Kyk ook:
Die dagbestuur van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het ’n reeks van meer as 13 video’s gemaak waarin lede van die Moderamen, asook dosente van die NG Kerk aan die ekumeniese fakulteite bydraes lewer onder die tema: So glo, leer en getuig ons. As deel hiervan is daar ook ’n onderhoud met Frederick Marais, hoof van die algemene kuratorium van die NG Kerk.
Die NG Kerk en Teologiese Opleiding | Frederick Marais (26 Okt 2021)
Frederick Marais sê baie dieselfde as wat hy gesê het in sy onderhoud met Dubois du Toit op 7 Sep 2021:
Voor 2000 was die NG Kerk in beheer van die drie teologiese fakulteite van die NG Kerk, maar nou is dit in beheer van ’n sekulêre sisteem en is dit dus ekumenies (interkerklik). Die kuratoria hou egter steeds toesig oor die teologiese opleiding en het ’n holistiese (my woord) benadering:
1. Op akademiese vlak hou die kuratoria toesig oor wat op universiteit geleer word. Die kuratorium en dosenteraad is gereeld in gesprek daaroor. Alhoewel al die dosente aan die fakulteite in diens van die universiteite is en nie aan die kerk nie, is daar ook dosente van die NG Kerk. Hulle is geordende leraars van die NG Kerk en daarom moet hulle die belydenisse van die NG Kerk onderskryf. Sou hulle dit nie doen nie, sou daar teen hulle opgetree kon word soos teen enige ander predikant in die NG Kerk. Verder, indien die kuratoria sou voel dat die akademiese opleiding, soos aangebied deur die universiteit, nie ’n positiewe bydra maak tot teologiese studente se akademiese opleiding nie, sal die kuratoria in gesprek met die universiteit tree. Indien dit nie help nie, kan die kuratorium voorstel dat NG Kerk studente nie meer by die betrokke universiteit opgelei word nie en kan alternatiewe opleiding ondersoek word.
2. Op persoonlike vlak word studente aan die kerkeie seminariums by elke universiteit ontwikkel in hul karakter, geloof, persoonlike verhouding met God, hulle roeping, die integrasie van leer en lewe en om as getuies van die evangelie in die samelewing te kan funksioneer.
Op papier is daar niks fout met hierdie benadering nie. In die praktyk is dit egter ’n heel ander prentjie: baie teologiese studente het hulle geloof verloor by die teologiese fakulteite omdat ’n eensydige, kritiese prentjie van die Bybel voorgehou word. Apologetiek word byvoorbeeld nooit by die teologiese fakulteite onderrig nie. Die meerderheid teologiese dosente, georden aan die NG Kerk, is deel daarvan om hierdie eensydige prentjie aan studente voor te hou en verder is die kuratoriums blind vir die probleem.
Tog gebruik Frederick Marais weer hierdie geleentheid om ’n positiewe prentjie van die teologiese fakulteite te skets. Frederick verdedig onder andere dosente soos volg (9:45):
Maar hierdie dosente is ook akademiese teoloë, so hulle skryf ook artikels vir akademiese joernale, hulle ontwerp kursusse en bly so in gesprek met ’n wêreldwye gesprek in teologie. Daar toets hulle dikwels die grense, vra hulle vrae aan die konfessies van die kerk, lok hulle debat uit. Dit is die werk wat ’n akademiese dosent moet doen. Dit gebeur soms dat lidmate of mense in die kerk dosente hoor wanneer hulle as akademiese teoloë besig is en dink dan hoe hou dit verband met die persoon se persoonlike geloof of met sy verbintenisse aan die konfessies in die kerk. Daaroor is daar goeie gesprek nodig. Ek dink dit is belangrik dat mense verstaan dat ’n mens vir verskillende publieke jou teologie uitdruk om mense in verskillende sektore van die samelewing mee in gesprek te tree.
Dit klink al asof Frederick wil sê dat daar geen probleem is om jou geloof of belydenis te verloën nie, afhangende van wie jou gehoor is. En as mense wonder hoe dosente hulle uitsprake versoen met hulle verbintenisse aan die kerk, dan is dit omdat ’n mens weinig enige behoudende woord uit hierdie dosente se monde hoor.
Dit is insiggewend dat ’n afgestudeerde teologiese student wat anoniem wil bly onlangs in “Ek bely steeds die belydenisskrifte” wys dat dit skynbaar geen nut meer het dat teoloë hulle geloof bely nie, omdat hulle ’n ander betekenis daaraan heg.
Hier volg ’n lys van teologiese dosente wat tans georden is aan die NG Kerk (kliek op elkeen vir meer inligting oor die persoon):
- Louis Jonker: Uit ‘n onderhoud op RSG wil hy ruimte maak daarvoor dat Moslems gered kan word. Hy beweer wel dat hy in Jesus se liggaamlike opstanding glo, maar daar is altyd ‘n “maar” ter sprake wanneer hy hierop antwoord.
- Peter Nagel: Uit ‘n onderhoud op RSG is dit baie duidelik dat hy ‘n universalis is en dat die Bybel nie werklik gesag dra nie.
- Nadia Marais: Op 13 September 2021 (minder as ‘n week ná hierdie onderhoud) het sy op RSG haar steun gegee vir aborsie en gesê dat dit nie die kerk se plek is om aan ‘n vrou voor te skryf wat sy met haar liggaam mag maak nie.
- Cas Wepener: Vir hom is die Bybel ’n “kultiese boek” vol “mites”.
- Julie Claassens: Sy is ‘n medeskrywer van die boek Kan ons maar nie net saambly nie? waarin daar reeds in 2010 die vraag gevra word of die huwelik die enigste struktuur is waarin ‘n man en meisie mag saamwoon.
- Robert Vosloo (Julie Claassens se man)
Kyk ook Lys van teoloë wat liberale uitsprake gemaak het.
*********
Hier volg ’n meer volledige weergawe van die onderhoud:
Waarom lei ons mense op vir bediening in gemeentes?
Die kort antwoord is: God roep mense.
Ons werk by die kuratoria is om paaie te bou vir mense wat deur God geroep word sodat hulle opleiding kan kry om ind ie kerk en in die samelewing diens te kan lewer.
Hoe werk teologiese opleiding in die NGK vandag?
Dit werk anders as in die verlede. In die verlede was teologiese opleiding in beheer van die NGK, maar sedert 2000 is dit ekumenies, met ander woorde, dit word deur die universiteit beheer en dien as opleiding vir alle teologiese studente.
1. Akademiese baan.
2. Persoonsonwikkeling, roepingsontwikkeling en bedieningsvaardighede.
Het die kuratorium ’n prentjie van waarin hulle graag wil sien studente gevorm word?
Ons het ’n baie helder prentjie
In 2019 as beleidstuk goedgekeur.
Eerste komponent: Ons wil hulle vorm in hulle karakter. Geloof, persoonlike verhouding met God, hulle roeping en die integrasie van leer en lewe.
Tweede komponent: Leerinhoude. Studente moet akademiese en kerklike inhoude bemeester.
Derde komponent: Om jou bediening met deernis en leierskap te kan uitleef.
Vraag: Vandag word studente saam met baie ander kerke opgelei. Hoe werk die verhouding tussen kerklike opleiding en akademiese opleiding?
Vier aspekte:
1. Geloof
2. Kerklike belydenisse (spesifieke denominasie)
3. Ekumeniese teologie: Studente kry blootstelling aan verskillende belydenisse
4. Akademiese of publieke teologie: Om as getuies van die evangelie in die samelewing te kan funksioneer.
Ons probeer studente in die kerkeie opleiding/seminarium voor te berei vir punte 1 en 2. Die andere deel word hanteer deur die fakulteite waar jy blootstelling het aan ekumeniese en publieke teologie.
Die kerk akkrediteer fakulteite in teologie. Ons kyk na hulle kursusse en ons kom met die bepaalde fakulteite ooreen oor die kursusinhoude. Terselfdertyd is daar ook seminaria
Binne hierdie stukture en ruimtes wat jy beskryf werk dosente maar net op hulle eie en leer studente op hulle eie of word daar op ’n manier toesig gehou oor die leer en lewe van dosente en studente?
Die dosente aan die fakulteite is in diens van die instelling, nie aan die kerk nie. Hulle is wel geordende leraars van die kerk. Dus staan hulle onder toesig van die kuratoria. By elkeen van hierdie instellings het ons ’n dosenteraad waar die kuratorium en dosenteraad gereeld in gesprek is. Alle dosente georden aan die NGK onderskryf die belydenisskrifte van die kerk. Sou daar ’n spesifieke leraar of dosent daarvan verskil dan kan hy of sy met die kerk in gesprek tree. Of as die kerk voel dat ’n dosente of leraar nie meer die belydenisskrifte onderskryf nie kan die kerk met die betrokke persoon in gesprek tree. Eintlik is ons deurlopend op hierdie manier met mekaar in gesprek. Maar hierdie dosente is ook akademiese teoloë, so hulle skryf ook artikels vir akademiese joernale. Dikwels hoor mense teoloë wanneer hulle as akademiese teoloë besig is en dink dan hoe hou dit verband met die persoon se persoonlike geloof of met sy verbintenisse aan die konfessies in die kerk. Ek dink dit is belangrik dat mense verstaan dat mens vir verskillende publieke jou teologie uitdruk om mense in verskillende sektore van die samelewing mee in gesprek te tree.
Hoe dink jy oor die toekoms van teologiese opleiding?
Dit is vir ons baie duidelik dat die covid pandemie ’n sektor van ons samelewing wat ons noem hoër onderwys, waar ons studente opgelei word fundamenteel gaan verander. Daar is nie ’n kwessie oor nie. Ons is tans besig om indringend te dink oor hoe lyk die toekoms van teologiese opleiding. In baie van ons mense se koppe is die idee dat wanneer mens geroep word gaan jy vir ses of sewe jaar by ’n fakulteit bly, jy studeer, jy word gelegitimeer en dan gaan jy terug na die kerk toe. Dit lyk vir ons al hoe meer dat daardie model onbekostigbaar duur gaan raak en dalk nie die beste model is om mense op te lei nie en dat ons ’n veel meer hibriede model gaan ontwikkel waar daar ’n interaksie tussen praktykblootstelling en akademiese werk gaan wees.