Kyk ook:
Ben du Toit, outeur van God? Geloof in ’n postmoderne tyd het die artikel “Die mens: Antwoord en ook skepper” hieronder geskryf vir Rapport waarin hy kortliks vertel wat hy in sy nuwe boek, God: Is daar ‘n ander antwoord?, oor homself geskryf het.
Soos Julian Müller is hy ook nou ’n selferkende postteïs – iemand wat aanbeweeg het van teïsme. Postteïsme is eintlik niks anders as ateïsme nie.
Dit is baie duidelik dat Ben du Toit totaal sy geloof verloor het. Hy beweer dat godsdiens nie meer antwoorde het op die vrae van die lewe nie. Opvallend, hy praat nie eers van God nie, maar bloot van godsdiens.
En onthou, hy het maar onlangs afgetree. Hierdie gedagtes kom al baie lank. Ten spyte daarvan het hy sy volle termyn as werknemer in die NG Kerk uitgedien. Inteendeel, die NG Kerk leierskap het hom deur die jare in prominente posisies gebruik en selfs beskerm teen dwaalleerklagtes (soos die een van Wynand Louw).
Kyk God: Is daar ‘n ander antwoord? vir ’n lys van reaksies hierop.
*************
Die mens: Antwoord en ook skepper | Netwerk24
Deur Ben du Toit
15 November 2020
Kan godsdiens nog ’n bydrae lewer tot die groot uitdagings van ons tyd? Die antwoord, glo Ben du Toit, lê in “post-teïsme” en die strewe na ’n radikaal bevrydende humaniteit.
In die afgelope meer as 30 jaar het ek, as deel van ’n kontingent van teoloë in die kerk, konsekwent daarteen gedebatteer dat God as “die outeur van die kwaad” beskou sou word. Nee, die kwaad in die wêreld is die gevolg van menslike keuses, of die noodwendige skadukant van die skepping, of, in sommige kringe, die werk van die boosheid in mense, of, in nog gevalle, die werk van die duiwel self.
Ongelukkig kon geen van hierdie argumente met ’n goeie logiese verklaring of antwoord kom wat nie op die een of ander manier die integriteit van God op die spel plaas nie. Behalwe natuurlik, soos reeds gesê, om almal uiteindelik te herinner aan die misterie van God se wil, wat ons nooit (aan hierdie kant van die graf) sal verstaan nie.
Maar om jouself so te beroep op die beperktheid van die menslike verstand (wat buig voor die misterieuse wil van God), amper of die erkenning daarvan ’n deug is, is vir baie mense geensins meer ’n bevredigende uitvlug nie.
Die ou teologiese trilemma klop onwillekeurig in al hierdie gevalle aan die deur: Hoe is dit moontlik dat God tegelyk alwetende en almagtig, asook liefdevol, kan wees?
Dit was veral om die sin-vraag te midde van al die ellende, lyding en rampe wat mense tref waarin die wil van God in terme van sy almag, liefde en alwetendheid toenemend problematies geword het, dat die geloof in God uitgedaag is.
En gedurende my lewe as deel van die geloofsgemeenskap was dit dan veral die temas van eenheid, geregtigheid en menswaardigheid wat prominent gefigureer het – veral as ’n uitdaging teen hierdie konseptualisering van ’n metafisiese wese wat oënskynlik oor alles beheer het, maar uiteindelik tog oneffektief blyk te wees om die lot van die mensdom beter te maak.
Daar is ’n Antwoord.
Nadat alles gedink, gesê, gedoen en geleef is, is ek baie dankbaar dat ek vir myself by ’n bepaalde antwoord oor al hierdie vraagstukke uitgekom het.
En vir my is hierdie antwoord helder en duidelik. Dit begin as ’n eenvoudige stelling – onbetwisbaar en onaanvegbaar (so meen ek) deur enigeen en in enige posisie. Dis soos die hoofskakelaar in die verspreidingskas van ’n huis se elektriese netwerk wat met ’n enkele meganiese aksie twee punte van die stroom aan mekaar koppel. Dit kan net aan of af wees.
Lewe of dood.
Die antwoord is: Ek is ’n mens.
Ek is ’n mens met ’n brein. Ek is as mens met ’n brein ’n produk van ’n lang evolusionêre proses.
Daar was geen transendente, metafisiese mag of God as skepper by betrokke nie. Ek is die resultaat van ’n biologiese proses.
