Die mislukte huisgesin en hoe om dit te voorkom
deur
HA le Roux
Voorwoord
Hierdie pamflet is in 1927 deur ’n sendeling van die NG Kerk in Bethlehem geskryf. Hy het die armblankevraagstuk van sy eie mense aanskou. Met die pamflet wat hy die lig laat sien het wou hy ’n bydrae lewer tot die opheffing van die huislike lewe van sy volk.
Vandag het ons nie meer die armblankevraagstuk nie maar die probleem van die mislukte huisgesin duur nog voort. Dit is nou miskien belangriker as ooit om steeds na te dink oor hoe ons lewe en behoort te lewe in die huis. Hierdie pamflet word in ons gemeente van Secunda versprei om as basis van gesprek te dien by ons wyksbyeenkomste. In die snel veranderende tye wat ons beleef is dit goed om die betroubare waarhede en wyshede van gister te herontdek. In hierdie boekie kry ons die leringe waarop duisende voorspoedige en gelukkige huisgesinne oor baie jare in ons vaderland gebou is. Mag ons genade ontvang om die simptome van mislukking vroegtydig te identifiseer. Laat ons saamwerk om huisgesinne te bou waarin die Here gedien en verheerlik word.
Ds. J.D. Louw (Namens die kommissie vir Ampsbediening en Evangelisasie)
Augustus 1985
********************
Die mislukte huisgesin en hoe om dit te voorkom
Met die term “Mislukte Huigesin” bedoel ons die huisgesin wat van sy taak en roeping ’n mislukking maak, wat skipbreuk gely het op die lewenssee.
1 Die mislukte huisgesin op tydelike gebied
Ons dink aan die huisgesin wat op tydelike gebied ’n mislukking is, wat in hierdie ryk land met sy goedkoop arbeid nie genoeg het of kan verdien om hulle self met kos of klere te voorsien nie en ’n respektabele lewe te maak nie. Ons dink met liefde en eerbied aan die arme.
Ons dink veral aan die armblanke huisgesin, wat dieselfde seëninge geniet as ander huisgesinne, maar hulle kom nie vorentoe in die wêreld nie. Hulle gaan agteruit en sink van dag tot dag dieper in die ellende in plaas van om vorentoe te kom. Die kinders wat in hierdie huis opgroei, in hierdie atmosfeer en onder hierdie voorbeeld van slapheid en sorgloosheid, maak in die reël nie ’n sukses van die lewe nie, tensy hulle van buite-af gered word.
Ons wil sommige van die oorsake van hierdie mislukte toestand noem:
1. Onbevoegdheid om eie baas te wees. Almal is nie bevoeg om werklik sy eie baas te wees nie. Elkeen is nie bekwaam om homself en sy eie sake te bestuur nie. Menigeen maak onder die bekwame bestuur van ’n ander ’n sukses van die lewe, waar hy as bestuurder van sy eie sake ’n totale mislukking is. Ons dink aan huisgesinne uit die beste families van ons dierbare kerk en volk met wie dit die geval is. Ons dink aan persone wat nie kan “nee” sê nie, waar hulle gevra word om borg te teken of te gaan alkohol gebruik in ’n publieke drinkplek. Ons dink aan die wat geen oorleg het, geen gawe om te bestuur nie. Dis g’n skande om onder ’n goeie baas of bestuurder ’n sukses van die lewe te maak nie.
2. ’n Tweede oorsaak is die gemis aan ’n lewensroeping. Vra die vele wrakke daar op die strand van die lewenssee: “Wat is jou werk, wat is jou beroep?” In baie gevalle sal die antwoord uiters onbevredigend wees. Baie sal antwoord: “Ek kan ’n bietjie hieraan en daaraan werk, maar ’n beroep het ek nie en ’n ambag ken ek nie.” Daar is selfs moeders wat skynbaar nie die grootheid en belangrikheid van hulle hoë roeping besef nie, een van die hoogste roepings waartoe ’n sterfling geroep kan word, die roeping van huisvrou of huismoeder. Onsekerheid by ’n persoon omtrent wat sy lewenswerk is, maak van hom ’n mislukking. Die man wat vandag ’n boer, môre ’n winkelier en oormôre ’n spekulant is, is die volgende dag ’n groot nul.
