Kyk ook:
|
Die brief hieronder is geskryf deur Neels Jackson na aanleiding daarvan dat Moreletapark gemeente aangedui het dat hulle moontlik die NG Kerk wil verlaat.
Jan Louw en Henrietta Klaasing het Neels geantwoord in Gays in die kerk: Hulle oorheers die debat ’n week later.
********
Die kerk en die hof | Netwerk24
Deur Neels Jackson
Sondag, 30 Junie 2019
Een van die redes wat die NG gemeente Moreletapark aanvoer oor waarom hulle die kerk wil verlaat, is die sogenaamde “gay”-hofsaak wat die NG Kerk vroeër verloor het. Neels Jackson gee perspektief.
In ’n dokument waarin Moreletapark hul ongemak met die NG Kerk uiteensit, verwys hulle onder meer na die “onlangse hofsaak, waar onkerklike wyses in ’n wêreldse hof gebruik is eerder as om die kerklike weg en Bybelse beginsels te gebruik om die saak te besleg”.
Hulle sê dié uitspraak het na hul mening die idee versterk dat die Skrif aan die land se Grondwet “onderhewig” is.
Die gedagte dat die klaers teen wil en dank die “wêreldse weg” eerder as die “kerklike weg en Bybelse beginsels” gevolg het, loop wyer as net onder gemeentelede van Moreletapark.
Ds. Johan Brink, moderator van die sinode Goudland (vroeër Wes-Transvaal), skryf byvoorbeeld op 20 Maart vanjaar in ’n omsendbrief aan gemeentes dat die klaers verlede jaar gevra is om nie hof toe te gaan nie “aangesien ons glo ons Bybelse opdrag is om die kerk se sake op kerklike wyse op te los.”
Brink voeg by dat daar ’n sinodesitting was waar die lidmate hul saak kon stel. In weerwil hiervan het die “betrokke groep lidmate . . . egter besluit om steeds hof toe te gaan met groot skade vir ons kerk”.
Die verloop van die proses is egter baie meer genuanseerd as wat Brink voorgee.
Nadat die algemene sinode in Oktober 2015 besluit het om gay-verhoudings te erken, het die algemene sinodale moderamen (ASM) in November daardie jaar vergader. Daar het die algemene taakspan: regte (ATR) aangekondig dat daar appèlle teen die sinodebesluite ontvang is, en dat die appèlle outomaties lei tot die opskorting van die besluite. In die loop van die volgende twee jaar het daar herhaaldelik stemme opgegaan dat die hele appèlproses onregmatig was en dat kerklike prosedure (Brink se “kerklike wyse”) dit nie toelaat nie.
Daarna het die proses soos volg verloop:
- In November 2015, kort ná die taakspan se aankondiging, waarsku ’n groep van sowat 65 lidmate, hoofsaaklik dosente aan die fakulteite teologie, in ’n ope brief dat die proses onregmatig is. Daar word nie op hul stem ag geslaan nie.
- In Maart 2016 bring drr. André Bartlett en Carin van Schalkwyk ’n regsadvies van ’n senior advokaat na die ASM-vergadering waarvolgens die hele appèlproses ongeldig is. Dit word om tegniese redes onontvanklik verklaar.
- By die volgende moderamen-vergadering in September 2016 is daar drie regsadviese van senior advokate voor die vergadering – dié wat Bartlett en Van Schalkwyk al by die vorige vergadering wou laat dien, een wat die groep van 11 (die latere applikante in die hofsaak) aangestuur het, en een wat die kerk self ingewin het.
Al drie regsadviese sê dat die appèlproses ongeldig is. Die kerk sê die advokaat noem dit ’n “nulliteit”.
Op aanbeveling van die taakspan hef die moderamen die opskorting van die besluite op, maar gaan, teen al drie die regsadviese in, voort met die appèlproses.
Hulle roep ook ’n buitengewone algemene sinode byeen.
- Later stuur die groep van 11 ’n tweede regsadvies van nog drie advokate wat ook die appèlproses as nietig beskou. Ook dit val op dowe ore.
- In die week voor die buitengewone algemene sinode, gaan sien lede van die moderatuur en die taakspan die kerk se advokaat. Dit word weer aan hulle duidelik gemaak dat die appèlproses ongeldig is. Die taakspan besluit egter om dié advies te ignoreer en die appèlproses as geldig te aanvaar.
- Met die begin van die buitengewone algemene sinode in November 2016 verklaar ds. Nelis Janse van Rensburg, die moderator, die taakspan se beslissing as bindend. Van die vloer af probeer van die afgevaardigdes daarteen kapsie maak, maar Janse van Rensburg laat geen bespreking daaroor toe nie. Dit beteken die kerk se algemene sinode is verhinder om hom oor die werk van een van sy eie taakspanne uit te spreek.
- Eers toe die kerkleiers hofstukke van die applikante ontvang en daarop moet reageer, gee hulle toe dat die appèlproses ongeldig was.
Daar kan met reg gevra word of die kerkleiers ooit sou toegegee het dat hul prosedure verkeerd was, as hulle dit nie in die hof moes gaan verdedig het nie. Die kerkleiers het die saak daarna op ander gronde verdedig, maar uiteindelik ook dáármee misluk.
Dit beteken dat die kerk se leierskap – in besonder die ATR, maar ook die moderatuur en die ASM – sewe keer besware geïgnoreer het dat die appèlprosedure afwyk van die kerk se eie reëls.
Ds. Dirkie van der Spuy van Moreletapark en ds. Johan Brink van Goudland was deurentyd deel van die proses.
G’n wonder die applikante in die hofsaak, wat almal lojale lidmate van die kerk is, se geduld het opgeraak nie.
G’n wonder hulle het uiteindelik die hof se hulp ingeroep nie.
As diegene wat nou beswaard is oor die “onkerklike weg” wat die lidmate gevolg het, werklik besorg is oor korrekte kerklike prosedure, behoort hulle die 11 (wat later 12 geword het) te bedank omdat hulle weerstand gebied het teen ’n proses wat die kerk se eie reëls minag.
En as die hofsaak skade vir die kerk beteken het, sou met reg gevra kon word wie dan daarvoor verantwoordelik was? Die klaers of die leierskap – veral die ATR, maar ook die moderatuur en die ASM?
Daarby is dit belangrik om daarop te let dat die hof nie ’n teologiese uitspraak gelewer het nie. Die hof het nie vir die kerk gesê wat hy moet glo nie. Die hof het bloot die besluite van die buitengewone sinode van 2016 tersyde gestel omdat dit nie volgens korrekte kerklike prosedure geneem is nie.
Dit is waarom die besluite van die algemene sinode van 2015 oor die bevestiging van gay-huwelike staan. En dit is ’n besluit wat die kerk self geneem het.
* Neels Jackson is voormalige nuusredakteur van Kerkbode.