Dis die waarheid. Dis die eenvoudige deel. Dis die begin (maar ook die einde) van alles. En my brein beheer my, beheer alles. Die werking daarvan is onvoorstelbaar kompleks. Net soos die hoofskakelaar in ’n gebou met een meganiese beweging onmiddellik aan die hele gebou elektrisiteit verskaf, is dit in die geval van die mens se brein ook die geval. Die brein bedien die hele lyf van energie deur middel van ’n senustelsel, wat ’n netwerk van ingewikkelde elektroniese impulse deur die hele liggaam dra.
Net soos elektrisiteit deur middel van ’n netwerk van drade in die huis se struktuur na al die vertrekke van die huis geneem word. Hierdie energie word versprei, maar ook opgedam (deur weerstande) om aksies tot gevolg te hê, om bepaalde doelstellings te bereik: lig, hitte, klank, tegnologiese verbindings – alles wat die huis in verbinding bring met die hele land en die wêreld.
Een ononderbroke netwerk van energie wat om die hele aardbol strek en selfs tot in die ruimte.
So beheer my brein my. En dit gebeur volgens ’n bepaalde patroon wat in die brein vasgelê is. Die brein word al van voor my geboorte geprogrammeer.
Hierdie programmering vind met ’n onbeskryflike verhoging in intensiteit en spoed plaas nadat die geboorte plaasgevind het. Dit word beïnvloed deur duiselingwekkend baie en uiteenlopende invloede: biologiese, fisiologiese, sosio-ekonomiese, politieke, filosofiese, geografiese, historiese en talle ander faktore. En, helaas, ook godsdienstige denke en die metafisiese konsepte wat daarmee gepaardgaan. Die mens is die skepper daarvan.
Uiteindelik word ek en my skeppende brein dus keuseloos binne ’n bepaalde konteks aangetref en word ek blootgestel aan die wel en wee van die lewe: vreugde, hartseer, liefde, ontnugtering, opwinding, dood, siekte, lyding, bevryding, huwelik (of nie) en/of persoonlike verbintenisse van verskillende aard en ouerskap (of die gebrek daaraan).
Elkeen van ons wat leef, weet dat dit bepaalde risiko’s inhou. In hierdie kort sinnetjie is elke woord belangrik, dra dit swaar aan betekenis.
Dis die realiteit waarin elke mens onder watter omstandighede ook elke dag lewe.
Maar vandag weet ek ook dat, hoewel ek blootgestel is aan talle invloede van buite en hoewel ek onafwendbaar in ’n bepaalde politieke, sosiologiese en ekonomiese omgewing lewe – wat vanselfsprekend ’n bepaalde beheer oor my uitoefen – my lewe nie beïnvloed of beheer word deur enige tipe metafisiese entiteit of mag of energie wat iewers in “die hemel” gesetel is en aan wie ek keuseloos uitgelewer is nie. Nee, my lewe word beheer deur die verstommende skeppende vermoë van my brein – en die sosio-histories-kulturele konteks waarbinne dit funksioneer. Trouens, so het ons gesien, daar is niks in die hemel wat nie op aarde gemaak is nie.
Natuurlik het ek geen of weinig beheer oor die fisieke, geografiese konteks (die natuurlike gang van die wêreld) waarbinne ek my bevind – en die tipiese wel en wee van die gemeenskap waarbinne ek leef – nie, maar wel oor hoe ek daarop reageer.
Soos reeds gesê, is ek van hierdie eksterne, spirituele magte radikaal bevry.
Albei hierdie woorde is uiters belangrik. Dis ’n verligtende bevryding van enige tipe godheid of metafisiese mag – en dis algeheel radikaal.
Nie half-half nie. Hierdie wete help my juis met die lewe – en met die onafwendbare dood van alles, almal, ook my eie – wanneer die hoofskakelaar afgesit gaan word. Ek hoef nie daaroor te wonder nie. Ek hoef nie in onsekerheid te lewe nie. Ek leef dan ook daaroor in geen onsekerheid nie en dit verskaf my soveel gerusstelling en aanvaarding van die vreugde van die lewe hier en nou.
Hierdie posisie verteenwoordig ’n Kuhniaanse paradigmaverskuiwing: met ’n ou paradigma en ’n nuwe paradigma. Die nuwe kan die oue verstaan, was daar en verstaan die psige daarvan. Vir die oue is die nuwe een egter ’n bedreiging wat ontstel, terwyl ’n mens slegs die nuwe een van die oue na regte kan beoordeel en waarneem.
Wat bedoel ek daarmee?