3. Gebrek aan volharding is weer oorsaak van die mislukking van vele andere. Waar die staal van volharding nie in ’n karakter en lewe is nie, daar loop dit vroeër of later op ’n mislukking uit. En as die ouer se lewe ’n mislukking is, dan maak hy ook van sy huis ’n mislukking. Ouers wat begeer om hulle kinders so op te voed, dat hulle ’n sukses in die lewe sal wees, moet sorg dat hulle hierdie deug in die karakter van hulle kinders inbou — die deug of die karaktertrek wat genoem word “volharding”.
4. ’n Vierde oorsaak van mislukking is alkoholdors. Alkohol is die gif wat in sterk drank is. As iemand met hierdie dors speel tot hy sy wilskrag, sy manlikheid verloor het, dan is dit klaar met hom; dan drink hy al sy besittings uit. Hoe groot is die aantal huisgesinne in Suid-Afrika, wat om hierdie oorsaak ’n hopelose mislukking op die lewenspad geword het! Hoeveel vaders en moeders uit die beste huisgesinne van ons volk, staan ons op die oomblik voor die geestesoog, wat vandag hierdeur met hulle kinders in die jammerlikste armoede sit!
5. Gebrek aan boekhoukuns is ’n ander oorsaak van die mislukte huisgesin. Hoeveel is daar onder ons dierbare volk wat die eerste reëltjie van die boekhou wetenskap nie ken nie, nl. dat iemand se uitgawes sy inkomstes nie mag oortref nie!
6. Gebrek aan ekonomie is weer ’n oorsaak van mislukking. Gebrek aan spaarsaamheid het vele welgestelde huisgesinne tot die bedelstand gebring. Die kinders moet in die huis geleer word dat ’n stoel waarde het, dat ’n koppie en ’n bord waarde het, dat die tuig, die riem en die eenvoudigste stukkie gereedskap waarde het.
7. Luiheid is ook ’n oorsaak van mislukking. Luiheid of traagheid by vader of moeder sleep die hele huis ten gronde. Teen luiheid en gemaksug moet gewaak word.
8. Nog ’n oorsaak van ondergang op tydelike gebied is oneerlikheid. Die oneerlike man kan nie die seën van God op sy tydelike sake afbid, solank hy in oneerlikheid volhard nie. Hy kan bid ja, maar hy moenie verwag dat hy verhoor sal word nie. Die man wat oneerlik is, is in die samelewing spoedig bekend en word dan deur mense vermy. Die boer en besigheidsman kan nie ’n oneerlike man in diens neem nie. Die leuen en oneerlikheid betaal nie. Wil iemand van sy tydelike besigheid ’n sukses maak, dan moet hy hom weghou van oneerlikheid en leuentaal. ’n Ouer wat hom aan leuentaal en oneerlikheid skuldig maak, sal dit nie altyd vir sy kind kan verberg nie. Ek het onlangs weer op ’n bekende plaas gekom, waarop tevore twee skynbaar gelukkige Afrikaner-huisgesinne gewoon het. Hulle was bywoners. Ek vind daar toe maar een. Op my vraag: waar die ander een was, kry ek tot antwoord, dat die eienaar uitgevind het, dat hy nie sy volle deel inkoms van daardie man gekry het nie. Hy het hom toe maar laat gaan.
2 Die mislukte huisgesin op huislik en maatskaplike gebied
1. Die mislukte huisgesin vind ons daar waar vader en moeder hulle gewone voorregte en pligte jeëns mekaar nie ken nie, ook nie erken of volbring nie; dis daar waar ouers die verantwoordelikheid, pligte en voorregte van ouerskap nie begryp nie. Hierdie ouers begryp nie wat hulle werk en pligte is nie, en in plaas van hulle kinders te lei en op te lei, word hulle deur die kinders gelei.
2. Die mislukte huisgesin moet ons daar soek waar die ouers vir die opvoeding van hulle kinders nie tyd het nie. Vele ouers het tyd vir baie dinge, vir plesier, ydelheid, rykdom, om te arbei en goed te doen aan ander, maar om sistematies en getrou tyd te neem om hulle eie kinders te bearbei, daarvoor het hulle nie tyd nie. Selfs goeie dierbare ouers maak ’n mislukking van hulle vernaamste werk op hierdie punt. Sonder dat hulle juis met opset meen om dit te doen, word hierdie gewigtigste ouerplig tog verwaarloos. Al doen iemand goeie werk buitekant sy huis, en bearbei sy kinders nie, dan het hy sy grootste werk ongedaan gelaat en sy grootste rykdom verwaarloos. Geen Christen vader, van watter werk ookal, is te verskoon as hy die opvoeding van sy kinders alleen op die moeder laat afkom nie. Hoevele huisgesinne uit die beste en edelste families in ons land is misluk, omdat daar nie genoegsame tyd en sorg bestee is aan die kinders nie! Watter deerniswekkende gesig tref ons soms aan op die lewenspad, waar ons oog gevestig word op ’n mislukte lewe! Pynlik vermenigvuldig die gedagtes in ons, as ons bedink, dat dit ’n spruit is uit een van ons beste en vooraanstaande families en dat dit ’n sukses kon gewees het met meer sorg en getrouer bearbeiding.
3. Die mislukte huisgesin moet verder daar gesoek word waar tugteloosheid heers, daar waar daar gebrek is aan dissipline, aan reëls en orde: waar die regte atmosfeer en lewensrigting ontbreek. Waar tugteloosheid heers op tydelike, huislike, maatskaplike en godsdienstige gebied, daar kan niks anders verwag word as dat daardie huisgesin op ’n hopelose wrak sal uitloop nie. Die skrywer het lank gelede een nag geslaap in ’n huis, waar die kindertal bestaan het uit drie seuns, wat die verfynende en veredelende invloed van ’n suster moes ontbeer. Die môre moes een van die seuns vroeg na die dorp gaan, twintig myI daarvandaan. Al drie het lank voor dagbreek opgestaan. Aan geraas het dit toe nie ontbreek nie. Die deure is herhaalde male met die grootste gedruis toegeslaan. Die gedagte het opgekom: Wat moet tog van hierdie drie kinders word, wat so min respek het vir hul moeder en vader, wat nog besig was om te rus? Tot hiertoe het al drie maar ’n swakke figuur geslaan in die samelewing.
Die hartelose toepassing egter, van reëls, orde en tug sal nie veel uitrig nie. ’n Huisgesin moet gebou word met tere belangstelling en liefde. Tug beteken nie net om te slaan nie. Tug is dissipline. Slaan is soms die gouste en maklikste straf. Maar onverstandig slaan het baie lewes verwoes, in plaas van hulle te red.
Die kinders van ’n huis moet almal help om die toon van hulle huis hoog te hou. Die kind wat deur sy moeder teruggeroep word om sy stoel sonder geraas van tafel af te verwyder en die deur saggies agter hom toe te maak, moet daardie moeder baie hoog skat. Sy is besig om hom ’n les te leer, wat hy op die lewenspad sal nodig kry.
Die vader en moeder moet saam staan en saam stem, wat die huislike bouwerk betref. Dit kan alleen op mislukking uitloop, as die een ouer afbreek wat die ander opbou.
3 Die mislukte huisgesin op kerklik en godsdienstige gebied
Die vernaamste oorsake hiervan is kortliks die volgende; daar is g’n goeie voorbeeld in die huis nie; daar is geen gereelde huisgodsdiens, ook geen binnekamer en ’n biduurtjie saam met die kinders nie.
Die kinders word nie geleer om gereeld met hulle môre- en aandgebed te wees nie, en Gods Woord gereeld in hulle binnekamer te lees nie. Die kinders word nie geleer om gereeld vir die Heer en Sy werk te gee nie.
Soms ondervind die diaken, dat die ouer nadeliglik sy invloed op die kind laat geld, waar die kind ’n begeerte gehad het om ruimer vir die Here te gee. Daar word ook nie deur die ouer toegesien dat sy kind elke Sondag op sy plek in die Sondagskool is nie. Die kinders word ook nie geleer om gereeld op hulle plek in die kerk te wees nie.
‘n Paar weke gelede het die skrywer op ’n Sondagmôre ’n mooi sterkgeboude jongman op straat aangetref wat blykbaar nie op weg kerktoe was nie. Hy is uit een van ons Mislukte Huisgesinne. Die gedagte het dadelik opgekom: hoe anders kon hierdie lewe gewees het, as hy gereeld elke Sondag op sy plek in die kerk was. Die godsdiens van die Here Jesus is die magtigste hefboom tot opheffing en opvoeding van ’n mens.
Die enigste redmiddel hier is, dat die Here Jesus in daardie lewe en daardie huis moet ingelaat word. Dan sal mislukking en vrugteloosheid moet plek maak vir vreugde en sukses.
‘n Bekeerde, toegewyde en arbeidsame hoofonderwyser word onlangs in een van ons vername dorpe aangetref deur een van sy universiteitsvriende. Die vriend het hom op skool en in die universiteit geken as ’n onbekeerde, onverskillige jong mens. Die groot verandering in sy lewe was dadelik opvallend. Toe hulle twee alleen bymekaar was, vra sy vriend aan hom of hy die oorsaak mag weet van hierdie groot verandering in sy lewe. Sy antwoord was: “Ek het uitgevind dat ek sonder die Here Jesus nie van my lewe ’n sukses kan maak nie.” En nou is hy besig om nie alleen van sy eie lewe in die diens van Jesus ’n sukses te maak nie, maar hy is ook besig om ’n sukses te maak van die vele jong lewes aan sy sorg toevertrou.
4 Die voorkoming van ’n mislukte huisgesin
Ons dink veral aan voorkoming van mislukking by ons kinders, die kosbaarste skatte wat God aan ’n huis, ’n volk, ’n kerk toevertrou het. Die mense wat mislukking moet voorkom met die hulp van God is in die eerste plek die ouers. Ander opvoeders moet hierin met die ouers meewerk. En waar mislukking aanvanklik om een of ander rede of versuim reeds ingetree het, wil God ouers en opvoeders gebruik om mislukking te laat plek maak vir sukses. Daartoe help God genadiglik die ouers en opvoeders van hierdie land.
Enkele raadgewings uit ondervinding, veral aan ouers, word ons vergun in alle beskeidenheid:
- Gee u kinders deur woord en wandel altyd ’n goeie voorbeeld. Die gedrag van die ouer is die eerste en die laaste boek, wat deur elke kind gelees word.
- Laat u kinders gereelde, genoegsame en gesonde ontspanning hê.
- Kweek by u kinders gewoontes van vlyt en leer hulle die waarde van tyd. Leer u kinders al die goeie maniere wat ’n suksesvolle mens orals en onder alle omstandighede nodig het, ook by die stuurwiel op die pad. Leer u kinders om baie presies en netjies op hulle persoon en werk te wees en op alle gereedskap wat hulle mag nodig hê in hulle werk.
- Help u kinders om goeie boeke en blaaie te lees, ’n Sommetjie geld, wat elke jaar gereeld hieraan gewy word, is goed bestee.
- Help u kinders tot die geselskap en omgang van goeie vriende.
- Leer u kinders pligsbesef en kyk self dat die pligte, wat aan hul opgedra is, goed en deeglik gedoen word. As dit nie goed en reg uitgevoer is nie, dan stuur u hulle om dit oor te doen. Moenie toelaat dat pligte wat u aan hulle gegee het, aan ander of aan bediendes oorgemaak word nie.
- As u in ’n dorp woon, hou u kinders van die straat en van rondlopery af. Hou vir hulle werkies klaar vir ten minste ’n deel van die Saterdag.
- Probeer dikwels in u huis as gaste te hê mense, van wie u kinders iets goeds kan leer en kan hoor.
- Leer u kind vroeg om gehoorsaam te wees.
- Ouers, sorg dat u soveel moontlik tuis is in die jare wanneer u kind u raad en leiding die nodigste het. Die tyd wat u u kind in u huis en onder u persoonlike leiding sal hê is baie kort.
- Wees baie versigtig met lyfstraf. Ouers en onderwysers moet toesien om nooit lyfstraf toe te dien in teenwoordigheid van ander nie; dis demoraliserend en verwoestend vir alle selfrespek. Straf nooit in toorn nie en wees nooit wreed in u toedien van straf nie.
- Sorg altyd dat u tafelgesprek opvrolikend, boeiend en opvoedend is en van so ’n aard dat almal dit kan geniet. Al wat gemoedstorend kan wees, moet van die tafel geweer wees. Werkies vir die kinders moet nie aan tafel uitgedeel word nie; ook moet nie aan tafel verslag daarvan gevra word nie, want dit is nie interessant vir al die aansittendes nie.
- Sorg dat die orde en reëls van u huis streng gehandhaaf word en onthou dat ’n mens dit langs die weg van liefde en oortuiging veel verder bring, as langs die weg van oortollige straf, foutvind en verwyt. Wees saam met u kinders altyd betyds aan tafel en leer u kinders om die werk van moeders en susters in die huis en aan tafel te eerbiedig en nooit te minag nie.
