Die NG Kerk en gays: ‘Tyd vir herbesin’

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Rapport verskyn. Kyk ook Jan Louw en Gideon Aggenbag se kommentaar:

*********

Die NG Kerk en gays: ‘Tyd vir herbesin’ | Netwerk24

Sondag 28 Junie 2015 09:42

Dit is tyd dat die NG Kerk herbesin oor die gay-kwessie, skryf Frits Gaum.

Die NG Kerk het te staan gekom voor diep verdeeldheid in eie geledere, skryf die kerk se amptelike blad, Kerkbode, onlangs.

Nie net het die verloop van die stemming oor die opsionele aanvaarding van die Belydenis van Belhar hierdie verdeeldheid getoon nie, maar ook die kwessie oor gay-lewensverbintenisse.

Dat daar in die kerk oor sommige sake verskil van mening is, is nie nuut nie. Dit kom van ver af, al van die eerste “sinode” in Jerusalem waarvan Handelinge 15 ons vertel. Dáár, so lees ons, het ’n “hewige woordestryd” ontstaan oor die kwelvraag of nie-Jode wat Christene word, hulle moes laat besny (soos die Ou Testament van Joodse seuntjies vereis het). Op die ou end is by die Jerusalem-sinode vir ’n verdraagsame benadering gekies en om “geen verdere las” op die nuwe gelowiges te lê nie. Hulle hoef nie besny te word nie, is besluit. Dit is nie noodsaaklik nie.

Verdraagsaamheid. Dit is ’n sleutelwoord. Destyds, en ook vandag. Dat ons in die kerk verdraagsaam moet wees teenoor ander wat nie soos ons dink en die Bybel presies soos ons verstaan nie. Die tragedie met die afwysing in die NG Kerk van die voorstel oor die Belydenis van Belhar is juis die onverdraagsaamheid wat daaruit blyk. Die voorstel was nie om Belhar op lidmate af te dwing nie. Dit was juis om ruimte te maak sodat lidmate wat dit wil doen, Belhar kan bely en diegene wat nie wil nie, dit nie hoef te doen nie. Maar te veel lidmate wou nie eens dié toegewing maak teenoor diegene wat oor hierdie saak anders as hulle dink nie.

Met die gay-kwessie is dit ook so. Die NG Kerk het onder die hoofstroomkerke een van die mees “verligte” standpunte oor gays. Maar dit sê nie veel nie.

Die meeste kerke in wêreld het in hierdie stadium nog sterk afwysende sienings oor gays, met van die voorlopers in dié verband die Rooms-Katolieke Kerk (pous Franciskus is die eerste pous wat ’n effens sagter standpunt inneem), en die Amerikaanse evangelistiese Christene (evangelicals). Dit is byvoorbeeld Amerikaanse fundamentalistiese evangeliesgesinde pastore, veral Scott Lively van die Abiding Truth Ministries, wat die anti-gay-vuur in Uganda gestook het totdat ’n wetsontwerp wat selfs die doodstraf vir homoseksuele mense gevra het, net-net nie in die parlement aanvaar is nie.

Die vreemde situasie het hier by ons ontstaan dat die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), in wie se hart die Belydenis van Belhar sy oorsprong het, se negatiewe houding teenoor homoseksualiteit in werklikheid neerkom op ’n verloëning van dié belydenis. Want Belhar bely in Artikel 4 “dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom”.

Maar toe ’n studiestuk ’n paar jaar gelede voor die algemene sinode van die VGK gedien het wat wou uitwys dat Belhar nie net apartheid in die visier het nie, maar álle vorme van onreg, juis ook teenoor gays, wou die sinode van niks weet nie. Dit is heiligskennis om Belhar en gays in dieselfde asem te noem, was die houding van sommige afgevaardigdes. Die studiestuk is teruggestuur vir hersiening, en sedertdien trap die VGK water oor hierdie saak… en weier om ’n afgestudeerde teologiese student wat openlik gay is as predikant toe te laat.

Die NG Kerk praat al lank oor homoseksualiteit. In 1986 is ’n baie afwysende besluit daaroor geneem, in 2007 ’n beter een, maar nog altyd met ernstige leemtes. Terwyl toe aanvaar is dat alle mense, ongeag hul seksuele oriëntasie, geskep is na die beeld van God, ingesluit is in God se liefde, menswaardig is en lidmate van die kerk kan word, is die vereiste van selibaatskap aan gay predikante opgelê – iets wat nie vir ander lidmate “wat geskape is na God se beeld en menswaardig is” geld nie. En permanente lewensverbintenisse tussen homoseksuele mense was vir die sinode ook heeltemal onaanvaarbaar.

Gelukkig – Goddank – het die algemene sinode in 2013 besluit dat weer na dié besluite gekyk moet word. ’n Taakspan is toe aangewys wat wyd en syd geraadpleeg het en nou besig is om hul verslag op te stel wat voor die Oktober-sinode sal dien.

Die vraag is of verdraagsaamheid sal seëvier. Almal sal nie saamstem nie, maar sal daar erkenning wees vir die feit dat mede-Christene oor hierdie saak kan verskil sonder dat die kerk hoef te skeur – dat ons ruimte vir mekaar se sienings kan maak sonder dat die hemel op ons sal neerstort?

Verdraagsaamheid, ja. Maar dit gaan om méér as dit.

In Afrika is kerke onder die voorpraters vir gruwelike onreg teen homoseksuele mense. Volgens Pew Research Center is vier van die vyf lande in die wêreld waar die meeste aktiewe weerstand teen homoseksualiteit bestaan, in Afrika: Nigerië, Ghana, Senegal en Uganda. En in dié lande is die bitter waarheid dat kerke ’n groot rol speel dat homoseksuele mense selfs vervolg word. So is ’n gewese Rooms-Katolieke priester, Simon Lokodo, deesdae die minister van “etiek en integriteit” in Uganda, besig om te werk aan ’n nuwe anti-gay-wetsontwerp wat in sekere opsigte selfs strenger is as die een wat misluk het.

Die Anglikaanse Kerk in Afrika is ook baie negatief oor homoseksualiteit – met emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu die één groot Anglikaanse uitsondering in Afrika. Suid-Afrika is die één land in Afrika waar verbintenisse tussen homoseksuele mense wettig is. Waar die NG Kerk in die apartheidsjare die gebod dat jy jou naaste so lief moet hê soos jy jouself het, te veel net op soortgenote toegepas het en sleg uit pas was met die wêreldkerk, het die kerk nou die kans om ’n ander klank te laat hoor. Dit kan gebeur as die kerk se Oktober-sinode sal verstaan dat onreg hom nie laat prioritiseer nie, dat onreg teen één mens uiteindelik neerkom op onreg teen álmal.

Die sinode kan ’n groot bres slaan deur “ja” te sê vir verdraagsaamheid, maar “nee” vir onreg. En die NG Kerk, wat deesdae goeie ekumeniese verbintenisse met kerke in Afrika het, het die verantwoordelikheid om duidelik in ons vasteland te praat téén onreg teen gay mense.

Daar was ’n tyd toe talle kerke in die wêreld die NG Kerk gewaarsku het dat die Bybelse regverdiging van apartheid op ’n dwaalspoor is. Dis nou die tyd dat die NG Kerk met woord en daad moet getuig dat diegene – ook kerke en mede-Christene – wat onreg teen homoseksuele mense toelaat en bevorder, op ’n dwaalspoor is.

Verdraagsaamheid oor verskille, ja. Verdraagsaamheid oor onreg, nee. Nooit nie.

  • Dr. Frits Gaum is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui