Die NG Kerk het nie meer een belydenisgrondslag nie

Kyk ook:

Die outeur van die volgende skrywe is Pieter (PJG) Prinsloo. Hy is predikant van NG gemeente Kroonstad-Wes. Hierdie het ook verskyn as ’n derde stemboodskap op Whatsapp. Vir sy ander stemopnames, kyk:

1. Die moderatuur van die Algemene Sinode is besig om gemeentes te mislei
2. Moenie mislei word om ruimte te maak vir vals evangelie nie

********

IN HIERDIE DERDE BOODSKAP VERDUIDELIK EK VERDER WAAROM DIT ‘N LEUEN IS OM TE BEWEER DAT DIE VASGELOOPTE NGK NOG STEEDS EEN BELYDENISGRONDSLAG HET, SOOS DIE MODERATUUR VAN DIE ALGEMENE SINODE BEWEER

Ek bespreek kortliks die volgende:

  1. Ons belydenisgrondslag wys onteenseglik homoseksuele dade as sonde af.
  2. In die tyd toe die belydenisskrifte ontstaan het was homoseksuele (SGV) verhoudinge weens fatsoenlikheid nie eers in ordentlike geselskap by die naam genoem nie. Gevolglik het die opstellers van die Kategismus, gekies om eerder by implikasie na SGV te verwys, as om dit by die naam te noem.

Die Kategismus verwys in vraag 87 se voetnotas na 1 Kor 6:9 en 10 waarin homoseksuele verhoudings pertinent as deel van ’n sondelys genoem word

Die Kategismus vra: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie? Die Kategismus gebruik dan ’n parafrase van 1 Kor 6 in die antwoord, Die antwoord lui as volg: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie

Die Kategismus ag dit nie nodig om die hele lysie te herhaal nie. Die teksverwysing impliseer immers die hele lysie, al word alles nie weer uitgespel nie. Vals leraars gebruik dit as ’n flou verskoning om te ontken dat ons belydenisskrifte homoseksuele verhoudings pertinent as sonde bely. Kom ek verduidelik waarom hulle flou poging verwerplik is:

Bloot die feit dat die Kategismus se voetnota 1 Kor 6 bevat, bewys dat homoseksualiteit as sonde in ons belydenis opgeneem is. Alle Bybelvertalings in die tyd waarin die Kategismus opgestel is, het 1 Kor 6 se “arsenokoites en malakos” vertaal as verwysend na die beoefening van homoseksuele verhoudings. Trouens, Ursinus, die mede-opsteller van die Kategismus vertaal arsenokoites en malakos pertinent as manne wat by manne lê. Dit is dus ’n moderne tendens om “arsenokoites en malakos” anders te wil vertaal.

Met hulle aanhaal van 1 Kor 6 het die opstellers dus onteenseglik die bedoeling gehad om homoseksuele dade as sonde te bely.

Die konteks waarbinne vraag 87 geskryf is, maak dit dus duidelik dat ons homoseksuele verhoudinge as sonde bely in ons belydenisgrondslag; meer nog dat ons dit bely as “goddelose, ondankbare”  leefpatroon in vraag en antwoord 87.

DIT IS EGTER NIE TOEVALLIG DAT DIE OPSTELLERS VAN DIE KATEGISMUS GEKIES HET OM HOMOSEKSUELE DADE NIE UIT TE SPEL IN VRAAG 87 NIE

Tydens die era waarin die Kategismus opgestel is, was die sonde van homosekuele dade as so ’n gruwelike sonde beskou, dat vroom mense nie dit eers in goeie geselskap genoem het nie.

Die bewyse hiervan sien ons bv in Ursinus se kommentaar by vraag 108 van die Kategismus.

Hy skryf in sy kommentaar op die Kategismus dat “.. de zonde van Sodom of homoseksualiteit te schandelijk is om eraan te denken, veel meer nog om ze uit te spreken

Ander reformatore het Ursinus se sentimente gedeel. In Calvyn se kommentaar op 1 Kor 6 noem hy

“malakos” die afgryslikste sonde. In sy kommentaar op Rom 1 praat hy ook eerder net van “the dreadful crime of unnatural lust;” en hy noem dat mense “became degraded beyond the beasts, since they reversed the whole order of nature.”

Kortom: Die opsteller van die Kategismus, asook die reformatore wat sy tydgenote was,  het dit as onvanpas beskou om homoseksualiteit by die naam te noem in die Kategismus se vraag 87.

Daar was egter ’n tweede belangrike rede waarom die opstellers van die Kategismus besluit het om 1 Kor 6 nie verbatim aan te haal nie:

Onthou, die Kategismus was eerstens gerig op kategese van kinders. Die vrome opstellers van die Kategismus wou die kinders nie blootstel aan besprekings van sulke onuitspreeklike taboes nie. Dit kan vergelyk word met ons oumas wat nie voor kinders gepraat het oor ’n ongetroude meisie wat swanger is nie. Dit was ’n onuitspreeklike taboe, en as daar verwys is na ’n swanger meisie sou hulle agter hulle hande gepraat het van die meisie wat in die ander tyd is. Voor kinders word sulke gruwels nie by die naam genoem nie. In hierdie derde boodskap het ek dus aangetoon dat die NGK se belydenisgrondslag onteenseglik homoseksuele dade as sonde bely.

Moet dus nie die gruwelike misleiding aanvaar wat beweer dat diegene in die NGK, wat pleit vir homoseksuele verbintenisse, nog getrou aan die NGK se belydenisgrondslag is.

2 thoughts on “Die NG Kerk het nie meer een belydenisgrondslag nie”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui