agter sy naam. In SA is hy al twee keer met die Andrew Murray boekprys vereer.

Van Huyssteen het ’n bydrae gelewer in George Claasen en Frits Gaum se boek: God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. Frits Gaum is die gesprekvoerder en Van Huyssteen vertel openhartig oor die invloed van die evolusieteorie op sy teologiese beskouings. Ek maak aanhalings uit die boek vanaf bl. 93.

Van Huyssteen sê een van die grootste denkverskuiwings in sy lewe het gekom deur sy in intense kontak met die werk van Charles Darwin. Reeds sedert 1993 bied hy by die Princetonse Teologiese Seminarium gereeld klasse aan met die tema “Charles Darwin and Theology”. Ek haal hom aan:

Wat ’n voorreg is dit nie om met top M- en D-studente eksegese te doen van veral The Origin of Species en The Descent of Man nie! Vir my bied dit die geleentheid om die mees kontroversiële konflik tussen die Christelike geloof en die evolusieleer direk aan te pak – iets wat verrassende gevolge kan hê vir enige Christen-gelowige wat die moeite wil doen om te verstaan hoe gemaklik geloof en wetenskap tog kan saamleef.

5.1. Van Huyssteen oor die Bybel

As daar by ’n teologiese seminarium “eksegese” gedoen word van Charles Darwin se werke is dit uiteraard ’n aanduiding dat die Bybel sy posisie verloor het as primêre bron van teologiese nadenke. Van Huyssteen versterk hierdie besorgdheid as hy die vraag vra of ons werklik daarop kan aanspraak maak dat die Bybel betroubare inligting bevat –

inligting wat ons in staat stel om geldige uitsprake oor God en God se verhouding tot die wêreld te maak?”

… Een van die mees fatale momente in die geskiedenis van die Christelike teologie was die ontwikkeling van ’n soort Bybelse fundamentalisme waarin Bybelse teks verdedigend as volkome letterlik gelees word.

Van Huyssteen openbaar dieselfde houding as König hierbo oor die Bybelskrywers se verwyderdheid van ons wetenskaplike era. Hy sê bv:

In die Bybel is mense aan die woord in die taal en denkwêreld van hulle eie tyd. En hierdie “eie tyd” is so ver terug, so ingrypend anders, dat dit onmoontlik geword het om ter wille van “Bybelse” standpunte ’n bepaalde teks of teksgedeelte as ’n towerformule na vore te haal.

5.2. Die “Genesis-skeppingsverhale”

Van Huyssteen se vertrekpunt is dat alle godsdienste skeppingsverhale het wat te make het met oorsprongsvrae. Dit vorm ook die hart van die “Genesis- skeppingsverhale”. Hy wy verder daaroor uit en sê:

Die skeppingsverhale is ’n pragtige voorbeeld van hoe simboliese taal en die taal van die mitologie gebruik word in ’n teks wat volledig ingebed is in sy oorspronge van die Ou Nabye-Oosterse kulture van die tyd.

5.3. Adam en Eva

Van Huyssteen praat van die mitologiese verhaal van Adam en Eva, van die Adamitiese mite en van die mitologiese “eerste mense”, Adam en Eva. “Mite” is vir hom ’n verklarende narratief of verhaal wat binne ’n bepaalde kulturele konteks gekonstureer is rondom een of meer primêre simbole.

Interessant dat Van Huyssteen net soos König ook werk met die gedagte dat Adam ’n simbool is. In sy verdere beredenering van die onderwerp betrek Van Huyssteen die konsepte van die mens as beeld van God en die sondeval by die sg. simboliese betekenis van Adam.

5.4. Sondeval

Genesis 3:22a is vir Van Huyssteen ’n belangrike teks en ek haal aan:

In Genesis 3:22 sê God na die “sondeval” vir die ander gode: “nou het die mens soos een van Ons geword en nou ken hulle goed en kwaad”. In hierdie aangrypende teks word die mees omvattende betekens van die “beeld van God in die Genesis-skeppingsverhaal onthul: met die aankoms van die mens op Aarde vind ons ’n merkwaardige evolusie van morele bewussyn, die kennis van goed en kwaad, die moontlikheid tot die vrye keuse tussen goed en kwaad. Só word die dieper betekenis van die mitologiese “val” onthul: die “val” in sonde kon alleen gebeur omdat dit voorafgegaan is deur ’n “val opwaarts” na morele bewussyn en ’n sin vir die onderskeid tussen goed en kwaad. Alleen één spesie, Homo sapiens, het ’n morele bewussyn en kwalifisseer as “geskape na die beeld van God”, en alleen één spesie het die vermoë om hierdie keusevryheid te gebruik in ’n keuse tussen goed en kwaad.

Soos ek Van Huyssteen se uitleg van die Genesis 3 dan verstaan is dat die gebeure wat ons altyd as ’n ramp, ’n tragedie gesien het, inderwaarheid as ’n deurbraak van die mens gesien moet word. Die gebeure wat vir ons in Genesis 3 beskryf word, moet nie letterlik beskou word nie, maar as “verklarende narratief” vir die gebeure toe die mens bo die diereryk uitgestyg het. Daar het ’n fase op die pad van menslike ontwikkeling gekom dat die mens tot morele ontwaking gekom het. Die mens kon nou tussen goed en kwaad onderskei!

Dit is dan die eintlike boodskap van Genesis 3: Wat ons altyd as ’n “val” gesien het was dus eintlik ’n “opstaan”. Die narratief van Genesis 3 is ’n aanduiding van ’n groot gebeurtenis in die mens se evolusionêre ontwikkeling. Die spesie homo sapiens het bo die diereryk uitgestyg en beeld van God geword!

Van Huyssteen verlustig hom verder in die nuwe perspektiewe wat hierdie insigte vir ons open. Wetenskap en teologie het mekaar gevind:

… dit gaan nie soseer daarom of God evolusie in die skeppingsproses “gebruik” nie, maar om ’n dieper verstaan van die evolusieproses ás skeppingsproses.

Myns insiens open dit die deur na ’n ryk sakramentele teologie, waar die kreatiewe en evolusionêre prosesse sigbaar vir die wetenskappe onthul word as inderdaad nie-deterministies en oop vir kreatiewe, oorspronklike nuutheid, maar terselfdertyd gesien kan word as die konteks van God se voortgaande skeppingsaktiwiteit. … Goeie teologie versmoor nie in ’n fundamentalistiese letterlikheid nie, maar bied inteendeel ’n radikale herbeskrywing van die wêreld vanuit ’n goed ingeligte, interdissiplinêre perspektief. …. As sodanig kan die teologie, en daarmee saam enige gelowige Christen, nie bekostig om nié in gesprek te wees met die wêreld van die huidige wetenskap nie.

Van Huyssteen vra vir ’n teologiese herbeskrywing van die proses van evolusie en ’n teologiese aanvaarding van die resultate van evolusionêre biologie.

Die woorde teologiese herbeskrywing van die proses van evolusie is veelseggend. In die temas verder sal dit blyk dat dit eintlik is waarmee Van Huyssteen besig is. Dit het sy teologiese dryfveer geword.

5.5. Evolusie van Moraliteit en Godsdiens by die mens

Van Huyssteen ondersteun Darwin wat gesê het dat die mens se verskil van ander spesies net ’n verskil in “graad” is en nie ’n verskil in “soort” nie. By die sjimpansees kry ons ook ’n vermoë tot empatie. Dit dui op ’n duidelike aanloop van die evolusie van moraliteit. Dit is nou verbonde aan die ontwikkeling van selfbewussyn.

Van Huyssteen sluit aan by Karen Armstrong wat baie maak van die prehistoriese rotsskilderye in Frankryk. Uit die rosskilderye word afgelei dat godsdiens reeds 32000 jaar gelede in die allervroegste menslike gemeenskappe bedryf is. Hy sien daarin dat die mens as beeld van God deur ’n lang evolusionêre geskiedenis fisies uit die natuur voortgekom het.

In hierdie beredeneringe van Van Huyssteen werk hy met botsende konsepte sonder om te erken dat sy gedagtes nie integreer nie. Hy wil voorgee dat moraliteit en godsdiens die gevolg is van ’n natuurlike evolusionêre proses. Aan die ander kant wil hy ook vashou daaraan dat ons evolusionêr geskape is na die beeld van God. Evolusionisties gesien is God nie in die prentjie teenwoordig nie. Die evolusieleer funksioneer sonder ’n Skepper, maar Van Huyssteen wil God tog êrens in die prentjie bring deur te praat van evolusionêr geskape na die beeld van God.

Die gedagte dat die mens in die gang van sy evolusionêre ontwikkeling ’n godsdienstige wese geword het, is baie ingrypend vir ons geloof. (Die implikasie is dat daar nie ’n onderskeid tussen God en afgode is nie. Alle mense het maar ’n godsbewussyn wat verskillende gestaltes aanneem en nie vir onderlinge veroordeling vatbaar is nie.) Van Huyssteen gaan sover om te sê dat dit die eintlike boodskap van die Bybel is. Dit is wat ons moet aflei uit die woorde:

As imago Dei het die mens deur ’n lang evolusionêre geskiedenis fisies uit die natuur voortgekom. Hierdie gedagte aanvaar enersyds ons integrerende evolusionêre verbondenheid aan die natuur en gee andersyds insig in die diepste Bybelse bedoeling van wat dit beteken om evolusionêr geskape te wees.

5.6. Erfsonde

Die paar aanhalings hieronder gee ’n idee van hoe Van Huyssteen dink oor die verskynsel van sonde.

In die huidige teologiese gesprek, met nuwe insig en aanvaarding van die kragtige mitologiese konteks van Bybelse oorsprongsverhale, het die meeste teoloë lankal reeds aanvaar dat ’n historiese sondeval – waardeur die hele menslike ras uiteindelik in totale verdorwendheid “in sonde ontvang/geval en gebore is” en met die dood gestraf is – totaal onaanvaarbaar is in die lig van wat ons vandag weet …. Vanweë die merkwaardige verklaringspoteniaal van die evolusieproses weet ons vandag dat daar geen sprake kan wees van ’n sondelose “paradys” waaruit die eerste mense dan in “sonde geval” het en daarna met die dood gestraf is nie. ….

Vandag weet ons, danksy neuropsigologie en evolusionêre biologie, dat hierdie intuïtiewe sin vir wat reg en verkeerd is, universeel deel is van alle mense se selfbewussyn. …

Hierdie herinterpretasie van die sonde en erfsonde maak dit nou ook vir ons moontlik om die onweerlegbare resultate van die moderne wetenskap te aanvaar: die fossielerekord bied aan ons onomstootlike bewyse dat die dood miljoene jare vóór mense bestaan het, alreeds deel was van die natuurlike evolusieproses.

5.7. Die dood

Weereens net ’n paar aanhalings:

Die heel belangrikste Bybelse siening van die dood is dat dit direk verbind word aan die sogenaamde “sondeval” en dat dit as straf vir die sonde funksioneer.

In direkte kontras hiermee sien evolusionêre biologie die dood as ’n volkome natuurlike verskynsel wat so lank terug bestaan as wat daar lewe op Aarde is, en dus millenia voor die eerste mense of enige “sondeval”. In die evolusieproses is die dood nie alleen noodsaaklik en onvermydelik nie, maar is dit ’n ekologiese noodsaaklikheid en voorwaarde vir nuwe lewe. …

Ons moet aanvaar dat die dood op geen manier verbind kan wees aan wat ons as Christene normaalweg “sonde” noem nie.

5.8. Ewige Lewe

Die beste wat Van Huyssteen in die lig van sy evolusionêre uitgangspunt hieroor kan sê is:

… dat die opstanding van Christus vir ons ’n metafoor bied van die herskeppingsproses waarin ons ná die dood op ’n nuwe, onuitspreeklike wyse met God verenig sal wees … Dit bied moontlikhede vir ’n meer apofatiese Godsbeskouing waarin ons in geloof die goedheid van God se ontwikkelende skepping met die realiteit van pyn en dood kan aanvaar en eer, presies omdat ons God se teenwoordigheid sakramenteel in die evolusieproses kan veronderstel.

Laasgenoemde sin moet gesien word as ’n beskrywing van ons troos te midde van ons huidige pyn en lyding.

5.9. Waar pas Jesus in die evolusionêre proses in?

Van Huyssteen sluit aan by Schleiermacher se vlakke van bewussyn. Daar is eerstens ’n dierebewussyn. Die tweede is ’n sintuiglike selfbewussyn wat die oorsprong is van die neiging tot selfsug/sonde. Ons as mense is vasgevang in die vlak van sintuiglike selfbewussyn. Daarom het God vir ons ’n Verlosser gestuur wat Van Huyssteen as volg beskryf:

Hierdie Verlosser, in die persoon van Jesus van Nasaret, was volkome mens maar bereik in sy eie ontwikkelingsproses dít wat alle ander mense ontwyk het, naamlik die ontwikkeling tot perfekte/volmaakte Godsbewussyn. Jesus se empatiese verbintenis met God was so perfek dat Hy die een geword het wat God se suiwer liefdesdaad volbring het deur sy perfekte Godsbewussyn. Myns insiens bied Scleiermacher se Christologie vir ons die geleentheid om Jesus as Verlosser te herken – volkome ingebed in in die evolusionêre geskiedenis van die menslike spesie. … Hierdie relasionele herbedinking van van Jesus se volkome mensheid en Godheid bevry ons nie alleen van die vroeg-Christelike en verouderde filosofiese substansiële konsepsies van Jesus se selfidentiteit nie, maar maak dit ook vir ons moontlik om in iemand te glo wat, soos ons, onherroeplik in die evolusionêre geskiedenis veranker is, maar, anders as ons, in sy beliggaamde selfbewussyn direk aan God verbonde was – trouens sélf God was.

5.10. Publieke teologie

Wat ek by Van Huyssteen en ander sien is ’n droewige behoefte aan akademiese aanvaarding by die “Universiteit”. Universiteit staan vir akademie, kuns, kennis, geleerdheid, wetenskap en uiteindelik die hoogste ideale van menswees. Dit is nie ’n plek waar mens uit pas wil wees nie.

Universiteite het sekulêre instellings geword en in die akademie is “God” met respek gesê, die olifant in die vertrek. Daar is nie regtig plek vir “God” in die diskoerse van die hedendaagse universiteitswese nie. (By die Universiteit van Bloemfontein is die verwysing na “God” in hulle leuse onlangs verwyder en die teologiese fakulteit het dit maar gelate aanvaar – kyk ‘God’ uit Kovsies se leuse gehaal). Dit is nie maklik vir teoloë (mense wat hulle besig hou met die kennis van God) om hulleself te posisioneer tussen die ander fakulteite van die Universiteit nie.

Van Huyssteen het vir hom as teoloog ’n plek tussen die ander dissiplines van die Universiteit gesoek en met ’n inisiatief vorendag gekom wat hy “publieke teologie” noem. Hy beskryf dit so:

Die dieper motivering agter die soektog na ’n werklik interdissiplinêre teologie kan sekerlik gevind word in my oortuiging dat die Christelike teologie, in die mees fundamentele sin van die woord “publieke teologie” moet wees. In hierdie sin van die woord het ek deurlopend geargumenteer dat teologie “publiek” is in die sin dat dit in ’n regmatige, demokratiese sin kan aanspraak maak om teenwoordig te wees in die interdissiplinêre, politieke, kulturele en etiese gesprekke wat ons publieke diskoers kenmerk. ….

In hierdie sin is die wye spektrum van tradisionele akademiese dissiplines ingebed in die evolusionêre geskiedenis van die mees basiese kognitiewe en emosionele wyses waarop ons na die werklikheid uitreik….

Trouens, publieke teologie as interdissiplinêre teologie maak dit vir beide teologie en wetenskap moontlik om op gemeenskaplike probleme (soos die oorsprong van die heelal, die sin van die die lewe, die betekenis van pyn en lyding, die aard van menswees) te fokus.

Teen hierdie agtergrond kan daar geen langdurige spanning tussen geloof en wetenskap wees nie.

Van Huyssteen het vir hom gemeenskaplike grond tussen die akademiese dissiplines gevind in die evolusieleer . Ek hoor by hom dat ons vanuit ons evolusionêre geskiedenis saam kan fokus op ons gemeenskaplike probleme (soos die oorsprong van die heelal, die sin van die die lewe, die betekenis van pyn en lyding, die aard van menswees).

Paulus was ook ’n teoloog. Hy het gestudeer by die Universiteit van Tarsis. Hy moes homself ook posisioneer tussen die geleerdes van destyds en hy sê:

Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense (1 Kor 1:25) .

Kyk hierteenoor bv na die futlose visie van die Teologiese Fakulteit Pretoria:

A faculty recognised for its creative engagement with life-giving theology and religious insight, of service to academia, church and community.

6. HOE HET DIE HELDE GEVAL!

Dit was Dawid se klaaglied oor Saul en Jonatan wat saam met die soldate in die oorlog omgekom het (2 Sam 1:19). Saul was geroep om oorlog te voer teen God se vyande, maar hy en sy soldate het misluk. Saul se mislukking moet toegeskryf word aan sy ongehoorsaamheid en weerspannigheid teenoor God. Samuel se oordeel oor Saul was:

Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp (1 Sam 15:23)

Elkeen wat homself ’n teoloog noem en trouens elke Christen word voor ’n keuse gestel oor die evolusieleer. Is jy bereid om vir jouself en vir die wêreld, ook die akademiese wêreld te sê: “Don’t talk damned nonsense” (Lewis) – “Moenie kaf praat nie!”

Ons moet onsself afvra: Waarmee sal ons eendag voor die Here staan? Wat ’n gewaarwording vir ’n teoloog om op daardie dag te ontdek: Ek staan met kaf in my hande. Ek het my met kaf laat mislei en ek was my lewe lank besig met kaf – kaf wat deur die wind verstrooi word. Ja, kaf wat vir die vuur bestem is!

Jan Louw

NS. Ek moes op ’n stadium in my lewe vir myself ook duidelikheid kry oor die evolusieleer: Het jy al vir jouself duidelikheid gekry oor evolusie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui