Kyk ook: |
Die volgende artikel is geskryf deur ds. Schalk Strauss van die APK.
*********
Die kerk: Hospice of rehabilitasiesentrum?
3 Oktober 2018
Deur ds. Schalk Strauss
Ds. Nelis Janse van Rensburg se skrywe in die Kerkbode van 17 September getiteld “Die kerk se gesprek oor seksualiteit“, het nuwe petrol op die vuur van die kerklike debat oor homoseksuele verhoudings gegooi.
Die sogenaamde neutrale middelgrond waarop “gematigde” gelowiges kan wegkruip, raak al hoe kleiner aangesien hierdie saak die wese van die Evangelie raak. Die skeidslyne raak al duideliker: Aan die een kant kry jy die Chris van Wyks en aan die ander kant kry jy die Nelis Janse van Rensburgs en die meer as 54 teoloë wat hulle by hom skaar.
Die een kant kies vir ’n Skrifbeskouing wat strook met die kerklike en reformatoriese tradisie terwyl die ander kant kies vir ’n Skrifverstaan “van onder” waardeur die waarhede van die Skrif nie in stryd met die werklikhede van die tyd kan wees nie.
Ds. Janse van Rensburg is dus reg as hy sê: “Die verdeeldheid in die kerk oor die kern van die kwessie is diepgaande.” Hierdie verdeeldheid is egter nie net beperk tot die gemeentegrense van die NG Kerk nie. Dit is inderdaad ’n saak wat die Kerk in die breë raak omdat dit uiteindelik oor die hart van die evangelie gaan.
Die vraagstuk oor verhoudings tussen persone van dieselfde geslag, wat die kern betref, is ’n vraagstuk wat gelowiges en uiteindelik die kerk se verlossingsleer (soteriologie) gaan ontbloot. Dit daag gelowiges uit om opnuut vir hulself die saak uit te maak of hulle hartgrondig saam met gelowiges oor alle eeue heen kan bely dat Christus opgestaan het uit die dode en die sonde oorwin het.
Die gevolg van hierdie twee verskillende hermeneutiese (Bybelse) vertrekpunte is uiteindelik twee verskillende kerk- en evangeliebeskouings. Bevind jy jouself aan die kant van die Janse van Rensburgs en die 54 teoloë met hul “teologie van diversiteit“, beteken dit dat jy die Kerk as ’n soort hospice beskou. Ons almal ken ’n hospice. Almal is hier welkom, ongeag wat jou terminale toestand veroorsaak het. Dit is die plek waarheen jy gaan om te sterf. Daar word jy so gemaklik as moontlik gemaak totdat die dood uiteindelik intree. Die evangelie en die “Christus” wat hier aangebied word, is soos ’n goeie verpleegster. Dit is nie in staat om jou terminale toestand om te keer nie, maar dit gee ten minste goeie doodsbegeleiding. Dit lawe, maar dit kan nie genees nie. Dit verkondig ’n kragtelose evangelie en uiteindelik ’n dooie “Christus”.
Wanneer ’n mens hierdie kerklike- (ekklesiologiese) en evangeliebeskouing raaksien, verstaan jy ook sekere uitsprake van ds. Janse van Rensburg beter. Hy pleit byvoorbeeld daarvoor dat ’n balans gevind moet word in die kerk deur beide aan Christus en die Skrif vas te hou en terselfdertyd diensbaar te wees aan die gemarginaliseerdes in die samelewing. Die vraag is of gelowiges wat aan Christus en die Skrif getrou is, nie vanselfsprekend ook diensbaar aan die gemarginaliseerdes in die samelewing is nie? Waarom die dualisme so asof die een die ander nie noodwendig insluit nie en ons bloot maar ’n “balans” moet vind?
“Gay mense moet versoen word met die gawe van hul seksuele orientasie”, gaan ds. Van Rensburg voort. Sonde is uiteindelik nie opstand teen God en sy gebod nie, maar word gedefinieer as “wanneer ’n daad of ’n aksie iemand anders benadeel, skade aandoen, seermaak, uitbuit, misbruik en dus menswaardigheid aantas.”
Al hierdie uitsprake getuig van ’n hospice-benadering tot ekklesiologie en soteriologie. Wanneer die evangelie bloot goed genoeg is om sondaars in hul sondige (sterwende) toestand te versorg, word dit van sy uniekheid ontneem. Só ’n evangelie en só ’n “Christus” is nie in staat om die onmoontlike moontlik te maak nie. Daarom roep dit ons op om eerder ’n balans te vind tussen “vashou aan Christus en die Skrif” en “diensbaarheid aan die gemarginaliseerdes” deur die aanvaarding van hul sondige gedrag, aangesien die Christus van die Skrif klaarblyklik nie in staat is om die “gemarginaliseerdes” deel te maak van die “skare oorwinnaars” nie.
Met so ’n hospice-benadering kan dit nie anders as dat daar gepleit word vir die versoening van gay mense met hul seksuele orientasie nie. Die beste wat ons kan doen, is om maar vrede te maak met die feit en dit selfs te vier dat ons terminaal siek is. Wanneer ons die Christus van die Skrif ontmagtig, vervlak ons selfs ons sondebegrip tot humanisme wat meer bekommerd is oor mense se menswaardigheid as die eer van God.
Bevind jy jouself egter hermeneuties aan die kant van die Van Wyks, kan jou kerk en evangeliebeskouing eerder vergelyk word met dié van ’n rehabilitasiesentrum. Ook hier is almal welkom, maar die verwagting is dat jy, soos die kreupel man in die Evangelie, uiteindelik jou bed sal optel en loop omdat jy genees is. Dit is ’n plek van hoop waar die verwagting om anders daar uit te gaan as watjy daar ingekom het, nie teleurstel nie. Hier is Christus nie net ’n verpleegster nie, maar is Hy die geneesheer. Hy is die Een wat uit die dood opgestaan en die sonde oorwin het sodat elkeen wat in Hom glo, in sy oorwinning kan deel.
Met só ’n ekklesiologiese en soteriologiese vertrekpunt hoef daar nie ’n balans gevind te word tussen Christus en die Skrif en diensbaarheid aan die gemarginaliseerdes nie. Die gemarginaliseerdes hoef nie gemarginaliseerd te bly nie. Hulle kan deel word van die skare verlostes wie se ongeregtighede almal met die bloed van die Christus van die Skrif bedek is.
Met só ’n beskouing is dit nie nodig om gays aan te moedig om met hulle seksuele orientasie versoen te raak nie, want nou is versoening met God moontlik. Dit is nie nodig om jou sondebegrip tot die vlak van humanisme te vervlak nie, want oorwinning oor sonde is nie meer afhanklik van my liefdesdade nie, maar van Christus se liefdesdaad van gehoorsaamheid tot die dood.
Gelowiges sal vir hulself die saak moet uitmaak: Hospice of rehabilitasiesentrum? Die een se verwagting is kortstondig en wanhopig, die ander se verwagting is ewig, kragtig en hoopvol. Vir die een is die klip nog voor die graf, vir die ander is die klip weggerol en die graf leeg!
Ds. Schalk Strauss is redakteur van die AP Kerk se maandblad Die Boodskapper.