Ek sien om my hoe godsdienstige mense (diep toegewyde mense, sowel as diegene wat meer lukraak met hul geloof omgaan) worstel met die vrae van die lewe – met die doel van God vir hul lewe.
En glo my, dit roer my diep, ontstellend diep. Ek sien, hoor en beleef elke dag hoe ’n (gelowige) lewe uitgelewer aan die een of ander metafisiese mag mense nie regtig help nie – veral nie met die swaar, die lyding en die dood (van hulself of hulle geliefdes) nie.
Die enigste troos waaraan hulle vashou, is die geloof van hul eie voortbestaan ná die dood in die een of ander toestand (waarin hulle met hul ontslape geliefdes verenig sal word), waarvoor daar absoluut geen bewyse is nie – behalwe wat in godsdienstige filosofieë op grond van ou, antieke, premoderne “heilige” tekste (soos die Bybel) aan hulle belowe word. En die Bybel, so herinner Wilhelm Jordaan ons, is “ ’n versameling mensewoorde, geïnspireer deur gelowiges se verstaan van dit wat hulle ‘God’ noem”.
Mens verbaas jou net daaroor, oor hierdie komplekse geloofstryd waarin mense, naby aan jou en ver weg, worstel in preke en Bybelstudies, in godsdiensartikels in koerante en tydskrifte, in teologiese refleksies en in die afsondering van plekke waar hulle hul bevind, terwyl jy diep dankbaar is daarvoor dat jy jou nie meer in daardie onsekere denkpatrone verstrengel bevind nie.
Vroeër het ek geskryf oor die feit dat godsdiens die vermoë verloor het om werklik probleemoplossend te funksioneer. Dis iets wat ons juis weer vandag sien in die hele wêreld se hantering van die Covid-19-pandemie – dat godsdiens as oplossende entiteit sy funksie totaal en al verloor het. Trouens, enige poging om God betrokke te maak bring hom in die moeilikheid. Dit weerhou (versluier) mens om die realiteite van die lewe in die oë te kyk en te hanteer.
Dit is die wetenskap waarop almal dus nou formeel steun – selfs al weet hulle dat dit ook altyd sy beperkings het.
Die een nuusberig ná die ander stel dit duidelik dat feitlik alle lande hul optrede nou laat bepaal, selfs op ’n daaglikse en uurlikse basis, op die inligting wat hulle van die multiwetenskaplike analises ontvang. [Miskien is dit die rede hoekom die wêreld vandag in hierdie benarde situasie sit. Mense steun op die wetenskap in plaas van God. En in baie gevalle is hierdie “wetenskap” ook nie eers wetenskap nie. Om ’n voorbeeld te noem: Volgens die wetenskap word jy nie gay gebore nie, maar tog kies die samelewing om hierdie feit te ignoreer en hulle eie kop te volg.] Natuurlik is daar vele vrae – en so sal dit altyd wees – waarop daar nog nie antwoorde is nie. Ook die voorstelle en aanbevelings uit wetenskaplike konteks gaan weer onder die vergrootglas kom en tot nuwe resultate kom. Maar daarom word wetenskaplike navorsing teen ’n verhaasde tempo minuut ná minuut ingespan (byvoorbeeld om ’n entstof te ontwikkel), om op ’n holistiese manier te help met die neem van bepalende besluite oor die beste optrede wat die toekoms van die mensdom bepaal.
Hiermee kan godsdiens ons op geen manier help nie. Nie dat daar nie talle pogings daartoe is nie, maar helaas het dit hoogstens betekenis vir diegene wat daarin glo. Dit wil sê, as dit nie tot uiting kom in nog ’n worstelgesprek met God en sy wil nie.
Weer dus die woorde van die dubbele Nobelpryswenner Marie Curie: “Nothing in life is to be feared, it is only to be understood. Now is the time to understand more, so that we may fear less.”
Die kennis van die waarheid oor jouself en die wêreld waarin jy lewe is die bron van jou geluk en vrede (aldus Harari). Dit is hierdie waarheid, wat soms te oorweldigend is om ten volle te begryp, waaroor ’n mens soms woordeloos in verwondering gelaat word, wat vry maak.
Ek maak dus die keuse om myself nie verder te laat definieer deur die afwesigheid van ’n geloof in God of die afskeid van ’n geloofsgemeenskap nie. Daarvoor is ek te bewus van die feit dat ek, soos alle mense, keuseloos deel is van die heelal, wat altyd in ’n voortgaande proses is om te word.
Kyk maar na die weerstelsels: Daar is geen begin of einde nie; die een ontwikkeling volg die ander een naatloos op sonder enige verposing – en eintlik, in der waarheid, is daar nie ’n onderskeiding
van nag of dag nie, maar die immer tollende aardbol in ’n wentelbaan om die son, met ’n wentelende maan wat die son se lig altyd, of vir “die eerste keer” waargeneem, weer reflekteer. Terwyl ons op ’n gegewe geografiese posisie deur die afwisseling van lig en donkerte ’n patroonmatige geleentheid op geleentheid gegee word om te ervaar en te beleef, maar ook om te rus en tot slapende verhaal te kom, gaan die lewe en die gang van alles onafwendbaar oral voort.
Daar is dus nie ná (“beyond”) God niks oor nie. Vir die mens om te floreer (“human flourishing”, om Charles Taylor se konsep te kaap) is ’n herskepping van godsdiens nie nodig om die een of ander leemte te vul nie.
Inteendeel.
’n Mens besef nou eers watter inhiberende mag godsdiens het – juis op “human flourishing” en die broodnodige fokus op die voortgaande bestaan van die aarde, op die ideaal van om te leef en te laat leef, om jouself te weerhou van skadelike optrede teenoor mense en ander diere.
Die lewe is kosbaar en kortstondig en daarom is die sin daarvan juis daarin te vind om met oorgawe te leef.
En wanneer die oorweldiging deur hierdie waarheid vir ’n mens te veel is om te begryp, te omvattend is om volledig te integreer, selfs soms te vreemd is om te konseptualiseer, dan bly daar nog die wonderlike kreatiewe vermoë van die mens om kuns (in alle denkbare uitings daarvan) te skep waarmee hierdie werklikheid leefbaar geharnas word.
Ek het voorheen verwys na die woorde van Nietzsche: “We have art so that we shall not perish by the truth.”
Inderdaad, die mens het hierdie wonderlike vermoë om te skep, om die realiteite wat elke dag ons deel is op bepaalde maniere te hanteer, of deur wetenskaplike navorsing en die ontwikkeling van teorieë op alle denkbare terreine, of deur die skepping van kuns deur te skilder, te modelleer, te formuleer met woord, spel en klank – noem maar op.
En dit alles het sy oorsprong in die brein – in die brein van elke individu, sowel as in die kollektiewe “brein” van ’n gemeenskap. Daarom dat hierdie boek op die vraag na God (?) reageer met die woorde: Daar’s ’n ander antwoord.
Dit is die mens wat skepper is, nie God nie.
Daar is vir my ’n diep romantiese assosiasie met ’n plaashek en ’n tweespoorpad. As kinders op die platteland moes ons uitklim om die hekke oop te maak.
Eers was jy te jonk daarvoor en het die ouer kinders dit gedoen. Met sommige hekke moes die grootmense kom help, of die groter kinders. Maar as daardie knip losgemaak is en die hek word oopgestoot, maak dit die pad oop vorentoe.
Dit is hierdie beeld wat Uys Krige in gedagte het in sy treffende gedig “Plaashek”. Ek gee hier die laaste vier reëls weer waarmee ek dan ook afsluit – wat die emosie en die gevoel van bevryding in my onverbeterlik verwoord. Dit eindig as volg:
Die stilte in my’s volkome met
niks troebels, niks verward.
Ek lig die knip . . . ek maak
’n hek oop in my hart.
Puik artikel Ben. Ek kom ook uit geslagte se NG opvoeding en het 10jaar terug die lig gesien en bevryding gesmaak. Dan is die gekheid en bisarre verduideliking om die gekkighede van slawe en offers te verduidelik en kamstige liefdevolle god vir wie daar tot reen gebid word maar tsoenamies,orkane en covid stuur hy dan sommer self?Of seker weer die duiwel. Die skeppingsverhaal wat begin met “aan die begin”. Wanneer is die begin en wie is aan die woord en langs die god wat sy gedagtes en gewaarwording so neerskryf?Ons kort meer sulke bydraes van oud storieverkopers soos jy om n einde aan die snert te bring.
Werklik, julle is die mense! Die wysheid sal saam met julle sterf! (Job)
Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. (Dawid)
… wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.
Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.
Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword… (Paulus)
Antwoord ’n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie. (Salomo)
Ek sal vra, antwoord jy My. Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?
Jy weet dit seker wel, want jy is toe gebore! En die getal van jou dae is groot!
Wil die berisper met die Almagtige twis? Laat hy wat God teregwys, hierop antwoord!
(Job)