- Kies altyd vir uself en u kind; deug, karakter en van God geseënde sukses, bo rykdom, aardsgenot, weelde en gemak. U dogter is veel beter af vandag en vir die toekoms met ’n mooi, besliste en christelik versierde karakter as met ydele opskik en al die ander ydelhede van hierdie wêreld. U seun is beter af met ’n vasberade karakter en die regte lewensbeskouing, as met ’n groot besitting.
- Daarom is dit van die hoogste belang om veel tyd te neem om by ons kinders karakter te skep en op te bou. Kinders is die kosbaarste besitting van ’n ouer, ’n huis en ’n volk en daarom moet aan die versiering, nuttigheid en bruikbaarheid van hierdie besitting meer tyd en geld bestee word, as aan alle ander aardse besittings. Leer u kind die onmisbare karaktertrek van spaarsaamheid. Reël u sake so dat elke kind sy eie Spaarbankboekie het, waarin hy self soms ’n spaargeldjie moet gaan belê.
- Ouers en opvoeders van kinders, handel tog maar taktvol, menskundig en liefdevol met die onsterflike lewes wat aan u sorg toevertrou is.
- Soek altyd vir uself en u kind al wat edel, goed, rein en heilig is. Sorg tog dat u ’n gereelde intekenaar op die Kerkbode is. Lei u huisgesin so dat hulle lief word vir die Kerkbode. Daar is elke week ’n mooi kinderdeel in die Kerkbode en as u u kinders met sorg daarop attent gemaak het dan word hierdie kinderdeel een van hulle mees geliefde stukkies leesstof.
- Leer u kind bedagsaamheid en onselfsugtige hoogagting vir ons medemens. Praat in teenwoordigheid van u kinders nooit kwaad van u medemens nie.
- Wees die deelgenoot in die vreugde en leed van u kinders.
- Vertel u kind nooit ’n leuen nie, hoe klein die kind ook mag wees. Bedrieg hom nooit en breek nooit u belofte aan hom nie.
- Sorg dat u kind, elkeen na sy aard en bekwaamhede, veel aandag en aanmoediging van u geniet. Moedig hom aan in al wat edel en verheffend is. Laat u kind voel dat die ouerlike huis vir hom die gelukkigste plek op aarde is.
- Gee u kind lesse deur woord en voorbeeld in die deug van volharding.
- Maak u kind soms attent op sekere daaglikse gebeurtenisse en wys in eerlikheid op die nadelige en voordelige daarvan en help so die onderskeidingsvermoë van u kind aan.
- Laat u kind verstaan dat u hom vertrou en op hom reken en leer hom om die vertroue te waardeer en dit nooit teleur te stel of te skok nie.
- Stel belang in wat vir u kind van belang is en skok nooit sy vertroue nie en dan het u die sleutel van die kinderhart.
- Gee uself eers aan God en dan aan u kind. U en u kind behoort aan God omdat Hy die eerste reg op u het. Gee aan God wat Syne is. Wees konsekwent in u lewe wat aan God toegewy is.
- Kweek by u kind ’n gevoel van beskeidenheid, selfrespek en selfstandigheid. Hy het dit gedurig nodig op die lewenspad.
- Bid veel vir u kinders. Bid dikwels saam met hulle. Wees gereeld en getrou met u huisgodsdiens in die môre en die aand en wees nooit te haastig om een of meer versies te sing uit ons Psalm en Gesangeboek nie. Sing is ’n vername en vrugbare deel van ons huisgodsdiens. Wees getrou in u binnekamer. Die onmisbaarheid van die binnekamer in die Christen se lewe moet by ons kinders ingeskerp word.
- Sorg dat u daarin slaag met die hulp van God, al kos dit hoeveel tyd, arbeid en gebed, om u kinders te besiel met die hoogste en beste lewensideale, anders is al u opvoeding en opoffering tevergeefs.
- As u kinders uit die huis gaan, hou sover moontlik, gereeld briefwisseling met hulle en sit u besielingswerk in u briewe voort, totdat u sien dat u doel bereik is en die kinders op die weg is om die beste te maak van hulle kort en kosbare lewes. Hieromtrent sal u kosbare wenke kry in die lewensbeskrywing van Dr. A. Murray.
Volg u hierdie wenke op met ’n eerlike, Godvresende en biddende hart, dan gee ons u die versekering, dat arbeid in die Heer nie tevergeefs sal wees nie.
Met heilbede van die skrywer.